Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932 (1932)

Informatie terzijde

Titelpagina van Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932
Afbeelding van Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932Toon afbeelding van titelpagina van Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (4.45 MB)

Scans (11.72 MB)

XML (0.66 MB)

tekstbestand






Genre

proza

Subgenre

tijdschrift / jaarboek


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932

(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die–rechtenstatus Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende
[pagina 73]
[p. 73]

Die Bloemfonteinse Oorlogsmuseum.

SOOS die obelisk van die Nasionale Vrouemonument kort buite Bloemfontein as 'n vingerwysing getuig van die lyding en sterwe van die vrouens en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog, getuig die Oorlogsmuseum aan die voet van die monument met sy honderde geskiedkundige stukke uit daardie tydperk van die offers wat die burgers op die altaar gelê het, van die leed wat die vrouens in die kampe verduur het, van die smart en van die pret wat die krygsgevangenes op die skepe en in die oorsese krygsgevangenekampe ondervind het - in een woord, van die leed en smart, met die bietjie pret en lief daartussen, wat die worstelstryd vir die Afrikaner gebaar het. Uit dieselfde klip gebou as die monument en met sy teëldak van dieselfde donkerswart kleur as die bronsbeelde en paneelplate van die monument, vorm die museum 'n harmoniese eenheid met die Vrouemonument.

Op 26 April 1930 is die hoeksteen van die gebou gelê deur sen. W.J.C. Brebner (lid van die Nasionale Vrouemonumentkommissie) en op 30 September 1931 is die museum amptelik deur genl. J.B.M. Hertzog geopen. Sedert oorgegaan is tot die gedagte om die museum te bou, het die kommissie hom beywer vir die insameling van geskiedkundige stukke, sodat by die opening reeds 'n aansienlike aantal uitgestal was. Sedert dié tyd duur die toestroming nog maar altyd stadigaan voort, en aan die begin van die jaar het uit Holland ook 'n uiters kosbare versameling aangekom. Hierdie voorwerpe, wat tydens en ná die Tweede Vryheidsoorlog in Nederland te lande gekom het, is daar ingesamel deur 'n komitee onder voorsitterskap van mnr. Dan. J. de Villiers, Buitengewone Gesant en Gevolmagtigde Minister van die Unie in Holland, en met mnr. Fred. Oudschans Dentz as sekretaris. Die ander lede van die komitee was dr. W.J. Leyds, prof. dr. J.W. Pont, mnr. P.J. de Kanter (Voorsitter, Algemeen Nederlandsch Verbond) en mnr. K.F. van den Berg (Voorsitter, Kommissie Ned.-Z.A. Handel). Voordat die stukke uit Holland na Suid-Afrika versend is, is in Den Haag 'n welgeslaagde tentoonstelling daarvan gehou. By dié geleentheid het die besoekers hul name in 'n boek aangeteken, en hierdie boek met die duisende naamtekeninge is saam met die versameling aan die museum gestuur.

Van dr. Hintrager in Berlyn is eweneens so pas 'n lys ontvang van voorwerpe wat hy in Duitsland vir die museum byeengebring het. Gehoop word dat ook hierdie stukke voor die einde van die jaar aan die versameling in die museum toegevoeg sal word.

[pagina 74]
[p. 74]

As monument verewig die museum die nagedagtenis van ons gesneuwelde burgers (vir wie daar nog geen grootse monument opgerig is nie), van ons afgestorwe moeders en kinders en van daardie stuk geskiedenis van ons volk op uiters lewendige wyse. Dis inderdaad 'n gedenkteken met 'n siel wat spreek tot almal wat dit besoek. Elke voorwerp getuig van 'n stukkie interessante en soms droewige geskiedenis. 'n Ou rok, uit sak gemaak en met roubandjies aan, vorm die tema van 'n droewige verhaal: 'n vlugtende moeder met haar kindertjies swerf in 'n waentjie oor die Vrystaatse vlaktes in 'n poging om uit die hande van die vyand te bly. 'n Paar dae nadat haar huis afgebrand is en sy op vlug gegaan het, verneem sy dat haar man op die slagveld gesneuwel het. Sy het net 'n goiingsak tot haar beskikking; daarvan maak sy 'n rokkie en werk daar 'n paar swart bandjies aan om oor haar gesneuwelde man te rou - 'n sprekende en patetiese toonbeeld van 'n tragiese bedryf in die drama van 1899-1902.

Verskeie pare velskoentjies wat deur moeders in die konsentrasiekampe vir hul kindertjies gemaak is, getuig van die bekwaamheid van ons Afrikaanse moeders. Hoewel hulle hul natuurlik meestal van baie primitiewe gereedskap moes bedien, is al die skoentjies baie netjies gemaak. Aan een paartjie sit nog die kampmodder waarin een knapie rondgebaljaar het die dag voor hy aan die gevreesde masels ten prooi geval het.

Die waentjies, borsspelde, horlosiekettings en tal van verskillende soorte goedjies wat deur die bannelinge in die krygsgevangenekampe gemaak is, is 'n sprekende voorbeeld van die kunsgevoel en oorspronklikheid wat daar in die Afrikaner sluimer, maar wat helaas deur eensame opsluiting en afsondering aan die lig gebring moet word - anders is die Afrikaner blykbaar te veel die sorgvrye kind van die natuur om hom aan soiets te steur.

Onder die honderde interessante portrette is daar een van die verhoor van komdt. Gideon Scheepers op Graaff-Reinet. So duidelik is die portret dat die kommandant en al die lede van die krygsraad duidelik daarop herken kan word, eweas die stoel waarop hy in die hof gesit het en wat deur sy moeder ten geskenke aan die museum gestuur is. Langs hierdie portret hang nog 'n groep portrette van sy teregstelling - hoe hy in 'n Rooikruiswaentjie na die plein gebring word waar die doodvonnis oor hom gevel word; hoe hy tussen vier wagte staan om sy vonnis aan te hoor; hoe hy weer in die Rooikruiswaentjie van die plein weggevoer word; hoe hy siek lê in die hospitaal van die gevangenis; en, eindelik, hoe hy, vasgebind op 'n stoel, op die rand van sy graf die doodskoot kry.

Nog 'n unieke portret is dié van komdt. Haasbroek waar hy op die slagveld dood lê met sy broek- en baadjiesakke omgedop deur persone wat daarin na buit gesnuffel het.

[pagina 75]
[p. 75]

'n Aantal oorspronklike skilderye deur Emily Hobhouse van afgebrande kerke, vernielde plase, konsentrasiekamp-kerkhowe, ens., is eweneens van besondere betekenis. Elkeen van hierdie skilderstukke openbaar 'n taamlike mate van kuns en is 'n sprekende weergawe van die toestande soos dit haar getref het. Agter op elkeen het sy eiehandig die geskiedenis daarvan geskryf.

'n Paar potloodtekeninge van laers, loopgrawe, burgers in die skanse, verskillende tipes van burgers, ens., deur Frans David Oerder (van wie daar onlangs 'n lewensbeskrywing in Die Nuwe Brandwag verskyn het) te velde gedoen, is van die kosbaarste skatte in die Oorlogsmuseum. Die wyse waarop hierdie tekeninge die perspektief van die laers, die burgers in rustende houding in die skanse en loopgrawe en die verskillende tipes van burgers weergee, is skitterend. Geen foto kan ooit die uitgebeelde karaktertrekke, die groot laer van genl. Piet Cronjé, die loopgrawe by Magersfontein, ens., so wesenlik weergee nie.

Verskeie ou ‘Bluebacks’ (£1-, £5- en £10-note van die Suid-Afrikaanse Republiek), 'n pondnoot gedruk op gewone skryfboekpapier (waarin die burgers glo nie te veel vertroue gehad het nie), en 'n goue pond te velde by Pelgrimsrust geslaan, niet 'n gekeperde rand en die woorde ‘een pond’ aan die een kant en die letters ‘Z.A.R.’ aan die ander, bied 'n baie realistiese lesing aan oor die papierbasis en terugkeer tot die goudstandaard.

Genl. Hertzog se velhoed wat hy te velde gedra het, genl. De Wet se saal, velbroek, twee sambokke en tondeldoos, 'n knipmes van genl. De la Rey, die hoedband en twee sakboekies van komdt. Scheepers en nog verskeie stukke van ander Boere-generaals, -kommandante en -offisiere is almal stukke wat sal dien om die herinnering aan hierdie oorlogshelde weer by ons op te roep. Die paar laarse wat dertig jaar saam met 'n gesneuwelde burger in sy graf aan die voet van die rantjies by Magersfontein gerus het, die horlosie wat in die onderbaadjiesak van 'n gesneuwelde burger te pletter geskiet is en die talle van ander voorwerpe van burgers sal dien om die nagedagtenis van die onverskrokke vegsmanne onder die nuwe geslagte te laat voortleef.

Dan is daar die koerantjies en tydskrifte, soos De Strever, 'n Christelike weekblad wat op Ceylon gedruk en uitgegee is ('n portret van die redaksie en drukkerspersoneel van die blad hang ook in die museum), en De Krijgsgevangene (The Captive), tweetalige nuusblaadjies wat onder dieselfde naam op Ceylon sowel as op St. Helena gedruk en uitgegee is. Die wyse waarop die blaadjies die tegnise moeilikhede oorwin het, getuig van die Afrikaner se vindingrykheid. De Strever is gedruk met 'n ou Eagle-handpersie wat die krygsgevangenes van die Singalese gekoop het. Verskeie baie interessante artikels kom in die blaadjies voor, en onder die advertensies vind ons b.v. dié van sulke bekende persone soos mnr. R.A.T. van der Merwe, tans L.V. vir

[pagina 76]
[p. 76]

Bethlehem, wat op Ceylon as kleremaker opgetree het, en wyle J.T. Bain, wat in 1913 so'n groot rol gespeel het in die staking op die Rand en toe deur die Regering uit die land verban is.

'n Tydskrif van groot betekenis waarvan die Oorlogsmuseum 'n paar eksemplare besit, is De Brandwacht, wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog onder redaksie van A.J. van Jaarsveldt en deur die drukker-uitgewer Mels J. Meyes te velde uitgegee is. Die drukkerytjie, wat destyds die Staatsdrukkery was, het onder 'n hol krans op die plaas Snymanshoek tussen Bethlehem en Fouriesburg gestaan. In daardie krans was dit tydens 'n groot gedeelte van die Oorlog vir die vyand weggesteek.

Benewens De Staatscourant en De Brandwacht het hierdie drukkerytjie ook 'n koerantjie De Skoorsteenki gedruk. Van hierdie koerantjie het daar egter net een uitgawe verskyn, waarvan die Oorlogsmuseum 'n eksemplaar besit. 'n Huisie met 'n rokende skoorsteen en die naam van die koerantjie vorm die kopstuk, en langsaan, ook in die kopstuk, kom die volgende voor: Di Kombuisvolk (redaksie): Wildewaterhoorn, Stoffel Deurklas, Wildealskan, Didirik Dik en Bruin Jasper (almal bekende figure tydens en selfs ná die Oorlog). In die ander hoek van die kopstuk staan: Di lede van di sindikaat wil worde moet een pont twak in di maand lewer.

'n Aantal karikature deur Joh. Braakensiek en Van Geldorp onder die kosbare versameling wat uit Holland ontvang is, is 'n baie wesenlike uitbeelding van die gevoelens van die Nederlandse, die Duitse en die Franse volk teenoor die Afrikaners in hul vryheidstryd.

Elkeen van die honderde stukke dien afsonderlik om herinnerings aan die vergetelheid te ontruk, om die gordyn te lig vir 'n boeiende bedryf in die drama in ons volksgeskiedenis. Voor die oog van die besoeker ontrol daar 'n tafereel wat hom urelank geboei kan hou asof hy die wesenlike aanskou. 'n Sprekende stuk voer hom saam met die burgers na die slagveld, 'n ander skilder voor sy oë 'n bloedige slag, albums met krygsgevangene-kiekies voer hom saam met die bannelinge na die verskillende kampe, die vervaardigde stukke getuig hoe hulle hulself daar besiggehou het; velskoentjies, kappies, primitief vervaardigde kinderkleertjies, ens., getuig van vroueleed in die konsentrasiekampe; honderde portrette, boeke met uitknipsels uit koerante en tydskrifte, die boekery van oorlogsliteratuur in die leeskamer van die museum, ens., ens., ontsluier al die verskillende aspekte van die stryd tussen Boer en Brit.

 

B.H.J. VAN RENSBURG.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken