Op 31 Desember 1976 was die ledetal van die ‘Maatschappij’ in die Republiek van Suid-Afrika 40 (Desember 1975:40). In 1976 is prof. dr. D.J. Kotzé, van die Universiteit van Stellenbosch, deur die bestuur as 'n lid van die ‘Maatschappij’ benoem. Prof. dr. D. Bax het hom in April 1976 verplig gevoel om sy bedanking in te dien. Professor Bax wat, sowel vir Nederland as Suid-Afrika uiters belangrike kultuurhistoriese werksaamhede verrig het, is in Desember 1976 in Kaapstad oorlede. Hy was in 1949 as 'n lid van die ‘Maatschappij’ gekies.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Pretoria) het die Stalsprys vir Teologie aan prof. dr. A. van Selms, van Pretoria, toegeken. Prof. dr. Meyer de Villiers, van Stellenbosch, is met die C.J. Langenhoven-prys vir Taalwetenskap vereer, terwyl prof. dr. T.T. Cloete, van Potchefstroom, die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap ontvang het.
Prof. dr. G.S. Nienaber het afskeid geneem van Natal en is tans, in Pretoria, besig met 'n navorsingsprojek in die etimologie by die plaaslike Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (rng). Prof. dr. H.B. Thom het op 26 April 1976 die jaarlikse Hertzog-gedenklesing te Stellenbosch gehou.
In verband met die aftrede van die opsteller van hierdie verslag as vertegenwoordiger van die ‘Maatschappij’ in die Republiek van Suid-Afrika neem hy die vryheid om die grens van die jongste verslagjaar te oorskry. Prof. dr. M.S.B. Kritzinger, van Pretoria, het op 12 Januarie 1977 te Pretoria aan die geledere van die lede ontval, terwijl prof. dr. Meyer de Villiers, van Stellenbosch, aan die begin van Februarie 1977 sy bedanking as lid ingedien het.
Aan die slot van hierdie beknopte oorsig gedenk die opsteller die menigvuldige verdienstes van sy voorganger, F. Oudschans Dentz (1876-1961). Hy het die ‘Maatschappij’ se belange in Suid-Afrika van 1949 tot sy heengaan behartig en dit op 'n uitnemende wyse gedoen. Dit was vir die ondergetekende 'n voorreg om, ooreenkomstig sy voorganger se beskouings en ideale, die ‘Maatschappij’ se belange in Suid-Afrika van 1961-1977 te probeer bevorder.
jan ploeger