Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende
[pagina 5]
[p. 5]

Boekdeel 1

Voorwoord

Dit was een van daardie ‘onweierbare aanbiedinge’, mnr. Jan van Schaik se versoek dat ek die Versamelde Werke van Eugène N. Marais saamstel, redigeer en van aantekeninge voorsien. As skrywer van Marais se lewensverhaal het ek reeds oor baie agtergrondkennis beskik, sodat die opgawe nie so onmoontlik sou wees nie; buitendien was dit vir my 'n groot eer - al is die redigering van 'n skrywer van Marais se formaat ook 'n groot verantwoordelikheid.

Hier is dit dan, die Versamelde Werke van Eugène Marais in twee lywige boekdele: Byna 1 300 bladsye, ongeveer 600 000 woorde. ‘Who would have thought the old man to have had so much blood in him?’ vra lady Macbeth. En elkeen wat iets van Marais se lewe weet, van die beperkinge waaronder hy moes werk, sal verwonderd wees dat hy tog nog soveel kon lewer. Dat alles nie op dieselfde hoë peil is nie, spreek vanself; by 'n versameling wat naastenby volledig probeer wees, is so iets omtrent onmoontlik. Tog is feitlik alles uit die een of ander oogpunt interessant: soms bloot omdat dit lig op Marais se lewe werp; soms omdat dit ons iets laat sien van hoe 'n intelligente, urbane en belese Afrikaner die wêreld in die jare twintig en dertig beskou het (selfs wanneer hy 'n bietjie neerbuigend skryf vir 'n gehoor wat nog nie die opvoedingspeil van later bereik het nie); heel dikwels eenvoudig omdat dit skryfwerk uit die hoogste rakke is.

Op algehele volledigheid probeer die Versamelde Werke nie aanspraak maak nie. Heelparty stukke wat te ver benede peil of fragmentaries is, of te veel inligting uit ander stukke herhaal, asook boekresensies en dergelike efemere geskrifte, is weggelaat. Maar omtrent alles wat tevore in boekvorm verskyn het, is opgeneem, en diegene wat Marais se gepubliseerde werke goed ken, sal verras wees om 'n hele klompie nuwighede te vind wat nooit tevore gebundel is nie.

Oor die indeling het ek nooit getwyfel nie. Die eenvoudigste manier om so 'n massa stof te orden, het ek uit die staanspoor besluit, sou wees om by die inhoud van bestaande bundels te bly; vandaar dat enkele afdelings sowel kortverhale as artikels bevat. Breed gesproke is egter by nie-fiksie begin en tot verhale gevorder, met daarna gedigte, dramas en ten slotte Engelse geskrifte. Selfs hierdie breë indeling kon egter nie streng nagekom word nie. Die twee boekdele moes immers min of meer ewe dik wees, en ek wou nie 'n bundel aan die einde van die eerste boekdeel onderbreek en in die tweede hervat nie. Die probleem kon slegs opgelos word deur die volgorde van bundels so 'n bietjie aan te pas.

Afgesien van Marais se Versamelde Werke was ek onlangs ook ten nouste betrokke by die publikasie van 'n geredigeerde uitgawe van 'n ander beroemde Afrikaanse skrywer, C.J. Langenhoven. By alle verskille is daar interessante ooreenkomste. Albei skrywers het Afrikaans geskryf op 'n manier wat vir die moderne leser dikwels vreemd lyk, nie soseer, glo ek, omdat die grootste deel van hul werk in die jare twintig en dertig verskyn het nie (bloedjong joernalissies uit dieselfde tydperk het 'n ‘moderner’ gevoel vir die

[pagina 6]
[p. 6]

taal gehad), maar omdat albei nog voor die stigting van Die Genootskap van Regte Afrikaners gebore is (Marais 1871, Langenhoven 1873), en grootgeword het met Nederlands en 'n ongevormde Afrikaans.

Dit was my oogmerk om Marais se styl vir die hedendaagse leser toegankliker te maak, maar nie soveel bloed te laat dat dit bleek en kleurloos word nie. 'n Minderheid van Marais se enigsins oudmodiese segswyses is dus opsetlik gehandhaaf om so 'n effens argaïese, ouderwetse sweem aan die werk te gee. Die skoolvossige taalkundige wat algehele konsekwentheid verlang, sou miskien hierteen beswaar maak, des te meer omdat verskillende norme op verskillende geskrifte toegepas is. By Marais se latere kortverhale, veral dié wat enkele jare voor sy dood haastig en slordig geskryf is om die pot aan die kook te hou, het ek nie geaarsel om ingrypend te redigeer nie, selfs om lomp, omslagtige passasies oor te skryf en te verkort (sien aantekening by p. 622 vir 'n uiterste voorbeeld). Daarteenoor het ek sy gedigte en hoogstaande prosa soos Dwaalstories met die grootste piëteit benader. Ook met sy geskrifte in Engels ('n taal wat hy besonder vlot kon hanteer) is omtrent nie gelol nie. 'n Aantekening op p. 1271 verduidelik waarom ek baie min verander het aan die artikels in die bundel 'n Paradys van Weleer, terwyl ook gedeeltes wat vroeër in ander publikasies aangehaal is (bv. in Die Groot Verlange), met meer eerbied benader is.

Ten opsigte van anderskleuriges was Marais besonder liberaal (sien veral die aantekening by p. 371); tog kom ‘Kaffer’ en kombinasies daarvan honderde male in sy werk voor (dit was die gewone woord van die tyd). Heelwat nadenke is aan die tempering van hierdie woord gewy. In heel uitsonderlike gevalle, waar dit funksioneel en onmisbaar was (bv. in die halfbloed-vrou Juanita Perreira se emosionele betoog op p. 715), is dit gehandhaaf. ‘Kaffer’ is ook nie eenvoudig deurgaans in ‘swarte’ of ‘swartman’ verander nie. Dit sou vir my gevoel onnatuurlik gewees het. In 'n minderheid gevalle het ek eufemismes gebruik soos ‘inboorling’, ‘naturel’, af en toe ‘volk’ en 'n keer of wat selfs ‘klonkie’.

Ter wille van groter leesbaarheid is die artikels en verhale in die Versamelde Werke gestroop van alle voorwoorde, inleidings e.d.m. Dié verskyn nou as aanhangsels by die aantekeninge agter in boekdeel 2. Hierdie aantekeninge het meer as een doel. Waar moontlik verstrek hulle die oorspronklike publikasiedatum en -plek van elke individuele artikel of kortverhaal in die onderskeie bundels. Hulle verduidelik sekere redaksionele wysigings. Dikwels verstrek hulle agtergrond-kommentaar wat die betrokke gedeeltes van Marais se werk sinvoller, verstaanbaarder of - hopelik - interessanter maak. Hulle bevat ook Marais se eie voetnote en redaksionele kommentaar deur die oorspronklike uitgewers.

In verband met die illustrasies in die bundel is daar 'n aantekening op p. 1293.

My ruimte raak op. Wat ek nie hier kon sê nie, sal wel in die aantekeninge te vinde wees. Nou kan ek die leser nog net toewens: Heil, dankie vir u geduld tot sover en - lees lekker.



illustratie

Kaapstad, 11 Oktober 1983


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken