Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929


auteur: [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die


bron: Die Nuwe Brandwag. Tydskrif vir Kuns en Lettere. Jaargang 1929. J.H. De Bussy / H.A.U.M. v.h. J. Dusseau & Ko., Pretoria / Kaapstad 1929


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. *22]



illustratie

G. PILKINGTON.
WINGERD.


[p. 231]

Die Nuwe Brandwag
Tydskrif vir Kuns en Lettere

DEEL I. No. 4. PRETORIA - KAAPSTAD. NOV. 1929.

Oproep aan die Afrikaanse Volk.

Afrikaanse taal- en kultuur-konferensie.

(Onder die Beskerming van die S.A. Akademie vir Taal, Lettere en Kuns.) Stadsaal, Bloemfontein, 18 en 19 Desember 1929.

 

DIE onverpoosde taal- en kultuurstryd wat daar in die na-oorlogse jare van ons volksbestaan met soveel sukses gevoer is, het uiteindelik vir ons taal en kultuur toegang verskaf van die laagste skoolbanke tot die hoogste aan die uniwersiteite; die geestelike volksleiers sowel as die hoogste wetgewende magte in ons land twyfel nie meer aan sy regmatige aanspraak op voortbestaan nie, en deur die konstitusionele vaslegging van die taal het hulle ons gewys dat hulle vaste vertroue het in die volk wat daardie taal, deur gedurige gebruik, sal laat opbloei en groei tot hy kragtig gespierd en sterk sal wees.

 

Dog omdat Afrikaans nou offisiële erkenning geniet, meen baie van ons landgenote dat die stryd gewonne is, en dat die tyd aangebreek het om op ons louere te rus. Hierin, meen ons, lê juis die dodelike kieme wat besig is om die gesonde kern van ons volksbestaan te ondermyn. Ons het pas aangevoor, en die hele akker lê nog braak. Dis juis daardie selfvergenoegdheid wat in die verlede so baie van ons grootste ideale laat skipbreuk ly het.

 

Ons is ook nie onbewus van en ondankbaar vir wat enkelinge sowel as groepe daeliks besig is om te doen n.l. Afrikaans orals te handhaaf en te gebruik nie, dog ons voel die behoefte aan 'n meer doelbewuste en geko-ordineerde optrede in die publieke lewe, en daarom word alle goedgesinde Afrikaner organisasies uitgenooi om die Volkskonferensie in die Stadsaal te Bloemfontein op 18 en 19 Desember by te woon.

[p. 232]

Die doel van die konferensie sal wees om te trag om al die reeds bestaande simpatieke verenigings en persone saam te bring en nouer aaneen te sluit, sodat ons gesamentlik één magtige front teen die aanvalle van agtelosigheid en moedswilligheid kan bied, om sodoende op alle terreine van die samelewing 'n positiewe ontwikkeling van ons taal en kultuur te bewerkstellig.

 

Elke afsonderlike vereniging of enkeling sal natuurlik daar in sy eie omgewing bly woel en werk, dog deur alle bestaande kragte te mobiliseer, sal iedereen in sy taal- en kultuurstryd deur almal gesamentlik gerugsteun word; en waar ons so gesamentlik optree en uit één mond praat, moet en sal daar gouer herstel van onreg geskied as anders. Eendrag maak Mag!

 

Omdat dit 'n saak is wat die lewensbestaan van die Afrikanervolk in sy diepste wese raak, is daar besluit geword om die kongres so spoedig moontlik te hou, en nog wel voordat die meeste mense op vakansie gaan.

 

Dat u u die opoffering sal getroos om een van die belangrikste volkskonferensies by te woon, dit sy as indiwidu of as verteenwoordiger van 'n Vereniging, daarvan is ons vas oortuig. Daar sal u inspirasie gee of ontvang, asook die rigting aanwys of aangewys word wat ons as 'n eenheid in die toekoms meen om in te slaan. Kom deel ons u sienswyse mee, en kom help opbou aan die skone taal wat die God van ons Vaders ons in die mond gelê het om ons daardeur as 'n Nasie van diè ander volke te onderskei en te handhaaf. Kom help om 'n aan ons toevertroude pand behoorlik te bewaar.

 

Kan of het 'n volk ooit bly bestaan, wat sy eie taal vir 'n ander prysgegee het? Nee nog nooit, en daarom moet ons sorg dat ons taal gehandhaaf word, anders word ons volksbestaan ondermyn. Kom op, word 'n handhawer van u eie, en gaan besield terug, en inspireer u swakkere landgenote. Alleen deur onsself te respekteer, sal ons die respek van ander nasies afdwing.

 

Die tyd is baie beperk. Stuur dus so gou as moontlik, nadat u vergadering gehou het, die naam en adres van u vereniging, asook die naam van u afgevaardigde na die Konferensie, aan die Sekretaris, Mnr. I.M. Lombard, Bus 3686, Johannesburg.

 

Lede van die Uitvoerende Komitee: -

 

Prof. E.C. Pienaar (K.P.).
J.W. Potgieter (Tvl.).
Dr. N.J.v.d. Merwe (O.V.S.).
J.F. Ferreira (Natal).
I.M. Lombard (Sekr.).

Lede van die Prov. Komitees: -

 

Prof. D.F. Malherbe (O.V.S.).
L.W. Hiemstra (O.V.S.)
T. Wassenaar (Tvl.).
M.L. du Toit (Tvl.).
Twee lede. (K.P.).
Mevr. M. Jansen (Natal).
D. Hugo (Natal).