|
|
|
| |
2. Die Afrikaner se vryery.
Om die liefdesuiting van die Afrikaner in die lied te verstaan, moet ons ook weet hoe hy die liefde uit in die werkelikheid, hoe hy vry.
As 'n sielkundige verskynsel is verliefdheid in Suidafrika natuurlik nie veel anders as in ander lande nie. Maar die Afrikaner het sy eie manier om die liefde kenbaar te maak en wederliefde te win.
Aan die ent van 'n week van harde werk gaan die jongkêrel op 'n plek kuier, gewoonlik op 'n Vrydag- of Saterdag-aand. Dit gebeur meermale, hy maak ‘rolplek’ daar! En by die tyd weet al die bure al ‘daar is fout’! Dan begin die grappe oor die kêrel se spoggerig ry, oor sy rooi sysakdoek, en oor sy ‘draai’ daar by die noointjie (vgl. Schonken: ‘O.K.-H.V. bl. 121). So heet dit in een van die minneliedjies:-
‘My hartjie, my liefie, die son trek weg
Daar onder by die blou berg,
En ek wil-le, wil-le, wil-le na die nonnie gaan vry,
En die perd van tien pond doodgery!’ (C, 29).
Die ryperd is onafskeidbaar van 'n vryer. 'n Mooi lewendige hengs is 'n sterk aanbeveling, veral as die baas 'n meester is van die rykuns.
‘Ag, kyk tog hoe trippel die kolperd,
Tienduisend spore op één plek!’ (C, 28).
As die jonkman bemerk dat hy indruk gemaak het op die
| | | | nooi, dan sal hy by die ouers verlof vra om vir haar te kom kuier. Kry hy 'n gunstige antwoord, dan sal die vryery min of meer as volg toegaan:-
Die kêrel kom so teen sononder by die plaas, waar sy ‘soetliefie’ woon. Die baas van die plaas ontmoet hom: sal hy afsaal? Goed! Is dit in orde, dan sal ‘ons nou maar nader staan’. Na die wedersydse begroeting, sit die famielie en die gas aan vir die aandete. Na afloop daarvan soek die mansmense bietjie buitelug, terwyl die moeder en die dogters die tafel afdek en die voorhuis aan kant maak. En as alles in orde is, begin die gesels, wat eers nog taamlik algemeen van aard is; maar dan begin die jongspan musiek te maak .... die oumense sal nou maar gaan slaap. So heet dit in een liedjie (B, 24):-
‘Om ag-uur die aand raak oom Stoffel aan d'gaap,
En sê toe: ‘Wel, kinders, ek wil nou gaan slaap.’
‘Ek sal hier 'n kers op die tafeltjie laat,
Solang as hy brand, kan jul sit praat.
'n Rukkie daarna gaan die kers skielik dood,
En Jatjie die raak toe gedug in die nood;
Sy was wel verleë, maar glad tog nie kwaad;
Die kans was te mooi om nou soetjies te praat.’
‘Want Jasper die gryp haar meteens by die hand;
Sy arme omvat haar net soos 'n lyfband;
Terwyl sy in stilte hom saggies hoor vra:
“Kom sal ons ons skapies in één klompie ja?”
Sy antwoord: “Dit doen ons nou eendag gerus,”
En segel die woord met 'n hoorbare kus!’
Dit is opmerkelik dat die ‘uitverkoorne’ tot nog toe op die agtergrond gebly het; maar nou kom sy meer na vore, veral
| | | | onder die sing van stigtelike liedere en miskien ook van enkele van die minneliedjies wat in hierdie bundeltjie volg. So hoor ons in een van die liedjies (n.l. B, 22):-
‘Ek was die aand “ge-introduce”,
En ek sit ook aan haar sy:
Ag wêreld! ek het toe so gespog:
Ek dog sy was verliefd op my!
Toe sing ons saam uit die Sankey-boek:
“O! happy are we tonight!”
Toe bak sy vir ons pannekoek,
Toe was die ding “alright!”’
En daarna sal dit nie meer te lang duur nie, vóór die broers en susters gewaar word dat die oomblik gekom is vir hulle om bed toe te gaan. Dit sal wees as 'n sekere stilte oor die geselskap begin neerdaal: dan is die psigologiese moment daar! Nou is die twee alleen en ons neem aan dat Jannie en Sannie, soos hul dikwels in die liedjies heet, vanaand nog baie vir mekaar te vertelle het. Die geselskap sal natuurlik gepaard gaan met allerhande liefkosinge, en die soet woordjies sal wel nou en dan onderbreek word deur..., maar ‘as daar tweetjies is wat vry, is 't beter om jou ver te hou!’
Daarom sal ons nie meer geheime hier verklap nie. Ons wil die leser net die versekering gee dat in sulke gevalle die verhouding altyd baie intiem sal wees, maar gewoonlik ook besonder kuis. Ongelukkig is daar ook 'n minder mooie vryery, wat veral in later tyd onder die jonger geslagte posgevat het; dit is die sinnelike vryery sonder liefde, wat bevorder werd deur die gebrek aan waaksaamheid by baie ouers. Tog was daar ook in die ‘ou’ tyd 'n minder fyne vorm van ‘opsit’ by die vetkers, wanneer die jong paar alleen in die stilte van die
| | | | nag by die flou kersliggie mekaar nie altyd op 'n passelike manier vermaak het nie. (vgl. B, 24, bo aangehaald).
Baie stories word vertel van die vetkers, die ‘opsitkers’, van planne om sy lewe te verleng enersyds, en andersyds om sy lig te verminder. Hoeveel daarvan waar is, kan moeilik uitgemaak word. (vgl. Schonken: ‘O.K.-H.V.’ bl. 121, noot).
Die oorsaak van die degenerasie van die Afrikaanse opsitgewoonte moet waarskynlik gesoek word in die laksheid van baie ouers. Waar vroeër alleen wedersydse liefde die reg daartoe gegee het en die slaaptyd deur die ouers bepaal werd, is later aan enige jongkêrel dikwels toegelaat om op te sit met die dogter vir enige tyd. Hoe dit ook al mag wees, seker is dit dat die omgang tussen jongmense van verskillende geslag in die ‘ou’ tyd baie kuiser was as in ons tyd. (vgl. Schonken: ‘O.K.-H.V.’ bl. 37).
Altyd egter het die liefdesverhouding tussen die kêrel en die nooi oorvloedig stof gebied vir humoristiese kommentaar, waarvan ons minneliedjies ook volop getuienis aflê. (vgl. A, 11; B, 20; B, 22; B, 24; C, 29; C, 30; C, 32; C, 33; C, 39; D, 49 en D, 60, ens.). Dit neem darem nie weg nie dat die opvatting van die huwelik by die Afrikaner in die verlede altyd ernstig was. Die ouers het die erns daarvan altyd aan die kinders voorgehou en ook die volksmond het dit (taamlik lughartig) geformuleer in die spreekwoord: ‘Trou is nie perde-koop nie!’ En een van ons meer ernstige minneliedjies eindig met die moraliserenddidaktiese slotwoorde:-
Skei die mens nie van mekaar.’ (A, 3).
| | | |
Die Afrikaner se skerts met die huwelik in sy minneliedjies was derhalwe waarskynlik maar nes die flikkerglansies op die oppervlakte van diep water. |
|
|