Dr. Coenraad Beyers is op 5 September 1893 op Swellendam gebore. Hy het sy skoolopleiding agtereenvolgens aan die Noorder-Paarl Skool, die Openbare Skool van Swellendam en die privaatskool van mev. M.E. Rothman (die Skryfster wat onder die skuilnaam M.E.R. groot bekendheid verwerf het) gehad. In 1909 lê hy die matrikulasie-eksamen af. Dit het aan hom toelating tot studie aan 'n universiteit verleen.
Sy akademiese opleiding het hy aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang waar hy in 1919 die graad b.a. met Geskiedenis as een van sy hoofvakke verwerf het. Hierna lê hy hom op die studie van Geskiedenis toe en ontvang kolleges van professore S.F.N. Gie en W. Blommaert omtrent wie hy later getuig het: ‘Deur hul besielende voorligting het die historiese wetenskap vir my 'n besondere bekoring gekry.’ In 1922 behaal hy die m.a.- en in 1926 die D. Phil.-graad, albei cum laude.
Na voltooiing van sy studies op Stellenbosch vertrek hy na Nederland waar hy aan die Ryks-universiteit te Leiden en die Argiefskool te 's-Gravenhage klasse bygewoon het. Hy het met groot waardering gepraat van die kolleges wat hy van prof. dr. H.T. Colenbrander ontvang het. Gedurende hierdie tyd het hy ook met die Nederlandse historikus, dr. N. Japikse, kennis gemaak. Japikse was iemand vir wie Beyers groot agting gehad het.
Beyers was egter 'n veelsydige geleerde wie se belangstelling nie tot Geskiedenis beperk was nie. Hy was ook in die Regte geïnteresseerd, en wel in so 'n mate dat hy hom in Pretoria by die Universiteit van Suid-Afrika vir die llb-graad ingeskrywe het. In 1946 slaag hy daarin om hierdie graad te verwerf.
Na sy terugkeer uit Nederland beklee hy verskeie onderwysposte, onder andere locum tenens dosent aan die Potchefstroomse Universiteitscollege, voordat hy op 1 Julie 1927 as Senior Argivaris in die Transvaalse Argiefbewaarplek te Pretoria aangesteld word. Die Suid-Afrikaanse Argiefdiens het toe nog in sy kinderskoene gestaan, en dit het aan Beyers die geleentheid gebied om mee te help met die uitbouing daarvan. Op 1 Julie 1932 word 'n pos van assistent-hoofargivaris geskep en word Beyers in die nuutgeskepte pos bevorder. Dit was indertyd op een na die hoogste pos in die Suid-Afrikaanse Argiefdiens. Met die aftrede van dr. C. Graham Botha word Beyers op 15 Augustus 1944 tot hoof van die Argiefdiens aangestel,
met die rang van hoofargivaris. Hy het hierdie betrekking tot sy aftrede op 5 September 1953 beklee.
As akademies goed onderlegde persoon het Beyers besondere klem op die bevordering van die vakkundige werk in die Argiefdiens laat val. Hy het die noodsaaklikheid van die ontsluiting van die land se argiewe met die oog op 'n wetenskaplike geskiedskrywing besef, en het derhalwe opdrag gegee dat alle argiefbewaarplekke voorrang moet verleen aan die ordening en beskrywing van argiewe. Hy het hom beywer vir 'n postestruktuur wat die Argiefdiens vir akademies gekwalifiseerde persone aantreklik sou maak, terwyl hy jong argivarisse steeds aangemoedig het om verder te studeer. Hy was 'n sterk voorstander van die opleiding van argivarisse en kan inderdaad as die vader van die Diploma in Argiefkunde beskou word, ofskoon die diploma eers ná sy aftrede werklikheid geword het.
Op hierdie maniere het hy die beoefening van wetenskaplike geskiedskrywing, waarin die beskikbaarheid van primêre bronne van kardinale belang is, bevorder.
Beyers se naam is onlosmaaklik verbonde aan twee mylpale in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Argiefdiens, naamlik die totstandkoming van 'n volwaardige Publikasie-afdeling en die Argiefwet van 1953.
Die totstandkoming van die Publikasie-afdeling in 1948 was aan Beyers se inisiatief en deursettingsvermoë te danke. Die Suid-Afrikaanse Argiefdiens het nou met 'n publikasieprogram begin wat die sistematiese publikasie van sekere argiefreekse ten doel gehad het. Vóór 1948 was publikasie van argiefstukke hoofsaaklik tot die Kaapse Argiefbewaarplek beperk en het dit op selektiewe grondslag plaatsgevind. Met die stigting van die Publikasie-afdeling het die Transvaalse, Vrystaatse en Natalse Argiefbewaarplekke met sistematiese publikasieprogramme begin. Beyers het 'n persoonlike belangstelling in die werksaamhede van hierdie afdeling gekoester en het gesorg dat dit nie aan die wetenskaplike standaard van die werk gehaper het nie.
Die Wet op Argiewe, 1953 (Wet 22 van 1953) is grootliks aan Beyers se inisiatief te danke. Vóór die aanvaarding van hierdie Wet het die Argiefdiens in Suid-Afrika kragtens die Publieke Archieven Wet, 1922 gefunksioneer. Veranderde omstandighede het meegebring dat hierdie wet al hoe meer anachronisties geraak het. Dit het nie meer aan die vereistes van 'n moderne argiefdiens beantwoord nie. Beyers het die tekortkominge daarvan ingesien en hom beywer vir die wysiging daarvan. Hierdie wet het in belangrike opsigte van die ou wet verskil. Beyers het die wet in sy geheel
geformuleer en dit is sonder 'n enkele wysiging deur die Parlement aanvaar. Hierdie wet het vir die eerste keer ook voorsiening gemaak vir die versorging van die argiewe van die gebied Suidwes-Afrika, 'n ontwikkeling wat grootliks aan Beyers se beywering toegeskryf moet word.
Nadat hy afgetree het, het Beyers voortgegaan om in tydelike hoedanigheid uitstekende dienste aan die Argiefdiens te lewer. Vir 'n tyd lank het hy hom op die insameling van aanwinste in die Kaapprovinsie toegelê. In 1960 laat hy hom 'n aanstelling in die Afdeling Heraldiek welgeval. Die aanstelling het daartoe gelei dat hy in 1962 as die eerste staatsheraldikus van die Republiek van Suid-Afrika aangestel is. Met kenmerkende deeglikheid het hy hom op 'n intensiewe studie van die heraldiek toegelê en inderdaad die grondlegger van 'n eie Suid-Afrikaanse heraldiekwese geword. Met sy regskundige kennis was die rol wat hy gespeel het in verband met die opstelling en goedkeuring van die Heraldiekwet (Wet 18 van 1962) van deurslaggewende belang. Só deeglik is die werk wat hy in hierdie verband gedoen het, dat die genoemde wet vandag nog die grondslag is waarvolgens die Buro vir Heraldiek funksioneer.
Op 31 Oktober 1971 het hy ten gevolg van afnemende liggaamskragte, veral wat gehoor- en gesigsintuie betref besluit om sy dienste te beëindig. Hy het egter sy belangstelling vir navorsingswerk behou en was met 'n diepgaande genealogiese studie oor die Beyers-familie besig tot swak gesondheid hom verplig het om dit onvoltooid te staak.
In die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing neem Beyers 'n besondere plek in. Hy was die eerste student om 'n doktorsgraad in Geskiedenis aan 'n Suid-Afrikaanse Universiteit te behaal. Die proefskrif waarmee hij die graad behaal het, te wete Die Kaapse Patriotte, 1779-1791 is 'n werk van besonder hoë gehalte. Dit is 'n gesaghebbende werk oor die eerste werklike nasionale beweging in Suid-Afrika en dit het in Nederland sowel as in Suid-Afrika gunstige kommentaar uitgelok. Dr. N. Japikse het soos volg daaroor geskrywe: ‘Beyers’ boek [...] is een zeer geslaagd werk [...] Bewerking van de verzamelde stof, opzet van het werk, de formuleering van de voornaamste kwesties [...] het is alles even goed. Ik heb in lang geen dissertatie onder oog gehad, die mij zoo bevredigd heeft. Hier is alle oppervlakkigheid ver weg.’
Hierdie werk van Beyers dra die onderskeiding dat dit die eerste geskiedkundige werk is wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Hertzogprys bekroon is. Dit het in 1944 gebeur. Vóór 1944 is hierdie gesogte prys slegs vir belletristiese werke toegeken.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het egter besluit dat wetenskaplike prosa ook in aanmerking geneem moet word. Dit het die weg geopen om geskiedkundige werke te bekroon. Die keurkomitee - onder voorsitterskap van prof. H.B. Thom - wat Beyers se werk vir bekroning aanbeveel het, het onder andere verklaar: ‘Graag wil ons verduidelik dat Beyers se Kaapse Patriotte gebaseer is op uitgebreide, geduldige en deeglike navorsingswerk in argiewe hier te lande en in Nederland. Sy behandeling van die onderwerp is indringend en diepgaande en sy stelling van sy betoog en konklusies is logies, helder en oortuigend. Daarby bedien die skrywer hom van 'n goeie, keurige Afrikaans. Na ons mening verteenwoordig Die Kaapse Patriotte die beste wat daar nog op historiese gebied in Afrikaans gelewer is.’
Beyers het 'n baie hoë wetenschaplike standaard gestel vir enige werk wat hy aangepak het. Hy was nooit heeltemal tevrede met iets wat hy geskrywe het nie en het aanhoudend gepoog om daaraan te verbeter. Dit het veroorsaak dat hy nie vinnig gewerk het nie en hy het gevolglik nie 'n indrukwekkende lys van gepubliseerde werke tot sy krediet nie. Nietemin dra alles wat hy geskryf het, die stempel van buitengewone kwaliteit.
Die Kaapse Patriotte is in 1929 vir die eerste keer gepubliseer. Dit het in 1967 in gewysigde en aansienlik aangevulde vorm 'n tweede druk beleef. Waar die eerste uitgawe onder die titel Die Kaapse Patriotte, 1779-1791 verskyn het, is die titel van die tweede uitgawe verander na Die Kaapse Patriotte gedurende die laatste kwart van die agtiende eeu en die voortlewing van hulle denkbeelde. Die titel gee 'n aanduiding van die mate waarin die werk uitgebrei is. Beyers toon hierin aan dat belangrike Patriotse denkbeelde wat in die laaste kwart van die agtiende eeu gehuldig is, ook aanwesig was by persone wat in die Groot Trek leidende rolle vervul het.
Beyers het die vermoë besit om sy gedagtes in vaak - sefs gevoelvolle - woorde in te klee. 'n Tipiese voorbeeld hiervan is die bydrae, Laaste lewensjare en heengaan van president Kruger, wat in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (vierde jaargang, 1941, 1) verskyn het.
In 1945 het hy assessorlid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geword, terwyl hy in 1951 met die volle lidmaatskap van die Akademie vereer is. Beyers se optrede was steeds gekenmerk deur 'n rustigheid van optrede, wat hom in staat gestel het om selfs onder die moeilikste en tergendste omstandighede nooit sy selfbeheer te verloor nie. Hy was 'n nederige mens, wat teenoor sy meerderes en minderes altyd met die grootste wellewendheid opgetree het.
In dr. Coenraad Beyers het die Suid-Afrikaanse geskiedeniswetenskap een van sy bekwaamste beoefenaars verloor, en die Suid-Afrikaanse Argiefdiens en Heraldiekwese een van hulle grondleggers.
j.h. esterhuyse
Die Kaapse Patriotte 1779-1791. Kaapstad-Johannesburg, Juta & Kie Beperk, 1929.
Die Kaapse Patriotte gedurende die laatste kwart van die agtiende eeu en die voortlewing van hulle denkbeelde. Pretoria, J.L. van Schaik, 1967.
Binnelandse beroering en ondergang van die Kompanjie (1779-1795) in Geskiedenis van Suid-Afrika. 1. Kaapstad-Bloemfontein-Johannesburg, Nasionale Boekhandel Beperk, 1951 (Nuwe editie 1955).
Laatste lewensjare en heengaan van president Kruger in Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis 4:1, 1941.
Die Groot Trek met betrekking tot ons Nasiegroei in Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis 4:1, 1941.
Die wapen van die voormalige Suid-Afrikaanse Republiek in Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis 13:1, 1950.
Vlae van die Voortrekkers in Die Huisgenoot 3 Augustus, 1934.
President Kruger se laaste jaar in Transvaal in Die Huisgenoot 15 Oktober, 1954.
President Kruger as balling in Die Huisgenoot 17 en 24 Desember, 1954.