Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende
[pagina 18]
[p. 18]

3 Taal in die Insektewêreld

‘Salomo was die erfgenaam van Dawid in Wysheid. Hy sê: “Ek het die Taal van die voëls geleer. Dit was 'n ingewing van die Allerhoogste.” ... En toe Salomo en sy leër by die Vallei van Miere kom, toe sê een mier: “Vlug na julle huise, o Miere, dat Salomo en sy leër julle nie kan vertrap en julle dit nie weet nie.” En toe lag Salomo.’ - Vertaling uit Die Koran, Sura XXIII. - Die Mier.

Hoeveel bewonderaars van ons natuur het die Afrikaanse renaissance nie te voorskyn gebring nie! Hoeveel digters besing dit nie! Die woordeskat van twee wêrelddele word uitgeput om die wonders van sy skoonheid te beskrywe. Voor my lê die boekie van 'n Afrikaanse natuurbewonderaar. Dit is hierdie boekie wat my tot 'n inleidinkie aanleiding gee. In net soveel bladsye van sy werk verskyn tweehonderd beweringe omtrent ons natuur wat absoluut vals, ongegrond, onwaar is. (Ek wou dat ek nog 'n paar harder woorde ken!) Ek het eenmaal dieselfde boekie aan 'n ander natuurbewonderaar voorgelê en hom gevra om die natuurfoute aan te stip. Nie een het hy raakgesien nie! Op die tweede bladsy word gewag gemaak van 'n dwarrelwind in ons woestyngebied - in die nag! Altwee is in die woestyngebied gebore en het daar grootgeword. Maar hulle is nie die enigste sondaars nie. As iemand die natuur werklik liefhet, dan leer hy hom ken - en dit vereis nie moeite en inspanning nie: dit kom vanself. As die natuur en sy verskynsels ooit op hom werklik 'n indruk gemaak het, sal sy gelaatstrekke altyd in sy geheue 'n lewendige beeld vorm. Die rigting waarin ons grootste sonde lê, is om die uitdrukkinge van Europese natuurliefhebbers blindelings na te volg, of buit te maak asof dit alles op Suid-Afrika van toepassing is - vandaar sonnette oor ons ‘herfs’, ‘lente’, ens. Dis een van die dinge wat my dwing om langdradig te wees oor die ootmoedigste van ons diertjies.

 

Ek het reeds te kenne gegee dat die vlieënde koningin, kort ná sy haar vlerke kwytraak, 'n sein die ruimte instuur en dat dit altyd beantwoord word deur die verskyning van die mannetjie uit die lug. Wat die sein presies was, het ek in twyfel gestel en vir 'n latere geleentheid gelaat. Oor hierdie teks wil ek nou preek. Maar voor ek tot my drieërlei punte oorgaan, kom daar eers 'n tweede lang inleiding. Reeds vrees ek dat die geheim van die mieresinjaal uitgestel sal moet word tot 'n hoofstuk wat ver in die toekoms verskyn! Maar die nuuskierige leser hoef nie teleurgestel te voel nie. Ek is seker dat die inleiding hom ook 'n weinig sal interesseer. Weer sal hy van dinge hoor wat hy self elke dag kan waarneem en baie waarvan aan die wetenskap self tot vandag toe onbekend is.

Om die taal van die diere en insekte te kan verstaan, moet jy natuurlik eers die A B C leer; maar van veel groter belang is die dinge wat jy moet afleer. Ons begin derhalwe by die begin.

[pagina 19]
[p. 19]

Daar is drie maniere waarop die individue van alle lewende rasse met mekaar op 'n afstand gemeenskap voer. Almal maak gebruik van een van drie natuurverskynsels: Kleur, geur en geluid. En net hier moet jy begin om dinge af te leer. As jy dink aan geluid en geur en kleur soos dié dinge deur die mens vertolk word - in terme van die indruk wat hierdie uitwendige dinge op hom maak - dan is jy verlore voordat jy jou reis aanvaar. Luister maar: Daar is een termietsoort wat gedurig deur geluid seine gee. As jy ooit in 'n huis geslaap het waar hierdie termiete aan die werk was, sal die geluid jou goed bekend wees. Dit is 'n vinnige tik-tik-tik. Jy kan dit ook waarneem deur 'n gat in 'n miershoop te boor en 'n mikrofoon daarin te laat afsak. Dit is maklik waarneembaar dat hierdie geluid nie alleen deur die miere gemaak word nie, maar dat ander miere dit op 'n afstand waarneem en dadelik deur gedrag daarop antwoord. Hier is ons geneig om te dink en te praat van geluid en hoor soos ons dié dinge verstaan. Maar dit is nie so nie. Vang nou een (of 'n klompie) van 'n seinkorps en ondersoek hulle onder die mikroskoop. Jy moet hulle anatomies nagaan, en wat vind jy? Glad g'n spoor, nie die minste teken of verskynsel van 'n gehoorstelsel nie; niks wat in die verste verte met 'n oor ooreenstem nie; g'n spier wat vir geluid gevoelig kan wees nie. En net so wat kleur en geur betref. Van albei maak die diere ongetwyfeld gebruik as seine - soos die leser later sal insien. En weer soek jy tevergeefs na enigiets wat na 'n oog lyk. Daar is selfs nie die kleinste kleurkol wat vir 'n primitiewe oog mag deurgaan nie. Die termiete is stokblind, en tog is hulle gevoelig vir 'n indirekte ligstraal ver benede die drempelkrag van die menseoog. Dit wil sê hulle kan 'n baie dowwer onregstreekse lig gewaar word as die mens. Dit is deur presiese meting bewys. Neus is daar glad nie.

Laat ons nou 'n ander goggatjie neem - die geliefde toktokkie - en dit sal ons 'n heel ent verder op die spoor van die geheim bring. As jy die toktokkie goed wil leer ken en sy taal praat, dan moet jy hom mak maak. Hy moet so gewoond wees aan die menslike teenwoordigheid dat sy gedrag nooit daardeur skielik gewysig word nie. (Hy word baie maklik mak - ten minste daar is een vaalpensie wat baie mak word en sy baas leer ken en liefhê, die gladde soort met ligte bene: nie die geriffelde nie.) Watter Afrikanerkind het nog nie die toktokkie gesien en hoor klop nie? Jou oog val skielik op hom in of langs die pad. As hy nie skrik en skielik doodval nie, met stokstywe bene - so dood soos die dooiste toktokkie wat ooit geleef het - dan sien jy hom klop - en hoor hom natuurlik ook. Hy soek iets hards - 'n kolletjie grond of 'n klippie - en daarop klop hy met die laaste buikplaatjie: drie-vier-vier-drie. Dit is sy Morsekode. Vir 'n paar oomblikke luister hy, terwyl hy vinnig na verskillende rigtings draai. Sy gedrag is belaglik menslik. Die hele liggaampie word een vraagteken. Jy kan hom hoor sê:

‘So seker as ek leef, het ek haar hoor klop. Van watter kant nou? Daar is dit weer!’

[pagina 20]
[p. 20]

Hy antwoord met drie harde kloppe, en dan sit hy af, so vinnig as hy kan hardloop, vir 'n tree of twee. Hier herhaal hy die seine om sy algemene rigting te toets; en so gaan dit voort totdat hy eindelik by die geliefde arriveer. As jy die gedrag van baie verskillende toktokkies in die paartyd gadeslaan, sal jy bywyle een moet volg wat oor 'n ongelooflike afstand op die rigting van 'n teensein loop. Hy kan die sein hoor oor afstande geheel en al buite die bereik van die fynste mense-oor. Dit is hier waar hy die sielkundige begin interesseer. Ons studeer hom nader: weer vind ons onder die mikroskoop g'n teken van 'n oor, g'n kompleks, g'n gevoelsdraad wat die diens van 'n gehoorstel kan waarneem nie. Maar nog dink ons oor die gedrag van die toktokkie in terme van geluid en hoor. Nou gaan ons oor tot laboratoriumwaarneminge met ons mak toktokkies. Ons laboratorium is 'n stuk natuurveld of 'n taamlike groot tuin. Spoedig sal die ondersoeker ontdek dat die toktokkie een van die mees liggelowige goggatjies is. As hy deur die liefdegloed oorstelp is, glo hy eenvoudig alles wat jy hom vertel - net soos 'n oujongnooi! Klop met jou vingernael op 'n klippie - sy eie Morse - en dadelik antwoord hy. Jy kan hom maklik leer om alleen in antwoord op jou sein te klop. Jy doen dit deur 'n paar dae lank nooit te klop tensy hy geheel en al tot stilswye geraak het nie. Ná 'n paar dae sal hy alleen klop in antwoord op jou sein - en dit altyd onmiddellik. Kry nou nog 'n klein mikrofoon met kopstuk en drie voet draad. (Jy sal dit altyd nodig kry in jou omgang met insekte.) Dit moet so fyn wees dat jy die voetval van 'n vlieg goed kan hoor. As jou toktokkie mak en goed gedresseer is, dan toets jy die fynheid van sy waarnemingstel. Tot jou verbasing ontdek jy dat dit ongelooflik, bonatuurlik fyn is. Klop maar eers met jou vingernael op die klippie en maak die geluid al sagter totdat dit geheel en al buite bereik van jou eie ore is. Onmiddellik en sonder die minste weifeling beantwoord die toktokkie elke sein. Klop nou nie langer met die nael nie, maar met die sagte top van die vinger. Daar is glad g'n geluid meer nie en nog antwoord die toktokkie! Nou neem jy die mikrofoon en plaas dit op die grond, met die gehoorstel oor jou ore. Klop nou met die sagte top van jou ringvinger op die mikrofoon se trommelvlies. Jy moet werklik klop, nie net druk nie; maar met 'n weinig oefening kan jy dit so ver bring dat die geluid deur die mikrofoon nouliks waarneembaar is - en nog hoor die toktokkie dit!

Die oplossing van die raaisel lê in hierdie rigting: dit is glad g'n geluid wat die toktokkie waarneem nie en van hoor is daar g'n sprake nie. Enige skoolboek oor natuurkunde sal dit duidelik maak dat geluid alleen die vertolking deur ons ore van sekere golfbeweginge in die dampkring is. (Geluid kan nie deur 'n lugleegte gaan nie. As jy 'n geluid binne 'n termosfles met 'n draad deur die prop maak, is dit onhoorbaar buiten wat deur die prop waarneembaar is.) Dit is ons oor wat die golwe in geluid verander. Buite ons oor is die heelal geluidloos. Sonder 'n oor kan daar g'n geluid wees nie. Maar die golwing wat ons geluid noem,

[pagina 21]
[p. 21]

het 'n waarneembare fisiese uitwerking. Dit is deur die uitoefening van 'n fisiese beweegkrag dat die trommelvlies van ons oor en die hamer-en-aambeeld-bene in trilling raak. So kan jy sandkorrels of 'n fyn gasvlam deur 'n musieknoot laat tril. Maar daar is nog 'n moontlikheid: elke skielike aanraking tussen twee of meer oppervlaktes van stoflike voorwerpe mag 'n trilling in die geheimsinnige eter veroorsaak wat glad nie geluidgolwe is nie en derhalwe geheel en al g'n uitwerking op ons ore het nie. (Ons raak nou in taamlike diep water, nie waar nie?) Ek dink dit is sulke trillinge in die eter wat die miere en toktokkies van gebruik maak. Dit klink 'n bietjie vergesog, maar een of ander uitleg van hierdie aard sal die leser moet aanneem voor hy die taal van die insekte kan leer. As hy weer 'n langasem-sprinkaan hoor (so genoem omdat dit nie 'n sprinkaan is en die geluid nie deur asem gemaak word nie), dan moet hy afleer om aan geluid en hoor te dink: hy moet aan 'n golwing dink - 'n branderkring in die eter wat oor 'n afstand van ten minste agt myl deur 'n ander langasem-sprinkaan waarneembaar is. Ook sal hy hom van so 'n teorie moet bedien wanneer ons weer na ons miernes terugkeer, of hy sal sy toevlug tot 'n wonder moet neem om 'n uitleg te formuleer van die gedagtewisseling wat gedurig tussen die uithoeke van 'n termietnes plaasvind.

So ver wat geluid in die insektewêreld betref. Daar is nog twee ander maniere van kommunikasie wat ons kortliks in hierdie inleiding moet behandel: geur en kleur. Ons termiete maak gedurig gebruik van geur, waarvan sommige deur ons reukorgane waarneembaar is. In Noord-Transvaal is 'n bekende mier - die stinkmier genoem - wat 'n verskriklike reuk afgee. Die eienaardige uitwerking hiervan op die meeste mense en honde in 'n omtrek van drie of vier tree is om 'n geweldige mislikheid te veroorsaak. Elke leser sal die kenmerkende reuk van ons gewone termiete ken. Dit word veroorsaak deur die afsondering van 'n sekere suur, wat die miere vir ander doeleindes ook gebruik.

Dit is van die uiterste belang vir ons vordering in die taal van die miere om min of meer seker te maak wat die sein van die koningin in werklikheid is. Al wat ek nou aangehaal het, lewer (wat my persoonlik betref) die bewys dat dit iets is wat op ons organe die indruk van geur sou maak as dit sterk genoeg was. Dit lyk altyd in die begin baie hopeloos as ons te werk gaan met dinge wat geheel en al buite die bereik van al ons sintuie is, maar Geduld erlerne is die groot leuse vir die reisiger op hierdie donker voetpaadjies. Hier volg nog 'n bewys dat dit geur is: Jy kan maklik 'n brakkie (by voorkeur 'n foksterriër) leer om vlieënde miere op te spoor ná hulle hul vlerke kwytgeraak het. Hy sal op die reuk van 'n seinende koningin byna honderd meter teen die wind loop; met 'n mannetjie het hy moeite oor 'n afstand van een meter. Nog 'n bewys, dus.

Die laaste en vernaamste bewys moet met 'n taamlike omhaal van woorde verduidelik word.

Die volgende is al die seine waarvan die miere gebruik maak:

[pagina 22]
[p. 22]

(1) Die kommunale sein wat gedurig van die middelpunt - die koningin - uitstraal en wat dien om die gemenebes bymekaar te hou en wat elke mier in staat stel om 'n ander lid van die gemeenskap te herken (buite die bereik van ons sintuie).

(2) Roep van werkers en soldate (deur ons as geluid waargeneem).

(3) Voedselboodskap (buite die bereik van ons sintuie.) Dié drie sal ons later afsonderlik beskou.

(4) En dan, laaste, kom die koningin se geslagsein, wat ook buite die bereik van ons sintuie lê.

Ons weet dat geur en kleur deur die hele natuur as geslagseine gebruik word. As daar nie helder kleure is nie, dan kan jy seker wees dat daar een of ander geur moet wees.

Laat my toe om 'n bietjie af te wyk. Ek het hierbo aangetoon dat vlieg by die miere die sleutel is wat die geslagslewe ontsluit. Sonder vlieg kan daar g'n geslagslewe wees nie. By die hoër soogdiere is dit meestal geur - somtyds met kleur gepaard. Dit begin by die plante. Die geur en kleur van blomme is natuurlik 'n suiwer seksuele verskynsel. Die ape en die mens het lank reeds albei verloor. Maar by die hoër soogdiere bly geur nog altyd die sleutel wat die geslagslewe moontlik maak - daarom is dit moontlik om groot soogdiere vir jare in dieretuine aan te hou sonder die ontstaan van seksuele woede. Interessant is dit om die koedoes in hierdie verband gade te slaan. In Waterberg had die skrywer dikwels geleentheid om dié wonderlike skouspel van naby in die natuurstaat waar te neem. Vir 'n week of twee elke jaar word die koeie geurig. Net sodra die toestand verbygaan, verlaat die bulle hulle om alleen in klein troppies rond te swerwe. Hulle kom natuurlik met die koeie in aanraking, maar nooit is daar die minste belangstelling nie. Maar kyk nou wat gebeur met 'n troppie bulle wanneer koeie in die eerste geurtyd vier of vyf myl bo die wind verbytrek. 'n Minuut tevore was hulle kalm aan wei, sorgloos slaapagtig. Dan kry hulle die wind. Dit is asof 'n donderslag op hulle losbars. Met een stuipruk is al die pragtige koppe omhoog en gretig word die lug getoets. Dan word van alle kante uitdagend getrompetter, en onmiddellik daarna is die hele trop - wat 'n minuut tevore so vriendskaplik saam gewei het - in 'n stofdamp gehul waaruit alleen die gekletter van horings en die gebrul van woede hoorbaar is. Want die seksuele lewe word altyd voorafgegaan deur die gevoelig-word van die vegsentrum. Sonder dié besondere geur sou die seksuele lewe nooit ontwaak nie. Dit is maklik bewysbaar. Vernietig (bv. met 'n vretende suur) die reukorgaan by een van die kleiner soogdiere wat van geur afhanklik is. Daarna kan hy met die ander geslag (in enige toestand) gedurig in aanraking kom. Nooit weer kan sy geslagslewe ontwikkel nie. Dit het altyd uitwendige stimulasie nodig - geur of kleur - om die geslagsentrum gevoelig te maak. Die enigste diere van wie geslagsentrums gevoelig kan word sonder enige uitwendige stimulasie, is die

[pagina 23]
[p. 23]

hoër ape en die mens. As jy by die hoër ape en die mens kom, dan word die aanwending van kleur en geur boeiend en misterieus. Vra 'n meisie waarom sy gebruik maak van al die heerlike geure wat die kuns van die apteker in ons tyd tot sulke volmaaktheid gevoer het. Haar antwoord sal misleidend wees, omdat sy die sentrale beweegrede self nie weet nie. Dit is 'n aandrang wat opdoem uit die donkerste kamers van haar siel - 'n rudimentêre en vergete ding uit die oergeskiedenis van haar ras. Sy sou verskrik wees om te verneem wat die geskiedenis van die aandrang in werklikheid is. Sy sou verontwaardig voel om te verneem dat die basis van al haar dure parfumerie die seksuele afskeiding is van verskillende soorte katte, van 'n bokkie, en (die duurste van almal) die rudimentêre seksuele stof afgesonder deur 'n sekere soort walvis, wat nou niks meer is nie as 'n patologiese herinnering aan sy lewe op land miljoene jare gelede. Muskus is die universele basis van seksuele geurseine by alle diere. By die mens self duur die werklikheid ook nog voort. Ons jongedame sal verbaas (en miskien afgunstig) verneem dat een uit elke duisend meisies nog by geleentheid muskus afsonder. Haar hele huid word sterk en baie aangenaam geurig. Soos die geval is met al sulke oorblyfsels uit ons rasgeskiedenis, kom die muskusafsondering veel meer dikwels by individue van die bobbejane en hoër ape voor - vandaar die ‘sehnsuchtvolle’, misterieuse oreksis wat parfumerie by die mens veroorsaak.

In geval van geur moet die leser ook bepaald dink aan 'n branderkring in die eter. Dit is geheel vals om te veronderstel dat geur uit gasse of mikroskopiese stofdele bestaan. Geur self is geheel nie stoflik nie. Jy kan 'n stukkie skoon muskus vir tien jaar lank in 'n groot vertrek laat vergeur sonder dat daar die minste gewigsvermindering plaasvind.

 

Dit lyk of ons 'n vreeslike ompad geloop het om uit te vind wat ons koningin se sein was. In werklikheid het ons al die kronkelinge van die voetpad vermy. So geduldig en aanhoudend moet 'n mens sukkel om een geheimpie aan ons majestueuse Moeder te ontlok. Nou ten minste is ons byna seker - natuurlik nooit heeltemal nie - dat die geslagsein van die termietkoningin veroorsaak word deur 'n branderkring in die eter wat op ons organe in alle waarskynlikheid die indruk van geur sou maak indien die mens dit kon waarneem.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken