|
|
|
| |
| | | |
See-Skoon.
I.
Ek het gesien as daeraad verskyn
Oor Tafelbaai hoe wonderskoon die lig
Verheerlikend die water kus
En ons deurskiet met skoonheid soos 'n pyn
Wat onbevredig soek en immer soek
En worstel met die drukkende gewig
Van vrae ongeantwoord, ongeboek.
II.
Oud, roestig lê daar rustend diep tevree
In skoonheid opgevang; romanties-vol
Van awenture op die wye see
En van gemeenskap, as groot golwe rol
Met skim-gevaartes wat nog spook - wie weet? -
Wat kragte met die storm se hartstog meet.
III.
‘Daar is die see, wie sal sy kragte toom?’
So sing die Digter van ou Griekeland.
En wie het van diè kragte ooit verstand?
Want altyd, altyd, kreun hy vroed en vroom
Of vloek, weerbarstig, wild,
En wie sal ons sy Groot Geheim vertolk?
Vanmore lag hy sag, welwillend - lui
Vanmore is sy lag toegeeflik, mild,
| | | |
Asof hy op die punt was iets te fluister.
Maar ou Lucretius het vergeefs gewag
En Aischylos voor hom, en menigeen,
Ja, en Plotinus... teer Vergilius - -
Vergeefs verlangend het hul steeds geluister
En nooit het hy aan hul 'n tolk verleen.
IV.
Wat tog die see vertel en steeds vertel
En die verborge taal van al sy skoonheid,
En half-gedagtes wat hy op laat wel
O, dan sou ek my ook 'n weg kon baan
Verheerlik met 'n lig wat daar bestaan
Tot by die hart van al die Kosmies' lewe
Waar al ons onvervulde diep verlange
En alles wat ons harte nog voor bewe
En al wat ons verstand laat rustloos strewe
En ek voldaan, trillend bewus,
Van al die onuitspreeklik' Wonder
Wat om ons sing sy min-waardeerde sange
En aansteek al die toorts van ons verlange
Na oorde - eens gesien, wie weet? - daar vèr
(Flou ons geheue soos 'n mistig' ster)
Waarheen ons siel na lang, lang pelgrimsreis,
Na storm die hawe, lig na blinde duister
Sal vind, die Groot Geheim bekroon met eeuw'ge luister.
|
|
|