Gedig vir die kind
Die aarde le onklaar
en sodra die wind opkom
staan die kind in Kloofstraat met sy tas
kindertjie myne! roep ek in sy rug
daar waar my hart die digste is
soos altyd
is ek elders
ek drink hom om in gepelde amandels
in arms vol opgetrekte lig
ek volg sy fluisteringe na in my matrys van bloed
sku skiet die kind oor die straat
die wind vat dun die ortodontiese kwyl
dit is ek
jou ma
maar sy oe staan op die punt om my te verlaat
die aarde le onklaar
die wind splint van hom af al wat kind is
en ek kneus om hom vas
verby alle verlatenheid
verby sy dapper nukkerige nek
die aarde sink onklaar
en ek het hom lief
way
way anderkant my hart
Antjie Krog