Gedigte


auteur: A.D. Keet


bron: A.D. Keet, Gedigte. Swets & Zeitlinger, Amsterdam 1920


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. 21]

Awendmijmering
(Op die stoep van 'n boereplaas)

 
Dis stil....
 
Geen blaartjie roer,
 
En die hele werf
 
Rus sag in die skoot van diepe vergetelheid.
 
Die dag is dood
 
En lê begrawe -
 
Stil.
 
 
 
Soals op Sabbat môrens 'n tortelduif
 
Die stilte in die lug nog stiller maak,
 
Deur af en toe te koer en dan te swijg -
 
So kan jij hoor
 
Daar onder bij die voor,
 
Waar nou net modder van vroeëre strome vertel,
 
Hoe die paddetjies die ontsaglike stilte verstoor.
 
Hulle kwik en kwek en kwaak,
 
Dat dit kraak!
 
Om dan weer almaal op te hou -
 
Ineens!
 
Maar nie vir lang nie;
 
Ontevrede bid
 
En soebat hul vir reën -
 
Hulle ween
 
En gaan dan slaap, vermoeid en uitgeput.
[p. 22]
 
Ver
 
In die veld
 
Gaan 'n skreeuwende kiewiet te keer.
 
Hij vlieg op en neer,
 
Heen en weer,
 
Verskrik
 
Deur 'n jakhals wat tjank in sij buurt....
 
Dis roerloos stil.
 
 
 
En die sterre,
 
O God, die sterre!
 
Hoe mooi
 
Is die firmament versier
 
En uitgetooi,
 
Alsof daar altijd feeste word gevier
 
Daar bo in die hemel,
 
Ver -
 
Ver van hier!