In sy lang lewe het prof. dr. F.E.J. Malherbe verskillende eras in die Afrikaanse letterkunde en kultuurlewe meegemaak en 'n beduidende rol daarin gespeel. Soos hy dit self stel: ‘By terugblik oor die verloop van ons letterkunde, moet ek my opnuut verwonder oor die verbasende bloei in so korte tyd - dat die hele geskiedenis van die Afrikaanse literatuur raakpunte het met één menselewe, dat vanaf die stigterslede van die taal tot by sy jongste beoefenaar in die sewentiger jare, alles deel van jou ervaring uitmaak.’
François Ernst Johannes Malherbe is op 3 Mei 1894 op 'n wynplaas in die distrik Paarl, Westelike Kaap-provinsie, gebore, as tiende kind van Willem Daniel Malherbe en Hester Magdalena du Toit. Hy is 'n direkte afstammeling van die Du Toit's en Malherbe's van die Genootskap van Regte Afrikaners; ds. S.J. du Toit, die ‘vader van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging’, was sy moeder se broer.
Na sy skoolopleiding in Paarl is Malherbe in 1912 na die Victoria-Kollege, die latere Universiteit van Stellenbosch, waar hy die b.a.- en m.a.-grade verwerf het. Die plaaskultuur waaruit die jong Malherbe gestam het, het bygedra tot die gemoedelikheid en aardsheid van sy karakter, soos die wye omgang met strydbare en taalbewuste familielede en vriende sy begrip van en waardering vir die estetiese geprikkel het.
Met behulp van 'n studiebeurs is Malherbe in 1920 na Nederland om vir die doktorale kursus by die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam in te skryf. Hier was sy leermeesters J. Prinsen J. Lzn., R.C. Boer, F.A. Stoett en J. Six; dit was veral laasgenoemde as hoogleraar in die kunsgeskiedenis wat die jong student besiel het om in die vakansietye reise na Italië te onderneem - latere herhaalde besoeke is die neerslag van sy bekende boek Klassieke meesters van die Renaissance (1944).
As student in Nederland het Malherbe diep gedrink aan die bronne vir geestesverryking wat Amsterdam gebied het. Die Concertgebouwuitvoerings onder leiding van die befaamde Willem Mengelberg, toneel in die Stadsschouwburg met Willem Royaards, Eduard Verkade, Louis Bouwmeester en Alexander Moissi, voordragte uit eie werk van skrywers soos Henriette Roland Holst, P.C. Boutens, Romain Rolland en Rabindranāth Tagore - al hierdie ervarings het die wordende jong akademikus se kunssinnigheid en estetiese oordele gestimuleer.
In Nederland en België was Malherbe ook aktief in verenigings en organisasies wat die Dietse ideaal van samehorigheid tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika bepleit het. As welsprekende verteenwoordiger van die Afrikaanse vryheidstrewe het hy noue aansluiting gevind by persone wat die Groot-Nederlandse ideaal voorgestaan het. Hy vertel onderhoudend van vurige ‘stryd’-kongresse in Gent en Antwerpen en van sy kennismaking met skrywers soos Stijn Streuvels, Herman Teirlinck, Maurits Sabbe, Ernest Claes en Felix Timmermans. Van dié skrywers sou hy later in sy bloemlesing Moderne Vlaamse kortverhale (1935) verhale opneem.
Malherbe het ná sy promosie in 1924 na Suid-Afrika teruggekeer en in die departement Hollands (soos die vak destyds geheet het) aan sy Alma Mater, die Universiteit van Stellenbosch, begin doseer. Aanvanklik was sy leeropdrag die taalkunde, maar later het by hom geheel en al aan die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde gewy. Hy het in 1930 hoogleraar geword en dit gebly totdat hy in 1959 sy emeritaat aanvaar het. Vir al sy letterkundige en kulturele aktiwiteite het die Universiteit van Stellenbosch die graad D. Litt. honoris causa aan hom toegeken (1975).
Malherbe was in sy hele lewe 'n sterk voorstander van die behoud en uitbou van die kultuurbande met Nederland en Vlaandere. Hy was jare lank lid van die Raad van Beheer vir die kultuurverdrag tussen Suid-Afrika en Nederland en dié tussen Suid-Afrika en België. In opdrag van dié twee liggame en die Departement Kultuursake in Suid-Afrika het hy in 1968 'n bloemlesing, Zuid-Afrikaanse letterkunde, saamgestel, spesiaal met die oog op gebruik in Nederlandse en Belgiese skole. Hy was ook 'n tydlank voorsitter van die Genootskap Nederland- Suid-Afrika in Kaapstad.
Vroeg reeds in sy loopbaan het Malherbe hom aktief aan die literêre kritiek gewy en in publikasies soos Die Huisgenoot, Die Burger, Die Nuwe Brandwag en Tydskrif vir Wetenskap en Kuns het gereeld beskouings oor nuwe werke uit sy pen verskyn. Toe hy as een van die drie stigters van die literêr-kritiese tydskrif Ons Eie Boek (1935-1955) ook die redakteurskap sedert 1937 alleen behartig, het hy vir feitlik die hele bestaan van die blad alle beduidende nuwe Afrikaanse boeke self geresenseer. Deur medium van hierdie tydskrif het hy 'n groot aandeel gehad in die bestendiging van 'n ewewigtiger literatuurbeskouing en as literêre gids het hy toeligting van betekenis aan onderwysers én die skoolgaande jeug verskaf.
In sy tyd was Malherbe 'n belangrike kritikus; ook in sy aktiwiteite as letterkundige keurder vir uitgewers het hy 'n sekere vormende invloed op
die werk van jonger skrywers gehad. Hy was altyd 'n voorstander van 'n ‘vrye’ letterkunde in Afrikaans, deur meer klem as sy voorgangers te lê op die kunswerk as ‘lewensvorm’, as 'n uiting van 'n psigiese werklikheid. Primêr was die kritiek vir hom 'n herskeppende aktiwiteit wat die eenheid en harmonie in die kunswerk moes toelig. Vir hom was dit aksiomaties dat die kritikus vry moes wees van enige betrokkenheid met ‘etiese, politieke of ander vooropgestelde stelsels’.
Vir sy bydraes tot die Afrikaanse letterkundige kritiek het Malherbe in 1959 die Stalsprys van die Suid-Afrikaanse Akademie ontvang. Van 1956 tot 1958 was hy voorsitter van hierdie liggaam en het hy op talryke kommissies (van die Akademie en van die staat) gedien.
Sy belangstellings was egter nie beperk tot letterkundige en taalkundige sake nie. In die breëre kulturele gebied was Malherbe ook besonder aktief met betrekking tot die beeldende kunste. Hy was van 1949 tot 1973 lid van die Raad van die Suid-Afrikaanse Kunsmuseum in Kaapstad en vir nege jaar van dié tyd was hy die voorsitter van hierdie liggaam. By verskeie geleenthede het hy reekse openbare kunslesings op Stellenbosch gehou - onder meer oor die Renaissance - wat groot belangstelling onder studente gewek het, en nie net onder die taal-en-lettere-studente nie.
Professor Malherbe het meermale oorsese reise onderneem, die relaas van sommige waarvan hy op 'n lewendige wyse in sy outobiografie vertel. In 1954 het hy 'n lesingtoer in Nederland onderneem ten tyde waarvan hy by verskeie universiteite voordragte oor die Afrikaanse literatuur gelewer het. In 1957 het hy op tournee in Nederland hom daarop toegelê om die Afrikaanse boek veral by die jeug bekend te stel.
As hoogleraar het professor Malherbe onder sy studente verskeie persone getel wat later as belangrike digters en prosaskrywers ontwikkel het. Een en almal van sy oud-studente getuig van die geesdrif wat hy vir die letterkunde by hulle gewek het. Hy het 'n sonore voordragstyl gehad en of dit nou Vondel, Willem Kloos of J.C. Bloem se werke was, vir sy studente was die kolleges by professor Malherbe 'n weeklikse vreugdebelewenis.
In sy hoedanigheid as lid van verskeie liggame ter bevordering van Afrikaans-Nederlandse betrekkinge het Malherbe kennis gemaak met Nederlandse skrywers soos J.C. Bloem, A. Roland Holst, J.J. Slauerhoff en Anthonie Donker. In sy outobiografie haal hy met waardering 'n kort vers aan wat deur A. Roland Holst aan hom opgedra is:
In enkele woorde het die Nederlandse digter die lewenshouding van die geliefde hoogleraar saamgevat: sy lewensblyheid en die vreugde vir die ewig-skone wat hy self ervaar het en wat hy aan soveel mense óm hom wou en kon oordra.
Ernst van Heerden
Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg
Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam 1924 (dissertatie Amsterdam; tweede vermeerderde druk 1932).
Die kort-verhaal as kunsvorm. Kaapstad 1929.
Aspekte van Afrikaanse literatuur. Studies van belangrike werke. Kaapstad 1940.
Lewensvorme: opstelle oor kultuur, kuns en literatuur. Kaapstad 1941.
Klassieke meesters van die Renaissance, 'n Inleiding tot kunswaardering. Kaapstad 1944.
Wending en inkeer. 'n Beskouing oor die nuwere Afrikaanse letterkunde, Kaapstad 1948.
Afrikaanse lewe en letterkunde. Stellenbosch 1958.
Agter die oomblik. Johannesburg 1977 (autobiografie).
Als samensteller
Moderne Hollandse kortverhale. Pretoria-Kaapstad 1931.
Moderne Vlaamse kortverhale. Pretoria-Kaapstad 1935.
Nuwe Nederlandse kortverhale. Pretoria-Kaapstad 1941.
Blou en grys. 'n Keur van Nederlandse verhale. Kaapstad 1949.
Afrikaanse humorverhale. Pretoria 1951.
Moderne Afrikaanse verhaalkuns. Kaapstad 1962.
Bellen blazen. Gunstelinge onder Nederlandse kortverhale. Kaapstad 1966.
Zuid-Afrikaanse letterkunde. Pretoria 1968.