Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging P.C. Schoonees GEBRUIKT EXEMPLAAR exemplaar universiteitsbibliotheek Leiden, signatuur: 1129 F 24 ALGEMENE OPMERKINGEN Dit bestand biedt, behoudens een aantal hierna te noemen ingrepen, een diplomatische weergave van de derde druk van Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging van P.C. Schoonees uit 1939. De eerste druk verscheen in 1922. REDACTIONELE INGREPEN Bij de omzetting van de gebruikte bron naar deze publicatie in de dbnl is een aantal delen van de tekst niet overgenomen. Hieronder volgen de tekstgedeelten die wel in het origineel voorkomen maar hier uit de lopende tekst zijn weggelaten. Ook de blanco pagina's (p. II, IV en VI) en de pagina's met advertenties (p. 594-596) zijn niet opgenomen in de lopende tekst. [pagina I] DIE PROSA VAN DIE TWEEDE AFRIKAANSE BEWEGING [pagina III] DIE PROSA VAN DIE TWEEDE AFRIKAANSE BEWEGING DEUR Dr. P.C. SCHOONEES, m.a. HOOF. HOËRSKOOL, VRYHEID DERDE, OMGEWERKTE EN VERMEERDERDE DRUK DRUKKERIJ EN UITGEVERIJ J.H. DE BUSSY, PRETORIA HOLL.-AFR. UITG.-MIJ v/h J. DUSSEAU & Co., KAAPSTAD - 1939 [pagina VII] INHOUD Bladsy Voorberig by die derde druk V HOOFSTUK I. Die Eerste en Tweede Afrikaanse Bewegings 1-57 § 1. Die Stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners 1 § 2. Die Hoog-Hollandse Party 10 § 3. Die Tweede Afrikaanse Beweging 11 § 4. Politieke Verwikkelinge 16 § 5. Die Didaktiese Stroming 17 § 6. Die Satiries-Humoristiese Stroming 19 § 7. Die Geskiedenis as Letterkundige Motief 19 § 8. Die Avontuur-roman 21 § 9. Kultuur-toestande 22 § 10. Die Oorgangstydperk na 1921 25 § 11. Die Vrou en die Liefde by die Prosaskrywers van die Oorgangsperiode 28 § 12. Ampie, die Eerste Lewende Mens in die Roman 30 § 13. Verdere Ontwikkeling (1926-1937) 33 Armblanke-motief 33 Speurdersverhale 34 Veranderende Toestande 36 Die Afrikaanse Skrywerskring 37 F.A.K. 38 Die Opkoms van die Individualisme 38 Verwyding van Motiewe 45 Plaaslewe 45 Die Arbeider 46 Dorpslewe 47 Grootstadslewe 47 Godsdienstige Motief 48 Liefde en Huwelik 49 Kleurlinge en Naturelle 50 Jag- en Dierverhale 51 Spookstories 52 Historiese Motiewe 52 Die Kortverhaal 54 Die Afrikaanse Bybel 55 [pagina VIII] Bladsy HOOFSTUK II. Polemiese Prosa 58-66 HOOFSTUK III. Prosa uit die Tydskrifte 67-88 § 1. a. De Goede Hoop (1903-1914) 67 b. De Goede Hoop (1915-1925) 68 § 2. Die Brandwag (1910-1922) 71 Jan F.E. Celliers 73 Iz. van Heerden 77 § 3. a. Die Huisgenoot (1916-1923) 78 b. Die Huisgenoot as Weekblad (1923-1931) 84 c. Die Huisgenoot (1931-1938) 86 § 4. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns 87 § 5. Die Nuwe Brandwag (1929-1933) 87 § 6. Ons Tydskrif (1933-1937) 88 § 7. Ons Eie Boek (1935) 88 § 8. Die Brandwag (1937) 88 HOOFSTUK IV. G.R. von Wielligh 89-100 Lewenskets 89 Eerste Skrywers; Ons Geselstaal 90 Baanbrekerswerk 91 Jakob Platjie 92 Huis en Veld; Staan jou Man 93 Robinson Crusoë; Nimrod Seeling; Ghwennie Barnveld; Die Vrouens van Vrindenburg 94 Langs die Lebombo 95 Dierestories 96 Boesmanstories 96 ‘Die laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners’ 97 HOOFSTUK V. Verhalende Prosa: Die Intrigeroman 101-164 § 1. Indeling - d'Arbez as voorloper 101 § 2. Adv. J.H.H. de Waal 102 § 3. Joubert Reitz 115 § 4. Gordon Tomlinson 117 § 5. Reenen J. van Reenen 120 § 6. D.P. du Toit 126 [pagina IX] Bladsy § 7. A. Du Biel 129 § 8. J.H. Malan 134 § 9. Sadie Bosman 139 § 10. Wolla 141 § 11. Slypsteen 142 § 12. P. Meyerink 142 § 13. Adv. Eugène N. Marais 143 § 14. P.R. Gauché 147 § 15. Nico Hofmeyr 149 § 16. N.H. Theunissen 152 § 17. Ds. Harper Martins 153 § 18. J.J. Groeneweg 154 § 19. C.F.K. 155 § 20. J.M. Friedenthal 156 § 21. Elizabeth Vermeulen 157 § 22. J.D. Olwagen 158 § 23. J. Gysbert Slier 159 § 24. Dr. C.J. Scheepers Strydom 159 § 25. H. Veeneboer Smit 159 § 26. A. van Oordt 160 § 27. A.D. Divine 161 § 28. Karl Kielblock 162 § 29. A.J. du Plessis 162 § 30. J. de Villiers 163 § 31. J. wapenaar 163 § 32. Speurverhale 164 HOOFSTUK VI. Verhalende Prosa (vervolg): Die Mens in die Afrikaanse Verhaalkuns 165-425 § 1. J. Lub 165 § 2. Dr. D.F. Malherbe 166 § 3. Jochem van Bruggen 202 § 4. Léon Maré 238 § 5. Ds. J.H. Kruger 246 § 6. Dr. J.R.L. van Bruggen 250 § 7. Everard Fichardt 256 § 8. Marie Linde 259 § 9. Meg Ross 269 § 10. Eva Walter 272 § 11. Hettie Cillié 276 § 12. E.B. Grosskopf 278 § 13. E. de Roubaix 282 § 14. P.C. Schoonees 284 § 15. Dr. F. Postma 284 [pagina X] Bladsy § 16. Essie Malan 288 § 17. E. Serfontein 290 § 18. Dr. C.M. van den Heever 292 § 19. Dr. C. Louis Leipoldt 319 § 20. Dr. P. de V. Pienaar 334 § 21. S. Bruwer 341 § 22. Dr. Anna de Villiers 342 § 23. Helmüth Luttig 346 § 24. Sita 348 § 25. Miemie Louw-Theron 350 § 26. P.J. Groenewald 351 § 27. Lulu Brewis 354 § 28. Abr. H. Jonker 356 § 29. Regina Neser 367 § 30. Helen Blackmore 368 § 31. Willem C.W. Kamp 371 § 32. Ds. A.J.V. Burger 374 § 33. David J. Coetzee 376 § 34. J. van Melle 377 § 35. Dirk Mostert 383 § 36. P.W. Botha 385 § 37. C.H. Kühn (Mikro) 387 § 38. T.C. Pienaar 396 § 39. Maarten E. Conradie 401 § 40. Dr. I.D. du Plessis 402 § 41. Sophie Roux 403 § 42. Dr. Abel Coetsee 412 § 43. Kootjie van den Heever 413 § 44. Hettie Smit 415 § 45. Karin 420 HOOFSTUK VII. Die Dierverhaal 426-448 § 1. A.A. Pienaar (Sangiro) 426 § 2. G.C. en S.B. Hobson 437 § 3. Dr. P.J. Schoeman 445 § 4. Eugène N. Marais 447 HOOFSTUK VIII. Ander Prosaïste 449-471 § 1. J.G. Engela 449 § 2. Christian Zinn 450 § 3. Chris. C. Euvrard 450 [pagina XI] Bladsy § 4. Adv. H.A. Fagan 451 § 5. M. Jansen-Pellissier 452 § 6. G.J. Otto 453 § 7. G. Jordaan 453 § 8. A.J. Jacobs 454 § 9. Bana Maie 456 § 10. A.J. van Zyl 458 § 11. Dr. G.W. Eybers 459 § 12. Danie Smal 460 § 13. Hermanus 461 § 14. Imker Hoogenhout 461 § 15. Hans Rompel 462 § 16. J. Albert Coetzee 462 § 17. M.E. Rothman 464 § 18. H. Luhis 465 § 19. Mev. dr. W.P. Steenkamp 466 § 20. Gebbina Dekker 466 § 21. Hélène van Rhyn 467 § 22. T.J. Haarhoff 467 § 23. I.W. van der Merwe (Boerneef) 469 § 24. G.J. Joubert 470 HOOFSTUK IX. Adv. C.J. Langenhoven 472-514 § 1. Ter inleiding 472 § 2. Didaktiese Werk: Ons Weg deur die Wêreld 475 Die Opdraende Pad 481 § 3. Satiries-humoristiese Verhale: Sonde met die Bure 482 Herrie op die ou Tremspoor 484 Doppers en Filistyne 487 § 4. Ontspanningslektuur: Loeloeraai 491 Die Wagtende Wêreld 492 Die Lig van Verre Dae 493 Geeste op Aarde 493 Die Wandelende Geraamte 494 Mof en sy Mense 495 Donker Spore 498 § 5. Kinderverhale: Die Eensame Hoop 500 Brolloks en Bittergal 501 Die Krismiskinders 501 [pagina XII] Bladsy § 6. Bybelverhale: Skaduwees van Nasaret 504 Die Mantel van Elia 504 § 7. Aan Stille Waters - Algemene beskouing van Langenhoven se letterkundige betekenis 505 HOOFSTUK X. Historiese Prosa 515-577 § 1. Inleiding 515 § 2. Dr. Gustav S. Preller 516 § 3. J.H. Malan 535 § 4. Dr. S.P.E. Boshoff 538 § 5. Dr. J.D. du Toit (Totius) 539 § 6. Ds. Willem Postma (Dr. O'kulis) 543 § 7. Thos. Blok 547 § 8. Dr. G.B.A. Gerdener 547 § 9. A.J. van der Walt 549 § 10. Senator G.G. Munnik 552 § 11. Ds. J.D. Kestell 553 § 12. Dr. N.J. van der Merwe 556 § 13. Lenie Boshoff-Liebenberg 560 § 14. B. Spoelstra 561 § 15. Keet-Tomlinson 562 § 16. Oud-minister F.S. Malan 564 § 17. J.P. La Grange Lombard 565 § 18. Adv. J.H.H. de Waal 567 § 19. Dr. F.V. Engelenburg 568 § 20. Dr. S.P. Engelbrecht 569 § 21. J.G. Prinsloo en J.G. Gauché 570 § 22. Eerw. H. Kling en C.P.Naude 570 § 23. Dirk Mostert 571 § 24. Trienie Meij 571 § 25. Ds. A.J.V. Burger 572 § 26. L.A. Visagie en J.L. de Villiers 573 § 27. Genl. Chris H. Muller 573 § 28. Dr. C.J. Scheepers Strydom 574 § 29. Sarah Raal 574 § 30. Dr. Carel Potgieter en N.H. Theunissen 575 § 31. Ds. Ph.J. du Plessis 576 HOOFSTUK XI. Letterkundige Geskiedenis en Kritiek 578-590 Naamregister 591 2011 dbnl / erven P.C. Schoonees scho120pros02_01 P.C. Schoonees, Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging. J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co., Kaapstad 1939 (derde druk)  DBNL-TEI 1 2011-04-20 AS colofon toegevoegd Verantwoording Dit tekstbestand is gebaseerd op een bestand van de Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren (https://www.dbnl.org) Bron: P.C. Schoonees, Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging. J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co., Kaapstad 1939 (derde druk)  Zie: https://www.dbnl.org/tekst/scho120pros02_01/colofon.php In dit bestand zijn twee typen markeringen opgenomen: paginanummering en illustraties met onderschriften. Deze zijn te onderscheiden van de rest van de tekst door middel van accolades: {==13==} {>>pagina-aanduiding<<} {==Figuur. 1: Onderschrift van de afbeelding.==} {>>afbeelding<<} {==V==} {>>pagina-aanduiding<<} Voorberig by die derde druk. As gevolg van die verblydende groei van ons prosa in die afgelope tien jaar het hierdie uitgawe veel omvangryker geword as die tweede druk. Dit bevat die resultaat van my kritiese arbeid gedurende 1927-1937. Soos in vorige uitgawes het ek daarna gestreef om 'n volledige beeld te gee van ons prosa, met uitsondering van: (1) suiwer wetenskaplike prosa; (2) godsdienstige prosa; (3) kinderlektuur; (4) vertalings en omwerkings; (5) die toneel. Baie van die werke wat hier bespreek word, het alleen kultuurhistoriese waarde, en sal deur die toekomstige literatuur-historicus eenvoudig verswyg word. Vir die student en algemene leser egter, wat 'n begrip wil kry van die ontwikkelingsgang, lewer 'n bespreking van sulke werke dikwels nuwe gesigspunte op wat van groot belang is vir ons kennis van die tydperk. Ofskoon die ouer gedeelte van die werk aanmerklik verkort is, moes heelwat behoue bly as skakel met die verlede. Enkele werke, wat in die eerste helfte van 1938 verskyn het, kon ook nog ingesluit word. P.C. SCHOONEES. Vryheid, Julie 1938. {==1==} {>>pagina-aanduiding<<} Hoofstuk I. Die Eerste en Tweede Afrikaanse Bewegings. § 1. Die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners. ‘Mogelik sal 'n latere geskiidskrywer - as teenwoordige fooroordele al uitgesterwe is en die tyd elke gebeurtenis na waarde sal gerangskik hê - di veertiinde Augus 1875 opteken as 'n gedenkwerdige dag in di geskidenis fan Suid Afrika. Dis di dag waarop Di Genootskap fan Regte Afrikaners opgerig is.’ Hierdie woorde van ds. S.J. du Toit, die leier van die Eerste Afrikaanse Beweging, het gouer in vervulling gegaan as hy miskien self gemeen het. Voor sy dood in 1911 moes dit vir hom duidelik gewees het, dat sy groot lewensarbeid nie tevergeefs was nie, maar dat 'n jong geslag van taalstryders besig was om die oorwinning vir Afrikaans te behaal. Vyftig jaar is nie lank in die lewe van 'n nasie nie, maar as ons dink aan die tydperk tussen 1875 en 1925, dan moet die snelle ontwikkeling van die Afrikaanse volk ons verbaas. In 1875 was daar wel Afrikaners, maar van 'n Afrikaanse volk kon daar nouliks sprake wees. Stadig maar seker had die proses van verengelsing sedert die oorname van die Kaap aan die begin van die negentiende eeu deurgewerk. Die magtige oorwinnaar, gerugsteun deur 'n eeu-oue beskawing, was besig om die handjievol Afrikaners op vreedsame wyse te absorbeer. Swak was die saamhorigheidsbesef by ons ou volkie, wat nie eers 'n gemeenskaplik erkende taal had, waarin dit vir sy ideale kon stry nie. Vooraanstaande Afrikaners, soos hoofregter de Villiers, het getwyfel aan die voortbestaan van die Afrikaanse volk en gemeen dat dit beter sou wees om maar stilswygend die onvermydelike inslukproses sy gang te laat gaan. Vooraanstaande Hollanders, soos dr. Changuion en dr. Mansvelt het gesien dat dit hopeloos was om die Afrikaner te probeer Hollands leer. Eersgenoemde het gesê: ‘Tans beschouwen wij de taal, waaraan wij onze moeite besteden, gelijk een geneesheer een ongeneeslike lijder, wiens kwaal in haar verderfelike uitwerkingen wel enigszins kan gematigd, wiens wisse dood wel enige {==2==} {>>pagina-aanduiding<<} tijd kan vertraagd worden, maar op wiens volkomen herstel niet meer te hopen valt.’ En dr. Mansvelt het met hom saamgestem. Soos 'n vreemdeling in sy eie land, soos 'n doofstomme het die Afrikaner gesit! Engels wou hy nie, Hollands kon hy nie praat of skryf nie, en Afrikaans was net goed vir Adoons by die kraal, of Kaatjie by die potte. Op vergaderinge het hy gehakkel in 'n vreemde, aangeleerde Hoog-Hollands, op papier het hy hopeloos verward geraak in die striknet van Nederlandse verbuigings en vervoegings. Stilbly is ook 'n ding, sê ons. Maar as 'n hele volk stilbly, as die hele geesteslewe van 'n volk gestuit of onmoontlik gemaak word deur taalbelemmering, beteken dit 'n nasionale moord. Want deur die taal moet die volk uiting gee aan wat daar woel in sy gedagtes. Dit is die vernaamste band wat die eenling aan die gemeenskap verbind, wat volksideale moontlik maak. Die taal is die wonderlike gemeenskapskepping waardeur alle bewussynslewe eers moontlik word. Op onbewuste wyse kom die mens deur middel van die taal tot bewussyn. Neem dié gemeenskaplike uitingsmiddel weg, beroof 'n volk van sy spraak en jy sit elke burger op 'n eilandjie. Ons het wel altyd die omgangstaal gehad, maar ons land was uitgestrek en ons afstande so groot, dat daar van 'n eendragtige aksie niks kon kom sonder die geskrewe woord nie. Die taal is nie net die voertuig van die gedagte nie, maar dit raak ook diep die innerlikste roersels van ons siel. Dit is die erfstuk van ons voorvaders, geheilig deur al die herinneringe van ons kindsheid. Daarin het ons ons eerste woordjies gestamel aan moeder se knie. Maar toe ons op skool kom, moes ons uitvind dat dié moedertaal 'n minderwaardige uitingsmiddel was, wat net deug in die kombuis. Dié agterstelling van wat ander volke as die kosbaarste kleinood beskou, het 'n suiwer Afrikaanse kultuur onmoontlik gemaak. Ons kon nie ons eie siel ontdek nie, ons kon nie 'n gesonde gevoel van eiewaarde aankweek nie, want ons moes van na-apery lewe. As ons eers amper-Hollander was, kon ons enigsins in tel kom by die boonste laag van die samelewing. As ons eers probeer het om die klanke van ons moedertaal dood te smoor en te bewonder wat halfvreemd was, dan eers kon daar sprake wees van enige ontwikkeling. Amper Hollander moes ons word om 'n regte Afrikaner te wees! 'n Gedeelte van die nasie, die bevoorregte klasse, wat die middele besit het om te profiteer van onderwys op die groot dorpe en in die stede, het deur middel van 'n soort Hoog-Hollands 'n na-aapkultuur ontwikkel. Maar die breë lae van die volk in die binneland kon dit met moeite so ver bring om hul Bybel te lees en op 'n manier te verstaan. En die voormanne kon die volk nie wakkerskud nie. Die volk wou luister, maar kon nie goed verstaan nie. Party het wel verstaan, maar die boodskap het hulle nie ontroer nie, het hul nie in die siel gegryp nie. En {==3==} {>>pagina-aanduiding<<} baie het afgesterf van hul volk, omdat daar geen nasionale selfrespek was by die Afrikaner nie en omdat dit soveel makliker was om amper Engelsman te word as amper Hollander. Die groot massa op die platteland het wel vasgehou aan die ou tradisies van hul voorvaders, maar op kultuurgebied tog langsamerhand in 'n doodslaap weggedommel. So het sake gestaan toe op 11 Julie 1866, Arnoldus Pannevis, 'n Hollander, in Tafelbaai geland het. Saam met 'n klompie Afrikaners het hy in 'n losieshuis in Kaapstad sit en eet, en dadelik opgemerk dat Hollands in Suid-Afrika tot 'n afsonderlike taal ontwikkel het. Op die Pêrel het hy o.a. ds. S.J. du Toit oortuig van die noodsaaklikheid om die spreektaal te erken en te gebruik. Maar in die begin het almal hom uitgelag. In 1872 skryf hy in die Zuid-Afrikaan, wat later as Ons Land bekend was, 'n artikel oor 'n Afrikaanse Bybel en twee jaar later rig hy aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap 'n brief oor dieselfde onderwerp, waarin hy ds. du Toit se naam as 'n geskikte vertaler noem. Dit het aanleiding gegee tot die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875. Agt manne, vier Du Toit's, twee Malherbe's, C.P. Hoogenhout en August Ahrbeck, het bymekaar gekom in die Pêrel om die saak van 'n Afrikaanse Bybel te oorweeg. Dit was 'n moedige daad. Só sterk was die teenstand, dat die name van die oprigters van die Genootskap geheim moes bly. Een van ds. du Toit se beste vriende het b.v. gesê: ‘As ek weet wie dié Lokomotief (dit was die adresnaam van die redakteur van Die Patriot) is, skiet ek hom met my hand dood.’ Van alle kante en uit alle oorde het spotters met wavragte verwensings aangedraf. Veral die plattelandse koerantjies het op die voorstanders van Afrikaans losgebars met 'n haelstorm van lawaaierige skeldwoorde. Maar die klein klompie het hul man gestaan en met persoonlike opofferings deurgedruk totdat die orgaan van die Genootskap, Die Patriot, een van die toonaangewende koerante geword het. Soos 'n bevrydingskreet het die leuse: Skryf soos jy praat deur die land weerklink. Eindelik kon die doofstomme volk sy stem laat hoor. 'n Heerleër van skrywers en skrywertjies het opgestaan en almal ‘van genl. Piet Joubert af tot die veewagtertjie in die veld’ wou saampraat en saamskryf. Daar het roering onder die doodsbeendere gekom. Voorlopig het die hoofdoel van die Genootskap, die Bybelvertaling, op die agtergrond gebly, omdat hulle gevoel het dat die tyd nog nie ryp was nie. Hulle leuse was: om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land. Met alle ywer het hul begin om die volk te oortuig van die waarde van sy eie taal. Maar as 'n organisasie het die Genootskap nie veel lewenskrag gehad nie. Ds. du Toit het dit toegeskryf aan die bepaling dat iedere lid moes geloof in die versoeningsdood van Christus. Hy het toe begin pleit vir 'n meer algemene organisasie, wat die hele Suid-Afrika kon {==4==} {>>pagina-aanduiding<<} omvat en sy pogings het gelei tot die stigting van 'n politieke party, die Afrikaner-Bond (1879). Die politieke beweging was eintlik 'n refleks van die stoot wat die nasionale saak gekry het deur die Eerste Transvaalse Vryheidsoorlog. Du Toit het dan ook verklaar dat die Bond op Majoeba wortel gevat het. Die Boer het begin selfbewus word. Eers het hy net gesorg vir sy persoonlike belange en die landsbelange oorgelaat aan ‘'n klein klompie raddraaiers op die dorpe - smouse, winkeliers, klerkies, prokureurs, Jode en Jodegenote, wat almal van die Boere moet lewe.’ Maar nou laat die Boer hom ook op politieke gebied geld. Du Toit was 'n vèrsiende leier, wat ter wille van die groot nasionale saak, selfs bereid was om die netelige taalkwessie, waaroor daar soveel verskil van opinie was, opsy te skuiwe. ‘Wat die taal aangaat, dit mag by ons geen punt van geskil uitwerk nie..... Daarom sou ons aan die hand gee om maar te sê “ons landstaal” en nie te sê Afrikaans of Hollands nie..... Die tyd sal later oor die kwessie uitspraak doen.’ Aan die hand van dr. Kuyper se program het Du Toit sy staatkundige ideale uitgewerk. En hy was sy tyd so ver vooruit, dat daar vir ons, wat so spog oor die vooruitgang onder die Tweede Beweging, nog heelwat uit sy program oorbly om te verwesenlik. Party van die dinge wat hy bepleit het, o.a. 'n nasionale Afrikaanse bank, het maar onlangs eers hul intree op die politieke terrein gedaan. Organiseer op elke gebied was sy wagwoord. Vreemde geluksoekers het ons handel verower, en verryk hulself met onbillike winste. Rig boerewinkels en handelsvereniginge op, was sy raad. In 1877 pleit hy al vir ko-operatiewe vereniginge onder die boere en in 1890 stel hy voor dat jong Afrikaners na Europa gestuur moet word om daar die landbou wetenskaplik te bestudeer. Voorwaar 'n mens moet respek hê vir die vrugbare brein van ds. S.J. du Toit, wat op elke gebied die leier van sy volk was. Op dié manier het die leier van die taalbeweging hom vereenselwig met die politieke stryd van die Afrikaner-nasie, wat na 1880 so stadigaan die manbare leeftyd bereik. Toe Du Toit, as gevolg van 'n onafrikaanse politiek, sy invloed verloor omtrent die tyd van die Jameson-strooptog, het die taalbeweging ook doodgekwyn. Alles in verband met Die Patriot het verdag geword by die volk. In Du Toit se plek was daar geen ander leidende persoonlikheid wat op taalgebied rigting kon gee nie en dit het gelyk of Afrikaans 'n verlore saak was. Die Patriot het nie daarin geslaag om die intellektuele klas Afrikaners te oortuig nie en het sy steun veral van die platteland gekry. By die onontwikkeldes en onbevoorregtes het die Genootskap lees- en skryflus opgewek en ook belangstelling in die geskiedenis van ons land. Maar die geesdriftige bewondering van onontwikkeldes het die Genootskap tog op 'n gevaarlike pad gebring. Daar was 'n begryplike ywer om alles wat maar net Afrikaans was te publiseer en op dié manier het die uitgawes van die Genootskap ver {==5==} {>>pagina-aanduiding<<} onderkant die peil van middelmatigheid gesak. Dit was 'n ernstige taktiese fout, want die groot vooroordeel teen Afrikaans, feitlik die enigste argument van die teenstanders was, dat dit 'n kombuistaal was, te plat vir beskaafde mense. En in die publikasies van die Genootskap was dit nie nodig om na bewyse van plat, onbeskaafde uitings te soek nie, met die gevolg dat Patterjots al gou 'n skeldnaam geword het. Hoe kon die groot hoofdoel van die Genootskap, die Afrikaanse Bybel, onder sulke omstandighede verwesenlik word? Selfs in 1911 skryf Langenhoven, 'n hartstogtelike kampvegter vir Afrikaans nog: ‘Als die Hollandse Kerk my sou vraag om die Bybel, die psalm- en gesangboek en die formuliere, wat aan my hart geheiligd is deur my vroegste herinneringe in Afrikaans o'er te set, dan sou ik dit ten enemaal weier, al had ik die bekwaamheid daarvoor; en ik sou die voorstel (hoe onlogies ook) beskouw als heiligskennend. Dit sou vir my smaak 'n parodie wees.’ Ons sien duidelik dat dit nie 'n saak van verstand of argument was nie, maar van sentiment. En teen dié klipmuur het die Genootskap hom te pletter geloop. Dit is verstaanbaar dat 'n godsdienstige volk 'n taalbeweging begin met 'n Bybelvertaling, maar uit ons ervaring van die Tweede Beweging weet ons nou, dat dit die tweede groot taktiese fout van die Patriotters was. In hul geesdriftige oormoed wou hulle die mees konserwatiewe bolwerk van die Afrikaanse beskawing, die Kerk, stormloop. En die Kerk het sy poorte met veragting teen die ‘heiligskenners’ gegrendel. Maar offisiële afkeuring het die ywer van die Genootskap nie gestuit nie. In 1884 het hulle die saak weer ernstig bespreek en in 1889 kon ds. du Toit eindelik 'n aanvang maak daarmee. Met groot opoffering het hy al sy vrye tyd aan sy lieflingsaak gewy en tot in 1908 sewe Bybelboeke vertaal. Vandag pluk ons die vrugte van sy liefdevolle toewyding aan 'n groot saak. Ons het gesien dat politieke verwikkelinge veel te doen gehad het met die uiteindelike doodkwyn van die Genootskap. Gewoonlik word dit dan ook vir die hoofoorsaak aangesien. Maar as 'n mens so deur die nagelate geskrifte van die Genootskappers blaai, veral die bundel Afrikaanse Gedigte, 1876-1906, dan kom daar tog die onweerstaanbare gevoel op, dat afgesien van alle ander oorsake 'n beweging wat in 'n tydperk van dertig jaar niks beters as dit kon presteer nie, uiteindelik moes doodloop, omdat daar so'n gebrek aan innerlike, geestelike krag was. Ywer, liefde en toewyding aan die volksaak was daar genoeg, maar die waaragtige besieling het jammerlik ontbreek. Daar was geen kunstenaar wat deur die skoonheid van sy woord die volk kon ontroer en liefde en agting opwek vir die lang veragte moedertaal nie. ‘Skryf soos jy praat’ was 'n bedrieglike leuse, wat die leiers van die begin af op 'n dwaalspoor gebring het. Hulle het in die Afrikaanse taal, soos dit in 1875 {==6==} {>>pagina-aanduiding<<} was, 'n volmaakte middel gesien, en gemeen dat alleen deur die blote aanwending daarvan alles sou regkom. Maar die taal kan alleen saam met die nasie groei. Taalveredeling hou gelyke tred met volksveredeling, omdat die taal net die uitingsmiddel van die volk is en sy innerlike krag uit die volksiel moet put. As die volk nog op 'n lae geestelike peil staan, dan ontbreek natuurlik die behoefte om uiting te gee aan die meer verfynde aandoenings van die beskaafde mens en dan bly die taal arm van inhoud. In 1875 was Afrikaans wel 'n uitstekende omgangstaal, maar dit kon toe net 'n gebrekkige kultuurmedium wees, omdat daar destyds, behalwe op godsdienstige gebied, nog maar enkele flou aanduidings was van 'n wordende nasionale kultuur. Maar die leiers van die Eerste Beweging het nie ingesien, dat die opbouing van so'n kultuur noodwendig 'n langsame proses moes wees nie. En in hul prysenswaardige ywer om die onbevoorregtes deel te laat kry aan 'n soort kultuur, het hulle maar alles hot en haar gepubliseer..... en sodoende die ontwikkelde deel van die nasie afgeskrik. Die leier van die Beweging sê al in 1876 by die uitgawe van ‘Di Eerste Beginsels fan di Afrikaanse taal’: Ofskoon ons taal hiir blyf, En idereen dit skryf, Net na di wind hom dryf; Di Afrikaans blyf daarom reg. Hier het ons al die gees van: ‘dons maar op, alles sal regkom!’ En tog het die veelsydige ds. du Toit, wat met Bilderdijk gedweep het, 'n deeglike studie van taalkunde gemaak. In 'n Afrikaanse Liidji, volgens 'n voetnoot ‘een fan di eerste frugte fan di ontwaakte nasionalitytsgefoel’ lees ons: Afrikaans is fol gees, Om gladweg te lees, Afrikaans is so plat, Dat ons dit kan fat, Afrikaans is net lig, Om liidjiis te dig, Afrikaans is ook mooi, Om woorde te gooi. Oom Lokomotief gee hierop 'n berymde antwoord waarin hy die ‘digter’ Albertus Herholdt gelukwens en o.a. sê: Oom kan maar weer stuur Ons goi ni in fuur..... {==7==} {>>pagina-aanduiding<<} Ons is regte bly Om liidjiis te kry, Misski is dit sleg, Ons maak dit mos reg. Oom het genoeg gees Om digter te wees. Oom Lokomotief mag 'n goeie ‘fuurwa’ gewees het, maar sy brandstof is so sleg dat hy by die eerste ou bultjie sou gaan staan. Oom Jan (C.P. Hoogenhout) roep ook met begryplike blydskap uit: Wi had kon denk dat Afrika Ooit sofeul digters had? Gedigte kom nog daagliks an Hiir's weer 'n folle blad. Met volle blaaie van sulke ‘gedigte’ kon die Genootskappers wel 'n vuurtjie maak wat 'n tydlank hoog opgelaai en geweldig geknetter het, maar uiteindelik tog weer moes neerplof sonder om 'n lewendige kooltjie agter te laat. En tog moet ons, o so dankbaar wees, dat na al die jare van Egiptiese duisternis, die Genootskappers dit reggekry het om 'n vuurtjie te laat opflikker. Dis maklik om in 1925 smalend te skrywe oor die eerste probeerslae; maar as ons dink aan die toestande van 1875, dan voel ons dat die eerste leiers, volgens die lig wat hulle gegee was, tog iets bereik het. 'n Nuwe beweging beteken altoos 'n breuk met die verlede, en om propaganda te maak vir die nuwe idee was dit vanselfsprekend dat die deugde van die Afrikaanse taal besing moes word. Veral die eenvoud van Afrikaans word geprys in teenstelling met die ingewikkeldheid van Hollands. Want Afrikaans is plat en rond En groei mos goed op yge grond..... Daarom laat ons taal gou klaar wees, In Afrikaans wil ons mos lees. Deur dergelike uitlatings te publiseer het die verantwoordelike leiers die indruk gewek dat met die erkenning van Afrikaans al alles gewonne was. Hulle het geen vyandige houding teenoor Hollands ingeneem nie, inteendeel die strewe van die- Taalbond nog ondersteun, maar hulle het tog nie besef dat Afrikaans in 1875 nie sonder die hulp van Nederlands kon klaarkom nie. Ons sal ons yge taal nou kry, Want Lokomotief laat finnig ry. Hy hét vinnig gery, maar ook gou bly staan. Teen die end het die {==8==} {>>pagina-aanduiding<<} Patriotters tog besef wat daar ontbreek het in die Beweging, want in 1896 betreur Cachet die gemis van 'n digter ‘fol fan moed’, wat Afrikaans kon maak tot ‘koning van di land’. Die Patriot-beweging het dus doodgeloop hoofsaaklik deur gebrek aan innerlike sterkte. Hier en daar het dit vir ons nagelaat brokstukkies, waarin ons 'n opflikkering van waaragtige ontroering kan navoel, maar meestal bly dit oppervlakkige rymelary of gemoedelike geselsery. Hoe kon dit ook anders wees by 'n volk wat maar pas uit die doodslaap opgestaan het? Die geskiedenis leer ons dat die kuns eers na 'n groot nasionale woeling tot enige mate van rypheid kan kom. In 1875 was die tyd nog nie ryp vir 'n letterkundige opbloei nie. Die agterlike onderwysstelsel het dit onmoontlik gemaak, maar die Patriotmanne het deur hul aksie op politieke terrein die grondslae gelê vir 'n latere ontwikkeling. Hulle was die manne van die daad, wat met verwaarlosing van hul persoonlike belange, steeds gestry het vir die groot ideaal van 'n verenigde volk met sy eie taal. Die bietjie geestelike lewe wat daar in hulle tyd was het hulle opgewek. Maar deur hul neerbuigende houding tot die onbevoorregtes het hul sommer gou tot die peil van dié klas afgesak en op letterkundige gebied kon hul geen leiding gee nie. Die rymelary van Lokomotief is nie die bemoedigende woorde van 'n leier nie, want dit is net so treurig van gehalte as die van Albertus Herholdt, wat terwyl hy na 'n rymwoord soek, tog sy oog op die braaiboud hou! Myn liidji is klaar Di braaibout is gaar..... Ek sal nou mar stop Myn froutji skep op! Oom Lokomotief het van die begin af sy vuurwa op 'n doodloopspoor gestoot. Hy het van die begin af laag gemik en gaandeweg begrawe geraak onder minderwaardige prulwerk. En tog gee dié prulwerk ons 'n interessante kyk op die Afrikanerdom van 1875. Die Afrikaners van dié tyd, en veral die onbevoorregte plattelanders, mag sonder die korsie vernis gewees het, wat vandag so maklik vir beskawing deurgaan, maar hulle was tog die manne van Majoeba, wat die bewondering van Europa gaande gemaak het; die manne en vroue wat met taaie volharding vasgehou het aan die vryheidsideaal en tussen al die spokery met oproerige Kaffers nog die listige planne van die Engelse veroweraar verydel het; die manne en vroue wat in die republieke 'n nuwe staat opgebou het, wat geworstel het met die sprinkaan en die droogte, die wilde diere en die tsetsevlieg en ten slotte die weerbarstige natuur oorwin het; die mense wat te midde van 'n drom barbare die christelike beginsels hoog gehou het. Dit was voorwaar 'n stoere ras met 'n hoë sedelike beskawing, wat alleen gewag het {==9==} {>>pagina-aanduiding<<} op die bevrydende boodskap van die Genootskap om deur middel van die moedertaal ook tot intellektuele ontwikkeling te kom. Dit was dan ook nie 'n verstompte gemoed of 'n minderwaardige volksaard wat hierdie mense op intellektuele gebied onbevoorregtes gemaak het nie; dit was alleen die onvermydelike lot van die rondswerwende pionier, wat deur historiese en ekonomiese dwang en deur die hoogheid van sy eie karakter dieper in die wildernis gedring het om daar vir sy nageslag 'n plekkie te soek waar sy kinders volgens die groei van eie siel en eie geaardheid 'n suiwer Afrikaanse kultuur kon ontwikkel. Maar dié manne en vroue het hul heldetaak verrig in alle eenvoudigheid, totaal onbewus van die grootsheid daarvan, sonder 'n besef van die roerende tragiek wat daar snik in die worsteling van 'n handjievol Trekkers teen die natuur, teen die barbare, teen die magtige Engelse ryk. By al hul lotswisselinge was daar die kinderlike geloof van die nederige Christen wat nie op eie kragte roem nie, maar alle eer aan die Allerhoogste gee. Die volle bewustheid van wat daar in die roemryke wordingstydperk gepresteer is kon eers later kom. En sonder dié nasionale bewustheid kon daar geen letterkundige opbloei wees nie. Die mense van dié tyd het saamgeleef met die groot gemeenskaplike volkstroming; daar kon nog geen sprake wees van 'n individuele kunsuiting nie, omdat die individu nog homself nie ontdek had nie en net saamgedryf het met die massale volksbeweging. Dit was mense van die daad, wat al hul vermoëns moes konsentreer op die aksie van die oomblik en die koorsagtige loop van die gebeurtenisse het hul geen tyd gegun vir rustige besinning nie. En sonder rustige besinning geen kunsontwikkeling nie. In die Kaapprovinsie het wel 'n betreklike rus geheers, en dis ook hier wat ons die eerste spore van 'n nasionale bewuswording aangetref het. Die gebeurtenisse in die republieke wek bewondering by die Kaapse stamgenote. Maar ook hulle het nog te veel in die warrelkolk van geskiedkundige verwikkelinge gestaan; hulle was nog te digby die gebeurtenisse om die grootsheid van die worsteling aan te voel; en buitendien moes hulle 'n stryd op lewe en dood voer om regte Afrikaners te bly. Die letterkunde is maar net 'n weerspieëling van wat daar woel en gis in die siel van 'n volk. Dit hoef ons dus nie te verwonder dat die Patriotters dit nie verder gebring het nie as berymde simpatie-uitings, beskrywende kronieke van heldedade, waarin ons wel af en toe 'n sprankeling van digterlike siening kan ontwaar, maar wat globaal beskou tog minderwaardig moes bly. Hulle was ook Voortrekkers, op taalgebied in 'n felle stryd gewikkel. Dapper het hulle die krygsklaroen geblaas teen ingewortelde vooroordeel, moedig het hulle gebaklei vir die groot volkskat, die moedertaal, al kon hulle in die hitte van die stryd net die eerste wankelende skrede sit op die dowwe paadjie, wat gelei het tot die uiteindelike oorwinning. Dat hulle onder soveel miskenning en verguising, {==10==} {>>pagina-aanduiding<<} ywer en goeie wil aangesien het vir 'n volbragte daad, kan ons die eerste padwysers op letterkundige gebied maklik vergewe. Hoe sou ons sonder hul ywerige voorbereidingswerk ooit die dowwe doringpaadjie na die Tweede Vryheidsoorlog weer gekry het? § 2. Die Hoog-Hollandse Party. Dit sou verkeerd wees om by ons bewondering van die Patriotmanne die Hoog-Hollandse Party te vergeet, want by alle verskil oor die middele, het albei partye tog dieselfde einddoel beoog, naamlik die wedergeboorte van die Afrikaners. Die predikante mag met veragting die Patriotmanne uit die sinagoge verwerp het, maar die Kerk het tog die magtige bolwerk van beskawing gebly. Daar was baie predikante wat ‘van die Engelse goggatjie’ gebyt was - daar is vandag nog van dié soort onder ons en nie net predikante nie - maar as 'n groot, magtige, georganiseerde liggaam het die Kerk gesorg vir die sedelike welvaart van die volk en was die Kerk altoos die laaste, maar onneembare loopgraaf van die Afrikanerdom, die simbool van die edelste aspirasies van die nasie. Op taalgebied het die Hoog-Hollandse party hul kragte georganiseer in die Suid-Afrikaanse Taalbond, aan die oprigting en werk waarvan die Kerk 'n groot aandeel gehad het. Maar so rotsvas was die oortuiging van die Patriotmanne dat hul gesê het: ‘Ons gaan op ons weg voort; maar ons is altyd bereid om met ander saam te werk, as hulle dieselfde einddoel beoog.’ En die ironie van die geskiedenis wou dit so hê, dat ds. S.J. du Toit die eintlike insteller van die Taalbond-eksamens was! Daar was 'n hele reeks Hoog-Hollandse skrywers wat vir dieselfde einddoel geywer het. 1) Hulle het die Zuid-Afrikaanse Tijdschrift opgerig en hul werke het die groei van 'n gesonde nasionale gees bevorder. Ek dink b.v. aan 'n skrywer soos d'Arbez, wat van 1896 af deur sy historiesromantiese verhale die bewondering vir die voorgeslag aangewakker het en jong Suid-Afrika letterkundige genot verskaf het. In ons ywer vir Afrikaans loop ons gevaar om die invloed van die Hoog-Hollandse skrywers te onderskat. Hulle het wel nie daarin geslaag om die volksiel te ontroer nie, omdat hul taal, hoe Afrikaans van gees en inhoud dan ook, altyd styf en onnatuurlik-vreemd gebly het, maar hul was net so Afrikaans as die beste Patriotter en het geen geringe aandeel gehad in die nasionale oplewing nie. Ook buiten die Genootskap was daar tekens genoeg om aan te dui dat daar 'n roering onder die doodsbeendere aan die kom was. Nog voor die stigting van die Genootskap, in Mei 1875, het dr. {==11==} {>>pagina-aanduiding<<} Brill in Bloemfontein die mening uitgespreek dat Afrikaans nog die draer van 'n eie letterkunde sou word, en president Reitz en ander skrywers het al in dieselfde rigting gewerk 'n hele paar jaar voor 1875. Na die Tweede Vryheidsoorlog het die Hoog-Hollandse Party nog 'n laaste poging gemaak om Nederlands vir die Afrikaner aanneemlik te maak deur die invoering van die Vereenvoudigde Spelling. Dit was egter meer as 'n spellingwysiging, want die Taalbond het ook die deur oopgesit vir die kernagtige idioom van die volkstaal. Dit het gelei tot nog 'n verwoede taalstryd en 'n tydelike opflikkering van die Hoog-Hollandse letterkunde. § 3. Die Tweede Afrikaanse Beweging. Maar voordat dit gebeur het, het die Afrikaanse volk deur die Tweede Vryheidsoorlog tot volledige bewustheid gekom. In dié stryd het die staatkundige onafhanklikheid van 'n deel van die volk verlore gegaan, maar daardeur het ons gewin die geestelike onafhanklikheid van die hele Afrikanerdom. Uit die skynbare neerlaag is die nuwe Afrikaanse Nasie gebore; in dié stryd het die heterogene elemente saamgesmelt tot 'n hegte eenheid. Dié wanhopige worsteling het die innigste roersels van die volksiel heftig laat tril; deur die algemene lyding het daar diepte in die volkslewe gekom. Gelouter en met die volle bewustheid van sy geestelike krag het die Afrikaner oor die puinhope van die verlede gestaar na 'n vreugdevolle toekoms, en na die eerste weemoedsvlaag het die volk sy vaste wil getoon om te behou wat nog te behou was: sy taal, tradisies, sy eie Afrikaanse kultuur. Dit was 'n geestelike wedergeboorte, 'n opstanding uit die knegskap van die oorwinnaar. Eindelik sou nou die hoë geestelike sieleadel van die grondvesters van die Afrikaanse nasie tot 'n rype ontplooiing kom. Wat politieke en ekonomiese faktore in 1875 nog onmoontlik gemaak het, sou in die begin van die twintigste eeu verwesenlik word. Na die stryd kom die volle bewustheid van die grandiose tragiek van die verlede, die bewondering van wat vir die stryders self nog so 'n eenvoudige noodsaaklikheid gelyk het. Nou kom die rustige besinning, die liefdevolle bepeinsing van die verlede, en daaruit ontstaan die hoop op die toekoms. Die voedingsbodem vir die opkoms van 'n nasionale letterkunde was nou daar. Langsamerhand word die drade van die verlede saamgevat en die vernude taalstryd kon as gevolg van die veranderde mentaliteit met verrassend snelle tempo volstry word. Nou was dit nie meer drie Hollanders 1) wat die Afrikaner aan homself moes ontdek nie; die stootkrag het nou uit die boesem van die volk self voortgekom. {==12==} {>>pagina-aanduiding<<} Die Sieners. Dit was 'n beslissende oomblik in die geskiedenis van ons beskawing toe Jan Celliers die Suid-Afrikaanse vlakte gesien het; toe Totius by die monument van ons droewige volksverlede die bevrydingslied van sy opgekropte ontroeringe aangehef het; toe Leipoldt ‘nog half flou met die skok van die oorlog’ Oom Gert ‘die storie van ons sterfte’ laat vertel het en sy ‘nietige reeks van rympies’ opgedra het ‘Aan almal wat voorafgegaan het’ met die plegtige versekering: ‘Ons onthou.’ Die geestelike besieling word uit nood gebore. Droefheid, leed en stryd laat die mens tot sy innerlik inkeer; deur die besinning word die heftige sensasie en die hartstog tot geestelike bewoënheid gesublimeer in die gemoed van die digter. Die volk self neem nooit die voortou in die ontdekking van nuwe waarhede nie. Dis altoos die persoonlikheid wat die leiding neem. Die kunstenaars is die bewusmakers, verkondigers en sieners. 'n Paar ontvang die genade van die intuïsie, en die groot volksmenigte kan instinktief hul intuïtiewe wysheid navoel. Die kunstenaar kan geen kultuur stig nie; hy skep deur en in die volkskrag. By die Afrikaanse volk was daar net 'n soort primitiewe raseenheid, as gevolg van 'n historiese ontwikkeling. En 'n volk kan eers tot geestelike bloei kom as die bewuste geeste 'n idee verteenwoordig, wat die ganse volk kan bewonder. Die ideaal wat die leiers van die vorige generasie die volk voorgespieël het, 'n nageaapte vreemde kultuur, het die groot massa nooit ontroer nie; die ideaal van die Patriotmanne het wel spontane geesdrif verwek, maar vir duursame bewondering was dit tog glad te laag. Toe kom die digters van die Tweede Beweging die volk siende maak; met hulle kom die geestelike sintese, die samevatting van al die vae, onbewuste aspirasies wat in die jare van lyding en stryd soos onwesenlike droombeelde gespook het deur die volksiel. Dié geestelike sintese eers vorm die beslissende kultuurmoment van die Afrikaanse beskawing. Die Patriotters het self nog te veel in die stryd gestaan om tot so'n sintese te kom; veg-veg kon hulle wel 'n paar glanspunte in die stryd swakkies berym, maar dit was net die dadelike neerslag van vlugtige indrukke. Die innerlike skoonheid van die volkswoeling, wat hulle self aan die gang gesit het, kon hul nog nie besef nie; verstandelik kon hul wel die volksideaal beredeneer, maar met verstandelike middele kan 'n volk nie opgevoer word tot so 'n hoogte van ekstatiese verrukking nie, dat dit glo waar dit na hunker, dat dit sien wat dit instinktief verwag. Vir 'n paar eeue had die Griekse volk soos 'n eenheid geleef, teen ander volke geveg, en gedroom van sy gode op die hoë Olimpus. Maar die hele wêreld het nog blind gelyk. Eers toe die digter, die wêreld gesien het en dit in liefdevolle verrukking uitgebeeld het, toe eers het die Griekse volk selfbewus geword, toe eers was dit in geestelike sin 'n volk. {==13==} {>>pagina-aanduiding<<} Want die Griekse kultuur begin eers eintlik met Homerus. Alle Grieke het dan ook die ontsaglike betekenis van sy heldedig erken. Just Havelaar sê êrens, dat dit nie toevallig is nie, dat volgens die legende Homerus blind was. Want nadat die digter gekyk het, moes hy die gesiene inwendig verwerk; hy moes alles eers deurskou met sy geestelike oog, alles saamvat in liefdevolle verwondering, voor hy kon uitbeeld. 'n Mens kan kyk en jy kan sien. Jy kan doodnugter 'n saak bekyk en ontleed en daarna soos 'n wetenskaplike navorser jou gevolgtrekkings maak. Die kunstenaar kyk ook, maar hy sien nie net die uiterlike verskynings nie; die gesiene word by hom verbeelding, simbole van psigiese lewe. Sy kunswerk is 'n skepping, 'n sintetiese lewensbeeld. Gedurende die ontwaking van sy liefdelewe word die jongeling siende. Voor dié tyd het hy net gekyk en niks besonders gemerk nie. Maar nadat hy gesien het, word die skoonheid 'n stralende werklikheid vir hom. Alle minnaars word digters en alle digters is ook minnaars. Ons het almal die vlakte met sy see van deinende koppies bewonder, lank voordat ons Jan Celliers se gedig gelees het; maar hoe het die digter met sy suggestiewe beelde-ry nie ons gevoel vir die skoonheid daarvan verinnig nie! Duisende Afrikaners het daagliks met wa en osse gewerk, maar dit was die beeldende fantasie van ons digters wat die mees alledaagse trekgoed gemaak het tot simbole van die heroïese worsteling van die Groot Trek. Duisende vroue het hul kinders vertel van die lyding in die konsentrasiekampe, maar in die een reël van Jan Celliers: Suster Anna, ek hoor 'n kerkklok slaan...... lê 'n mistieke krag, wat die donker tragedie van die kampe meteens vir ons oopblits. En nie net vir óns nie, maar ook vir die verre nageslagte, want die kuns gee die tydelike op ewige wyse. Deur Homerus, Plato, e.a., bly die Griekse gees 'n ewige nou. Die Egiptiese wêreldstelsel is alleen nog van betekenis vir die geskiedkundige navorser, maar deur die Egiptiese koningsbeeld bly die Egiptiese idee 'n ewige nou. So het ons digters ook aan die volk 'n geïnspireerde belydenis gegee van die Afrikaanse ideale. En dié digterlike belydenis was in die veragte moedertaal. Maar nou nie meer die laag-by-die-grondse taal van die Patriotters nie, wat elkeen kon skryf, ‘net na die wind hom dryf’ nie, maar die veredelde volkspraak, so omgewerk deur 'n skeppende verbeelding, dat die volk met ontroerde verwondering, van die digters sy eie taal kon leer. Die alledaagse klanke van 'n verwaarloosde dialek het die digters simboliese betekenis, geestelike inhoud gegee. Met verrukking het die volk gewaar, dat dit nou nie meer die speletjies van 'n lekker rymende klompie was nie, maar die heilige erns van doelbewuste leiers. Winternag van Eugène Marais (1904) het miskien meer mense oortuig, {==14==} {>>pagina-aanduiding<<} as al die vernuftige en logiese argumente van die hele Patriot-periode. 1) Langsamerhand het die geestesgesteldheid van die hele volk verander. Daar het 'n vernuwing gekom, 'n wedergeboorte. Dit was die begin van 'n Afrikaanse Renaissance. Want die boodskap van die digters het weerklank gevind by die volk, omdat hul gevoelvolle klanke net die skone kristallisasie was van wat daar al onbewus in die siel van die massa gelewe het. Die ideaal wat die digters op serene bergtoppe in kontemplerende rus gesien het - in daardie ideaal het die volk geglo. En orals het daar manne en vroue opgestaan wat met geesdriftige ywer begin te werk het aan die verwesenliking van dié ideaal. Aanvanklik was dit net 'n taalbeweging. Vir omtrent twintig jaar het ons 'n taalstryd gevoer en eers in 1925 het die laaste Hoog-Hollandse fort geval met die erkenning van Afrikaans deur die Volksraad. ‘Ons jong Afrikaanse taal moet win en sal win’ was die vlammende passiekreet van die herlewende volk; vol van die besielende weelde van 'n pasgewonne vryheid het die aanvoerders hul manifeste geslinger teen die wikkende, weënde twyfelaars wat nog lus gehad het om 'n vreemde taal en kultuur aan die nasie op te dring. Die eerste letterkundige voortbrengsels het 'n uitgesproke militante karakter gehad. Baie boeke, wat in die taalstryd kragtige wapens was, het nou nog net kultuurhistoriese belang. Johannes van Wyk, die eerste prosawerk van die Tweede Beweging, was 'n spannende verhaal wat die jongspan en selfs oueres met graagte gelees het, maar niemand sal dit vandag nog as kunswerk beskou nie. Maar in sy tyd was dit 'n uitstekende propagandamiddel, wat meer effek gehad het, as die kragtigste taalmanifes. En so is daar nog 'n hele paar ander prosawerke uit die eerste periode, wat nou al weer vergeet is, of wat alleen nog as kinderlektuur diens doen. Die tot vervelens toe herhaalde geroep van die teenstanders: ‘Afrikaans het geen letterkunde nie!’ het prikkelend gewerk en 'n atmosfeer geskep, waarin wel 'n kragtige strydliteratuur kon ontstaan, maar slegs by uitsondering 'n uiting van stralende skoonheid, wat deur alle tye heen kon geniet en gewaardeer word. Die uitdaende houding van die Hoog-Hollandse party, wat hom steeds beroep het op 'n eeu-oue letterkunde, het die jong stryders opgehits tot dade van durf. In jeugdige oormoed het hulle aan skrywe gegaan, nie altyd omdat daar 'n innerlike woeling was, wat tot vertolking gedwing het nie, maar meer {==15==} {>>pagina-aanduiding<<} om te bewys dat die verguisde ou taaltjie ook sy man kon staan. Na die eerste paar jaar het daar 'n groot aantal boeke in Afrikaans verskyn; en omdat in die taalstryd juis dié wapens so uiters belangrik was, kon die kritiek dikwels nie onvoorwaardelik veroordeel nie. As gevolg van die koorsagtige strydstemming het daar veral baie minderwaardige prosawerke verskyn. Dis maklik om na die verskyning van Uit Oerwoud en Vlakte, Ampie en Onder Bevoorregte Mense te beweer dat die grootste gedeelte daarvan maar prulwerk was. Maar dit was prulwerk, wat tog voortreflike dienste bewys het in ons taal- en kultuurstryd. Dié voortrekkerskrywers het wel die verhewe siening van die eerste digters gemis, maar hulle het in elk geval die volk van 'n geestelike hongerdood gered en eenvoudige leesstof gelewer, toe daar nog geen Afrikaanse boeke was nie, toe die meeste begaafdes nog stil gesit het, of niks anders as spot oor had nie vir 'n beweging wat 'n end gemaak het aan ons lang periode van geestelike knegskap. Die groot behoefte aan leesstof in die moedertaal het hulle uit pure vaderlandsliefde na die pen laat gryp. ‘Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed, ons kan nie wag nie!’ roep Jan Celliers in 1907 uit. Dit was die strydkreet van 'n doelbewuste leier. Onder die stryd het die nasionale bewussyn vinnig gegroei. Maar dié woelige tydperk met sy eindelose taalredenasies en hartstogtelike afbrekery, sy verdeeldheid en verbittering, het veral in die begin nog belemmerend gewerk op die letterkundige ontwikkeling, al het meer as een skrywer ook daaruit sy inspirasie gekry. Ook die digters verlaat hul hoogtes van kalme oorpeinsing om aktief deel te neem aan die stryd deur 'n besielende oorlogsroep soos Celliers met sy: ‘Ek hou van 'n man wat sy man kan staan,’ of soos Leipoldt om met waarskuwende vinger op die groot taak te wys: ‘'n Nasie word nie somar as die koring groot: Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart, Deur lewe ook word voortgestoot.’ Dié eerste skrywers het ook gou genoeg uitgevind dat 'n volkstaal, hoe lewenskragtig en kernagtig dan ook, nie sommer dadelik 'n geskikte literatuurmedium kon word nie. By alle volke is dit nog altoos 'n langsame proses gewees, wat parallel geloop het met die kultuur-evolusie. By ons was daar wel 'n hoë sedelike beskawing en daarom het die proses dan ook so wonderlik gou gegaan. Maar die eerste skrywers was almal opgevoed in die Hoog-Hollandse tradisie en party het so by die dood omgedraai van die Engelse siekte. Selfs ons, die tweede geslag, sukkel nog met dieselfde moeilikhede en dis nog altyd nie net 'n kwessie van taalveredeling nie, maar ook van taalsuiwering. Die eienaardige moeilik- {==16==} {>>pagina-aanduiding<<} hede wat hierdie taalevolusie meebring, sal nog lank belemmerend werk op die letterkundige gehalte van ons voortbrengsels, en die gevaar van taalverwildering het nog gladnie gewyk nie. Dit is hierdie besef, wat naas die natuurlike gevoel van stamverwantskap, 'n deeglike studie van die Nederlandse lettere altoos 'n gebiedende noodsaaklikheid sal maak. Die veredelingsproses sal deur 'n jong geslag wat 'n suiwer Afrikaanse opvoeding ontvang en tog die ou stamtaal nie verwaarloos nie voortgesit word; die Afrikaanse idioom, soms so tipies-ruig, maar tewens so raak van seggingskrag, sal gaandeweg aan buigsaamheid win; ons sien nou al hoe dit in die werke van ons kunstenaars meer en meer verhartstogtelik word. § 4. Politieke Verwikkelinge. In 1910 het ons eindelik staatkundige eenheid bereik. Die volksgees, lewendig gehou deur die taalstryd, het hom ook kragtig laat geld op politieke gebied, en wat eers uitsluitlik 'n taalbeweging was, word langsamerhand 'n nasionale beweging. Gaandeweg groei die besef, dat die grondslag van alle beskawing is die ontwikkeling van die hele volk volgens die noodwendigheid van sy eie siel en sy eie geaardheid. Maar na luttele jare van ontwikkeling in dié rigting, kom daar weer die politieke skok van 1914. Hoog vlam die hartstogte op en 'n deel van die volk probeer om die ou vryheidsideaal weer met die wapen in die hand te verwesenlik. Dié poging faal, maar dit lei tog tot 'n verhoogde volksvitaliteit, wat die selfstandigheidsgevoel aanwakker, al is die nasleep daarvan ook skeuring en verdeeldheid. Die rebellie van 1914 gee nuwe lewe aan die ou politieke ideale. ‘Niks is so heuglik, niks beslister as dat ons son sal opkom uit ons skoon en droewig “ewig gister”.’ Soos vroeër die Afrikaner-Bond op Majoeba wortel gevat het, so dagteken die snelle groei van 'n ander politieke party uit die dae van die opstand. Ons is nog te digby dié gebeurtenisse om dit rustig objektief te beskou, maar ek sien daarin die tweede fase van die Tweede Beweging, wat nou definitief oorgeplant word op politieke terrein. Die stootkrag van die staatkundige aksie kom oorspronklik uit die verhoogde nasionaliteitsgevoel wat deur die taalbeweging gewek is, toe die betekenis van die Groot Trek in sy volle omvang besef is. ‘Want dit het die roering ons openbaar: Die gees van die Voortrek is nog altyd daar, nog ongeblus.’ (Jan Celliers) {==17==} {>>pagina-aanduiding<<} Na 1914 word die politieke en algemeen-kulturele stroming feitlik identiek. Maar uit die nasleep van die rebellie ontstaan die Helpmekaar, 'n wondere openbaring van die saamhorigheidsbesef, wat nadat dit sy onmiddellike doel bereik het, uitgroei tot 'n grootskeepse kulturele aksie. Dit en ander tekens wys daarop dat die kultuurbeweging in sy derde fase onafhanklik sal word van politieke skommelinge, soos in die ouer lande. Dan sal dit ook minder onderhewig wees aan plotselinge skokke en die meer ewenwigtige evolusie sal 'n geskikter voedingsbodem wees vir die gestadige opbloei van die kuns. Op die oomblik is die Tweede Beweging besig om sy ideale op staatkundige terrein uit te werk. Dit omvat nou die hele volkslewe in al sy vertakkinge, en op elke gebied is die Afrikaner besig om veld te verower. Met 'n seldsame aanpassingsvermoë lê die nasate van 'n landboukundige volk hulle toe op alle bedrywe en wetenskappe. Ernstig word daar gestreef na ekonomiese solidariteit, en die gees van Helpmekaar en Saamwerk het 'n krag in die land geword. Ons wil nie meer 'n aanhangsel van 'n ander land wees nie, maar bereik nou die mondige leeftyd en weet dat ons ons eie man kan staan. Dié veranderde geestesgesteldheid is 'n vrug van die Eerste en Tweede Beweging en die eerste Afrikaanse skrywers het deur hul geskrifte en deur middel van die pers die magtige bondgenote geword van die politieke voormanne. § 5. Die Didaktiese Stroming. Uit die aard van die saak moes veral die prosaskrywers dikwels betoënd optree. Hulle wou letterkundige genot gee, maar deur die drang van omstandighede moes hulle ook regstreeks opvoed. Vandaar die sterk didakties-moraliserende stroming, wat selfs nou nog, veral deur die groot persentasie agterlikes, sterk is. Die ontwikkeling van 'n primitiewe herdersvolk tot 'n moderne industriële gemeenskap het soos in ander lande die werkloosheidsvraagstuk laat ontstaan. En dié vraagstuk het by ons sulke afmetings aangeneem, dat die nasionale bestaan daarmee gemoeid is. Die opheffing van die arm-blanke word 'n letterkundige motief. By 'n didakties aangelegde skrywer soos Langenhoven lei dié toestand van sake tot 'n poging om albei gedeeltes van die volk te bereik ‘langes die weg van die allernederigste eenvoud’. En sy afkeer van alle ‘kunseksperte’ dryf hom, waarskynlik teen beterwete in, tot so'n uiterste deurvoering van sy argument soos die volgende: ‘As ons dan nie die smaak na die boek kan maak nie, moet ons die boek na die smaak (van die onbevoorregtes) maak’ (Aan Stille Waters, 2/3/'25). Dit is presies wat die Patriotters gedoen het. Maar gelukkig is Langenhoven se werk meestal beter as sy teorie. Hy bring wel af en toe 'n offer aan die volksmaak om sy teorie te bewys soos in Die Lig van Verre Dae (1924), {==18==} {>>pagina-aanduiding<<} 'n onskuldige avontuurverhaaltjie, eie kind van Johannes van Wyk; hy verval ook partymaal in 'n maklike oppervlakkigheid wat hy vir eenvoud ter wille van die onbevoorregtes aansien. Maar deurgaans vind ons tog by hom die skone kristallisasie van die volkswysheid. Sy belangstelling vir die gesonkenes is nie 'n koelberedeneerde opinie nie, dis 'n hartstogtelike liefde; dis nie 'n oppervlakkige jammerte nie, maar 'n heerlike geloof in die moontlikheid van 'n regenerasie; só'n hartstogtelike geloof dat daaruit egte kuns ontspruit. Waar die mindere gode dit nie verder bring as soetsappige vermanings of sedeprekery nie, en van die letterkunde 'n propagandamiddel probeer maak, voel ons by Langenhoven die trilling van 'n bewoë gemoed. Te midde van die onsekere geluidjies van die eerste moraliste, hoor ons in Langenhoven se werk die sware dreunstap van 'n man. Hy het sy eie stem, en wat beteken sy teorie naas die gawe van sy kunstenaarskap? Hy sien die dinge op sy eie manier en hy sê dit op sy eie manier. Deur die sierlike spel van sy vernuftige ironie en speelse humor tintel daar op elke bladsy verrassende mooihede en selfs waar hy hom in die net van gekunsteldheid toespin, het hy nog 'n oorspronklike grasie. Uit die volksnood is die kunstenaardidaktikus gebore. Die didaktiese lyn is eenvoudig 'n voortsetting van die Hollandse tradisie. ‘Soekers van nutte lering’ was daar altyd in die stamland en die didaktiese lyn loop van Maerlant na Cats, oor die predikantdigters van die negentiende eeu, tot op Van Eeden in die twintigste, om maar 'n paar hoogtepunte te noem. Naas dié oorgeërfde neiging moet ons ook rekening hou met die historiese wordingsperiode van die Afrikaanse volk. Die stigters van ons nasie het uit die gewone volkskringe gekom en gedurende die eerste twee eeue van sy bestaan het ons volk feitlik al sy geestelike groeikrag geput uit die Bybel en 'n paar preekbundels. Dit hoef ons dus nie te verwonder nie, dat in die eerste letterkundige proewe die stigtelike element so sterk is en die skrywers telkens oorslaan tot 'n direkte preektoon. Hulle werk is eenvoudig 'n refleks van die volksgees, en in die teenswoordige stadium van ontwikkeling kan dit nog nuttige dienste bewys, al bevredig dit ook nie altyd die eise van 'n moderne letterkundige smaak nie. Deur die werk van kunstenaars soos Totius en Langenhoven sal die volk mettertyd die onderskeid leer tussen die didaktiek wat oprys uit sulke dieptes van persoonlike belewing dat dit skoon word deur die gloed en die geloof van die siel wat daaraan uiting gee, en die traktaatjiesagtige lewenswysheid van die oppervlakkige skrywer, wat reken dat stigting en sielsvolmaking moontlik is sonder skoonheid. Die godsdienstige idee het hom so vasgevleg in die weefsels van die volksbestaan, dat die kunstenaar wat enkel skoonheid soek, wat sy hele geestelike bevrediging vind in plastiese afbeelding, innige weergawe en welluidendheid nooit die hart van die volk {==19==} {>>pagina-aanduiding<<} sal win nie. En dit is trouens dieselfde gedagte wat na die kortstondige skoonheidsaanbidding van die Tagtigers in Nederland posgevat het, sy dit dan ook langs ander weë en met medewerking van ander oorsake. Die estetiese en die etiese stroming moet saamsmelt om 'n hoër eenheid te vorm. Maar dit kan alleen by die waaragtige kunstenaar gebeur. § 6. Die Satiries-Humoristiese Stroming. Die vaste wil van die volk om sy eie aard te herower het ook aanleiding gegee tot 'n satiries-humoristiese stroming in die letterkunde. Die eerste Regte Afrikaners het al in geestige rympies vol lugtige spot hul verbasterde landgenote aan die kaak gestel en ook die oorwinnaar 'n paar goeie kopskote gegee of hom klinkende skeldname toegeslinger. Gedurende die Tweede Beweging word die waarde van alles wat suiwer Afrikaans is nog beter besef en in die stryd vir 'n eie kultuur word die satire 'n magtige wapen. Die mokerslae van die eselskakebeen dreun op die Filistyne, die kultuurverbastering word met striemende raakhoue gegésel. Die verontwaardiging oor die veragtelike rol deur die ‘handsoppers’ in die oorlog gespeel vlam ook in die letterkunde op. Die ideaal is nou ‘'n man wat sy man kan staan’, wat net ‘'n trap van sy voet’ oorhet vir die lae verraaier, ‘en die bastergeslag in sy siel verag’. Die botsing tussen die takhaarbeskawing en die verengelste haai-sosaaietie-kringe van stad en dorp word in geestige tafereeltjies geteken. Ou vaderlandse sedes en gewoontes word verheerlik en al die uitheemse gedoentes moet deurloop. Die steekse motor van die moderne Afrikaner word dorp-toe gesleep deur die vaarlandse osse van die ou Trekker! § 7. Die Geskiedenis as Letterkundige Motief. Die Patriotters het al van die aanvang af probeer om liefde op te wek vir die volksverlede. Die doel van hul geskiedenisboek (1877) was ‘om ons kinders van jongsaf bekend te maak met wat hulle vaders al deurgestaan en gely het hier in die land waar vreemdelinge ons nou wil vertrap.’ By die Patriotters was daar al die besef dat hulle in 'n grootse tydperk lewe en dit was hulle strewe om soveel moontlik gegewens te versamel vir die nageslag. Met die groei van die volksbewussyn word die belangstelling vir die vaderlandse geskiedenis lewendiger. Die stelselmatige verdraaiing daarvan deur die oorwinnaar met die doel om die skoolgaande jeug te angliseer word 'n prikkel tot selfstandige ondersoek. Teenoor die valse beeld en kleinering van die empaaier-aanbidder word die gedokumenteerde feiteverhaal en bewondering van die Afrikaanse ondersoeker gestel. En onder die soek na die historiese waarheid, wat moes dien {==20==} {>>pagina-aanduiding<<} om die eer van die nasie te rehabiliteer, groei die besef van die grootse tragiek van die worsteling van die eerste volkstigters. Een van die eerste prosawerke van die Tweede Beweging was Preller se Piet Retief (1906). Daarmee lewer hy nie alleen die bewys dat die volkstaal geskik is vir 'n wetenskaplike studie nie, maar sy werk word ook 'n bron van inspirasie vir digters en romanskrywers, en 'n aansporing vir ander ondersoekers om hulle met liefdevolle toewyding te verdiep in die periode van die Groot Trek. Preller het ons geleer dat ons geskiedenis nie net 'n aaneenryging van ‘niksbeduidende kafferonluste’ is nie, maar dat die Trekkers die grondslae gelê het van 'n onafhanklike volksbestaan. Hy het ons gewys hoe dwarsdeur die verwarrende opeenstapeling van insidente, politieke kuiperye en lokale rusies, die Afrikaanse Idee met kannie-dood-taaiheid gegroei het, hoe die Afrikaanse Bestemming ‘wyd en breed soos die Afrikaanse veld’ is. Dingaansdag word weer 'n nasionale feesdag, die gelofte van Bloedrivier word plegtig nagekom. Die ou Voortrekkerkerkie word in eer herstel en as museum ingerig. Eersdaags word op Pretoria die groot nasionale monument ter ere van die Voortrekkers onthul. Deur die hele land word historiese herinneringe, ook uit vroeër tydperke, met piëteit behandel. Die biografieë van volkshelde word geskryf. Suid-Afrika word bewus van sy nasionale betekenis, eis sy plek op in die volkerery. Die romanskrywers probeer om 'n kleurige beeld te gee van die volksverlede. Die eerste knoppies van 'n vaderlandse Romantiek gaan skamerig oop. Maar die digters slaag baie beter as die prosaïste om die gees van die verlede te vertolk. By die laasgenoemde is die skeppende verbeelding wat die historiese feite moet interpreteer en wat moet deurdring tot die innerlikste kern van 'n tydperk, sonder om versmoor te raak onder noukeurige argeologiese gegewens, alleen af en toe aanwesig. Dikwels moet die historiese agtergrond net dien om 'n hele reeks avonture meer waarskynlik te maak, of anders word geskiedkundige verhandelinge opsetlik ingevleg om die bewerings van skoolhandboeke te weerlê - 'n prysenswaardige bedoeling uit 'n kultuuroogpunt - wat egter noodlottige gevolge het op die letterkundige gehalte van die verhale. Uiterlike gebeurtenisse hou ons vertellers so besig dat die innerlike roersels van die mensehart uit 'n vorige periode hul aandag ontsnap. Daar is wel aanduidings dat ons na die periode van oppervlakkige uiterlikheid tot meer innerlikheid sal kom. Enkele historiese verhale van Preller, insonderheid Moedersmart, 'n paar sketse van Léon Maré, e.a. toon aan dat ons kunstenaars hul dieper in die geskiedenis begin in te lewe. Die tekening bly egter nog fragmentaries, klein-historieel, en die kunstenaar, wat nie net oor die verlede kan praat nie, maar dit kan afbeeld in gestaltes van algemene betekenis, sodat die hele dooie tydperk met sy dieptes van menslike leed en vreugde, sy ideale en gewoontes voor ons oë verbytrek, die kunste- {==21==} {>>pagina-aanduiding<<} naar wat as deur 'n wonder opeens die toon vind waarin hy dit alles kan sê, hy ontbreek nog in ons lettere. Historiese silhoeëtte het ons al, skaduweeagtige wesens wat hul heldefeite in 'n verre landskap afspeel; maar mense van vlees en bloed ontmoet ons selde of nooit in 'n Afrikaanse geskiedkundige verhaal. ‘In de schoonheid van de kunst ligt de eeuwigheid van vroegere tijden’ - dit sal 'n volgende geslag ons seker eers bring. Die lewensbeskrywers van ons volkshelde bepaal hul ook nog meestal by die optekening van uiterlike lotgevalle; hulle slaag maar selde daarin om die besielende krag, wat uit die verborge dieptes van die innerlike lewe van 'n groot figuur opborrel, te peil. Hulle kan die beeld nie so teken nie, dat dit ook vir ander sigbaar word. Hulle kan die aandoening, waarmee die held hul besiel het, nie meedeel nie, die lewe wat hy in hul gewek het nie uitstort nie. § 8. Die Avontuur-Roman. Die geskiedenis bly dus voorlopig nog die uitgestrekte weiveld van die intrige-romanskrywer. Agter elke bossie kan daar 'n leeu of tier skuil; daar is tallose gevegte met Engelse en inboorlinge wat spannende situasies kan verskaf. In die avontuurlike bestaan van die rondswerwende pionier is dit nie nodig om na romantiese verwikkelinge te soek nie. Selfs die skrywer met 'n middelmatige vernuf kan daar 'n kleurryke historieprent van maak en die vernaamste episodes soos 'n eindelose rolprent vir ons afdraai. Prikkel die nuuskierigheid so'n bietjie, sorg dat daar 'n paar waaghalsige vaderlandse helde en 'n klompie gewikste skurke of landverraaiers in optree, maak gebruik van al die konvensionele kunsies, 'n onverwagte erfenis, 'n geheimsinnige vondeling, 'n engelagtige meisie, wat deur 'n barbaarse rou-kaffer ontvoer en op die laaste minuut deur 'n übermensch gered word, ens., ens., doop dan die hele werskaf in 'n sentimentele sousie..... dit is die resep vir 'n suksesroman! As 'n skrywer maar behendig die draadjies kan trek van 'n klompie houtpoppe, liefs met 'n stukkie vierkleur om die hoed, en hul 'n paar ingewikkelde dansies laat uitvoer, waarby 'n paar rooies of 'n spul Zoeloes in die stof getrap word, dan vind hy lesers genoeg! In Oupa en sy Kleindogters is daar o.a. nagtelike spokerye, 'n dubbelsinnige testament, 'n groot diamant, 'n onbekende held, wat soos in 'n middeleeuse toernooi almal uitstof op die sportterrein. As die skurke opgeruim is, word al die drade met sigbare opsetlikheid saamgetrek vir die groot slotopvoering van die marionettespel, 'n prysuitdeling, waarby oupa fungeer as beloner van die deug. Dan is alles ‘pais en vree’. Die huweliksklokke begin te bombom en as komieklike naspel verskyn, volgens ou gewoonte, in die laaste paragrafie ‘'n pasgebore dogtertjie, 'n lewendige seuntjie en 'n gesonde tweeling..... almal spekvet.’ {==22==} {>>pagina-aanduiding<<} Ons kan glimlag oor al sulke gedoentes, maar laat ons ook eerlik erken dat die intrigeroman uitstekende dienste bewys het in wat ek die propaganda-periode van die Tweede Beweging wil noem. Die intrigeroman is 'n natuurlike uitvloeisel van ons avontuurlike wordingsgeskiedenis, en in 'n tydperk van geringe geestelike ontwikkeling het dit vermaak en nutte lering verskaf in die eie landstaal, toe daar geen ander leesbare boeke was nie. Dit het gehelp om die nasionale eergevoel te laat ontkiem en die moontlikhede van die veragte kombuistaal geopenbaar. In alle lande is die intrigeroman 'n mag om mee rekening te hou; sy klaargemaakte spitvondigheidjies trek altoos 'n groot publiek, oefen 'n onuitstaanbare bekoring uit op die jeug voor wie die hele lewe nog as 'n verrassende avontuur vol geheimsinnige moontlikhede ooplê, 'n aanloklike rolprent waarvan elke dag 'n stukkie afgedraai word. Laat ons dankbaar wees dat die intrigeroman by ons so'n kerngesonde nasionale gees asem en ons gehelp het om te kom waar ons vandag staan. Die eerste vertellers het selfs deur hul mislukte pogings die welslae van gelukkiger opvolgers voorberei. En die avontuur-roman sal ook wel by ons die buitensporighede van die Jules Verne- en Fenimore Cooper-tradisie ontgroei. In die hande van 'n kunstenaar kan dit nog iets groots word. § 9. Kultuur-toestande. Oor die algemeen was die Afrikaanse mensheid na 1900 nog eenvoudig; selfs nou nog tree die individu nie skerp na vore uit die massa nie. Deurgaans het die Afrikaner 'n nugtere kyk op sake; hy is rats om 'n oulike plan uit te dink waar dit 'n praktiese moeilikheid geld, maar hy besondig hom nie aan fynuitgesponne dromerye nie. Dié geaardheid het hy geërf van sy pionier-voorouers, wat in 'n woeste land altoos moes klaarstaan vir allerhande gebeurlikhede, wat sonder die geriewe van die moderne beskawing moes aansukkel met hul eie vernuftige uitdinksels. Hulle het in intieme aanraking gekom met die natuur, maar die was vir hulle vol geheimsinnige gevare; 'n geweldige samestel van vernielende oerkragte, wat deur 'n kastydende Opperwese op weerspannige sondaars kon losgelaat word. In die sweet van hul aanskyn het hulle hul brood geëet, al het die geestige grapmakers saans rondom die wagvuurtjie seker nie makeer nie. Maar hulle kon nie soos Pallieters sorgeloos grasduin in die vrye natuur nie, om met al hul sinne die heerlikheid daarvan gulsig in te drink nie. As voortrekkers moes hulle gedurig middels uitdink om die weerbarstige natuur te oorwin. Hulle moes die natuur uit 'n utiliteitsoogpunt beskou..... of anders ondergaan. Die eindelose uitgestrektheid van die land het as gevolg gehad die isolering van die handjievol bewoners op verafgeleë plase. Die afstande was te groot, die paaie te sleg, die vervoermiddels te stadig om in- {==23==} {>>pagina-aanduiding<<} gewikkelde verhoudings tussen mens en mens te laat ontstaan, soos ons die in 'n moderne samelewing aantref. Die groot momente in die lewe was die aanneming, die Nagmaalsviering, die huwelik, die geboorte van kinders, die volksfeeste, een of ander veldtog, die daaglikse stryd om die bestaan, kranktes, ouderdom en die dood. Kortom dit was 'n lewe na die buitekant, behalwe dan wat godsdienstige oorpeinsings betref. En deurgaans het die onsienlike dinge ook nie tot geweldige sielskonflikte gelei nie, omdat die blymoedige geloof in die kerklike waarhede van geslag op geslag oorgeplant is. Die godsdiens, gegrond op 'n eenvoudige interpretasie van die Bybelwoord, of op die verklaring van die predikant, was die natuurlike erfstuk wat van vader tot seun oorgegaan het. Geloof op gesag van die Statebybel was die reël; twyfel aan die grondwaarhede was ondenkbaar; twyfel aan die praktiese toepassing van die godsdiensleer kon, weens die eenvoudige samestelling van die gemeenskap, maar selde voorkom. Mettertyd het die verhoudinge natuurlik ingewikkelder geword. Die Boer was nie meer die koning op sy afgeleë plaas nie. Sy hoë sedelike beskawing kom in botsing met die van 'n oorwinnaar, wat hier die moderne Europese instellings en begrippe bring. Hy kan nie meer op die voorvaderlike paadjie wandel nie. Sy natuurlike ontwikkelingsgang word verander deur inenting van die Engelse idee. In sommige dele van die land word groot goudsoekende mensemenigtes as deur 'n geweldige dwarrelwind opmekaar gebondel. Die gestamp van mynmasjinerie verstoor die landelike rus. Wegtrek na 'n nuwe vaderland kan die Boer nie meer nie; hy moet hom aanpas by die nuwe omstandighede. Die moderniseringsproses begin. Ons leef nou in die oorgangstydperk, en in die letterkunde sien ons die oue en die nuwe naas mekaar en soms deurmekaar. Die eerste digters het meestal die bevrugtende invloed van die Europese gedagte ondergaan en hulle was die eerstes, wat in die Afrikaanse kuns party gemoedstoestande van die moderne mens weergegee het. By hulle vind ons die drang wat agter die uiterlike verskynsel soek na die innerlike betekenis. Hulle gryp na die verborge werkinge van die siel, ontleed hul eie-ek en kry 'n blik op die ongekende moontlikhede van die binnewêreld. Hul natuurbeskouing raak onder die invloed van Gezelle e.a. ver verwyderd van die utiliteitsopvatting en hul openbaar aan die volk skoonheid tot in die nietigste ‘gonsrige goggatjie’. By die prosaskrywers gaan die ontwikkeling minder snel. Die propaganda-periode duur tot omstreeks 1921. Daar is wel voor die tyd flou aanduidings van die intree van die Afrikaanse mens in die letterkunde o.a. by Léon Maré, Jochem van Bruggen, D.F. Malherbe en J.H. Kruger, maar hulle slaag nog nie daarin om ons deur forse karaktertekening te tref nie. Hulle tas wel op onsekere wyse na die psigologiese {==24==} {>>pagina-aanduiding<<} verborgenhede, maar gryp nog nie diep genoeg om ons te ontroer nie, raak nog nie die wesenlike essensie aan wat die uiterlike handeling vir ons kan verklaar nie. Die meeste skrywers voor 1921 goël maar so'n bietjie met manne- en vroueharte vir tydkorting, totdat hul weer by 'n nuwe avontuur kom. Of anders konstateer hul eenvoudig sielkundige veranderinge, wat dan kastig te ‘heilig’ is om geopenbaar te word! Laat my dit deur enkele tipiese voorbeelde aantoon. Albert du Biel behandel in sy verhaal Kain die periode van die eerste Vryheidsoorlog op die gewone manier van die avontuur-roman. As die beeld wat ek geskets het van die Afrikaanse kultuur gedurende die wordingstydperk in hoofsaak korrek is, dan sou dit seker verkeerd wees om aan die Transvaalse mense van omstreeks 1870 'n ingewikkelde emosielewe toe te skryf. Maar so eenvoudig soos Du Biel die saak voorstel, sulke sielkundige bolmakiesies as wat hy sy karakters laat slaan is in stryd met die menslike natuur, al is dit ook hoe primitief. ‘Die meisie Pêrel het verdwyn en die vrou Pêrel het haar plek ingeneem. Dit alles is duidelik in haar wese ingegrif’ (t.a.p. bls. 85). 'n Bietjie verder lees ons: ‘In dieselfde oomblik besef Pêrel dat, watter naam sy ook aan die gevoel gee, wat sy in haar hart vir die jongman het, dit nie ware liefde kan genoem word nie.’ Nou sal dié juffrou, 'n Boerenooi wat in 'n baie woelige tydperk op die Swasielandse grens woon, seker nie die aanleg of die tyd gehad het om haar gevoel soos die hooffiguur van 'n moderne psigologiese roman uit te pluis nie. Die skrywer sê self: ‘Vir Pêrel was dit 'n besige jaar - so besig dat sy nie tyd gehad het nie om te probeer om haarself te oortuig dat haar hart gebroke is’ (bls. 84). Uit so'n enkele sinnetjie blyk duidelik hoe koddig die skrywer met sy s.g. ‘mense’ omspring. En hierdie gemis aan diepte van siening, hierdie onbeholpe maneuvers met menslike gevoelens kry ons by die meeste skrywers van die propaganda-periode. Uit dieselfde roman kan ons ook die behandeling van motiewe uit die natuur demonstreer en terloops ook 'n kyk kry op die taalmishandeling van die eerste periode. Na die val van Frans Naudé ondergaan ook die voëltjies in die wonderboom agter die huis 'n verandering. ‘Die tema van hul sang is droefheid en praat van verlange na 'n koningin, (vermoedelik die juffrou) van wie hulle eenmaal onderdane was, maar wie reeds lang afwesig is’ (bls. 84). Aan die end van dieselfde hoofstuk verander die ‘pratende tema’ in 'n jubellied by Pêrel se verskyning. Maar ‘onder hierdie boom, by daardie klip moes haar liefde begrawe lê tot in ewigheid.’ Wonderlike wonderboom! Gedienstige voëltjies, ‘want die duifies swyg en die voëltjies hou op met hul lied in die teenwoordigheid van haar verdriet.’ Hoe kan 'n mooi poëtiese motief tog nie verknoei word nie! Maar hierdie behandeling van die natuur wys tog dat die skrywer {==25==} {>>pagina-aanduiding<<} al 'n flou besef het van die digterlike opvatting wat o.a. Malherbe in Vergeet Nie geopenbaar het. By ander skrywers kan ons iets dergeliks opmerk (b.v. in Teleurgestel). Deurgaans vind ons egter 'n totale gemis aan natuurvisie, of anders bekyk die skrywer die natuur soos 'n boer wat na 'n mooi plaas soek, m.a.w. net uit 'n utiliteitsoogpunt. (Vgl. De Waal se beskrywing van Patrysvlei in Die Twede Grieta.) § 10. Die Oorgangstydperk na 1921. Omstreeks 1921 kom daar op prosagebied 'n duidelike kentering. Die Afrikaanse samelewing het gaandeweg meer ingewikkeld geword; in die stede veral is die verhoudinge meer kompleks en die uitheemse begrippe begin orals pos te vat. Of dié begrippe in alle opsigte 'n heilsame uitwerking op ons kultuur sal hê, daaraan kan 'n mens met reg twyfel. Ek wil hier net 'n feit konstateer. Vir elke opmerksame beskouer moet dit duidelik wees dat die kraalmure van ons isolasie al taamlik afgebrokkel is. Deur 'n verbeterde verkeer, deur middel van die pers en die radio, en langs ander weë is daar 'n gestadige infiltrasie van uitheemse idees. 'n Groot aantal studente trek jaarliks na die buiteland, na Europa en Amerika, en op allerlei gebied word daar met die nuutste denkbeelde geëksperimenteer. 'n Kosmopolitiese wind waai oor ons vlaktes, en jong Suid-Afrika snuif gretig die geure daarvan op. Die jongkêrel wat op 'n Dingaansfees velbroek en velskoene aantrek, die jong meisie wat so ouderwets lyk met haar sisrok en Voortrekkerkappie het wel piëteit vir die volksverlede en streef daarna om die beste daaruit te behou. Hulle mag vir 'n oomblik die illusie wek dat die patriargale tydperk nog nie verby is nie..... maar ons weet tog dat die gebeurtenisse na 1900 die nuwe mens in Suid-Afrika geskep het. Die besielende gedagtes van die wordingsperiode kom nou tot rypheid; die sap het losgebreek in die volksboom; na jare van verskrompelde groei begin daar 'n nuwe lente bloei in die Karo-vaalte van die Afrikaanse tuin; 'n nuwe geluid het deur ons blou lug en oor ‘ons ewige gebergtes’ geskal, en weerklank gevind in jong harte; hulle het ‘die stem van Suid-Afrika’ gehoor en sê nou vol jeugdige vertroue: ‘Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra: Ons sal lewe, ons sal sterwe - ons vir jou, Suid-Afrika.’ Ons kan nog nie met volkome sekerheid sê waarheen die moderniseringsproses ons gaan voer nie. Vir my lyk dit egter of die suiwer Afrikaanse Idee nou so lewenskragtig is, dat vreemde invloede dit nie meer kan laat verstik nie. Dit is nou nie meer na-apery wat ons na die vreemde dryf nie; dit is 'n bewuste poging om ons gesigseinder te verbreed, om deel te hê aan die geesteslewe van die moderne mens, en daaruit {==26==} {>>pagina-aanduiding<<} te haal wat dienstig kan wees vir 'n ontwikkeling volgens ons eie volksaard. Ons wil die vreemde ken, maar wat ons eie is aankweek. Ons sal nie ondergaan in die buitelandse eksesse nie - daarvoor is ons lug te gesond, ons son te helder, ons lewensbeskouing te nugter. Wat goed is in die kultuur van ander volke sal ons op ons eie manier vervorm, totdat dit saamsmelt met die suiwer Afrikaanse Idee en bydra om dié Idee tot verdere rypwording te bring. Die Tweede Beweging is 'n bewuswording van die Mens in Suid-Afrika. Dit was 'n taalbeweging omdat dit in die eerste plek ontstaan het uit die taalstryd, maar nie omdat dit uitsluitend betekenis vir die taal had nie. Dit het gegroei soos 'n stroom wat sy bedding al hoe meer verbreed en verdiep, en uiteindelik moet dit uitstroom in die oneindige geestelike see. Die propaganda-periode (1900-1921) het op prosagebied lewe in ons letterkunde gebring, maar nie die hoër skoonheid van 'n kuns, wat nou nog in staat is om ons te ontroer nie. Die eintlike kunsperiode van ons prosa begin eers in 1921, omtrent tien jaar na die ontluiking van die verskuns. Hierdie latere ontwikkeling van die prosa is 'n algemene verskynsel in die letterkunde. Laat ons nou nagaan hoe die veranderende mentaliteit van die Afrikaner op die gebied van ons prosa tot uiting kom, hoe die meer komplekse lewensverhoudinge daarin weerspieël word. Die verskyning van Everard Fichardt se roman Onder die Olyfboom en dr. J.R.L. van Bruggen se Japie aan die begin van 1922 is 'n belangrike fase in die ontwikkeling van die prosakuns. Een van Fichardt se figure, Ewert, is ‘op die ou deurmekaar ingewikkelde wêreld, nie om die lewe te geniet nie, maar om die lewe te ontleed.’ M.a.w. die Afrikaanse kunstenaar, wat tot nog toe eenvoudig die hoofmomente van die lewe gekonstateer het, begin nou die moontlikhede van die binnewêreld, die gebied van die siel, te ontdek. Die bewusgeworde individu rig sy eie-ek op teenoor die wêreld, voel agter sy persoonlike ervarings die huiwering van die oneindige. Daar ontstaan 'n drang om agter die gewone daaglikse uiterlikheidjies te soek na die verborge sin van die lewe; om die diepere, die ware menslikheid te lig uit die vroeër so oppervlakkig geskilderde daad. Ons kry nou nie meer 'n vernuftige inmekaar gepeuterde intrige nie, maar die eenvoudige geskiedenis van 'n mens. Die kakelbont avonture, afhanklik van die willekeur van die skrywer, word vervang deur geestelike avonture, 'n noodwendige gevolg van sekere karaktertrekke. Die figure is nie meer samelapsels van afsonderlike eienskappe, wat onder sekere omstandighede op 'n verstaanbare wyse reageer nie, maar lewende mense wat 'n eie emosionele lewe het, met wie ons innig saamlewe. Hulle bly nie meer in die boek nie; deur allerhande tekenende trekke begin hulle voor ons oë te lewe; hul geestelike groei, verskillende krisisse in hul bestaan word deur plastiese uitbeelding geteken. Die skrywer deurleef self die emosies van sy karakters, laat hulle in hul {==27==} {>>pagina-aanduiding<<} omgewing ontwikkel. Die persoonlike psigiese ervarings van die skrywer word omgevorm, totdat dit die beeld word van algemeen-menslike sielskonflikte. Ek wil nie beweer dat Fichardt en Jan van Bruggen dit alles in die twee genoemde romans bereik het nie. Onder die Olyfboom en Japie was nog die onsekere klanke wat die nuwe rigting ingelui het en eers in 1924 het die helder-sonore dawergeluid van Ampie en Onder Bevoorregte Mense opgeklink. Maar die twee eersgenoemde romans is tipiese produkte van die oorgangstydperk, en die opvattings, wat daarin tot uiting kom, toon ook duidelik die evolusie van die Afrikaner se mentaliteit aan. Ek wil op 'n paar tipiese voorbeelde wys. Japie en Ewert tob albei oor die groot probleme van die lewe. Hulle is die verteenwoordigers van die klas ontwikkelde Afrikaner, wat deur middel van eie ondersoek, of op die universiteit, kennis gemaak het met die moderne wetenskaplike en filosofiese opvattings, en nou met hul ‘verligte’ denkbeelde op allerhande patriargale oorblyfsels in die Afrikaanse samelewing stuit, waar hul wel eerbied voor het, maar wat hul tog nie meer kan aanvaar nie. Die Calvinistiese leer word wel deur die kerk in ons land staande gehou, maar dit moet tog vir iedereen duidelik wees dat Japie's en Ewert's die natuurlike produkte is van ons non-sektariese onderwysstelsel. Ewert voel ‘dat alles geskape is en gereël word, volgens sekere bepaalde Natuurwette en as hy hom nie self kan help nie, daar geen Herder is wat hom sal help nie’ (p. 28). 1) Japie word gekwel deur aanvalle van godsdienstige twyfel. ‘Opgevoed in 'n sfeer waarin 'n Calvinistiese God nie alleen die elemente bestuur nie, maar wat tot huishoudelike dinge verordineer, het sy ontluikende individualiteit naderhand orals vasvalplekke gevind’ (p. 29). Hy lees filosofiese werke, veral Kant, en ‘'n paar polemiserende boeke oor godsdiens lê band aan band met 'n goed-bevingerde Statebybel’ (p. 47). In sy vertwyfeling na die dood van Nellie lees hy ‘'n godslasterende sonnet’ van Rupert Brooke en dit gee hom ‘'n sekere sardoniese voldoening’ (p. 88). Al genoeg aanhalings om te bewys dat, altans by 'n deel van die Afrikaanse volk, die periode van ‘geloof op gesag’ verby is. Ons kry nou die mens wat ly deur die teenstrydige magte in sy eie siel en amper ten onder gaan, die kind wat uit die hoogtes van naïewe, ootmoedige vertroue neergesmak word in dieptes van twyfel, 'n Kleine Johannes wat met Windekind en Wistik intiem omgegaan het, wat ook al by Pluizer en dr. Cyfer was..... maar nog na die goue sleuteltjie soek. Vir Japie is die dood 'n probleem en hy wonder ‘of dit ooit opgelos kan word’ (p. 28). Een van sy vriende worstel met die gedagte aan selfmoord, 'n ander sit en dink ‘oor 'n lewensbeskouing wat met (hom) sal akkordeer’. Die individu kom uit die massa te voorskyn. {==28==} {>>pagina-aanduiding<<} § 11. Die Vrou en die Liefde by die Prosaskrywers van die Oorgangsperiode. Fichardt is ook 'n soeker. ‘Ons ja te baie agter die beuselagtige fraiings van die lewe en mis te baie die dieper betekenis daarvan. Daar is geen gulde kortpad tot duursame geluk nie’ (p. 126). Hy peins oor die vraag: ‘Wat is sonde?’ (p. 138) en vind dat die rede van ons bestaan ook ons hoogste doel is, nl. ‘die verstandige voortplanting en onophoudelike verbetering van die ras op hierdie klein aardbol van ons’ (p. 215). In sy opvatting van die liefde speel die geslagsdrif 'n vername rol. By Japie is die liefde nie ‘'n bloot sinlike begeerte nie, want sy liefde het die diep-diep stiltes van die gees geken, sowel as die krag van die vlees’ (p. 64). By hom word die skoonheidsaanbidding van die vrou byna 'n godsdiens (p. 88). Dis al genoeg om aan te toon hoe vèr hierdie skrywers verwyder is van die engelagtige Mooi Annies, wat in 'n vorige periode vir vrouens moes deurgaan. Lydia ontmoet ons die eerste maal in die bed: ‘As sy daar so sit, selfs met verwarde hare en in ongekunstelde naggewaad, is in haar 'n bepaalde aantreklikheid te bespeur, nie so besonder in die kleur van die oë, of die glans van die hare, of die vorm van die gelaatstrekke nie, maar eerder in die bekorende houding, die sielvolle uitdrukking; 'n aantreklikheid, nie so besonder in die liggaam self nie, maar eerder in iets daarbinne verborge, die gees, die karakter, die eie klein persoonlikheid’ (p. 31). Japie sien ook wel die liggaamlike skoonheid van Nellie raak, maar onder die invloed van Perk is hy besig om dit te vergeestelik (p. 45). Hierdie skrywers is op pad om die innerlikheid, die siel van die vrou te ontdek. Die vrou is nie meer vir hulle ‘'n beeldfraaie mens..... meer geskik vir die tuiste van engele, dan vir hierdie prosaïese aardbol’ nie; hulle sien nie net die rooi wange met kuiltjies, waarin hulle wil tuimel nie; die melkwit hals van 'n skone towergodin, ens., ens., nee, hulle probeer om die innerlike wese van die vrou uit te beeld. Die voortrekker-amasone, wat nie agteruitstaan vir die man op die jag of in die geveg nie, kry ons natuurlik in die geskiedenis ook. Die avontuurroman probeer om haar in 'n romantiekerige waas te hul. Maar hier ontmoet ons nou die vrou uit 'n latere periode, die fyn ontwikkelde Afrikaanse dame, wat nie net aan die end van die roman met 'n tweeling op die arms verskyn nie, want, sê Fichardt: ‘trou is nie die einde van alles nie, dis maar net die begin.’ Die hele liefdesverhouding word verinnerlik; dis nie meer 'n sentimentele relaas van vryery nie; dis die uitbeelding van 'n reeks immer-wisselende stemminge, van die langsame groei van 'n geestes-gemeenskap, die wedersydse blootlegging van die intiemste hoekies van twee harte wat mekaar soek. Jan Celliers het in sy Martjie (1911) al die nuwe rigting aangedui. {==29==} {>>pagina-aanduiding<<} Die natuurbeskouing van die eerste digters vind ook nou weerklank in die roman, en by Jan van Bruggen en Fichardt kan ons o.a. direkte invloed van Jan Celliers en Leipoldt waarneem. Japie ‘maak weer maats met die snaakse koggelmanders en die skuwe veldmuise .....’ (p. 42) en Ewert ‘voel die krag van die onsterflike woorde van Jan Celliers’ (p. 20). Veral by Van Bruggen, self digter, vind ons innige waarneming van die natuur. Dikwels slaag hy daarin om die stemming van sy figure op harmoniese wyse te laat versmelt met sy natuurbeskrywing. Daar is geen spoor meer van die utiliteitsopvatting nie. ‘Realisme’ is maar 'n vae term, want daar bestaan amper nie 'n kunswerk wat nie 'n samestelling van werklikheid en verbeelding is nie. Tog kan ons konstateer dat daar in die kunsperiode 'n neiging is om meer regstreeks uiting te gee aan die self-gesiene en self-ervarene. Jochem van Bruggen en Léon Maré het al voor 1921 blyke gegee van 'n raak opmerkingsgawe, terwyl die meeste ander skrywers nog tevrede was met romantiekerige opsiering, en die lewe van die boer alleen van die idilliese, arkadiese kant bekyk het. Lub het in sy Johannesburgse sketse dikwels daarin geslaag om die rou werklikheid van die goudstad se ontaarding te teken. Oor die algemeen het die realistiese uitbeelding egter nog fragmentaries gebly. Die gawe om verskillende figure op oortuigende wyse in hul omgewing te laat lewe, die direkte en deurdringende waarneming wat deur middel van tekenende besonderhede mense en dinge so laat sien dat hulle in die ruimte werklik bestaan, asemhaal en beweeg - dié gawe sien ons eers in Ampie, Onder Bevoorregte Mense, Die Meulenaar, Hans-die-Skipper, Droogte, Toiings en ander werke tot volle rypheid ontwikkel. Jan van Bruggen vertel ons botweg dat hy die ‘maande van puurvleeslike sensasie’ in Japie se lewe maar wil ‘deurdrawwe’ - slegte tegniek, maar tog 'n bewys, dat hy sy publiek ken, wat stellig teen 'n naturalistiese skildering van vleeslike luste sal protesteer .Maar terwyl Fichardt nog die sluiertaktiek toepas op Lydia se egbreuk, vind ons by Jan van Bruggen tal van realistiese trekke, wat die meeste Afrikaanse lesers seker as op die kantjie af sal beskou. In die verbygaan ontmoet ons o.a. 'n Johannesburgse slet en 'n lywige dame, in die ‘knellende wapenrusting van 'n korset’, wat uit die kamer verdwyn ‘met 'n bewuste joep van haar gepantserde lyf’ (p. 57). Die gesonde oordeel van die beskaafde publiek sal altoos die grens aandui. Op die oomblik heers daar 'n oordrewe preutsheid, en die skrywers wat 'n handige sluier oor 'n s.g. ‘onbeskryflike’ toneel laat val, kry die voorkeur bo dié wat 'n ding by sy regte naam noem en die mens van die vyeblaartjies van 'n skynbeskwawing beroof. {==30==} {>>pagina-aanduiding<<} § 12. Ampie, die Eerste Lewende Mens in die Roman. 'n Glanspunt bereik die realistiese rigting in Ampie (1924), die epos van 'n nietige bywonersieltjie. Hier geen sweem van idilliese opsiering nie, maar die naakte werklikheid van die bywonerbestaan, 'n dokument wat kan gebruik word vir 'n studie oor ons maatskaplike toestande. Tewens ook die eerste volledig lewende Afrikaanse mens in ons letterkunde. Hoe ken ons nie die binnelewe van hierdie halfverdierlikte boereseun tot in die fynste kronkeling van sy nietigste gedagtetjies nie! Ondergaan ons nie die benouenis van die wurgatmosfeer waarin sy lewenskiempie byna verstik raak nie? Leef ons nie saam met hom in die vertedering van sy liefde nie en in die botviering van sy blinde drif? Net 'n bondel flenters! Ja, maar onder die vervuilde toiings klop die hart van 'n natuurkind; onder die vetterige ou keps loer 'n paar groot bruin oë met 'n blik wat ons nooit weer kan vergeet nie! Eindelik 'n mens..... wat nie semels in sy ingewande het nie! 'n Lewe, wat as vanself, ongedwonge, ontwikkel. 'n Ouerige kindersieltjie, wat bang-bang die beskaafde wêreld inskuifel en die smart van sy verlatenheid uitsnik by die lewelose liggaam van sy donkie-maat..... Duidelik word die breuk met die verlede, en die lyn van ontwikkeling as ons langs mekaar lê: Twee Susters van Chris Euvrard, 'n onbenullige oorlogsverhaaltjie, in 1914 deur die hoogste letterkundige gesag met die Hertzog-prys bekroon en Ampie, wat dieselfde onderskeiding in 1925 verwerf het. Wie het so'n heuglike bloei in tien jaar tyd verwag? As bewus lewende nasie is ons baie jonk, maar as afstammelinge van drie Europese volke is ons tog die kinders van 'n ou beskawing, het ons deel aan die erfenis van eeue van ontwikkeling. Nuwe kieme kan dus gou tot rypheid kom. Byna gelyktydig met Ampie verskyn Marie Linde se Onder Bevoorregte Mense. Met fyn-vroulike intuïsie word daarin geteken die geestelike groei van 'n arm-blanke weesmeisie, wat in die gesin van 'n artistiek aangelegde Kaapstadse dame beland. Eerlik-opreg van siening en innig van weergawe is die uitbeelding; duidelik staan al die karakters voor ons, werklike mense wat ons deur-en-deur ken. Net soos Ampie het ook Bettie haar onsinnige lugkasteeltjies, wat sy deur 'n meer ontwikkelde aanleg en onder gelukkiger omstandighede grotendeels kan verwesenlik. Ook hier sien ons die botsing tussen die uitheemse idees en die voorvaderlike sedes, die ideale van die ou geslag teenoor die steeds meer indringende nuwerwetshede. Die dogter van 'n eerwaardige Vrystaatse predikant word ná 'n Europese opvoeding operasangeres; die enigste seun van 'n veeboer word 'n ‘losbandige kunsskilder’ en trou met 'n meisie wat ‘uit die agterbuurte opgeraap is’ - uitsonderingsgevalle seker. Maar deur die hele boek staan daar baie tekenende trekkies, wat die moderniseringsproses van die oorgangstydperk treffend tipeer. {==31==} {>>pagina-aanduiding<<} Met die verskyning van Ampie en Onder Bevoorregte Mense het die beslissende bevryding gekom van die nagmerrie van die oppervlakkige avontuur-roman. 'n Ander belangrike mylpaal was Sangiro se Diersketse. By 'n volk wat gedurende sy wordingsperiode so intiem in aanraking met die grootwild gelewe het, sou ons vanself 'n ryk oes van jagstories verwag. Maar die opmerklike, die verrassend-nuwe in die verskyning van Sangiro is, dat 'n afstammeling van die ou jagters, wat onder voortrekkerkondisies in Oos-Afrika groot word, die dierlewe uitbeeld, nie van die standpunt van die pionier nie, maar dat hy in elke leeu of renoster 'n persoonlikheid sien, ‘in sy soort ruim so interessant as die van die mens.’ Dit is dieselfde ontwikkeling wat ons by die romanskrywers opgemerk het: van die uiterlike beweging kom hulle tot die innerlike roersels. ‘Ook onder die wilde diere bestaan daar 'n soort van geesteslewe, wat die opmerksame waarnemer telkens weer met verwondering vul; vir hom word dit naderhand moontlik om die diere se gewaarwordinge uit hul uiterlike beweginge te verstaan.’ Sangiro is veel meer as ‘'n opmerksame waarnemer’. Hy besit die digterlike gawe om die uiterlike feite deur beeld en klank so te vertolk, dat ons die ontroeringe van die geweldige dieredrama en die bekoring van die oerwoud self kan navoel. Sangiro kruip in die vel van die leeu; hy neem die leeunatuur aan en ondergaan 'n tydelike vernietiging van sy eie wese. Hy deurleef al die gewaarwordings van die leeu, en sy uitbeelding daarvan is nie die nugtere verstandstaal van die geleerde soöloog nie, maar dit is die ontroerde verklanking van 'n innerlike sielsmusiek. Sy prosa word opgebou uit sy gehele siel en nie uit sy verstand alleen nie; hy koester en troetel sy taal, totdat dit deur ritme, golwing, klank, toonhoogte, plastiek, lig en skaduwee die fynste nuanserings van sy gevoel kan weergee. In sy werk bereik ons prosa definitief die stadium van kunsprosa; dit is die produk van 'n skeppende verbeelding, wat ons op een lyn kan stel met die werk van ons digters. Hy gee iets van sy siel aan alles wat hy sien; hy gee ons die werklikheid wat hy waarneem en die misterieuse werklikheid wat hy voel. Met gebruikmaking van die Nederlandse taalskat en onder die invloed van die na-Tagtigers skep hy 'n taal so lenig en buigsaam as wat voor 1921 onbekend was. Sy taal is nie net die sappige volksidioom van die Patriotter, wat skryf soos hy praat nie; op spontane wyse ontwikkel dit by hom tot literêre taal, verfynd genoeg om selfs aan die onvatbaarste gewaarwording uiting te gee, tekenend genoeg om die minste beweging van gedagte en aandoening weer te gee. Altoos borrel dit op uit die suiwere bron van die volkspraak, maar omdat hy die sinne-gevoeligheid van die kunstenaar besit, word dit by hom plastieser, voller van klank. Treffend word die kontras tussen die oue en nuwe as ons Bana Maie se Voortrekkerslewe in Donker Afrika langs Sangiro se werk lê. Bana {==32==} {>>pagina-aanduiding<<} Maie se boek is 'n interessante kultuur-dokument, die dagboek van 'n trekker in Brits-Oos-Afrika. Hy wil elke boom sekuur meet, elke dier wat hy skiet op die skaal sit. Soos 'n verstandige boer sien hy dié bome raak waar hy die beste meubels van kan maak. Hy moraliseer by 'n afgebrande bos sederbome en staan partymaal ‘spraakloos van bewondering’ by 'n natuur-toneel. Sangiro gaan egter heeltemal op in die natuur, drink die heerlikheid daarvan met die fyner sintuie van die moderne mens in. Tussen hom en die natuur staan daar nie 'n ‘digterlike taal’, 'n taal van verstandelike begrippe, volgeprop met 'n reeks pronk-adjektiewe nie; 1) sy taal ontstaan uit die aandoening self, is fris, direk, en roep regstreeks die beeld voor ons gees op. Hy is die digter van die oerwoud; hy vang die kleinste ritselinkie op, die oneindige skakerings van kleur en klank, die veranderlike tinte op berge en wolke, die ‘wisselverwigheid’ van die natuur. In die tweede periode bring veral Langenhoven die betogende en wysgerige prosa op 'n hoër plan. Hy is een van ons individueelste stiliste, wat tog bewus daarna strewe, om 'n soort gemeenskapskuns te skep, wat volgens die teorie van Tolstoi bevatlik is vir die mees onontwikkelde bywoner en tog tot die hoogste kuns behoort. Nie altoos slaag hy daarin om langs die weg van die eenvoud die sublieme te bereik nie, maar sy vindingryke vernuf het 'n frisheid in ons prosa gebring en daar nuwe tintelinge deur laat speel. In sy betogende prosa is dit veral die speelse kronkelinge van 'n sprankelende gees wat ons verras; die skielike blitsliggies van 'n ratse verstand flikker en dans deur sy lugtig geboude periodes. Dan dreun die hamerslae van sy logies redenerende verstand weer op die yster van sy argument, totdat die vonke rond en bont spat. Die allergewoonste ding laat hy op sy kop staan deur 'n onverwagte wending, die koddigste effek bereik hy deur 'n gewaagde neologisme of 'n aangelaste stertjie. Rustig ry jy saam met hom op die egalige pad van sy betoog, maar skielik spring hy hot-om met die kortste Kaapse draai, wat jou viervoet teen die grond slinger! Maar somtyds word sy stem teer van aandoening; dit ruis op uit dieptes van innige gevoel en as hy wegraak in sy fantasieë is dit of die klank van sy rustige volsinne wegdein in vertes van huiwerende weemoed.... Meer as enige ander skrywer het Langenhoven die verrassende moontlikhede van die sappige volkspraak ontdek; sy invloed op die verdere ontwikkeling van ons prosa sal groot wees. {==33==} {>>pagina-aanduiding<<} § 13. Verdere Ontwikkeling (1926-1937). Armblanke-motief. Gedurende hierdie tydperk het die armblanke-vraagstuk deur die ondersoek van die Carnegie-kommissie en die Volkskongres in Kimberley (1934), asook deur die ellende van de depressiejare (1931-1933) baie sterk op die voorgrond getree. Allerweë is gevoel dat die steeds toenemende volksverarming die wortels van die Afrikanerdom bedreig, en natuurlik het ons skrywers hulle ook intensief besig gehou met die probleem. Jochem van Bruggen, wat veel daartoe bygedra het om die volksgewete wakker te skud, het die tweede deel van sy Ampie-epos in 1928 gepubliseer en sy uitbeelding van die minderbevoorregtes voortgesit in In die Gramadoelas (1932) en Die Sprinkaanbeampte van Sluis (1933). D.F. Malherbe se roman Die Meulenaar (1926) het as hoofkarakter 'n geestelik onontwikkelde gehad, terwyl sy volgende werk, Hans-die-Skipper (1929), die lewe van eenvoudige vissers beskrywe. Ook C.M. van den Heever het hom in sy eerste drie verhale byna uitsluitend besig gehou met die verarmdes en eenvoudiges van gees (Op die Plaas 1927, Langs die Grootpad, 1928, Droogte, 1930). Jonker speur die oorsake van die volksverarming na in sy lywige roman Die Plaasverdeling (1932) met die vervolg daarop: Die Trekboer (1934), en Van Melle probeer 'n oplossing uitwerk in Dawid Booysen (1933). 'n Groot aantal kortverhale en sketse het dieselfde onderwerp behandel in tydskrifte en koerante, terwyl beroepsgeselskappe die land deurreis het met toneelbewerkings van Ampie en Oom Bart. Jonger skrywers het al gou die rigsnoer van die toonaangewende leiers gevolg, soos onder andere uit hierdie werke blyk: Mev. W.P. Steenkamp: Kykies in ons Volkslewe (1930); D.J. Coetzee: Armoede en Hartkwaal (1933); Dirk Mostert: Petaljes van Oom Bart (1934); P.W. Botha: Joggie (1934); Mev. T.C. Pienaar: Die Duistere Sluier (1934); Sita: Uit Juffrou se Dagboek (1935); M.E. Conradie: Die Ondergang van 'n Medemens (1935); Kootjie van den Heever: Vlugtige Skaduwees (1936); Helmüth Luttig: Broers (1937). In 1935 het die publiek protes begin aanteken teen hierdie armblankerigting van ons verhaalkuns. Baie van die boeke moes op skool behandel word, ook met Engelse studente, en daar het 'n gevoel ontstaan dat sulke leesstof die prestige van die Afrikaner sal verlaag. By toneelopvoerings van Ampie het sommige uitgestap omdat hulle gekrenk was in hul nasionale trots. Sulke gevoelens is begryplik as ons dink aan die smaad en hoon wat die Afrikaner so verbitter het in die dae van die taalstryd. Dit het gelyk of die skrywers die so moeilik verworwe besef van eiewaarde wou ondermyn deur hul oormatige belangstelling in die bywoners en veragterdes. Veel oppervlakkiger was die motiewe van diegene wat geroep het om {==34==} {>>pagina-aanduiding<<} verhale waarin ‘knap kêrels en mooi nooiens’ moes optree. Hierdie groep het alleen na verstrooiing gesoek, of hoogstens na verhale met 'n vertroostende boodskap wat hulle kon help om al die narigheid rondom hulle vir 'n oomblik te vergeet. Die kunstenaar moes hom beperk tot die sonkant van die dinge, moes die lewe deur 'n rooskleurige glasie bekyk en alleen die bekoorlike en aantreklike laat sien. Hulle het nie begryp dat die ware kunstenaar ons nooit narigheid-sonder-meer gee nie, soos die bioskoop, waar 'n aardbewing, 'n veldslag of 'n agterbuurt-toneel outomaties afgedraai word. So 'n werklikheidskopie laat ons wanhopig huis-toe gaan, sonder enige lewensverryking. Maar die kunstenaar kan selfs die afskuwelikste, mees troostelose werklikheid omskep tot skoonheid, omdat hy dit met so 'n groot liefde en met so 'n skerp blik deurskou dat wat vir ons waardeloos en stuitlik gelyk het, meteens diepe betekenis kry. Ook wanneer hy oor narigheid en ellende skryf, verryk hy ons siel, omdat hy ons help om die lewe dieper te deurgrond. Speurdersverhale. Die lewensvervalsing en vose Hollywood-romantiek, wat tot op ons kleinste dorpies deur die bioskoop gepropageer word en verder bevorder word deur die magtige stroom van oppervlakkige amusements-literatuur, wat soos 'n rivier-sonder-end ons land binnedring - daarin skuil miskien die grootste gevaar vir die opbloei van 'n gesonde volkslektuur. Net soos in ouer lande is ons beste skrywers, wat bokant die volk uitstyg, onmagtig om die groot massa te bevredig. Hoe ingewikkelder ons romans word, hoe meer ons skrywers hulle daarop toelê om die waarom van die verhoudinge en wanverhoudinge waaronder ons leef te peil in plaas van 'n aantreklike skynwêreld te skep waardeur 'n mens uit hierdie aardse tranedal kan ontvlug, hoe breër sal die kloof word wat hulle skei van die lesende massa. Die gemiddelde leser gryp altoos terug na die primitiewe, die rudimentêre, en omdat ons moderne samelewing so tegnies volmaak gereël en so veilig is dat die outydse romantiek amper daaruit verdwyn het, moet hy op die ashope van die beskawing 'n paar oorblyfsels daarvan gaan uitkrap. Vandaar die voorkeur vir speurverhale en die verheerliking van die misdadiger, wat deur sy vernuf die maatskaplike bande verbreek. Die primitiewe mens wil in die verbeeldingswêreld van die roman die geluk gryp wat hom in die daaglikse lewe ontsnap. In die misdadiger en speurder bewonder hy die moed, die gewikstheid, sluwe verstand en opstandigheid wat in sy eie karakter ontbreek. Hierdie verskynsel is natuurlik internasionaal, maar vir 'n letterkunde wat nog pas aan sy begin is, bring dit ernstiger gevare mee as in ouer lande, waar die ryk kultuurskatte van die verlede 'n stewige teëwig vorm. Net soos in ons propagandaperiode die avontuurverhaal met gejuig binnegehaal is, so is daar tans weer 'n neiging om die groot afset {==35==} {>>pagina-aanduiding<<} van speurverhale as 'n bewys te beskou van die groei van 'n nasionale letterkunde. Ons het daarin geslaag om meer leeslus op te wek by die Afrikaner, maar ons het nog nie besef dat verkeerd-lees 'n positiewe gevaar kan word nie. Sou ons leiers op onderwysgebied werklik so naïef wees om te meen dat hulle die waardering van ons letterkunde bevorder deur die vertaalde ‘crime thrillers’ van 'n Engelse outeur vir openbare eksamens voor te skrywe? Toe Langenhoven in 1926 die eerste Afrikaanse speurverhaal, Donker Spore, geskrywe het, het hy 'n poging gedoen om, soos Ivans in Nederland, daaraan 'n nasionale karakter en 'n nasionale sfeer te gee. Ofskoon ander skrywers ook iets in hierdie rigting gedoen het, is ons speurverhaal tog in wese on-Afrikaans en hou dit weinig rekening met die Afrikaanse werklikheid, selfs al word daar 'n Afrikaanse kleur aan gegee deur onbelangrike uiterlikhede. Jacques Malan het hierdie eienskap van Hendrik Brand se verhale goed gekarakteriseer: ‘They are, on the whole, competently written and ingeniously put together, but it is the sort of competence and ingenuity that achieves itself in domesticating a local and unlikely species of the Dillinger beast and inbreeding super intellectualised detectives; that represents South Africa as swarming with bloodlusting Bolsheviki and imported Voodoo sorcerers; and that for good measure, seriously stages a 300-page comic opera, in which rival royalist and red revolutionary gangs battle for the possession of the heir to a Balkan throne, who, with crown jewels and royal instincts intact, loses his way into South Africa.’ 1) Die Afrikaanse speurroman kan nouliks beskou word as 'n aanwins vir ons ontspanningslektuur, omdat dit al die gebreke van sy buitelandse boeties openbaar. Dis eenvoudig die produk van 'n letterkundige nywerheid wat hom daarop toelê om sinledige tydverdryf te verskaf aan die groot massa. In die periode 1926-1937 het daar meer as twintig bundels speurverhale verskyn, en ons drukperse kan nie voorbly om al die eindelose avonture van geïmporteerde standaard-helde uit te draai nie. Hierdie verkwisting van kosbare volkskrag moet ons droewig stem. Dr. P.H. Ritter Jr. meen dat in die speurverhaal ‘een kans tot verinnerlijking aanwezig is’, omdat dit so 'n pragtige instrument kan word vir sosiale satire. Dit moet die mensdom leer om oor homself te lag en ‘de conventie van het vulgaire’ bespotlik maak. Daar is 'n hunkering by die moderne mens om te ontsnap uit die tegniese gevangeskap van ons eeu. ‘Maar het beloofde land ligt niet in het atelier van den detective die zich met de studie der chemische moordmiddelen bezig houdt en die bestemd, ja gedoemd is om met zijn technische instrumenten en zijn technisch vernuft de overwinning te behalen, neen het ligt in den sterren- {==36==} {>>pagina-aanduiding<<} hemel boven ons, het ligt in de eeuwige ijszeeën en oerwouden die onze geestelijk zoo povere cultuur omringen, en welke te doordringen de taak der helden is van dit geslacht. Het ligt ook in den mensch zelf, wanneer hij zich uit zijn technisch corset heeft bevrijd, wanneer hij zich ontworsteld heeft aan de als een looden last op ons liggende gemakzucht. Het ligt in den mensch zelf, die nog altijd belangstelling en liefde heeft voor planten, bloemen en dieren....’ 1) Dit sou jammer wees as die gesonde, opvoedende ontspanningslektuur wat Langenhoven en ander skrywers ons gegee het, moet verdring word deur kriminalistiese romans. Ligte lektuur, uit 'n gesonde lewensopvatting gebore, kan 'n groot bate wees in ons kultuurstryd, maar daar moet gewaarsku word teen verhale wat deur gemis van skoonheid en gemis van sedelike kern slegs die volksiel kan skaad. Veranderende Toestande. Die moderniseringsproses word in hierdie periode met versnelde tempo voortgesit. Suid-Afrika is deur die ontwikkeling van snelverkeer en radio, deur sy goud en diamante, handel en industrie, vir goed uit sy betreklike isolasie geruk en ingeskakel in die ekonomiese wêreldmasjien, waarin die ou lewensverhoudings onverbiddelik fyn gemaal word. Tot op die verafgeleë plaas word die boer gedwing om rekening te hou met die eise van die wêreldmark; hy word verplig om ‘agter geld aan te boer’, soos Hobson dit noem in Geluksvlei, waarin die kontras tussen die ou en die nuwe boerderymetodes op saaklike wyse beskrywe word. Maar die verandering is nie slegs beperk tot uiterlikhede wat bepaal word deur ekonomiese vereistes nie. Die jong plattelandse boer het radikaal afgewyk van die lewensbeskouing van die ouer geslag. Hy het opgegroei onder glad ander toestande, het nooit die rus en eenvoudige genoeëns van die ou boerekultuur geken nie, want van sy vroegste jeug af het hy sy ouers sien sukkel om te bestaan op 'n plaas wat skaars die rente van die verband kon opbring. Hy het hulle sien worstel met sprinkane en droogte, en hy het beeste en skape help oppas wat almal die regeringsbrandmerk gedra het. Met staatshulp het hy na die hoërskool op die dorp gegaan, waar hy 'n voorsmaak gekry het van die onbegrensde moontlikhede van sensasie en emosie wat die moderne tegniek vir almal bereikbaar stel. En daarna het hy Rand-toe gegaan. Ongeveer so word die tragiese ondergang van die ou tipe boer in ons letterkunde geskilder. Uitstekend het C.M. van den Heever die botsing tussen outydse plaasdeeglikheid en stedelike ontaarding geteken in sy roman Groei, waarin 'n hele reeks verteenwoordigers van ons volks- {==37==} {>>pagina-aanduiding<<} kultuur, beide in die stad en op die platteland, die revue passeer. Hulle verkeer almal in verskillende stadia van modernisering, en in die ekonomiese vagevuur smelt al die oorgelewerde sedelike en godsdienstige pantsers weg. Nuut is die behandeling van hierdie probleem natuurlik nie, want Lub het al daarmee begin in sy bundels sketse (1908-1918), Totius het getreur by die ‘Goue Grawe’ van sy volk (Trekkerswee, 1915) en Grosskopf het dieselfde motief behandel in die toneelstuk 'n Esau (1920). Ons kan egter verwag dat in die naaste toekoms nog veel meer aandag sal gewy word aan die probleem van denasionalisering. Sedert ongeveer 1927 vind daar 'n gestadige verskuiwing van die platteland na die stede plaas, en gedurende die afgelope drie jaar het hierdie verskynsel so opvallend geword dat dit soms die Tweede Groot Trek genoem is. Deur hierdie verskuiwing kan die grondveste van die Afrikanerdom ondermyn word, want in die groot-stad-atmosfeer het die Afrikaanse Gedagte nog altoos gedreig om dood te kwyn. C.M. van den Heever meen dat mettertyd ‘'n nuwe tipe Afrikaner’ sal ontwikkel; maar ofskoon daar aanduidings is dat die stedelike Afrikaner begin rigting kry, ‘moet daar nog veel gearbei word voordat die Afrikaanse Gedagte hier 'n eie gestalte sal aanneem.... Dit is of die Afrikaner die herinnering aan sy vroeëre lewe vergeet het. Met die glansende vernis van 'n half-begrepe stedelike lewensopvatting pronk hy baie vrolik rond en met 'n glimlag van hooghartigheid praat hy van die plaasmense’ (Die Afrikaanse Gedagte). Meer optimisties is Abel Coetzee, wat in sy studie, Die Groei van die Afrikaanse Gedagte aan die Rand, op tallose tekens van vooruitgang wys. Deur 'n georganiseerde verenigingslewe is 'n poging gedoen om al die verskillende stande bewus te maak ‘van die band wat hulle aan gemeenskaplike kultuurbelange verbind.’ Rusoord word in 1932 gestig en daardeur kan die saamhorigheidsgevoel ontwikkel word. Die Afrikaanse gemeenskap aan die Rand is egter nog nie kapitaalkragtig genoeg om op ekonomiese gebied veel te presteer nie. Die Afrikaanse Skrywerskring. Op letterkundige gebied het Johannesburg in die afgelope paar jaar die sentrum van heelwat bedrywigheid geword. Onder voorsitterskap van C.M. van den Heever het 'n aantal outeurs 'n Skrywerskring gevorm, wat deur 'n jaarlikse oorsig van ons boekeproduksie en talryke bydraes in die pers, die belangstelling in letterkundige sake aanwakker. In 1936 het die eerste Jaarboek van die Kring verskyn, wat behalwe oorspronklike werk van hoë gehalte, ook persoonlike onderhoude met ouer en jonger skrywers bevat. Daardeur het die Jaarboek 'n waardevolle bron van inligting geword omtrent die werkplan en strewe van ons skrywers. {==38==} {>>pagina-aanduiding<<} Ons volk het nog lank nie die stadium bereik waarin ‘politieke baldadigheid versober tot kultuur-erns’ nie, maar die goeie ontvangs van hierdie Jaarboek bewys tog dat daar 'n intellektuele kern is, wat nog in ander sake belangstel as mosies van vertroue en wantroue. Die strewe van die Skrywerskring is o.a. om saamwerking te soek met Dietse letterkundiges, en deur openhartige bespreking van literêre kwessies mee te werk ‘aan die verskerping van ons skoonheidsgevoel’. (Voorwoord, Jaarboek 1936). F.A.K. Op Johannesburg is ook die hoofkantoor van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge wat in 1929 gestig is om koördinasie van alle verstrooide kultuurkragte te bewerkstellig en deur 'n gesamentlike program van aksie leiding te gee. ‘Ongeveer driehonderd Afrikaanse vereniginge, sommige selfs in Kenia, Rhodesië, Suidwes-Afrika en Holland, het hulself verenig in die gemeenskaplike strewe om die volkseie, gegrond op die godsdiens en tradisies van die Afrikaner te beskerm en te ontwikkel.’ Gedurende die periode 1929-1937 het die F.A.K. inderdaad die ‘opvang- en uitsaaistasie van alles wat die Afrikaner kaner eie is’, geword. Aanvanklik is veral gekonsentreer op taalhandhawing, maar gaandeweg is besef dat die begrip kultuur die totale geestelike besit van die nasie moet insluit. Wie die sekretariële verslae van die F.A.K. deurblaai, sal dadelik opmerk dat daar haas geen terrein van die volkslewe is, waarop die F.A.K. nie vrugbare arbeid verrig het nie. Deur die stigting van 'n Nasionale Kultuurraad wil die F.A.K. tans ook die ekonomiese kragte van die volk konsolideer en aldus 'n eenheidsfront skep wat moet uitgroei bo die party-politieke verdeling tot ‘'n hegte saamsnoering van die lede van ons volk op Christeliknasionale grondslag.’ Baie ondernemings wat die F.A.K. aangepak het, is nog maar in die beginstadium, maar die praktiese resultate wat reeds bereik is, toon op oortuigende wyse dat hierdie organisasie die belangrikste stootkrag van die Tweede Beweging geword het. Dit het die Afrikaner tot in die verste uithoekie van ons uitgestrekte land en ook ver buitekant ons grense 'n helder omlynde doel gegee wat in sy onmiddellike omgewing prakties uitgewerk kan word; dit het hom laat besef dat deur eendragtige strewe die hoogste ideale van die volk kan verwesenlik word. Die opkoms van die Individualisme. Ook in Kaapstad het daar op letterkundige gebied nuwe lewe ontstaan deur die stigting van die Vereniging vir die Vrye Boek (1936). Hierdie liggaam wil 'n poging doen om ons te verlos van die heerskappy {==39==} {>>pagina-aanduiding<<} van die Voorgeskrewe Boek, wat gedurende die afgelope twintig jaar grotendeels die geaardheid van ons letterkunde bepaal het. Omdat die omset van die Afrikaanse boek so klein was, is die uitgewers gedwing om altoos rekening te hou met die eise van skool en universiteit. Op taalkundige gebied het dit die voordeel meegebring dat die meeste uitgawes deur bevoegde persone nagesien is en daar dus binne enkele jare 'n einde gekom het aan die taalverwarring wat so 'n kenmerk was van die propagandaperiode. Uit 'n artistieke oogpunt egter, het die eise van opvoedkundiges die ontwikkeling van ons letterkunde belemmer. Die digter N.P. van Wyk Louw, sekretaris van die V.V.B., verklaar: ‘'n Volk wat tot skoolboeke beperk is, moet geestelik onmondig bly; maar dit wil hy nie - hy keer hom eenvoudig van so 'n letterkunde af en soek wat hy wil hê, langs ander paaie.’ Hy wys daarop dat die volksbeweging 'n moderne bewussyn geskep het, maar dat die letterkunde daarmee geen tred gehou het nie: ‘Dié het van die ouer patriotiese en historiese kuns gegroei tot 'n gemoedelike lokale realisme, wat mooi dinge in sy soort voortgebring het maar die laaste erns en die verbete eerlikheid wat die moderne uiting is, nie het nie. Hierdie boeke is dikwels in suiwer taal geskrywe en vorm goeie en gesonde skoollektuur, maar is nie gegryp uit die naakte ervaring van ons mense en praat nie reguit tot hulle hart nie. Want dié ervaring is nie meer gemoedelik, nie meer eenvoudig en landelik nie; dis ook nie 'n intellektuele gepeuter met verouderde kultuur- en huislike probleempies soos by baie van ons skryfsters en skrywers nie.’ As ons hierdie uitspraak vergelyk met Langenhoven se bekende ideaal om 'n boek te skryf ‘wat genot verskaf by die veewagterskraal en nie benede die hoogsgeleerde universiteitsprofessor is nie’, dan besef ons eers goed hoe vinnig toestande op letterkundige gebied verander het sedert 1922. Ons eerste digters het deur hul geïnspireerde vertolking van die volksideale direk die hart van die nasie geroer. Ons eerste prosaïste het - die meeste met meer ywer as gloeiende hartstog - dapper meegehelp aan die grootse taak van nasiebou deur aan die groot massa eenvoudige leesstof te verskaf. Die kuns van hierdie tyd was algemeen verstaanbaar, en elke nuwe skrywer is met triomf binnegehaal, selfs al het hy slegs 'n rousteentjie bygedra vir die binnemure van die groot kultuurgebou. Langsamerhand kom nou egter die individu uit die massa te voorskyn - 'n ontwikkeling wat ooreenkom met dié van ander lande. Die jongeres, wat 'n intensiewe studie gemaak het van die Wes-Europese lettere, is nie meer tevrede met 'n ‘lokale literatuurtjie’ nie waarin die skrywers veral die tipies Afrikaanse benadruk, maar hul verwag 'n letterkunde wat in alle opsigte gelykwaardig sal wees met die beste uit die buiteland. Daar is in hul werk 'n verskerping van die selfbesef, 'n groter {==40==} {>>pagina-aanduiding<<} bewuswording van die persoonlikheid, 'n nuwe kontak tussen Ek en Wêreld. Hul sterk lewensgevoel eis ‘een stuk leven, naakt, kaal, waar menschleven’ soos Kloos dit genoem het. Luister maar na die nuwe geluid in N.P. van Wyk Louw se Grense: My naakte siel wil sonder skrome in alle eenvoud tot jou gaan, soos uit diepe slaap ons drome soos teen skemerlug die bome opreik na die bloue maan; gaan met al sy donker wense, en die heil'ge nooitgehoorde dinge sê, waarvoor die mense huiwer, en wat om die grense flikker van my duister woorde. Van Wyk Louw het in 'n belangrike artikel, wat ons meteen die program en kort begrip van die nuwe kuns kan noem, die doel en strewe van die jongeres nader uitgewerk. (Die Rigting van die Afrikaanse Letterkunde, Die Huisgenoot, 5 Junie 1936). Die ou lewensvorm is by ons verbreek deur (1) die trek na die stede; (2) die verdwyning van die idilliese plaaslewe; (3) die klasverdeling. Ons worstel nou met presies dieselfde probleme as die Wes-Europeër, en die tydperk van ‘speel met moderniteit’ in die literatuur het verbygegaan. Die Afrikaanse gemeenskap is tans besig met die langsame oorgang van geestelike kolonie tot volk. ‘Ons moet nog daartoe kom dat ons volksliteratuur die spieël word van alles wat in ons omgaan. As Afrikaans by die tipiese, by die besondere wat altyd die onware is, bly, as hy by die lokale bly, dan is hy tot doodloop gedoem.... Alles, maar ook alles wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of smart maak, moet ook in ons literatuur sy neerslag kry. Ons mag nie meer terugdeins en sê dit is te gekompliseer vir ons eenvoudige beskawing, dit is te gewaagd of diepsinnig nie. Die Afrikaner is bloot moderne mens in 'n Afrikaanse omgewing.’ Hierdie stelling is, myns insiens, alleen waar van die boonste laag van ons samelewing. Die middelste laag het wel reeds veel van die tradisionele opvattings oor boord gegooi, maar is tans besig met 'n moeisame aanpassingsproses, terwyl die onderste laag nog kultureel onbewus is. Wie dus ons kulturele ontwikkeling nugter beskou, sal moet erken dat Van Wyk Louw se toekomsdroom van 'n nuwe letterkunde waarin ‘die begrip van 'n beperkte volkseienaardigheid (moet) verdwyn voor die begrip van volledige menslikheid binne 'n volksverband’ nie so gou sal verwesenlik word nie. ‘Hierdie nasie-wording,’ beweer hy, ‘moet {==41==} {>>pagina-aanduiding<<} in ons literatuur in hierdie geslag nog kom, anders kom hy te laat’. Maar in plaas van ons te verdiep in onvrugbare bespieëlinge oor wat die toekoms mag bring, is dit van veel meer belang om na te gaan hoe die jongeres oor die teenswoordige stand van ons letterkunde dink en wat hulle strewe is. Van Wyk Louw besef dat 'n letterkunde ‘sonder die ewige stootkrag van die volkswil en volksmart’ waardeloos sou wees, maar naas die gesonde volkskuns eis hy 'n plek op vir ‘die strengste persoonlike uiting van die universele belewing’. Die grondslag van die nuwe kuns moet wees ‘die eerlike, strenge deurdink van die moderne lewe, soos uit ons nasionale standpunt gesien, met behulp van die groot wysbegeerte van alle tye’. Die verhouding tussen man en vrou was tot nog toe slegs ‘'n kleinburgerlike sakie van vry en trou’. Teenoor hierdie ‘botte verswyging’ moet gestel word ‘die saaklikheid en eerlikheid van die moderne seksbelewing’. Ook C.M. van den Heever bestry die mening dat ‘net sekere kantjies van die menslike persoonlikheid uit die geheel gelig moet word en dat 'n groot deel van die mens se ervaringslewe daarom taboe is’. (Die Brandwag, 12 Junie 1937). Van Wyk Louw wys verder daarop dat 'n groot deel van die werkslewe van wit en swart nog nie in ons letterkunde uitgebeeld is nie; dat die naturel en die kleurling nog slegs as vyande of ‘simpatiek-humoristies vanuit die burgerlike standpunt’ beskrywe is, maar nog nooit as werklik lewende mense nie. Hy erken dat daar veel stigting en lering in ons letterkunde te vinde is ‘maar die groot godsdienstige poësie, die uiting van die mens se onmiddellike verhouding teenoor die Heelal, die gesprek van die mistikus met God asof hulle alleen teenoor mekaar staan in die oneindigheid - hierdie dinge kom nie in 'n lokale literatuurjie voor nie’. Hierdie nuwe lewenshouding sal natuurlik ook meebring 'n nuwe styl met 'n sterk persoonlike aksent: ‘Die skrywer moet alle toevalligheid van omgewing en stand van hom afstroop om alleen die essensiële te kan sê; hy moet hom teenoor sy onderwerp plaas asof hulle alleen in die wêreld was, en sy woorde moet eerlik wees soos sterfbedwoorde’. Op die gebied van die poësie het die jongeres reeds getoon dat hul dit nie by teoretiese bespieëlinge gaan laat nie. En ook in ons prosa klink daar sedert enige jare 'n nuwe geluid op by ons beste skrywers. Daar is natuurlik nog baie outeurs wat hul tevrede stel met 'n aaneenryging van gesellige anekdotes sonder enige lewensopenbaring, baie oppervlakkige realiste wat die werklikheidsbeeld nie tot simbool kan vergeestelik nie. Maar by die werklike kunstenaars kry ons 'n eerlike worsteling met die felle lewensprobleme, wat in die dramatiese verwikkeling en in die psigologie van die romankarakters tot 'n skone verbeelding groei. Van Wyk Louw meen dat daar reeds voorlopers van die nuwe prosakuns aangewys kan word. ‘By ou Datie in Droogte, hier en daar in Booia, en in Haar Beproewing, flikker 'n nuwe felheid wat 'n {==42==} {>>pagina-aanduiding<<} harder en kragtiger kuns voorspel.’ Reeds in 1929 egter, het P. de V. Pienaar met Skakels van die Ketting, waarin die geslagslewe van 'n ontwikkelende seun op die moderne ‘naakte’ wyse ontleed word, 'n rilling oor die land laat gaan. Dr. F.C.L. Bosman het dadelik gewys op die baanbrekende betekenis van hierdie werk: ‘Hierdie skrywer en uitgewer toon dat hulle gelukkig besef dat daar ook 'n ander lesende publiek bestaan wat lewenswaarheid en nie lewensvervalsing wil hê nie, en wat begryp dat jy die swere in die maatskaplike liggaam nie gaan genees deur dit te probeer doodswyg nie.’ (Die Huisgenoot, 24 Jan. 1930). Omstreeks 1933 kom die vernuwingsverskynsels in ons prosa nog beter aan die lig in die werk van C.M. van den Heever, Jonker en P. de V. Pienaar. Hierdie skrywers stel hul nie tevrede met knap vertelde gebeurtenisse of 'n interessante kopie van die werklikheid nie, maar by hulle vind ons lewenskonsentrasie en lewensintensivering in 'n heg geboude raamwerk. Deur skerp indringende analise openbaar hulle die innerlike lewe van hul karakters tot in die fynste skakerings. Uit die gewirwar van die daaglikse lewe gryp hulle die essensiële, en bou daaruit vir ons op 'n klare lewensbeeld. As ons die kortverhale en romans van hierdie skrywers vergelyk met die werk van die vorige periode, dan blyk daaruit duidelik hoe hulle nie meer tevrede is met die buitekantse dop van die lewe nie, maar dat hulle besig is om die interessante moontlikhede van die mens se binnewêreld te ontdek. By hulle tref ons aan nie slegs die deernis vir die armes en gesonkenes nie, maar ook die lewenskonflikte van die ontwikkelde, wat losgeruk is van die bodem waarin hy gegroei het en nou onseker rondtas na nuwe steunpunte in 'n vinnig veranderende maatskappy (Vgl. Groei en Kromburg). ‘Die raaisel van lewe en dood, die doel van ons bestaan, die lyding van die mensdom, die lewensmagte wat hul gedurig om en in ons openbaar, al dié dinge is brandstof vir die aangebore konflik-natuur, wat meer hou van 'n botsing as van 'n praatjie, meer van 'n waterval as van 'n gemoedelike stroom.’ (P. de V. Pienaar in Jaarboek 1936). Dadelik merk ons die ooreenkoms op tussen Pienaar se strewe en dié van Van Wyk Louw. Die jonger skrywers soek nie slegs na nuwe temas nie, maar hulle openbaar 'n heeltemal nuwe lewenshouding. Daar is 'n strewe na universaliteit, 'n bewuste poging om die groot kernprobleme van die lewe aan te pak, met totale verwaarlosing van alle onbelangrike bykomstighede. Die werklikheid is alleen van belang omdat dit 'n onderdeeltjie vorm van die visioen wat hulle gekry het op die lewensprobleem. Hulle streef ook nie daarna om die werklikheid ‘weer te gee’ deur 'n katalogusagtige opsomming van sy uiterlike verskyningsvorm nie, maar probeer om dwarsdeur die skyn te gryp na die kern. Hulle het veel geleer van die Na-Tagtigers deur wie se leier hierdie lewenshouding die beste geformuleer is: ‘De moderne dichter wantrouwt de natuur, de verschijning, de schijn, de huid der werkelijk- {==43==} {>>pagina-aanduiding<<} heid. Daarom doorboort hij haar, op zoek naar de kern. Hij neemt geen photo's van de uiterlijkheid, maar röntgen-photo's van het innerlijk organisme. Hij doorgraaft de opperlagen naar het verborgen goud. Hij is ontdekkingsreiziger met de reisdrift van Sven Hedin, en de scherpe zakelijkheid van een ingenieur. Hij verijlt niet in romantische fatamorgana, hij is ingesteld op de onmidlijke realiteit....’ (De Anatomische Les: H. Marsman). Die strewe na verinnerliking, die begeerte om die diepste roersels van die siel bloot te lê, kan ook opgemerk word in die werk van skryfsters soos Sophie Roux, T.C. Pienaar, Karin en Hettie Smit. Hulle het ons verlos van die klewerige sentimentaliteit en die oppervlakkige behandeling van die liefdesmotief in so baie ‘krymekaar’-verhaaltjies, en ons daaraan herinner dat daar in die liefde iets ewigs is, 'n krag tot veredeling, 'n drang wat tot geestelike ontplooiing lei. Sophie Roux verkondig in Wrede Grense opvattings oor die huwelik wat in die buiteland al lank onder die ‘bevryde’ vroue in omloop is, maar slaag beter in Fyn en Broos waar sy die ontluikende vrouelikheid van Tilde uitbeeld. Hettie Smit het ons verras deur 'n onopgesmukte, openhartige ontleding van die smart van die nie-begeerde vrou. Met 'n tot nog toe ongekende vrymoedigheid spreek sy die vroulike eie-aard van haar liefde uit in 'n fris, persoonlike styl wat tril van gepassioneerde hewigheid en soms snik van skrynende hartseer. Met haar ‘onrustige gespletenheid, die onvoldane twee-ding met die ewige innerlike debat’ sluit Hettie Smit aan by die individualisme van die jonger digters. Sy is een van die vroue van wie Nine van der Schaaf gesê het: ‘Wij dragen de sublieme oogenblikken van de droom, tot een intens besef van geluk en dood, mee in de grauwheid, de lust en de veranderlijkheid van het leven....’ Dit is nog te vroeg om nou reeds te voorspel dat die individualistiese rigting 'n kragtige vernuwing in ons letterkunde gaan te weeg bring. Ons het te doen met jong kunstenaars wie se ontwikkeling nog lank nie afgeloop is nie en nog baie verrassings kan oplewer. Daar is egter genoeg aanduidings dat by ons jong kunstenaars kragte aanwesig is, so streng persoonlik en suiwer, dat hul werk daarvan die merke sal moet dra. Naas die felle bewuswording van die verlangens van hul eie hart, naas die eensaamheidsgevoel, wat die modern ontwikkelde mens telkens terugdryf in die spelonk van sy eie siel, is daar by die jongeres 'n begrypende simpatie vir die node van hul volk, wat nou in so 'n kritieke oorgangsperiode worstel met al die probleme van die grootstadslewe. (Vgl. byv. Groei.) As ons let op al die tekens van die jongste tyd, dan kan ons saamstem met hierdie uitspraak van dr. I.D. du Plessis: ‘Ek glo dat die tyd van letterkundige popspelery in Afrikaans verbygaan; dat die skrywer nou sy mees intieme gewaarwordinge in onomwonde taal moet openbaar; en dat die bloedarmoede waaraan ons letterkunde ly, {==44==} {>>pagina-aanduiding<<} dan eers genees sal word wanneer ons 'n gespierde, volbloedige behandeling van lewenswerklikhede soos godsdiens, geslagsdrif en die geskiedenis kry in plaas van die verwaterde beskouings wat vandag nog gangbaar is.’ As hierdie ontwikkeling nog veel langer vertraag word, dan bestaan daar 'n groot gevaar dat ons intelligentsia heeltemal afkerig sal word van ons eie letterkunde. Langenhoven en sy medestanders het jarelank geesdriftige pleidooie gelewer vir ‘die arme sukkelaars op die nederigste onderste sportjie’. En heeltemal tereg ook. Maar die toestande het in die afgelope vyftien jaar so verander dat ons wel mag dink aan die mense op die middelste en boonste sportjie, daardie ontwikkeldes wat na meer as oppervlakkige verstrooiing soek. Jaar na jaar verskyn daar 'n groot aantal nuwe prosawerke, en die produksie neem sulke afmetings aan dat 'n mens amper kan praat van 'n ‘kunsnywerheid’. Wie egter 'n noukeurige studie maak van ons verhalende literatuur, sal moet erken dat die grootste gedeelte bestaan uit ontspanningslektuur van middelmatige gehalte. Daar word uitstekend gesorg vir die persoon van geringe ontwikkeling wat nie alte hoë eise stel nie. So groot is die verskeidenheid dat die gemiddelde leser dit moeilik sal vind om alles te lees wat elke jaar verskyn. Maar as ons nou soek na romans wat die vry ontwikkelde leser met genot kan lees, verhale wat werklik letterkundige verdienste het, dan sal dit miskien moontlik wees om uit die jare 1906-1936 'n lysie van twintig tot vyf-en-twintig op te stel - maar ook nie veel meer nie. Daar was maer jare wat so goed as niks opgelewer het vir die ontwikkelde nie, met die gevolg dat hierdie klas leser sy toevlug geneem het tot Engelse en Europese skrywers met wie hy 'n veel nouer geestelike verwantskap voel omdat in hul werk aanwesig is wat Van Leeuwen genoem het ‘de scherpe bezinning op tydsproblematiek’, die afkeer van alle uiterlike skyn en die strewe na openhartige opregtheid wat alle verdoeseling wil vermy. Die geskiedenis van ander lande leer ons dat fel individualistiese kuns gewoonlik die wegbereider is van 'n breër, monumentaler kuns. Ons weet dat party van die Tagtigers verdwaal het in yle onverstaanbaarheid, maar hulle het tog 'n erg noodsaaklike opruiming gehou van veel wat ouderwets en muf was. Tereg is daar op gewys dat hulle, ten spyte van oordrewe formulerings, tog die atmosfeer geskep het waarin goeie kunswerke voortgebring kan word. ‘Zij hebben de jeugd bevrijd van tal van belemmerende vooroordelen, zij hebben den moedigen geesten zelfvertrouwen en opgewektheid tot het werk gegeven; zij hebben het observatieveld van schrijvers en lezers vergroot; en zij hebben, een schoonheid, waarmede wij het contact al te zeer verloren hadden, haar aanzien en haar beteekenis voor mensch en menschengemeenschap hergeven.’ 1) Ons jong kunstenaars is besig met 'n soortgelyke taak, en {==45==} {>>pagina-aanduiding<<} ofskoon die meeste nog maar pas aan die begin van hul ontwikkeling staan, het hul ons alreeds iets gegee wat waarlik nuut is van toon, van onderwerp en van gees. Laat ons hierdie skoonheid met gejuig begroet sonder om ons te veel te bekommer oor die teoretiese standpunt van die skrywer, want die skoonheid het hom nog nooit veel gesteur aan standpunte of logiese formulerings nie. As die jongeres daarin kan slaag om die kontak tussen die ontwikkelde leser en die Afrikaanse letterkunde te herstel, dan verrig hulle 'n kulturele taak wat seker net so belangrik is as die voorsiening van lektuur vir onbevoorregtes. Enigsins voorbarig is myns insiens die ‘wrange aanklag’ en waarskuwings wat tans teen ons jongeres geslinger word. D.F. Malherbe verwyt die digters dat hulle besig is met ‘sentimentele getimtam van verbeelde liefdeswee’ terwyl die noodroep van die volk weerklink; E.C. Pienaar beweer dat ons rondsweef ‘in ekstatiese selfvertroeteling.... in die hoëre sfere van die sekelmaan en die sterre, totaal weg van die vaderlandse bodem hier benede’; en F.E.J. Malherbe waarsku teen ‘blote of bloedlose estetisisme’. Verstandiger is G. Dekker wat die kern van die saak saamvat: ‘Die kunstenaar is nie die gewillige perd wat ingespan kan word om die waentjie van (maatskaplike, politieke of ander) ideale te trek nie. Hy beeld slegs uit wat in sy siel lewe.’ Laat ons dus met dankbaarheid aanvaar die skoonheid wat elke kunstenaar volgens sy eie aard en innerlike ontwikkeling ons aanbied. Kuns is immers altyd persoonlike belydenis, en selfs in die sogenaamde gemeenskapskuns is die waardevolste element meestal die persoonlike gevoel. Verwyding van Motiewe. Ons het gesien hoe, as gevolg van verskillende oorsake, baie skrywers hulle in die besonder toegelê het op die armblankevraagstuk en by voorkeur bywoners of eenvoudiges wat op die laagste trap van beskawing staan, as hoofkarakters laat optree het. Oningewydes meen dikwels dat ons verhaalkuns grotendeels beperk is tot hierdie verarmde tipes. Niemand kan beweer dat die Afrikaanse werklikheid al volledig in ons letterkunde weerspieël word nie. Dit is ook 'n feit dat die sielelewe van die ontwikkelde pas in die afgelope jare 'n bietjie aandag ontvang het. Tog kan daar in hierdie tydperk gewys word op 'n verblydende verruiming van motiewe. Ek wil hier kortliks aandui hoe ons skrywers gaandeweg die veld van hul belangstelling uitgebrei het. Plaaslewe. Jochem van Bruggen en die ander skrywers oor die armblankes het hulle hoofsaaklik bepaal by die uitgeboerde boer wat deur gebrek aan {==46==} {>>pagina-aanduiding<<} aanpassingsvermoë of ander oorsake, 'n heenkome moes soek op die dorp of in die stad. Daardeur het die nadruk veral geval op die moeilike stryd om die bestaan en die worsteling met die natuurkragte. Die beste skrywers uit hierdie groep het 'n skerp waarnemingsvermoë, en hulle skilder die gewone dinge van die daaglikse lewe met groot liefde, terwyl hulle ook daarin slaag om die plattelandse mentaliteit te deurgrond. Hierdie realiste het hulle afgewend van die leuenagtige skynwêreld van die avontuur-roman, en wil ons die boer laat sien in sy daaglikse doening op sy landerye, by sy vee, onder sy volk en in sy huisgesin. Van Bruggen en Van Melle teken veral die Transvaalse boer, D.F. Malherbe die Bolandse wynplaas, Van den Heever en Jonker die Vrystaatse veeboerdery. Langenhoven en Helmüth Luttig het die opkoms en verval van die volstruisboerdery in die Kaapprovinsie geskets, en die Hobsons vertel van die veeplase in Graaff-Reinet. Van den Heever het daarop gewys dat by ons die liefde vir die grond vinnig aan die verdwyn is: ‘As ons sien hoe die Afrikaner vlug na die stede, vlug van die grond af, omdat hulle daar nie meer kan bestaan nie, dan vervul dit ons met angs, want daarmee word 'n deel van ons volkskultuur ondermyn.’ (Die Afrikaanse Gedagte.) Hy betreur dit dat ons skrywers die grond nie so liefhet as die Vlaamse skrywers nie, en na aanleiding van 'n beskouing van Stijn Streuvels vra hy ‘wanneer die Afrikaanse plaaslewe ook só geteken sal word, nie alleen in fyn trekke nie, maar in al die grootsheid van natuurperspektief.’ Van den Heever het self 'n antwoord op hierdie vraag gegee met sy novelle Somer (1935) waarin die essensiële verband tussen die onveranderlike aarde en die arbeidende mens so hartstogtelik ondergaan word dat karakterontplooiing en natuuragtergrond onafskeidelik saamsmelt. Die Arbeider. Naas die skildering van plaasarbeid vind ons nou ook pogings om ander terreine te bewerk. D.F. Malherbe het die hartstogtelike liefde vir die see en die kommervolle bestaan van die Bolandse visser uitgebeeld in een van sy beste romans, Hans-die-Skipper. A.D. Divine het ook by ons jeug belangstelling probeer opwek vir die see deur 'n verdienstelike avontuurverhaal, Die Seerower van Saldanha. Minder geslaag is die tekening van die Knysnase boswerker in Helmüth Luttig se Broers. Van Bruggen, P. de V. Pienaar en ander skrywers het mynwerkers, padwerkers en delwers as hooffigure in kortverhale laat optree. Ons staan hier nog maar aan die begin van 'n belangrike ontwikkeling, want deur die toenemende verstedeliking word steeds groter aantalle gedwing om 'n heenkome te soek in fabrieke en nywerhede. Hierdie nuwe gebiede sal wel eerlang deur ons skrywers ontdek word. {==47==} {>>pagina-aanduiding<<} Dorpslewe. Baie skrywers van kortverhale het die rustige bestaan van eenvoudige dorpenaars met simpatie en speelse geestigheid geteken. Hulle ken die gryse verveling, die gebondenheid aan roetinewerkies, die gemis van intellektuele omgang wat die lewe op verafgeleë dorpies vir baie fyngevoeliges so ondraaglik maak. Helen Blackmore het die vreugde en leed van die konvensie-vaste dorpenaar met 'n skalkse ironie uitgebeeld. Van den Heever laat ons in Kromburg sien hoe 'n fynbesnaarde vrou gemartel word deur geniepsige skinderpraatjies, en hoe haar pogings om die beskawingspeil te verhoog, skipbreuk ly deur kleingeestige teenkanting. Oom Wynie, die wandelende skinderkoerant van Kromburg, is een van ons besgeslaagde dorpsfigure. Besonder geestig is Leipoldt se verhaal Die Koei van die Weduwee Priem (Rooi Rotte). Ander skrywers het die oormatige belangstelling in politiek en die moeilikhede van 'n plattelandse dominee as motiewe gebruik (o.a. Kruger: David en Jonathan, Brewis: Marietjie). Grootstadslewe. Aanvanklik was hoofmotief: die verwording van die volkskarakter in die agterbuurte van die grootstad. Lub het al daarmee begin in 1908 in sy bundel sketse, Eenvoudige Mense. Uit 'n gevoel van deernis met eenvoudige siele, wat hul nie kan aanpas by die komplekse verhoudings van die stad nie, ontstaan baie sketse en verhale. Ons meeste skrywers is boerseuns wat op die plaas groot geword het en nog in hulle omdra die hunkering na die vlaktes ‘waar dit oop is en die hemel wyd daarbo....’ Daardeur het hulle 'n skerp oog vir die ellende van die plattelander wat nie kan aard in die stad nie. Van den Heever gaan 'n stappie verder in Groei, want hier toon hy aan hoe ook by die ontwikkelde die beste eienskappe versmoor in die stiklug van die goudstad. Gustav, 'n werklose joernalis, keer terug na die plaas, waar hy nuwe lewensvreugde vind in die geloof van sy voorvaders. Die neerdrukkende invloed van die stadsatmosfeer, waarin alles wat suiwer Afrikaans is, verbaster of te gronde gaan, wek by hom jeugherinneringe van die eenvoudige plaaslewe. Hy is 'n tipiese produk van die oorgangsperiode - die plaasseun wat nog vasgeanker sit in die ou tradisie en slegs toevallig stadsbewoner geword het. Tans groei daar egter 'n geslag op van gebore stedelinge by wie ons glad 'n nuwe lewenshouding mag verwag. Ons het reeds gesien hoe die digters van die jonger generasie 'n veranderde mentaliteit openbaar, en daar is aanduidings dat dieselfde tydsklanke ook sal deurklink in ons verhaalkuns. In die kortverhale van C.M. van den Heever, Léon Maré, Abel Coetzee, P. de V. Pienaar en in 'n novelle van M. Conradie word verskillende kante van die stadslewe belig. Dit is egter waar dat {==48==} {>>pagina-aanduiding<<} hul aandag nog ‘merendeels in beslag geneem word deur die kleinpatetiese’, dat hulle 'n lewensgevoel openbaar ‘wat bevange is in klein realistiek, wat by voorkeur verwyl by die teenstellings in die stad van ryk-arm en die patetiese van verarmde en verkommerde bestaan’. (F.E.J. Malherbe, Die Huisgenoot, 20 Nov. 1936). Die benouenis van die grootstad-lewe het Abel Coetzee aangegryp; hy het ondervind hoe ‘die afgemete perke van die samelewing jou laaste krieseltjie siel genadeloos vasdruk tussen al die reguit strepe’. In die ritmiese geklop van die goudstampers hoor hy ‘die polsslag van 'n benoude hart’, en dit voel vir hom ‘asof die gees van die Goudstad in al sy naakte dierlikheid op my afstorm om die lewe in my te vergruis’. (Skimme van die Goudstad.) Hierdie gees van die Goudstad sal nog 'n belangrike rol in ons verhaalkuns speel, want ongeveer een-vyfde van ons bevolking woon tans op die Rand. Godsdienstige motief. Die stryd tussen kinderlike geloof en geleerde twyfel is natuurlik een van dié groot moeilikhede van die moderne jongmens. Postma het die vraagstuk aangeroer in Hy het sy merk gemaak, Malherbe het in Loutervure die feit beklemtoon dat kultuuropbou sonder godsdiens as fondament waardeloos is, en die sentrale tema van Jurg Vaber se Moderne Jongmense is ‘die onmag van die kerk teenoor die geleerde jongmense van vandag’. Oom Bêrend vind 'n oplossing vir al die moeilike volksprobleme in die lewensbeskouing van die Voortrekkers: ‘Hulle krag was God. Julle het vandag nie meer ankerplek nie met al julle slimmigheid en al....’ (Groei). In Kromburg soek Wenda ook na geluk langs die ou paaie, wat sy in haar jeug bewandel het. Maar sterker is by haar die ‘drang na die ongebondene, die vrye uitlewing van haar hele wese’, en ofskoon sy berouvol terugkeer, voel sy tog dat sy die prooi was van 'n donker noodlot wat haar ‘ongeneeslik geslaan’ het. Die Calvinistiese lewensbeskouing is nog maar skraal verteenwoordig in ons prosakuns. Daar is aanduidings dat party van die jonger skrywers opvattings huldig wat in die naaste toekoms 'n ernstiger en bewuster poging om uitdrukking te gee aan die Calvinistiese beginsels noodsaaklik sal maak. Ek wys onder andere op die moderne uitleefdrang en beskouings oor die liefde en huwelik soos aangetref by Sophie Roux; verder op die noodlotsidee in Kromburg. Die reaksie op hierdie denkbeelde, wat in stryd is met die godsdienstige beginsels van ons volk, sal seker nie uitbly nie. In Malherbe se drie historiese romans, Die Hart van Moab, Saul die Worstelheld, en Die Profeet, vind ons 'n herskepping van Bybelse gestaltes wat die skrywer aan die Afrikaanse volk voorhou as rigsnoer vir die toekoms. Nêrens word daar 'n direkte toepassing op {==49==} {>>pagina-aanduiding<<} Afrikaanse toestande gemaak nie, maar telkens straal die ooreenkoms tussen Palestina en Suid-Afrika deur. Malherbe soek na die oorsake van volksgroei en volksverval, en by die bepeinsing van Israel se lot dink hy steeds aan sy eie volk wat ook ‘'n nasie met verkeerde planne’ is. Soos Totius in ons digkuns, het Malherbe hier op prosagebied 'n skone vertolking gegee van die Christelike ideale wat leef in die hart van die nasie. Uit literêr-historiese oogpunt is hierdie siklus van belang omdat daarmee die moderne historiese roman sy intree in ons letterkunde doen. Liefde en Huwelik. Die skrywers van die vorige periode het al gepoog om die liefdesverhouding te vergeestelik. (Vgl. § 11.) Tot die verlede behoort nou die konvensionele liefdesverhaaltjie met sy oppervlakkige sentimentaliteit en kry-mekaarslot. Karin het vir die eerste maal in ons letterkunde 'n roman oor die liefde geskryf wat ons laat besef dat daar in die liefde iets ewigs is, wat nie slegs as 'n vleugie sentimentaliteit of oppervlakkige sinlikheid in die lewe van twee minnende mense geopenbaar word nie, maar inderdaad sterker as die dood is. Natuurlik kry ons die oue en die nuwe nog langs mekaar. Ek haal hier aan twee fragmente waartussen slegs 'n tydperk van vyf jaar lê: Ben is die minnaar uit Lulu Brewis se Marietjie (1932). ‘Die minnekoors verteer hom, liggaam en siel. Hy is sy geestesewewig alreeds so ver kwyt geraak dat hy deur sengende jaloesie gemartel word....’ Op 'n roeitoggie het hy haar gered van 'n val: ‘Die onverwagte omhelsing het 'n opwelling van oorstelpende liefdesvuur by Ben aangewakker, en die prikkelende skoonheid van die towerlandskap in die volle maanligglorie help om sy laaste greintjie logika en wilskrag te oorrompel.... Marietjie, ek kan dié sielsmarteling tog nie langer verduur nie. Ek moet nou eenmaal 'n einde maak aan dié onsekerheid. Marietjie, ek het jou lief met 'n hartstogtelike liefde soos ek nog nooit voorheen geken het nie.’ ‘Haar oë sak, en haar vingers pluk krampagtig aan die kantsakdoekie in haar skoot. Marietjie kan geen woorde vind by so'n allesoorweldigende geleentheid nie. Ben se stem klink hees van aandoening. Liefste Marietjie, is daar dan geen hoop dat ek miskien eendag ook by jou 'n wederkerige liefdegloed kan opwek nie?’ ‘Deur die stille aandlug kom uit die verte, nouliks hoorbaar, die sagte ritmiese melodie van 'n wals - Die Blou Donou van Strauss.’ Byna orals word die visie hier enkel retoriek. Die skryfster het nêrens die moeite gedoen om na eie verbeelding te soek nie, maar eenvoudig die gebruiklike cliché oorgeneem. Daarby is die dialoog houterig, en die beeldspraak vals. As ons nou hiermee vergelyk fragmente uit Hettie Smit se liefdesdagboek, Sy kom met die Sekelmaan (1937), dan merk ons meteens 'n {==50==} {>>pagina-aanduiding<<} verandering van gees, wat hom openbaar in die styl en in al die besonderhede: ‘Jou hande is vol betekenis, en jou oë is my so bekend. Jou stem het partymaal die innigheid van 'n motreëntjie in die skemering. Ek wens jy was nou meteens hier om met jou stem en 'n eie versie 'n reënboog oor my dag se vaalte te span....’ ‘Liewe Heer, - Ag, neem my asseblief tog maar weg, want Johan het my nie lief nie. Hy kan nie onthou dat ons twee eenmaal saam anderkant die sterre en die maan by die blink water waar die rooi voëltjies fluit, gewoon het nie. En hoe sal ek tog aanhou sonder Johan?....’ Hettie Smit skrywe oor 'n mens, nie oor 'n dame nie. Sy gee 'n onopgesmukte, eerlike ontleding van die leed van die nie-begeerde vrou. In Wrede Grense en Verlate Vlaktes word die huweliksprobleem behandel. Sophie Roux beskou die huweliksband as 'n onregverdige inperking van die persoonlike vryheid van die individu. In teëstelling hiermee laat T.C. Pienaar haar hoofkarakter in Verlate Vlaktes na 'n innerlike stryd uiteindelik rus vind in 'n kinderlike oorgawe aan Gods wil. Haar sondige liefde lei tot 'n geestelike hergeboorte, en sy begryp ‘dat geluk nie kan gesoek word nie, of deur begeertedwang gedwing word nie...’ Sophie Roux verheerlik die allestrotserende liefde van die vrou as haar edelste eienskap. Daarom pleit sy ook vir die ongehude moeder wat slegs gesoek het na die vervulling van haar heiligste instink en nie behoort bloot te staan aan smaad en hoon nie. Suiwer het sy uitgebeeld die ontluikende vroulikheid van Tilde in Fyn en Broos. Hierdie skryfsters openbaar meer erns en lewenservaring as Marie Linde wat so liggies heenskaats oor allerlei sake van die hart. Dink maar aan die ligsinnige Dina (uit Dina en Lalie) wat op 'n grondslag van bedrog haar huweliksgeluk bou en dan met die romantiese dweepsug van 'n bakvissie dink: ‘In die toekoms sal sy 'n vrou met 'n verlede wees, nie 'n stemmige ou-jongnôi soos juffrou Greef nie.’ Dat duursame lewensgeluk haas onbereikbaar word wanneer man en vrou tweërlei volksideale aanhang is die tema van Kind van die Veld en Bodemvas. Regina Neser skets in Die Verstoteling die lewensloop van 'n gevalle vrou, en behandel in Kinders van Ismael die skokkende nasleep van rassevermenging. Die tragiese lot van die ‘blanke’ kleurling kom egter nie tot sy reg in hierdie bioskoop-roman nie. Kleurlinge en Naturelle. Von Wielligh het reeds in 1918 belangstelling getoon vir die gewoontes en taal van Hottentotte en Griekwas, maar hy het nooit deurgedring tot die kleurling se innerlik nie. (Vgl. Jakob Platjie.) Hy het ook 'n deeglike studie gemaak van die gewoontes en eienaardighede van die Boesmans, en hul oorleweringe byeengebring in die interessante versameling Boesmanstories. In baie ander verhale is die bediendes slegs vlugtig geteken, {==51==} {>>pagina-aanduiding<<} en ook in toneelstukke het hulle meestal opgetree alleen om die laglus op te wek. 'n Uitsondering was D.F. Malherbe, wat die geaardheid van die Bolandse Hottentot so goed deurgrond het in Die Meulenaar. Daarna het ook Van den Heever volk laat optree in 'n paar lewendige toneeltjies (Somer). In 1930 het die Hobsons die swerwende leefwyse van die Boesmans beskrywe in Skankwan van die Duine. Ofskoon hierdie verhaal ons 'n interessante kykie gee op die Boesman-mentaliteit, val die nadruk tog op hul avontuurlike bestaan. Van Bruggen se Booia (1931) en Mikro se Toiings (1934) en Pelgrims (1936) het iets nuuts gebring omdat hierdie skrywers die naturel en kleurling nie slegs terloops as blote aanhangsels van die blanke beskawing geteken het nie, maar as hooffigure om hul eie ontwil. Die Kaffers en kleurlinge in hierdie verhale lewe; hulle is nie net verkapte witmense wat kromtaal praat nie. Hulle word ook nie uit die hoogte as ‘swart skepsels’ beskou nie, maar die skrywers het hulle simpatiek ingelewe in die dink en gevoelswêreld van hul karakters. Ander skrywers het voortgegaan in hierdie rigting, en veral Schoeman het ons mooi brokstukke gegee ‘uit die magtige Zoeloe-epos wat wag op 'n vertolker’. Melding kan ook nog gemaak word van Kootjie van den Heever se verhaal Wraak in Vlugtige Skaduwees, Friedenthal: Die Wagter van die Koning se Beeste, en Leipoldt: Oorblyfsels in Rooi Rotte. Jag- en Dierverhale. Van die vroegste tyd af het ons voorouers jag gemaak op wilde diere, en deur die gedurige rondtrekkery in woeste streke het hulle die geleentheid gehad om die lewe van groot- en kleinwild van naby te bestudeer. Tallose jagverhale het van mond tot mond gegaan totdat Von Wielligh hulle versamel het in 'n voorlopige bundel in 1907. Later het hy sy werk uitgebrei tot die bekende Dierestories (I-IV). In hierdie stories leer ons die Hottentot ken as 'n baasverteller. Die pionierswerk van Von Wielligh is voortgesit o.a. deur Vaughan: Ou Hendrik z'n Stories (1910), J.F. Cillie: Herinneringe uit die Jagveld (1922), Seymore: Outa Danster en Aia Martha (1931), Friedenthal: Ondank is die Wêreld se loon (1931), Nukkebol Reinard (1936) en C.J. Grové: Jakkals se Strooptogte (1932). So gewild is hierdie verhale dat talryke vertalings uit Engels en Duits verskyn het (Chadwick, Bonsels en Aschenborn). Hierdie vertellers van jagervarings het baie interessante leesstof gelewer vol spannende avonture en vermaaklike anekdotes. Met Sangiro se verhale word 'n nuwe periode ingelui. 'n Leeu is vir hom nie alleen ‘'n aantreklike wit’ en ‘na 'n goedgeslaagde skoot.... 'n stuk dooie vleis’ nie, maar in elke leeu sit ‘'n fyn georganiseerde lewe.... 'n persoonlikheid in sy soort ruim so interessant as dié van die mens’. Sy {==52==} {>>pagina-aanduiding<<} liefde vir die diere maak hom die digterlike vertolker van al hul emosies en instinkte. Hy beeld die dier om sy eie ontwil uit en die mens tree in sy verhaal alleen op voorsover hy invloed het op die dier se gedrag. Soos Sangiro vir ons die gees van die oerwoud vertolk het, so het die Hobsons ons 'n visioen gegee van die Kalahari met sy swerwende Boesmans en sy troppe groot- en kleinwild, 'n visioen waarin mens en dier en landstreek samegevleg is tot 'n ondeelbare eenheid. Schoeman is net soos Sangiro die ridderlike jagter wat sy slagoffer met begrypende simpatie betrag. Dit stel hom in staat om ons 'n blik te gee op die tragiek, humor en ironie van die dierelewe. Belangrik is ook die bydrae tot ons kennis van diere wat Eugène Marais gelewer het. Sy standpunt is meer dié van die wetenskaplike, maar Die Siel van die Mier bevat soveel interessante besonderhede uit die lewe van diere, soveel verrassende meedelings oor die wondere van die natuur, dat dit as een van die merkwaardigste boeke in Afrikaans kan beskou word. Spookstories. Reenen van Reenen het reeds in 1919 en 1920 twee bundels spookstories geskryf in die trant van Edgar Allan Poe. Terwyl Poe egter die kuns verstaan om deur allerlei suggestiewe besonderhede 'n dodelik beklemmende atmosfeer te skep, noteer Van Reenen alleen die geheimsinnige feit. Leipoldt en Langenhoven maak albei gebruik van die tradisionele spook-apparaat, maar gee aan hul verhale 'n suiwer Afrikaanse atmosfeer. Volgens eersgenoemde moet die skrywer van 'n goeie spookstorie ‘'n indruk van gespanne angs en kriewelrige nuuskierigheid wek’. Langenhoven se spookgedaantes is nie willekeurig uitgedagte verskrikkinge nie, maar dolende geeste met menslike eienskappe. Hy het hom vererg oor die ‘onnosele verspottigheid’ van die gewone spook, wat nooit ‘'n redelike oogmerk’ het nie. Eugène Marais, Serfontein, Marie Linde en I.D. du Plessis het ook verdienstelike werk in hierdie genre gelewer. Ons spookstories het egter nog nie uitgestyg bo die peil van ontspanningslektuur nie. Dis alleen Langenhoven en Leipoldt wat tot dusver iets hoërs bereik het. Historiese motiewe. Ofskoon die Wêreldoorlog met sy droewige nasleep gedurende 'n reeks jare ons eie worstelstryd tot 'n nietigheid laat verbleek het, leef nog sterk die besef dat in die Tweede Vryheidsoorlog die grondslae van ons nasie gelê is en dat die optekening van persoonlike herinneringe en die {==53==} {>>pagina-aanduiding<<} versameling van boustowwe vir die toekomstige historicus 'n nasieplig is. In hierdie periode het ons die herinneringe gekry van Slegtkamp, genl. Muller en ds. A.P. Burger. Sommige skrywers het met behulp van dokumentêre gegewens historiese gebeurtenisse in aantreklike verhaalvorm verwerk. Dr. J. van Bruggen het byvoorbeeld uit die opgetekende ervarings van ongeveer vyftig persone 'n samevattende beeld gegee van die lyding en ontberinge van vroue en kinders in die konsentrasiekampe (Bittereinders). Ongelukkig het ons nog steeds geen samevattende geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog nie, wat veral ons jongmense kan aanspoor tot groter belangstelling in die volksverlede. Drie biografieë van belangrike historiese figure het in hierdie periode verskyn: Louis Botha deur dr. F.V. Engelenburg (1928), Thomas François Burgers deur dr. S.P. Engelbrecht en Andries Pretorius deur dr. G.S. Preller. Deur die eeufees van die Groot Trek is die belangstelling van die hele volk tans gekonsentreer op die Voortrekkers, en ons kan verwag dat meer studies oor hierdie periode die lig sal sien. Van besondere kultuur- en literêr-historiese waarde is die persoonlike herinneringe van leiers in die taalstryd soos De Waal en Langenhóven. De Waal het ook in Die lewe van David Christiaan de Waal die beskawingsgeskiedenis van 'n hele tydperk (1845-1911) geskrywe en daardeur 'n skat kultuur-historiese gegewens vir die nageslag bewaar. Die pogings van ons skrywers om ons historiese verlede in romanvorm te herskep, het nog geen werk van uitstaande betekenis opgelewer nie. Galgsalmander van Leipoldt is 'n breeduitgewerkte sedeskildering van die periode net voor die Groot Trek. Anna de Villiers het 'n poging gedoen om die lewensideale van drie geslagte (1882-1927) uit te beeld in Sterker as die Noodlot. As historiese romans beskou, is hierdie twee werke egter 'n mislukking. In 'n Wiel binne-in 'n Wiel deur Miemie Louw-Theron, waarin die periode 1896-1902 behandel word, is die mensbeelding swak en die tegniek verouderd. Alleen D.F. Malherbe het met sy drie Bybelse romans in hierdie genre werk van hoë gehalte gelewer. Die verhouding tussen Afrikaners en Engelse, en die kultuurstryd word behandel in Bodemvas en Loutervure. Besonder verblydend is die feit dat ons historiese belangstelling, wat in die verlede byna uitsluitend tot staatkundige en literêre onderwerpe beperk was, tans ook die beeldende kunste, musiek en boukuns omvat. Met die waardering van ons Afrikaanse skilders is dit nog maar treurig gesteld, en dr. A.C. Bouman het 'n kultuurdaad van groot betekenis verrig deur die samestelling van 'n reeks karakteristieke van ons vernaamste skilders. Op die gebied van literatuurgeskiedenis het daar 'n hele reeks belangrike werke verskyn. Ons jonger literatore wy tans hul aandag aan skrywers {==54==} {>>pagina-aanduiding<<} uit die Hoog-Hollandse tydperk, wat in die hitte van die taalstryd nie veel belangstelling kon geniet nie. Dr. F.C.L. Bosman het die geskiedenis van ons drama en toneel vanaf die vroegste tyd ondersoek, dr. E. Conradie het ons 'n wetenskaplike oorsig gegee van die letterkundige produksie tussen 1652-1875 en dr. Anna de Villiers het die stryd vir die erkenning van Hollands vanaf 1795 behandel. Ander ondersoekers het ook begryp dat die wortels van ons beskawing in die Hoog-Hollandse tydperk lê en daaraan het ons studies soos dr. G.S. Nienaber: Honderd Jaar Hollands in Natal, en dr. P.J. Nienaber: D'Arbez as Skrywer te danke. Dr. F.C.L. Bosman het gewys op die dringende noodsaaklikheid van hierdie ondersoek in die voorwoord van Drama en Toneel in Suid-Afrika (1928): ‘Twee dinge het ons jong Afrikaanse kultuur broodnodig: 'n grondige, diepgaande beskawingsgeskiedenis van ons Dietse verlede, 'n deeglike, volledige geskiedenis van Dietse letterkunde in Suid-Afrika. Om die paaie wat na die toekoms voer, te sien, moet 'n mens die paaie ken wat uit die verlede kom. Die verlede is die anker van die hede, maar die kompas van die toekoms.’ 'n Ander belangrike bydrae tot die kennis van ons Dietse verlede is die proefskrif van dr. S.J. du Toit oor ons volkspoësie. Dr. G. Dekker het 'n beknopte literatuurgeskiedenis vir skoolgebruik geskrywe waarin beide die Eerste en Tweede Afrikaanse Bewegings behandel word. Die belangstelling in ons wordende literatuur het tans die stadium bereik waarin daar 'n aanvraag bestaan vir studies oor skrywers en besprekings van letterkundige kwessies. Hierdie aanvraag is in hoofsaak geskep deur eksamen-eise, maar daar is tog aanduidings dat dergelike bundels langsamerhand besig is om 'n taamlike afsetgebied te verower by ons kringe van ontwikkeldes. Die intelligente leser konsentreer nou nie meer uitsluitlik op belletristiese werk nie, maar sy belangstelling omvat 'n veel breër terrein. Langsamerhand verskyn daar Afrikaanse geskrifte oor elke afdeling van die wetenskap (vgl. b.v. die Annale van die Universiteit van Stellenbosch), en wanneer die breë volkslae 'n voldoende ontwikkelingspeil bereik, sal die werk van ons geestelike voortrekkers meer erkenning vind. Die Kortverhaal. Reenen van Reenen het reeds in 1919 en 1920 twee bundels kortverhale gepubliseer waarin hy Edgar Allan Poe probeer navolg het. (Celestine en Verborge Skatte). Maar ofskoon ons tydskrifte jarelank gevul is met kortverhale, plaassketse en jagverhale het dit tot omstreeks 1932 geduur voordat ons beste skrywers hul ernstig gewy het aan die beoefening van hierdie kunssoort. In 1931 het verskyn In die Gramadoelas, in 1932 Simson, in 1933 Bande, in 1934 Vuurvlieg en Sterre en {==55==} {>>pagina-aanduiding<<} Ruth, in 1935 Najaar en in 1936 Magte. Deur die beste werk uit hierdie en ook ander bundels het ons kortverhaal uitgestyg bo die peil van middelmatigheid. Die bloemlesings deur 'n paar uitgewers saamgestel uit hul eie uitgawes laat geen reg geskied aan die ontwikkeling van die kortverhaal nie. As daar geen beperking van outeursregte was nie, sou dit moontlik wees om 'n twintig- of dertigtal te kies wat as heeltemal geslaagde kunswerke kan beskou word. 'n Groot gedeelte van ons kortverhale is egter slegs knap joernalistiek of ontspanningslektuur. By baie skrywers ontbreek die sentrale hoofgedagte, die unieke of enkelvoudige effek wat Poe as vereiste gestel het. Dr. F.E.J. Malherbe se handleiding, Die Kort-verhaal as Kunsvorm (1929), het veel daartoe bygedra om allerlei wanbegrippe omtrent hierdie genre op te ruim en dit ly geen twyfel dat daar 'n opmerklike styging waar te neem is in die gehalte van die kortverhale wat tans in ons tydskrifte verskyn. 1) Die Afrikaanse Bybel (1933). Die Genootskap van Regte Afrikaners is in 1875 opgerig as gevolg van 'n versoek om 'n Afrikaanse Bybelvertaling. Dit het agt-en-vyftig jaar geduur voordat hierdie grootse taak kon voltooi word. Noudat ons afskeid geneem het van die Nederlandse Statebybel is dit nie ongepas om kortliks te herinner aan die groot invloed wat die Statevertaling op die ontwikkeling van ons taal gehad het nie. Dr. G. Kalff het reeds daarop gewys dat dit as monument van taal-eenheid sy gelyke in die Nederlandse letterkunde nie het nie, dat dit deur sy taalsuiwerheid, die krag en die sobere verhewenheid van sy styl op die ontwikkeling van die Nederlandse taal 'n ontsaglike invloed uitgeoefen het. ‘Geen boek immers is onder ons volk zooveel gelezen in alle standen en kringen, door oud en jong; door dien bijbel is onze taal langzamerhand verrijkt met tal van beelde en vergelijkingen, eigenaardige woorden en wendingen, wier uitheemschen oorsprong velen niet eens vermoeden; die bijbel eindelijk heeft onze krachtige stamverwanten in Zuid-Afrika op hunne tochten vergezeld, heeft hun taal in stand gehouden, is een band gebleven tusschen hen en ons.’ (Ges. der Nederlandsche Lett. V). 1637 - 1875 - 1933 - Hierdie drie datums herinner ons aan gebeurtenisse wat vir ons beskawingsgeskiedenis van die uiterste belang is. Die Statebybel het nie alleen die band met die stamland bewaar nie, maar ook ons Voortrekkers in staat gestel om 'n nuwe beskawing te stig te midde van 'n barbaredom. Die Afrikaanse Bybel sal ongetwyfeld, net soos die Nederlandse State- {==56==} {>>pagina-aanduiding<<} vertaling, 'n weldadige en vèrreikende invloed op ons prosakuns uitoefen. Ook in die Engelse letterkunde van die afgelope driehonderd jaar kan ons die invloed van die Bybel naspeur van Milton tot by Bernard Shaw, en tereg het Thackeray verklaar: ‘It is in everything we see, hear, feel, because it is in us, in our blood.’ Gelukkig is ons Bybelvertaling nie onderneem aan die begin van die Tweede Beweging nie, toe selfs ons beste skrywers nog geworstel het met 'n weerbarstige taalmaterie. Die taak is uitgevoer nadat Afrikaans 'n veredelingsproses deurgemaak het, nadat daar feitlik eenstemmigheid bereik is oor wat as algemeen beskaafd moes beskou word. Dis miskien te gou om nou reeds 'n finale oordeel oor die Afrikaanse Bybelvertaling uit te spreek, maar ons kan tog veilig konstateer dat die verhewe eenvoud, statigheid en gewyde erns van sy styl 'n heilsame invloed op die ontwikkeling van ons prosa sal uitoefen. Die Bybelvertaling sal ons in staat stel om met fyner onderskeidingsvermoë die gevoelswaarde van volksuitdrukkings en gesegdes te beoordeel, want dit gebeur nog te dikwels dat ons godsdienstige verrigtinge ontsier word deur plat taal, wat wel tipies-Afrikaans mag wees, maar tog nie pas in die gewyde atmosfeer nie. Ek herinner my hoedat 'n prediker 'n twintigtal jare gelede ewe ernstig kon uitroep: ‘Broeders en susters, ons moet vanaand die ou duiwel opdons tot in die populierbos!’ So bont sal geen kanselredenaar dit vandag wel maak nie, veral as hy die Afrikaanse Bybel as toetssteen van goeie smaak en suiwere styl gebruik. Met hoeveel sorg die taaladviseurs hul moeilike taak verrig het, blyk uit onderstaande woorde van dr. S.P.E. Boshoff, waarin ook die invloed van die Statevertaling beklemtoon word: ‘Aan moeilikhede het dit ook vir die taaladviseurs nie ontbreek nie, inteendeel hulle was legio. Dikwels was dit b.v. maklik genoeg om uit te maak wat om in 'n bepaalde geval in Afrikaans te sê, en tog kon dit nie klakkeloos so neergeskrywe word nie. Enersyds moes houterige deftigheid en andersyds alte gemeensame natuurlikheid en platheid vermy word op gevaar af van 'n kleurlose resultaat te verkry. Daarby moes, sonder om die frisheid van die Afrikaanse volkspraak en die oorspronklikheid van die eie beeldspraak geweld aan te doen, enigsins rekening gehou word met wat die Afrikaanse volk nou eenmaal in sy Hollandse Bybel aan gewoon was, aan wat in Bybelse woordkeuse, segswyse en spreekwoordelike taalvorme tradisioneel geword het. Teenstrydige uiterstes van taalgebruik en smaak moes veelal met mekaar versoen word. Dit was nie uitsluitend 'n saak van kennis van Hebreeus en van Grieks nie, selfs nie in die besonder van Afrikaans nie, maar heel dikwels 'n kwessie van goeie smaak. En tog moes gedurig voor oë gehou word dat die Bybel 'n volksboek is en behoort te wees, 'n boek wat vir almal in taaluiting {==57==} {>>pagina-aanduiding<<} toeganklik moet wees, en dat dit nie in die eerste plaas vir 'n afgeleefde geslag wat met die Hollandse Bybel grootgeword het, vertaal word nie, maar veral vir die jonger geslag wat dit as 'n eie nasionale erfenis moet aanvaar.’ 1) Dat die groot betekenis van die Bybelvertaling en Psalmberyming ook deur die volk besef word, het geblyk uit die treffende hulde wat betuig is aan die digter Totius by geleentheid van sy sestigste verjaardag. Tereg het die redakteur van Die Volksblad daarop gewys dat die Totius-fees 'n belangrike gebeurtenis in ons kultuurgeskiedenis is: ‘Vir die eerste maal het ons volk as geheel hulde gebring aan een van sy nasionale digters, en wel 'n tasbare hulde wat sterker spreek as woorde. So iets was totnogtoe onbekend onder ons. Die Afrikaners het voorheen plase, motors of beeste present gegee aan politici.... Nou wend die volk hom tot blywender waardes in die volkslewe, tot die innerlike lewe wat deur geen lotswisseling of veranderde omstandighede kan aangetas word nie, tot die dinge wat sal bly staan wanneer die politiek en sy bedrywers vergete is.... Dit toon wel dat daar by ons volk 'n verskuiwing van sy waardebepaling intree, in die rigting van dieper waardering vir sy geestesgoedere, waarvan die staatkundige nasionalisme slegs die draer en beskermer is, terwyl ons digters en ander geestelike leidsliede die skeppers daarvan is.’ 2) {==58==} {>>pagina-aanduiding<<} Hoofstuk II. Polemiese Prosa. ‘Ik houd van woorden, die op mij neêrbonken als vallende balken, van woorden, die mij voorbijsissen als kogels’, sê Lodewijk van Deyssel. Sulke woorde van ‘roode gramschap’ en ‘gele spotternij’ sal in die volgende oorsig telkens aangehaal word met die doel om daarop te wys, dat enkele van ons strydskrifte oor die taalkwessie, nie alleen van historiese, maar ook van letterkundige belang is. Hier word dus geen gedetailleerde geskiedenis van die taalstryd gegee nie - dit het dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie gedoen 1). Met die oprigting van die tydskrif, De Goede Hoop, in Julie 1903 onder redaksie van adv. J.H.H. de Waal, 'n algemeen erkende voorstander van Afrikaans, wat al sedert 1897 bydraes in dié taal gelewer het in Ons Land 2) kry die Tweede Beweging vaste vorm. As eindpunt van die taalstryd kan beskou word 8 Mei 1925, die dag waarop albei Huise van die Parlement die regte van die Afrikaanse taal finaal en volledig erken het. Wat ds. N.J. Brümmer in 1909 gesê het geld ook tans nog: ‘Dit is wel waar, dat so nou en dan nog een of ander Rip van Winkel uit syn slaap opflikker en teen Afrikaans uitvaar, maar dit is maar die stuiptrekkinge van 'n slang wat swaar vervel.’ 3) In die twintigjarige stryd het daar 'n groot aantal polemiese geskrifte verskyn, aanvanklik in Hoog-Hollands weens die groot vooroordeel teen die moedertaal, maar later meestal in Afrikaans. Reeds in die tweede nommer van De Goede Hoop 4) moet De Waal ‘'n geachte correspondent uit Stellenbosch’, wat gekla het oor ‘te veel Afrikaansch’ daaraan herinner, ‘dat Kaapsch-Hollandsch bij velen bijval vindt en hoe langer hoe meer als selfstandige taal erkend wordt.’ By sulke kalme teregwysings het dit natuurlik nie gebly nie en De Waal het later onder die skuilnaam Jan van Rozenburg die teenstanders meer as een kopstoot gegee. Twee jaar later, op 19 April 1905, begin die stryd ook in Transvaal, {==59==} {>>pagina-aanduiding<<} wanneer Gustav Preller sy reeks artikels Laat 't Ons Toch Ernst Wezen in De Volkstem publiseer. Dit is 'n kloeke, goedgedokumenteerde manifes, wat met onverbiddelike logika al die argumente van die teenstanders ontsenu en as gevolg gehad het die stigting van Die Afrikaanse Taalgenootskap, op 13 Desember 1905. In Julie 1905 word Preller se artikels met weglating van die eerste gedeelte en voorsien van 'n nuwe inleiding in brosjurevorm uitgegee, met die ondertitel: Gedachten over de aanvaarding ener Afrikaanse Schrijftaal. 1) Afgesien van die historiese betekenis van Preller se brosjure verdien dit, ofskoon nog in Nederlands opgestel, ook uit letterkundige oogpunt 'n ereplaas onder die polemiese literatuur van die Tweede Beweging. Met 'n forse stem verkondig hy die waarhede, wat vandag so vanselfsprekend lyk, maar sestien jaar nodig had om algemeen ingang te vind. In die polemiek van dié jare klink daar uit meer as een artikel 'n warme oortuigingsdrang op. Met die stryd vir die vereenvoudigde spelling (1904) het dit krioel van spellingdeskundiges en nou was weer iedereen filoloog! ‘In ons vaderland kan het gebeuren dat uw schoenmaker meer theologiseert dan uw zoon, die student is in de theologie,’ sê Allard Pierson in Intimis. Lees mens filologie in plaas van teologie, dan was dit presies ons toestand. Onder al die dilettante-wysheid en verwarde taalbegrippe kom egter ook telkens brokstukke van entoesiastiese welsprekendheid voor, waaruit blyk dat heel die volk in roering was. Naas die lekeredenasies staan dan die kalm-wetenskaplike betoë en ernstige pleidooie van die leiers, wat so stadig aan met hul mokerslae alle opposisie vergruisel het. Van die begin af was daar al sekerheid van die uiteindelike oorwinning. ‘'n Mens kan net sowel perbeer om die see met 'n besem te keer as die Afrikaanse taal met sulke klein dingetjies’, sê Preller op 9 Augustus 1905 in De Volkstem. Met groot erns pleit Jan Celliers twee jaar later vir 'n eie letterkunde: ‘Maar dit is tog voor elke Afrikaner duidelik dat slegs 'n eie letterkunde, uit Afrikaanse grond opgeskote, deurtrokke van die Afrikaanse gees en v'r Afrikaners verstaanbaar, deur en deur in taal en inhoud, dat so 'n letterkunde alleen bereken is om hier werkelik doel te tref. Wie wil ons help om so 'n letterkunde voor ons mense op te bouw? Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed; ons kannie wag nie!’ 2) {==60==} {>>pagina-aanduiding<<} En in die volgende jaar roep dr. D.F. Malan: ‘Dit is ons Ernst!’ ‘G'n taalgeleerde kan 'n werkelik lewende taal maak nie, ewemin als 'n skeikundige op syn laboratorium di lewe kan skep. Di taalgeleerde kan di taal alleen vind en analiseer. Iedere lewende, kragtige taal word gebore op di bodem van di volkshart en di volksgeskiedenis en leef alleen in di volksmond. G'n volk kies ooit syn spreektaal of, voor lange tyd selfs syn skryftaal nie, op raad van eksperte. Volke en tale word saam gebore en sterf saam.’ Op helder wyse sit hy uiteen, dat Nederlands nooit ons volkstaal kan word nie, dat Afrikaans onuitroeibaar is. ‘Di Afrikaanse Taalbeweging is niks minder nie dan 'n ontwaking by ons volk tot 'n gevoel van eiëwaarde en tot di roeping om 'n waardiger plaas in te neem in di wereldbeskawing.’ 1) Hoe die ‘gevoel van eiewaarde’ al sterker word, blyk uit die brosjure Die Afrikaanse Nasie (1908) waarin prof. N.J. Brümmer 'n uiteensetting gee van wat hy as 'n nasie beskou. Hy konstateer, dat totnogtoe alleen die Hollandse Afrikaners met die benaming kan aangedui word ‘omdat hulle 'n eie en aparte volkssiel besit en hulle daarvan skerp bewus geword het’. Hy ontken alle ‘nasionale eenheid’ tussen Nederland en Hollands Suid-Afrika. ‘Om die eerlike waarheid te sê, is daar meer soortgelykheid in wereldbeskouing, gees en strewe tussen die Afrikaner en die Skot, dan tussen die Afrikaner en die Hollander.... 2). Wat die Hollandse letterkunde betref, die veelbesproke kultuurskat - dié bestaan nog vir enkele spesialiste onder ons volk, en sekere uittreksels daarvan bestaan ook soms vir studente, solank as hulle vir 'n eksame of prys werk. Ons volk as volk dra van Hooft, Vondel, Cats of Bilderdijk net so min kennis as van die man in die maan. Van Couperus, Van Eeden, Perk en Kloos wil ek nie eers praat nie. Of hierin ooit verbetering kan kom, betwyfel ek sterk. Die Hollandse skrywers skryf nie vir ons nie, en al sou hulle ook vir ons skrywe, dan raak hulle tog ons volkssiel nooit.’ Dit is verstaanbaar, dat sulke opmerkings in die hitte van die taalstryd gemaak is, maar Brümmer gaan in sy militante ywer tog té ver, al sit daar natuurlik 'n kern van waarheid in die bewerings. Die werk van sulke geestelike aristokrate soos Hooft en Vondel kan nooit deur die hele nasie gewaardeer word nie. Sonder ons Cats uit, dan sou dieselfde bewering met die grootste stelligheid van die Nederlandse volk self kon gemaak word. Carel Scharten sê b.v.: ‘Het leelijke, het onwegwerkbare feit is juist, dat Vondel vergeten worden kon, en ongelezen blijft en ongelezen blijven zal.... Er zijn altijd de dichters voor weinigen naast die voor heel een volk geweest.’ 3) En in ander {==61==} {>>pagina-aanduiding<<} lande gaan dit net so. Edward Garnett sê b.v. van Engeland: ‘Ons toneel is het grofste in Europa en onze verwaarlozing van het drama van Shakespeare is werkelik een schandaal.’ 1) Clément Vautel het in verband met die Molière-herdenking opgemerk, dat die Franse dié kunstenaar alleen met die lippe eer. ‘Ieder doet alsof hij Molière op zijn duimpje kent. Maar, in gemoede, is al dat fraais, en is al die wierook nu wel echt? Is die geestdrift die op een vastgesteld uur losbarst, niet veeleer zelf ook komedie?’ 2) Met 'n pleidooi vir 'n Afrikaanse letterkunde sluit Brümmer sy betoog. ‘Ons het lang genoeg ons sielkos in blikkies ingevoer en die ingelegde en ingevoerde kos vergewe 'n mens dikwels.’ Maar die manier waarop hy hom die ontstaan van 'n letterkunde voorstel, getuig van weinig insig. ‘As elkeen van nou af aan begin om vir sy boek stof bymekaar te maak, dan sal dit wel nie te lang duur nie of ons het 'n eie letterkunde’! Dis maar gelukkig dat al die Stellenbosse studente nie dié raad opgevolg het nie! Saam met die Unie gebore, staan Die Brandwag vanaf 1910 trou op die uitkyk en telkens as artikel 137 van die grondwet veronagsaam word, het sy waarskuwingsinjaal weerklink. ‘Die Afrikaner moet beleefd wees en ware beskawing voorstaan, in woord en voorbeeld, maar nie tot so 'n mate dat hy syn eige taal verwerp, nie tot so 'n mate dat hy aan Filistijne die wapens in hande gee waardeur juis die hogere beskawing en verdraagsaamheid vernietig sal word, deurdat die Afrikaner-aard met die Afrikaner-taal vernietig word.’ (Die Brandwag, 1 April 1911.) Van maand tot maand het die redakteur, dr. W.M.R. Malherbe die stryd vir Afrikaans voortgesit en 'n hele reeks warm pleidooie is daar te vinde in die redaksionele kolomme, veral van die eerste jare. 3) In 1911 verskyn Leipoldt se digbundel Oom Gert Vertel, voorafgegaan van 'n weldeurdagte, besadigde pleidooi van J.J. Smith, tans professor in Afrikaans aan die Stellenbosse Universiteit. ‘Die werk van die Afrikaanse Beweging is.... 'n oortuigingswerk; en 'n oortuigingswerk moet dit altoos bly. 'n Vyand kan jy beveg, en desnoods dwing, maar 'n vrind en 'n bloedverwant, met dieselfde belange en dieselfde ideale as jyself, moet jy oortuig - as jy ten minste nie jou eie ondergang wil bewerkstellig nie.’ 4) Dié oortuigingswerk doen Smith op meesterlike wyse. Hier is 'n geskoolde filoloog aan die woord, wat met kennis van sake praat. ‘Ek grond my mening op die geskiedenis van die wording van ander tale en op die herlewing in ons volk.’ 5) En met {==62==} {>>pagina-aanduiding<<} onverbiddelike logika bewys hy, dat die argumente van die teenstanders ‘alles maar slim praatjies’ is! Ook Die Geloofsbelydenis van 'n Nasionalis 1) deur dr. T.B. Muller is 'n pragstuk van logiese redenering. Hy skets die ontstaan van ons nasionale bewussyn. ‘Die puinhope van die twee republieke het die vrugbare bodem geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel, van die Kaap tot in Kongoland, en van Duits Suid Wes tot Brits Oos Afrika.’ Hier word die vaste stem gehoor van een wat na 'n goedomlynde doel streef. ‘In plaas van na-praat, wil ons nou saampraat en met ander nasies meewerk in die algemene taak van die mensheid.’ En op oortuigende wyse bepleit hy die middele om dié doel te bereik, terwyl alle jeugdige voortvarendheid getemper word deur die besadigde erns van een wat sy verantwoordelikheid as leier voel. ‘Die karaktervorming van 'n nasie moet plaasvind deur 'n langsame groeiproses; deur voort te gaan op die weg reeds ingeslaan; al wat goed is, te ontwikkel en al wat nadelig is weg te kap.... Die gevaar van die oormoedigheid van 'n jong nasionale entoesiasme is ek my wel bewus van; maar ek weet ook, dat sonder entoesiasme niks groots op aarde tot stand kom nie....’ 'n Warm entoesiasme klink dan ook heerlik op in sy hele betoog en met gloedvolle oortuiging lê hy sy ‘geloofsbelydenis’ af: ‘Ek self sou my erfenis as lid van die Afrikaanse nasie vir geen ander burgerreg in die wereld wil verruil nie. Die grote nasies van Europa is wel oud en sterk en ervaringsryk,.... maar hul dra ook reeds die spore van hul ouderdom, en rypheid begin al op meer dan een plek in afgeleefdheid oor te slaan.... By ons is dit so anders. As 'n jong nasie sien ons amper ons hele loopbaan te gemoet. 'n Jong volk leef vorentoe. Sy leuse is die hoop; geduld en moed sy wagwoorde; 'n jeugdige entoesiasme sy dryfveer; en sy ywer is nog ongekoel deur die ontnugterings van mislukking. Vir my altans is dit veel heerliker my druppeltjie te probeer bydra by die self-bewuswording en karaktervorming van 'n jong nasie dan om te help dokter aan die kroniese kwale van 'n oue.... Misluk ons pogings en moet ons ondergaan, neergedruk deur 'n vrag van onoorkomelike moeilikhede, dan is dit in elk geval beter om te sterf as eerlike stryders op die slagveld, dan om te versink in 'n bedwelmende luilekker eentonigheid van niksdoen.... Laat Jong Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam, maar met sy lewe en dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie!’ Hoeveel erns daar in die woorde lê, blyk uit die feit, dat Muller in 1905 'n Rhodesbeurs van £300 per jaar om in Oxford te studeer van die hand gewys het, omdat hy ‘eenvoudig nie geld kon aanneem nie van 'n man wie se politiek hy verfoei en wie hy beskou as die aartsknoeier teen die vryhede van die Afrikaner-volk.’ 2) {==63==} {>>pagina-aanduiding<<} In 1918 is hy aan die griep oorlede in die ouderdom van 34 jaar. Om die warm idealisme, gesonde argumente en forse styl is Muller se brosjure een van die beste stukke van ons polemiese prosa. Namate die Afrikaanse Beweging sterker word, neem die stryd ook in felheid toe. In Julie 1914 word die maandblad Ons Moedertaal opgerig as orgaan van die A.T.V., onder redaksie van J.J. Smith, T.B. Muller en G.C. Tomlinson. Spoedig moes die teenstanders uitvind, dat die blad ‘geen heuningtou’ was nie, ‘waarop allerhande soorte goggas hulle kan kom vergas.... Ons Moedertaal is veeleer 'n eselskakebeen soos die wat Simson met sulke dodelike gevolg op die Filistynse vyande van sy volk gebruik het....’ (15 Okt. 1914). Die offisiële erkenning van Afrikaans deur drie Provinsiale Rade het die redaksie oormoedig gemaak. ‘Nou behoef die Afrikaanse Taalbeweging nie langer te stry nie als Ismaeliete, teen wie alle man se hand gekeer is; hul veg nou met die steun van die landswette agter hul rug’ (15 Julie 1914). En op kwaaisarkastiese wyse het hul geveg! Veral in die kolom Taalnuws en Opmerkings word nydige klappe uitgedeel. Die beste Nederlands van Afrikaners noem hul nie meer ‘amper-Nederlands’ nie, maar ‘stertjie-Afrikaans’, en as Ons Land per ongeluk ‘het universiteit’ skryf, dan sê Ons Moedertaal: ‘Werkelik dis treurig dat daar in ons verligte dae nog soveel deurgekapte erdwurms is wat doelloos in twee rigtings tegelyk spartel.’ (15 Okt. 1914). Maar later word die redaksie moeg om die ‘gebasel’ van teenstanders te ‘verpletter’, omdat hul ‘ander werk het als om slapers en dromers te probeer wakker maak.’ (1 Nov. 1915). Dié ‘ander werk’ was dan ook van meer ernstige aard. B.B. Keet pleit op oortuigende wyse vir 'n Afrikaanse Bybel. ‘Daar is ontsaglik veel onderskeid tussen 'n taal waarmee ek my kan behelp en 'n taal wat ek liefhet; en al was daar g'n ander rede nie, sou ek hierdie rede afdoende beskou om te streef naar die doel wat ek my voorstel.’ (15 Sept. 1914.) Fagan en Tomlinson se belletristiese bydraes word onder 'n ander hoofstuk bespreek. 1) Smith sit sy werk voort in Die Huisgenoot, waarin Ons Moedertaal in 1916 opgaan. Tot die polemiese prosa moet ook gereken word G.S. Preller se twee Taal-Tiepes, Die Engelse Afrikaner en 'n Predikant. (Die Brandwag, 15 Feb. en 15 Maart 1914.) Jiems, 'n Engelse Afrikaner, wat saam met die Boere veg, raak aan stry met sy maats oor Afrikaans, wat volgens hom ‘te arm (is) om te bestaan’. ‘Wat is 'n “stoep” op Engels, Jiems?’ wou een van die seuns weet.... Dit was ráak. Almal is tjoepstil. - ‘En wat bedui julle vir koppie, spruit, veld, kommando....?’ {==64==} {>>pagina-aanduiding<<} Nou was 't Koen se kans om in te vryf: ‘Dáar het jul dit,’ sê hy, ‘die skatryke mooie Engelse taal leen selfs woorde uit ons armoedige Afrikaans.’ So raak Jiems getroef deur Boereseuns, wat selfs vir die lastige sportterme raad weet! Ook sy eerwaarde, wat al die populêre argumente teen Afrikaans aanvoer, kry goed op sy baadjie. Hy wil: ‘Gij zult de dorschende os niet muilbanden’ vertaal met ‘Jy moet die os wat koring trap die bek nie toebind nie’. Maar sy optimistiese teenstander weet vir alles raad: ‘Vir ons is Afrikaans die taal van die Toekoms in ons wêrelddeel, ons glo daarin, ons werk en leef daarvoor.’ ‘Ons skryf tien jaar na bowestaande gedagtewisseling. En, kyk, - 'n mens moet jou oë vryf om séker te maak dat 't regtig só is! Maar dit is so! Sy hoogmogende is 't nou so waarlik ‘'n lus geworde om gade te slaan hoe daar gewoel word in Afrikaans, en om die eerste vrugte daarvan te proef!’ En selfs in minder dan tien jaar, selfs in vyf jaar is die wonder geskied! Dit hoef ons dan ook nie te verwonder nie, dat 'n warm kampvegter vir Afrikaans, C.J. Langenhoven, wat nog in 1911 die oorsetting van die psalme in Afrikaans as heiligskennis beskou het, in 1922 self een van die eerstes is om die hand aan die ploeg te slaan! In Ons Land van 12 September 1911 skryf Langenhoven: ‘Als die Hollandse Kerk my sou vraag om die Bybel, die psalm- en gesangboek en die formuliere, wat aan my hart geheiligd is deur my vroegste herinneringe in Afrikaans o'er te set, dan sou ik dit ten enemaal weier, al had ik die bekwaamheid daarvoor; en ik sou die voorstel (hoe onlogies ook) beskouw als heiligskennend. Dit sou vir my smaak 'n parodie wees.’ Een van die laaste, maar ook een van die welsprekendste pleidooie vir Afrikaans het Langenhoven gelewer op die vyfde jaarvergadering van die Akademie in Julie 1914. 1) Hierin tril die stem van 'n fel-bewoë gemoed so innig, dat dit meer geword het as 'n episode in 'n verbygaande stryd, en op sigself beskou, kunswaarde het. Dit is die skone kristallisasie van gevoelens en gedagtes, wat jarelank in die hart van die volk geleef het, maar nog nie hul definitiewe uitdrukking gehad het nie. En al die ‘dorstige vulletjies’, wat jarelank gesukkel en geploeter het langs hopeloos versperde ompaaie om by die dam te kom, weet maar alte goed hoe raak en hoe juis Langenhoven die vermoeienisse en vernederinge van dié pynigende dwaaltog geskilder het! ‘Ik denk terug met bitterheid aan die verdere verlore lewensjare wat dit my gekos het, nadat ik skool en kollege verlaat, om vir myself te doen wat my leeraars vir my moes gedaan het: om dieselfde intellektuele skool-kultuur deur lange en pynlike self-oefening om te set en tot my siels-besitting te maak’ (p. 427). Dit is veral op die gevoelskant, die psigologiese kant van die saak {==65==} {>>pagina-aanduiding<<} wat Langenhoven nadruk lê. ‘Ik wil namelik sukkel om 'n skerpe lyn te trek tussen die gebruik van 'n taal als 'n verstandsmedium, en sy gebruik als 'n gevoels-medium; en in albei gevalle nie alleen als 'n middel tot uitwendige openbaring nie, maar als 'n middel tot inwendige bewustsyn’ (p. 428)...... ‘Dit mag vir elke Afrikaner ewe verstaanbaar wees om te lees: “Die huis se muur is stukkend”, of om te lees: “De muur van het huis is stuk”. Eersgenoemde uitdrukking roep 'n beeld van 'n puinval voor sy gees. Laasgenoemde doet dit ook op 'n manier. Maar in die eerste geval is beeld en uitdrukking deur onheuglike lewensgewoonte onafskeidelik vasgeheg aan mekaar. Laasgenoemde uitdrukking val nie met dieselfde spontane voegsaamheid in die gedagte-wereld, waar die beeld uit die elemente van vroegere ervaringe deur die geheuge opgebouw word nie’ (p. 440). Met 'n fris oorspronklikheid word al die ou argumente teen Afrikaans weggebesem. Bitter is die aanklag teen die Hoog-Hollandse literatuur van Suid-Afrika; daarin ‘mankeer die goddelike vuur - die element wat onbepaalbaar is, wat jy nie kan voorskryf nie soos jy nie van elke wa-skilder en klip-kapper met paster- en duimstok-voorskrifte kan 'n Murillo of 'n Michael Angelo maak nie’ (p. 445). En die gevolg is: ‘'n land sonder skrywers en sonder lesers; 'n beskaafde nasie sonder eie literatuur. Die inspirasie ontbreek.... Ontbreek! ontbreek!! ontbreek!!! in ons heerlike Suid-Afrika, waar elke berg en elke vlakte skreeuw om digters, waar elke tafereel uit ons roemryke geskiedenis skreeuw om skrywers’ (p. 447). Maar met voldoening word gewys op die ontluikende letterkunde in die moedertaal. ‘Ons wat so lank kwynend gesuig het aan die artifisiële gomelastiek tepels van die ingevoerde botteltjies dooie kondens-melk, begin nou aan ons eie moederbors gevoed en verpleeg te word’ (p. 449). Treffend is ook die aanklag teen die skoolsisteem. ‘Die Afrikaanse kind (word) deur les en boek, voorskrif en voorbeeld ingeprent en wysgemaak dat die taal van sy huis nie 'n taal van kultuur en beskawing is nie’ (p. 460). Deur die hele betoog klink ‘die smeekstem van 'n Afrikaner met mede-Afrikaners om te erken wat syne en hulle s'n is, wat dit tog maar altyd sal bly, wat nie van die gehalte is om ons voor te skaam nie’ (p. 461). En by die laaste gedagte tril die stem van gloeiende verontwaardiging: ‘Te skaam nie, menere! Skande op daardie skaamte! dis onse kostelikste roem, onse hoogste besitting: die één enigste witmanstaal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van die lief en leed draag van alles wat ons en onse vadere hier deurleef en deurworstel en deur triumfeer het; die één band wat ons als nasie aan mekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk’ (p. 461). {==66==} {>>pagina-aanduiding<<} In 1919 toe die Kaapse Sinode oor die erkenning van Afrikaans moes besluit, kom Langenhoven nog 'n keer met 'n vlammende aanklag: ‘Komt aan, gij de Villiers' en Steytlers. Gij hadt er nu honderd jaar tijd voor - (om 'n letterkunde op te bou) gij en degenen die het voorrecht hadden Hooghollands evengoed als gij, of beter, aan te leren - zoals de priesters in de Middeleeuwen het Latijn aanleerden. En wijst ons, mijne heren, waar gij gezaaid hebt? Waar is uwe oogst? Het volk van Zuid-Afrika hongert te midden van de overvloed zijner mededingers. Ziet, zoals van gemelde priesters, is uw akker dor en onvruchtbaar gebleven. Ge hebt ons kultuurhuis voor ons woest gelaten: gij en uwsgelijken, de bevoorrechten onder een onbevoorrecht volk wier plicht het was geweest in onze bittere behoefte te voorzien. Ge kunt me geen enkel boek noemen - ook niet tot één toe - dat, door een Afrikaner in 't Hooghollands geschreven in al de tijd toen men, volgens u terecht, het Hooghollands onderwees en schreef en predikte, vandaag als een volksbezitting in de letterkunde leeft. En deze dorre landen van u voorbijgaande zijn wij begonnen - een korte halve generatie geleden - met onze gemene kombuistaal. En de werken onzer schrijvers in het Afrikaans hebben ons nu reeds een eigen letterkunde bezorgd, zoodat de Afrikaner ook in de kultuurwereld zijn hoofd niet meer met schaamte hoeft te laten hangen. Denkt gij, dat is niets? Dat wij gearbeid hebben waar degenen die ons nu tegenstaan niets deden?.... Komt het u als een kleinigheid voor dat ook deze nieuwe tempelbouw belemmerd zal worden door de Rehums en de Simsais?’ So skryf Langenhoven in sy brosjure De Heilige Ennen van Rehum en Sinsai, wat onder die lede van die Sinode versprei is. Hoe mooi word daarin die deftige toon met sy bybelse wendinge vir die hoogeerwaarde here getref! Dit was sy antwoord op die brosjure Onze Afrikaans-Hollandse Spreektaal, van Melius de Villiers met 'n aanhangsel van ds. A.I. Steytler (1919), waarteen ook J.J. Smith in Die Huisgenoot op kalm-wetenskaplike wyse te velde getrek het. 1) {==67==} {>>pagina-aanduiding<<} Hoofstuk III. Prosa uit die Tydskrifte. 1) § 1. (a). De Goede Hoop (1903-1914). Die oprigting van die tydskrif De Goede Hoop in Julie 1903 deur mev. Koopmans-de Wet en ‘Onze Jan’, ‘benevens andere der voorste Afrikaners in de Kaapstad’ 2), met adv. J.H.H. de Waal, 'n erkende voorstander van Afrikaans as redakteur, is ongetwyfeld 'n feit van groot betekenis in die geskiedenis van die Tweede Afrikaanse Beweging. Die talentvolle leier van die Eerste Beweging, ds. S.J. du Toit, het deur sy on-Afrikaanse politiek van ná 1896 die hele saak, waarvoor hy en sy medestryders met soveel opoffering sedert 1872 geywer het, laat misluk. Die laaste spartelings van die Genootskap van Regte Afrikaners het nog tot 1909 geduur, toe die tydskrif Ons Taal dood gekwyn het, maar veral om politieke redes moes daar 'n heeltemal nuwe begin gemaak word. Die ondersteuning van De Goede Hoop deur ‘Onze Jan’ was 'n voldoende waarborg vir die eg-Afrikaanse rigting van die blad, en die redakteur het van die staanspoor af vasgetrap vir Afrikaans. Deur sy verstandige stadig-oor-die-klippers-taktiek 3) het hy veel gedoen om die ou vooroordele teen die moedertaal weg te ruim, terwyl sy kragtige artikels onder die nom de plume, Jan van Rozenburg, 'n groot stoot aan die nasionale beweging gegee het. De Goede Hoop was dan ook veel meer as 'n ‘eerste voorbode van die naderende renaissance’, soos dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie beweer (2de druk, p. 12). ‘Van Kaapstad begint die viktorie’ vir die Tweede Beweging, en adv. De Waal was seker een van die vernaamste kampvegters, wat deur middel van sy blad suksesvolle voortrekkerswerk gedoen het. {==68==} {>>pagina-aanduiding<<} Dat Gustav Preller se verdienste in verband met die Tweede Beweging besonder groot is, ly geen twyfel nie, maar om te verklaar dat dit ‘op sy kragtige inisiatief in die lewe geroep’ is, soos dr. E.C. Pienaar doen, (diss. p. 1) is stellig onjuis. 1) De Goede Hoop het leesstof bevat vir mense van ryper leeftyd, maar was tog meer bepaald vir jongeliede bedoel. 2) Dit het dan ook veral by jong Suid-Afrika lees- en skryflus opgewek en as propagandamiddel goeie dienste bewys. Op die betekenis van De Waal se werk word in 'n volgende hoofstuk gewys. Onder sy medewerkers was daar niemand, wat Afrikaanse prosa van letterkundige gehalte gelewer het nie. Dit is meestal kort, luimige verhaaltjies. Van 'n diepgaande letterkundige kritiek is daar ook nouliks sprake; kort aankondiginge is die reël. Wat De Waal se opvatting van 'n roman is, blyk duidelik uit die volgende: ‘In de gewone roman heeft de held altijd te kampen met een listige mededinger om de hand van de beminde.... Onverwachte gebeurtenissen, gemoedprikkelende verrassingen komt ge heel weinig tegen’ (G.H., April 1913). Dit word gesê na aanleiding van Malherbe se roman Vergeet Nie, en in die nommer van Des. 1911 hoor ons van ‘verrassingen die zo onontbeerlik zijn voor 't sukses van 'n roman’. Dr. D.F. Malherbe gee in die nommer van September 1906 uiting aan sy bewondering vir Johannes van Wyk. By sy beoordeling het die betekenis van die roman vir die taalstryd swaar geweeg. ‘Ons volkstaal, ons dierbare boompie, swoeg vandag onder die dubbele las van vyandskap en verfoeielike vooroordeel. En daarom verdien diegene, wat skriftelik of andersins manmoedig optree vir die saak ons ondersteuning en waardering.’ Vandag sal Malherbe seker nie meer van Johannes van Wyk o.a. beweer nie: ‘Oral 'n diep-historiese gevoel, wat omstandighede en gebeurtenisse in die oog hou.... (De Waal) bied ons in sprekende simbole die inwendige van sy persone.’ (b) De Goede Hoop (1915-1925). Vanaf Januarie 1915 tree prof. ds. N.J. Brümmer as redakteur op. Hy is in 1866 gebore op die plaas Prospect, distrik Dordrecht. 3) In sy studiejare op Stellenbosch het hy blyk gegee van buitengewone knapheid en daarna in Skotland en Duitsland sy teologiese en filosofiese studie {==69==} {>>pagina-aanduiding<<} voortgesit; maar 'n dringende beroep as predikant na Jansenville het hom van die doktorsgraad laat afsien. Op filantropiese, kerklike en wetenskaplike gebied het hy prominent opgetree en ook as voorstander van die A.T.V. belangrike werk gedoen. Sedert 1911 is hy professor in die wysbegeerte aan die Stellenbosse Universiteit. Die grootste gedeelte van sy werk is in Hollands, o.a. Spoken en Eerbied. Die Afrikaanse brosjure Die Afrikaanse Nasie is al onder Polemiese Prosa bespreek. Die grootste gedeelte van die blad verskyn ook onder Brümmer se redaksie aanvanklik nog in Hoog-Hollands, en ofskoon daar heelwat Afrikaans in voorkom, word dit, as mens op die inhoud afgaan, langsamerhand veral die orgaan van die konserwatiewe minderheid, wat aan Nederlands vashou. Die voorstanders van Afrikaans verenig hul rondom Ons Moedertaal (1914), later verenig met Die Huisgenoot (1916) en Die Brandwag (1910). Dat die politieke beroeringe, wat na 1912 die Afrikaners in twee kampe splits, invloed gehad het op die groepering van lesers is ontwyfelbaar. In hierdie oorsig van die letterkundige prosa uit die tydskrifte sou 'n nadere bespreking van dié kwessie egter uit sy plek wees. Meer en meer het Afrikaans egter tussen 1921-25 die blad ingeneem en in laasgenoemde jaar begin ook die redakteur sy lekepreke in Afrikaans te skrywe. Hy behandel veral etiese en sosiale vraagstukke en sy kragtige artikels wek in kerklike kringe groot belangstelling. Vanaf Augustus 1918 verskyn van hom 'n reeks didaktiese stukke Die Spraaksame Ossewa 1). Die ossewa is 'n beeld van die menslike lewe en elke deel daarvan kry 'n sinnebeeldige betekenis, van die as, wat ‘'n fatsoenlike karakter, die draagbalk van (die) lewenswa’ is, tot die lunspen, die simbool van getrouheid. Die lewenswa kom by Brandewynshoogte, Praatdrif, Skinderkrans, ens., wat natuurlik aanleiding gee tot allerlei didaktiese oorpeinsings. ‘Die ossewa is al oud en daar sit wysheid in sy jare’. Dat so 'n sistematiese vergelyking soms uitloop op 'n soekery na vae ooreenkomste spreek vanself. Tog vorm dit 'n mooi bydrae tot ons didaktiese literatuur. Brümmer skryf 'n rustig betoënde styl, wat soms verras deur kernagtigheid en slegs selde storende wendinge bevat soos die volgende: ‘as 'n goeie ding gemisbruik kom worde’ (p. 39). Dat Brümmer soms agtiende-eeuse middele gebruik om sy blad vol te kry, blyk uit 'n digwedstryd in die jaargang 1916. 'n Prys word nie alleen uitgeloof vir die beste gedig nie, maar selfs die onderwerp word aangegee, nl. die verhaal Hansie Smal, wat in een van die nommers van die blad verskyn het. By die beoordeling van die ingestuurde stukke gee Brümmer die verrassende uitspraak: ‘Poëzie moet vloeien, moet zalvend zijn.... 2) (Sept. 1916). Dit staan daar! {==70==} {>>pagina-aanduiding<<} Hoe laag die literêre peil van die blad word, blyk uit die opname van 'n eindelose reeks prulrympies. As staaltjie kan die volgende ‘gedig’ dien, wat in 'n maandelikse wedstryd bekroon is: Geagte Heer, die editeur, Ek wil vir jou weer pla, Want ek wil in die ‘Goede Hoop’ Vir jou 'n plekkie vra. Ek wil ook iets vir jou instuur Soos al jou vrindetal; En daarom skryf ek nou vir jou Oor ‘Lente in die Dal’, Op dié manier kry die rymelaar ‘Charon’ nog twee en 'n halwe kolom vol! (Sept. 1920). Die bekroonde verhaal in dieselfde nommer is nie van veel beter gehalte nie. Dit is van ‘'n weerspannige dogter’, wat ‘met 'n treurige, bleek gesiggie.... soos 'n skim deur die huis’ dwaal, omdat haar vader vir Roelie weggejaag het. Sy is Protestants, maar voel so ellendig dat sy in 'n.... klooster wil gaan! Gelukkig oorwin Koos, 'n ander minnaar sy beskeidenheid, ‘versamel (genoeg) moed om sy geluk te beproewe’ en in 'n ommesientjie word die weerspannige dogter weer 'n verstandige bruid. In byna al die verhale, soos die van Anna le Roux, Hermanus en A.J.C. Volschenk, die vernaamste medewerkers op hierdie gebied, is die strekking dik opgeplak, en ten spyte van 'n gesonde moraal en die allerbeste bedoelings, kan hul die traktaatjiesstyl nie afskud nie. Om die gevare van 'n ‘duiwelse flirtasie’ aanskoulik te maak het Volschenk 'n melodramatiese skyndood nodig in Die Huisdokter (Aug. 1923), maar Johanna du Toit kan hom nog 'n lessie gee in die kuns om grieselig te wees! Hierdie skryfster vertel van 'n mediese student, wat as ‘owersier’ (sic!) van die ontleedkamer 'n swemtoggie onderneem tussen die lyke van die ‘pekelbalie’ (Okt. 1923). 'n Aantal verhale van E. de Roubaix staan op hoër plan. 1) Sedert 1922 is S.J. Latsky 'n gereelde medewerker, wat onder die opskrif: ‘Wat mij onlangs getroffen heeft’ wetenswaardighede uit alle hoeke versamel. Hierdie interessante brokkies, wat seker veel doen om die leeslus aan te wakker, het, vreemd genoeg, tot in 1925 nog in Hoog-Hollands verskyn. Die letterkundige kritiek van De Goede Hoop bestaan nog altyd uit kort aankondigings. ‘Dons maar op, alles sal reg kom!’ word Marius toegeroep, (Nov. 1916). Wie Afrikaanse werk van letterkundige gehalte in De {==71==} {>>pagina-aanduiding<<} Goede Hoop soek, kom egter tot die oortuiging dat alles verkeerd loop. In Maart 1923 trek die redakteur los teen die ‘zorgwekkende dichterswoede’. ‘Het regent overal gedichten. De rijmwoede rumoert door 't ganse land’. Hy wil ‘'t grote publiek beschermen tegen zulk 'n aanrollende vloed van dichterlik onkruid’. Maar vlak onder hierdie artikel, waarin die digter as siener verheerlik word, druk hy die erbarmelikste prulrympie af, wat so begin: As ek so sit en denk, Oor als wat hier gebeur, Dan wil ek liewer swyg, Want my gemoed skiet vol. Aan die begin van die twee-en-twintigste jaargang wei die redakteur uit oor die strewe van die blad: ‘Men kan De Goede Hoop niet geregeld lezen zonder te beseffen dat er 'n eerlike poging wordt aangewend om ons volk tot iets groters en edelers op te scherpen en om hem 'n breder uitzicht te geven op de grote wereld daarbuiten, met andere idealen en andere levensopvattingen.’ (Julie 1924). Dit alles kan geredelik toegestem word. Die gees van die blad is kerngesond. Daar word moedig gestry teen maatskaplike euwels en ywerig gearbei aan die opbou van 'n Afrikaanse kultuur op Christelike grondslag. Maar wat die tweede gedeelte van sy program betref, naamlik die ontdekking van talentvolle skrywers, is die blad minder gelukkig gewees. En dat die redakteur, deur sulke lae eise te stel ‘voorligting’ gee aan aspirant-skrywers, val sterk te betwyfel. Vir een van sy medewerksters is Danie Smal se Lief en Leed een van die ‘uitstekende boeke in Afrikaans’! By die ander skrywers vind sy meestal oppervlakkigheid. Langenhoven kry die raad om die Spreuke van Salomo te lees, sodat hy kan ophou met spotterny, want in Doppers en Filistyne gebruik hy sy talent ‘om sy landgenote so verspot en laagdunkend (!) voor te stel as mogelik’! (Maart 1924). Sulke naïewe uitsprake toon die aard van die ‘letterkundige voorligting’ aan. Die ‘digters- en prosawoede’ in De Goede Hoop toon duidelik dat daar, behalwe gesonde moraal, nog ander vereistes nodig is om 'n goeie skrywer te word. Mettertyd sal dit aan kunstenaars van spesifiek Christelike rigting seker nie ontbreek nie, maar hulle het in De Goede Hoop altans, nie hul verskyning gemaak nie. § 2. Die Brandwag (1910-1922). Die Brandwag is opgerig op 31 Mei 1910 onder redaksie van dr. W.M.R. Malherbe en Gustav Preller. Na die eerste ses nommers egter, vanaf 1 September 1910, is dr. Malherbe alleen redakteur, totdat hy in {==72==} {>>pagina-aanduiding<<} September weer vervang word deur Preller, wat die blad redigeer totdat die uitgawe in Februarie 1922 om financiële redes gestaak word. Die doel van die blad word in die eerste nommer só omskryf: ‘Die Brandwag heeft positie gekozen op 'n punt waar 't terrein alsnog onbewaakt bleef: het Afrikaner huisgezin.’ Dit wil die plek verower, wat opgevul word deur ‘vreemde kaf, als Home Notes en Home Chat en Home Journal, enz.’ Verder wil die tydskrif probeer om ‘leiding en koers te geven aan de vele zeer bekwaam gebleken Afrikanerpennen, die ernaar streven.... 'n eigen nasionaal-afrikaanse letterkunde te helpen groot maken.’ Met die uitvoering van dié program het die blad uitstekend geslaag en dank sy die medewerking van feitlik alle skrywers en digters van betekenis, kon dit 'n hoë literêre peil bereik en tot die end toe handhaaf. Dat die blad 'n faktor van groot betekenis in die kultuur- en taalstryd was is ongetwyfeld, en die verdwyning daarvan moet as 'n ramp beskou word. Daar is werk van blywende waarde in gepubliseer en deur middel van die wedstryde het 'n hele reeks nuwe skrywers, soos Jochem van Bruggen, Léon Maré, E. de Roubaix, M. Jansen, Hettie Cillié, e.a. bekend geword. In die kinderafdeling het mev. Iz. van Heerden naam gemaak met haar voortreflike verhale, sodat ‘Tannie van Die Brandwag’ 'n geliefde naam by die kleinspan oor die hele land is. Veel het die blad ook daartoe bygedra om gesonde begrippe oor kuns ingang te laat vind. Deur goeie vertalings en studies oor buitelandse kunstenaars is 'n poging gedoen om in voeling te bly met Europese kuns, terwyl talryke sketse, veral oor die Voortrekkers, die historiese belangstelling aangekweek en wakker gehou het. So word b.v. aangedring op die publikasie van ou handskrifte: ‘Daar is al soveel in die laaste oorlog verlore gegaan, dat ons nou betyds moet begin om te red, wat nog te redde is.’ (15 Julie 1910.) Gesond was die letterkundige kritiek in die blad. Reeds in die eerste jaargang waarsku die opstelle-kommissie teen verhale met ‘awonture en kunsmatige verwikkelinge. Daarin moet die bekoring van 'n verhaal nie gesoek word nie, maar wèl in onopgesmukte voorstelling van buitengewone of gewone gebeurtenisse - met ware en rake tekening van karakters.’ (Des. 1910.) Die kritikus X verklaar: ‘Ons skrywers begin in te sien, dat die krag en betekenis van 'n verhaal nie geleë is in gesogte samevlegting van buitengewone gebeurtenisse, opsetlike mooi-soekery, maar juistheid van skildering, natuurlike voorstelling, diepte en waarheid van karakter-uitbeelding, selfs in wat grappig is.’ (15 Feb. 1911.) Dit is nog iets anders as die ‘gemoedprikkelende verrassingen’, waar De Goede Hoop na gesoek het! Ofskoon in die eerste jare die blote verskyning van 'n Afrikaanse boek al 'n gebeurtenis van belang was, laat die blad hom nie verlei nie tot wat G.S. P(reller) noem ‘onnadenkende, stereotiepe koerante- {==73==} {>>pagina-aanduiding<<} aanprysinge’ (15 Sept. 1913). Nadruklik word gewys op die waarde van elke boek vir die besonder Afrikaanse kultuurtoestand, maar steeds ook aangetoon, dat dit geen blywende maatstaf moet wees nie. 'n Mooi voorbeeld daarvan is J.F.E. C(elliers) se beoordeling van Stompies deur adv. J.H.H. de Waal. ‘Ons is bly met die verskyning van sulke werkies. Wat in ander land daarvan gesê mag word, gaat ons nie aan nie; ons weet net dat 't vir ons S.A. goed is, en dat manne wat hul daarop toelê om ons volk aan lees en aan dink en aan gebruik van sy eie taal te bring, alle lof verdien. Die skrywer siet goed in dat romanties aangelegde verhaaltjies, met 'n pikante sousie van awontuurlikheid of wonderbaarlikheid daaroor, meer lesers sal trek dan iets wat bepaald op letterkunde aangelê is, op karakter- en gevoelstudie van 'n fynere soort.... Nou die skrywer die groot publiek al by herhaling tevrede gestel het, spreek ons die hoop uit nog eendag 'n roman van sy hand te sien wat in diepgang, in gevoel- en karakterstudie, 'n letterkundige eersteling sal wees in ons wêrelddeel....’ (15 Jan. 1912.) Een van die trouste medewerkers was Jan F.E. Celliers. 1) As digter is hy bekend genoeg, maar dat hy ook een van ons verdienstelikste prosaskrywers is, daarop mag nog wel gewys word. In Die Brandwag het onder sy eie en onder verskeie skuilname heelwat prosastukke van hom verskyn, waarin hy op populêre wyse allerlei historiese, sosiale en wetenskaplike onderwerpe behandel. In dié stukke munt sy styl uit deur helderheid en logiese gedagtegang, eienskappe, wat dit dan ook bevatlik maak vir selfs onontwikkelde lesers. Die meeste daarvan is later herdruk in sy Afrikaanse Leesboek (1920) en in Ou Gawie en ander Verhale en Sketse (1924). Veel het hy ook gedoen om juiste begrippe oor kuns en meer besonderlik oor letterkunde te bevorder. In dié verband kan gewys word op 'n reeks artikels, getitel Lewe en Lettere in Die Burger, 1921, 2) waarin hy blyk gee van 'n gesonde kunsopvatting, en ook op die artikel Lees, later herdruk in Ou Gawie. In die stadium van ontwikkeling, waarin ons volk tans verkeer, is so 'n causerie oor kuns van groot waarde. 'n Verdienstelike omwerking van 'n roman van Henri Bordeaux, Bang vir die Lewe, het van hom in Die Brandwag verskyn en is later opgeneem in Die Burger-leeskring (1919), waarvoor hy ook Colomba van Prosper Mérimée vertaal het (1920). In 1925 het ook nog verskyn Mannie, 'n vertaling van Halt se Histoire d'un Petit Homme. Ou Gawie en ander Verhale en Sketse (1924) is 'n herdruk van stukke {==74==} {>>pagina-aanduiding<<} uit Die Brandwag, wat tot die vroegste prosawerk van die Tweede Beweging behoort. Vir hierdie uitgawe het die skrywer taal en spelling gemoderniseer, ofskoon daar nog onafrikaanse vorme bly staan het. Op aantreklike wyse vertel hy van sy ontvlugting uit Pretoria gedurende die oorlog. In 'n stemming van sagte weemoed teken hy vir ons 'n paar figure, herinneringsbeelde deur die lig van 'n warme simpatie omglans. Geen forse uitbeelding hier wat ons direk aangryp nie; dis meer die mymeringe van 'n Afrikaanse Jonathan, wat op gevoelvolle toon vertel van verlore liefde. By die begin van die Tweede Beweging pas hy al die goeie beginsels toe, wat hy in Die Huisgenoot (Aug. 1919) aanbeveel - geen kakelbont avonture nie - maar studie van die mens. Die verhaaltjie Sy tel nie mee nie, in sy Leesboek is van 'n treffende innigheid en ook in Ou Gawie word ons verras deur fris beeldspraak: ‘Maar wie sê: die oumeid blus hom in 'n kits, met 'n meksimsarsie van kort en klein gekapte skree-woordjies.....’ (p. 14). Dit is veral in sy natuurbeskrywings, dat Celliers as woordkunstenaar verdienstelik is. Hier openbaar hy 'n fynheid van gevoel vir die kleinste klanknuansering, 'n liefde vir die woord, wat ons dan ook van hom as digter mag verwag. Skoonheid in die natuur bring hom in 'n jubelende ekstase: ‘O laat my hier verlore raak, hier altyd bly, hier sterwe as dit moet, want hier bereik die lewe sy hoogste heerlikheid, so naby die Onsienlike as nêrens anders nie....’ (Die Brandwag, Jan. 1917.) ‘Ons wil een word met die chaos van dartelende geluk en ongebondenheid. Ons wil verfrommel word in die mallende, krullende skuim. Ons wil onsselwe vergeet en verloor in die wilde vrye roes van uitjuigende, uitspattende beweging en krag....’ (p. 136). In sy uitgelatenheid laat hy die woorde om ons wirrel-warrel, soms wel in verbysterende veelheid, maar altyd vol suggestiewe klank. ‘Die see op die rotse! O, nêrens soos hier is die water 'n beeld van krag - dronk, mal van pret, van selfbewuste weelderige oordaad, homself oortreffend, oorrollend, oorbotsend in aksie-begeerte teen hindernis, swelgend in oordaad van alles-oorswalpende aanstorming, melk-wit oor-soppend die rotse se skulp-skurfte, swoep! opdoeffend teen blinde klip, oppluimend uitspattend in 'n wolk van skuim wat bo in puntjies uitpyl en wind-verwaaid neerswiets in die siedende karning omlaag; na aanstorming waggel-wild wegvallend elke keer, in rotstregters ingesuie, maar opgudsend weer na halwe wegsakking, in altyd-durende dans van strydlustige durf en ongeduld.’ (p. 138.) 1) ‘Malkop-moedwillig spring waterdruppeltjies af van die oorleunende kranse bo, om te kyk wie die beste kan duik - met 'n stadig-lange swaai, net of die lug hul dra in hul val, seil hul neer, en pets op onse hande of val in die rivier naas die skuit.’ (Die Brandwag, Jan. 1917.) {==75==} {>>pagina-aanduiding<<} Sulke impressionistiese prosa is in ons letterkunde maar alte skaars! Noem dit navolging van die Tagtiger woordkuns as jy wil; praat van Querido-aanse oorlading - ook goed; maar hier is in elk geval 'n ontroerde, wat soek na treffende segging en juiste klank. Celliers raak nie alleen in vervoering oor die skoonheid in die natuur nie; hy is die peinsende wandelaar, wat steeds na dieper waarheid soek, telkens met 'n wondervraag stilstaan. ‘Pylsnel skiet 'n groot naaldekoker soos 'n blou bliksemstraal deur die lug en is weg met een van die stryders. En ek verwyder my, met die ewige vraag op my lippe, hier as in die groot wêreld daarbuite: Waarom, God, waarom?’ (Leesboek, p. 206.) ‘Die genius van die veld het die invloed op ons, dat ons telkens die vraag aan onsselwe doen: het ons lewe en bestaan op aarde 'n doel of is alles sommerso?’ (id. p. 204.) ‘Soek ons hier nie wat ons soek in die donker dieptes van ons eie gees, in elke ander gees, in elke oog, in boeke, in die natuur: wat is, waar is die groot geheim, is daar skoonheid, is daar waarheid vir my te ontdek?’ (p. 144.) Mooi plastiese uitbeelding is daar ook in Winter-môremark: ‘Kaffers wat werk toe gaan, loop met skouers hoog opgetrek, hande diep in die broeksakke, elke voet eina-eina neergeset, - almal ewe stuurs.... 'n Pikenien het 'n soldaatbaadjie aan; en as jy daar so inkyk, sien jy sy kaal pensie, en daaronder sy nakende maer beentjies, wat lyk of daar as aan kleef.’ (Leesboek, p. 133.) Vir 'n juiste begrip van Celliers se kunsopvatting is die volgende van belang: ‘Kuns is nie daar vir die kuns nie, maar vir die mens, 1) omdat dit ook maar een van die middele in die mens se hand is in sy strewe naar geluk, deur waarheid, skoonheid, volmaaktheid.... In ons land het 'n skrywer 'n besonder moeilike taak: hy staan voor die moeilikheid dat die buite-bevolking ander leesstof nodig het as die dorpsbevolking; en hy mag die buite-bevolking nie sommer aan hul lot oorlaat nie, en sê, ‘ek bemoei my net met die dorpsmense’, omdat die Afrikaners te min in aantal is teenoor die inkomelinge van buite, omdat elke Afrikaner 'n onmisbare gewig in die skaal is vir ons taal- en volksbestaan. Die nasionale skrywer moet as-ware elke Afrikaner uitsnuffel en soek om hom 'n skool te gee, 'n meester, 'n boek, wat hy kan verstaan, wat hom voorlig en opvoed. 2) Hier staan Celliers dus op dieselfde standpunt as Langenhoven en in verband met die se opvatting sal die vraag nader bespreek word. 3) 'n Groot gedeelte van Celliers se prosawerk is dan ook suiwer didakties en ontstaan uit 'n drang om die volk op te voed tot 'n beter begrip van kuns. In dieselfde artikel sê hy verder: ‘Aan die ander kant {==76==} {>>pagina-aanduiding<<} staat die dorpsman, wat al gesnuffel en geproe het in die letterkundige tuin van die groot wêreld.... Aan hom moet ook gegee word wat sy smaak bevredig en wat enigsins 'n vergelyking kan deurstaan met die letterkundige voortbrengsels van die buiteland.... Die Afrikaanse kunstenaar moet dus nie altyd 1) aan die beginner dink en gevoel of siening intoom nie 1) - hy moet daar dikwels die volle teuel aan gee en die allerbeste lewer wat hy kan....’ In sy poësie word die tweede gedeelte van die program uitgewerk, en gelukkig het dit weinig gely onder sy didaktiese en patriotiese geteoretiseer. As 'n digter ons kom vertel, dat hy nie altyd.... (sy) gevoel of siening intoom nie, m.a.w. dat hy dit soms tóg doen om vir die ‘beginner’ bevatlik te wees, dan sou ons verwag dat dit met sy kuns heeltemal misloop, hoe goed die bedoeling ook al mag wees. Gelukkig is dit by Jan Celliers meestal nie die geval nie. Wat C.R. de Klerk van Vondel sê, geld ook hier: ‘De beste schilders zijn niet zelden de onbeholpenste stamelaars als ze hun eigen werk trachten te duiden in woorden.’ 2) ‘Nut en stichting’, ‘nuttigheid voor de scholieren en opluikende jonkheid’, sulke woorde kry mens in meer dan een Berecht van Vondel, maar in sy beste werk, soos b.v. die Lucifer, vergeet hy totaal, dat hy die mense wou ‘verbeter’ en is hy veral 'n soeker van skoonheid. Verblydend is dit, dat Jan Celliers in die laaste tyd ook in sy teoretiese beskouing 'n veel juister standpunt inneem. ‘Geniale uitbeelding, plastiese voorstelling, dis die eintlike werk van die kuns, die letterkunde. En die uitbeelding is hier alleen goed as dit, daardeurheen, die gronde en dieptes laat sien, sonder dat dit die eintlike welbewuste doel van die kunstenaar was om bepaald sedelik of opbouend te werk te gaan, soos die predikant of die onderwyser. 'n Ware kunswerk kom alleen voort uit 'n vrye estetiese stemming of gevoel, wat sy doel bereik sonder dat dit lyk of hy 'n bepaalde doel gehad het. As die vrye uiting hom 'n rigting laat voorskrywe deur 'n sedelike of ander doel, word persone en toestande vanself verdraai, pasklaar gemaak, om aan die doel of strekking diensbaar te wees, en dan is so 'n werk, as kunswerk, nie meer van die beste nie.’ 3) In Kuns in Lewe en Kultuur (1933) bespreek hy vir oningewyde lesers enige grondbegrippe o.a. kuns en sy doel, skoonheid, lelikheid, die wese van poësie en prosa. Sonder enige geleerdheidsvertoon gesels hy padlangs oor kunssake, en illustreer sy menings met pakkende voorbeelde uit die daaglikse lewe. Hy wil van sy lesers ‘skoonheidsgenieters en daardeur lewensgenieters’ maak. Hierdie verhandeling kan veel daartoe bydra om gesonde opvattings oor kuns onder die breë volkslae te {==77==} {>>pagina-aanduiding<<} bevorder. Jan Celliers het met liefde en kennis van sake geskryf en vind ook geleentheid om op ernstige volksgebreke te wys. Die kunsopvoeding van ons volk word verwaarloos omdat ons jongmense voortgedrywe word deur die ‘eksamensweep’: ‘Onthou die vrag feite. Dis al wat verlang en gevra word. Moenie verder vra en vergelyk en nadink nie. Jy moet daardie berg op. Wie die eerste bo is, kry die diploma (en die beurs).’ Ook die onoordeelkundige navolging van buitelandse gewoontes word gelaak: ‘Om sy beste te lyk het die Afrikaner nie uitlandse opskik nodig nie.’ Hoe nodig is nog steeds hierdie waarskuwing: ‘Daar is dieper politiek as die lawaaimakerige staatkundige of partypolitiek van ons....; dis die politiek wat al daardie baie blaaskaakpolitiek moet ondermyn en onnodig maak, deur mense op te voed, nie alleen wetenskaplik nie, dog veral in die skone en harmoniese.’ Daar is natuurlik baie bewerings wat kan betwis word. Weinig ingewyde lesers sal saamstem met die skrywer se uiteensetting van die teorie: die kuns om die kuns, en sy vooroordeel teen die nuwe skilderkuns. Bevreemdend maar begryplik is sy voorliefde vir ouer Nederlandse digters soos Bilderdijk, Beets e.a. en sy onmag om Gorter se Mei te waardeer. Maar sy waardevolle uiteensetting van grondbegrippe toon dat hy 'n veel suiwerder kunsbegrip het as sy leermeesters uit die negentiende eeu. Letterkunde is vir hom ‘'n besielde mededeling van een of ander.’ As die besieling maar daar is, kom dit weinig op die onderwerp aan: ‘Daar is gedigte oor muggies wat mooier is as gedigte oor God, omdat die een kunstenaar ons meer van God in 'n muggie laat sien as die ander in God self.’ Iz. van Heerden - (Vaalswaer). Onder die jagstories, wat in Die Brandwag verskyn het, verdien die reeks Herinneringe van 'n Jagter deur Vaalswaer vermelding. Dit is geen geweldige avonture wat hy verhaal nie. So af en toe vleg hy wel 'n klein anekdote in, maar hy is in die eerste plaas die peinsende jagter, wat onder die bekoring van die bosveld sy gedagtes vrye loop gee en met 'n paar trekkies mooi 'n stemming aandui. 'n Goeie voorbeeld daarvan staan in die nommer van i Oktober 1916. Vaalswaer is in 1870 in die distrik Cradock gebore. Sedert 1905 het hy met Preller saamgewerk in die taalstryd, o.a. as sekretaris van die A.T.G. Met sy eggenote, Tannie, woon hy nou op Potgietersrust. Die Brandwag bevat ook verskillende goed geslaagde oorlogsverhale deur Gustav Preller, wat later gebundel is onder die titel Oorlogsoormag. Onder die groot aantal verdienstelike kort stories verdien die volgende veral aandag: Die Bymot deur Carl Jeppe (15 Des. 1910); Sy Terug- {==78==} {>>pagina-aanduiding<<} koms deur Steph. Maré (1 Des. 1912); Wraak deur J.F. Engelbrecht (15 Des. 1912); 'n Brief deur H. (1 Des. 1915). Van sulke min of meer onbekende outeurs sou daar 'n mooi bloemlesing kan saamgestel word. As vervolgstorie het vanaf 1 Oktober 1914 verskyn 'n roman in Afrikaans: Die Niggies van die Kommandeur deur J.F. van Oordt (1856-1918), 'n skrywer, wat onder die naam D'Arbez 'n hele reeks Hoog-Hollandse romans gepubliseer het. 1) § 3. (a) Die Huisgenoot (1916-1923). In Mei 1916 is Die Huisgenoot opgerig onder redaksie van prof. J.J. Smith, as verteenwoordiger van die Afrikaanse Taal-Vereniging en C.J.L. Ruysch van Dugteren, van die Nasionale Pers. Met die blad is verenig die A.T.V.-orgaan, Ons Moedertaal, wat onder die oorlogsdruk moeilik kon bestaan. 2) Na die dood van Ruysch van Dugteren in 1918 bly prof. Smith alleen redakteur, totdat hy in November 1923 afgelos word deur dr. H.G. Viljoen. Ofskoon Hollandse stukke natuurlik nog 'n enkele maal opgeneem word, verskyn die blad sedert 1918 feitlik uitsluitend in Afrikaans. Die doel van Die Huigenoot word in die uitgawe van Julie 1917 só aangedui: ‘Die Huisgenoot is 'n tydskrif, wat tot doel het die handhawing van ons taalregte en die bevordering van Afrikaans. Dit wil, sonder die terrein van partypolitiek te betree, meewerk in die opbou van ons nasionale lewe deur die aandag te vestig op alles wat goed is in die geskiedenis, owerleweringe en ideale van Hollands Suid-Afrika.’ Heel goed word die geaardheid van die blad deur die redakteur beskryf: ‘Die Huisgenoot het probeer om populêr te wees, sonder om juis die wetenskap enige geweld aan te doen; en dit was altyd sy strewe om vir elke leser in die Afrikaanse wêreld iets boeiends te verskaf. Deur lewensbeskrywinge van groot Afrikaners, deur sketse uit ons dierewêreld, deur stukke oor Suid-Afrikaanse kuns, deur verhale vir kinders en grootmense, deur die bespreking van taalkwessies, deur wenke vir die vrou, deur foto's, grappies en ander sake, het ons probeer om met die smaak van al ons lesers enigsins rekening te hou. Ons het, met ander woorde, 'n bont verskeidenheid nagestreef....’ (Mei 1918.) Met groot sukses het die blad sy program uitgewerk. In die moeilike taak om wetenskaplik en daarby ook populêr te wees, het die redaksie vry goed geslaag. Deur 'n konsekwente, ofskoon kritiese toepassing van die Akademiereëls, het Die Huisgenoot veel gedoen om aan die verwarring op spellinggebied 'n einde te maak, en die afdeling Taalvrae was seker een van die nuttigste. Tog het die redaksie nooit uit die oog verloor nie, dat {==79==} {>>pagina-aanduiding<<} daar naas die taal nog ander belangrike sake was. ‘We moeten een volk zijn met eigen taal niet alleen, maar met eigen tradities, eigen bouwkunst, eigen schilderkunst, eigen muziek, eigen levensopvatting.’ (Feb. 1917.) - ‘'n Volk wat hom ten volle wens te ontwikkel en wat 'n waardige plek onder die nasies van die wêreld wil beklee moet hom op alle gebied(e) ontwikkel. Dit is nie genoeg dat ons vir ons taalregte stry nie; en dit is ook nie genoeg om na politieke mag te strewe nie....’ (Julie 1919.) - ‘Uit ekonomiese afhanklikheid spruit alte dikwels kultuurslawerny....’ (April 1919). Daar is een geval waar die ywer vir die taal van letterkundige standpunt minder gelukkig was. B. Spoelstra bring, ‘op 'n heel interessante manier’, sê die redakteur, 'n versameling van ses-en-vyftig spreekwoorde in 'n verhaaltjie byeen, (Jan. en Mei 1921) en ander lesers word aangespoor om dié spreekwoord-gimnastiek na te volg! Tot watter verwarrende beeldspraak dit aanleiding gee, blyk al uit die eerste sin: ‘Toe ons die ander dag 'n voëltjie gehoor fluit 't, dat twee jong mense die huweliksbootjie wou instap, en al taamlik gou die vier-perdewa wou inspan, het menigeen sy tande geslyp vir die bruilof en gehoop om weer 'n keer lekker te gaan skoffel.’ (Jan. 1921.) Letterkundige kritiek beslaan 'n vername plaas in die blad en oor die algemeen is dit op gesonde beginsels gebaseer. Dat die blad hom selde leen tot onoordeelkundige ophemeling van minderwaardige of middelmatige werk en by sy kritiek deurgaans 'n hoë peil handhaaf ten spyte van heelwat teenstand is 'n verblydende teken. Veral in die begin van 1919 het 'n paar resensies van verskillende kante teenspraak uitgelok en aanleiding gegee tot vrugbare polemiek. 1) In Februarie 1919 wys J.J. S(mith) op die algemene gebrek aan tegniek: ‘Ons wil (die) skrywers net daarop wys, dat hul ons letterkunde 'n groot diens sal bewys as hul, voor hul aan die skrywe gaan, eers 'n bietjie wil studeer en nadink oor die wette wat gedurende die eeue heen in hul besondere kunsvak geformuleer is.’ In 1920 word dit nodig om aan die talryke skryflustiges die volgende waarskuwing te gee: ‘Kyk, die Afrikaanse Taalbeweging het darem nou 'n stadium bereik waarin ons nie meer alles wat daar in druk verskyn as hemelval hoef te begroet nie’ (E.C. P(ienaar) Nov.). Slypsteen ontlok aan M.T. die versugting: ‘Van Lennep, Van Lennep en sy geesgenote - dat hulle tydperk hier in S.A. verbygaan!’ Daarby word gevoeg: Slypsteen ‘weet oënskynlik nog niks van die groot strome in die hele nuwe Europese letterkunde nie.’ (Julie 1921.) Dit spreek egter vanself dat met ongeveer 'n vyftiental resensente dit moeilik gaan om die eenheid op kritiese gebied te handhaaf. In die eerste jare vind prof. Smith dit onmoontlik om by al sy ampswerk tred {==80==} {>>pagina-aanduiding<<} te hou met die veelsydige ontwikkeling op kultuurgebied 1) en bygevolg moet hy hom dikwels verlaat op toevallige bydraes. Hy stel die tydskrif se kolomme oop vir voorstanders van alle rigtinge en reken dat dit ‘'n groot voordeel (is) as die redakteur van 'n maandblad daarin kan slaag om vir homself in verband met 'n belangrike bespreking, minstens vir 'n tydlank, op die agtergrond te hou’ (April 1923). In die praktyk het hierdie diplomatieke houding van welwillende neutraliteit egter dikwels uitgeloop op stilswye. Wel kom die redakteur partymaal uit sy skuilhoek om 'n versigtige formulering van die argumente aan albei kante te gee, maar hy waag dit nie om beslis stelling te kies nie en op dié manier kan sy blad geen helder geluid laat hoor nie. Dit was o.a. die geval met die verskyning van die proefvertaling van die Afrikaanse Bybel en die eerste druk van hierdie werk. Na aanleiding van laasgenoemde skrywe prof. Smith: ‘Die proefskrif van dr. P.C. Schoonees het soos 'n bom in ons Afrikaanse letterkundige kringe geval’ (Feb. 1923). Na 'n bietjie slag-om-die-arm-kommentaar heet dit: ‘as die geleerde mense en die skrywers aan 't veg is, dan pas dit vir ons om opsy te staan en te luister: langs dié weg kan ons die maklikste leer en ook aan die gevaar ontkom om deur die stryers doodgetrap te word’! Skrywers en kritici het dan ook werklik gedurende die grootste gedeelte van 1923 'n vrugbare polemiek gevoer, en dit het geblyk dat daar ook by die algemene publiek intense belangstelling vir letterkundige kwessies was. Die meningsverskille wat oor die eerste druk van hierdie boek ontstaan het sal vir die latere geskiedskrywer interessante gegewens oplewer, omdat dit o.a. gelei het tot gedagtewisseling oor sulke prinsipiële vraagstukke soos gemeenskapskuns, die waarde en standpunt van ons literêre kritiek, die avontuur- en strekkingsroman. 2) In hierdie tyd ontstaan ook die mening dat resensente eintlik landverraaiers is, ‘vuilwaterdraers om goddelike vuur uit te blus, esels om engele te skop....’ soos Langenhoven, hul onvermoeide beskimper hul betitel in een van sy eindeloos herhaalde aanvalle. Onder sy minder begaafde kollegas het die teorie dat baie ‘gekweste, fynvoelende kunstenaarsiele’ swyg as gevolg van afbrekende kritiek natuurlik groot byval gevind en die aantal geniale skrywers, wat deur bevooroordeelde kritici {==81==} {>>pagina-aanduiding<<} ‘doodgesmoor’ is, het onrusbarend gestyg, totdat die redakteur van Die Burger die onjuistheid van dié legende bewys het in 'n artikel waarin o.a. gesê word: ‘Nee wat, die tafereel van die nuwe Totiusse, Prellers en Langenhovens wat smag om die volk met die voortbrengsels van hulle gees te beweldadig, maar deur die bose bende van krietisie versmoor word, is aandoenlik, maar alte fantasties’ (21/iv/24). Intussen het Die Huisgenoot kalm voortgegaan met sy letterkundige kritiek, wat grotendeels toevertrou was aan die Stellenbosse skool. Die professore Lydia van Niekerk en E.C. Pienaar het opbouende betoë gelewer, wat veel daartoe bygedra het om 'n juister insig in letterkundige verskynsels te bevorder. In hierdie verband mag veral genoem word laasgenoemde se artikel oor Nuwe Afrikaanse Romans (April en Oktober 1923). Die redakteur self bepaal hom meestal tot taalkundige kritiek en hou 'n waaksame oog op ons skoolboeke, wat deur die snelle vordering van Afrikaans, nog dikwels sleg versorg, of bloot vertalings is. Vanaf 1925 tree meer op die voorgrond dr. F.E.J. Malherbe, wat gedebuteer het met die reeds aangehaalde artikels oor die eerste druk van hierdie werk. Daarin was hy vol bewondering vir ‘die kostelike romantiese verhale van Jannie de Waal (en) die pragtige volkswysheid van Von Wielligh’; hy vind dit dwaasheid om vergelykings te tref tussen die ontluikende letterkunde van 'n jong nasie en die voortbrengsels van die ou Europese kultuurvolke, en hy berisp die skrywer hiervan oor sy ‘fanatieke haas’ om Suid-Afrika ‘hoog op te stoten midden in de vaart der volken’. Met sulke bewerings word Malherbe natuurlik dadelik 'n persona grata in skrywerskringe. Hy is die ‘een merkwaardige uitsondering’ onder die ‘deskundige boekbeoordelaars’. 1) In die volgende jaar egter, is Malherbe se geesdriftige bewondering vir Von Wielligh al opmerklik afgekoel 2) en in 1925 dryf hy die vergelykende metode tot 'n uiterste spits in 'n vernietigende kritiek op Liefdelewe, waar hy ‘die grootste name en kunstenaars van alle tye oproep’ om getuies te wees van Jan Celliers se ‘schamele kleente’! 3) In Die Huisgenoot van 6 Augustus 1926 vind hy dit ook nodig om ‘ons nasie hoog op (te) stoot in die volkerery’. Dieselfde verwyt wat die skrywer hiervan in 1923 getref het word nou Malherbe ten laste gelê, want volgens Jan Celliers het laasgenoemde ook ‘sy visie op landsomstandighede’ verloor! Maar Jan Celliers se mening, dat die huislikheid van die voor-Tagtiger skool vir ons besondere omstandighede nog veel kan beteken, wys Malherbe nou met beslistheid af. Hieruit blyk dat die periode van patriotiese vertroeteling in ons letterkundige kritiek, wat in die eerste jare wel te regverdig was, nou byna {==82==} {>>pagina-aanduiding<<} afgeloop is. Wat ek in 1923 al gesê het, geld nou nog veel meer: ‘Die kunstenaar wat willens en wetens hopeloos verouderde modelle gaan navolg, sal ook in ons land nie lank meer gelees word nie. Want net soos die Afrikaner in 'n tiental jare op taalgebied 'n omwenteling deurgemaak het wat onder normale omstandighede ander volke 'n paar eeue geneem het, so behoort ook op literatuurgebied die patriargale tydperk, waarin die volk tevrede was met prulrympies, kinderromantiek en soetsappige sedeprekies, al feitlik tot die verlede. Die kunstenaar wat as leier van Jong Suid-Afrika wil optree, moet modern wees. Hy hoef nie al die hipermoderne gedoentes van Europa met kop-en-pootjies in sy werk op te neem nie. As hy Afrikaanse kunstenaar is, sal sy kuns ook Afrikaans wees; dit sal modern wees en tog bevatlik vir die grootste gedeelte van die volk. Selfs dié kunstenaar, wat volgens sy innerlike roeping meer bepaald vir die bywoner skryf, sal nie Vader Cats gaan navolg nie, omdat die kinders van ons bywoners onderwys kry en in 'n samelewing verkeer waar hul daagliks met moderne begrippe, moderne dinge, moderne mense in aanraking kom. Ons digters volg nie Maerlant na nie, gee ons nie berymde preke en stigtelike oorpeinsings in die trant van Ten Kate en Beets nie; hul adem in dieselfde moderne atmosfeer as Gezelle en Perk en Shelley. En die grootste gedeelte van die volk verstaan hul, omdat, al is hul modern, hul tog ook Afrikaners is. Die teenstelling tussen die kunstenaars van die oorbeskaafde Europa en die aartsvaderlike Suid-Afrika is, ten spyte van sy oënskynlike juistheid, tog vals. Ons nasionale ewolusie het met rukke en stote gegaan; ons kan ons moderne omgewing, ons moderne Engelse landgenote nie wegsyfer nie. En al het ons ook agterlikes (wat iedere Europese volk ook het, en in groot getalle!) dan nog hoef hul teenwoordigheid nie ons hele kunsbeskouing te beheers nie.’ 1) Ofskoon hierdie oortuiging meer en meer veldwin en die kritiek steeds hoër eise begin te stel, is daar nog enkele beoordelaars wat reken dat ons middelmatige werk ter wille van ‘die meerderheid van die lesende publiek’ dankbaar moet ontvang. Prof. J.J. Smith is die tipiese verteenwoordiger van hierdie rigting, soos blyk uit sy resensie van Sonskyn en Skaduwee deur J.H. Malan in Die Huisgenoot, 18 Junie 1926. Prof. Smith vind dit nodig om nog in den jare 1926 te protesteer teen die afgesaagde aller-individueelste-formule van Willem Kloos. Prof. E.C. Pienaar herhaal hierdie protes selfs in 1938! Vgl. Ons Vertelkuns, in Werda. Maar die ironiese van die saak is, dat J.H. Malan 'n vurige bewonderaar van Kloos is, dat hy sy manuskrip selfs vooraf aan Kloos se oordeel onderwerp het en 'n faksimilee van Kloos se aanbeveling in Die Landbouweekblad laat afdruk het! 2) Ek wil geredelik erken dat ook die werk {==83==} {>>pagina-aanduiding<<} van ‘mindere geeste’ 'n bestaansreg het met die oog op die behoeftes van ons volk, maar hierdie oorweging hoef ons nie te verlei tot geesdriftige ophemeling van 'n middelmatige werk nie, al besit Malan ook ‘'n merkwaardige woordeskat.... 'n ryke bron van minder bekende Afrikaanse woorde’. Of moet ons miskien die letterkundige waarde van 'n boek skat na die hoeveelheid leksikografiese materiaal wat dit aanbied? Prof. Smith mag op kritiese gebied 'n ander rigting inslaan as sy medewerkers, dit staan in elk geval vas: gedurende sy sewejarige redakteurskap het Die Huisgenoot hom vergoed ingeburger in die Afrikaanse gesin en 'n onmisbare faktor geword in ons kultuurlewe. Die redakteur het steeds gesorg vir 'n aantreklike verskeidenheid van leesstof, wat 'n beroep gemaak het op al die lae van ons samelewing, en die snelle vooruitgang van die tydskrif wys dat prof. Smith inderdaad sy vinger gehou het ‘op die polsslag van die Afrikaanslesende publiek’. In die eerste jare van ons taal- en kultuurstryd het die blad op elke gebied die nasionale beweging gesteun en 'n band gevorm tussen die stille werkers wat in verre uithoeke van ons uitgestrekte land gearbei het aan die bewusmaking van die volk. Tot die prosaskrywers, wat in Die Huisgenoot gedebuteer het, behoort A. du Biel, (Getrou en 'n paar kort verhale) en A.A. Pienaar (Sangiro). Die kort verhale, wat enigsins bo die middelmatige uitkom is besonder skaars. Die meeste daarvan verraai 'n ongeoefende hand. Onsigbare Hande deur M. Linde (Maart 1920) en veral Die Bosduiwenes deur J.W. (Des. 1920) verdien vermelding. Laasgenoemde is sonder enige mooidoenery, vol stemming en goed vertel. Ook die volgende bevat 'n belofte: Die Ou Bliktrommel (Aug. 1917) deur Kleinjan, J.R.L. van Bruggen, die digter van Lentestemme, en Vergeet-my-Nietjies deur Rikie Postma (Des. 1921). Van die digter, dr. C. Louis Leipoldt het o.a. verskyn: Wit Anjeliere (Nov. 1919) en Die Transportryer se Storie (Okt. 1921). Hy laat graag 'n onopgeloste raaiseltjie aan die leser oor om tot nadink te prikkel. Dit is in ooreenstemming met sy kritiek oor Van Reenen se Celestine, waar hy sê: ‘'n Ware kunstenaar fluister as hy by so 'n punt (waar jou hare moet rys) kom: juis die sagte gefluister gee die indruk van geheimsinnigheid, moedeloosheid, angs, gevaar, smart, vertwyfling.’ (Nov. 1919.) Maar sy besgeslaagde verhaal het in Die Brandwag verskyn (1 Aug. 1914). Dis 'n digterlike sprokie van wondervolle teerheid: Die Weeskindjie, wat 'n moeder wou hé! Die griep-epidemie, die opstand in 1914 en die druk van die oorlog, dit is oorsake, wat die getal ‘bly-eyndende’ verhale so klein maak in die jare 1918 en 1919, en 'n besondere voorliefde vir die skildering van treurige voorvalle in die hand werk. Die strekkingsverhale van Hermanus behoort tot die gebied van die traktaatjiesliteratuur. As Vader gaan Biljart speel kan dien as staaltjie, (Nov. 1921). 'n Voorbeeld van valse {==84==} {>>pagina-aanduiding<<} romantiekerigheid gee N.H. Theunissen in sy verhaal: Tussen die Aanden Môreskemer (April 1920). Hy wil 'n digterlike Voortrekkersdogter en haar dom-onnosele vryer uitbeeld. Dit sou moeilik gaan om meer staaltjies van verknoeide visie en onware tekening in 'n kort verhaal bymekaar te bring. ‘Oor die lieflike gesiggie sprei daar 'n tergende glimlag,.... en haar oë, diep poele van geheimsinnigheid, verduister, en word onleesbaar.’ Die arme Jan kry les in digterlike natuurbeskouing. ‘Kom en kyk hoe mooi lyk die groot bome, hoe hulle hulde bring aan die sonsondergang.’ Die raaiselagtige nooi word so geteken: ‘Sy was die verpersoonliking van leed en van vreugde. Die groot ruimtes was haar wêreld. Sy het geleef en gevoel vir alles om haar. Vir haar mede-wagenote was sy onaantasbaar. Hulle siele kon nie saamgaan met haar langs die babbelende strome, na die soemende bosse op 'n blosende môre nie.’ As Jan haar in sy arms neem is daar in haar ‘geen antwoordende vuur nie’. Gelukkig, want in die dae was daar nog geen brandweer nie! Maar nou kry Jan weer les in sielkunde: ‘Die bloed wat deur my stroom, het die are van die wêreld gegee; die hart wat in my klop, is die kloppende hart van die see. Sien jy, Jan, ek kan ook rym!.... Van uit die diepe aarde, van uit die waters het my liggaam gekom; en my liggaam is 'n hok (sic!) van drome’.... ‘Sy dowwe verstand kon haar woorde nie volg nie. Die beeldspraak was buite die enge kring van sy gedagtes.’ Ook ons slaan dit totaal dronk! Maar die domme Jan ondergaan 'n gedaanteverwisseling. ‘Sy ontvang sy lippe sonder weerstand.... Hy trek hom weg en kyk na haar oë. 'n Straal van kennis, 'n profeteviesie het hom ingevloei’. Soe! maar dis darem vir jou 'n nooi! In die aand het ‘die stergegordelde nag haar omhels’ en na die Zoeloes se aanval ‘sluit hulle hul lippe in wederkerige, ewigdurende liefde, terwyl die bloed hulle monde oorstelp. Al die vlekke op die gesigte van die dode word deur 'n engelehand uitgewis. Die man se gesig word kalm, oorsprei met 'n waas van alomkennis....’ - ‘Geef ons natuur en waarheid weer’ mag ons wel uitroep! Gelukkig is dit op ander plekke in die blad wel aanwesig. (b) Die Huisgenoot as Weekblad (1923-1931). Vanaf 23 November 1923 begin Die Huisgenoot 'n nuwe bloeiperiode as geïllustreerde weekblad onder redaksie van dr. H.G. Viljoen. Prof. Smith behou egter voorlopig die afdeling letterkundige kritiek. Die blad neem snel in omvang toe en binne drie jaar word die oorspronklike aantal bladsye (32) verdubbel, terwyl die getal intekenaars styg tot by die 25,000 in 1926. In die begin van 1925 kry die kinders 'n afsonderlike byblad, Die Kleinspan, wat uitstekend daarin slaag om die leesgewoonte by die jeug aan te kweek. Hierdie merkwaardige vordering van 'n Afrikaanse tydskrif is 'n verblydende bewys van die gestadige opbloei van ons {==85==} {>>pagina-aanduiding<<} kultuur. Die Huisgenoot het sonder enige twyfel die alleenheerskappy van die ingevoerde magazine verbreek en kan 'n vergelyking met dergelike tydskrifte glansryk deurstaan. In die uitgawe van Desember 1920 kon ek nog skryf: ‘Van die kunsafdeling in ons tydskrifte verwag ons veel meer. Dit behoort ons op die hoogte te hou van kultuuruitinge en -strominge in ander lande. Deur ons geografiese ligging loop ons groot gevaar om op kunsgebied agterlik en geïsoleerd te bly. Ons land lê in 'n uithoek, en die storme wat die gemoedere elders in heftige beroering bring, gly as geruislose kabbeling om ons kuste heen, soms 'n paar verdwaalde opdrifsels meevoerende’. Gaandeweg het die blad aan hierdie wens voldoen en die opmerking in die laaste sin geld seker in 1926 nie meer nie. In die laaste jaargange het 'n groot aantal artikels verskyn oor skilder-, bou-, beeldhoukuns en musiek deur Florence Zerffi, Brander Wiles, Caldecott en ds. M.L. de Villiers, terwyl die ekonomiese, historiese en populêr-wetenskaplike rubrieke ook deur bekwame medewerkers bygehou word. Die blad word meer en meer 'n opvoeder van die volk op elke gebied, 'n nuttige vraagbaak en vertroubare raadgewer vir die verafwonende plattelander, 'n gesellige en leersame lid van die Afrikaanse huisgesin. Die letterkundige gehalte van 'n tydskrif wat weekliks soveel stof nodig het moet natuurlik ongelyk wees. Op hierdie gebied sou ek eerder beperking as uitbreiding wens, sodat 'n versigtiger keuse tussen ryp en groen kan gemaak word. Die kortverhaal en skets bereik nog maar uiters selde 'n kunsgehalte, en onder die groot aantal middelmatige stories is daar ook heelparty, wat deur gebrekkige taal, ondeurvoelde beeldspraak en oppervlakkige sentimentaliteit selfs benede die peil van middelmatigheid daal. Gelukkig is daar ook enkele skrywers wat in hierdie moeilike genre werk van blywende waarde gelewer het. Ek dink veral aan E.B. Grosskopf, wat behalwe die uitstekende vervolgverhaal Patrys Hulle (jg. 1925) 1) 'n hele aantal mooi kort stories en sketse geskryf het; verder M. Linde, Léon Maré, J. Lub, de Roubaix en dr. C.L. Leipoldt. In Die Teken deur E.B. (M. Linde) word op treffende wyse die verhouding tussen 'n wêreldse meisie en 'n aspirant-sendeling geteken. Verder kan nog genoem word Jantjie, deur Gerard Mess, Melima, deur Sadie Bosman, Joggie en Jefta, deur A.J.V. Burger en Poppeloppie, deur P. Marchand. Hierdie laasgenoemde skrywer het seker talent en 'n wakker observasie; as hy uit die ‘omarming’ van 'n vose retoriek, wat hom sulke parte speel in die skets Aan Strand (11-1-'24), kan loskom, sal hy nog iets bereik in die toekoms. Ek memoreer hier nog die vernaamste vervolgverhale, later byna almal in boekvorm verskyn, om te wys op die belangrike aandeel van Die {==86==} {>>pagina-aanduiding<<} Huisgenoot in die letterkundige oes van die laaste jare: Oupa en sy Kleindogters deur J.H.H. de Waal (1923); Haar Ma se Skuld deur D.P. du Toit (1924); Stemme van die Vlaktes deur Sadie Bosman (1924); Patrys hulle deur E.B. Grosskopf (1925); Tissamoe deur J.M. Friedenthal (1926); Adriaan Hugo deur Hendrik Brand (1927); Die Donker Huis deur C.L. Leipoldt (1928); Hans-die-Skipper deur D.F. Malherbe (1929); Galgsalmander deur C.L. Leipoldt (1930). As ons nog hierby voeg die lang reeks artikels oor aktuele onderwerpe, sketse soos Die Swerwers van J.A. Coetzee en Soeloelegendes van A.J. van Zyl, vertalings uit Skandinawies deur dr. C.G.S. de Villiers, geskiedkundige verhandelinge soos Die Franse Vlugtelinge deur dr. Franken en populêr-wetenskaplike stukke soos Die Siel van die Mier deur adv. Eugène Marais, dan blyk op oortuigende wyse hoe Die Huisgenoot in alle rigtings tot meerdere aktiwiteit geprikkel het, hoe die blad elke week nuwe vergesigte vir sy lesers open en hulle 'n aandeel laat kry in die algemene kultuurbeweging. (c) Die Huisgenoot (1931-1938). In Junie 1931 het dr. H.G. Viljoen afgetree as redakteur. Sy opvolger, J.M.H. Viljoen, het die hoë peil van die blad uitstekend gehandhaaf deur die medewerking te verkry van feitlik alle vooraanstaande skrywers. Die blad streef nog steeds daarna om rekening te hou met die smaak van al die lae van die samelewing, en deur die ryke verskeidenheid van leesstof wat weekliks aangebied word verower dit elke jaar meer lesers. Die getal intekenare het in 1938 tot by die 50,000 gestyg, terwyl die oplaag van spesiale uitgawes soms 60,000 beloop. Vanaf 1936 verskyn die vergrote kinderblad, tans genoem Die Jongspan, onder redaksie van dr. C.F. Albertyn. J.M.H. Viljoen het aan Die Huisgenoot 'n meer persoonlike stempel gegee deur die toevoeging van 'n redaksionele bladsy waarin 'n oorsig gegee word van die vernaamste bedrywighede op kultuurgebied. Hierdie weeklikse aantekeninge is 'n uitstekende inligtingsdiens vir die groot publiek wat daaruit kan leer dat daar buitekant die partypolitiek 'n uitgestrekte terrein is waarop alle Afrikaners behoort saam te werk. Soos sy voorgangers het die redakteur veel gedoen om jong skrywers voor te lig en aan te moedig. Verskeie talentvolle kunstenaars het ook in hierdie periode in die blad gedebuteer o.a. P.J. Schoeman, Mikro en Boerneef. Die belangrikste vervolgverhale was: Die Swart Hand en Die Verlore Prins deur Hendrik Brand (1930-1931); Die Plaasverdeling deur A.H. Jonker (1931); Die Dwergvroutjie deur C.L. Leipoldt (1933); Die Trekboer deur A.H. Jonker (1934); Somer deur C.M. van den Heever (1935). As gevolg van die ontwikkeling van die laaste jare het die gehalte van {==87==} {>>pagina-aanduiding<<} die kortverhale aansienlik gestyg. Die vernaamste medewerkers op hierdie gebied is: Jochem van Bruggen, Jonker, C.M. van den Heever, Mikro, Kleinjan, P.J. Schoeman, Marie Linde, P. de V. Pienaar, Dirk Mostert, I.D. du Plessis, G.J. Joubert, Kootjie van den Heever. Vir die afdeling letterkundige kritiek word bydraes gelewer deur 'n groot aantal medewerkers o.a. G. Dekker. F.E.J. Malherbe, F.C.L. Bosman, S.P.E. Boshoff, M.S.B. Kritzinger, E.C. Pienaar, S.J. du Toit en P.C. Schoonees. § 4. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns. Hierdie blad is in 1922 opgerig onder redaksie van dr. D.F. Malherbe. In die voorwoord word gesê: ‘Ons (wil) met hierdie Tydskrif 'n gees van ernstige studie help aankweek, geleentheid bied vir elkeen wat oorspronklike beskouinge het of nuwe resultate of nuwe materiaal om te publiseer... Laat die Tydskrif dan 'n middel wees om Afrikaans betekenis te verleen in die wetenskaplike wêreld, om te ontplooi die rykdom van sy vormende krag, sy vermoë om die nuwe woord te skep wat met raak seggingskrag verras, om te openbaar sy suiwerheid en helder eenvoud, om te getuig van sy mondigheid en bruikbaarheid op elke gebied van die geestelike lewe, om deur sy veelsydigheid van uiting ons volkskultuur tot skoner bloei te bevorder.’ Die blad wil ook gee ‘kunskritiek wat kan oprys uit die vlakteveld van dorre eensydigheid tot 'n hoër plan met wyer uitsigte.’ Tot nog toe het die blad hom egter grotendeels bepaal tot die wetenskap, en op hierdie gebied het daarin waardevolle verhandelinge verskyn, wat geen ontwikkelde student ongelees mag laat nie. Terwyl die Stellenbosse universiteit die resultate van sy navorsings vaslê in die uitgawe Annale, word soortgelyke werk van die noordelike universiteite meestal opgeneem in die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns. § 5. Die Nuwe Brandwag (1929-1933). Hierdie kwartaalblad was 'n poging om die tradisie van Die Brandwag voort te sit. In die begin het dr. M.L. du Toit opgetree as redakteur en sedert 1931 dr. G. Dekker en dr. H.G. Viljoen. Met medewerking van die beste Afrikaanse skrywers en kritici het die redaksie daarin geslaag om 'n besonder hoë peil te handhaaf. Naas oorspronklike belletristiese bydraes het daarin verskyn breeduitgewerkte beskouings oor letterkunde, musiek en die beeldende kunste. Die werk van ons beste skilders en beeldhouers is deur kenners bespreek en deur keurige afbeeldings verlug. Hierdie hoogstaande kunsblad het baie gunstig vergelyk met die beste tydskrifte uit die buiteland. Dat dit deur gebrek aan onder- {==88==} {>>pagina-aanduiding<<} steuning slegs enkele jare kon verskyn is 'n droewige aanduiding van die feit dat baie van ons ontwikkeldes nog slegs oppervlakkig belang stel in kunssake. § 6. Ons Tydskrif (1933-1937). Dieselfde lot het ook hierdie minder pretensieuse blaadjie getref. Aanvanklik was dit die ‘hurisorgaan van die uitgewersfirma Van Schaik’, maar later het dit onder redaksie van dr. M.S.B. Kritzinger 'n nuttige lektuurgids geword wat deur pittige besprekings belangstelling probeer wek het in die Afrikaanse en Nederlandse boek. § 7. Ons Eie Boek (1935). Gelukkig word hierdie werk tans op bekwame wyse voortgesit deur Ons Eie Boek onder redaksie van dr. F.E.J. Malherbe. Hierdie ‘Afrikaanse Boekegids’ het binne 'n paar jaar 'n eie plek verower in ons letterkundige wêreld. By die bespreking van ons letterkundige kritiek in hoofstuk XI word verder gewys op die betekenis van die blad. § 8. Die Brandwag (1937). Toe Die Boerevrou onder redaksie van Mev. K. Malherbe opgehou het om te bestaan, is Die Moderne Vrou opgerig in 1936 met Mev. prof. C.M. van den Heever as redaktrise. Laasgenoemde blad is in Aug. 1937 ingelyf by Die Brandwag, wat ontstaan het uit die naweekse uitgawe van die dagblad, Die Vaderland. Die Brandwag kan ons miskien die beste karakteriseer as 'n Transvaalse Huisgenoot. Hierdie aantreklike blad met sy ryke verskeidenheid van inhoud verrig waardevolle opvoedingswerk. Onder die vernaamste medewerkers kan genoem word C.M. en Kootjie van den Heever, Kleinjan, Abel Coetzee, Friedenthal, Van Melle, Jonker, Mocke, E. Eybers, Haarhoff, Willem Kamp. Die redakteur, A.M. van Schoor, sorg vir inleidingsartikels oor aktuele sake, en bly gedurig in aanraking met sy lesers deur prysvrae uit te skryf. Dr. G. Eloff se uitstekende populêr-wetenskaplike artikels het reeds algemene waardering gevind. {==89==} {>>pagina-aanduiding<<} Hoofstuk IV. G.R. von Wielligh (1859-1932). ‘Die Laaste Stem uit Die Genootskap van Regte Afrikaners’. Die stamvader van die Von Wielligh-geslag was offisier in die Oos-Indiese Kompanjie. Gideon Retief is op 1 April 1859 gebore in die Pêrelse distrik. ‘Van sy sewende jaar af moes hy ploeglei, vee-oppas, op die oesland hopies maak en meer dergelike werkies wat vir 'n plaaskind nie ongewoon is nie.’ 1) Deur borgstaan het sy vader alles verloor en so moes Gideon self sy studie bekostig. Op sy elfde jaar het hy sy vader vergesel op 'n handelstog na Boesmanland. Toe hy by sy terugkeer op die Pêrelse Gimnasium kom, het hy net soveel Engels as Jakob Platjie geken; maar binne vyf jaar was hy al landmeter. Deur sy beroep het hy groot streke van Suid-Afrika goed leer ken. Op vyf-en-twintigjarige leeftyd is hy benoem tot Landmeter-Generaal van Transvaal. Gedurende die tweede Vryheidsoorlog was hy kommissaris oor die Britse krygsgevangenes op Waterval-noord. Drie dae nadat die Engelse hom met die wag gevange geneem het, is hom herstel in sy ou betrekking onder die Engelse bestuur aangebied. Ofskoon die aanbod binne 'n paar dae herhaal is, het Von Wielligh dit van die hand gewys, omdat die burgers nog in die veld was. 2) In 1903 het hom 'n ongeluk oorkom, wat byna tot volslae blindheid gelei het. Hy het na Delagoabaai gegaan om die astronomiese instrumente van die Transvaalse regering te haal. By dié geleentheid is op 'n karnaval kalk in sy oë gegooi. Mediese behandeling het sy toestand sover verbeter ‘dat hy nou in sy regteroog 'n kwart natuurlike gesig teruggekry het. Hy lees met 'n sterk bril en 'n dubbelde vergrootglas - sy neus byna op die papier, en dan sien hy nog maar vyf tot ses letters tegelyk.’ {==90==} {>>pagina-aanduiding<<} Hierdie gedeeltelike blindheid het hom genoodsaak om sy beroep op te gee, maar 'n rustelose werkywer het hom tot skrywe aangespoor. En ten spyte van die feit dat sy blindheid hierdie arbeid tot 'n knaende liggaamlike marteling maak, werk hy al die jare nog onverpoosd voort in belang van die volk wat hy liefhet. Sy boekeproduksie mag inderdaad merkwaardig heet, en selfs sonder die groot aantal tydskrifartikels wat gereeld verskyn het, veral in die byvoegsel tot Die Landbouweekblad, is Von Wielligh seker ons vrugbaarste skrywer. Vanaf 1876 het hy geskryf in Die Patriot, maar toe die blad 'n onnasionale politiek begin te verdedig, het hy hom daaraan onttrek (1891). Later was hy weer medewerker vir Ons Klyntji, waarin die eerste paar hoofstukke van Jakob Platjie verskyn het. Ook aan die blad Ons Taal het hy bydraes gestuur. In 1907 het sy eerste Dierestories verskyn, 1) vier dele waarvan tussen 1917 en 1922 uitgegee is. Verder: Jakob Platjie (1918); Eerste Skrywers (1918); Boesmanstories I-IV (1919-1921); Staan jou Man (1920); Robinson Crusoë (1920); Huis en Veld in 1921 gepubliseer, maar reeds in 1916 geskryf; Nimrod Seeling (1921); Ghwennie Barnveld (1922); Langs die Lebombo (1923); Die Vrouens van Vrindenburg (1924); Baanbrekerswerk (1925); Ons Geselstaal (1925). Von Wielligh is feitlik die enigste voorstander van die Eerste Beweging, wat ook aktief opgetree het in die Tweede. In Eerste Skrywers (1918) skets hy die ontstaan en werk van Die Genootskap van Regte Afrikaners, en verdedig die opvattings van die genootskap teenoor verskillende aanklagte van die Tweede Beweging. Hy polemiseer teen die spelling en organisasie van die Tweede Beweging en gee talryke taalkundige beskouings, wat getuig van 'n uitgebreide kennis van die volkstaal, maar wat soms minder juis is deur sy gebrek aan wetenskaplike insig in taalverskynsele. Die tweede druk (1922) het belangrike verbeteringe ondergaan. Die stof is beter gerangskik en die inhoud is verryk met 'n groot aantal dokumente wat betrekking het op die Patriotbeweging. Die briewe van die Genootskappers gee ons 'n interessante kyk op hul werk, strewe en letterkundige insigte, en Von Wielligh se uiteensetting en verdediging van hul beginsels is 'n waardevolle bydrae tot die geskiedenis van die Eerste Beweging. Reeds vanaf 1877 het Von Wielligh ‘alle egte en suiwere Afrikaanse woorde, uitdrukkings, sinswendinge, ens.’ opgeteken, maar sy werk het in die Anglo-Boere-oorlog in die hande van die vyand geraak. 2) Sy uitgebreide studie oor Ons Geselstaal 3) getuig van 'n onverfloude belangstelling in die ontwikkeling en gewestelike eienaardighede van die {==91==} {>>pagina-aanduiding<<} volkstaal. Met behulp van 'n groot aantal medewerkers het hy belangrike gegewens uit alle oorde versamel en uit sy ryke ervaring deel hy interessante anekdotes mee omtrent die ontstaan van 'n groot aantal gesegdes. Op dié manier het die boek 'n onmisbare vraagbaak geword vir studente van ons taal. Von Wielligh is wel geen geskoolde taalkundige nie, en ons sal steeds sy gevolgtrekkings met 'n sekere voorbehoud moet aanvaar, maar tog is sy werk 'n betekenisvolle bydrae tot ons kennis van Afrikaans. Baanbrekerswerk is bedoel as aanvulling van Eerste Skrywers. Op enkele ondergeskikte punte bevat dit wel iets nuuts, maar in hoofsaak is dit net 'n herhaling van wat al uit Eerste Skrywers bekend is. Die kritiek van die jongeres het Von Wielligh baie seer gemaak; hy vat dit as 'n persoonlike belediging op en beskuldig die ‘bedokterde’ resensente, of ‘resensers’ soos hy hulle op p. 14 noem, van gebrek aan piëteit teenoor die Patriot-baanbrekers. Meer as aan iets anders het hierdie werkie sy ontstaan te danke aan 'n gevoel van persoonlike gekrenktheid. Die Genootskap het volgens Von Wielligh net ondankbaarheid van die geleerdes ontvang. Die stemming waarin hy geskrywe het, blyk uit die volgende: ‘Dit is die gevoeligste, nee die pynlikste wond wat iemand toegebring kan word, om te beswadder wat vir dié se hart die dierbaarste is. Selfs in kultuurwerk word die neus ingesteek om kuns uit te snuffel - wat oorgenoeg is om 'n ewige walging in die woorde kuns en sielkunde te kry’ (p. 30). Dit is miskien waar dat die kritiek van die jongeres in sommige opsigte onbillik was, maar ek meen tog dat die Patriot-manne tevrede kan wees met die oes van dankbaarheid wat hulle al tot hiertoe ingehaal het. My eie kritiek op Von Wielligh in die eerste uitgawe van hierdie werk was miskien die felste, maar dit moet onthou word dat dit dagteken uit 1921-22, die tydperk toe dit nog die gewoonte was om alles wat maar net Afrikaans was met gejuig in te haal. Uit pure mensliewendheid het die publiek en party sogenaamde gesaghebbende kritici die onuitputlike Patriot-skrywer, wat ten spyte van sy gedeeltelike blindheid hom so dapper met die pen geweer het en sulke eienaardige volkstaal kon gebruik, onder die voorste Afrikaanse skrywers gestel. My kritiek was 'n reaksie op dié onoordeelkundige ophemeling. Dit was nodig om toe die alarm te blaas, want daar het groot gevaar bestaan, dat elke sommerso maklik geselsende skrywer vir 'n kunstenaar kon aangesien word. Dit was nodig om onomwonde te verklaar dat ons die eise ook op prosagebied hoër moes stel. Aangesien dit tans algemeen erken word dat Von Wielligh se werk meer kultuurhistoriese as letterkundige waarde besit, kan die grootste gedeelte van my kritiek in die eerste uitgawe nou agterweë bly. Daarin het die nadruk te veel geval op Von Wielligh se artistieke gebreke, terwyl {==92==} {>>pagina-aanduiding<<} daar te min rekening gehou is met sy vooropgestelde doel, om naamlik eenvoudige, leersame lektuur te verskaf vir die minder bevoorregte Afrikaner, veral op die platteland. In hoeverre hy hierdie doel bereik het, sal blyk uit die volgende bespreking van sy vernaamste werke. Jakob Platjie bevat 'n reeks sketse uit die lewe van Hottentotte, Korannas en Boesmans. Platjie gaan saam met die smous, Koos Fonk, op 'n handelstog na Boesmanland en hulle omswerwings is die draad wat die reeks anekdotes verbind. In die begin kry ons interessante staaltjies van die Hottentot se geskiedkundige oorlewerings, terwyl sy voorliefde vir 'n sopie, of dit nou al 'n ‘kraak’ of 'n ‘bars’ het, aanleiding gee tot vermaaklike kaskenades en 'n komieklike hoftoneel wat goed beskryf word. Op sy omswerwings as landmeter het Von Wielligh die mentaliteit van die inboorling deur-en-deur leer ken. Hy het hul noukeurig bespied in al hul gewoontes en gebruike, hul bygelofies en onbekommerde lewenshouding, hul uithaler-kunste en spoggerige streke, as daar volop kos en lawaaiwater is. Ook hul taal het hy fyn beluister. Die preek van Kleopas Kipie is 'n humoristiese weergawe van die naïewe beeldspraak en aanskoulike preekmetode van 'n Griekwa-predikant. Net so goed geslaag is die tekening van die parmantige Tys Bokkies, wat in sy eienaardige taal 'n vry-avontuur vertel. Dwarsdeur die boek word ons getref deur uitdrukkings wat bewys dat Von Wielligh hom goed ingeleef het in die dink-sfeer van die inboorling, dat sy kennis van hul spreekwyse op lang ervaring berus. Ek noem 'n paar voorbeelde: ‘Dan is ek jou kiewiet om jou langes my te laat drafstap.’ (p. 3); ‘Jou binnevet sal smelt voor jy die end pad daarnatoe afgestap het.... Oe! lank, lank geleë! Tafelberg was toe so groot as 'n perdevulletjie en die waaisand so groot as 'n molshoop....’ (p. 6); ‘Hy hou hom mos ook verspot wollerig om agter my hartlam aan te snuffel....’ (p. 136). Jammer genoeg het die skrywer gemeen dat 'n deurlopende gebruik van die inboorling se gekruide geselstaal sy lesers sou hinder. 1) Telkens word die dialoog dus opsetlik beskaaf, wat afbreuk doen aan die waarde van die boek. Af en toe kry ons ook die indruk dat die mense daar is ter wille van die taal en nie die taal ter wille van die mense nie. Hier en daar lyk dit of Von Wielligh soek na 'n geleentheid om uit sy taalkundige aantekeninge te put, en party anekdotes word opsetlik ingelas om 'n tipiese uitdrukking of komieke kwinkslag te kan gebruik. Oor die algemeen egter, maak die skrywer 'n handige en treffende gebruik van sy taalmateriaal, en slaag daarin om 'n hele reeks inboorlinge raak te tipeer. Hy streef nie na karakteruitbeelding in dramatiese vorm nie en gebruik die uitvra-metode om allerhande wetenswaardighede omtrent die inboorlinge aan die man te bring. Om sy teorie oor die goudmyne {==93==} {>>pagina-aanduiding<<} van Ofir uit te werk laat hy Platjie op erg onwaarskynlike wyse droom. 1) In Huis en Veld 2) wil die skrywer veral die maatskaplike en ekonomiese toestande omstreeks 1870 skets. Die ervarings van 'n paar families, wat baie rondtrek en 'n verskeidenheid van beroepe uitoefen, word in beknopte vorm meegedeel. Die skrywer laat b.v. Willie trou ‘nie om 'n liefdesverhaal in te voer nie, maar wel om die gebruik, of gewoonte van daardie tyd aan te gee’ (p. 30). Onder sulke omstandighede word die verhalende element natuurlik 'n mislukking en gebruik die skrywer sy persone net as spreekbuise. Die grootste gedeelte van die boek bestaan uit 'n beskrywing van ou toestande en talryke uitweidings, o.a. oor siektes en boerrate, ens. Von Wielligh het 'n uitgebreide kennis van die volkslewe, al is die vorm waarin hy dit meedeel nie alte gelukkig gekies nie. Ou Kammies, wat so dapper met die doringstomp spook is goed geteken. As hy praat dan luister ons graag, want sy taal is nie net 'n aftreksel van Von Wielligh s'n nie. ‘Maar seur, - nou? - nou kraak my ou litte van kanniemeernie en ek kan nie eers meer daardie klip raak spuug nie’ (p. 47). Een so 'n sinnetjie laat ons direk voel dat ons met 'n mens te doen het. Hoe raak is ook die toneeltjie waar Kammies met die piekniekwaens aankom: ‘Wel, hoe het dit gegaan, outa Kammies?’ vra Willie. ‘Nee, goed seurtjie. Net jammer die wiele van die wa het van droogte begin skree,’ antwoord die ou wynvlieg. ‘En die swaarste van al was, outa, dat die smeergoed al die tyd op die waentjie lê,’ las Dolf tussen in. ‘Dis by my kool die waarheid, seur Dolf! Toe het ek maar soos bobbejaan gemaak - ander pad sit kyk.’ (p. 41.) In die verhaal Staan jou Man word die boerelewe op die oostergrense van die Kaapkolonie in die tyd net voor die Groot Trek geskets. Die enigste draad wat die reeks anekdotes en avonture verbind, is dat almal bewys, hoe die persone hul man kan staan. Dit word so 'n opeenhoping van dapper dade, dat 'n mens onder die indruk kom, dat die kindere {==94==} {>>pagina-aanduiding<<} Enaks weer opgestaan het, terwyl Groot Fant familie van Simson is. Daar word geen poging aangewend om die gemoedslewe van die Trekkers uit te beeld nie, maar langdradige en dikwels onverstaanbare ‘moralisatiën ende contemplaciën’ oor die verskillende karakters ontbreek nie. In 1920 publiseer Von Wielligh 'n Afrikaanse bewerking van Robinson Crusoë en in die volgende jaar skryf hy self 'n Robinsonade, Nimrod Seeling. Nimrod is 'n seuntjie van vier jaar, wat in die hande van Hotnots en Boesmans val en by hulle bly tot sy veertiende jaar. Dit is 'n aaneenskakeling van avontuurlike gebeurtenisse, wat die skrywer weer 'n geleentheid gee om 'n handige gebruik te maak van sy kennis van die gewoontes, sedes en bygelofies van die inboorlinge, terwyl ook die jag op grootwild beskryf word. Deur gemis aan plastiese uitbeelding en 'n oorvloed van didaktiese uitweidings het hierdie verhaal, ten spyte van spannende situasies, minder aantreklik geword. Ghwennie Barnveld sluit aan by Nimrod Seeling en die inhoud is ‘in besonder vir jong meisies aantreklik gemaak’ (Voorwoord). Ghwennie se ouers het in 1869 die binnelande ingetrek en ons kry 'n aanskoulike tekening van die voortrekkerslewe. Veral goed geslaag is die beskrywing van die skoollewe; o.a. die meester met sy rosyntjieboslat, wat egter uitoorlê word deur die vernuftige seuns met hul intieme kennis van allerhande goggas! Von Wielligh het in sy voorwoord homself gewaarsku teen ‘gedugte sedepreke’ en ofskoon hy telkens 'n ‘toepassing’ maak, of dit deur die meester laat doen, en Ghwennie soms alte veel nes 'n brawe Maria handel, tog word die didaktiese beskouings nooit hinderlik nie. Op twaalfjarige leeftyd raak Ghwennie verdwaal in die veld en op haar langdurige swerftogte voorsien sy in haar behoeftes en beveilig haarself met die vernuf van 'n Robinson Crusoë. Hier het die skrywer sy intieme kennis van die veld, van plante, wilde diere en inboorlinge op aantreklike wyse gebruik en die omswerwings van die voortrekkerskind en haar hond behoort tot die leesbaarste gedeeltes van sy werk. Hy vertel sy storie padlangs, sonder enige hoogdrawende opsmuk. In die derde afdeling egter, is daar 'n saamlapsel van romantiese motiewe, waarby alle waarskynlikheid feitlik verdwyn. As die redding naby is, val Ghwennie uit 'n boom, verloor haar geheue, word die aangenome kind van 'n deftige Spanjaard en vertoef vyf jaar in Spanje. By hul terugkeer na Afrika word 'n groot jagtog georganiseer. Al die mans val onder die gifpyle van die Boesmans en die vroue moet hul verdedig teen die astrante Jonas, wat nou 'n kans sien om witmens te speel. Uiteindelik ontsnap Ghwennie en haar pleegmoeder uit die wildernis en in 'n vervolgverhaal, Die Vrouens van Vrindenburg word hul voorgestel ‘as twee beroemde Afrikaanse vrouens’. Ghwennie se vader keer na die dood van sy vrou as ‘die miljoenêr {==95==} {>>pagina-aanduiding<<} van die woestyn’ na die beskawing terug. Hierdie lewenslustige beesboer van die Kalaharie verval onder die mooi vrouens van die dorp Vrindenburg en met die hulp van sy verlore gewaande dogter win hy die hand van haar pleegmoeder, die weduwee van 'n adellike Spanjaard. Dit lyk of dit die bedoeling van die skrywer was om te bewys dat die karakter-adel van die ongeletterde Trekker nie hoef agter te staan by die fyns-beskaafde Europese geboorte-adel nie. Oom Diederik moet in sy omgang met die hoë kringe natuurlik leergeld betaal en die aanpassingsproses is juis die tema van die verhaal. Of die kaskenades van die ‘ou veteraan op die gebied van liefde’ onder die Vrindenburgse weduwees nou juis bydra om die waardigheid van sy figuur te verhoog is 'n kwessie van smaak. Hy het die ‘ingebore swakheid’ om alle mooi vroue te omhels en te soen en huldig die volgende opvatting van die liefde: ‘Liefde is 'n lastige jeukplekkie waar 'n mens nie kan bykom om te krap nie’! (p. 254). Om aan te toon hoe die skrywer sy woestynheld in die beskawing inlei, haal ek net een toneeltjie aan. Deur onkunde raak oom Diederik verseil in 'n kafferlosieshuis. Hy kry 'n armsalige kamertjie, word met skaapdip besprinkel en gaan met etenstyd op 'n kapotte stoel sit: ‘Met 'n geweldige slag val die ou heer, ruk die tafel met alles wat daarop is op hom neer en hy brul van pyn deur die kokende sop en stoofvleis wat hom van kop tot voet besmeer’ (p. 58). Hierop volg 'n heftige scène met die waardin. Die oubaas word omsingel deur lawaaierige kaffers en met bemorste klere die straat ingelei, gevolg deur ‘'n streep babbelende kinders en blaffende honde’ (p. 60). So 'n toneel sal die publiek waarvoor dit bedoel is seker laat skater. Dit mag ook leeslus aanwakker. Maar sou dit daartoe bydra om die smaak van die minder bevoorregtes te veredel? Langs die Lebombo is ‘'n awontuurlike verhaal oor moedhou, jag, gouddelwe en Swasies’. Die stof berus hoofsaaklik op die skrywer se eie ervarings as landmeter, maar dit word nie as persoonlike herinneringe uit die ou dae meegedeel nie, omdat dit ‘bra slegte smaak (is) as jakkals sy eie stert prys’ (p. 30). Braam Skutter, wat vir ons 'n newelagtige persoon bly, omdat ons hom alleen van die buitekant leer ken, moet dien om samehang te bring tussen die verskillende afdelings. Aan hom word toegevoeg, Kalie, 'n weetgierige Bolander, wat ten allen tyde gereed is om die uitgebreide inligtings van Braam met dankbaarheid te ontvang. Hierdie deursigtige metode is hinderlik, omdat een of meer persone, besete van 'n kroniese leergierigheid, altoos opsetlik saamgesleep moet word om alles te bekyk. Von Wielligh se werk is veral aantreklik, omdat hy sy eie ervarings meedeel. Dit het kultuurhistoriese betekenis, omdat dit ons breedvoerige inligtings verskaf oor 'n tydperk waarvan die teenswoordige geslag maar min afweet. Die enigste onware element daarin {==96==} {>>pagina-aanduiding<<} is die verdigte figure, wat alleen moet dien as kapstokke. As die skrywer hom kon bepaal tot persoonlike herinneringe, sou sy werk aan warme intimiteit en historiese waarde win. Tog bevat Langs die Lebombo 'n kleurige skildery van die ou dae en dit is volgepak met wetenswaardige besonderhede, wat vir die kultuur-historikus van die grootste belang is. Populêre volks-, plant- en dierkunde beslaan 'n groot gedeelte van die boek en vir die jongspan sal dit aantreklike leesstof wees. Die meeste van hulle sal wel weet dat alle skilpaaie doppe het, alle leeumannetjies maanhare en stertkwaste, en dat slange nie vier pote het soos 'n akkedis nie; maar naas die vertelling van sulke oorbekende sake, kan Von Wielligh hul baie meedeel van plante en diere, waarvan hul nog nooit gehoor het nie; ook van jagtogte en goudgrawery, ofksoon die manier waarop die kleims verkoop word (p. 118) seker nie navolgenswaardig is nie. Net soos in Ghwennie Barnveld is ook in hierdie verhaal die styl deurgaans eenvoudig. Alleen in die slotwoord loer die ‘praalskrif’ weer om 'n hoekie. In die Dierestories, soos deur Hotnots vertel, is Von Wielligh op sy beste. Gedurende sy omswerwings oor ons vlaktes het hy van sy kinderjare af aandagtig geluister na talentvolle Hottentotvertellers en op dié manier 'n kosbare skat van verhale versamel, wat hy in omgewerkte vorm uitgegee het. Hierdie verdienstelike versameling van die wyd en syd verbreide dieresprokies, wat ons by feitlik alle volke aantref, sal sonder twyfel steeds die Afrikaanse kind bekoor en deur die aangename verteltrant ook die volwasse leser boei. Von Wielligh voer ons terug na die tyd ‘toe die diere nog gepraat het’ en hy teken die geaardheid van die vernaamste diere in 'n reeks aantreklike avonture, wat vol lewendige handeling en oulike humor is. Ons ontmoet leeu, koning van die diere, en die vraatsugtige wolf, wat gewoonlik uitoorlê word deur daardie aarts-karnallie, jakkals. Hierdie vindingryke vabond, wat ten spyte van sy ondeugde tog so populêr is, kom nooit 'n plan kort nie, en hy besit ook die begaafdheid om dit met verregaande astrantheid uit te voer. Daar is ook sketse uit die lewe van die ander diere, maar die slim jakkals is tog die besgetekende figuur. Minder aantreklik is die stof van die Boesmanstories, wat ons verplaas in 'n spookwêreld, waar alles met toordery aanmekaar hang, die snaaksste gedaanteverwisselinge plaasvind en die allergekste maneuvers uitgevoer word. In dié wonderlike versinsels is daar weinig logiese gang; daar is geen klimaks wat steeds die belangstelling gespan hou, geen goeie motivering, geen artistieke, harmoniese eenheid nie. Meestal weet ons nie of ons met mense of diere te doen het nie, want ofskoon die diere gewoonlik enkele kenmerkende eienskappe behou, word die juiste maat in hul vermensliking selde getref, en verrig hul dade, wat alte spesifiek menslik is. Vir die gewone leser bied die grillige kronkelinge van die Boesman- {==97==} {>>pagina-aanduiding<<} fantasie weinig aantrekliks, ofskoon dit vir die etnoloog waardevolle gegewens bevat. Tog is daar toneeltjies uit die swerwende jaglewe van die Boesman, wat treffend is deur oer-naïewe eenvoud; ook raak skildering van diere (b.v. in nommer 44), maar selde 'n skone geheel. Die Boesman probeer, net soos die Hottentot, om 'n verklaring te gee van sekere eienskappe van die diere, maar hy mis die speelse fantasie en treffende plastiek van laasgenoemde, en streef steeds daarna om sy vertelsels in te pas in die raamwerk van ingewikkelde mitologiese oorlewerings. In die eerste deel word hoofsaaklik die mitologie behandel; deel twee bevat dierestories, terwyl die derde 'n geskiedkundige verhandeling is oor die ‘sedes, gewoontes en bekwaamhede’ van die Boesman. Die skrywer deel in populêre vorm en eenvoudige taal interessante besonderhede mee oor die lewenswyse van die inboorlinge en vleg daarin persoonlike ervarings en allerhande anekdotes wat hy versamel het. Die vierde deel bevat ‘gemengde vertellings, mees van 'n awontuurlike aard’, wat die skrywer gedeeltelik self opgeteken en gedeeltelik aan ander bronne ontleen het. Daar is 'n paar goeie jagstories en ook verhale wat ons 'n interessante kyk gee op die avontuurlike lewe van die boer teen die end van die negentiende eeu. Uit letterkundige oogpunt is dit die besgeslaagde bundel. 1) As ‘die laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners’ is Von Wielligh 'n interessante oorgangsfiguur. Van sy werke is daar duisende versprei en hy het ongetwyfeld 'n groot aandeel gehad in die opwek van leeslus op die platteland, veral by die jong geslag. In al sy verhale streef hy daarna om ‘die ou toestande jonk te laat bly’ 2) en met dankbaarheid moet erken word, dat hy ons dikwels 'n helder insig gee in die kultuurtoestande van 'n halwe eeu gelede. Hy het die voorreg gehad, om deur die aard van sy beroep, uitgebreide streke van ons land te bereis en dat hy 'n wakker opmerker was, getuig elke bladsy van sy werk. Die ervarings tydens sy swerftogte opgedoen het hom in die geleentheid gestel om 'n onuitputlike skat gegewens oor ons volksgewoontes, inboorlinge, taal, plante en diere te versamel, en ten spyte van sy blindheid, en ook as gevolg daarvan, het hy met prysenswaardige ywer voortgegaan om van die ou dae te vertel. Sy poging om die mense uit die wordingstydperk self op die toneel te bring misluk gewoonlik, maar hy slaag daarin om hul gewoontes te skets. Die grootste gedeelte van sy werk is van populêr-wetenskaplike aard en sy didaktiese uitweidings val in die smaak van dié groot gedeelte {==98==} {>>pagina-aanduiding<<} van ons volk wat geen gevorderde onderwys kon geniet nie. Vir hulle moet sy werk inderdaad 'n nuttige vraagbaak wees, wat 'n gesonde belangstelling op verskillende terreine sal opwek en daartoe sal bydra om hul kultureel bewus te maak. Net soos al die lede van die Genootskap het Von Wielligh hom van jongsaf beywer om ons Afrikaanse taalskat te versamel, en by die bespreking van Ons Geselstaal is al daarop gewys, dat hy in hierdie rigting verdienstelike werk gelewer het. Uit sy omvangryke werke is daar interessante taalmateriaal op te diep en deur sy toedoen het baie pittige gesegdes uit die omgangstaal vir ons bewaar gebly. Sy eie styl is deurgaans 'n weergawe van die geselstaal van die plattelander en daarom juis bevatlik vir die ongeletterde leser. In sy taal oorheers die los praattoon; die sinne sit minder logies inmekaar, vertoon baie herhalings, is meestal eentonig van ritme en dikwels onbeholpe van uitdrukking. ‘Ek skryf van sonuit tot sononder en neem behalwe Sondags, geen dag vakansie nie. Klaar met eet, stoot ek my stoel terug en is dadelik aan die pen - dag na dag. Dit gee my plesier en ek arbeid met lus - 'n werk van liefde - 'n present aan ons volk’ 1) Met so 'n werkmetode kan ons natuurlik selde meer as gesels-op-skrif verwag. Dit is dan ook waar Von Wielligh na mik, want ‘kunsstyl is meer ingewikkel en word nie so goed verstaan deur die minder bevoorregtes nie’. 1) En hy is op sy beste as hy padlangs gesels, want dan bereik hy juis kuns soos in die Dierestories. Hy het hom al die jare verlustig in die ‘raak kolskote’ van die spraakmakende gemeente. As hy ‘binne die grense van sy eie ploegland’ bly en die gesprekke van eenvoudige volkstipes of inboorlinge weergee, bereik hy dikwels 'n mooi effek, maar sodra hy hom ‘werp op die vleuels van praalskrif’ dan gee dit 'n lelike misoes af. Sy beeldspraak is grotendeels ontleen aan die daaglikse lewe; sy vergelykings vind hy in die huislike besigheid van die vrou of die bedrywigheid van die boer op die veld: ‘Die twee vrouens kan so rustig naas mekaar bestaan soos die twee punte van 'n skêr; soms knip hulle oormekaar.... maar bewaar die een wat tussenin kom....’ (V.v.V., p. 162). ‘M.A.- en B.A.-titels was vir hulle net soveel werd as 'n broeksak vir 'n hond’ (S.j.M., p. 149). ‘Fant het net soos iemand wat korhaan jag, om en om Sytjie gestap tot sy gaan sit, toe korrel hy’ (t.a.p. p. 229). ‘Frans weer was soos sodawater: druk jy die prop in, dan bruis dit, maar die gas is gou uitgekook. Gou driftig, maar gou weer goed’ (H. en V., p. 14). Met sulke eenvoudige vergelykings bly Von Wielligh binne die waar- {==99==} {>>pagina-aanduiding<<} nemingskring van dié lesers vir wie sy werk spesiaal bestem is. Hy gee 'n aanskoulike voorstelling, wat direk pakkend is en telkens 'n skaterlag moet laat opklink. Maar van die alledaagse verval hy partymaal tot plathede en ook onsmaaklike vergelykings, wat op die meer gevorderde leser 'n komiese indruk moet maak. So verklaar hy b.v. met groot erns: ‘....so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterdpleister onder 'n hond se bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees’! (H. en V., p. 121); - ‘Orals op die vloer lê uitgekrapte grond, en slordigheid het oor die meubelstukke sy seënwens uitgegiet in die vorm van 'n laag stof’ (V.v.V., p. 54); - ‘O skynheilige mensdom, wat sy medemens oordeel. As die helder soeklig op almal gedraai word, hoeveel blikskottels en blikborde sal van die rakke tussen die silwergoed moet padgee. En hoeveel sal bly staan as egte sterling silwer verklaar word!’ (J.P., p. 511). Naas baie voorbeelde van hierdie soort, kry ons ook telkens proewe van Von Wielligh se hoogdrawende ‘praalskrif’, wat deur 'n verwarrende mengelmoes van beelde gewoonlik onverstaanbaar is. 'n Tipiese voorbeeld is te vinde in Staan jou Man, p. 282-3. Deurgaans skryf hy egter in maklik verstaanbare taal, waarin volksaardige uitdrukkings telkens opduik. Dit is alleen as hy met abstrakte begrippe te doen het, dat hy gebruik maak van snaakse kombinasies, soos die volgende: ‘Hul nougesetheid het nooit 'n ketting om my hals gebind om volkome vryheid aan my te ontneem nie, dog hulle het steeds my laat voel dat ek in 'n paleis van kiesheid moet woon, wat tog maar al te seker die onaantasbare vroulike deug en reinheid moet beskerm’ (G.B., p. 162). Uit hierdie bespreking het dit geblyk dat Von Wielligh daarin geslaag het om eenvoudige leesstof aan die onderste kultuurlaag te verskaf. Hy bevredig die ongeletterde se weetgierigheid deur populêr-wetenskaplike uitweidings; hy vermaak hom deur die skildering van tonele uit die volkslewe in 'n gekruide taal vol komieklike kwinkslae, en hy skerp sy opmerksaamheid deur die noukeurige weergawe van allerlei wetenswaardighede. Die ideale volkskrywer moet natuurlik bo en nie gelyk met sy omgewing staan nie, as sy werk 'n veredelende invloed wil hê. Buitendien moet dit ook aan eenvoudige skoonheidseise voldoen, want kultuurhistoriese geskrifte wat ontsier word deur 'n smaaklose en gebrekkige styl het maar 'n twyfelagtige waarde. Von Wielligh staan dikwels gelyk met sy omgewing, en 'n gedeelte van sy werk is nie van smaakloosheid vry te pleit nie. In sy beste oomblikke egter lewer hy eenvoudige kuns en word hy werklik 'n opvoeder van sy volk. Ons mag dit betreur dat die ‘laaste stem’ uit die ou Genootskap nie skoner klink nie, maar wil geredelik erken dat hy dikwels 'n helder geluid uit vergange se dae in ons ore laat tril, wat ons nie graag wil mis nie. Hy is in die eerste plek {==100==} {>>pagina-aanduiding<<} die onuitputlike verteller van die ou dae, van die baanbrekers, hul sedes en gewoontes; ook die opmerksame bespieder van die natuur en die inboorlinge, wat uit die ryke skat van sy eie ervaring, dikwels aangenaam gesels met sy volk, en aan die plattelander veral nuttige leesstof gegee het in 'n tyd toe weinig ander skrywers hulle oor dié deel van ons bevolking bekommer het. Laat ons die moeilike werk van die eerste baanbrekers ten volle erken; laat ons erken dat in hulle tyd die volk nog nie ryp was vir kuns nie, dat selfs al kon die eerste skrywers dit gelewer het, dit geen weerklank sou gevind het by die breë volkslae nie. Ons huldig die goeie werk deur die baanbrekers in moeilike omstandighede verrig. Ons erken die verdienste van Von Wielligh, een van die staatmakers van die ou garde wat ook in ons tyd nog nuttige werk tot stand bring - maar ons kan in 1926 nie meer tevrede wees met die ideale van die geslag van 1875 nie. Dit mag kwetsend wees vir een van die ou stryders, maar dit is nou eenmaal die voorreg van 'n jong geslag om te begin waar die oue opgehou het. 1) {==101==} {>>pagina-aanduiding<<} Hoofstuk V. Verhalende Prosa: Die intrigeroman. § 1. Indeling. - D'Arbez as voorloper. In die eerste hoofstuk is 'n algemene karakteristiek van die Afrikaanse woordkuns van die laaste vyf-en-dertig jaar gegee, waarin enkele stromings aangedui is. Om 'n oorsig van die verhalende prosa te vergemaklik word dit wenslik om enkele hoofgroepe te onderskei. Vereers is daar die skrywers wat geskiedkundige en sedekundige motiewe borduur op die raamwerk van 'n spannende intrige met die doel om aangename en eenvoudige leesstof van gesonde strekking te verskaf, wat veral die jeug kultureel-bewus kan maak. 'n Voorloper op hierdie gebied was J.F. van Oordt (1856-1918), wat onder die skuilnaam D'Arbez, in die oorgangsperiode tussen die Eerste en Tweede Beweging 'n hele reeks historiese verhale geskryf het onder die algemene titel ‘Zuid-Afrikaanse Historie-Bibliotheek’. Op aangename wyse het D'Arbez, min of meer op die manier van Van Lennep, wat toe en veel later nog in ons land as een van die groot Nederlandse skrywers gegeld het, geskiedenis en romantiek deurmekaar gevleg en die jeug van Suid-Afrika so speel-speel die waarheid vertel, wat hul op die verengelste skole gewoonlik onthou is. Mooi Annie, die mees geliefkoosde deel van die serie, het, naas Van Lennep se werke, waarskynlik gedien as die model waarna De Waal e.a. later gewerk het. In dié verhaal kry ons verskillende kykies in die geskiedenis, wat gewoonlik los staan van die verhaal, of net met 'n dun draadjie daaraan verbind is. Dit is nie die werk van 'n skeppende kunstenaar, wat met sy besielende asem lewe blaas in die dorre doodsbeendere nie, maar 'n poging om vermaak en nutte lering te kombineer. D'Arbez het 'n aangename verteltrant, en hy sorg vir die nodige spanning wat die jongspan die lus moet gee om sy brokstukke geskiedenis ook te lees. Annie is nie net mooi nie, maar sy kry ook die gebruiklike erfporsie van 'n skatryk bloedverwant en 'n klomp deftige Kaapstadse vryers. Maar sy gee die voorkeur aan 'n eenvoudige, dog deeglike grensboer, en na 'n bietjie moeilikheid ‘kry’ die twee mekaar. Die verhaal sluit met die konvensionele skildering van die allergelukkigste egpaar met {==102==} {>>pagina-aanduiding<<} die eersgeborene op die arm van die moeder - 'n slot wat ons herhaaldelik in De Waal se romans aantref. 1) By die skrywers wat in hierdie rigting werk is die avontuur (meestal die historiese avontuur) hoofsaak, die didaktiese strekking 'n belangrike bysaak, en die psigologie gewoonlik glad geen saak nie. 'n Skerp teenstelling met hierdie groep vorm die meer bewuste kunstenaars wat daarna streef om die mens ook in sy innerlikheid te ontleed, by wie die avontuur vergeestelik word en 'n vooropgesette strekking deurgaans afwesig is. Die teenstelling tussen hierdie twee groepe is al in die eerste hoofstuk meer in besonderhede uitgewerk. 'n Vaste grens tussen die twee kan natuurlik nie aangewys word nie, want tussen die uiterste verteenwoordigers is daar allerhande skakerings. By die indeling het die oorwig van die intrige- of sielkundige motief die deurslag gegee. In 'n letterkunde wat nog pas in sy aanvangstadium verkeer en waar die meeste skrywers nog rondsoek in allerhande rigtings sou 'n meer presiese indeling ongewens wees, want verskillende strominge, reaksies en invloede kan eers langsamerhand met enige sekerheid onderskei word. Ek meen egter, dat hierdie voorlopige indeling op duidelik waarneembare grondslag berus en 'n beter insig in die ontwikkelingsgang van ons verhalende prosa gee as die kronologiese wat in die eerste uitgawe nog vrywel die enigste oplossing was. Langenhoven toon verwantskap met albei hoofgroepe, maar hy is tog in hoofsaak didakticus en sy werk kan beste as eenheid beskou word in 'n afsonderlike hoofstuk. 'n Aantal prosaskrywers wat totnogtoe weinig gepresteer het en beswaarlik by een of ander groep kan ingedeel word, sal in die agste hoofstuk bespreek word. § 2. Adv. J.H.H. de Waal (1871-1937). Jan Hendrik Hofmeyr de Waal is gebore op 30 Desember 1871 op die plaas Bakkerskloof, Stellenbosch. Sy vader was boer en handelaar, sy moeder die oudste suster van ‘Onse Jan’. Aan die Normaal-Kollege in Kaapstad het hy gematrikuleer en daarna was hy 'n tydlank onderwyser o.a. op Uitenhage en Utrecht. Later het hy 'n betrekking aangeneem in sy vader se ysterhandel, maar die joernalistiek het hom aangelok en as voorbereiding vir dié vak het hy regte gaan studeer in Londen, waar hy aangesluit het by die Inner Temple en as studievrind o.a. generaal Jan Smuts had. Nadat hy in besonder kort tyd sy wetseksamens afgelê het, tree hy in die huwelik met Emma de Kock (1898) en woon vir ses jaar in dieselfde huis as ‘Onse Jan’, vir wie hy as ‘luitenant’ dien. In Julie 1903 word hy redakteur van die tydskrif, De Goede Hoop, {==103==} {>>pagina-aanduiding<<} waarin Stompies, Johannes van Wyk en Die Tweede Grieta verskyn het. ‘Sy bedoeling met daardie geskrifte was om die jong lesers soveel moontlik met leesstof in populêre skryftrant te voorsien, en wel in die taal wat hy van jongsaf voorgestaan het - Afrikaans.’ 1) Op sy kantoor is op 5 Oktober 1906 die Afrikaanse Taal-Vereniging ontstaan en die erkenning van ons taal in die Kaapse geregshowe is aan sy inisiatief te danke. 2) In Des. 1914 het hy afgetree as redakteur van De Goede Hoop, as gevolg van 'n wrywing met die uitgewers oor politieke kwessies. Onder die nom de plume, Jan van Rozenburg, had hy naamlik generaal Hertzog se politiek verdedig by die kabinetskrisis in 1912. Nederland het sy dienste as voorvegter vir ons taalregte erken deur sy benoeming tot lid van die Leidsche Maatschappij, en van die Universiteit van Pretoria het hy in 1936 'n doktorsgraad honoris causa ontvang. Hy was enige jare voorsitter van die Unie-Volksraad, waarin hy lank Piketberg verteenwoordig het. Johannes van Wyk het oorspronklik in De Goede Hoop verskyn, die eerste hoofstuk in Jan. 1904. Die skrywer verklaar self, dat die ontstaan van die roman te danke is aan sy betrekking as redakteur van die blad. 3) De Waal het skrywer geword, nie deur 'n innerlike skeppingsdrang nie, maar deur die dwingende mag van omstandighede. Toevallig het 'n yweraar en hartstogtelike voorstander van die lank geminagte volkstaal die middel in die hand gekry om aan verstokte teenstanders te wys, dat in dié taal 'n roman kon geskrywe word. Eers probeer hy om deur uitlowing van 'n honorarium die skryflus van sy lesers op te wek, maar die resultaat was teleurstellend; al die stukke moes in die snippermand. Aangemoedig deur die sukses van sy toneelspel Angelina het De Waal toe besluit om self 'n roman te skrywe. Met sy nugter verstand het hy 'n reeks toneeltjies op kunsmatige wyse inmekaar gepas en die resultaat was 'n leesbare roman, wat veral die jongeliede, vir wie De Goede Hoop in die eerste plaas eintlik bedoel was, met groot spanning gevolg het. Ons staan hier voor 'n gewigtige kultuurgebeurtenis. Dit naamlik: in 1904 het die eerste Afrikaanse roman van die Tweede Beweging verskyn. 4) Die skrywe van Johannes van Wyk was 'n daad van betekenis. Na al die gekibbel 'n daad. En 'n daad, wat vir meer as een die oë laat oopgaan het. Vir lange jare had die teenstanders van Afrikaans met triomfantlike gebaar hul onweerlegbare stelling opgedreun: ‘Het Afrikaans heeft geen letterkunde!’ De Waal se antwoord was: Johannes {==104==} {>>pagina-aanduiding<<} van Wyk. ‘Die eerste oplaag het bestaan uit 500 eksemplare, en die drukkerskoste was toe slegs een-sesde van wat dit vandag vir so 'n aantal sou wees. Tog is ek destyds gelukgewens geword met my moed dat ek dit gewaag het om 'n boek in Afrikaans uit te bring.’ 1) Vir die voorstanders van Afrikaans was die roman dan ook 'n welkome bondgenoot. Die Afrikaanse Taalgenootskap in Pretoria het onmiddellik 'n beroep gedoen op alle Afrikaners om dit te lees, en die meeste koerante het dit warm aanbeveel. Sy verspreide stukke het De Waal in 1911 gebundel onder die titel Stompies, en daarop het gevolg 'n roman Die Tweede Grieta (1912). In die volgende jare het die politieke bedrywigheid op hom beslag gelê, totdat hy na 'n kort verhaal Oorlog tussen twee dokters (Die Huisgenoot, 1922) 'n derde roman uitgee: Oupa en sy Kleindogters (1923). In 1928 verskyn Die Lewe van David Christiaan de Waal deur J.W. (sien hoofstuk X) en in 1931 word Oorlog tussen twee Dokters in omgewerkte en uitgebreide vorm gepubliseer. My Herinnerings van Ons Taalstryd (sien hoofstuk X) volg in 1932 en in 1934 Die Eksentrieke Essie. De Waal het ook drie toneelstukke geskryf: Oupa, Die Jong Skrywer en Die Dobbelspelletjie. Van Stompies het in 1937 'n uitgebreide herdruk in drie deeltjies verskyn: Lucie, Sy Wilskrag getoets en Amper, maar nog nie. As raamwerk vir 'n reeks avonture kies De Waal in al drie romans 'n periode uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. In Johannes van Wyk gebruik hy die troebele tydens Adriaan van der Stel se regering en die jagtogte op Boesmans om 'n historiese kleur aan sy ingewikkelde intrige te gee. In Die Tweede Grieta neem die hooffigure deel aan die Tweede Vryheidsoorlog, terwyl die gebeurtenisse in Transvaal, tussen die anneksasie deur Shepstone en die slag by Majoeba, die agtergrond vorm van Oupa en sy Kleindogters. Die grondplan van al drie romans is as volg: die eer van 'n wonderskone meisie (of meisies) word belaag deur 'n aantal volbloed skurke, maar verdedig deur 'n paar voorbeeldige helde wat na bomenslike inspanning uiteindelik die skurke opruim en hul bruide in die arms sluit. Om die spanning te verhoog word gebruik gemaak van wisselende oorlogskanse, nagtelike spokerye, fynbedagte wraakplanne, 'n dubbelsinnige testament, die geheimsinnige verdwyning van die heldin en verder al die onverwagte toevallighede en verbluffende draaitjies van die intrigeroman, wat by De Waal steeds uitloop op 'n driedubbele huwelik en 'n paar gesonde suigelinge ‘....almal spekvet’. Hoofsaak bly by De Waal altoos die intrige, wat hy inderdaad met vindingryke vernuf inmekaar sit. Al die romans is vol spannende situasies, en steeds word die belangstelling geprikkel deur nuwe verwikkelinge, wat veral jong lesers met koorsagtige gejaagdheid laat soek na die ver- {==105==} {>>pagina-aanduiding<<} rassende ontknoping. Om gouer daar te kom, sal hulle wel die historiese uitweidings oorslaan, wat dikwels heeltemal los van die verhaal staan. Met dié geskiedkundige gedeeltes het De Waal dieselfde bedoeling as D'Arbez, om naamlik sy jong lesers op aangename wyse 'n les in vaderlandse geskiedenis te gee. In die eerste jare van die Tweede Beweging was dit erg nodig, want dit is bekend dat die waarheid dikwels stelselmatig verdraai is op ons skole. Die didaktiese element is dus 'n welbewuste poging van 'n patriotiese skrywer om die anti-nasionale onderwyspolitiek van die oorwinnaar teë te werk. In Johannes van Wyk is die historiese vernis baie dun, en 'n besonder avontuurlike tydperk uit die vroegste Kaapse geskiedenis word alleen gekies, sodat die karakters die wildste kaskenades kan uitvoer, maar tog nog 'n glimp van waarheid behou. Die skrywer doen hoegenaamd geen poging om hom in te leef in die atmosfeer van die periode nie, en die tekening van die manne, wat in die worsteling teen Adriaan van der Stel die eerste saadjies van ons nasionale bewussyn gesaai het, is oppervlakkig. Die maatskaplike verhoudings en die verengelste dialoog is die van 1900 en dit is alleen 'n paar uiterlikheidjies wat ons aan 1700 se gebeurtenisse herinner. Meer in sy element is De Waal as hy historiese gebeurtenisse uit sy eie tyd skets, soos in die ander twee romans. In Die Tweede Grieta kry ons wel geen dramatiese skildering van die volksworsteling nie en word die eenheid van die roman verstoor deur historiese uitweidings. Maar die skrywer het hierdie periode tog self deurleef, en hoewel dit gladnie sy bedoeling is om die innerlike roersels van die volksiel uit te beeld nie, slaag hy soms uitstekend daarin om ons 'n stukkie oorlogspsigologie te gee, soos o.a. die gesprek tussen Bertie Muller en kaptein Glide in hoofstuk III. In Oupa en sy Kleindogters word die historiese drade soms met goeie gevolg deur die handeling gevleg, maar die losstaande betoog ontbreek ook hier nie (Hoofstuk XXII, b.v.). Die karakters word wel sydelings in die geskiedkundige handeling betrokke, hul uiterlike dade word meegedeel, maar van hul innerlike lewe weet ons so goed as niks. Ons sou so graag geweet het wat daar in oom Klaas en Gert se gemoed omgaan as hulle deelneem aan die opstapeling van die klipmonument by Perdekraal; maar by so 'n sterk-dramatiese moment skiet die skrywer se uitbeeldingsvermoë te kort en hy kan net die nugtere feit meedeel (p. 131). Oupa Klaas is die beste verteenwoordiger van die tydperk. Hy is die opregte ou Takhaar, besiel met die vryheidsideaal, en afkerig van alle nuwe gewoontes deur vreemde fortuinsoekers ingevoer. Die botsing tussen die ideale van die ou Voortrekkers en die ligsinnige, nuwerwetse sedes van die jonger geslag, wat verlei word deur die valse skitterglans van die stadslewe is die sentrale tema waar die avonture om gegroepeer {==106==} {>>pagina-aanduiding<<} word. Hierdie waardige oubaas, wat eenkant alleen in sy rondawel woon, die raadgewer van sy kleindogters en bestraffer van sy papbroekerige seun is 'n aanduiding dat De Waal gelukkig meer aandag aan karaktertekening begin te wy. In die vorige verhale is sy helde marionette, aangeklede poppe, waarby die avontuur alle psigologie verdring. Die enigste ontwikkeling, wat daar by sy hooffigure te bespeur is, bestaan daarin, dat die oorspronklike eienskap waarmee hy hul bedeel het, hoe langer hoe sterker word. Sy helde word al dapperder, sodat hulle in die laaste hoofstuk Uebermenschen is, sy skurke al hoe swarter, totdat hul die baarlike duiwel in persoon word. Hy bedink allerlei middeltjies, wat daarop bereken is om ons bewondering vir sy held te laat styg, of ons veragting vir sy skurke te vergroot. Johannes van Wyk is in alle opsigte 'n voorbeeldige jong kêrel en so ook Andries Burger. Laasgenoemde is wel 'n bietjie koppig op skool, maar De Waal laat ons goed voel, dat dit eintlik 'n goeie eienskap is, wat net pedagogiese leiding nodig het. As Andries dan ook Perold se skool deurloop het, word hy 'n tipe van die nasionale student. Hy wil nie eers met sulke ‘rou rooi’ dametjies, soos Grace Palmer praat nie, en die koppigheid van die kind moet ons bewonder, omdat dit die onversetlike wilskrag van die jongeling verklaar, wat teen die wens van sy pleegvader en professor tog oorlog-toe gaan. Andries is ook 'n sportman van die eerste water; hy weier om met sy beste vrind 'n dop te gaan steek en verwyt hom ernstig sy losbandigheid en gebrek aan nasionale sin. Bertie se swakheid moet dien om ons 'n hoër dunk van Andries te gee. In die oorlog word Andries so gou gebrei, dat ‘hy amper enigiets sou waag’. Hy maak 'n stoutmoedige aanbod aan generaal De Wet (p. 159) en as verkenner is hy die dapperheid in persoon, wat altyd die vyand baasraak. Op 'n koppie red hy Bertie, neem drie National Scouts gevange en skiet een dood. Sy gewonde vrind verpleeg hy met die grootste selfopoffering (p. 206). Phineas voel ‘glad ongerus in Utrecht’ as hy hoor, dat daardie waagduiwel.... in die rondte swerf as verkenner’, en al is hy ook nie vandag se kind nie waar dit op geslepenheid aankom, moet hy telkens erken, dat Andries hom uitoorlê. Andries kry altyd die mooi rol; hy red Grace van die Kaffers, bring haar in veiligheid en voorsien haar van geld; hy maak die geld buit, wat Phineas en Loogman van die weduwee afgeneem het en stuur dit aan haar terug met De Jager. As genl. De Wet 'n skitterende oorwinning behaal, dan is Andries daarby. As veldkornet Potgieter in die nood raak, dan is dit Andries, wat hom raad gee, en met die hulp van twee vrinde bestook hy die Engelse uit 'n voordelige posisie sodat die kommando ontsnap en die vyand groot verliese ly. Maar Andries is nie alleen 'n onverskrokke krygsman en verkenner nie, hy kan ook 'n mooi gedig maak en behaal selfs 'n prys {==107==} {>>pagina-aanduiding<<} daarmee. As die vrede gesluit word, dan hoor ons: ‘niemand het die prysgee van die duurgekogte onafhanklikheid van die Transvaal dieper ter harte geneem nie as die jong hooghartige Andries.’ By die tekening van sy skurke gaan De Waal presies op dieselfde wyse te werk. Die een laag swartsel na die ander smeer hy op. Gert Rass word oplaas só gevaarlik in sy duiwelagtige haat, dat De Waal verplig is om hom op te ruim voor hy Johannes en sy vrinde kan beloon vir hul deug. 1) Phineas Marais, die eks-teoloog is ook 'n monster, wat al monsteragtiger word. Sy huigelary word hoe langer hoe geraffineerder, en om die bewondering vir Andries des te hoër te laat styg word sy teenstanders al hoe gewikster in Fariseïese listigheid. Hy moet deur sy verraad en geldsug die nodige verwikkelinge skep, sodat Andries 'n kans kan kry om sy edelmoedigheid en onverskrokkenheid aan die dag te lê. Die laagheid van Phineas is die terrein waarop die patriot Andries, le chevalier sans peur et sans reproche, steeds met sukses opereer. Andries is dwarsdeur die roman die lieweling van die outeur, orals word hy verheerlik, orals word die pad vir hom skoongemaak. Hoe dat by De Waal alles afhang van die grillige toeval blyk uit die verlowing van Hester Fourie en Bertie. Hester sê Phineas af, nie as gevolg van 'n geweldige sielekonflik nie, waarin haar patriotisme en liefde in botsing kom. Tot op die laaste behou sy haar naïewe geloof in sy opregtheid, ja verneder haarself voor haar veragtelike aanbidder: ‘Ek weet, dat jy my sal beskou as 'n bedriegster, 'n valse skepsel.... Ek weet dat jy die naam van Hester Fourie sal verag, sal verfoei, sal wil uitdelg uit jou geheue,....’ Sy is selfs gewillig om Phineas te trou al was hy ook ‘handsupper’ - eenvoudig omdat haar eie pa ook sy nasie verraai het - 'n rede wat psigologies absoluut vals is, omdat juis die skrynende pyn daardeur veroorsaak, haar die verlore ideaal des te inniger sal laat koester en haar verlange om dit in die minnaar terug te vind oneindig versterk. ‘Pa het my diep teleurgestel, maar Phineas sal sy man staan - hy sal aan sy volk getrou bly’, so sou die vrou Hester geredeneer het, die vrou wat geloof het, dat hy 'n volksleier behoort te word! As De Waal wou gehad het, dat ons Hester Fourie moet bewonder as 'n fiere dogter van die Vrystaat, dan moes hy die bittere kneusing van haar meisieshart uitgebeeld het by die oorlopery van haar vader en minnaar, die wondere, geheimnisvolle rypwording van haar kinderliefde vir Bertjie, en haar langsame bewuswording van die feit, dat haar gevoel vir Phineas 'n vergissing was. Maar in die roman gehoorsaam sy aan ‘'n onverklaarbare, waarskuwende stem.... 'n instink wat na geen menslike raad wou luister nie’, terwyl sy tog héél goed {==108==} {>>pagina-aanduiding<<} weet, dat Bertie die plaas van Phineas in haar hart ingeneem het. Of het Phineas haar ook leer huigel? Haar liefde vir Bertie is nie 'n allesbeheersende, allesoorwinnende passie nie, wat haar met dwingende mag na die geliefde dryf, maar haar lot word beslis deur die absoluut toevallige ontdekking van Nurse Nellie. Haar lewe is nie die langsame ontplooiing uit 'n innerlike drang, wat onverbiddelik dryf na die vervulling van 'n eie sielsgeaardheid nie, omdat die skrywer nog nooit geloop het op die slingerpaadjies, wat soos 'n wirrel-warrel-vlegwerk uitgesprei lê oor die groot wonderland - das Ewig-Weibliche. Die blinde toeval! In Johannes van Wyk het die nommertrekkery op die basaar 'n beslissende invloed op die lewensgeluk van ses persone. En as Johannes sy kans laat glip, dan speel dieselfde blinde toeval hom die meisie nogeens in die hand, dan kry hy 'n geleentheid om Hester te red en verseker die flink optrede van sy vrinde hom 'n ongestoorde wandeling met haar. By die eetmaal is dit wéér die blinde toeval, wat hom 'n sitplaas naas Hester gee; wat die kaptein en kolonel met plotselinge doofheid slaan, sodat hy sy geheimpies uitvoerig aan haar kan vertel. Voorwaar, Johannes laat ons dink aan Van Lennep se motto by De Roos van Dekama. Hy is die man wat: ‘wacht en stille sitt’ en tog alles kry, terwyl Gert met al sy slim planne homself net in die ongeluk stort. En Grace Palmer? Haar huwelik is afhanklik van die toevallige ontdekking, dat sy die tweede Grieta is. Sy self gee drie redes op, waarom 'n huwelik met Andries onmoontlik is. ‘De Intrigeroman kan alles bewijzen. Hij is een droom; de natuurwet is er buiten dienst gesteld.’ Om dié rede behoef dit dan ook geen verbasing te wek nie, dat daar nog 'n hele reeks onwaarskynlikhede in die twee romans te vinde is, o.a. die verdwyning van Grieta, die onvoldoende motivering van die haat tussen Andries en Phineas, en veral die feit, dat Conradie die Kaap verlaat sonder om Andries mee te deel wie Grace is. Op dié manier kry Andries nog 'n kans om sy koppigheid te wys en die feit, dat hy nou al deur sy oorlogservarings tot selfstandige man geryp is, verhinder sy pleegvader nie om hom nog soos 'n stout seuntjie te behandel nie! In J.v.W. laat die karakter van Abram ons ook twyfel aan die egtheid daarvan; die skoot wat Abram net presies in die hart tref, terwyl hy op Johannes se hart mik, verwek 'n skeptiese glimlag. Dat Gert in die gifdrinktoneel hom so maklik laat fop, klink ook onwaarskynlik. De Waal slaag daar nie altyd in om sy sterk-romantiese gegewens deur 'n onweerstaanbare suggestiewe werking tot onbetwyfelbare realiteit te maak nie. Dit blyk ook duidelik uit Andries se avontuur by Utrecht. Ons verneem dat 't ‘buitengewoon donker’ is - só donker selfs, dat die ruiter ‘nouliks die kop van sy pêrd kon sien.’ Tog laat ‘'n warrelwindjie 'n {==109==} {>>pagina-aanduiding<<} dun stofwolkie.... opstuif’! Later eers word die terrein deur bliksem af en toe verlig. Maar dit bly só donker, dat die kaffer ‘slegs 'n donkere gestalte’ is. Die skrywer laat ons egter nie voel deur allerlei fyn trekkies nie, dat dit werklik donker is. Hy teken die hele toneel asof dit alles in die skroeiende son gebeur het. ‘Verbysterd en asof half lam leun sy (Krysie) met haar een hand teen een van die opstaande rotse.’ Het Andries kat-oë gehad, of het hy dit ook alles ‘met die hulp van (die) weerlig’ so haarfyn gesien? Hy soek nie voel-voel na die gewere en bandeliers nie - hy tel sommer ‘een van die twee Lee-Metfords en die bandeliers op....’ Hy loop nie struikel-struikel oor die los klippe in die donker nie - ‘hy nader.... die meisie’. En sy sien hom ‘verward’ aan; ‘sy skud haar kop’, as hy haar iets vraag en ‘aan haar kappie en jas kon jy.... sien, dat sy terdeë met klei in botsing gewees het.’ Het dit ook alles gebeur met die hulp van bliksemstrale, want dis nog só donker, dat hy byna oor die twee doodgeslaande perde val. Die gebrek aan suggestiewe besonderheidjies belet ons om die waarheid van die nagtelike toneel te voel. Die skrywer het dit nie innerlik deurleef nie, maar met sy nugter verstand die avontuur inmekaar gesit. En hy was hier tog op bekende terrein, wat hy was self onderwyser in Utrecht en het seker meer as een van dié donderstorme gesien, wat met sulke plotselinge felheid kan neerswaai, so geheel anders as in die Kaap. Die donderstorm word as volg beskrywe: ‘Die stormwolk, waaruit soveel vog gegiet en vuur geskiet was, was nog met onverminderde water en elektrisiteit belaai en woed nog aldeur voort, (dus 'n wolk, wat voortwoed!) maar nie meer vlak bo-kant die hoofde van die jong twee nie. Die reusagtige massa was na die noordweste gedrywe, en slegs die nadruppels val nog by die vlugtelinge. Met die ooptrek van die hemel kom ook die opgaande maan te voorskyn.’ Van natuurvisie geen sprake nie, nog minder van individuele impressie of verrassende segging. Die hele beskrywing word gegee enkel om die laaste sinnetjie, want Andries moet 'n kans kry om ‘die sewentienjarige poppie’ te bekyk. Die beskrywing van Patrysvlei is soos die van 'n afslaer, wat 'n plaas wil verkoop. Patrysvlei is ‘'n lushof’ met mooi draadheinings. Daar is 'n ‘deftige woonhuis’ met ‘netjies ingerigte buitegeboue, stalle, krale, kampies en pluimveehokke’; ‘in sag groen gelowerde vrugteboorde’, 'n groot tuin, 'n ‘massiefgewalde dam’, deur 'n ‘altydlopende stroom gevoed’ en verder ‘uitgebreide, duidelik afgebakende saai- en weilande’. Die skrywer verseker ons, dat dit ‘'n bekoorlike landgoed, 'n paradysie’ is, maar so 'n vendusieagtige ophemeling laat ons totaal koud en het met kuns niks te maak nie. Die van buite-gekome observatoriese gewaarwording is nie deur die van binne opstygende deurvoeling tot 'n psigiese verbeelding geryp nie. {==110==} {>>pagina-aanduiding<<} Die verslag van die voetbalwedstryd in hoofstuk vyf van Die Tweede Grieta is ook 'n bewys van De Waal se onmag as kunstenaar. So 'n beskrywing kan 'n rapporteur van 'n agterveldse koerantjie ook gee, want dis kleurlose joernalistiek, sonder 'n persoonlike aksent, in die allergewoonste voetbaljargon. Die partytjie by Bertie was in 'n groot saal ‘waar die meeste van die mense in vrolike gebabbel vergader was.... Verversings en lekkernye is intussen rondgedeel en van die keurigste sterk dranke kon jy te drink kry.’ In Johannes van Wyk nog 'n staaltjie: Hester en Johannes sing saam op die rots: ‘Toe begin hulle weer. Al die ander was stil as die graf. Heerlik weer lui (weerlui?) die skone melodie. Trillend weer het iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant weerklink. Met soveel gevolg is elke woord uitgebring geword dat dit ingedring het tot in die diepste hoekie van elke hart en die fynste snare daar geroer het. Was dit dan wonder dat selfs Louise haar oë vogtig geword het?’ Viermaal weer; sesmaal ge opmekaar gestapel! en dit in ses-en-'n-halwe reël! By die waaragtige kunstenaar, wat hom diep in sy stof inlewe, verander ritme, styl, taal, woordekeus voortdurend al na gelang van die stof. De Waal wil hier musiek in woorde verklank en hy hakkel soos 'n doofstomme. Die mooi alliterasie: ‘Trillend weer het iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant weerklink’ gaan verlore in die aanswellende gutturale kakofonie. De Waal se styl het geen eie geluid nie. Sy taal is die van die koele gedagte, ontspring nie uit 'n ontroerde gemoed nie, mis harmoniese ritme. Nooit voel ons daarin die koorsagtige klop van die digter, nooit tintel daarin die warme liefde vir singende woorde nie. Kort en saaklik deel hy ons mee, soveel as nodig is om die intrige te verstaan, soms met katalogusagtige dorheid. Grace word ingelei in ‘'n kamer van middelmatige grootte, wat klaarblykelik gedien het vir eet-, slaap- en werkkamer tegelyk, want in die middel staan daar 'n tafel met 'n bord, 'n kaasbak, 'n suikerpotjie, 'n standertjie, 'n paar koppies en pierinkies en nog meer sulke goed; naby die venster sien jy 'n tafeltjie met 'n goedkoop naaimasien en 'n werkmandjie daarop, terwyl, aan die teenoorgestelde kant van die kamer, die voetenent van 'n ledikant van agter 'n Japanse skerm uitsteek. Verder bemerk jy daar ook 'n wastafeltjie en enige ander meubelstukke - almal oud en eenvoudig, maar net en sindelik.’ 1) Geen verrassende wending, geen metaforiese vermoë nie. Dit is net asof hy 'n reusagtige settery het, waarin die sinne netjies in hul bakkies gerangskik staan - la phrase fait une fois pour toutes. 2) As iemand skrik of verbaas is, dan het hy byna altoos ‘wydgespalkte, {==111==} {>>pagina-aanduiding<<} wit kykers’ en staar 'n ander persoon ‘ontsettend verras’ met oop mond aan, terwyl daar ‘'n vinnige rilling’ deur die hele lyf loop! Soortgelyke stylverstenings is volop in die romans en ons sou die hele inventaris kan opmaak van die bakkies in De Waal se settery; van die beperkte aantal stereotiepe uitdrukkings, wat met tergende reëlmatigheid by amper elke dialoog voorkom - die ‘knersende tande’, ‘geamuseerde gesigte’, die ‘hande in die hare’, die krappery agter die ore, of op die kop, die ‘bevestigende knikkies’, ‘wit bewende lippe’, ‘glinsterende, wetende, verwilderde, verslindende.... oë’; ‘vuurrooi wange’, ‘veel-betekende(?) glimlaggies’, ‘angstig-kloppende, bonsende harte’ en al die verskillende soorte kyke!! - o.a. ‘die kyk.... wat as 'n dolk tref’, (J. van W., p. 46). Dan nog De Waal se besonder hartlamuitdrukking kykers - van allerlei aard: diep, vurige, swart, donkerbruin, glimlaggende, skitterende, medely wekkende, sielvolle 1), glimmende, bewonderende, grys, groot, ope, blink, pragtige, patetiese.... 2) 'n Enkele maal word ons verras deur 'n raak tekening: ‘rooi as 'n granaatappel’, (Tw. Gr., p. 121); ‘met 'n berouvolle krakie in sy stem’, (Tw. Gr., p. 269), - maar dis nes 'n eensame blommetjie in 'n vaal stoppelland. Meestal is De Waal doodtevrede met die ou beskrywende adjektiewe, wat die Nederlandse skrywers van vóór 1880 duisendmaal afgerinkink het. Dit blyk veral waar hy die uiterlik van sy persone teken. Hester Linde het ‘'n lelieblanke kleur, afgewissel deur die roseblos van gesondheid...., daarby vertoon sy 'n paar oë so helder, so hemelsblou, so sielvol, as g'n digter of skilder sou kan teken nie; 'n lieflike neusie gelyk en reg as van 'n marmer beeld.’ (J.v.W., p. 63). Sy is 'n engelagtige wese, (J.v.W., p. 72 en 162) met hemelse oë; ook Grieta is 'n beeldfraaie mens.... meer geskik vir die tuiste van engele, dan vir hierdie prosaiese aardbol’, (Tw. Gr., p. 1); ‘'n buitengewone juweel’ met ‘melkwit hals’ en ‘goudbruin hare, wat tot sieraad sou gestrek het vir die skoonste towergodin’, terwyl Hester weer 'n ‘liewe juweeltjie’ is, ‘'n allerpragtigste kind, die beeldskone predikantsdogter’ met ‘'n sneeublanke gelaat’. Sy is ‘die liewe engel wat dag en nag Johannes se gedagte besig hou en 'n vuur in sy hart aangesteek het wat niks kan uitblus nie....’ (J.v.W., p. 178). Ook Grace laat ‘'n vlammetjie.... ontbrand, wat Andries nie lig kon blus nie’. Nes by Hester word ons verseker van die magteloosheid van die skilder en nou ook nog van die beeldhouer: ‘Het ooit 'n skilder 'n kinnetjie pragtiger geskets? Het ooit 'n beeldhouer 'n mondjie bedeel met soveel uitdrukking, soveel karakter, soveel soete onskuld, as wat vertoon word deur daardie twee gesonde, klein, allerliefs gevormde lippies?’ (Tw. Gr., p. 239). Sy is ook soos haar moeder ‘meer geskik vir die tuiste van engele’: ‘Dat 'n regtige, gewone, aardse mens so {==112==} {>>pagina-aanduiding<<} fouteloos (anglisisme!) daar kon uitsien, sou hy nooit kan geglo het nie.’ Ons glo dit dan ook nie!! Mens moet na Tollens en sy konfraters gaan om die sussies van De Waal se engeltjies te kry. De Waal se ‘fouteloos fraai’ meisies dra natuurlik ook klere, ‘fouteloos passend’ soos Grieta; hul het ‘lieflike gelaatstrekke’, ‘pragtige elegante’ gestaltes, of anders ‘heerlik-fraai - slank en tog vol’; meestal ‘langwerpige’ gesiggies soos Hester Linde, Hester Fourie en Grace; maar die koddigste is wel die plomp 1) wange, wat by De Waal blykbaar die betekenis van die Engelse plump het! Vergelyk ons nou hiermee die manier, waarop Van Lennep sy dames en here teken, dan val die sterk ooreenkoms dadelik in die oog. 2) Aan beelde waag De Waal hom baie selde, en as hy dit doen, dan is dit gemeenplase, of ridikule voorstellings soos: ‘Hy kon sy brein in geen ander rigting laat vloei nie’ (Tw. Gr., p. 259); ‘Die nommer van die meisie wat nou so dryf op die hete onstuimige stroom van sy gedagtes’, (J.v.W., p. 64); ‘sy gedagtes rol oor al die gebeurtenisse van die aand terug’, (J.v.W., p. 106); ‘Die digte sluier wat haar geestesoog bedek het, is afgeruk’, (J.v.W., p. 174); Andries hoor Grace se ‘silwerstem. Dit tril(!) die snare van sy hart’, (Tw. Gr., p. 259); ‘Byna onmiddellik daarna, soos in 'n towerslag verander haar gelaat in glad 'n ander plooi....’ wat net so 'n wonderlike metamorfose is soos die van Andries, wat volgens Phineas van 'n askoek tot 'n doring ontwikkel, (Tw. Gr., p. 242 en 382). ‘Jacob van Lennep was van 1829 tot zijn dood in 1868, Rijksadvokaat; bijna 40 jaar dus. Het ambt maakt de man. Deze man moet dus wel tot in z'n tenen advokaat zijn geworden, vooral omdat-ie van z'n eigen natuur al had, wat dat ambt in 'n mens pleegt te ontwikkelen: handigheid in 't pareren en uitvallen; scherpzichtigheid van elk plekje dat de tegenpartij bloot geeft; en bij deze schermmeesters-talenten, toch eenvoudige waarheidszin en oprechtheid.... 3) Dieselfde eienskappe is ook te vinde in die romans van advokaat De Waal. Hy het sy eie pleiterstalent aan Malherbe geskenk en die kruisverhoor van Gert is een van die besgeslaagde gedeeltes van Johannes van Wyk. Phineas behaal ook 'n advokate-oorwinning op die Smithfielders en die weduwee, en sy listige draaitjies laat ons meer aan die geregshof as die Teologiese Kweekskool dink. Vir die samestelling van sy intriges kon De Waal dan ook profiteer van sy eie ervaring in die geregshof, 'n element wat 'n ruim plaas beslaan in sy romans. Die lewendigheid van sy dialoog laat aan dieselfde invloed dink. Oor 'n raak antwoord staan sy persone selde verleë, en tog ontaard dit nie in 'n vernufsdialoog nie, maar is gewoonlik 'n weergawe van die los natuurlike gesèlstoon. {==113==} {>>pagina-aanduiding<<} By De Waal kan ons konstateer 'n byna volslae veronagsaming van die volkstaal. Hy was een van ons eerste skrywers en het soos weinig ander die kans gehad om gebruik te maak van tipies Afrikaanse wendinge, wat in die rykste verskeidenheid net op die lewewekkende adem van die kunstenaar gewag het. Maar in plaas daarvan gebruik hy die dorre beendere van 'n voos ou-tydse retoriek, wat al twintig jaar morsdood was. Of wat uit kultuuroogpunt nog veel erger was, hy leen hot en haar van die Engelse en sit die jong lesers van De Goede Hoop 'n onsmaaklike huspot à l'anglaise voor - juis dié mense, wat hy, as taalyweraar, moes oortuig van die deugdelikheid van die Afrikaanse taal. As De Waal woordkunstenaar gewees het, dan sou hy op sy togte met die Rondgaande Hof, wat hom in nou aanraking met al die klasse van die samelewing oor 'n uitgestrekte gebied van die Kaapprovinsie gebring het, die volkstaal beluister het, met volle teue die fris veldgeur van die ongerepte Afrikaanse idioom ingedrink het. En indien hy ook al dikwels die verpestende lug, wat stadig maar seker by ons taalvensters ingewaai het, moes opsnuif, was dit dan nie juis sy heilige plig as voorman, om met speurende sorg alle uitlandse bysmakies uit die nasionale taalspys, wat hy vir argelose jongeliede opgedis het te verwyder nie? Maar die Engelse stormwind het De Waal omgewaai en al het hy in die afgelope jare effentjies gespartel om op te staan, die vyfde druk van Johannes van Wyk en die derde druk van Die Tweede Grieta bewys dat dit hom totnogtoe nie geluk het nie. In sy dissertasie Taal en Poësie van die Tweede Afrikaanse-Taalbeweging het dr. E.C. Pienaar gekonstateer, dat met betrekking tot anglisismes Johannes van Wyk ‘aan 'n ongeneeslike kwaal ly’. 1) In Die Burger van Augustus 1921 laat De Waal hom as volg daaroor uit: ‘Is dit die skuld van die outeur dat soveel anglisismes burgerreg verkry het in ons taal? Toe ek die boek geskrywe het, het ek die spreektaal ten naastenby weergegee soos hy gebruik geword het, nie soos ek of my taalvriende sou verkies het dat hy moet wees nie. My skryftaal was maar 'n weerspiegeling van die spraak.... Die woorde lyk (hou van) en kyk (blik).... sou ek darem in geen geval laat vaar het nie. Hulle het pos gevat in ons taal en verarm dit nie.’ Dr. Pienaar het ongetwyfeld gelyk as hy beweer, dat De Waal se taal ‘'n weerspiegeling was van 'n kunsmatig vervalste spraakwerklikheid, soos die onder bepaalde anti-nasionale skoolinvloede in bepaalde kringe geheers het.’ 2) ‘Moed broei moed’ is die vertaling, wat Grace Palmer gee van ‘Courage breeds courage’. Andries verbeter dit tot: ‘Moed kweek {==114==} {>>pagina-aanduiding<<} moed’ 1). Dit is presies die wyse waarop De Waal te werk gaan. Sy gedagtewêreld is Engels, en sy skrywery is 'n langdurige gesukkel, 'n kriwelagtige gepeuter om aan Engelse gedagtes 'n Afrikaanse tint te gee. Só kan geen kunswerk ontstaan nie. Ons stuit gedurig op uitdrukkings en woorde, waarvan die Engelse voorbeelde hul direk aan ons opdring. Dit is dan ook 'n vergeefse poging om die twee romans van anglisismes te suiwer, wat die skrywer alreeds probeer doen het; die rooi suurdesem het deur-en-deur getrek tot in hul kern. In Oupa en sy Kleindogters is die taal en styl oor die algemeen baie beter versorg en ook wat anglisismes betref steek hierdie roman gunstig af by sy voorgangers, ofskoon daar tog nog 'n hele aantal te vinde is. 2) Stompies, 'n bundel stories, rympies en toneelspelletjies, is, wat die prosastukke betref, uit dieselfde hout as die romans gesny. Tien of twaalf sulke stompies, met timmermansvaardigheid aanmekaar gelas en met historiese kleefstof van 'n patriotiese merk vasgelym, vorm die lang stompe van die romans. Maar dis dorre stompe van 'n stokoue, doodgebloeide boom, wat De Waal omgekap het om die taalvuurtjie mee op te stook. In Stompies word die getal van die ‘engelagtige’ meisies met hul ‘betowerende, hemel-fraaie kykers, plompe rooskleurige wangetjies (p. 98), Venusagtige gestalte’ (p. 140), ens. vermeerder. Hulle ‘stuur 'n elektriese stroom deur al die lede’ (p. 156) van hul aanbidders en as hulle so onversigtig is om in die water te val, of deur Kaffers toegetakel word, dan kry die dapper redders, wat toevallig daarop afkom die welbekende ‘koue rilling’ wat ‘deur hul hele lyf loop’ (o.a. p. 78), totdat hul uiteindelik ‘die hemelse gedaante van hul teergeliefde(s) te gemoet vlieg’ (p. 83) en ‘verrukkelike vreugde in hul hart straal’ (p. 83). Die gelukkige paartjies word dan nog almal voorsien van 'n liewe gesonde seuntjie (p. 60), ‘twee fraaie kindertjies’ (p. 104) of ‘drie gesonde kleintjies’ (p. 158). In Oorlog tussen twee Dokters en Die Eksentrieke Essie is daar hoegenaamd geen styging te bespeur nie. Eersgenoemde verhaal behandel die vyandskap wat ontstaan tussen twee jong dokters wat in Skotland saam gestudeer het. Gedurende die verwarring van die Tweede Vryheidsoorlog bestook hulle mekaar op baie onprofessionele wyse, totdat uiteindelik die Afrikanerdokter na tallose avonture die oorwinning behaal en ook wegstryk met die verloofde van sy eertydse vriend. Liefdesverwikkelinge tussen 'n klompie jongmense, wat op die Strand {==115==} {>>pagina-aanduiding<<} vakansie hou, is die hoofmotief van Die Eksentrieke Essie 1). Hierdie twee verhale word gekenmerk deur al die skrywer se reeds vermelde gebreke en vereis dus geen nadere beskouing nie. Die spannende avonture, vlot dialoog en nasionale kleur van De Waal se romans sal hom nog lank dankbare lesers besorg, veral onder die jongmense, op wie hy 'n sterk aantrekkingskrag uitoefen. Hy het leeslus opgewek by 'n groot gedeelte van ons volk, wat vir rypere letterkundige genot nog onontvanklik is. Sy eerste twee romans was nuttige propaganda-middele, wat verskyn het in 'n tyd toe daar feitlik nog geen Afrikaanse leesstof was nie. Dat De Waal 'n knap verteller is, wat deur lewendigheid van voorstelling en 'n snel voortskrydende handeling steeds sy lesers boei, is seker; maar sy gemis aan karaktertekening en psigologiese diepte laat die meer ontwikkelde lesers onbevredig, terwyl sy verengelste skryftrant, wat ook nog alle diepere styleienskappe mis, 'n noodlottige voorbeeld is vir jongmense wat hul taal van vreemde smette moet suiwer. Aan die ander kant het De Waal deur sy historiese rolprente die nasionale selfbewussyn aangewakker, en sy romans kan nog lank 'n nuttige rol speel in die opbou van 'n Afrikaanse kultuur. Ons moet by hom nie soek die uitbeeldingsvermoë en diepe historiese insig van die kunstenaar wat deur die verlede besiel is nie, maar wil graag erken dat die vindingryke vernuf van hierdie patriotiese skrywer aantreklike en leersame ontspanningslektuur geskep het wat ons kwalik kan mis. As een van ons eerste romanskrywers, wat in die mees kritieke periode van ons volksbestaan leeslus by die jong geslag opgewek het, verdien De Waal die dankbare hulde van die nageslag. § 3. Joubert Reitz (1880-1919). Van hierdie seun van president Reitz het twee romans verskyn: Die Dolosgooier (1916) en Beproewing (1918). Vir die Potchefstroomse koerant het hy dikwels gedigte 2) en prosastukke geskrywe, meestal van grappige aard. Onuitgegee is 'n reeks artikels oor ‘Oom Fanie en sy ervarings met 'n maai- en vliegmasjien.’ 3) Die Dolosgooier (1916). Frits Kok, 'n Johannesburgse klerk, gaan na die diamantvelde by Bloemhof, maar die groot geluk bly weg. Gedurende 'n aanval van moedeloosheid wil hy vertrek, nadat hy op die stasie ‘'n sterretjie’ gesien het, maar sy kaffer gooi die dolosse en die se voorspelling blyk {==116==} {>>pagina-aanduiding<<} juis, want Frits kry 'n paar mooi diamante. Nou trek hy weg om sy ‘sterretjie’ te gaan soek en al gou blyk dit, dat sy die dogter is van Harvey, met wie hy 'n vennootskap gesluit het. Met Collins het hy op Bloemhof moeilikheid gehad en dié strooi nou skinderpraatjies uit, want hy het ook 'n oog op die ‘sterretjie’. Collins slaag daarin om 'n fabelagtige skat uit Sekekoen se kafferstat te roof, maar hy beswyk aan 'n wond op die hoëveld, waar Frits hom nog eers verpleeg. Frits laat die kaffers £5000 betaal vir die verlore diamante en die dolosgooier se tweede voorspelling kom ook reg, want hy sluit Maria in sy arms. Beproewing (1918). Hierdie roman is min of meer op dieselfde plan gebou as Die Dolosgooier. 'n Doodgoeie jongeman word vervolg deur 'n gewetelose skurk, maar na baie moeilikheid triomfeer die onskuldige, word plotseling skatryk en trou met die meisie, terwyl sy mededinger deur 'n koeël uit die weg geruim word. Die ekspedisie na Duits-Suid-Wes en die opstand vorm die agtergrond van die verhaal; 'n vervalste tjek gee aanleiding tot verwikkeling en die spanning oor die erfenis word deur middel van 'n naamsverandering tot die ontknoping bewaar. Teen sy sin en oortuiging het die skrywer deelgeneem aan die Duits-Wes-veldtog. Die raamwerk van Die Dolosgooier het hy in 'n militêre gevangenis geskryf, want hy het in die hande van die Duitsers geraak. Later het J.H. Malan, die ‘Oom Fanie’ van die voorwoord dit persklaar gemaak, onvoltooide gedeeltes verder uitgewerk, taal en styl verbeter, kortom die hele boek oorgeskryf met behoud van die oorspronklike intrige. 1) Dat die aandeel van die bewerker taamlik groot was, blyk uit 'n vergelyking met Beproewing, waarin taal en styl so sleg versorg is, dat die verhaal feitlik onleesbaar is. Dit krioel van anglisismes en alle moontlike foute. Reitz het aanleg gehad om 'n spannende intrige inmekaar te sit, maar sy uitdrukkingsvermoë was hopeloos swak. Selfs na die skawery van die bewerker het daar in Die Dolosgooier soveel oorgebly, wat onbeholpe is, dat van letterkundige verdienste weinig sprake is, ofskoon dit deur die handige toepassing van Afrikaanse motiewe seker tot die beste van ons avontuur-romans behoort. Op p. 3 is daar al 'n toespraak tot die ‘troue geagte leser’ en dwarsdeur die verhaal bly die skrywer aan die woord. Collins, Hooper en Petrus is tipes van die bekende volbloed skurke. In Beproewing neem die politiek 'n groot plek in. Die skrywer sê self: ‘Maar laat ons liewer nie van die dinge praat nie, anders word die verhaal 'n politieke vlugskrif....’ (p. 97), wat dit dan ook teen die end werklik word. {==117==} {>>pagina-aanduiding<<} § 4. Gordon Tomlinson. Gordon Tomlinson is gebore op Swellendam in 1889. Vir alles wat Afrikaans is, was hy van jongsaf aan 'n sterk propagandis, sodat hy b.v. in die Anglo-Boere-oorlog van skool weggeja is, omdat hy 'n Vierkleur-ruiker in sy knoopsgat gedra het. Later het hy voortdurend stroebeling gehad met die Engelse hoof. Die meeste avonture, wat in Deur die Smeltkroes beskrywe word het in Swellendam gebeur tydens die oorlog. Eers wou Tomlinson predikant word, maar weens 'n keelaandoening moes hy die plan opgee. Op Stellenbosch het hy in die regte gestudeer en daar het hy saam met dr. Tobie Muller en professor J.J. Smith een van die voormanne van die A.T.V. geword, en deel uitgemaak van die redaksie van Ons Moedertaal. Later het hy hom ingespan vir die Helpmekaar en tans woon hy op Vredefort, waar hy prokureur is. Van hom het verskyn 'n roman, Deur die Smeltkroes (1917) en in samewerking met prof. dr. B.B. Keet 'n lewensbeskrywing, Tobie Muller (1925). 1) Deur die Smeltkroes (1917). Op die dorp Vergenoeg woon oom Gert de Bruyn, ‘'n egte tipe van die opregte Afrikaner’ (p. 4) en Van der Bijl, 'n jingo wat ‘rooier dan rooi’ is. As die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek kom daar 'n end aan die vrindskaplike verhouding tussen die bure, tot verdriet van die kinders, wat oor en weer verlief geraak het - Piet de Bruyn op Susan van der Bijl, en haar broer John op Lenie, Piet se suster. Susan het egter 'n ‘Engelse modepoppie’ geword en deur toedoen van Carel Nel, wat by die Van der Bijls inwoon, raak Piet in die moeilikheid en val in ongenade by Susan. Verskeie avonture van Piet en John se skooldae word vertel, asook hul ondervindings aan die Victoria-kollege. Hulle sluit by die kommando van Scheepers aan en as John gevang word, slaag Piet daarin om die verraaier Nel te ontmasker. Van der Bijl word 'n goeie Afrikaner en tussen die jongspan kom alles reg, terwyl Nel so vriendelik is om in Australië spoorloos te verdwyn. Deur die Smeltkroes het 'n sterk propagandistiese strekking. Tomlinson verdedig die Afrikaanse beginsels teenoor die imperialistiese idee van Engelse en verengelste Afrikaners. Hy gaan te keer teen die verwaarlosing van Hollands op die skole, die onnasionale geskiedenisonderwys, die eksamenstelsel, ‘die oudwyfse Skotse sisteem alhier deur 'n Dr. Muir ingevoer’ (p. 59), en ‘die nuwe kindergarten-metode’ (p. 9). Hy laat ‘Jong Suid-Afrika sug om die vryheidsin, wat leef en sal leef, solank daar Afrikaners op Afrikaanse bodem wandel’ (p. 53) en gebruik elke geleentheid om sy patriotiese gevoelens te lug. As pleidooi vir 'n suiwer- {==118==} {>>pagina-aanduiding<<} Afrikaanse kultuur het die boek ongetwyfeld waarde. Maar as roman beskou is dit 'n mislukking. Behalwe die regstreekse propaganda, tree die outeur van die staanspoor af gedurig op die voorgrond. Hy spreek sy lesers toe, 1) vertel hulle wat hy met ‘die spelers in hierdie drama’ (p. 6) gaan doen, en omdat hy hoofsaaklik 'n outobiografie skryf, verval hy telkens in persoonlike mymeringe. 2) Telkens moraliseer hy oor die dade van sy persone, b.v. ‘Arme Piet! Had hy maar geweet, wat voorlê. Gelukkig, egter, het die Voorsienigheid ons so gevorm, dat ons slegs vandag kan sien - en skaars dit’ (p. 62). Ofskoon hy blykbaar sielkunde by ‘Pappie (saliger gedagtenis)’ (p. 69) geleer het, blyk daar weinig van in die roman. Van kalwerliefde kry ons die volgende vermaaklike verklaring: ‘Nie 'n nooi, leser, soos u en ek seker al gehad het, maar een, wat jy in 'n meer idealistiese sin liefhet. Jy het haar lief, maar hoe, weet jy nie. Jy het haar, hulle ook, lief, as jy nog so jonk is, sonder dat die liefde miskien ooit bekend word. Dis somar liefhê.’ (p. 17-18). Hoe weinig begrip Tomlinson het van die ingewikkelde prosesse van die puberteitsjare blyk uit die beskrywing van Piet se aankoms op Stellenbosch. ‘Piet stuur 'n stille gebed van dankbaarheid op, dat hy in so 'n omgewing kan studeer en besluit om van die studentelewe in sy geheel gebruik te maak, sodat hy 'n veelsydige ontwikkeling kan geniet om also bes sy land te kan dien’ (p. 66). Dis kastig dieselfde Piet wat sulke uithaler-kaskenades op die dorp aangevang het! Nou is hy meteens 'n suikersoet oompie, op wie Van Alphen 'n mooi gedig sou gemaak het. As Piet die eerste maal in 'n geveg is, word sy gewaarwordings as volg beskryf: ‘Die eerste paar oomblikke wis Piet nie eintlik, wat om te maak nie. Sy hart klop vinniger, en as 'n koeël oor sy hoof fluit, koes hy een kant toe. Maar gou-gou het die oorlogsgees hom oormeester....’ ens. (p. 125). Hoe oppervlakkig die psigologie is blyk uit die pogings om felle emosies te beskryf. As Piet onverwags op sy maat by die kommando afkom, word ons vertel: ‘Soos 'n mens maklik kan verstaan, was die wedersydse vreugde by die ontmoeting groot.’ (p. 122.) ‘Ons sal liewer 'n sluier trek oor die afskeid tussen die jong verloofde; waar die liefdegodin alheersend vir 'n oomblik is, moet die gewone mens soetjies trap.’ (p. 96.) Met sulke praatjies maak hy hom van die saak af! Van der Bijl se bekering tot opregte Afrikaner is seker goed gemotiveer, maar dit is geen proses, wat as 'n coup de foudre in een sinnetjie kan beskryf word nie. (p. 110.) Presies so gaan dit met Susan (p. 112) en haar moeder (p. 111). {==119==} {>>pagina-aanduiding<<} In die karakteruitbeelding is daar die bekende skerp teëstelling tussen goed en sleg. Oom Gert is die ideale patriot, Piet en John die dapper helde, Van der Bijl die vurige jingo, Nel die lae verraaier. Die meisies is ‘twee beelde van deug en skoonheid’ (p. 146). As Nel genoeg moeite veroorsaak het om die ‘dapper helde’ se ‘verhewe’ karakter aan die lig te bring, word hy nog vir ou-laas ekstra swart gesmeer en dan eenvoudig uitgewip (p. 141). Dit is ‘merely a mechanical device for stopping somewhere’, soos Cross tereg opmerk. ‘A literary form cannot exist without its art. If a fable may drift along at the pleasure of an author, with the episode thrust in at will, then anybody can write a novel.’ 1) Die swaarmoedige Piet werp hom ‘in wanhoop.... neer op sy bed, wat skud van die storm, wat in die siel van die onstuimige jongeling woed’! (p. 22.) Die ‘edele siele’ van die arm meisies word ook ‘deur storme geteisterd’ (p. 134, 92), hulle droom ‘van rose en melk, van ongekende en verrukkende klanke, van ruisende strome en bedwelmende blommegeure’ (p. 72). Die toneel op die strand tussen Susan en Piet (p. 41) is taamlik sentimenteel. - ‘Die misterie van die nag pak hul beet; en met 'n kleine skudding,(?) skuiwe Susan nader aan Piet.... ‘Piet, wat makeer? Waarom is jy so stil?’ - ‘Dit weet ek nie, maar ek word so swaarmoedig, Ek dink, dit is die verhewenheid van die heelal, wat my aangryp.’.... ‘Dit was asof hy met die onbekende worstel, asof daar 'n wêreld van gedagte hom oormeester. Naderhand, asof tot homself sprekende, fluister hy 'n Lied van Smart....’ Die gevolg is ‘dat Susan bitterlik ween’ en ‘met geboë hoofde keer hulle huiswaarts.’ Die talryke sugte in ons Afrikaanse romans vul Tomlinson onder ander met die volgende variëteite aan: ‘geskok tot in die diepste wese styg daar 'n sug van die bodem van sy beroerde(?) hart - 'n sug, wat 'n wêreldspraak was. (p. 29); Susan sug alleen die sug van die tevredene en die regvaardige’! (p. 116), ens. Tomlinson skryf 'n gemaklike styl, sy taal is suiwer en die dialoog meestal los en natuurlik. Daar is lewendige toneeltjies met rake praat en weerpraat o.a. p. 44-45, waar oom Gert en sy buurman aanmekaar spring. Onwaar word die dialoog wanneer hy Piet, wat toe nog nie deur sy matriek was nie, laat sê: ‘Kerel, wie sal hom daar onder daardie mengelmoes begeef behalwe alleen die met Imperialisme besetene?’ (p. 54.) Bybelse wendings word met voorliefde gebruik, en dikwels is daar ook 'n predikanterige kleur, b.v. ‘om sy sondedaad uit te wis’ (p. 30.) Die veelvuldige gebruik van stereotiepe beelde is opvallend. ‘Maar al was hul harte bloedende, het niemand dit getoon nie. Hulle harte was aanmekaar gesnoer deur nuwe bande en deur 'n gemeenskaplike liefde teenoor hul geliefde Suid-Afrika’ (p. 142). Sulke gemeenplase ontneem aan die styl alle persoonlike aksent. {==120==} {>>pagina-aanduiding<<} Onvervals retories word Tomlinson veral in sy natuurbeskrywings. ‘Die son, bloedrooi, begin hom stadig in die arme van 'n veelkleurige see te werp. Dit was, asof bruid en bruidegom ontmoet, albei in die fynste en pragtigste kledy uitgedos.... Fyn goud val oor die hele aarde en verfraai die skoonste paleise en die armoedigste strooihuise’ - ens. (p. 40). 1) Die paleise sou 'n mens aan Potsdam kan laat dink! Maar, die ‘ouderwetse woning’ van Van der Bijl had ook ‘honderde klein venstertjies’ (p. 4). Mooi is die stemmingsvolle gedig op p. 72, met uitsondering van 'n enkele stoplap. § 5. Reenen J. van Reenen (1884-1935). Reenen J. van Reenen is in 1884 op Calvinia gebore. In 1902 het hy met sy B.A.-eksamen die eerste Koningin Victoria-beurs aan die S.A. Kollege behaal. Vier jaar later het hy in Amerika sy studie vir siviele ingenieur voltooi en na 'n jaar praktiese ondervinding op groot besproeiingswerke in Nebraska na Suid-Afrika teruggekeer. Gedurende sy studiejare het hy hom ook op taal en lettere toegelê en reeds van 1898 af op die tekenkuns. Aan die Brandwag-interviewer vertel hy: ‘Dit was met die herlewing van die Afrikaanse Taalbeweging, wat in 1915/16 so sterk gegaan het, dat die skryflus by my opgekom 't. Ek het 'n paar hoofstukke prosa en verse geskrywe, wat my vrinde hier op Bloemfontein beval 't. Hulle aanmoediging het my beweeg om Die Agterstevoortrekkers (1917) uit te gee. Maar gedurende die voorbereiding van dié werk moes ek toe my ou teorie toepas: n.l. dat die poging om leeslus onder ons volk op te wek, sal misluk, of in alle geval baie langer sal neem eer dit met sukses bekroon word, as die leesstof nie geïllustreer is nie.’ 2) Behalwe die genoemde werk het van hom verskyn Celestine (1919), en Verborge Skatte (1920), twee bundels sketse; 'n roman: Die Lokaas (1921) en twee kinderboekies. Celestine (1919) en Verborge Skatte (1920). Dit is twee bundels verhale, hoofsaaklik navolging van Edgar Allan Poe, aan wie Verborge Skatte dan ook opgedra is. Celestine bevat spookstories, met een waarvan die skrywer in 1903 'n prys behaal het in The South African News. Dié verhaal, 'n Hopie Bene, is 'n droom, maar in die orige word die geheimsinnige element nie verklaar nie, behalwe in Tant Annie. James Russel Lowell het aan Poe toegeken ‘a power of influencing the mind of the reader by the impalpable shadows of {==121==} {>>pagina-aanduiding<<} mystery’. 1) Verder sê hy: ‘In raising images of horror, also, he has a strange success; conveying to us sometimes by a dusky hint some terrible doubt which is the secret of all horror.’ 2) Dit is wat ons grotendeels by Van Reenen mis. Sy voorstellinge is te nugter, sy geheimsinnigheid te deursigtig. Die subtiele realistiese illusie, wat Poe b.v. in een van sy beste verhale, Ligeia, skep, lê buiten Van Reenen se bereik. Wie b.v. Poe se nagwake by die lyk van die Lady Rowena vergelyk met die enigsins analoge situasie in die verhaal van Celestine (p. 30) voel direk, dat dit veral realistiese uitbeelding is, wat by Van Reenen ontbreek. Poe verstaan die kuns om deur allerlei suggestiewe besonderhede 'n dodelik beklemmende atmosfeer te skep - Van Reenen noteer alleen die geheimsinnige feit. Die vergelyking wat dr. Dorothy Scarborough tussen Poe en Hoffmann maak, pas ook op Van Reenen ‘His (Poe's) horrors have a more awful effect because he is an incomparably greater artist. He knows the economy of thrills as few have done. His is the genius of compression, of suggestion.’ 3) Die Verborge Skatte word deur professor Erts se buitengewone vernuf ontdek. Die raaiselskrif in Die Voortrekker se Skat is gebaseer op die van Poe se verhaal, The Gold-bug. In Die Kinderdief word gebruik gemaak van 'n motief, waarop Poe o.a. The Purloined Letter gebou het: ‘the intellect suffers to pass unnoticed those considerations which are too obtrusively and too palpably self-evident. The Minister had deposited the letter immediately beneath the nose of the whole world, by way of best preventing any portion of that world from perceiving it.’ Ook in die uitwerking van die besonderhede is daar ooreenstemming. Van Reenen het 'n aangename verteltoon en sy verhale is verdienstelike ontspanningslektuur. Die Lokaas (1921). Gert Vermaak, 'n begaafde weeskind, word deur oom Willem en tant Miem aangeneem. Toe hy ses jaar oud was, kom 'n ontwikkelde Hollandse skeepskaptein om gesondheidsredene op die Karoplaas woon. Onder sy leiding word Gert so buitengewoon skerpsinnig, dat dit die opmerksaamheid van 'n kapitalis trek, wat hom na Europa stuur om in die regte te studeer. Na sy terugkoms vestig hy hom in Kaapstad en word gou een van die leiers van die Boereparty. Maar die kapitalis gebruik 'n mooi vrou as lokaas, en by die stemming oor 'n gewigtige wetsontwerp word Gert ontrou aan sy party. {==122==} {>>pagina-aanduiding<<} Voorop moet gestel word, dat die skrywer geen poging doen om die geleidelik voortskrydende geestelike ontwikkeling van 'n geniale kind te skets nie. Hy gee alleen ‘'n loshangende versameling van staaltjies wat Gert (hom), af en toe in die laaste dertig jaar.... vertel het.’ Die skrywer is nie die objektiewe uitbeelder van 'n deurleefde werklikheid nie, hy is net die verteller van Gert se geskiedenis. Hy self tree telkens op die voorgrond, spreek ‘die welwillende leser’ toe (p. 29), en voel hom kort-kort gedronge om brokkies van sy eie wysheid by die verhaal in te las. Daarom mis dit die warme tinteling van intimiteit, daarom bly die skrywer maar alte dikwels aan die buitekant van sy persone. ‘Dit lyk asof (Gert) teenoor die kaptein voel soos 'n minnaar teenoor sy nooientjie - hulle gesprekke was hom heilig en dit sou heiligskennis wees om dit te publiseer’ (p. 29). Alweer die treurige sluiertaktiek, 'n vyeblaartjie om eie magteloosheid as kunstenaar te bedek! Is dit dan nie juis die kunstenaar nie, wat met sy wondere intuïsie moet deurdring tot die heilige der heilige? Die uiterlike lewensfeite sien ons almal, lees ons daagliks in die koerant, maar dit is die kunstenaar, wat die verborge roersele van die hart moet openbaar. Hy moet so opgaan in die persoonlikheid van sy figure, dat hy alles seker weet, dat hy die kleinste nuansering van sy gevoelens en gewaarwordinge kan ontleed. As hy alleen kan sê: ‘Dit lyk asof....’ (p. 29), dan twyfel ons aan die egtheid van sy voorstelling. Hoe moet ons nou met Gert meelewe, as van die drie belangrikste jare uit sy ontwikkeling selfs geen ‘loshangende versameling van staaltjies’ meegedeel word nie? Maar wat wèl verhaal word is, dat die R.M.S. Tartar presies om vieruur uit Tafelbaai gestoom het met Gert aan boord en dat hy met die R.M.S. Scot uit Europa teruggekeer het! Van die jong advokaat weet ons nie veel meer as die plaat by p. 132 ons te sien gee nie - 'n jongkêrel soos duisend ander - geknip uit die eerste die beste kleermakerskatalogus! Gelukkig is daar enkele gedeeltes waar Van Reenen nie alleen die verteller nie, maar Gert self is. Die uitmekaarhalery van oom Willem se oorlosie (p. 19-20), die waterlei in die nag (p. 40) en nog ander toneeltjies uit Gert se kinderjare toon, dat die skrywer 'n fyn psigologiese insig het. Dit geld ook van die manier, waarop Gert sy besluit neem om Stella nie op te gee nie. Hoe treffend-juis is dit gesien om die nesmakende duiwe die deurslag aan ry redenasies te laat gee! Maar die mooi gestileerde sinne, wat Gert se dink-taal moet voorstel is weer van Van Reenen. Ook enkele gelukkige trekke in tant Miem en oom Willem toon, dat die skrywer 'n taamlike uitbeeldingsvermoë het. Maar dit is alles so fragmentaries, dat die persone tog vaag bly. So word die planne van die intrigerende kapitalis met dieselfde behendigheid as in Verborge Skatte uitgewerk, maar daar is weinig aanduiding dat hy behalwe draadtrekker ook mens is. {==123==} {>>pagina-aanduiding<<} Gert is blykbaar 'n uitsonderingsfiguur, maar selfs so beskou, is daar enkele trekke in sy karakter, wat wys op 'n verdraaide psigologie. Op p. 24 word ons verseker: ‘Soos 'n openbaring.... word sy volksbewussyn skielik gebore’. Hy is nog maar ses jaar oud, maar omdat hy so 'n talentvolle knapie is, wil ons dit aanneem. Ongeveer ses of sewe jaar later hoor ons egter: ‘Volksbewussyn sal hy maar ontwikkel in die vreemde lande wat hy later sal deurreis’ (p. 68). Afgesien van die teëspraak is die voorstelling hier absoluut vals, want daar is geen enkele jongeman van twaalf of dertien jaar nie wat, selfs al begryp hy die abstrakte idee ook, so 'n wonderlike besluit kan neem. En die wysgerige bespieëlinge op p. 52-53 is geen ‘raaisel’ nie, maar eenvoudig gedagtes van die skrywer self, wat hy aan die twaalfjarige knapie opdring. As voorbeeld van die swak tegniek kan aangehaal word, dat deur die lang uitweiding op p. 11-12 die spelende Gertjie skoon vergeet raak. Net so gaan dit met die kaptein. ‘Ons durf darem nie langer by hierdie interessante woordkuns vertoef nie, want ons vriend die seevaarder wag nog al die tyd vir ons op die drumpel van die voordeur....’ (p. 16). Op p. 22 heet dit: ‘Maar ek loop my verhaal verby, en ons moet eers weer 'n bietjie terugkeer.’ Van Reenen het 'n los, gemaklik-vloeiende styl, wat egter weinig persoonliks het. Beeldspraak gebruik hy maar selde; die ‘verdraaide beeld’ op p. 139 is nie gelukkig nie, en die ‘spatsels van die smeer van die misvloer’ wat mens aan golwe laat dink nog minder (p. 66). Die ‘liefdesbeker’ (p. 52) ken ons al van toeka se dae af! ‘In hierdie dae begin Gertjie al in brein en liggaam tamelik uitrek’ (p. 39) - 'n pynlike proses, wat mens aan die inkwisisie laat dink! Die Agterstevoortrekkers (1917). Johan van Heemskerck het in sy Batavische Arcadia (1637) 'n paar Haagse here en dames 'n plesiertoggie laat doen met die doel om ‘onder 't soet van minnepraetjes al spelende (te) komen tot kennisse van de vaderlandtsche gelegentheden, daer niemandt een vreemdelingh in behoort te zijn.’ Van Reenen stuur 'n aantal Bloemfonteinse geleerdes en kunstenaars met hul families op die ou voortrekkerpad ‘om te probeer of daar nie, daar in die bosse en klowe, in die kranse of op die bulte nog van die heldemoed van die ou voortrekkers te bespeur is nie, en of daar op die wye ope veld nie 'n kans is om weer die helder eenvoudige duidelike uitsig op die lewensprobleme op te vang en in (hul) daaglikse omgang te gebruik nie’ (p. 32). Die ooreenkoms is duidelik, ofskoon daar seker van bewuste navolging geen sprake kan wees nie. By Van Reenen is daar nie soveel ‘loofwerck van liefkooserijtjes’, maar die minnende paartjie ontbreek tog ook nie. Die poging om pastorale en didaktiese {==124==} {>>pagina-aanduiding<<} motiewe te verenig is al merkbaar in die aangehaalde sin. Oom Jakob sê ook nog: ‘Dis die doel van die uittog.... om 'n veldwasempie op te vang uit die Afrikaanse Son en Veld’ (p. 31). Nog duideliker straal die pastorale motief uit die volgende deur: ‘Daar in Bloemfontein in 'n atmosfeer van kunsmatigheid, val die klank (van die ossewa) weg, hier op die veld, ver van die besmetlike invloed van groot stede, mag die plof plof van die ossevoete nou en dan in die sand wegval, maar die skok van die wiele bly.’ (p. 110.) Die didaktiese motief blyk ook nog hieruit: ‘Opgewonde gee ek antwoord dat dit 'n eerste-klas plan was om die sienswyse van die voortrekkers te verstaan, en hulle geskiedenis met smaak te leer lees....’ (p. 20). En die sewende trekreël lui: ‘Elke aand sal een van die trekkers.... 'n lesing gee oor die een of ander in die geskiedenis van die Voortrekkers’ (p. 37). Maar sterker nog as die pastoraal-didaktiese motiewe van die verhaal is die satiries-humoristiese element. Die meeste van die Bloemfonteinse deskundiges verbeel hulle wat wonders. In die ‘afskeidsbrief’ heet dit: ‘Ons is beslote om.... ons diep kennis vir almal wyd en syd bekend te maak’ (p. 40). Die Professor wil drie waens vol boeke laai ‘om aan die boere te verkoop’; Jan, die ‘goggadeskundige’ wil die boere waarsku teen skadelike insekte, en Antoon, die musikus hoop dat deur sy musiek ‘nuwe ideale mag ingeboesem word in diegene wat binne die betowerde sirkel van ons skitterende strale inkom’ (p. 31). Oom Jakob egter voel dat die groot geleerdheid van sy maats eensydig is. ‘Op seker gebiede het ons.... vooruitgegaan, maar op ander.... is ons baie versleg’ (p. 32). Hy is dan ook gewillig om aan die voete van die plattelander te sit en lesse van hom te leer. Ook oom Kaas, die ‘diepgeleerde professor in geskiedenis’ voel, dat die hele spul dalk sal verkeerd loop, dat die Agterna-trekkers bes moontlik Agterstevoor-trekkers sal word en sy voorspelling kom uit. Die vernaamste doel van die skrywer is om die verwaandheid van die hooggeleerde akademiese here bespotlik voor te stel. Die heel eerste voorval gee al dadelik die toon aan. Die osse trek afdraand net so swaar as opdraand en terwyl hulle 'n geleerde dispuut hou oor dié raaiselagtige omstandigheid, kom 'n onnosele konstabel die moeilikheid oplos deur die styfaangedraaide briek los te draai! Dat klein Leon aan die ossewabriek dieselfde funksie as aan die van 'n outo se slinger toeskryf, is meer as 'n gelukkige grappie; dit is meteen al 'n simboliese voorstelling van die groot afstand tussen die Voortrekker- en die moderne beskawing. Die trek is skaars aan die gang of die entomoloog vind uit, dat oom Gert iets oor goggas weet, wat hy nog nooit in sy diepsinnige handboeke van gelees het nie, en met 'n ironiese laggie voeg die skrywer hom toe: ‘Neef Jan, ek het gemeen jy gaan vir die boere leer, nie hulle vir jou nie.’ (p. 54.) S.K., die professor in fisika vind uit, dat al sy gekompliseerde {==125==} {>>pagina-aanduiding<<} instrumente en spitsvondige berekeninge minder vertroubaar is as die kennis van die eerste die beste ou boertjie. En dan is dit nog boonop klein Botterkoppie wat hom tot die erkentenis bring! Op die tuinfees slaan almal behalwe oom Jakob 'n gek figuur. Die dorpelinge verskyn in trekkersdrag, maar die kastige trekkers in haastig bymekaar geskraapte Europese spektakels! Alles doen hulle agterstevoor! Die steekse motor van die dokter, wat deur die osse dorp-toe moet gesleep word is weer 'n ironiese beeld - die moderne vernuf afhanklik van die ouderwetse trekkersmetode. Die professor kry in ‘'n hoekie van die Vrystaat’ 'n resep vir heuning-bier, wat hy tevergeefs in sy geleerde foliante gesoek het, maar sy onbekendheid met die praktiese uitwerking daarvan besorg hom 'n wetenskaplike hallusinasie, wat tot 'n algemene bespotting aanleiding gee. By die afgebrande huis loop die trekkers 'n gewone boer raak, met 'n ontwikkelde kunsgevoel en so 'n fyn beskawing dat dit hulle bewondering afdwing. Wanneer die trekkers by Kerkenberg kom, waar Piet Retief se naam op die rots staan, word die toon van die verhaal ernstiger. Die historiese gevoel ontwaak en oom Kaas bevredig Emmie se weetgierigheid deur allerlei besonderhede oor die Voortrekkers se ossewaens mee te deel. Op die Natalse pad kom die piëteitsgevoel tot uiting in 'n humoristiese regspraak tussen ossewa en outo. ‘Ek het die Afrikaner Nasie gedra toe dit nog 'n suigeling was; en nou, op my ou dag, wil julle hê dat ek moet pad gee vir 'n bog kind, so jong dat hy self erken dat hy nog nie eers gebore is nie.’ ‘Grootgeraas’ is 'n outo van ‘aanstaande jaar se model’ en ‘Die Dromedaris’ weier om pad te gee vir so 'n ‘aangewaaide, buitelandse ding - niemand weet eers wie sy ouers is nie!’ (p. 210.) Hier is die soort humor aanwesig, wat volgens Schopenhauer is ‘der hinter den Scherz versteckte Ernst’, 1) want uit so 'n toneel spreek die wil van 'n volk om die erfenis van sy voorvaders te bewaar ‘van vreemde smetten vrij’. Dirk vind nog 'n geleentheid om die ‘geleerde ape’, S.K. en die Goggadokter droog te sit. Hy verydel die grootskeepse opgrawingsoperasies operasies van die twee deur die egte voortrekkersvurk met sy pennemes uit te grawe, terwyl 'n verroeste valse ‘versigtig in watte opgewoel’ tereg kom in Jan se trommel. Dis 'n laaste verbluffende kopstoot op die dorre kamergeleerdes! Die manier waarop die dansparty eindig is 'n bewys, dat die agternatrekkers tog onder die besielende invloed van hul voorvaders geraak het en hul onder al die malligheid goed ingeleef het in die gees van dié grootse tydperk met die skrynende wee. As die maan wegraak, en die uile droewig skree, begin Antoon se viool ‘te huil soos 'n moeder oor haar kind se lykie.... Soos diegene wat pas 'n dierbare vriend in sy {==126==} {>>pagina-aanduiding<<} graf gelê het, uitmekaar gaan, so verdwyn nou stilletjies die gaste een vir een’ (p. 235). Om 'n toneel van sulke roerende stemming in al sy innigheid uit te beeld - daarvoor was Van Reenen nie woordkunstenaar genoeg nie. Die oorgang van uitgelate malligheid kom te plotseling. Dirk se gulle lag oor sy welgeslaagde grap, sy ‘dis nou regtig 'n lekker bal’ klink nog in ons ore as ons by die ‘stille snikke van sterk mans’ kom. Maar ons voel tog iets van die stille plegtigheid van die oomblik en enkele dowwe dreunings van 'n verre dodemars kom uit die verte aansuis.... Verswak die skrywer nie die ernstige ondertoon van sy werk deur ná so 'n toneel weer met minnepraatjies aan te kom nie? En smoor hy dit nie heeltemal deur die ragtime-klanke van die agterrede nie? Ek meen van wel. Magteloos, totaal magteloos staan Van Reenen as woordkunstenaar teenoor die natuur. Die trekkers mag 'n ‘veldwasempie’ opgevang het - ons kry nie eers die ruik daarvan nie! ‘My hand het net gejeuk vir 'n kwas en verf om die pragtige kleure op doek of kaart te skilder, maar al had ek die gehad sou dit my darem onmolik gewees het om uit te druk wat ek gevoel het....’ (p. 84). En met die pen kom hy ook nie verder as 'n gestamel oor die onbeskryflike kleure nie (p. 138). Dit is vir hom ‘'n soort heiligskennis om die wonderwerke van die Natuur te veel in hulle teenwoordigheid te analiseer’ (p. 152). Daarom moet ons tevrede wees met die kennis, dat hy 'n lekker pypie daar op die Nek gerook het, en dat hy nooit moeg word van die treurwilgers rondom die damme nie! (p. 85.) Die taal en styl is gebrekkig en die beeldspraak weinig oorspronklik. Die dialoog word meestal gekenmerk deur 'n besonder losse natuurlikheid, en tallose lewendige toneeltjies getuig van groot plastiese talent. Sommige daarvan is egter skadelik vir die eenheid van die werk en dit geld ook van enkele langer vertellings, wat die aandag op storende wyse van die hooftema aflei. Dit is o.a. die geval met hoofstuk XXIV, wat ‘Herinneringe uit die Engelse oorlog’ bevat. Daar is nog meer sulke uitweidings, wat die verhaal soms na 'n versameling van los anekdotes laat lyk. § 6. D.P. du Toit. † 1936. D.P. du Toit is 'n afstammeling van die Du Toits van Daljosafat, waar hy groot geword het. Sy moeder was 'n suster van ds. S.J. du Toit. Omdat sy gesondheid toe nie teen plaaswerk bestand was nie, het hy van 1891 af onder ds. S.J. du Toit gewerk op die redaksie van Di Patriot en ander blaaie. In 1896 was hy sekretaris van die eerste Afrikaanse Taalkongres in die Paarl, en Ons Kleintji het hy feitlik geredigeer onder toesig van ds. S.J. du Toit. Later was hy aan verskillende koerante {==127==} {>>pagina-aanduiding<<} verbind, by Het Westen o.a. as redakteur. Met die oprigting van Die Burger het hy een van die subredakteure van die blad geword. Een van sy toneelstukke, Die Bedriegers, is in 1893 geskryf. Wanneer Melt Brink se toneelwerk buiten beskouing bly, dan is dit die eerste Afrikaanse stuk wat gedruk en opgevoer is. 1) Op Somerset-Oos is dit vir die eerste maal gespeel. Van Du Toit het verder verskyn vier romans: Sy Pa se Skuld (1918); Haar Ma se Skuld (1926); Haar Broer se Skuld (1929) en Vonnie (1936); Jan (1927) 'n versameling grappige anekdotes; Treinnonsens (1922) 'n bundel grappige versies; ook etlike toneelstukke. Sy Pa se Skuld (1918). Lina trou teen haar vader se sin met Fred, 'n volbloed skurk, wat met dié huwelik sy finansiële ondergang wil voorkom. Sy word onterf en Fred moet vlug na 'n hele reeks misdade. Sy seun, Gert boet vir die misdade van sy vader en word in sy liefde gedwarsboom. Op die ou end kom alles tog reg en selfs die berouvolle Fred word in sy eer herstel. Du Toit doen wel 'n poging om deur te dring tot die innerlike lewe van sy karakters, maar vir die uitbeelding van 'n geweldige psigologiese krisis is hy te huiwerig. ‘Dis te heilig, ons mag nie probeer om dit na te speur nie’ (p. 99); ‘Die afskeid sal ons egter nie trag te beskrywe nie, eenvoudig, omdat dit nie kan beskrywe word nie’ 2) (p. 113). Op dieselfde manier glip hy oor die smart wat Gert en Lorrie uitstaan as gevolg van die vervalste briewe. Dit is nie 'n deurleefde verhaal nie, waarin die roersels van 'n mensehart blootgelê word. Du Toit beskou sy persone meestal op 'n afstand as belangstellende toeskouer. ‘Terwyl hy daar agter die randjie ry, raak hy ons ook uit die gesig’ (p. 106). Die handeling word nie direk in plastiese vorm gegiet nie, sodat iedere leser onmiddellik sien en hoor wat daar gebeur. Die skrywer self is telkens aan die woord en deur sy nugter opmerkings en prekerige uitweidings kom die gebeurde tot ons langs 'n groot ompad, sodat dit nie tot werklikheid kan vergroei nie. ‘Nou dis nie nodig om die twee nes hul skaduwee te agtervolg nie....’ (p. 48). ‘Die betrokke persone het ons heeltemal uit die oog geraak’ (p. 144). Daar is meer sulke aanduidings van gebrekkige tegniek. 3) Die preek oor die teks ‘Ik stond op het zand der zee’ is 'n nuttelose uitweiding en die lang beskrywing van die viskopery net so. Die skrywer vertel ons self ewe naïef, dat Gert en Lorrie ‘ook maar bloed weinig van die hele toneel gesien het’! (p. 151). {==128==} {>>pagina-aanduiding<<} Besonder omslagtig is Du Toit se verhaaltrant dikwels. 'n Enkele keer besef hy dit self: ‘Dog ons sal nie op haar hande staan en kyk om te sien hoe sy werk nie.’ ens. (p. 51). Hy vermoei deur 'n langdradige opsomming van allerlei onbelangrike besonderheidjies (vgl. b.v. p. 212), terwyl ook die gesprekke met reportage-noukeurigheid weergegee word. Die styl verraai die hand van die geoefende joernalis, wat met gemak sy sinne aanmekaar ryg, sonder juis te streef na skoonheid van klank. Maar selfs die haastige joernalis mag nie sulke sinne soos die volgende neerskryf nie: ‘Hy herinner hom nou goed, so duidelik as kan wees, dat, toe hy gistraand sy tabaksak uit die sak wou haal sy sakdoek boop die tabaksak in sy sak was, dat hy toe die sakdoek eers uitgehaal het en toe die tabaksak en toe weer die sakdoek in sy sak gesteek het, en na hy sy pyp gestop het, het hy die tabaksak somar so onverskillig bo-op die sakdoek in sy sak gesteek.’ (p. 104.) 1) Maar sulke sinne is gelukkig uitsondering en die styl is deurgaans helder en goed versorg. Om dié rede veral moet die roman, ofskoon dit geen aanspraak kan maak op hoë letterkundige verdienste nie, een van die leesbaarste Afrikaanse romans genoem word. ‘'n Rousteen vir die binnemure’ noem die skrywer sy werk met goeie selfkennis in die voorrede. Voorlopig kan ons sulke roustene nog goed gebruik, al bestaan daar gegronde rede om te vrees, dat dit mettertyd sal verbrokkel. Haar Ma se Suld (1926). Hierdie pendant van die vorige roman vertoon wat opset, styl en strekking betref groot ooreenkoms daarmee. Waar De Waal, naas aangename tydverdryf, ook historiese kennis wil bybring, lê Du Toit hom veral toe op etiese motiewe. Deur 'n afskrikwekkende voorbeeld wil hy die moeders van ons volk wys op die gevare van die moderne plesierlewe. Na die dood van haar man en die vertrek van haar seun na Europa gee moeder en dogter hul oor aan dans, dobbel en drank, en knoop verhoudings aan met manne van twyfelagtige karakter. As die voorbeeldige seun na volbragte studie terugkeer, red hy sover moontlik die eer van die familie. Die skurke word na enige verwikkelinge ontmasker, deur tronkstraf of 'n koeëlskoot onskadelik gemaak en al die skulde betaal. Maar as die triomferende held sy verloofde in die arms wil sluit en sy afgedwaalde moeder en suster probeer terugvoer na die ou paaie, word sy geluk weer verydel deur laasgenoemde, wat na 'n poging om die bruid te vergiftig, wegdros met 'n ‘haai-sosaaietie’-skurk, wat soos al sy konfraters, baie op sy kerfstok het. Na verdere ‘deurmekaar ontwikkelings’ kom moeder en dogter tot 'n late berou; die held sluit ‘sy so vurig beminde en lank verlore Talana in sy arms’ en gee haar ‘'n dooddrukminnaarsoen op die daarna lank verlangende rooi lippe’. {==129==} {>>pagina-aanduiding<<} Du Toit is nie so handig as De Waal om spannende situasies te bedink nie. Hy vermoei soms deur langdradigheid; sy skurke is minder gewiks in duiwelagtigheid, sy held te braaf-prekerig van goeiigheid en sy heldin te intrigerend om volkome die simpatie van jong lesers te win. Maar Du Toit het op delikate wyse die vernaamste euwels van die moderne maatskappy geskets en deur sy gesonde strekking kan hierdie roman belangrike dienste bewys by die opbou van ons kultuur en die aankweek van leeslus. Daar is 'n aanmerklike verbetering te bespeur in die skrywer se tegniek, en sy taal is, hoewel sonder enige artistieke pretensies, duidelik en goed versorg. Haar Ma se Skuld is net die soort leesstof wat 'n groot gedeelte van ons volk na verlang, en langs hierdie weg kan baie lesers gelei word tot rypere kunsgenot. Die besgeslaagde karakters is nie die vlekkelose held, die genotsugtige moeder en dogter, of die gewetelose skurke nie, maar daardie twee troue swart skepsels, Maria en Malietie, wat hoewel vlugtig geteken, tog iets van hul menslikheid vertoon. Vonnie (1936). Vonnie is 'n lywige roman van byna 400 bladsye. Ek het daarin geslaag om die eerste 80 bladsye te lees en voel heeltemal oortuig daarvan dat die heldin veilig in die held se arms sal beland, ten spyte van die kleingeestige intriges van 'n paar jaloerse vriendinne. Die omslagtige verteltrant herinner sterk aan Du Toit se vorige romans en maak die boek genietbaar slegs vir lesers van geringe letterkundige ontwikkeling. § 7. A. du Biel. A. du Biel is die 27ste Oktober 1884 gebore op Geelhoutboom, distrik Mosselbaai. Gereelde onderwys het hy nooit gehad nie en in ‘die bittere publieke skool van die lewe’ het hy al sy kennis opgedoen. Van sy twaalfde jaar af het hy baie gelees en van kleins af met sy vader lang reise gedoen. Maar reeds op vyftienjarige leeftyd moes hy sukkel om vir homself 'n bestaan te vind en 'n weinig later het die sorg vir sy ouers ook op hom geval. Getrou het hy in 1914 onder baie moeilike omstandighede geskryf. 1) Die Misdade van die Vaders het in 1919 verskyn, Kain in 1922. Verder het verskyn in afleweringe Oor Berg en Vlakte of Onder die Vierkleur (1922-25), 'n verhaal vir die jeug, in die eerste nommer waarvan ‘pakkende awonture’ in vooruitsig gesteld word. Die letterkunde beskou Du Biel as ‘die kragtigste wapen om ons volkie te ontwikkel’. Hy streef veral daarna om die leeslus van jong Suid-Afrika op te wek. {==130==} {>>pagina-aanduiding<<} Getrou (1914). Dit is 'n Hugenote-roman, die gebeurtenisse waarvan in Frankryk, Holland en Suid-Afrika plaasvind. Die Europese atmosfeer is egter so swak aangedui, dat dit net so goed Pole of Tibet kon gewees het. Moet die praatjies oor Lodewyk XIV, die ‘prag en praal van Versailles’ en 'n paar armsalige ma chère's ons nou onder die indruk bring, dat ons in Frankryk verkeer? Met die innerlike kern van die tydperk kom ons nooit in aanraking nie, en die historiese vliesie is baie dun. Met 'n komieklike naïwiteit vertel Du Biel ons in beeldspraak, wat baie op die van Von Wielligh gelyk, hoe hy gesukkel het om ‘Vader Tyd se rytuig’ te laat stil hou! (p. 142). ‘Dit neem dan ook heelwat inspanning van die verbeeldingskrag om die plek voor te stel soos dit twee eeue gelede was, want die meedoënlose hand van vooruitgang spaar nie die oudhede nie’ (p. 141). Dat die koms van die Hugenote was ‘die stigting van die Afrikaanse volk’ (p. 127), is 'n onjuiste bewering. Verrassend is die meedeling, dat die sewentiende eeu veral die eeu was ‘waarin die hele wêreld sy eie sienswyse wou handhaaf ten spyte van Kristelike liefde, van reg - ja, ten spyte van die Almagtige’ (p. 147). Ook die volgende slaan ons heeltemal dronk: ‘As ons die Amerikaanse volk beskou.... dan vind ons oral 'n diep bewussyn van die majesteit van die Allerhoogste’ (p. 127). Sulke bewerings toon duidelik dat die skrywer 'n primitiewe historiese insig het. Van 'n realistiese uitbeelding is daar dan ook geen sprake nie. ‘So 'n man was ds. Pierre Simond, en ons kan aanneem dat voorgaande in hoofsaak sy lewensgeskiedenis was’ (p. 146). Moet hy felle emosie beskryf, dan pas hy die welbekende sluier-taktiek toe! ‘Wel, leser, ons sal die twee vanaand nie verder volg nie. Daar is tye in die lewe van 'n mens wat te heilig is om aan vreemde oë te ontbloot’ (p. 30). 1) Gedurig dring die skrywer homself op die voorgrond. Hy lewer prekies soos 'n teologiese student en gebruik selfs die dialoog vir sedekundige verhandelinge. 2) Die twee ‘ou seerobbe’, wat op p. 160 begin te praat, het nog nooit soutwater geruik nie! Hoeveel sou die sewejarige Marie van Henri se storie (p. 15-20) verstaan het? Die verhaal is van die Johannes van Wyk-soort - 'n aaneenstrengeling van avonture - soms erg onwaarskynlike. Daar is 'n toneelheld, wat wondere verrig, 'n skurk doodsteek en selfs Adriaan van der Stel laat sidder. Die skurk is ‘nie geheel sleg nie - geen mens is’ (p. 99). Tog kom daar van die psigologie nie veel tereg nie. Die ontstaan van liefde is vir Du Biel eenvoudig. ‘Daar is diepe agting in haar hart vir haar {==131==} {>>pagina-aanduiding<<} vriend - 'n agting wat besig is om in liefde te verander: die enigste weg waarlangs 'n edele liefde kan ontstaan’! (p. 53). 1) Die ingewikkeldste psigologiese prosesse word ons in een sinnetjie meegedeel. ‘In een uur het hy van 'n jongeling tot 'n man geword’ (p. 38). Ofskoon heeltemal slegte mense volgens Du Biel dus nie bestaan nie, skyn hy aan heeltemal goeies tog te glo, want Van Bergen is stroperig braaf en daar is nog ander ook wat niks op hul kerfstok het nie. Potsierlik is veral die toneel met juffr. Le Notre. (p. 54 vlg.) Die Misdade van die Vaders (1919). Veel beter geslaag is Die Misdade van die Vaders. Hier is die skrywer op meer bekende terrein, want dit is 'n verhaal uit die Voortrekkerperiode. Jan Alpenveld, 'n misdadiger, besluit om aan die Kaap 'n fatsoenlike lewe te begin. Met sy hoflike maniere verower hy die hart van Annie Bester, 'n eenvoudige plaasmeisie, die aangenome kind van Petrus Liebenberg, wat verloof was aan sy seun Tjaart. As oom Petrus beswaar maak teen die huwelik, vlug Annie met Jan Kaap-toe. Annie is die dogter van ‘'n roekelose kêrel en 'n hopelose dronkaard’ (p. 11, 2de druk). ‘Die Heilige Skrif is vir (Liebenberg) 'n lewendige wet en hy trag om dit letterlik te volg’. Na Annie se vlug, sny hy haar naam uit die familie-register voor in die Bybel en lees daaruit die vervloeking plegtig voor: ‘Die de misdaad der vaderen bezoek aan de kinderen, aan het derde, en aan het vierde lid dergenen, die Mij haten.’ Jan Alpenveld raak na enige tyd in die hande van die gereg, maar tussen sy seun, Nikolaas en Tjaart se dogter, Lenie, ontstaan weer 'n liefdesbetrekking, wat deur dieselfde Bybelteks verydel word. Nikolaas trek alleen na die woeste Noorde, waar hy later op geheimsinnige wyse groot dienste aan die Trekkers bewys. Hy ontmoet Lenie weer en val in 'n geveg met die Kaffers. Tjaart word deur sy vrou geleer, dat die grootste gebod die van die liefde is. Twee motiewe uit Getrou word nog 'n keer gebruik. Soos Annette in haar eenvoud verlei word deur die genoegens van Parys en die mooi praatjies van La Fontaine, word ook Annie Bester bekoor deur die fyner lewe in Kaapstad en die vername houding van ‘Graaf Alpenveld’. Van Bergen bewys sy ou vrinde groot dienste sonder dat sy ware naam bekend word, Alpenveld net so. Die geheimsinnige ‘Verdwynende Boerewag’ is 'n knap verafrikaansing van die dolende middeleeuse ridder. In plaas van gifbrakende monsters veg hy teen leeus; die skone dame word nie uit 'n onderaardse kerker van 'n betowerde kasteel gered nie, maar uit die hut van 'n Kafferkaptein. Die Voortrekkers word verdedig teen lasterpraatjies; die vrymaking {==132==} {>>pagina-aanduiding<<} van die slawe, die kafferpolitiek van die Britse regering en die handelwyse van die Engelse sendelinge word bespreek. 'n Poging word gedoen om dit alles binne die kader van die verhaal te hou; die historiese uitweidings is kort. ‘Dit sou te lank duur om alles hier mee te deel.... en dit is ook geskiedenis.’ (p. 124.) Dat Du Biel ten spyte van sy goeie verhaal tog nie daarin slaag om ons in die volle werklikheid van die Voortrekkertydperk te plaas nie, is hoofsaaklik 'n gevolg van sy gebrekkige en verouderde tegniek. Hy hou gedurig 'n praatjie met die leser, gee beskouings oor die gedrag van die karakters, las sedekundige prekies in net waar hy kan. Die hoofverhaal loop oor drie geslagte, maar daarby moet ons o.a. ook nog kennis maak met al die bewoners van Uitkyk. Die gevolg is dat die meeste persone baie vaag geteken word. Selfs waar dit enigsins uitvoeriger gebeur, soos o.a. met Lenie, kry ons selde die indruk, dat ons met werklik lewende mense te doen het. Lenie word ons op p. 59 voorgestel as 'n digteres. Dit word verseker, dat haar vader dié ‘kundigheid’(!) waardeer, ofskoon ons van die waardering nooit iets merk nie. Die geduldige leser word op p. 135 weer aan Lenie se digterskap herinner en 'n gediggie ‘wat sy in dié dae gemaak het’ word meegedeel. ‘In dié dae’ is net voor die Groot Trek, maar op p. 141 word ons vertel - dis nou 'n goeie paar maande later - dat van dieselfde gedig, wat ons al klaar gelees het nog net ‘enkele reëls’ geskryf is! Deur sulke onhandige sette 1) is dit, dat ons in plaas van die uitgebeelde persone altyd sien meneer Du Biel aan sy skryftafel, verskans agter Theal, Cory en ander historici! ‘In 'n oomblik sien hy alles in sy ware kleure. Hy aanskou sy eie siel in al sy naaktheid....’ (p. 144). Dit is van die soort blits-psigologie, wat so dikwels in Getrou voorkom. 2) Van wat in die siel van Nikolaas en Lenie omgaan na die indrukwekkende vervloeking deur oom Tjaart hoor ons weinig. Du Biel bly te veel aan die buitekant. Nikolaas ‘lyk jare ouer: die gewone hoopvolle glimlag is van sy gelaat weg, en in plaas daarvan staat erns geskrywe’ (p. 98). - ‘Arme Lenie! Sy is nou maar slegs die gees van wat sy vroeër was; en die treurige en hopelose blik op haar gesig is onvergeetlik’ (p. 99). Later slaag Du Biel daar veel beter in om ons te laat voel die tragiese noodlot, waarteen Nikolaas tevergeefs stry. Die vloek wat op hom rus deur sy geboorte kan selfs deur sy dapperste dade nie weggeneem word nie. ‘Die misdade van sy vaders’ maak 'n volkome rehabilitasie in die trekkerslaer onmoontlik, en dat hy sy lewe opoffer vir dieselfde mense, wat hom as 'n onwaardige uit hul gemeenskap stoot is 'n treffende klimaks van 'n eg-menslike {==133==} {>>pagina-aanduiding<<} drama. Met sy dood is die drama uit, en die slothoofstuk verswak alleen die indruk. 1) Lenie behoort aan niemand anders as aan die gevalle held nie. Deur die kreasie van Nikolaas Alpenveld word Die Misdade van die Vaders iets meer as 'n gewone avonture-verhaaltjie. Die moralisasies, wat 'n groot gedeelte van die roman inneem is van dieselfde gehalte as in Getrou. Daar is geen sprake van mooiheid van segging of oorspronklikheid nie. ‘Hoe wonderbaar is ons lewe! Alles is veranderlik; niks bly vir een enkele uur geheel dieselfde nie.’ (p. 124.) Van sulke afgesaagde bewerings krioel die boek. Of anders kry ons twyfelagtige stellings soos die volgende: ‘Dit is een van die wonders van die skepping dat dit in die mag van die mens is om te word wat hy verkies’ (p. 50). ‘Die taal en styl openbaar 'n bekoorlike helderheid en eenvoud’, verklaar prof. J.J. Smith in sy voorwoord. Helder en eenvoudig is dit seker, maar dit mis alle bekoorlikheid, omdat Du Biel geen eie stem het nie. Daar is niks persoonliks in sy styl, nêrens iets wat ons ontroer deur fynheid van segging of klank nie. Dikwels stuit ons op 'n eentonige ‘hul-lerigheid’. ‘Hul wou blomme pluk. Plotseling het hul 'n aantal Kaffers na hul sien aankom, en hul het begin hardloop. Hul het gou gesien dat hul nie sou voorbly nie, en het na 'n dik plek bosse weggedraai, waar hul gedink het dat hul miskien kon wegkruip. Hul het die bosse gehaal; maar hul was doodmoeg, en die Kaffers was kort agter hul. Hul moed was al byna op, toe hul by 'n erdvarkgat kom.’ (p. 187.) Kain (1922). In hoofsaak geld die voorafgaande karakteristiek ook van Kain. Die hoofmotief is weer die vadervloek wat op Frans Naudé rus en ook in die uitwerking van die besonderhede is daar groot ooreenkoms met Die Misdade van die Vaders. Frans moet die Swasielandse grense bewaak, maar in 'n oomblik van swakheid laat hy hom omkoop deur ‘Snelskiet’ en sy handlanger Lewinski, twee geslepe skurke, wat deur die smokkel van wapens en ander listige planne ryk geword het. As historiese agtergrond vir 'n reeks avonture maak die skrywer gebruik van gebeurtenisse voor en tydens die eerste Vryheidsoorlog. Na 'n tydperk van eensame boetedoening in die ontoeganklike streke van Swasieland word Frans in sy eer herstel, as gevolg van sy dapperheid by die slag van Laingsnek. Die geskiedenis van twee vroue, Pêrel en Jessie het die skrywer op handige wyse deur Naudé se avonture gevleg en hy vertoon 'n vaardigheid in die groepering van insidente en die aanbring van spanning, wat ons aan die bioskoop laat dink. Die liefhebbers van romantiekerigheid kan hul harte ophaal, en die {==134==} {>>pagina-aanduiding<<} jongspan sal uitasem end-toe jaag, want Du Biel is geen slegte verteller nie. Die toevallighede en onwaarskynlikhede sal hulle aan 'n sameloop van omstandighede toeskrywe en Jessie, ten spyte van haar twyfelagtige verlede, as heldin bewonder. As ligte leesstof vir die jeug kan Kain aanbeveel word en as intrigeroman beskou is dit verdienstelik. Wie egter na 'n beeld van die Transvaalse samelewing tydens die eerste Vryheidsoorlog soek, sal bitterlik teleurgestel word deur die gemis aan diepte van siening. Du Biel handhaaf sy roem as spesialis in die sielkundige bolmakiesiespel, soos al aangetoon in hoofstuk I, § 9. Met dit alles draai Du Biel sy half-historiese rolprent tog op prettige wyse af en ons sal sy poging om geskikte leesstof vir die jeug te verskaf meer waardeer, as hy sy taal beter versorg. Daar is lomp sinne, anglisismes en grammatikale foute in sy werk, wat nog op gebrekkige taalbeheersing wys. § 8. J.H. Malan. J.H. Malan is in 1874 op Groenberg, Wellington gebore. Sy eerste onderwys het hy van C.P. Hoogenhout ontvang. Van 1894-1897 was hy onderwyser in die Vrystaat. Daarna het hy verder gestudeer en tydens die Tweede Vryheidsoorlog Hollands gedoseer aan die hoërskool op Seepunt. In 1904 begin hy sy joernalistieke loopbaan by die Re-Echo. Vervolgens het hy gewerk by Het Zuid-Westen en Het Westen. In Potchefstroom was hy ook redakteur van die tydskrif Werda, wat vir ongeveer 'n jaar bestaan het. Nadat hy lank gedien het op die redaksie van Die Volksblad het hy hom gewy aan navorsingswerk in die Vrystaatse Argief. Reeds tydens die drie-jarige oorlog het Malan sy historiese ondersoekings in die argiewe begin en 'n versameling van Africana aangelê. Boer en Barbaar het in 1913 verskyn, 'n toneelstuk Na Olikheid kom Vrolikheid in 1917, Die Swerweling in 1921, Sonskyn en Skaduwee in 1926 en Die Opkoms van 'n Republiek in 1929. Tydens die veldtog van dr. W.J. Viljoen ten gunste van die Vereenvoudigde Spelling het Malan in Ons Land vir Afrikaans gepleit onder verskeie pseudonieme, soos Cabo, Bonhomie, ens. Op joernalistieke gebied is hy as Oom Fanie bekend. Hy het o.a. deur die halfkroon-fonds £4000 vir generaal De Wet se boete ingesamel. Vir sy aandeel in Die Dolosgooier van Joubert Reitz word na die bespreking van dié boek verwys. Die Swerweling (1921). Die Swerweling is ‘'n verhaal uit die tyd van die Franse Hugenote in Drakenstein’. Lambert Lourier, wat in Frankryk baie Hugenote oor die grense gebring het, word in Suid-Afrika ‘'n onverbeterlike makdroster, {==135==} {>>pagina-aanduiding<<} swerweling en niksdoener’ (p. 165). Hy is 'n sieltjie sonder sorg, wat ‘geen staanplek in hierdie wêreld (wou) hê nie.’ (p. 40.) ‘Ek is wat ek mag word. Ek glo aan geen instelling van die mens nie’ (p. 47). Sy vernaamste besigheid is dan ook rondkuier, jag en ipocras drink by die landdros, Samuel de Meurs, wat ook vroeër Hugenote gehelp het om te ontvlug. Lambert toon 'n neiging om sy swerwersbestaan op te gee as hy verlief raak op Anna, die dogter van Rousseau. Maar hy verspeel sy kanse, omdat sy Kaapstadse ‘pepermintjie’, Isabella, so vrypostig met hom omgaan. Nadat Danie vir Anna uit die see gered het, kry sy die ou-jonkman lief, terwyl Lourier troos soek by Isabella. Op voorspraak van sy vrinde, benoem die Goewerneur, Louis van Assenburgh, Lourier tot onder-stuurman op die retoervloot, en op die Amsterdamse skeepstimmerwerf vergeet hy al sy swerwersideale en word 'n rustige werksman. Die Swerweling is 'n historiese roman, die hoofdoel waarvan die aanbrenging van geskiedkundige kennis is. Daar is tallose historiese uitweidings o.a. oor die vervolging van die Hugenote in Frankryk, die politiek van die Oos-Indiese Kompanjie, ens. Uit allerlei besonderhede blyk ten duidelikste dat hier 'n historikus, wat jarelank met groot toewyding in argiewe sy gegewens bymekaar gesnuffel het, aan die woord is. ‘Dit is 'n jammerte dat geen enkele brief uit die tyd bewaard gebly is nie in sover dit die Kaapse Hugenote aangaan’ (p. 17.) Soms deel hy sy kennis op betogende wyse mee, soos in hoofstuk V, of anders laat hy iemand 'n opsetlike vraag stel. Anne wil weet, wat vir mense die Dragonders is (p. 20); Anna vra: ‘Maar wat is nou eindelik (eintlik?) die galeie? (p. 22); De Smit: ‘Maar Aploon, wat is nou eintlik die Buddhisme?’ (p. 59); en op p. 105 vra Anna weer: ‘Maar wat doen die Hugenote en die misdadigers dan nou eintlik op die galei?’ En so is daar meer voorbeelde, wat ons telkens laat voel, dat ons hier met geen mense te doen het nie, maar alleen met 'n skrywer, wat onder allerlei vermomming sy byeengegaarde kennis aan die man wil bring. Ten spyte egter van 'n argaïstiese tintjie in die styl, ten spyte van al die moeite wat die skrywer gedoen het om histories juis te wees in die skildering van die omstandighede, gewoontes, huisraad en klere van die Kaapse Hugenote, voel ons direk, dat dit 'n bordpapier-wêreldjie is, wat ons die moderne werklikheid nie laat vergeet nie. Dié indruk word nog versterk deur die gebruik van sulke outydse foefies soos die volgende: ‘Ons mag 'n gedeelte van die gesprek by die voordeur afluister, solang die slaaf in die kombuis aan slaap is....’ (p. 92); ‘As 'n mens 'n dag na die gebeurde in die vorige hoofstuk vermeld, en dit kort na sonsondergang, saggies by die opestaande gang binnestap en by die deur links in die kamer kyk, sou 'n mens 'n meisie van omtrent 19 jaar oud voor 'n groot spieël het sien staan.’ (p. 144.) So teken die moderne kunstenaar nie. Dié laat ons geen gesprekke by die voordeur afluister {==136==} {>>pagina-aanduiding<<} nie, maar plaas ons in die volle realiteit, omdat hy met sy eie persoonlikheid die lewe van sy uitgebeelde persone deurleef het. ‘Il faut que la réalité extérieure entre en vous; à nous en faire crier, pour la bien reproduire’, sê Flaubert. Die slemppartye van Lourier en De Meurs is miskien die besgeslaagde toneeltjies in die boek. De Meurs met sy toegeknipte oog en knorrende brak, Lambert in sy astrante vrindskaplikheid is goed geteken, terwyl die dialoog meestal fris en lewendig is. Hoe styf en onnatuurlik word dit egter op ander plekke! ‘Ja, as dit (die liefde) die diepte van die ware moederliefde het en 'n vermeende liefde nie 'n bandelose drif is nie wat te dikwels en helaas, al te gou tot 'n ontnugtering van die werklikheid (?) kom.’ Sulke en nog swaarwigtiger betoë lewer Jacob de Smit op p. 137. Hy praat van ‘'n nimmereindigende lewenswroeging’, terwyl ook Isabella so deftig soos 'n dominee redeneer: ‘Jy sien daar so beteuterd en ontredderd na liggaam en siel uit, asof jou sterwensuur naby is.’ De Smit vertel Lourier dat sy ouershuis ‘nou 'n droom, 'n ysingwekkende, nimmereindigende herinnering (is). Terwille van (sy moeder) het (hy) nog teen die verdrietelikhede van die lewe manhaftig en hygend geworstel....’ (p. 46). De Smit met sy triestige beskouings moet dien as teëhanger van Lambert Lourier met sy lugtige swerwersnatuur. Maar die hele selfmoordepisode behoort tot die swakste gedeeltes van die boek. Malan verstaan nie die kuns om deur intuïtiewe, deurdringende details sy persone te laat leef nie en De Smit bly vir ons 'n skim. Sy teatrale lamentasies mis alle egtheid, en die tekening van sy geval is so alledaags, dat dit by ons geen dieper gevoel opwek nie as soortgelyke berigte, wat ons af en toe terloops in 'n koerant raaksien. Die onverstaanbare praatjies van Aploon oor Boeddhisme lyk baie na onhandige vertalings uit 'n handboek oor Oosterse wysbegeerte. Onder ander sê hy: ‘Die mens het geen eie ek nie. Hy bestaan uit 'n liggaamlike uiterlike gevoel, waarneming, begeerte en bewussyn wat hy hom kan verbeel en as hy sterf, plof dit almal uiteen’ (p. 59). Die vertalings uit Pascal is ook nie almal gelukkig nie. ‘Die teenwoordige is nooit ons end nie....’ (p. 115). Die Franse teks lui: ‘Le présent n'est jamais notre fin: le passé et le présent sont nos moyens; le seul avenir est notre fin.’ 1) Dit lyk baie of 'n Engelse vertaling Malan hier op 'n verkeerde spoor gebring het, want uit die verband blyk dit dat Pascal wou sê: Die teenwoordige is nooit ons doel nie. Onduidelik is ook Malan se vertaling van: ‘Si nous naissions raisonnables et indifférents, et connaissant nous et les autres, nous ne donnerions point cette inclination à notre volonté. 2) ‘As ons onverskillig - oplettend....’ ens. (p. 115). Onverstaanbaarheid is 'n vaste kenmerk van Malan se styl. Telkens {==137==} {>>pagina-aanduiding<<} stuit mens op sinne, wat jy drie of vier keer moet lees, voordat dit op 'n manier duidelik word. Sy verwronge uitdrukkingswyse laat mens dink aan 'n swaargelaaide wa, wat kerun-kreun teen 'n knaende opdraand uitgesleep word. Dié duisterheid word meestal veroorsaak deur 'n onbeholpe sinsbou en woordskikking, of 'n verwarde gedagtegang. ‘'n Halwe of hele bottel wyn by glasiewyse genuttig in 'n aand deur een persoon, is nie juis beskou deur die fatsoenlikste in die land nie, dat 'n mens op 'n ongeoorloofde wyse oor jou maat gaan.’ (p. 92); ‘Ek snap dit nie, maar ek glo dat 'n Indiese bende ook in die rigting van die onsienlike en harmonie vir hulle beweeg’ (p. 122); ‘Daarmee is hulle die aand, byna histories vir die familie se geskiedenis uitmekaar’ (p. 126). Die beskrywing van die verjaardagfees op die kasteel in Hoofstuk XVII mag in alle opsigte histories juis wees, maar met kuns het dit seker niks te maak nie. ‘Eindelik tree die goewerneur, onder menigvuldige buigings van die gaste.... binne. Daaronder word opgemerk, onder meer, landdros de Meurs, lede van die Politieke Raad, ander vernaamste ingesetene van die stad.... Isabella was in 'n platgeplooide swart syrok, mevr. luitenant Rheede in 'n polonnaise-plooirok...’ (p. 153-4). So 'n verslag kan die jongste rapporteur van Die Volksblad ook skrywe! In wat blykbaar as 'n kunswerk bedoel is, behoort soiets, om die minste te sê, seker nie voor te kom nie. Malan het 'n manier om met die grootste erns uit te wei oor alledaagse onbelangrikheidjies. ‘Anne wat in die kombuis besig was om te stryk, het binnegekom nadat Anna, haar dogter, vir haar van die gaste vertel het en sy het hulle almal hartlik welkom geheet, nadat sy vir hulle gegroet het’ (p. 8). Nou weet ons dit tog sekuur: eers groet, dan welkom heet! Maar, ‘intussen sal Anna voorbereidsels vir die ete maak’ en ‘solang die gaste en Pierre oor die rit, die weer en die boerdery praat is die tafel gedek en verder alles in verband met die aandete in orde gebring. Toe hulle almal aansit, was daar genoeg vir almal.’ Gelukkig vir die huisvrou, maar hoe sy dit so sekuur kan weet by die begin van die maaltyd al, is nie erg duidelik nie! Dan volg 'n uitweiding oor die ‘Fransche brood’. Na die ete is die huisgodsdiens, wat deur Pierre gelei is, waargeneem. Eers is 'n hoofstuk uit die Bybel uit voorgelees, toe 'n psalmvers gesing, ens.....’ Waarom moet sulke welbekende sake so plegtig meegedeel word? Hier het Malan nou 'n mooi geleentheid gehad, om deur enkele plastiese trekkies, deur die tekening van 'n paar gebare of die aanduiding van 'n reeks klein handelinge sy persone uit te beeld. Maar vir hom is dit, as historikus hoofsaak, dat die leser moet weet van ‘die worsteling van die Camisarde, (wat) op die punt is om onderdruk te word’. Gevoel vir die natuur het Malan wel, maar hy vergenoeg hom meestal {==138==} {>>pagina-aanduiding<<} met konvensionele beeldspraak. Die bergpunte gooi hul ‘wit musse’ ongeduldig af (p. 5); ‘van die sonneskyf (spat) 'n see van gloeiende vonke (af)’ (p. 6); ‘Statig en deftig is die son reeds agter die westerkimme weggestap in sy fonkelende mantel van goud en oranje en violet’ (p. 199). Waag hy hom aan 'n nuwe beeld dan kry ons rariteite soos die volgende: 'n Wyfie-kokkewiek antwoord haar maat ‘in 'n perfekte maat...., met halleluja's’ (p. 63), terwyl die lenteson elke jaar ‘nimmerfeilend oor elke boom en blad na 'n gure winternood halleluja's neergiet - helaas, helaas, ook as requiem vir die voorgeslag wat verby is, wat leef, wat kom’ (p. 80-1). Halleluja's as requiem! 'n Voorgeslag wat leef, wat kom! Dit staan daar! Sonskyn en Skaduwee (1926). Hierdie bundel bevat vier verhale en 'n aantal verse. Reeds die allereerste sin bewys dat Malan sedert 1921 nie veel vooruitgang op stylgebied gemaak het nie. In Die Kaapse Kluisenaar is die stilistiese gebreke so opvallend, dat die verhaal ongenietbaar word. Van die tweede bladsy af word die sinne op eentonige wyse aaneengeryg deur en, en dan, en toe. Ek verswyg egter ander gebreke in Malan se styl, omdat die in hoofsaak 'n herhaling is van swakhede in vroeër werk. In die verhaaltrant, wat wel hier en daar nog 'n moeisame sukkelgang het, is deurgaans egter 'n groot verbetering te bespeur. In die besgeslaagde verhaal, Oom Kalie, het die skrywer sy figure noulettend bespied en deur die optekening van allerlei eienaardigheidjies laat hy die ses natuurkinders enigsins vir ons lewe. Hulle ondersoek die kwaliteit van mekaar se tabak en trek Kaap-toe met bondeltjies droë vrugte; oom Kalie gaan op 'n ongewone wyse na 'n weduwee vry en vier ook sy bruilof op 'n snaakse manier. In hierdie toneeltjies laat Malan geen enkele beweging van sy figure aan sy aandag ontsnap nie en die omgewing word ook met liefde geteken. Hier en daar gee hy 'n treffende natuurskildering, soos b.v. van die paddas wat op die damwal ‘'n huislike verskil in die maanskyn beslis,’ (p. 53). In Die Eerste Offer word 'n patologiese geval behandel. James Walton, 'n Ierse student, vlug vir die wraak van 'n geheime genootskap na Suid-Afrika, waar hy na 'n tydperk van omswerwing skuil soek by 'n landgenote in die Pêrel. Die vrees vir agtervolging het egter sy geesvermoë gekrenk en Malan gee 'n breedvoerige skildering van Walton se martelende dwaalgedagtes. Hy het 'n ernstige poging gedoen om hom in te leef in Walton se sielestryd en slaag ook daarin om die vlugteling se grillige gedagtegang weer te gee. Maar as ons lees dat Walton se ‘grimmige helfte’ 'n stryd voer teen sy ‘beminlike helfte’, wat sukkel om ‘tot besef van sy waarde vir 'n ware lewensaanskouing te kom (p. 92), dan voel ons {==139==} {>>pagina-aanduiding<<} twyfel opkom oor die egtheid van die geval. En dié twyfel styg as Walton in die aand na 'n afmattende staptog besluit: ‘Hy mag ten minste 1) probeer om 'n groot vraagstuk oor die onsterflikheid, oor die doel van die lewe op te los’! Al lyk dit of Malan skerm met groot vraagstukke, waaroor hy self nie tot helderheid gekom het nie, tog sê hy soms treffende dinge, soos b.v. die twee aanhalings op p. 126. Sy natuurgevoel is ook veel inniger en al is daar nog ‘ware halleluja's’ op die voëltjies se repertoire, verras hy ons tog deur 'n fyn opmerksaamheid en deur die wyse waarop hy 'n natuurstemming aandui. Oor die algemeen is daar dus 'n opmerklike styging in Malan se werk waar te neem. Hy is 'n gevoelige siel wat ernstig peins oor die lewensverskynsels, en deur 'n uitgebreide lektuur wysheid uit baie bronne versamel het. Maar in sy worsteling met die taalmaterie ontglip die skoonheid hom, en deur sy verwronge taaluiting slaag hy nie daarin om 'n gawe kunswerk te skep nie. Volgens prof. J.J. Smith is Malan ‘die hanteerder van 'n gespierde en kleurryke taal, wat wel hier en daar van stroefheid getuig, maar wat darem in sy kern eg Afrikaans is’ (Die Huisgenoot, 18 Junie 1926). Op die stroefheid het ek orals gestuit en die gespierdheid slegs by uitsondering aangetref. § 9. Sadie Bosman. Langs Kronkelende Weë (1921). Dit is 'n verhaal van ‘hartverskeurende afskeid’, van eindelose gekreun en gesteun, van sugte en snikke! Dis nie die gewoonte om statistiese tabelletjies in 'n letterkundige kritiek te gebruik nie, maar in hierdie geval moet tog vermeld word, dat daar byna vyftig maal gesug word! Dan nog al die trane! Emmers vol! Soms kom al om die ander bladsy byna die uitdrukkings ‘met 'n sug’, ‘met betraande oë’ voor. 2) Met sulke en dergelike huilerige woordjies, met 'n salwende tederheidsbetoon, 'n sieklik-verweekte gevoelerigheid probeer die skryfster om ons te ontroer. Met sielsleë frases wil sy ons in 'n droefnisstemming bring! ‘Duisenderlei bange vrese vervul steeds haar treurende hart en die skoon oë was moeg van al die stil geween.... die oë vol skaduwees (waaragter) 'n wêreld van wee verberg was’ (p. 155). ‘Maar vanaand moes die sterre hulle aangesig verberg vir die hartverskeurende strome van mensebloed (!) wat orals vloei, en skyn die hemelse vrede verder as ooit te wees van die oorloggeteisterde aarde’ (p. 61). ‘Met gebukte hoof, verbleekte gesig, en dromende oë hervat sy haar lewenstaak; maar die glimlag op haar lippe het vir altyd verdwyn, (So, so! P.C.S.) en haar hart daarbinne was versteend’ (p. 96). Nêrens 'n gevoelde {==140==} {>>pagina-aanduiding<<} woord nie, net pure aanstellerige bombas. Of anders 'n mislike foefie om eie onmag te bedek. ‘Oor die bitter skeiding en hartverskeurende vaarwel laat ons saggies 'n sluier neer’ ens. (p. 47). As Lear uiting gee aan sy droefheid oor die dood van Cordelia, dan sê hy met 'n eenvoudige gebaar: ‘Pray you, undo this button. Thank you sir’. Só werk die beeldende kunstenaar. Groot en egte lewensgevoel kan alleen geuit word deur groot styleienskappe. Daar is duisende diep ontroerdes, by wie alleen hakkelwoordjies of stomme gebare 'n aanduiding gee van die lewenstragiek. Maar alleen die kunstenaar kan die donker dieptes vir ons oopblits. Dit kan nie gedaan word met praatjies oor ‘snikkende geween’ en ‘gesmoorde smartelike kreune’ nie. In Sadie Bosman se styl is daar nooit 'n opglansing van oorspronklikheid nie. Dit is wat Querido noem 'n ‘grijseffene breikousenstijl’, waarin die dooiste gemeenplase met 'n geroetineerde ratsheid afgerittel word. Nooit raak sy verleë oor 'n woord nie, die naalde klik-klik met masjinale reëlmatigheid. Tog het sy 'n stof behandel, wat by 'n waarlik voortreflike werker tot 'n geweldig aangrypende tragedie sou kon gegroei het. Hannes en Miemie is verloof, maar deur die rebellie en die veldtog teen Duits Suid-Wes (1914) ontstaan daar vyandskap tussen hul vaders. Hannes kom tot ander insigte deur sy omswerwings in die Vrystaat en op die end van die ‘kronkelende weë’ kry hy tog vir Miemie. Geteken word dus die reaksie op 'n paar persone van die geweldige konflik, wat die Afrikanerdom in twee partye verdeel het, en vandag nog soveel bitterheid veroorsaak. Maar die twee vroue, deur wie Hannes tot Nasionalis bekeer word is geen gewone sterwelinge nie - hulle is engele! Veral Lida word ons voorgestel as ‘'n vleklose engel’ en selfs die dokter ‘'n bedaarde ou Engelsman’ (p. 198) verklaar, dat ‘vir so 'n engel ons besoedelde aarde 'n onwaardige woonplek (is)’ (p. 199). Maar ook Miemie is so 'n voorbeeldige jongedogter, dat dit geen verbasing wek as ons hoor dat sy ‘engelagtig lyk’ nie (p. 16) en Hannes ‘met so 'n hemelse teder blik aan(sien)’ 1) (p. 44). Hannes is ‘'n treffende beeld van 'n flink jongeman, wat 'n suiwer, eerbaar en opreg lewe lei’ (p. 24). Sy enigste sonde is, dat hy 'n Sap is, maar die stroopsoet seuntjie word deur die liewe engeltjies so mooi reggehelp, dat hy ook volmaak word! Beskou ons nou die orige figure van die limpatiese geselskap, dan blyk dit, dat oom Gideon ooreenkoms vertoon met die swaarmoedige grysaards uit Vergeet nie en Teleurgestel. Hoe dat oom Koos nou eintlik tot berou kom, word nie vertel nie. Die bedrywige tant Lizzie, wat gelukkig geen tyd het om te veel te sug nie, is die bes geslaagde figuur. Waar daar geen geleentheid vir sopperige sentimentaliteit is nie, blyk dit dat die skryfster 'n goeie opmerkingsgawe het. Tant Lizzie is ten minste 'n menslike mens. {==141==} {>>pagina-aanduiding<<} Tot watter onsinnigheid die sentimentele neiging aanleiding gee blyk hieruit: Miemie het ‘'n ondeunde kuiltjie, wat elkemaal so skelmpies uit die wange loer, en waarin die hart van Hannes lank reeds baie diep ingetuimel het’! (p. 3). Sy gaan na die somerhuisie waar ‘die roostakkies en kamperfoelie om die latwerk heen (slinger); daar steek sy dikwels haar arms na hulle uit ‘om hulle aan haar bekommerde hart te druk’! (p. 56). Stel mens jou die dinge nou nugter voor, dan is dit om van te skater! Die toneeltjie waarin die ou Basson, wat aan die maal geraak het oor sy in die rebellie gevalle seun in die middel van die nag vir Hannes kom vra: ‘Vir watter kant het jy gestem?’ (p. 167) laat ons op plastiese wyse voel, wat 'n lewensaak die politiek vir ons mense is. Dit is psigologiein-aksie en heel wat anders as 'n bewering soos die volgende, wat ons op goed geloof moet aanneem, sonder dat ons daar iets van gevoel het. ‘In die oorlogskool het (Hannes) geleer dat helde gebore, en nie gemaak word nie, en dat die beesagtige in die mens soms die redelose dier ver oortref’ (p. 102). Die politieke tendens en die feit dat daar resente gebeurtenisse van nasionale belang in behandel word, gee die roman 'n aktuele kleur. Deur die een party kan dit as 'n wapen in die politieke stryd beskou word, maar van letterkundige belang is dit nie. Feitlik is dit dan ook slegs 'n vertaling, want die oorspronklike uitgawe van 1916 was in Hoog-Hollands. In Die Huisgenoot (1924) het verder 'n verhaal verskyn: Stemme van die Vlaktes, waarin meegedeel word die ondervindings van 'n tranerige Bolandse meisie, wat in die Noordweste gaan skoolhou en daar, soos haar maats in die vorige roman, weer ontelbare sugte slaak. Daar is egter veel verbetering in styl en tegniek te bespeur en 'n poging word gedoen om ook die innerlikheid van die figure te ontleed. Op haar beste is Sadie Bosman in enkele kort verhale, o.a. Melima (Die Huisgenoot, 1924). § 10. ‘Wolla’. Wolla vertel in My Groot Dag (1921) die vakansie-avonture van Petrus Breytenbach, onderwyser in Ermelo, van wie se Ford-outo 'n diamante-dief met 'n mooi vroutjie behendig gebruik weet te maak. Die drietal word deur speurders agtervolg en na allerlei wonderlike en soms erg onwaarskynlike ondervindings gepak. Pietjie en Thea kom met die skrik vry, maar Pietjie slaan 'n onnosele figuur as hy uitvind, dat hy in plaas van 'n Duitse vliegenier 'n dief gehelp het, en dat van sy mooi plannetjies met Thea niks kan kom nie. Dit is 'n goed vertelde amusements-verhaaltjie, net geskik vir spoorweglektuur. As die outo verby Majoeba en ander slagvelde ry, dan vergeet Pietjie vir 'n ruk sy ‘verhewe romantiese gedagtes’ (p. 48) en verval in patriotiese oor- {==142==} {>>pagina-aanduiding<<} peinsings. Af en toe laat Wolla ons effentjies glimlag, maar die humor is soms plat by die grond. ‘'n Kêrel het eenmaal gesê, hy dink hy kan gewoon word om te lewe op kasterolie, as hy net lank genoeg kan aanhou daarmee. Ek glo dit goed.’ (p. 64.) Wolla vertoon 'n bedenklike ratsheid in letterlike vertaling uit Engels, soms van die slang-soort. ‘Om alles te kroon (p. 3 en 68); Wel, van al die pedante snuiters... vat die vent die koek (p. 127); Wel, ek was al net siek van die plek (p. 93); ens. § 11. ‘Slypsteen’. ‘Slypsteen’ het blykbaar De Waal se romans goed bestudeer. Hy gebruik motiewe uit Johannes van Wyk en Die Tweede Grieta, maar slaag daar nie in om sy storie so oulik inmekaar te draai nie as De Waal. Hans is die ‘karakterlose wreedaard’ (p. 79) van die verhaal Broerliefde (1921). Maar hoe volleerd in duiwelstreke ook, hy word uitoorlê deur Gert, wat 'n plek in die heilige-kalender verdien. 'n Gesteelde kind veroorsaak 'n verwikkeling, waardeur Gert byna met sy suster trou. Daar is 'n oujonkman, wat sy bes doen om 'n paar grappies te maak, in sy ‘mymering’ 'n hele storie vertel en in sy moralisasie tot by Adam en Eva verdwaal! (Hoofstuk IX). Op die heel laaste bladsy word in die gouigheid drie huwelike gesluit, terwyl selfs die oujonkman nog verloof raak aan 'n ryk weduwee! Hans trek na Rhodesië. Of hy daar nog altyd ‘helse planne’ brou word nie vermeld nie! Slypsteen skryf 'n eentonige styl, waarin nooit iets persoonliks opklink nie, terwyl ook sy taal uiters gebrekkig is. § 12. P. Meyerink. 'n Pionier in Suid-Afrika (1922). Op skool laat die onderwyser die leerlinge soms 'n denkbeeldige reis maak en vertel dan allerhande besonderhede om daar 'n bietjie realistiese kleur aan te gee. Op dieselfde manier laat Meyerink 'n Hollandse huisgesin in die jaar 1680 uit Rotterdam oorkom na Suid-Afrika. Op saaklike wyse, in korrekte, maar kleurlose taal deel hy ons hul ervarings mee. Die dramatiese momente, soos die afskeid van die familie en die aankoms in die Kaap ‘slaan hy maar liewers oor’ (p. 21), of ‘laat dit aan die verbeelding van die lesers oor’! (p. 38). Die persone wat in die verhaal voorkom is net poppe, wat die skrywer na willekeur gebruik om historiese kennis aan die man te bring. Die familie Harmse kry 'n plaas by Stellenbosch en maak die wildernis bewoonbaar. Een van die seuns gaan met Simon van der Stel saam op die tog na Namakwaland. {==143==} {>>pagina-aanduiding<<} Ook die koms van die Hugenote word beskrywe en dit gee aanleiding tot drie huwelike wat so in die gouigheid in die laaste hoofstuk gesluit word. ‘Kornelis.... het baie omgang gemaak met die sewentienjarige Madeleine; en hulle vriendskap het na 'n rukkie in liefde verander’! Dit is nugtere opsommings van hierdie soort wat die verhaaltjie so eentonig maak. In 'n skoolbiblioteek kan dit egter nuttige dienste bewys. § 13. Adv. Eugène N. Marais (1872-1936). Ofskoon Marais se digwerk uit letterkundige oogpunt van groter betekenis is as sy verhale, het hy tog, veral aan die end van sy loopbaan, heelwat verdienstelike prosa geskrywe. Van hom het die volgende prosawerke verskyn: Margriet van Laastelust (1922); Dwaalstories (1927); Natuurkundige en Wetenskaplike Studies (1928); Sketse uit die Lewe van Mens en Dier (1928), later herdruk onder die titel: Die Mielies van Nooitgedacht; Die Huis van die Vier Winde (1933); Die Leeus van Magoeba (1934); Die Siel van die Mier (1934); Burgers van die Berge (1938). Laasgenoemde twee werke word in hoofstuk VII bespreek. Margriet van Laastelust (1922). Dit is moeilik om die digter van Winternag en Mabalel te herken in Margriet van Laastelust en Die Wegraak van Sannie, twee verhale wat so weinig uitmunt deur diepte van gevoel of skoonheid van styl. Margriet woon op 'n Drakensteinse plaas in die tyd toe die Kaap onder die Bataafse Republiek was. Die verhaal berus op die ooreenkoms tussen tweelingbroers. Op lewendige wyse bring Marais spanning in die intrige deur die nagtelike togte van die meisie. Hy het 'n boeiende verhaaltoon, al bly die tekening ook oppervlakkig. In Die Wegraak van Sannie bedink 'n boeredogter 'n oulike plan om 'n godsdienstige twis tussen haar vader en aanstaande skoonvader te besweer. Die Huis van die Vier Winde (1933) en Die Leeus van Magoeba (1934). Wie enigsins bekend is met Marais se ervarings, soos deur dr. G. Preller opgeteken in sy Historiese Opstelle, sal begryp hoe hy die vreemdsoortige skat van kennis versamel het, waarvan ons telkens brokstukkies in sy verhale vind. Op twintigjarige leeftyd was hy al redakteur van Land en Volk en medewerker van Engelse blaaie. In Engeland studeer hy eers in die medisyne en later in die regte. In Egipte interesseer hy hom in syferskrif en oudheidkunde. Na die Tweede Vryheidsoorlog keer hy terug tot die joernalistiek, maar sy rustelose gees vind die beperkings van die Engelse sensuur te lastig, en hy trek na die eensame distrik {==144==} {>>pagina-aanduiding<<} Waterberg as vrederegter. Hy het afkerig geword van alle ‘mensepraal’ en in sy moedeloosheid uit hy net een gebed: My bede sou net dit verkry, dat Uwe eensaamheid my dáár vir laas met roerend mag berei U groter stilte te aanvaar! Maar gedurende hierdie vier jaar in Waterberg is hy besig met allerlei mediese en wetenskaplike proefnemings, totdat hy weer as advokaat begin te praktiseer in Pretoria. Marais se wetenskaplike aanleg blyk duidelik uit 'n groot aantal van sy verhale. Die kern daarvan is dikwels 'n interessante wetenskaplike feit, wat verduidelik word deur die denkbeeldige dr. Paul de Roubaix ‘die bekende Suid-Afrikaanse plantkundige’. Sielkundige vraagstukke word toegelig deur die beroemde psigiater, professor Paul de Ridder, wat al sy tyd aan navorsing wy. Op die gebied van die kriminologie tree die geniale kolonel François de Ville op, 'n gewese kommandant van polisie, wyd en syd beroemd as verkenner, en 'n erkende outoriteit op naturellegewoontes. Omdat hierdie drie figure gewoonlik aktief deelneem aan die handeling kan hulle op onopsetlike wyse die nodige toeligting gee. Die opmerksame leser begryp egter dadelik dat dit die skrywer self is wat in hierdie vermomming sy teorieë in verhaalvorm uitwerk. Sy werkwyse blyk duidelik uit Die Huis van die Vier Winde waar dr. De Roubaix in antwoord op 'n vraag oor die voortbestaan van die menslike persoonlikheid na die dood sê: ‘Ek sal julle 'n voorval vertel wat die naaste aan wetenskaplike bewys is wat ooit binne my persoonlike ondervinding geval het.’ Af en toe verlei Marais se bekommernis oor die ‘wetenskaplike bewys’ hom tot beredeneerde verklarings wat alleen in 'n handboek tuishoort (vgl. die slot van die bogenoemde verhaal en die uiteensetting van vervolgingswaansin in Die Vliegende Hollander). Afgesien egter van hierdie wetenskaplike uitstappies, is Marais onteenseglik een van ons boeiendste vertellers, wat die kuns verstaan om die leser se aandag sommer uit die staanspoor vas te gryp. As hy jou eers plegtig verseker het dat hy gaan vertel van ‘die sonderlingste avontuurlike gebeurtenis’ wat hy ooit deurgemaak het, en dat elke woord daarvan waar is, ‘bevestig deur 'n wolk van getuies’, dan gee jy jou gewillig aan sy leiding oor, skuif alle twyfel opsy en ondergaan die huiwerende spanning van 'n dramatiese episode. Marais kies by voorkeur ongewone motiewe. Vir die gewone, alledaagse mens het hy weinig belangstelling, en sy hoofpersone is meestal in die een of ander opsig abnormaal of word deur 'n sameloop van omstandighede in 'n avontuur gewikkel wat tot patologiese reaksies aanleiding gee. Deur 'n haarfyne optekening van allerlei besonderhede slaag {==145==} {>>pagina-aanduiding<<} die skrywer egter daarin om 'n atmosfeer van geloofwaardigheid te skep, wat die geheimsinnigste gebeurtenis binne die perke van die moontlikheid bring. Kort na sy huwelik stap Hendrik du Preez die veld in om heuning te gaan soek vir 'n paar gaste. Deur 'n rotsval word hy vasgekeer op 'n lysie, kleiner as die buikplanke van 'n ossewa. Dit duur meer as vyf maande voordat hy verlos word, en alleen deur 'n ystersterk gestel kon hy die liggaamlike en geestelike kwellings van sy gevangenskap verduur. Op vernuftige wyse rig hy sy staanplekkie in en voorsien hy in sy behoeftes. Maar die skrywer wy veral aandag aan die sielkundige reaksies wat so 'n skynbaar hopelose opsluiting teweegbring. Deur wanhoop en jaloesie word die ongelukkige byna tot waansin en selfmoord gedryf. Die jaloesie ontstaan deur die gedagtes oor 'n vroeëre minnaar van sy jong vroutjie, en sy eerste daad na sy bevryding is 'n poging om hierdie mededinger teen 'n wawiel te verpletter. Met hierdie humoristiese toneeltjie het Marais die dramatiese avontuur van Hendrik du Preez afgesluit (Salas Y. Gomez). In Die Vliegende Hollander het ons ook met 'n ongewone geval te doen. Dis die geskiedenis van 'n Afrikaanse familie waarop 'n vloek rus, wat deur die geduldige ondersoek van dr. De Ridder ontrafel word. Met al die tradisionele middele - knap verafrikaans egter - word 'n weefsel vol geheimsinnighede gespin, waarby 'n dwalende spook, 'n lyfband van juwele, 'n spookskip, historiese dokumente en 'n mooi nooi te pas kom. Maar dit is die skrywer veral te doen om 'n uiteensetting van erflike kranksinnigheid te gee. Die Spookbul van Farrelone en Dieprivier bevat die geskiedenis van twee families wat deur 'n reeks geheimsinnige verskrikkinge in 'n toestand van gedurige vrees leef, totdat kolonel De Ville die misdadigers ontmasker. Hierdie verhale bevat ooreenkomste met die Tales of Mystery and Imagination van Edgar Allan Poe, die grondlegger van die moderne speurverhaal. Op besonder vernuftige wyse word herhaalde moordaanslae beraam, en uiteindelik is alles in 'n ondeurdringbare ‘wolk van geheimsinnigheid’ gehul, sodat die bedreigde persone in gedurige angs verkeer. Marais loop egter nie die stofgetrapte paadjie van die konvensionele speurverhaal nie. Sy materiaal is oorspronklik van vinding, en hy hou die belangstelling van die leser vas deur sy dramatiese verteltrant en die invlegting van allerlei wetenskaplike wetenswaardighede, onder andere oor Kafferbygeloof, gewoontes van diere, sielkundige afwykings, ens. Die hoofpersoon in Dieprivier is 'n bastermeid wat deur ‘'n sonderlinge verdubbeling van persoonlikheid’ beurtelings as Kaffermeid en dan weer as verfynde dame optree. Van kleinsaf is sy verliefd op haar baas, en as hy later in die huwelik tree, probeer sy haar gehate mededingster op sluwe wyse uit die weg te ruim deur slange na haar aan te lok. Die kern van hierdie verhaal {==146==} {>>pagina-aanduiding<<} het die skrywer nader toegelig in sy bundels Natuurkundige en Wetenskaplike Studies en Die Siel van die Mier, waarin hy breedvoerig uitwei oor verdubbeling van persoonlikheid en geur as seksuele signaal by diere. In Die Wit Uil kry ons weer 'n stukkie abnormale psigologie in verhaalvorm. Van Vuuren het vyftig jaar lank ‘die las van 'n moord gedra wat hy nooit gepleeg het nie.’ Die motief toon ooreenkoms met Skaduwee van 'n Misdaad in die bundel Sketse uit die Lewe van Mens en Dier. Afrikanerbeeste, Isaak Slyk en Jonkheer van der Made tot Zevenster getuig almal van Marais se liefde vir diere. In die eersgenoemde verhaal is die hoofpersoon 'n ou Boesman ‘wat oënskynlik op gelyke voet met diere kon omgaan, wat hulle taal kon praat en hulle gemoedsbewegings deelagtig kon word.’ Ou Hendrik het 'n wonderlike beheer oor sy beeste, en al sal sommige lesers wel twyfel aan die waarskynlikheid van sy buitengewone maneuvers, sal hulle tog moet erken dat die skrywer die kuns verstaan van deur sy noukeurige diere- en veldkennis ons van die begin tot die end te boei. Dr. Preller het in sy inleiding tot Marais se gedigte daarop gewys hoe by die digter ‘oormaat van verdriet gelei (het) tot 'n gevoel wat grens aan lewensmoeheid.’ Marais se siniese lewensbeskouing het uiting gevind in Skoppensboer: Gewis is alles net 'n grap! Ons speel in die komedie mee, geblinddoek met 'n lanferlap wat selfs die son 'n skadu gee. Dieselfde troostelose opvatting vind ons in die verhaal De Boom in het Midden van den Hof. Eerw. Scalinger, wat na 'n vyftigjarige bediening op Drogebult afgetree het met die bittere besef dat sy lewe 'n mislukking was, word versoek deur 'n Afrikaanse Mephistopheles wat hom ‘die ware Elikser des Lewens’ aanbied. Hy beswyk vir die versoeking en herwin sy verlore jeug - maar slegs 'n kort rukkie - want al spoedig kom die donker skaduwee van Skoppensboer al sy toekomsdrome vernietig: ‘Nou weet hy dat elke vreugde wat sy dwase hart in die vooruitsig gestel het altyd 'n gesteekte perske was - met die kleure van die dageraad van buite en wurms en verrotting van binne.’ Uit hierdie beknopte karakteristiek van Marais se vertelkuns sal dit duidelik wees dat hy deur die uitsonderlikheid van sy verhaalmotiewe, deur die verbinding van digterlike fantasie en wetenskaplike insig reg het op 'n eie plekkie onder ons Afrikaanse vertellers. As gevolg van sy uitgebreide ervaring op velerlei gebied het hy 'n intieme kennis opgedoen van ons mense op die platteland, en sy wetenskaplike proefnemings met {==147==} {>>pagina-aanduiding<<} diere het hom die sleutel tot baie verrassende geheime gegee. Dat hy egter ook met besondere talent 'n toneeltjie uit die daaglikse lewe kan skilder, blyk uit Die Brief van Nooitgedag (Sketse uit die Lewe van Mens en Dier). Wie kan vergeet hoe deur oom Groot Hans se koppigheid, tant Sannie se roupapier en Piet Bobbejaanpaal se domheid 'n deftige begrafnis op Nooitgedag gereël word.... sonder dat daar iemand is om te begrawe! § 14. P.R. Gauché. Die Drie Dogters (1923). Hoe die drie dogters van oom Dirk Joubert verloof en getroud geraak het, vertel Gauché, die skrywer van Twaalf Samesprake, ons in hierdie roman. ‘The course of true love never did run smooth’ - dit is die geval met Sannie, wat 'n flerrieagtige natuur het. Deur die fyn-bedagte plannetjies van Anton Ferreira, 'n windbuks en verkwister, word haar verlowing met die deeglike Jan Opperman verbreek. Dit is 'n keerpunt in haar lewe; en 'n gevaarlike wond wat Jan in die opstand van 1914 opdoen, bring die twee weer bymekaar. Die ander vryende paartjies vorder net fluks; en van hoe die kêrels om die nooiens draai, allerhande flikkers maak en bruilof vier, kry ons 'n aanskoulike tekening. Oom Dirk en twee van sy skoonseuns het almal modelplase; hulle is flukse boere met 'n sterk kredietrekening in die bank, terwyl die derde, 'n landmeterargitek, ook 'n gelukskind is. Teen die end van die verhaal word hulle almal voorsien van kunsvolle woonhuise en skattige kindertjies. Die skrywer wou ons 'n tekening gee van die idilliese plaaslewe. ‘Die groot bome, die kinders daaronder, en die ruwe primitiewe banke, gee pragtige materiaal vir die kuns van 'n skilder of digter, wat nie net teen die materiaal vaskyk nie’ (p. 13). Die ‘pragtige materiaal’ het die skrywer met wavragte aangery. Maar hoe kom dit, dat ons ten spyte van al die fyn fotografiese besonderheidjies tog nie die geure van die paradysagtige omgewing uit sy boek voel opstyg nie? Omdat Gauché 'n skilder is wat ‘net teen die materiaal vaskyk’; omdat sy natuurbeskrywing louter omlysting is, van buite opgeplakte fraaiigheid; omdat sy mense nie vasgegroei sit in die natuur, nie een geword het met hul omgewing nie, maar daarin ronddwaal soos toevallige piekniekgangers wat deur vlugtige uitroepe uiting gee aan hul bewondering. Blykens die aanhaling het Gauché dit alles self gevoel, en daarom bepaal hy hom tot 'n opsomming van die nugtere feite. ‘Die berg wat die plaas onder sy vleuels (sic!) beskerm, maak 'n indruk van waardige stewigheid en trots’ (p. 18). Dit sal wel waar wees, maar 'n kunstenaar konstateer tog nie so droogweg sy indrukke nie! Vergelyk hiermee die suggestiewe beeld van Malherbe wat die berg sien as 'n {==148==} {>>pagina-aanduiding<<} Monument van die eeue uit die stilte gestyg, nes 'n grote gedagte wat ewiglik swyg. Dieselfde gebrek aan pittige plastiek en beeldende fantasie merk ons op as Gauché sy ‘betowerend mooi’ Sannie moet voorstel. Ook hier beroep hy hom op 'n ander kunstenaar: ‘As ons beeldhouer Van Wouw, 'n origineel soek vir 'n beeldontwerp wat 'n tiepe van 'n volmaakte dogter van die natuur voorstel, sal hy nie 'n beter een kry nie as Sannie Joubert’ (p. 25). Moenie oor so 'n natuurkind praat nie, teken haar, sodat sy vlak voor ons staan. Dáár lê die moeilikheid! Die verskyning van Ogg se Piet Plessis, a Backveld Boer, ‘die berugte boek.... waarin die Afrikaner weer ten onregte swartgesmeer word’, het aanleiding gegee tot Gauché se verhaal. Hy ‘het toe gemeen om 'n paar tiepes onpartydig en juis voor te stel’ - so deel die skrywer ons in sy voorwoord mee. By tipes het dit gebly, want Gauché se figure stel eintlik meer fragmentariese begrippe en gevoelens voor as logies opgeboude wesens met 'n eie emosionele lewe. Hulle het lief, hulle trou; die uiterlike lewensfeite word aanskoulik geteken, maar tot die innerlike roersels van hul harte dring die skrywer maar selde deur. Hulle is meer samelapsels van afsonderlike eienskappe, wat onder sekere omstandighede op 'n verstaanbare wyse reageer, as lewende mense met wie ons innig saamlewe. En omdat hulle met so weinig lewenswarmte geteken is, kan ons onmoontlik belangstel in al hul verliefderigheidjies. Jong mense van 15 tot 16 jaar sal die boek deurhardloop om te sien of die paartjies mekaar ‘kry’; oueres wat nie net ‘vir die storie’ lees nie, sal daar weinig in vind wat tot lewensverryking en -verinniging kan dien, sal hoogstens kan sê: ‘So 'n vryery het ons al meer gesien, so 'n bruilof het ons baie vroeër saamgevier en sulke ideale plase wil ons graag erwe!’ Dat die skrywer sy karakter net van die buitekant beskou, blyk uit die ‘ontwaking’ by Sannie. ‘Iemand wat haar, ongemerk, noulettend waarneem, sal gou-gou tot die ontdekking kom, dat haar beweginge meer werktuiglik as bedaard genoem kan word.’ (p. 97.) Die uiterlike bewegings dui die skrywer sorgvuldig aan: 'n traan vloei ‘oor haar skone wange met reëlmatige tussenpose’ (sekuur gemeet!); haar ‘byna volmaakte gestalte’ wat vroeër tot die gevleuelde wesens behoor het, want dit het ‘gesweef’ ‘op die vlerke van haar trotse, ongedwonge eie ek’, neem nou meer normale afmetings aan en haar ‘bewegings stem harmonies ooreen met haar uiterlik’ (p. 99). Ons hoop dat dit ten minste 'n voorlopige ruspunt was van Sannie se ‘nimmereindigende natuur’! (p. 15). Die innerlike bewegings, wat hier tog van oneindig meer belang is, word net effentjies aangeroer, of botweg op nugtere wyse gekonstateer: {==149==} {>>pagina-aanduiding<<} ‘Haar hele bewussyn is gekonsentreer op een onderwerp: ‘selfverwyt’. Aan sulke sinnetjies voel ons dat die skrywer sy karakters wel logies inmekaar getimmer het, maar dat hy hul worstelinge nie altyd self deurleef het nie. Dit is beredeneerde en nie deurvoelde psigologie nie. Tot die besgeslaagde gedeeltes van die boek behoort die uitbeelding van Sannie se vlinderagtige geaardheid. Sy speel die hoofrol in die verhaal en deur verskillende realistiese toneeltjies kry ons werklik 'n goeie kyk op die eerste fase van haar karakter en terloops ook 'n aanskoulike voorstelling van die boerelewe - van dié idilliese kant daarvan ten minste. Sannie se weifeling tussen Jan en Anton, die vermenging van liefde en skynheilige selfsug by laasgenoemde, is met groot waarheid en innigheid geteken. Ook die verhouding tussen Jan en Wouter het die skrywer goed deurvoel. Al is die smarte van Jan ook ‘onbeskryflik groot’ (p. 82), ons voel tog dat die skrywer werklik iets eg-mensliks in sommige episodes gevleg het. As hy meer let op die roersels van die mensehart, minder lees uit oë en uiterlike bewegings, kan sy volgende roman nog iets belowe. Jongmense, wat minder op sielkundige uitbeelding let, sal met plesier die kronkelgange van die liefde volg, en ons kan die boek gerus in hul hande stel, omdat die moraal goed, en die taal welversorg is. Nie dat Gauché 'n woordkunstenaar is wat ons verras deur 'n persoonlike styl me. Sy taal is deurgaans grammatikaal suiwer in die haak, maar dit is kleurloos-korrek, sonder eie siening. Hy skrik nie eens vir so 'n spektakelagtige beeld as die volgende nie: ‘haar bors, wat onrustig op en neer gaan, soos die golwe van 'n onstuimige see’! (p. 144). Sulke voorbeelde is gelukkig baie skaars en ons moet dankbaar wees dat die skrywer aan die tegniese aspek soveel aandag bestee het. § 15. Nico Hofmeyr (1860-1932). In die tweede deel van Kykies vir Kinders het professor J. du Plessis 'n interessante lewenskets van Nico Hofmeyr gegee. Na 'n suksesvolle loopbaan as student word hy predikant op Warrenton, die ‘Vaaldorp’ uit sy roman Op die Walle van die Vaal. In 1891 lê hy egter sy bediening neer om Hollandse redakteur van De Express te word. Enige jare later word hy doesent in geskiedenis aan die Staatsgimnasium te Pretoria. Hier het hy die geleentheid gehad om hom heeltemal te wy aan sy geliefkoosde vak, geskiedenis. Reeds as joernalis het hy die bekende Kijkjes in onze Geschiedenis (1893) gepubliseer, 'n ‘Leesboek voor School en Huisgezin.’ In Pretoria skryf hy in samewerking met ds. J.D. Kestell De Voortrekkers, of het Dagboek van Izak van der Merwe. Daarop volg De Afrikaner-Boer en de Jameson-Inval, 'n boek wat veel daartoe bygedra het om die nasionale gevoel aan te wakker. Met die uitbreek van die {==150==} {>>pagina-aanduiding<<} Tweede Vryheidsoorlog gaan hy op kommando as offisiële geskiedskrywer en doen verslag van sy persoonlike ondervindings in Zes Maanden by de Commando's (1901). Tydens die oorlog word hy redakteur van Het Zuid-Westen, maar keer later terug na Pretoria as dosent. Na enige jare word hy inspekteur van skole, wat hy bly totdat hy in 1919 aftree. Verskeie skoolboeke het nog in Nederlands verskyn en eers in 1925 die verhaal Fanie in Afrikaans. 1)) In 1928 publiseer hy 'n Afrikaanse bewerking van De Schaapherder deur Oltmans onder die titel: Jan van Schaffelaar en sy Vriend, en in 1929 'n roman Op die Walle van die Vaal. Dan keer hy weer terug tot die geskiedenis met die twee deeltjies Kykies vir Kinders. As digter het hy verdienstelike werk gelewer meestal in Hollands, o.a. die studentelied van die Victoria-Kollege en die bekende volkslied ‘Afrikaners, Landgenoten’. Fanie (1925). Dit is ‘'n storie van vriendskap en liefde en awonture met 'n stukkie gouddraad uit ons heldetyd saamgevleg.’ Hofmeyr begin in 1835 en behandel die vernaamste episodes van die Groot Trek tot op die oorwinning by Bloedrivier. Historiese figure soos Retief, Maritz, Sarel Cilliers e.a. speel 'n vername rol in die verhaal en die skrywer moet hom dus beperk tot die bekende geskiedkundige feite. Deurgaans maak die roman dan ook die indruk van 'n geskiedenis-handboek in verhaalvorm. Die skrywer teken egter ook die lotgevalle van 'n paar Trekkersgesinne en gee op dié manier 'n persoonlike kleur aan die gebeurtenisse. Fanie vertel sy eie storie en die spanning word bereik deur 'n misverstand tussen hom en sy boesemvriend oor 'n mooi Trekkersdogter. Met byna bomenslike inspanning beheers Fanie sy gevoel ter wille van sy vriend, maar na dié se dood praat hy eindelik ‘reguit’ met die nooi. ‘Toe smelt ons in mekaar weg en ons voel net; ons praat nie meer nie.... net nou en dan 'n heel klein woordjie, wat so oneindig groot is vir harte wat mekaar so lank gesoek en eindelik gevind het.’ (p. 210.) So 'n enkele sinnetjie toon al dat Hofmeyr geen kunstenaar is wat hom bekommer oor die innerlike roersels van 'n mensehart nie. Sy hoofdoel is om vir jongmense ‘kykies in die geskiedenis’ te gee. Hy is 'n prettige verteller, wat met die gemaklik vloeiende styl van 'n ervare joernalis die lewendige toneeltjies van sy historiese rolprent behendig afdraai. Aksie, beweging, avonture is volop in die roman. Die daaglikse ervarings van die Trekkers, hul moeilikhede en ontberings word geteken en deur die uitwerk van tallose besonderhede het Fanie 'n verdienstelike ‘aanvullings-leesboek’ geword, wat elke geskiedenisonderwyser se hart sal verbly, en wat hy {==151==} {>>pagina-aanduiding<<} met gerustheid sy leerlinge in die hand kan gee, omdat die feite daarin nie verdraai word ter wille van die avonture nie. Wat Hofmeyr egter mis is die kunstenaarsvisie op die gees van die geskilderde tydvak, die skeppende verbeelding wat die leemtes tussen die historiese feite aanvul en ons daaragter die harteklop van 'n tydperk laat voel. Fanie bring ons nie nader aan die epos van die Voortrekkers nie. Net soos sy voorgangers maak Hofmeyr gebruik van 'n gerieflike ‘sluier’ as hy by 'n werklik ontroerende toneel kom (vgl. p. 28); of anders is dit ‘te verhewe vir (sy) arme woordeskat’ (p. 105) ‘onbeskryflik soos al die mooiste dinge in die wêreld’ (p. 108). Fanie verseker ons telkens dat hy dit en dat ‘nooit sal vergeet nie’, maar die beskrywings is so saaklik en nugter, dat dit geen blywende indruk maak nie. Die gesukkel om die waens oor die Drakensberg te kry word b.v. as volg beskrywe: ‘Daar was baie steil opdraans, groot modderpoele, diep strome. Gedurig moes ons die groot waens met rieme vashou, anders het hulle seker omgeval en in 'n afgrond gestort. Somtyds moes ons weer ure sukkel om hulle oor 'n klipbank te kry. Ons het tot drie span osse voor elke wa, een vir een, voorgehaak om hulle deur 'n modderpoel te beur! Dit het ons anderhalwe dag geneem om ons doel te bereik. Nooit vergeet ek die gesukkel en gespartel nie.’ (p. 107). Dit is alles sonder enige ontroering neergeskrywe. Hoe graag sou ons nie ‘die gerammel en gedreun, die gedruis en gedonder van boerewaens daar op die helling van die trotse Drakensberge’ wou gehoor het nie! Maar Hofmeyr vergenoeg hom met 'n retoriese uitroep tot die ‘liewe, sware, lastige ossewa’! Hy het niks gesien nie! Onder die groot aantal figure is daar twee wat my getref het: die Hollandse skoolmeester, wat so simpatiek uitgebeeld word en oom Hans, wat deur sy gehegtheid aan 'n sopie sy eerste liefde verloor, maar haar met soveel aandoenlike opregtheid trou bly. Ons aanvaar hierdie boek as 'n welkome bydrae tot die historiese biblioteek van ons jongmense, wat daar beide vermaak en nutte lering in sal vind. Op die Walle van die Vaal (1929). Frans Maree verlaat die Karoplaas van sy afgeleefde vader, wat byna uitgeboer het as gevolg van die droogte, om 'n nuwe begin te maak op die walle van die Vaalrivier. Hy is 'n vooruitstrewende jong man, wat al gou op eie bene staan en 'n leidende aandeel neem in die maatskaplike en kerklike sake van Vaaldorp. Die diamantkoors, wat die meeste bewoners aangetas het, kan hy weerstaan, en sy tuinmakery is so suksesvol dat hy sy vader kan help om die ou Karoplaas deur moderne verbeteringe tot 'n ware lushof om te skep. Van meer belang as hierdie uiterlike voorspoed is egter die geestelike ontwikkeling wat Frans as gevolg van sy ervarings op Vaaldorp deurmaak. Hy is ernstig van geaard {==152==} {>>pagina-aanduiding<<} heid en worstel met allerlei godsdienstige vraagstukke totdat hy 'n bevredigende oplossing vind. By die tekening van hierdie ontwikkelingsgang kry die skrywer 'n geleentheid om sy ryke en gerypte lewenservaring te pas te bring. Frans verower langsamerhand 'n eie lewensbeskouing, en ofskoon sy geestelike ondervindings selde 'n fel-persoonlike aksent dra, tog verskaf dit 'n intellektuele genot wat die roman meteens onderskei van soveel ander verhale waarin oppervlakkige gewoontepraatjies bladsy na bladsy beslaan. Hofmeyr se karakters groei nie tot selfstandig lewende mense nie, want ons bly steeds onder die indruk dat hy behendig die drade trek om spannende verwikkelinge te veroorsaak, maar as hulle gedagtes wissel oor geestelike sake, dan vind ons daarin in eenvoudige vorm die samevatting van die skrywer se besonke lewenswysheid. Die verhaal bevat seker outobiografiese elemente, onder andere 'n paar geestige anekdotes oor predikante en verskeie dorpstipes. Die kuiperye in verband met die dorpsbestuur word verdienstelik geteken, ofskoon Stroebel, beide as ouderwetse romanskurk en as deemoedige sondaar, 'n onmoontlike figuur is. Frans se liefdesgeskiedenis word oppervlakkig en konvensioneel vertel en moet alleen dien om die ernstige kern van die verhaal vir jeugdige lesers verteerbaar te maak. § 16. N.H. Theunissen 1). Marianne (1925). Hierdie storie, wat presies volgens die resep van Johannes van Wyk opgemaak is, behandel dan ook dieselfde periode van ons geskiedenis. In die begin veral probeer die skrywer om 'n soort historiese atmosfeer te skep deur die gebruik van argaïstiese woorde. Marianne raak verlore in die woeste binneland en die gevolg is 'n lang ketting van die gewone drakerighede. Uiteindelik word die juffrou, van wie ons dan nog so goed as niks weet nie, deur die held gered uit die hande van mensvreters. As 'n spannende verhaal vir jongmense kan hierdie verhaal miskien enige verdienste besit, maar die geringe stylvermoë van die skrywer maak dit letterkundig ongenietbaar. Na die volgende staaltjie van die skrywer se onmag hoef ek nie veel meer te sê nie: ‘Die withuise met hulle grasdakke, die keurige Hollandse tuine bont van somerblomme, die eiklanings en die vrugtebome het 'n wonderlike indruk op Pieter gemaak. Dit was 'n gesig van stille vrede, en tog was daar iets groots in die natuur. Alles was lewendig en plesierig. Die slawe met mandjies vrugte, die halfnaakte kinders het gelag en rondgejoel. Die klerke in hul pronkerige klere en die soldate in kleurryke uniforms het die toneel nog meer opgewek.... Pieter gewoon aan die kleure van {==153==} {>>pagina-aanduiding<<} die ooste was bekoor (anglisisme) deur die vreedsame, lieflike groen van die gras en die bome net waar sy oë rus. Die gesing van die voëltjies en die geure van duisende blomme het die indruk versterk.’ (Kursivering van my.) Dit is net 'n aaneenryging van niksseggende sinne - en bra sleg geboude sinne daarby! As Pieter se indruk dan so ‘wonderlik’ was, dan moet die skrywer ons dit tog op een of ander manier laat voel. Maar hy praat soos 'n middelmatige opmerker, sonder 'n greintjie verbeelding oor ‘iets groots in die natuur’. § 17. Ds. Harper Martins. By die Alwyn (1925). Harper Martins, wat as teologiese student met 'n aantal vry waardelose rymbundels gedebuteer het, het in 1925 uitgegee By die Alwyn, 'n ‘romantiese’ verhaal. Dit is die beskrywing van die lewe van 'n jongman, wat sy ideale nooi vind in 'n hartbeeshuisie op die vlaktes van die Karo. Martins het die allerbeste bedoeling: hy wil die ongekunstelde Afrikaanse meisie idealiseer om party studente, wat met uitlandse vrouens terugkeer na hul vaderland, te waarsku. Maar sy lewenservaring is nog te beperk, sy sielkundige insig te oppervlakkig, sy gebrek aan plastiek te opvallend, om 'n leesbare verhaal te skrywe. Jannie, die hoofpersoon in die verhaal, het sonder twyfel in die teologie en nie in die medisyne gestudeer nie, want hy praat deurgaans die ‘tale Kanaäns’. Hierdie prekerige jongkêrel, wat sy ontroue Berta so netjies die leviete voorlees, en met dweepsugtige patriotisme die mooi Karo-skaapwagtertjie al dadelik kan vra: ‘Lena, sê my, is jy 'n ware Afrikaner meisie?’ is seker 'n seldsame tipe van die Stellenbosse student, wat deur die gewone nooi van vlees en bloed as 'n onuitstaanbare vent in die pad gesteek sal word. Jannie kan gerus wag tot hy regtig op die preekstoel staan. Daar sal hy seker sy teks goed uitwerk, maar hier in die verhaal is hy 'n houtpop brawe-Hendrik, wat met klugtige aksies oor sy wit sportpakkie 'n deftige domineestoga probeer aantrek. Martins het 'n warme liefde vir sy volk, maar juis dié liefde verlei hom tot 'n karikatuuragtige voorstelling, wat sy boodskap onaanneemlik maak. Hy is gevoelig vir natuurindrukke, maar 'n onontwikkelde styl belemmer die vertolking daarvan. As hy iets op prosagebied bereik, sal dit alleen na lange jare van onverpoosde studie wees, want af en toe is daar wel 'n opflikkering in sy styl wat iets beloof vir die toekoms. As sy weke gevoelerigheid met verloop van tyd tot meer besadigde lewensinsig ryp en hy sy neiging vir retoriese opsmuk kan oorwin, sal Harper Martins later miskien 'n treffende boodskap tot sy volk kan rig, want aan erns en oortuiging ontbreek dit hom nie. {==154==} {>>pagina-aanduiding<<} § 18. J.J. Groeneweg. Waar die Doringbome fluister (1925). Van hierdie skrywer, wat onderwyser is in Pretoria, het 'n aantreklike boek vir jongmense verskyn: Waar die doringbome fluister (1925). Groeneweg probeer om die romantiese met die leersame te verbind, en sy gesonde lewensopvatting maak die boek, trots sy gebreke, besonder geskik vir die rypere jeug. Dis jammer dat hy begin met 'n snoewende verwysing na 'n vorige boek van hom, Onder het Zuiderkruis, waarin die hooffigure al opgetree het. Die gevolg is 'n sensusagtige opsomming van hul hoedanighede, wat ons hoegenaamd geen insig in hul karakters gee nie. Hierdie twee Pretoriaanse studente slaan eenvoudig bolmakiesie deur die lewe; hul geestelike vader voorsien hul ryklik van alles, uitsoekbetrekkings, 'n fabelagtige skat, mooi vroutjies, ens. Het hulle dan nooit gestudeer, swaargekry, liefgehad nie? Nee, hulle kry, selfs in die swygende oerwoud van Middel-Afrika, nie eers kans om behoorlik te dink nie! Nou mag ons wel in ‘'n boek vir jongmense’ geen diepgaande ontleding eis nie, maar dit is m.i. onpedagogies om die jeug so 'n verdraaide beeld van die lewe te gee. Die menskant van hierdie boek is die swakste. In die begin ontmoet ons die twee studente in Pretoria, en ons moet heelparty onbenullige koffiepraatjies aanhoor, maar kry tog ook 'n paar treffende toneeltjies, o.a. oom Stefaans se bedevaart na Irene, die ontgroening van nuwe studente en die twee honde Boef en Vlak. Die leersame gedeelte bestaan uit definisies en verklarings, wat vir ons jongmense grotendeels oorbodig is. Sou 'n Afrikaanse kind miskien nie weet wat 'n dolos, 'n trapsoetjies, of 'n skut is nie? Beter op stryk kom die skrywer as hy Vis en Jetjie na Middel-Afrika neem. In hierdie onbekende oord is die skoolmeester se gesellige aardrykskunde onmisbaar, en deurgaans ook nie hinderlik nie, omdat hy prettig vertel. Die gewoontes van die inboorlinge word met liefde beskryf en die hele tropiese landskap met sy mense, diere en plante begin vir ons te lewe. Op handige wyse sit die skrywer sy toneeltjies inmekaar en met vaardige hand teken hy die romantiese omgewing. Met stygende belangstelling sal jong lesers die pakkende avonture van die reisigers volg, wat eindig met 'n mooi klimaks, die verhaal van die mensvreters. Hierdie toneel word werklik op 'n meesterlike wyse opgevoer en dit bevat al die eienskappe wat ons van 'n boek vir jongmense kan eis. Alleen sou ek die skrywer 'n meer digterlike kyk op die fantastiese bewegings van sy figure toewens; 'n beskrywingstalent wat deur ritme, klank en rake plastiek al die menigvuldige aksies en geluide van die mensvreters in die sagte maanglansing vir ons tot 'n onmiddellike realiteit kan maak. Dat Groeneweg dit nog nie bereik nie, skryf ek hoofsaaklik toe aan sy {==155==} {>>pagina-aanduiding<<} kort afgekapte sinne, wat nes 'n steekse perd telkens skrikkerig vassteek. Die skrywer sit agter die skerms; hy trek die drade so behendig as 'n mens maar kan wens; maar die wisselende spel op die planke sien ons nie, ons hoor net die toneelaanwysings. ‘Daar spring (die mensvreters) almal gelyk op, asof deur 'n towerslag aangespoor. Die priester nader en gaan langs die offersteen staan. Hy praat met die kannibale. Die son is onder....’ Op dié manier gaan die skrywer voort, en hoewel hy hier en daar 'n tekenende besonderheid invleg, maak die toneel op my meer die indruk van 'n knap bedagte, as werklik gesiene handeling. Ook op ander plekke merk ek dieselfde gebrek, o.a. waar die jagters op die wildehonde afkom (p. 70). Groeneweg konstateer eenvoudig 'n paar feite: ‘Die ander val nou hul sterwende maats aan, pleks om te vlug. Weer knal daar drie skote en weer val daar drie. Maar aan vlug het die orige nie gedink nie. Die hele trop skadelike diere word doodgeskiet. 'n Prooi vir die aasvoëls.’ Hoe sou Sangiro nie die hele toneel vir ons laat lewe het nie! Al mis Groeneweg se styl dus die persoonlike aksent, en al munt sy reeks sketse oor Middel-Afrika nie uit deur besonder artistieke kwaliteite nie, tog sal hierdie boek met sy vlugge handeling en opgewekte toneeltjies met graagte deur die jongspan gelees en om sy gesonde gees deur onderwysers dankbaar verwelkom word. Die Huisgesin van Dawid Barinski (1935). In Die Huisgesin van Dawid Barinski (1935) word die lotgevalle van 'n Joodse familie tydens die Russiese omwenteling op besonder simpatieke wyse vertel. Ons kry 'n goeie kyk op Joodse gewoontes, en maak ook kennis met die Bolsjewistiese regeringsmetodes. As ontspanningslektuur vir die rypere jeug verdien hierdie vlot geskrewe verhaal aanbeveling. § 19. C.F.K. C.F. K, vermoedelik ds. C.F. Kies, is die skrywer van 'n Hoog-Hollandse verhaal Japie Muller van Kwaggasnek en 'n godsdienstige novelle Die Doolhof (1924). In 1926 het ook van hom verskyn Die Vreemde Voorval van Kaptein Silas (1926). 'n Rustende Natalse onderwyser, Charles Howett, koop 'n plaas en ontdek in 'n geheimsinnige boskloof toevallig 'n verborge grot, wat 'n laag gas bevat. In hierdie bedwelmende lug vind Howett o.a. die bewustelose liggaam van 'n sewentiende-eeuse seerower, wat ná 'n bietjie eerstehulp in die vars lug weer lewendig word. Die eienaardige gas was naamlik 'n ontsmettingsmiddel, wat al die kieme van bederf geweer het en ná 'n rustige slaap van tweehonderd-en-vyftig jaar keer die Afrikaanse {==156==} {>>pagina-aanduiding<<} Rip van Winkel tot die lewe terug. Die vermaaklike pogings van kaptein Silas om hom by sy veranderde omgewing aan te pas en die avontuurlike verhale uit sy eerste lewenstydperk vorm die tema van die verhaal. Die skrywer maak 'n handige gebruik van ou reisverhale, en ná 'n bietjie ‘sonde met die bure’ verskyn Howett se vrou en pleegdogter op die toneel. Die gevolg is sonde met die vroumense, want kaptein Silas, wat in sy ouderdom nog groen is, betower die skone Sinnie deur verhale van 'n fabelagtige skat, wat hy by die mond van die Toegêla begrawe het. Die skatgrawery eindig egter in 'n teleurstelling, wat ook vergoed 'n end maak aan die driehonderd-jarige se hernude jeug. Die opgewekte en luimige verteltrant van die skrywer het hierdie verhaaltjie aantreklike ontspanningslektuur laat word. Die skrywer is blykbaar in die leer gewees by Van Lennep, want die komiese uitdrukkings van Howett herinner ons aan kaptein Pulver, en sy Latynse stopwoorde aan die hoofskout uit Ferdinand Huyck. Kaptein Silas sal seker 'n dankbare leserskring vind. § 20. Julius M. Friedenthal. Volgens Die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring is Friedenthal (gebore 1887) 'n onderwyser in Johannesburg wat dikwels verre skiettogte tot in Midde-Afrika onderneem het en daardeur 'n intieme kennis van diere en inboorlinge opgedoen het. Hy verklaar self dat sy werk ‘net beskeie vertolkings van persoonlike waarnemings in die oerwoud (is) en wat my hier en daar deur ringkoppe vertel is.’ In baie opsigte laat hy ons aan Von Wielligh dink, want sy werk is in hoofsaak òf lektuur vir die jeug, òf anders bedoel as ontspanning vir eenvoudige lesers wat hou van avontuurlike verhale, volgepak met vreemde gebeurtenisse. Volgens dr. Abel Coetzee het Friedenthal eers as volwassene Afrikaans geleer en daarom is sy styl dan ook dikwels gebrekkig. Hy het begin met die dierverhale Ondank is die Wêreld se Loon (1931), later vervolg in Nukkebol Reinard (1936). Op die Spoor van die Gorilla (1935) vertel van die grootwildjag in Midde-Afrika en die soektog na 'n kind wat deur 'n gorilla-moeder ontvoer word. Die omslagtige verhaaltrant is vermoeiend, maar die moederliefde by mens en dier word met oortuiging geteken. Uilskuiken die Slaaf (1936) bevat die ervarings van 'n slaaf wat later na sy geboorteland terugkeer as sendeling. Ook in hierdie werk is die avontuur hoofsaak en van psigologiese indringing is daar weinig spore. In Die Wagter van die Koning se Beeste (1937) is daar 'n opmerklike styging in Friedenthal se verhaaltegniek. Hier is geen sprake van omslagtige beskrywings nie, want dis 'n verhaal vol spannende aksie wat ons jongmense end-uit sal boei. Oemswaas, koning van die Swasies, is deur sy bygeloof oorgelewer aan die genade van sy toordokter, Segwana, wat met die hulp van 'n Portugese kleurling planne smee om hom van sy {==157==} {>>pagina-aanduiding<<} goudskatte te berowe. Segwana word egter ontmasker deur die koning se beeswagter, Hlopek, wat in die laaste hoofstuk ook Dingaan doodsteek en in triomf terugkeer. Die intriges van die slim toordokter gee natuurlik aanleiding tot 'n reeks dramatiese toneeltjies, onder andere 'n groot volksvergadering waarop Segwana 'n demonstrasie gee van sy kundigheid deur 'n teenstander uit 'n met kruit gelaaide pyp te laat rook. So goed het die skrywer hom ingeleef in die mentaliteit van die kaffers dat hy ook hul eienaardige denkwyse kan weergee in hul eie styl en beeldspraak. Daardeur word sy figure lewende wesens wat nie slegs pionne in 'n skaakspel bly nie. Ek kan nie beoordeel of hierdie kaffers in elke opsig volkekundig korrek geteken is nie, maar weet dat die skrywer uit die intriges in hierdie stat 'n aangrypende verhaal saamgestel het waarin die liefde en wraak van verstote minnaresse 'n groot rol speel. Sommige gebeurtenisse lyk wel onwaarskynlik, maar by 'n avontuurverhaal word daar nie so nou op gelet nie. Die taal en styl van hierdie verhaal is nagesien deur dr. A.J. Coetzee en vergelyk baie gunstig met Friedenthal se vorige werk. By 'n tweede druk, wat ek hierdie verhaal van harte toewens, kan o.a. die volgende verbeter word: Hy hunker nou op twee gedagtes (p. 115); hy het op haar aangesien as 'n moeder (p. 141). In Die Avonture van Ras Sjoema (1938) ontmoet ons 'n jong kaptein, wat verliefd raak op die opperhoof se dogter, en haar na die uitvoering van 'n besonder moeilike opdrag as bruid verower. Jong lesers sal hierdie spannende verhaal verwelkom. § 21. Elizabeth Vermeulen. Vlaktes en Sterre (1932). Hierdie avontuurverhaal behandel die liefdesgeskiedenis van twee meisies wat deur 'n innige vriendskap aan mekaar verbonde is. Die skryfster het daarna gestreef om haar vertelling te verhef bo die oppervlakkige peil van die gewone liefdesverhaal met sy onverwagte kronkelinge en klewerige sentimentaliteit. Om dit te bereik het sy haar hooffigure met buitengewone eienskappe bedeel. Marie Delamere is die edele dogter van 'n dorpspredikant. Sy is die verpersoonliking van onskuld, onselfsugtigheid en baie ander deugde. Ongelukkig slaag die skryfster nie daarin om haar as waaragtige mens te laat lewe nie. Hoe onwaarskynlik en byna komies is Marie se onvermoë om Leo Meyer se liefde raak te sien! Dit lyk wel na 'n opsetlike bedenksel om Leo se verklaring nou regtig dramaties te maak. Ook Juliana bly 'n newelagtige figuur. Sy koester hoë ideale en is besonder intelligent, maar word tog baie maklik gehipnotiseer deur 'n skurkagtige advokaat. As gevolg van 'n tydelike verdwasing tree sy in {==158==} {>>pagina-aanduiding<<} die huwelik met die advokaat. 'n Mens moet jou oë maar sluit vir al die wrede toevallighede wat Juliana dwing om haar eensame lydensweg te betree, want anders sou daar immers geen verhaal gewees het nie! Leo sneuwel in die Tweede Vryheidsoorlog en Marie hou sy nagedagtenis in ere tot aan haar dood. Juliana moet die bittere gevolge van haar dwase huwelik dra en alleen Marie se edele vriendskap red haar van selfmoord. Uiteindelik word die advokaat deur 'n motorongeluk van die toneel verwyder en dan pas vind daar toenadering plaas tussen Juliana en haar eerste minnaar. Van karakterontwikkeling is daar weinig sprake en die skryfster stel haar tevrede met die tradisionele indeling van engele en skurke. Enkele tonele, soos onder andere dié waarin ds. Delamere sy dogter aan haar minnaar gee, getuig van talent. So gebrekkig is egter die skryfster se taal en styl dat daar weinig sprake van letterkundige verdienste kan wees. Die boek krioel van die grofste anglisismes, en deur die gedurige gebruik van retoriese opsmuk mis die styl alle persoonlike aksent. § 22. J.D. Olwagen. Fiela van die Oermense (1932). Die samelewing van die oermense word gedurig in beroering gebring deur die strooptogte van 'n geheime genootskap, Die Wolftande, aan die hoof waarvan die berugte Makok staan. Die lede van hierdie genootskap tree op as bose geeste en lê hul daarop toe om orals kwaad te steek tussen die stamme. Hulle leef van roof, voer jong meisies weg, en omdat hul 'n wrok teen die hele gemeenskap koester, pleeg hul steeds nuwe gewelddade. Makok het 'n spesiale vete teen die huisgesin van Koefa weens 'n liefdesteleurstelling. Hy probeer Fiela ontvoer, maar word gedwarsboom deur Kain, vir wie die oermense 'n buitengewone eerbied koester. Na 'n reeks avonture wat so kunstig inmekaar gevleg is dat die spanning al sterker word, volg die klimaks in die slothoofstuk waar Fiela gered word en die geslepe skurk, Makok, eindelik sy straf ontvang. Die skrywer vertel vlot en het 'n lewendige fantasie. Die wonderbaarlikste gebeurtenisse vind plaas, maar omdat die bloeddorstige wesens in so 'n duistere oertyd lewe, sal die jong lesers vir wie die verhaal bedoel is, wel geen lastige vrae stel nie! Elke hoofstuk is vol spannende avonture en sluit op so 'n wyse af dat die nuuskierigheid verder geprikkel word. As staaltjie van die skrywer se styl kan die volgende beskrywing van Fiela dien: ‘Haar oë bly dig gesluit, maar die granaatkleurige wange waarop die opkomende son rooi vlekkies skilder, die rooskleurige, soenlokkende lippe, die breë voorkop waarop die sagte morewindjie met die los lokkies speel, en waarin die woordjie wil gegraveer lê, die ferm kennetjie waaragter beslistheid wegkruip, die ophewende bolyf wat die sielsnare {==159==} {>>pagina-aanduiding<<} ontroer.... dit alles is paradys genoeg vir die onversadigbare oë van die man wat daar oor haar gekniel staan.’ In die verhalende gedeeltes is die styl minder retories, ofskoon Olwagen soms raar omspring met sy byvoeglike naamwoorde. So lees ons van ‘die smartgekankerde Koefa, traangewaste oë, haar verleidelik kleedveragtende bo-lyf, die vermoeienis-wekkende rantjie.’ § 23. J. Gysbert Slier. Pagal (1932). Die eerste deel van hierdie verhaal bevat 'n beskrywing van die ondervindings van die Boerekrygsgevangenes op Diyatalawa. Die hoofpersoon, Justus Barman, is 'n warme patriot, wat 'n wrewelige haat teen die Engelse koester, en deur sy opstandige gedrag telkens swaar gestraf word. Uiteindelik beland hy in 'n gestig vir kranksinniges. Na die vrede bly hy in Indië agter om te soek na die dogter van 'n Engelse generaal op wie hy verliefd geraak het. Die tweede deel beskryf die pogings van 'n paar families om hul verwoeste plase weer bewoonbaar te maak. Die hoofpersoon is Van Winkelen, 'n egte romanskurk, wat in die oorlog verraad gepleeg het en daarna deur sluwe huweliksplanne probeer inkruip onder goeie families. Hy word in die derde deel gedwarsboom deur Barman, wat teruggekeer het na sy dogter in Suid-Afrika. Barman vermoor die verraaier, maar die polisie verhinder nie sy huwelik met die generaalsdogter nie. Die karaktertekening is oppervlakkig en onoortuigend. Jong lesers sal geboei word deur die liefdesverwikkelinge en deur 'n reeks lewendige toneeltjies uit die plattelandslewe. Die skrywer het deurgaans 'n prettige verteltoon, maar af en toe vermoei hy ons deur gebruik van retoriese opsmuk. § 24. Dr. C.J. Scheepers Strydom 1). Waar die Driedorings groei (1933). Die Koranna-strooptogte in die Noordweste vorm die historiese agtergrond van die verhaal. 'n Boeredogter word ontvoer na die Kalahari, waar 'n kranksinnige blanke as koning oor die Korannas regeer. Op avontuurlike wyse word sy deur haar minnaar uit die kloue van 'n naturel gered. Dis 'n geskiedenisles oor 'n weinig bekende periode ‘in ligte verhaalvorm’. Jeugdige lesers sal die spannende gebeurtenisse met belangstelling volg. § 25. H. Veeneboer Smit. Die Begraafde Stad (1935). In hierdie avontuurverhaal maak ons kennis met 'n bende wat diamante onwettig verhandel en 'n tog onderneem na die Kalahari om 'n begrawe stad op te spoor waarin fabelagtige skatte verborge lê. Daar is 'n mooi {==160==} {>>pagina-aanduiding<<} meisie wat deur 'n skurk gehipnotiseer en ontvoer word, maar na die gebruiklike moeilikhede tog veilig in die arms van 'n dapper boerseun beland. Gelyktydig met die voorbereiding van die Kalahari-tog sien ons die polisie besig om die duister gange van die bende na te speur met behulp van 'n verliefde tikster wat sommer alle geheime uitflap. Na 'n reeks verwikkelinge waarin o.a. 'n moord inbegryp is, word die boerseun so op die nippertjie uit die kloue van die skurk gered. Die skrywer het gesorg vir die nodige spanning, en die jeugdige lesers, vir wie die boek seker bedoel is, sal hulle nie alte veel kwel oor 'n paar onwaarskynlikhede nie. Uitbeeldingsvermoë besit die skrywer nie, maar sy styl is met enkele uitsonderings taalkundig korrek. Tot dié uitsonderings reken ek die titel, wat tog seker moet lui: Die Begrawe Stad. Ofskoon hierdie roman met die letterkunde niks te maak het nie, kan dit aanbeveel word as ontspanningslektuur vir die jeug. § 26. August van Oordt. Van hierdie skrywer, gebore in 1898, het verskyn in 1934 Seuns van die Wolke. Seuns van die Wolke (1934). In sy voorwoord roep die skrywer die ‘geagte leser’ toe: ‘Vergeet u daelikse sorge vir 'n rukkie en vlieg saam met my in gedagte die toekoms in, en laat ons by die kinders van die toekoms gaan kuier en sien hoe hulle die lewe op die ou aardbol geniet.’ Die lesers van hierdie boek sal met weinig uitsonderinge seker jong mense wees en hulle sal dit ongetwyfeld geniet ook. Die skrywer het met groot gemak 'n reeks spannende avonture saamgeflans, wat feitlik almal in die lug afgespeel word, want die jong mense van die jaar 2034 ‘is mos gebore met vlerkies op die skouers en met draadloos in die ore.’ Gevolglik vind die meeste vrypartytjies nou tussen die wolke plaas en speel die seuns in plaas van rugby lugpolo. As hulle besluit om te trou, skep hulle so in die gouigheid 'n predikant op, voer hom na 'n hoogte van 15,000 voet en dwing hom om daar die formulier af te lees! Die geheimsinnige element in die verhaal word verskaf deur dr. Van Vuuren, wat in sy geheime Drakensbergse laboratorium probeer om ‘die krag aan die atoom te ontruk’. Natuurlik vind daar ook 'n groot lugwedren plaas, waarin party mededingers 'n snelheid van 450 myl per uur bereik. Vanuit die lug laat die skrywer ons 'n vlugtige blik werp op die geweldige industriële ontwikkelinge in Suid-Afrika, en so terloops verneem ons o.a. dat oorlogvoer afgeskaf is en alkohol nie meer gebruik word nie. Een van die weinige probleme wat hierdie toekomsmense nie kon oplos {==161==} {>>pagina-aanduiding<<} nie, is die uitskakeling van geraas, wat egter deur sommige firmas benut word as dryfkrag vir masjinerie. As ontspanningslektuur vir jong mense heet ek hierdie boek hartlik welkom. Die skrywer vertel vlot en aangenaam en verras ons dikwels deur die handige gebruik wat hy van nuwe uitvindinge maak. Ook die ernstige kant van die lewe word beklemtoon, want deur die beskouings van dr. Van Vuuren en die stigting van die H.O.B.-Klub kry ons 'n blik op die idealistiese strewe van die mens van die een-en-twintigste eeu. Dit sou miskien onbillik wees om meer van hierdie verhaal te verwag, ofskoon Van Oordt ons deur sy voorwoord rede daartoe gee. Die volwasse leser wat verwag dat hy in aanraking sal kom met die lewende mense van die jaar 2034, kom bedroë uit, want die skrywer toon ons weinig of niks van die geestelike groeiproses wat die mensheid in die loop van 'n honderd jaar deurgemaak het nie. Hierdie swewende seuns van die wolke, wat die hemelruimtes skeur met hul donderende vaartuie en so gemaklik oor vastelande en oseane wip, voer blykbaar so 'n jagtende lewe dat hulle geen tyd het om rustig oor sake te peins nie. As die skrywer hom minder op uiterlikhede toegespits het, sou sy verhaal aan diepte gewin het. Per slot van rekening maak dit tog weinig verskil of 'n mens per motor of per ossewa na Durban reis, dan of jy in 'n vliegtuig na die uithoeke van die aardbol yl. Wel belangrik is egter wat daar in die siel van die reisiger omgaan. En so onbelangrik is die mense in hierdie verhaal dat ons hul name skaars kan onthou! § 27. A.D. Divine. Die Seerower van Saldanha (1935). Hierdie vlot geskrewe verhaal uit die tyd van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie sal die harte van baie jongmense verbly. 'n Parmantige rower, Boon, het die Stavoren verower. Pieter Malan, 'n flukse Afrikaanse seun, kom deur 'n misverstand ook aan boord met 'n paar slawe, en word gedwing om deel te neem aan die rooftogte. 'n Poging om te ontsnap misluk; Pieter beleef verrassende avonture, red 'n mooi meisie uit die hande van die woeste rowers en slaag uiteindelik daarin om die Stavoren en nog 'n ander skip aan die regmatige eienaars in Tafelbaai af te lewer. As beloning kry hy 'n mooi plaas van die Kompanjie en natuurlik verower hy ook die hart van die nooi! Alles is nie ewe waarskynlik in hierdie verhaal nie, maar die jong lesers sal hul daar nie veel aan steur nie. Hulle sal die moed en durf van die Afrikaanse held bewonder en terloops ook heelwat leer omtrent die kuns om 'n seilskip te bestuur. Dubbel welkom is hierdie boek omdat dit ons jeug in aanraking bring met die glorieryke tydperk toe die Hollandse driekleur op al die wêreldseë gewapper het. Tromp en De Ruyter {==162==} {>>pagina-aanduiding<<} is vir ons jongmense feitlik onbekende name, om nie eers te praat van die beroemde Hollandse seevaarders nie. Hier lê, vir skrywers soos Divine, 'n onbewerkte terrein. Die geskiedenis van die Nederlandse seevaart is eenvoudig volgepak met avontuurlike gebeurtenisse en romantiese heldedade in onbekende streke wat vir ons jeug 'n welkome afwisseling sal bied na al die Afrikaanse dierestories, jagverhale en romans oor veragterde armblankes. Hoe sal ons jongmense nie dié skrywer liefhê nie wat deur sy skeppende fantasie hul kan laat saamlewe met die jeug van die sewentiende eeu toe daar nog nuwe wêrelddele was om te ontdek, en grootse ondernemings om aan te pak; toe elke matroos uit die geheimsinnige Ooste huistoe gekom het met wonder-vreemde verhale oor verre landstreke en fabelagtige skatte. Dit is hoog tyd dat die Hollandse seetradisie weer herleef in ons letterkunde. As eerste proewe in hierdie rigting is Divine se goed vertelde verhaal 'n welkome aanwins. § 28. Karl Kielblock. Die Skat van Java (1936). Dit is 'n avontuurverhaal met 'n spannende intrige. Twee partye soek na 'n fabelagtige skat wat êrens in die suide van Afrika begrawe is. Elkeen het een helfte van 'n kaart, en die gevolg is 'n wedstryd waarin lis en geweld dan die een party en dan weer die ander 'n voorsprong gee. Twee Hugenote van die Kaap maak 'n kontrak met 'n seerower en neem deel aan die soektog. Hulle beleef die wonderlikste avonture, maak seegevegte mee, besoek die eiland Java en slaag daar uiteindelik in om die skat te verower. Jongmense sal geniet van al die noue ontkomings wat die helde beleef en ook nuttige kennis omtrent seilskepe opdoen. Ongelukkig laat die taal en styl van die verhaal heelwat te wense oor. § 29. A.J. du Plessis. Die Skraal Man (1937). Hierdie goedvertelde avontuurverhaal bevat soveel spannende elemente dat dit met graagte deur ons jongmense sal gelees word. 'n Knap landboustudent gaan onder 'n vals naam op sy oupa se Karoplaas boer om dit uit die kloue van die verbandhouer te red. Op taktvolle wyse voer hy nuwe metodes in, verbeter die veestapel en bestry gronderosie. Sy vernaamste taak is egter om 'n geheimsinnige veedief, wat op groot skaal te werk gaan, op te spoor. Vir die gewone polisie is hierdie dief, wat ons effens herinner aan Mikro se Ruiter in die Nag, natuurlik glad te slim, maar na maandelange geduldige en baie avontuurlike speurwerk, slaag die held daarin om ‘die skraal man’ te ontmasker. Hierdie ontknoping gee ons ook die sleutel tot 'n geheimsinnige liefdesverhouding. Die vernaamste skurk verdrink in sy eie dam, sy handlanger val van 'n rots, {==163==} {>>pagina-aanduiding<<} die ou familieplaas word gered, die familietwis opgelos en die held sluit die nooi in sy arms. Die leser, wat terwille van die knap intrige bereid is om 'n paar onwaarskynlikhede te aanvaar, en ook nie te hoë eise stel aan karaktertekening nie, sal deur hierdie verhaal aangenaam besig gehou word. In die tekening van die plaasatmosfeer openbaar die skrywer heelwat talent. § 30. Juanita de Villiers. Loëla (1938). Deur middel van hierdie verhaal wil die skryfster aantoon ‘dat die onskuldige onegte kind in die reël te wreed deur die wêreld behandel word. Ek voel dat ons nie genoeg medelye vir daardie kind toon nie. Hoeveel stote en stampe en klappe word haar nie moedswillig toegedien nie?’ Loëla, 'n fynopgevoede onegte meisie gaan na die dood van haar pleegmoeder skoolhou op Helderbron, waar sy inwoon by die aristokratiese familie Rive. Haar prinsipaal, wat baie karikatuuragtig geteken word, maak haar die hof, maar laat haar in die steek as sy haar afkoms openbaar. Toe sy in wanhoop die wêreld wil intrek om haar verlore moeder te soek, ontdek sy haar in mev. Rive. Dis 'n erg romantiese verhaal wat eindig met die huwelik van die heldin, na die gewone liefdesverwikkelinge. Die skryfster vertel vlot en lewendig, maar openbaar weinig diepte in haar uitbeelding. Helderbron is werklik 'n uitsoek-plaas, en sy aristokratiese bewoners vorm 'n skrille kontras met die gewone boere wat totnogtoe in ons verhaalkuns opgetree het. Miskien moet ons dit beskou as 'n reaksie teen die groot aantal armblanke-romans. § 31. J. Wapenaar. Van hierdie skrywer het verskyn Die Geheim van die Bergkom (1937) en onder die skuilnaam, Konstant Kamerling, 'n vlotgeskrewe speurdersroman: Die Juweel uit 'n Oosterse Tempel (1932). Die Geheim van die Bergkom (1937). 'n Fabelagtige skat, sedert eeue al verborge in 'n onbereikbare bergkom, 'n geheimsinnige kaart geteken deur 'n skipbreukeling, Kaffers wat om 'n geraamte dans en sommerso in die ingewande van die aarde verdwyn.... watter seun of dogter sal nie dadelik alles neergooi om uit te vind hoe dié vreemde avonture afloop nie? Die skrywer sal hulle nie teleurstel nie, want hy kan vlot vertel, sorg vir afwisseling en spanning, en bewaar sy geheim tot amper op die end. By 'n herdruk, wat hierdie lewendige verhaal seker verdien, moet 'n paar hinderlike anglisismes verbeter word. Ek noem o.a. (hy) lei die weg na binne; grond, wat van bo af deur reënwater afgewas is; ons beter hom wakker maak; spaarkamertjie; behalwe vir die een; ou Moesa het die skat nog aan sy persoon gehad. {==164==} {>>pagina-aanduiding<<} § 32. Speurverhale. In hoofstuk I § 13 is reeds 'n algemene karakteristiek van die speurverhaal gegee. Aangesien hierdie sensasielektuur niks met letterkunde te maak het nie, kan 'n verdere beskouing van die twintigtal verhale, wat in die periode (1926-1938) verskyn het, agterweë bly. Om die geaardheid van hierdie genre egter nader aan te dui, word die eerste speurverhaal in Afrikaans, Donker Spore (1926) deur Langenhoven, en twee van Leipoldt in besonderhede bespreek. Volledigheidshalwe volg hier 'n lys van die vernaamste ander skrywers op hierdie gebied. Hendrik Brand (skuilnaam van dr. S.H. Skaife) het die meeste opgang gemaak, en sy eerste bundel verhale Adriaan Hugo (1928) het selfs 'n agste druk bereik, terwyl Die Swart Hand (1930) reeds viermaal herdruk is. Daarop het gevolg: Die Verlore Prins, Die Skerpioen (1932), Die Bedrieër en Onegte Diamante (1938). Beeba: Die Diamantkoper (1929); Die Diamanthalssnoer (1929); Viedas: Jean de Ville (1929); Konstant Kamerling (skuilnaam van J. Wapenaar): Die Juweel uit'n Oosterse Tempel (1932); Leipoldt: Die Moord op Muisenberg (1932); Die Verbrande Lyk (1934); Hans Rompel: Die Vloek van Ming Loeng (1934); Flaneur (skuilnaam van E. Serfontein) Die Getuie vir die Verdediging (1935); A. Maree: Wie se Spoor (1935); Dirk Terblank: Die Moord op Boontjieskloof (1935); Ellenberger: Wrede Wraak (1936); Johann van der Post: Op die Spoor van die Rampokkers (1938); David Louw: Growwe Moorde (1938). {==165==} {>>pagina-aanduiding<<} Hoofstuk VI. Verhalende Prosa (vervolg): Die Mens in die Afrikaanse Verhaalkuns. § 1. J. Lub (1868-1926). J. Lub is op 1 Mei 1868 gebore te Garijp, 'n dorpie in die provinsie Friesland. In 1892 het hy as onderwyser na die Transvaal gekom. In die Tweede Vryheidsoorlog was hy vir ses maande in diens van die Rooi Kruis as bestuurder van die ambulanstrein. Na die vrede het hy opgetree as Hollandse dosent aan die Johannesburgse Normaal-Skool en later was hy inspekteur van skole op die Rand. In 1926 is hy oorlede. Vyf bundels sketse het van hom verskyn: Eenvoudige Mense (1908), Donker Johannesburg (1910) 1), In en om de Goudstad (1912), Het Zwarte Gevaar (1913), Oom Frikkie en ander Sketse (1918). Van Lub se sketse is 'n groot aantal in Afrikaans geskrywe, maar dit is die Afrikaans van 'n buitelander, waarin, hoe goed hy die taal ook al deur 'n langdurige verblyf onder ons mense geleer het, tog altyd nog iets vreemds klink. Omdat sy persone meestal in 'n Engelse milieu optree, kom daar in sy werk nogal baie Engelse uitdrukkings voor, en hoewel dit soms deur die geaardheid van die sketse noodsaaklik word, moet die veelvuldige gebruik van woorde soos ‘cab, stretsjer, uitgeswindel, loafers, motormen, sweets, gingerbier’ ens. beslis afgekeur word. ‘George lyk om te “marry”, maar sy “job” betaal maar net £12-10s., en hy het die laaste tyd op die reisies verloor, want sy “friend” het hom die “wrong tip” gegee’ (Eenv. Mense, p. 52). Al dien so 'n staaltjie nou ook ter karakterisering, tog word die herhaling van sulke gebrabbel op lange laas onleesbaar. Die verwording van die Afrikanerkarakter in die kosmopolitiese goudstad - dit is die vernaamste onderwerp van Lub se sketse. ‘Daar binne in die kuil (Johannesburg), vergaan 'n deel van ons arm mense, wat in hoë plekke behoort te wees, maar wat nou in hole van ellende omkom en bedelaars is.... of nog erger’ (Oom Frikkie, p. 66). Die degenerasie van sulke sosiale drenkelinge word in lewendige tafereeltjies beskryf. {==166==} {>>pagina-aanduiding<<} Die algemene opset is gewoonlik so: eers word met 'n paar vegies die stadsbeeld geteken; dan ontmoet ‘meester’ een van sy oud-leerlinge of 'n ander bekende van die plaas, wat nou in die uiterste ellende verkeer. So kry ‘meester’ af en toe 'n kans om die rol van Hildebrand teenoor die diakenhuismannetjie te speel. Anders word allerlei straattipes op die manier van Justus van Maurik beskryf, soms met 'n moraliserende prekie as slot. ‘Dink tog 'n bietjie, as julle die busdrywer(s) sien, dat hy ook een van ons medemense is’, ens. (Eenv. Mense, p. 36). Met 'n polisieman as geleider besoek Lub die gevangenisse, agterbuurte en reddingshuise. Die redakteur van Die Brandwag het sy werk juis gekarakteriseer: ‘Sulke sketse is menslike dokumente.... 'n simpatieke argief, wat die koue koerante en dokumente-argief van vandag se geskiedenis aanvul vir die toekoms’ (t.a.p., Des. 1918). Dit is goeie joernalistiek, met veel mensekennis geskryf, en dit werp 'n lig op die ontstaan van ons arm-blanke, 'n kwessie wat nog altyd aktueel is. By die beskrywing van sy melankoliese tonele gebruik Lub soms melodramatiese motiewe, wat as pakkende slot moet dien. Op dié manier verswak hy die indruk van roue realiteit, wat sommige van sy woordfoto's op ons maak. Ter afwisseling kry ons sketse in die komiese genre, wat meestal goed geslaag is. § 2. Dr. D.F. Malherbe. Malherbe is gebore in Daljosafat (Paarl) in 1881 en het sy eerste onderwys ontvang op die Hugenote-Gedenkskool. Na verdere studie op Wellington en Stellenbosch het hy in Duitsland gepromoveer (1906). By sy terugkeer in Suid-Afrika het hy een van die leiers van die Tweede Beweging geword. In 1910 word hy professor in moderne tale aan die Grey-Universiteitskollege, en in 1918 het dieselfde inrigting hom benoem tot professor in Afrikaans. Malherbe neem 'n eervolle plek in onder ons digters, maar sy belangrikste bydrae tot ons letterkunde is op prosagebied. Van hom het die volgende romans verskyn: Vergeet Nie (1913); Die Meulenaar (1926); Hans-die-Skipper (1929); Loutervure (1931); Die Hart van Moab (1933); Saul die Worstelheld (1935) en Die Profeet (1937). Verder 'n vyftal toneelstukke en 'n taalkundige werk: Afrikaanse Spreekwoorde en Verwante Vorme. Vergeet Nie (1913). In die nabyheid van die rustige Karodorpie, Steenburg, woon die Du Pré-familie op die plaas Rietfontein. Oom Willem en tant Annie het saam oud geword in die Karo-eensaamheid. Hul dogter, Bettie, is ook 'n ‘kind van die vrye veld, 'n pragtige voorbeeld van die Afrikaner-meisie’. Oom {==167==} {>>pagina-aanduiding<<} Willem is enigsins melankolies van geaardheid en die oorlogsgerugte vervul hom met 'n donker voorgevoel. ‘Die vuur sal brand van noord tot suid.... en dit is my asof.... ek die end nie sal belewe nie’, so lui sy profetiese woorde op die vooraand van die groot krisis. En die plegtige huisgodsdiens is nog nie afgeloop nie, toe Servaas Vermaak, die bywoner, wat dorp-toe was en daar Adonis as skaapwagter gehuur het, met die oorlogstyding vergoed 'n end maak aan die ‘rustige rus’ van die plaasbewoners. Nie lank na Servaas kom Bettie se verloofde, Piet Marais, geneesheer op Steenburg, om afskeid te neem. Hy is Kolonialer, maar offer al sy goeie vooruitsigte op om by die Boereambulans in diens te tree. Oom Willem, wat in alle sake die Bybel tot rigsnoer neem, veroordeel rebellie, maar heg tog sy goedkeuring aan Piet se daad, as hy hoor dat hy veral gaan om geneeskundige hulp te gee. Met gloeiende geesdrif verdedig Piet sy handelwyse teenoor Bettie se besware en pyl dan op sy vosperd reguit Boere-toe. Ons ontmoet hom weer by die Boeretroepe, maar nie meer as Rooi-kruisdokter nie, want dis al die tydperk van guerilla-oorlog. Piet is trots al die teleurstellings nog dieselfde vurige entoesias, die geswore vyand en bestryer van papbroekerigheid. ‘Nee, manne, laat ons saamstaan(,) almal wat kan tot die end’. Onder sy invloed word die flouhartige Japie du Plooy en oom Jan ook ‘bitter-einders’. Intussen kom Bester, die beroemde rebelle-kommandant, met 600 man die eentonigheid van 'n vervelige namiddag verdryf op Rietfontein. Bester, 'n 35-jarige man, wat tot hiertoe alle vroue met onverskilligheid verbygegaan het, moet dadelik ‘hands-op’ vir Bettie! As sy na Piet verneem, deel hy haar mee, dat hy weet van 'n dr. Marais, wat vroeg in die oorlog aan koorssiekte dood is. Hy beloof haar om nader inligtings in te win. Oom Willem verwek heelwat ontstemming onder die rebellekommando deur die verdediging van sy Bybelse standpunt aangaande trou aan die regering. Die volgende oggend sukkel hy dorp-toe met sy eseltjies om die besoek van die Boere aan Kommandant Hunt te rapporteer, en loop 'n lelike skrobbering op, omdat sy rapport so laat inkom. Bester se liefde vir Bettie beïnvloed die bewegings van sy kommando en deur sy herhaalde besoeke aan Rietfontein raak die Du Pré-familie in die moeilikheid. Oom Willem, pas herstel van 'n swaar siekte, word in 'n vreeslike storm dorp-toe gevoer deur die Engelse. In haar radeloosheid bedink Bettie 'n wanhopige plan om haar pa te red. Sy skryf 'n brief aan Bester, wat met sy kommando nog in die nabyheid verkeer, en laat dit deur Servaas besorg. Maar Adonis verklik alles aan die Engelse en as Servaas terugkom van sy vrugtelose tog, word hy saam met Bettie en haar moeder na die tronk geneem. Oom Willem en Servaas word na Port Alfred gestuur deur die militêre, Bettie kom agter die tralies, terwyl tant Annie vrygelaat word op parool. {==168==} {>>pagina-aanduiding<<} Intussen het dr. Marais een van genl. De Wet se vertroudes geword en as Du Plooy met rapporte na die Kolonie vertrek, kry hy 'n brief vir Bettie mee wat hy in Bester se hande laat. Maar deur sy poging om die brief aan Bettie te besorg, raak Bester gevange en word ter dood veroordeel. In die tronk kry hy geleentheid om Bettie te vertel, dat Piet nog leef. Kort na Bester se teregstelling keer Bettie en haar moeder weer terug na Rietfontein. Oom Willem het kort na sy aankoms in die kamp op Port Alfred beswyk. Na die vrede kom Piet terug om sy bruid te trou. Bettie word ons voorgestel as 'n ideale Boermeisie. Alleen die feit, dat sy haar afgeleefde ouers nie kan verlaat nie, weerhou haar om Piet se voorbeeld te volg en aan te sluit by die ambulans. In die gevangenis en teenoor Hunt gedraag sy haar kloek. Sy is blykbaar trots op die rol wat sy gespeel het, en as Piet haar ná die oorlog vra, of sy bereid is om vol te hou in die groot stryd teen die Engelse kultuuroorweldiging, antwoord sy met 'n tikkie verontwaardiging in haar stem: ‘Piet, mag jy my nog so 'n vraag vra nadat ek soveel opgeoffer en gely het?’ 1) Dit kom my egter voor asof Bettie haarself moedswillig in die ongeluk gestort het, en as dit die geval is, dan verloor haar ‘offer’ vir die nasionale saak heelwat van die heroïese kleure, wat die skrywer daarin geweef het. Op pagina 66 staan: ‘Al die veerkrag van haar nasionale gevoel is deur die oorlog in volle beweging gekom, en niks is daar sterker by haar gewees as die wens om positief te mag meedoen aan die stryd nie. Maar hoe kon sy haar ouers verlaat? Onmoontlik vir haar om uit te gaan as verpleegster! En so is dit haar ernstige gebed geword dat sy op watter wyse dit God behaag 'n aandeel mog kry aan die oorlog. En as sy niks kan meedoen nie, dan wou sy meely met haar volk.’ Hoe edel hierdie besluit op sigself ook al mag wees, dit neem die feit nie weg nie, dat Bettie se naasbysynde plig ongetwyfeld was om vir die veiligheid van haar afgeleefde ouers te sorg. Maar as sy by haar vader se siekbed moet waak, dan spook die gedagte van deelneem aan die oorlog, wat 'n idée fixe by haar word altyd deur haar brein: ‘Sou die Here haar roep om haar siek vader op te pas, en mag sy daarom geen deel hê aan die oorlog nie? Sou dit haar roeping en werk worde, beskeie en stil, waar sy hoë aspirasies had?’ 2) Piet Marais se oorlogsgeesdrif en wie weet, miskien ook die Engelse romans, wat sy van die skool af meegebring het, 3) het haar blykbaar taamlik sentimenteel gestem en haar belet om 'n nugter kyk op sake te behou. As Bester haar meegedeel het, dat 'n sekere dr. Marais in die begin van die oorlog aan koorssiekte dood is, maak {==169==} {>>pagina-aanduiding<<} sy allerhande onuitvoerbare planne - ‘sy sou stilletjies wegraak, te voet loop as dit al was, haar lewe daaraan waag, sy sou sôre, dat sy êrens by die Boere te lande kom, sy sou Piet soek.... en as hy waarlik dood was, sy graf met haar trane bevogtig!’ 1) Die laaste sinnetjie kon wel in een van Feith se romans gestaan het. Daar is trouens meer wat ons aan die sentimentele romans van die agtiende eeu herinner. 'n Paar ou briewe van Piet maak sy ‘met voldoening ope en lees dit in stil mymering en met die gevoeligheid van 'n teer vrouehart.’ (p. 64.) Dat Bettie ‘in die traag-skrydende ure van die nag’ romantiese plannetjies uitgedink het, is psigologies volkome juis, maar ons is nie gewend, dat 'n flink Boermeisie van drie-en-twintig jaar, wat bowendien reeds op haar agtiende jaar ‘selfbewus en ryp genoeg vir verantwoordelikheid’ (p. 33) was, dat so 'n meisie, tans die enigste 2) stut en steun van haar grys ouers, in uiters benoude dae haar alte lank oorgee aan 'n Wertheriaanse sentimentaliteit nie. Bettie se volgende dade toon dat sy doelbewus, ja moedswillig alles doen om ‘'n aandeel aan die oorlog te kry’ - m.a.w. sy lê die veiligheid van haar ouers in die waagskaal ter wille van 'n meisiesagtige gril, wat sy vir ‘hoë aspirasie’ aansien! Sy weet, dat haar pa 'n swartkruis agter sy naam het, dat die geringste suspisie hom in lewensgevaar kan bring en tog ontvang sy Bester ‘alleen in die sitkamer’ (p. 92). Bester het ongetwyfeld 'n sterk indruk op haar gemaak, en ofskoon sy trou bly aan Piet en haarself wys maak, dat ‘as Piet dood is, sy ook dood (sou) wees vir die wêreld’ (p. 90), sien sy tog verlangend uit na Bester se terugkeer. En nie alleen omdat sy hoop, dat hy nuus van Piet bring nie. Piet behou wel die ereplaas in haar gemoed, maar uit die omstandigheid, dat sy oorweeg wat Bester vir haar kan beteken in geval Piet werklik dood is, kan ons besluit dat sy persoonlikheid haar diep getref het. Sy redeneer so: ‘Sy is mos sterk genoeg, sy het Piet te lief om aan enig ander man te dink’ (p. 95). En sy doen dit tog! Bettie maak 'n krisis van ernstige weifeling deur. Sy het Bester lief en al wat haar terughou is ‘die dure besef van plig en eer.’ (p. 99.) Oom Willem het dadelik die groot gevaar ontstaande uit die herhaalde besoeke van Bester ingesien en Bettie ernstig gewaarsku (p. 95). Sy het volkome goed geweet, ‘dat alle persone, wat geheime konneksies met so 'n gevreesde en verwenste mens het op die ongenadigste manier sou gestraf word.’ (p. 96.) Tog ontvang sy Bester nóg eenmaal alleen - sy dink nie aan die gevaar waaraan sy haar ouers blootstel nie, ofskoon hy haar meedeel dat sy stap gevaarlik is en dat die Engelse dus naby {==170==} {>>pagina-aanduiding<<} is - sy gaat swygend met hom die sitkamer binne en steek nog daarby 'n kers op (p. 97). Op dié manier bewerk sy haar pa se ongeluk. Kan ons haar dus glo as sy uitsnik: ‘Ag Pa, ek kan dit nie help nie, ek is net so onskuldig soos Pa’? (p. 102.) Miskien wel; miskien was dit bloot vroulike onversigtigheid. Maar die volgende stap van Bettie - die brief wat sy aan Bester skrywe - is alleen verklaarbaar as 'n moedswillige poging om haarself ‘'n aandeel aan die oorlog’ te verskaf. Sy kom tot die konklusie, dat alleen Bester haar pa kan red. Het sy gemeen, dat hy die Engelse moet agtervolg en oom Willem terugbring plaas-toe? Moes Bester vervolgens Rietfontein verdedig teen die Engelse oormag? homself, sy kommando en die vrouens laat platskiet ter wille van één man? Of moes hy die afgeleefde, sieklike grysaard, teen die se eie wil saamsleep op sy swerftogte? In haar opgewondenheid het hierdie eenvoudige oorwegings nie by haar opgekom nie en in haar naïewe geloof aan Bester se al-sterkheid skryf sy aan hom - 'n impulsiewe daad - psigologies volkome juis. Maar haar moeder se opmerking, dat haar plan gevaarlik is, bring haar nie tot nadenke nie. En plotseling blits dit deur haar gedagte: Nou kan ek my ‘hoë aspirasies’ bereik - sy kry die ‘besef.... dat sy self in die draaikolk van gebeurtenisse begin meedans. Was dit dan nie altyd haar ernstige versugting nie?’ (p. 107.) Juis, sy is lank al moeg vir die eensame lewe op die plaas, waar sy al meer as 'n jaar opgesluit sit. Haar romantiese siel smag na dade van durf, en intussen suggereer sy haarself, heeltemal ter goeder trou, dat sy alles doen om haar pa se ontwil! Maar Servaas is die man, wat haar tot rede sal bring! Hy weet meer dan sy: ‘Die vlakte, die bossies, dit lewe van duisende kakies so na Vaaldam se kant toe. Die hele wêreld is vanaand vol van hulle.’ (p. 110.) Hy erken: ‘dis byna verniet om so iets te probeer en daarby gevaarlik.’ (p. 109.) Helaas! Arme Servaas verloor ook ál sy gewone boere-nugter-heid - hy kan ‘die vurige pleit van 'n skoon jonkvrou’ nie weerstaan nie! En hy gaat jou waarlik waar op die dollemansboodskap uit, ofskoon sy vrou uitdruklik verklaar dat dit ‘gek mense se werk is om so iets te doen’ (p. 112). By 'n nugter beskouing van die feite moet ons kies tussen twee opvattings: (1) òf Bettie is ten spyte van haar drie-en-twintig jaar nog maar 'n bog kind soos Janetta haar noem, wat met die grootste onversigtigheid haarself, haar ouers en Servaas in die ongeluk stort, òf (2) in 'n toestand van radelose opgewondenheid maak die idée fixe ‘om haar deel aan die oorlog by te dra’ haar onbekwaam om die simpelste logiese gevolgtrekking te maak. In albei gevalle word dit dan egter onmoontlik om haar handelwyse as 'n onselfsugtige, edele daad te beskou en verloor haar offer sy grootse betekenis. Soos Malherbe haar geteken het kan sy nooit as heldin, as die ‘moedige Boermeisie met haar sterk en besliste {==171==} {>>pagina-aanduiding<<} karakter’ 1) beskou word nie. Sy is eenvoudig die slagoffer van haar kinderlike onnoselheid of van haar ‘hoë aspirasies’, wat ons medelyde opwek, en die bewondering vir haar kloek gedrag in die gevangenis word getemper deur die bewussyn, dat dit alles onnodig was, terwyl ons haar bowendien met reg kan verwyt, dat sy haar ouers en Servaas met sy familie in die ongeluk gestort het - ja selfs die dood van haar vader verhaas het. Bettie, soos die outeur haar wil voorstel, is 'n psigologiese teenstrydigheid. M.H. van Campen het die raak opmerking gemaak, ‘dat kunst het zichtbaar worden der noodwendigheid in 't voorgesteld gebeuren ten gevolge heeft, en dat het blijken dier noodwendigheid de schóónheid van 't voorgesteld gebeuren uitmaakt.’ 2) Dit is juis dié sigbaarwording van die noodwendigheid, wat ons in Bettie se ‘offer’ mis. Malherbe het een van die mees dramatiese momente in sy verhaal laat glip. Hy gee ons self die gegewens vir die uitbeelding van 'n geweldige konflik; aan die een kant Bettie se geheime liefde vir Bester, die bestaan waarvan sy self nog nie wil erken nie; daarmee saamgevleg die hoop, dat hy haar iets omtrent Piet Marais sal kan meedeel en bo-op dit, haar kriewelrige ongeduld om na 'n jaar van gedwonge niks-doen eindelik haar lang gekoesterde plan om aktief op te tree in die oorlog uit te voer. Aan die ander kant: die besef dat dit haar plig is om ter wille van haar ouers en as verloofde van Piet, wat miskien nog leef, alle omgang met Bester te vermy. As Bettie in só 'n konflik eenvoudig haar naasbysynde pig gedoen het, dan sou ons haar ook sonder om te weet, dat sy dapper was in die tronk, as 'n heldin kan bewonder. Vergeet Nie is 'n aaneenskakeling van dramatiese tonele, waarin die oorlog voor ons geestesoog verbytrek. Sonder veel verandering sou dit dan ook moontlik wees om die roman om te werk tot 'n toneelspel, waarin daar wel veel aksie, maar weinig botsing van hartstogte sou voorkom. Ons kry 'n indruk van wat daar gewoel en gekook het in die hart van die volk gedurende die oorlogsjare, van die lyding van vrouens en oumense, van die dapperheid van die Kolonialers, die laagheid van die National Scouts, die vervolging en plaery onder die krygswet. Maar by die beoordeling van die boek moet ons een faktor veral nie veronagsaam nie: dit naamlik, dat die teenswoordige geslag nog in meerder of minder mate onmiddellik betrokke was in die gesketste gebeurtenisse, dat daar tallose herinneringe van die groot oorlog nog lewe in ons bewussyn. Dié herinneringe word deur die skrywer in dramatiese verhoudinge gegroepeer en iedereen kan dadelik uit sy eie ondervindinge analoë gebeurtenisse rekonstrueer. Dit versterk die indruk wat die gelesene op ons maak honderdvoudig. Die skrywer roep ou halfvergete {==172==} {>>pagina-aanduiding<<} impressies uit hul wegkruipplekkies te voorskyn. Op onbewuste wyse vul ons self die verhaal aan, en so kry dit oplaas 'n aktuele kleur, 'n sterk geprononseerde persoonlike karakter, wat die leser tot in die diepste roersele van sy siel beweeg, maar wat die verhaal op sigself nie besit nie. Ek noem een voorbeeld om my bewering te verduidelik. Die teregstelling van Bester herinner ons dadelik aan kommandant Scheepers. Die oorspronklike ontroeringe, veroorsaak deur die tragiese uiteinde van Scheepers, versterk die indruk, wat die soortgelyke lot van Bester by ons verwek en raak daar gedeeltelik mee geïdentifiseer. Die gevolg is, dat Bester-Scheepers in die roman 'n werklik lewende persoonlikheid vir ons word. Maar nou ontstaan die vraag: Is Bester, wanneer ons ons persoonlike ervarings heeltemal uitskakel, nóg 'n lewende persoonlikheid, ontroer die wyse waarop Malherbe hom uitgebeeld het ons dàn nog? Dit is die enigste wyse waarop ons die kunswaarde van Vergeet Nie vir die nageslag kan bepaal, want oor 'n tagtig of honderd jaar, sal die boek nie meer in so 'n voordelige posisie verkeer nie, dan kan dit alleen nog profiteer van die nasionale oorleweringe van die groot stryd. En selfs dìt sal die boek nog 'n groot voorsprong gee, want by 'n volk met 'n kragtige bewussyn word die nasionale helde uit 'n vergange glanstydperk altyd met 'n stralekrans van heilige aanbidding versier. Dit is bekend dat De Geuzen van Onno Zwier van Haren lank as 'n kunswerk van die hoogste skoonheid beskou is, eenvoudig omdat dit 'n nasionale onderwerp behandel. Maar ons keer terug tot Malherbe se karakteruitbeelding en vraag: Wat weet ons nou eintlik van Bester? Hy is 'n bekwame en dapper kommandant, wat verlief raak op Bettie. As hy hoor, dat haar verloofde nog leef, besluit hy na enige stryd om haar dit mee te deel. In die hof verdedig hy sy handelwyse op hartstogtelike manier en gaan sy dood tegemoet soos 'n held. Alleen by die beskrywing van sy laaste dae kry ons enigsins 'n blik op sy sielelewe en die totaalindruk bly vaag. Bester is sonder lewensdeurdringing geteken, daar is niks individueels, wat hom tot 'n duidelike persoonlikheid maak nie. Piet Marais eweso. Hy is. 'n tipe van die ontwikkelde Afrikaner, wat deur 'n vyfjarige studie in Europa sy insigte verruim en sy lewe verdiep het. Hy het daar ‘jare van worsteling’ gehad, hy moes dikwels ‘met smart afskeid neem van oortuiinge wat (hom) in vlees en bloed oorgegaan (was) van (sy) kindsheid af.’ Hy was 'n ernstige soeker na waarheid, wat uit ou tradisies en nuwe wetenskap vir homself 'n eie lewensbeskouing gebeitel het. In die karakter van Piet lê seker 'n stukkie outobiografie, maar in 'n oorlogsroman was daar geen kans vir 'n psigologiese uiteenrafeling van hierdie interessante fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse student nie. Ons wag nog op die kunstenaar, {==173==} {>>pagina-aanduiding<<} wat die botsing en gedeeltelike samesmelting van die Afrikaanse en Europese kultuur moet uitbeeld. 1) Ons verneem ook nog enige besonderhede van Piet se oorlogservaring en hoe hy verlang na Bettie. Maar 'n lewende persoonlikheid, met wie ons al die wisselende stemminge van die avontuurlike kommandolewe deurvoel, word hy nie. Ook tant Annie bly 'n vae figuur. Op Bettie het sy blykbaar geen invloed nie. Selfs aan Hunt was dit duidelik, dat sy geen aktiewe rol kon speel nie en die treurige gebeurtenisse slaan haar dan ook heeltemal terneer. Oom Willem is met meer liefde geteken. In sy bybelvastheid, sy afkeer van pronk en na-apery is hy 'n tipe van die Afrikaanse boer. Ons verneem dat ‘dors na kennis hom aangespoor (het) tot selfopvoeding’, maar uit die opgawe van sy biblioteek blyk, dat dit hoofsaaklik godsdienstige kennis was, waar hy na gestreef het. Hy bly getrou aan die Engelse regering, omdat sy godsdienstige oortuiging hom leer, dat rebelleer sonde is. Maar, as hy later persoonlik kennismaak met die onregverdige taktiek van die Engelse, laai sy haat op teen die vyand van sy volk en kry hy simpatie met die rebelle. Vergeet nie is die plegtige boodskap, wat hy aan Servaas gee op sy sterfbed. Bester, Piet Marais en tant Annie is karakters, wat getipeer, maar nie psigologies gekreëer is nie. Die skrywer staan te veel met sy eie ekheid tussen die objektief beeldende teksdele, hy mis die gawe om sy gegewens tot 'n saamgegroepeerde eenheid te bring, om sy persone heeltemal objektief van uit hul eie innerlike wese te laat lewe. Deur die subjektief deurleefde werklikheid vleg hy sy eie beskouings en daardeur verdwyn die realiteitsillusie. Die roman word 'n aaneenskakeling van dramatiese momente, maar geen epiese struktuur, waarin die ganse sielelewe van 'n groot tydperk in sy gehele menslikheid tot een grootse beelding samesmelt nie. As Piet Marais oorlog-toe ry hoor ons: ‘Dis die eerste rit vanaand van 'n besielde Kolonialer na 'n slagveld wat so groot sal word soos byna die gehele beskaafde Suid-Afrika, na 'n oorlog wat nie sal oortref word in gemene gruweldade nie.... ens.’ (p. 22). Dit is wat Malherbe weet, maar Piet was tog geen profeet nie. Op hinderlike wyse dring die skrywer homself hier op die voorgrond. Sy historiese kennis verwerk Malherbe presies soos De Waal. Op pagina 52-54 staan 'n lang oorsig van militêre gebeurtenisse en op pagina 63-64 'n uiteensetting van die toestande onder die krygswet. Alleen deur 'n betoog kan hy die nodige atmosfeer vir sy verhaal skep. Só kry ons geen begrip van die dramatiek van die worsteling nie. {==174==} {>>pagina-aanduiding<<} Soms egter slaag Malherbe daarin om deur pittige plastiek die leser direk te tref. 'n Voorbeeld daarvan is die mooi kommandotoneeltjie in hoofstuk X, waar 'n lewendige dialoog ons dadelik op hoogte van sake bring. Die brief uit die konsentrasiekamp met sy bemoedigende woorde: ‘Gaan voort, want ons saak is reg en God sal ons nie verlaat nie’ laat ewe ons gemoed tril, en ons sien die duisende vroue in geduldige lyding. 'n Oomblik later vaag die nugter vraag van generaal De Wet: ‘Hoe is die posisie?’ alle droomgepeins weg. Maar as kort daarop ‘soos 'n magtige gebed waar berusting in ruis’ die burgers se plegtige lied tussen die koppies weergalm en die generaal en sy staf met eerbiedige gebaar hul hoede afhaal, dan sweef ons op die klankedeining na 'n wonderland van heilige herinnering - dan sien ons die stoere manne ‘saamsing met vrou en kind, met vrind en bloedverwant onder gewyde dak....’ Hier is innigheid van weergawe. Ons voel die diepe kneusing van sterk manneharte, wat op die nuwe dag in stille Godsvertroue wag. 'n Skrywer, wat so mooi die nodige sfeer met uiters gevoelige tikkies kan aandui, hoef waarlik nie sy toevlug tot koel-verstandelike historiese geredeneer te neem nie. Hy hoef nie uit sy denkbewussyn allerlei verklarende toeligtings aan te voer nie - die leser vang dadelik die aksent van waaragtigheid uit die klank van sy woorde op. Maar selfs by hierdie mooi veldtablo kom die skrywer se opdringerigheid te pas. Hy vind dit nodig om weer blyk te gee van sy historiese kennis en vertel ons dat ‘die wêreld in kampe van blokhuise afgeperk is.... waaromheen swaar kolomme opereer met 'n onuitputlike gedetermineerdheid om die groot veggeneraal van die Boere in die reusenetwerk van bewegende lyne toe te wikkel’. 1) Dat De Wet se gevangeneming die Boermagte sou knak is 'n feit, só vanselfsprekend, dat die meedeling daarvan absoluut oorbodig is, vir ons èn vir die nageslag. Mens sou ewegoed 'n Fransman daaraan kan herinner, dat Blücher en Wellington vir Napoleon wou vang by Waterloo!! As die skrywer die orige informasie tog wou meegedeel het, dan moes hy dit so in die dialoog gevleg het, dat ons dit nie voel as 'n opsetlik skoolmeesteragtige opmerking nie. Gebrek aan plastiek is daar in die volgende sinnetjie: ‘In 'n omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer.’ (p. 135.) Dit is 'n blote konstatering, wat by die leser geen impressie van die handeling wek nie. En juis in die vorige sin slaag die skrywer daar pragtig in om deur die herhaling van die woord afsaal 'n duidelike gehoorbeeld te suggereer. ‘Afsaal’, klink dit deur die rye, ‘afsaal tot ver agteruit en rondom’. Ons hoor hoe slaperige burgers met sware basstem mekaar die woorde nasê, totdat die klankeketting dreun in die agterste gelid. Maar in plaas van die gehoorhallusinaie te verinnig deur die geskuifel van die saals, {==175==} {>>pagina-aanduiding<<} wat me dowwe plof en stiebeuelgerinkel op die aarde bons, kom die skrywer met sy niksseggende verklaring: ‘In 'n omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer.’ Nog so 'n geval vind ons op pagina 13. ‘Dit kan stil, ontsettend stil word op Rietfontein. In die middel van die dag kan dit gebeur dat daar geen lewensteken te bespeur is nie.’ Uit so 'n beskrywing blyk duidelik, dat die outeur nie in die toestand is nie, maar praatjies oor die toestand maak. Hoeveel mooier is die beeld waarmee hy ons dadelik die stilte en eensaamheid op Steenburg laat voel - die dorp, ‘waar alle geluid en rumoer van menslike bedrywigheid nietig wegsterwe soos die breek van 'n dun, droë takkie in 'n ontsaglike woud’. Dan is daar nog iets wat hinderlik is in die kommando-toneel. Japie du Plooy is ‘deur die invloed van dr. Marais tot 'n waaghals en onvermoeide verkenner omgetower.’ (p. 138.) Ook al ‘in 'n omsientjiestyd’? Vir so 'n sielkundige bolmakiesie het mens 'n ouderwetse toordokter nodig en ek twyfel of Piet dié kuns in Duitsland geleer het. Daar is nog meer voorbeelde van die neiging van die skrywer om hom tussen sy verhaal en die leser te plaas. Servaas kom die dorp ingery op die 12de Oktober 1899. Dan kry ons in enkele raakgetekende lyne 'n pragtige ets van Steenburg en omgewing, - maar dit is nie Servaas, wat die dorp so sien nie - dit is Malherbe. Ons loop nie saam met Servaas onder die peperbome nie. Nee, die skrywer sit op een van die koppies en peins oor die ‘sukkel-werksaamheid’ van klein mensies en die wydomhemelde velde, waarin die dorpie ‘soos 'n nouliks sigbare stippie’ wegsink. Intussen vergeet ons Servaas totaal, verdwyn alle realiteitsgevoel. Malherbe vertolk die gedagtes van sy persone deur sy liriese, parafrase in plaas van die gedagtes self, in hul eie taal te gee. Op pagina 34 word die gang van die verhaal onderbreek deur die volgende opmerking: ‘Arme Bettie en Piet, watter reggeaarde sou nie medely hê met julle nie,....’ en op pagina 46 roep hy uit: ‘O, die wonderlike gawe van heerlike ontboeseming aan die mensekinders gegee,....’ Bettie se innerlike lewe word soms op fyn-psigologiese wyse deurvoel. Haar tobbery oor die lot van die geliefde, die nuansering van haar gevoelens by die verskyning van Bester, die manier waarop sy wik en weeg wat hy vir haar sou kan beteken ingeval Piet werklik dood is, dit is treffend uitgebeeld. Maar haar karakter word onwaar, omdat ons nie kan glo aan die egtheid van haar ‘offer’ nie. Ook die tekening van oom Willem is aandoenlik in sy egte menslikheid. Maar die groot betekenis van Vergeet Nie as literêre kunswerk lê nie in die karaktertekening of komposisie nie, maar in die styl met sy sterk persoonlike aksent. Malherbe se prosa is byna heeltemal vry van vreemde invloed. Dit is prosa met 'n eie ritme, prosa waarop 'n fyn digterlike waas rus. Hy {==176==} {>>pagina-aanduiding<<} beskryf nie alleen die uiterlik van wat hy sien nie, maar dring deur tot die innerlikste wese, sodat ons die geur daarvan kry. Die skroeiende son brand ons deur die hele boek, ons sien die stowwerige dwarrelwinde op hul grillige togte oor die vaal Karovlaktes. Al die wisselende natuurtonele het die skrywer diep ontroer - die skaduwees van die swart wolke, langsaam skuiwend oor die jong skaapbossies, wat ‘soos dwergies koes’; die plasreëns, wat neerbons met woeste geswiep, die langgerekte kettingligte wat geheimsinnige tekens aan die swart hemel skrywe. Op Rietfontein het hy die witgeswelde arms van die vyelaning gesien, ‘waar die jong vye soos klein kindervuisies aan uitloer’; Steenburg teken hy met 'n paar uiters fyn penseelstrepies - die ‘rustige Karodorp, dromend in selftevredenheid en wyd omwoon deur slapende koprande wat in donkerbruin pantser en ylvaal groei uitgebeiteld rus teen die ewigblou hemel aan.’ 1) Sonder aarseling vertolk die digter die fantastiese skyn wat die dinge in sy oog aanneem; sy impressionistiese beelde tril en bewe van jong lewe. Sy metafore is nie spoggerige blinkgoed, wat as versiering van buite opgeplak is nie, hul sit vasgegroei in sy skepping, wel spontaan op uit sy onbewustheid. Adonis se ou baadjie is ‘lewensmoeg en klaar met die wêreld’, die kleurevariasie van sy gelapte ferweelbroek is ‘soos 'n bont mensesee by 'n wedstryd waar die son sy ligte glans oor heenstrooi op 'n vrolike somermiddag’. So gee Malherbe ons telkens met 'n paar raak-etsende woorde 'n verrassend-nuwe kyk, en haal hy skoonheid selfs uit die flenter-ploiings van 'n ou Hotnot. Op die plaas het hy die ‘dowwe basmusiek van die ooie, swaar van dreuning nes dié van 'n aanstormende vloed afgewissel deur indringende skreenote van die lammertjies’ gehoor; hy het die kalwers stofdraaie sien maak as hul onbekommerd die jong dag ingaan. Die swaar reëndruppels spat teen die vensterruite ‘of jy ertjies saai’; die westewind ‘die hoopbederwer van die Karoboer.... vlie tussen die wolke in en skeur hul uiteen met dreunende en druisende gebaar. Wild klop hy hulle uiteen, die swaar gepakte wolkemassas soos 'n geoefende hanteerder van 'n sweep 'n digte klomp vee, totdat hul uitgedun heenseil, een-een wegsmeltend onder sy verskroeiende asem, en die lug weer vry neerblou in die hittige sonstrale.’ 2) {==177==} {>>pagina-aanduiding<<} So magtig is die indruk van die natuur op die skrywer, dat hy al die wisselende stemminge van sy persone met 'n stukkie natuurvisie deurlewe. As Servaas ‘vol van vrees vir die toekoms’ teen ‘die vaal hange uitslinger met sy kar’, dan lyk ‘die swygende rande so naar, so onvriendelik nes dreigende ongediertes’, dan ry hy op 'n pad, wat ‘spookagtig wegslinger tussen die donker swartkoppe in.’ Wanneer Piet Marais wegry van Bettie oorlog-toe, dan is dit donkermaan, dan sing ‘'n byterige Oktoberluggie 'n klaende sangetjie’ in sy ore. En as Bettie hom agterna kyk dan straal ‘die blinkende sterre met oë van genade op 'n verbroke vrouehart’ neer. By haar ontwaking die volgende oggend ‘lê die sonnegoud heilig en skoon soos 'n glimlag van Gods genade’ op tafelrande en koppies. Vir Japie du Plooy en sy maats is die rooi lug 'n onheilspellende teken. Die westewind laat Bettie huiwer; ‘net so wreed en meedogenloos soos die stofstorm daar buite heenbruis, so het die omstandighede ook met haar lewe gespeel!’ Wanneer oom Willem weggevoer word van Rietfontein hang ‘'n afgryslike weer in die lug’ en na die storm ruis die sagte buitjies ‘soos 'n vreedsame verontskuldiging vir verbygegane wreedheid’ neer oor die onskuldige grysaard. En die vroue op die plaas voel ‘of die natuur selfs geen simpatie en gevoel vir hul leed had nie.’ Oor die kindertjies van Servaas ‘gly die sonstrale van 'n koninklike somermiddag beskermend en seënend.’ Oom Willem sterf saam met die ondergaande son en die geruis van die see is ‘'n plegtige dodeklag’. Wanneer Bester sy doodvonnis hoor, sien die son ‘soos 'n rustige god in spraaklose medely op 'n toneel van menslike leed’ neer. By die uitvoering van die vonnis kom die son weer ‘net agter verre rande uit.... terwyl rondom die ligfontein 'n bloedrooi halwe maan ver in die blou uitsirkel. Betyds gekom om bloedvermaak te aanskou’. Hier egter kry ons die indruk, dat die son en die bloedrooi maan daar met geweld bygesleep is. Veral die gekursiveerde sinnetjie bederf die stemming, terwyl die omskrywing ‘ligfontein’ banaal is. Wanneer Piet en Bettie na die oorlog op die klipheuwel by Rietfontein sit, dan ‘treur ook die son in sy bloedrooi vlieserige omhulsel, 'n weerglans van die bloed wat vergiet is op die Afrikaanse velde’, maar enige oomblikke later as hul twee siele ‘saam(vloei) in 'n heilige vervoering van onvermengde geluk, van toekomsdrome en toekomsweelde’ dan ‘skemer die laaste glimlag van die ondergegane son in roerlose stilte uit....’ Vergeet Nie begin met die son en eindig met die son. Meestal slaag die skrywer daarin om met sy digterlike visie op die natuur sy stemmingsbeelde te verinnerlik, maar dit word ook soms bloot manier. Naas eg-Afrikaanse beelde, wat getuig van fyn waarnemingsgawe kry ons egter ook flou-geryde uitdrukkings soos: ‘Verder het hy die sleutel waarmee hy onmiddellike toegang tot Bettie sou verkry’, (p. 69); {==178==} {>>pagina-aanduiding<<} Bester is oortuig van sy ‘onblusbare liefdegloed’ vir Bettie (p. 96); Aan Oom Willem het die willekeur sy skaamtelose hand geslaan. (p. 149); Bester het sy vonnis in die gesig gekyk soos 'n marmerbeeld (p. 186); ens. Ook onvervalste retoriek: Die suiwer suiderhemel met sy ontelbare flikkerbronne.... 'n klanklose(?) prag van lewende juwele gesaai oor die grondelose boesem van die lug,.... (p. 44); 'n gloeiende naald boor langsaam deur sy siel, agterlatend 'n smal baan van verskroeide lewensvreugde (p. 44) - 'n beeld wat positief walglik is. Afgeslyte uitdrukkings ontstel ons in dubbele mate by Malherbe omdat sy stylkuns oor die algemeen deur so 'n innige, suiwer-eenvoudige woordkeus beheers is. Ons voel dat hy gesoek het na die alleen-juiste woord en dikwels klink daar 'n harmoniese toon in sy geïndividualiseerde sinsbou. Hy wou méér gee as 'n gewone amusementsroman en as een van die eerste kuns-uitings in prosa sal sy werk steeds van belang bly. Hy het die joernalistieke vaalheid uit ons taal weggevaag deur sy fleurige beelde, ontleen aan Afrikaanse veld en lug, en daarby besit hy as digter 'n fyn gevoel vir woord- en klankwaarde. Ten spyte van die foute in sy styl en komposisie hang Vergeet Nie soos 'n klein druiwetrossie in die groen wingerd van ons letterkunde. Die beelde met hul Karo-omwaasde ongereptheid is die wynkleurige korrels, mekaar verdeukend in die transparante ronding van sappige swelling, wat die tingerige steeltjies in hul liefdegroei bedek. En wie, stil-gelukkig, die korrels een vir een in al hul sonnegeurende sappigheid geproef het, sal ook die tere stingeltjie nie àlte wreed vergooi nie. Die Meulenaar (1926). Op die Bolandse plaas, Meulkloof, is 'n vandisie aan die gang. Tys Theron het vir sy broer borggestaan en moet die ou familieplaas verkoop. Op 'n handige wyse laat die skrywer ons kennismaak met die hooffigure, die swaarmoedige eienaar van Meulkloof en sy gelowig-vertrouende eggenote Betta; die slim berekenende prokureur Louw, wat deur 'n teatrale maneuver die plaas ter elfder ure uit die hande van die skuldeisers red om so vat te kry op oom Tys se mooi dogter, Leonore. Maar die meeste lig val op die nuussnuffelaar, Piet Mens, wat ons met sy ‘streepsakvol kletsstories’ goed inlig oor die verhouding tussen die persone, en die eenvoudige meulenaar, Faans, wat half suf oor die afskeid van sy geliefde meule, sukkel om die toedrag van sake te verstaan. Tussen die vandisiedrukte deur kry ons 'n mooi blik op die ou wynplaas, waaroor die donker skaduwees van die filoksera toesak. Ek noem maar net so 'n pragtigbeeldende sin soos: ‘die tuinmuur wat.... agter donker eikestamme langs in gesellig-vrindelike spierwit lyning opstryk tot bo waar die pad swaai om 'n stokou seringboom’ (p. 6). {==179==} {>>pagina-aanduiding<<} Mooi is die tekening van Faans se jeukerige werklus, sy verlange na die ‘rammel-ritteling van die meulhuis’, die enigste musiek van sy kleurlose bestaan. Hy is een van die Ampie's van ons volk, 'n natuurkind, wat op ons eindelose vlaktes agter skape rondgeswerf het, totdat die genadelose natuur hom neergesmak het in die agterbuurtes. Tys Theron het hom uit die verwaarlosing van Blikkiesdorp gered, maar daar was tog iets geknak in hom, en so traag het die sukkelgroei van sy siel in die nuwe omgewing uitgebot, dat die dertigjarige Faans geestelik nog maar 'n kind was. 'n Troue werkesel is hy, gelukkig in sy daaglikse doening, al sy verlangens gesus deur die egalige rammeldeuntjie van die ou meule en die vertroulike geselskap van sy ‘suster’ Leonore. Maar die buitengewone gebeurtenisse op Meulkloof laat ook Faans opskrik uit sy rustige dommel. Met die traagheid van 'n Sitman kom hy tot die aandoenlike besluit om sy deel van die maalgeldjies op te offer. Hy moet help om die plaas los te boer! En as hy eenmaal besluit het, sit die idee ‘soos 'n olienhoutstomp in potklei’. By Ampie is dit die kronkelinge van 'n naïewe grootheidswaan wat ons tref, maar hier is die eenvoudige liefdedaad soos die sussende trooswoordjie van 'n kind, wat sonder besef van die hopelose ouersmart, tog uit pure aanhanklikheid meely. Die dertigjarige kom tot 'n late geestesgroei. Hy begin homself rekenskap te gee van sy verhouding tot Leonore en tob in sy enigheid oor los praatjies wat hy opgevang het oor haar vryers. Die herhaalde besoeke van Louw begin hom te hinder. Maar dis veral die skinderpraatjies van Velbaadjie wat hom tot inkeer bring. Sy eerste gedagte is wraak. Dié astrante Hotnot wat dit gewaag het om 'n oordeel uit te spreek oor 'n witman, moet op sy plek gesit word. Maar die feit dat Koos Bester hom as 'n moontlike mededinger beskou, bring die erotiese kant van sy natuur, wat tot hiertoe nog gesluimer het, in aksie. ‘Dié middag by die ete het Faans met ander oë na Leonore gekyk’ (p. 57). Voorlopig egter is dit die bitterheid oor sy vermeende agteruitsetting deur Leonore wat sy gedagtes beheers. Hy is goed genoeg om haar skoene te versool, maar as die jongkêrels kom, moet hy padgee! In hierdie gemoedstemming begin hy half te glo aan Velbaadjie se praatjies dat hy ‘agteraf’ is en net vir sy kos en klere werk. Met die koms van Koos Bester word sy geprikkelde jaloesie opgesweep tot 'n koorshitte. Sy verstand, wat anders so traag werk, vat dadelik die betekenis van Velbaadjie se half sak koring. Dat hy nog die koring van Bester se parmantige handlanger en speurder moet maal, is darem te veel geverg! Die opgekropte haatgevoel van die laaste maande bars los, noudat hy eindelik 'n tasbare vyand het op wie hy hom kan wreek. Die afranseling van Velbaadjie is 'n veiligheidsklep. Maar die wrokgedagtes woeker voort in sy siel. Hy is magteloos in {==180==} {>>pagina-aanduiding<<} sy woede, omdat hy sy minderwaardigheid gevoel teenoor die verfynde aanvalsplanne van die listige vyande wat hom van Leonore wil beroof. Hy kan alleen steun op sy fisieke oormag. ‘As dit 'n vyand was wat hy met die vuis kan beveg, hy sou hom byloop met al sy mag, en nie ophou voor hy hom nie klaargemaak het, of voor hy self nie dood is nie’ (p. 64). Sy groeiende liefde vir Leonore, waarvan hy nog nie heeltemal bewus is nie, maak hom siende. Op die piekniek begin hy sy posisie beter te besef. Hy is maar net die ou pakesel, goed genoeg om die padkos teen die steiltes op te sjou, maar verder moet hy padgee! En sy verbittering vind uiting in die nors opmerking waarmee hy Koos Bester se slimpraatjies afkap. Dit streel sy gekrenkte eergevoel as hy Piet kan troef in die diskussie oor die ligging van die plase, en sy nydigheid oor die intimiteite tussen Leonore en Koos, wreek hy op die klippe wat hy van die berg afrol. Met die verjaarsmaal van tant Alie kry hy eindelik 'n kans om een van die gehate belaers van sy ‘suster’ neer te vel. Die wrokgedagtes, wat hy so lank getroetel het, prikkel hom tot 'n impulsiewe daad, waarvan sy vlak verstand die gevolge nie kan besef nie. Hy het geen ander middel van verweer nie as sy vuiste, en in 'n uitbarsting van dierlike woede pak hy Louw aan sy gorrel beet. Die primitiewe veginstink beheers hom. Sy erotiese gevoelens word nog aangewakker deur Gareopa se suksesvolle vrytaktiek, en in sy drome verskyn Leonore nou as ‘sy Engel wat hy aan sy hart wil vasdruk’ (p. 90). ‘Die liefdesbewussyn (het) in sy siel opgestaan soos 'n stormwind’. Onder Leonore se bestraffing vlam die veglus weer in hom op: ‘Ek is nie vir hom bang nie’. Maar hy voel tog die strieming van haar verwyt, ofskoon dit hom moeite kos om die moontlike gevolge van sy daad te besef. Noudat die mededingers van die vlakte af is, moet Faans sy slag slaan. Hy het lank genoeg sy engel op 'n afstand aanbid. Maar as hy die aand met die tonteldoekwedstryd 'n mooi kans het, ‘dwing sy hartslag om die bewerasie te kry’ en sy eerste aanvoorvraag is net so naïef soos die van Ampie: ‘Het jy die pannekoek gebak vanmiddag?’ (Ampie vra: ‘Voel jy sleg, Annekie?’ (p. 99). Leonore moedig hom aan deur haar skertsende opmerkings, en net soos Ampie, raak hy weg in grootmansvisioene. ‘Wragtie-waar, Leonore, ek sal vir jou wys - die meul en die boerdery - ek sal geld maak, wragtie-waar’ (p. 101). Hy merk wel dat Leonore 'n bietjie gekskeer, maar reken tog dat sy eerste probeerslag nie sonder sukses was nie. Vir die eerste maal het hy sy ‘skamerige agterhoudenheid’ oorwin. Sy geesteslewe kom tot 'n {==181==} {>>pagina-aanduiding<<} late bloei. Met 'n fyne ironie het Malherbe hierdie opsittoneel geteken. Leonore se vertrek na Kaapstad spoor Faans aan tot die hartstogtelike oorrompeling in die meule (p. 106). Sy liefdesverlange word nou so sterk dat die eentonige dreunmusiek van die meule hom nie meer bekoor nie. As so 'n skepsel soos Gareopa tog sy koppige meid kan oorwin, waarom sou hy dit dan nie regkry nie? Maar oom Tys se vaderlike teregwysing laat sy lugkastele omtuimel en soos 'n kind wat na 'n goeie pak slae beterskap belowe, stamel hy: ‘Ek sal dit.... nie weer doen nie.’ Hierdie belofte gee hy egter aan sy weldoener in 'n stemming van weke dankbaarheid, sonder dat hy enige begrip het van oom Tys se redenering. Dis 'n spontane opwelling van sy kinderlike aanhanklikheid, nie 'n verloëning van sy liefde nie, want Faans is een van dié nature wat maar eenmaal in die lewe liefkry. Nou begin die swart onweerswolke saam te pak oor Meulkloof. Betta word ernstig siek en sterf, Faans kry 'n hou met 'n knopkierie, die verband word opgesê. Faans se ongeluk bring toenadering tussen hom en Leonore, en hy vra haar ook om vergiffenis. Die ou werklus stoot weer in hom op en deur 'n eenvoudige logika oortuig hy homself, dat dit net deur sy haastigheid was, dat hy van Leonore vervreemd geraak het. Hy is nog vol hoop en sal net sy taktiek verander. Soos die ou meule dag na dag dieselfde ou liedjie sing, so maal ook Faans se gedagtes al om Leonore. Onder die lemoenboom kry hy eindelik weer 'n kans om van sy liefde te getuig. Die stamelwoordjies wat hy uitkry is die wanhopige kreet van 'n hunkerende siel: ‘Leonore, o jy moet vir my sê, ek kan nie langer wag nie, ek gaan dood so.... Verstaan, jy en die meul.... dis al wat ek voor leef....’ Hierdie swygsame onnosele het onder invloed van sy liefde eindelik uit sy deemoedige onbewustheid ontwaak tot 'n persoonlikheid, wat sy eie siel ken en die geheim van sy diepste wese in 'n roerende pleitrede openbaar. Baie eenvoudige siele soos Faans, vol van 'n hunkerende innigheid, gaan ook sku die lewe deur, sonder dat hulle ooit tot uiting kom. Onbewus van die sieleskoonheid wat daar in hul lewe, verstom hul meer en meer, totdat hulle geruisloos die groot stilte ingly. Maar Faans het die moed om na sy deeltjie geluk te strewe, en soos hy daar staan onder die lemoenboom met sy witgestuifde mosdoppie, ruis daar in die siel van die meulenaar die magtige lied van 'n groot liefde. As Leonore hom ontnugter, roep hy uit: ‘Hoe kan ek verder lewe?’ Toe hy verder nog hoor van die opsê van die verband en besef dat sy enigste ou trooster, die meule, 1) ook verlore is, pak hy in sy wanhoop al die skuld op homself en met die uitroep: ‘Dit moes maar 'n doodhou gewees het’ strompel hy na die meule toe. Met 'n koppige onversetlikheid klamp hy hom vas aan sy selfbeskuldiging. Die siel van die dertig- {==182==} {>>pagina-aanduiding<<} jarige kind het wakker geword uit 'n sluimerswaarte, dromerig die lewe ingestaar, geworstel om die skaduweebeeld van sy verlange te gryp, en toe weer die swaar ooglitte vergoed in die liggaamlike dood gesluit. Die lewenskiempie in Faans sou onder die gunstigste omstandighede kon ontbloei het tot 'n geringe mate van innerlike skoonheid. Maar 'n vroeë ryp laat die eerste tere uitspruitseltjies genadeloos verskrompel en deur sy aanleg, deur sy geringe geestelike ontwikkeling, mis hy die krag om 'n afgestote liefde tot innerlike lewe om te werk. Dat die moontlikheid tot 'n vollediger menssyn met een felle slag so onherroeplik afgesny word - dit is die weemoedige tragiek van Faans se lewe. Al wat daar nou vir hom oorbly is 'n troostelose plantebestaan. Soos 'n slaapwandelaar sal hy weer verder deur die lewe dwaal. ‘Daar ver in die onderveld met 'n paar stukkende velskoene in die doringveld en skape oppas.... en lewe sonder om te dink aan wat kom....’ (p. 199). Oom Tys se jammerhartige verklaring dring nie deur tot sy afgetobde brein nie en in botte wanhoop herhaal hy net: ‘Oom, dit moes maar 'n doodhou gewees het!’ Sy versmade liefde slaan oor in 'n skroeiende pyn, wat hom geestelik en liggaamlik verteer. Hy begin selfmoordgedagtes te koester. As die afskeidsmôre eindelik aanbreek styg die onkeerbare drang in hom op om nog eenmaal vir oulaas die stem van sy lewensmaat te hoor. ‘Nee, nog eenmaal moet die meul dreun, nog eenmaal!’ Op die trap oorval 'n duiseling hom en daar teen die klipmuur vind die slaapwandelaar die ewige slaap. En die dreungeraas van die ou meule wat hom soveel jare in sy geestelike sluimering getroos het, sus hom ook in die dood in. ‘Toe verstel Tys die skuif wat sy hand lang, lang jare nie aangeraak het nie. En toe staan die groot swart wiel stil daarbuite, en die stene en die ratte en die siwwe stil hierbinne, soos die meulenaar op die vloer’ (p. 201). Ons staan hier nie by 'n ‘treurige ongeluk’ nie, maar by die tragedie van 'n eenvoudige siel, wat na sy geringe vermoë geworstel het met die lewe, maar wat noodwendig moes ondergaan. Selfs sonder die aanduiding van die fisieke oorsaak van sy dood voel ons dat Faans se ondergang sielkundig onvermydelik is. Met dié mooi slot kon Malherbe tevrede gewees het. Wat hy op die hierbo gesiteerde sin laat volg bederf net die stemming, want die versugting oor die oplossing klink onverskillig in die mond van Tys, en kom alleen van die outeur. Met Faans het ons letterkunde nog 'n lewende mens ryker geword. Die ander persone word wel anekdoties en pittoresk behandel, maar die grondslag van hul sielelewe word nie ontbloot nie. Die besielde beweging ontbreek en die besonderhede oor hul innerlike gesteldheid word nie deur 'n lewende draad verbind nie. Dit is of die skrywer al sy liefde aan Faans gegee het en hom nie die tyd gegun het om hom in te leef in die {==183==} {>>pagina-aanduiding<<} ander karakters nie. Louw is die gewone romanskurk wat moet help om die oplossing te bewerkstellig. Leonore, met haar ‘hoë aspirasies’ is 'n swak replica van Bettie, en haar worsteling om haar ‘offer’ te bring is vir my net so onoortuigend as die van haar dubbelgangster. Die skrywer probeer wel om die ‘afgronde’ van haar smart te beskrywe, maar hy is nie in staat om haar gevoel uit te beeld nie (vgl. o.a. p. 174). En ten spyte van dié ‘afgronde’ twyfel ek aan die egtheid van Leonore se smart, omdat hierdie rebellerende meisiekind selfs by die sterfbed van haar moeder so besig is met haar musikale aspirasies, dat sy dit regkry om te tob oor die feit dat haar moeder juis ‘op hierdie tydstip’ moet sterwe (p. 103). Dieselfde gedagte spook nog knaend deur haar brein selfs as sy haar skik in haar lot: ‘En waarom moes dit juis nou gebeur?’ (p. 103.) Net so onoortuigend as die skildering van haar smart is ook die tekening van haar liefde, want die herhaalde ‘eendag’ met 'n paar.... is net 'n aanduiding van die skrywer se onmag. Ons kan alleen hoop dat Malherbe eendag daartoe sal kom om die botsing in 'n vrouehart met innige deurvoeling uit te beeld en intussen dankbaar aanneem wat hy ons in Faans gegee het. ‘Na die heuwels van my jeugland lok 'n stille stem my aan....’ sê Malherbe in 'n gedig wat aan die roman voorafgaan. Aan dié jeugherinneringe het ons die treffende skildering van die Bolandse wynplaas te danke. Soos hy in Vergeet Nie die Karo-landskap vir ons laat lewe het, so openbaar hy hom hier weer as die liefdevolle siener, wat al die skoonheid van die daaglikse plaasbedryf kan omvat met sy wye blik. Dit is 'n groot voorreg as 'n kunstenaar die werklike onderskeid van een landstreek teenoor 'n ander kan aanvoel. Meulkloof is nie 'n idilliese plaas in 'n vae niemandsland nie - dit kan net in die Boland lê. Die swaarmoedige eienaar mag wel arkadiese neigings hê en meer van sy koerant en koffie hou as van die gewone swoegwerk, maar die plaasvolk word met fors beeldende lyne geteken in hul daaglikse doening. Malherbe ontrol die hele plaasbedrywigheid voor ons soos dit wissel na gelang van jaargety, en met die fyn voelhorinkies van 'n wakkere observasie raak hy telkens skilderagtige besonderhede aan. By die mebosmaak krimp die meide se bruin vingers wit ‘van woel met die pappery’; om die voorstoep ‘dwaal 'n lêhoender lui-lui verby met sy bek wyd oopgerek of sy kakebeen uit lid is’; op die mos in die onderbalie drywe ‘perlemoenblase soos groot mensoë’ rond. 1) Tot die mooiste gedeeltes behoort die beskrywing van die wingerdspit (p. 144 vlg.) en die wedstryd tussen die astrante Velbaadjie en Korneels. Malherbe ken al die eienaardighede van die Kaapse Hottentot en het hul taal goed beluister. Hoor maar {==184==} {>>pagina-aanduiding<<} so 'n tergerige Velbaadjie: ‘Nee-a, nie bank spit nie! Toe dan, waar is jou murg nou?.... Vandag bars jou akker! Heeldag Jan du Toit se brood opeet, Jan du Toit se bokvleis klaarmaak, en dan nog bank spit! Toe dan nou, Korneels van Blerk, styf en sterk, gou by die bak, maar vrot by die werk!’ (p. 149.) Malherbe beskryf nie alleen die Hottentot nie - hy beeld hom ook uit in aksie. Ons hoor sy vleiery om 'n ekstra sopie te bemagtig, ons sien hom gebukkend staan tussen die brokkelende sooie by die wingerdspit, ons hoor die dowwe slae van die dissel in die ingewande van die hol stukvate. In die parstyd stap Korneels ‘met sy kort mostaai toiingbroekie tot in die watervoor waar hy sy gespierde kaal bolyf laat sak om sy geel seningbene te was waar rooi en groen druiwedoppe skilderagtig aan vasklou’ (p. 52). So sien Malherbe alles raak op die ou wynplaas, tot die blinkgeslypte gereedskap en die kwikstertjies wat tussen die sooie rondwei om erdwurms op te pik. En tussen die gewone bedrywigheid deur teken hy in lewendige toneeltjies die Hottentot met sy spoggerige aksies, sy bygeloof en sorgelose vrolikheid, sy eienaardige vry-metodes en inkruiperige vleiery. Ek weet van geen ander Hottentot wat so springlewendig deur 'n roman bokspring nie as die parmantige Velbaadjie. Dat Malherbe in sy roman gebruik gemaak het van bekende letterkundige motiewe, reminisensies wat hier en daar uit sy onderbewussyn opgedoem het, dit is seker, al ontken die skrywer dit met klem. Onder die lees moes ek partymaal dink aan toneeltjies uit Ampie en The Mill on the Floss, terwyl dr. S.J. du Toit die roman beskou as 'n gelukkige, maar bewuste adaptasie van Notre Dame de Paris. 1) Du Toit se mening is stellig onjuis, want ten spyte van alle ooreenkomste, is Malherbe se roman onteenseglik sy eie skepping. Die klank van die boek is eg, die uitbeelding van Faans se karakter is deurleef en die milieuskildering kom soos die skrywer sê: ‘Uit die groen veld van my jeugland uit herinnering se wei....’ Ooreenkomste, omwerkings van bekende motiewe, selfs adaptasies kan ons by die beroemdste letterkundige werke aanwys; as die kunstenaar maar daarin slaag om sy stof te besiel, as hy ons ontroer deur die waaragtigheid van sy sielsaksent, dan kan hy sy motiewe uit alle windstreke versamel om daaruit nuwe skoonheid te skep, sonder dat hy die waarde van sy werk verminder. In Malherbe se roman is daar vir my niks wat na bewuste navolging lyk nie. In vergelyking met Vergeet Nie is daar 'n aanmerklike styging in sy kuns waar te neem. Hy beheers die romantegniek veel beter en sy karaktertekening het veel inniger geword - altans wat die hooffiguur betref. {==185==} {>>pagina-aanduiding<<} Hans-die-Skipper (1929). In die hooffiguur van hierdie roman leef onverswak voort een van die eienskappe van die Hollandse volk, wat ons tans maar selde aantref by sy Afrikaanse afstammelinge, naamlik die liefde vir die see. Hans is nie sommer 'n gewone visser, wat terwille van wins sy bedryf uitoefen nie. Afstammeling van 'n seekaptein wat tweemaal om die wêreld geseil het en seun van 'n vername noordkapper-jagter was hy. En deur 'n tyd troetel hy die tradisie van sy seemansadel, kniel hy in aanbidding voor die portret van die seekaptein, ‘met sy windmaker mondering’. Ekonomiese toestande het egter van Hans gemaak 'n eenvoudige visser op 'n stranddorpie, 'n ou sukkelaar wat skaars genoeg uit die see kan haal om sy huisgesin aan die lewe te hou. Maar Hans is 'n digterlike dromer, wat hom nouliks bekommer oor alledaagse moeilikheidjies. Die wye see is sy gebied; op die land slaap en eet hy, op die see alleen leef hy. ‘Daar is nie 'n heerliker werk nie.... Om so digby die hart van die see te lewe, om sy senuwee te voel as die skuit op die branders bewe, om sy stem te ken en te weet waar hy sy skatte bêre, om die roer te swaai dat die skuit in die skuinste hang van lekker-loop....’ Hierdie liefde vir die see is by Hans 'n verterende hartstog. As hy in die ou tyd gelewe het, sou hy saam met die waaghalsigste ontdekkers oor onbekende oseane rondgeswalk het. Maar op die ou stranddorpie kan hy net droom oor 'n nuwe skuit waarmee hy hoop om 'n paar ekstra shillings te verdien. Diep in sy hart koester hy die ideaal dat Johan, sy enigste seun, die tradisies van 'n roemryke seemansgeslag sal handhaaf. Gedeeltelik word hierdie wens vervul as vader en seun vir die eerste maal uitvaar op die nuwe skuit, deur Meester se vrygewigheid gekoop. Maar na hierdie hoogtepunt van geluk word Hans plotseling neergesmak in die afgronde van die wanhoop. By Johan, wat sy vader 'n tydlank half onwillig gehelp het, ontkiem daar langsamerhand 'n sterk afkeer van die see. Hoe hy ook al probeer, hy kan nie opgaan in die fantastiese visioene van sy vader nie, wat telkens nuwe moontlikhede in die vissersbedryf sien en in vervoering raak oor die heerlik-vrye lewe op die golwe. Hy vind 'n willige bondgenoot in sy moeder, arme versukkelde Trynie, wat deur 'n lewe van swaarkry en gedurige angs oor die veiligheid van haar man maar alte goed weet hoe weinig winsgewend en gevaarlik die vissersbedryf is. Die botsing tussen vader en seun word met fyn sielkundige insig geteken en kulmineer in 'n heftige rusie van sterk-dramatiese spanning. Johan se begeerte na selfstandigheid word aangewakker deur sy liefde vir Nelie, en gedurig geprikkel deur die skimpe van sy aartsvyand, Rooi-Koos. Hy wil die wye wêreld in om 'n onafhanklike bestaan te verower; sy jong lewe mag nie in die ou vissersdorpie uitdroë ‘soos die {==186==} {>>pagina-aanduiding<<} snoeklywe onder die afdak nie’. Bitter is die stryd wat Johan moet voer tussen die kinderlike liefde wat dit vir hom onmoontlik maak om sy vader se ideaal meteens te verpletter en sy eie steeds sterker wordende lewensdrang, wat hom prikkel tot koppige verset. In die vaal-eentonige reëndae, wat hom vaskeer in die armoedige vissershut, groei sy wrok teen die vissersbedryf, wat niks anders as leeglêery of skrale wins kan bring nie. Die werklus prikkel elke spier in sy liggaam, en hier moet hy geduldig en gedwee op mooi weer sit en wag! Met moederlike tak slaag Trynie daarin om hom vertrouelik te laat gesels oor sy toekomsplanne, wat langsamerhand vaste vorm begin te kry. Maar dan kom Hans binne. Soos gewoonlik is sy kop vol grootse planne vir die toekoms, en selfs ernstige moeilikhede met die vissersvolk kan sy optimisme nie blus nie. Hy sal alle moeilikhede oorwin, ook die verbygaande onwilligheid van Johan. As die nuwe skuit aankom, raak hy weg in ekstatiese visioene. Die kind van die see het eindelik die speelgoed van sy liefste droom bemagtig. ‘So 'n seeperd hê, dit lyk of hy nou-nou die branders wil sny’, juig dit in sy siel. En daar op die strand doop hy die skuit Johan, want sy twintigjarige seun sou hom mos help om die ou seemanstradisie in volle glorie te laat herleef. Alte spoedig maar word hierdie lewenslang gekoesterde illusie wreed verstoor. Hans, wat die hart van die see so goed ken, het die hart van sy seun maar sleg begryp. Johan beleef 'n ernstige krisis, maar as laaste offerande van sy kinderlike liefde onderdruk hy sy afkeer van die see en gaan saam op die eerste vaart. ‘Hans-die-Skipper se wens was werklikheid. Sy siel was in die hemel. Hy was nie meer Hans-die-Skipper nie, nie meer op die see nie, maar die deining self, 'n stuk van die see self.’ In hierdie opgetoë stemming is hy minder versigtig as gewoonlik en alleen met 'n uiterste kragsinspanning kan hy die nuwe skuit deur 'n geweldige storm veilig aan wal bring. Dieselfde storm maak ook 'n end aan Johan se weifeling: ‘Hy het my uitgesmyt, die storm, en ek is nou vir altyd 'n landdier’. In die volle besef van sy ontluikende manlikheid deel Johan sy vader mee: ‘Ek haat die see!’ Wanhopig veg die ou geharde seeman om die besit van sy droombeeld, wat so ná aan verwesenliking gelyk het. Roerend is die klag van sy gebroke vaderhart as hy snik oor sy verlore ideaal. Hy pleit en redeneer met die halsstarrige seun, wat nou so skielik 'n vasberade man geword het. Maar uiteindelik oormeester sy drif hom en in 'n vlaag van woede jaag hy Johan die kamer uit met 'n viskierie. Hans, wat soos 'n sorglose kind deur die lewe gedwaal het, wat nooit iets anders as die ruisende lokstem van die ewige see gehoor het nie, staan nou hulpeloos teenoor die lewe. 'n Tydlank mag hy hom nog ver- {==187==} {>>pagina-aanduiding<<} hard in sy sterke seemanstrots, maar as dit blyk dat die verlore seun gelukkig is in sy nuwe werkkring, dan voel Hans dat die enigste stut van sy lewe weggeslaan is. Nou word hy gewoonweg Hans-die-Visser, of sommer Hans. Selfs die see spot met sy onvervulde ideaal. By sy vrou vind hy geen simpatie nie en sy ervarenste helper, Willem, verlaat hom ook op hierdie kritieke tydstip. So word hierdie yster-sterke seeman 'n willige prooi van die swakhede van die ouderdom. Die tintelende arbeidsgenot prikkel sy senuwees nie meer nie, want in die donkerte van sy treurende vaderhart het die groot stilte binnegetree. As die verwoestende griep die vissersdorpie bereik kom Hans se skuitjie ook vir goed terug ‘na die stil donker land’ waar hy gebêre word. Nie voordat hy egter op sy sterfbed nogeens gegryp het na die verlore ideaal nie. Want as Johan sy sterwende vader kom besoek, verkeer Hans in die salige waan dat hy nou weer visser wil word. Die sterftoneel is van 'n aangrypende tederheid. Die tragiek van hierdie eenvoudige visserslewe het Malherbe met waaragtige gevoel en diepe lewenswysheid geteken. In die uitbeelding van Hans kon die digter ook sy eie hunkering na ‘die woelende perlemoerveld van die see’ uitleef, met die gevolg dat ons in die skipper se bedrywigheid dikwels die praktiese raakvat van die man van aksie mis en in die plek daarvan vind die mooi-gestileerde, digterlike oorpeinsings van die skrywer self. Dis moeilik om hierdie mening met bewyse te staaf, want ek konstateer hier 'n totaalindruk. Malherbe het sonder twyfel 'n uitgebreide studie gemaak van die praktiese kant van die vissersbedryf, maar telkens as ek die beskrywende en analiserende gedeeltes herlees sien ek agter die gestalte van Hans-die-Skipper oprys die peinsende digter, wat my, in 'n stem trillende van liriese bewoënheid, wil beduie hoe lief hy die see het. Dis bes moontlik dat 'n digterlike visser soos Hans as volg kan praat: ‘Kyk Meester,.... daar anderkant waar die groot brander se rug donker maak, daar begin die tweede weibank. En Meester het seker opgelet dat die see heeldag blou was tot hier voor, nêrens 'n groen streep nie.... Môre op die tweede weibank silwervis volop en ook rooistompneus, môre! Jy kan nooit dink nie, as die blou ferweel hier voor teen die rotse blink...’ (p. 20). Tussen hierdie nugtere aanduidings in tipiese visserstaal doen die gekursiveerde sinsnedes vreemd aan. Stam hulle nie uit die digterlike bewussyn van die skrywer self nie? Hans leef egter ‘digby die hart van die see’; hy het die grootste veragting vir ‘doodgewone strandlopers wat net na die see kyk, wat hom nie regtig liefhet nie en ook nooit sy hartklop hoor nie - daar ver in die diepte, waar die walle van water met jou praat van groot dinge....’ (p. 103). Maar selfs as ons rekening hou met die digterlike aanleg van Hans en die geheimsinnige motief (die vrou {==188==} {>>pagina-aanduiding<<} op die rots) wat die skrywer deur sy karakter gevleg het, dan wil die gedagte my tog nie loslaat, dat Hans meestal die see deur Malherbe se oë sien nie. In 'n gesprek met die Hotnot Willem oor die Sofia kry ons b.v. onverwags die volgende opmerking: ‘Hans-die-Skipper se blou oë het groot gerek van opgewondenheid. Weer was hy op die toppelende wildigheid van deiningwalle geruisloos voortskuiwend oor ongemete dieptes.... (p. 152). Dat Malherbe eenvoudig sy eie diepgevoelde ontroering oor die skoonheid van die see in die plek van dié van Hans stel, blyk nog duideliker uit Hans se droom op die duinsand na die vergeefse besoek aan ou Samuel (p. 162). Die skipper raak hier glad vergete en dis met Malherbe se skuit wat ons ‘bly hang en gly langes geweldige blou-groen walle van ongelooflike deining, verlore tussen groeiende hoogtes van waterwildernis....’ Die liriese aandrang van hierdie skrywer is so sterk dat hy hom nie rustig kan inleef in die gedagtewêreld van sy karakters nie. Onbewus vertolk hy deurgaans sy eie stemminge, laat hy hom willoos voortwieg op die stroom van sy eie gevoel. As Johan in 'n isegrimmige bui ongeduldig hom afvra: ‘Sou sy jong lewe dan hier moet verdroë soos die snoeklywe onder die afdak?’ dan voel ons meteens hoe suiwer die rebelse gesindheid van die jong seun met so'n enkele sinnetjie aangedui word. Maar onmiddellik daarna dink Malherbe self verder vir die seun en wil hy ons wysmaak dat Johan se hoorbaar gedroomde monoloog as volg lui: ‘Sou sy prikkelende werklus en lewenskrag, wat van hom 'n man wil maak op 'n ander arbeidsveld.... sou hy met sy groot vertroue in wat hy kan en wil, in die sukkel-lewe van vissersverdriet moet kwyn....’ Ook in die dialoog hoor ek kort-kort die Malherbiaanse aksent. Johan vertel b.v. in ritmiese volsinne hoe hy ‘walg van die armsalige gepeuter, waar die dag g'n genot gee nie en sy siel doodgaan.’ (p. 169.) Trynie gaan by die venster sit om uie te snipper. Nou sou 'n mens verwag dat hierdie eenvoudige vissersvrou in haar siening van die see iets individueels sou openbaar. Maar let op hoe die skrywer kalmweg sy eie visie in die plek daarvan skuiwe: ‘As sy haar oë opslaan by die venster uit, dan was die see triesterig van 'n vaal rumoerigheid, met die noordewind se wilde gehuil, met die noordewind se buierige brutaalheid daarop - en agter op die horison dreigende donkerheid van wolkwoestyn.’ (p. 164.) Dis nie net Hans wat digterlik aangelê is nie, maar ook Trynie en Johan. Dis 'n heel digterlike familie, wat praat en dink in die mooibeeldende taal van.... Malherbe. Daar is weinig variasie in die wyse waarop die skrywer die lewe van sy karakters ondergaan; almal is tipes van eenselfde menslikheid. Dit blyk ook uit die simpatieke figuur van Meester, wat die ganse {==189==} {>>pagina-aanduiding<<} skat van sy teleurgestelde liefde uitstort oor die bewoners van die vissersdorpie. Geen hut is vir hom te nederig nie en aan almal deel hy die trooswoorde van sy rype lewenswysheid mee. Alleen hyself vind geen troos nie.... totdat die vrou van sy jeugdige liefde terugkeer. Ek het die grootste bewondering vir die sobere krag waarmee die verheffende invloed van hierdie eensame werker geteken is. Maar wat is hy anders as 'n dubbelganger van die skrywer, wat die nodige kommentaar lewer op die bedrywighede van die vissers? Hy groei nie tot 'n sterk omlynde persoonlikheid nie en in sy ontleding van die probleme van die vissers hoor ek steeds die weerklank van die skrywer se stem. Ook Meester het ‘'n poëtiese siel’, wat die skoonheid van die see alleen in die taal van Malherbe kan vertolk. Gelukkiger is die skrywer gewees in die uitbeelding van sommige byfigure. Nelie het ten spyte van Meester se pogings om haar verder te laat leer geen ‘hoë aspirasies’ nie; sy is 'n meisie van vleis en bloed. Die ontluiking van haar liefde vir Johan en haar instinktiewe afkeer van die woeste Rooi-Koos beleef ons in enige dramatiese tonele. Nelie is dit wat aan albei seuns se lewe vaste koers gee. Johan se beste eienskappe ontwikkel deur haar inspirerende liefde en die onstuimige hartstogtelikheid van Rooi-Koos word veredel tot deemoedige bewondering. Ook die jaloesie tussen die twee seuns en die wyse waarop hulle Nelie geskenke aanbied word voortreflik geteken. Malherbe het egter slegs gedeeltelik daarin geslaag om mense te skep wat hul eie lewe lei en vanuit hul binneste wese alles deurskou. Hy het die tragiek van die botsing tussen vader en seun, die vreugde en verdriet van die mense op die vissersdorpie met sy tedere genegenheid en innigste gedagtes bekoester. Ook is dit hom geluk om aan party dramatiese momente van sy verhaal oortuigend gestalte te gee. Maar om die mense met hul omgewing te laat saamsmelt en só te dramatiseer dat ons een algemene visie op vissers en see kry, dat ons die hele handeling as eenheid-van-gebeure ondergaan - daarvoor is die gesketste werklikheid met te veel subjektiewe beskouings deurwewe. Met ekstatiese opgetoënheid getuig Malherbe van sy liefde vir die see. Ritme is daar en klank, vloeiende melodiek en plastiese rykheid as hy die stem van die see vertolk. Op die skrywer self is van toepassing wat hy van Meester sê: ‘Gretig het sy siel gedrink van die oormagtige stemgeruis van die see, en saam met die soutdamp wat al voor hom uit wasig-wit opstuiwe tot teen bos-bekroonde duinheuwels bo, het die aandgesang van die see stemmingdieptes in sy binneste ontroer totdat dit meegeruis het met die sterwende branders teen die sand en meegedreun het met die klankgeweld van die oseaan, stemminge swaar en ryk van inhoud, maar onpeilbaar, half skrynende verlange, half jubelende geluk.’ Daar is stukke prosa in hierdie roman voortreflik van sonoriteit, ryk {==190==} {>>pagina-aanduiding<<} van beeldende krag, blyverrassend deur oorspronklike metafoor! Steeds word die digter se aandag vasgehou deur ‘die lang lyn van vervarelike branding, die spel van ewige selfvernietiging en ewig-onvermoeide heropstanding’, steeds jubel sy hart oor die wisselende kleurespel in ‘die perlemoenpaleis van die see’, steeds luister hy gespanne na die singende golfruisings. 'n Enkele keer is daar wel 'n pronkerige swierigheid in sy styl, of bederf hy die ritmiese effek deur elke nuwe sin met 'n eentonige en-en-en te laat begin. (Vgl. vir laasgenoemde b.v. p. 63-64, 234 vlg.). Maar Malherbe het tog sonder enige twyfel deur sy hoogstygende siening ons brokstukke gegee van 'n prosagedig oor die see, trillend van ritmiese bewoënheid en magistraal van skone woordbou. Loutervure (1931) 1). Hendrik, die seun van Piet Vaalplaas, keer, nadat hy sy studie in die regte in Holland voltooi het, na Suid-Afrika terug en vestig hom as prokureur op 'n plattelandse dorp, waar hy in vennootskap tree met 'n verengelste Afrikaner, Myburg. Vol jeugdige geesdrif werp hy hom dadelik in die kultuurstryd en bereik in samewerking met die dominee groot resultate. In sy kantoorwerk en in die hof handhaaf hy en kom daardeur in botsing met sy vennoot en die magistraat wat hom met vaderlike neerbuigendheid vermaan. Op 'n dinee in die klub reken hy gedug af met hierdie twee teenstanders, wat hy verpletter onder die mokerhoue van sy logika. Hierdie gedeelte van die roman bevat 'n mooi skildering van die kultuurstryd, wat nog lang nie volstry is nie, omdat soveel honderde Afrikaanse prokureurs nog steeds redeneer soos die veragtelike Myburg, wat daar lewensgroot voor ons staan met sy bangerige papbroekigheid en onderdanige inkruipery. Maar, trots sy sukses as kultuurleier, voel Hendrik tog dat hy losgeraak het van sy volk, omdat hy die kinderlike geloof van sy jeug verloor het deur sy buitelandse studie. Hy word ‘'n eensame, 'n apartheid op homself’ en ‘kan dit nie regkry dat die mense alles aanneem vir waarheid sonder om te ondersoek nie....’ Hy kan baie mooi redeneer oor godsdienstige sake, maar hy het afgeleer om te bid. Die hoofmotief in die roman is om aan te toon hoe Hendrik uiteindelik terugkeer tot die ou paaie nadat hy gegaan het deur vure wat louter. Twee skokkende gebeurtenisse veral laat die fondamente van sy lewensbeskouing wankel. Sy vader, wat algemeen geëerd was onder die boere, het hom skuldig gemaak aan brandstigting om Hendrik se studieskuld te betaal. Piet Vaalplaas word letterlik ‘deur sy geheim verteer’ en sterf as gevolg van kwellende gewetenswroeging. Hendrik ry sy seuntjie {==191==} {>>pagina-aanduiding<<} onderstebo met sy motor en beseer die kindjie so ernstig dat hy kort na die ongeluk beswyk. Van belang is ook die stille invloed van Hendrik se jong vroutjie, Hester, wat met die dominee 'n geheime verbond sluit om haar man se siel te red. Die manier waarop hierdie bondgenootskap gesluit word is egter onoortuigend. Is dit waarskynlik dat 'n jong vroutjie, nog in die eerste ekstase van haar huweliksgeluk, haar geheime vermoedens sal openbaar aan 'n derde persoon? Die toneel waar die jong dominee die neerslagtige Hester vertroos deur sy arm ‘vir een enkele huiwerende sekonde.... om haar jong, warm lyf’ te laat gly en sy hom versoek om haar man by die klub te gaan soek is onsuiwer van beelding. Nog meer onoortuigend is Hendrik se retoriese smartkrete as hy staan by die lyk van sy kind (p. 194). En die moeder? Sy verklaar kalmweg dat haar eersteling moes sterwe om Hendrik se siel te red. 'n Halfuur later vra sy weer ewe kalm: ‘Is jy nuuskierig om te weet wat van die saak geword het, Hendrik?’ (Tydens sy kind se worsteling met die dood moes hy in 'n baie belangrike moordsaak optree.) By hierdie hoogtepunt van die verhaal het Malherbe se uitbeeldingsvermoë jammerlik gefaal. Hoofsaak by hom was die motivering van Hendrik se bekering, maar om dit te bereik moes hy die onware sterfbedtoneel bedink. Suiwerder van uitbeelding is die stryd in Piet Vaalplaas se gemoed, Hendrik se worsteling met godsdienstige twyfel en die eenvoudige hondetrou van die bywoner, Niek. ‘Die waghond van Vaalplaas’ het 'n onuitputlike werkywer en vind sy hoogste vreugde in die arbeid. Maar Niek se siel is ook beswaard deur die geheim van die brand en sy konsertina word weggebêre. As Piet Vaalplaas hom wil weghê van die plaas, omdat hy hom herinner aan sy bedrog, dan weier hy eenvoudig om te gaan. Die eenvoudige aanhanklikheid van hierdie troue siel is treffend en waar van tekening. En hoe duidelik staan sy vrou Bet ook nie voor ons nie as sy al die onheile wat Vaalplaas tref toeskryf aan die twee skoorstene van neef Piet se nuwe woning: ‘Sien, nig Miem, dis wat ek sê, 'n huis met twee skoorstene...., dit is nie 'n ding vir ons hier langes nie....’ Hierdie roman het uitstekende kwaliteite en is kerngesond van strekking. Dit beklemtoon die feit dat kultuuropbou sonder godsdiens as fondament waardeloos is, en gee 'n diepgaande ontleding van die stryd tussen kinderlike geloof en geleerde twyfel. Die Hart van Moab (1933). Tussen Moabiete en Hebreërs het daar 'n eeu-oue vete bestaan. Met wisselende sukses het hulle mekaar bekamp, totdat die Hebreërs die groot Moabitiese koning, Eglon, op verraderlike wyse vermoor en sy heirmagte 'n beslissende neerlaag toegedien het by die vere van die {==192==} {>>pagina-aanduiding<<} Jordaan. (vgl. Rigters 3.) Langsaam egter het die gekneusde doringboompie hom weer opgerig. Azkar, 'n reusagtige Enakiet, word die draer van die nasionale wraakgedagte. Hierdie trotse heersersfiguur weier om sy rug te krom voor die gehate Hebreërs, en deur sy aansteeklike geesdrif slaag hy daarin om al die kragte van sy nasie te mobiliseer teen die erfvyand. Die herstel van sy verdrukte volk brand in hom soos 'n verterende vuur. In sy hart hoor hy ‘die onverwoesbare hartklop van Moab’, en op sy ‘breedgeheupte swart perd’ besoek hy gedurig al die strategiese punte van sy land om die jong manne deur sy begeesterende woord tot verset aan te spoor. So word Azkar die verpersoonliking van die beste eienskappe van die Moabitiese volk, die ongekroonde koning en beminde volksheld, op wie se wenk 'n eendragtige volk, ten volle bewus van sy nasionale roeping, die juk van diensbaarheid sal afwerp. Met die vèrsiende blik van die gebore volksleier het hy sy veldtog jarelank tot in die fynste besonderhede georganiseer. Die nasiebewustheid is aangewakker deur woeste godsdiensfeeste ter ere van die stamgod Kamos; wapentuig lê hoog opgestapel in die grot van die oorlogsmid Aljarim, en die jong manne is deur jarelange oefening en gereelde wapenskouings gebrei vir die stryd, wat nou elke oomblik kan ontbrand. Azkar se grootse visioene van nasionale oorwinning en welvaart word egter wreed verstoor deur die afvalligheid van die skone Ruth, dogter van die Moabitiese koning Eglon. Hy het haar innig lief en wil haar as koningin aan sy syde laat heers oor die herbore Moab. Maar die groot volksheld, wat duisende woeste krygsliede met nasionale trots besiel het, pleit en soebat tevergeefs by Ruth. Op al sy patriotiese pleitredes en liefdebetuigings het sy net een antwoord: ‘Jehowa roep my.’ Onder die invloed van Naomi het sy die ware God leer ken, en só afkerig geword van die heidense afgodediens dat sy 'n armoedige en onsekere bestaan in 'n vreemde land verkies het bo die hoogste eer in haar eie land. Haar liefde vir Azkar en sy verleidelike smeekbee: ‘Bly hier en leer jou nasie wysheid’ laat haar wel enigsins weifel, maar sy bly tog rotsvas staan in haar heilige oortuiging. Met die vertrek van Ruth begin in Azkar die ontredderingsproses, wat op die vooraand van die groot worstelstryd sal uitloop op 'n tragedie. ‘Ruth, Ruth! kreun dit diep-in. Wat help hom die verering van 'n nasie, as hy Ruth nie het nie, haar skoonheid en wysheid, as sy siel kwyn hierbinne?’ (p. 60.) Aanvanklik egter, probeer hy om die onrus van sy siel te smoor deur verdubbelde nasie-arbeid. Hy besoek die bergspelonk van Aljarim waar hy die smartverlede van sy nasie herdenk en nuwe inspirasie put uit die opgestapelde oorlogstuig. By die krygsoefeninge van die boogskutters is hy weer die besielende leier, ten volle bewus van sy gewyde roeping. {==193==} {>>pagina-aanduiding<<} Maar sy innerlike onrus dryf hom voort na Ahura, die wyse profetes, en sy eie vertolking van haar geheimsinnige orakeltaal laat hom die terugwinning van Ruth nie alleen beskou as 'n persoonlike triomf nie, maar ook as ‘bevrediging van 'n nasionale hartstog.’ (p. 70.) ‘Azkar is Moab’ het die wraaksugtige boogskutters in ekstatiese vervoering geskree, maar hierbinne in hom dreun dit: Rut is Moab! ‘Want Ruth in die vreemde, dit was soos 'n stuk nasionale trots uitgesny en oorgelewer aan die mishandeling van die vyand - 'n bloedende hart het agtergebly in die land van Moab.’ (p. 70.) Hy besluit om na die land van die Hebreërs te gaan om Ruth met sy liefde terug te win en om die sterkte van die vyand te verken. Op die koringvelde van Boaz word die konflik tussen Jehova en Kamos uitgestry om te eindig in 'n tragedie vir Azkar. Want die skone Ruth sou die stammoeder word van die koningshuis van Dawid. Smaad en hoon moet Azkar ondervind op die bruilof van Boaz en Ruth. Tevergeefs trag Ruth sy stygende verbittering te besweer deur hom te wys op die gedugte arm van die straffende Jehova: ‘Ek kan net ween om Moab omdat hy van God verlate is’ (p. 208). Hierdie teenslag sal Azkar se wraakoefening des te vreesliker maak. By sy terugkeer word die ganse Moab gemobiliseer vir die groot stryd teen die Hebreërs. Alle weerbare manne word getel en die hoofmanne hou krygsraad. Temidde van die oorlogsbedrywigheid is Azkar weer gelukkig: ‘Die vreugdetrots wat uitstraal van sy gesig was aansteeklik, die hovaardigheid van sy ongebroke wil was besielend.... G'n berg was te hoog of vesting te sterk vir sy bloed-eisende wraakwil.’ (p. 228.) Nadat die oes ingesamel is sal die dag van afrekening kom. Maar in hierdie periode van afwagting begin die anders so sterke held wankelmoedig te word. Diep in sy hart leef nog die hunkering na Ruth, en hy het behoefte aan haar inspirasie. 'n Voorgevoel van naderende onheil bekruip hom. Nog voor hy die sein vir die verenigde aanval op die Hebreërs kan gee, word 'n groot gedeelte van sy land oorrompel deur plunderende woestynhordes. Twee van sy vernaamste hoofmanne Amri en Siglam kry rusie oor 'n vrou, en Ahura, die profetes spring van die rotse af met die noodkreet: Wee Moab! In 'n skermutseling met die woestynbendes word Azkar dodelik gewond; langs hom sneuwel Amri - albei ongevalle te wyte aan Siglam se verraad. In sy doodsbenoudheid sien Azkar die optog van sy magtige leërskare en met sy laaste asemstote gee hy die sein vir die aanval op die Hebreërs. ‘Maar voor die druisende aanstorming staan Ruth, groots, afwerend, waarskuwend. {==194==} {>>pagina-aanduiding<<} Ruth, skone Ruth! fluister Azkar.’ (p. 252.) Die liefde vir die afvallige Ruth het in hierdie magtige volksheld 'n innerlike tweespalt teweeggebring wat hom in die beslissende ure van die groot nasiestryd tot 'n wankelmoedige weifelaar gemaak het. Azkar was nie meer Moab nie, Azkar was Ruth. Deur die ontrou van 'n hoofman verdwyn die groot driemanskap van die toneel op die vooraand van die worsteling met die Hebreërs. Wel mag die volk roep: Wee, wee, Moab! Wee, wee! Maar die tragiese ondergang van die gevierde volksheld en sy twee vernaamste hoofmanne beteken volstrek nie die terugsinking van die Moabiete in 'n toestand van knegskap nie. Om die boodskap van die roman goed te begryp moet ons veral let op die aanhaling voor die titelblad: ‘Zou een volk kunnen geboren worden op eene eenige reize? Jes. 66:8.’ Azkar het sy taak goed volbring; hy het die Moabiete nasiebewus gemaak, en hul vaderlandsliefde tot 'n brandende koorsgloed aangewakker. Al verdwyn hy van die toneel, en al word die vryheidsoorlog vertraag deur die onverwagte inval uit die woestyn, vroeër of later moet die stryd teen die Hebreërs losbars. Malherbe teken slegs een fase van die Moabitiese evolusie tot onafhanklike volk, en hy het daarby ongetwyfeld aan die ontwikkeling van sy eie volk gedink. Ook by ons lê agter die rug ‘jare van sorgsame arbeid, van trots-aankweking by die jeug dat hul opgroeiend van eiewaarde en nasieliefde vervul word.’ Afrikaanse Aljarims het ook met seningarms swaarde gesmee vir die stryd om nasiebehoud, en die slagvaardige jeug van Suid-Afrika sal sekerlik nie gedoog dat die hele nasieplan verydel word deur wankelmoedige leiers nie. Beskou ons die boodskap van die skrywer in hierdie lig, dan hoor ons daarin die dreunende hartklop van Suid-Afrika. Dis die besielende strydkreet van 'n digterlike siener wat sy volk oproep tot die groot worstelstryd om nasionale selfstandigheid wat nog voorlê. Met uitsondering van enkele wysiginge het Malherbe die hooffeite onveranderd uit die Bybel oorgeneem. Maar die sobere en saaklike gegewens het in sy digterlike verbeelding uitgegroei tot 'n epiese herskepping van die Ruth-geskiedenis. Ons het hier dus te doen, nie met 'n blote oorvertelling van die Bybelse verhaal nie, maar met 'n kunstenaarsverbeelding na aanleiding van 'n gegewe tema. Omdat Ruth die Moabitiese volksheld liefhet word haar vertrek uit haar vaderland tot 'n episode vol dramatiese spanning. In afwyking van die Bybelverhaal is sy in die roman nie 'n gewone Moabitiese nie, maar 'n dogter van koning Eglon. Die keuse waarvoor sy staan is: ‘'n diensmaag in die vreemde of 'n vorstin in haar eie land.’ Ruth maak 'n bange stryd deur en as sy vir die tweede maal moet kies tussen Jehova en Kamos, dan trek sy haar {==195==} {>>pagina-aanduiding<<} terug in die eensaamheid tussen steile rotsgevaartes om te luister na die goddelike stem. Soos Querido se Simson is sy 'n Godgewyde. ‘By die barre steenrotse het Jehowa haar noodgeroep gehoor en aan haar verbygegaan’ (p. 193). Diep is sy haar bewus van haar heilige roeping. Maar sy ken dae van bange weifeling, en dis alleen in Jehova se krag dat sy haar vroulike trots kan oorwin op die nagtelike tog na Boaz se dorsvloer. In die uitbeelding van die Ruth-gestalte het Malherbe 'n besondere skoonheid bereik. Nooit vervlak die stryd in haar gemoed tot die banaliteit van 'n sentimentele amourette nie, maar steeds word die liefdesverhaal opgestoot in die sfeer van 'n verhewe epiek. In sy ander werk het Malherbe trouens al getoon dat hy 'n ras-skrywer van digterlike prosa is. In hierdie roman skilder hy met 'n weelderige oordaad van statig voortbewegende sinne. Die koringsny-wedstryd waar Azkar en Jethar, blind van jaloesie en afguns, hul kragte meet onder die oë van Ruth word deur die geweldige plastiek tot 'n gigantiese worsteling, begelei deur snerpende uittartings en skimptaal. In die magtige kragsinspanning van die koninklike koringsnyer voel ons die uitstraling van 'n heftige nasieliefde, wat die skone Ruth wil terugwin, maar ook die triomfkreet van die verdrukte wat eindelik sy vyand onder die voet vermorsel. Ofskoon Malherbe seker nooit in Palestina was nie, laat hy ons die vrugbare valleie en heuwelkamme sien; die wuiwende koringvelde word deur 'n verskroeiende son geblaker, en die gebulk en geloei van groot kuddes klink in ons ore; in 'n donker grot tussen ‘onbereikbare rooibruin ravynrotse’ woon Ahura. Dan bring Malherbe ons weer op die vollemaansfees van Kamos, waar feesdronke menigtes in dolle uitgelatenheid rondwoel en ‘slanklywige Moabietiese dogters groepe begerende manne met danskunstige vertoning begogel’ (p. 57 - Vgl. ook die mooi beskrywing van Hadath se danskuns op p. 80). So trek die ganse landskap met sy bewoners voor ons oog verby. Hoe innig moet die skrywer hom nie ingeleef het in die mentaliteit en verbeeldingswêreld van hierdie primitiewe mense nie, voordat hy dit kon bereik. Hy het die hart van die Moabiete gepeil, en ons die gebeurtenisse van 'n vergane tydperk laat meelewe asof dit alles gister plaasgevind het. Sal sy boodskap deurdring tot die hart van Suid-Afrika? Saul, die Worstelheld (1935). Volgens die opvatting van die ou wêreld was die koning in die eerste plaas 'n godsdienstige figuur, wat egter ook politieke funksies moes vervul. Vir die Oosterse volke was hy 'n godeseun, verhewe bo die menslike sfeer. Hy tree op as middelaar tussen God en mens, en deur hom regeer God oor die volk. As ons hierdie opvatting vergelyk met die oorlewering {==196==} {>>pagina-aanduiding<<} dat God self koning is oor Israel en as opperste krygsheer sy troepe oproep tot die stryd, dan word dit duidelik dat daar in die instelling van die koningskap vir Israel iets gelê het wat moeilik kon aangepas word aan die ou ideaal. In 1 Sam. 8:7 sé die Here dan ook aan Samuel: ‘Nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.’ Israel word egter deur 'n sterk buitelandse vyand, die Filistyne, gedwing om 'n koning te vra. Die versplintering van die stamme en die gebrek aan eendragtige optrede het doeltreffende teenstand onmoontlik gemaak. Simson se oorwinnings kon die roofsugtige vyand nie terugdring nie; onder die rigter-priester Eli het Israel tweemaal verpletterende nederlae gely en selfs die ark verloor; kortom, die voortbestaan van die hele volk het op die spel gestaan. Maar ten spyte van hierdie politieke oorwegings het nog sterk geleef die besef dat Jehova die opperste leier van die volk was, en Gideon het die religieuse gevoel vertolk toe hy die koningskap afgewys het met die woorde: ‘Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die Here sal oor julle heers.’ En selfs in Samuel se dae het Jehova sonder koning sy volk tot oorwinning gelei. Eers toe Samuel oud en afgeleef was en sy seuns die volk geterg het deur hul wanpraktyke, wil Israel 'n koning hê soos al die ander nasies. Wie die Oud-Testamentiese beoordeling van Saul en Dawid wil verstaan, moet in gedagte hou dat Israel se koning regeer as plaasvervanger van God en dat sy vernaamste taak is, nie die uitroeiing van die Filistyne nie, maar die handhawing van die goddelike insettinge. Saul was uitsluitend politicus; aan godsdienstige beginsels steur hy hom weinig en hy hou alleen rekening met die eise van die praktiese politiek, die taktiek van die bereikbare. Hy is 'n veggeneraal met die koningstitel. 1) Dawid, aan die ander kant, was allereers volgeling van Jehova, en sy eerste regeringsdaad was die terugbring van die ark na Jerusalem en die plan om 'n tempel te bou. Godsdienstige beginsels is vir hom van die hoogste belang, en hy voel hom in alles volkome afhanklik van God. Die teenstelling tussen Saul, die opportunis, en Dawid, die beginselvaste leier, word in Malherbe se roman sterk beklemtoon. Ons ontmoet Saul na sy glorieryke oorwinning op die Amelekiete, wat hom tot die liefling van die volk gemaak het. Hy drink ‘die skuimende beker van selfvoldaanheid en selfverheerliking’ en droom grootse drome oor 'n verenigde Israel, wat al sy vyande sal onderwerp en tot diensbare slawe maak van 'n sterk imperialistiese ryk. Soos hy Doëg, die Edomiet, tot 'n nuttige dienaar gemaak het, so sal hy ook van Agag 'n sterk bondgenoot maak. Hy rig 'n segeteken op en koester hom in die verering van die volk. Wreed word egter sy grootheidswaan geskok deur Samuel se doem- {==197==} {>>pagina-aanduiding<<} woord: ‘Gehoorsaamheid is beter as offerande.’ Die gees van die Here het van hom gewyk en ‘'n bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik.’ In die roman speel Tirsa, die aantreklike vrou van koning Agag, die rol van die bose gees. Deur listige diplomasie word Saul soos deeg in haar hande. Ter wille van haar verstoot hy ‘die huismoederlike Ahinoam’, wat deur gebrek aan vorstelike grasie weinig indruk maak as koningin. Hy laat Tirsa toe om 'n afgodsbeeld te dien in sy paleis, en is so verlief dat hy nie merk hoe sy met vleitaal en vroulike lis planne smee om verdeeldheid in sy ryk te weeg te bring nie. Saul ken oomblikke van die hoogste geluk as hy die eerbiedige hulde van sy troepe ontvang: ‘Die gesig van die oefenveld, die werklikheid van die aksie, die kragmarse en skyngevegte, die besieling van die jeug tot gloedvolle daad van die oorlog as basuin en trompet die aanrukking verhewig, en die huldiging van die koning op die breë kruin van die heuwel as beseëling van hulle keuring en inlywing - swaarde omhoog en 'n jubelgeroep aaneen van duisend stemme: Lewe die koning!’ As hy en sy bekwame leërowerste, Abner, tussen die troepe beweeg op hul pronkperde, dan styg die volk se geesdrif tot 'n dolle drif wat geen perke ken nie. En niks is vir hierdie outydse Mussolini so dierbaar nie as die bewieroking van sy persoon! In die eensaamheid egter, stry hy sy verborge stryd. ‘Die skroeiyster van Jehowa se ongenade’ het sy siel gebrand en die besef dat God hom verstoot het, laat hom in buie van sombere neerslagtigheid verval. Hy word agterdogtig en bygelowig en verdink selfs die troue Jonathan van verraad. Die bekoorlike Tirsa en die verstandige Abner kan hom wel 'n wyle uit sy droefgeestigheid opwek - ‘maar daar ontbreek iets - nie manskap of wapens of geesdrif nie - iets wat hom innerlik so ryk gemaak het op alle vroeëre oorlogstogte, 'n geloof, 'n moedigheid wat teen die sterkste koning nie sou gefaal het nie.... Dit was die glans van Samuel se gelaat wat vir hom was soos 'n weerkaatsing van Jehowa se goedheid self.’ Hy behaal wel 'n skitterende oorwinning sonder Samuel se hulp, maar diep in sy siel weet hy tog dat Jehova se straffende toorn sterker is as al sy militêre kragsvertoon. Die innerlike verskeurdheid van die worstelheld is die sentrale tema van die roman. Dawid, die sanger van Bethlehem, word gehaal om genesing vir sy kranke siel te bring, maar hierdie getroue Jehovadienaar vererger net die kwaal, omdat Saul telkens herinner word aan sy eie afvalligheid. Dawid vertolk sy godsdienstige gevoel deur geïnspireerde snarespel, en as hy in Michal se oë kyk, ‘dan swel sy hale tot breër aanrukking en die tempo van sy slag verhewig met 'n vreemdheid van vaart dat sy hande as vanself beweeg en die siel van oorvolheid druip....’ Maar Dawid weier beslis om in die vertrekke van Tirsa, waar die afgodsbeeld staan, te speel. Sy harp is alleen aan die God van Israel gewy. {==198==} {>>pagina-aanduiding<<} In die beelding van die Dawid-gestalte het Malherbe se kuns tot die hoogte van verhewe epiek gestyg. Tussen al die luidrugtige krygsrumoer skilder hy die tere liefdesidille van Michal en Dawid wat op die bruilofsfees onverwags verstoor word deur Saul se jaloesie. Treffend word ook uitgebeeld die onveranderlike vriendskap van Jonathan. Saul se jaloesie word tot raserny opgesweep deur die listige inblasings van Tirsa, wat nou 'n volmaakte beheer oor hom uitoefen. Deur priestermoord, die uitdelging van Nob en die agtervolging van Dawid verbreek hy die eenheid van Israel en maak hy die magtige stam van Juda afvallig. Hy skep nog vermaak in militêre vertonings, maar word meer en meer die ‘grote Eensame’, gekwel deur angsvisioene van Jehova se toorn. Diep in sy siel weet hy dat die rebel Dawid nie die eintlike belaer van sy koningskap is nie. Hy moet stry teen die Onsienlike. Maar Tirsa, ‘sy geluk en sy sonde saam’, kan hy nie opoffer nie! Met koorsagtige haas span hy alle kragte in om Israel se ganse leërmag teen die Filistyne te mobiliseer. Hy probeer die steun van die priesters herwin deur die verbanning van alle waarsêers en heg minder waarde aan Tirsa se raadgewings. Deur fors geskilderde tonele laat Malherbe ons 'n blik kry op die onverpoosde arbeid van 'n magtige volk, wat dag en nag wapens smee en krygsbehoeftes versamel om gereed te wees vir 'n beslissende stryd teen die aartsvyand. Maar as die Filistyne eindelik aanval, soek die magtige koning van Israel na 'n dodebesweerster in die gramadoelas van Endor, wat Samuel se gees moet oproep. ‘Nou kruip hy om 'n brokkie hoop te bedel by die Gees van die Godsman!’ Nadat Samuel sy doemwoord herhaal het, stel Saul hom aan die hoof van sy troepe en veg met bowemenslike moed op die kranse van Gilboa. Tevergeefs is egter sy wanhopige teëstand en ‘Saul, die groot Worstelaar, (sink) in sy eie swaard.’ Soos Malherbe die tragiese ondergang van hierdie magtige koning geteken het, word dit 'n menslike drama vol spannende momente. Saul, die held, die magtige veggeneraal, kom in botsing met Samuel, die heilige, en word die slagoffer van Jehova se toorn omdat die volk Hom verwerp het vir 'n aardse koning. Eers deur die troonsbestyging van Dawid, ‘die man na Gods hart’, word die versoening teweeggebring. Saul is slegs 'n skakel in dié versoeningsproses, en die uitverkore volk moet deur sy nederlaag tot inkeer gebring word. Saul se bedoelings was so goed: hy wou al die Israelitiese stamme saamsmee, tot 'n hegte eenheid. Maar hy raak bedwelmd deur blinde grootheidswaan, laat hom verlei deur die bekoorlikheid van 'n vrou en vergeet dat hy alleen die plaasbekleder van Jehova is. Sy weldeurdagte militêre maatreëls faal, sy grootse plan van nasiebou misluk, want, ‘as die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.’ 'n Plegtige boodskap bring hierdie roman ons - 'n {==199==} {>>pagina-aanduiding<<} boodskap waaraan ook ons Afrikaanse nasiebouers wel mag herinner word. Presies soos in Die Hart van Moab het Malherbe hier nie eenvoudig die Bybelverhaal oorvertel nie, want hy het in verskeie belangrike opsigte daarvan afgewyk. Ook was dit nie sy bedoeling om Saul tot 'n gewone romanheld te maak nie. Die historiese Saul het die sentrale figuur geword van 'n epiese herskepping, waarin die fantasie van die kunstenaar vry beweeg het. ‘Querido's Simson’ merk dr. C. Tazelaar tereg op, ‘is niet de weergave van den Bijbelschen Simson, doch de naar historische motieven episch getransponeerde fantasieschepping, hetgeen ongetwijfeld tot een meten naar anderen maatstaf dan die der Schriftuurlijke zuiverheid noopt.’ Hierdie uitspraak is ook van toepassing op Malherbe se Saul, en die verstandige leser sal hom seker nie beskuldig van Skrifverdraaiing nie. Ons moet hierdie roman beskou as 'n talentvolle begeleiding van die sobere Bybelse gegewens en ons daaroor verheug dat Malherbe met soveel suiwerheid die essensiële boodskap van Saul se val vertolk het. Die Profeet (1937). Azkar, die onvermoeide nasiebouer, bring wee oor sy volk omdat hy in die beslissende ure weifel; Saul, die groot worstelaar, kan ten spyte van sy militêre genie sy volk nie red nie omdat hy in sy grootheidswaan vergeet dat hy slegs die plaasbekleder van Jehova is. Sedekia, die laaste koning van Juda, maak 'n onheilige verbond met die eertydse aartsvyand, en bewerk daardeur die uitroeiing van die treurige oorblyfsel van sy volk en die verwoesting van Jerusalem met sy tempel. Dis of Malherbe in hierdie drie romans soek na die oorsake van volksgroei en volksverval. 'n Brandende liefde vir sy eie volk spoor hom aan tot 'n herskepping van Bybelse gestaltes wat hy aan die Afrikaanse volk voorhou as rigsnoer vir die toekoms. Nêrens word daar 'n direkte toepassing op Afrikaanse toestande gemaak nie, maar telkens straal die ooreenkoms tussen Palestina en Suid-Afrika deur. As Jeremia van die dak van Ahikam se woning afkyk op Jerusalem, dan dink hy met weemoed aan die sondige verval van sy volk: ‘Die roemryke dae van die voortyd doem op - Israel nog vry en ongeskonde, Jerusalem 'n veilige veste voor die aangesig van Jehowa.... En die landvolk trou nog aan goddelike voorskrif, bloeiend op die hooglande van Juda en Benjamin en noordwaarts, gesond in die arbeid en vol van die guns van die dae.... stad van sy liefde. Land van sy liefde waar die gras gewuif het teen die hoogste klipkoppe en seë van koring die laaglande oordek het; waar die beestetroppe gewei het, 'n blinke wemeling op die heuwels, waar heuning versamel word in duister ravynsplete tot versadiging en die solderskure van die hemel oopgevloei het op hul tyd met 'n volheid wat tot aan die wortel raak....’ Reeds so 'n enkele aanhaling laat ons voel hoe Malherbe by die be- {==200==} {>>pagina-aanduiding<<} peinsing van Israel se lot steeds dink aan sy eie volk wat ook ‘'n nasie met verkeerde planne’ is. Afgodery, ‘onderduimse planne-smedery’, 'n verbond met die erfvyand, die kwaad wat gebore word uit grootdoenerige oorlogsvertoon - dit is almal faktore wat Israel se ondergang bewerk. Wanneer Jeremia dan met die gloed van 'n heilige oortuiging die dwase leidsliede van sy volk gésel en met 'n bloedende hart die doem van Israel aankondig, dan huiwer daarin ook die droefheid van die skrywer oor soveel verkeerds by sy eie nasie. Jeremia het al by sy eerste optree as profeet gesien dat Israel tussen die magtige wêreldryke, Babel, Assirië en Egipte platgedruk sou word (die visioen van die kokende pot). Josia se poging om die godsdiens te suiwer laat die profeet egter glo dat die oordeel afgewend kon word en dertien jaar lank word sy boetpredikasies nie gehoor nie. Na Josia se neerlaag en die terugval in al die ou afgodery voorspel hy die verwoesting van die tempel: ‘Vertrou nie op bedrieglike woorde nie - wat sê: Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit.’ (Jer. 7:4.) Hiermee het Jeremia die welgevestigde oortuiging, dat Jerusalem onverwoesbaar was, aangerand. Jesaia het immers voorspel dat God self Jerusalem sou red en 'n engel het dan ook die Assiriërs verdryf. Daarna het Josia die tempel gereinig en die wetboek ingevoer. Geen wonder dus dat volk en priesters volkome gerus voel en Jeremia van godslastering beskuldig nie. Die heiligdomme van Jerusalem was die brandpunte van die godsdienstige en politieke lewe, die simbool van wat vir Israel die allerheiligste was en alleen 'n landverraaier kon praat van hul verwoesting. Jeremia se reeks strafpredikasies veroorsaak soveel vyandskap dat hy nouliks in die openbaar kan verskyn en die skrywer Baruch moet soms sy vermanings voorlees. Jojakim laat die boekrol verbrand en die profeet met sy skrywer word met die dood bedreig. Sy woorde gaan in vervulling, want 'n groot deel van die bevolking word as ballinge deur Nebukadnesar weggevoer. Die swak koning, Sedekia, wat oor die armsalige oorblyfsel regeer, word maklik oorrompel deur die leiers van die chauvinistiese party, wat hul deur 'n bondgenootskap met Egipte, Tirus, en Ammon sterk genoeg waan om die juk van die Chaldeërs af te gooi. So staan sake aan die begin van die roman. Dit is die besondere verdienste van Malherbe dat hy so 'n verrassende lig werp op die aangrypende tragiek van die groot profeet se lewe, dat hy ons so 'n diepe insig gee in die eenvoudige menslikheid van 'n gefolterde siel. Die gewone Bybelleser, en miskien selfs baie Bybelkenners, sal, as hul eerlik is, moet erken dat hul slegs 'n vae voorstelling het van die bittere stryd wat hierdie geweldige profetefiguur moes volstry. Malherbe laat die hele periode van Israel se droewige verval en vernedering voor ons geestesoog herlewe, hy bring ons in aanraking met die verdwaasde volksleiers en valse {==201==} {>>pagina-aanduiding<<} profete wat deur politieke knoeiery en militêre gesnoef die nasie-eer wil herstel. Maar dwarsdeur al die patriotiese fanfaregesketter klink die vermanende stem van die boetprediker, wat te midde van die algemene sedeverbastering, onversaagd sy volk terugroep tot die ou paaie en hul probeer opskrik uit hul ydele vertroue op die tempel. Jeremia se hand was teen almal en die hand van almal teen hom. Teen sy sin is hy gedwing om te profeteer en hy moes altoos voorspel wat sy hart laat ineenkrimp het van pyn. ‘As hy maar 'n mens kon wees, eenmaal net 'n mens om 'n wyle te vergeet.... Waarom moet hy alleen verteer word, moet die sap van sy vlees opdroog en sy tong kleef aan die gehemelte weens die blindheid van die volk? Want van die koning af tot die houthakker, van die priester tot die danseres tier 'n Jehowatartende onverskilligheid.’ Jeremia ken oomblikke van swakheid waarin hy twyfel aan sy verhewe roeping. Hy het afstand gedoen van alle aardse besittings, geen gesin opgebou nie sodat hy hom heeltemal kon wy aan sy heilige taak. Maar soveel teenstand en bespotting het hy ondervind, so hopeloos en ydel was die resultaat van sy arbeid dat hy soms in ure van wanhoop getwyfel het aan die egtheid van sy boodskap. En so verskriklik was die boodskap dat sy gepynigde siel moes kreun: O liewer om sy volk ontwil, wou hy die verwoesting van die stad nie sien nie, en kon sy woorde maar leuen gewees het.’ As sy enigste steun in die raadsaal van die koning hom ontval, dan staan hy magteloos teenoor die maghebbendes met slegs 'n klein klompie eenvoudiges van gees wat ag slaan op sy roepstem. Maar ‘onsigbaar wewe Jeremia die kleed van Geloof, die yle wade van vertroue om sy eensame siel....’ Hy word in die gevangenis gewerp en mishandel. Tot in die modderkuil van 'n afgryslike kerker moet hy afdaal, maar daar kom hy tot die besef van die nietigheid van eie lyding by die aanskouing van die nood van sy volk, wat wegsink in die grondelose sondekuil. ‘In dié nag, groot van genade, het alle aankleefsels van menslike onwaarde, wat by tye nog geleef het in hom, verteer geraak’ - nou was hy bereid om soos 'n ondergaande herfsblaar een te word met die aarde omdat God hom 'n blik gegun het op die toekomstige herstel van sy volk. Met gewyde erns het Malherbe hom verdiep in die tragiese smart van hierdie geweldige profetefiguur. Sonder om Jeremia se hoë roeping in enige opsig te kort te doen, toon hy ons die profeet as mens onder die mense. Hy mag nie, soos die valse heilsprofete, sy vernederde volk troos met voorspellings dat die ballinge en weggevoerde tempelskatte spoedig sou terugkeer nie; aan hom het die smet van verraad gekleef omdat hy hierdie ydele verwagtings moes vernietig deur te verkondig dat nog 'n groter ramp naby was, naamlik die wegvoering van ellendige oorblyfsel en die verwoesting van die heiligdomme. Hy, die vurige vaderlander, kon nie aansluit by die volksparty, wat die juk van Babel wou afwerp {==202==} {>>pagina-aanduiding<<} nie, maar moes slaafse onderwerping aan die goddelose Chaldeërs predik. En op sy daaglikse omwandelinge moes hy sien hoe die afgodery tot in die siel van sy volk ingevreet het. Anders as Jesaia, wat met breedoratoriese gebaar die verhouding van Jehova tot sy volk verduidelik, rig Jeremia sy hartstogtelike woorde tot die individu, lê hy nadruk op die verhouding van die enkeling tot God. (Jer. 31:33, 34.) Daarom is sy stem soveel gevoeliger, daarom tril daar so 'n innige ontroering in die klaagliedere van hierdie groot individualis onder die profete: ‘O my ingewande, my ingewande, ek bewe van angs. O mure van my hart. My hart steun in my, ek kan nie swyg nie....’ (Jer. 4:19). Net soos in Die Hart van Moab en Saul, die Worstelheld het Malherbe ook hier, met uitsondering van enkele wysiginge, die hooffeite onveranderd uit die Bybel oorgeneem. In sy kunstenaarsverbeelding herlewe egter die hele periode; hy bring ons in aanraking met die futlose koning, wat hom nie bekommer oor die lyding van sy volk nie en alleen aan eie veiligheid dink; hy voer ons na die raadsaal waar Pashur en Seraja hul verkeerde planne aan die swak koning dikteer. Ons kry 'n kyk op die militêre bedrywighede wat deur die spoggerige grootpratery van Jugal aangewakker word, maar beleef ook saam met die gewone volk die verskrikkinge van die langdurige beleg van Jerusalem. En tussen al hierdie rumoerige tonele van krygsgeweld skilder Malherbe die tere liefdesidille van Baruch en Hélea, wat by die palmboom in die wewer se agterplaas mekaar heimlik ontmoet. Maar van die begin tot die einde word elke toneel beheers deur die forse gestalte van die groot profeet, wat sy onheilsboodskap verkondig in die koning se paleis, sy vermanende stem laat hoor op die straat, maar ook as die wandelende Liefde inkruip in die hutte van die armes vir wie sy woorde ‘reëndruppels van genade’ was. Wanneer die heiligdomme verwoes is, trek hy met die treurige oorblyfsel van sy volk na Mispa en vandaar, na nuwe onheile, lei hy die vlugtelinge na Egipte: ‘Die Here het die volk rasend gemaak.... Nog trap Hy sy parskuip vir die volk van Israel.’ § 3. Jochem van Bruggen 1). J. van Bruggen is gebore te Groede, in die provinsie Zeeland, Nederland, op 29 September 1881. In 1892 het sy vader hom in Johannesburg gevestig. Aan die Pretoriaanse gimnasium het Jochem begin verse maak oor die Voortrek. Die Tweede Vryheidsoorlog het 'n end gemaak aan sy studie en vir sewe maande was hy op kommando, totdat hy by die oorgawe van Johannesburg vasgekeer is. Van toe af moes hy vir homself sorg en in plaas van ingenieur te word, moes hy lewe van die geringe verdienste, wat 'n agentskantoortjie aan 'n onervare jong man in daar- {==203==} {>>pagina-aanduiding<<} die tyd kon gee. Na die vrede het hy in 'n wassery die gestrykte wasgoed in pakkies opgemaak, boordjies getel, ens. Maar dit kon hy nie uithou nie. Hy het uitgebars die veld in, ruimte-toe en by sy boesemvrind G.J. Oosthuizen op Steenkoppies gaan woon. 'n Tydlank was hy daar onderwyser aan die C.N.O.-skool. 'n Debatsvereniging en koor het onder sy leiding gebloei, terwyl daar ook van hom toneelstukke opgevoer is. Sy volgende onderneming was 'n tabaksaak, wat hy met sy vrind Oosthuizen opgerig het. Aanvanklik het alles goed gegaan, maar later, veral deur 'n konneksie met 'n uitgeslape seun van Israel, het die onderneming 'n totale mislukking geword, met die gevolg dat albei in 1909 diep in die skuld was. In Ouboet is o.a. 'n sydelingse herinnering aan hierdie episode, wat vir 'n tydlank sy letterkundige aspirasies heeltemal versmoor het. In 1912 het hy sy Voortrekkerverse weer verwerk, maar kon geen uitgewer daarvoor kry nie. In 'n wedstryd van Die Brandwag het Die Praatmasjien in 1914 'n prys behaal en van toe af het Van Bruggen sy koers gekry. Oom Jannie skryf hy in 1915, Teleurgestel en Die Beeswagtertjie in 1916, Ouboet in 1918 en Bywoners in 1919. In 1917 het Teleurgestel die Hertzogprys van die Akademie behaal. Van Bruggen boer tans op die plaas Steenkoppies by Krugersdorp. In die Jaarboek van die Skrywerskring (1936) deel Van Melle interessante besonderhede mee omtrent sy lewenswyse en werkmetode. ‘Hy is in baie opsigte benydenswaardig want dit is nie aan veel skrywers gegee om alleen vir hul kuns te leef nie. Sy boeke bring hom saam met sy klein boerdery genoeg op om, al is dit dan nie ryk nie, daarvan te bestaan.... In sy stil omgewing, omring van die tipes wat hy so goed ken en van mense wat hom altyd weer tot nuwe werk inspireer, vind hy die nodige rus vir die ontwikkeling van sy kalm beskouende en diep aan-voelende gees.’ Hy hou veel van die volgende Nederlandse boeke: Merijntje Gijzens Jeugd, Bartje en Sprotje. Galsworthy lees hy ook graag, maar hy glo nie dat een van hierdie skrywers eintlik ‘vormende invloed’ op hom gehad het nie. Hy is tans besig aan die derde deel van Ampie. 1) Werke: Teleurgestel (1917). Op Veld en Rande (1920). Die Burgemeester van Slaplaagte (1922). Ampie, Die Natuurkind (1924). Ampie, Die Meisiekind (1928). In die Gramadoelas (1931). Booia (1931). {==204==} {>>pagina-aanduiding<<} Die Sprinkaanbeampte van Sluis (1933). Haar Beproewing (1934). Verder drie sketse in Nuwe Afrikaanse Kortverhale. Teleurgestel (1917). Dit is 'n roman uit die Tweede Vrijheidsoorlog. Die Boere van Waterval en omstreke is besig met skyfskiet as die veldkornet hulle kom opkommandeer. Dirk Liebenberg het sy afgeleefde ouers na die kruitbadjie by Waterval gebring en op 'n wandeling deur die kloof probeer hy om Maria Brinkman oor te haal om sy vrou te word. Sy gee egter die voorkeur aan haar ou speelmaat, Gys, wat as gevolg van 'n speelse opmerking van haar, die kordaatstuk uitvoer om 'n blom op 'n gevaarlike krans by die waterval te pluk. By dié geleentheid word Gys en Dawid, Maria se broer, deur Swartbooi, 'n geheimsinnige potteskuurder, in 'n spelonk gelei, waar hy vir hulle dolosse gooi en somber voorspellings oor die naderende oorlog maak. Na vyftien maande kom 'n kommando nuwejaar vier op Waterval. Dirk koester hands-op-planne, wat afstuit op die idealisme van die vrouens. Later vind hy geleentheid om met Stols en Greef, wat graag hul families wil besoek, stilletjies af te swenk van die kommando. Hy trakteer hulle op 'n paar goeie doppe ‘perskesop’. Stols is 'n swak jabroer en laat hom maklik oorhaal, maar Greef ry met sy maats se perde terug kommandotoe. Dirk vind Maria nog onhandelbaar en sluit in groot verbittering by die Engelse aan, waardeur hy sy pa se dood veroorsaak. Stols sukkel terug Boere-toe, maar laat in sy verbouereerdheid sy geweer agter, wat die vyand aanleiding gee om die woonhuis op Waterval af te brand. Deur Dirk se verraad word Gys en Dawid vasgekeer in Swartbooi se grot, waaruit hulle met moeite ontsnap. Gys word later gewond, die vrouens raak in die kampe, maar na die vrede trou Gys met Maria, en Dawid met Elsie Greef, terwyl Dirk 'n suiplap word. In Teleurgestel het Van Bruggen sy oorlogservarings verwerk. ‘Hy het die verwoeste plase gesien na die oorlog, en hy het geluister na die ondervinding van die Bittereinders, na die verhale uit die tyd toe die Engelse oor Steenkoppies en omgewing hot en haar getrek het en uit die droewe tyd van Johannesburg se renbaan.’ 1) Swartbooi se prototiep was ‘'n verdwaasde ou kaffer, wat die Hartleys - daardie tabakmagnate - se kombuisgereedskap geskuur het, dag vir dag in 'n driffie en as 'n malmens geskreeu het party nagte as hy rondloop.’ 1) In Die Burger het Van Bruggen verklaar: ‘In ooreenstemming met my vorige werk, sal my strewe bly: 'n afbeeldsel van die lewe soos ek dit gewaar, wat duidelik sal staan in die skynsel van romantiek.’ 2) {==205==} {>>pagina-aanduiding<<} Nou is ‘romantiek’ juis een van die terme wat moeilik definieerbaar is, maar Van Bruggen wil blykbaar te kenne gee, dat hy geen realis in die enge betekenis van die woord is nie. Sy ver-romantisering lei partymaal tot 'n sodanige vermooiing en opsiering van die werklikheid, dat die egtheid van sy figure in die gedrang kom. Swartbooi met ‘sy dwalende brein, wat sy lewe so vol misterie maak’ (p. 195, 1e druk), sy geheimsinnige grot en orakeltaal is seker romanties geteken, maar wek skeptiese bedenkings van ernstige aard. Ten spyte van die romantiekerige opsiering egter, het Van Bruggen die eenvoudige aanhanklikheid van hierdie verdwaasde ou skepsel, wat sy base oppas met die trou van 'n steekbaardhond, mooi geteken. Gys en Maria, op wie ook 'n sterk romantiese skynsel val, bly vir ons vae figure. Stols daarentëe, wat deur sy jabroergeaardheid geen aanleiding tot romantiekerige vermooiing gegee het nie, is deur 'n raak-realistiese uitbeelding tot 'n lewende mens geword, wat ons nie maklik vergeet nie. Arme Liepie met sy ‘bang-oormekaarkyk oë’, seer rug en orige knipmes ken ons deur en deur. Doodgoed van geaardheid is hy, maar sy swak intelligensie maak van hom 'n morele swakkeling. Hy het wel 'n vae besef van plig en eer, maar is ratser om ekskusies uit te dink, as om 'n ding fluks aan te pak. Tussen die vroumense voel hy meer op sy gemak as onder die geharde kommando-kêrels en in die konsentrasiekamp kan hy 'n skyn van gewigtigheid bewaar deur sy oulike knutselwerkies. Nog 'n ander byfiguur, Moeder Greef met haar laslappies en ou-mens-gemaal is met trekkies van boetserende fynheid geteken, terwyl Luikes Greef met sy droë humor ook goed geslaag is. Suinig met sy woorde, maar groot in sy dade is Luikes, wat net in die hitte van die stryd opgewonde raak en verder met 'n kalme gelykmoedigheid al die wisselkanse van die kryg ondergaan, 'n eenselwige swyer, wat, getroos deur 'n sappige pruimpie, in die stilte oor sy moeilikhede tob. Meer op die agtergrond staan die patriargale figuur van ou vader Liebenberg, wat steunende op die heilige Woord, soos 'n oud-testamentiese siener, die onuitroeibaarheid van sy volk profeteer. By die uitbeelding van Dirk Liebenberg gee Van Bruggen 'n psigologiese uiteenrafeling, maar sy afkeer van die skepsel van sy eie verbeelding is só groot, dat dit hom nie geluk om onpartydig teenoor die figuur te staan nie. Sy haat vir die walglike kreatuur het hom verhinder om heeltemal op te gaan in Dirk se psige. Reeds in die eerste hoofstuk verraai hy deur 'n kwasie-twyfel sy vooroordeel. ‘Ons huiwer om hom so wreed te beskuldig, want ons ken sy verlede nie in besonderhede nie. Miskien sal die toekoms 'n gedagte aan die moontlikheid daarvan regvaardig.’ 1) Nou weet ons al: Dirk gaan die sondebok word, en die ongeregtigheid word dan ook by wavragte op hom gelaai! Maar let wel, Van Bruggen sèlf ken sy verlede nie in besonderhede nie. Hoe kan so 'n persoon nou {==206==} {>>pagina-aanduiding<<} ooit fel-lewend vir ons word? Met 'n sug van verligting neem die outeur afskeid van hom: ‘En so het ons klaar met Dirk’ (p. 219). Hy het só boos geword, dat hy hom, na 'n paar kwaai trappe vir ou-laas, uit sy verhaal bons! Dit word mos bruilofstyd en daarby pas Dirk, die suiplap met sy ‘valse gryns’ nie. Maar dis 'n oplossing, wat ons nie bevredig nie. Geslaag is die figuur nie, ofskoon daar telkens brokke treffende analise is. Maar meestal neem Van Bruggen teenoor Dirk die houding van 'n bestraffende regter aan. ‘Kan 'n wolwe-aard so gou verander in skape-gedweeheid; 'n dwingeland in 'n oëdienaar....?’ (p. 12.) 'n Oomblikkie tevore het hy nog gehuiwer ‘om hom so wreed te beskuldig’, maar nou is sy vonnis al gevel. Juis die bo sy onderwerp staande gevoelloosheid verhinder hom om 'n warm-menslike omtrek aan die verraaiersfiguur te gee. Later word Dirk dan ook eenvoudig as 'n besetene uitgebeeld. ‘Die fluisterstem van sy gewete sterf in die diepte weg, wat Satan bliksemsnel met misdaadplanne vul’ (p. 145). By die dood van sy moeder kry hy 'n ‘laaste kans’ (p. 191). ‘Dis een van die momente, waarin 'n goeie gees, so hom die tyd gegun werd om tot die harde hart van Dirk deur te dring, 'n ander mens (van hom) sou kon maak’. Gelukkig bly ons dié koddige psigologiese gedaanteverwisseling bespaar! Soms gaan Van Bruggen so op 'n paar tree van sy persone af staan en bepeins dan hulle toestand. Gys is ‘in strak starend gepeins’ (p. 216). En dan roep die outeur uit: ‘O watter gedagtes! So sterk nog as in sy volle kragtyd....’ ens. Daar is nog meer sulke hinderlike ingrypsels van die outeur. ‘Die leser wat onsigbaar agter Dirk aangestap en oor sy skouer geloer het.... Dirk is te ongeduldig om die kamer rond te kyk, maar ons kan dit nog net doen, vóór die aandskemering ons dit belet’ (p. 23). 1) Dit is verroeste romantegniek van die jaar nul! Dat Van Bruggen egter 'n plastiese gawe van geen geringe betekenis het nie, bewys die welgeslaagde toneel, waar Liebenberg vir Greef en Stols wil oorhaal om die wapens neer te lê. 'n Weemoedige klaagtoon van verdrietige berusting deurhuiwer die ritme van Van Bruggen se styl in Teleurgestel. Die smart oor verlore onafhanklikheid en die droewige herinnering aan oorlogsleed tril na in somber klanke. En teen die end word Van Bruggen moeg vir die trommelslae wat ‘die doodmars deurdof’. ‘'n Lange sombere storie.... ons wil hom deurhardloop’ (p. 222). Tog klink daar soms 'n skaterlag; as die kakies retireer vir 'n rollende pampoen (p. 173) en Greef vir Stols laat ‘handsop’ (p. 156). 'n Paar mooi kindertoneeltjies beloof iets vir die toekoms. Opvallend is die gebruik van koppelwoorde soos: knutselwerk-uitdenk- {==207==} {>>pagina-aanduiding<<} vermoë (p. 230), swaai-arm-beduie (p. 9), goudblom-oorlaai (p. 20), droomglans-dowwe oë (p. 195). 'n Enkele maal word daarmee 'n mooi effek bereik, maar meestal gee die oorvloedige aanwending 'n indruk van gesogtheid, terwyl baie saamkoppelings in stryd met die taaleie is. Die voorliefde vir lang-asem sinswendings versterk die sware klank van sy prosa, wat met afgemete pas moeisaam voortbeweeg. En daardeur ook hoor ons telkens dissonante, b.v.: ‘Van onder oop, het hoëveld se vooren najaarsstorme daardeur gestroom en binne die lang huise opgestuiwe in die smal-langwerpig drukke reghoek-ruimte, waar die lewe in en uit rumoer na sy hokkies, en kinders spelend raas, nat-besweet’ (p. 221). Tog het Van Bruggen deurgaans 'n fyn gevoel vir woordklank. Telkens kry ons brokkies van sinne, wat in gereelde versritme vorentoe gly; ‘en vínnig wórd haar stáp, ofskóon sy drálend peíns oor wóndervraág....’ (p. 77). Maar ons stuit ook op klinkklank: ‘terwyl sy rol-oë die kamer vergenoeg deurrol’ (p. 114); Al kante uit wil hy koers vat, so rol sy uitpuil oë al kante uit (p. 149); dat drie.... by die val hulle eie val sal vind (p. 194); dit beslis die twyfel van die onbesliste goeie man (p. 150). Koppelwoorde en sinsbou gee aan Van Bruggen se styl 'n moderne cachet. 'n Allersnaaksste indruk maak daarnaas, die ouderwets-retoriese taal, soos ons die ken uit die Hollandse predikanteliteratuur van vóór 1880, wat ook nog dikwels van Suid-Afrikaanse kansels gehoor word. ‘'n Knagende wee, wat die hart verteer (p. 86); Daar drup dit in sy hongerige siel heilsame lafenisdruppe en sy gedagte sien, as deur hemelse ingewing....’ (p. 83). Dit krioel ook van sulke domineesterme soos: hartsvriend (p. 202), hartebodem (p. 76), brandende gemoed (p. 50), tomelose hartstog (p. 126), skoonste hemeldeug (p. 80), ens. En hoe deftig paradeer Van Bruggen met 'n hele kommando holrug perde! Dit is perde wat al meer as 'n halwe eeu nie meer ‘pylsnel oor die pad sweef’ nie (p. 70), dis ou doodgemoorde knolle, wat skaars nog 'n vuiliskar kan trek. Gys is die ‘eweknie van Dawid in geesdriftige opwerping van oorloglugkastele’; daar is in die kloof ‘'n reusemagneet’ wat hom trek (p. 56); ‘Die ontboeseming was as 'n warme son, wat die yskors ontdooi’ (p. 82); ‘toegedekte liefde (het) haar windsels afgegooi’ (p. 99); ens. Gelukkig kry ons tussen die muwwe, onpersoonlike beeldspraak so 'n enkele keer 'n fris veldwindjie: As Swartbooi die plaasmense sien wegvoer deur die kakies dan is ‘die lewe wat in sy oë kom blink,.... soos die.... in 'n koei se oë, wat wild oor die kraalmuur kyk, wanneer haar pasgebore kalfie hok-toe weggedra word’ (p. 196); ‘die stryd teen onsigbare wapens.... soos mambas in die ruigte’ (p. 192); ‘Af drif toe.... kom 'n groot tentwa aangeklop’ (p. 7). Daarnaas kry ons egter weer sulke badkamer-beeldspraak soos: Maria ‘aarsel niks om 'n doeltreffende bekoeling uit te giet nie oor sy brandende gemoed’! (p. 50); ‘Of 'n vloed yskoue water oor hulle rugge uitgegiet word, so {==208==} {>>pagina-aanduiding<<} laat, wat agter is hulle ril’ (p. 65). Ook onsmaaklike trivialiteite soos: ‘Daar is geen druppel bloed meer in Stols se neuspunt nie; dis alles weggestroom na die midde van sy romp....’ (p. 157). In sy natuurbeskrywing is Van Bruggen onbeholpe en soms banaal. Hy skerm met groot woorde wat volkome retories en aandoeningloos van algemeenheid is. ‘Die skone dal lê voor die perdelose ruiters in volle somerweelde. Die ou opstal lyk so skilderagtig.... Ook is dit of die skouspel hom hipnotiseer.... Die ganse moot brei uit in sombere somerweelde’ (p. 126-7). Sulke niksseggende frases laat ons heeltemal koud. Nie deur die woord somber ontstaan die indruk van somberte nie. Die somberte-emosie moet hy in beeld bring, moet hy ons laat aanvoel deur plastiese trekke. Maar hy verswak nog meer die indruk van sy frases deur te praat van ‘die lentegroen, (wat) in jeugdige ydelheid wou spog ....’ En dan vervolg hy met valse, ondeurvoelde beeldspraak: ‘Uit egaal donkergroen spreek nou éénselfde stemmige gedagte, waar uitgeswelde rypheid elke deeltjie van die ernstige boskasie herinner aan verwelking.’ Dit is visie-verknoeiing. ‘Die stemming deel sig onbewus mee aan die twee....’ Juis, onbewus, want hoe dit gebeur bly vir ons 'n raaisel. En dat Stols en Dirk albei in presies dieselfde stemming geraak, is papier-psigologie! Daar is nog meer holle frases: ‘Dieselfde voorjaarsagtermiddag het ook sy toweraandeel volbreng in die natuurherlewing’ (p. 20). Dirk kry ‘lewens-lente-visioene’! Die voëltjies sing mooi ‘en dis of die ganse omgewing wil meedoen aan 'n gemoedsontboeseming’! (p. 31). ‘Grootse natuurskoon’ (p. 47), ‘roerlose aandskoonheid’ (p. 90); ‘dis van die aande, waarin natuur sy wonderskoonheid wys met stille majesteit’ (p. 166), ‘ruwe natuurprag’ (p. 52); ‘Die lente het weer 'n jong gewaad oor die velde gesprei (p. 202). En op p. 52 is daar weer ‘'n grootse gedagte, wat setel in die lowerwoestheid’. Die gedagte spring van sy ‘setel’ af en hou 'n netjiese prekie in die tale Kanaäns. ‘Dis 'n plekkie, wat mensekindere wil goedmaak en verhef bo wêreldse nietighede,’ ens. Duisterheid is dikwels die gevolg van die retoriese opblasery. ‘Die kranse voor en weerskante is hoog en amper loodreg, bedek met ruwe natuurprag, wat gestapel op kwynend-skemerlig en duister.... (p. 52). Hoe moet mens jou nou 'n voorstelling vorm van wilde plante gestapel op skemerlig en duister? Op p. 32 is daar ‘klanke, wat hemelwaart denk en dankbaar swewe, vir sparende liefde....’ Al slaan denk ook op gevoel dan is dit nog 'n onbeholpe parallelisme. Onverstaanbaar is: ‘Ligvlekke, wat die boomskaduwees werk, hou vaste lyne’ ens. (p. 87). En wie hoor nie die gekreun van die bombastiese blaasbalk agter sinne soos die volgende: ‘Dis pynlik om die afbreuk van geesverbystering (?) te sien, wat flou, al flouer 'n kwynend verset teen eie onmag vertoon en in sielsmart oorgaan....’ ens. (p. 9). Maria se ‘sterk gestel (het) begin te luister na die stem van siekte. Tallose skrikgedagtes het senewee-skokkend {==209==} {>>pagina-aanduiding<<} met haar liefde gespeel en bondgenoot geword van 'n ongesteldheid wat haar sou neerdruk ens. (p. 234-5). En daarom het die siekte so geloer om uit te breek, uit eerbied vir die grondigheid van haar verset en heldepoge.’ Sy kom uit die hospitaal ‘met twee(!) grote, siel-vertolkende oë, verhewe-boeiend’! En daar is nog meer voorbeelde van sulke opgeskroefde woordkramery. Wat moet mens aanvang met taalgeknoei soos die volgende: ‘Humeur lê diep bedolwe onder tallose swaardrukkende gedagtes’, ens. ‘'n Onmag van sy logies verstand, laat pessimisme die vrye teuel’ (p. 82); Luikes is ‘oortrek deur die waas van sy karakter....’ (p. 35); ‘die inwendige Greef’ (p. 36); 1) ens. ens. Die verpersoonliking van abstrakte begrippe gee aanleiding tot raaiseltaal en gesogte wendings. ‘As die sluipgang van hulle genegenheid tuis gekom het is dit getrouheid tot die dood....’ (p. 35); ‘die koers.... waar vinnig verlange die bome deursoek’ (p. 76); ‘Hartverheffende momente wat grondslag vir 'n toekoms lê en lewens bou of brokkel - kort as 'n sug, 'n fluisterwoord, 'n oogstraal as diamante bly skitter aan die langste lewensdraad en nog glansies op sy rafelpunt werp; gebonde aan seisoen nog tyd’ (hoe rym dit met ‘kort as 'n sug’?) ens. (p. 106). Met nog een voorbeeld van Van Bruggen se onbeholpenheid kan ek volstaan: ‘Maar lewe het vasgeklem aan sy omhulsel met ongekende adhesie, waardeur die wetenskap verbaas, wat eers verwaarloos werd, omdat geen hoop bestaan het nie, met ywer die omhulsel onder sy behandeling geneem het.’ (p. 214.) Die dialoog is meestal onnatuurlik-styf en soms so deftig as 'n redevoering. Gys sê: ‘Dis of natuur 'n moedwil toon om haar wonderwerke treffender te maak. (p. 53); Ons volksaard is opgeruimd en vol korswil, wat wys veral op sulke dae, waar hoop, by nuwe begin, ook nuwe ambiesie gee’, ens. (p. 89). En hoe netjies ryg Dirk sy sinne aan mekaar as hy pleit vir Maria! Hy eindig so: ‘Die hoop sal my in doodsgevaar dapperversigtig, in moedeloosheid vasberade maak en my nasie laat liefhê, omdat jou ideale myne sal word!’ Met dié woorde vat hy haar hand ‘wat sy nie kon terug trek nie, omdat haar sielestryd onbeskryflik geword het.’ Dieselfde onmag om heftige emosie plasties uit te beel vertoon Van Bruggen ook waar hy Dirk se houding moet beskryf: ‘As hy verneem dat sy moeder gestorwe is, voel hy getref en kyk somber na die aarde voor sy voete.’ (p. 191.) In 1925 het die derde, heeltemal omgewerkte uitgawe van hierdie roman verskyn. In die agt jaar wat tussen die eerste en derde druk lê, is daar 'n gestadige styging in Van Bruggen se kuns merkbaar, en as hy, na die voltooiing van die eerste deel van Ampie, Teleurgestel omwerk, dan behou hy wel die raamwerk van die verhaal, maar skryf die hele {==210==} {>>pagina-aanduiding<<} boek feitlik oor. 1) Hy beheers die tegniek van die roman nou veel beter en al die onbeholpe draaitjies verdwyn. Sy taalgevoel is veel suiwerder en retoriese opsmuk word vermy. In plaas van die afgeslyte cliché's van die eerste uitgawe het sy styl nou 'n persoonlike klank. Die mislukte natuurbeskrywings word vervang deur ander wat getuig van veel skerper waarnemingsvermoë, waarin hy ons wel onder die indruk van die romantiese natuurtonele rondom Waterval bring, ofskoon hy nog selde daarin slaag om die inwerking van die natuur op die gemoedstoestand van sy figure te vertolk. Die dialoog en karaktertekening word ook verbeter, en al lyk Dirk Liebenberg nog baie na die konvensionele romanskurk, die swart strepe van die oorspronklike karikatuur is in elk geval weggewerk. As gevolg van dié gelukkige omwerking word Teleurgestel en Vergeet Nie die twee mees geslaagde romans oor die periode van die Tweede Vryheidsoorlog. Die gang van Van Bruggen se verhaal word bepaal deur die wisselende krygskanse, en hy gee 'n aanskoulike tekening van die droefheid in jong harte oor onvermydelike skeiding, die swaarkry van vroue op verlate plase en die ellende in die kampe, die laagheid van die joiner en die smart van sy afgeleefde ouers. Met geesdriftige oormoed trek die jong burgers na die front, en as hul 'n kans kry om asem te skep, word die oorlogsdruk afgeskud in jolige nuwejaarspret. Maar langsamerhand skep die botsing met die oormag van die vyand en die verraad in eie kamp 'n stemming van troostelose neerslagtigheid wat Van Bruggen goed aangedui het. Net soos Malherbe kon hy in sy eersteling nog nie 'n sintetiese beeld van die volksworsteling gee nie, maar hy bied ons in elk geval 'n verdienstelike skildering van die vernaamste episodes; steunende op eie ervaring leef hy hom goed in die gees van die tydperk in, terwyl hy deur sy plastiese talent verskillende oorlogstipes vir ons laat lewe. Op Veld en Rande (1920). In Op Veld en Rande is dit moeilik om die skrywer van Teleurgestel te herken, as die laaste verhaal, 2) Die Beeswagtertjie, buiten beskouing bly. Alleen enkele stylwendings soos ‘wit orkaan gedrewe wolke’ (p. 122), en 'n paar geykte frases soos ‘toe twee harte, wat lief en leed van die wêreld verstaan, opreg ineensmelt!’, herinner aan die manier van Teleur- {==211==} {>>pagina-aanduiding<<} gestel. Hier ook geen romantiekerige opsiering nie, maar onvervalste werklikheid. So direk beeldend werk die skrywer, dat dit lyk of sy figure spontaan uit die daaglikse lewe reg-uit op ons aangestap kom. Met 'n seldsame vermoë laat hy hulle deur middel van 'n reeks toneeltjies in lewende lywe voor ons optree, op so 'n wyse dat die lig op hul tipiese eienaardighede val. Ons kry in hierdie kort sketse nog geen saamvattende verhaalplastiek nie, waaruit die gestaltes met vaste omtrek, volledig uitgebeeld omhoog rys - dit is meer die fragmentariese weergawe van 'n direkte werklikheid, 'n realisme wat ons die grondstowwe van die lewe in amper onverwerkte vorm aanbied. Eers later sou Van Bruggen in Ampie dié grondstowwe volgens die wette van 'n innerlike, visuele ontroering herskep tot 'n lewende, organiese geheel. Hierdie fragmentariese uitbeelding van verskillende bywonertipes was 'n noodsaaklike voorstudie. En tog, hoeveel bereik Van Bruggen nie al in hierdie sketse nie, en veral in Bywoners. Raak en eenvoudig-waar word Sitman, die ‘meeldiaken’ met sy ‘ongebleekte kussingsloop’ geteken. Hy is die man, ‘wat sit waar hy sit’, ‘die elfde plaag’ (p. 27). Soos Van Bruggen hom uitgebeeld het met sy astrante indringerigheid, altyd kunsies bedenkend om tog maar nooit aan die werk te kom nie, sy windmaker-praatjies wat eie nietigheid moet bedek, sal dié bywonersfiguur lewe in ons letterkunde. Hy staan vlak voor ons met al die flenters van sy verslegting. Hoe goed is nie geteken sy poging om tog nog 'n skyn van vernaamheid te ontleen aan die reputasie van sy onbekende ‘ouboet Karel van Staanderton se distrik’. En die dialoog is so spontaan - dis die lewende terugbeelding van egte gesprekke sonder retoriese byspinsels van die outeur. Hoor maar ou Sitman se gesanik: ‘Nou ja! ek hoor toe gister.... of was dit eergister.... nee dit was gister, dit wil my nou goed byval - Willemse het gister hawer gelaai - ja dis reg, dit was gister.... Nou ja, ek hoor toe gister by oom Andries dat meneer de Klerk altemit iemand sal nodig kry om hand by te sit’ (p. 23). Hoe raak is ook die bywoner se hele persoonlikheid geteken in die kwasie-gewigtige wyse waarop hy meedeel, dat hy ‘tot 'n besluit gekom 't’ (p. 256), of as hy klaag oor die baie werk (p. 43). Uit so 'n paar plasties uitgebeelde toneeltjies word Sitman vir ons meteens fel-lewend, terwyl Dirk Liebenberg, trots al die swaarwigtige analise alleen 'n toneelskurk bly. Ook ‘kromrug Bettie’ met haar huilende kleinspan in die rokerige lug van die hartbeeshuis is goed getipeer. Mooi leef die moeder-instink op in die verdwaasde skepsel, as daar planne gemaak word om haar kinders na die weeshuis te stuur. Sy glo tog so vas, dat niemand anders so goed vir hulle sal kan sorg nie, al sit sy in die grootste ellende. ‘Daar is Driesie!.... Uit die staanspoor is sy maag onderste bo!.... Sal hulle tussen die kliprandjies rondloop om aambeibossie te soek? En dit laat trek? En dit vir hom ingee? - Nog nooit nie!....’ (p. 54). Selfs by die {==212==} {>>pagina-aanduiding<<} skildering van die ellendigste verliederliking, wat die skrywer in al sy naaktheid toon, sien hy die aandoenlike besorgdheid van die moeder raak, 'n oorblyfsel van haar verminkte menslikheid. Dit is die ligstraaltjie in hierdie hol van ellende. Dieselfde besorgdheid kom mooi tot uiting as sy àl haar skrale kennis bymekaarskraap om Hendriena uit 'n floute te kry. Die hele beskrywing van hierdie winteraand, waarop Hendriena met haar gewillige ‘beskermers’ rondom die vuurtjie sit, is kostelik. Mooi word die stygende angs van die senuweeagtige vrou aangedui. Buite klink die woeste krete van 'n kaffer-slempparty; binnekant styg die spanning deur die onbenullige praatjies van die Meeldiaken, wat, aangemoedig deur die nerveuse belangstelling van Hendriena, sy breedsprakigheid vry uitvier. Dan kom plotseling die naargeestige gehoe van 'n uil, wat selfs die versufte Bettie laat opskrik en by Sitman bygelowige assosiasies loswoel. Treffend word die eenvoudige hulpvaardigheid van Bettie nou geteken, wat tog effens gehinder word deur die gedagte: ‘hulle natuur is mos heeltemal anderster.’ As sy dan die sieke ‘eenkant-toe’ gedokter het verskyn die forse gestalte van outant Grieta, in wie se teenwoordigheid die bywoners dadelik in hul nietigheidskulpie inkruip. By die varkslagtery sien ons weer hierdie bedrywige boervrou, wat in haar werkhaastigheid die slimpraatjies van die mans kort afkap en met diplomatiese handigheid die karmenaadjies verdeel onder die bure. Die ander bywoners se mentaliteit word ook met 'n paar fors trekke aangedui: Willemse, die staatmaker-voorman, Neef Niklaas met sy naïef-wysgerige praatjies oor ‘bestiering’ en ‘bestuur’, Gouws, die dwarskop. Stols, uit Teleurgestel kon deur die oorlog nie in sy gewone lewe geteken word nie. Maar nou sien ons die bywoners in hulle daaglikse besigheid, hulle getob oor allerlei kwellings en die wrokkende gevoel oor hul afhanklike posisie. By Gouws lei dit tot 'n heftige uitbarsting. Op die hawerland probeer hy om deur 'n geweldige kragsinspanning al die kwellings van sy armoede af te gooi. Maar Willemse se tartende aansporing as hy begin pit-uit raak laat hom in 'n plotselinge oplaaiing van drif sy sekel neersmyt. Die vaderlike vermaning van Andries Vry kan sy verbittering nie wegneem nie en Gouws trek na die myne. Maar ook daar woeker die wrok oor sy ondergeskikte posisie voort in sy siel. ‘Boer se kind’, wat hom nie laat vermaak deur 'n Engelsman nie, sluit nou aan by die Engelse leër! En in die gloria van sy herwonne vryheid kom hy met glimmende oorlogsmondering sy ou swoegende maats dronkslaan. In 'n pragtige toneeltjie sien ons hoe Gouws met die windmaker-praatjies van 'n Cape Boy die bewondering van die eenvoudige Niklaas inoes. Die konserwatiewe baas en Bybelvaste ouderling, Andries Vry, staan ook by die vreemde verskyning van Gouws weer klaar met 'n teks: ‘want in die laaste dae sal 'n mens vreemde gesigte sien....’ Vir Andries {==213==} {>>pagina-aanduiding<<} Vry, wat hom met kalme selfgenoegsaamheid tussen sy swoegende bywoners beweeg, bied die lewe nooit 'n probleem of verskynsel, wat hy nie met 'n Bybelteks bevredigend kan oplos nie. 'n Enkele maal kom Van Bruggen self om die hoekie loer, op pagina 29 nl., waar hy verstandige maar onletterkundige opmerkings maak oor kafferpolitiek. Ouboet, Oom Jannie en Die Praatmasjien is ook goed geslaag. Veral die lugtige verhaaltoon val op na die sware sleepgang van Teleurgestel. Daar is 'n vaardigheid in komposisie, 'n handige groepering van allerlei tipes uit die boerelewe, wat met al hul eienaardighede goed geteken word. As realistiese skilder van die plattelandslewe openbaar Van Bruggen 'n bewonderenswaardige deurdringingsvermoë. Stoffel Harmse, die omslagtige verteller en lastige buurman, met sy vervelende ‘jy kan vir Sarie ook vra’, oom Jannie en die weduwee, wat by ‘gebrek aan stof vir vertroulike konversasie hoofpersone uit geslagsregisters van al twee kante opnoem en bespreek’ (p. 101) - dit is fyn-psigologiese trekkies, wat bewys dat die skrywer hom ingeleef het in die mentaliteit van sy mense. Hulle karakter word nie bestuur deur geestige bokkespronge van die outeur nie, maar daar is 'n innerlike ontplooiing, wat ons direk as waar en noodwendig voel. Dit geld egter nie van Die Beeswagtertjie nie, wat eenvoudig 'n nugter bedenksel is, en waar alleen Kleinbooi met enige lewenswarmte geteken is. Die mynwerkers is alleen met so 'n paar strepies toneelverf bestryk en die styl het weer dieselfde opgeskroefdheid as in Teleurgestel. Veral pagina 140 is swak, waar ‘die onmusikale Josef 'n singlus uiter’, en ‘'n siel-treffende Engelse liedjie’ deur sy neus gons ‘met omgewing-influenserende dreun’! Die beskrywing van die begrafnis in Oom Jannie (p. 83) is ook gedeeltelik misluk. Die toespraak tot die ‘onverskillige, gevoellose ligmis’ is heeltemal misplaas, terwyl die volgende sinne ons aan die paddas herinner, wat met so 'n voortreflike gawe des onderskeids die boere op Waterval verwelkom (p. 88). ‘Kyk! die osse hou op met wei, of die redelose vee gevoel, dat nou die tyd nie is vir sinlike lus nie,’ ens. (p. 83). Maar telkens verras die skrywer ons ook deur die toegewyde aandag waarmee hy sy omgewing bekyk. Lees maar hoe steekbaard met ‘uitbundige, kort-bly laggies’ die kat in die kosmos agtervolg tot dit ‘die skoorsteen op, die nok oorgevlieg en met ruie hoepelrug en dik verskrikte swaaistert, op die geweltop vier pootjies vas bymekaar gedruk het in die kleinste ruimte.’ Die Burgemeester van Slaplaagte (1922). In Die Burgemeester van Slaplaagte bly die opgaande lyn in Van Bruggen se kuns gehandhaaf. Dis 'n heel eenvoudige geskiedenis van 'n paar eenvoudige mense in 'n dooierige dorpie, maar Van Bruggen maak dit {==214==} {>>pagina-aanduiding<<} tot 'n stukkie treffende realiteit deur sy lewensware uitbeelding. Oom Lood, wat ‘almelewe oorhoekse jukskeie en vrot voorslae’ (p. 28) met 'n toegeknypte oog verkoop, is familie van Stols uit Teleurgestel. Maar hy is met 'n dieper indringingsvermoë geteken. Ons ken nie alleen sy uiterlike eienaardigheidjies nie, sy lus vir 'n boegoesopie, sy neiging om alles voor die voet te sekondeer op 'n vergadering, maar droom saam met hom oor sy toekomstige kosterskap, kreun saam met hom in sy vadersmart. Want Lewina, sy dogter, doodmoeg vir die eentonige lewe in 'n slaperige stofholte trek na Johannesburg. Goed is die ouers se instinktiewe wantroue vir die groot-stadslewe aangedui en die vertedering wat oor hul harte kom as die kerkklok begin te lui. Oom Lood is 'n deskundige op die gebied van kloklui en hy vererg hom oor die halsoor-kop maniere van die Johannesburgse koster. Reeds voor die reis na Johannesburg het tant Lewina, in 'n opwelling van jaloerse moederliefde, die welgemeende waarskuwing van boet Heina kriewelrig afgekap. Sy verberg haar heimlike kwellings, en haar ergerlikheid oor die nuuskierige belangstelling van bloedverwante verlei haar selfs tot 'n leuen. In hierdie twee toneeltjies (p. 51 en 89) het die skrywer haar houding op voortreflike wyse aangedui. Gedurende boet Heina se lang-asem inleiding sit sy ‘soos 'n huismoeder op 'n Sondagmôre se boekevat as sy tewens die kokery moet dophou’ en later word sy vrou weer getroef met spoggerige uitweidings oor Lewina se netjiese huisie. As hul dom-gerus oor die dogter se toestand huis-toe kom, is dit tog lekker om so 'n bietjie te spog oor die ryk ‘huwelik’! Wanneer Lewina eindelik met haar skande terugkeer, tob haar vader oor die raaisels van die stadslewe, wat hy met sy onnosele Slaplaagtelogika wil oplos. Oom Lood is met soveel gelukkige trekke uitgebeeld, dat ons hom deur-en-deur ken. Die nasionale skoolmeester se skoene word toegedraai in die Engelse krant, waarmee Peach hom wou oortuig van die Duitse gruweldade! Van sulke kostelike humor is daar meer staaltjies. By oom Lood staan dit vas: ‘Daar was net een vèrplie baklei, en dit was in een-en-tagtig se oorlog; en daarom het ons die Rooies toe uitgestof’! (p. 39). Van 'n kunstenaar, wat so diep in die psige van 'n eenvoudige siel kan deurdring, kan seker nog veel verwag word. Ook die byfigure word met enkele raak trekke geteken, sodat die hele stowwerige Slaplaagte met sy bewoners helder voor ons staan. Daar is Pieter van Staden met sy moedelose, don't-kêr-stemming, omdat die reent nie wil kom nie, maar vol vuur op die skoolkommissie-vergadering, waar hy sy wysheid oor windpompe uit. Die hele vergadering is 'n mooi geslaagde voorbeeld van Van Bruggen se ‘copiëerlust des dagelijkschen levens’. Hy hoef ons nie nog te verseker, dat 'n voorval ‘histories’ is nie (p. 60), ons voel direk dat alles eg is, so noukeurig selfs, dat dit telkens die indruk van 'n document humain maak. {==215==} {>>pagina-aanduiding<<} Die ondergang van die eenvoudige boermeisie in die goudstad is die swakste gedeelte van die verhaal. Die manier waarop Lewina se ouers en familielede op die geval reageer word wel goed uitgewerk, maar Van Bruggen mis nog die krag om haar val dramaties-beeldend weer te gee. Dit is veral die pedagogiese kant van die saak wat hom interesseer, en in plaas van sielkundige beweging verval hy in 'n saaklike feite-opsomming. 'n Hoogtepunt bereik sy kuns egter in die roman: Ampie (Deel I). Die Natuurkind (1924) 1). 'n Paar weke het ek stil-gelukkig met Ampie deurgebring. En telkens as ek die pen wou opneem om hierdie waardering te skrywe, was daar iets wat my bevelend toegeroep het: Wag.... totdat jy alles inniger deurvoel het! Want Ampie is nie 'n boek wat mens in een slag wil deurlees nie; daar is geen spannende intrige wat geleidelik ontwar en met 'n bevredigende slot bekroon word nie; daar is geen kunsmatige saamskrapery van allerhande toevallige faktore tot 'n geforseerde geheel nie. Ampie is net die geskiedenis van die groei van 'n armsalige bywonersieltjie; Ampie is net vol van die kommergedagtetjies en onsinnige lugkasteeltjies van die halfdierlike seun van ou Goor Dawid, wat sy kind vir 'n hele jaar verruil om hom aan 'n vark te kan ooreet! Nee, Ampie wil jy nie in een slag deurlees nie! Jy wil elke sin stadig proe-proe, elke trek omwerk in jou eie verbeelding, totdat langsaam voor jou oprys die verflenterde boereseun en sy geduldige maat, ou Jakob, die donkie. Terwyl ek dit skryf, staan Ampie hier vlak voor my met sy verflenterde toiings. Ek ruik die muwwe rooklug, wat sy vervuilde liggaam onder die aangekoekte vodde uitwasem. Oor sy voorkop lê die verwaaide slierte van 'n bokram-kuif, uitloerend onder 'n vetterige ou keps wat wegsak oor sy ore. Willoos staar sy groot bruin oë my in verwondering aan. Maar plotseling flits daar 'n glimpie van belangstelling deur sy doellose loeroë; hy het 'n oulike kulplannetjie uitgedink en met onnosele vrypostigheid vra hy: ‘Het omie nie altemit 'n los sikspens nie?’ Is dit nie die hoogste triomf van die kunstenaar nie, dat die figure wat hy in die heimlikheid van sy onbewuste geskep het, in hulle volle menslikheid voor ons oprys, op so 'n manier dat ons hulle nooit weer kan vergeet nie? Dit het Van Bruggen in Ampie bereik. Met Ampie klink daar sonder die geringste twyfel ‘'n nuwe geluid’ in ons Afrikaanse romanliteratuur. Die heerskappy van die kakelbont avonture-roman, op sy bes 'n prettige verposing vir 'n bioskoop-publiek, is verbreek. Ook die Afrikaanse kunstenaar stel ons nou van aangesig tot aangesig voor die Lewe, soos dit werklik is, en die produkte van 'n ‘cowboy’-verbeelding kan ons tans met 'n toegéwende glimlag oorlaat aan dié groot-kinders wat nog lief is vir oppervlakkige plesiertjies. Hulle {==216==} {>>pagina-aanduiding<<} sal in Ampie, die epos van 'n nietige bywoner, niks kry wat ‘spannend’ genoeg is nie, want in dié boek sien ons net hoe uit die gewone verhouding van die lewe 'n lewenskiempie sukkel-sukkel om los te kom uit die wurgatmosfeer van 'n dierlike ontaarding en eindelik tot 'n geringe mate van wasdom ontplooi. Ampie word die simboliese verteenwoordiger van 'n hele volksgroep, magteloos spartelend, of gedweeonverskillig onder die ekonomiese masjien, armblanke mens-diere met 'n paar beskaafde aankleefsels, die laaste erfgoed van 'n kragtige ras; mens-diere wat deur die botviering van hul taaie lewensinstinkte, nog sterker geword in 'n verwilderende natuurlewe, telkens in botsing kom met die genadelose maatskappy. En nog dieper moet dié mens-dier wegsink in sy ontaarding, in sy hopelose stryd teen die georganiseerde samelewing, as daar nie 'n verstandige Booysen kom, om met liefdevolle toewyding die Ampies van ons volk op te hef nie. Daarom juis is hierdie boek van net soveel maatskaplike as letterkundige belang, ofskoon dit gelukkig so goed as sonder vooropgesette strekking is. Ons het al baie referate gehoor oor die armblanke-vraagstuk. Laat almal wat hulle besighou daarmee, van ons Eerste Minister af tot die werker in die agterbuurtes toe, nou kennis maak met Ampie, waarin die mentaliteit van die gedegenereerde Afrikaner so treffend uitgebeeld word deur 'n kunstenaar, wat nie net sy bywoner van buite af bestudeer het nie, maar homself tydelik so vereenselwig het met die armblanke-natuur, dat hy 'n vleesgeworde Ampie in sy sukkelende sielsgroei aan ons kon openbaar. In die eerste hoofstuk bring Ampie met 'n seer hart sy esel, ou Jakob, vendusie-toe, want sy pa het 'n onbedwingbare lus vir varkvleis gekry. Fors van lyn is al dadelik die tekening van die vendusie-drukte, met Ampie, half verwilderd en tog vrypostig-vriendelik, leunende op sy ou maat eenkant in 'n hoek van die kraal. ‘Vaal van die stof is die vodde om sy lyf, en die groot, ou keps, wat tot sy ore ook toemaak, nes die aan-die-slaap ou esel hier langs hom. Met die linker-arm oor die skof van sy maat geslaan, hang hy dooie-rus teen die geduldige Jakob. Sy skurwe swart voete, met hulle groot weglê-tone, sak onder die kraalmis....’ Treffend is die vriendskap tussen Ampie en sy maat uitgebeeld; die naiewe hoogmoed van die seun wanneer die afslaer ou Jakob so prys, sy vreugde oor die skramsskop wat die spotlustige Joodjie van die esel kry; en nadat Booysen ou Jakob gekoop het, sy mistroostige stemming en vertedering oor die verlore maat. Maar 'n blik op die ou murasie laat sy bitterheid teen sy vader in felle verwensings uitlaai. Hy sal die bloedgeld van ou Jakob gebruik om onafhanklik te word, maar gaan eers nog by Annekie troos soek. In die tweede hoofstuk hou Oom Tys, Annekie se vader, huisgodsdiens. Beklemmend werk die bedompige pondok-atmosfeer en die geheimsinnige dreiging van die Bybelwoorde op Ampie, wat voel dat uitoorlê {==217==} {>>pagina-aanduiding<<} hier niks help nie. Met 'n paar stukkies mooi plastiek kry ons nou 'n kykie op oom Tys se huishoue. Dwarsdeur die boek tref dit ons dat die skrywer hom so ingeleef het in die spreekwyse van sy figure dat hul karakters dadelik opduik uit die kernagtige dialoog. So sê Ampie b.v. in 'n windmaker-stemming na sy tweede bord mieliepap en boontjiesoep: ‘Ek sou (die tarentaal) gekwint het dat sy gorrel nooit weer sou geskree het nie!’ (p. 25.) Ampie het vanaand met grootse planne gekom; dit moet ‘'n regtige opsit’ word! Annekie het egter met vroulike skerpsinnigheid al iets aan sy houding gemerk en hou haar kastig sedig met 'n vraeboek. Hoe beminlik-lomp is sy eerste aanvoorvraag: ‘Voel jy sleg, Annekie?’ want ‘sy hartslag dwing om die bewerasie te kry en hy moet net sluk.’ Pas hierdie laaste sinnetjie nie pragtig in dié atmosfeer nie? Die hele opsittoneel trouens is 'n stukkie plastiese psigologie, treffend deur sy innerlike waarheid. Ampie raak weg in sy grootmans-visioene: ‘Ek sal jou kom haal met my eie trollie en ag donkies,’ maar Annekie lê vir hom haarfyn die hele proses van verloof en trou uit, want alles moet mos presieskorrek en fatsoenlik gaan, soos in die hoër kringe! Die plegtige jawoord en die ring - ‘so 'n blinke met baie steentjies soos klein gernaatpitte.... een wat jou oë seermaak as jy daarna kyk’ - die ring veral, weeg swaar by haar. Met die geld van ou Jakob trap Ampie dorp-toe (Hoofstuk III). Mooi realisties is die tekening van die begerige Ampie voor ou Moosa se winkelvenster. ‘Sy twee voete plak soos dik plat ysters op die leiklipstoep’ - aan so 'n enkele sinnetjie voel 'n mens dat die skrywer hom werklik daar gesien het. So lank as hy geld het, order en koop hy links en regs, en die gedienstige koelies draf vir hom. 'n Egte groot-meneer is hy, wat hom nog verbeel dat hy die koelie toegetrap het met die koop van Annekie se ring! In 'n skeur van 'n donga, waar die dorp se vuil water in afloop, nestel hy hom met sy skatte. Kostelik is die beskrywing van sy agtuur. ‘Hy sukkel die prop van sy gemmerbierbottel met sy knipmes uit, en dadelik kloeng-kloeng hy tamaai slukke weg. Met stote breek sy opgehoue asem uit, terwyl hy gretig met 'n vol hand 'n stuk uit die hopbrood uitknyp. Hy prop sy mond so vol, dat sy wange bak bly as hy kou....’ (p. 39). Die haastige ritme van die sin: ‘Hy grou en gryp en sluk en smul....’ vertolk goed Ampie se gulsige bewegings. As hy versadig is, word die ritme van die sinne ook traag: ‘Lui volg sy oë die dwarreling wat hy uitblaas breed en yl....’ en Ampie se slaperige stemming as hy daar ‘so roerloos as 'n akkedis op 'n klipmuur’ lê en bak word mooi aangedui. Teen twaalfuur se kant gaan hy slagpale-toe, waar hy hom verkneukel oor die laaste spartelings van 'n geweldige afrikaneros. Met die terugloop {==218==} {>>pagina-aanduiding<<} na sy dongaskeur sorg hy op 'n oulike manier vir die allernodigste kombuisgereedskappies en met naïewe optimisme peins hy: ‘Wanneer sy tuisplek hier behoorlik reggemaak is, kan hy (Annekie) amper hiernatoe bring!’ 'n Polisieman versteur egter sy idilliese toekomsplanne en Ampie kom agter die tralies. Die vierde hoofstuk lyk vir my oor die algemeen minder geslaag, want in die gesprekke van die twee bandiete word die opsetlike strekking taamlik dik opgeplak. In kwasie-verhalende vorm kry ons 'n beskouing oor die onwettige drankhandel. Ons voel al die tyd dat die skrywer ons wil oorhaal om sy opinie te deel. Die bandiete gebruik hy net as spreekbuise, m.a.w. hy is hier nie 'n beeldende kunstenaar nie, maar 'n redenerende debatleier. Die inspirasie het vir 'n rukkie weggeraak. Tog staan daar ook in hierdie hoofstuk baie mooi dinge. Ampie se verslaenheid, sy eetlus en vertroulike meedelings oor Annekie is goed weergegee. In die vyfde hoofstuk kry ons 'n skildering van Blikkiesdorp, waarin die strekking nog deurskemer. Die skrywer is nog in 'n redeneerbui en sy beskrywing bly vaag en algemeen. ‘Arbeid en bearbeiding alleen sal daardie atmosfeer reinig en selfrespek aan die verslegte blankedom teruggee.’ (p. 59.) Dis of Van Bruggen hier met 'n stokkie na sy uitbeelding wys en sê: ‘Kyk nou goed! Dit is die betekenis van my prentjie!’ 'n glad oorbodige versekering, wat alleen die gang van die verhaal belemmer. Die skrywer sukkel 'n bietjie voor hy weer mooi op stryk kom, maar die eensame wandeling van vader en seun is pragtig van uitbeelding. Ampie het 'n hele rytjie leuens mooi agtermekaar, maar so geweldig is die uitbarsting van ou Dawid se woede, dat Staander net betyds kom om 'n moord te verhinder. Goed gesien is dit om die vader dan later weer te laat witvoetjie soek; ewe gedienstig gee hy inligtings oor 'n paar verdwaalde osse. Nou sien ons ook die familie Nortjé rondom die vuurkan in die môreskemer. Die half-simpele moeder van Ampie, wat af en toe haar kinders probeer stil vloek, verkeer nou in 'n vlaag van vroomheid. ‘Salig hy die in dit lewe’ sing sy aanhoudend, en Mina slaan toevallig die Bybel oop by.... die Hooglied van Salomo! Maar die armsalige krot-bewoners is onbewus van die bittere humor van die situasie. Let op die verhouding tussen Ampie en sy ouers. Vir sy verliederlikte vader, wat slegs een ‘ambisie’ het, nl. om hom te ooreet, koester hy net vrees. Die half-idiote Bettie is 'n geduldige moederdier, wat deur die verstomping van haar gees nie die omvang van die ellende in die murasie-woning besef nie. Krampagtig klou sy egter vas aan die laaste oorblyfsels van beter dae, die herinneringe waarvan telkens deur haar verwarde brein spook. Aandoenlik is in hierdie onnosele skepsel die gevoel van moedertrots. Sy het 'n onbeperkte vertroue in haar oudste seun, {==219==} {>>pagina-aanduiding<<} wat al so dikwels sy pa uitoorlê het met oulike plannetjies. Tussen haar en Ampie heers 'n soort vertrouelikheid. Haar lawwe praatjies vererg hom wel somtyds, soos in die geval van die geld wat hy sou ‘gebank’ het. Maar as hy in die regte stemming is, gee hy hom oor aan haar speelse ‘ontydigheid’ b.v. in die lewendige toneeltjie waar sy hom met droë miskoeke bestook. (p. 142.) In die dwaalbrein van Bettie leef nog die moederliefde wat die skrywer op gelukkige, eg-bywoner-manier tot uiting bring. Ampie is nou in 'n moedelose stemming. ‘Sy eerste groot ambisie het jammerlik gesterwe.... Met ou Jakob het hy alles verloor!’ Wanneer hy eers sy verdriet by sy ou maat uitgekla het, kry hy weer nuwe moed. Impulsief besluit hy: ‘Oom Kasper, jy het vir ou Jakob gevat, jy sal vir Ampie ook moet vat!’ Mooi is hier die oorgang na die nuwe tydperk aangedui, 'n punt wat die meeste romanskrywers nogal moeite veroorsaak. Nou word Ampie handlanger op Booysen se plaas. Booysen oorbluf Ampie en sy pa met die plegtige tekening van 'n kontrak, wat een van die bes-geslaagde toneeltjies is. Fyn-ironies is die vaderlike vermaning van ou Goor Dawid, wat soetsappig instem met Booysen: ‘Ja, Ampie, doen jou bes, ou seun.... dis kaffersleg as 'n mens ongeleer bly.’ As hy eindelik die kontrak moet teken, is hy rats genoeg om in die gouigheid nog 'n ekskusie uit te dink: ‘Oom Kasper, jy weet die griep.... my hande was daardie tyd glad dood, en ek het glad verleer om my naam te teken.... Kom Ampie, vat die pen onder; ek sal bo vat!’ (p. 90.) In die volgende hoofstuk sien ons Ampie en Annekie in die dekgras. Maar vooraf moet hy eers haar broer Bart omkoop om die begeerde onderhoud te kry. Bart maak met 'n fyn besigheidsinstink gebruik van Ampie se verliefderige stemming. Al Annekie se besware word opgelos deur Ampie se optimisme. Oom Kasper sal vir alles regstaan. Maar gaandeweg raak hy weer in 'n groot-meneer-stemming, en Booysen se hulp word heeltemal uitgeskakel. Ampie sal self sorg dat hulle twee ‘propper’ kan boer! In die agste hoofstuk raak Booysen aan ‘filosofeer’ oor arm blankes, met die gevolg dat die dialoog opgeskroef en vals word (vgl. p. 113). Nou begin die beskawings-eksperiment op Ampie wat soos 'n wilde dier in 'n soölogiese tuin voel. Daar in 'n konflik in sy eenvoudige siel. Aan die een kant is daar die dierlike instinkte, versterk deur die onsalige invloede van 'n agterlike omgewing en die prikkeling van oorgeërfde neigings, aan die ander kant die half versmoorde kieme wat deur die beskawende invloed van die Booyens tot 'n soort sukkellewe gewek word. 'n Verwilderde veldplant, wat nog so 'n ietsie oorgehou het van sy edele afkoms, word oorgeplant in 'n tuin. 'n Rukwind het die saadjie weggevoer en die veldplant het al halfpad groot geword in die woesteny {==220==} {>>pagina-aanduiding<<} van veldruigte, voordat 'n belangstellende tuinman die verdwaalde plantjie terugbring na sy tuin. Nou moet die tuinman eers die wilde lote afsnoei en die plantjie met tere sorg bewaak, voordat dit hom aan die nuwe omstandighede kan aanpas. Met allerhande fyn trekkies word die geval aanskoulik gemaak, terwyl ook die wyse waarop Ampie op die proefneming reageer, goed geteken word. Die wilde natuurkind skep behae in die speelgoed van die beskawing en word al gou vrypostiger in sy houding. In die plaaswerk hou hy sy lyf taai, en Staander is net tevrede oor hom. Op 'n goeie dag kom Ampie se ma met 'n hele tros klein goor-Dawids kuier. Die speelse stoeiery tussen Ampie en sy ma, en haar idiote praatjies gee aanleiding tot lewendige toneeltjies, maar die treffendste is tog die wanhopige poging van die moeder om 'n skyn van beskawing te bewaar. ‘Teenswoordig se kinders is te onpresies. 'n Mens kry geen geaardheid in hulle nie; hulle is nes Kaffers!.... Kleinsus, staan agteruit! Moenie so ongeaard vir 'n grootmens staan en kyk nie!’ (p. 146.) En hoe innig Van Bruggen hom ingeleef het in die taal van die armsalige skepsel, blyk uit die gepaste beeldspraak: ‘Maar Ampie is 'n wonderlike kind, hy is onverstaanbaar soos 'n lemoen sonder pitte. Hy is so dig soos 'n vark wat pitjies het.’ Mooi is ook die uitbundige vrolikheid van Ampie oor die bolmakiesieslaan van 'n kat, en goed gesien is dit om hom dan weer dadelik te laat oorslaan in 'n heftige drifbui, wanneer hy sukkel aan 'n paar moere wat dolgedraai het. Juis by so 'n natuurkind moet ons 'n oer-sterke uiting van die lewens-instinkte verwag. Booysen openbaar hier ook, soos deurgaans, 'n gesonde opvoedkundige insig. Maar die klimaks van hierdie voortreflike hoofstuk (XII) kom nog, want nou bring Bart die afsê-brief van Annekie, 'n juweeltjie van egte tipering. Heftig bars nou weer die woede van die mens-dier los in kernagtige bywoner-beeldspraak: ‘Wat traak dit my met Annekie? Dis nie 'n handvol nie, dis 'n landvol! Dis nie geplant nie, dis gesaai! Kyk hier ou Bart, en sê vir Annekie wat jy hierdie heden sien!’ (bl. 57.) Hy gaan maar weer by ou Jakob troos soek! Dieselfde aand moet die arme beeste dit vergeld. Mooi is die siening in: ‘Die beeste stap langsaam op hul verslapte winterpote, tam oor die plaaspad kraal-toe’ en agter hulle die van dolheid besete Ampie. Die figuur van die swygende Booysen laat hom egter bedaar en aanstons flikflooi hy al weer: ‘Het Omie opgelet? Blommetjie maak uier!’ 'n Skrywer wat so fyn die innerlik van sy karakters kan deurvoel, moet 'n mens liefkry! Ek slaan die tekening van Staander, wat so swaar kry onder sy skuld en die neulery van vrou en dogter oor, om te wys op die heerlik-sterke uitbeelding van Ampie se liefde vir Hester Staander. Hester het hom nodig, want sy wil dorp-toe vir die aanneming. Aandoenlik is sy probeerslag, om met haar op te sit en die Staanders te vermaak met 'n raaisel. {==221==} {>>pagina-aanduiding<<} Die arme skooiertjie wat Annekie met bywoners-ruheid behandel het, raak tans in 'n poëtiese stemming. Annekie is nou vir hom ‘somar 'n ordinêre meisiekind, wat g'n behoorlike opvoeding gehad het nie.’ Hy aanbid Hester op 'n eerbiedige afstand. Sy dienende hulpvaardigheid op die reis met die ossewa en die kronkelgedagtes van sy verliefde mymeringe word op 'n innig-ware toon geteken. Hy koop vir Hester 'n sikspens se lekkergoed by die koeliewinkel en ‘sou wat betaal, ja, tien dosyn hoendereiers, wat hy in die ruigte optel, om die fyn handjies van Hester vir so'n ruk vas te hou....’ Sy dorpsindrukke word met 'n paar fynhumoristiese draaitjies meegedeel (b.v. die predikant in die preekstoel). Breed van swaai, digterlik van toon is die beskrywing van die rit plaastoe in die rooidagvroegte. Ampie beleef die tederste emosies; sy hart dwing boontoe na die sterre. Die wa sing vir hom ‘'n lied van liefde, wat wil waak, beskerm en troetel, alles in die wa hier onder sy versorging. Dis weer sy wa, sy osse; dis alles syne wat neffens hom aanklop so reguit na die môrester, helder, blink en lieflik....’ Diep het Van Bruggen die moontlikhede van hierdie eenvoudige sieltjie gepeil en groot moet sy liefde gewees het, om so onder neerbuigende meerderheidsbetoon Ampie se geringste gedagtes na te doel en suiwer-objektief weer te gee. Op die Nuwejaarsfees kom die keerpunt in die lewe van sy gevoel. Hy piets hom fyn uit om die dorpsmeneertjie wat rondom Hester draai, goed op sy plek te sit. Maar die verskyning van sy ma met 'n hele tou goor-Dawids verydel sy plan en nou merk hy eers hoe verwaarloos sy familie is daar in die murasies, ‘waarin hulle opmekaar bondel soos beeste in 'n kraal, en slaapplek vat, as hulle vaak kry....’ (p. 195). Ou Jakob moet hom weer troos en daar by die esel vlam sy drif op: ‘Wie is die Staanders dan so danig? Hulle eet ook maar meeste stywe mieliepap....’ Langsaam ontwaak nou weer sy gevoel vir die verstote Annekie. Inniger lewe hy met die natuur saam in sy vertedering. Maar 'n groot onweer wek in hom die onbestemde vrees en bygeloof van die primitiewe oermens, wat die skrywer in mooi plastiese toneeltjies uitbeeld. Hoe suiwer-menslik is sy benoude beloftes in die dondering van die orkaan! ‘Ag as die liewe Here hom tog maar sal spaar! Hy sal die Bybel elke aand lees en nooit weer vloek nie en nooit g'n arme os mishandel nie....’ Sy benoudheid soek uiting, hy oorwin sy skamerigheid en sing die aandsang vir die Booysens. Aandoenlike humor! In die nag bars hy uit Booysen se kombuis uit, waar sy angsgevoel hom laat skuiling soek het, want hy voel, o so seker, dat die weerlig iets van hom getref het. Dit moet òf Annekie òf ou Jakob wees! En in sy martelende onrus roep hy uit: ‘Ag, liewe Here nee, dan liewerste vir Annekie! - Ag, liewe Here nee, spaar ons tog al drie same asseblief!’ (p. 210.) {==222==} {>>pagina-aanduiding<<} By die lewelose liggaam van sy ou maat worstel Ampie die nag deur met sy smart. Annekie moet ook van ou Jakob se dood hoor en hy eindig sy aandoenlike brief ‘so sluit ek met die pen maar Nooit met my verlangende Hart....’ Maar die posmeester het ‘sweerlik die brief vrek-omgedraai!’ Wanneer Bart eindelik met 'n boodskap kom, lewe Ampie se naïewe grootheidswaan op: ‘Ek is onmisbaar vir Oom Kasper, 'n mens kan maar sê: ek is Oom Kasper self!’ Met 'n geweldige oer-krag probeer hy om die veldbrand dood te slaan, en daar by die lap dekgras waar sy eerste liefde uitgebot het, vind hy weer vir Annekie wat hom help om dié skone herinnering van die vlamme te red. Dit is 'n passende slot vir die eerste fase van sy ontwikkeling. Saam met die verstandige Booysen sal hy wel ‘oor die bult kom’ wat maatskaplike posisie betref. Maar in sy gemoed sal hy steeds bly die half wilde natuurkind, wat telkens onder die drang van sy half-dierlike instinkte en oorgeërfde neigings woes en bandeloos moet uitspat uit die beklemmende atmosfeer van die beskawing. Soos Van Bruggen hom geteken het, sal hierdie bywonerseun voortlewe in ons letterkunde en in ons harte. Hy het die koddige, maar ook die tragiese kant van die sukkelgroei in Ampie se siel met die heftigbegrypende en fyn-aanvoelende intuïsie van die waaragtige menseskepper uitgebeeld. En hy besit ook dié vorm van die liefde wat in die dwaasheid van die mense hom met hul gebreke versoen. Sy roman laat ons aan Querido se Amsterdamse epos dink. Met 'n suiwerheid van lyn, 'n forsheid van visie, so vol ingehoue krag het Van Bruggen hierdie epos van 'n nietige mensie geskep. Skoon en harmonies het dit langsaam omhoog gegroei in die kunstenaar se onbewuste en op byna elke bladsy voel ons die huiwerende leeftrilling van 'n groeiende kindersieltjie, wat voetjie vir voetjie die beskaafde wêreld inskuiwe.... Van Bruggen se sinne loop nie 'n lugtige trippelpas nie; inteendeel, dit het deurgaans 'n trae sleepgang. Waar hy 'n gemoedstoestand beskrywe is die sinne volgelaai, swaar van betekenis. Hy het nog, soos in Teleurgestel, 'n voorliefde vir die abstrakte begrip, wat hy gewoonlik deur 'n beeld veraanskoulik: ‘Somber staan die twee (Ampie en ou Jakob) lank roerloos; maar die stil leedgevoel verbree, soos olie op 'n waterplas, oor die skone simpatie, wat in die sombere kombinasie lewe.’ (p. 159.) Meestal moet ons elke sin sorgvuldig weeg en uitpluis om die volle betekenis van die beeld te vat, soos in die volgende b.v.: ‘En onderweg het in sy sterkoorspanne hart 'n reaksie ingetree, wat breed en vol sy hart en denke oormeester, en die teer gevoel wat onder die mal woordgeraas, ondeurdag oor sy lippe uitgeborrel, gesluimer het, bedou die hitte van sy drif’ (p. 158). In so 'n sin word die oorgang van een stemming {==223==} {>>pagina-aanduiding<<} (dolle drif) na 'n ander (smartvolle gemis) aangegee, en wie haastig lees, sal hom nie kan inleef in die kronkelinge van Ampie se gedagtegang nie. Partymaal word sy styl, veral waar hy sielkundige skakerings wil weergee, duister en gesog, maar deurgaans kan ons daarin die trilling van 'n bewoë gemoed hoor, wat treur oor die verslegting van die afstammelinge van die Voortrekkers. Want hierdie boek het as vanself omhoog gegroei uit die dieptes van 'n liefdevolle hart, wat met 'n weemoedige vreugde die spartelinge van 'n skooiersieltjie intens deurvoel het. Hy het eerbied vir die geheime skoonheid wat in 'n eenvoudige flenterkind kan ontkiem, en selfs by die beskrywing van Ampie se koddigste kaskenades sien ons op die skrywer se gelaat die glimlag wat wegraak in medelyde. Dis nie die spotlag van een wat hom uit die hoogte uit vermaak oor 'n minderwaardige nie. Die weemoed en die eerbied vir die natuurkind, wat so hulpeloos verbluf, en tog so astrant-naïef kan wees, deurtrek die hele verhaal. Met 'n sobere objektiwiteit teken Van Bruggen die verminkte menslikheid van die bywoner-klas; die ellende van hul gore bestaan versigbaar hy met koelbloedige saaklikheid; die stank van ou goor Dawid slaan soos 'n wasem uit die boek op; die verkafferde lewenswyse word in sy naaktheid geskilder. Hy lei ons deur die pondokke van die armoede, ons voel die benouenis van die bedompige atmosfeer, maar hy deurlig hierdie armsalige bestaan ook met 'n straal van sy gees. Hy rangskik die verbeestelikte armoede-chaos, herbou die gegewens van sy nugtere observasie volgens die ingewings van sy eie hart tot 'n nuwe geestelike orde, wat vir ons menslik-verstaanbaar word. Die oppervlakkige beskouer sien net die warrelende chaos, die kunstenaar herskep dit geestelik, hy orden die veelvuldigheid en maak die lewe perspektiwies. Soos elke waaragtige kunstenaar is Van Bruggen 'n sielsopenbaarder. Hoe grof lyk die weefsel van Ampie se sieltjie tog! Maar die psigologiese insig van die skrywer toon ons hoe fyn die drade daarvan inmekaar gevleg is. Hy laat die toiingskind in sy omhulsel van nietigheid, maar toon ons selfs daarin die sukkelende kiempies van 'n omhoog strewende menslikheid. Die vernaamste faktor in sy openbarende psigologie is die hoorbaar-gedroomde monoloog van Ampie, wat byna dwarsdeur die boek met verrassende egtheid weergegee word. Ampie se figuur sal onvergeetlik bly in ons letterkunde; hy staan daar as die simboliese verteenwoordiger van ons arm-blankedom, 'n roerende aanklag teen die traagheid van die Voortrekker se nasate, wat nou eers begin te soek na hul afgedwaalde natuurkinders, vasgewoel in die striknet van 'n ekonomiese dwang. Die Ampies van ons volk kán en móet gered word! {==224==} {>>pagina-aanduiding<<} Ampie (Deel II). Die Meisiekind (1928). Na vier jaar het eindelik die langverwagte vervolg op Die Natuurkind verskyn, wel 'n bewys hoe ernstig Van Bruggen se opvatting van sy kuns is. Ek wil meteens konstateer dat hy in alle opsigte daarin geslaag het om die hoë peil van die eerste deel te handhaaf. In die tweede deel tree die Tys-familie meer op die voorgrond en veral Annekie, wat nou as verloofde ‘meisiekind’ en vrou die hoofrol speel. By die lap dekgras, waar sy eerste liefde uitgebot het, vind Ampie weer vir Annekie, wat hom help om dié skone herinnering van die vlamme te red. Maar selfs by hierdie twee eenvoudige siele is dit nie sommer net 'n geval van ‘mekaar kry’ nie - daar is ernstige hindernisse wat moet weggeruim word voordat Ampie sy droom kan verwesenlik. Gedurende die eerste maande egter, gee hy hom ongestoord oor aan sy verliefde fantasie. Hy leef vèr weg in 'n gelukkige toekoms, waar die tallose kwellings van die gewone, alledaagse lewe tot nietighede versmelt. Ampie, die onnosele flenterkind van die vlakte, het nou 'n digter geword, wat by die es van oom Flip se verlate huisie droomgesigte van sy toekomstige geluk sien. Weemoedig peins hy oor sy mislukte liefde vir die aanstellerige Hester, maar hierdie gedagtes laat net sy bewondering vir sy volmaakte meisiekind styg. Helder besef hy nou hoe Hester hom maar net as haar hotnot wou gebruik. Elke stappie wat hom teruggevoer het tot Annekie kry 'n nuwe betekenis - alles is mos so beskik deur 'n wyse Voorsienigheid, wat hom sy bestemde deel wou gee. Die pondokkie van Staander word 'n heiligdom vir hierdie eenvoudige aanbidder van die skoonheid van 'n vrou, en as hy die leë slaapkamer binnedwaal, waar die geheimsinnige moontlikhede van die toekoms hom oorweldig, dan rys daar spontaan uit sy boesem op die heilige drang om alles vir sy liefste op te offer, en slaak hy die innige versugting: ‘Ag Here, maak ons twee gelukkig hierso!’ So kom onder invloed van die liefde Ampie se beste eienskappe tot ontplooiing. Sy intelligensie mag beperk wees, sy uiterlik ru en onbeskaaf, maar hy beleef tog die teerste emosies. Sy gevoel van eie-waarde styg en met naïef-oulike astrantheid beraam hy plannetjies om die nodigste dingetjies vir 'n eie boerdery in hande te kry. Die onnosele kind van die vlakte swerf nou nie meer gedagteloos rond nie. Hy het 'n doel in die lewe en met 'n onverwoesbare optimisme oorwin hy alle swarighede. ‘Sy planne kom vanaand tromp-op-mekaar, soos 'n span osse, wat op die draaiplek onklaar getrap het’ (p. 12). In werklikheid is al hierdie planne gebaseer op oom Kasper se vrygewigheid, of op sy eie onbeperkte vermoë om skynbaar nuttelose ‘losgoed’, wat net in ander mense se pad is, tot bruikbare dingetjies om te toor. Hy dien Booysen met 'n {==225==} {>>pagina-aanduiding<<} gewillige werkywer en reken dat hy die volste reg het op sulke toevallige voordeeltjies of byverdienstes wat hom as voorman op die plaas toekom. Hy is trots op sy eie vindingrykheid wat sulke nuttelose ‘afval’ produktief kan maak. Hy voel dan ook nie die geringste skaamte om met herhaalde aansoeke tot Booysen te kom nie. As hy die vernuf het om Booysen daarop te wys dat sy populierbome te dik staan en die moeite doen om die nuttelose bome uit te dun, dan het hy mos reg op 'n klompie pale vir 'n katel! As hy 'n hok maak vir die lastige, ‘onbesabelde’ sog, dan spreek dit tog vanself dat hy een varkie moet kry! Booysen het gelukkig voldoende pedagogiese insig om Ampie se werkywer deur billike belonings aan te moedig, al moet hy sy vrypostige annekseer-lus ook soms binne redelike grense beperk. Hy weet dat sulke indirekte voordeeltjies, ‘perquisites of office’ as 't ware, Ampie se werkvermoë vertiendubbel, sy selfrespek laat styg en hom prikkel tot getroue pligsvervulling. Een van die hindernisse wat voorlê is die teenstand van tant Annie. Met die skerpsinnigheid van 'n moeder het sy al gou die ‘strawwe vryery’ opgemerk, maar haar welgemeende, hoewel taklose waarskuwing spoor Annekie net aan tot koppige verset. Noudat die geliefde bedreig word, verander haar kalme geneentheid vir Ampie eensklaps in 'n gloeiende passie, wat klem en oortuiging verleen aan haar vernuftige argumente. Vol kinderlike vertroue bepleit sy Ampie se saak: ‘O Ma ken nog nie vir hom nie. Ampie begin nou al te sorg.... Ampie het baie groot kanse en sy planne is agtermekaar...’ Met 'n kragwoord probeer die moeder haar neerlaag dek. Sy is mos die arme sukkelaarster wat almal se swaar moet dra! Met veel meer tak voor sy die saak by haar man aan. Oom Tys het deur 'n noukeurige studie van die Bybel 'n verbluffende redeneervermoë ontwikkel, wat hom in staat stel om alle andersdenkende persone met 'n welgekose teks morsdood te gooi. Met sy eenvoudige logika bereik hy die sonderlingste gevolgtrekkings, en daar hy met 'n ruime mate van verwaandheid bedeel is, kan hy hom maklik verbeel dat hy eintlik predikant moes geword het. Tant Annie maak 'n goedgeslaagde aanval op sy verantwoordelikheidsgevoel en verplig hom om uit sy ‘hoëre regione’ af te daal tot die beskouing van die huwelikskanse van sy dogter. Maar die uitkoms is vir haar 'n verrassing! 'n Huwelik tussen bloedverwante - daarvoor is daar mos bewysgrond in die Bybel, en al is Ampie ook hoe dom, hy wat oom Tys is, sal hom volleerd aflewer aan die predikant! Met so 'n magtige bondgenoot as oom Tys is die saak vir Ampie gewonne. Pragtig word die styging in Annekie se liefde uitgebeeld in die hoofstuk By die Dekgras. Sy is nou nie meer die skamerige meisiekind nie, maar die vrou van aksie, wat alles reël, en daarby ook die teder beskermende moedertjie wat Ampie soos 'n hulpbehoewende kind opbeur en vertroos. Die aanneming, wat soos 'n reuseberg vir hom wil platdruk, {==226==} {>>pagina-aanduiding<<} lyk nou die eenvoudigste saak van die wêreld. Annekie se innige geloofsvertroue - ‘Jy sal nie afgewys word nie! Die Here sal jou deurhelp!’ - en haar intieme kennis van die eksamenstokperdjies laat in Ampie die ou ingebore optimisme herleef. Annekie is inderdaad 'n vrou-duisend! Haar liefde maak haar sterk. En sy leef, omdat sy so eg-menslik is. Op oortuigende wyse laat die skrywer ons hier voel dat die liefde, selfs in sy eenvoudigste en aller-primitiefste openbaring, altyd ons hart ontroer. Ander skrywers mag hul besighou met die ingewikkelde verhoudings tussen verkultuurde modernelinge, maar Van Bruggen hou ons aandag gespanne deur sy afbeelding van een van die oerinstinkte by twee eenvoudige siele. Ampie se optimisme maak weer plek vir die ou beklemmende gevoel as hy Vlakplaas se woning instap. Oom Tys lewer 'n lekeprekie, wat Ampie opnuut laat wanhoop aan sy kansie om deur die gevreesde aanneming te kom. Annekie weet egter hoe om hom te bewerk en wy hom in die geheime van ouers-vra in. Hierdie middernagtelike toneeltjie vol komiese trekke is besonder goed geslaag. Annekie dring soos altyd daarop aan dat alles in verband met die bruilof ‘propper’ moet gaan en as gevolg moet Ampie nog 'n behoorlike bekendmaking selfs aan oom Kasper skrywe - 'n vermaaklike brief waarin Ampie dit nog regkry om 'n paar ‘losgoed’ te annekseer. Op die tog na die nagmaal is Ampie weer vol rebelse gedagtes. Sy vrees vir die aanneming laat hom al die onnodige omhaal verwens. Waarom kan hy Annekie nie eenvoudig ‘vat’ as vrou nie? 'n Aanmerking oor sy slegte drywery gee hom 'n kans om sy opgekropte bitterheid uit te haal op die onskuldige osse en as sy bui gesak is, kry hy weer nuwe moed. By die katkisasie kom hy onder die besef van sy sonde en begryp selfs waarom die bliksem ou Jakob getref het. Mooi word die ewolusie van sy godsdienstige begrippe aangedui en sy klimmende bewondering vir Annekie, wat al haar maats uitstof deur ratse antwoorde. Bart, noual twintig jaar, is aangesteek deur die diamantkoors; die groue verveling van die eensame lewe op Vlakplaas en sy afkeer van gereelde plaaswerk dryf hom na die delwerye. Op Vlakplaas het hy hoegenaamd geen vooruitsigte nie en as hy maar 'n paar pond kan los kry sal hy 'n fortuin gaan uitgrawe. Pragtig is die toneeltjie waar Bart met sy meerdere ‘wêreldkennis’ spog, maar Ampie hom so netjies troef met die argument dat hy nog nie mondig is nie. Met meer sukses bewerk Bart sy pa, wat ook al geluister het na die lokstem van die delwerye. Bart is 'n gebore diplomaat en as gevolg van sy slimpraatjies verower hy die moeisaam opgegaarde spaarpennings van sy moeder, wat bedoel was vir Annekie se bruilof. Vir baie lesers sal hierdie droë bruilof seker maar net 'n droewige {==227==} {>>pagina-aanduiding<<} spektakel wees. Maar let op hoe die skrywer deur sy suiwere weergawe en pittige plastiek, lewe en beweging, kleur en geur gee aan die bywonerplegtigheid. Alles lyk so simpel, so plat-ordinêr, maar daarby tog weer so menslik en so innig dat elke besonderheidjie ons ontroer. Van Bruggen staan nie van ver om met 'n hoogmoedige glimlag die spektakels van hierdie bruilofsmense te betrag nie. Hy het met hulle geleef, met hulle gewerk en.... diep in hul siele gekyk. Trots oor sy mondigheid het Ampie eindelik aan alle eise van wet en kerk voldoen, en agteraf beskou, was al die lastige formaliteite tog darem nie so erg nie - ‘Hy sien kans om elke dag te trou’ - as hy maar Annekie se hand kan hou! Langs die sewentienjarige bruid sit hy nou; 'n wit laken waarop ‘orals blink sigaretspapiertjies vasgehaak is’ moet die feesatmosfeer aandui in oom Tys se pondokkie. Maar die hoofrol op die bruilof word eintlik gespeel deur Ampie se moeder wat, uit haar gewone versuftheid opgeskrik, nou astrant die voortou vat. Waar sal ons nog so 'n voorbeeld van skrynende ironie kry as die gelukwens van hierdie verdwaasde moeder: ‘Hier staan julle vandag soos ek en Dawid vanmelewe ook gestaan het. Deur ons is jy vandag so 'n aansienlike man as jy nou is. Wandel in die voetstappe van jou vader, dan sal jy jou nooit hoef te skaam nie, en jy sal nooit nodig hê om te bedel nie!’ Die huwelikslewe het vir Ampie se moeder niks as eindelose ellende en ontbering gebring nie, maar in hierdie vlaag van helder-bewustheid sien sy dit nog steeds as die glanspunt van haar bestaan. En hoe leef die moedertrots oor haar eersgeborene nie weer op nie, as sy Ampie as ‘'n aansienlike man’ so beskou! Al die jare van swaarkry tussen haar rumoerige kroos het nie die stralekrans om ou Goor Dawid se hoof laat verbleek nie! Hy is nog steeds die ideale eggenoot van haar jong dae. Almal moet vir hom padgee, sodat hy sy seun kan gelukwens. Hoe sterk voel ons hier die tragedie van die huwelik tussen swaksinniges, met sy nasleep van menslike verwording tot in verre nageslagte. Ook Goor Dawid, eenmaal amper die moordenaar van sy kind, besef vandag iets van die trots van sy vaderskap. Ampie het hom wel ontgroei, maar hy het tog deel aan sy seun se sukses. ‘Hulle het hom deeglik opgebring en kyk waar staan hy vandag!’ As ‘die twee ruwe hande mekaar pak en mekaar onbarmhartig vasknyp’ by die gelukwens, dan kom daar tog 'n soort toenadering tussen hierdie ontaarde vader en sy seun. Die aankoms van die Booysens veroorsaak heelwat verwarring onder die bruilofsgangers. Interessant is dit om te sien hoe hulle reageer op die besoek van hierdie ‘hoë lui’. Oom Tys verwens Bart wat hom van die middele beroof het om sy naam op te hou; Dawid word meteens gedienstig en maak die stringe los; die kleinspan is skoon oorbluf en ‘hul lyfies is styf soos boontjiestokke’. Maar dis weer Ampie se moeder {==228==} {>>pagina-aanduiding<<} wat die situasie beheers. Hier is nou 'n kostelike geleentheid vir die Nortjé's om te wys dat hulle nie niksgewènd is nie: ‘Ampie, my kind, hier kom hulle, hou julle naam op!’ En haar moedertrots vind uiting in die spoggerige uitroep: ‘Ek sê, nig Grieta, waar op die aarde wil jy 'n mooier bruidspaar hê, as daardie twee?’ Booysen slaan meteens die regte toon aan en slaag daarin om die halfbewustelose bruidegom uit sy dommeling op te skrik. Maar dis net vir 'n oomblikkie, want hierdie bruilofgedoente is vir Ampie 'n foltering. Hy is so gelukkig, maar wil tog net graag alleen met sy vroutjie wees. En soos 'n opgewonde kind, moeg gespeel en oorspanne, bars hy in trane uit. Dis eers in hul stille woninkie dat hy werklik tot die besef kom van wat daar met hom gebeur het. Ook hierdie eerste aand is mooi van uitbeelding. Ampie wil nog wegsak in sy bedwelmende geluksroes, maar Annekie voel meteens die verantwoordelikheid van haar taak as huisvrou. Na 'n bietjie speelse stoeiery moet Ampie kleingeld maak van 'n paar stompe, want daar moet vetkoek gebak word. Nou vind sy groot geluk 'n uitweg in heftige aksie. Hy duik oor die onderdeur en ‘met die dissonantse geluide soos van 'n hotnot wat drie dae al nuwejaar gehou het sak hy toe met die groot byl op die stompe in dat die yster sing en die spaanders spat.’ Kinderlik is die blydskap van die jonggetroudes oor hul groot kosvoorraad, waarvoor oom Kasper gesorg het. By die vroomgestemde Annekie wek dit innige bewondering vir die Booysens se godsvrug en 'n begeerte om ‘ons ou-mense te help as hul uitraak’. Met so 'n oorvloed weet hierdie bywoner-bruidjie amper geen raad nie! Haar vrome bewondering vir die Booysens gee egter aanleiding tot 'n wanklank in Ampie se gemoed. Vir haar is dit die natuurlikste saak van die wêreld dat Ampie nou nes haar pa sy pligte as huisvader moet uitvoer. Hulle gaan mos ‘na die Woord lewe’. Maar Ampie se hart rebelleer teen wat hy as onnodige omhaal voel. In sy hart is hy nog steeds die losbandige natuurkind, wat alleen terwille van sy liefde effens toegee aan Annekie se ideaal om ‘propper’ te lewe. By die tafelgebed kan hy nog verbyskrams, maar die gedagte aan boekevat beneem totaal sy eetlus. Vroutjie is natuurlik vererg oor hierdie gemis van waardering vir haar kookkuns, maar Ampie het alweer 'n oulike koudleiplan - die wedstryd met die vetkoeke. Annekie gaan egter onverstoord haar gang en hy moet deurdruk met die huisgodsdiens. Die lees uit die Bybel gaan nog, maar as dit by die gebed kom, voel Ampie soos 'n moeg gejaagde dier wat deur die honde gegryp word. ‘Sowaar, ek kan nie bid nie, Annekie, so wragtig waar nie!’ klink sy hulpelose smeekstem. Die onbarmhartige wêreld het die natuurkind weer vasgevang in sy striknette. En as Annekie hom sy hulpeloosheid verwyt, bars die ou dierlike drifte weer los in hom, sodat hy dreig om haar om te stamp. {==229==} {>>pagina-aanduiding<<} Pragtig volgehou tot die einde toe is hierdie beskrywing van die bruilofsnag, met die wedersydse vertedering wat tot 'n gelukkige versoening lei. Met 'n koppie koffie as vredesoffer en 'n vriendelike ‘Môre, my vrou’ keer Ampie terug tot die nuwe lewe wat hom wag. In 'n drifbui kan hy soos 'n wilde dierasie te kere gaan, maar die liefde laat die teerste roersels van sy hart tril, totdat sy eerste spontane gebed opstyg. Hy en Annekie sal same soos die môrester opklim tot in die hemel. Elke besonderheidjie in die bruilofstafereel hou ons aandag gespanne. Daar is 'n dramatiese element in die komposisie, wat ons van verwikkeling tot klimaks voer. Suiwer en innig van aanvoeling is die emosies van bruid en bruidegom, wat deur elke gebaar en woord hul ganse wese vir ons blootlê. Met die naamgee van die eerste kind kom Ampie weer in verset teen die aloue gewoontes waaraan sy vrou so hardnekkig kleef in haar sug om alles behoorlik te doen. Die ou wrok teen sy vader herleef weer as die hele tros Nortjé's die kraamkamer inborrel om moeder en kind om te krap met hul luidrugtigheid. En die herinnering aan sy vader se onregverdigheid laat hom meteens dink aan die trooster van sy jeug, ou Jakob. 1) Na dié moet sy seuntjie heet! Oom Tys vind natuurlik 'n Bybelse voorbeeld wat presies op hierdie geval pas; sy bewysgronde, soos Van Bruggen dit tipies uitdruk, kom so ‘met broek en baadjie uit die Bybel uit.’ Annekie moet swig vir hierdie onomstootlike argument en haar man se verering van sy ou jeugmaat maak haar hart so week, dat ook sy die kind spontaan Jakoppie noem. Hierdie insident en ook Ampie se gevoelens as hy die nuwe donkie ‘Kortkom’ kry, laat ons besef hoe knaend die honger na simpatie in Ampie se troostelose jeug moes gewees het. Hoe diep het sy eenvoudige maar gevoelige siel nie gely as gevolg van die onsimpatieke omgewing waarin hy opgegroei het nie. Noudat hy eindelik in vrou en kind 'n steunsel in die lewe gekry het, bestaan daar ook die moontlikheid van 'n verdere ontwikkeling van sy wese, wat die skrywer ons seker in 'n vervolg sal gee. Opmerklik is dit hoe ook in hierdie deel Van Bruggen se taal vasgegroei sit in die bywonerpsige. Dis nie afgeluisterde sinnetjies nie, so terloops opgeteken ter wille van die snaaksigheid, maar spontaan ontspringende beeldspraak, wat op voortreflike wyse die bywoner sfeer karakteriseer. Hierdie beeldende taal kan die kunstenaar alleen skep as hy hom diep ingeleef het in die siel van sy mense en hul omgewing. Dit is 'n skeppende arbeid wat hoë eise stel aan die verbeelding van die skrywer. Van Bruggen voer sy mense meestal handelend op; hy bring {==230==} {>>pagina-aanduiding<<} hulle in dialogiese kontak, sodat ons die klank van hul stemme hoor en hul voor ons oë sien beweeg. En selfs waar hy beskrywend optree, bly hy as vanself binne die gedagtesfeer van sy eenvoudige mense. As voorbeelde noem ek die volgende: ‘Die lewensvolle oomblikke van die laaste ure het sy siel gebrei soos 'n voorslagvel, wat deur die breier op- en inmekaar verfrommel, bruikbaar word.’ (p. 56.) ‘Die delwerye trek hom soos 'n soutplek 'n uitgevarste bees.’ (p. 82.) ‘Soos die ore van 'n dommelende donkie skielik opklap as hy iets vreemds geware, staan Ampie en Annekie gelyk, penorend voor oom Kasper.’ (p. 103.) ‘Hy voel soos sterk suipkalwers wat van lewensvolheid en begeerte agteropskop.’ (p. 109.) ‘Lewe na die Woord! - Dis weer die klipbank wat nie nate het nie.’ (p. 130.) ‘Hy dink glo dat sy nou soetbroodjies sal bak en flikflooi, terwyl hy met die krulstert rondloop.’ (p. 153.) ‘Sy planne kom vanaand tromp-op-mekaar, soos 'n span osse wat op die draaiplek onklaar getrap het.’ (p. 12.) Dit hoef geen betoog dat hierdie taal volkome pas in Ampie se denksfeer nie. Dis die manier waarop Ampie self die dinge voel en sien, en Van Bruggen se eie taalbewussyn is as 't ware op non-aktiwiteit. As 'n ouderling gaan sit in die kerk, dan sien ons die handeling deur Ampie se oë aldus: ‘Die ouderling het sy bobaadjie agter oopgesmyt en toe gaan sit....’ (p. 99). En dis nie deur enkele tipiese bywoneruitdrukkings soos gedeps kontant, uit wans uit, ens. dat hierdie effek verkry word nie. Dit is eintlik 'n herskepping van die bywoner se hele taaleie, wat alleen kan ontstaan in die gemoed van 'n kunstenaar, omdat hy sy karakters nie alleen van buite-af observeer nie, maar van binne-uit kreëer. Daarom ook kan Van Bruggen hom so volmaak inlewe in al die wisselende stemminge van Ampie, wat hy op seldsaam gelukkige wyse weergee. Daar is die optimistiese Ampie, wat alle swarighede kafloop en hoë lugkastele bou op die goedgeefsheid van sy baas; die berouvolle Ampie wat bewe by die gedagte aan die toornige God, maar deur sy eienaardige logika tog tot 'n soort begrip kom van die ganse wêreldorde, die dood van ou Jakob inkluis (p. 77); die opstandige Ampie wat soos 'n malmens te kere gaan teen alle ingestelde gebruike, maar dan weer in 'n helder oomblik so naïef kan redeneer oor die noodsaaklikheid van die trouseremonie (p. 95); die mondige Ampie, so ernstig onder die indruk van sy verhoogde status, ens. Stap vir stap kan ons nagaan hoe Ampie uit die skrale gegewens van sy beperkte ervaringsfeer en met sy steeds verrassende logika 'n soort verklaring vind vir al die raaisels van sy heelalletjie. En sterker en sterker word onder die lees die oortuiging dat ons hier te {==231==} {>>pagina-aanduiding<<} doen het met 'n lewende, 'n waaragtig lewende mens, wat volgens die wette van sy eie sielsaard op natuurlike wyse groei en ontwikkel. Mag die skrywer daarin slaag om ook in die volgende deel die hoë peil van hierdie kunswerk te handhaaf. In die Gramadoelas (1931). Ons het geen ander skrywer wat die mentaliteit van die plattelandse boer so innig begryp en met soveel liefde uitbeeld nie as Jochem van Bruggen. Org Basson en sy maats is maar 'n klompie doodgewone boertjies wat op die rand van die bosveld woon. Hulle gesels oor alledaagse sake, gee mekaar raad in tyd van siekte en skinder oor hul bure. As die skrywer hierdie dingetjies nie tot 'n kunstige en harmoniese vertelling saamgevoeg het nie, as hy nie deur die dialoog ons meteens die diepste natuur van hierdie boere blootgelê het nie, sou ons nouliks ag op hul geslaan het. Die verafgeleë uithoek waarin hulle woon is so arm aan gebeurtenisse, dat ons die talent van die skrywer moet bewonder, wat dit regkry om met sulke skrale gegewens voortdurend ons belangstelling te span. Na 'n aangename reëntjie, wat almal in 'n opgewekte stemming bring, stap die boere na 'n Jood se winkel om die weeklikse pos te haal en om hoendereiers om te ruil vir winkelgoedjies. Org Basson trap vanmôre skaars die grond raak, want eindelik is deur sy verkiesing tot ouderling, 'n lewensideaal bereik. Hy het nou ook ‘'n amp’, en ‘'n mens kry op Sukkelaar nie somarso 'n amp nie!’ Buitendien het hy met die verkryging van hierdie status getriomfeer oor sy meer gegoede swaer, Homan, die vrederegter. Langs die pad vind hy geleentheid om heelwat wysheid oor kerksake kwyt te raak aan Ackerman: ‘'n Kerk is soos 'n baster regering’ of soos ‘'n koöperasiestoor - daar is gedurig 'n lot lopende uitgawes’. Hy moet egter versigtig praat, want hy het nog geen offisiële berig van sy verkiesing nie. Homan is teleurgestel want hy het gereken dat ‘'n ouderlingskap die amp van vrederegter waardiger (sou) maak’. Hy vind egter 'n oulike plan om sy gekweste ydelheid te paai. Sy karretjie en donkies gaan hy vanmôre aan die nuwe ouderling verkwansel om dan die hele buurt dronk te slaan met die aankoop van Meester se Ford! Maar net soos Org swyg oor sy verhoogde status, net so stil bly Homan ook oor hierdie plan. Tog is daar 'n heftige stryd aan die gang tussen die twee waardigheidsbekleders van die Sukkelaarwyk, en ons bewonder die vernuftige taktiek waarmee hulle mekaar probeer koudlei. Basson stap huis-toe met die groot koevert wat ‘vas teen sy hartklap brand’. Langs die pad kry hy geleentheid om uit te wei oor die voortreflikheid van 'n predikant, en hy is wonderlik tevrede oor sy eie {==232==} {>>pagina-aanduiding<<} verhewe gedagtes. Week van aandoening word hy as eindelik die brief sy innige begeerte verwesenlik: ‘Hy, oudste, raadsman, regter, wagter op die mure van sy kerk, 'n voorganger van sy kerkgenote in die diens, 'n leier op die goeie pad van hulle geesteslewe; maar tewens vermaner en bestraffer van hulle wat verkeerd loop. Die laaste een van Sukkelaar se wyk sal eerbied vir hom hê....’ Die verantwoordelikheid van sy nuwe amp begin meteens swaar te weeg sodra hy sy woning binnetree. Alle gedagtes aan die behaalde triomf moet nou wyk vir die besef van die verhewe pligte wat op hom rus. Geen wonder dus dat sy vrou se houding hom kriewelrig maak nie. Sy en die kinders het mos geen begrip van sy heilige roeping nie. Maar sy vrou se praktiese beswaar, die feit naamlik dat sy kisklere totaal verbleik is, spoor hom aan tot onmiddellike aksie. Hy kan nooit toelaat dat Andries Homan spot oor sy armoedige klere nie, en 'n manel kan 'n mens mos nie met hoendereiers ruil nie! Meester moet dus maar 'n diplomatiese brief opstel en sy weiering van die amp in die beste voue lê. Die onderhoud met Meester en die omkeer in Org se gemoed op die tuiswaartse wandeling is met dramatiese spanning geteken. Org het sy kastige redes vir die weiering so mooi uitgedink, maar die eintlike rede kan hy tog nie verswyg nie. Meester se bestraffing bring hom tot nadenke, maar dit is veral die gedagte dat Homan in sy plek sal gekies word wat die deurslag gee. Natuurlik vind hy egter 'n hele reeks godsdienstige oorwegings om sy aanname van die ouderlingskap te regverdig. Wanneer Org Basson as ouderling bevestig is vervul hy sy pligte so getrou dat sy boerdery 'n bysaak word. Die sieleheil van die Sukkelaarwyk druk swaar op sy gewete. Hy vind dit selfs noodsaaklik om ernstig met Andries Homan te gaan praat oor ‘die nuwe gees wat so stadig en gewis die gebuurte kom verpes’. En hy beklaag Andries wat nou maar te voet moet stap! Kostelik van tekening is Org se besoek by die apostoliese De Wet's, wat hom skoon oorrompel met hul hallelujas en tekste. Hier maak sy ouderlingswaardigheid glad geen indruk nie en na die koffie vlug hy maar. By Tannie se sterfbed verkeer hy in 'n meer simpatieke omgewing. Hierdie besoek is 'n allergewigtigste gebeurtenis in sy lewe, want vir die eerste keer gaan hy en sy vrou offisieel 'n kranke besoek en dit nogal per rytuig. Org gesels op salwende toon met sy vrou oor ‘ondeurgrondbare en onpeilbare’ sake en hy koester hom in die eerbiedige bewondering van sy ega, wat oortuig is dat Andries Homan nooit vir hom sou kon kers vasgehou het nie. Met seldsame suiwerheid het Van Bruggen die godsdienstige ‘diepsinnighede’ van die ouderling weergegee. Daar is geen sweem van spot in die uitbeelding nie. Maar telkens voel ons 'n huiwering om die mondhoeke as die ouderling so humoristies-naïef redeneer. 'n Enkele staaltjie: ‘Ek sê alles word so bestier van Hoërhand, en of {==233==} {>>pagina-aanduiding<<} nig Walla die afkooksel van dagga of versterkdruppels op 'n kelkie wyn vir ou Tannie ingee - as die gesette tyd daar is, moet 'n mens hensop.’ By die sterfbed kry Basson geleentheid om sy waardigheid as ouderling te laat gevoel en hy steek eers pyp op as alles verby is. Maar wanneer hy aanstaltes maak om te vertrek moet hy ontdek dat die donkies met die kar weggestap het. Hy volg die spore van die eerste bult na die tweede, maar gewaar hulle nie. Met sy gedagtes in hoër sfere het hy die soektog begin, want die sterfgeval het hom diep geroer. Maar allengs maak die vrugtelose soekery hom tog kriewelrig en per slot van sake blameer hy.... Andries Homan, wat hom 'n gat in die kop gepraat het oor die donkies. Eindelik sien hy Meester se Ford oor die bult kom. Maar nou kry sy hoogmoed 'n nekslag, want aan die stuurwiel sit.... Andries Homan ‘met 'n glimlag oor sy kakebeen’! Dat sy aartsvyand, of ten minste sy vernaamste mededinger, wat hy nog onlangs bekla het omdat hy geen ryding het nie, vir hom, die ouderling, hier in die stowwerige pad te voet moet kry - so 'n vernedering is darem te erg! ‘Die ouderling sit langs die vrederegter agter die windskerm, terwyl die motor vorentoe snor. Org Basson kan gladnie met sy swaer Andries Homan gesels nie. Dis of sy tong verstyf, sy gedagtes absent en hyself gebreek is.....’! En hiermee eindig een van die beste verhale wat Van Bruggen ons nog gegee het. Die naywer en afguns van twee plattelandse waardigheidsbekleders is met die hand van 'n meester geteken. En die staaltjies van die eenvoudige ouderling se ‘studiekursus in die godgeleerdheid’ is so treffend dat Org Basson meteens op onvergeetlike wyse gekenmerk staan as tipe van die onontwikkelde plattelandse kerkraadslid. Ons het geen ander skrywer wat hierdie soort boere so kan laat leef en so kan laat praat nie. Van Bruggen het hulle lief en deur sy warm-menslike meegevoel kan hy hulle aanstellerytjies en gewigtig-doenery met die vergoelikende glimlag van sy humor betrag. Die orige ses verhale van hierdie bundel bevat ook verrassende skoonhede, maar staan seker nie op dieselfde plan as Org Basson nie. In Vrouestemreg word ons weer getref deur die gemak waarmee die skrywer die plattelandse redeneerkuns kan weergee. Twee susters voer 'n heftige debat oor die vrouestemreg en ofskoon die snelheid waarmee hulle van standpunt verander miskien alte onwaarskynlik lyk, sal die leser tog geniet van die komiese effek daardeur bereik. Ou Loek is 'n tipe van die getroue Boesmanbediende, wat saam met die plaas oud geword het. Goed geskilder is die angs van die ou skepsel wat in sy eensame kamertjie aangestaar word deur die ‘uitgepeulde oë’ van 'n verongelukte maat wie se lyk hy berowe het. {==234==} {>>pagina-aanduiding<<} Booia (1931). Deur sy ondervinding as boer het Van Bruggen 'n uitstekende geleentheid gekry om die kaffer van naby te beskou. Moeilikheid en ergernis met sy werkvolk sal die boer wel altyd hê en in hierdie skets uit die kafferlewe word party van die oorsake daarvan aangetoon. Digby Kromloop is daar 'n Engelse Sendingskool onder bestuur van Jan Ballantoe, 'n ‘geleerde kaffer’, wat darem nog sy sopie kafferbier geniet. Met behulp van Longman's Readers en 'n stewige kweperlat bring hy die kaffertjies onder die indruk van Engeland se wêreldmag. ‘Die eerste lied wat Jan Ballantoe hulle geleer het was die volkslied ‘God syf die King’. ‘Die groot kafferkaptein, Dingaan, het die Boere verniel; hulle het somar aanmekaar dood gebly lê by die rivier; maar die boere het hulle land gevat, hierdie land ook.... Eendag sal hulle weer die land terugkry, maar hulle moet net leer soos die witmense.’ Dis in hierdie omgewing dat Booia en sy ouers kom woon. Booia is die jongste kind, die verskoppeling van die familie. Sy vader, ou-Rooi, is 'n goeie bierdrinker, maar aartslui, en die enigste manier waarop hy 'n woonplek kan kry op die plaas is om Booia vir 'n jaar te verhuur. Booia moet dikwels saamwerk met die geelkaffer, Sagrys, wat ook deur sy huisgenote met die grootste minagting behandel word. Sagrys is op sy manier wysgerig aangelê, en omdat hy die ontluikende selfstandigheidsgevoel by die oorblufte Booia aanmoedig, ontstaan daar al gou 'n innige vriendskap tussen die twee verstotelinge. Die eerbiedige hulde van die jong kaffertjie is 'n vergoeding vir al die belediginge wat hy tuis moet verduur, en die wysgerige antwoorde, wat hy op Booia se oulike vrae gee, prikkel die jong kaffertjie se weetgierigheid. Booia kan egter nie verstaan waarom sy held so gedwee en lydsaam is nie, totdat Sagrys hom vertroulik meedeel hoe bang hy is om in sy wilde drif 'n moord te begaan. Die geleidelike ontplooiing van hierdie vriendskap is met innige oorgawe geteken deur 'n kunstenaar wat die siel van die kaffer net so goed kan peil as dié van die armblanke. Die kaffers in hierdie verhaal lewe; hulle is nie slegs verkapte witmense wat kromtaal praat nie. Ons sien hul aan die werk op die veld en luister na die bierpraatjies van die leeglêers by die struise; ons kry 'n besef van die ontaarding van hierdie natuurvolk as gevolg van sy aanraking met die blanke beskawing wat deur 'n verderflike skynopvoeding hom losmaak van sy oorgeërfde stamgewoontes. Hierdie verhaal is 'n kragtige pleidooi vir 'n meer simpatieke belangstelling in die naturelle-psige, en tegelyk 'n aanklag teen die blanke ras wat in die afgelope eeu die ‘swart skepsels’ alleen as goedkoop arbeidskragte, maar selde as mense beskou het. Duidelik teken Van Bruggen die sedelike verval en dierlike ontaarding deur sy beskrywing van die bierpartye. Hier verdwyn al die skyn- {==235==} {>>pagina-aanduiding<<} beskawing in 'n woeste orgie van barbaarse uitspatting wat eindig met doodslag. Sagrys word weggevoer deur die polisie. Ook ou-Rooi, wat so geëerd gevoel het oor sy benoeming as diaken, word verlei deur sy dranksug en moet Kromloop met skande verlaat. Daardeur word Booia se groot ambisie om Ballantoe se skool te besoek verydel. Hy moet maar weer beeswagtertjie word en sal sy vereerde held nooit weer sien nie. Die Sprinkaanbeampte van Sluis (1933). Lambertus Bredenhand, die hooffiguur van hierdie verhaal, is eiefamilie van Liepie Stols uit Teleurgestel, Sitman, die meeldiaken uit Op Veld en Rande, oom Lood, die Burgemeester van Slaplaagte, Oom Tys uit Ampie, en Org Basson, die ouderling van In die Gramadoelas. Hierdie ses broers van die Lamsak-familie ly almal in meerder of minder mate aan die ongeneeslike kwaal van papbroekerigheid. Dit sou 'n interessante studie wees om die oorsprong, die wisselende simptome en verloop van die familiekwaal in elke geval te ondersoek en te vergelyk. By alle uiterlike verskil in omstandighede is daar tog ook onmiskenbare familietrekke tussen hierdie lamlendige broers van Slaplaagte, Sukkelaar, Sluis... ens. Hulle het byna almal eienskappe wat aan beter dae herinner, oorblyfsels van die beskawing wat hulle met patetiese koppigheid probeer handhaaf. Lambertus Bredenhand het deur ‘sprinkaan, skuld en boedel’ uit alles uitgeraak en dis alleen deur die goedgunstigheid van swaer Lewies dat hy nog 'n hoekie van die plaas mag bewoon. Hy verdien af en toe iets deur los werkies en verbeel hom dat hy 'n volmaakte ambagsman is, wat net deur een goeie kontrak weer finansieel selfstandig sal kan word. In werklikheid egter, is hy 'n armsalige sukkelaar, wat gedurig spog oor sy bedrewenheid in alle ambagte en sy groot toekomsplanne, maar intussen sy drie kinders laat verhonger. As ‘Ouboet’ van die familie maak hy aanspraak op die eerbiedige hulde van al sy broers en susters. Die blinde verering van sy bejaarde moeder wat in hom die ewebeeld van haar oorlede eggenoot sien, versterk die besef van sy ‘ouboetskap’ en kom goed te pas as hy nou regtig honger is. En Ouboet is darem nie te trots om 'n shilling, wat die weduwee van haar alimentasiegeldjies afknyp, in sy sak te steek nie! Maar van sy broers en susters verdra hy geen kritiek nie. As hulle maar net verlangs skimp oor sy verwaarloosde kinders, dan voel hy bitter gekrenk. Hy beskou homself as 'n voorbeeldige vader, wat sy kinders goed versorg en 'n Christelike opvoeding gee. Sy verlies aan prestige in die buitewêreld probeer hy inhaal deur 'n oordrewe strengheidsbetoon teenoor sy oorblufte kinders, wat wegkrimp van vrees as hy hul net skeef aankyk. Hy het hul wel innig lief, maar in plaas van te sorg dat hul tenminste mieliepap in die huis het, streel dit sy eieliefde om hul verstandjies met vernuftige bybel- {==236==} {>>pagina-aanduiding<<} verklarings te verbyster. So handhaaf hy sy roem as vaderlike priester van die huisgesin. Hy, wat nederig die Jood se belediginge moet verdra om weer 'n bietjie krediet te kry, sluit hom op in 'n ongenaakbaarheid sodra dit familiesake geld. So lei Lambertus 'n dubbelbestaan. In sy verbeeldingswêreld is hy nog steeds die onafhanklike ‘ouboet’ wat met salwende praatjies sy meerderheid wil handhaaf. Maar telkens word hy uit die droom van eie vernaamheid wakker geskud deur die krenkende realiteit van sy sukkelbestaan. Hierdie gedurige botsing tussen droom en daad het Van Bruggen fyn-ironies veraanskouelik. Ons moet glimlag oor die wewenaar, wat so swaarwigtig-vervelend kan redeneer oor geluk, maar as die oujonknooi effens swaar van begrip is met lustige basstem Uit Diepten van Ellenden ‘uitsing tot die laaste vers toe’. Maar tewens voel ons 'n innige medelyde met die arme sukkelaar wat meen dat 'n tweede vrou sy ekonomiese rehabilitasie sal verseker - ‘'n hulpe neffens hom sal die voorspoed weer verdubbel....’ En hoe wel die deernis nie in ons hart op nie as ons die patetiese figuurtjie van die kindmoeder, Ousus, betrag. Terwyl Lambertus in vrome oorpeinsing 'n late oggendrus geniet moet sy maar bontstaan om die noodsaaklikste kossies te leen - hier 'n brood, daar 'n bietjie mieliemeel.... Van jongmens-plesier weet sy niks, want haar moederlike pligte hou haar tuis. ‘Sy moet soos 'n grootmens saam met tant Leen en Ouma ou klere sit en lap en verstel, dikwels na hulle stemmige redenasies luister en die vermanings aanhoor, dat sy die wesies en Pa tog al te goed moet oppas en versorg....’ Byna daagliks moet sy haar fyngevoeligheid geweld aandoen om weer 'n aanneemlike ekskusie uit te dink as sy Klein uitstuur om iets te gaan leen. Maar haar eerbied vir haar vader bly ongeskonde, al weet sy maar alte goed dat van sy wonderlike planne selde iets tereg kom. Lambertus se aanstelling as sprinkaanbeampte bring 'n hele omkeer teweeg in die armoedige huishouding. Die spens is vol kos, en Pa kom heel deftig op 'n vosperd aangery! So lank as hy kan bewaar hy 'n geheimsinnige stilswye om die eerbiedige bewondering van sy kroos ten volle te geniet. Hierdie aanstelling is salf vir sy gekwetste hoogmoed, want nou kan hy sy verlore prestige in die familie herwin en hul lastige bemoeiing met sy huislike sake hooghartig van die hand wys. Buitendien word die hele distrik sy koninkryk; kuier-kuier kan hy rondry om orals orders af te gee, selfs aan die korrelkop Louw Grebe, wat hom altyd uit die hoogte wil behandel. En nou voel hy ook astrant genoeg om die rooihaardogter, Dirkie Coetzee, te verower! Maar iets knaag tog aan sy gemoedsrus, want Dirkie het sy eerste aansoek van die hand gewys, omdat sy al moeg was om ander mense se kinders groot te maak. In 'n oomblik van swakheid het hy sy seun Koos aan swaer Lewies afgegee, en hy voel nou dat die aandrang van die familie om hom daartoe te beweeg niks anders as 'n sluwe plan van {==237==} {>>pagina-aanduiding<<} die Satan was om die pad na Dirkie oop te stoot. Hy herinner hom sy doopbelofte en vorm die vaste besluit om sy spannetjie bymekaar te hou. Vol innige vadergevoelens gaan hy hulle tegemoet en met ongewone tederheid behandel hy Koos se diepsinnige vraag. Hierdie armsalige sukkelaar, so kleingeestig en kleinserig in sy hoogmoedswaan, so nalatig in die versorging van sy kroos, ken tog ook die ekstase van die opregte vaderliefde: ‘Bredenhand se vaderhart word groot. Watter span kan teen syne optrek in godsvrug en 'n goeie stil geaardheid? En nou moet hulle uitmekaar uit? 'n Buitestaander kan 'n vaderhart nie peil nie.... Koos moet eendag, so die Here wil, predikant gaan word.’ Pragtig het Van Bruggen die diepere menslikheid van hierdie eenvoudige siel aan ons geopenbaar ook in die sterftoneel waar die vader in die gebed worstel om die behoud van sy seun. Die plotselinge omswaai van knaende armoede na betreklike rykdom wek ook by Ousus 'n hunkering na geluk. ‘Moenie huil nie, moenie treur nie, die jongetjies van Sluis kom weer’ sing dit in haar hart. 'n Geurige koffiekan sal die lokmiddel wees, of ‘sy kan maar baie dikwels die werf gaan vee, so ewe ongeërg, en Adriaan de Bruin of Sarel Venter sal sonder moeite na haar toe kom’.... In suiwerheid van uitbeelding hoef Ousus nie agter te staan by Annekie nie. Dit mag waar wees dat Van Bruggen in hierdie verhaal geen nuwe rigting inslaan nie, dat hy eenvoudig voortborduur op bekende motiewe, maar wat innigheid van aanvoeling en forsheid van beelding betref, verdien sy jongste werk al die lof wat hy vroeër met Ampie behaal het. Haar Beproewing (1934). In hierdie verhaal eksperimenteer Van Bruggen met nuwe motiewe. Elsie, 'n welopgevoede meisie, verlaat as gevolg van 'n selfstandigheidsdrang haar ouerlike woning en beland as onderwyseres op 'n eensame Bosveldplaas. Met die beskrywing van die primitiewe leefwyse in hierdie armoedige omgewing is Van Bruggen op bekende terrein, en hy doen dit met die talent wat ons van Ampie se outeur kan verwag. Elsie se beproewing is die lot gewees van baie Afrikaanse onderwyseresse en ons sou hierdie stukkie beskawingsgeskiedenis nie graag wou mis nie. Maar hoofsaak in die verhaal is die botsing tussen Elsie se persoonlikheid en dié van die sinlik aangelegde boer Bromberg. Hy het in die onherbergsame oord half verwilder, en omdat hy nog nooit enige ernstige teëstand ondervind het nie, verbeel hy hom dat almal onder sy gesag moet buk. Sy dominerende houding het van sy vrou 'n gewillige, halfversufte slavin gemaak wat alleen by haar kinders en vee 'n bietjie lewensvreugde vind. Elsie se voorgangers het hy gou klein gekry deur hulle {==238==} {>>pagina-aanduiding<<} te oorbluf met 'n soort vaderlike bemoeisiekte. Geen wonder dus dat hy begin te glo in die onfeilbaarheid van sy stelling oor die ‘veldnatuur’ nie, wat hom die reg gee om sonder inagneming van belemmerde konvensies vry om te gaan met sy onderwyseressies. Elsie se besliste optrede en haar bytende sarkasme laat egter die fondament van sy verwarde lewenshouding inmekaar krummel, en na drie dae moet hy erken: ‘Jou skielike astrantheid het my laat opkrimp soos 'n ystervark en ek het daarna opgespring soos 'n springhaas.’ Die karakter van hierdie eiesinnige, heerssugtige boer, wat deur sy kluisenaarsbestaan in 'n woeste uithoek abnormale komplekse ontwikkel, is 'n interessante gegewe. Van Bruggen se uitbeelding bly egter te oppervlakkig en fragmentaries om daaraan reg te laat geskied. § 4. Léon Maré. H.L.F. Maré is in 1889 op Pietersburg gebore. Na 1902 het hy o.a. op Wellington en Pretoria sy studie voortgesit. Maar hy moes al gou sy eie potjie skraap en toe het hy, terwyl hy in die posdiens was, privaat gewerk vir Skool-Hoër. Hy is nou amptenaar in die Uniegebou, Pretoria. Party van sy eerste stukke het in Nederlands verskyn. Van 1911 af is hy 'n troue medewerker van Die Brandwag gewees. Van hom het verskyn: Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918); Ou Malkop, bekroon met die Hertzog-prys van die Akademie (1919) 1); Verbygerolde Dae (1928); Mooi Lemoene (1931); Hardepad (1933). Verder nog 'n vertaling uit die Engels van W.J. Marx: Vir die Admiraal (1925) en 'n paar bundels kinderverhale. Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918). By Léon Maré is die avontuur bysaak en die mens hoofsaak. 'n Armsalige putgrawertjie, wat deur 'n harde rotsrif skade ly, 'n houtryer op weg na die mark met 'n vrag - sulke eenvoudige motiewe gebruik hy in sy verhale. Tog leer ons Toot veel beter ken in die omvang van 'n kort verhaal, as al die brawe-Hendrik-helde van die avonture-romans, wat hemel en aarde beweeg deur hul buitengewone dade. Léon Maré besit die gawe om sy karakters te laat lewe, só te laat lewe, dat mens hul asem op jou aangesig voel. Deur die tekening van allerlei uiterlike eienaardigheidjies, gelaatsuitdrukking, gebare, ens. sien ons hul vlak voor ons staan. Terselfdertyd openbaar hy in sy beste stukke 'n indenkingsvermoë, wat hom in staat stel om selfs die fluistergeheimpies van 'n mensehart te verstaan, deur te dring tot die diepste kern daarvan en al die begeertes, stemminge en lewensaanvoelinge uit te beeld. Deur ligte aanwaaisels van allerlei herinneringe laat hy ons heel die verlede van {==239==} {>>pagina-aanduiding<<} sy figure begryp, terwyl ook die inwerking van hul omgewing plasties voorgestel word. Selfs waar hy romantiese gegewens kies, soos in die oorlogsverhale, is dit tog altyd meer die mense, as hul avontuurlike ondervindinge, wat Maré interesseer. Met hoeveel liefde verwyl hy nie in Die Kommandeer van Japie Moolman by allerlei besonderheidjies nie, die aanval van die waghond, die trappery op die kat, ens. Soms is sy tafreeltjies 'n byna dood-nugter kopie van die gewone lewe en tog ontroer dit, omdat deur die beskrywing so iets warm-mensliks huiwer. Daar is b.v. die inmekaar gekrimpte Toot op dit putwal (p. 152) 1) met sy brood en koffie; langs hom sy verkluimde seuntjie. Hoe suiwer en eg word die outjie se kindergedagtes weergegee! Dan weer Toot in sy huurkamers, met 'n konsertina op die knie, of besig om 'n kinderskoentjie heel te maak. Goed gesien is dit ook om Outa Booi na die oorlog op Japie Moolman se verroeste ploeg te laat afkom (p. 85). Deur sulke eenvoudige middele bereik die skrywer sy doel. Met tallose klein handelinge bou hy vir ons 'n lewende mosaïek. Op iedere pagina gee hy blyke van fyn waarneming. Hy het gesien hoe die wind met die ou ooms se baard speel, hoe die stoffies agter 'n galopperende ruiter uitslaan en wegkwyn, hoe die wagvure opflikker en fantastiese skaduwees laat ronddans. Vir al die wisselinge in die natuur het hy 'n ope oog - vir die songetinte wolke, die wasige mis op die bergrante, die wondere van die sterrehemel. Ook weet hy hoe die steenbokkie ‘sy eerste bekkie vol soet gras onderuit 'n graspol’ afknyp (p. 195), hoe die rysmiere uit hul gaatjies glip, hoe die muggies ‘in sirkels van tallose spikkeltjies wals en sigsag.... oor waterpoele’ (p. 102). Telkens weef hy mooi stemmingstukkies inmekaar, gee hy met 'n paar trekke die atmosfeer so duidelik aan, dat dit die werklikheidsillusie versterk. Altyd geluk dit hom natuurlik nie. Hy is te veel geneig om iedere keer weer te praat van gordyn, disk, karmosyn, silhoeëtteer, ens. Op p. 42 las hy op storende wyse 'n kwasi-astronomiese opmerking in: ‘Die klein fonkelende sterretjies is ligte van die eindelose Planetewêreld....’ ens. Grotendeels misluk is ook die tekening van Annie Bester voor die ou harmonium: ‘In die voorhuiskamer, voor 'n oopgetrekte vensterraam...’ ens. (p. 37-38). Uit allerlei klein besonderhede blyk dat Maré die toneeltjie alleen as toeskouer beskryf. 2) In Die Nuwejaarsfees word die vrolikheid van 'n klomp olifantjagters met fors trekke geteken. Die kaskenades van oom Klaas, wat 'n ankertjie egte brandewyn op slinkse wyse bespring, is goed beskryf, en die geselsery en aksies van die volk langs die pad word op luimige wyse geskets. Lang-Kerneels het met sy ‘ronde kraal-ogies in 'n driekwartflessie’ geloer en {==240==} {>>pagina-aanduiding<<} vertel nou in die maanlig 'n spookstorie, wat met sangerige tussenwerpsels deur sy maats begroet word. In die stille nageensaamheid klap die voorslag oor die beurende osse, wat met langgerekte uitroepe aangespoor word. Annie Bester, Japie Moolman, Feek en sy perd Bles behandel episodes uit die vryheidsoorlog. Laasgenoemde veral munt uit deur lewendige tekening. Op dramatiese wyse word die verraad van Jan Barkhuise verydel deur die seun Freek. As oom Swart Bêrend na al die swaarkry in die konsentrasiekamp weer terugkeer na sy verwoeste plaas, dan word hy diep geroer deur die aandoenlike getrouheid van die ou skepsel Jonathan, wat uit die algemene verwoesting selfs nog die kuikens van sy dogter gered en grootgemaak het. Skerp is die kontras tussen die gehegtheid van die ou kaffer en die wraaksug van die verbasterde landgenoot. Ou Jonathan se eenvoudige, maar roerende liefde beur die vereensaamde leeujagter op en gee hom nuwe lewensmoed, maar in sy stille gepeins, saans na die plaaswerk, huiwer die verlange na sy kleinseun Freek en die ou perd Bles, wat hom in vergange se dae tog so baie versondig het.... Met warme innigheid het Maré die figure van hierdie skets geteken. In Wrange Vrugte word 'n geëerde volksraadslid deur kindergebabbel en die afskietery van klappers op Krismisaand aan sy verraad in die oorlog herinner. Die skets gee blyk van 'n goeie psigologiese insig. Die afskeid van Voortrekkers aan Dassieshoek in die ou Kolonie en die rit van Frans Malan om die laers teen Dingaan te waarsku, word in twee sketse beskryf. Die stem van die ou Kafferkraal-Murasies is 'n poging om die mentaliteit van 'n Zoeloesoldaat te teken, 'n poging, wat herhaal word in Soeloe-Eer uit die bundel Ou Malkop. Moebie vertel van die tobbery van 'n kaffermoeder oor haar seun, wat toevalle kry, en Joggem Helberg is 'n jongkêrel, wat in 1863 deur leeus verskeur word. Die eerste druk van Die Nuwejaarsfees het ook nog bevat n retoriese beskrywing van 'n storm, wat tereg by die tweede druk weggelaat is. Drie nuwe verhale, Wrange Vrugte, Moebie en Joggem Helberg het daarvoor in die plaas gekom, terwyl tallose taal- en stylverbeteringe gemaak is. Onvoldoende taalkennis gee Maré se werk 'n lelike knou. Hy maak foute wat skoolkinders kan verbeter. Sy interpunksie is swak, sy spelling treurig en anglisismes is volop. Die opdrag om 'n kort skets te skryf, waarin die woorde alleenliks en nouliks nog nie mag voorkom nie sou seker vir Maré die swaarste straf wees. Tot vervelens toe prop hy dié woorde in alle hoekies en gaatjies, en naderhand weet hy absoluut nie meer, wat hul eintlik beteken nie! In Ou Malkop kom selfs voor uiteindeliks (p. 145), oogverblindeliks! (p. 148), natuurliks (p. 195), en die volgende: ‘Guillaumet kan geen woord uitkry van verbasenheid (!) nie en blik die gouverneur alleenliks net meer in verwondering aan’ (p. 198). Hoe die skrywer soms sukkel, blyk uit die volgende. In die eerste {==241==} {>>pagina-aanduiding<<} druk kom voor: ‘'n toegerankte grennadella stoepie’ (p. 43). Dit word in die tweede druk: ‘'n grenadella gerankte stoep’! (p. 44). Op p. 122 kry ons weer ‘'n toegerankte grenadella-veranda’. 1) Soms is daar iets telegramagtigs in die styl, meestal veroorsaak deur die veelvuldige gebruik van verlede deelwoorde. Wanneer Ter Blanche die voorhuiskamer beskou, lees ons: ‘'n Mooi aardige skulpaddoppie kom eindelik onder oog, opgestaan en oorgetree, en dit word gou opgetel van die tafeltjie, waar 'n groen kleedjie netjies oorgetrek is, en waarop 'n groot lamp met 'n kleurige oorglas staan, en dit word noukeurig beskou en bewonder.’ (p. 56.) Dit is 'n tipiese voorbeeld van Maré se verwarde, inmekaargedrukte sinne, slordig aanmekaar gekoppel. Sulke en-en-reekse is daar soos bossies. ..En eindelik sissend en stomend verlaat die lokomotief die treinstasie stadig, en onder 'n geween en geskreeu van ‘hoeré!’ en hoede in die lug opgegooi. En sy (!) trek voort, en nouliks.... ens.’ (p. 68). Dat die koppelwoord naderhand glad geen betekenis meer het nie, of heeltemal verkeerd gebruik word, blyk uit sinne soos die volgende: ‘Onderwyl hy besig is, kom die diensmeisie binne, en met 'n silwer teepot, en sinese koppies en pierings.... (p. 151); Behalwe vir 'n paar opmerkinge nog oor die mooi onweer, wat diekant in die lug lê, en die seun gaan haastig vooruit....’ (p. 65). Ook hul-hul-sinne kom voor. ‘Menige van die burgers.... is.... in hul distrik teruggekeer as versterking, maar hoewel in hul eie deel van hul land, was hulle geskei van hul familiebetrekkinge, want hul plase was so kaal.... en hul families was almal ingevoer deur die vyand na die kampe....’ (p. 69). Daar is nog meer sulke herhalings, wat aantoon, dat Maré se klankgevoel soms erg gebrekkig is. ‘Bo op die kruin.... bars die son deur.... en verlig met uitgespreide trillende strale die grastoppe van die bergtoppe, en verlig donkere spelonke op (!) (p. 195). Maar hy gewaarword (!) nie 'n meisie nie wat buitekant kamp drade diekant, op haar knieë neersak, haar hande tesame omhoog vou, vertrouend op na die troue heldere wagtertjies bo haar kyk (p. 75); Skerp flikker die staal mes voor aan die punt van sy geweer weer.... (p. 76); 'n gekletter van perdepote van verwilderde perde’ (p. 49). Maré is ook te lief vir langdradige omskrywings, wat soos 'n remskoen op sy verhaalgang werk. As ons lank al weet wie Annie is, dan hoor ons nog altyd van ‘Oom Andries Bester se dogter Annie’ of ‘oom se dogter’ (o.a. p. 37, 38). Daar is ook voorbeelde van afgeslyte beeldspraak soos: ‘deurboorde harte (p. 74 en 100); eindelik sprei die duisternis.... soos 'n swart kleed wat neerval (p. 72); die bytende tand (p. 78); die hamer van Tyd’ (p. 95). Komiek word dit wanneer ons hoor: ‘haar bors bewe meteens op en neer soos die rustelose golwe van die see’!! (p. 60). Maar ten spyte van sulke opvallende stylgebreke ontroer Maré se {==242==} {>>pagina-aanduiding<<} prosa ons tog, omdat, soos Jan Celliers tereg opmerk in sy voorwoord, hy ‘dinge so gesien en gesê het as nog geen ander skrywer in ons land nie’. Sy krag lê nie in die tekening van groot-opgesette tonele nie; dit is die vlugge vegies, waarmee hy op verrassende wyse 'n realiteits-illusie kan skep. In sy beste werk is daar 'n innigheid, wat die kleinste voorval beglans met 'n sagte en suiwer lig. Dan klink daar ook op in sy sinne 'n sterk persoonlike aksent, dan vind hy die juiste woorde om sy emosie te vertolk. Dit is alleen 'n gebrek aan tegniese vaardigheid, wat sy werk hier en daar soos skooljongens-geskryf laat lyk. Dié gebrek is in sy tweede bundel Ou Malkop (1919). só markant, dat mens nie anders as van taalgemors kan praat nie. Voorbeelde daarvan staan op byna iedere pagina, en sitate word feitlik oorbodig. Heeltemal misluk is die beskrywing van die ontsporing van die Engelse trein (p. 41-42). ‘Hy kom aangestoom en aangedroom op sy masjienery en hardloop los vooruit met alle krag en verdelgende mag.... Die bodem van die aarde tril! Dis of die sterre in hul blou firmament gril met iedere naderende stamp en uit hul gewelf wil losbeef!.... 'n Gehom-mmm! van raddewerk van masjienery! - en meteens! 'n lang ry swart-kamers hol dol en ril duiselig oë verby! - 'n groot windvlaag skep alles op onder die kranksinnige gedruis! 'n Stulpende onderaardse skok!! 'n donderende donderslag!! en daar omrol 'n stuk swaar ysterwerk soos 'n kanon in die lug!’ (p. 42). Dit is magtelose gestamel met visie- en taalverknoeiing, wat in die historiese skets Etienne Barbier 'n toppunt bereik en soms geheel onverstaanbaar word. Hier en daar is natuurlik nog enkele gelukkige trekke, wat ons aan die skrywer van Die Putgrawer herinner. Veral in Fekkie, die verhaal van 'n blomverkoopstertjie en O so 'n harde Hart, waarin die besoekers van 'n kantien geteken word, is daar goeie gedeeltes. Die Liefling van die Korps gee 'n skildering van die kommandolewe; 'n Wonderlike Ongeluk en Die ou Poskoets voer ons terug na die ou dae. In 'n brief aan Die Burger praat Maré van ‘die onuitputlike bron van die lewes van ons gewesene Afrikaners’ en dit blyk dat veral ‘die stoere ou olifantsjagters van 1861 se dae’ hom aantrek. ‘In die algemeen is die rigting van my strewe om al die goudgeel sonstraaltjies van die verlede van ons voorgeslagte te herroep en te trag om dit vars te laat bly in die geheues van ons jong geslag.’ 1) Maré het hom dikwels goed ingeleef in die gees van die ou dae, en die liefdevolle aandag waarmee hy selfs by die geringste besonderhede van die daaglikse lewe verwyl, laat telkens vir ons 'n lig opgaan, wat die algemeen-menslike kant van die historiese feite op verrassende wyse verhelder. {==243==} {>>pagina-aanduiding<<} In die skets Ou Malkop word moralisasies van die skrywer tussen die gepeins van die kaffer ingevleg en op p. 150 is daar 'n uitweiding oor ‘die ou dae’. In Eensame Prospektors is die dialoog onnatuurlik. 1) Ook in sy portret-tipiek is Maré nie gelukkig nie. As ons lees op p. 82, dat Van der Walt 'n ‘dik gedraaide swart buffel-horing snor’ het, en as hy lag ‘geluide maak soos wat kom van wegdrentelende makoue’ (p. 92), dan ontstaan daar al twyfel; wanneer ons enige paginas verder hoor, dat Hoard ‘'n stywe snor oor die bo-lip soos gevoude swawelvlerkies’ het (p. 100), dan versterk dit die suspisie, dat dié opsetlik bedagte kenmerke meer van 'n lomp toneelspeler afgekyk is, as na die lewe geteken. In die latere drukke van sy twee werke het die skrywer 'n poging gedoen om die opvallendste taalgebreke te verbeter. 'n Groot aantal sintakties verknoeide sinne het hy met meer of minder sukses omgewerk, maar daar het nog soveel gebrekkigs bly staan, dat dit die taalgevoelige leser moet afskrik. Of die vertaling van 'n Engelse werk 'n geskikte oefening is vir 'n jong skrywer wat nog so met anglisismes sukkel val wel te betwyfel. Verbygerolde Dae (1928). In hierdie bundel sketse behandel Maré weer sy geliefkoosde onderwerp, nl. ‘die storre ou olifantjagters van 1861 se dae’. Maré se oorpeinsings voer hom steeds terug na die ou tyd, toe die boer nog in hoofsaak jagter was. Mymerend betrag hy die patriargale figure, met die wuiwende baarde en kromsteelpype, wat uittrek op 'n langdurige jagtog. Telkens sien ons een van hulle opduik uit die skemerlig van die skrywer se herinnering en vir 'n wyle vaster vorm aanneem as daar stilgestaan word by 'n waaghalsige avontuur met een van die bosreuse uit die jagveld. Innig leef die skrywer hom in die spannende momente in, en sy bewondering vir die heldefeite uit die verlede word vertolk deur spontane uitroepe wat die gang van die verhaal onderbreek, maar ook die illusie by die leser skep dat hy die voorval werklik sien gebeur. Die vorm wat die beste pas by Maré se dromerige fantasie is 'n soort retrospektiewe mymery wat kort-kort met koesterende aandag verwyl by tekenende besonderhede. ‘Aha! Daar diekant aan die ruie oewers van die Oemsoewanja die onweersnag, sien hy mos die opgetooide doloskaffer.... Dis waar. En sien hy ook nie weer die verdroogde aappoot langs een van die twee omgekeerde bont skulpe nie? Ja. Dis rampspoed! Rampspoed! Nè, ja? Dis die waarheid. Van hulle jagters sou daar een seerkry. Reg! En een van die twee omgekeerde klein dolossies, links op die gladde vel van die swartwitpens digby die afstootlike aappoot voorspel mos dood. Reggenoeg! Nou -’ (p. 34). {==244==} {>>pagina-aanduiding<<} Hierdie stukkie met sy herhaalde uitroepe, fragmentariese meedelings en vrae is 'n tipiese proewe van Maré se verhaaltrant. Langsaam word die skimme uit die verlede opgeroep: ‘Vanaand, soos ek oud en sat van dae, behoeftig en byna versaak in my eensame binnemure so sit en tuur, kom daar na my terug herinneringe van dae van vreugde, sowel as van smarte.... Wat het plaasgevind van kindsbeen af? Wat sluimer daar in die verlede? A, a! die kriekies tjir-rr in die perskelaning alweer!’ (p. 54.) Dis hierdie melankoliese mymerstemming van 'n afgeleefde grysaard wat deurgaans die toon aangee van al die sketse. Sterk voel ons daarin die heimwee van die skrywer na die ‘verbygerolde dae’ van die ou Voortrekkers. Dis die hunkering van 'n moderne stadsmens wat hom ontuis voel in die gewoel van die beskawing; dis die verlange na die onbeperkte ruimtes van die eensame bosveld wat hier tot uiting kom; dis 'n jongman, vasgevang in die enerse roetinewerk van 'n Regeringskantoor, wat hier die avontuurlike dade van 'n dapper voorgeslag idealiseer. Maré het eerbied vir die eenvoudige godsvrug van die olifantjagter; hy bespied hom met liefdevolle aandag in sy daaglikse doening en ken sy gewoontes en kleredrag. Hy kan ook meeleef met die dolle pret van die jongmense wat op die nuwejaarsfees oom Freek se toestemming kom afsmeek om 'n bietjie te dans. Hierdie toneeltjie behoort tot die beste in die bundel. ‘Kinders, kyk, ek het my toestemming net vir 'n bietjie stofmaak gegee, want dans het my afkeuring. Luister, dans en d-a-ns is heeltemal twee afsonderlike dinge.... ‘Dans julle maar,’ het oom Freek saggies gesê en sy arms laat val. Nadat die oubaas met hierdie vernuftige redenasie sy gewete gesus het, roep hy vals-retories uit: ‘Gaan julle nou op julle baan, mense van vreugde!’ Maar gelukkig vind die skrywer dadelik weer die juiste toon, want as een van die jongmense oom Freek daarop wys dat koning Dawid ook gedans het, skiet die oubaas meteens hierdie pragtige kolskoot: ‘Ja, meneer Sjert Krier, ondeunde platjie, dat koning Dawid ook gedans het, betwis ek nie, maar vergeet nie dat die koning tral-de-ra gedans het en dat julle vandag die riepel-die-piepel dans hoor?’ Daardie aand het die jongspan na hartelus gedraai, sodat tante se seep, pampoene en biltong byna van die solderbalke afgetuimel het! Die danslus tas selfs party van die oumense aan, en ouma Dorie probeer om oom Mias weer 'n bietjie jonk te laat voel. Die uitbeelding is egter minder gelukkig: ‘En met haar welbekende ou swart snorretjie oor die kort bolippie van 'n singende mondjie, het sy eindelik met haar swaar liggaamsbou in 'n rigting gehuppel en in dié van niemand anders nie as oom Mias.’ {==245==} {>>pagina-aanduiding<<} Maar te midde van die dolle feesvreugde kom die benouende voorbode in die gedaante van 'n vrou wat met 'n wuiwende bos borriegeel blomme ellende en dood voorspel. Daar is nog meer welgeslaagde toneeltjies in hierdie boek, wat oorvloedige bewys lewer van simpatieke inlewing in die atmosfeer van die ou Trekkers. Maar by alle waardering van die egtheid van die skrywer se ontroering, moet daar tog op gewys word hoe Maré ook nog in hierdie bundel telkens ons stemming bederwe deur gebrekkige taal, slordige sinsbou en ondeurvoelde beeldspraak; hoe hy in sy uitbeelding almaardeur gryp na sekere draaitjies so welbekend uit sy vorige werk en ou motiewe met geringe variasies tot vervelens toe herhaal. Ons wil aanneem dat die ou olifantjagters net een pyp op 'n dag gerook het. Maar Léon Maré het minstens 'n goeie ton sterk boeretabak nodig vir al die ‘knorrende arendskloupype’ waaruit die jagters gedurig ‘bolle rook’ oor hul skouers jaag, of vir die ‘wolke van geurige tabakrook’ wat oor die watente drywe! Een oubaas raak selfs ‘toegehul in sy eie vredewolke van brandende boeretabak.’ Deur skroomlike oordrywing gaan hier alle effek verlore. Dieselfde geld van die ‘pluimveerhoede’, die ‘grysgeel golwende baarde’, en die ‘klam patryskuif’ van die jongkêrels - om maar 'n paar van die skrywer se lyfwoorde te noem, wat al gou tot niksseggende stoplappe ontaard. As voorbeeld van die sonderlinge onmag van die skrywer om 'n doodgewone ding te sê, siteer ek nog: ‘Tant Helena en.... Johanna speel op die klavier en ons verenig in stemme saam in 'n lieflike koor’ (p. 135). ‘Uit die vors (lees fors) en sagte borste van mans, vrouens en kinders bruis daar suiwerklinkende bas en skrille note op....’ (p. 13). Wat is nou eintlik ‘'n erdvarkgat van Voorsienigheid’; ‘'n grasbengelhandjie’, ‘'n vlugteling van geregtigheid’; ‘'n op en neer hewende bors’? En hoe kan die ooste ‘in soene van naamlose kleure goeiennag gewens word’? Of die rondgaande hof opdaag ‘om met al sy grawe en pikke van gereg die laan van geheim om te delwe’? Maré het in sy latere werk nooit weer die peil van Die Nuwejaarsfees bereik nie. Dit bly 'n voortborduring op bekende motiewe, gevoelige sketse oor armes en misdeeldes, die ou trekkers en jagters van Schoemansdal, verhale uit die oorlog en die lewe van naturelle. Die langste verhaal in Mooi Lemoene is eenvoudig 'n opsomming van die misdade wat deur die aanvoerder van 'n kafferbende bedrywe is. (Die Waaghals). Af en toe is daar wel toneeltjies wat ons aan Maré se beste werk herinner, maar dit lyk nie of hy die belofte van sy jeug sal vervul nie. Die beste skets is Die Straatongeluk. In Harde Pad is daar geen artistieke vooruitgang te bespeur nie. {==246==} {>>pagina-aanduiding<<} § 5. Ds. J.H. Kruger. Ds. J.H. Kruger is in 1878 gebore op Venterstad, K.P. Aan die Teologiese Skool, Burgersdorp, het hy gestudeer en daarna enige tyd onderwys gegee. Sy teologiese studie is in 1899 deur die oorlog onderbreek. Met die hulp van vriende het hy deur Grootrivier gevlug en as rebel by die kommando's aangesluit. Na herstelling van 'n wond by Spioenkop, Natal opgedoen, het hy by generaal De Wet aangesluit, maar in die verwarring by die slag van Sandrivier is hy gevang en moes twee jaar as balling in Ceylon deurbring. In 1906 het hy in Potchefstroom proponentseksamen gedoen. Sy eerste standplaas was Elliot en van 1911 af Postmasburg. In 1921 het van hom verskyn 'n roman, Twee Rampe en Twee Gelukke, waaraan in die prysvraag van die firma J.H. de Bussy die tweede prys toegeken is; Die Koster en sy Vrou (1930) en Dawid en Jonathan (1932). Twee Rampe en Twee Gelukke (1921). Bram, die eienaar van die plaas Leeukop, het agteruit geboer en was verplig om geld op te neem by sy buurvrou, ou tant Anna Smal, wat van sy verleentheid wil gebruik maak om haar buffelagtige seun Hans met sy fynopgevoede dogter Isabella te laat trou. Met skinderpraatjies steek tant Anna vir Bram op teen die Breed-familie, sy beste vrinde, wat op die aangrensende plaas Oupos woon. Isabella het vir Piet Breed lief, maar haar vader se afhanklike posisie verplig haar om met Hans uit te gaan, wat haar na 'n dansparty sleep. Tant Anna en Bram jaag die Breeds van hulle huurplaas weg, maar Bram se gewete plaag hom so, dat hy sy dogter en die Breeds kort voor sy dood om vergewing vra. Hans word in die pad gesteek deur Bram se weduwee en as tant Anna die geld opsê, word Piet Breed deur die vrygewigheid van oom Segrys Boshof in staat gestel om Leeukop te koop. Die roman is hoofsaaklik in dialoogvorm geskryf. Die gesprekke word baie breedvoerig weergegee, en as gevolg kry die verhaal hier en daar 'n slepende gang. Heel weinig word aan die fantasie van die leser oorgelaat. Daar is soms 'n neiging om alles tot op die been af te kluif. Groetery, koffiedrinkery en soortgelyke dinge word oor en oor vertel. Die skikkinge vir die begrafnis word baie omstandig meegedeel en ou Jefta se relaas (p. 37-40) kon heelwat korter gewees het. Die dialoog tref deur 'n besonder losse natuurlikheid. Die mense praat geen kunstig inmekaar gesette vernufs-taaltjie nie, maar hul gesprekke word gekenmerk deur die zig-zag gang, die toevallig gebrokene van die geselstaal. 1) Maar, ‘gesprekjes weergeven is geen dialoog, hoe letterlijk de weer- {==247==} {>>pagina-aanduiding<<} gegeven woordjes en zinnetjes ook zijn.... De hooge en werkelijk groote dialoog ontstaat pas in de door de ziel van den kunstenaar herschapen taal-levingen. Dialoog krijgt alleen dan diepte, als hij geheel op hetzelfde geïndividualiseerde plan staat van de waarde der menschen en omgeving. Dialoog scheppen is even moeilijk als tragiek scheppen, of liever moet zich geheel scheppend oplossen in de gansche uiting. Evenmin als 'n fotografische opname eener omgeving, die alleen door de ziel van een kunstenaar er in te brengen stemming kan weergeven van die omgeving, evenmin kan een fonografische op- en overname van een gesprek de stemming weergeven van de ziel der wezens die spreken. Dialoog is stemmingskunst in de hoogste volmaking en 'n innig-levende dialoog kan nooit 'n klankweergeving zijn van afgeluisterde zinnetjes.’ 1) Fonografies korrekte sinnetjies is seker volop in die roman, maar in die pratery van ou tant Anna bereik Kruger ongetwyfeld iets van die hoë dialoog. En dat sy mense op natuurlike wyse gesels is ook al iets om dankbaar voor te wees, aangesien so baie van ons skrywers nog soos Bredero van Rodenburg sê ‘de Vrouwen, Dienst-meysjens, ja Stalknechts doe(n) Philosopheren.... dat ick doch meer voor een bewijs van uwe wetenschap acht, als voor een eygenschap in die slach van Menschen.’ 2) Kruger verstaan die kuns om uit die dialoog die innerlike wese van sy mense te laat opduik en daardeur bereik hy plek-plek meer as baie ander skrywers met analise of beskrywing. Tant Anna het skaars haar mond oopgemaak of ons ken haar al deur-en-deur in al haar skynheilige vroomheid. As skinderbek veral is sy goed geteken. Op listig-diplomatieke wyse word die driftige Bram eers opgestook, maar as hy te ver wil gaan in sy woede, laat sy hom bedaar met 'n Bybelteks! (p. 66.) Deur allerlei gelukkige trekkies en haaltjies word sy so goed uitgebeeld, dat sy naderhand lewendig voor ons staan met die vetswam onder haar kin, die vuilgelerige tande, bleekrooi sakdoek en snuifdosie. Ook van Hans en Jan Booise kry ons 'n realistiese portrettekening. Ou tant Anna se vroom uitvalle, haar met Bybeltekste deurspekte taal en haar manie om almal te dokter is goed weergegee. So ook die buffelagtige lompheid van Hans. Maar die kenmerkende eienskappe van moeder en seun word teen die end van die verhaal só aangedik, dat die tekening karikatuuragtig word. Kruger moet dit nie vergeet nie: ‘il n'y a point d'unité complète dans l'homme, et presque jamais personne n'est tout à fait sincère ni tout à fait de mauvaise foi.’ 3) Tog is daar 'n paar mooi realistiese toneeltjies uit die lewe op Tweefontein 4) en die manier waarop Hans van Leeukop verwilder word {==248==} {>>pagina-aanduiding<<} (p. 202, vlg.) is 'n gelukkige vinding, wat van diep-psigologiese insig getuig. Dit is ook waar van die uitbeelding van die oplopende Bram, wat na die dansparty tot inkeer kom; die kwaaikoppige oom Segrys, wat dit nie kan kleinkry nie, dat dit na 'n dansparty altyd so mooi reent (p. 182); tant Martina, wat so trots is op haar ‘skoon geslagte’ en die so fyn kan uitrafel. Maar Piet bly 'n skim, en die maklike manier, waarop hy eienaar word van Leeukop, gee hom die allures van 'n ‘romanheld’. Dit is die swak punt in die komposisie van die boek. Oom Segrys se buitengewone vrygewigheid word wel enigsins gemotiveer deur die feit, dat die Breeds hom in die stormagtige nag gered het, maar die oubaas, wat so 'n swak het vir familiebetrekkings, het tog seker nog nader verwante gehad, wat meer reg op sy geld het as Piet. Oom Segrys is eenvoudig die deus ex machina, wat die ontknoping van die verhaal moet bewerk. Sulke goedhartige ooms is maar bra skaars in die werklike lewe. Die tekening van Isabella is ook net gedeeltelik geslaag. Haar ervarings op die dansparty is meer die indrukke van 'n doodonskuldige teologiese student, wat vir die eerste maal iets van die sondige wêreld sien en notisies maak vir 'n retoriese preek teen wêreldsgesindheid. ‘Will Bottel het op haar 'n treurige, sonde-vieslike 1) indruk gemaak’ (p. 151). Sy sien hom lê op die vloer ‘soos iemand in die poel van rampsaligheid moet lê’ (p. 172). ‘Dit was vir haar of sy in 'n onheilige omgewing staan en 'n besoedelde atmosfeer inasem, 'n atmosfeer, waarin verpestende sondekieme ronddrywe’ (p. 152). ‘Die onreinheid en onheiligheid het haar angstig gemaak, ontevrede, ongemaklik en verwaarloos laat voel, net soos iemand, wat vuil was en lanklaas gewas het’!! (p. 177.) Sulke opmerkings bewys, dat hier die predikant baas speel oor die outeur. Hy kon hom nie vereenselwig met die malkop-dansers in hul ‘dolle gloria’ nie, maar bly 'n onwillige toeskouer van al die sondige pret. Sy aanvoeling van Isabella se gewaarwordings is grof-manlik en nie vrouliksubtiel nie. Maar as Isabella met Koos dans, dan maak hy 'n raak opmerking: ‘Sy dans en voel, dat dit 'n genot moet wees om te dans met 'n jonkman, wat sy sou bemin’ (p. 163). Oom Freek is geen figuur wat ons tref deur individuele tekening nie. Sy mymering op p. 10-11 sit te netjies inmekaar om eg te wees. Dieselfde indruk maak ook p. 74, terwyl Hans onmoontlik ou Jefta se woorde so presies in sy gedagte kan nasê (p. 78). Dat al drie reisigers dieselfde indruk van die verlate Oupos kry (p. 138) is ook onmoontlik. Mooi word egter die atmosfeer aangedui as Piet in die waenhuis die doodkis toeskroef (p. 20) en treffend-eg is die uitbeelding van sy grillerig-bange gevoelens. ‘Piet verbeel hom meteens, daar uit die groot, wye spinnekop- {==249==} {>>pagina-aanduiding<<} nes kom 'n grillerige langbeen....; die verewa agter in die waenhuis kyk hom aan met groot starende oë’. 1) In die damtoneeltjies is daar stukkies beskrywing van 'n suggestiewe fynheid. 2) In die verhalende gedeeltes is Kruger se styl soms so kort afgebyt, nes een wat ver gehardloop het en nog uitasem sy storie vertel. 3) Eweas in die dialoog kom hier ook 'n breedvoerigheid voor, wat af en toe hinderlik word. ‘Die predikant staan op, maak keel skoon, haal sy bril uit die skyf, vee dit af, hak hom met albei hande agter die ore vas, gee 'n versie op, lees 'n kapittel en begin toe, so effens oor die brille 4) loerend.’ (p. 30). So 'n eentonige reeks moment-opnames steek lelik af by realistiese skilderytjies soos die volgende: ‘Ou tant Anna lag met wyd oopgerekte mond, die vetswam onder haar ken uitdyend en die gehemelterooi agter haar vuil-gelige tande wysend.’ (p. 65.) En wat maak vlak-vaal sinne waarvan die volgende maar een voorbeeld is in 'n letterkundige werk? ‘Die meeste meisies was in die groot langwerpige eetkamer, waarin, behalwe 'n eettafel en 'n paar ouderwetse swart stinkhout stoele, niksnie besonders was nie.’ (p. 152.) 'n Voorbeeld van smaaklose klink-klank is die beskrywing van die wind op p. 146. ‘Draaiende, swaaiende kom met die paaie aangewaai stowwe suile (stofsuile?), wat soos geel krullende kuiwe opstuiwe. Die hollende, jollende wind skop die stowwe bolle (stofbolle?) soos dwalende, malende vuilkolle hoog in die lug in....’ So rym en allitereer hy dapper voort nes 'n poëtaster, wat sy eerste versfabriekie aanmekaar klink! Ondertussen word die stofsuile van krullende kuiwe tot stofbolle en die weer tot vuilkolle! Komies is die klankeffek in die volgende: ‘Die slappe wilkertakke.... skoppermaaie rusteloos, moedeloos, lindelam heen en weer oor die dam’! 5) In sy beeldspraak is Kruger 'n enkele maal fris en oorspronklik. Ou Jefta se hemp word deur die wind bulsak geblaas tussen sy skouers (p. 147); Isabella sidder ‘soos 'n voëltjie vir 'n mambaslang’ (p. 153); Jana lyk ‘soos 'n Bloemfonteinse straat, wat.... opgemaak (is) vir die hertog van Connaught’ (p. 149). Die gewone cliché-praatjies is egter ook volop: Die lykpreek het ‘byna 'n eeu geduur’ (p. 30); ‘Koud soos 'n stuk ys, waaraan sy gloeiende hart raak....’ (p. 84); ‘Haar hart het.... gebrand van verlange, maar sy moes daardie liefdekole in haar boesem dra’! (p. 223). Arme meisie! Ofskoon die gebruik van dialektiese vorme in die dialoog toelaatbaar is, moet dit afgekeur word in die verhalende teks. Kruger gebruik o.a. suffel, groos, espres, bebliek, ens. Wat hy o.a. met preer (p. 204), effetroon {==250==} {>>pagina-aanduiding<<} (p. 62), eenspaier (p. 141) bedoel is my onbekend. 1) Verkeerd is: ongehawende stemme (p. 8), kostelike gordyne (p. 214), terwyl moedvallig 'n Krugerisme is. Kruger se volgende twee verhale was 'n teleurstelling. Dawid en Jonathan is net 'n aaneenskakeling van vervelende gesprekke wat selde of ooit tot dialoog ontwikkel. Die skrywer het wel baie tipiese gesegdes uit die volkstaal opgeteken, maar sy psigologie is onoortuigend en sy stylvermoë swak. Oom Org is nasionaal, en sy boesemvriend Memel, die prokureur, word kandidaat van die S.A. Party. Die verwydering tussen die twee vriende as gevolg van die politiek is 'n baie interessante motief wat nog maar deur weinig van ons skrywers aangedurf is. Kruger gee ons wel 'n kykie op die geknoei agter die skerms, maar die tekening bly baie oppervlakkig. Ons wag nog op die skrywer wat ons 'n lewendige beeld kan gee van die bedrywighede tydens 'n verkiesingstryd. § 6. Dr. J.R.L. van Bruggen. Hierdie skrywer, wat soms die skuilnaam Kleinjan gebruik, is 'n broer van Jochem van Bruggen. Hy is in 1895 in Johannesburg gebore. Nadat hy in 1919 die graad M.A. in Hollands aan die T.U.K. behaal het, studeer hy filosofie en pedagogie aan die Gemeentelike Universiteit, Amsterdam, waar hy in 1922 promoveer op 'n proefskrif Lektuurvoorsiening vir Kinders en Jeugdige Persone. 'n Bloemlesing uit sy bundel jeugverse (Lentestemme, 1919) het hy opgeneem in 'n nuwe versameling, Gedigte (1925). In die uitgawe Inleiding tot die Studie van Letterkunde (1925) deur Schoonees - Van Bruggen het Kleinjan die tegniese beginsels van die verskuns op voortreflike wyse uiteengesit en partymaal ook 'n openhartige kykie in sy eie literêre werkwinkel gegee. In 1922 het van hom verskyn 'n sielkundige roman Japie, wat hy as twintigjarige student op T.U.K. geskrywe het. In Amsterdam het hy dit hersien, en daar is ook die meeste oortollige etiese en sielkundige bespieëlinge ingelas, wat hy hoop om by 'n volgende druk te verwyder. Lentestemme en Japie beskou Van Bruggen self albei as ‘skoolgaanwerk’. Om die werke in die regte perspektief te beskou is die volgende meedeling van die skrywer ook van belang: ‘As bloedrooi Engelsmannetjie het ek op agtienjarige leeftyd die “King Edward VII School” verlaat. Voor dié tyd het ek nooit enige aanleg in watter vorm ook al vir letterkunde gehad nie. Dit was eers teen die einde van my negentiende jaar dat ek my van soiets as 'n Afrikaanse Taalbeweging bewus geword 't.’ Van Bruggen was enige jare assistent aan die Helpmekaar-Hoërskool, {==251==} {>>pagina-aanduiding<<} Johannesburg, en sedert 1927 is hy dosent aan die Potchefstroomse Normaalskool. Van hom het ook nog verskyn: Bittereinders (1935) 'n roman; Gebroke Drade (1935) 'n toneelstuk; Môrestond (1936) 'n bundel gedigte, en Wraak (1938), 'n bundel kortverhale. Japie (1922). Jan van Bruggen was een van die eerste Afrikaanse romanskrywers wat die tradisie van die heroïes-romantiese verhaal uit die vryheidsoorloë laat vaar het en op besliste wyse koers vat na die moderne roman. Tot omstreeks 1922 is dit veral die radikale teenstellings, liefde en haat, deug en ondeug, lafhartigheid en moed, ens. wat beliggaam word in onveranderlike tipes. Hierdie elementêre volksiel self, sal steeds die groot massa bekoor deur 'n knap intrige-knoop en deur sensasionele lotswisselinge. Dieselfde onsterflike tipes bokspring lustig deur die lewe op die rolprente van ons moderne bioskoop en sal wel altoos 'n dankbare publiek vind. Die mens met sy daaglikse sorge en plesiertjies, en geen ander besit as sy menslike hart onder sy werksbaadjie nie is 'n volkome onbelangwekkende verskyning vir diegene, wat deur innerlike armoede en leegte die hoogtes en dieptes van die daaglikse lewe nie kan besef nie. Dat Jan van Bruggen een van die eerstes was om af te wyk van die vaderlandse bioskoop-roman deur al sy aandag te konsentreer op die sielsgeskiedenis van 'n mens - dit is 'n feit wat Japie betekenis gee in die ontwikkelingslyn van die Afrikaanse romankuns. 1) Japie, 'n weeskind met horrelvoete, word grootgemaak deur oom Gert en tant Sarie, wat geen raad weet met die wonderlike seun nie. Japie het 'n uiters sensitiewe, 'n dromerig-melankoliese geaardheid en 'n artistieke aanleg. Van enkele voorvalle uit sy jeug gee die skrywer 'n mooi, plastiese uitbeelding. Tot die beste gedeeltes van die roman behoort die tobbery van die seun oor sy gebreklike toestand, en oor die gemis van sy ouers. Die eerste periode op die plaas is ‘die saaityd van Japie se skoonheidsgevoel’ (p. 14). ‘Die natuur was vir hom net 'n heerlike droomland, vol soet en strelende geluide, waar sy kinderfantasie onbelemmer kon bou die lugkastele van die jeug.’ Daarop volg die puberteitsperiode, waarin ‘die misterie van (die) sekse tot lewende werking’ kom. Mooi geteken is die ontwaking van sy kalwerliefde vir Koba Groenewald. Op sy negentiende jaar kry Japie ‘aanvalle van wêreldsiekte’ (p. 29). Dit is die Storm-en-Drang-periode, waarin hy met godsdienstige twyfel worstel en weier om te loop op ‘die nou paadjies van sy ouers’. Japie beleef sy ‘swarte tyd’. Hy neem sy toevlug tot die natuur, en op koppiealleen peins hy, meer soos 'n geskoolde psigoloog as 'n begaafde plaasseun, oor die raaisels van die heelal. Dikwels skryf Van Bruggen eenvoudig {==252==} {>>pagina-aanduiding<<} sy eie gevoelens as stadskind of as universiteitstudent aan Japie toe, en die gevolg is dat die skildering van die plaasatmosfeer en die karakterontwikkeling onoortuigend word. Van Bruggen is nog te veel met sy eie innerlik besig om 'n objektiewe uitbeelding van Japie te gee en daarby sukkel hy telkens met onverteerde wysgerige formules wat hom by elke draai belemmer. Japie kom tot die gevolgtrekking dat hy moet uitspring dorp-toe om werk te soek. In die Uniegebou word hy siviele amptenaar en in die Pretoriaanse samelewing ontwikkel sy vrindskap vir Piet Joubert en sy liefde vir Nellie Muller wat met groot innigheid geskilder word. Hy sien ‘die misterie van skoonheid.... in die wese van 'n vrou’ (p. 48). Hy maak ook kennis met die oppervlakkige babbelpraatjies van sy stadmaters met hul ligsinnige lewensbeskouing en leer o.a. hoe om ‘diplomaties te lieg’ (p. 56). In die skildering van die stad se geselskapslewe is veral goed geslaag die figuur van Maggie van der Walt, die sangeres van sentimentele ‘love songs’, wat altoos verkoue is as sy moet sing. ‘Daar kielie iets in Japie! Die inkonsekwensie van die smekend-sentimentele houding, die linker-toon wat net die grond raak, die vingers inmekaar gestrengel, en gedruk teen 'n hart wat seker baie seer kry, op die beste manier van professionele sangers, en die oë so nou en dan smagtend na die blafon gegooi, asof dit haar “lover” se aardse hemel moet wees - en dan die harde metaalstem wat sy oorvlies seer maak, en hom naderhand heeltemal ontsenu’ (p. 54). Wanneer Nellie Muller aan die griep sterf, verloor Japie sy ideale en hy lê hul ‘as 'n verlepte skoonheidskrans op haar graf’. Hy word 'n sinikus, 'n wêreldveragter en wêreldhater. In Johannesburg ontmoet hy 'n ou bekende, wat hom sy smart leer vergeet in kantiene en op die reisiesbaan. Maar die melodie van een van Nellie se liedere, wat hy toevallig in 'n kafee hoor, bring hom tot besinning. Hy raak wel nog 'n slag verlore in die brasserye van die goudstad, maar die liefde van Cecily Morgan en die invloed van Piet Joubert bewerk uiteindelik 'n volkome regenerasie. Met 'n vriend gaan hy na Europa om verder te studeer. In Japie kry ons dus die karakterontwikkeling van 'n uitsonderingsfiguur. Daar is geen spannende avonture, geen lawaai-insidente nie. Dit is net die geskiedenis van die ontwikkeling van 'n begaafde seun, sy stryd met die lewe, sy ondergang en uiteindelike regenerasie. Die vernaamste psigologiese momente het die skrywer plasties uitgebeeld en sy beskrywing van die verskillende krisisse in Japie se lewe getuig van 'n diep indringingsvermoë. Van Bruggen het Japie se stemminge self deurleef en dikwels word ons getref deur die innige, intieme toon waarop hy dit weergee. Maar ongelukkig is hy ook telkens die wetenskaplik opgeleide filosoof, wat swaarwigtig redeneer oor Japie se gevoelens, i.p.v. dit uit te beeld. As die skrywer sy vernuftige sielkundige uitpluiserye vervang het deur {==253==} {>>pagina-aanduiding<<} meer psigologie-in-aksie, dan sou die tekening van Japie meer lewe gekry het. Wat my geweldig hinder in die roman is die geleerde sielkundige verhandelinge, soos o.a. die eerste helfte van Hoofstuk XI en die uitleg van drome op p. 141. Dit is dinge wat in 'n psigologiese handboek tuishoort en allermins pas in 'n roman. Op p. 122 stip die skrywer 'n punt aan op sy ‘wetenskaplike kaart van die mensdom’. Ek kry die indruk, dat hy vir Japie se hele lewe so 'n kaart gemaak het en dat hy vir die vernaamste punte op die kaart met noulettende sorg sy gegewens uit wetenskaplike handboeke byeengesnuffel het. (Vgl. ook b.v. die ‘liefdeskaart’ op p. 71.) Die psigologiese analise van Van Bruggen is deurspek met handboek-terminologie; dit is eksak-wetenskaplik, terwyl dit by groot kunstenaars gladnie 'n saak van vakkennis, maar wel van artistieke intuïsie is. Japie kon maklik 'n dorre, sielkundige skema geword het, maar gelukkig het die warm-menslike gevoel van die skrywer telkens gerebelleer teen die betogende, onderwysende vakfilosoof. Van Bruggen het dit self gevoel, waar hy sê: ‘Laat die psiegoanalitikus vroetel in 'n mensesiel om fantastiese Oedipus-komplekse op te grou, en die psigiater sy patologiese prognose stel - ons wil die tyd deurdrawwe’ (p. 123). Op ander plekke is hy nie so bang vir realistiese tekening nie; ons hoor van 'n lywige dame wat ‘uit die kamer verdwyn met 'n bewuste joep van haar gepantserde lyf, en Japie dink vaag of daar altemit nie iets uit die haak is met haar wapenrusting nie’ (p. 57). Van Bruggen se styl het 'n individuele klank, hy soek na die juiste, tekenende woord en verras ons telkens met digterlike uitbeelding soos die volgende: ‘waar windgekerfde berge 'n ylblou damwal gooi’ (p. 30). Mooi is ook die beskrywing van die see (p. 144 vlg.), waarin ek naklanke van Jan Celliers se Strand-Indrukke hoor. By 'n skrywer wat so goed tuis is in die moderne letterkunde verwag ons nie sulke outydse, vals beeldspraak, soos die volgende: ‘in sy hart het iets gebrand, soos 'n gloeiende stuk yster’ (p. 14); ‘oë, waar heel haar reine kinderhart in trane van simpatie geswem het’ (p. 19), ens. Japie se hart moet wel 'n oseaan wees, want tot vervelens toe skeur daar 'n golf van smart of van emosie uit los: ‘Dis of 'n oorswalpende golf van emosie uit sy hart bars en styg na sy kop in 'n chaos van pyn....’ (p. 75). Gelukkig het in die pynlike golfgevaarte 'n stem geklop ‘met vreeslike klem en hom sy bewende lippe laat toesnoer’ - anders was die gevolge seker noodlottig! (Vgl. p. 66, 73, 83, 101, ens., ens.) Van Bruggen se mense ly ook deurgaans aan 'n abnormale bloedsomloop. Reeds op p. 22 lees ons: ‘hoewel sy bloed na haar gedors het, en so vinnig-vinnig deur sy are pomp.’ Drie blaaie verder: ‘Oop gaan die poorte van die seun se hart, en sy bloed, wat vir 'n tydjie daarin gesluimer het, guds met dik strale uit, en kan sy draaie nie in die are kry nie.’ So hou die bloederige maneuvers aan, ad nauseam! Op- {==254==} {>>pagina-aanduiding<<} vallend is ook hoe dikwels die mense ‘dromerig voel’; die aantal ‘harte wat honger en oë waar honger in brand’. Hoewel daar enkele anglisismes voorkom, (o.a. Rustenburg distrik, die wesie, wat nou alleen die wêreld wil gaan veg, dit maak my so vies voel), is dit hoofsaaklik Nederlandse invloed, wat Van Bruggen se styl dikwels beslis onafrikaans maak. Daar is 'n ryk oes van Hollandismes in te haal op die 155 paginas. Besonder hinderlik is ook sinne van die volgende tipe, wat dwarsdeur die boek in groot aantalle voorkom: ‘die eenvoudige mense, waaronder hy hom het beweeg’ (p. 29). In sy latere geskrifte het Van Bruggen egter die meeste taalmoeilikhede oorwin en getoon dat hy ook 'n gespierde Afrikaans kan skrywe. Die tweeslagtigheid in die taalatmosfeer van die roman kan verklaar word deur die feit dat dit in Amsterdam omgewerk is onder die direkte invloed van 'n verwante kultuur. Wat ek veral waardeer in Japie is die egte lewensgevoel en digterlike teerheid wat daarin tot uiting kom. Hier is eindelik 'n skrywer wat nie bang is vir ‘sluiers’ nie, maar wat op diepdeurvoelde wyse, die groot dinge van die sielelewe, die mymeringe van 'n ware mens in die eensaamheid van die binnekamer, weergee. Die poging om outobiografiese motiewe te gebruik by die objektiewe uitbeelding van Japie het wel dikwels aanleiding gegee tot onware voorstelling - so seer selfs dat Japie partymaal baie na 'n onhandig vermomde Kleinjan lyk - maar as jeugwerk beskou, besit hierdie roman ongetwyfeld kwaliteite, wat 'n groot belofte bevat. Bittereinders (1935). Ons besit heelwat gegewens oor die lyding en ontberinge van vroue en kinders in die konsentrasiekampe, en die ‘storie van hul sterfte’ is taamlik algemeen bekend. Dié historiese gegewens is egter meestal die getuienis van enkelinge, die lydensgeskiedenis van bepaalde huisgesinne. Totnogtoe het ontbreek 'n verhaal wat ons 'n samevattende beeld kon gee van hierdie droewigste periode in ons geskiedenis, 'n verhaal wat nie alleen histories-juis die dorre feite aanteken nie, maar waardeur ons die onsegbare moedersmart en kinderleed in sy volle omvang kon peil. Dokumentêre gegewens was daar genoeg, maar die kunstenaar moes dit herskep tot so'n werklikheid dat ons die ellende van die verlede kon herlewe. Dit is die taak wat Kleinjan hom gestel het in verband met die Mafekingse kamp. Hy het tot sy beskikking gehad die opgetekende ervarings van ongeveer vyftig persone wat die lewe in die kamp deurgemaak het. Sonder om die historiese waarheid geweld aan te doen, het hy hierdie boustowwe in verhaalvorm verwerk. Die skrywer begin met die oorrompeling van vroue, kinders en oumense deur Engelse troepe onder leiding van verraaiers, die afbranding van plaashuise en die onbarmhartige trek na die kamp. Op die kaal kalkbulte {==255==} {>>pagina-aanduiding<<} van die kamp moet tant Hannie en haar kinders drie dae vertoef sonder enige beskerming teen die bytende winterkou. Eindelik kry hulle tog 'n deel van 'n tent, maar vind al dadelik uit dat die kosrantsoentjie ontoereikend is, dat geen ordentlike water verkrybaar is nie en vuurmaakgoed ook uiters skaars is. 'n Mooi beskrywing word gegee van die daaglikse kamproetine, die vervelende toustanery by die rantsoenhuisie, die sarrende geterg van die makkakies, die gesukkel met groen stompe kameeldoring, die ellende met drink- en waswater, die primitiewe higïeniese voorsorgsmaatreëls. In die vierde hoofstuk begin die skaduwees van die dood oor die ongeluksplek saampak. Dertig tot veertig lyke word daagliks in sakke toegespeld en in groot gate ingerol. Tant Jacoba dring deur tot in die hospitaal, en deur haar moedige optrede word sy toegelaat om haar eie kind te verpleeg. Die verwaarlosing van die pasiënte deur onverskillige verpleegsters, soos tant Jacoba dit gedurende nege-en-twintig nagte moet aanskou, sal trane in die leser se oë laat opwel. Nadat die kamp twee weke lank sonder brandhout was, breek daar eindelik 'n storm los. In onkeerbare woede stoot die getergde moeders die wagte opsy en slaan dertien waens kort en klein. ‘En toe daar niks meer oorgebly het om stukkend te kap nie, is die drom in die roes van hul oorwinningsvuur met hul bondels vuurmaakgoed na die kampsuperintendent toe, terwyl “Kent gij dat volk” uitdagend oor die kalkbulte dawer.’ Hierdie houtopstootjie het die vrouens laat besef dat hulle deur gesamentlike aksie heelwat verbetering in die toestande kon bring en onder aanvoering van die wakkere Magrieta Steyn het hulle, na vergeefse vertoë tot die gehate MacCowat, na Mafeking marsjeer om hul saak voor die owerhede te lê. By die laaste hek word hulle deur 'n simpatieke offisier met beloftes gepaai, maar toe MacCowat by hul terugkeer in die kamp weer 'n onbevredigende antwoord gee, bars die opgesweepte gevoelens los in vernielsug. MacCowat moet vlug en sy kantoor word verniel. Die gehate rantsoenhuisie word ook verwoes en 'n parmantige makkakie so toegetakel dat hy twee maande in die hospitaal moes deurbring. Hierdie gewelddadige optrede van ordeliewende boervroue, hierdie bandelose uitbarsting van dierlike woede laat ons goed besef hoe diep die wanhoop oor uitterende kindertjies in die moederharte ingevreet het. Tant Hannie en nig Trienie het ná sorgvuldige voorbereiding besluit om te ontvlug. Mooi word die gevaarlike en avontuurlike tog van die klompie beskrywe. In die kamp het die vroue hul leed met dowwe berusting gedra totdat deur tussenkoms van Emily Hobhouse die toestande sodanig verbeter het dat nuwe hoop weer opflikker. Maar selfs die vredesgerugte kan hul nouliks uit die daaglikse sleur opskrik. ‘Hulle was nie meer plaasvroue nie, maar kampmense, getjapte wesens, nommerpas gemaak, en deur leed en ontbering stomp en moedeloos gebrei.’ Innig het Kleinjan hom ingeleef in die dowwe wanhoopstemming van die laaste dae {==256==} {>>pagina-aanduiding<<} toe dit gelyk het of met die verlies van die onafhanklikheid alles verlore was. Maar met die terugkeer na die verwoeste plase begin nuwe moed langsamerhand weer oplewe en toe tant Hannie klein Sarel en Hannatjie hand in hand op 'n koppie sien staan, begryp sy die betekenis van hul lyding: ‘Ons kan een ding aan ons kinders nalaat, wat hulle Goddank, nooit self hoef deur te maak nie, en dit is die erfenis van ons gelouterde gees. Dis nie verniet dat ons so gely het nie. God het met alles 'n doel. Ons lyding sal die krag van ons kinders word.’ Die tekening van die reine, skugtere kalwerliefde van die twee boerkinders is een van die ligpunte in hierdie sombere smartverhaal. Die gedienstige Sarel, wat as koster optree by tallose begrafnisse, bedink tussen al die ellende 'n oulike plan om sy liefde te verklaar. So gaan die jong lewe te midde van die dood sy gang. Vermaaklik is die geskiedenis van die swaarlywige Siena Bergman wat in 'n kruiwa na die kamp-superintendent gestoot word, en die verhaal van die hongerige tommies wat gulsig hap in die stene boerseep. Daar is ook nog ander lewendige toneeltjies wat toon dat die vroue onder al hul ellende tog nog 'n oog vir die komiese gehad het. Kleinjan het met hierdie verhaal 'n kultuurdaad van betekenis verrig. Laat ons jongmense veral dit lees, want hulle het maar 'n gebrekkige kennis van die heroïese lyding van ons volksmoeders. Wraak (1938). Tot dusver het Kleinjan nog nie die verwagting wat sy eerste werk opgewek het vervul nie. Wraak openbaar wel 'n opmerklike vooruitgang in verhaaltegniek, maar ontroer ons selde deur skoonheid van verbeelding. Op sy beste is die skrywer in hierdie bundel waar hy die verbouereerde vreemdheid van twee arm plaasseuns, wat vir die eerste maal 'n groot skool besoek, uitbeeld (Ontuis), of vertel van ouma se oorlogsmart (Ouma vertel). Liefde en Oorlog en Twee Vriende bevat ook episodes uit die Tweede Vryheidsoorlog, wat hoewel knap vertel, tog geen besondere indruk nalaat nie. Beter geslaag is Goudkoors waarin die lewensbeskouing en geskiedenis van 'n mynwerker, wat aan myntering ly, op onderhoudende wyse deur middel van 'n onderhoud vertel word. Die taal en styl van hierdie bundeltjie krioel van sorgelose foute. § 7. Everard Fichardt 1) († 1925). Onder die Olyfboom (1922). ‘Een van die vernaamste spelekies van die lewe, is vir die man om 'n vrou te vang, en vir die vrou om 'n man te vang. Dié spel verstaan hulle ook goed, net die kuns om mekaar te hou, kan hulle nog biekie leer’ (p. 213). Dit is die tema van Everard Fichardt se roman. Ewert {==257==} {>>pagina-aanduiding<<} en Fanie wil albei vir Lydia ‘vang’, maar Fanie en sy suster Nita leer eersgenoemde dat die groot kuns eintlik is ‘om mekaar te hou’ - na die vangery. Ewert is filosofies aangeleg: hy is ‘op die ou deurmekaar ingewikkelde wêreld, nie om die lewe te geniet nie, maar om die lewe te ontleed’ (p. 10). Sy ontleding van die huwelike van sy vriende het hom tot die gevolgtrekking laat kom, dat alles op 'n ‘sieldodende dwarstrekkery, of in party gevalle, nog iets erger’ uitloop. Maar sy maat Ferdinand troon die alles analiserende skrywer mee na die plaas Rusfontein, en die besoek geval hom so goed dat hy dit gou herhaal. Op weg na die plaas verdwaal hy, om onder die olyfboom vir Lydia raak te loop. Die resultaat is 'n gedaanteverwisseling: die kalm-wetenskaplike navorser kniel in aanbidding voor die vroulike skoonheid! Fanie Fourie, met sy lugtige lewensopvatting, sy liefde vir Wyntjie en Tryntjie en sy opportunistiese moraal is die teëvoeter en mededinger van die ernstige Ewert. Lydia neem 'n afwagtende houding aan en besluit om haar ‘koppie te verdedig’ teenoor die twee, maar Fanie storm al, terwyl Ewert nog sorgvuldige omsingelingsplanne beraam. Ewert win, maar na 'n paar gelukkige huweliksjare veroorsaak sy verhouding tot Nita, wat intussen tikster op sy kantoor geword het, verdriet, agterdog en verwydering. Op 'n dansparty slaan Fanie sy slag, laat Lydia wyn drink en voer haar in sy motor na sy plaas. Wanneer sy tot besinning kom, vlug sy te voet na haar ouers, en onder die olyfboom vind die hereniging van die afgedwaalde eggenote plaas. 'n Doodgewone storie dus, wat ons elke week in die koerant kan lees. Maar Fichardt besit ongetwyfeld die gawe om die hele geval vir ons te laat lewe. Hy bly nie by die oppervlakte, skets nie net die uiterlike gebeurtenisse nie, maar dring ook deur tot die sielelewe van sy karakters. Dit gebeur dikwels nog op 'n onbeholpe wyse. Telkens is daar abrupte oorgange, wat die geleidelik voortskrydende handeling onderbreek; die paar sterretjies wat die geluk van die ongeluk skei in die teks laat ons onbevredig, laat ons voel dat ons die innerlik van die mense nog maar gedeeltelik ken. Aan die ander kant slaag die skrywer daar soms uitstekend in om deur 'n klein voorvalletjie, of 'n handige dialoog ons 'n goeie kyk op die verborge roersels van die mensehart te gee. Na haar vernedering sit Lydia en peins oor die verlede, die hede en die toekoms. Haar oog val op haar dansrok, die tasbare herinnering aan haar skande, en met 'n impulsiewe beweging skeur sy dit fyn en flenters. Ou Sara en Adoons, wat albei goed geteken is, help ons om hul base te verstaan. So laat die skrywer dikwels deur 'n handige groepering die een toneel die ander belig. Die politieke episodes, - want Ferdinand en Fanie opponeer mekaar by twee verkiesings - verbreek die eenheid van die hoofmotief, ofskoon ons Fanie daardeur beter leer ken en ook 'n interessante beskrywing kry van die ervarings van 'n jong Volksraadslid. {==258==} {>>pagina-aanduiding<<} Oor die algemeen is die sielkundige uitbeelding goed geslaag, ofskoon ons somtyds voel dat die karakters nie volgens hul innerlike wese handel nie. Die sielkundige bolmakiesie van Ewert in die begin word deur niks voorberei nie. Die skrywer laat ons nie voel dat dit 'n noodwendige gevolg van die man se eienskappe is en nie 'n handige toneelset nie. Die eerste aanblik van Lydia veroorsaak by Ewert 'n ‘omwenteling’ (p. 42), hy word ‘in 'n kitsie morsdood gegooi’, ‘smoorverlief’. Maar die skrywer spreek homself teë, want eers op p. 127 het ‘hulle vriendskap die interessante, alhoewel gevaarlike punt bereik, waar dit nie meer kon stilstaan nie....’ Dié geleidelike ontplooiing van Ewert se gevoel, wat dan ook taamlik goed geteken word, is seker sielkundig baie juister as die onwaarskynlike omtowering. Ewert is iemand wat alles ontleed, en sy karakter bevat seker outobiografiese elemente. Mens sou dus verwag dat die skrywer meer as genoeg geleentheid het om alles te sê wat hy wil. Maar die wysgerige gees vaar telkens in die skrywer self; dan druk Everard vir Ewert skoon opsy en dreun hy lustig sy teorieë oor liefde, die huwelik, ens. op. ‘Staan bietjie eenkant-toe. Ons wil Ewert en Lydia sien!’ kan ons die skrywer toeroep. Selfs waar hy, soos op p. 208-215, met 'n paar klein veranderings die hele inhoud as Ewert se oorpeinsings kon weergegee het, verkies hy die regstreekse betoog tot die leser. Fichardt het ernstig nagedink oor die vraagstukke van die lewe, en veral oor die huwelik en die liefde. Hy kom tot die gevolgtrekking: ‘Daar is geen gulden kortpad tot duursame geluk’ (p. 126). Tog droom hy van geluksalighede wat ons na 'n eeuelange ewolusieproses sal bereik: ‘ons moet maar net geduldig wees, verdraagsaam, tevrede wees om ieder sy nietige diensie aan die groot gemeenskaplike belang te leen, hier en daar ook 'n stukkie plesier gryp....’ (p. 142). Deur die hele boek loop ons telkens uitsprake raak, wat van juiste sielkundige insig en oorspronklikheid getuig, al staan dit ook heeltemal los van die verhaal. Uit sy beskouings kan ons alweer duidelik sien, dat die patriargale tydperk ook vir Suid-Afrika verby is; dat die allermodernste opvattings elke dag meer en meer gemeengoed word vir ons volk. ‘Die rede van ons bestaan is ook ons hoogste doel, die verstandige voortplanting en onophoudelike verbetering van die ras op hierdie klein aardbol van ons’ (p. 215). In Fichardt se opvatting van die liefde oorheers hierdie gedagte. 'n ‘Ledige doellose vriendskap’ moet verheerlik word ‘tot 'n voller vrugbaarder verhouding’ (p. 128). Hy waarsku die ‘liewe dogterkies’ teen die ‘minsieke seuns’, wat ‘rondswerwende of tembare roofdiere’ is, ofskoon hulle hul ‘bes doen om hulle barbaarse oorsprong te bedek met 'n dunne laag van vervlakte beskawing’! (p. 132-3). Lydia word geteken as 'n ongekunstelde natuurkind, en ons word vertel dat sy ‘'n dinkbeeld gevorm (het) van 'n ideale maat om {==259==} {>>pagina-aanduiding<<} mee te paar en die besonder soort voort te plant....’! (p. 115). Hier verlei die oorheersende gedagte van die geslagsdrif die skrywer tot 'n uitbeelding wat, om die minste te sê, twyfelagtig is. Dit is 'n gedagte wat ons eerder van die filosofiese Ewert sou verwag. Dit is jammer dat 'n skrywer wat ongetwyfeld die gawe besit om ons in aanraking te bring met werklik lewende persoonlikhede, sy taal so weinig beheers. Hy het wel 'n oorspronklike manier van segging, maar die algemene argitektuur van sy styl is lomp en ordeloos; die sinne kan maar staan of lê soos hul wil en die klank van sy ongeordende woordreekse is dié van 'n klomp klippies in 'n kondensblik. Luister maar: ‘Sy het al opgemerk dat hy biekie lief was om hom biekie fyn te vat, as hy dié dag met een van sy baie beste nooiens in die blinkende motor wil ry, maar vir hom om nou vir haar te kom raadpleeg oor so'n allergewigtige kwessie was vir haar selfs van hom iets onverwags’ (p. 59). ‘Ja, dis hom, besluit sy, en sy glimlag effenkies by die gedagte dat, vir die grap, sal sy haar, vir die oomblik nog nie aan hom bekend maak nie’ (bl. 44). Naas sulke wanklanke word ons af en toe verras deur 'n brokkie mooi beskrywing, soos die volgende: ‘Doringstad gaan nou weer sy eie oue rusvolle tydsame gang. Een stofwolkie na die ander word van die verbleekte sanderige straat opgevee van die een plek naar die ander, deur die warme windkies, op doellose dromende wyse....’ (p. 118). Tot die hinderlikste taalenormiteite van die skrywer behoort sy snaakse verbuiging van die adjektief, b.v. ‘die klein rustig spoorweghalt; die skelmpies ondeund lewendigheid; die teenstrydige ernstig deelnemend besorgdheid; in ongekunstel naggewaad’, ens. Oor die sonderlinge woordskikking, die anglisismes, vorme soos versog en werd, asook ander rariteite, kan hier nie uitgewei word nie. Volledigheidshalwe kan hier nog vermeld word dat die skrywer 'n eie spelling gebruik. Dit is 'n onwetenskaplike stelsel, waarin ek geen leidende beginsels kan ontdek nie. As curiosa kan die volgende dien: kaikies, poikies, hoinkie, preinkie, rainkie, spielkie, kinkie, sistog. Uit 'n taalkundige oogpunt is die spelling seker die mins hinderlike element in die roman. § 8. Marie Linde. Onder hierdie skuilnaam skryf mej. Elise Bosman, wat jarelank onderwyseres was, maar haar later heeltemal toegelê het op joernalistiek. Haar beste werk bly nog altyd Onder Bevoorregte Mense (1925), waaraan die eerste prys toegeken is in 'n prysvraag van die firma Van Schaik. Die beoordelingskommissie het bestaan uit G. Besselaar, M.S.B. Kritzinger en P.C. Schoonees. By sy verskyning het hierdie roman groot verwagtings gewek, omdat die aantal leesbare verhale toe nog so beperk was. Marie Linde se latere ontwikkeling het egter hierdie verwagtings {==260==} {>>pagina-aanduiding<<} teleurgestel. Bettie Maritz (1930) is die vervolg op haar eerste roman. Verder het van haar verskyn die volgende bundels kortverhale: Die Goue Roos (1929), Die Verlore Paradys (1932), Kaparrings (1935) en Knap Kêrels en Mooi Nooiens (1936); en die roman Dina en Lalie (1927). Onder Bevoorregte Mense (1925). Die eerste hoofstuk gee ons al dadelik 'n treffende tekening van die verbouereerde weesmeisie, Bettie Ertel, stomverwonderd oor die drukte op die Kaapse stasie. Verlate staan sy daar met haar blik koffertjie, die Ventersvillese weeskind, totdat 'n elegante dame, Adeline Rademeyer, soos 'n feëprinses uit 'n outydse sprokie met haar wegtuf deur 'n betowerde landskap. Adeline, dogter van die predikant van Vierfontein het 'n kunstenaarstemperament en alleen die groot Europese oorlog het 'n end gemaak aan haar droom om operasangeres te word. Hendrik Rademeyer, 'n knap regsgeleerde, slaag daarin om haar tydelik ten minste te troos, hoewel sy nugter genoeg is om as huweliksvoorwaarde te bepaal, dat haar kuns altyd nommer een moet bly en haar man toelaat om as vergoeding sy politieke liefhebbery voort te sit. Bettie se koms as kindermeisie is 'n bewys dat die kunstenares-moeder besig is om haar deel van die troukontrak uit te voer. 'n Sangeres is mos 'n groter seldsaamheid as 'n vrou en moeder, redeneer sy! Die eerste indrukke wat die beteuterde plattelandse weeskind van die woelige stadslewe kry word op gevoelvolle wyse geskets. Bettie staan deur haar opleiding in die weeshuis wel 'n hele entjie hoër op die maatskaplike leer as Ampie, maar ofskoon die aanpassingsproses veel gouer gaan, baar dit die eenvoudige kind tog veel bekommernis. Sy bevind haar dan ook nie by gewone boermense nie, want Adeline se huis is volgens die allermodernste begrippe ingerig, en in hierdie artistieke salonomgewing staan Bettie by elke draai glad verbyster. Al dadelik stamp sy haar kop teen die haatlike standsbegrip, wat soveel armblankes verhinder om 'n eerlike broodwinning te soek. Blanche, die Kaapse meid, reken dat Bettie haar witmens-status prysgegee het en klamp haar met Hottentotvrypostigheid aan: ‘Haai jy, wat loop jy so met jou toe mond? Sê vir my, is hierdie jou eerste jop of het jy al by ander ladies gewerk?’ Kostelik is die sarkastiese ‘So long Mies!’ waarmee die gekrenkte meid vir Bettie in die steek laat. Lang trane huil die arme weeskind in haar onhandige verleentheid gedurende die eerste tyd van haar verkeer ‘onder bevoorregte mense’. Die skugtere figuurtjie wat wegkrimp in haar nietigheid-skulpie het Marie Linde met treffende simpatie vir ons geteken. As die eerste bedeesdheid egter afgeslyt is en Bettie aan haar nuwe omgewing gewoond raak, word die weeshuis-periode vir haar 'n benoude {==261==} {>>pagina-aanduiding<<} droom. Sy begin die beskeie krummeltjies van die weeldelewe wat haar ten deel val te geniet, en al gou ontwaak in haar die begeerte om net so 'n elegante dame soos haar meesteres te word. Van haar eerste maandgeld koop sy.... sykouse, en Adeline, wat graag wil spog met 'n netjiese kindermeisie, help haar fluks om haar uiterlik te verbeter, terwyl sy haar puriteinse lewensbeskouing onderstebo keer deur prikkellektuur. So word die pad reggemaak vir Bettie se eerste romantiese avontuurtjie. Haar wanordelike toutjies het plaas gemaak vir 'n netjiese kapsel en as sy park-toe gaan met die kinders bly die voorskoot tuis. Geen wonder dat sy genade vind in die oë van Gawie Joubert, een van Adeline se leerlinge. Maar die gemaksugtige moeder bewaak haar handige kindermeisie met 'n jaloerse ywer en Bettie moet alweer besef dat standsverskil 'n ondeurdringbare kraalmuur rondom haar trek. Enige vergoeding vind sy egter in die vriendskap van die Joodse dansassistente, Rachel Bernstein, wat haar help om nuwe lugkastele te bou. Maar Adeline laat dié lugkastele meedoënloos omtuimel deur Bettie telkens te herinner aan haar ondergeskikte posisie: ‘'n Meisietjie soos jy....’ En om haar vir goed te verseker van die dienste van die uitstekende kindermeisie, besluit Adeline om Bettie ‘aan te neem’. Bettie se twyfelagtige posisie begin nou egter vir haar 'n knaende kwelling te word en haar blik op die maatskaplike verhoudings is al so skerp dat sy in haar verbittering uitroep: ‘Jy is nie 'n meid en jy is nie 'n dame nie....’ (p. 70). Aan strand (hoofstuk VI) moet sy weer uitvind hoe haar nederige betrekking vir goed alle toegang tot die hoër kringe afsny en al haar romantiese drome verydel. Goed is haar houding teenoor 'n voormalige weeshuisvriendin geteken, wat in 'n minder gunstige omgewing growwe maniere aangeleer het. Ook onder kindermeisies heers daar 'n soort kastegees! Adeline sterk Bettie in haar hoogmoed, maar uit selfsugtige motiewe maak sy hoegenaamd geen aanstaltes om haar kastige ‘pleegkind’, wat nog altoos net ingeboekte kindermeid is, uit haar weelderige slawerny te verlos nie. Sy paai vir Bettie met vae beloftes en besef niks van die eensame weesmeisie se marteling, wat in haar vertwyfeling uitroep: ‘Maar wat.... wie bly daar dan oor vir my?’ (p. 78) - by haar eie kring mag sy nie aansluit nie en ook uit die hoër kringe word sy onverbiddelik geweer. Die belofte dat die Rademeyers haar eendag verpleegster sal laat word is maar 'n skrale troos. Stand en geleerdheid het sy nie, maar goeie maniere kan sy van haar meesteres afkyk, wat sy dan ook ywerig en met sukses doen. Nou verskyn op die toneel Adeline se neef, Ben Maritz, 'n kunsskilder, wat jarelank in Europa vertoef het. Hy het 'n ligsinnige geaardheid, maar sy Don-Juan-periode is agter die rug en hy is geneig, veral in die begin, om die vreemdgeworde toestande in sy vaderland, met 'n siniese glimlag te beskou. Uitmuntend verstaan Marie Linde die kuns om sy {==262==} {>>pagina-aanduiding<<} verhouding tot Adeline te suggereer. So b.v. vertel die tipiese, afgekapte sinnetjie van Adeline op p. 184: ‘Liewe ou askoek, as hy (haar man) maar net moes weet....’ ons alles wat ons wil weet, al sê dit feitlik niks! Maar ofskoon Ben nog die bekoorlikhede van sy artistieke niggie op wie hy vroeër verlief was met kennersoog waardeer, ontdek sy geoefende skildersblik in Adeline se skamerige kindermeisie al dadelik 'n begeerlike model. Adeline mag wel met opsetlike sorgvuldigheid vir Bettie telkens op die agtergrond skuiwe, Ben vind tog geleentheid om met haar in aanraking te kom - wat aanleiding gee tot 'n reeks pikante toneeltjies. Sat van Europa se oorbeskawing en sy verkunstelde, wêreldwyse nooiens, raak Ben Maritz meteens onder die bekoring van Bettie se onnosele onskuld. Vir hierdie kosmopoliet bestaan daar geen standsverskil nie, en soos 'n outydse herder loop die moderne seun van 'n Afrikaanse veeboer sy liefie storm in die idilliese omgewing van Bosbaai. Op die gemaskerde bal begin die spelletjie, wat voorlopig net lyk na 'n insident in Ben se eindelose reeks flirtasies. Tydens sy verblyf in Adeline se huis behandel hy Bettie koel-beleef, maar die oppervlakkige kunsgebabbel van Adeline se behaagsieke vriendinne versterk net sy bewondering vir Bettie se ongekunstelde eenvoud. Op Bosbaai poseer sy vir hom, en daar ryp die besluit om sy begeerlike modelletjie tot vrou te neem. Bettie is nog altoos 'n geduldige swoeërtjie wat haar afsloof vir Adeline en steeds op die agtergrond bly. Nooit is sy indringerig nie, soos die meeste van haar soort en Ben se snaakse gedrag ontlok haar die bestraffing: ‘Net om ek arm en onaansienlik is, reken jy ek hoef nie gerespekteer te word nie....’ (p. 166). Ben styg egter dadelik in ons agting deur die onversetlikheid waarmee hy sy besluit om met Bettie te trou teen Adeline en sy ouers en suster verdedig. Tipies is dit van die selfsugtige Adeline, dat sy nie in die eerste plek aan die geluk van die verloofdes dink nie, maar aan ‘die wêreld met sy skinderpraatjies en meedoënlose kritiek’, wat haar posisie as sosaaietie-dame so ongemaklik sal maak! Buitendien speel die feit dat sy 'n eersteklas bediende gaan verloor 'n groot rol in haar afkeuring van Ben se huwelik. Hoe kan ons ook iets anders verwag van hierdie ontaarde moeder, wat selfs as haar eie kinders die masels kry, meer begaan is oor haar mooi stem, as die gesondheid van haar kroos! (p. 66.) Die posisie van haar ingeboekte ‘pleegkind’ was inderdaad nie benydenswaardig nie. Met listige vroue-diplomasie prikkel sy die eergevoel van die naïewe Bettie op so 'n gevoelige wyse, dat sy 'n gelofte aflê om nie met Ben te trou nie, voordat sy ouers vir haar as hulle skoondogter wil ontvang. (p. 197.) Op heel natuurlike wyse lei hierdie verwikkeling ons tot die tweede gedeelte van die verhaal. Dit is 'n ontwyfelbare verdienste van die skryfster dat sy dit regkry om op so 'n ongemerkte, byna speelse wyse die verhaal {==263==} {>>pagina-aanduiding<<} volgens sy eie innerlike motiewe te laat ontwikkel tot 'n logiese ontknoping. Voor die nuwe periode in Bettie se lewe aanvang, volg egter nog 'n opgewekte beskrywing van die vakansie op Welbedacht, waarin die eenvoudige toneeltjie met Pieter (p. 216) ons dadelik tref deur die opregte gevoel wat daarin tot uiting kom. Adeline doen nog haar bes om 'n scène te vermy en gee vir Bettie ‘'n fyn goue kettinkie’, sodat sy haar verloofring om die nek kan dra, en so sterk is haar persoonlike magnetisme op Bettie, dat dié dit nogal met dankbaarheid aanvaar en meteens aan haar wens voldoen! (p. 220.) Dit is deur sulke fyn, egmenslike trekkies dat die skryfster ons telkens 'n diepe insig gee in die motiewe van haar figure. Ben gaan nou na Mooifontein om sy saak persoonlik by sy ouers te bepleit. Sy vader, 'n ouderwetse veeboer, het maar weinig simpatie met sy eksentrieke seun, wat die familietradisie verbreek het deur met verf te gaan ‘mors’, in plaas van 'n vooruitstrewende boer te word. Die oubaas probeer om deur lawaaierige drifbuie 'n soort skyngesag te handhaaf oor sy vrou en ses-en-dertigjarige dogter, Aletta. Mooi word die verskil in atmosfeer aangedui tussen die outydse deeglikheid op Mooifontein en die mondaine artistisiteit van Adeline se woning. Die Maritze het egter 'n Europese reis agter die rug, en selfs hier het party moderne gewoontes al ingedring, want die vader speel kaart en Aletta rook sigarette, al hou haar moeder nog nie daarvan om 'n meisie wydsbene te sien perdry nie. Dit is die parmantige oujonknooi, Aletta, wat daarin geslaag het om die ouderwetse boere-omgewing op Mooifontein enigsins te vermoderniseer, en sy is dit dan ook wat die verbitterde aanval teen die ‘verlore seun’ lei. As sy egter merk dat haar sorgvuldig voorbereide kampanje teen Ben tot 'n familiebreuk sal lei, verander sy haar taktiek en bedink 'n listige plan, wat toon dat sy nie vir Adeline hoef onder te doen in vroulike diplomasie nie: ‘Ben is net soos ander mans. Werk hom teen en hy sal die wêreld wil onderstebo keer om sy sin te kry. Gee hom sy sin en hy word sommer ontevrede en wil weer iets nuuts hê’ (p. 240). Bettie sal vriendelik uitgenooi word na die plaas, en moet dan deur haar ‘ongeleerdheid’ haar eie vonnis vel. Volgens Aletta se berekening sal sy so afsteek by die ‘vrolike oorlogsweduwee’ Enid Vance, dat Ben vanself tot ander gedagtes sal kom. Met die handleiding How to behave in society onder in haar koffer weggepak, kom Bettie aan in die kil-kritiese kring op Mooifontein. Haar natuurlike beskroomdheid slaan nou oor in lompheid en sy kan skaars ja en nee sê. Op knappe wyse word haar onbeholpe verleentheid geteken, wat telkens vererger word deur venynige steke van Aletta. Laasgenoemde lê haar daarop toe vanaf die eerste oomblik op die stasie om Bettie klein te laat voel deur haar in ongemaklike situasies te dwing. Met 'n duiwel- {==264==} {>>pagina-aanduiding<<} agtige leedvermaak sien sy hoe Bettie verward raak in die kunstig gespinde striknet. Maar Bettie se skamerige agterhoudendheid verteder juis die hart van Ben se vader, wat 'n astrante armblanke verwag het. Die oubaas, wat telkens na die hoek van die kraal gedryf word deur sy kyfagtige huisvrou en dogter, vind Bettie se gedweeheid 'n aanbiddelike eienskap! As hy in die nood is oor 'n paar tabakkrummels, wat op die blink-gevryfde vloer geval het, vind Bettie dadelik 'n oplossing (p. 261). Dat sy deur so 'n diensbode-handigheidjie die oubaas se hart win, is weer een van dié menskundige trekke wat ons dwarsdeur die boek verras. Deur Aletta se selfsug moet die ongeoefende Bettie op 'n vurige perd ry, met die gevolg dat sy 'n ernstige ongeluk kry, wat byna tot lewenslange verlamming lei. Hierdie verwikkeling, wat maklik tot sentimentele romantiekerigheid kon gelei het, voer die verhaal tot 'n klimaks. Ben se liefde, wat eers oppervlakkig-sinlik was, groei nou tot 'n diepe gevoel, en na 'n innerlike stryd besluit hy om met Bettie te trou, juis op die tydstip waarop daar alle kans bestaan, dat sy òf gou sal sterf, òf lewenslang vermink sal bly. Die berouvolle Aletta doen nog wel 'n laaste poging om die huwelik te verhinder, maar haar verset eindig in bewondering vir Ben se selfopoffering. Gedurende Bettie se langdurige siekte word die belangstelling gaande gehou deur die liefdesverhouding tussen Enid Vance en die dokter, waarby Aletta op potsierlike wyse derdemannetjie speel. Haar histeriese woede by die ontnugtering na 'n soete illusie het enigsins karikatuuragtig geword. In baie opsigte egter, is die tekening van hierdie twissieke oujonknooi wat haar lewe in 'n doellose verveling slyt uitstekend geslaag. Teen die end van die verhaal word Adeline se houding meer simpatiek. Sy het haar leer skik in die onvermydelike en word enigsins getroos deur die feit dat Bettie se opvolgster nie so danig sleg is nie! Sy kan dus haar onbekommerde plesierlewe voortsit en verder droom oor haar kanse om tog nog operasangeres te word. Haar skoonmoeder is een van die besgeslaagde byfigure. Mev. Rademeyer is 'n dame van die ou stempel, en as sy kom kuier op Oldenburg moet almal fyn in hul spore trap. Sy hou self gereeld die huisgodsdiens. By die opvoering van Faust hoop sy dat die gehoor 'n les sal leer van Mefisto, wat sy rol voortreflik speel. Sy veroordeel Bettie se lugtige danskostuum en oor die Eggo-standbeeldjie in Adeline se voorkamer sê sy: ‘Om van niks anders te praat nie, my kind, ek kry tog so koud vir die arme skepsel haar part’ (p. 179). Deur sulke toneeltjies word die botsing tussen ouderwetse en moderne opvattings goed aangedui. By al die voortreflike eienskappe waarop in voorgaande gewys is, laat die roman as geheel beskou, ons tog onbevredig. Dit lyk of die skryfster {==265==} {>>pagina-aanduiding<<} uitgegaan het van die stelling dat 'n mooi meisie met 'n volmaakte figuurtjie en skamerige houdinkies niks anders nodig het om 'n voortreflike eggenoot te verower nie. Bettie mag, na die uiterlike, 'n radikale verandering ondergaan tydens haar verblyf by die ‘bevoorregte mense’. In die begin is sy 'n bedeesde, onaantreklike takhaartjie, aan die end 'n verfynde modepoppie, wat met 'n bietjie meer oefening, ook wel sonder 'n handleiding oor beskaafde maniere, 'n goeie figuur sal slaan in die hoogste kringe. Maar, na die innerlik beoordeel, is sy nog 'n onbeskaafde nonentiteit, wat selfs deur haar liefde vir Ben, weinig sielekrag ontwikkel. In die begin word haar gewaarwordings met fyn-vroulike intuïsie aangevoel, maar deur gebrek aan lewenservaring waarskynlik, slaag Marie Linde nie daarin om haar te laat ryp tot 'n persoonlikheid, wat ons op die duur kan interesseer nie. Sy word gered uit 'n minderwaardige posisie, nie deur haar eie opwaartsbeurende lewenskragte nie, maar deur die toevallige bevlieging van 'n eks-Don-Juan, wat selfs tydens sy kort verlowing al af en toe ongeduldig word oor haar naïwiteit. Onwaarskynlik is die geval natuurlik nie - Ben se liefde word selfs op menskundige wyse gemotiveer - maar die oppervlakkige uitbeelding van 'n modepoppie se liefdes-avontuur in die tweede gedeelte van die roman mis dié diepte van gevoel, wat Ampie tot 'n simboliese verteenwoordiger van die armblanke seun maak. Bettie is net 'n gelukkige weeskind, 'n uitsonderingsfiguur, wat geensins die waarheid van bogenoemde stelling bewys nie, en alleen die eerste fase van haar ontwikkeling vorm 'n bydrae tot die psigologie van die armblanke meisie. Ampie wou ook bo sy stand vlieg toe hy met Hester Staander probeer opsit. Maar wat 'n fyndeurvoelde uitbeelding gee Van Bruggen ons nie van sy liefdesontroering en hoeveel juister is dit nie om hom ná die vermoeienis van vergeefse pogings sy eie grense te leer ken en daarbinne na die bevryding te soek. Wat is Bettie se liefde anders as 'n bietjie sinnelikheid? Dit word nie 'n veredelende lewenskrag wat in vervulling opgaan nie, dit word nie omgesit in innerlike rykdom nie. Sy bly 'n beminlik-onnosele poppie, wat nooit tot volle vroulikheid ontwikkel nie. Sy kan alleen bekoor deur aangeleerde uiterlikheidjies, sy bly innerlik arm, en die verlossing uit haar knegskap sal haar alleen singenot baar. Dit is natuurlik onbillik om soveel diepdeurvoelde menslikheid te eis in die eerstelingswerk van 'n jeugdige skryfster. Maar sy het daarin soveel blyke gegee van psigologiese insig en fyn opmerkingsgawe, dat ons na hierdie naïewe Bettie, wat deur 'n gelukslag haar droom verwerklik sien, nog 'n ander Bettie kan verwag, wat deur die ontplooiing van haar geestelike geaardheid tot 'n meer volledige vroulikheid sal ontwikkel. Ook in Marie Linde se styl ontbreek nog die ritme van opregte bewoënheid. Dit is wel vlot en deurgaans suiwer, maar tref nooit deur persoonlike segging nie. Wat die skryfster egter goed verstaan is die slag om deur {==266==} {>>pagina-aanduiding<<} 'n natuurlike opvolging van vlugtige toneeltjies haar persone steeds in beweging te hou en om hulle deur 'n ratse dialoog steeds 'n nuwe kant van hul innerlik te laat openbaar. Bettie Maritz (1930). Die verdere ontplooiing van Bettie se persoonlikheid is teleurstellend. Die ‘skatlike Susel’ verveel selfs haar man, omdat sy ‘so kleurloos en alledaags is wat die innerlike betref’. Daarom vlug hy 'n paar maande weg na Europa, waar Adeline na die dood van haar man, optree as operasangeres. Intussen daag 'n ryk oom op uit Argentinië, wat Bettie volledige besonderhede verskaf omtrent haar duistere afkoms. Die skryfster se kragte faal as sy die krisis moet uitbeeld wat ontstaan as gevolg van Bettie se ontdekking dat sy kleurlingbloed in haar are het. Die verdere uitborduring van die rusielewe van die Maritz-familie, die ervarings van die prikkelbare Aletta en die oppervlakkige praatjies van Bettie se vriendinne interesseer ons maar matig. Dina en Lalie (1927). Ook uit hierdie roman blyk Marie Linde se onmag om 'n sielkundige krisis uit te beeld. Die tweelingsusters raak verliefd op dieselfde man. Lalie breek die verhouding af uit pligsgevoel teenoor haar man, maar Dina, wat dr. Le Grange slegs eenmaal uit die verte gesien het, kry sulke romantiese bevliegings, dat sy hom agternasit tot in 'n verre uithoek van Suidwes. Daar val sy dadelik in sy arms omdat hy meen dat dit Lalie is! Die bedrog lei natuurlik tot verwikkelinge veral na die dood van Lalie se man, maar alles kom tog weer reg tussen die tweelinge, en ook dr. Le Grange se swaarmoedigheid verdwyn. Dis wel 'n oulike plan om die hele driehoeksgeskiedenis op te los deur susters wat so eners is dat hul maklik omgeruil kan word! Die mensbeelding bly oppervlakkig. Lalie se onaantreklike eggenoot is eenvoudig 'n karikatuur, en van Le Grange weet ons so goed as niks. Die verhouding tussen die tweelinge is dikwels met talent geteken, ofskoon Lalie se gedrag na Jasper se dood onoortuigend is. Die beste gedeelte van die roman is die skildering van Brakvlei se skinderlustige gemeenskap en die reaksie van die konserwatiewe inwoners op Dina se moderne begrippe. Die verteltrant is vlot, en die gemak waarmee die skryfster hele reekse toneeltjies inmekaar sit sal die leser, wat alleen na ontspanning soek, bekoor. Wie egter meer verwag sal bedroë uitkom, want Marie Linde se breeduitgesponne dialoog laat 'n mens partymaal voel of jy 'n week aaneen sit en luister het na die geklets van die dames op 'n Brakvleise teepartytjie! {==267==} {>>pagina-aanduiding<<} Kortverhale. Die meeste van hierdie verhale het in Die Huisgenoot verskyn, en die titel van haar jongste bundel, Knap Kêrels en Mooi Nooiens, herinner ons aan 'n polemiek wat in 1935 gevoer is oor die sogenaamde swaarmoedigheid van ons skrywers. Die algemene publiek, wat in sy leesstof meestal slegs na verstrooiing en gesellige afleiding soek, het begin protesteer teen die tallose verhale waarin armblankes, swoegende dagloners, Hottentotte, ens. opgetree het. Daar is tog al soveel narigheid in die ou lewe dat hul liewer die teleurstellende werklikheid wou ontvlug in 'n wêreld van verbeelding. Sat van die Ampies en Annekies, van Antonie Reys en ou-Datie, moeg selfs vir Oom Bart se klugtige manewales, het hul verlang na verhale oor spoggerige mense uit die deftige kringe, waardeur hul dan ook kon verlos word van die nagmerrie van minderwaardigheid. Dis interessant om na te gaan hoe Marie Linde al sedert 1926 gesellige ontspanningslektuur verskaf het vir hierdie deel van ons publiek. Bettie was nou wel 'n eenvoudige weeskind, maar sodra sy onder die ‘bevoorregte mense’ kom, ontwikkel sy tot 'n regte modepoppie. Sy beweeg in die hoogste kringe, waar gesprekke oor kuns en letterkunde in 'n atmosfeer van sorgelose weelde aan die orde van die dag is. Ook in haar kortverhale toon Marie Linde 'n besliste voorkeur vir mense uit die gegoede stand, wat af en toe kan ontsnap uit die verveling van die daaglikse sleurlewe en deur 'n buitelandse reis hul smagtende verlange na 'n bietjie romantiek kan bevredig. So ontmoet ons, onder andere, ‘'n kinderlik-kinderagtige oujongnooi’ wat £180,000 trek in 'n lotery, en 'n konvensionele onderwyseressie wat met 'n gerieflike erfenissie 'n avontuurtjie met 'n gigolo in Nizza beleef. 'n Kollega van haar reis met 'n skatryk sakeman na Europa om toesig te hou oor sy wilderige dogter. Sy kry die onvermydelike hartkloppings, terwyl die dogter met haar ‘rooigetinte toonnaels’ wegloop met 'n getroude Oostenrykse ski-breier en in 'n vliegtuigongeluk saam met haar minnaar verbrand. Verder kan ek nog noem die nooi met ‘'n blomagtige’ gesiggie, wat moet kies tussen 'n lafhartige professor en 'n onbeskaafde boer; 'n ander wat ontvoer word deur die handlangers van 'n ‘romantiese soort vabond’; 'n oujongnooi wat deur 'n kat in aanraking kom met 'n vrygesel, en 'n ander wat deur 'n toevallige telefoonoproep verlos word van 'n ou vlam. Alledaagse voorvalletjies uit die stadslewe verskaf Marie Linde dikwels 'n geleentheid om haar knap kêrels en mooi nooiens in aanraking met mekaar te bring. Helmien raak onder die betowering van 'n gemaskerde sanger, wat in 'n kafee optree, maar vind later uit dat hy 'n gewone winkelklerk is. In 'n ander kafee word 'n koppie koffie uitgestort op die {==268==} {>>pagina-aanduiding<<} rok van 'n modepoppie, en op 'n trem verniel 'n vonkie uit die kêrel se pyp die sykous van 'n vurige nooi. Uit sulke insidentjies ontstaan allerlei verwikkelinge, wat dikwels met 'n heel onverwagte slot afgerond word. Soos in haar romans openbaar Marie Linde ook in haar kortverhale 'n besondere voorliefde vir onderwerpe waarin sy 'n geleentheid kry om lug te gee aan haar menings oor kuns. 'n Resensent ontmoet sy slagoffer toevallig in die trein en hou 'n lewendige diskussie met haar oor die kwessie van ‘swartgallige’ kuns en romantiekerige ontspanningslektuur om uiteindelik sterk onder die bekoring van haar aantreklike vroulikheid te raak (Duiker en Seemeeu). So behaal Hilda van Woude 'n maklike oorwinning oor haar ‘allerongenadigste kritikus’ sonder om nou juis die kern van die vraagstuk aan te raak. In al haar bundels kan 'n mens verhale aantref wat op kunsmotiewe gebaseer is, en haar karakters gesels met groot gemak oor letterkunde, musiek, beeldhoukuns, oudhede, ens. 'n Ander terrein waarop sy graag beweeg is die bo-natuurlike. Hierdie verhale behoort, myns insiens, nie tot haar beste nie, want sy slaag selde of ooit daarin om 'n werklik beklemmende atmosfeer te skep, omdat haar middele so deursigtig is. Haar spoke is meestal goedgeaard en welgemanierd, en die geheimsinnige elemente bly nie voortspook in ons herinnering nie. Marie Linde kan met die grootste gemak 'n pikante voorvalletjie skilder; sy het 'n wakker waarnemingsvermoë wat haar in staat stel om die verhouding tussen haar persone op ongesogte wyse te belig. Met die vaardigheid van die geoefende joernalis tref sy al die nodige skikkings vir 'n indrukwekkende klimaks en 'n bevredigende ontknoping. Maar hierdie knap kêrels en mooi nooiens, wat met soveel grasie deur die lewe beweeg en so oulik kan gesels, of soveel buitengewone psigiese ervarings opdoen, het eintlik geen siel nie. Daar is geen ritme van ontroering in Marie Linde se styl nie; sy amuseer ons eenvoudig met 'n klompie dames en here aan wie sy ons vlugtig voorstel. Hul ervarings word wel vlot en lewendig vertel, maar ons glo nooit onvoorwaardelik dat hul werklik bestaan nie. Sy kan geen figure skep, so intensief van beeldende krag, dat hul ná die lesing nog wekelank met groot helderheid en skerp omlynde suggestie in ons herinnering bly voortlewe nie. 'n Mens kry die gevoel dat jy 'n modeparade bygewoon het waar ‘uitgedoste juffertjies’ met 'n ‘bevallige, lome grasie.... verbygesweef het in hul voorjaarstabberdjies, met hul bypassende sambreeltjies en handtassies.’ (Modeparade). As skryfster van ligte ontspanningslektuur het Marie Linde egter baie verdienstelike verhale gelewer vir mense wat dit nodig vind ‘om deur middel van 'n mooi boek so 'n bietjie weg te kom van die moeilikhede en verdriet en teleurstellings van die ou lewe’. Niemand sal die bestaansreg van hierdie soort lektuur betwis nie, en omdat ons nog so heel weinig daarvan in Afrikaans besit, moet ons Marie Linde se bydrae dankbaar aanvaar. {==269==} {>>pagina-aanduiding<<} § 9. Meg Ross. Oogklappe (1925). Die hoofpersoon van hierdie roman is Frieda Schmidt. Sy was 'n weeskind wat in haar oom se huis groot geword het onder die sorg van ‘'n droë arbeidsame oujongnooi’, tant Maria. Die verhaal speel tydens die laaste Groot Oorlog; en as Kern, Frieda se oom, geïnterneer word, bly Frieda by mevr. Steyn agter. As gevolg van die onsimpatieke omgewing waarin sy opgegroei het en veral deur die gemis van 'n moeder, het Frieda 'n teruggetrokke, skamerige geaardheid. Ons kry 'n mooi kykie op tant Maria se huishoudelike begrippe uit die geval van die ‘afskuwelik geblomde’ rok met die rooi val wat Frieda 'n hele jaar moes dra. Die simpatieke mev. Steyn doen haar bes om Frieda van haar skamerige houding te genees. Sy kry mooi rokke en goeie raad vir ‘daardie los toue’, haar hare, wat nou nie meer vasgeplak sit op haar kop nie. Mev. Steyn en haar seun, Fred, probeer om Frieda in die geselskapskringe van die stad te bring, maar die kleingeestige Duitserhaat verbitter haar en versterk die stugge terughoudendheid van haar geaardheid. Haar enigste troostertjie is die eenoog-hondjie Vlekkie, wat sy egter ook moet agterlaat as sy ná die dood van haar oom besluit om verpleegster te word. Op aanskoulike wyse word die ervarings van Frieda in die hospitaal geteken. Die venynige speldeprikkies van 'n jingoïstiese matrone verbitter haar, maar die vriendskap van haar kamermaat, Anna Brits, en 'n ou skoolvriendin, Bettie Marais, maak die lewe tog ten minste draaglik. In die vierde hoofstuk sien ons die onervare Frieda in die kloue van 'n gewetelose skurk, De Wet, wat haar tussen die rotse op Seepunt hipnotiseer. Fred daag net betyds op om haar te red. Die hele geval gee my 'n nasmakie van goedkoop ‘romantiekerigheid’, al is die gegewens ongetwyfeld eg. Die tekening van Frieda se innerlike gevoelslewe word sonder enige warmte, baie koel-saaklik gegee. De Wet neem haar b.v. na 'n skouburg: ‘Met ademlose spanning sit Frieda daar; haar oë is wyd oopgerek, haar mond is halfgeopen, en sy is blind en doof vir alles wat rondom haar aangaan. Toe die twee hoofspelers eindelik geluksalig mekaar omhels, gee sy 'n diep sug en kyk om na De Wet, wat daar sit met sy oë op haar gevestig’ (p. 89). So 'n banale beskrywing, wat ons aan die ‘wydgespalkte, verwilderde kykers’ van De Waal herinner, mag nie in 'n roman van letterkundige pretensie voorkom nie, en as weergawe van die gevoelens van 'n onervare meisie by haar eerste teaterbesoek bevat dit niks treffends nie. Die skryfster het die geval nodig gehad om die stygende verbittering van Frieda teenoor die lewe te verklaar, en wou miskien ook 'n waarskuwende lessie vir ons jongedogters invleg. Dit maak op my die indruk {==270==} {>>pagina-aanduiding<<} van 'n stukkie papierpsigologie wat, hoe waarskynlik ook, tog onwaar word deur gebrek aan fyndeurvoelde uitbeelding: Op die hospitaal kry Frieda nou 'n baie interessante pasiënt, Stafford. Hierdie episode word met warmte beskrywe, en die tekening van die jong man wat so dapper veg teen die dood, is vol innigheid. Uit jammerte oorwin Frieda haar skamerigheid; die lyding wat sy so elke oomblik aanskou, verteder haar hart, en die pateties-smekende blou oë van Stafford triomfeer oor haar ‘aangekweekte koelheid’. ‘Kokend warm en dan weer yskoud golf haar bloed deur haar liggaam; met 'n skuldige trek op haar gesig buk sy vooroor en druk 'n haastige soen op sy voorhoof’ (p. 130). Dié golwende bloedstroom hinder ons, en daar is nog meer plekke waar Frieda ‘oorkook’ hiervan of daarvan; maar dat die skryfster haar tog ingeleef het in die hele situasie, daarvan getuig tal van geslaagde trekkies. Die neiging om meer aandag te wy aan die fisieke refleks as aan die innerlike gebeure self, gee net aanleiding tot banale sinnetjies soos: ‘Frieda word spierwit en sy voel asof daar 'n ysblok is waar haar hart behoort te wees’ en ‘Dit is net asof skielik 'n yskoue hand agter op haar nek val.... en haar hart klop vinnig.’ Die Stafford-geskiedenis prikkel Frieda tot selfondersoek. Sy voel gevlei oor Stafford se liefde, en wanhoop nie aan verdere oorwinnings nie, as sy maar net minder gedwonge en styf kon word. Ek voel egter weinig diepte in die selfondersoek waarmee Hoofstuk VI begin. Frieda besluit om ‘'n bietjie meer van haar innerlike skatte rond (te) strooi.’ So 'n opmerking toon dat die skryfster Frieda se sielegroei tog maar as 'n belangstellende buitestaander beskou en nie die sielsproses in al sy skakerings self ondergaan het nie. Sy het Frieda se mentaliteit bestudeer, en die Stafford-episode moet die verandering in haar gemoed verklaar en waarskynlik maak. Maar dat 'n meisie met só 'n geaardheid haar opsetlik voorneem om ‘haar innerlike skatte te gaan rondstrooi’ - nee, dit lyk vir my psigologies onjuis. 'n Mooi kontras bereik die skryfster in 'n volgende hoofstuk. Op 'n vrolike tennisparty waar die lewensvreug van die jongspan hoogty vier, verwek die eerste berigte van die griepepidemie 'n kille angshuiwering. Ons deurleef weer die grieselige Swart Oktobermaand en kry 'n kykie op die hospitaalbedrywigheid. Die kaskenades met die lastige matrone word goed beskryf en gee afwisseling aan die triestige tonele. Frieda verpleeg nou 'n grieppasïent, Jan Vermeulen, wat haar sy liefde verklaar net voor hy die hospitaal verlaat. Kort daarna hoor sy toevallig dat daar op Valkenburg 'n pasïent is met die naam Petrus Schmidt. Sy ondersoek die saak en vind dat daar alle rede is om aan te neem dat dié kranksinnige haar vader is. Intussen kom sy deur haar {==271==} {>>pagina-aanduiding<<} uitbottende liefde vir Jan voor hierdie vraagstuk te staan: Mag ek met Jan trou as ek weet dat daar so 'n ernstige erflike siekte in my familie is? Dit word 'n martelende stryd vir die arme Frieda. Dag en nag tob sy daaroor sonder om 'n oplossing te vind. Vlot loop die verhaal, en met aandag volg ons die verwikkelinge. Maar die nadruk val hier ook weer op die liggaamlike aspekte van die sielestryd. Die verlammende kwelgedagtes wat ons 'n intiemer blik op Frieda se geestesgesteldheid sou gegee het, word maar vaag en in algemene terme aangedui. ‘Dit was 'n vervelige doolhof waarin Frieda haar bevind; honderdmaal vind sy uit dat sy altyd weer dieselfde pad gegaan het....’ ens. (p. 249). Dit kom my voor of die skryfster die saak glad te nugter beskou het, of sy nooit self die beklemmende angstrillings ondergaan het van die arme meisie wat so bang was om kranksinnig te word nie. As sy haar dieper in die stemming van die gemartelde siel ingelewe het, sou daar meer intiem-persoonlike trekke in die beskrywing gewees het; dan sou die beklemmende atmosfeer van die situasie, wat nog ingewikkelder word deur die besadigde liefde van Jan, ook by die leser 'n angshuiwering gewek het. Soos dit daar staan in die roman, maak dit meer die indruk van 'n interessante, realisties beskrewe geval as die weergawe van 'n innig-deurleefde, kleinmenslike Gethsemane. Wanneer ons later uitvind dat die hele stryd enkel en alleen te wyte is aan Frieda se nalatigheid om 'n geheimsinnige pakkie van haar oorlede moeder betyds oop te maak, dan is ons geneig om op Frieda se uitroep: ‘O, ek is 'n bobbejaan!’ te sê: Ja, jy is tog maar 'n bobbejaan, 'n vergeetagtige bakvissie wat jou verbeel het dat jy 'n tragiese figuur was! As ons Afrikaanse romanskrywers die werklik grote tragiek wil bereik, dan moet hulle nie gevalletjies uitdink wat op so 'n swak motief berus nie, selfs al het die motief, soos hier, 'n sweem van waarskynlikheid; nee, hulle moet ons laat voel die onverbiddelike onafwendbaarheid, die absolute noodsaaklikheid wat 'n sterk karakter kragtens sy eie ingeskape geaardheid meedoënloos na die afgrond sleur. En hulle moet self in eie persoon, aan die lywe ondervind die sielemarteling van die stryd, die huiwerende vrees vir die voorgevoelde val as hulle by die leser die tragiese stemming wil opwek. Dit is die vloek.... en die seën van die kunstenaarskap.... Ek is nie blind vir die groot verdienstes van Meg Ross se beskrywing nie. Sy het 'n aangename verteltrant, en ek wil veral wys op die gelukkige uitbeelding van die vriendskap met Vlekkie, wat met sy innige hondesimpatie kalmte en rus bring vir Frieda se vermoeide hart. Treffend is ook die gedagte in die brief van Frieda se moeder: {==272==} {>>pagina-aanduiding<<} ‘Dis nie genoeg om iemand se liefde te verkry nie; 'n mens moet ook oppas dat daardie liefde àl die jare deur aan die lewe bly....’ wat 'n opmerklike ooreenkoms vertoon met 'n motief in Eensaamheid. ‘Pas op vir Oogklappe, wat jou verhinder om 'n ding van al kante te ondersoek’, is die raad wat Frieda uit haar moeder se brief kry. Maar Frieda se oogklappe was altans in die geval met Vermeulen nie te wyte aan 'n karaktereienskap nie: dit was meer die gebrekkige redeneervermoë wat 'n mens dikwels by verliefde meisies aantref en wat interessant bly.... solank as jy self verlief is.... maar wat baie na foppery lyk as dit in 'n roman moet dien as motief vir 'n geweldige sielekrisis. Met dié krisis bereik die roman sy hoogtepunt. Vir Frieda is alles nou rosegeur en maneskyn. Die belangstelling word egter gaande gehou deur die liefdesverwikkeling tussen Fred en Bettie, wat met veel mensekennis beskrywe word. Ook hulle het met oogklappe rondgeloop en dit te laat uitgevind. As eerstelingswerk is Oogklappe 'n roman wat 'n belofte vir die toekoms bevat. Die talentvolle uitbeelding van die hospitaallewe en die vriendskap van 'n ou hondjie, asook meer as een geslaagde trek in die karaktertekening is daarvan die bewyse. 'n Skryfster wat in haar eerste werk al so 'n peil bereik het, sal metteryd seker ook die gebreke waarop ek gewys het, oorwin. Met die verskyning van Van Schaik se drie bekroonde romans het ons prosakuns sonder enige twyfel 'n groot stoot vorentoe gekry. In die loop van 'n paar jaar het daar by ons ontwikkel 'n vertelkuns wat met verrassende tempo streef na tegniese volmaaktheid. Die grofste tegniese foute van 'n jaar of twee gelede het ons nou oorwin, en dit gee ook die kritikus moed om, ten spyte van die eina-geroep van party kleinserige skrywers, voort te gaan met die verkondiging van wat hy as waarheid gevoel. Maar tegniese bedrewenheid is nog maar die mins belangrike kant van 'n kunswerk. Ons moet veral strewe na geestelike verdieping in ons prosakuns. Ons wag nog op dié kunstenaar met 'n breë epiese natuur wat van louter sinsgewaarwording en observasie sal opstyg tot geestelike eenheid, tot 'n sintese; wat al sy ervarings en ontroerings sal kondenseer tot 'n plastiese lewensbeeld van die Afrikaanse mens. § 10. Eva Walter (M.E. Hubregtse). Eensaamheid (1925). In die eerste hoofstuk, waar ons kennis maak met die familie Van Dalen en hul bure, lyk dit of die skryfster 'n bietjie moeite het om op koers te kom. Tog kry ons 'n kyk op die huisgesin: die strenge vader en hulpelose moedertjie; Rina, 'n twaalfjarige maltrap; Lottie, haar saggeaarde {==273==} {>>pagina-aanduiding<<} jongste suster; Dolf, die plaaggees; en Bernard, die oudste seun wat sy waardigheid ten volle besef en juis daarom geen gunsteling by sy broer en susters is nie. Die Tweede Vryheidsoorlog breek uit, en die kaskenades van die kleinspan, wat die ongewone drukte ten volle geniet, word deur middel van 'n paar voorvalletjies goed beskryf. Kortliks word dan nog die dood van die vader meegedeel, en die verhaal spring meteens oor na 'n tydperk taamlik lank ná die vrede. Die familie woon nou in Pretoria, waar Bernard prokureur is. Rina, nou 22 jaar, het op Stellenbosch 'n musikale opleiding geniet, en Lottie is ook al 'n dametjie wat net deur haar Matriek is. Die plotselinge oorspringery van so 'n gewigtige tydperk in die jong mense se lewe en die dor-saaklike meedelings omtrent hul ervarings verraai die hand van 'n onbedrewe beginner. In die tweede hoofstuk word die verhouding tussen die broers en susters verder verduidelik. Dié opsetlike inligtings is 'n bietjie hinderlik en die skryfster sukkel nog om op koers te kom. Bernard word ingepalm deur die flerrie, Lydia de Kok; Gert de Wet, 'n ou jeugvriend van Rina, wat al voor die oorlog probeer het om haar te soen, en Frans le Grange ry mekaar in die wiele by 'n konsert, waar laasgenoemde egter met ‘een tere blik alle mededingers uit die veld slaan.’ Intussen gee Dolf blyke van sy losbandigheid in 'n gesprek met Lottie. In hoofstuk drie maak ons beter kennis met die Le Granges. Die oubaas ‘wou patriargaal wees, sonder om die verhewenheid en waardigheid van 'n patriarg te besit.’ Langsamerhand ontdek die seun Frans hoeveel holheid daar in die lewe is. Intussen vind hy tog troos by Rina; die families raak selfs op intieme voet met mekaar en dit lyk of alles voor die wind gaan, maar,.... dan bly Frans sommer skielik weg. Hy maak homself wys dat die ‘een tere blik’ tog maar niks was nie en in sy hardnekkige sinisme verbeel hy hom dat Rina tog maar net 'n flerrie is. So iets is natuurlik bes moontlik, maar ek voel tog nie dat Frans se gevoelens op 'n deurdringende wyse ontleed en waarskynlik gemaak word nie. Nou is dit Gert se kans. Mooi word Rina se weifeling geteken, as sy in haar droefgeestige mymeringe oor Frans, deur haar goeie en getroue ou kindervriend oorval word. Maar ná 'n driedaagse verlowing maak sy 'n end aan die saak. ‘Nooit het Gert gekla oor die eensaamheid wat hom tot die dag van sy dood vergesel het nie.’ Dis die eerste aanduiding van die eensaamheidsmotief. Nou sink al Frans se besware weer weg in 'n outydse ‘see van liefde’! (hoofstuk 4.) Die flerrie van flus word ‘die edelste meisie in die wêreld’ - maar die sielkundige verandering word weer net saaklik as 'n doodnugtere feit gekonstateer. Die beskrywing van die verlowing bly taamlik konvensioneel. Met ‘'n draadlose berig’ lok Frans haar uit die danssaal, waar ook die verlowing van Lydia en Bernard gevier word. Verder: donker prieeltjie, soene, omhelsings, ens. Maar uit 'n grappie leer Rina {==274==} {>>pagina-aanduiding<<} dat haar jonkman ‘fyn aangevat moet word’. Met 'n verslag van die dubbele bruilof van Rina en Bernard eindig die hoofstuk. Lottie gaan op Stellenbosch studeer en die moeder bly eensaam agter. In die vyfde hoofstuk sien ons Frans en Rina op 'n afgeleë plaas in Duits-Wes gevestig. Mooi word die verlatenheid van die landstreek geskilder en die beklemmende effek daarvan op die lewenslustige Rina. In die begin het sy haar man wakker bygestaan in die boerdery, maar later verlam die gevoelloosheid van haar man en die heimwee na haar Pretoriaanse vriende haar werkkrag. Net voor die trek na Duits-Wes het 'n onderduimse streek van Bernard weer Frans se sinisme opgewek. Hy wil ontslae raak van ‘die hele sous’, sy eie familie en Rina s'n. ‘Onredelik, hoewel menslik was dit van hom om Rina ook in sy algemene veragting vir al die swak, vals wesens in te begryp.’ Maar die sielkundige verandering word nie plasties uitgebeeld nie, net bloot vertel. Ons wil so graag weet hoe Frans dan so onnatuurlik word dat hy sy vrou en kinders van hom afstoot. Die lotgevalle van die byfigure, o.a. Dolf, wat in sy voortvarendheid 'n Amerikaanse trou, interesseer ons ook maar matig. Ons sien hulle nooit. Aandoenlik is egter die moeder wat nooit met haar kinders saamgeleef het nie. ‘Vir haar was dit al 'n groot ding dat sy elkeen se smaak in kos, klere en ander liggaamlike behoeftes onthou het.’ Sy is die eensame, selfs al is sy omring van al haar kinders. Lottie en haar vriendin Martha Muller kom by Rina kuier en deur middel van hul geselsery en ervarings word die Duits-Wes-atmosfeer van die verhaal mooi geteken. Op die eensame plaas Katjipara klink vrolike gelag en musiek, net Frans hou hom stug en nors. ‘Hy praat g'n woord nie, soos almelewe.’ In sy ongeduld smyt hy sy seuntjie se geweertjie op die grond - en dit in volle geselskap. Ook sy vrou word nors afgejak. Hy sluit hom op en raak verdiep in filosofiese bespieëlinge. Hy het net tyd vir sy vee bedags, en die werke van Kant saans. So 'n karakter is natuurlik moontlik, maar die skryfster slaag nie daarin om dit lewenswaar te maak nie. Frans is eenvoudig 'n karikatuur. Die vroulike karakters leef vir ons. Daar is Lottie, wat dadelik die gemoedstoestand van Rina begryp, en Rina wat deur 'n skynopgewektheid probeer om haar suster te mislei. Ook Martha Muller, wat kla en miskien tereg, oor die eensaamheid van Johannesburg, begin vir ons te lewe. Die verhale van tant Maria, volgens die skryfster op waarheid gegrond, volg nou, maar dit verbreek seker die eenheid van die werk, omdat dit so los ingeskuiwe word. Al wat daarvoor gesê kan word, is dat dit enigsins help om die Duits-Wes-atmosfeer sterker aan te dui. Na die vertrek van die gaste gaan dit met Rina afdraand. Mooi word haar moedeloosheid geteken. Die dood van haar enigste bekende in Duits-Wes, wat alleen in die verlatenheid sterwe, vervul haar met 'n {==275==} {>>pagina-aanduiding<<} angstige huiwering. Die siekte van Elsa bring geen vertedering by Frans nie. Rina besluit nou om 'n laaste poging te waag om haar man se hart te win en hom dan te beweeg om weg te trek na die Unie. Aandoenlik is die pleidooi van die gemartelde vrou, waarmee sy egter niks bereik nie, want Frans verhard sy hart meer en meer teen vrou en kinders. Met 'n fyn gevoel word die nadering van die krisis in Rina se gemoed aangedui. In die tiende hoofstuk ontmoet ons weer Lottie en Martha, met prof. Anderson en dr. Van Huyssteen. Hul gesprekke bly deurgaans boeiend. Intussen het Rina kranksinnig geword. Die verhaal van haar wanhopige wegvlug uit die stille huis sou dramatieser gewees het as die skryfster dit op meer direkte wyse beskryf het, as iets voor ons oë gebeurende. Tog bly dit treffend. Lottie kom vir Rina help oppas en Frans kry nou genoeg geleentheid om oor sy sondes na te dink. Die troue verpleging van Lottie en die gasvryheid van die vriende in Duits-Wes bewerk die langsame herstel van Rina. Frans kom tot inkeer deur selfontleding en moet uitroep: ‘Rina, Rina! het jy só diep gely!’ Met 'n fyn aanvoelingsgawe word die verhouding tussen man, vrou en kinders tydens Rina se herstel geteken. Frans kan dit nie eens waag om oor die toekoms in die Unie te praat nie. Die langsame herwinning van Rina se liefde deur Frans ná hul aankoms in Pretoria is die beste gedeelte van die verhaal. In die toon van die skryfster tril daar 'n opregte bewoënheid, 'n erns wat tog nooit prekerig word nie, die erns van iemand wat ons iets deurleefds wil vertel. Met fyn-menskundige insig word die toenadering tussen man en vrou ontleed. Vir 'n egskeiding deins Rina terug: ‘Vir die kinders se ontwil gaan ek saam met jou, Frans. Maar nooit hoef jy met my oor liefde te praat nie - by my het dit al lankal verdor in die wildernis van Suid-Wes.’ Deur middel van die kinders vind Frans dan ook weer die weg na Rina se hart, wat in 'n mooi toneeltjie beskryf word. Dis nou nie meer die hartstogtelike passie van jonggetroudes nie, maar die besonke liefde van twee wat wil afsteek na die diepte. ‘Voorheen het ons nooit probeer om mekaar se siele te bereik nie; die oppervlakkige lewe was genoeg. Daar is baie meer in trou as wat 'n mens dink as hy jonk is.... en daar is seker baie min ouer mense wat 'n regte begrip het van die diepere sin van die lewe.’ Dis voorwaar 'n welkome verskynsel in ons literatuur dat die tydperk van oppervlakkige heuning-sentimentaliteit verbygaan en dat daar skrywers kom wat met die intuïtiewe mensekennis van die kunstenaar probeer om die lewensraaisels te ontrafel. In Rina woeker nog die verskrikkinge van die eensaamheid. ‘My opinie is dat die een mens nooit die ander kan deurgrond nie. Elkeen het sy eie verborge persoonlikheid.’ Maar langsamerhand leer sy Frans tog beter verstaan. {==276==} {>>pagina-aanduiding<<} Die byfigure bly oor die algemeen fragmentaries, en 'n egte familieroman het dit nie geword nie. Die vaardigheid om 'n hele groep mense vir ons te laat lewe, besit die skryfster nog nie, maar haar eersteling is vol belofte, want ook by die byfigure is daar geslaagde trekke. Daar is Bernard, die gevierde politikus, wat op sy triomfaand so hunker na 'n vriend wat nie net oppervlakkig vlei nie, na 'n vrou wat nie net duur rokke wil dra nie. ‘In sy graf kon hy nie eensamer wees nie, as vanaand op hierdie luisterryke fees.’ Fragmentaries is ook die skildering van Dolf se huwelikslewe, wat eindig met sy selfmoord. Die begrafnis bring die hele familie in die slottoneel bymekaar en die huiwerende natrilling van die doodsgedagte skep die sfeer vir 'n intieme gesprek oor die groot dinge in die lewe van 'n mens. Frans is van gedagte dat getroudes ‘moet reken op die groei van mekaar se karakters en die veranderinge wat daardeur ontstaan.’ En Rina stem nou volkome saam: ‘Die liefde kom van die hemel en kan alleen alles regmaak, nie waar nie, Frans?’ Eindelik het haar verdorde liefdesplant weer nuwe groeikrag gekry. Die vroutjie wat so dapper veg teen die eensaamheid en later weer haar man se verborge innerlikheid leer ken, kry 'n mens so lief! Dié boek sal nie sommer vergeet word nie, omdat daar diepte in is, omdat dit uit 'n ontroerde gemoed kom, omdat dit vol tere egtheid en lewenswaarheid is. § 11. Hettie Cillié. Sy is die dogter van 'n onderwyser, wat in 1884 uit Wellington na Transvaal getrek het. Na die Engelse oorlog het sy haar opvoeding aan die Hugenote-Seminarie ontvang. In 1906 en 1909 het sy Taalbondpryse vir histories-romantiese verhale gekry. 'n Twintigtal van haar verhale en sketse is in verskillende koerante en tydskrifte gepubliseer. Sy teken by voorkeur 'n eenvoudige verwikkeling, waarin die liefde 'n rol speel, en verstaan die tegniek van die kortverhaal goed. Haar karakteruitbeelding getuig van groot mensekennis, maar is nie treffend genoeg om 'n blywende indruk te maak nie, veral omdat haar styl so onpersoonlik is. Twee Susters, (Die Brandwag, 1 Maart 1913) en 'n Ongeluk, (15 Des. 1910) is tipiese verhaaltjies, op rustig-aangename toon vertel. Haar beste werk is die aantreklike meisiesverhaal Chrissie en Joey (1925). In 1935 het verskyn Beter as Geld wat egter weinig styging in haar kuns openbaar. Dit bevat 'n aantal vlot vertelde insidente uit die lewe van normaalstudente. {==277==} {>>pagina-aanduiding<<} Chrissie en Joey (1925). Sonder enige literêre pretensie vertel sy hierin die ervarings van twee niggies op 'n Bolandse kosskool. Na die dood van haar moeder het Chrissie alleen op die plaas met haar pa agtergebly en soos 'n regte rabbedoe opgegroei. Sy is 'n kind van die vrye vlaktes, wat haar nie met fyn maniertjies en mooi klere ophou nie. Maar sy het 'n hart van goud en tussen haar en haar vader bestaan daar 'n baie tere verhouding, wat die skryfster met groot innigheid in welgeslaagde toneeltjies aandui. Vierkant anderster is haar fynopgevoede stadsniggie, Joey, wat haar neus optrek vir alles wat boers is en net aan mooi klere, plesier en natuurlik.... kêrels dink! As gevolg van hierdie verskil in temperament is die twee niggies almelewe haaks en hulle herinner ons aan Maggie en Lucy in The Mill on the Floss. By 'n besoek op die plaas skrik Joey haar lindelam vir 'n duisendpoot en tuimel met mooi klere en al in 'n spruit. Op roerende wyse word die afskeid tussen Chrissie en haar vader beskrywe. Sy moet saam met Joey na die kosskool om haar wilde maniere af te leer en om haar te bekwaam vir haar taak as boervrou met behulp van algebra en 'n Latynse grammatika! As afskeidspresent kry sy van die bywoner, Piet, 'n pakkie pepermint met die bekende sentimentele opskrifte! Die arme kêrel is te bedeesd om sy liefde anders te verklaar! Op die reis en by die besigtiging van die koshuis kry ons 'n goeie blik op tant Sarah, wat haar spoggerig-vernaam aanstel, en haar eie dogter steeds as voorbeeld vir Chrissie voorhou. Heel goed word die koshuisatmosfeer weergegee. Die verveling van die vaal studie-ure, die eentonige werkprogram wat sekuur deur 'n onverbiddelike klok afgemeet word, die kos wat altoos eners smaak - van dit en nog veel meer kry ons 'n aanskoulike beeld. Maar ook die plesierige kant word geteken - die fratse van die meisies en hul slim plannetjies om die reëls te breek, hul kritiek op die onderwyseresse, ens. Veral geslaag is die tekening van die nonchalante Jacoba van Dam, daardie wilde springbok, wat Chrissie se bondgenote word in haar stroebelings met die voorbeeldige Joey. Dié soek deur-'n-tyd wit-voetjie by die onderwyseresse en word die onpopulêre verklikster. Komies is Joey se pogings om ook in die koshuisomgewing as fynopgevoede en skatryk dametjie te poseer, terwyl haar vader intussen bankrot speel. Van haar latere stiefmoeder leer Chrissie die les van verdraagsaamheid en sy offer selfs haar vakansie op om die vernederde Joey te verpleeg. Deur 'n lewendige skildering van die koshuislewe en 'n gesonde moraal, wat ons egter nooit opgedring word nie, het hierdie verhaal 'n aantreklike meisiesboek geword. Veel diepte is daar nie in die tekening van die twee niggies nie, maar die kaskenades van die jongspan word met talent en 'n speelse simpatie geteken in geestige toneeltjies. {==278==} {>>pagina-aanduiding<<} Vier Vriendinne (1929). Vier Vriendinne is bedoel as meisiesboek; ons kry daarin 'n relaas van die lewe van vier opgeskote meisies op 'n koshuis, hul kaskenades op skool en in die vakansie, hul omgang met maats en jong kêrels, hul moeilikhede met lastige skoolvakke en hul pret op die sportterrein. Daar is egter geen vaste lyn in die komposisie nie; dit bly 'n los aaneenskakeling van 'n hele reeks avontuurtjies, wat soms wel lewendig opgeteken is, maar tog weinig indruk maak, omdat die verband ontbreek. Ek kan my selfs geen duidelike voorstelling maak van die vier hoofpersone nie en ofskoon verskillende aspekte van die lewe op 'n koshuis breedvoerig geteken word, ontbreek die intieme sfeer geheel. Alles staan los; die een avontuur word eenvoudig naas die vorige ingeskuif en die totaal-indruk is 'n gevoel van onvoldaanheid. Ten spyte van sy gebreke sal Vier Vriendinne tog met graagte gelees word deur meisies van 14-17 jaar, omdat die skryfster deurgaans lewendig vertel en 'n groot aantal anekdotes invleg. § 12. E.B. Grosskopf. Ernst Grosskopf is 'n broer van die Stellenbosse professor, dr. J.F.W. Grosskopf, die skrywer van 'n Esau en ander toneelstukke. Hy was vir enige jare op die redaksie van Die Burger en het toe in die Vrystaat gaan skoolhou. Van hom het verskyn: Patrys Hulle (1926), Swart Slang (1930) en Henri, die Skildknaap (1935). Patrys Hulle (1926). As jy al jou swaarwigtige oumensagtigheid wil afskud en teruggevoer word na jou jeug, toe jy tussen die skoolbanke allerhande kattekwaad aangerig het en jou eerste nooientjie op 'n eerbiedige afstand aanbid het, dan moet jy die verhaal van Patrys en sy maters lees. 'n Mens kry hierdie rooikop-seun met sy sproetgesig baie lief en herken telkens in sy gewaarwordings jou eie. Voor jy dit besef kruip daar uit lank vergete hoekies van jou herinnering die gestaltes van jou ou skoolmaats met wie jy saam weer 'n gewaagde kordaatstuk uithaal. Hierdie boek, wat seker in die eerste plek vir seuns bedoel is, laat selfs die volwassene weer 'n seun word - en dit is juis m.i. die besondere verdienste van die verhaal. Al wat die illusie 'n bietjie verstoor is die knipoog wat die verstandige skoolmeester Grosskopf ons partymaal gee. Die toesprake tot die ‘geagte leser’ gee ons hom present! Ons wil mos net vir Patrys sien! Hy is 'n wonderlik interessante kêreltjie, rein van inbors, met 'n ingebore eergevoel. Die blits uit Meester se oog as hy hom van 'n leuen verdink maak hom seerder as 'n goeie raps met die lat. Maar Patrys is geen brawe-Hendrik nie! Soos elke gesonde seun is hy vol kattestreke, {==279==} {>>pagina-aanduiding<<} maar die adel van sy karakter het hom begiftig met 'n fyn onderskeidingsvermoë op etiese gebied. So sal hy o.a. nooit vir 'n meester lieg nie alleen om sy ‘eie vel te red: net om maters uit 'n moeilikheid te help’. Maar selfs by hierdie algemene geloofsartikel onder skoolseuns maak Patrys nog 'n voorbehoud: ‘As ek weet dat 'n maat onskuldig is, en die meester weet dit nie, dan sal ek sonder skaamte 'n leuen vertel om hom los te kry as ek sien dat die waarheid nie geglo word nie - maar anders nie!’ So 'n seun word meteens die natuurlike vyand van die gemene swetser, Jan Flap. Elkeen het sy aanhang op die speelgrond en die botsing bly nie uit nie. Met 'n treffende uitbeeldingsvermoë het die skrywer al die besonderhede van hierdie skooldrama uitgewerk. Jannie Baadjies het so skamerig in die verborge 'n goeie daad verrig deur sy beste tol aan 'n tingerige outjie present te gee. Soseer is die seun se hart verteder deur sy gevoel van medelye, dat hy sonder wrokkende verset een van sy duiwe opoffer vir sy siek suster. Maar op die volgende skooldag was dit, volgens die geheimsinnige wet wat die afwisseling van speletjies reël, nie meer toltyd nie, maar albasterseisoen! Om die bespotting van hul swak maatjie af te weer gooi Patrys die tol tussen die albasterspelers dat die ‘ertjies’ so saai! Nou sis die vloekwoorde uit Jan Flap se mond, want hy is 'n virtuoos op hierdie gebied. Maar Patrys staan sy man teen die bekbakleier en laasgenoemde besluit ‘om Patrys se uitroeiing uit te stel tot die namiddag’ by die seekoegat! Met fyn besigheidsinstink begin 'n Joodjie meteens 'n lotery oor die uitslag van die bakleiery, wat een van Patrys se trawante 'n stryd besorg tussen sy lojaliteit aan die rooikopheld en sy sug om vyftig albasters te win. By die seekoegat word die ‘vuilbek-lafaard’, wat so lank op sy vader se reputasie geteer het, ontmasker. Die hele beskrywing van hierdie dramatiese episode is vol gelukkige trekkies, en dit gee ons 'n pragtige kyk op die mentaliteit van 'n skoolseun. Ook die omkeer by Jan Flap nadat Patrys hom van die dood gered het is met fyn mensekennis uitgebeeld. Jan Flap se skamerige toenadering en die manier waarop hy sy dankbaarheid jeens sy ou vyand betuig word op gelukkige wyse geteken. Grosskopf sal wel in sy eie klas die metode van meester Stals toepas, wat op vriendskaplike voet met sy leerlinge verkeer en hom op simpatieke wyse inleef in die siel van die kind. Hy het wel geen maklike taak nie, soos blyk uit die volgende beskrywing van twee van sy leerlinge: ‘Hans het 'n opstandige bos donkerbruin hare wat baie lyk na 'n rolvarkie se penne, 'n paar donkerbruin oë waarin vyfduisend duiweltjies rondspring... Patrys is 'n taai, skraal, ratse stuk doringdraad, altyd oorgehaal, baie soos 'n gestelde slagyster, met dié verskil dat 'n slagyster net een hap kan gee, terwyl Patrys op 'n vyand neerkom soos die bose geeste op die Gadareense swyne’. Meester Stals se hart het egter jonk gebly en dit ontbreek hom ook nie aan ‘the milk of human kindness’. {==280==} {>>pagina-aanduiding<<} nie. Daarom slaag hy uitstekend daarin om die opstandige duiweltjies van Hans te besweer en om Patrys se oorborrelende energie in regte bane te lei. Skrille teenstelling met Stals is Pieters, die hoof van die skool, wat tot die ‘ou bullebak-klas’ van onderwyser behoort. Kweperlatte was dwarsdeur die jaar danig in die mode op sy skool en hy het 'n eienaardige gewoonte gehad om die inhoud van sy sedeprekies te onderstreep! Maar ook sy slagoffers was geslepe diplomate, wat 'n intensiewe studie gemaak het van sy persoonlike eienaardighede en met wonderlike juistheid 'n naderende onweersbui kon voorspel! Mooi word ook die diplomatiese handigheid van die seuns teenoor hul ouers aangedui, as hul een of ander guns wil vra (vgl. b.v. Patrys se taktvolle aanval op sy uiterlik-strenge vader as hy sirkus-toe wil gaan (hoofstuk V). Ook in die uitbeelding van Patrys se skamerige kalwerliefde vir Sybokkie is daar treffende momente, o.a. sy lompe poging tot toenadering en sy mislukte soenoffers, maar hierdie episode het Grosskopf meer as belangstellende onderwyser beskrywe dan as objektiewe kunstenaar. Hy het hom nie voldoende ingeleef in Patrys se gevoelens nie en onderbreek telkens die gang van die verhaal deur tussen-skuiwing van persoonlike opmerkings soos die volgende: ‘O die hart van 'n seun wat skaam is!.... Moenie vir my vra hoe die eerste paar ontmoetings tussen Patrys en Nettie afgeloop het (nie). Ek kan omtrent raai, want ek ken hulle albei goed....’ Grosskopf het Patrys en sy kornuite vir ons springlewendig gemaak en hulle ervarings met soveel liefde en pittige plastiek uitgebeeld dat die verhaal tot 'n egte kunswerk geword het. By meester Stals-Grosskopf sou ek graag my seun op skool wil sit! Swart Slang (1930). As verteller besit Grosskopf baie verdienstelike eienskappe. Hy gaan reg-uit op sy doel af, hou suiwer padlangs en slaag daar steeds in om ons belangstelling vas te hou. Met 'n paar ratse trekke word die situasie aangedui, die persone tree meteens handelend op, en sonder dat ons aandag een oomblik verslap volg ons die verwikkelinge tot by die verrassende slot. Daar is geen opgesmukte beskrywings, geen uitpluisery van emosies nie, maar alleen die rustig-voortskrydende handeling. Grosskopf het 'n storie om te vertel en hy vertel dit goed. Dit is nie sy doel om heftige ontroerings by die leser op te wek nie; hy wil ons aangenaam besighou deur lewendige toneeltjies wat hy oënskynlik lossies inmekaar vleg, maar wat tog almal daartoe bydra om die handeling vorentoe te stoot of die ontknoping treffender te maak. Vyf van hierdie verhale het 'n tragiese verloop. Swart Slang veroorsaak selfs na sy dood 'n ongeluk wat 'n gehate mededinger uit die weg ruim; Kees, die wraaksugtige bobbejaan, bewerk die dood van sy baas en nooi, maar oorleef sy triomf nie lank nie. Mal Piet, 'n halwe idioot, word geterg {==281==} {>>pagina-aanduiding<<} totdat hy deur 'n vernuftige plan sy mededinger verongeluk. So eindig ook die ander twee verhale met die dood van een van die hooffigure. Ofskoon goed vertel, slaag Grosskopf nie daarin om hierdie tragiese motiewe tot aangrypende dramas te verwerk nie. Dit bly vernuftig bedagte geskiedenisse, wat ons wel vir enige oomblikke interesseer, maar wat deur gebrek aan innerlike waaragtigheid geen blywende indruk nalaat nie. Die orige vier verhale behoort tot die luimige genre. Terwyl Grosskopf sukkel om ons onder die indruk te bring van Jasper se vertwyfeling na die dood van vrou en kind, slaan hy meteens die regte toon aan as hy Johannes Calvyn Luther Willems laat rusiemaak met sy kornuite op 'n Saterdagaand in die dorpskantien. Die gevolg van die dronkemanspraatjies is 'n weddenskap, wat Willems na 'n spookhuis voer, waar hy op handige wyse 'n paar diamantsmokkelaars op loop jaag en wegstryk met 'n vette buit. In die luimige verhale kom Grosskopf se talent as verteller beter tot sy reg. Met 'n speelse ironie belig hy die komiese kant van elke situasie wat sy vrugbare fantasie vir ons opbou. Ons geniet die skildering van Hans Bok se dronkemansdapperheid en sy oulike besigheidsinstink, en volg met belangstelling die pogings van twee rolprent-spekulateurs wat so graag die Zoeloenasie wil ophef. Daar is 'n oorspronklikheid van beskouing en 'n lewendigheid van voorstelling in hierdie verhale wat ons groot verwagtings van Grosskopf laat koester. Henri, die Skildknaap (1935). Hierdie bundel kortverhale word gekenmerk deur dieselfde goeie eienskappe wat ons aangewys het in Swart Slang. Grosskopf is 'n onderhoudende verteller, wat ons selde ontroer deur diepe lewensopenbaring. Sy verhaaltrant is egter so vlot en geestig dat hy ons ook nooit verveel nie. Die beste verhaal in hierdie bundel, Witkwas, bevat 'n skrynende kontras, wat ons meteens al die bitterheid van die armoede laat besef. Hermaans, 'n vooruitstrewende armblanke, het dit eindelik reg gekry om 'n koei te koop. Witkwas word met triomf ingehaal deur sy kinders, wat nou heerlik smul aan die vars melk, nog warm uit die uier. Met die laaste stukkies hout en mis berei die vrou melkkos soos haar moeder dit vroeër op die plaas gemaak het. In die aand sit Hermaans met 'n stukkie papier en potlood om te bereken hoeveel hy uit die melkverkoop sal kan spaar. Maar dan kom die kontras - werkloosheid, dood van 'n kind, winkelskuld. In hul hoogste nood moet hul Witkwas verkoop aan 'n geslepe winkelier wat nog wins maak uit hul armoede. As die onderhandelinge oor die verkoop afgeloop is klink die kinders se huilstemmetjies uit die slaapkamer: ‘Ma, het Pa vir Witkwas verkoop?’ Uit hierdie kinderlike {==282==} {>>pagina-aanduiding<<} vraag leer ons die omvang van die ramp ken. Dis die vertwyfelende smartkreet van die armoede. En dit maak dubbel seer omdat dit van onskuldige kindertjies kom. Die titelverhaal bevat 'n amusante skildering van 'n middeleeuse toernooi wat op guitige wyse gemoderniseer is. Geestig is ook die kontras tussen die vrymetodes van - 10,000 v.C. en vandag in Deur die eeue heen. Ou Dokter bevat 'n voorspelling van die toestande in Suid-Afrika oor vyftig jaar wanneer die Bantoeras sal heers. In Bartjie se groot dag word die ontwaking van die liefde in 'n skamerige seun se hart goed geteken. Al hierdie verhale is vlot en onderhoudend vertel. Daar is 'n sprankeling van geestigheid in Grosskopf se styl. Maar die ontroerende skoonheid van Witkwas ontbreek. § 13. E. de Roubaix. Emanuel de Roubaix is gebore in 1880 op Tabaktuin, 'n plaas digby Nieuwoudtville. Jarelank het hy sy vader se skape opgepas. Sy enigste lektuur was die Bybel, katkisasieboek, Ons Kleintji en Ons Tijdschrift. In 1898 kon hy op Nieuwoudtville skoolgaan en met die Engelse Step by Step begin. Gedurende die Vryheidsoorlog het hy by generaal Maritz aangesluit, daarna in die Boland gematrikuleer en vanaf 1907 skoolgehou in Namakwaland. Van hom het in verskillende tydskrifte verskyn 'n aantal verhale en sketse, wat gebundel is in die volgende werke: Boesmanlandse Sketse en Verhale (1926); Uit Boesmanland (1928); Giel Ool e.a. Verhale uit Boesmanland (1929). Die gewoontes van die Boesmanlanders, hul avonture op lang trektogte - dit is die tema van De Roubaix se verhale. Soms gee hy 'n reeks los anekdotes, soos in Op Wag in Boesmanland, maar meestal 'n afgeronde skets waarin 'n paar tipes optree. Verdorskolk, Moedverloor, Armoedfontein, Knegsvlakte, Bitterleegte, Omdraaivlei.... so heet die plase in hierdie troostelose landskap met sy eindelose sandvlaktes. In die droë jaargety is dit net die dwergagtige blomkoolbossie wat in die woestynstreke groei. Geen boom of bos is daar, nie eers 'n laagtetjie met doringbossies nie! Net die versengende strale van die Afrikaanse son, wat mens en dier laat saambondel onder die wa, die enigste skaduweekolletjie. En dan nog die knaende, eentonige skree-skree van die sonbesie, wat orals is, maar wat jy nooit kan bykom nie! Dis 'n geharde trekkersras wat hier tussen die sandduine 'n swerflewe lei. Altoos moet die Boesmanlander maar trek agter 'n groenigheidjie aan om sy skape aan die lewe te hou. En selfs waar hy 'n bietjie weiveld kry, moet hy met 'n rokende miskoek rondloop om die muggieswerms te keer, want die skape wat onder mekaar inkruip om uit die brandende son te kom, moet gedurig in beweging gehou word. Die geduldige ou {==283==} {>>pagina-aanduiding<<} donkie is die Boesmanlander se trekdier, die donkie wat hier altoos met sy kop ter aarde geboë loop ‘asof hy maar 'n donker toekoms tegemoet sien’. Die brak watertjies wat hy partymaal kry is mos nie water nie, en hy moet maar kou aan ‘'n paar uitgedroogde stokkies op 'n nog uitgedroogder stompie’ van die skaarse vyebossie. Langs die trekpad word mense gebore en langs die trekpad word hulle begrawe, in 'n doodkis haastig inmekaar getimmer uit 'n negosiekas, wat met asyn-swartsel bestryk word. Met 'n simpele eenvoud gee De Roubaix weer die realiteit van hierdie dowwe, kleurlose swerwersbestaan. Hy ken die mense deur-en-deur en in ongekunstelde taal vertel hy die ervarings van eenvoudige siele. Dis 'n primitiewe beskawing wat hy in onopgesmukte toneeltjies met roerende simpatie beskrywe. Sonder die vernis van die stadsbeskawing is die Boesmanlandse trekker, maar nie sonder innerlike siele-adel nie. Sy gedagte- en gevoelslewe is beperk, maar op sy afgesonderde, eentonige vlaktes het hy geleer die stille berusting uit eenvoudige godsvrug gebore. Sodra die reent val, word die woestynlandskap 'n Kanaän vloeiende van melk en heuning. Op Omdraaivlei ontstaan daar gou 'n lappiesdorp. Dan sien ons die gespierde Boesmanlandse vrou by die seeppotte en by die slagtery, waar sy klaarmaak vir die maer maande wat alte gou weer volg. Dis ook die tyd vir die kerkbasaar en die vrolikheid van die jongmense. Dit is 'n sobere, maar liefdevolle tekening wat De Roubaix gee van die mense in Boesmanland. Hy verseker ons telkens dat alles op waarheid berus, en die sketse maak dan ook werklik die indruk van 'n kopie van die werklikheid te wees. Die skrywer slaag egter nie daarin om die ruwe grondstowwe tot kuns te verwerk nie. Die hoogste waarheid is nog iets anders as die waarheid van die noukeurig waargenome feit. Dit is die waarheid wat die kunstenaar uitspreek in die taal van sy verbeelding. Dis 'n simboliese, verbeelde waarheid, wat hy nie op 'n logiese manier kan bewys nie, omdat dit die spontane uiting van sy intuïsie is. Ons kan dié simboliese waarheid met ons verstand betwyfel, maar daar tog vurig aan glo met ons hart. Al bereik De Roubaix nou nie dié hoogste waarheid in hierdie sketse nie, omdat dit hom aan uitbeeldings- en komposisievermoë ontbreek, tog bevat dit veel verdiensteliks. Hy voer ons na 'n weinig bekende streek van ons land, en ofskoon sy portrettering meer uiterlik as innerlik is, tog kry ons 'n goeie blik op die menslikheid van hierdie swoeënde swerwers, wat hy so innig liefhet. Dit is te hope dat meer skrywers sy voorbeeld sal volg en die volkslewe van ander streke met al sy eienskappe en eienaardighede sal teken. Hier lê nog 'n ruime arbeidsveld, want ons sou graag, om maar 'n voorbeeld te noem, die mentaliteit van die Malmesburyse graanboer, die Natalse mielieboer, die Knysnase houtkapper, ens. deur liefdevolle sieners van die werklik- {==284==} {>>pagina-aanduiding<<} heid uitgebeeld sien. Dit sal lei tot verdieping van ons eie sienswyse en tot 'n meer simpatieke begrip van die moeilikhede van ons landgenote. § 14. Dr. P.C. Schoonees (Oom Sarel). Van hom het verskyn o.a. Jannie, 'n novelle (1926); Kleingoed (1929), 'n bundel opstelle en kritieke; Inleiding tot die Studie van Letterkunde (1925) in medewerking met dr. J.R.L. van Bruggen. Jannie (1926). Volledigheidshalwe kan hier ook nog vermeld word die novelle Jannie. Dit is die storie van ‘'n doodgewone seun, wat partymaal so 'n bietjie gedroom het’. Hy groei op in 'n klein dorpie en 'n poging word gedoen om sy verhouding tot sy ouers en susters te skets. In sy matriekjaar raak hy verlief op Sannie, maar hierdie kalwerliefde wat ‘vir ewig’ sou geduur het kwyn dood as hy na Stellenbosch gaan. Die koshuislewe op Quarta en die taalstryd word vlugtig geteken en aan die end van die universiteitsjaar kom die seun se eerste groot smart as hy sy moeder verloor. Uit 'n Karodorpie gaan hy op Smithville in Natal skoolhou. Jannie gaan daar op in die plesierlewe van die ‘hoë kring’ en raak verlief op 'n Engelse nooi. Met die uitbreek van die Volkerekryg kom daar verwydering, omdat die ontwakende nasionale bewussyn van die Karoseun in botsing kom met Beryl se lojaliteit aan die Britse tradisie. Hierdie krisis laat Jannie diep nadink oor die waaroms van die lewe, en na 'n stryd geraak hy tot 'n soort lewensbeskouing. In hierdie stryd is dit veral die invloed van sy moeder, wat selfs jare na haar dood, nog rigting gee aan sy sielkundige ontwikkeling. § 15. Dr. F. Postma. Dr. F. Postma (gebore 1879) is 'n seun van die bekende Gereformeerde predikant, ds. M. Postma. Hy het o.a. op Middelburg, Kaapprovinsie, skool gegaan en die tekening van die skoollewe in sy roman bevat seker outobiografiese motiewe. Hy het deelgeneem aan die Natalse veldtog in die Tweede Vryheidsoorlog en in 1900 saam met Totius gestudeer aan die Vrye Universiteit. Na sy terugkeer uit Holland was hy professor aan die Teologiese Skool op Burgersdorp en Potchefstroom. In 1914 het hy gepromoveer op 'n dissertasie getitel De Numine divino quid senserit Vergilius. Op die oomblik is hy rektor van die Potchefstroomse Universiteitskollege. Saam met prof. T.J. Haarhoff en L.J. du Plessis is hy redakteur van die serie Erfstukke uit die klassieke oudheid, waarin vertalings uit die oorspronklike Grieks en Latyn verskyn. Dr. Postma het vir hierdie reeks 'n verdienstelike bewerking gelewer van die lewensbeskrywing van Ploetargos (1925). In 1927 het van hom verskyn Hy het sy merk gemaak, en in 1929 Kleopatra. {==285==} {>>pagina-aanduiding<<} Hy het sy merk gemaak (1927). In die eerste drie hoofstukke maak ons kennis met die gesinne van Koos en Hans Uys, twee skaapboere wat in die distrik Middelburg, Kaapprovinsie, woon. Die skrywer is hier nie op sy beste nie en die langdradige gesprekke van die ouers oor hul kroos word beslis vervelend, omdat te veel uitgewei word oor onbelangrike sake. Ons ontmoet Dirk, 'n knap kêreltjie, wat hom dodelik verveel tussen die Karobossies en skape. Hy speel 'n bietjie geniepsig met sy tingerige neef, Karel, wat ernstig beseer word. Dirk se ridderlike gedrag na die ongeluk laat dr. Henning, die dorpsdokter, sê: ‘Jy is 'n ou sport, ou seunie, en jy sal nog jou merk in die lewe maak’. Die twee seuns sluit 'n verbond om mekaar later in die lewe behulpsaam te wees. Die belangstelling in die verhaal bly egter slap, want die breedvoerige beskrywing van Lettie Uys se siekte bevat weinig treffends. ‘Wat daar in Koos (haar man) se hart omgegaan het, sal nie kan beskryf word nie’ sê Postma, en juis daarom interesseer sy mense ons maar matig. Die skrywer slaag egter daarin om die deeglike, Christelike atmosfeer van die twee huisgesinne aan te dui, en ons kom onder die indruk van die liefdevolle besorgdheid waarmee die harte van die ouers oor die toekoms van hul kinders vervul is. Die klugtige avontuur van Dirk met 'n kwaai volstruismannetjie wat hom in 'n ystervarkgat vaskeer is goed vertel en van hier af kom die skrywer eers goed op dreef. Dirk gaan na die Middelbare Skool en sy eerste ervarings op die koshuis, en die kaskenades met sy ontgroening word op lewendige en boeiende wyse meegedeel. Deur 'n kordaatstuk verdien hy die algemene bewondering van die seuns, en die eerste gedeelte van die dokter se profesie word al bevestig deur hul loftuiting: ‘Jy is 'n eersteklas sport, Dirk!’ Ook op die voetbalveld het Dirk louere behaal. Maar die rondreis met ligsinnige makkers na verskillende wedstryde gee hom 'n ander kyk op die lewe, en ofskoon hy uit gewoonte nog vashou aan die uiterlike godsdienstige vorme, begin die puriteinse opvattings van sy ouers tog vir hom lastig te word. Dirk begin stadig af te glip langs die afdraand. Sy keuse van 'n beroep gee weer aanleiding tot langwylige gesprekke tussen sy ouers, wat hom egter voorbeeldige leiding gee. Sy vader wil hom genees van die neiging om die Matriek-afgod te aanbid en bedui hom op indrukwekkende wyse wat dit eintlik beteken om lidmaat van die kerk te word. Die ‘boere-matriek’ is nie sommerso 'n eksamentjie nie! Tydens 'n ernstige siekte arbei ds. Weyers in dieselfde rigting voort en die wyse voorligting wat hy later op die katkisasieklasse gee, maak 'n diepe indruk op Dirk, wat nou ook sy belydenis aflê. Dirk vertrek na Dublin om in die medisyne te studeer. Sy ‘vaderlandse gedagtes’ by die besigtiging van Kaapstad is van opvoedkundige {==286==} {>>pagina-aanduiding<<} waarde, maar die manier waarop die skrywer dit weergee bewys dat hy hom onvoldoende ingeleef het in die mentaliteit van die jong seun. Op die skip ontmoet Dirk vir Patrick O'Brien, 'n Londense handelsklerk, wat groot invloed op hom uitoefen. Pat en Dirk organiseer die sports aan boord en na 'n innerlike stryd verskyn Dirk ook op die danspartye. Hy wil nie meer alles op gesag aanneem nie, maar besluit om vir homself te dink. Die twee vriende bekyk Londen saam en Dirk raak nog meer van sy ‘ouderwetse’ begrippe kwyt. Luimig is die vertelling van Dirk se grieselige ondervindings gedurende die ontgroeningstyd. Hy kry die opdrag om die lyk van 'n volwasse manspersoon uit die mortuarium van die universiteit weg te neem en na sy eie kamer toe te bring. Van sekere organe moet hy 'n ontleding maak en daarna 'n verslag optrek vir die studenteraad. Dirk raak bevriend met 'n Afrikaner-student, Erasmus, wat hom gou touwys maak in sy nuwe omgewing. Hy verwaarloos sy studie nie, maar begin tog volop te geniet van die vrolike studentelewe. Pat kom oor uit Londen en redeneer saam met die mediese studente oor godsdienstige kwessies en die evolusieleer. Erasmus het na 'n tydperk van twyfel die geloof van sy ouers laat vaar en Dirk begin nou ook met die twyfel te worstel. 'n Gelowige student neem deel aan die debat en verdedig die ortodokse standpunt van die skrywer op bekwame wyse. Die bespreking van hierdie kwessies sal vir ons jongmense aktuele waarde hê. Pat nooi sy Afrikaanse vriende na die O'Brien's, en Dirk verkeer al gou op intieme voet met Ethel, wat hy vroeër reeds deur 'n studentegrappie ontmoet het. Dirk probeer nog om sy houding teenoor wêreldse vermake halfhartig te verdedig, maar teenoor die plaery van sy sosaaietie- vriende is hy nie meer bestand nie. Hy dryf nou met die stroom mee. Vir 'n tydlank maak die verstandige raadgewings van sy ouers Dirk huiwerig om die verhouding tot Ethel voort te sit, maar sy hond, Pompie, wat 'n goedgetekende rol in die verhaal speel, bewerk 'n onverwagte ontmoeting. Die ontwikkeling van Dirk se liefde vir Ethel word net op vae manier aangedui en ek mis hier veral die persoonlike element. Na 'n paar danspartye en ‘'n soort elektriese skok’ wat by die plotselinge ontmoeting deur Dirk se lyf gaan, word hy die onderdanige dienaar van die Ierse skone. Die skrywer is meer begaan oor die waarskuwings wat Dirk kry om nie met 'n uitlandse nooi te trou nie en die aantal pale waarop die Amsterdamse paleis rus, as die verhouding tussen sy twee hooffigure. Op omslagtige wyse vertel hy hoe Pat eers die pad na Ethel se ouers moet oopskoffel, maar van wat tussen die twee verliefdes plaasvind, hoor ons net een uitroep: ‘O, you naughty boy! was al wat sy sê.’ Hierdie twee minnaars ‘kry’ mekaar sommer op die ouderwetse romanmanier. Ons weet te weinig van hul gemoedslewe om die latere afwikkeling van die huwelik te verstaan. {==287==} {>>pagina-aanduiding<<} Tussen Dirk se verlowing en sy huwelik verloop daar min of meer 'n jaar. Die skrywer lig ons in omtrent Dirk se finansiële skikkings, maar nog altoos swyg hy oor sy liefde! Dirk maak die indruk van 'n verstandige kêrel en daarom juis is dit so vreemd, dat hy geen die geringste aanstaltes maak nie, om sy aanstaande bruid in te lig omtrent die toestande en gewoontes in Suid-Afrika. Eers as Tafelberg in gesig kom, begin hy sy vrou iets te vertel omtrent haar nuwe woonplek! Die gevolg is dat Ethel reeds by die eerste ontmoeting met sy mense flaters begaan en nog altoos onder die indruk verkeer, dat die Karo-plaas, Beskuitfontein, 'n Europese buiteverblyf is met al die geriewe van die moderne beskawing. Van die begin af dryf sy haar onredelikheid tot die uiterste grense en Dirk moet maar steeds toegee om 'n botsing te voorkom. Sy weier om haar aan te pas aan die nuwe omstandighede en laat geen geleentheid verbygaan om Dirk se familie te beledig nie. Hulle mag nie oor haar drumpel kom nie en as Dirk teen haar sin besluit om Karel te help volgens sy belofte, dan verlaat sy die huis. By dit alles maak die skrywer haar nog die moordenares van haar skoonmoeder, wat aan 'n hartaanval beswyk, nadat sy Ethel se venynige brief gelees het. Ek wil nie beweer dat Ethel se geval onmoontlik is nie, maar deur die manier waarop die skrywer haar voorstel, word sy ongetwyfeld tot 'n karikatuur, op wie hy al sy haat uitgestort het, om te bewys dat 'n huwelik met 'n uitlandse vrou op 'n mislukking moet uitloop. Postma het met Ethel 'n uiterste geval gekies. Na haar aankoms in Suid-Afrika verloor sy alle menslike eienskappe en verstyf eenvoudig tot 'n bewysfiguur vir die skrywer se stelling, wat hy alte nadruklik aan ons aandag wil opdring. Gelukkiger is die skrywer gewees in sy skildering van Dirk se terugkeer tot die ou paaie. Breedvoerig word die invloede beskryf, wat langsamerhand 'n end maak aan sy godsdienstige twyfel en hom terugvoer tot die kinderlike geloof van sy jeug. Met tere innigheid is veral geteken sy verhouding tot sy diepbedroefde moeder, wat volhard in die gebed vir haar afgedwaalde seun. Na 'n dubbele ramp, die dood van sy moeder en die verdrinking van sy vrou, vind Dirk eindelik rus vir sy gemoed. Aan 'n beskrywing van die eintlike sielkundige krisis, wat hy deur middel van treffende insidente 1) onvermydelik gemaak het, waag die outeur hom egter nie. Hannie, wat vir Dirk tydens sy ernstige siekte oppas, deel wel 'n paar vlugtige indrukke mee van Dirk se sielestryd, maar dan heet dit: ‘Wat die broer en suster met mekaar gepraat het, weet niemand nie.’ (p. 315.) As ons weer hoor, dan laat Dirk sy seuntjie doop. Maar hoe hy van sy ongeloof bevry is - dit bly vir ons duister, waarskynlik omdat dit {==288==} {>>pagina-aanduiding<<} volgens die skrywer se opvatting nie kan of mag meegedeel word nie. Dirk se bekering word teen die end wel psigologies verklaar deur die skrywer, maar nie hartstogtelik beleef nie. Oor die algemeen is hierdie roman hoofsaaklik van belang uit 'n etiese en sosiale standpunt, ofskoon dit seker nie sonder letterkundige verdienste is nie. Die skrywer het op besliste wyse stelling gekies teen die ongeloof wat uit die buiteland oorwaai en hier in botsing kom met die tradisies van die Voortrekker-beskawing. Oom Koos verdedig laasgenoemde op waardige wyse o.a. waar hy tot sy seun sê: ‘Jy mag meen dat jy as dokter met al jou geleerdheid nou bokant die Bybel staan. Ek weet van jou vak niks af nie.... maar ek laat my van niemand wysmaak dat julle meer weet as wat in die Bybel staan nie. Julle werk net bolangs, maar die Bybel vat 'n mens in die diepste van sy siel, waar geen dokter kan bykom nie.’ (p. 240.) Postma het in hierdie roman 'n talentvolle uiteensetting gegee van die Calyinistiese lewensbeskouing. Hy het 'n ernstige boodskap vir die jeug van Suid-Afrika, wat hy met die gloed van 'n heilige oortuiging verkondig. Kleopatra (1929). In hierdie historiese roman wil die skrywer ons ‘'n getroue beeld van die lewe en worsteling van die besondere tydstip in die groot Romeinse wêreld gee.’ Van besondere belang vir die kennis van sy werkwyse is die volgende meedeling: ‘Om die werklike toestande realisties uit te teken - wie kan dit doen, tensy hy tot in die laagste dieptes van die sondige menslike lewe induik? Die sluier word in hierdie werk net maar effentjies gelig....’ (Inleiding). As gevolg van hierdie werkwyse slaag die skrywer nie daarin om die verlede te laat herlewe nie. Nooit kry ons onder die lees ‘de illusie dat we tijdgenooten zijn van een voorbijgegaan leven, van een vergeten beschaving’. Kleopatra en die historiese persone, wat sy in die netwerk van haar intriges probeer toespin, bly vae, skaduweeagtige figure wat in 'n onwesenlike wêreld leef en beweeg. Ons ontmoet Pompeius, Caesar, Antonius en Octavianus, en ofskoon hul lewensloop noukeurig beskrywe word, ken ons hulle alleen van die buitekant. Beter geslaag is die tekening van die dwerg Haki. § 16. Essie Malan (Mev. B.F. Barnard). Deur 'n Geleende Bril (1926). Hierdie verhaal is 'n interessante bydrae tot die oplossing van die armblanke-vraagstuk. Die skryfster stel veral belang in die opheffing van ons blanke bediendes en om vertroubare gegewens te verkry, laat sy haar hooffiguur 'n gewaagde proefneming doen. Louie Marais, 'n fyn- {==289==} {>>pagina-aanduiding<<} opgevoede meisie, verhuur haar aan 'n Kaapstadse dame as bediende teen £2-10 per maand. Op boeiende wyse word al haar huislike ervarings vertel en haar verhouding tot die huisgenote geskets. Toevallig kom sy, net soos Bettie Ertel ‘onder bevoorregte mense’ tereg, maar omdat sy soveel fyngevoeliger is, skaaf die juk van diensbaarheid haar des te seerder. Die simpatieke behandeling wat sy van mev. Groenewald ondervind, behoort 'n aanskoulike les te wees vir meer as een veeleisende Afrikaanse huisvrou, wat steeds daarop uit is om die blanke diensmeisie ‘op haar plek’ te hou, sonder om haar in die minste te bekreun oor die tog so menslike behoeftes van die armblanke. Die skryfster pleit met talent vir die regte van die blanke bediende en laat duidelik uitkom hoeveel delikate takt die huisvrou nodig het, as sy nie net 'n ongevoelige meesteres wil wees nie, maar werklik 'n hart het vir die minderbevoorregtes van haar eie volk. 'n Deel van Louie se proefneming is egter ook haar strewe om haar beter in te leef in die mentaliteit van die gewone diensmeisie deur 'n verkeer op gelyke voet. Sy knoop vriendskaplike betrekkings aan met 'n paar uit die buurte, en organiseer lees- en werkaande vir hulle in haar vrye tyd. Sy vergesel hulle ook na hul nederige wonings in die agterbuurtes en bestudeer van naby die hopelose stryd van die armblanke teen die verslegtende invloede van sy verpeste omgewing. Die gevolgtrekking waartoe sy kom is: ‘Vind uit hoe die mense lewe, en probeer om hulle ontevrede te maak met die agterbuurtes en slegte behuising’ (p. 97). Dit help nie om allerhande redmiddels te versin, as ons geen praktiese kennis het van die werklike toestande nie. Deur die hele boek word ons getref deur die waaragtige erns waarmee die skryfster 'n netelige vraagstuk aanpak, en haar bevindings verdien die aandag van almal wat belangstel in maatskaplike werk. Die tweede gedeelte van die verhaal, waarin die liefdesavonture van die gewaande diensmeisie beskryf word, vind ek minder geslaag. Daar is wel knap toneeltjies wat 'n belofte inhou vir die toekoms, maar die tekening is te oppervlakkig. Dit maak meer die indruk van 'n pikante sousie, wat die hoofgereg smaaklik moet maak. Die skryfster waag haar aan die moeilike briefvorm, maar slaag nie daarin om ons belangstelling vas te hou vir die Kimberleyse plan nie, omdat sy te veel redeneer in plaas van plasties uit te beeld. Rosie bly 'n vae figuur, wat ons gou vergeet; die lewendige Sonnie egter, is met talent geteken. As al die werkers in die agterbuurtes van ons stede met soveel warme liefde en geesdrif vir hul opofferende taak besiel is as Essie Malan, dan sal baie veragterde Afrikaners, wat in moedelose vertwyfeling die prooi van degenerasie geword het, hul verlore ideale herwin om nuttige lede van die samelewing te word. {==290==} {>>pagina-aanduiding<<} § 17. E. Serfontein. Van hierdie skrywer, wat onderwyser op Bloemfontein is, het verskyn: Kort Verhale (1927); Loshande (1930); Erns en Luim (1932); Die Getuie vir die Verdediging (1935), 'n speurverhaal (onder die skuilnaam Flaneur) en Sluipende Honde (1937). Serfontein verhef hom selde bo die middelmatige, en soms word hy gewoonweg vervelend soos in Oor Geluk en Braairibbetjies, waar 'n langdradige geklets oor 'n geheimsinnige beentjie uiteindelik uitloop op.... niks. In die vier bundels is daar geen enkele verhaal wat 'n diepe ontroering wek of wat voortlewe in ons herinnering as 'n kosbare besit nie. Daar is wel luimige voorvalle en koddige verwikkelinge wat ons 'n glimlag ontlok; ook toneeltjies wat van 'n wakker opmerkingsvermoë getuig; maar die kunstenaarsgawe wat die eenvoudigste gebeure meteens deur die felle lig van die skeppende verbeelding tot 'n sielsopenbaring verhelder, ontbreek by Serfontein. Oppervlakkig beskou lyk die verhaaltjies goed inmekaar gesit; die sielkundige motivering is aanneemlik, die verloop van die handeling goed geskets en die ontknoping meestal logies. En tog is daar iets onoortuigends in die verteltoon, wat my steeds laat voel dat ek hier met papiermense te doen het, wie se ervarings kunstig inmekaar gelas is om deur 'n voorafbedagte slot afgerond te word. Ek wil graag aanneem dat Karel Liebenberg los-hande deur al sy moeilikhede gery het, maar hy het my nooit in die oë geblik met daardie ‘onweerstaanbare glimlag’ van hom nie. Ek kan ook goed begryp dat 'n moordenaar deur gewetenswroeging tot kranksinnigheid kan gedrywe word, maar die manier waarop Karel Bessel met homself redeneer, is vir my 'n bewys van die skrywer se gebrek aan psigologiese insig. Hoe hy ook al probeer om my deur 'n opeenstapeling van realistiese besonderhede te oortuig van die egtheid van hierdie gebeurtenisse, ek kan dit eenvoudig nie glo nie, omdat die skrywer se stem nooit van ontroering bewe nie. Serfontein slaag nie daarin om werklik lewende karakters te skep nie, omdat die meeste van sy verhale blykbaar geskrywe is om een of ander stelling te bewys. Rondom hierdie stelling word 'n reeks anekdotes gefantaseer en netjies langs mekaar ingeryg om trapsgewyse die begeerde indruk op die leser se gemoed te maak. In Oorlede Lammie wil die skrywer byvoorbeeld die onhebbelike gewoonte van 'n vrou hekel, wat steeds verwys na die voortreflike eienskappe van haar eerste eggenoot tot ergernis van haar tweede man. Maar Hansie is so 'n lamlendige papbroek dat ons nouliks kan glo dat hy selfs die dooie Lammie kan uitoorlê. Die skrywer gebruik hom eenvoudig as 'n strooipop om sy stelling anekdoties uit te werk. Op dieselfde wyse word die verbitterde stryd tussen twee oujong- {==291==} {>>pagina-aanduiding<<} kêrels geskets. Nadat hulle mekaar deur allerhande planne probeer vermaak het, speel een sy hoogste troefkaart deur 'n huwelik aan te gaan. Die ander volg uit afguns sy voorbeeld, met die resultaat dat albei diep ongelukkig word. Albei gee, presies op dieselfde manier lug aan hul ergernis, naamlik deur ‘onskuldige miershope’ uitmekaar te skop, en dan volg die kwasie-komiese ontknoping: ‘En so het dit gebeur dat hierdie twee bure op dieselfde dag aan stap geraak het - die een Oos en die ander Wes - en somar heeltemal uit die wêreld uit geloop het.’ Tot sulke dwaasheid verval 'n skrywer wat sy karakters volgens 'n vooropgestelde skema netjies hul rolle laat speel. In Kort Verhale word die draak gesteek met party skrywers, wat by gemis aan ware besieling, jag maak op lokale kleur. Dit wil my voorkom dat Serfontein by gebrek aan humoristiese siening, jag maak op 'n soort snaakserigheid wat ontstaan deur ironiese oordrywing, of selfbespotting, en ook wel deur die manier om onbelangrike sake met 'n groot omhaal van gewigtige woordepraal mee te deel. Langs hierdie weg bereik hy wel komiese effekte, maar die voortdurende gebruik van die een ou stokperdjie in byna al die verhale word 'n oordrywing wat baie na 'n aangeleerde maniertjie lyk. Daar is egter verhale wat aantoon dat die skrywer geensins sonder talent is nie. Op sy beste is hy wanneer hy die verhouding tussen twee sleggehumeurde ooms teken, soos in Twee Wapenbroers en Twee van een Soort. In die meeste verhale sou 'n mens ook kan wys op voortreflike besonderhede soos b.v. die grotendeels geslaagde skildering van die ketellapper, Sors Pieterse, wat hoe onwillig ook, tog sy tuinwerkie moet voltooi. Die lesers wat minder ag slaan op lewensegte uitbeelding sal geniet van die erns en luim van Serfontein se verhale. Ek ag dit ook glad nie onmoontlik dat hy nog kan ontwikkel tot 'n interessante verteller nie. Maar dan sal hy moet afsteek na die diepte en nie tevrede wees met oppervlakkige anekdotes wat ons alleen in die verbygaan amuseer nie. In Sluipende Honde is daar wel enige styging te bespeur, maar bokant die peil van onderhoudende lektuur bring die skrywer dit nie. Serfontein lê hom veral toe op 'n vernuftige intrige, wat ontstaan deur 'n reeks buitengewone gebeurtenisse, dikwels van bo-natuurlike aard soos in God bewandel nog die Aarde, 'n Dagboek, Die Asbakkie en Seegras. Laasgenoemde is die bes geslaagde verhaal. Treffend word daarin geteken die hallusinasies van Kasper Henning, wat sy blinde suster laat verongeluk, omdat hy moeg geword het om haar gedurig op te pas. Serfontein verstaan die kuns om 'n grillerige atmosfeer te skep en het 'n studie gemaak van die abnormale verskynsels waardeur 'n misdadige gewete {==292==} {>>pagina-aanduiding<<} verontrus word. Mooi kan hy ook 'n toneeltjie uit die daaglikse lewe teken, soos in Selonspampoen, waar 'n skamerige plaasseun eerbiedige hulde bring aan 'n dorpsnooientjie. § 18. Dr. C.M. van den Heever. Van den Heever is in 1902 in die konsentrasiekamp by Norvalspont gebore. Hy het sy eerste onderrig in die Vrystaat ontvang en was 'n tydlank onderwyser, staatsamptenaar en joernalis. In 1927 vertrek hy na Utrecht, Holland, waar hy in die Nederlandse Lettere studeer. In 1932 promoveer hy aan die Universiteit van S.A. op 'n proefskrif Die Digter Totius, Sy Betekenis vir die Afrikaanse Letterkunde (vgl. Hoofstuk XI). In 1933 is hy aangestel as professor in Hollands aan die Witwatersrandse Universiteit. Van den Heever is een van ons vooraanstaande digters en het reeds vier bundels gedigte gepubliseer. Sy prosawerk is as volg: Op die Plaas (1927); Langs die Grootpad (1928); Droogte (1930); Simson (1932); Groei (1933); Vuurvlieg en Sterre (1934); Somer (1935); Die Afrikaanse Gedagte (1935) (vgl. Hoofstuk XI); Kromburg (1937). Op die Plaas (1927). Sy eerste prosawerk is 'n novelle van die soort waarin daar heel weinig ‘gebeur’. Die hoofpersoon, Freek, is 'n skaapboertjie op kleine skaal, wat in 'n ou pondokkie woon. Freek ly aan 'n abnormale ontwikkeling van die inferioriteits-kompleks, wat hom die mikpunt van sy maters se spot maak en al sy lewenskragte sodanig verlam, dat hy knaend besig is om weg te kruip in 'n nietigheidskulpie. By 'n buurman kom daar 'n dorpse nooi kuier, wat uit pure tydverdryf en om 'n bietjie afwisseling in haar eentonige vakansie op 'n eensame plasie te bring, solank flikkers maak om die onnosele Freek, tot hy haar eindelik die aand voor haar vertrek soen. As Miem al haar sykouse ingepak het, verdwyn sy vir goed. Die skamerige Freek teer nog 'n rukkie op sy gelukkige herinneringe en geraak dan na 'n heftige stryd tot nuwe lewensinsigte. Freek laat ons meteens aan Ampie en Faans, Malherbe se meulenaar dink, en die skrywer het ongetwyfeld veel uit hierdie romans geleer, ofskoon hy nie bewus nagevolg het nie. Van den Heever laat al die lig val op Freek se skugterheid en het hom met treffende innigheid ingeleef in die verontrustende mymeringe van hierdie verliefde sukkelaar, wat met 'n patetiese weifelsug tot op die laaste oomblik wik en weeg. Sy hele siel hunker na die liefde wat sy vreugdelose bestaan draaglik sal maak, maar hy mis die moed om sy aangebore skroom te oorwin. Hy is een van die eensame siele, wat onbegrepe voortpieker, omdat hulle alle daadkrag mis. Bevreemdend is dit daarom dat Freek na die vernieti- {==293==} {>>pagina-aanduiding<<} ging van sy vlugtige liefdesgeluk hom onverwags ontpop as 'n diepsinnige filosoof. ‘Soos 'n nuutgebore mens het hy uit die idealistiese dop.... gekruip. Hy het hom nie meer bekommer oor die dood nie; al die nare gedagtes van vroeër het in die dryfsand van nuwe dinge weggesak. Hy het die mense leer ken soos hulle is.... elkeen met sy bondeltjie smarte en ellende, en net so vol swakhede as hy. Uit die hoogtes waar sy siel in drome gelewe het, het hy neergedaal onder mense....’ ‘Hy het geleer om die lewe se waardes in die regte verhouding te skuiwe, om die verbygaande verskynsels van die lewe, wat op 'n ewigdiep ritme altyd kom en gaan, helder en mooi te sien deur die vensterruit van 'n gelouterde siel’. Hierdie lewenswysheid sou Freek geput het uit sy mislukte liefde. Maar volgens die uitbeelding in die eerste gedeelte van die verhaal besit hy net 'n geringe mate van geestelike ontwikkeling. Ek sou hom een sportjie bo Ampie plaas, en ‘die hoogtes waar sy siel in drome gelewe het’ is ook maar die lugkastele van 'n naïewe optimisme, wat hom steeds 'n gelukkige saamleef met Miem voorspieël. Om 'n oplossing te bereik laat die skrywer Freek dus 'n ontwikkeling deurmaak, wat glad nie strook met sy innerlike aanleg nie. Freek is 'n swakkeling, wat selfs onder die gunstigste omstandighede nooit tot so 'n volledige menslikheid kan geraak nie. Buitendien is sy karakter so eenvoudig van samestelling, dat hy kwalik die hooffiguur kan wees van 'n verhaal, waarin daar feitlik geen ander persone optree nie. Van den Heever het wel met 'n paar vlugtige trekke twee of drie byfigure aangedui, maar die skildery is te oppervlakkig om die aandag vas te hou. Waar hy met Freek besig is, is daar meer diepte en innigheid in die uitbeelding. Die verhaal sou egter aan dramatiese spanning gewin het, as dit in plaas van die lang psigologiese uitrafeling meer plastiese toneeltjies bevat het, waarin ons die hooffiguur in aksie kon sien. Ten spyte van hierdie bedenkings is daar egter veel verdiensteliks in Van den Heever se eersteling. Hy het die plaaslewe met die gevoelige oog van die digter beskou; die geure en kleure van die veld by die wisselende jaargetye soms met treffende beelde geteken. Ons sien die boer besig met sy daaglikse taak, en ook die swart skepsel wat hom help word met humoristiese siening getipeer. Van den Heever het 'n fyn ontwikkelde taalgevoel en luister noukeurig na die klank en ritme van sy sinne. Veral deur veelvuldige vergelykings strewe hy na individuele segging, wat hy dan ook deurgaans bereik, ofskoon daar nog retoriese aankleefsels in sy styl is. So word daar byvoorbeeld wonderlik omgespring met arme Freek se hart: partymaal lê daar 'n kooltjie in (p. 36), dan steek daar weer 'n doring in (p. 74), of trek daar bliksemstrale deur (p. 79), ens. Wat die vergelykings betref - op byna elke bladsy staan daar gelukkige vondse, wat van die skrywer {==294==} {>>pagina-aanduiding<<} se weelderige fantasie en opmerkingsgawe getuig. Ek noem as voorbeelde: ‘Sy pap hoedjie los soos 'n pampoenblaar oor sy kop, (p. 6); die bakoond wat aan die huis vasgemessel staan lyk soos 'n varkie wat aan sy ma drink (p. 18); die blare aan die bome het gedaan gelyk soos die gesig van 'n afgeleefde mens (p. 75). Partymaal gaan dit egter moeilik om die fantastiese vergelykings van die skrywer te bewonder en maak dit die indruk van opgeplakte blinkpapiertjies. Toe ek die eerste maal lees dat die son soos 'n rooi granaat opgaan, het dit my wel getref. Later egter, word die son 'n deurskynende appel, 'n blaasvlam (?) ens., terwyl die maan beurtelings die gedaante van 'n groot blink halfkroon, 'n geel pampoenskil, 'n groot geel bal, ens. aanneem! Die skrywer is nie tevrede met 'n spontaan opwellende gevoelsindruk nie, maar maak positief jag op vergelykings. En as 'n mens die voorbeelde so een vir een inryg, dan wek dit die onaangename indruk van massa-produksie volgens uitgeknipte patroon. So sou ek die skrywer ook wil waarsku teen al die kwetterende voëls en veral die rooivoël, wat reëlmatig met klappende vlerke die lug instyg, of soms ook wel ‘die blou dom (?) van die hemel....’ 1) Langs die Grootpad (1928). Die vernaamste indruk wat hierdie roman by my nalaat is die erns van die skrywer. Hier is iemand aan die woord wat nie sommer lughartig voortdrentel op die grootpad van die lewe nie; hy daal af na die donker moerasse, kruip teen die knaende opdraande uit en sien vandaar die bergtoppe van die beloofde land, wat vaag opdoem uit die deinserigheid. Hierdie jong skrywer het geworstel met die lewe. ‘Daar is 'n weemoedige, pessimistiese klaagtoon in sy verse,’ het ek geskrywe by die verskyning van sy eerste bundel Stemmingsure. ‘Hy tob oor die raaisel van die dood, en is diep onder die indruk van die verganklike van al die ondermaanse. In die donker nag is dit net die onsekere straaltjies van die aandster, wat 'n flou skynseltjie gee. Langs die eindelose trekpad van die lewe soek hy tevergeefs na 'n uitspanplek, waar die siel sy smart kan vergeet. Die een geslag volg die ander op en steeds is daar nuwe soekers, wat een vir een met 'n ewige waarom die duisternis ingly....’ Dit alles is in hoofsaak ook van toepassing op hierdie roman. Hansie, die hooffiguur, is 'n plaasseun, met 'n sterk neiging tot introspeksie, wat aanleiding gee tot pessimistiese mymeringe. Op die snare van sy viool verklank hy al sy vae, onbestemde verlangens. ‘Sy siel het van verlange geskryn na 'n verwesenliking van die onbewuste dinge, van die skemergestaltes wat telkens vervlug as hy hul nader.’ In die musiek vind sy artistieke aanleg 'n uitweg uit die teleurstellings van 'n onsimpatieke omgewing. Dit is alleen sy moeder wat enigsins 'n begrip het van Hansie se hunkering na newelagtige ideale. Hy moet boer {==295==} {>>pagina-aanduiding<<} word, maar sy dromerige geaardheid maak hom ongeskik vir die plaasarbeid en lei tot wrywing met sy vader. Nog meer raak sy gemoed versomber as die tere spruitseltjies van 'n eerste liefde verskrompel deur die plotselinge vertrek van Maria, die dogter van die bywoner, Rooi Stefaans. Maar nog groter beproewing wag Hansie. In die griepjaar verloor hy sy moeder, 'n gebeurtenis wat hom digby die ewige dinge bring en aanleiding gee tot ernstige selfinkeer. In sy wanhopige droefheid kla hy: ‘Here! Here! wat is die lewe, waarom moet ons ly? En sy woorde klink in die stil skemeruur soos 'n rou noodkreet van 'n jong siel wat verbyster is deur sy eie bestaan en pynlik, wanhopig kla by God.’ Innig is die weergawe van Hansie se worsteling met die groot lewensraaisels, en 'n mens voel onwillekeurig dat die skrywer hier 'n groot stuk van sy eie gemoedslewe verwerk het. Hansie is dieselfde seun wat ons in Die Nuwe Boord ontmoet: As seun het ek vir ure al gesit en met omhoog-gerigte hoof, gestut beweegloos op my hand, iets groots van bo verwag met heimwee, vas daaraan geglo... Hy is die soeker wat hunker na die oplossing. By die sterfbed van sy moeder het die oneindige dinge hom aangegryp en in sy drome het hy flou skynseltjies van die ewige lig ontwaar. Maar vaal en eindeloos ver lê die wit streep van die grootpad voor hom. Deur middel van studie verower hy 'n nuwe gedagtewêreld, wat hom egter juis verder van sy eie kring laat vervreem en sy neiging tot eensame oorpeinsings versterk. Hy staan as vreemdeling teenoor sy maats, en weet self nie waarom die snaakse gevoel van andersheid hom so beetpak nie. 'n Diepe heimwee, 'n gestadige hunkering na 'n paradys in die verre verskiet dryf hom steeds terug na sy eensame buitekamertjie. Diep moet so 'n gevoelige siel ly onder die vernedering wat sy vader ondergaan as gevolg van geldelike moeilikhede. Oom Gert probeer sy posisie red deur 'n tweede huwelik, wat egter sy hele huisgesin in die diepste ellende stort. Tant Annie stam uit 'n agterlike bywonersfamilie en haar baasspelerige natuur en skynheilige agterbaksheid veroorsaak al gou 'n krisis wat die huisgesin uitmekaar laat spat. Goed word die huislike onenigheid geteken, die gedurige wrywing tussen die kinders en hul stiefma, nog vererger deur skinderpraatjies van buite. As tant Annie se seun, Johnnie, 'n gedegenereerde swakkeling, plaas-toe kom en deur sy ma in alles voorgetrek word, dan volg daar 'n uitbarsting. Hansie kan die geterg nie langer verdra nie en slaan vir Johnnie plat teen die kraalmuur. As gevolg van die huislike storm wat nou losbars, besluit Hansie om sy goedjies bymekaar te skraap en die grootpad op te gaan. Die dromer wat so lank getob het oor die geheimenisse van die toekoms moet nou {==296==} {>>pagina-aanduiding<<} met 'n vyfpondnoot en 'n klompie skapies die stryd met die onbarmhartige lewe begin. Roerend is die vaarwel aan die geliefde ou plaas en treffend deur sy eenvoud die skildering van die afskeid tussen Hansie en sy gebroke vader. Die ironie van die lot voer hom na Rooi Stefaans, die eertydse bywoner, wat sy pa weggeja het, maar wat deur 'n gelukkige vonds op die delwerye nou 'n welgestelde boer is. Dubbel swaar is dit om hier 'n gunsie te vra, maar die nood dwing en Hansie kry 'n sitplekkie op die plaas. Ook hier egter kan hy nie aard nie. Sy nederige posisie is 'n gedurige kwelling en hy bly nog maar die onbevredigde soeker, wat deur sy dromery ongeskik is vir die gewone plaaswerk. Slegte nuus van sy susters bring hom byna tot vertwyfeling. ‘En in die oomblik van diepste wanhoop voel hy die geweldige, ewige, donker lewensgeheim oor hom; 'n nag waarin die mens vergeefs na die sterre opkyk en doelloos verder slinger.’ Hansie se moed vir die lewenstryd is gebreek. Hy, wat as kind al die merkteken op die voorhoof gedra het, wat hom van ander onderskei, moet dubbel en dwars betaal ‘die belasting van oorgevoeligheid vir die gawe van diepgevoeligheid.’ Sy kunstenaars-temperament maak hom tot een van die babetjies van wie Langenhoven sê: ‘Hulle pas nie op die aarde nie, daarom roei hulle hulle self uit, waar hulle maters hulle nie uitroei nie. Eensaam, onbegrepe, leg hulle hulle weg af.... Arme geteisterde en selfgeteisterde, verdwaalde hemelinge op 'n vreemde meedogenlose aarde - hulle kom hier om te dien en om te ly.’ Hansie moet ondergaan in die stryd teen die genadelose werklikheid. Die lewe sal hom uitstoot as 'n nuttelose vyfde wiel, omdat sy vader hom in 'n verkeerde beroep gedwing het. Maar nou keer Maria terug uit die stad waar sy gestudeer het en as dit blyk dat haar liefde vir haar ou speelmaat nog lewe, dan volg die volkome regenerasie van Hans. Onder haar besielende invloed verdwyn sy minderwaardigheidsgevoel en besluit hy om sy goedjies te verkoop en musiek te gaan studeer in die stad. Daar kom hy in aanraking met die volle lewe, en in plaas van voort te pieker oor eie moeilikheidjies, raak hy deur voortgesette studie en noukeurige waarneming vertroud met die groot maatskaplike probleme. ‘Verder as die enge landsgrense tot ruimer wêreldgedagtes wil sy verbeelding uitsirkel; hy wil 'n sintese in die eeuewoelinge ontdek, hy wil verstaan hoe die mensgeslagte deur die eeue in golfbewegings gaan, sonder dat die mens se klein wil iets aan die grootse plan kon verander....’ Hierdie fase in Hansie se ontwikkeling word wel mooi beredeneer en sielkundig uitgepluis, maar ek mis daarin die dramatiese element. Die groot worsteling van die jongman wat soek na 'n houvas in die lewe, die stryd om 'n eie lewensbeskouing, die langsame groei tot 'n vollediger menslikheid - dit alles word alleen fragmentaries beskrywe en nie {==297==} {>>pagina-aanduiding<<} uitgebeeld nie. Teen hierdie gebrek, wat my ook in ander dele van die roman hinder, sal die skrywer moet waak. Dat hy egter wel deeglik 'n dramatiese toneeltjie kan inmekaarsit, daarvan getuig o.a. die geslaagde tipering van outa Jan, wat sy lewenswysheid so parmantig uitkraai (p. 102-3). ‘Die vernis van die konvensie, die slaafse aandraf in paadjies wat aangedui word, hinder (Hansie se) gevoel, wat deurdring, ontleed en waardes bepaal,’ verklaar die skrywer. Die leser sal dit graag aanneem, maar veel indruk sal dit seker nie op hom maak nie. Ons wil liewer deur middel van 'n plastiese toneeltjie sien, hoe Hansie se gemoed rebelleer teen die konvensie, hoe hy deurdring tot die kern van gebeurtenisse rondom hom. Plek-plek lyk dit of Van den Heever vergeet dat hy besig is met 'n verhaal, want belangrike feite in Hansie se ontwikkeling word sommer dor-saaklik gekonstateer, of anders raak hy verward in sy eie sielkundige spitsvondighede. Duister is vir my altans sinne soos die volgende: ‘En so sterk as wat hy die ellende en teleurstelling deurvoel het, so grondig het sy siel ook met geweldige gevleu(e)ling die wêreldbegrip genader.’ Of soos hierdie: ‘En tog was daardie lyding werklik, eenvoudig omdat sy innerlike verbreek was deur lewensvertwyfeling, omdat die sielsverewigende begrip nie sy siel deurstraal het met wysheid nie.’ 'n Noodwendige gevolg van hierdie beskrywende sielkunde is dat die figure vaag bly en nie helder in ons herinneringe voortleef nie as mense wat ons intiem leer ken het. Daarby belemmer dit die gang van die verhaal wat in die laaste hoofstukke traag voortsukkel. Van den Heever soek na 'n eie geluid in sy styl en hy het ongetwyfeld daarin geslaag om die plaaslewe op oorspronklike wyse te skilder. Ek haal 'n paar voorbeelde aan om die beskrywingskuns te tipeer: ‘Plek-plek gly die sonlig in kolle oor haar heen, en so ver as sy stap, vlie die spreeus met luidrugtige geskreeu uit die bome en val soos swart lappe in die rivier anderkant die landmuur.’ ‘In lang sluieragtige toue wals die dwarrelwinde oor die vlaktes en veryl ver teen die rooierige hemel.’ Dis al genoeg om aan te toon dat ons hier te doen het met 'n skrywer wat 'n eie siening het. Met Gezelle kan hy sê: Mij spreekt de blomme een tale, mij is het kruid beleefd, mij groet het al te male, dat God geschapen heeft. Af en toe voel ek wel 'n bewuste strewe na mooi-doenery, soos in hierdie allitererende sin: ‘Reekse rantjies kruip soos reuseruspes oor die rooi vlaktes....’ en soms slaag die skrywer nie daarin om sy ontroering te vertolk nie: {==298==} {>>pagina-aanduiding<<} ‘die ruisende geluid van die melkstrale teen die emmers stuur 'n stemming in die lug.’ Sommige beelde is naklanke van ander skrywers - die bome ‘met hul verwronge, knoestige arms’ laat ons b.v. direk aan Sangiro dink - maar met hierdie uitsonderinge is daar baie beskrywings wat my deur hul innige gevoel verbly het. Van den Heever soek nog na sy eie pad, maar hy sal dit kry, want net soos Hansie het ook hy ondervind: ‘Die lewe is erns, brandende erns.... Hy moet deur dié drome die lig van die volle waarheid sien. Hy moet soek, soek.... hy voel die drang na lig.’ Droogte (1930). In hierdie verhaal ontmoet ons vyf Vrystaatse skaapboere. Hulle is broers, wat digby mekaar woon op die ouerlike plaas. As gevolg van die verdeling van die grond kan geeneen 'n behoorlike bestaan maak nie, en wanneer die langdurige droogte kom, raak almal uitgeboer, behalwe Sagrys, wat gedurende die Engelse Oorlog verraad gepleeg en al sy besittings behou het. Sagrys se ideaal is om weer in besit te kom van die hele plaas. Hy merk met genoeë hoe sy broers langsaam doodgewurg word deur die droogte. en beraam onderduimse planne met 'n Joodse winkelier om hul ondergang te verhaas. In die oomblik van oorwinning egter word hy vermoor deur sy doofstom broer Datie, uit wraak vir 'n jarelange mishandeling. Datie word opgesluit in 'n kranksinnigegestig en die ander broers word dagloners op die spoorweg. Met uitsondering van Soois is hierdie broers almal mense van geringe geestelike ontwikkeling, wat gedurig onder mekaar rusie maak en feitlik oor niks anders kan gesels as oor die droogte nie. Stoffel, die oujonkman, is 'n suiplap, wat probeer om sy niggie te verlei en later ook sy broer Luikes tot dronkaard maak; Datie is 'n half-onnosele idioot, wat alleen deur hie-hie-geluidjies uiting aan sy gevoelens kan gee; by Sagrys het alle menslike eienskappe opgedroog. Die broers se vroue, van wie ons die name skaars kan onthou, werskaf rond in hul bedompige vaal huisies waar lastige vlieë rondkriewel. Af en toe vlie hulle hul mans in om tog iets gedaan te kry, maar meestal swoeg hulle geduldig voort, met as enigste tydkorting skinderpraatjies. Van die talryke kinders gewaar ons so goed as niks. Hierdie armsalige spul mense woon op die kaal Vrystaatse vlakte, waar 'n meedoënlose son alle plantegroei verskrompel. Die veld is bestrooi met verbleikende geraamtes en die stank van verrottende skape en beeste dwarrel rondom die huisies. Die hoofgedagte van die roman is duidelik: dit is 'n droogte, wat nie alleen die aardkors laat oopbars van dorheid nie, maar ook die siele van {==299==} {>>pagina-aanduiding<<} die mense laat opkrimp. Onder die knellende sorge van so'n sukkelbestaan moet die beste eienskappe langsamerhand verstik, en kry die laer instinkte al gou die oorhand. Hierdie Vrystaatse boere het ondergegaan in 'n stryd met die onbarmhartige Natuur, en die ekonomiese val lei ook tot sedelike verval. Op Moedverloor se vlakte raak hulle al hul ideale kwyt, en dis alleen by Soois dat daar enigsins die vooruitsig van 'n regenerasie is. Die roman is dus 'n verbeelding van een van ons kernprobleme: die ontaarding en verarming van die plattelandse bevolking as gevolg van langdurige droogtes. Van den Heever het hierdie probleem oorpeins en toe oorgegaan tot die skepping van enige romanfigure wie se lewe deur sekere ekonomiese verhoudinge bepaal word. Die vraag ontstaan, of hy deur die tekening van hierdie Vrystaatse groepie ons 'n versinnebeelding gegee het van die grootse worstelstryd tussen Mens en Natuur, of ons deur die besondere tragiek van sy boere tot 'n besef kom van die algemene tragiek van die boer se hopelose stryd. Ek glo nie dat Van den Heever dit bereik het nie. Ek kry die indruk dat sy figure opsetlik uitgedink is om te pas by die droogte-motief. Omdat hy besondere nadruk wou lê ook op die geestelike droogte, het hy mense gekies van geringe weerstandsvermoë en gebrekkige ontwikkeling, mense wat in bedompige huisies ‘'n kleurlose natuurbestaan’ slyt soos ‘uitgedorde alwynbome op die eentonige, morsdood-geskroeide vlakteoneindigheid.’ Hierdie soort mense mis die energie om teen die natuur te worstel; hulle is daarvoor te futloos, te papbroekerig. Ons kan hoogstens sê dat hulle die droogte ondergaan. Maar by die begin al is hulle met moedeloosheid geslaan en dis alleen weer by Soois wat ons enige sielestryd gewaar. Wat doen hierdie boere eintlik die hele dag? Ons sien hulle rondloop op die veld, waar hulle 'n bietjie gesels oor die droogte en die weer beskou, of af en toe 'n skaap uitvang om te kyk of dit brandsiekte het. Maar met een of twee uitsonderinge sien ons hulle nooit werk en woel nie. Hoe moet ons nou uit die praatjies en rusies en jeremiades van so'n klompie minderwaardiges 'n besef kry van die tragiese stryd teen die onbarmhartige Natuur? Die moedelose lydsaamheid van hierdie boere uit Papbroekland is seker pateties, maar heftig ontroer dit ons nie. Die hoofgedagte van die roman kan in sulke figure nie tot geldigheid kom nie, omdat hier nouliks van 'n stryd kan sprake wees. Die vraag het al by my opgekom, of ons skrywers onder invloed van Ampie nie 'n oormatige belangstelling vir die geestelik minderwaardiges ontwikkel nie. Ná Ampie het ons Malherbe se Meulenaar gekry en nou weer ou Datie. Van den Heever het hierdie figuur seker met begrypende liefde geteken. Diep kom ons onder die indruk van die lyding van die doofstomme, wat sy dankbaarheid vir 'n bietjie liefde so aandoenlik uit deur die geskenk van 'n paar velskoene aan Soois; saam met hom beleef ons die verskrikkinge van die onweers- {==300==} {>>pagina-aanduiding<<} nag ná die moord. Maar die ander broers is baie vaag geteken en 'n sielkundige uitrafeling is geen vergoeding vir die gemis aan dramatiese uitbeelding nie. Dit geld ook vir die onderwyser en sy vrou. Hendriks sit nie vasgegroei in hierdie omgewing nie, en sy geskiedenis is maar met 'n dun draadjie vasgeknoop aan dié van Rooiwater se boere. Hy tree alleen op om die droogte-motief weer van 'n ander kant te belig. Hendriks is ‘een van die rampsalige siele wat al sy hare in sy geesdodende studie verloor sonder dat hy iets uitvoer....’ (p. 129) - 'n tipe dus van die intellektueel wat deur oordrewe introspeksie - ‘vreugde-dodende selfontleding wat van alles 'n operasie-voorwerp maak’ - tot geestelike bankrotskap en sieledorheid verval. Van den Heever se beeldingskrag word myns insiens verswak deur 'n uiterste noukeurigheid van visie, wat hom telkens oortollige plastiese besonderhede laat invleg. Sy waarnemingsvermoë is so skerp dat niks sy aandag ontglip nie. Maar die inspanning wat hy bestee aan sy beeldende skilderinge werk remmend op die gang van sy verhaal, en die oortollig-sintuiglike verdring vaak die dramaties-geestelike. 'n Vloeiende verteller is hy nie, hoofsaaklik omdat hy elke onderdeeltjie van sy visie minusieus wil beskrywe en daardeur die leser se totaalindruk vertroebel. As voorbeelde hiervan haal ek aan die beskrywing van die speurder (p. 165), die regter en die advokaat (p. 196-7). Afsonderlik beskou bevat hierdie kiekies seker verdienstelike trekke, maar ek kan my tog nie voorstel dat die leser so danig sal belangstel in die ‘aardbedekte rooi wange’, ‘klipharde borselsnortjie’ (waarom tog nie snorretjie?) en ‘droë, plooierige gesig’, ens. van hierdie persone nie. Dit is in elk geval besonderhede wat eenvoudig opgesom word, sonder dat dit onafskeidelik met die dramatiek van die situasie verbonde is. Ook in die verdienstelike beskrywinge van die droogte stuit ek op wendinge wat die indruk van gedwonge fraaiighede maak, of anders hinderlike uitweidings bevat. Die aanhef van hoofstuk VIII lui as volg: ‘Die uitgedorde, swart windmaker-bossies breek onder oom Soois se rooi winkel-velskoene, wat plek-plek skrape het en nerf afgaan.’ Wie verder lees, ontdek dat die haarfyn beskrywing van hierdie velskoene net 'n hinderlike inlassing is. Ek noem nog 'n voorbeeld: ‘Links van die bees af sit 'n ramhoring met dik wortels aan die grond vasgegroei. Oom Soois skop hom los; soos deurmekaar-geraakte doringdraad ruk die wortels los of diere- en plantewêreld in die vreemde verbinding deur die mens gesteur word’ (p. 75). Klink dit nie na nodelose en selfs onverstaanbare mooiheidsoekery nie? Ek sou nie soveel aandag aan bogenoemde gebreke bestee het, as ek nie oortuig was dat ons in Van den Heever te doen het met 'n ras-egte skrywer nie. Ons het baie mense wat met sukses 'n leesbare verhaaltjie {==301==} {>>pagina-aanduiding<<} kan vervaardig; maar daar is net enkele skrywers wat daarna strewe om in hul romans die verbeelding van 'n lewensprobleem te gee. Met Droogte het Van den Heever 'n verdienstelike poging in hierdie rigting gedoen. Hy het afgesteek na die diepte, en al word die psigologie nog soms verdring deur die plastiek, al staan die sinnelike waarneming nog dikwels naas die geestelike ervaring, tog bevat hierdie roman veel wat ons ontroer. Die skroei-hitte van 'n onbarmhartige son teister mens, dier en plant. Al wat skoon en edel is in die mens verskrompel, en op die dorre akkers van die moedeloosheid kan alleen die onkruid nog tier. Terwyl die uitgehongerde diere van uitputting neerslaan by die laaste modderwatertjies, is die vyf broers besig om hul ellendige sukkelbestaan nog ondraagliker te maak deur skraapsug, rusie, ontug en doodslag. Buitekant in die natuur en binnekant in die harte van die mense word alle lewe doodgeskroei, totdat aan die end by Soois weer 'n nuwe loot deur die harde kors te voorskyn kom. Hierdie uitdorringsproses het Van den Heever aanskoulik gemaak. Met liefdevolle blik het hy die geduldige lyding van die stomme vee geteken. - ‘In 'n ander kuil, in die klei, wat al hier en daar oorkruis begin barste gee, lê 'n maer ou koei. Die arme dier moet oom Soois nou vir die laaste maand al optel. Hy pak haar nou weer aan die stert, lig haar so effens, en met 'n gekrap van die pote, slinger sy regop. Hier en daar is haar hare al af, en daar sit wit roofkolle; die ribbebene bult soos hoepels van 'n vat uit en in die boude se vleis lê diep holtes; naas hul steek die bene knopperig uit. Die koei waggel-stap so 'n endjie, die bene baie na aan mekaar, en toe gaan sy staan, en die vleis-oë, hol in die beenderige droë kop, kyk na oom Soois, en dit voel publiek vir hom dat die dier vir hom verwytend aanstaar, en of sy sonde verantwoordelik is vir die droogte.... Mismoedig draai hy hom na die skape, wat met besmeerde bene uit die morsige kleiwater klim en met vuil modderbekke weer vrugteloos aan die kortgetopte suurgras langs die kuil begin peusel’ (p. 76). In sulke skilderinge is die skrywer op sy beste, en die droogte met al sy verskrikkinge leef in hierdie roman. Al het Van den Heever nog nie die hoogste bereik nie, tog het hy ons iets laat voel van die boer se tragiese stryd teen die natuurkragte; hy het ons liefde en bewondering verower deur die uitbeelding van enkele dramatiese momente in die lewe van 'n doofstomme en sy broer Soois, en hy het ons telkens verras deur sy digterlike waarneming van die gewone, alledaagse dinge. Simson (1932). In hierdie dertiental verhale en sketse word 'n groot aantal motiewe behandel. Uit die groot verskeidenheid egter, wat getuig van die skrywer se ryke fantasie, duik daar herhaaldelik een motief op, wat die innerlike stryd by die hooffiguur tot 'n breekspanning voer, naamlik Die Mag {==302==} {>>pagina-aanduiding<<} van die Verlede. In sterk oomblikke mag die mens hom verbeel dat wat verby is geen invloed op die toekoms kan hê nie, dat hy telkens, onbelemmerd deur gister en eergister, 'n nuwe hoofstuk van sy lewensboek kan begin. Maar wie voor 'n groot krisis kom te staan, moet elke keer ervaar dat sy gedrag onverbiddelik bepaal of gewysig word deur herinneringe jarelank begrawe. 'n Sterk liefde groei in die siel van 'n vereensaamde wewenaar, wat op 'n eensame plasie sy hele lewe gewy het aan die geluk van sy dogtertjie. Maar sodra hy nogeens sy deeltjie lewensvreugde wil gryp, het hy ‘in 'n droom sy oorlede vrou op haar sterfbed gesien.’ (Die Groot keuse.) Na 'n gelukkige egverbintenis keer Nita as weduwee terug na die ouerlike tehuis met haar dogtertjie. Met weemoedige berusting wil sy ter wille van haar kind, probeer om haar weer in te pas in die ou omgewing maar.... ‘die verlede (hou) haar siel gevange in sy geheimsinnige weefsels’ en ‘willoos volg haar smartdeurhuiwerde siel die beelde wat so ligtend voor haar oprys in die grenslose land van haar verbeelding....’ (Verdriet.) Oom Lewies sit ‘radeloos inmekaargesak’ by die oop Bybel, want sy seun is op die verkeerde pad. ‘Hy versink in 'n weemoedige mymerstemming en gestaltes uit heengegane dae kom terug in sy herinnering....’ En uit die verlede kom die beskuldiging van versuimde ouerplig. (Vadersmart.) 'n Gepensioeneerde matroos vestig hom in 'n gerieflike huisie by die see, nadat hy vyf-en-veertig jaar op die oseaan rondgeswalk het. Maar die onrus van die see is in sy bloed en ‘om sy hart is die heimwee na ou dinge wat fris oopbloei in die verbeelding....’ (Terug na die See.) Ook in Broedertwis, die mooiste verhaal in die bundel, word Herman se wrok aangewakker deur herinneringe van onreg wat hy in sy jeug gely het. Die jarelange jaloesie tussen die twee broers lei tot 'n worsteling op lewe en dood gedurende die eerste vaart na hul vader se begrafnis. Maar terwyl die twee broers veg oor die besit van die boot, word hul albei, met boot en al, die diepte ingesleur deur 'n rasende orkaan, die dramatiese agtergrond van die storm in hul gemoed. In hulle doodsangs eers besef hul die nietigheid van hul eersug, en dan bewerk herinneringe van 'n gelukkige jeug die versoening: ‘Hulle klou aan mekaar vas soos toe hulle twee seuntjies was en 'n nare droom gehad het....’ En ook in die herinnering van die moeder leef hul voort, nie as twee twistende skippers nie, ‘maar as twee klein seuntjies wat met hul wit gesiggies lê en slaap, terwyl sy liefderik by hul waak....’ Nog sterker voel ons die onverbiddelike mag van die verlede in Verbittering. Hier lei die ontrou van 'n vrou tot 'n lewenslange verbittering tussen twee vriende, tot 'n wrok wat selfs die lewensgeluk van hul kinders wil verwoes. Die versoening word eers op die sterfbed bewerk deur 'n {==303==} {>>pagina-aanduiding<<} visioen uit 'n gelukkige jeug: ‘Voor sy oë glans 'n groen tuin en daaruit kom sy jong, lieflike vrou soos 'n fee te voorskyn....’ Van den Heever bemymer by voorkeur die lotgevalle van persone aan wie die lewe harde slae toegedien het. Uit die skemerlig van verbygegane dae rys gestaltes op, omglans deur die sagte gloed van tere herinneringe. So laat hy binne die omvang van 'n kort-verhaal die tragiek van 'n menselewe voor ons oog verbytrek, en peil hy die verborge moontlikhede daarvan. Simson, die verhaal waaraan die bundel sy naam ontleen, is nie een van die beste nie. Hierdie reus word, soos sy Bybelse prototipe, die slagoffer van vrouelis. Maar ofskoon die tekening van sy geweldige wraak fors van lyn is, bly dié van die ontroue meisie en haar minnaar onoortuigend. Minder geslaag is ook Modern waarin 'n konserwatiewe boer onder invloed van 'n Johannesburgse musiekonderwyseres 'n moderniseringsproses deurmaak. Die skrywer slaag egter nie daarin om die radikale omkeer by Oom Sorsie lewenswaar voor te stel nie. Dat Van den Heever ook aanleg het in komiese rigting blyk uit die mooi geskiedenis van die twee verliefde wewenaars. (Die Huweliksaansoek.) Groei (1933). Groei is 'n breedopgesette roman, waarin ons met 'n groot aantal persone kennismaak. In die begin word die stadsmilieu uitvoerig geteken na aanleiding van die ervarings van die hoofpersoon, Gustav Cloete. Cloete is 'n talentvolle plaasseun, wat 'n universitêre opleiding geniet het, en hom in die stad vestig as joernalis. Ofskoon hy deur sy werk vasgesuig word in die rondtollende maalstroom van die stad, leef daar diep in sy hart die hunkering na die eenvoudige plaaslewe. Telkens as hy oorrompel word deur moeilikhede, of verontrus deur lewensraaisels, dan gaan sy herinneringe terug na Blesbokfontein, waar oom Bêrend, ten spyte van die ekonomiese druk, die ou tradisies van die Afrikaanse Boer handhaaf en deur 'n kinderlike Godsvertroue rotsvas staan teenoor al die twyfel wat Gustav se siel so pynig. Van den Heever wil ons in hierdie roman 'n beeld gee van die groeiende volkslewe, en die faktore waardeur hierdie groei beïnvloed word. Die ou Boerebeskawing of ‘velskoenkultuur’, soos Japie dit geringskattend noem, is vinnig aan verdwyne. Baie afstammelinge van die patriargale boer, wat soos 'n koning op sy uitgestrekte plaas gelewe het, het sedert die laaste kwarteeu stads- of dorpsbewoners geword, wat hul moes aanpas aan al die ingewikkelde verhoudinge van die ‘moderne’ maatskappy. Hierdie aanpassingsproses word veraanskoulik deur die optrede van 'n reeks figure, wat almal in verskillende stadia van modernisering verkeer. Die Vermaak's verteenwoordig die klas wat deur die Engelse spottenderwyse ‘would-be's’ genoem word. Deur navolging {==304==} {>>pagina-aanduiding<<} van uiterlikhede probeer hul hul indring in die stedelike kringe, maar val telkens deur die mat as gevolg van geringe geestelike ontwikkeling. Ons ken hierdie tipe reeds deur die satiriese tekening van Miesies Ja-mes Wénderbaail in Doppers en Filistyne. Dr. Beer is 'n ambisieuse amptenaar van armblanke-afkoms, wat in sy strewe na sosiale erkenning belemmer word deur 'n skinderlustige, onopgevoede vrou. Die tekening van hierdie familie is skerp satiries en ontaard soms in karikatuur. Dr. Beer verwag 'n belangrike aanstelling in die staatsdiens, en sy vrou maak groot voorbereidsels om die heuglike gebeurtenis met 'n luisterryke fees te vier. Net voor die gaste kom, ontvang sy die teleurstellende nuus dat haar droom van toekomstige grootheid verydel is, en in die donker woning sit sy met verkreukelde feesgewaad die tuiskoms van haar man en afwag. Wrang humoristies is die kinderlike trooswoord van haar seuntjie: ‘Moenie so huil nie, Mammie, Pappie sal 'n groot lang motorkar koop....’ Teen twaalfuur waggel die doorlugtige dr. Beer binne en voltooi die verwoesting van haar lewensideaal deur 'n dronkemans-bekentenis van intimiteit met 'n ander vrou. ‘Sy stamp hom weg dat hy teen die bank val. Langs die buffet staan die champagne-bottels genoeglik en glim.... Dit lyk opeens of mevr. Beer kranksinnig geword het. Sy bevlie die tafel en een na die ander glasbak kletter springend op die vloer neer dat die inhoud soppig wegspat. 'n Champagne-bottel bars naby haar man se kop. Die kleintjie spring senuweeagtig huilend op en vlug na sy dronk pa toe. Toe sak mevr. Beer neer of haar lewe in haar eie hande vergaan het.... 'n Stroompie champagne gaan digby haar gesig staan en 'n groot borrel rys langsaam daaruit op en breek....’ (p. 227). Die skildering van hierdie mislukte fees, met die simboliese slot van gebarste champagne-bottel, behoort tot die beste gedeeltes van die roman. Dr. Beer het hom deur sy geleerdheid opgehef uit 'n nederige stand, maar deur gebrek aan innerlike kultuur is sy lewe tot mislukking gedoem. Hy is 'n verdorde boom, waarvan ‘die droë takke erbarmlikdonker bokant die aarde’ uitsteek. (p. 103.) En so is daar wel meer Afrikaners met hoë akademiese titels, wat vir die volkslewe niks beteken nie, omdat hul verblind word deur die glorie van 'n hoë baantjie. By Japie Greyling en mev. Verstraaten is die moderniseringsproses voltooi. Hulle het àl die ou Afrikaanse tradisies oorboord gegooi. Volgens mev. Verstraaten is die mense tweehonderd jaar agter die tyd. ‘In hierdie ou stadjie is daar net plek vir skinderbekke en vir vrouens uit die Ou Testament’ (p. 26). As sy soiets as 'n lewensbeskouing. daarop nahou, dan is dit dié van die goedkoop Engelse bioskoopromans: ‘Laat een man jou onderhou en dan vermaak jy die ander....’ (p. 64). Sy probeer dit dan ook prakties toepas deur haar verhouding met Japie. Alte oortuigend is hierdie ‘driehoeksgeskiedenis’ nie uitgebeeld nie, want mev. {==305==} {>>pagina-aanduiding<<} Verstraaten moet blykbaar alleen dien as tipe van die degenererende Afrikaanse vrou, wat 'n bietjie versigtig en op 'n goeie afstand buitelandse modelle probeer na-aap. Tog is daar in die uitwerking van die besonderhede van haar ydele bestaan as ‘society woman’ baie verdienstelike trekkies. Haar gesprekke met die diensmeisie, Sarie, (p. 25 en 118) werp 'n felle lig op die huweliksopvattings van die hoogste en laagste stand. Vir die kinderlose mevrou is 'n huwelik die grootste dwaasheid, maar Sarie gee 'n goeie betrekking op om te trou met 'n werklose. Met die naïewe optimisme van die armblanke glo sy vas dat alles tog sal reg kom. ‘My pa het nog nooit werk gekry van ons van die plaas af ingetrek het nie en ons was toe tien kinders. My ma het wasgoed ingeneem en ons het darem bly lewe. En ek dink so: Jan en ek is net twee.’ Met ‘los werkies’ en die hulp van die kerk en liefdadigheidsvereniginge sal Jan en Sarie wel hul gesin op 'n manier aan die lewe hou. So gee Van den Heever ons 'n vlugtige blik op die ontaarding van die uitgeboerde boer wat dorp-toe getrek het. Ook Japie Greyling het hom heeltemal losgemaak van die tradisionele opvattings. Die godsdiens van die voorgeslag is ‘'n konvensionele dop van huigelary’. ‘Ek meen dat as die kluite oor jou geval het, dan is dit die end. Die res is maar sommer troos wat deur die eeue uitgedink is.’ (p. 95.) Japie vind troos by die mooi mevrou Verstraaten, en ken al die fyn draaitjies van die stadslewe, waarin hy hom met die grootste gemak beweeg. Hy is 'n tipiese verteenwoordiger van die ontwikkelde stads-Afrikaner, wat hom losgemaak het van die ou boere-kultuur, maar nog geen koers kan kry tussen al die nuwe nie: ‘Mens kan geen kop of stert uitmaak van hierdie ding wat julle lewe noem nie’ (p. 43). Ook by Gustav sien ons die botsing tussen die oue en nuwe opvattings, wat hy met die kritiese blik van die intellektueel beskou. ‘Is die Afrikaner heeltemal ontwortel, of is hy net besig met 'n moeisame aanpassing? Aanpassing aan wat? Aan die “moderne” lewe? Ontwikkel hy uit sy eie verlede of trek hy maar net 'n nuwe pak klere aan en meen dat hy 'n ander man geword het?’ (p. 90.) Gustav besef dat die volksboom alleen gesond kan groei as dit in eie aarde wortel. ‘Mens kan modern wees sonder om 'n aap van ander te wees’ (p. 123) help hy Japie tereg, as dié spottend verwys na die ou boere-kultuur. Juis omdat Gustav so 'n helder insig het in die verwordingsproses van die stedelike Afrikaners sou 'n mens verwag dat hy 'n verteenwoordiger moet word van die ontwikkelde stads-Afrikaner wat die beste tradisies van sy volk hooghou en handhaaf in 'n onsimpatieke omgewing. Dit sou die roman 'n groot aktuele waarde gegee het, want 'n aansienlike persentasie Afrikaners in die stede en op die groot plattelandse dorpe worstel met dieselfde ‘moeisame aanpassing’ wat Gustav soveel hoofbrekings gee. Die skrywer gebruik egter die neerdrukkende invloed van {==306==} {>>pagina-aanduiding<<} die stadslewe, waarin alles wat suiwer Afrikaans is verbaster of te grondegaan, as motief om Gustav se vlug na die plaas te verklaar, en sy regenerasie onder die invloed van sy vader moontlik te maak. Juis hierdeur gee hy ons 'n verwronge en karikatuuragtige beeld van die stadslewe. Al die nadruk val op die onopregtheid, skinderlustigheid en oppervlakkigheid van die stadsbewoners. Maar Gustav weet goed genoeg: ‘Mens kan modern wees sonder om 'n aap van ander te wees.’ Die ‘klomp nulle’ - soos hy self sy stadsvriende noem - het geen die minste invloed op sy geestelike ontwikkeling nie. Al wat ons kan sê is dat hul oppervlakkigheid jeugherinneringe van die eenvoudige plaaslewe opwek en die heimwee na 'n verlore geluk inniger maak. As ons die ontaarding van die stads-Afrikaner alleen in verband met die hooffiguur se ontwikkeling beskou, dan ly dit geen twyfel nie dat die eenheid van die roman daardeur geskaad word. Ek meen egter, dat dit die skrywer se bedoeling was om ons 'n beeld te gee van die groeiende volkslewe in al die lae van die samelewing. Wie die tekening van die stadsmilieu in hierdie breëre verband sien, sal daarin veel voortrefliks vind, maar dit tog betreur dat slegs die ‘nulle’ van die samelewing satiriese rapse kry. Teenoor stedelike verwording word outydse plaasdeeglikheid gestel in die pragfiguur van Oom Bêrend. Hy is 'n boer omdat hy die aarde liefhet. ‘Dit is of hy die natuur in al sy buie ken: wanneer hy jou vriendelik seën of dreig om jou af te skud.... As hy op die eensaamheid daarvan dag-vir-dag werk, dan voel hy nader aan sy God wat alles geskape het.’ ‘Hou vas aan die kluit’ sê hy aan sy seun wat in die depressietyd en met die groot droogte moedeloos word. ‘Dit is God se wil dat ons hier arbei’. In die felle stryd teen die genadelose natuur sal oom Bêrend nooit moedeloos word nie, want sy onwrikbare geloof in die bestiering van 'n alwyse God hou hom staande. As 'n onverwagte winterreën sy vermaerde skape bedreig, dan spoor dit hom aan tot 'n titaniese worsteling met die elemente. Pragtig word dié uiterste kragsinspanning van die grysaard beskrywe in hoofstuk XXVIII. Hoe diep moet hierdie waardige nasaat van die Voortrekkers nie gely het onder die papbroekerigheid van sy seun nie, wat na die vergeefse gesukkel om die skape skuiling te gee uitroep: ‘Môre trap ek stad-toe. Vir my part kan die hele boerdery na sy verstand loop’. Maar selfs as die enigste steun van sy ouderdom hom ontval wankel die moedige grysaard nie. ‘“Trap, papbroek, trap. Trap soos ou Martiens getrap het.... God sal my help soos my vader regop te staan tot die laaste toe! Trap!.... God, waarom?” worstel-praat die ou man, en dan sagter: “Maar U wil geskied, Here”, en hy buig sy bemodderde grys hoof. Daarbuite speel die wind nog met die koue, neerruisende reën en sterwe die diere, genadeloos aan hulle lot oorgegee.’ {==307==} {>>pagina-aanduiding<<} In hierdie hoofstuk het Van den Heever se epiese uitbeeldingsvermoë 'n hoogtepunt bereik. Wie sal ooit kan vergeet hierdie grysaard wat sy laaste kragte inspan om sy boerdery te red, en die ontaarde seun wat papbroekerig tou opgooi en stad-toe vlug? Dis nie alleen die stadsbewoners wat ontaard het nie, maar ook die boere. Pieter het in die voorspoedige tyd duur grond gekoop, en as die depressie en droogte kom, wurg die hoë rente hom dood. Dan is daar die patetiese figuur van die tamgewerkte oom Lewies, wat met sy span donkies aansukkel dorp-toe, om 'n verdienstetjie te soek. En as teëhanger die lui sukkelaar, oom Martiens, wat behaaglik sit en koffie slurp by die vuurtjie, terwyl sy boerdery al hoe meer agteruitgaan. As hierdie verteenwoordigers van die platteland weet maar van een uitweg: vlug na die stad.... waar duisende werklose reeds mekaar verdring! Hoor hoe sus oom Martiens sy gewete: ‘Al die ryk-ryk boere soek joppies op die dorpe. Wat spook jy nog met lammerskape? Ek laat die spul vaar! Ek maak my nie meer moeg nie.’ Oom Bêrend egter, soek dieper na die oorsake van die verval van die boerestand. Die boere het stoepsitters geword, papbroeke wat op aalmoese van die Regering teer. Alles word aan die kaffers oorgelaat, terwyl die baas rondjaag met 'n blink motor, waarvoor hy selfs die brandstof op krediet koop! Oom Bêrend vind 'n oplossing vir al die moeilike volksprobleme in die eenvoudige lewensbeskouing van die Voortrekkers. ‘Hulle krag was God. Julle het vandag nie meer ankerplek nie met al julle slimmigheid en al.... Werk, man, werk, dit help 'n mens. Mens moet soos 'n boom groei. God het sy doel met ons, hoe swaar daardie doel vir ons ook al is om te begryp.’ Dit is dan die boodskap van hierdie roman. Die volk moet terug na die ou paaie, na die onwankelbare geloof van die Voortrekkers, wat deur taaie werkywer hulself gehandhaaf het in die stryd met 'n onbarmhartige natuur. Die teleurgestelde en verbitterde Gustav herwin onder sy vader se besielende invloed al sy vertroue in die lewe. In die stad het hy as gevolg van die depressie sy ontslag gekry by die koerant en al die bitterheid van die armoede ervaar. Daar het verwydering tussen hom en sy vrou gekom en sy dogtertjie het in 'n armoedige losieshuis gesterwe. Onder al hierdie teëspoed word hy oorgevoelig en sy felle haat teen die lewe tril in die woeste veroordeling van die kerk en die predikante (Hfst. XXXI). Sy ganse lewensgebou het ineengestort. In die slothoofstukke sien ons egter hoe hy uit sy vertwyfeling herrys tot nuwe lewensvreugde, hoe hy ontdek dat die lewe 'n proses is waarin die gees sy vernedering moet deurleef om tot sy hoogte te styg. Die beskrywing van hierdie kentering is nie alte oortuigend nie, omdat dit hoofsaaklik uitloop op 'n beredeneerde weergawe van Gustav se mymeringe. Maar veral indrukwekkend is die {==308==} {>>pagina-aanduiding<<} slot waar ons die twee broers vroeg in die more sien ploeg: ‘Teen die deurskynende rooi van die komende dag gaan twee figure met 'n span osse, donker geteken teen die groeiende lig, en hulle arbei en droom van loon vir hulle arbeid, hulle siele gevul met 'n huiwerende eerbied vir die Onsigbare....’ Sterk leef daar in Van den Heever die hunkering na die eenvoudige plaaslewe, en weemoedig treur hy oor die ontaarding van die beste nasieeienskappe as gevolg van die ekonomiese druk. As Gustav saans deur die arm buurt na die losieshuis stap dan besef hy die tragedie van ons volksverarming: ‘Noudat hy saam met hulle gewerk het, besef hy iets van hulle lewensgang, van hulle denkwyse en geworstel. Die tweng-tweng van die Hawaiian-guitar tril al weer iewers op, die gelag van jong meisies en kêrels huppel oor die straat; verder weg laat 'n harmonium 'n psalm weemoedig-berustend opruis, soos 'n stem van heengegane trekkerslewe, van vreedsame Sondae op die plaas, van verre, vergane volksgodsdiens...’ Is dit nie die stem van Totius nie, wat treur by die ‘Goue Grawe’ van sy volk? Geen wonder dat Van den Heever ons so 'n simpatieke vertolking gegee het van die digter van Trekkerswee en Rachel nie, want ook sy hart treur oor die ou volksboom wat wegkwyn onder die verstikkende woekerkruid van die moderne maatskappy. En as ons let op al die verteenwoordigende tipes van ons volkskultuur, beide in die stad en op die platteland, wat die skrywer die revue laat passeer in hierdie roman, dan het ons voldoende rede om besorgd te wees. Tegnies beskou val daar 'n groot vooruitgang in Van den Heever se vertelkuns te konstateer. Waar hy ons vroeër vaak vermoei het met sielkundige uitpluisery van motiewe, bevat hierdie roman 'n rykdom van knap-opgesette toneeltjies, vol beweging en aksie met 'n minimum van beskrywende toeligting. Langdradige onthullings het grotendeels verdwyn, en in die plek daarvan het gekom suggestiewe aanduidings wat ons meteens alles laat vermoed. Met Groei kom ons romankuns weer op die regte pad. Wie dit aandagtig lees, sal veel vind waaroor hy nog lank kan napeins. Vuurvlieg en Sterre (1934). In hierdie kortverhale, wat tot Van den Heever se beste werk behoort, sien ons die hoofkarakters in een of ander krisis gewikkel, waardeur hul volle menslikheid in 'n paar spannende lewensmomente aan ons geopenbaar word. In die titelverhaal word Antoon, 'n eenvoudige groenteverkoper, deur sy liefde vir 'n vriendelike strandbesoeker opgehef uit die verbeestelikte armoedemilieu. Daardeur kan sy beste eienskappe tot ontplooiing kom. Die Genadelose: 'n Onontwikkelde stiefmoeder word deur jaloesie tot raserny gedrywe. Voordat sy egter haar gemene plan kan uitvoer word {==309==} {>>pagina-aanduiding<<} sy ‘wat altyd so onvriendelik, so genadeloos’ was deur die genadelose dood neergevel. Leuens: Na lange jare ontmoet twee skoolvriendinne mekaar in Johannesburg. Olga woon in die deftigste deel van die stad, maar Naomi in die agterbuurte. Naomi probeer om die ou vriendskap te herstel, maar loop haar te pletter teen die onverbiddelike standsverskil. Skrynend is die vernederinge wat hierdie vroutjie moet ondergaan op haar vergeefse besoek as gevolg van die leuens waarmee sy haar armoede wil bedek. Die Skeiding: Standsverskil skei ook dr. Du Rand van sy verloofde, wat tot 'n deftige Johannesburgse gesin behoort. Sewe jaar lank het Herman alle jeugherinneringe versmoor en alle kontak met sy armoedige bloedverwante vermy. Toevallig herinner 'n pasiënt hom aan die opofferende liefde van sy moeder, wat haar afgesloof het om hom sy geleerdheid te gee. As hy die stadsnooientjie na die armoedige plaaswoning van sy ouers neem word sy te lig bevind vir die toets. Ook Herman besef dat 'n huwelik onmoontlik is en laat haar met die volgende trein alleen vertrek. ‘In sy volk word die tragiek nou voltrek. Vroeër was daar geen stand nie. Dié akeligheid was nog net in Europa. Maar die langsame skiftingsproses het in ons land begin. Ryk en arm! Families en families!.... Stande word gevorm, en hy as dokter sal aan die hoëre stand behoort en sy familie sal vir hom 'n diensmeid verskaf! Kan jy dieper tragiek besef?’ Op die plaas herleef Herman se jeugdrome, begin hy weer die stem van die veld te verstaan, en besluit hy om sy plig teenoor sy eie mense te doen. Marie hoort tuis in die deftige stad ‘waar die skelle elektriese lig is en sosiale haatlikheid’. Innige deernis is die grondtoon van Onwelkom en Najaar. 'n Onaantreklike, vervelige oujonknooi doen patetiese pogings om 'n vrolike naweek deur te bring; 'n eens gevierde skrywer, wat sy roem oorleef het, ondergaan die smart van 'n afgewese manuskrip. Die aanklag van 'n beskuldigende gewete vorm die motief van Die Geheim en Stem van die Gewete. In die stilte van die nag ‘staan hulle op - die gedagtes, die dungesluierde herinneringe, en soos sluipmoordenaars wat met langsame, doelbewuste tred nader, kom hulle met skerppuntige messe’.... ‘Is dit die gewete wat moordenaars oor die aarde ronddryf, totdat hulle met vernietigde senuweegestel stotterend kom beken? Is dit die donker mag wat van die sterkste man 'n lafaard maak? Ja, dit tik, tik aan die deur van jou gedagtes en as jy oopmaak, is dit altyd weer dieselfde boodskapper wat nooit moeg word om dieselfde oor en oor te sê nie....’ Hierdie twee verhale is 'n treffende illustrasie van die dwingende mag van die gewete en van die folterende kwelling van gewetenspyn. Een van die beste verhale is Die Dam. Oom Gabriël is 'n inhalige boer wat deur sy sug na rykdom alle fynere emosies onderdruk. Net voor die {==310==} {>>pagina-aanduiding<<} groot landsreën slaag hy daarin om met inspanning van alle kragte 'n reusagtige dam op sy plaas te voltooi. Maar hy het rusie gekry met sy seun, Kootjie, wat verlief is op 'n arm buurman se dogter. Kootjie verlaat die ouerlike woning en oom Gabriël se ingebore stugheid en trots verhinder hom om aan 'n versoening te dink, al merk hy ook dat sy vrou van droefheid wegkwyn. Hy wil die rykste man in die distrik wees en al sy menslikheid lê begrawe onder die trotse damwal. Maar die groot reëns breek sy damwal èn sy trots, want as vader en seun byna wèggevoer word deur die vloedwaters kom daar 'n groot vertedering in sy onbuigbare hart.... ‘Help, Kootjie, help! As die dam bly staan, kan jy en Sampie maar trou! Toe Kootjie!’ Hy het sy dam verloor, maar sy kind weer gevind. Hierdie verharde boer herinner ons aan Björnson se Vader. Ligter van aanslag en deurtintel van 'n gemoedelike humor is Bekommernis en Berou, waarin die lewenshouding van die uitgeboerde boer so goed geteken word. In al hierdie verhale word ons verras deur die skrywer se tegniese meesterskap, wat hom in staat stel om binne die omvang van 'n kortverhaal figure uit te beeld, wat bly lewe in ons herinnering. Somer (1935). Die Afrikaanse boer in sy verhouding tot die allesbeheersende natuurkragte is 'n motief wat ons telkens aantref in Van den Heever se verhale. Met liefdevolle aandag teken hy die boer wat die aarde liefhet, wat soos 'n boom daarin groei en daaraan vaskleef met al sy wortels en vesels. Van smôrens vroeg tot saans laat moet hy swoeg, want ofskoon die aarde 'n onuitputlike groeikrag besit, bestaan daar tog altoos die donkere dreiging van die natuurkragte wat in 'n paar oomblikke die werk van 'n hele jaar kan vernietig. Die tragiek van hierdie gedurige stryd teen die genadelose natuur het Van den Heever sterk uitgebeeld in die figuur van oom Frans, wat elke hoekie van die ou familieplaas so innig liefhet, maar sy hoop om dit te behou, sien vergaan deur 'n verwoestende haelstorm wat sy ryp koring verpletter. Naas die moedelose oom Frans, wat kreun onder 'n drukkende skuldelas, staan oom Tom, die onvermoeide werker, wat al die luime van die natuur so goed ken. ‘Vandag wil die ou aarde jou skoon afskud, dit lyk of hy jou nie kan verdra nie, en jou met jou familie en al wil verdelg, en môre is alles weer mooi, en net wat jy plant, groei.... Die ou aarde is vir my skoon soos 'n mens: hy het sy nukke en buie - en mens kan daar niks aan doen nie.’ 'n Mens moet oom Tom aan koringsny sien, gaar gebak deur die vlammende son se skroeiende strale, om 'n besef te kry van sy heftige arbeidsdrang en taai uithouvermoë. Hier geen luie stoepsitter wat uit die koelte {==311==} {>>pagina-aanduiding<<} sy bevele lawaaierig uitskree nie, maar 'n arbeider wat op die voorste punt saam sny: ‘Oom Tom lyk of hy krom gebore is. Taai soos sening is die droë lyf, en die lang bobbejaan-arms skiet so afgemete-juis uit, werk so stelselmatig dat dit die ander snyers moedeloos maak; net die vat van die gebreide man, sy rustig-sekere gang, maak onervare snyers, wat onegalig bontval, onbewus boosaardig oor hul eie onhandigheid.’ Sy egalige werkywer dwing ook die bewondering van die volk af: ‘Soe, maar die droë baas met sy orang-oetang-arms stap somar baie saf oor 'n akker - jy sien net die groot hand en die sekel, die groot hand en die sekel - dis al wat jy sien.’ Met 'n fel realisme het Van den Heever hierdie stoere werkers geteken. Dis of hul in 'n dolle wedstryd met die natuurkragte gewikkel is, want die ryp are begin uit te slaan en die dreigende onweerswolke pak saam. Hulle moet maar voortsny, al styg die hitte-duiseling na hul hoof. Maar na hierdie geweldige kragsinspanning kom die ontstellende berig dat die koringprys vinnig aan daal is. Geen wonder dat hulle in bitterheid uitroep: ‘Is ons dan volk wat ons moet doodwerk vir die saftehandjies wat net heeldag tjeks tyken?’ So sien ons die boer oorgelewer aan die ‘grillige noodlotsmag van die aarde’ en die onsekere skommelinge van die wêreldmark. En tog leef daar in sy hart die onuitroeibare oortuiging dat ‘die aarde nie diegene sal afskop wat hom vertrou nie.’ Daarom kan die blymoedige oom Tom sy broer opbeur met hierdie woorde: ‘Ons moet die grond behou. Hierdie jaar spook ons soos molle in die aarde. Ons gooi die skuld af.’ Hierdie swoegers, wat so digby die aarde leef, ontleen hul wysgerige opvattings aan hul daaglikse bedryf. ‘Ons is maar soos die koring wat groei en afgesny word.’ Elke jaar aanskou hulle die kringloop in die natuur en ‘in hul oë dra hulle die weemoed van lewe wat kom en sterf, want hulle weet dat dit ook met hulle so gaan en dat ook hulle netnou na die donker aarde toe sal buig en hul kinders weer sal saai en oes....’ Van den Heever se boerfigure staan nie so direk springlewendig voor ons as dié van Van Bruggen nie. Dit moet ons egter toeskryf aan die geaardheid van die novelle, waarin die ewig-wisselende natuur met die wenteling van die jaargetye, en veral die volgroeide somerrypheid, die hoofrol speel. Te midde van die grootse natuurgebeure is die mensies van ondergeskikte belang - ‘nietig en klein in die groot Gang, wat net vir 'n oomblik in hulle lewe....’ Ons sien hul sekels roer in die uitgestrekte koringvelde, luister na hul vrolikheid nadat die oes ingesamel is. Maar teen die geweldige natuuragtergrond verdwerg hulle tot nietige wesentjies wat verlore raak in die skroeiende somerbrand. Van den Heever het onlangs in 'n studie oor Steyn Streuvels, van wie hy veel geleer het, gevra ‘wanneer die Afrikaanse plaaslewe ook só {==312==} {>>pagina-aanduiding<<} geteken sal word, nie alleen in fyn trekke nie, maar in al die grootsheid van natuurperspektief.’ (Die Afrikaanse Gedagte.) In Somer gee hy ons self die antwoord op hierdie vraag. Sy ontleding van Streuvels se kuns in die aangehaalde artikel werp so 'n verrassende lig op sy eie strewe dat ons dit kan gebruik om die kernbetekenis van Somer te verduidelik. In verband met Oogst van Streuvels sê hy: ‘Die natuur is die geweldige, die genadelose heerser. Soos 'n tiran dreig dit oor die klein, arbeidende mens, wat weerloos is soos 'n kind teenoor 'n wrede moeder, wat hom tog ook weer liefdevol kan beskerm en seën. Die hele gees van die landskap, van die versengende somerson, van die rypende koring en swoegende snyers lewe in die styl terug.’ Sonder dat daar sprake kan wees van direkte navolging is dit ook van toepassing op Somer. Van den Heever ken die kommer-bestaan van ons boere, maar net soos Streuvels is hy ook die digterlike natuurgenieter, die verheerliker van die son, ‘volheerlijke, altijd nieuwe bronne van levenskracht’. Soos Gezelle het hy met verrukking geluister na die fynste lispeling deur die koringare: Hel en duister, lijze en luide, mingelmangelt, in de lucht, 't ruischen van de groengekruide, grauwgetopte koorenvrucht. Die tekening van die atmosfeer in hierdie novelle is van 'n ontroerende suiwerheid. En dit kan nie bereik word alleen deur skerp waarnemingsvermoë of stilistiese bedrewenheid nie. Nog minder deur 'n blote konstatering van die essensiële verband tussen die onveranderlike aarde en die arbeidende mens. Hierdie geheimsinnige verband moet so hartstogtelik ondergaan word dat karakterontplooiing en agtergrond onafskeidelik saamsmelt, sodat ons nie aan die verhaal kan dink sonder die omlysting nie. Wie hierdie koringboere uit hul omgewing wil losruk, sou hul hele menslikheid vernietig. Hulle sit vas in die aarde. ‘Deur hul liggame, hul siele werk die natuur, werk dit in jaargetye, voel hul die sagte ontwaking as die lente kom, die rypwording van die lewe op die lande, die huiwering van najaar deur die lug, en die skerp koms van die winter wat alles verstol en die lewe laat slaap in rustige onwetendheid....’ Van den Heever se boere is eenvoudiges van hart, met 'n ongekompliseerde psige. Diep is hulle bewus van hul nietigheid teenoor die ewige natuurkragte en hul onmag om die ekonomiese masjien te beheer. Maar net een goeie oes en nuwe hoop jubel weer in die harte. Tussen hierdie koringboere arbei die ‘rondloper’, Wynand, wat van plaas tot plaas ronddool omdat hy deur 'n genadelose maatskappy as melaats beskou word weens 'n misdaad in sy jeug begaan. Innig-teer word die ontwaking van die liefde in ‘Oom Tom se blou-oog-dogter’ {==313==} {>>pagina-aanduiding<<} vir hierdie swerweling geteken. Maar ‘uit die volgroeide somerlewe.... kom die boodskap na haar gewonde hart: afskeid. Dit is die ware betekenis van die lewe: dat in alles wat vir jou skoonheid was, waar jou hart aan hang of jy dit nooit kan verloor nie, die afskeid reeds te lees is.’ Ook die skugtere boerseun, Hannes, wat sy liefde vir Linda nie kan verklaar nie, moet die bitterheid van hierdie afskeid belewe. Alles gaan verby. ‘Wat is die tyd?’ vra oom Tom. ‘Ja, ons is maar soos die koring, wat groei en afgesny word. Hy voel die weldadige straling van die middagson, en hy dink aan die winter....’ So kry ons die alles Vergängliche in die lewe van die mense en in die wenteling van die jaargetye. Besonder mooi het Van den Heever die spotlus en spoggerige werkywer van die swart skepsels uitgebeeld. April en Stefaans haal hul beste uit op die koringland om indruk te maak op Katryn, en spog dan saans om die vuurtjie: ‘Praat van werk! Basie, jy moes vanmiddag gesien het toe ons van die land kom, die ding se bene swik-swik soos hoepels. Maar waar stap die Bolandse jong nie toe nie - sy kniekoppe kielie somar hier so onder sy bors.’ Sulke toneeltjies wek herinneringe aan Velbaadjie en sy maats in Malherbe se roman Die Meulenaar, maar bewys tog ook dat Van den Heever die kleurlingtaal met sy gekruide geestigheid fyn beluister het. Hierdie verhaallose verhaal, as ek dit so mag noem, sal wel nie 'n suksesboek word nie. Elke aandagtige leser egter, wat nie slegs na oppervlakkige verstrooiing soek nie, sal meteens besef dat dit die skoonste uitbeelding van die boerelewe is wat die Afrikaanse letterkunde nog opgelewer het. Van den Heever kon die geheimsinnige verwantskap tussen mens en aarde uitbeeld omdat daar by hom was, soos hy dit self formuleer, ‘die onbewuste, deurgrondende aanvoeling van die oerkrag van die natuur,’ wat Jan van Nylen so uitdruk: ‘Ik voel der aarde forsche hartklop beven Tot in mijn bloed, ik voel den zachten druk Van 't vruchtbaar sap dat, in een nieuwer leven Alles wat leeft doet rillen van geluk!’ Daarom is hierdie boek so vol van ‘somer en son en saffier’. Daarom leef daar in die ritme van sy periodes die breed wegdeinende golwing van ritselende koringhalms en gloei daar in sy styl die warmte van die koninklike Somerson. Kromburg (1937). In ons romanliteratuur is daar nog steeds 'n gebrek gewees aan groot vrouekarakters. Natuurlik het ons van Johannes van Wyk af 'n lang reeks engelagtige nooientjies gehad wat gesorg het vir afwisseling as die {==314==} {>>pagina-aanduiding<<} manlike bedrywighede nou darem te ernstig geword het. Bekend is ook die vrouetipe uit die pionierstydperk, wat as willige helpster van haar man so 'n groot aandeel gehad het in ons nasiebou. Maar wie kan selfs die name onthou van hierdie oppervlakkig getekende vroue? Enigsins beter word dit omstreeks 1925, wanneer drie skryfsters in Onder Bevoorregte Mense, Oogklappe en Eensaamheid met fyn-vroulike intuïsie die gewaarwordings van hul hoofkarakters deurgrond. Maar hoe verbleek ook hierdie figure as ons hul stel naas Jan Celliers se Martjie en Totius se Rachel! In die periode wat hierop volg, word veel meer aandag bestee aan die ontleding van die vroulike psige, en in baie kortverhale, veral van Van den Heever, Jonker en P. de V. Pienaar, tree vrouekarakters op wat uitstyg bo die konvensionele. D.F. Malherbe se Bybelse vroue, Sophie Roux se Tilde, Karin se Eugenie en Hettie Smit se Marie - dis almal bewyse dat ons skrywers besig is om af te steek na die diepte, dat hulle lewende karakters kan skep. Die belangstelling het hom verplaas van die uiterlike persoonlikheid met sy toevallige of buitengewone lewensomstandighede na die innerlike met sy individuele sielstruktuur en konflikte. In Kromburg word uitgebeeld die tragiese ondergang van 'n fyngevoelige vrou, wat, nadat sy tot malwordens toe gemartel is deur die kleingeestigheid van haar omgewing en deur die konflikte in haar eie siel, 'n wanhopige poging doen om haar lewensgeluk te gryp. Wenda is 'n ontwikkelde plaasmeisie, wat deur haar verlowing met Braam, 'n mediese student, allerhande illusies koester omtrent 'n verblyf in Europa. In haar siel is daar 'n hunkering na die onbekende: ‘Sy verag die tamme, doodse lewe wat 'n mens sekuur soos 'n stuk kledingstuk kan afmeet.’ In haar jeugdige fantasieë is sy 'n Voortrekkersvrou wat op 'n vurige wit perd langs Braam oor die Drakensberge ry. Wreed word al haar illusies egter verydel deur Braam se plotselinge dood in 'n ongeluk. Sodra sy oor die ergste skok heen is, trou sy met Flip, bestuurder van 'n boerewinkel in die dorpie Kromburg. Dit was 'n impulsiewe daad, want in haar hart leef voort die herinnering aan die verlore geliefde, en by elke krisis in haar lewe is dit sy nagedagtenis wat haar rigting gee. Flip dien haar met 'n hondagtige trou, en ofskoon sy liefkosings haar van die begin af met walging vervul, gryp sy hierdie kans waarskynlik aan om haar vae maar wilde begeerte na 'n volle, heftige lewe te verwesenlik. In die ontreddering wat volg op die verwoesting van haar lewensgeluk is Flip se trouhartige goedheid vir haar 'n steun. Onder die kleingeestige inwoners van Kromburg kan die fynbesnaarde Wenda nie aard nie. Die toonaangewende dames voer 'n plantebestaan, verlustig hul in venynige skinderpraatjies en ken geen hoër genot as kaartspeel nie. Met haar kritiese skoonmoeder kan sy glad nie stryk nie, terwyl haar huwelikslewe al spoedig in ‘'n ritmelose gesukkel’ ontaard. {==315==} {>>pagina-aanduiding<<} Sy en Flip leef langs mekaar in aparte wêrelde. Hy is te goedaardig om rusie te maak, maar as tipiese Kromburger besit hy eenvoudig nie die sintuig om die romantiese verlangens van haar siel te peil nie. ‘Hy is tevrede met 'n bord lekker kos, met baie slaap, met 'n paar klandisie meer, met 'n paar flou grappe en vlot praatjies waarin hy dieselfde dinge oor en oor sê.’ Die gewone middelslag vrou sou haar onder dergelike omstandighede langsamerhand aangepas het by haar omgewing en mettertyd opgegaan het in die massale onbenulligheid. Die normaal ontwikkelde vrou sou deur weldeurdagte planne die beskawingspeil van haar omgewing verhoog het, 'n paar geesverwante met nuwe ideale besiel en uiteindelik selfs die vasgeroeste Kromburgers uit hul rustige rus laat opskrik het. Maar Wenda was nóg middelslag nóg normaal. Sy het die onewewigtige temperament van die kunstenaar gehad en daarby 'n totale gemis aan praktiese sin. Sy doen wel 'n floue poging om deel te neem aan die maatskaplike bedrywighede van die dorpie, maar vind dit alles so sielsleeg dat sy haar spoedig terugtrek. Haar huislike pligte interesseer haar slegs matig en die ‘kalfagtige glans’ in Flip se oë vervul haar met walging. Sy kan haas kranksinnig word van verveling, pak allerlei dinge aan, maar laat dit weer net so lê en sit meestal en droom oor die magtige, hewige lewe waarvan sy uit geïllustreerde tydskrifte 'n vae beeld opgebou het. ‘Die lewe wat haar sou voer na bloue hawens.... na operas en teaters, waar die fyn geklede vroue glimlag agter kostelike waaiers, die mans hoflik en ridderlik is en die lewe weldadig soos 'n slaaf aan jou voete buig....’ Teen die troostelose eentonigheid van so 'n bestaan is Wenda se senugestel nie bestand nie. Angsvisioene en hallusinasies verskrik haar en grynsende spookgestaltes jaag haar snags na die witgerypte tuin. (Vergelyk hoofstuk III, waar hierdie siektetoestand so meesterlik geteken word dat 'n angstige beklemming die leser aangryp.) Na 'n vakansie te Durban, waar Wenda se romantiese verlangens enigsins bevredig word, oormeester 'n nuwe lewensgevoel haar en ontdek sy dat ‘die lewe meer as 'n handjies-oor-mekaar-wag op die dood is....’ Sy wil haar nou verset teen Kromburg se wurgatmosfeer en ‘sal heers waar sy vroeër gebuig het en trots wees waar sy eselagtig verdra het.’ Met behulp van Basson voer sy 'n toneelstuk op en saam met die simpatieke ds. Verwey probeer sy om by die Kromburgers leeslus op te wek. Sy neem deel aan die plesierlewe, soebat haar pa en Flip om vir haar 'n motor te koop en tart die skinderbekke deur met Basson na Bloemfontein te ry. Maar onder al hierdie oppervlakkige genotsug treur haar hart oor verlore liefde: ‘Oor jare heen gryp die hart, onverwags, weerligsnel na wat verlore is in die toegroeiende weg agter, en op die pad wat betree word, lê soos slange wat elke oomblik hul kop kan ophef, herinneringe {==316==} {>>pagina-aanduiding<<} wat in die vorm van nuwe dinge hul ou gestaltes en wese vertoon.’ Flip se papbroekerigheid, sy onvermoë om haar hunkering na 'n groot lewensgeluk te verstaan, wek selfmoordgedagtes, en die martelende verveling laat haar 'n eensame rit in die nag onderneem na die plek waar Braam verongeluk het. Doelloos word sy rondgeslinger tussen die banaliteite van die werklikheid en die onbereikbare skoonheid wat haar digterlike fantasie uit die gewoonste alledaagse dinge skep: 'n sonstraal, die gelui van die kerkklok, wenende vioolmusiek.... (p. 157). Haar huweliksellende laat haar oor egskeiding peins, maar sy deins terug as sy aan die skinderpraatjies dink. Tevergeefs probeer sy weer allerlei middeltjies om verlos te raak van die verveling: lesse in kunsleerwerk, taalstudie, lees van romans. Sy mis die deursettingsvermoë en verspil al haar lewenskrag in melankoliese dromerye. Uiteindelik kla sy haar nood by ds. Verwey, wat haar daarop wys dat oorgawe en geloof nodig is om God te vind en daarby nog afstand van sinnelike begeertes. Sy doen nou 'n besliste poging om haar hele lewe te herorganiseer en word 'n getroue kerkganger. ‘God moet haar help! Haar hart is so opstandig, so hoogmoedig, so onbuigbaar. God moet haar fyn maal in die gestadige lewensgang en tot 'n nuwe, beter mens omskep. Op haar lippe en in haar oë is die deemoedige oorgawe aan die geloof, maar op dieselfde oomblik is haar liggaam, haar drifte daar wat soos die ruwe berge gryp na die wit wolke bo hulle. God, staan my by.’ Maar, ofskoon Wenda in haar sielenood troos soek in die godsdiens, het sy tog lankal die geloof van haar voorvaders losgelaat. Haar oupa was 'n Voortrekker, haar vader het deelgeneem aan die Tweede Vryheidsoorlog, en sy is gebore in die konsentrasiekamp. Haar ouers het haar volgens die ou tradisies opgevoed, maar omdat sy geleef het in die oorgang van die ou idee na die nuwe tyd het 'n verlammende dualisme hom in haar karakter geopenbaar. ‘Sy weet self nie wat sterker is nie: haar drang na die ongebondene, die vrye uitlewing van haar hele wese of haar slaafse verankerdheid aan begrippe, beelde, gevoelens wat op die eerste skof van haar lewensweg ontwaak het.’ (p. 256.) Haar siel word 'n strydperk waarin die tradisionele opvattings slaags raak met die moderne uitleefdrang. Sy het die bodem waarop sy gestaan het losgelaat en op haar soektog na 'n nuwe steunpunt in die donker verdwaal. Hierdie verskynsel van ons tyd het Van den Heever beeldend en filosofies probeer deurgrond in die lydensgeskiedenis van Wenda. Wanneer Flip in sy eksamen sak, dan lyk dit of Wenda se laaste kans om iets van die groot lewe te sien, verdwyn het. Maar net na hierdie teleurstelling laat 'n paar vleiende opmerkings van 'n rondreisende toneelspeler haar meteens besluit dat sy 'n kunstenares is wat haar lewensbestemming ver anderkant Kromburg se rantjies sal vind. Sy oorrompel haar man en vader, kry hul finansiële steun en vertrek met Etienne {==317==} {>>pagina-aanduiding<<} Lombard. In die begin het sy weinig sukses op die planke, maar uiteindelik besorg haar kunstenaarsaanleg haar 'n triomf. Sy geniet volop van die vrye lewe en by 'n nagtelike fuif hef sy 'n glas sjampanje hoog in die lug met die uitroep: ‘Kromburg! Mog jy verdelg word!’ Maar selfs op die woelige strate van Johannesburg kan sy haar nie ontworstel aan haar verlede nie, duik herinneringe aan Rietkuil se waterkuile en Kromburg se eenvoudige genoeëns op. Sy begin te besef dat die ware geluk moet kom, nie uit die omstandighede nie, maar uit die siel self. 'n Rusie met Lombard, waarby hy haar 'n klap toedien, laat haar dadelik met 'n goederetrein huis-toe vlug. Gedurende die lang nagrit peins sy oor al haar ervarings, trek haar ganse lewe soos 'n rolprent voor haar geestesoog verby. Sy weet nou dat ook buitekant Kromburg dieselfde kleingeestigheid en bedrog aangetref word, dat ook in die groot wêreld die skyn maar alte dikwels bedrieg. Die treinwiele sing vir haar vernederde siel 'n vreugdelied, want hulle voer haar na die troue Flip. Die geluk wat sy so ver gaan soek het, was tog maar altoos tuis. ‘Sy voel diep skuldbewus oor alles wat sy teen hom gedaan het, en tog is daar onder in haar siel die wete dat die lewe se magte groter as bejammering en verstandelike oorweging is, dat dit wreed sy weg gaan soos 'n roofdier wat verslind om te kan lewe.’ Eenvoudiger uitgedruk beteken dit dat Wenda al die jare slegs 'n speelbal was van 'n grillige noodlot, dat die ‘donker magte’ haar genadeloos aangedrywe het totdat sy soos Couperus se Eline Vere alleen verlos kan word van al haar sielsbenoudheid in ‘de koele meren des doods’. Daar is nog meer aanduidings in die roman dat Wenda alle verantwoordelikheid wil afskuif op die onmag van die mens om iets aan sy lewensloop te verander. As sy tot die besluit gekom het om haar man te verlaat, ‘voel sy dat haar lewe geen ander koers kan neem as hierdie een nie. Sy wonder soms of daar nie 'n dieper draad in 'n mens se bestaan loop waardeur een gebeurtenis verband hou met 'n ander nie, tot die doel van jou lewe, binne die raamwerk van die maatskappy waarin jy geplaas is, geleidelik ontplooi en jy uiteindelik leer verstaan dat dinge se verloop in hul diepste grond gehoorsaam was aan oorsaak en gevolg, in 'n simboliese, goddelike ewewig gehou.’ As Wenda haarself in die trein afvra wat sy vir die lewe beteken het, dan heet dit: ‘Wie beteken ten slotte iets in dié verwarrende wenteling wat soos 'n blinde mag opbou en verbreek?’ Om die aaneenskakeling van oorsake en gevolge, waaraan Wenda haar nie kan onttrek nie nog duideliker te maak, moet ons let op die geskiedenis van haar ouers. Haar vader het, net soos sy, byna van sy verstand af geraak toe die meisie op wie hy verlief was selfmoord gepleeg het ‘deur haar ouers se dwarskoppigheid’. Haar moeder was 'n oorgevoelige, neurotiese vrou, wat gedurig wrywing veroorsaak het, verbitter is deur oorlogslyding en ‘'n geslote lewe weggeslyt het, waarvan geen mens ooit die kern begryp het nie.’ As Wenda {==318==} {>>pagina-aanduiding<<} na haar moeder se sterfbed ry, dan besluit sy plegtig om nie soos haar ma te versuf op die ou dorpie nie; sy wil ‘die skone van die lewe omhels.... voordat sy ook sal sit soos haar moeder, ongeneeslik geslaan deur die noodlot....’ (Ek kursiveer). Vir Wenda is die lewe ‘verbygaande, vlugtig, wreed’ en ‘die berusting in 'n lewe ná die dood kan sy nie voel nie.’ Haar hele loopbaan word nou niks anders as 'n kleurvolle illustrasie van die onverbiddelike almag van die noodlot, want al haar verset teen die ingekankerde kleingeestigheid van haar omgewing, al haar pogings om haar te verhef bo die gryse alledaagsheid ly skipbreuk, terwyl haar kunstenaarsideale verydel word deur kleinlike afguns en geldrusie. Sy het skitterende talente gehad, maar sy kon so weinig presteer omdat sy die produk was van omstandighede wat sy nie kon verander nie. Die leegheid van haar bestaan, die onbeduidende van haar omgewing, die gedurige slingering tussen oorgelewerde begrippe, vasgeanker in haar wese, aan die een kant en die drang na ongebonde selfontplooiing aan die ander kant het haar met lamheid geslaan. So word haar lewe 'n lydensweg van onbegrepe smart met 'n tragiese ondergang as onafwendbare slot. Daar sal baie lesers wees wat die skerpsinnige en indringende psigologiese analise van hierdie vrouekarakter sal waardeer sonder om die noodlotsteorie te aanvaar. Die determinisme met sy wanhopige pessimisme, wat die mens as 'n magtelose wese sien, ‘ewig alleen en onbeskermd teen die pyle van die lewe’ (p. 212), is in stryd met die opvattings van ons volk. Onder die lees moes ek dink aan dr. Tazelaar se uitspraak: ‘De psychologische roman der moderne literatuur analyseert den mensch zonder God, den mensch, wiens ziel niet werd bestraald door het licht der genade en die nu omdoolt in de duisternis der zonde.’ Wie die noodlot as oorsaak van Wenda se ondergang verwerp, sal trouens in die roman self voldoende redes vir dié ondergang vind. Ek noem slegs 'n enkele: ‘Byna roekeloos en sonder om vir haar volle verantwoording te gee van wat sy doen, het sy soos 'n slaapwandelaar hierdie huwelikslewe ingeskuiwe, en nou.... is dit of sy 'n groot sonde begaan het deur teen die ewige, onverbiddelike wette van die liefde en huwelik te sondig, want is daar in die laaste tyd nie veel ontrouheid in haar gedagtes en verlange na 'n onstuimige, romantiese lewe nie?’ (p. 102.) Hierdie roman werp 'n verrassende lig op verskillende faktore van die moderne lewe wat besig is om die hele geestelike struktuur van ons volk te wysig. Dit laat ons sien hoe 'n jong vrou deur haar sug na vryheid, deur haar begeerte om los te wees van alle konvensionele bande gryp na 'n nuwe lewenstadium waarvan sy weinig kennis dra. Soos die moderne, denkende mens wil sy haar eie lewensweg kies, maar van alle kante word sy bestorm deur benouende probleme, en op haar soektog na geluk en sielevrede raak sy so hopeloos verdwaal dat sy berouvol terugkeer na die versmade eggenoot. {==319==} {>>pagina-aanduiding<<} Die agtergrond van hierdie tragedie is die plattelandse dorpie Kromburg, waar die lug verpes is deur kwaadwillige skinderpraatjies. Almal wat nie netjies in die roetine-paadjie loop nie, almal wat enige blyke van inisiatief aan die dag lê, word so beskinder dat die lewe ondraaglik word. By die sogenaamde élite vind die skinderlus 'n uitweg in bedekte sinspelings en ondergrondse teenkanting, by die minder gegoedes in growwe beledigings. Die geselserige oomWynie, wat oorborrel van vriendelikheid, maar uit elke brokstukkie inligting die grofste onwaarhede fantaseer, is die tipiese Kromburger, volleerd in al die kunsies van huigelary. Van den Heever ken die bekrompe geestesgesteldheid van hierdie mense en probeer die wese daarvan analiseer. Hulle het niks om oor te gesels nie omdat hulle nooit lees nie: ‘Dat ons mense so 'n belang stel in minderwaardige politieke skinderpraatjies en luister na allerhande kaf is juis daaraan toe te skrywe dat hulle geestelik verwaarloos is, dat hulle hunker na aktiwiteit vir die gees.’ Ook die ekonomiese agteruitgang van ons volk word nagespeur. Die Boerewinkel kwyn deur gebrekkige ondersteuning, maar Moronski, die vreemde indringer, word 'n magtige kapitalis, wat die een plaas na die ander inpalm en uiteindelik die hele streek finansieel beheer. Sy leuse is: ‘Werk en wag, en terwyl die mense mekaar op politieke vergaderinge met stoelpote slaan, moet jy maar net geduldig agter die toonbank bly wag tot hulle, al redenerende, van die vergadering kom om van jou te koop wat hulle nodig het, en desnoods op te skrywe en dié goedjies wat opgeskrywe is, in hul groot motor te pak en na die huis te gaan, vanwaar hul al gister weg is om die vergadering by te woon.’ So gee die skrywer ons, naas die hoofmotief, heelwat om ernstig oor na te dink. Onder andere skets hy die smakelose toneelmaniere wat so menige plattelandse opvoering ontsier. Ek glo nie dat daar nog 'n roman in ons letterkunde is waarin die vrouesiel so diep gepeil is nie. Wenda se reaksies op die kleindorpse haatlikhede, haar smagtende hunkering na ‘die onstuimige lewe, wat jou soos 'n groot minnaar omhels’, haar worsteling met die lewensprobleme - dit alles word in aangrypende momente uitgebeeld. Dis 'n soektog na lig in sieledonkerheid, 'n stormagtige begere van die onbereikbare. En vir ons, wat glo dat die lewe nie beheers word deur 'n grillige noodlot nie, is die sombere slot dubbel tragies, omdat alles so anders kon geloop het. § 19. Dr. C. Louis Leipoldt. Die redakteur van Die Huisgenoot het Leipoldt se merkwaardige loopbaan as volg opgesom: ‘Dr. Christiaan Frederik Louis Leipoldt.... is in 1880 op Worcester gebore en het sy eerste onderrig aan huis van sy vader ontvang, wat vroeër sendeling in die Ooste (op Sumatra) en later {==320==} {>>pagina-aanduiding<<} predikant van die Ned. Geref. Kerk op Clanwilliam was. Later het hy 'n paar klasse in Kaapstad bygewoon. In die eksamen vir die Intermediêre B.A. het hy gedruip en later die staatsdienseksamen in die eerste klas afgelê. Hierop het 'n veelbewoë joernalistieke loopbaan gevolg, eers as oorlogskorrespondent in Suid-Afrika en later in Europa. Daarna het hy in die medisyne gestudeer, 'n tyd lank in Engeland as skoolinspekteur opgetree, om gesondheidsredes na die Ooste gereis en ook tyd gevind om universiteite op die Vasteland en in Amerika te besoek. In SuidAfrika teruggekeer het hy weer mediese inspekteur van skole geword, hierdie werk 'n tyd lank onderbreek om politieke joernalis te word en ook 'n volksraadsetel betwis. Op die oomblik is hy sekretaris van die Mediese Vereniging van Suid-Afrika, redakteur van die vereniging se vakblad en ook lektor aan die Universiteit van Kaapstad.’ In 1934 het hy 'n ere-doktoraat in die Lettere van die Universiteit van die Witwatersrand ontvang. Van hom het verskyn 'n sestal digbundels, 'n sestal toneelstukke en die volgende prosawerke: (a)Didakties: Praatjies met die Oumense (1918). (b)Kortverhale (meestal spookstories): Waar Spoke Speel (1927). Wat agter lê e.a. verhale (1930). Die Rooi Rotte e.a. kortverhale (1932). (c)Romans: Die Donker Huis (1931). Galgsalmander (1932). Die Dwergvroutjie (1937). (d)Speurverhale: Die Moord op Muizenberg (1932). Die Verbrande Lyk (1934). (e)'n Reisverhaal: Uit my Oosterse Dagboek (1932). (f)Geskiedkundig: Jan van Riebeeck (1938), oorspronklik in Engels geskryf. Die Groot Trek (1938), 'n opsomming van die vernaamste historiese feite vir die algemene leser. (g)Kinderverhale: Kampstories, Stories vir die Kinders, As die Natuur gesels I en II, Paddastories, ens. Verder het van Leipoldt nog verskyn: Die Afrikaanse Kind in Siekte en Gesondheid en 'n kookboek Kos vir die Kenner. {==321==} {>>pagina-aanduiding<<} Uit bostaande opsomming blyk dat hierdie veelsydige skrywer besonder produktief is. Hy was een van die eerste digters wat werklik die hart van die nasie geroer het en baie gedigte van hom het die geestelike eiendom van die volk geword. As dramaturg het hy ons skrale toneelliteratuur met 'n paar verdienstelike stukke verryk, en as joernalis het hy vanaf sy twintigste jaar met onvermoeide ywer die skat van sy uitgebreide kennis aan die volk meegedeel. ‘By my is en was die skryfkuns altyd hoofsaak in my lewe’ het hy aan dr. P. de V. Pienaar verklaar. Op negeof tienjarige leeftyd het hy al 'n prysverhaal geskrywe vir die Boys' Own Paper, toe hy dertien was vir The Argus, en in sy twintigste jaar het hy medewerker geword van Elsevier se tydskrif en De Gids. Oor hierdie eerste pogings het Leipoldt interessante besonderhede meegedeel in die artikel Eerste Skoffies (Die Huisgenoot, 1 Des. 1933). Letterkundig beskou is Leipoldt se bydrae tot ons poësie van veel meer betekenis as sy prosawerk. Op die gebied van die spookverhaal was hy 'n wegbereider, wat met sy wetenskaplike insig die uitgebreide volksoorleweringe van spoke, goëlary, ens. in knap verhale verwerk het. Maar artistiek bevredig hierdie werk slegs by uitsondering. Dr. G. Dekker het tereg opgemerk: ‘Sy prosa openbaar.... 'n heeltemal ander persoonlikheid. Naas die hartstogtelike, die hewig-persoonlike van sy poësie, word ons hier getref deur die kalme geselser, die causeur, wat nooit sterk ontroerd is nie, nooit haastig nie, maar altyd die tyd het om alles omstandig te vertel, soms selfs pynlik langdradig en omslagtig word.’ 1) (a) Didakties: Praatjies met die Oumense (1918). Die grootste gedeelte van die bundel bestaan uit 'n populêr-wetenskaplike behandeling van mediese onderwerpe, soos kanker, geslagsiektes en die drankkwessie. 'n Vyftal opstelle behoort egter tot die didaktiese literatuur. Die Praatjies is geskrywe ‘om oumense, veral die wat ouers is, aan te spoor om vir hulleself te dink’. 2) Groot nadruk word gelê op die noodsaaklikheid om logies te redeneer, en die skrywer toon dan ook dat hy dié kuns goed verstaan. Sy rustige betoogtrant munt uit deur klare eenvoudigheid. ‘Soos dit nou gaan, is die meeste gepraat selfs oor belangrike sake net maar babbelpraat, omdat diegene wat in die bespreking deel neem nie die moeite gedoen het om vooraf die feite, wat op die onderwerp van toepassing is, te leer ken nie.’ (p. 17.) Die kuns om te lees, verbeelding, opvoeding, vryheid en verdraagsaamheid - dit is die didaktiese onderwerpe wat behandel word. Sy pleidooi vir 'n suiwer Afrikaanse beeldspraak verdien die aandag: ‘Ons hoef vir geen nasie agter te staan nie, wat vergelykenisse, geput uit ons natuur, {==322==} {>>pagina-aanduiding<<} ons geskiedenis, ons alledaagse lewe, betref, maar waar sien of hoor jy dat ons publieke sprekers van sulke nasionale beelde 'n algemene gebruik maak?’ (p. 43.) Telkens word Multatuli met groot ingenomenheid aangehaal en die lesing van sy werk aanbeveel 1). 'n Paar van Leipoldt se denkbeelde is taamlik rewolusionêr en sal, deur ons land ten minste, seker 'n klein Multatuliaanse ‘rilling’ laat gaan. Hy is 'n teenstander van godsdiensonderwys op skole. ‘Is dit nie veel beter nie om uit die Bybel te put stories en stukkies wat 'n rein opvoedkundige waarde het, en dit voor te dra in die skool as deel van die algemene geskiedenis soos dan ook die Herbartse volgelinge dit doen?’ (p. 84.) Sendingwerk beskou hy as 'n uiting van onverdraagsaamheid. Die sendelinge is ‘uitstekende, mensliewende persone.... En tog, dieselfde beminnelike mense gaan naar ander mense, wat nie juis bely wat hulle bely nie, en kwets die mense in hulle diepste en heiligste gevoelens op 'n manier wat hulle van jou en my nooit sal verdra nie.’ (p. 150.) Op p. 34 is sprake van ‘die middeleeuse hipotese van erfsonde’ en ‘die predestinasie of verdoemingsleer van die Kristelike kerk.’ Predikante en prokureurs kry 'n opslagskoot op p. 16: ‘Die meeste van ons is geneig om die deskundige te wantrou. Daar is net twee van die soort mense aan wie onder ons mense 'n algemene roem toegeken word, naamlik die predikante en die prokureurs, en op die keper beskou is hulle deskundigheid tog maar van die minste waarde’! Leipoldt se helder prosa bevat ongetwyfeld 'n belofte. ‘Ek weet dat wat ek aanvoer van belang is vir ons volk, en dat dit algar dinge is, waaroor 'n verstandige mens behoort na te dink’ verklaar hy in sy voorwoord. Die waarde van sy Praatjies lê daarin, dat dit 'n aansporing tot selfstandig dink bevat. (b) Kortverhale. Waar Spoke speel (1927). As inleiding laat die skrywer voorafgaan 'n interessante beskouing oor: Die kuns om bang te maak in die letterkunde - waarin 'n paar algemene stellings neergelê word oor die spookstorie. Volgens Leipoldt moet die skrywer van 'n goeie spookstorie ‘'n indruk van gespanne angs en kriewelrige nuuskierigheid wek.’ Hy bereik die toppunt van volmaaktheid as daar tot op die end by die leser aanwesig is ‘'n stygende gespannenheid wat amper pynlik is, maar deur sy eie pyn 'n sekere mate van bevrediging gee.’ As die spookstorie ons niks meer kon bied as 'n kriewelrige angsspanning nie, dan sou sy kunswaarde gering wees. Maar ofskoon Leipoldt m.i. te veel waarde heg aan die spanningselemente, is hy geensins blind vir die diepere eienskappe van die spookstorie nie, soos sal blyk uit hierdie bespreking. {==323==} {>>pagina-aanduiding<<} In die eerste verhaal, Wit Angeliere, word 'n regter, wat 'n onskuldige ter dood veroordeel het, vyf jaar na die gebeurtenis op bo-natuurlike wyse oortuig van sy regterlike dwaling. Hy is weer in dieselfde kamer waar hy die noodlottige aanbeveling geskrywe het - al verskil is, dat in plaas van 'n groot bos angeliere, daar nou rooi rose op die tafel staan. 'n Opmerking van die waard herinner die regter aan die moordsaak van vyf jaar gelede en die blommegeur stuur sy onderbewuste gedagtes in dieselfde rigting. Die hele geval sou 'n mens as 'n doodgewone droomverskyning of nagmerrie kan beskou, as die skrywer nie ons nuuskierigheid prikkel nie deur 'n paar geheimsinnige draaitjies. Die rooi rose verander in 'n bos wit angeliere gedurende die nagtelike verskyning wat die regter se slaap verontrus. Maar dit is nie net 'n hallusinasie nie, want die volgende oggend sien die dokter werklik angeliere in die slaapkamer. Ook die merk om die regter se nek is daar om te bewys dat ons nie net met 'n nagmerrie te doen het nie. Aan 'n verklaring van hierdie okkulte verskynsels waag Leipoldt hom nie. Hy is trouens ook nie besig om 'n wetenskaplike verhandeling te skrywe nie en laat die onopgeloste raaisel aan die leser oor om hom tot nadenke te prikkel. Soos hy in die inleiding verklaar, reken hy ‘op die verbeeldings- en inbeeldingskrag van sy leser.’ In die tweede verhaal smeek 'n hopelose kanker-pasiënt sy seun om hom uit sy lyding te help deur hom 'n paar kristalletjies karbolsuur te gee. In 'n onbewaakte oomblik kry die kranke die bottel in die hande en die gedagte dat hy sy vader se moordenaar is, word 'n idée fixe by Hermaans. Presies 'n jaar na sy vader se dood sterf ook Hermaans en by die post mortem blyk dit dat sy ingewande verteer is deur karbolsuur. Niemand kan egter verklaar waar hy dit kon gekry het nie. In hierdie twee verhale is die algemene motief dus presies eners: 'n duidelik waarneembare fisieke verandering word bewerk deur 'n gemotiveerde psigiese aksie, wat egter alleen voltooi word met behulp van 'n bo-natuurlike mag (b.v. die vervanging van die bos rose deur angeliere en die herkoms van die karbolsuur). Die bo-natuurlike element sal deur die redeneervermoë van party lesers miskien uitgeskakel word, maar die onsekerheid daaromtrent vorm juis die pointe van die verhaal. By hierdie twee verhale sluit aan O'Callaghan se Waatlemoen. Oom Oelf en Kelgen, die dorpstimmerman, is groot maats. Laasgenoemde is in die laaste stadium van tering as hy oom Oelf se doodkis moet vergroot. Om sy vriend op te beur gaan oom Oelf 'n weddenskap aan met die timmerman omtrent hul lewensduur, en laat hom plegtig sweer dat hy 'n spogwaatlemoen, wat nog geplant moet word, sal kom help opeet. Die timmerman sterf eerste en sy kopmussie wat volgens die weddenskap oom Oelf toekom word saam met hom begrawe. As die spogwaatlemoen oopgesny word is Kelgen of sy ‘spook’ egter daar om sy eed gestand te doen en {==324==} {>>pagina-aanduiding<<} ook om die kopmussie volgens die weddenskap af te lewer. In hierdie verhaal word weer gebruik gemaak van die ruikmotief, want Kelgen se verskyning word voorafgegaan deur 'n skerp saagsel-lug. Die bo-natuurlike element word hier egter nie so fyn gesuggereer nie en die uitwerking van die besonderhede van Kelgen se verskyning is te nugter om selfs die illusie van geheimsinnigheid te wek. Pragtig geslaag daarenteë is die figuur van die oubaas, oom Oelf, wat sy middagdutjie in sy doodkis doen, want ‘'n mens moet hom so stadigaan gewoon maak aan die ding’! Die doodsgedagtes verstoor egter nie sy gemoedsrus nie en as gevolg van 'n luilekkerlewe word sy rusplek selfs vir hom te nou. Veral goed geteken is die oubaas se ywerige toewyding aan sy waatlemoene. Ook van oom Tys in Aalwyne kry ons 'n lewendige skildering. Hy het die vermoë om in die toekoms te sien en deur berekeninge met syfers kan hy voorspellings doen. By hierdie verhaal sluit aan Die Wit Hondjie, 'n dier wat telkens die voorbode van die dood is. Deur middel van skynbaar logiese redenerings, wat met persoonlike hartstog verdedig word, wek die verteller bygelowige assosiasies. En ten spyte van al ons wetenskaplike verligting is dit nie so'n danig moeilike taak nie! In Die Lammervanger slaag die skrywer daarin om 'n atmosfeer van angstige beklemming te skep. Mev. Ankus, die moordenaresse van haar man, word agtervolg deur 'n lammervanger, blykbaar 'n reïnkarnasie van die vermoorde. Uiteindelik word sy so betakel deur die lammervanger, dat sy na 'n kranksinnigegestig moet vervoer word. In Die Koranna se Kopbeen skuil daar ‘'n grondstoflike gees wat gewoonlik haatlik teen die mensdom gekant is en 'n besondere vermaak vind in plaery en in seermaak, liggaamlik sowel as geestelik.’ Leipoldt het die kwaadaardige invloed wat daar van die kopbeen uitgaan in besonderhede uitgewerk en daar 'n wetenskaplike tint aan gegee wat party lesers sal oortuig. In die laaste verhaal Die Cat in die Kamer, gee die skrywer ons 'n noukeurige en treffende analise van die angs in 'n kindergemoed. Ook hier is egter die bo-natuurlike element aanwesig, want die angs word veroorsaak deur 'n gat in die muurpapier. Daarin het vroeër die balk gesit waaraan 'n selfmoordenaar hom opgehang het. Uit die ondersoekings van die psigo-patoloë kan ons hierdie algemene gevolgtrekking maak: die abnormale werksaamheid van die gemoed, soos in die geval van histerie en kranksinnigheid, is net 'n buitengewone en ongebalanseerde ontwikkeling van karaktertrekke en funksies wat deel uitmaak van die normale, gesonde sielsgesteldheid. Baie onverklaarbare verskynsels van die normale gemoed kan verduidelik word deur verwysing na patologiese ontwikkelings en op dié manier kry ons 'n veel dieper insig in die geestelike struktuur van die mens. Op dieselfde wyse het geneeskundiges veel geleer omtrent die normale fisiologiese prosesse {==325==} {>>pagina-aanduiding<<} deur 'n studie te maak van siekteverskynsels. Vir 'n medicus, soos die skrywer, moet die wisselwerking van siel en liggaam 'n besonder aanloklike terrein wees en sy vlotte verteltrant stel hom in staat om selfs afstootlike motiewe op 'n boeiende wyse te ontwikkel. Hy maak natuurlik gebruik van die tradisionele spook-apparaat, maar het aan al die verhale 'n suiwer Afrikaanse atmosfeer gegee. Wat Agter Lê (1930). Hierdie verhale kan volgens die skrywer beskou word ‘as 'n verdere, miskien 'n rypere ontwikkeling van die tipe van verhaal wat ek reeds in Waar Spoke Speel geprobeer het.’ Die ooreenkoms tussen die twee bundels val meteens op, want verskeie motiewe word in enigsins gewysigde vorm weer gebruik. Nog beter as in die vorige bundel egter, slaag Leipoldt daarin om ons belangstelling vas te hou, omdat hy nou die tegniek van die kortverhaal beter beheers en ook meer aandag gewy het aan die omlysting. Uit die gesprekke oor die bo-natuurlike verskynsels blyk ook dat Leipoldt hom verder verdiep het in hierdie onderwerp. Af en toe ontkom hy nie aan die gevaar om die leser te vermoei deur geleerde uitweidings nie, wat die gang van die verhaal belemmer, en dit ongenietbaar maak vir persone van gemiddelde ontwikkeling. Die beste verhaal is seker Groottannie se Salf. Oom Danie het hom klaargemaak vir 'n aanval van sinkings deur 'n nuwe voorraad smeergoed by die apteker te haal. Hierdie salf word aangemaak volgens die geheimsinnige resep van sy Groottannie, en uit 'n gesprek met die apteker gewaar oom Danie tot sy grootste ontsteltenis dat dit eintlik 'n soort heksesalf is - ‘'n Slamaaier-gemors’ van die vreemdste bestanddele. Tuis gekom, dwing sy nuuskierigheid hom om die smeergoed te vergelyk met groottannie se oorspronklike potjie, waaruit hy 'n stukkie met sy knipmes loswoel. In die nag word die oubaas en sy ega gewek, nie deur die gierende suidooster nie, maar deur 'n smartvolle gekreun. Voortreflik geteken is die manier waarop die waardige egpaar 'n bangerige ondersoek instel na die oorsaak van hierdie geluid. As hul angs ten toppunt styg, fluister oom Danie: ‘Laat ons bid, of, liewer, laat ons sing. Trina, sit in vir my - ek kan nie vat nie - begin....’ ‘Maar, Danie....’ ‘Nee, Vrou, begin! Dit is die aanhef wat ek nodig het - sonder note kan ek nie - toe, maak gou!’ Met 'n bewerige stemmetjie het tant Trina ‘Rust mijn ziel’ aangehef, en oom Danie het met wat eers 'n skaars hoorbare sangstem was, by ‘Heel de wereld’ ingekom.’ Om ten volle die komiese effek van hierdie situasie te waardeer moet die hele verhaal gelees word, want die verskrikkinge van die tweede nag bevat ook spannende momente. Hierdie bundel is 'n welkome bydrae tot ons spookstories. {==326==} {>>pagina-aanduiding<<} Die Rooi Rotte (1932). Vier van hierdie verhale, nl. Die Rooi Rotte, Renosterbosas, Die Klipspringerhare van Tant Kato en Kattekruie behoort ook tot die spookgenre. Die spanning word bereik deur 'n bo-natuurlike element waarvoor die leser deur sy eie verbeeldingskrag 'n soort oplossing moet soek. Die skrywer is daarop uit om deur die skildering van 'n reeks pakkende besonderhede ‘'n indruk van gespanne angs en kriewelrige nuuskierigheid (te) wek’, soos hy in die voorrede van Waar Spoke Speel verklaar. Maar verder as dié angsspanning het Leipoldt dit ook in hierdie bundel nie gebring nie. Ons waardeer die psigo-patologiese deskundigheid van die skrywer, en bewonder die ratsheid waarmee hy die angswekkende verskynsels in die raamwerk van die verhaal inlas, maar moet tog konstateer dat Leipoldt tot dusverre tevrede gewees het om op lughartige wyse te koketteer met die okkultisme. Dit sal verblydend wees as hy in 'n volgende werk dieper wil indring in hierdie geheimsinnige gebied, waarvan hy blykbaar soveel hou. Op sy beste is Leipoldt in hierdie bundel in die dorpsverhaal: Die Koei van die Weduwee Priem, waarin hy met speelse geestigheid 'n geskilletjie tussen 'n lankmoedige Engelse predikant en 'n opvlieënde weduwee behandel. Die vertoornde dominee neem die koei, wat elke Sondag sy dienste kom stoor, persoonlik skut-toe, en die bitsige weduwee sorg vir allerlei spektakels langs die pad. Besonder goed is die slot waar die boetvaardige tante ewe sagmoedig die dominee 'n kommetjie sult van die oorlede koei kom aanbied. Sy, wat so'n virtuose op die gebied van die vloekkuns was, voel tog dat sy in haar woede miskien effens die grens van die betaamlike oorskry het: ‘Om ekskuus te vra, Eerwaarde, is nou nie eintlik my gewoonte nie, Eerwaarde. Ek is maar, Eerwaarde, soos Eerwaarde weet, 'n vrou wat reguit praat, en as ek iets gesê het, Eerwaarde, laaste Sondag, Eerwaarde, toe ons altwee kwaad opmekaar was, Eerw....’ Hoe jammer dat ons letterkunde nog so arm is aan verhale waarin die eenvoudige dorpslewe met al sy verskillende tipes geskilder word. Voortreflik het Leipoldt in Oorblyfsels 'n stokou Hottentotse egpaar geteken met hul ondankbare kroos. Regina gésel hul sonder genade: ‘Glo vir my, vuur en swawel, dit sal julle geniet hiernamaals, en ek en Hiskia sal met die harp in die hand sit en sing by die kristalrivier onder die Heiland se troon. En julle moenie dink dat ek die liewe Heer sal vra om Hom oor julle skepsels te ontferm nie, moenie glo nie. Ek sal Hom die waarheid, die hele waarheid sê, en as Hy ook wil toegee, sal ek sê: “Nee, asseblief seur, laat die vuilgoed maar braai.”’ Ons het weinig skrywers wat met sulke verrassende egtheid die kleurling-mentaliteit kan weergee. Regina gaan te werk met listige oorleg, want sy exploiteer {==327==} {>>pagina-aanduiding<<} die godsdienssin, bygeloof en gierigheid van haar kinders en klein-kinders met soveel sukses dat sy op haar oudag in weelde vertroetel word. Die geheim van die Kimberleyse diamante word eers na haar dood ontsluier, en dan blyk dat die fabelagtige skat niks anders as waardelose kristalletjies was nie! Ons geniet hierdie eenvoudige intrige waarin die lokasie-atmosfeer so uitstekend aangedui word veel meer as die kunstig-bedagte verskrikkinge van die ‘kriewelrige, rooiharige rotte’ wat ons volgens 'n bekende formule moet bang maak. (c) Romans: Die Donker Huis (1931). In hierdie breedopgesette roman word deur 'n veselfyne karakterontleding aangetoon hoe die lewensgeluk van 'n jong seun verwoes word deur die liefdelose behandeling van sy vader. Cornelis Gram het 'n heerssugtige natuur en handhaaf sy vaderlike gesag met 'n ysere roede. Volgens sy eie opvatting is hy altoos stip regverdig. As hy 'n saak logies beredeneer het, kan sentimentele oorwegings hom geen duimbreed van sy koers laat afwyk nie. ‘Liefde was 'n gevoelstoestand, 'n emosie, en dit was beter om sterk emosies te bedwing. Dit was teen sy natuur om onstuimig te word. 'n Mens het daarby tog nooit die selfbeheersing wat jy nodig het om deur die wêreld te kom nie.’ Met die beste bedoelings probeer hy sy twee kinders, Pieter en Katrien, opvoed volgens die beginsels van sy eie onverbiddelike logika. Maar sy liefdelose strengheid en sy onvermoë om iets van die kindersiel te begryp lei tot gedurige botsings, wat die kinders totaal van hom vervreemd. As Pieter 'n bossie radyse uit sy eie tuintjie op vader se lessenaar plaas, dan word hy ongenadig gestraf omdat hy die huis bemors het. In die begin het die kinders nog 'n bondgenoot gevind in hul moeder, maar na enige jare het Cornelis ook haar lewensvonkie uitgeblus. ‘Die tragedie van haar lewe het juis daarin gelê dat sy deur haar eie opoffering om haar man se liefde te behou, gevaar geloop het om die liefde van haar kinders te verbeur.’ Die opposisie van tant Alida en die goewernante het Cornelis ook sonder veel moeite op sy gestoot, en hy kon dus ongestoord voortgaan met die toepassing van sy ‘opvoedkundige’ maatreëls. Hy word egter opgeskrik uit sy eiegeregtige selfversekerdheid deur Pieter se ernstige siekte, en voel dubbel skuldig omdat hy hom onwetend 'n opstopper gegee het toe die seun reeds die griep onder lede had. As Katrientjie ook ernstig siek word, verloor hy al sy selfvertroue en by haar sterfbed erken hy dat sy opvatting van vaderskap 'n vloek vir die hele gesin was. In die tweede gedeelte van die roman word die patetiese pogings van Cornelis om die vertroue en kameraadskap van sy seun te win geskilder. Pieter sluit hom op in 'n ‘betonvaste ringmuur van onverskillige onder- {==328==} {>>pagina-aanduiding<<} danigheid’, en alle toenadering misluk. ‘Dit was Cornelis se tragedie dat hy op sy ou dag moes gaan bedel vir die brokkies van liefde wat hy onverskillig in sy jonger dae verwerp het.’ Deur 'n hele reeks toneeltjies word hierdie tragedie veraanskoulik, en deur skerpsinnige analise verder verduidelik. Cornelis se onpedagogiese metodes en oordrewe belangstelling prikkel die seun tot verset, en sy karakter word volkome ondermyn deur die onoordeelkundige toegewendheid van sy vader. Aan die end van die verhaal is hy 'n morele wrak, 'n swakkeling sonder enige rigting in die lewe. Net soos sy moeder versoen hy hom eers op sy sterfbed met sy vader, aan wie hy dan tog eindelik 'n paar krummeltjies van sy liefde bied. Dis 'n donker, vreugdelose verhaal van eindelose wrywing en gedurige misverstand. Twee meulstene maal mekaar stadig maar seker fyn, en by elke wenteling bedui Leipoldt, die wetenskaplike, ons hoe die vernielingsproses vorder. Leipoldt, die digter, die kunstenaar, het weinig aandeel in hierdie roman gehad. Die karakters verbleek tot sielkundige abstraksies, en die swaarwigtige, omslagtige motiewe-uitrafeling laat die leser soms dink dat hy met 'n psigologiese handboek te doen het. By elke wending in die verhaal moet die opsetlike strekking aangedik word, by elke insident moet die skrywer in sy rol van professor in die sielkunde verklarende aantekeninge dikteer: ‘As Cornelis wetenskaplik aangelê was - wat hy regtig nie was nie - dan sou hy die saak kalm en bedaard opgevat het....’ ‘'n Bietjie grondiger kennis van die menslike sielslewe as wat hy gehad het, sou hom dadelik daarvan oortuig het....’ Geleerde redenasies in hierdie trant tref ons dikwels aan - digterlike uitbeelding slegs selde. Galgsalmander (1932). Ofskoon die skaduwee van 'n galg oor hierdie roman val, is dit tog vol ‘somer en son en saffier’. Hier geen kil-wetenskaplike atmosfeer soos in Die Donker Huis nie. Leipoldt vind nou weer die gemoedelike geselstoon, en ofskoon sy omslagtige breedvoerigheid soms vermoeiend is, hou hy tog die belangstelling van ‘die kundige leser’ vas deur sy aangename verteltrant en geestige stylwendings. Hoofsaak was vir hom in hierdie verhaal die skildering van maatskaplike toestande aan die begin van die negentiende eeu in die streek ‘tussen die hoë Olifantsrivier- en Skurweberge.’ Ons ontmoet 'n paar ontwikkelde boere en leer hul opvattings ken oor politieke, kerklike en maatskaplike sake. Hulle vier Nagmaal in 'n groot kafhuis, stig 'n plaasskooltjie waar 'n leegloper met 'n twyfelagtige verlede teen £20 per jaar as meester aangestel word, en herdenk die verjaardag van ‘die geliefde vorstin’, Victoria, feestelik op die dorp. Ons kry ook 'n kykie op die boerderytoestande en hoor van proefnemings in verband met wynmaak. Verder laat die skrywer ons {==329==} {>>pagina-aanduiding<<} toe om oor 'n Engelse winkelier se skouer te kyk wanneer hy sy dagboek skryf vir familiebetrekkinge in Engeland, en geniet die geselskap van oom Dorie en oom Martiens as hulle, na 'n partytjie skaak, landsake en hul bure se intieme geskiedenis uitpluis. Uit Meester se bedrywighede verneem ons veel omtrent die metodes van 'n plattelandse onderwyser. Die besonderhede van sy loopbaan vorm 'n interessante bydrae tot die beskawingsgeskiedenis van die periode. Aan die slot van die verhaal tree die Roomse meester in die huwelik met 'n ryk weduwee, wat haar nou nie juis te veel bekommer oor die verskil tussen Gereformeerd en Rooms nie. ‘Ons is altwee oud - dus sal dit nie te lank wees voordat ons weet watter van ons die regte geloof het nie’! As historiese roman is hierdie verhaal egter 'n mislukking omdat die hooffigure nie tot lewende mense ontwikkel het nie. Hulle word nooit betrokke in 'n ernstige botsing, waardeur die geheim van hul menslikheid geopenbaar word nie. Daar word wel 'n geheim ontsluier, maar dié is so deursigtig en onbelangrik dat dit nouliks enige spanning, maar hoogstens 'n bietjie nuuskierigheid veroorsaak. Die hoofkarakter, Amadeus Tereg, het vroeër opgetree as beul. Na 'n onverwagte erfenis, verander hy sy naam en vestig hom in 'n onbekende omgewing, waar hy spoedig die hoogagting van almal win. Die skrywer moet allerlei kunsmiddeltjies aanwend om hierdie ‘geheim’ nie aan die leser te verklap nie. Amadeus is oortuig dat hy reg gehandel het, en sy enigste motief vir die geheimhouding is die vrees dat hy die agting van sy vriende sal verloor. Uit hierdie skrale gegewens kan geen sielkundige konflik van enige betekenis ontstaan nie. Die vernaamste verdienste van die roman lê in die breeduitgewerkte sedeskildering van die periode net voor die Groot Trek. Daarby kom Leipoldt se deeglike kennis van gewoontes en gebruike hom goed te pas. Die Dwergvroutjie (1937). In Die Afrikaanse Jaarboek (1936) verskyn 'n besonder interessante onderhoud wat dr. P. de V. Pienaar met Leipoldt gehad het. Daaruit siteer ek die volgende: ‘Ek het hom gevra na die temasoort wat hom in sy kuns die meeste aantrek en sy antwoord was: Die oënskynlike teenstrydigheid tussen werklike skoonheid en bruikbaarheid of paslikheid. Vir 'n dokter wat belangstel in kankergewasse kan 'n bepaalde gewas mooi wees, wat vir ander afskuwelik is....’ Hierdie uitspraak moet ons in gedagte hou by die beskouing van die sonderlinge motiewe wat as raamwerk van Die Dwergvroutjie dien. Nisba is 'n achondroplasiese dwerg, wat deur die skrywer so verklaar word: ‘Eenvoudig uitgedruk, beteken dit dat sy die gevolg was van 'n diep {==330==} {>>pagina-aanduiding<<} ingrypende verwikkeling wat voor die geboorte plaasgevind en wat aanleiding gegee het tot 'n merkwaardige verstoring van die normale groei van die liggaam’. In die eerste gedeelte van die verhaal word die ongelukkige jeug van hierdie abnormale wesentjie beskrywe. As volwasse meisie is Nisba drie voet ses hoog. Wanneer die stampe en stote van 'n onsimpatieke omgewing haar wanhopig maak, vind sy troos en steun by die ontongmeid Mina en die ou skoolmeester Servaas. Deur laasgenoemde se vriendelike belangstelling kan haar vlug verstand ontwikkel tot 'n peil wat haar op intellektuele gebied verhef bo haar omgewing. Aia Mina en Servaas se invloed op Nisba se ontwikkeling word met baie gelukkige trekkies geteken. Ek dink byvoorbeeld aan die oulike manier waarop Aia Mina haar inwy in die geheime van die vrykuns: ‘Daar's iets in ons vroumense, Nonnie, wat opspring en basuin blaas as die mansgoed ons beetkry. Maar wees versigtig, Nonnie, want dis nie altyd die plesier werd nie.’ Onder 'n groot moerbeiboom ‘met die rooivlerkspreeus in sinode bo in die boonste takke’ sit Nisba dikwels en worstel met haar lewensprobleme. Sy leef in die begin van die negentiende eeu en net soos in Galgsalmander gee Leipoldt ons 'n interessante skildering van die maatskaplike toestande met al die sedes en gewoontes op die platteland. Nadat 'n jeugdige romanse op 'n mislukking uitgeloop het, ontmoet sy in haar negentiende jaar Lukas Melidoorn, 'n man van oor die dertig jaar. Lukas is die laaste telg van 'n familie wat met erflike kranksinnigheid belas is. Openhartig vertel hy haar sy geskiedenis: ‘My verstand is 'n wangedrog, net soos jou liggaam 'n wangedrog is, Nisba. En daarom.... het ek gevoel en besef dat ons twee miskien nader by mekaar kan staan.’ Omdat albei hierdie verstotelinge soveel behoefte aan simpatie en steun het, besluit hulle om mekaar te help. So vind dan die mees vreemdsoortige huwelik plaas, waarvan miskien ooit in 'n verhaal vertel is. Nisba is 'n wakker boervroutjie wat die plaas baie suksesvol bestuur, en gedurende die eerste huweliksjare lyk dit of die twee maats wat gesweer het ‘om mekaar te help, om mekaar se vloek te dra’ baie gelukkig is. Maar met verloop van tyd begin Lukas se kranksinnigheid te ontwikkel. Hy kry die sonderlingste invalle, mishandel sy werkvolk, terg sy honde en word deur kleptomanie verlei tot moord. Jarelank voer hy 'n dubbelbestaan, want teenoor Nisba gedra hy hom as 'n voorbeeldige eggenoot. As sy uiteindelik besef dat hy ongeneeslik kranksinnig is en reeds drie moorde gepleeg het, dan openbaar hierdie dwergvroutjie 'n hoogheid van siel en 'n kalm, onversetlike wilskrag wat bykans bo-natuurlik is. Met verloop van tyd het sy die hulpbehoewende Lukas innig liefgekry en haar hoogste begeerte is dat hy nou die krag moet ontvang om die straf vir sy misdade op waardige wyse te dra. Sy bring Aia Mina se gif- {==331==} {>>pagina-aanduiding<<} botteltjie te voorskyn en bied aan om saam met haar man te sterwe. Haar besielende voorbeeld gee Lukas egter die krag om hom sonder enige verset aan die gereg oor te gee en as hy na die galg stap is Nisba aanwesig met 'n doodkis om die lyk van haar geliefde te ontvang. ‘Jy het my jou maat gemaak en my vertroos toe ek verstoot was, en ek dank God dat jy my nie teleurgestel het nie. Ek het geweet dat my man nie 'n lafaard is nie.’ As 'n mens die dwergvroutjie se gedrag volgens gewone psigologiese begrippe probeer beoordeel, dan kom jy voor heelwat raaisels te staan. Ons moet egter onthou dat albei hoofkarakters abnormaal is en dat hul in 'n tyd geleef het toe 'n kranksinnige nog nie as ontoerekenbaar beskou is nie. Leipoldt het die langsame ontwikkeling van Lukas se kranksinnigheid met die deeglikheid van die wetenskaplike navorser beskrywe en in die uitbeelding van Nisba se reaksies is daar skone momente wat sterk van dramatiese spanning is. Ek verwys in die besonder na hoofstuk XVI wat niemand sonder diepe ontroering kan lees nie. In hierdie hoofstuk is daar die warmte van gevoel, die innige deurleefdheid wat so dikwels ontbreek in Leipoldt se mensskepping. Deurgaans egter, bly die hooffigure in hierdie verhaal tog ook maar bewysstukke van psigo-patologiese prosesse wat met wetenskaplike presiesheid hul onverbiddelike loop voleindig. Daardeur gebeur dit, soos in ander romans van Leipoldt, dat die byfigure, o.a. Aia Mina en Regina, veel mensliker geteken word en dus langer bly voortlewe in ons herinnering. In die ontrafeling van die moordgeskiedenisse kom Leipoldt se talent as skrywer van speurverhale voor die dag en gee hy ons ook 'n interessante kykie op die regspleging aan die begin van die negentiende eeu. (d) Speurverhale: Na wat in hoofstuk I § 13 oor die speurverhaal gesê is, sal die leser begryp dat die volgende twee romans hier alleen bespreek word om die geaardheid van die genre aan te dui. Die Moord op Muizenberg (1932). ‘Die meeste misdadigers is nalatig. Maar die misdadiger wat sy werk ken, wat werklik 'n kunstenaar is, sal nie nalatig wees nie. Hy sal sy moord so begaan dat dit op helder dag geskied, in 'n omgewing waar iedereen as moordenaar kan aangesien word as dit later die minste agterdog verwek. Onthou wat De Quincey sê: Die kuns om te vermoor, is om so te vermoor dat daar geen kwessie van moord is nie, maar dat die dood die natuurlike gevolg van die omstandighede skyn.’ (p. 11.) {==332==} {>>pagina-aanduiding<<} Met hierdie woorde het die skrywer self die kern van sy verhaal aangedui. Op 'n Sondagmiddag word iemand vermoor op die Muizenbergse strand onder die oë van duisende besoekers. 'n Paar kneusplekkies aan die lyk en die rafels van 'n rooi badkostuum is feitlik die enigste aanduidings wat by speurder Slink agterdog verwek. Maar juis omdat die misdaad so ‘goed afgerond’ is, prikkel dit die speurder tot 'n geduldige ondersoek waaraan hy sy hele verloftyd opoffer. In die jag op die moordenaar word hy ywerig bygestaan deur sy vader, vir wie sulke gevalle 'n soort van intellektuele tydverdryf geword het. Die Afrikaanse Sherlock Holmes moet natuurlik, volgens die welbeproefde resep, ook 'n dr. Watson as begeleidingsfiguur hê. Eerwaarde Jan Slink vind speurwerk heelwat interessanter as die godgeleerdheid, en deur die besprekings wat hy met sy seun, speurder Slink, voer, dra hy veel daartoe by om die verhaal binne die perke van die waarskynlikheid te hou. Ofskoon hy die belangrikste rol speel by die ontmaskering van die misdadiger, verteenwoordig hy ook die intelligente leser. Speurderswerk staan vir hom gelyk met navorsingswerk: ‘Die navorsing van 'n verslete sitaat - die bestudering van 'n nog onbekende basil - die ontrafeling van 'n ingewikkelde hofsaak - die diagnose van 'n lastige siektegeval - wat is dit anders as speurderswerk?’ Eerw. Jan Slink gaan dan ook wetenskaplik te werk en laat niks aan die toeval oor nie. Sy optrede is nogal geheimsinnig, en as sy seun hopeloos op dwaalspore rondjag, dan kom hy met oortuigende bewyse wat tot 'n verrassende ontknoping lei. Dat 'n dokter in die godgeleerdheid die opsporing van 'n moordenaar as intellektuele sport beskou - dit is nou een van die klein onwaarskynlikheidjies wat die lesers van hierdie soort ligte lektuur eenvoudig vir lief moet neem. Leipoldt se lewendige verteltrant hou steeds die belangstelling vas en laat ons, tydelik altans, veel van die gebreke van hierdie genre vergeet. Die Moord op Muizenberg is baie beter geslaag as Die Verbrande Lyk. Die Verbrande Lyk. Daar sal altoos mense wees wat met 'n sieklike belangstelling al die weersinwekkende feite in verband met 'n moordsaak uitpluis. So intens is hul nuuskierigheid dat hul daelank in 'n bedompige hofsaal sal sit om tog geen enkele besonderheidjie te mis nie. En na die hofsitting het hul geselsstof vir maande.... Hierdie klas mense kan hul nou die moeite bespaar om hof-toe te gaan, want dr. Leipoldt het vir hulle 'n ‘interessante’ moordsaak, op feite gebaseer, saamgestel. Deur middel van sy vriendskap met een van ons regters en 'n gewese prokureur-generaal het hy 'n ‘kykie agter die gordyne’ gekry. Wat hom veral getref het is die nougesetheid waarmee die amptenare elke stukkie getuienis weeg en elke feit ondersoek, sodat hulle 'n oortuigende bewys van die aangeklaagde se skuld kan lewer. {==333==} {>>pagina-aanduiding<<} Vir Leipoldt is nie soseer die sensasiewekkende besonderhede van belang nie, maar veral die vernufspel tussen die deskundiges en die reaksie van die regter en jurie op hul getuienis. In hierdie verhaal is die mediese getuienis van groot belang en dis verstaanbaar dat Leipoldt daar genot in vind om die deskundiges teen mekaar uit te speel. Sy hele uiteensetting is wetenskaplik sekuur, en tog so duidelik dat 'n intelligente leek dit gemaklik kan volg. Wie graag wil weet hoe die gereg getuienis bymekaar maak om 'n moordenaar se skuld te bewys sal hierdie verhaal 'n uitstekende handleiding vind. Ons het goeie ontspanningslektuur broodnodig, want dit kan 'n magtige faktor word om die breë volkslae tot nuwe geestelike lewe op te wek. Daarom kan ons dit verwelkom dat 'n ernstige skrywer soos Leipoldt sy aandag aan die ligtere genre wy. Maar dan mag ons ook met reg verwag dat hy sy talent sal gebruik om die peil van die volkslektuur te verhef, sodat dit iets meer word as 'n nuttelose tydverdryf of skadelike sinneprikkeling. Hierdie verhaal van 'n moedermoord is egter niks meer as 'n knap stukkie kriminalistiese joernalistiek nie, wat deur 'n wetenskaplike feitebeligting op 'n hoër plan staan as die gewone koerantverslag. Die klemtoon val, soos in die meeste speurverhale, nie op die afgryslikheid van die misdaad nie, maar op die geslepenheid en taaie volharding waarmee die deskundiges die amper onbewysbare bewys. Die eintlike misdaad is hier slegs 'n gegewe in 'n soort ‘Chinese puzzle’ wat 'n aantal deskundiges die geleentheid verskaf om bewys te lewer van hul verbluffende knapheid. Anders as by die groot kunstenaars, soos Shakespeare en Dostojevsky, wat die oorsake en gevolge van die misdaad beskrywe, staan ons hier voor 'n geïsoleerde feit wat heeltemal sonder lewensagtergrond is. Die misdadiger word nie deur die aanklag van sy gewete agtervolg nie, maar alleen deur die vernuftige breinspel van 'n klompie deskundiges. 'n Reisverhaal: Uit my Oosterse Dagboek (1932). Van sy vroegste jeug af het Leipoldt die ‘drang na die Ooste’ gevoel, waar sy vader tot kort voor sy geboorte sendeling onder die mensvreter-Battas op Sumatra was. Sy kinderlike fantasie is geprikkel deur allerlei verhale oor die bekoorlike land, en toe hy in 1911 om gesondheidsredes 'n seereis moes doen het hy as skeepsdokter op 'n vragboot na Oos-Indië gegaan. Hy het hom deeglik voorberei vir die reis deur 'n groot aantal geskrifte oor die Ooste te bestudeer en kan as gevolg tallose wetenswaardighede medeel oor die inboorlinge en hul land. 'n Ondersoek na die wyse waarop die Nederlandse regering allerlei vraagstukke opgelos het bring hom tot die gevolgtrekking dat Suid-Afrika nog veel kan leer {==334==} {>>pagina-aanduiding<<} van Insulinde, o.a. op die gebied van volksgesondheid en naturellepolitiek. Hierdie reisherinneringe bevat van die beste prosa wat Leipoldt totnogtoe geskryf het. Aangenaam en met groot kennis van sake gesels hy oor Indiese towenaars en mensvreters; Chinese familiegrafte en seerowers; oliefabrieke, rystafels, opiumskuiwers, vulkane, tropiese bome en plante. Hy het die bekoring van die geheimsinnige Ooste ondergaan, rondgedool in die ‘spokeland’ ‘waar jy nooit in intieme aanraking met die wesens wat daarin woon kan kom nie.’ Mooi is sy beskrywings van die Oosterse natuurskoon en altyd interessant sy meedelings en anekdotes oor die bewoners. Ten slotte kan nog opgemerk word dat hierdie reisbeskrywing nuttige inligting bevat vir die regte begrip van die digbundel Uit Drie Wêrelddele. § 20. Dr. P. de V. Pienaar. P. de V. Pienaar is naby Losberg (Potchefstroom) gebore in 1904. Hy het gepromoveer aan die Hamburgse Universiteit op 'n dissertasie getitel: Die Fonoposotie en die Fonotopie van die Afsluitings- en Vernouingsklanke binne die Spraakmolekuul (1929). In 1927 het hy in samewerking met prof. T.H. le Roux die handboek Afrikaanse Fonetiek geskrywe: verder 'n roman, Skakels van die Ketting (1929); Ruth (1934) en Magte (1936), twee bundels sketse en verhale. Dr. Pienaar is tans dosent aan die Witwatersrandse Universiteit. Skakels van die Ketting (1929). Die hooffiguur is 'n veertienjarige plaasseun, wat sommer uit die staanspoor ons belangstelling verower. Kobie het 'n dromerige geaardheid, en so tussen die plaaswerkies deur vind hy geleentheid om al sy ervarings haarfyn uit te pluis. Hy is ernstig gestem deur die dood van 'n lieflingsuster, maar sy ontluikende liefde vir Elka maak die lewe vir hom baie interessant. Daar ‘kriewel 'n onverklaarbaarheid’ in hom, en raaisels om te bepeins het Kobie meer as genoeg. Hy is ook besonder vatbaar vir godsdienstige indrukke. Vertroulik gesels hy met sy vrome moeder oor geestelike ervarings. Op sekere dag het Kobie 'n visioen gehad, waarin Jesus hom toegeroep het: ‘Gaan pas my skape op!’ Van dié dag af was dit Kobie se ideaal om predikant te word. Voorlopig moet hy egter sy vader help in die sware stryd teen 'n droogte wat dreig om armblankes van hulle te maak. Te midde van al die moeilikhede is dit Kobie se moeder wat steeds die besef van sy hoë roeping by hom lewendig hou. Van sy vader erf Kobie 'n oordrewe sinnelike aanleg. Sy siel word die strydperk waarop daar 'n wanhopige worsteling plaasvind tussen die erffaktore van vaders- en moederskant. As jong seun reeds word Kobie oorweldig deur sy seksuele prikkelbaarheid. Sy liefde vir Elka en die {==335==} {>>pagina-aanduiding<<} waaksame sorg van 'n vrome moeder help hom egter om die oorgeërfde neiging voorlopig te oorwin. Op die Rand, waar hy sy studie voortsit, wag hom die grootste versoeking. Hy organiseer 'n Sondagskool vir verwaarloosde kinders in die agterbuurtes. Maar die dierlike hartstog ontwaak weer as hy in aanraking kom met Violet, 'n aantreklike prostituée, wat hom deur gehuigelde vromigheid in die val lok. Soos 'n kranksinnige stap hy die volgende môre met selfmoordgedagtes die veld in. Hy is getuie van 'n motorongeluk, en die slagoffer sterwe in Kobie se arms met die kreet ‘Mother’ op sy lippe. Dieselfde oggend hoor hy weer in 'n sluimerslaap die ou stem: Pas my skape op! Hierdie twee roepstemme gee hom die moed om weer die stryd teen sy onreine hartstogte aan te bind. Hy wil egter sy moeder en Elka nie sien, voordat hy sy selfrespek herwin het nie, en vlug na Niassaland om daar in die eensaamheid van die sendingveld die worsteling voort te sit. Met koorsagtige ywer lê hy hom toe op sy werk, maar die sielestryd bly 'n gedurige marteling, totdat hy deur die eenvoudige woord van 'n kaffer en die troostelose geblêr van 'n lammetjie rus vind vir sy gepynigde gemoed. Ook in die sendingwerk egter, agtervolg hom die versoeker. Uit dankbaarheid vir sy genesing bring 'n kafferkaptein, Kobie, sy dogter as geskenk. Hierdie meid moet volgens kaffergewoonte sy vrou word. Maar Kobie het noual sy sedelike ewewig herwin. Die hunkering na sy moeder en die herbore liefde vir Elka dryf die verlore seun huis-toe. Deur die dood van sy moeder en die weersien van Elka word hy nogeens in 'n sielekrisis gewikkel. Elka se reine liefde en begrypende simpatie laat eindelik sy ou ideale herlewe, en op die delwerye begin hy vol nuwe lewensmoed sy opheffingswerk onder die veragterdes. Hierdie jeugwerk is swak van komposisie, en dit krioel eenvoudig van taal- en stylfoute. Die sielkundige motivering is meestal onoortuigend, en die gang van die verhaal word telkens onderbreek deur liriese oorpeinsings of verstandelike redenasies. Nêrens stroom die verhaal nie - altyd word damwalle opgewerp sodat die skrywer hom kan vermaak op 'n literêre plesiertoggie. Soms is dit 'n fynuitgewerkte natuurbeskrywing, wat wel effens in verband gebring word met Kobie se innerlike ervarings, maar tog meestal die indruk maak van literêre ornament. Dan word die leser se aandag weer afgelei deur 'n paar fantasieë wat maar baie lossies verbind is met die hoofmotief. Pienaar doen 'n lofwaardige poging om die stryd in Kobie se gemoed tussen sinnelikheid en idealisme uit te beeld. Waar hy outobiografiese gegewens verwerk is daar 'n huiwering van egte ontroering in sy styl. Maar telkens bederf hy ons stemming deur alte opsetlike mooiskrywery. Elke motief moet tot die uiterste uitgebuit word, en in plaas van sielkundige dramatiek kry ons beredeneerde uit- {==336==} {>>pagina-aanduiding<<} pluising van motiewe. Weinig lesers sal glo aan die egtheid van die stem wat Kobie telkens aan sy hoë roeping herinner, want dis nie die noodwendige resultaat van innerlike ontwikkeling nie, maar eenvoudig 'n kunsgreep van die skrywer. Maar ten spyte van baie onvolkomenhede kan ons Pienaar tog uit hierdie jeugwerk dadelik herken as 'n skrywer met eie geluid. Hoe gebrekkig sy taalbeheersing ook al mag wees. hoe hortend en stotend die ritme van menige sin, hoe troebel sy beeldspraak, tog is daar brokstukke in sy werk waar hy ons verras deur die suiwere, gevoelige weergawe van sy siening. In sy beste oomblikke vind hy met onfeilbare sekerheid die fris, ongerepte Afrikaanse idioom, laat hy 'n geurige veldwindjie deur sy periodes waai en verras hy ons deur die fantasie van sy beeldspraak. Ruth (1934) In sy tweede werk is daar 'n aanmerklike styging waar te neem. Hy het nog nie al sy gebreke oorwin nie, want ook hier vind ons nog sintakties verknoeide sinne (o.a. op p. 1) of onbeholpe herhaling soos die volgende: ‘Die oorskietgeldjies is gebruik vir draad vir kampe, vir 'n dipbak....’ (p. 3). ‘Stijl’, het Anthonie Donker gesê, ‘veronderstelt geen proza met een groote P; de tijd der verheven onleesbaarheid ligt gelukkig zoo goed als achter ons, maar het veronderstelt het klare, suggestieve woord.’ Eienaardig is dit dat ons by Pienaar 'n verbinding van albei hierdie eienskappe vind. In sy strewe om suggestief en beeldend te skrywe verval hy dikwels tot geforseerde mooiskrywery, word hy beurtelings ouderwets retories of onverstaanbaar vaag. Een en ander wil ek toelig deur die aanhef van die skets Afgronde: ‘Golf die wye winde breed oor die grassate wat in aandskemering na boontoe lig, om sag weer weg te sink, dan kom daar 'n lome leegte in my siel, so diep, so duister-droef. Dan sterwe die lig van die dag. Rooi gloeilewe dit na, en uit die kruik van die nag bitter-swart dit reeds oor die nestelend-vouende berge gasige sluiers van verganklikheid....’ (p. 165). Suggestief word die stemming aangedui deur die deinende grassate in skemerende aandlig. Maar dan sterwe die dag soos by duisende ander skrywers. Met die nestelend-vouende berge sak Pienaar weg in die afgronde van onverstaanbaarheid, en in die ‘fluwele dieptes wat lok en verswelg’ sterf hy 'n retoriese dood. Dit sou miskien moontlik wees om 'n diepsinnige verklaring te gee van hierdie skets, maar ek meen dat die meeste lesers dit sal indeel by wat Donker genoem het: verheven onleesbaarheid. Presies dieselfde indruk maak die aanhef van die verhaal: Waarom? Hier word 'n fiskaal, wat tog seker een van ons onmusikaalste voëls is gepromoveer tot ‘poëties beestje’, wat sy hart ‘uitsing met volle klanke.’ {==337==} {>>pagina-aanduiding<<} By alle waardering vir die skrywer se fyn waarnemingsvermoë, sy tere gevoeligheid vir die wisselende kleurespel in die natuur, het die vraag tog by my ontstaan of Pienaar, as verteller, nie veel dieper indruk sou maak nie as hy al die hinderlike, aangelaste stylfranjes en al die fynuitgerafelde stemminge kon vervang deur 'n meer direkte verteltoon. Die singende fiskaal, ‘koorklaende dennenaalde’, ‘die eensame den wat droewig saamsnik’, ens. moet alles dien as inleidende situasie-voorbereiding by die beskrywing van Broertjie se afsterwe. Maar word hierdie matelose opstapeling van suggesties nie slegs van buite opgeplakte versiersels nie? As Broertjie sterf dan heet dit: ‘Buite sug die denneboom met swaar golwing, en 'n vlaag ruk soos 'n snikskud deur die dak van die sterfhuis.’ As die moeder op die kerkhof staan: ‘Meteens breek 'n tak, afgeleef en kermend, uit die bloekom by haar los.... ‘Meteens, asof iets van haar wegskeur, word sy gewaar, met vrees, ontsteltenis, jaloesie, afkeer, die nuwe lewe in haar!’ (p. 210.) Uit sulke voorbeelde blyk duidelik dat die spontane impulsie afwesig is. Die natuur word literêr beskou, dit moet dien as kunsmatige stemmingswekker. En deur sy angsvallige sorg om prosa met 'n groot P te skrywe laat die skrywer dikwels sy verhaal verstik. In hierdie selfde verhaal egter slaag Pienaar daarin om die smart van die moeder uiters suggestief te verbeeld deur een enkele plastiese détail - die voetspoortjies van Broertjie onder die appelkoosboom: ‘Vyf ronde kringetjies bly langer staan, een groter, en vier wat kleiner is, asof die vyf lewendige toontjies nog daarin druk’. Is dit nie veel suiwerder gesien as die sugtende denneboom en die ‘snikskud’ van die windvlaag nie? Ek gee u nog 'n voorbeeld van Pienaar se krag van evokasie. In die verhaal Die Dooie Gans word die onmenslike ondankbaarheid van die oudste seun in al sy afstootlikheid gesimboliseer deur 'n ‘geskenk’ aan sy sterwende vader. ‘In die verlate kombuis lê die dooie gans halfgepluk, die nek styf, met glaserige oë in die kop oor die rant van die blikskottel en die pote styf na boontoe....’ Mooi word in die begin die beklemmende atmosfeer aangedui as die vader se toorn losbreek oor die jongste seun. Hier is die natuursimboliek verhelderend, want die geweldige onweer daarbuite vorm 'n dramatiese agtergrond vir die storm in die gemoed van die hoofkarakters. Die natuur neem selfs deel aan die handeling, want die pragtige paleis van die oudste seun word deur die bliksem aan brand geslaan. Daar is nog ander verhale in die bundel wat getuig van Pienaar se beeldende talent. Ruth is kompositories minder bevredigend, omdat die {==338==} {>>pagina-aanduiding<<} skrywer te angsvallig daarna gestrewe het om sy Bybelse voorbeeld in alle besonderhede na te volg. Dit het sy blik op die Afrikaanse werklikheid enigsins vertroebel, maar hom tog nie belet om 'n lewendige verhaal te skrywe nie. In die oestonele verbly Pienaar ons deur fors, beeldende prosa. Die inleiding van Die Verraad vind ek verwarrend. Dit bevat 'n geslaagde karakteristiek van die kinderlewe in Fordsburg se agterbuurte en 'n simpatieke tekening van ‘die verlangste van 'n klein sieltjie wat wou losbreek van die vuil, maar deur die suigkrag daarvan neergetrek is.’ Ook in Daniël Hugot is daar treffende karaktertekening. Toe hy nog gesond was, wou hy geen opoffering maak vir die kerk nie, maar sodra die kruipende verlamming hom magteloos maak, word hierdie werklustige boer lewendig verteer deur die obsessie dat sy siekte 'n straf van God was omdat hy keer op keer 'n diakenskap geweier het. Alleen die slot van die verhaal is enigsins mat. Die kluisenaar van die vlaktes uit Ook een van ons het sy geestelike ewewig verloor deur die dood van vrou en kinders in die konsentrasiekampe. Na lange jare van eensame verbittering vertel hy soos Leipoldt se Oom Gert, ‘die storie van ons sterfte’ aan 'n besoeker. Dis 'n verhaal vol dramatiese spanning waarin die godslasterlike opstandigheid van die ou kluisenaar, maar ook sy diepere menslikheid kragtig en treffend tot uiting kom. Magte (1936). In 'n onderhoud wat verskyn het in die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring (1936) het Pienaar die kernidee van hierdie bundel kortverhale as volg aangedui: ‘Magte toon die flou weerskyn van 'n mens wat stry, teen magte wat hom stadigaan vernietig. Nie realisme nie, asseblief. Impressionistiese veë.... of die ekspressionistiese vormgewing; wilde uitbarstings van iemand wat ly.... Die raaisel van lewe en dood, die doel van ons bestaan, die lyding van die mensdom, die lewensmagte wat hulle gedurig om en in ons openbaar, al die dinge is brandstof vir die aangebore konflik-natuur, wat meer hou van 'n botsing as van 'n praatjie, meer van 'n waterval as van 'n gemoedelike stroom.’ Pienaar se afkeer van realisme, wat hy geringskattend ‘klein-gedoe-peuterkuns’ noem, moet ons nie te ernstig opneem nie. Hy dink blykbaar alleen aan daardie oppervlakkige soort ‘realisme’ wat tevrede is met 'n getroue weergawe van die werklikheid, maar dit nooit sinvol kan maak nie. In hierdie bundel toon hy trouens dat hy kan uitstyg bo die gewone kopieerlus. Ek dink byvoorbeeld aan die twee geselsende ooms in die inleiding van Elektra, en die tekening van oom Sias en tant Ralie in Die Aarde Wreek. Pienaar se teoretiese afkeer van realisme, sy voorliefde vir die ‘lewens {==339==} {>>pagina-aanduiding<<} konflikte van ontwikkelde mense’ het hom verlei tot 'n soektog na buitengewone motiewe, wat ons dikwels baie ver wegvoer van die gewone Afrikaanse werklikheid. Daar is by hom 'n strewe na universaliteit, 'n bewuste poging om die groot kernprobleme van die lewe aan te pak, met totale verwaarlosing van alle onbelangrike bykomstighede. Die werklikheid is alleen van belang omdat dit 'n onderdeeltjie vorm van die visioen wat hy gekry het op die lewensprobleem. Die verhalende gedeeltes bevat net genoeg besonderhede om die gang van die gebeure te suggereer, en wie nie met gespanne aandag lees nie, sal weinig begryp van die handeling. Maar in die kort, saaklike, nerveuse sinnetjies leef die ontroering van die skrywer, en daarom sê hy veel meer as met langgerekte beskrywings. In die meeste verhale sien ons die hooffigure spartel in die wurggreep van ‘magte’ wat vir hulle te sterk is. In Trofeë moet 'n sewentigjarige grysaard, wat hartstogtelik lief is vir die jag, eindelik hartseer erken dat hy sy laaste trofee kamp-toe gebring het. Jarelank het hy geweier om die vernietigende mag van die ouderdom te erken, maar uiteindelik, nadat sy liggaamskragte ineenstort, kry sy rustelose gees 'n blik op die ewige rus wat vir hom aanstaande is. - In Die Vraag ontmoet ons 'n aantal verminkte soldate wat na die Groot Wêreldoorlog terugkeer na Australië - hulpelose slagoffers van die oorlogmonster. - Die Aarde Wreek beskryf die droewige lotgevalle van 'n aantal mense op 'n pronkplaas waaraan 'n geheimsinnige vloek klewe. Faans Boshoff het die dogter van sy bywoner verlei, en haar sterwende vader het hom toegeroep: ‘Ek vloek jou, Boshoff.... Hierdie aarde van jou sal my dogter se moord wreek op jou en jou nageslag....’ Hierdie vloek word letterlik vervul want 'n reeks rampe tref die ongelukkige familie. Die belangrikste faktor in die verhaal is nie die mensbeelding wat taamlik konvensioneel bly nie, maar die vyandige natuurmagte wat die bewoners van die plaas met skrik en ontsetting vervul. Ofskoon Boshoff fluks vorentoe boer en die aarde maar ‘altyd gee,’ sak daar telkens ‘'n donker wasigheid’ uit oor Bordeaux. ‘Die goud van die westerlug verdwyn. 'n Geheimsinnige grimmigheid vertrek die hele natuur....’ Daar is 'n dreigende vyandigheid in die hele omgewing. ‘Dis in die lug wat hy inasem, dis in die gekrys van die aandvoëls, dis in die doodstilheid van roerlose veldgewas.... in die bedrukkende skemering.’ Hierdie vyandigheid van die natuur bestaan nie slegs in Boshoff se verbeelding nie, want dit word ook deur ander persone waargeneem. Eers nadat die vloek van die aarde versadig is deur die dood van Boshoff se laaste afstammeling kom die aarde los uit die ‘omknellende druk’. En dan dink die nuwe eienaar ‘aan die mens se niksbeduidenheid, sy begryploosheid teenoor ewige magte’. Boshoff se gelowige buurman, oom Sias, dink egter aan die Bybelwoorde: ‘Wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders....’ en aan Salomo {==340==} {>>pagina-aanduiding<<} se gesegde: ‘Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die Here rig sy voetstappe’. Pienaar bring ons so sterk onder die indruk van die misterieuse natuurdreiging dat ons die bo-natuurlike element, tydelik altans, sonder bedenkings aanvaar. Lisa. Treffend word die smart van 'n afgeleefde musicus in hierdie skets uitgebeeld onder die begeleiding van die trilnote van 'n kanarie. As sy stywe vingers sukkel om die klanke van sy gebroke simfonie aan te slaan word ook Lisa se ‘hartstogtelike lied’ beëindig deur 'n wrede kat - simbool van die vergeefse stryd teen lewensmagte wat te sterk was. Wraak bevat 'n baie eienaardige motief. 'n Verliefde skilder wreek hom op 'n jaloerse vader deur 'n skildery te maak waarop Marie as bergnimf voorgestel word. ‘Met sinnelike hunkering van die vroulike liggaam lewe dit na iemand wat sy tegemoet snel, laggende, vry met die volle sonliggloed op haar....’ By die aanskouing van hierdie skildery stort die vader ineen, oorwonne deur die sinlike magte in hom. Winkende Liggies. As Manie Ferreira voel dat die myntering hom langsaam maar seker begin doodwurg, dan sien hy die ‘winkende liggies uit 'n donker verlede’. In sy jeug het hy 'n wilde lewe gelei: ‘Wilde drinkneste, uitgelate liggaamverkoopsters.... bloedige slaanpartye....’ Nadat hy sy woeste drifte uitgeleef het, het hy vrede gevind in 'n huwelik met die plaasnooi Hester. Jarelank het alles goed gegaan, maar vandat hy worstel met ‘die klip in die bors’ het daar verwydering tussen Hester en hom ontstaan. En op 'n dag wat ons hom aantref op die mynhoop word hy oorweldig deur 'n onweerstaanbare begeerte om hom nog eenmaal, voordat die lewenskersie uitbrand, te werp in die wilde roeslewe van die grootstad. ‘In 'n slegte stadsdeel, bekend vir wilde roekeloosheid, het hulle die lyk gevind met bloed wat by die mond uitgeborrel het.... Winkende liggies het op die lyk hul uitgerinkinkte, hartstog-arme skynsel gegooi.’ Dis 'n pragverhaal hierdie, sterk deur indringende plastiek. Hoofsaak is, nie die liggaamlike folteringe van die gedoemde mynwerker nie, maar die skrynende hunkering van die magtelose na die woeste genoeëns van sy wilde jeug. Die magte van sy eie verlede oorweldig hom. Mooi is ook die slotverhaal Elektra. Woes laai die wraakhartstog in die hart van hierdie vrou, wat haar sterwende vader 'n gelofte gesweer het. Maar as sy na jarelange koestering van die wraakgedagte uiteindelik die geleentheid kry om dit uit te voer, knak sy inmekaar, terwyl haar liefde triomfeer oor haar haat. Hierdie bundel bevat ook nog twee simboliese verhale Verweerde Rotse en Dood en die Digter waarin Pienaar die soektog van die siel na die Skoonheid beskryf. Ek vind dit moeilik om die sinnebeeldige betekenis van al die episodes te begryp, en selfs na herhaalde lesing kon ek geen {==341==} {>>pagina-aanduiding<<} helderheid verkry nie. Tog bevat dit brokstukke wat getuig van oorspronklike siening. Pienaar het met hierdie bundel 'n oortuigende bewys gelewer van die erns waarmee hy sy taak as kunstenaar opvat. Hy is nog besig om te eksperimenteer, en ofskoon sy besorgdheid oor die vormgewende idee dikwels verlammend werk op sy verhaaltrant wat daardeur stroef en stram word, is hy tog een van die weinige vertellers wat werklik iets te sê het, omdat hy meer sien as die rimpeling aan die oppervlakte. § 21. S. Bruwer. Bodemvas (1929). Hierdie verhaal het heelwat beroering veroorsaak, omdat dit tydens 'n verkiesingstryd verskyn het en die berugte ‘rassehaat’ as hoofmotief het. Die publiek, wat Ampie in alle stilte ontvang het, het dadelik groot belangstelling getoon vir die probleem van die verhouding tussen die twee blanke rasse, en warm debatte is gevoer oor die stellings wat in Bodemvas neergelê word. As gevolg van hierdie omstandighede is die betekenis van die boek aanvanklik ver oorskat: Die sentrale tema is die botsing tussen die lewensopvatting van die bodemvaste Afrikaner, wat Suid-Afrika as sy tuiste beskou, en die Home- vaste Engelsman wat gedurende 'n tydelike ballingskap niks as veragting oor het vir die inwoners van 'n agterlike kolonie. Tussen hierdie botsende magte word die lewensgeluk van twee vroue, Hessie en haar dogter Lena, verbrysel. Die skryfster het haar taak heelwat vergemaklik deur as verteenwoordigers van die rasse twee uiterste tipes te kies. Oom Gerrie is 'n boer van die ou stempel, wat so verbitter is deur sy oorlogslyding, dat sy haat teen die Engelse onversoenlik is. Teenoor hom staan dr. Harold Carey, 'n tipe van die rooiste Jingo, wat as gevolg van 'n oorgeërfde meerderheidsgevoel tot die grofste belediginge in staat is. Sy mentaliteit blyk voldoende uit die volgende: ‘Die Dutch is vir hulle bestaan volkome afhanklik van Engeland se goeie guns, Lena, en hulle behoort dankbaar te wees dat die gemors wat hulle taal noem, nog hier toegelaat word.’ Tant Hessie doen 'n bangerige poging om die botsende lewensbeskouings te versoen: ‘Die tye verander. Ons moet saam met die Engelse leef. Wat kan ons doen? 'n Engelse vrou het my van die dood gered daar in die kamp.’ Dit laat oom Gerrie losbars in 'n hartstogtelike uitval, wat ons 'n diepe blik gee in sy gefolterde siel. As hy in stomme wanhoop uitroep: ‘Is dit dan nog net ek wat die Boeretradisies wil hooghou, daarop wil bou?’ dan staan hy daar vlak voor ons as die onversoenlike Bittereinder wat van die berugte ‘vergewe en vergeet’ niks wil weet nie. ‘Sy eie dogter het agter 'n rou Engelsman aangeloop’ - dit is die ergste ramp wat hom kon getref het - ‘the most unkindest cut of all’. {==342==} {>>pagina-aanduiding<<} Hy sluit hom op in sy ongenaakbare trots en merk nie hoe tant Hessie wegkwyn van moederverlange nie. Pas na haar dood, in die eensaamheid van sy ouderdom, begin hy te besef hoeveel verdriet hy veroorsaak het. As Lena dan berouvol terugkeer, vind die versoening plaas. Die gebroke grysaard by die bamboestafeltjie in die donker eetkamer - dit is 'n toneel wat 'n mens diep ontroer en nie maklik kan vergeet nie. Minder gelukkig was die skryfster in haar uitbeelding van dr. Carey. Na 'n kort tydperk van romantiese vertedering begin hierdie fynopgevoede man sy vrou baie onbeskof te behandel en word daarby nog 'n geldwolf wat na 'n hoë sosiale status strewe. Sy growwe belediginge prikkel Lena se nasietrots en laat haar twyfel aan sy liefde. As sy hom uiteindelik verlaat kom hy ook tot inkeer. Maar dis nie sy liefde vir Lena wat die deurslag gee nie. Sy vrou se gedrag het hom in verdenking gebring by sy jingovriende, en eers as hy self die slagoffer van rassehaat word, besef hy dat onkunde hom tot kleinsieligheid verlei het. Hierdie omkeer word egter alleen beredeneer en nie uitgebeeld nie. Die skryfster het soveel haat op Carey uitgestort dat hy slegs 'n karikatuur bly. Gebrekkig van uitbeelding is ook die Natalse atmosfeer. 'n Mens moet glo lank in Natal gewoon het voordat jy 'n begrip kry van die verfynde marteling wat die Afrikanersiel daar moet ondergaan. Lena se ervarings word wel deur 'n paar toneeltjies beskrywe, maar dit gee ons slegs 'n vlugtige kyk op die toestande van 'n vyftien of twintig jaar gelede. Die liefdesgeskiedenis van Aletta en ds. Stals staan heeltemal los van die hoofmotief en verbreek die eenheid van die verhaal. Behalwe in die tekening van oom Gerrie bring die skryfster dit nie veel verder as tipeskildering nie - soms baie oppervlakkig (vgl. b.v. Karel Ekke L.V.). Haar pogings om in te dring in die psige van haar karakters bly dikwels beperk tot uiterlike beskrywings of verstandelike beredenering: ‘'n Afgryslike rilling spoed deur sy liggaam.... Sprakeloos en na alle waarskynlikheid versteend, staar sy hom aan.... Tevergeefs probeer sy haar opbeur deur aan herinneringe vas te klem, want, o! die bittere eensaamheid, die leemte in haar wat so groot word dat dit soms voel asof sy daarin verswelg sal word....’ § 22. Dr. Anna de Villiers. Dr. Anna de Villiers, vertaalster in die staatsdiens, het aan die Stellenbosse Universiteit gepromoveer met 'n proefskrif: Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika (1934). Sterker as die Noodlot (1930). In hierdie breedopgesette roman word die lewensgeskiedenis van Dora Meyer in drie dele behandel. In die eerste periode, 1882, ontmoet ons haar as kind in die huis van haar grootouers, oom Jan en tant Alie. Haar {==343==} {>>pagina-aanduiding<<} moeder is oorlede, en ofskoon ons verneem dat haar vader haar liefhet, speel hy glad geen rol in haar lewe nie - wat erg onwaarskynlik is. Haar grootouers voed haar op volgens die tradisionele Boerebeginsels, wat baie onoordeelkundig toegepas word. Breedvoerig word Dora se skoollewe geskets, eers by die deftige Meester van Staden met sy Trap-der-Jeugdmetodes en ouderwetse tugmiddels, later by die verengelste Miss de Wit, wat probeer om die hele omgewing te angliseer en haar plaasleerlinge verbyster met die nuutste Kaapse metodiek. Hierdie stukkie beskawingsgeskiedenis trek in lewendige toneeltjies voor ons geestesoog verby, terwyl ons ook kennis maak met die gewoontes, sedes, kleredrag en opvattings van die plattelanders. Ofskoon ons Dora in allerlei situasies ontmoet, groei sy egter nouliks tot 'n aparte persoonlikheid. Sy is meer tipe as mens. Met die verhuising van oom Jan na die dorp weens siekte begin die tweede periode (1890). Dora kom veel in aanraking met Justus Hoffman, die dokter se seun, wat in die Kaap gaan studeer. Na oom Jan se dood volg 'n verlowing. Die verhouding tussen die twee jongmense word baie breedvoerig beskrywe en 'n lang hoofstuk word gewy aan die verlowingsfees. Die skugtere plaasnooi begin haar goed aanpas by die dorpse lewe en help dr. Hoffman met verplegingswerk. Sy onderneem 'n reis na Kaapstad om haar verloofde te groet voor sy vertrek na Duitsland waar hy in die medisyne gaan studeer. Daarna besoek sy haar vriendin, Helena, op Stellenbosch. Al hierdie gebeurtenisse gee die skryfster 'n geleentheid tot breë sedeskildering. Ons maak onder andere kennis met 'n deftige Kaapse familie, besoek al die besienswaardighede in Kaapstad, woon 'n toneelopvoering by, en leer ook heelwat omtrent die studentelewe op Stellenbosch. Dit lyk haas of sedeskildering vir die skryfster hoofsaak word, want die liefdesverhouding het die gewone konvensionele verloop en kan nouliks ons aandag gespanne hou. As Dora uitvind dat haar minnaar ontrou geword het, kom sy na 'n periode van insinking tot die besluit om ‘sterker as die noodlot te wees.’ Sy sal die minderwaardigheidskompleks, wat sy onder oupa se strenge regering ontwikkel het, kwytraak, 'n loopbaan kies en haar geestelike selfstandigheid herwin. Hierdie program word uitgewerk in die derde deel, wat in 1927 begin. Dora is dan 'n vrou van middelbare leeftyd en staan aan die hoof van 'n groot inrigting waar verpleegsters opgelei word. Haar rype lewenservaring en simpatieke geaardheid laat haar die raadgeefster van die jongmense word. Haar moeilikste probleem is die opleiding van Hedwig, die dogter van haar eertydse minnaar, wat deur 'n stiefmoeder gedwing word om die ouderlike woning te verlaat. Met Hedwig besoek sy haar niggie, Helena, tans predikantsvrou en moeder van 'n reeds volwasse kroos. Ds. Roux se kinders is ten spyte van die remmende pastorie-invloed almal ultra-modern in hul opvattings wat sterk kontrasteer met die eenvoudige, konserwatiewe begrippe van {==344==} {>>pagina-aanduiding<<} die vorige geslag soos in die eerste deel geteken. Al die kinders het 'n lewensprobleem, wat hul aan die simpatieke tant Dora voorlê. Pierre Roux wil professionele voetbalspeler in Engeland word, Doreen wil met 'n bloedverwant trou, François wil die universiteit verlaat om by die lugmag aan te sluit, Letitia het weer 'n huweliksprobleem, terwyl die geleerde Alida die manlike geslag met groot veragting behandel. Al hierdie ingewikkelde probleme word egter opgelos deur Dora se towerformule: sterker as die noodlot. Sy gee verstandige raad en laat die hulpsoekende besef dat elke mens sy eie lewenspatroon moet weef. Die derde gedeelte van die roman is vol spanning, en deur lewendige gesprekke kry ons 'n goeie kyk op die mentaliteit van die jongmense. Alte opsetlik word egter telkens die noodlot-idee op die voorgrond geskuiwe, en die sielkundige ontrafeling vermoei deur langdradigheid. Die skryfster het ongetwyfeld talent, maar sy het in haar eersteling 'n taak aanvaar wat nog ver bo haar vermoë was, naamlik die uitbeelding van die lewensideale van drie geslagte. Die Wit Kraai (1938). Ofskoon die Tweede Beweging met 'n historiese roman begin het, vertoon hierdie genre by ons nog 'n baie onontwikkelde vorm. Die enigste skrywer wat tot dusver daarin geslaag het om 'n aanneemlike oplossing te vind vir die groot moeilikheid: hoe om die historiese weergawe onverbreeklik saam te vleg met die eise van die skeppende verbeelding, was D.F. Malherbe in sy drie Bybelse romans. By Malherbe kry ons nooit die gevoel dat sy verhaal in twee helftes uitmekaar val nie, dat dit halfpad geskiedenisboek en halfpad roman is. Hy besef dat dit onmoontlik is om die wêreld te sien met die oë van Saul of Jeremia, omdat ons alleen ons eie oë kan gebruik. Daarom doen hy wat so baie ander kunstenaars reeds gedoen het en gee 'n verbeelding van die verlede soos 'n twintigsteeeuer dit sien. So het die skilders van die middeleeue met hul Bybelse taferele eintlik slegs Italianers en Vlaminge uit die veertiende en vyftiende eeu geskilder; so is die Grieke en Romeine uit Shakespeare se dramas niks anders as Engelse van die Elizabetaanse tydperk nie. Anna de Villiers se werk vertoon die tweeslagtige karakter wat 'n kenmerk is van so baie historiese romans. Haar tegniek is natuurlik heelwat meer verfynd as dié van ouer skrywers soos D' Arbez wat eenvoudig los stukke geskiedenis in sy verhaal ingelas het. Maar die historiese element oorweeg in so 'n mate dat 'n mens jou telkens moet afvra of dit nou wel nog 'n roman kan genoem word. Sy het haar ten doel gestel om sover moontlik 'n getroue rekonstruksie te gee van die Voortrekkerperiode. Omdat Hans de Lange die hoofkarakter is, moes die skryfster rekening hou met sekere vasstaande feite wat nie verwaarloos kon word sonder om die verbinding tussen haar figure en dié van die geskiedenis in gevaar {==345==} {>>pagina-aanduiding<<} te bring nie. Daardeur doen sy meteens afstand van 'n nogal belangrike element in elke roman, naamlik spanning. Die leser verkeer nooit in onsekerheid omtrent die hoofgebeure nie, want elke skoolkind ken immers die hoogtepunte van die Voortrekkergeskiedenis wat hier breedvoerig verhaal word. Die bietjie spanning wat daar tog ontstaan vind ons in die reaksie van die ondergeskikte karakters op die historiese gebeurtenisse waarmee hul persoonlike lotgevalle saamgeweef is. Die historicus laat altoos die meeste lig val op die onpersoonlike, massale, op die oorsake en gevolge van volksbewegings. Maar wat 'n roman interessant maak is juis die persoonlik subjektiewe uit die lewe van romanfigure as enkelinge beskou. As die skryfster ons minder joernalistieke beskrywings gegee het van bekende historiese gebeurtenisse, en meer aandag gewy het aan die alledaagse lewe, en veral die innerlik van haar karakters, sou die heroïese van hul prestasies baie sterker op die voorgrond getree het. Dis juis in hierdie opsig dat sy 'n tekort aan beeldende vermoë openbaar. Ek noem as voorbeeld die ontluiking van Elsie de Lange se liefde vir Izak. Hierdie Voortrekkerdogter eis in haar aanstaande die onverskrokke heldemoed wat sy in haar vader so bewonder. Maar wat 'n banale vryery gee dit af! Izak kry hartkloppings, die bloed golf deur sy are, sy hele wese smag na haar (p. 87), die liefde styg ‘tot oorstelpens toe’ in hom op, ‘'n warm stroom van geluk deurhuiwer sy wese’, en ‘hy voel asof sy voete hul aanraking met die aarde verloor het’. (p. 105.) Met sulke niksseggende sinnetjies is ons weer terug in die Johannes van Wyk-periode van ons prosa. Soortgelyke retoriese aardigheidjies debiteer die skryfster wanneer sy by die historiese hoogtepunt van haar verhaal kom. Pretorius en sy manskappe staan rondom Retief se graf: ‘Menige geharde Voortrekker wat daardie geraamtes in die oop graf aanskou, voel.... 'n gloeiende traan oor sy wang vloei, maar laat dit onbeskaamd sy gang gaan.’ (p. 138.) By die Moord van Blauwkrans: ‘Ligte veertjies, losgeskud uit kussings en bulsakke dryf met donsige swier deur die lug en daal langsaam na benede om die bloedbevlekte toneel voor die aangesig van die opkomende son te bedek.’ (p. 79.) Op kritieke momente hoor ons steeds die ‘skelle, onheilspellende gekrys’ van 'n groot swart kraai - uiterlike simboliek. En verder lees ons veel van die ‘ongerepte natuur’ en die ‘maagdelike aarde’. Met bostaande opmerkings wou ek alleen beklemtoon dat Die Wit Kraai die lewenswarmte mis van 'n spannende, hartstogtelike roman. Beskou ons dit as smaaklik toebereide historiestof, dan bevat dit baie besonderhede, uit vergeelde dokumente geput, wat ons voorstellingsvermoë van die Voortrekkertydperk kan verskerp. Die skryfster het haar baie moeite getroos om in die uiterlike vorme van die Voortrekkers se bestaan deur te dring. Sy het die terrein van die vernaamste gebeurtenisse besoek en skryf met kennis van sake oor die geaardheid van die landstreke waardeur {==346==} {>>pagina-aanduiding<<} die baanbrekers trek. In die dagboek van Erasmus Smit en die herinneringe van ander pioniers, soos opgeteken in Preller se Voortrekkermense, het sy 'n hele reeks gegewens gevind wat sy uitgebrei het tot lewendige toneeltjies. Daardeur kry ons 'n blik op die bedrywige lewe van die Trekkers, hul onderhandelinge met Kafferkapteins, hul krygsverrigtings en kerklike moeilikhede. Ons maak ook kennis met die jongmense wat af en toe askoek slaan en die ou hanekraai dans. Verder begryp ons iets van die ongerief wat die vroue op die gedurige omswerwings moet verduur en die kwellende onrus wat hul martel wanneer hul mans 'n gevaarlike tog moet onderneem. Besonder goed geteken is die verhouding tussen Catrina en die woelige Hans Dons wat maar altoos op die voorposte te vinde is. Selfs Panda se lastige geskenk van 'n mooi Zoeloemeid kan die harmonie tussen die eggenote nie verstoor nie. In haar ernstige siekte word Catrina tederlik versorg deur haar man, en wanneer die skaduwee van die galg oor hul lewensaand val, doen sy wanhopige pogings om Hans Dons se lewe te red. In hierdie slothoofstukke tintel daar iets warms in die skryfster se stem, hier bereik sy veel meer as aanskoulike uitbreiding van vader Smit se dagboekaantekeninge. Die historiese stof het hier nie slegs stof gebly nie, dis nie slegs 'n kunstige poging om die verlede nader aan ons te bring nie. Haar diepe meegevoel met die bejaarde Trekkerheld, wat na soveel jare van troue nasiediens, onskuldig aan die galg moet hang, het die skryfster in staat gestel om die tragiese heroïek van Hans Dons se laaste dae gevoelvol uit te beeld. Die historieskryfster word hier op die agtergrond gedring, die figure begin te lewe en daardeur kan ons ook sonder veel inspanning die hele agtergrond van hierdie klein Slachtersnek duidelik voor ons gees oproep. Hierdie verhaal kan uitstekende dienste bewys aan almal wat in ons Eeufeesjaar 'n poging wil doen om hul in te lewe in die werklikheid van ons volksverlede. § 23. Helmüth Luttig (Mev. Mc.Dermid). Mirre en Wierook (1931). Die kerngedagte van die roman lê hierin opgesluit: ‘'n Vrouesiel onder die illogiese mag van 'n beproewing wat eers verbrysel om dan op te bou en tot skone sielsloutering te lei.’ Hierdie gedagte word uitgewerk in die lewensgeskiedenis van twee vroue, Engela en Ria, en die man Cardross wat tussen hulle staan. Engela doen 'n verkeerde huwelik omdat sy nog te jonk is om die liefde van die soveel ouere Cardross te waardeer. Nadat sy veel ellende deurgemaak het en beide man en kind verloor het, verstaan sy eers sy gevoelens. ‘Bitter was die vergruising van haar jong lewe gewees, maar lieflik die geur van godsvrug en toewyding wat deur die offerande versprei is.’ Ria moet eensaam deur die lewe gaan, maar vind heling vir haar siel {==347==} {>>pagina-aanduiding<<} in verplegingswerk wat sy met edele selfopoffering verrig. By die sterfbed van Engela se seun ‘het haar skrynende sielswond genesing gevind, en is die liefde wat die lewenslot haar misgun het, gelouter en vergeestelik om as 'n welriekende offer op die altaar van 'n lydende mensdom gelê te word.’ Ongelukkig ontbreek dit die skryfster aan die beeldende vermoë om die lewenstragedie van hierdie drie persone tot 'n treffende realiteit te maak. Hulle bly skimme en word nooit warm-menslike figure met wie ons intens kan saamlewe nie. Hul lotgevalle en hul reaksies daarop word meer deur die sentrale idee van die roman bepaal as deur die gang van die lewe. Verdriet op verdriet word op die arme Engela gestapel; sy kry 'n onmenslike eggenoot, wat haar by elke geleentheid wil verneder, 'n gebreklike kindjie, wat soveel moet ly dat die skryfster terugdeins vir 'n volledige uitbeelding; haar ideaal om in Europa die sangkuns te bestudeer word telkens verydel; en ten slotte word sy finansieel totaal geruïneer deur 'n geheimsinnige belofte aan haar vader. Onder al hierdie teenslae bly sy steeds 'n engelagtige wese, want sy moet as bewys van die skryfster se stelling dien. Die strekking is egter so dik opgeplak dat ons nie kan glo in haar bestaan nie. Op dieselfde wyse moet Cardross 'n harde oefenskool deurloop om eindelik aan die end van die verhaal bevry te word van sy ongeloof. Dat ons hier met papier-psigologie te doen het blyk ook uit die ondeurvoelde taal, die geswolle beeldspraak, die boekerige dialoog. Die skryfster besit diepe lewenswysheid, en sy lê 'n welsprekende getuienis af van haar Christelike beginsels sonder om ooit opdringerig te word. Maar sy mis die gawe om haar beskouings in lewende gestaltes uit te beeld. Broers (1937). Ook in Broers speel die louteringsgedagte 'n groot rol. Jakob en Martiens is twee boswerkers wat gedurig rusie maak. Van kleinsaf het hul moeder, tant Joet, die sieklike Martiens voorgetrek en in 'n poging om die vrede te bewaar altoos die ouer broer tot inskiklikheid beweeg. Die onenigheid styg tot 'n toppunt as die geslepe Martiens deur 'n gemene lis Jakob se pronkboom annekseer en ook nog sy nooi van hom afrokkel. Jakob gee maar weer in en trek met sy moeder dorp-toe waar hy in 'n saagfabriek werk kry. Martiens en Hester kom albei tot inkeer deur sware beproewings, en na Martiens se dood word Hester tog die vrou van haar eerste minnaar. Hierdie geskiedenis is vol dramatiese momente, maar ongelukkig het dit nie tot weerspieëling van 'n stuk lewe gegroei nie. Die figure bly in die boek; die skryfster slaag nie daarin om hul so sterk te laat lewe dat ons voel of ons persoonlik met hul omgegaan het nie. Baie onoortuigend is bv. Hester se afvalligheid van haar eerste vryer geteken. Jakob vind haar houding ‘merkwaardig’, want 'n paar dae tevore was sy bereid om met hom te trou. En die leser moet hom tevrede stel met hierdie {==348==} {>>pagina-aanduiding<<} redenering: ‘Min het (Jakob) kon dink dat dit haar aan sedelike moed ontbreek om hom in sy nederlaag ter sy te staan.’ Hoe onmagtig die skryfster is om 'n groot krisis uit te beeld blyk onder andere uit die toneel tussen Jakob en sy moeder net na die bruilof van Martiens. Jakob het stilletjies die huis ingesluip nadat die bruilofsgaste weg is en eindelik sy moeder laat erken dat sy skuld het aan die loop van sake. Dan heet dit: ‘Hierdie beskeie skuldbelydenis versag Jakob se hart, want hy was aansienlik teen sy broer verbitter en hy voel nog opstandig oor die verraad wat hy gepleeg het in verband met sy liefdesgeskiedenis’. (Ek kursiveer.) ‘Aansienlik verbitter’ inderdaad! En dit nadat Martiens sy nooi afgevry het, sy ‘koningsboom’ deur lis ingepalm het en hom ook nog beroof het van sy regmatige aandeel in die wins! By so 'n boswerker, wat al jare gefolter word deur die knaende besef van veronregting, sou 'n mens eindelik dan tog 'n uitbarsting van woede verwag. Maar nee, die ‘aansienlik verbitterde’ sit ewe gedwee en smul aan Martiens se bruilofskoek! Hy kon gerus ook maar strooijonker gewees het! Ek het alle waardering vir die gesonde Christelike gees en rype lewenservaring waarvan hierdie novelle getuig. Maar van die mentaliteit van die boswerkers en van hul lewenswyse vertel dit ons heel weinig. Enkele saaklike opmerkings omtrent die boomkappery en die bewerking van hout is tog seker nie voldoende om die bosatmosfeer te suggereer nie. Hierdie broers werk wel toevallig in die Knysnabosse, maar ons merk heel weinig van die essensiële verband tussen die arbeidende mense en die onveranderlike aarde. En dié geheimsinnige verband moet so hartstogtelik ondergaan word dat karakterontplooiing en agtergrond onafskeidelik saamsmelt, sodat ons nie aan die verhaal kan dink sonder die omlysting nie. 'n Geslaagde proewe in hierdie rigting was Van den Heever se Somer waar die plaaslewe gesien word ‘in al die grootsheid van natuurperspektief’. Maar die gees van die boswêreld leef nie in die styl van Broers nie, daarin is geen aanvoeling van die oerkragte van die natuur nie. § 24. Sita (Mev. S.S. de Kock). Sita is reeds bekend as die skryfster van verskeie kinderboeke, asook Vonke, 'n bundel kort verhaaltjies en sketse, wat in 1931 verskyn het. In Vonke leer ons haar ken as 'n aangename vertelster, wat heel beskeie, met ongekunstelde eenvoud, prettig gesels oor interessante figure en gebeurtenisse. Goëlary, voorbodes, dolosgooi, boererate en toneeltjies uit die kinderlewe en sketse uit die Tweede Vryheidsoorlog - dit is die onderwerpe wat sy by voorkeur behandel. Haar karaktertekening is te oppervlakkig om ons te ontroer, maar sy het 'n gesellige verteltoon, wat af en toe deur 'n flonkering van humor verlig word. Haar goeie smaak het haar gevrywaar van vervelende banaliteite of sentimentaliteit, en haar {==349==} {>>pagina-aanduiding<<} skerp waarnemingsvermoë stel haar in staat om 'n volkstipe soms heel verdienstelik te teken. Hierdie snelverskietende vonkies kan 'n gesellige tydverdryf wees as die hele familie saans naderskuif rondom die wintervuurtjie. Op 'n hoër plan staan Uit Juffrou se Dagboek (1931). Die simpatieke Juffrou, hoof van 'n plattelandse eenmanskooltjie in 'n agterlike uithoek van die land, begin plasties te lewe, en die persone uit haar omgewing word mense van vlees en bloed, wat ons in die werklike lewe nog al eens ontmoet. Ons kry 'n duidelike beeld van Juffrou se gesukkel met agterlike, ondervoede kinders en dom-astrante ouers. Dis alleen haar liefde vir haar werk, haar warme simpatie vir die ontluikende kindersieltjies wat haar in staat stel om voort te gaan met haar pionierswerk. Spoedig moet sy ervaar dat die wyse professor Snooky se onderwysteorieë maar baie ontoereikend is in hierdie omgewing: ‘Om die kinders die a-b-jap te leer, is geen kuns aan nie - dis by die sielkundige sy van die saak waar die knoop lê.’ Hoe kostelik word die mentaliteit van beide ouers en kinders nie geteken nie deur die praatjies dat Juffrou in haar onderrok skool-toe kom, en deur die gestoei tussen die twee seuns wat naaste aan haar wil staan.... omdat haar hare so lekker ruik! Gaandeweg begin die hele omgewing met al sy mense en probleme vir ons te lewe. Daar is verskeie figure wat ons meteen aan Van Bruggen se armblankes herinner, o.a. die half-simpele mevrou Pypers, wat so dikwels in die ‘dubbeljoe’ raak en haar parmantige man, 'n tweede Goor-Dawid, met sy rykdom van ‘vrou en nege kjenners’. As afwisseling by al hierdie narigheid vertel Juffrou ons haar eie liefdesgeskiedenis, wat na 'n bietjie konvensionele misverstand heeltemal in orde kom. Eintlik jammer, dat sy so gou 'n ryk boerseun vind, want met hierdie eenvoudige notisies van haar daaglikse ervarings as skooljuffrou het sy 'n skone hulde gebring aan baie van haar kollegas, wat met veel persoonlike ongerief en liefdevolle opoffering hul edele werk van nasiebou voortsit in die onherbergsame gramadoelas van ons wye vaderland. Hierdie boek sal baie lesers vind omdat Juffrou so sonder literêre pretensies altyd eenvoudig, opreg en ongekunsteld vertel. In die vervolg, Juffrou op Reis (1937) beskryf sy haar wittebroodsreis na Engeland en Skotland. Janette (1937) is die geskiedenis van ‘'n dogter wat geen dame wou word nie’. Hierdie ‘kaalvoetwildernis’ gaan na 'n tante in Johannesburg om 'n verfyningsproses deur te maak. In die deftige stadswoning haal sy tallose fratse uit wat op baie luimige wyse geskets word. Jeugdige lesers sal geniet van die grappige teenstelling tussen die eenvoudige plaasgewoontes en die ingewikkelde stadsmaniere, deur haar onkunde waarvan Janette soveel vermaaklike flaters begaan. {==350==} {>>pagina-aanduiding<<} § 25. Mev. Miemie Louw-Theron. Mev. M. Louw-Theron (gebore 1898) het as kind saam met haar ouers die Tweede Vryheidsoorlog deurgemaak en was ook in die konsentrasiekamp op Standerton. Van haar het verskyn: Op Eie Wieke (1931) en 'n Wiel binne-in 'n Wiel (1935). Op Eie Wieke (1931). Die opdraande stryd van 'n weduwee met drie dogters, wat na die Engelse Oorlog terugkeer op 'n verwoeste plaas, word in hierdie verhaal geskets. Een van die dogters word moeg van die doellose plaaslewe en besluit om ‘op eie wieke’ te gaan drywe. Sy neem 'n betrekking aan as hulp in 'n ryk boerefamilie, waar sy veel onaangenaams belewe en van 'n moord beskuldig word. Daar ontmoet sy egter ook weer 'n vriend van haar jeug, wat haar beskerm en uiteindelik haar liefde win. Sonder enige literêre pretensies het die skryfster die lotgevalle van haar romanfigure opgeteken. Sy bly aan die buitekant, en slaag daar nouliks in om die leser te ontroer. Die uiterlike gebeurtenisse kan sy op bekwame wyse uitbeeld, maar sy doen haas geen poging om die innerlike sielslewe te openbaar nie. Waar sy dit wel aandurf, soos aan die einde van die verhaal by Jan Booysen, bly dit by 'n oppervlakkige opsomming, sonder enige dramatiese spanning. Tog besit hierdie beskeie skryfster enkele opmerklike kwaliteite. In die eerste paar hoofstukke het sy die lewe van twee plaaskinders met onmiskenbare talent geteken. Met die innige opmerksaamheid van 'n moeder slaan sy hulle ontwikkeling gade en selfs die geringste insidentjies blyk van groot belang te wees. Ook verras sy ons telkens deur die skerpsinnigheid waarmee sy die verhouding tussen gesinslede en kinders betrag. Haar krag lê nie in die skildering van heftige emosies nie, maar in die uitbeelding van huislike toneeltjies. Voortreflik het sy die ongemaklike posisie van Marieta in die Booysen-gesin begryp. Hier voel ons die fynvroulike intuïsie wat met klein, veelseggende trekke die huislike roetinewerkies skilder, op so'n wyse dat ons met al die huisgenote kan saamleef. Die gesonde lewenshouding van die skryfster en die gesellige manier waarop sy sonder enige poging tot mooiskrywery haar verhaal meedeel sal ongetwyfeld baie lesers aantrek. 'n Wiel binne-in 'n wiel (1935). In Op eie Wieke het hierdie skryfster baie verdienstelike kwaliteite geopenbaar. Haar jongste werk kan gekarakteriseer word as geskiedenis in aantreklike vorm. Deur middel van die lotgevalle van 'n paar families herleef ons die gebeurtenisse vanaf 1896 tot na die Vrede van Vereniging. Beskou ons die verhaal as historiese roman, dan kan dit nie geslaagd heet nie, want die mensbeelding is swak en die tegniek verouderd. Die skryfster se hoofdoel is om die geskiedenis van die woelige tydperk oor {==351==} {>>pagina-aanduiding<<} te vertel. Sy doen dit soms deur direkte meedeling, maar meestal deur die gesprekke of ervarings van haar hooffigure. Die Jameson-inval word beskrywe, die verwoesting van boereplase, die lyding van vroue en kinders in die konsentrasiekampe, die ondervindinge van hul mans as krygsgevangenes in Indië, die onderhandelinge op Vereniging, ens. Paul Kruger, Louis Botha en ander voormanne uit die groot stryd tree op in die verhaal, en deur die volksgeskiedenis word ook die liefdesverwikkelinge van twee paartjies gevleg. Die bou van die verhaal gelyk op die van D'Arbez en De Waal, ofskoon die skryfster geen jag maak op avonture nie, en met meer gevoel en innigheid skilder. Klaarblyklik is hierdie werk vir die jeug bedoel. Die herinneringe aan ons groot stryd begin al hoe meer vervaag, en hierdie simpatieke en lewendige uitbeelding van ons volksverlede is van groot opvoedkundige waarde. Die skryfster het 'n deeglike kennis van die periode, en die strekking van haar verhaal is kerngesond. Ofskoon haar hooffigure vaag bly, het sy ons 'n helder blik gegee op die hartstogte wat die volk beroer het. In die kamptoneeltjies word ons getref deur liefdevolle indringing in die leed van vrouens en kinders. § 26. P.J. Groenewald. Frans (1931). Frans is 'n dromerige plaasseun wat opgroei in die eensame Transvaalse vaalse gramadoelas. In die boerdery stel hy glad geen belang nie en al sy vrye tyd bring hy deur by 'n bergstroompie, waar hy kleipoppe maak en ongestoord kan mymer oor die vae ideale van sy droomwêreld. Frans het die kunstenaarstemperament, maar in die afgesonderde uithoek soek hy tevergeefs na 'n geesverwant wat hom kan help om vorm te gee aan die onbestemde gevoelens wat sy hart laat oorborrel. Met die koms van die jong Engelse boer, Billy Acton, begin hy enigsins rigting te kry. Billy kan so 'n bietjie oor kuns gesels en besit ook reproduksies van beroemde skilderstukke. Later neem hy Frans saam na Johannesburg, en in die kunsgalery gaan daar plotseling vir Frans 'n lig op. ‘Hier was die skone uitbeelding van gedagtes wat totnogtoe maar as fantasiefigure in sy gedagtewêreld rondgefladder het.’ (p. 35.) Frans raak meteens in ekstase oor ‘die strelende skoonheid van Rodin, die realistiese aantreklikheid van Epstein, die fyn besonderhede van Van Wouw se peperkorreltjies....’ Afgesien van die growwe onwaarskynlikheid dat 'n eenvoudige gramadoela-seun sommerso met 'n towerslag al die meesterstukke in die kunssaal kan waardeer, het die skrywer hier selfs geen enkele poging gedoen om Frans se eerste aanraking met die nuwe wêreld uit te beeld nie. Hy konstateer eenvoudig die ommekeer in Frans se gemoed en voeg daarby 'n paar banale opmerkings oor die indruk wat die winkelvensters, trems en motors op die seun maak. Grotendeels misluk is ook die weergawe van {==352==} {>>pagina-aanduiding<<} die konsert, waar Sarie Marais se sang 'n nuwe Frans laat gebore word. Dit is jammer dat die skrywer hierdie belangrike fase in Frans se ontwikkeling nie aangedurf het nie. want in die skildering van die eensame plaasseun se hunkering na die groot Onbekende het hy dikwels 'n innigheid van weergawe bereik. Na Frans se terugkeer van die uitstappie na Johannesburg, word die plaaslewe ondraaglik. Daar is gedurige wrywing met 'n onsimpatieke vader, wat sy vreemde aspirasies nie kan begryp nie. Buitendien tree sy suster in die huwelik, die enigste by wie hy tog darem nog troos gevind het. Ook kry hy boonop nog rusie met sy vriend Billy. In die tweede hoofstuk word vertel hoe Frans wegloop na die Goudstad. Van sy eerste stadsindrukke verneem ons maar weinig, en nog minder van sy omswerwings om werk te soek. Die naglewe van die stad word in 'n enkele sinnetjie aldus opgesom: ‘Een in hulle verveligheid was al die aande met hulle eentonige geblêr van tjankmusiek uit berookte sale....’ (p. 53). So 'n opmerking bewys duidelik dat die skrywer nie in Frans se bewussyn ingekruip het nie, maar eenvoudig sy eie waarnemings aan die seun opdring. Gelukkig bevat die bladsye wat hierop volg, weer bewyse dat die skrywer tog wel Frans van binne-uit kan teken. Ek dink b.v. aan die heimwee wat hom op sy verjaardag bekruip en sy eensaamheid te midde van die drukke stadsverkeer. Frans is nou 'n trembeampte en ook kunsstudent. In die kunssaal kom hy in aanraking met sekere Popman, 'n Vrystaatse boerseun wat oor onuitputlike geldmiddele beskik. Popman ‘dra uitheemse klere, aap die rolprentlewe na, neem kamma skilderlesse en noem homself'n Bohemer’ (p.62). Popman besorg Frans'n winsgewende betrekking as ‘kleurarties’ en sleep homin die maalstroom van nagtelike swelgpartye en twyfelagtige vermaaklikhede. Hierdie kastige Bohémien bly vir die leser 'n raaiselagtige karikatuur, en die beskrywing van die bacchanaliese fratse van sy ‘blanketselde wyfies’ is onoortuigend en soms onverstaanbaar. Popman is blykbaar die versoeker wat Frans wil bedwelm deur die uitspattinge van 'n plesierlewe en hom wil berowe van sy hoë kunsideale deur hom 'n maklike baantjie te besorg. ‘Soos 'n doepadrank het die aardige man se persoonlikheid (Frans) aangetas’ (p. 62). Teen hierdie verpestende invloed kom Frans se gesonde natuur egter weldra in opstand. Die ‘sieldodende basterkuns’ van die portrettefabrieke veroorsaak 'n walging. Hy smyt die verfbord teen die skildery van 'n naakte danseres waaraan hy besig was en begin ywerig aan 'n plaastoneeltjie. Maar die skeppingsvermoë ontbreek en wanhopig gaan hy troos soek in die natuur. Toevallig hoor hy die inspirerende liedjie van Sarie Marais op 'n grammofoon speel en dit gee hom die moed om te breek met ‘Popman en sy dekadente geselskap’. {==353==} {>>pagina-aanduiding<<} Nou begin die derde fase van Frans se ontwikkeling. Deur bemiddeling van 'n ratse Jood met 'n goeie besigheidsinstink kom Frans in aanraking met die Maasdyks. Die uitbeelding van ou Levie is goed geslaag. Afjakke verdra hy geduldig, as hy maar sy profyt kan maak. Die Maasdyks verskaf Frans nou eindelik 'n geleentheid om sy talent in 'n simpatieke omgewing te ontwikkel. Hy skilder die dekor vir 'n toneelstuk en win 'n oorsese studiebeurs deur 'n skildery. As hy hom klaarmaak om na Europa te gaan, kom egter 'n berig uit Die Hoek dat sy vader ernstig krank is. Hy moet terugkeer om sy hulpelose moeder by te staan in die boerdery. Op die sterfbed eers kom die versoening met sy vader wat hom die opdrag gee om vir sy moeder te sorg. Voorlopig word dus sy toekomsideale verydel. Maar Frans het deur 'n harde stryd in Johannesburg sy swakhede oorwin en die skeppingsdrang sal mettertyd tot volle ontplooiing kom. Die ewolusie van 'n jong kunstenaar is inderdaad 'n ambisieuse onderwerp vir 'n eerste werk. Groenewald het slegs gedeeltelik daarin geslaag om sy hooffiguur te objektiveer, terwyl ook die byfigure vaag bly. Af en toe kry ons wel 'n helder kyk op die karakters, maar dis soos die vinnige blits van 'n soeklig. Dadelik sak die duisternis weer toe en ons moet verder tevrede wees met wat die skrywer blootweg beweer. Daar is egter brokstukke lewende menslikheid in hierdie verhaal wat voldoende bewys dat Groenewald met meer konsentrasie en by rypere ontwikkeling goeie werk sal kan lewer. Die onderwerp wat hy gekies het, eis epies-psigologiese talent van die hoogste rang. Hy wou ons 'n beeld gee van die rustige boerelewe in Die Hoek, waar 'n eensame kunstenaarsiel sukkelend tot selfbewustheid geraak. Veel beter geluk hom dit as die skildering van die Goudstad se rumoerige lewe en Frans se reaksie daarop. Hy het wel iets begryp van die kunstenaar se worsteling met vage ideale, maar die uitbeelding het oppervlakkig en onoortuigend gebly. Tog voel ek daarin die gloed en die hartstog van 'n skrywer wat soos Frans heel moontlik nog die regte pad sal kry. Groenewald haat die enerse stylloosheid wat so baie van ons romans ongenietbaar maak. Hy soek na 'n besondere segging, hy wil prosa skrywe wat beeldend is, wat van sin tot sin suggestief van werking en geïnspireerd is. Hierdie strewe verlei hom ongelukkig dikwels tot opgeskroefde fraaiighede en laat hom akrobatiese toere met die taal uitvoer wat eenvoudig ons asem wegslaan. As hy ons byvoorbeeld wil vertel dat die weduwee Maasdyk nie weggekwyn het in tranerige droefheid nie, maar fluks gewoeker het met haar skryftalent om die toekoms van haar seun te verseker, skryf hy met komieklike bombas: ‘Marmer kruisies en trane was in elk geval nie Estelle se résumé van die lewe nie; die lewende monument van hul liefde kon nie op trane en kranse ontwikkel nie en die talent en gawe waarmee sy en Jan soveel aande in fantasie deurgemaak het, {==354==} {>>pagina-aanduiding<<} moes toe in wesenliker vorm 'n verskaffingsmiddel word’ (p. 82). Is dit nou nie in alle erns wat Langenhoven mal-kuns sou noem nie? Wie nog nie oortuig is nie kan p. 15 naslaan, waar ons lees van 'n juffrou met ‘'n suilerige uitwendige’ en ‘'n massa van konvekse terrasse’! Dit sou baie maklik wees om 'n vernietigende ontleding van Groenewald se stylfoute te gee, want op byna elke bladsy het ek taalslordighede, vergesogte en onsuiwere beeldspraak, gebrek aan ritmiese gevoel en verwronge sinsbou aangestreep. Hierdie swakhede val des te meer op omdat die skrywer sonder enige twyfel die gawe van 'n persoonlike styl besit. Hy verras ons telkens deur alledaagse dingetjies op diep-gevoelige wyse aan te dui, maar bederf dan weer ons stemming deur die sotste taalgebrou. Ná die veelbelowende aanhef van hoofstuk II (1), stuit ons, b.v., plotseling op hierdie swak gestileerde sin: ‘In sy ore klink daar die hoongille en baljaar die trappe af van sy gaste’ (p. 49). Ondanks hierdie gebreke egter is daar, veral in die eerste gedeelte van die verhaal, waar die rustige Hoek-samelewing geskilder word, baie toneeltjies wat tref deur fynheid van uitbeelding. Ek dink b.v. aan die sangkompetisie tussen Hannie en Mieta (p. 22); aan Hannie wat die groot geldnood van haar man skoon vergeet as sy die kans kry om so skelmskelm by die dolosgooier haar liefste wens te uit: ‘'n Stel blikke met netjiese inskripsies daarop.... Tee, Koffie, Suiker, Rys’ (p. 24); aan tant Fiena wat stilletjies die harde lekkergoedjies in haar roksak wegbêre (p. 30). In hierdie gedeelte van die verhaal het Groenewald eienskappe aan die dag gelê wat my met belangstelling sy volgende werk laat afwag. § 27. Lulu Brewis. Lulu Brewis, onderwyseres in Kaapstad, het gepubliseer: Marietjie (1932), 'n roman en Niko,Die Dromer, 'n kinderverhaal uit die dae van die Groot Trek (1935). Marietjie (1932). Dit is 'n breedopgesette verhaal - oor die vierhonderd bladsye fyndruk. Die eerste gedeelte is meer reisbeskrywing as verhaal, terwyl in die tweede gedeelte die bespreking van maatskaplike vraagstukke die meeste ruimte beslaan. Marietjie se geskiedenis is alleen van belang omdat dit die skryfster 'n geleentheid bied om haar reisindrukke op te teken, haar beskouings oor kuns, letterkunde, musiek, armblankes, vrouestemreg, kinderopvoeding, dorpse kleinsieligheid en wat dies meer sy aan die man te bring. Daardeur word die werk as roman ongenietbaar, want die opsetlike uitstalling van kennis is beslis hinderlik. Die skryfster gee oorvloedige blyke van 'n fyn ontwikkelde kunssin, en haar beskouings oor sosiale vraagstukke getuig van 'n gesonde oordeel. Sy ontwikkel haar opvattings op aangename wyse en verdedig haar oortuigings met soveel vuur dat dit die leser tot ernstige oorpeinsing aanspoor. Vir die meeste {==355==} {>>pagina-aanduiding<<} Afrikaanse lesers sal die fyn ontwikkelde Marietjie dus 'n interessante persoonlikheid wees, wat hulle sal wegvoer uit die oppervlakkigheid van die daaglikse sleur. Maar die skryfster het nie begryp dat 'n roman iets anders is as 'n reeks verhandelinge wat met veel geleerdheidsvertoon uitgewerk word nie. Marietjie word op onkonvensionele wyse opgevoed deur mnr. Graham, 'n ontwikkelde Skotsman, met wie sy na die afsterwe van haar ouers trou. Hy beswyk egter op die huweliksreis na Skotland, maar sy jong weduwee word hartlik opgeneem in die Graham-familiekring. Gedurende haar langdurige verblyf in Skotland ontmoet sy 'n Afrikaanse teoloog wat in Nederland studeer. Die liefdesverhouding tussen Marietjie en Ben Hugo word met 'n weeërige sentimentaliteit geteken: ‘'n Magtige opwelling van langverkropte hartstog bruis deur sy hele liggaam, en met wilde minnedrif druk hy haar vas aan sy bors, terwyl sy lippe 'n vurige minnaarskus op hare pers.’ Ten spyte van 'n ‘minnekoors’ wat sy liggaam en siel verteer, en 'n ‘sengende jaloesie’, wat hom sy geestesewewig laat kwyt raak, word Ben Hugo die respektabele predikant van Wilgersdorp, 'n Vrystaatse dorpie. Reeds in die eerste paar maande gaan hy so op in sy werk dat hy sy lieftallige vroutjie skoon verwaarloos. Nog erger dinge gebeur, want Marietjie se ruim opvattings bring haar in botsing met die ouderwetse begrippe van die gemeente se steunpilare, en ds. Hugo stel haar steeds in die ongelyk. Die gevolg is rusie en verwydering, maar die motivering van Ben se onverskilligheid teenoor sy vrou is onoortuigend. Sake kom tot 'n krisis as Ben se neef blyke gee van sy liefde vir Marietjie, wat deur maandelange getob ernstig siek word. Daardeur kom Ben eindelik tot inkeer. Met 'n tweede reis na Skotland sluit die verhaal. In die tweede gedeelte gee die skryfster 'n interessante skildering van die menigvuldige probleme waarvoor 'n plattelandse dominee en sy vrou te staan kom. Daar is kleingeestige en skinderlustige gemeentelede, wat hul in hul werk belemmer, maar ook troue helpers wat hul nuwe inspirasie gee. Ofskoon Marietjie as roman teleurstellend is, behoort dit deur sy opvoedkundige elemente nuttige dienste te bewys. Dit sal baie lesers tot 'n besef van hul geestelike armoede bring. Niko, die Dromer (1935). In Niko, die Dromer is daar ook 'n sterk didaktiese element, maar die skryfster het veel beter daarin geslaag om dit in die verhaal self te verwerk en kon daardeur opsetlike uitweidings vermy. Sy wil jeugdige lesers 'n beeld gee van die daaglikse lewe van die Voortrekkers. Niko, die hoofpersoon, is ‘'n nuttelose krukspringertjie’ ten gevolge van kinderverlamming. Hy is digterlik aangelê, leef naby die natuur, en het 'n uitgebreide kennis van plante en diere. Eensaam groei hy op en dis alleen {==356==} {>>pagina-aanduiding<<} sy moeder wat simpatiek luister ‘na sy fantasieë, sy romantiese stories, sy verbeeldingryke vertellings van lugkastele en ander wêrelde....’ Ná haar dood vind hy 'n geesverwant in Marianna, met wie hy 'n hegte vriendskap sluit. Dis haar geselskap wat hom opbeur op die lang trekpad, want sy gebreklikheid maak hom oorgevoelig vir die bejammering van die seuns, wat hom weens sy hulpeloosheid onder die meisiekinders reken. Dit word sy groot ideaal ‘om tog maar net eendag iets vir 'n ander (te) kan doen - iets om 'n ander mens te help of gelukkig te maak.’ Deur sy deeglike veldkennis bewys hy die trekkers belangrike dienste, terwyl sy boekekennis hom 'n bekwame onderwyser vir die jeug maak. Die skryfster het hom met soveel edele karaktereienskappe toegerus dat hy wel alte brawe-Hendrikagtig word. Teen die end van die verhaal red hy ook nog die lewe van sy sustertjie deur haar met sy eie liggaam teen die asgaaisteke van die Zoeloes te beskerm. In die loop van die verhaal word ons onder andere meegedeel hoe die Voortrekkers koeëls en kerse gemaak het, hoe 'n huwelik in die laer bevestig is, en in watter speletjies die jongspan vermaak gevind het. Ons kry 'n goeie insig in die moeilikhede met sendelinge en kaffers wat die grensboere uiteindelik gedwing het om weg te trek. Piet Retief en ander historiese figure tree ook in die verhaal op en so word Niko se lewensloop ingevleg in die groot geskiedkundige gebeurtenisse. Die skryfster se poging om so 'n belangrike periode uit ons wordingsgeskiedenis as nasie aanskoulik voor te stel vir jeugdige lesers, het grotendeels geslaag. § 28. Abraham H. Jonker. Jonker is in 1905 op Boshof gebore. Op Stellenbosch het hy in die regte en in die teologie gestudeer. Vanaf 1930-32 was hy reisende organiseerder van die Nasionale Party in Kaapland. Later word hy lid van die redaksie van Die Burger en Die Huisgenoot. Hy was ook een van die redakteure van die kritiese tydskrif Ons Eie Boek. Sedert 1936 is hy assistent-hoofredakteur van Die Suiderstem. Van hom het verskyn: Gebeurtenisse (1931); Die Kanker van die Jare (1932); Die Plaasverdeling (1932); Bande (1933); Die Trekboer (1934) (vervolg op Die Plaasverdeling); Najaar (1935); Maskers (1938). Jonker se eerste verhale het in 1931 onder die titel Gebeurtenisse in die serie Almal se Boeke verskyn. Dit voer ons terug na die woelige tydperk tussen die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë toe oom Koot Eloff 'n plaas met winkel gehad het op die transportpad tussen Kimberley en Johannesburg. Oom Koot en sy wakkere seuns kom telkens in botsing met gewapende rowers, maar Swart Hans en sy bende moet eindelik die onderspit delf. Die twee verhale in hierdie bundel is uitstekende ontspanningslektuur. Ook Die Kanker van die Jare (1932) moet ons as ontspanningslektuur {==357==} {>>pagina-aanduiding<<} beskou, ofskoon die lugubere onderwerp daarin behandel party lesers sal afskrik. Hein vermoor sy half-idiote vrou, nadat hy haar jarelank geestelik en liggaamlik mishandel het. Die hoofmotief is egter die opsporing van die moordenaar waaraan 'n speurder feitlik sy hele lewe wy. Oom Leendert en tant Trynie is die enigste figure wat ons meer as oppervlakkig interesseer, maar dit bewys dat Jonker, as hy sy taak ernstig opvat, goeie werk kan lewer. Die Plaasverdeling (1932). Daar is skrywers wat deur een enkele sinnetjie meer sê as ander in 'n lang hoofstuk. Jonker het agtien hoofstukke en byna vierhonderd bladsye nodig om 'n plaas te verdeel tussen twee broers. Nou is dit wel waar dat die gehalte van 'n roman nie bepaal word deur die spannende gebeurtenisse daarin vervat of deur die belangrikheid van die behandelde onderwerp nie, want Jochem van Bruggen het ons geleer dat die lewe van 'n nietige sukkelaar soos Ampie genoeg tragiek en humor bevat vir 'n breedopgesette roman wat ons diep ontroer. Jonker besit egter nie die gawe om sy mense deur 'n suggestiewe plastiek so uit te beeld dat hulle meteens helder voor ons geteken staan nie. Hy kan 'n indruk alleen skep deur 'n geduldige uitrafeling van motiewe of deur 'n omslagtige beskrywing. Hy is so sekuur-presies en pynlik noukeurig dat selfs die nietigste handeling, wat vir die gang van die verhaal van geen betekenis is nie, opgeteken moet word. Daarom het hy dan ook vierhonderd bladsye nodig. Ek voel oortuig dat hierdie roman veel leesbaarder sou gewees het as die skrywer dit gekonsentreer het tot op ongeveer die helfte van sy teenswoordige omvang. As hy hom meer toegelê het op die karakteropenbarende handeling en ook rekening gehou het met die fantasie van die leser, sou 'n groot gedeelte van die breedsprakige beskrywings en omskrywings goedskiks kon gemis word. Op die Karoplaas Langverwag woon die Reys-familie, bestaande uit 'n bejaarde, sieklike vader, die oudste seun Jacob, wat verantwoordelik is vir die saaiery, en Antonie, die skaapboer. Tydens die leeftyd van die vader word Jacob se inhaligheid in geringe mate beperk, maar hy slaag tog daarin om betreklik weelderig te lewe, terwyl Antonie 'n bywonersbestaan voer in 'n hartbeeshuisie. Hierdie toestand van sake word vergemaklik deur die feit dat Antonie onder 'n minderwaardigheidskompleks gebuk gaan en slegs selde sy regte laat geld. Sy moeder, reeds lank dood, het hom altoos beskerm; sy broer Hannes moes ná 'n heftige rusie met Jacob sy aandeel in die plaas opgee in ruil vir die geld aan sy opvoeding bestee. Met hierdie twee bondgenote uit die pad word Antonie 'n maklike prooi van die intrigerende Jacob. Ons weet egter te weinig van die voorgeskiedenis van die familie om hierdie toestand sommer voetstoots te aanvaar. Die vader leer ons ken as 'n waardige, regskape persoon, wat {==358==} {>>pagina-aanduiding<<} veral daarop uit is om die vrede onder sy kinders te bewaar. Onverstaanbaar is dit dat hy blind vir die listige skraapsug van Jacob en voor sy dood geen stappe gedoen het om deur 'n billike verdeling van die plaas 'n botsing te voorkom nie. Nog onverstaanbaarder is dit dat Hannes, wat deur Jacob se toedoen onterf is, sy broer afskeep met 'n vae raadgewing sonder om hom daadwerklik by te staan by die verdeling. Hy tog, as ontwikkelde man, moes ten volle begryp het hoe maklik Jacob sy onervare broer sou kon bedrieg. Jonker besef nie voldoende nie dat die uiterlike lewensfeite van weinig belang is. Wat ons veral interesseer, is die geheimsinnige groeiproses van 'n persoonlikheid, want die dade wat vir die buitewêreld waarneembaar is, is gewoonlik maar 'n swak weerklank van spannende dramas wat in die inwendige werklikheid reeds klaar afgespeel is. Ons sou die botsing tussen die broers en die tragiese ondergang van Antonie veel beter begryp het as die skrywer ons 'n kyk gegee het op hul ontwikkeling. In die verhaal vind ons geen aanneemlike verklaring vir die opvallende standsverskil tussen Jacob en Antonie nie. Jacob is 'n intelligente boer, vol ondernemingsgees en op sy besigheidsgebied besonder begaafd. Antonie, wat saam met hom onder een dak opgroei, het die tipiese bywonermentaliteit. Van skape mag hy veel af weet, maar wat besigheid betref, is hy veel dommer as Ampie. Sy hele lewenswys is dan ook die van 'n agterlike armblanke. So 'n toestand van sake is natuurlik denkbaar, maar sonder deeglike motivering laat die geval ons koud. Het die skrywer sy gegewens so ingespan om die aftakelingsproses by Antonie makliker te maak, of het hy hom te veel laat beïnvloed deur figure soos Ampie of Malherbe se meulenaar? Ek meen dat laasgenoemde gissing die juiste is. As ons egter die gebrek aan motivering oor die hoof sien, dan is daar veel in die Antonie-figuur wat met treffende waarheid geteken is. Die eerste gedeelte van die roman bevat weinig wat ons ontroer. Daar is meer breedte as diepte in die tekening en geen aanduiding dat die verhaal uit artistieke noodsaak ontstaan het nie. Sonder merkbare geesdrif word die gebeurtenisse opgesom en geduldig vervolg die skrywer sy ongestileerde struikelgang.... bladsy na bladsy. Nie dat Jonker swak en sorgloos skrywe nie, want met enkele uitsonderinge is alles taalkundig korrek. Maar sy stem is deurgaans klankloos en mat, en in plaas van uitbeelding kry ons maar alte dikwels slegs haarfyne verslaggewing. In die tweede gedeelte egter, word die skrywer se gemoed met deernis bewoë vir die sielige Antonie, wat by elke draai deur sy broer uitoorlê word, totdat hy met sy uitgehongerde skapies die erfdeel van sy vadere moet verlaat om die trekpad op te gaan. Hierdie gedeelte is werklik deurleef en bewys dat Jonker die aanleg het om veel beter werk te lewer. Hulpeloos staan Antonie teenoor die buitewêreld. Daar in die veld tussen sy skape weet {==359==} {>>pagina-aanduiding<<} hy presies wat om te doen, maar in geselskap raak hy dadelik oorbluf. In sy eie huis egter is hy 'n tiran wat meedoënloos sy vaderlike gesag handhaaf en vergoeding vind vir die stampe en stote van die buitewêreld in die matelose verering van sy versufte Bekka. In die begin waag hy enkele halfhartige pogings om hom te versit teen Jacob se baasspelery, en in 'n parmantige bui begin hy selfs 'n eie, aparte rekening by die dorpswinkelier. As sy optimistiese verwagtings oor die boerdery verydel word, dring hy op 'n definitiewe verdeling van die plaas aan. By hierdie transaksies word hy natuurlik totaal uitoorlê deur die geslepe Jacob, wat die sake egter so plooi dat Antonie hoogs tevrede is met sy minderwaardige gedeelte. Mooi word die opflikkering van Antonie se selfstandigheidsgevoel en sy trots as plaasbesitter uitgebeeld deur die draadspan-episode. Hierdie draadheining is die simbool van sy onafhanklikheid, en met kinderlike opgewondenheid droom hy oor 'n gelukkige toekoms. Antonie se diepste wesensgrond word meteens vir ons verklaar - nie deur 'n langgerekte beskrywing nie - maar deur 'n paar rolle draad en pale, die tasbare teken van 'n verborge sielelewe. Die siel tog is onsigbaar, soos die Nederlandse kriticus Donker opmerk, maar 'n voorwerp op die regte tyd en in die juiste verhouding gesien kan alles verklaar. Die dinge het deel aan ons handelinge, in die handeling word hulle vir 'n oomblik deel van onsself, ‘een tastbaar verlengstuk der ongrijpbare ziel.’ (Vgl. in hierdie verband ook Hans-die-Skipper se nuwe skuit.) Maar Antonie se onafhanklikheidsdroom is van korte duur. 'n Sware droogte laat sy vee by honderde vrek en as die rekeninge en aanskrywings instroom, vlug hy weer met patetiese hulpeloosheid na.... Jacob! Die wêreld word vir hom te nou en hy weet van geen ander uitweg nie as.... trek! En Bekka, wat selfs in hierdie uiterste nood nog nie twyfel aan die goeie oorleg van haar verstandige eggenoot nie, tref die voorbereidsels vir die uittog met 'n stoïsynse kalmte. By die afskeid kom die listige Jacob, tans besitter van die hele Langverwag, sy broer 'n vyfpondnoot in die hand stop.... En die eerlik-onnosele Antonie aanvaar die aalmoes met erkentlikheid. Die draad moet Jacob maar vat in afbetaling van sy rekeninkie.... Met innige gevoel het die skrywer die slotepisodes van die verhaal uitgewerk. Hy het wel geen verrassende meesterwerk gelewer nie, maar 'n leesbare roman met onmiskenbare kwaliteite. In 'n volgende werk verwag ons meer konsentrasie op die dramatiese brandpunte, 'n hergroepering van gegewens wat alle omslagtigheid oorbodig sal maak. Ons waardeer die getroue skildering van die plaaslewe in hierdie roman, maar mis die grootse visie wat die lewe van hierdie boere omhoog hef uit die eenvoudige weergawe van hul daaglikse doening en hul lotgevalle omskep tot 'n beeld van diepe menslikheid. {==360==} {>>pagina-aanduiding<<} Die Trekboer (1934). In Die Trekboer is daar 'n opmerklike styging waar te neem. Die skrywer se verhaaltegniek het soveel verbeter dat hy alle omslagtigheid kon vermy. Daar sit veel meer gang in hierdie verhaal, die karaktertekening is forser, die styl is inniger, die plastiek meer direk en suggestief. Antonie Reys is op die trekpad met sy vermaerde skape, nadat hy sy plaas oorhandig het aan sy broer Jacob, wat die groot skuld by die winkelier vir hom moet vereffen. Sonder vaste plan volg hierdie arme sukkelaar die grootpad. ‘Maar watter planne is daar nou ook eintlik om te maak, ja? Jy moet maar net bly sit totdat die vee op die een plek te veel doodgaan.... dan trek jy weer.... trek tot waar die aarde eendag weer groen word - as daar so 'n plek is.’ Aangrypend is die skildering van die doellose swerftog van die groententbokwaentjie oor die onherbergsame kaal vlaktes van die Groot Karo, waar die genadelose son mens en dier folter met sy skroei-hitte. Met soebat en smeek kry Antonie darem hier en daar 'n staanplekkie, of as dit nie wil help nie, probeer hy imponeer deur 'n naïewe ‘kapok-astrantheid’, 'n houding waarin hy gesterk word deur oom Jool se aansporing om die Karo-boere ‘op te dons’. Ons hart word met deernis vervul vir hierdie patetiese mannetjie wat so te vergeefs spartel om hom te handhaaf teenoor sluwe medemense, en wat so hulpeloos staan teenoor die genadelose natuur. In die uiterste ellende, as dit lyk of hierdie eertydse grondbesitter onherroeplik tot bedelary moet verval, ontstaan daar 'n roering in daardie lewenlose menseklomp, Bekka. Deur die ontberings van die trekpad en die steeds aangroeiende stapel skaapvelle word hierdie trae siel eindelik wakkergeskud uit die dromerige verering van haar held, Antonie. Die late bewuswording van die botte Bekka, die langsame groei van haar selfstandigheidsgevoel, wat haar daartoe dwing om haar papbroek-man opsy te skuiwe, word met oortuigende egtheid uitgebeeld. Die eerste ligstraaltjie kom as sy begin twyfel aan Antonie se besigheidsvernuf by die verkoop van die osse. Sy verduidelik die saak aan Herklaas, haar vyftienjarige seun, en vind in hom 'n verstandige en gewillige bondgenoot. As die moedelose Antonie op sekere aand van Verkluis af kom, platsak en raad-op, dan neem Bekka, ondersteun deur Herklaas, die leiding oor. ‘Skielik staan Bekka op. In die halfdonker van die vuurlig lyk haar gestalte tweemaal so groot as anders. Klein Antonie by die agterwiel verkrimp daarteen in nietigheid.... Ons kan nie hier bly sit en vrek nie. Ons moet maak soos Herklaas sê! Ek sê ook so!’ Met hierdie ultimatum verloor Antonie die laaste steunseltjie in sy {==361==} {>>pagina-aanduiding<<} lewe. Hy ‘krummel inmekaar.’ Dis 'n toneel vol dramatiese spanning, waarin ons die skrywer op sy beste sien. Nou gaan die trek na Grootrivier se delwerye waar Bekka die treurige oorskietsel van die skape, tans egter in goeie kondisie, op voordelige wyse aan die delwers verkoop. Antonie word waterryer, maar Bekka dra die beurs. Nog eenmaal beleef hy 'n triomf en kan hy hom, soos vroeër op Langverwag verlustig in 'n skyn van vernaamheid. In 'n oomblik van swakheid gee Bekka hom die geld om 'n kleim te koop. Maar sodra hy 'n diamant vind, herwin sy haar gesag. Met 'n paar kragwoorde verwilder sy Antonie se dronk maats en sluit die geld in die koffer op. Eindelik is sy vir goed die baas. In die ruwe delwersgemeenskap het sy geleer om haar man te staan en 'n weinig later het die eertyds so skamerige en mensskuwe Bekka die moed om 'n lastige skoolraadsekretaris met 'n besem te verwilder. Vinnig word die degenerasieproses by Antonie voltooi. Hy is liggaamlik en geestelik 'n wrak, uitgewerp deur die maatskappy waarin hy hom nie kon handhaaf nie en liefdeloos geduld deur sy eie vrou en seun, vir wie hy slegs 'n belemmering is in hul stryd teen dreigende verarming. As hy daarin slaag om hulle deur 'n oulike plan uit te oorlê en tabak- en drinkgeldjies te bemagtig, verkneukel hy hom oor sy kastige slimmigheid! Op 'n dorpie langs die Vaalrivier word die laaste trekgoedjies verkoop en vind die gesin van die uitgeboerde Karoboer 'n tydelike rusplekkie. Antonie versleg al hoe meer en gedurig is daar rusie met Bekka. In wanhopige verbittering stryk hy eendag die huis uit en verongeluk na 'n drinkparty. Herklaas kry 'n betrekking in 'n winkel, en bygestaan deur die werksame Bekka sal hy wel daarin slaag om die Reysgesin uit die ergste armoede te red. Droogte, winkelskuld, verbande, verarming op die trekpad, vlug na die delwerye en eindelik 'n bouvallige huisie in 'n agterstraat - die ganse tragedie van ons armblankedom het Jonker uitgebeeld in hierdie familiegeskiedenis. Dis 'n droewige relaas van langsame verwording, van dreigende verkaffering, wat nogeens, soos 'n tiental jare gelede by die verskyning van Ampie, ons verpolitiekte volk tot eendragtige aksie behoort aan te spoor. Terwyl ons met chauvinistiese selfgenoegsaamheid ‘die stoere Voortrekkers’ verheerlik op ons volksfeeste, laat ons hul nakomelinge doodwurg in gestadige verarming. In baie van hulle, soos in Herklaas en sy moeder, leef daar nog half verstikte kiempies van outydse deeglikheid, wat deur liefdevolle sorg weer tot volle wasdom kan ontwikkel. Maar deur dreigemente van die wet sal ons hierdie verbitterde mense slegs tot onverstandige verset prikkel. Bande (1933). As daar geen buitengewone belemmeringe bestaan nie, dan bereik elke mens in die maatskaplike lewe, nie wat hy wens nie, maar daardie {==362==} {>>pagina-aanduiding<<} trap van ontwikkeling waartoe hy bekwaam is. Mislukking en sukses hang van ons geestelike aanleg af; ons word wat ons in aanleg is. Soos die plant 'n ontvouing is van die plantaardige beginsel wat in die kiem opgesluit is, so beweeg die lewensproses voort deur selfverwerkliking. Vryheid, leer die psigoloë ons, is nie soewereine willekeur nie, maar gebondenheid, gebondenheid van die mens aan homself. (Bierens de Haan). Wie sy drifte beheers is vry, maar in sover ons die heerskappy van die omstandighede ondergaan, oordeel en strewe volgens plaaslike, tydelike of standsvooroordele is ons onvry. 'n Mens, wat meer vak as mens is, meer joernalis of skoolmeester as mens, is onvry, omdat hy gebonde is aan ander groothede as aan homself. Die sewe hooffigure met wie ons in hierdie bundel kennismaak is almal aan bande gelê deur die lewe. Giel, die enigste kind van oom Egbert en tant Wynie, is van kleinsaf gewend om in alles sy sin te kry. By sy tuiskoms van die universiteit hang hy die groot meneer uit en beskou die eenvoudige lewe op 'n ‘gevrekte’ plaas met weersin. Hy waardeer nie die opofferinge wat sy ouers reeds gemaak het om sy studie te bekostig nie, maar eksploiteer hul liefde tot op die uiterste. ‘'n Mens kan tog nie anders nie. Jy is gebonde aan wat jy as jou toekoms beskou....’ Met hierdie selfsugtige redenasie dwing die ontaarde seun sy fyngevoelige vader om geld te gaan leen by 'n hoogmoedige buurman, en beroof hy sy ouers van die laaste pondjies wat hul vir hul eie behoeftes op sy gesit het. Maar selfs nadat tant Wynie toevallig uitgevind het hoe ondankbaar haar verwende kind is, offer die ouers blymoedig alles op om Giel gelukkig te sien. Ook hulle kan nie anders nie, want hul het die enigste kind só lief. ‘Alles wat ons voor gewerk het, is tog maar syne....’ Diep ontroerend is die offervreugde van hierdie eenvoudige egpaar. Gedeeltelik is die las wat hulle dra die gevolg van die verkeerde opvoeding wat hul Giel gegee het, maar hul handel volgens hul eie innerlike geaardheid en sondig deur te veel liefde. In Op die Stoep is Donna, 'n onderwysersvrou, die hooffiguur. 'n Ongelukkige huwelik met 'n man, wat slegs aandag het vir sy werk en glad geen kyk op haar innerlike behoeftes nie, laat by haar 'n vae hunkering na 'n nuwe geesverwantskap ontstaan. Deur haar lektuur en die briewe van 'n vriendin uit Johannesburg kry haar gedagtes vaster vorm, totdat sy in 'n droom 'n avontuurtjie met 'n ander man beleef. Al die boeie van haar eentonige bestaan as ‘voorbeeldige onderwysersvrou’ val van haar af; sy herwin haar persoonlikheid en eis die reg van die moderne geëmansipeerde vrou om haar uit te leef. Maar selfs in haar droom word sy verskrik deur die kritiek wat haar gedrag uitlok van die inwoners van die plattelandse dorpie ‘met sy beperkende invloede en skinderpraatjies’. En as haar man huis-toe kom skink sy ewe gedwee sy koffie! Hierdie verhaal gee ons 'n mooi blik op die onbestemde verlangens wat {==363==} {>>pagina-aanduiding<<} daar in Donna se onderbewussyn lewe. Sy mis die vermoë om haar te verhef bokant die kleingeestigheid van 'n skinderlustige gemeenskappie, en haar lyding bestaan in 'n onmag om haar innerlike ewewig te handhaaf. So het elke lewe sy tragedie, wat nie juis aan die buitekant sigbaar hoef te wees nie, en wat deur die meeste mense met 'n meer beskeie naam aangedui word, omdat dit in klein afmetings afgespeel word. Ook by Klaas, kleinboer uit die Onder-Karo, is daar 'n knaende hunkering om weg te kom uit die vervelende eensaamheid van sy ou plasie. Maar hierdie dromerige sukkelaar staan hulpeloos teenoor die praktiese sin van sy vrou, wat al sy plannetjies om 'n beskeie deel lewensgeluk te bemagtig, meedoënloos laat verongeluk. Simon, 'n werklose, styg vir 'n paar uur bokant die begrensdheid van sy persoonlikheid as hy onder die inspirasie van 'n paar biertjies die bewondering van 'n klompie baliekluiwers geniet. Dit gee hom die moed om hom te ontworstel aan die tirannie van 'n half-idiote vrou, aan wie hy deur 'n liggaamlike gebrek tog onderdanigheid moet betoon. Maar sy triomf is kort van duur, want sy oorweldig hom met die besemstok, en daarby mis hy ook die geestelike krag om sy posisie te handhaaf. Nicolay Theunis, die persman, het deur 'n oordrewe werkywer slegs 'n verlengstuk van die setmasjien geword. Sy voelhorings vir die ongewone in die lewe is so afgestomp dat selfs 'n wêreldramp vir hom alleen as nuusberig enige betekenis het. So is daar baie mense wat gebore word en sterwe in die beweging van die lewensradere sonder dat hul ooit bespeur het wat die beweging in gang hou. Hulle verrig hul arbeid, ondergaan leed en vreugde en sit hul bestaan voort. Van die sin van die Lewe begryp hul niks, bokant die laagvlakte van hul daaglikse gewoontebestaan kan hul nie opgehef word nie. Karel van Arlen voer 'n wanhopige stryd teen die droogte. ‘Die natuur is harder as enige mensehart. Dit spot met sy kinderagtige pogings om lewe in hierdie doodsbeendere te bewaar.’ As die nood op sy hoogste is kry hy 'n geleentheid om kontant geld in die hande te kry deur veld te verhuur aan 'n trekboer. Maar met edele opregtheid weier hy. Die droogte, wat hom met totale verarming bedreig, het nog nie sy siel aangetas, kan nie sy menslikheid oorweldig nie. Die reën sal kom, as daar maar Elia's is wat op Karmel kan bid. Tog besef hy diep sy onmag teenoor die onbarmhartige natuur. ‘Ons het hier opgeskiet soos plante in die veld. Ons groei is hier en ons sterwe hier as daar nie uitkoms is nie. Ons het van kleinsaf geleer om alles in die grond te waag, want ons lewe is uit die grond; en as die grond ons nie meer wil voed nie, dan sterf ons soos die veldgewasse.’ Diep laat Jonker ons besef die tragiese gebondenheid van die boer. Daar is, helaas! slegs weinig boere wat met soveel hoogheid van karakter hul lyding ondergaan, of deur innerlike wapening die krag vind om geduldig die tydstip af te wag ‘wanneer uit {==364==} {>>pagina-aanduiding<<} Gods erbarming in die bloue hemel 'n wit wolk verrys.’ Die slot van die verhaal mag enigsins geforseerd lyk, maar dit doen weinig af aan die ontroerende skoonheid van die geheel. Jonker het ons in hierdie bundel 'n oortuigende bewys van sy kunstenaarskap gegee. Hier het ons eindelik weer 'n skrywer wat met innerlike bewoënheid die geheimsinnige trillings van die Lewe opgevang het - 'n skrywer wat afsteek na die diepte en nie tevrede is met 'n beskouing van die rimpelinge aan die oppervlakte nie. Die noodwendige begrensing van sy stof deur die vereistes van die kortverhaal het sy kuns ten goede gekom en hom bewaar van die wydlopigheid wat ons soms gehinder het in sy eerste roman. Bande is sonder enige twyfel 'n belangrike bydrae tot ons langsaam ontwikkelende prosakuns. Najaar (1935). Najaar bevat werk wat op dieselfde hoë peil as Bande staan, maar ook enige verhale wat blykbaar uit 'n vroeëre tydperk dagteken. In die eerste afdeling is dit veral Oumatjie Gaan Winkel-toe, Vader-Moeder, Die Steenmaker en Hoe Die Dood Vertraag Is wat tref deur innigheid van toon en gaafheid van uitbeelding. Oumatjie gaan ewe moedig alleen per trem na die groot basaarwinkel in die stad, maar deins terug as sy met die glytrap na die eerste verdieping moet opstyg. Sy sal liewer op die hysbak wag, maar doen intussen 'n heerlike dutjie. Toe die vriendelike bestuurder haar wek, skaam sy haar só dat sy verbouereerd huis-toe keer.... sonder haar inkopies. Jonker se gemoedelike humor verleen aan hierdie tagtigjarige moedertjie se avontuur 'n besondere bekoring. Skrynend is die dowwe wanhoop in Vader-Moeder waar 'n verlate eggenoot sy sieklike seuntjie verpleeg en versorg, en 'n antwoord probeer vind op die uitgesnikte vraag: ‘Maar Pappie, waar is Mammie dan?’ Daar is geen breedvoerige ontleding in hierdie verhaal nie, maar deur die gedrag en gebare van 'n vriend word die wanhoop van die gemartelde vader aan ons geopenbaar. In Die Steenmaker gebruik Jonker 'n reeks herinneringsbeelde om die lewensloop te skilder van 'n moedige grysaard wat ná eindelose geswoeg beswyk onder 'n las wat vir hom te swaar was. Kostelike humor vind ons in Hoe die Dood Vertraag Is. Oom Piet Janse kan maar nie sterf nie omdat hy sy vrou bedrieg het deur 'n verhouding met Mietjie, die wasvrou. As hy ná 'n daelange worsteling eindelik tot 'n bekentenis kom, dan vra ‘kwaai tant Marja’ saaklk: ‘En wie was die vrou?’.... ‘Mietjie.’ As dit nou iemand andérs was, die dokter of die posmeester se vrou.... Maar die ou wasvrou....! En haar eenvoudige waardigheid het hom in sy belediging heftig verset. ‘Sies! Daardie ou ding!’ {==365==} {>>pagina-aanduiding<<} En tant Marja draai haar om, spuug in die hoek van die kamer in veragting en stap nukkerig, met kop hoog in die lug, die deur uit.... Maar in die eensaamheid kom kwaai tant Marja tot inkeer, en na die versoening vind oom Piet sterwensvrede. Ook in Antula-Jan is daar mooi momente ofskoon die slot onoortuigend is. Verrassings en Die Amateur-Psigiater is van minder belang, terwyl die geheimsinnige figuur van oom Eduard beter by die eerste groep verhale pas. Op al hierdie mense val die sombere lig van 'n triestige najaarsdag. Die lewenson sak langsaam weg en met stille ontroering luister ons na die plegtige stem van die skrywer wat huiwer van innige bewoënheid oor soveel menslike leed. Maar hoe word die najaarsomberte van hierdie moeggeleefde wesens nie verhelder deur die sagte glimlag van die humoris nie, wat die oumensgedagtes met soveel begrypende simpatie kan vertolk! Vroliker van toon is die tweede afdeling, Onder Boere, waar die lawaaierige Piet Renier soveel omslag maak oor 'n dagvaarding, en die bangerige oom Valie aan diamantsiekte ly. Ook in hierdie ligtere vertellings hou Jonker ons belangstelling vas deur goeie karakteristiek, grappige verwikkeling en 'n mooi afgeronde slot. In die laaste afdeling, Lente, vertel hy met 'n studentikose vrolikheid van die kaskenades van 'n paar jongkêrels onder die nooiens. Daar is Frits wat so wysgerig oor blou oë kan redeneer en van die liefdespel 'n verfynde tydverdryf gemaak het. En die swaarwigtige Gerrit, wat hoë intellektuele eise aan sy nooi stel, maar uiteindelik tog ontdek dat ‘offervaardigheid in die hart van 'n mooi vrou meer is as grootheid van gees.’ So word die sombere najaarstemming afgewissel deur lentevreug. Maskers (1938). In Bande was die sentrale gedagte die gebondenheid van die mens. In hierdie bundel is dit maskers waaragter die hooffigure hul innerlikste wese probeer verberg. Hulle word egter deur sekere omstandighede in 'n krisis gewikkel waardeur ons 'n verrassende blik kry op hul ware karakter. Eben Diederik word algemeen beskou as 'n gevoellose mens, 'n nugtere materialis, wat van mening is dat geen barmhartigheid aan armes moet betoon word nie omdat die sterkstes, volgens 'n onverbiddelike natuurwet, altoos sal oorwin. Op straat red hy die lewe van 'n kind, maar die dankbetuigings van die erkentlike ouers laat hom wegkruip agter 'n skans van kille onverskilligheid. Wanneer Eben egter in doodsbenoudheid verkeer, ontdek sy vriend dat hy al die jare weggekruip het ‘in daardie tronk van sy aangekweekte lewensfilosofie’ - net om sy gevoeligheid te verberg. (Die Kordaatstuk.) Sterker van spanning is die tweede verhaal (Die Geheim). Hierin die wanhopige stryd van 'n fabrieksvroutjie wat haar uitgeputte liggaam elke oggend werk-toe sleep nadat sy snags haar siek kindjie verpleeg {==366==} {>>pagina-aanduiding<<} het. Deur 'n ongeluk kan sy een oggend nie opdaag nie en as haar bejaarde moeder die loon gaan haal word Lila se dubbele geheim verraai. ‘Op kantoor moet Lila die een ding verswyg.... (dat sy 'n gesin onderhou) tuis verswyg sy die ander (dat sy deur liggaamlike uitputting onbekwaam is vir haar werk). Vasgevang is hierdie vroutjie in die genadelose raderwerk van die ekonomiese masjien. Wie hom nog die omslagtige verteltrant van Die Plaasverdeling herinner, sal aangenaam verras word deur die saaklike segging van hierdie bundel. In onderstaande tekening van die fabrieksbedrywigheid vertel die skrywer nouliks, maar die leser sien en hoor. Elke kort sinnetjie is 'n trek wat ons onmiddellik deur 'n paar presiese woordjies in die raserige fabrieksdrukte bring. Soos in 'n film flits die tonele verby, vinnig en abrupt sonder verklarende ontleding. Ons lees nie iets oor 'n fabriek nie, ons word sommer tussen die kletterende ystermonsters ingegooi waar die swoegende meisies gryp en pluk. Haastig is die lewe, en wie swak en moeg is soos Lila word meedoënloos uitgesmyt. ‘Die groot kamharke van die masjiene jaag ratelend op en neer. Rye, rye staan hulle in die lang fabrieksaal. Soos grypende kloue daal kamhark na kamhark. Haastige vingers gryp.... ruk weg.... gryp in die kluwe materiaal wat uitpeul.... teruggekam word, uitpeul. Sjag.... gesjaggesjag! Rye en rye van swoegende meisies in blou gekleed. Vingers en ysterkloue.... Swart- en blond-gelokte koppe wat vorentoe en agtertoe wieg. 'n Geroesemoes van stemme. Heupe wat heen en weer wieg onder die gejaagde inspanning.... breë heupe.... rietskrales. Alles wentel in een groot kluwe van masjinale bedrywigheid.’ Uit so 'n sitaat blyk dat Jonker nou deur die ‘nuwe saaklikheid’ bewus geword het van wat genoem is die elektrisiteit van die taal. Tog het hy, soos so baie ander skrywers van hierdie rigting, nie ontkom aan die gevaar om te veel nadruk te lê op die sigbare werklikheid nie. Die titel Maskers, en die bondige toepassing daarvan op elkeen van die sewe verhale, bring ons onder die indruk dat die skrywer dwarsdeur die buitekantse kors van huigelary en aanstellery gaan dring om ons 'n blik te gee op die innerlikste roersels van die mens. Maar dit is juis in hierdie opsig dat Jonker ons teleurstel. In Die Geheim en Die Troos kan ons die skrywer van Bande herken. Verbysterd en verslae steek die jong predikant sy hand stadig uit na die verlate eggenoot wat hom daarvan beskuldig dat hy ongeregtigheid en oorspel wil bedek: ‘Ons ken almal mekaar so sleg.’ Daardeur voel ons meteens die tragiese humor van die situasie. Die trooster, wat so mooi gepraat het van ‘die salwende liefde van God’, moet nou ervaar dat sy kennis van die mensehart erg oppervlakkig was. Maar sulke indringende plastiek is skaars in die orige verhale. Daarin bewonder ons wel die joernalistieke vaardigheid, die boeiende bondigheid van ekspressie, die ratse milieutekening, maar mis tog die gloed en die {==367==} {>>pagina-aanduiding<<} hartstog van die kunstenaar wat deur sy skeppende vermoë die raaisel van die mensehart ontsluier. Wat verhaaltegniek betref toon Jonker ook hier sy meesterskap, veral in die uitwerking van satiriese motiewe. Kostelik is die manier waarop die kale bluf van Jan Wieremse aan die kaak gestel word. Hierdie uitgeboerde boer, wat, soos baie van sy soort, 'n lui-lekker lewetjie voer in die stad waar sy vrou swoeg om 'n losieshuis aan die gang te hou, probeer om homself 'n air van vernaamheid te gee deur duistere sinspelings op vroeëre geldtransaksies. 'n Paar gewikste stadskelms besorg hom 'n benoude nagtelike avontuur, maar kom self bedroë uit, want sy masker het twee kante gehad! (Biljart-Maats.) Satiries is ook die tekening van die deftige mev. Sannie Niemaer wat in haar oormatige ywer om sosiale werk te doen so beledig word. (Liefdadigheid.) En die strenge skoolvos, wat sy seun so wetenskaplik straf, maar dan ontdek dat hy tog maar weinig weet van die kindernatuur. (Strafwerk.) Hoe moet ons hier nie glimlag oor die onverwagte neerlaag van die kastige pedagoog nie! In Die Fout is daar vermaaklike toneeltjies en interessante verwikkelinge as gevolg van die beledigde prestige van 'n hoofklerk en die jaloesie van sy vrou. Besonder goed geteken is die rol wat die seuntjie, Kido, speel. Hierdie bundel beteken, artistiek beskou, geen styging in Jonker se kuns nie. Hy is besig om in 'n nuwe rigting te eksperimenteer. § 29. Regina Neser. Mev. Neser het 'n groot aantal kortverhale in tydskrifte gepubliseer en dit later gebundel in Biesies in die Wind (1932) en Maats (1933). Verder het sy twee langer verhale geskryf: Die Verstoteling (1932) en Kinders van Ismael (1933). Mev. Neser het 'n intensiewe studie gemaak van die sielkunde van die kind, en teken soms met veel gevoel sy vreugde en smart, die kronkelinge van sy fantasie en sy reaksie op verkeerde behandeling deur ouers, wat hom vertroetel en verwen, of anders afstoot. Maar dis selde dat sy ons kan oortuig van die egtheid van haar uitbeelding, omdat die verhale meestal te opsetlik ‘mooi’ afgewerk is, en omdat byna al haar kinders 'n grootmenstaal praat. Feite kan sy skerp waarneem, maar in die voorstelling daarvan gaan die waarheid verlore deur sentimentele oordrywing. In Die Verstoteling word die lewensloop van 'n gevalle vrou geskets. Dis 'n breed opgesette verhaal vol spannende situasies. Kinders van Ismael wil 'n beeld gee van die tragiese bestaan van die ‘blanke’ kleurling, wie se lewensgeluk telkens weer verwoes word deur die onverbiddelikheid van die oorerwingswet. In albei verhale lê daar genoeg brandstof opgestapel om 'n wêreldbrand te veroorsaak. Daar is botsings van geweldige hartstogte, verwoesting van ideale, die duiwelse intriges van 'n {==368==} {>>pagina-aanduiding<<} verbitterde vrou, die skokkende nasleep van rassevermenging benewens moord en doodslag. Maar al hierdie vuurwerk laat ons onbewoë, want daar is geen sprake van psigologiese deurdringing nie. In plaas daarvan vind ons al die welbekende eienskappe van die bioskooproman. Skaduweeagtige figure, wat vir geen enkele oomblik hul eie lewe leef nie, tree in melodramatiese tonele op en deklameer op ouderwets-retoriese wyse. Luister maar hoe 'n predikants-weduwee haar seun wat sy van ontug verdink, te lyf gaan: ‘Jou onbeskryflike wellusteling! Natuurlik sal die drang na vleeslike genot en lae, liggaamlike belustiging jou oormeester op die oomblik wanneer jou verfoeilike aandrifte eindelik daarin geslaag het om my verbryselde gelukswêreld op my onskuldige hoof te laat neerstort!’ (Die Verstoteling.) Of luister na 'n stukkie beskrywing: ‘Maar stadig staan Essie op, terwyl haar magnetiese oë die weduwee boei, sodat sy onwillekeurig stil bly staan, onmagtig om haar eie oë af te neem van die vlammende vonke wat uit Essie s'n spat.’ ‘Vlammende vonke’ ja, en vulkaniese uitbarstings. Genoeg om gans Afrika op sy grondveste te laat sidder. Maar met al haar warme liefde vir die gevalle vrou en die ongelukkige kleurling kan die skryfster ons nie ontroer nie. En vir wie enigsins taalgevoelig is sal haar retoriese en anglisistiese styl 'n pynigende kwelling wees. § 30. Helen Blackmore. Helen Blackmore, mev. E.D. Lewis, is in die Karo gebore, maar het haar opleiding as onderwyseres in die Oostelike Provinsie ontvang. Sy was medewerkster van verskeie Engelse blaaie, en het ook veel vir Die Huisgenoot geskrywe. Van haar het verskyn: Kind van die Veld (1933), 'n Goedhartige Man (1935) en 'n kinderverhaal: Toe Liesbet nog klein was. Kind van die Veld (1933). Die bekoring van hierdie boekie lê in sy ongekunstelde eenvoud. Die skryfster laat Anna Lourens haar eie geskiedenis met so 'n openhartige eerlikheid vertel dat ons geen oomblik aan die egtheid daarvan kan twyfel nie. Dis die dagboek van 'n reine veldkind, wat die Karo hartstogtelik bemin, maar deur ekonomiese omstandighede oorgeplant word in 'n onsimpatieke dorpsomgewing waar kleingeestige, konvensie-vaste mensies haar natuurlike groei belemmer en haar volksliefde probeer smoor. Anna is die kind van 'n Afrikaanse vader en 'n Engelse moeder. Reeds van jongsaf ontstaan daar 'n innige sieleverwantskap tussen haar en haar vader. Haar moeder sit egter vasgeroes in haar Engelse vooroordele en kan Suid-Afrika eenvoudig nie liefkry nie. Ofskoon die vader 'n saggeaarde man is, wat soveel moontlik die vrede bewaar, word sy lewens- {==369==} {>>pagina-aanduiding<<} geluk tog verwoes deur die onvermoë van sy vrou om haar te vereenselwig met sy Afrikaanse ideale. Hy vind egter kompensasie in die liefde van sy dogter, wat hy opvoed volgens die Afrikaanse tradisies. Onbenydbaar word sy posisie as hy weens finansiële moeilikhede gedwing word om die plaas te verlaat en wolkoper vir sy swaer te word. In die Engelse omgewing van Wes-Auckland word die verhouding tussen vader en dogter nog inniger, terwyl die moeder haar meer en meer terugtrek in stugge afsondering. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog sluit die vader by die Boere aan en sneuwel. Die skryfster het besonder goed daarin geslaag om ons 'n blik te gee op die verhouding tussen vader, moeder en dogter. Ofskoon dit aan liefde in die gesin nie ontbreek nie, veroorsaak die fundamentele verskil van volksideaal gedurig onaangename wrywinge wat almal ongelukkig maak. Anna staan trou aan haar vader se kant, maar win ons agting deur die simpatieke manier waarop sy probeer om ook haar moeder se gevoelens te verstaan. ‘Ek het haar toe in 'n nuwe lig gesien; ek het vir die eerste maal besef dat haar liefde vir my vader haar heeltemal onbesonne in 'n nuwe omgewing oorgeplaas het, een waarvoor haar opvoeding en smaak totaal ongeskik was. En as ek dink aan wat sy alles op die eensame plaas, en nou weer op hierdie agterlike ou dorpie moes deurgemaak het, dan het ek haar inniglik jammer gekry. Geen wonder dat sy nie juis 'n groot bewondering gehad het vir die Afrikaanse volk nie; in haar gemoed was hul onafskeidelik verbind met al die ontberings waar sy al mee te kampe gehad het’ (p. 177). Uit so 'n enkele aanhaling al blyk duidelik dat Anna veel kon vergewe, omdat sy langsamerhand 'n heldere begrip gekry het van haar moeder se tragiese stryd. Die ellende van so 'n ongelyksoortige huwelik is inderdaad 'n interessante motief wat in ons letterkunde meer aandag verdien. As ons dink aan die tallose huwelike tussen Afrikaanse studente en uitlandse nooiens, dan kan ons met reg verwag dat die aanpassingsproses van die Nederlandse, Amerikaanse of Skotse vrou by ons Afrikaanse toestande nog dikwels in ons romans sal beskrywe word. Selfs ons eie land bied 'r uitgestrekte terrein vir die skrywer wat hom wil inlewe in die ellende veroorsaak in baie families deur uiteenlopende volksideale. Helen Blackmore het ons in elke geval weer op besonder taktvolle wyse getoon dat niemand sy volksaard ongestraf kan verloën nie en dat duursame lewensgeluk haas onbereikbaar word wanneer man en vrou tweërlei volksideale aanhang. Vroeër of later ontstaan daar 'n botsing en in die onsalige nasleep daarvan word ook die kinders se geluk verwoes. Luister maar: ‘Daardie rustige atmosfeer wat altyd in ons huisie geheers het, was nou nie meer daar nie, en vir die eerste keer in my lewe het ek ontsteld en terneergedruk gevoel as ek daar inkom. Ek was pynlik bewus van die feit dat my ouers nou in teenoorgestelde rigtings beur, en hul het so {==370==} {>>pagina-aanduiding<<} hard probeer om 'n skyn van vrede in my teenwoordigheid te bewaar, dat dit die noodlottige uitwerking gehad het om al die harmonie van vroeër te verstoor....’ Anna begaan amper dieselfde fout as haar moeder, want sy verloof haar aan 'n Engelse skoolinspekteur. Draycott probeer dadelik om die ongekunstelde Boerenooi te ‘beskaaf’. Sy moet al haar ‘koloniale maniertjies’ afleer, sodat hy haar sonder skande kan inlei in die hoogste ‘Home’-kringe. Gelukkig bewaar Anna se gesonde Boereverstand haar vir 'n herhaling van die tragedie van haar moeder se huwelikslewe. Sy trou wel met 'n Ier, maar Bryan het haar volksgevoel gedeel en net soos sy ‘die lokstem van die veld’ verstaan. Anna se liefde vir die veld en die plaaslewe word wel op gevoelvolle wyse geteken, maar ons meen tog dat die skryfster dit hier nie veel verder bring as oppervlakkige bewondering en kinderlike genieting nie. Die titel van die boek het ons laat vermoed dat ons hier iets meer sou vind as vae aanduidings van die geestelike eenheid van natuur en mens. Daar is nog meer swak plekkies in hierdie verhaal. Veral in die begin is daar beskrywings wat die indruk van 'n katalogus maak (vgl. b.v. die eetmaal op die stasie; p. 33). By 'n tweede druk - en ek sou hierdie verdienstelike boek wel 'n tiende druk toewens - kan die skryfster ook maklik die paar anglisismes en ander taalfoutjies verwyder. Laat ons egter dankbaar wees vir die suiwere gevoel en innige deurlewing wat iedere leser dadelik stil-gelukkig met hierdie kostelike boekie sal maak. 'n Goedhartige Man (1935). In hierdie kortverhale openbaar die skryfster 'n voorliefde vir die uitbeelding van huislike moeilikheidjies en bekommernisse - ‘die klein beproewings wat die bejaardes laat ween’, terwyl die groot tragedies van die lewe hul onbewoë laat. In Die Wicks se Kersfees kan 'n moeder haar kleinkinders nie onthaal nie, weens die wispelturige gedrag van haar isegrimmige eggenoot. In Dr Bailey se Plaasvervanger stort 'n dwase, eergierige moeder trane omdat haar pronkdogter gaan trou met 'n onaansienlike Engelse predikantjie wat ‘nooit, nooit 'n biskop’ sal word nie! In My Broer van die Skatkis word die illusie van 'n suster, wat jarelank gespog het oor 'n hooggeplaaste broer, wreed verydel deur die ontdekking dat hy slegs 'n eenvoudige bode is. Die Dubbelbed - die beste verhaal in hierdie bundel - vertel van die verdriet van 'n egpaar, wat 'n geliefkoosde meubelstuk kwytraak, deur die modesug van 'n pronkerige dogter. Helen Blackmore belig die eenvoudige bestaan van haar mense met 'n skalkse ironie wat soms aan Jane Austen herinner. Met innige gevoel kan sy ook die teleurstellings van getroude paartjies uitbeeld. In Gelykmoedige Mnr. Camber laat 'n vroutjie met romantiese verlangens haar {==371==} {>>pagina-aanduiding<<} beweeg om te trou met 'n erg prosaïese minnaar: ‘Alles wat George gedoen het, het net te kort geskiet aan haar verwagtings.’ Mooi word die gryse verveling van haar eentonige bestaan geteken. In twee verhale, Die Prinses en Dr. Bailey se Plaasvervanger, bestaan daar 'n besonder tere verhouding tussen vader en dogter - 'n motief wat ook in Kind van die Veld voorkom. Helen Blackmore ontroer ons deur die suiwerheid en innigheid waarmee sy die vreugde en smart van haar eenvoudige mense teken. § 31. Willem C.W. Kamp. Hierdie skrywer het gedebuteer met Oorwinning en ander Gedigte (1922), 'n verdienstelike jeugwerk. Sy verspreide kortverhale is gebundel in Matteo en Leonardo (1933) en Vrugbare Aarde (1936). Verder het hy 'n aantal kinderverhale geskrywe. Matteo en Leonardo (1933). In die titelverhaal word die gewetenswroeging van twee moordenaars goed geskilder deur hul onrustige en vreesagtige houding. Deur gebrekkige inlewing ontstaan daar onwaarskynlikhede in die vertelling (b.v. waar die lamp omval) maar as geheel beskou is dit treffend van uitbeelding. Uit So lyk dit aan die Buitekant blyk, dat selfs die onaantreklikste mens dikwels 'n boeiende lewensgeskiedenis het, en dat onder 'n lelike uiterlik soms 'n mooi siel lewe. Hierdie eensame vrou leef in die verlede, want die twee mans wat sy liefgehad het, is haar ontneem. In die onsimpatieke omgewing van die losieshuis vind sy eindelik iemand aan wie sy die groot smart van haar lewe kan meedeel. Van Reenen se Skiettog vertel van 'n jong man wat sy lewenslus verloor onder die geestelike druk van die verlede. 'n Toevallige gesprek wek weemoedige herinneringe, en selfs 'n aantreklike nooi kan Van Reenen nie red uit die wurggreep van sy herinneringe nie. In Kamp se hart leef daar 'n groot jammerte vir die ongelukkiges, die teleurgesteldes. Hy speur die verborge leed van eenvoudige siele na en toon ons hoe hul lewensgeluk verbrysel word deur herinneringe uit 'n smartvolle verlede, deur 'n vergeefse stryd teen die mag van 'n gewoonte, die ontrou van 'n geliefde, die beperkings van hul eie karakter. Hy verdiep hom in die smart van 'n bywonertjie wat deur 'n onbereikbare liefde tot innige tederheid geroer word; hy teken die kronkelinge van die swaksinnige se gebrekkige verstand, die sielsverlatenheid van die straatswerwer, wat tevergeefs hunker na 'n nuwe begin, die wroeging van die moordenaar. Kamp het 'n goeie begrip van die vereistes van die kortverhaal en hy bereik dan ook soms 'n goeie effek deur gekonsentreerde beknoptheid. Deur uitstekende gedagtepraat en ontdekkende dialoog leer ons sy mense ken. {==372==} {>>pagina-aanduiding<<} Dit ontbreek hom egter nog aan dié diepte van lewensvisie wat hierdie mense tot onvergeetlike figure kan omskep. Hierdie gebrek word ook geopenbaar deur sy styl, wat selde bokant die konvensionele uitstyg, en nog dikwels ontsier word deur gebrekkige sinsbou, Anglisismes en taalfoute. Vrugbare Aarde (1936). In vier van hierdie verhale is liefde die hoofmotief. Gouws, wat ná die dood van sy ouers jare lank geswoeg het, staan op die punt om sy lewensideaal te verwesenlik deur 'n huwelik met Hettie. As hy sy belowende oes veilig binne het, kan hy haar gaan haal. Hy bestel 'n handleiding oor welsprekendheid en bou lugkastele oor die vername rol wat hy in die maatskappy gaan speel. Maar die sprinkane verniel sy oes en Hettie gee die voorkeur aan 'n dorpsgas. By sy tuiskoms van die mislukte vryery word hy begroet deur die moedelose jeremiades van Gert Ferreira, 'n onbenullige klerkie, wat hom verbeel dat hy 'n boer is: ‘Ja, neef Jan, ons is verlore, totaal verlore.’ Maar die hulpeloosheid van hierdie onnosele papbroek, wat kerm oor die verlies van 'n armsalige paar sakkies mielies en geen die geringste benul het van wat sy vriend eintlik verloor het nie, stel Gouws in staat om homself weer in die volle krag van sy ou staatmakernatuur op te rig. ‘Dis te veel vir Gouws, hierdie komieklike verskyning. Sy oë versag, 'n wasige glimlag verlig sy trekke. Hy slaan Ferreira op sy skouer. ‘Ons is nog nie verlore nie, maat... Ons kan nog 'n oes inkry.’ So herwin hierdie stoere werker sy lewenslus deur die sagte glimlag van die humor wat hom met sy lewenslot versoen. Die volgende môre is Gouws op die akker: ‘“Homan! Witlies!” 'n Sweepslag kraak en weergalm; stadig sak die ploegskaar weg en rol die groot vet sooie om en om.’ Suiwer laat Kamp die forse gestalte van Gouws voor ons oprys. Mooi is Gouws se houding teenoor die ootmoedige Ferreira, wat hom amuseer deur sy wil-ook-boer-wees-wysheid. Vol teerheid is sy hart vir die suster wat saam met hom geswoeg het. Bedags, in sy mielielande, droom hy oor die toekoms en saans vertolk hy die verlangens van sy haastige hart op sy kornet. As hy na die nooi ry, staan hy regop in die kar ‘soos 'n Romeinse soldaat op sy strydwa’. In sy selfversekerdheid slaan hy weinig ag op die waarskuwing van die huisjong wat beskroomd praat van 'n mededinger. Maar later bekruip die twyfel tog sy hart, want hy ondervra die onderwyser oor die raaiselagtige van die vrouenatuur. As Hettie hom afsê, kniel hy voor haar en pleit hartstogtelik vir sy lewensgeluk. Hoe duidelik begryp ons nie die hele situasie nie wanneer ons Gouws deur Hettie se oë sien: ‘Sy haat hom, sy haat sy stomperige gesig, sy haat sy geel gelaats- {==373==} {>>pagina-aanduiding<<} kleur, die bruin nek wat lyk of dit nie gewas is nie, sy haat sy vaal klere, die groot growwe skoene met hul hakke boontoe.’ Die fyn dorpsmeneertjie het met sy snyerspak en lakskoentjies, hierdie groot liefde van die bonkige boer ydel gemaak! In Die Besoek kry ons die enigsins ongewone motief van 'n troue eggenoot wat die hartstogtelike liefde van 'n aantreklike nooientjie opsy stoot. Annapiet bring 'n hele beroering teweeg in die stille huishouding, en Hendrina maak 'n patetiese poging om die liefde van haar man te behou. Sy gaan heimlik na die apteek om ‘medisyne’ te koop, bewerk haar gesig met skoonheidsmiddele, en trek haar kisklere aan. Maar Hendrik, wat nooit een oomblik weifel nie, kalmeer haar: ‘Gaan nou huis-toe, my hartlam. Was al daardie goeters af. Dan is jy weer my eie, liewe vroutjie.’ Die meesterlike tegniek waarmee Kamp hierdie wedstryd tussen die twee vroue uitbeeld, dwing bewondering af. Sonder oorbodige uitweidings behandel hy dit in 'n vlug tempo. Daar is geen sielkundige uitrafeling nie, maar deur die naakte, beknopte skryftrant, sien ons alles vlak voor ons oë gebeur. Kort en vinnige sinnetjies bokspring oor die bladsye, en die beweeglike plastiek hou ons aandag elke oomblik geboeid. Kamp het veel geleer van die skrywers van die ‘nuwe saaklikheid’. Goed vertel is die vermaaklike verhaal van Gerhardus wat ewe spoggerig Johannesburg-toe gaan om vrou te haal, met die kous op die kop terugkeer en dan maar weer inkruip by sy ou plaasnooi. Minder geslaagd is Maurits en Die Testament, waarin die verhouding tussen vader en kinders die hoofmotief is. Maurits raak as gevolg van sy opvlieënde humeur, van al sy kinders vervreemd en moet in sy ouderdom eensaam agterbly op die plaas. Hierdie verwyderingsproses word deur 'n opeenvolging van goed uitgewerkte toneeltjies geteken. Uiteindelik ontwaak die besef dat sy liefdeloosheid die oorsaak van al sy ellende is. Sy veranderde insigte laat hom die bywonergesin meer Christelik behandel, maar ook by hulle kan die vereensaamde weinig troos vind. Die verhaal breek stomp af nadat hy ook die bywoners weggejaag het van die plaas. Die omgekeerde verhouding vind ons in Die Testament waar die afgeleefde blinde gesinshoof geterg word deur die ondankbaarheid van sy kinders. Die onverkwiklike kibbelary oor die erfnis is wel lewendig geteken, maar ook hier laat die enigsins onduidelike slot die leser onbevredigd. Hierdie relaas van verbitterde familietwiste word nie gedra deur 'n besielende gedagte wat daaraan 'n diepere betekenis gee nie. Afgesien van hierdie tekortkomings is Vrugbare Aarde ongetwyfeld 'n baie lesenswaardige boek, waarin Kamp se verteltalent so buitengewoon mooi ontwikkel het dat dit skone verwagtings vir die toekoms wettig. {==374==} {>>pagina-aanduiding<<} § 32. Ds. A.J.V. Burger (Jurg Vaber). Van ds. A.J.V. Burger van Paulpietersburg het verskyn: Moderne Jongmense (1933) en Worsteljare (1936) wat in hoofstuk X bespreek word. Moderne Jongmense (1933). By 'n groot gedeelte van ons volk bestaan daar nog 'n diep ingewortelde afkeer van alle romans of ‘storieboeke’, soos dit soms op minagtende wyse genoem word. Te weinig word daar nog besef dat die goeie roman 'n ernstige boodskap tot sy leser bring, dat die romanskrywer nie net aangenaam wil besig hou nie, maar deur sy voorstelling en interpretasie van die lewensfeite die leser tot 'n sekere oortuiging wil dwing. As ons die jongmense dus 'n boek in die hand kan stop wat hulle so ongemerk in intieme aanraking bring met ernstige lewensvrae, dan kan die dikwels gesmade ‘storieboek’ 'n verreikende invloed uitoefen. Jurg Vaber het 'n roman geskrywe wat meer sal uitrig as honderd preke van sy kollegas, 'n roman wat die jongmense gerus op Sondag mag lees, omdat dit hulle sal dwing om hulself rekenskap te gee van hul houding teenoor die godsdiens. Dit is 'n boek wat ek graag in elke Afrikaanse huisgesin sou wil sien, omdat ek oortuig voel dat dit 'n veredelende invloed op ons jongmense sal uitoefen. En dis ook 'n boek wat die ernstige aandag verdien van ons predikante wat hul tereg bekommer oor die feit dat ons ‘moderne jongmense’ al hoe verder van die kerk af wegdrywe. ‘Die onmag van die kerk teenoor die geleerde jongmense van vandag’ is die sentrale onderwerp van hierdie verhaal. Op die ringsitting word verskillende redmiddels aan die hand gegee: die dienste moet aantrekliker gemaak word, die liturgie moet uitgebrei word, die preke is nie interessant genoeg nie, opwekkingsdienste is nodig en meer gebruik van lekeprediking word aanbeveel. Die skrywer se eie oplossing van die vraagstuk vind ons in die woorde van ds. Timo Berg, die ideale predikant van Waterkant, wat in sy eie gemeente reeds tallose jongmense tot die kerk van hul voorvaders teruggebring het. Ds. Berg formuleer dit so: ‘Die jongmense kyk na ons wat Christene is en hulle soek by ons iets om hulle op te hef en aan te trek, en wat vind hulle meer as kritiek en veroordeling? Hulle soek in ons lewes 'n blydskap en vreugde, wat groter is as die plesier van die wêreld wat hulle geniet en wat ons veroordeel, en dikwels vind hulle weinig meer as klaagliedere oor die laste van die Christendom.... Die Christen se lewe moet so vol wees dat dit die moeite werd blyk te wees vir die mees verharde plesiersoeker. Hy moet in die Christen wat vervuld is met die Gees van God 'n beeld van Christus kan sien - en dan sal die mees losbandige ydelheid hom nie meer trek nie.’ Of Jurg Vaber se kollegas met hom sal saamstem weet ek nie, maar ek meen tog dat hul by ernstige selfondersoek sal moet erken dat hy {==375==} {>>pagina-aanduiding<<} een van die hoofoorsake - en miskien wel dié hoofoorsaak - van die kerk se onmag aangewys het. In die moderne maatskappy het die moontlikhede om oppervlakkige plesier te verkry vertiendubbel deur uitvindsels soos die bioskoop, die draadloos, ens. Ons kan dit betreur dat jongmense wat inkom vir die Nagmaal wegsluip van die kerkdienste om 'n rolprent te gaan sien, maar twyfel sterk daaraan of die ouderwetse predikant, wat van die kansel af fulmineer teen die afwesige plesiersoekers, ooit hul harte sal raak. Ons, wat deur daaglikse bestudering van die jeug se mentaliteit, weet dat gedagtelose plesiersoek glad nie gelykstaan met gebrek aan lewenserns nie, het meer vertroue in die pedagogiese metodes van die geesdriftige jeugpredikant, en meen dat 'n verstandige toepassing daarvan die beste deel van ons jongmense tot inkeer sal bring. Hierdie gedeelte van die boek is meer in die besonder gerig tot die leidsliede van ons Kerk. Daar word ernstige kritiek uitgeoefen op die verouderde beroepstelsel, wat deur elke Sinode togmaar weer onveranderd gelaat word. Ons kry verder nog 'n kykie op die onsmaaklike beroepsjaloesie tussen predikante wat ons tot diepe droefheid stem. Maar die eer van die heilige amp word glansryk gehandhaaf deur ds. Timo Berg wat 'n verleidelike regeringspos afwys om hom aan sy herderlike werk te wy. Die grootste gedeelte van die roman egter, behandel die ‘moderne jongmense’ wat deur plesiersug al verder van die Kerk af wegdrywe. Myns insiens is dit jammer dat die skrywer hom 'n tweeledige doel voor oë gestel het, nl. kritiek op kerklike instellings en karakterisering van die moderne jongmense. Die twee sake is wel nou aan mekaar verwant, en die huisgesin van generaal Boshoff, die ouderling, vorm 'n natuurlike skakel, maar ek voel tog dat die eenheid van die verhaal deur hierdie verbinding skade ly. Interessant en leersaam is die bespreking van kerklike sake seker, maar daardeur raak die jongmense enigsins op die agtergrond. Die skrywer het 'n hele klompie romantiese drade deur die liefdesgeskiedenis van die jong predikant geweef, en daarin geslaag om spanning in die verhaal te bring. Elina laat haar onverskillige houding teenoor die godsdiens vaar, omdat sy verlief raak op die predikant wat so aandoenlik kan preek en so goed kan tennisspeel. 'n Wrede ontnugtering wag haar egter, en in wanhoop vlug sy weg uit die huis van haar pleegvader, waarheen sy spoedig terugkeer deur bemiddeling van 'n straatkindjie wat haar hart geroer het. Dit alles word vlot vertel, maar Elina word nie vir ons 'n lewende mens, wat na 'n eensame worsteling eindelik rus vind vir haar gemartelde siel nie. Daarvoor is die skrywer se tekening te oppervlakkig. Dieselfde geld ook die bekering van dr. Jan Boshoff. Die uiterlike tekens van die bekering word wel aangedui, maar ons kry nie 'n blik op die worsteling in die gemoed van die jongman nie. Hoe 'n soekende siel na 'n bange {==376==} {>>pagina-aanduiding<<} worstelstryd eindelik rus en vrede vind deur die geloof is natuurlik 'n gegewe wat selfs die begenadigde kunstenaar slegs met die grootste huiwering sal aandurf. Maar as die skrywer