Sonder vrees vir enige teëspraak kan beweer word dat die geskrewe vorme van die meeste tale van vandag maar 'n heel floue en gebrekkige aanduiding gee van hoe die betrokke tale in der waarheid ge-‘ spreek ’ word, of, van hoe hulle in werklikheid ‘ klink ’. Die gevolg van hierdie onbevredigende toedrag van sake is, onder meer, dat 'n anderstalige wat, sê byvoorbeeld Engels wil leer, as 't ware twee tale moet sien te bemeester: die sproke én die gekwere taal.
Ook Nederlands is nie heeltemaal vry te pleit van 'n dusdanige ‘drastiese’ aanklag nie.
Nou is die situasie miskien nie heeltemal so ernstig as wat spreker dit oënskynlik te kenne wil gee nie. Gelukkig bestaan daar in hierdie ‘teg iek’ - eeu van ons sulke vernuftige uitvindings soos radiotoestelle, grammofoonplate en bandopname-masjiene; alles nuttige en, myns insiens, haas onmisbare hulpmiddele by die aanleer van vreemde tale. Dit het dié groot voordeel dat voornemende studente van vreemde tale beslis nie uitsluitend op geskrewe tekste aangewys hoef te wees nie. (Wat Nederlands betref, kan b.v. vermeld word: die grammafoonplateserie ‘Dichters van Noord en Zuid’ (onder leiding van professor G. Stuiveling) waarin 'n tweetal deklamasieplate verskyn het. Op P. 10058 R. word gedigte van J.C. Bloem, J. van Nijlen en J. Greshoff voorgedra. Op plaat P. 10059 R., weer, kom gedigte van J. Slauerhoff, Paul van Ostayen en H. Marsman aan die beurt.) Maar, dit alles kan die buitelandse student slegs help om die gesproke taal te benader, en, per slot van rekening is dit die meeste dosente van Nederlands aan buitelandse universiteite veral te doen om hulle studente te leer om geskrewe Nederlands met gemak en met begrip te lees en om die taal eventueel korrek te skrywe.
Dit bring ons by enkele netelige spellingkwessies.
Die spelling van enige taal is veronderstel om die algemeen-beskaafde uitspraak so noukeurig moontlik in skrif weer te gee; gevolglik kan die taalkunde moeilik 'n beter spellingvoorskrif gee as dit: spel fonologies, dit wil sê, gee elke foneem deur één letter weer, en wel altyd deur dieselfde letter.
Bevreemdend is dit dus om die volgende toeligting by die algemene beginsels van die Nederlandse spelling in die ‘Woordenlijst van de Nederlandse Taal’ ('s-Gravenhage, 1954) te vind: ‘Een streng fonetische spelling zou eisen dat iedere spraakklank door een eigen teken werd voorgesteld. Ofschoon dit in onze spelling in hoofdzaak ook het geval is, verlangt de doelmatigheid niet zelden voor gelijke klanken verschillende tekens of gelijke tekens voor verschillende klanken’ (p. xxxvii). (Onderstreping van my.) Of, soos dit lui in die sewende beginsel (p. xxxix): ‘Beperking van het aantal lettertekens betekent niet zelden het door gelijke tekens voorstellen van verschillende spraakklanken: bedstede, polshorloge enz.’.
'n Mens kan jouself alleen maar afvra welke soort beginsel dit is om te praat van 'n ‘beperking’ van die aantal lettertekens. Veel eerder, lyk dit my, sou 'n mens kon spreek van 'n ‘ beperkt-heid ’ van die aantal lettertekens, 'n beperktheid wat m.i. daarin geleë is dat die Latynse alfabet war vir skryfdoeleindes gebruik word, ontoereikend is om enige reg aan die Nederlandse klankstelsel te laat geskied. Die gevolg is dat vokaaltekens soos die e, o, i en selfs y funksioneel oorbelas word. Ons het reeds gesien dat die e en die o op drie verskillende maniere uitgespreek kan word: bedstede en polshorloge. Hierby kom nog dat die i in woorde soos cirkel en miljoen anders gerealiseer word as in woorde soos titel en liter en dat die y in fysica en gymnasium respektiewelik twee verskillende spraakklanke weergee. Wat die konsonante betref, wil ek volstaan met die t-tekens as voorbeeld om die uiteenlopendheid van uitspraak aan de toon. Afgesien van die te verwagte realisering as t. b.v. in tot en met, tref ons uitsprake aan wat varieer van s (b.v. advertentie en attentie) tot ts (b.v. politie), met daar tussenin die sj- uitspraak soos in station.
Die keersy hiervan is: ‘... het door verschillende tekens voorstellen van gelijke spraakklanken’ wat ons in prinsipe reeds aantref in (veral) die vierde beginsel van die Nederlandse spelling (p. xxxviii). Dit lui: ‘Volgens het beginsel der afleiding (etymologie) beslist bij de keuze tussen twee schrijfmogelijkheden de vroegere vorm van het woord’. Ek haal aan: ‘Niet zelden worden op deze wijze homoniemen in schrift onderscheiden, bijv. peil van pijl, meid van mijt, hei van hij, zei van zij, wei van wij, gauw van gouw, kauw van kou enz. ........... Ook de h in thans, althans is een voorbeeld van zulk een historische spelling.’ En voorts, ‘.........Zuiver ter onderscheiding van homoniemen schrijft men o.a. nog (bijw.; evenwel, met geheel fonetische spelling nochtans) naast
noch (voegw.), kruit (buskruit) naast kruid (plant)’.
Dat dit kwansuis 'n verdienste sou wees om homonieme in krif te onderskei, soos hierbo geïmpliseer, is helaas 'n wanopvatting wat nugtere taalondersoekers verstom laat staan het so vroeg as 1908 - toe F. Buitenrust Hettema in sy ‘Taal- en Dichterstudies’ geskrywe het: ‘Evenmin is er ........ ten slotte (geen reden) om tussen noch (en niet) en nog (daarbij) te onderscheiden, zoals velen doen. 't Volledig zinsveband maakt immers - als overal - alle misverstanden onmogelik’ (p. 252). Voeg hierby dat die klank k nou met die letter k (b.v. kritiek), dan met 'n c (b.v. criticus) voorgestel word; dat laasgenoemde letter c meeding met s in die weergave van die klank s (vgl. b.v. cirkel met singel); dat beide th en t die klank t kan aandui (b.v. telepaat, dog telepathie); en dat die klank ks deur sowel x as ks in skrif weergee kan word (b.v. tekst naas extra) - om maar 'n paar voorbeelde te noem - dan is ek bevrees dat menige voornemende student van Nederlands reeds by die aanvang van sy akademiese kursus uit pure radeloosheid geneig sal wees om tou op te gooi. Soos F. Buitenrust Hettema in 1908 reeds geskrywe het: ‘Voor wie Taal is klank, voor die is verschillende spelling van eenzelfde klank verbijsterend!’ (‘Taal- en Dichterstudies’, p. 243).
U ken waaeskynlik die spitsvondige raaisel wat in hierdie verband ten opsigte van Engels bestaan. Hoe sou u die kunsmatig-‘saamgestelde’ woord ‘ghoti’ uitspreek? Die antwoord is: ‘fish’. Gh soos in tough, o soos in women en ti soos in station!
Die nadele van so 'n diskrepansie tussen die letters en die klanke is voor die hand liggend. Nie alleen bring dit mee dat Nederlandse kinders en buitelandse studente kosbare tyd moet verspil om die taal te leer skrywe nie, maar ook is die gevaar van sogenaamde ‘letteruitspraak’ beslis nie denkbeeldig nie. Veral by voordrag dreig die gevaar van onnatuurlike letteruitspraak; alte veel Nederlanders meen b.v. nog steeds dat 'n mens in woorde soos vrachtje en kastje ‘eintlik’ 'n t moet laat hoor. Wel staan die beskaafde uitspraak dikwels digter by die keskrewe taal as die onbeskaafde, maar dit wil allermins sê dat die skrifbeel NORM vir die klank moet wees.
In die algemeen kan ons sê dat die klakkelose oorname van die Latynse alfabet deur die Wes-Europese tale - in die eerste plek - grootliks verantwoordelik gehou kan word vir die diskrepansie tussen die letters
en die klanke en gevolglik vir die talle oorvleuelings en inkonsekwenthede. Aangesien elke taal sy éie klankstelsel het, MOET daaruit voortvloei dat die Latynse alfabet, wat aangepas is aan die Latynse klankstelsel, NIE VIR ALLE TALE GESKIK IS NIE. Dit is eenvoudig ‘een waarheid als 'n koe’ en dit is hoog tyd dat spellingkommissies (nie slegs die Nederlandse nie) dit begin besef en iets daaromtrent doen. Die Latynse alfabet het slegs 26 letters terwyl Nederlands 'n stuk of 35 afsonderlike foneme het. Boonop klop die indeling in 6 vokaaltekens en 20 konsonanttekens ook nie met die Nederlandse klankstelsel - minstens 16 vokale en ongeveer 19 konsonante- nie.
Daar is egter ook 'n ander rede vir die onduidelike en verwarrende spellingvorme: die konserwatiewe spellingbeleid. Die spelling van sekere Nederlandse woorde gee eerder die uitspraak van honderd jaar gelede weer as dié van vandag.
Voorts, wat die spelling van vreemde woorde in Nederlands betref: Daar alle klanke by benadering in 'n algemene spelling afgebeeld word, dra die argument teen die skrywe van sodanige woorde met Hollandse klanktekens, nl. as sou laasgenoemde nie presies met die vreemde klanke ooreenstem nie, hoegenaamd geen gewig nie. Veel erger is tog dat 'n gebrekkige spelwyse die onjuiste uitspraak van die minder bekende ‘vreemde’ woorde bevorder.
Nie alleen vanwëe die appèl wat daar uitgaan van die jongste wetenskaplike vordering op fonetiese, fonologiese e.a. taalkundige gebiede nie, maar ook- en veral om praktiese redes, lykt dit my beslis gewens om enkele noodsaaklike wysiginge in die Nederlandse spelling aan te bring. Miskien sou ek nie heeltemal so ver wou gaan soos dr. P.C. Paardekooper in sy ‘Syntaxis, Spraakkunst en Taalkunde’ (pp. 290 en 291) nie. Ook is ek van mening dat dit beslis nie raadsaam sou wees om eenvoudig ALLE inkonsekwenthede meteen uit te skakel nie. Wel stem ek met Paardekooper saam waar hy beweer: ‘.... hoe vaker er spellingveranderingen zijn, hoe vlugger het grote publiek zich aanpast’ (p. 290).
Tog is daar een belangrike verandering van die 1954/1955 spelreëling waarmee ek my tot op hede nog nie kon versoen nie. Ek doel hier op die skryfwyse van dae, maande en windstreke waarby die hoofdletter verval het. Die skryfwyse met 'n klein letter in die geval van hierdie name is nl. in
stryd met die voorskrif dat eiename in die ruimste sin met 'n hoofdletter gespel moet word é n met die Nederlandse tradisie. Ook doen die vraag hom voor: Hoe moet die name van die windstreke voorgesteld word op 'n kompas, of hoe moet noord op 'n kaart voorgestel word: N of n?
Heel moeilik is dit vervolgens om aan die hand van paragraaf 5 i.v.m. die gebruik van hoofdletters, presies uit te maak hoe name van range en waardighede, titulature en attribute in specifieke gevalle geskrywe moet word, aangesien die opstellers van die spelreëls die skryfwyse met 'n klein of met 'n hoofdletter oorlaat aan ‘..... het gevoel of het inzicht van de schrijver...’ (Woordenlijst van de Nederlandse Taal, p. LXIX). Moet 'n mens nou in 'n gewone teks skrywe: Prof.Dr. H. Zondervan, of prof.dr. H. Zondervan? En, indien die agternaam van die hooggeleerde heer in 'n spesifieke teks weggelaat word, is dit dan Professor of professor? Terloops, hoe moet hooggeleerde heer in die vorige sin geskrywe word: mét of sonder hoofletters?
Nou is daar nog niks gesê i.v.m. die aanmekaarskrywe van woorde, òf i.v.m. die gebruik van leestekens nie, maar dit is beslis nie moontlik om in die kort bestek ALLE moeilikhede verbonde aan die weergawe van Nederlands in geskrewe vorm aan die orde te stel nie. Dit was trouens ook nie die bedoeling nie. Wel het dit u waarskynlik tog 'n algemene beeld laat kry van die soort ‘onnodige lastighede’ waarmee 'n anderstalige te kampe het alvorens geskrewe Nederlands 'n werklik toeganklike en bruikbare medium vir hom/haar kan wees.