Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende

11 Ongeërfde Instinkte

By die behandeling van die koning en koningin se enkeling-arbeid is beweer dat die lê van die eerste eiers gepaard gaan met pyn.

Dit is dikwels 'n moeilike ding om seker te wees van pyn in die dierewêreld, omdat die uitwendige simptome hemelsbreed by verskillende rasse en geleenthede verskil. Oor die algemeen kan egter gesê word dat die uitwendige bewyse van pyn in alle hoër rasse min of meer gelyksoortig is. As 'n dier deur allerhande stuiptrekkings gewring word; doellose bewegings met ledemate maak; die kop agteroor ruk; en tegelyk ‘steun en kreun’, dan sal 'n mens, sonder dat hy die oorsaak weet, dadelik die teenwoordigheid van pyn herken. Hierdie uiting van pyn is 'n internasionale taal onder die diere, wat die mens ook, helaas, van sy kindsgebeente af moet leer. Die meeste insekte praat ook dié gemene taal - sonder, egter, die hoorbare geluide. Daarom sal byna elke menslike toeskouer seker wees dat die liggaamlike bewegings van die koningin, deur ons reeds beskrywe, die gevolg is van pyn. As daar die minste twyfel is, kan 'n mens dit laat verdwyn deur pyn aan 'n koningin te veroorsaak en haar bewegings dan te vergelyk met die bewegings wat die eerste eier-lê vergesel. Raak sekere dele van haar liggaam aan met 'n glashaar in swawelsuur gedoop en dadelik sien jy dieselfde sirkelswaai van die voelhorings, die agteroorbuig van die liggaam, ens. - presies soos by die lê van die eiers.

[pagina 71]
[p. 71]

Maar vir ons was die grootste bewys van alles haar gedrag ná sy die eiers gelê het. Dit is natuurlik nie wetenskaplike bewys nie. Ons wil die verband van oorsaak en gevolg vasstel en dan neem ons die gevolg as bewys van die oorsaak! Die leser sal egter insien dat algemene kennis van dierlike gedrag op sigself bewyse kan lewer. Wanneer ons vertel dat ons by die eerste gewaarwording dadelik seker was dat die liggaamlike bewegings van die koningin 'n gevolg van pyn was en dat ons toe dadelik kon voorspel dat sy in alle waarskynlikheid haar eerste kleintjies sou versorg, ofskoon beide dinge so onwaarskynlik was as enigiets in die natuur ooit kan wees, dan beteken dit dat ons 'n klein bietjie spesiale kennis besit wat desnoods 'n bewys kan lewer. Ons het voor die tyd reeds vermoed dat geboortepyn die sleutel in die natuur was om die moederliefdekompleks gevoelig te maak.

Laat ons nou sien wat haar volgende gedrag was. (Ons veronderstel dat die leser die geleentheid het vir waarneming, wat ons onmiddellik hierna sal beskrywe.)

Op die klein tuinkoekie waar die eerste eiers gelê word, sien jy die koning of koningin gedurig ronddwaal. Hulle is meestal besig met besproeiing en bemesting van die paddastoelplantjies. Spoedig verskyn die eerste larwes. Jy sien hulle in die tuin beweeg. Klein, spierwit, hulpelose babatjies, maar alreeds kan jy die soorte onderskei: die sogenaamde soldaat en die gemandibuleerde werker. Die koningin verskyn tussen hulle. Jy sien iets blink in haar monddele. In die ligstraal skitter dit helder soos 'n deurskynende en vleklose diamantjie. Onder vergroting sien jy dat dit 'n druppeltjie vloeistof is. Sy raak een babatjie na die ander aan; hulle lig hulle koppies en jy sien die druppel in hulle monddele verdwyn. Die koningin is besig om haar kleintjies te voer.

Soos ek tevore gesê het, is iets dergeliks by 'n insek van dieselfde rang van ontwikkeling onbekend. Die naaste daaraan deur enige waarnemer vermeld, is die verklaring van Von Buttel-Reepen dat 'n sekere Halictus-by haar eiers so stadig lê dat die eerstes uitgebroei is voor sy met die laastes klaar is, sodat sy met haar eie lewende kleintjies in aanraking kom. Ek dink dit is blote toeval; maar selfs dit is so 'n uitsondering op die natuurreël dat dit spesiaal en met nadruk vermeld word. Van versorging en voeding is daar g'n sprake nie.

En met hierdie voeding en voorbereiding van die eerste soldate en werkers kom die enkeling-arbeid van die koning en koningin tot 'n einde en ook die kans van verder aanhoudende waarneming. Daarna word die gemeenskap so ligsku dat die gewone metodes van waarneming onmoontlik is.

En hier wil ek die leser op iets attent maak wat op sigself net so geheimsinnig is as die vervoer van die koningin van een kamer na die ander - geheimsinnig as 'n mens die oplossing van mieregedrag nog nie ontdek het nie: die koning en koningin besit nie die ligsku-instink nie. Hulle is gewone, gevleuelde insekte, en kort tevore het ons hulle nog buite in die oop lug en lig sien rondvlieg. Die sol-

[pagina 72]
[p. 72]

date en werkers, inteendeel, is totaal blind en uiters ligsku. Hoe kan hulle 'n erflike herinnering erf wat die ouers nie besit nie? Maar dit is nie al nie. Die soldate en werkers erf 'n hele reeks instinkte wat die ouers nie besit nie. Hulle begin dadelik met wonderlik ingewikkelde bouwerk. Hulle maak selwerk, gange, diepteskagte en 'n kors van allerhande mate van boog. Jy kan een gedeelte van 'n miershoop afsny met staalplate, sodat daar hoegenaamd geen aanraking tussen die werkers in die twee dele kan wees nie. Nietemin word dieselfde mate van boog (of 'n toring - soos die geval mag wees) aan altwee kante van die plaat gebou. Hulle kan die teenwoordigheid en afwesigheid van lig op die oppervlakte deur 'n ligdigte grondlaag van twaalf duim gewaar. Hulle vervaardig ‘karton’ van grasstoppels en hout. Hulle dra die eiers van 'n ander termiet weg na die broeituine en versorg hulle. Hulle pas die larwes op en voed hulle. (Die laaste is natuurlik ook gedeeltelik 'n instink van die koningin.) Hulle maak tuine en beplant weer verdroogde tuine. Maar van waar erf hulle al die ‘erflike’ instinkte? Alle werkers en soldate besit dieselfde instinkte. Deur die hele natuur word geheues van dié aard alleen deur 'n organisme geërf van ouers wat dieselfde instinkte besit. Hierop is daar geen uitsondering nie. Van waar dan die spesiale instinkte van geslaglose vorms onder die gemeenskaplike insekte? Die koning en koningin (hulle vader en moeder) kan dit nie aan hulle oordra nie; want hulle self weet niks daarvan, neem nooit daaraan deel en kom nooit met enige van die gemeenskaplike werke van hul burgervolk in aanraking nie. Die werkers en soldate kan hulle instinkte nooit aan ander werkers en soldate oordra nie, want hulle speel hoegenaamd geen rol in die voortplanting van die ras nie.

Ek moet erken dat hierdie geheimsinnigheid van die termiete hom nooit by my as sodanig vertoon het nie, want ons het die groot geheim lank reeds ontdek. As jy die antwoord weet, lyk sulke dinge nooit na onoplosbare raaisels nie.

Ek het tevore beklemtoon dat daar in verband met die studie van termiete talle verrassende feite is - een wonder op die ander; by elke tree stuit die ondersoeker op een of ander raaisel wat sy vernuf dikwels ten strengste beproef. Hierdie saak van die instinkte van termietwerkers en -soldate is 'n raaisel van dié aard. Uit een oogpunt beskou, is dit die geheimsinnigste ding in verband met die lewensgeskiedenis van die termiet. Dit verdien derhalwe ons noukeurige aandag. Dit is 'n eienaardige en interessante feit dat ongeoefende waarnemers hierdie wondere selde gewaar - wat nog te sê aan 'n oplossing dink.

In verband met hierdie kopbrekende raaisel, wil ek graag die leser 'n kans gee om te verneem hoedat hedendaagse Europese geleerdheid sake van hierdie aard behandel en die oplossings wat hulle aan die hand gee. Selfs die ongeoefende leser - hoop ek - sal dan in staat wees om ons Suid-Afrikaanse kennis op dié gebied met dié van Europa te vergelyk en 'n oordeel te vel oor die waarde van die verskillende teoretiese oplossings.

Ek word hiertoe in staat gestel deur die goeie guns van 'n aan my persoonlik

[pagina 73]
[p. 73]

onbekende korrespondent wat my 'n monografie van prof. dr. Bugnion van die Universiteit van Lausanne toegestuur het. Dr. Bugnion is al verskeie jare in Ceylon besig met die studie van termiete en sy stuk sal die vierde deel vorm van 'n ‘monumentale’ werk deur die beroemde sielkundige prof. dr. Auguste Forel. Die titel is Die gemeenskaplike wêreld van die Miere. Dr. Bugnion behandel spesiaal die oorloë tussen miere en termiete, met die oog op die ‘oorsprong van instink’. Soos in enige tropiese land die geval sou gewees het, het dr. Bugnion baie gesien van aanvalle deur regte miere op termiete. Hy skryf al die instinkte en die liggaamlike afwykings van die termiete aan hierdie ewigdurende staat van oorlog toe. Ek mag hier dadelik byvoeg dat ons van die ‘Ameisenkrieg’, of mieroorlog, in Waterberg feitlik niks gesien het nie. Inteendeel, ons weet dat die ratsste en gevaarlikste van ons vleisetende miere by voorkeur in een miershoop woon tesame met die mees hulpelose van ons termietsoorte, wat g'n spesiaal ontwikkelde soldateklas besit nie. As jy so 'n miershoop oopbreek, is dit lig moontlik om 'n denkbeeld van oorlog te kry, wat egter op verkeerde waarneming berus. Dit is nie oorlog nie. Meer waarskynlik is dit vriendskap en beskerming. Laat die leser dit self toets. As hy 'n klomp van die kleiner soort miershopies oopbreek, sal hy vroeër of later op een afkom waarin termiete en miere saam woon. Die termiet is 'n klein, vaal soort waarvan slegs een vorm - die werker - teenwoordig is. Bekyk hulle onder vergroting. Hulle manier van bou is geheel anders as dié van die soort wat ons veral tot dusver behandel het. Die werkers verskyn dadelik op die rand van die breuk. Maar hulle dra g'n klippies aan wat hulle met lym op die rand vasplak nie. Hierdie vaal termiete messel met skoon klei. Elke werker wat op die rand van die breekplek verskyn, visenteer 'n plekkie met sy monddele, draai skielik om en met 'n eienaardige swaai van die lyf lê hy 'n lagie skoon, sagte modder neer. Somtyds lê hy net 'n kolletjie neer; meestal is dit 'n strepie. (Dr. Bugnion het geleentheid gehad om die insameling van modder gade te slaan, maar hy kon nie werklik sien waarmee die termiete besig was nie.) Wat ek nou vertel het, sal die leser in staat stel om hierdie termietsoort dadelik te herken. Onder die miershope van hierdie soort wat hy gedurende een dag oopbreek, sal hy seker enkeles kry waarvan 'n deel bewoon word deur 'n donkervaal mier, vreeslik rats, wreed en opgewonde. By die eerste waarneming lyk dit baie asof die miere op 'n moordtog uit is. Hulle hardloop vinnig tussen en oor die termiete, klaarblyklik deur skrik en woede besiel. Af en toe pak een van hulle 'n termiet en dra hom 'n entjie weg. Somtyds pak 'n termiet 'n mier aan die been en dit word dan vir 'n tydjie rondgesleep sonder blykbare ongemak van die mier. Die gewondes word ook beetgepak en entjies gesleep. Intussen gaan die termiete rustig voort met die herstel van hulle fortifikasies. Gedurig word die herstelwerk deur die miere aangetas en ondersoek, maar hulle probeer nooit om die gangetjies in te dring of om die werkers te hinder nie. Dit skyn asof hulle spesiale deure het om die binneste

[pagina 74]
[p. 74]

van die miershoop te bereik. Spoedig sal die ondersoeker gewaar word dat dit in alle waarskynlikheid glad nie moord of oorlog is nie. Wat dit presies is, had ek nooit geleentheid om te ondersoek nie. Dit vereis baie tyd om selfs een enkele termietverskynsel van hierdie aard in ons dor streke grondig te bestudeer. Miskien sal een of ander leser lus en geleentheid hê om dié werk te aanvaar en sy resultate bekend te stel. Dit kom my voor dat hierdie samelewing van miere en termiete - wat ook al die basis mag wees - allerhande wetenskaplike verrassings sal verskaf. Die leser sal dus insien dat ons hier in Suid-Afrika min van die tropiese stryd het waarvan prof. Bugnion praat. Ook sal hy miskien deur eie ondervinding te wete kom hoe maklik dit is om te haastig te wees en om verkeerde gevolgtrekkings te maak.

Om nou terug te keer na die grootste geheimsinnigheid in die lewe van ons termietsoort. Ons sal in 'n volgende hoofstuk beskrywe hoe hierdie eerste werk van die koning en koningin gadegeslaan kan word. Vir ons teenswoordige doel is dit voldoende om te vertel dat met die volgroeiing van die eerste soldate en werkers stelselmatige waarneming onmoontlik word. Hulle is in die eerste en vernaamste plek vreeslik ligsku. Al hulle eerste arbeid word gerig op die toemaak van ons lig- en loergaatjies en as die menslike toeskouer aanhou, dan verdwyn hulle eenvoudig, en daar is 'n einde aan jou proefnes wat so baie tyd en geduld vereis het om tot stand te bring. Maar dit bly moontlik om deur oopmaak van baie neste 'n suiwer denkbeeld van die verdere verloop van sake in die gemenebes te vorm. Dit is min of meer as volg: Die nuwe werkers maak vir die koningin 'n ‘sement’-kamertjie en sy word daarin opgesluit. Dan word tonnels in alle rigtings gemaak vir die aanvoer van growwe kos na die verskillende spysverterende sentrums; tuine word op groot skaal aangelê en met paddastoele beplant; met die oppervlakteverdedigingstelsel gaan hulle onophoudelik voort. Met 'n boorgat word 'n begin gemaak om water te verskaf; die eiers van die koningin word uit haar kerker gehaal en na die broeikaste aangedra; die kleintjies word vesorg en gevoed en elke wond in die miershoop word dadelik deur die werkers herstel onderwyl die soldate 'n beskermende kordon vorm, soos reeds beskrywe.

Ek wonder of die leser die verbysterende geheimsinnigheid gewaar word wat in al hierdie werk van die werkers en soldate opgesluit is. Ons het verskeie male ondervind dat selfs geoefende entomologiese outoriteite dit nie raaksien nie. Luister dan: Elke organisme (behalwe die aapsoorte, waaronder die mens) erf van sy ouers al die instinkte (erflike omgewingsherinneringe) wat hy nodig het vir sy besondere bestaanstryd. Hy weet dadelik watter soort kos hy nodig het; waar en hoe om dit te kry; hy ken al sy natuurlike vyande en weet hoe hy hom teen hulle moet beskerm; hy weet hoe om sy spesiale soort nes te maak; hoe om sy kleintjies te voer en groot te maak. Hy ken dit alles sonder om te leer; sonder dat hy ooit met sy ras in aanraking was. Ons geelvinke, byvoorbeeld, het ons

[pagina 75]
[p. 75]


illustratie
B. - Eutermes of Trinervitermes. Gemandibuleerde werker; waterdraer, messelaar, waarskynlik ook tuinier, kinderversorger, voeder. Een van die vernaamste funksies is om alle growwe voedsel in verskillende dele van die nes in die algemene metabolisme te voer. Sodanig verskyn hierdie vorm as 'n element in wat gelyk staan aan die bloedstroom in hoër diere. Kleur: ietwat geëtioleerd, met ligrooi vlekke. Blind, hoororgane ontbreek, geslagloos.




illustratie
F. - Kop van Eutermes-werker van onder om meer volmaakte monddele aan te toon. Meer bepaald ontwikkel vir messelwerk en voeding.


[pagina 76]
[p. 76]

vier geslagte onder kanaries laat uitbroei. (Daar is 'n manier om hulle te laat eiers lê sonder om 'n nessie te vleg.) Vir vier geslagte het hulle nooit een van hulle eie pragtig-gevlegte nessies gesien nie. Die kleintjies is deur die kanariemoeders op (vir hulle) onnatuurlike kos grootgemaak - want die vink, ofskoon 'n saadeter, voer sy kleintjies grotendeels met wurmpies.

Aan die vyfde geslag van ons vinke is alles gegee wat hulle in hul natuurlike omgewing sou vind. Dadelik (onthou, ná vier geslagte!) vleg hulle die skone mandjienessies wat ons altyd bewonder het; en toe die kleintjies uitgebroei was, het hul moeders hul op verskafde wurmpies gevoer. Niemand het hulle vertel nie; vier geslagte van hul voorouers het nooit 'n gevlegte nessie gesien en nooit 'n wurmpie geproe nie - maar die vinkies onthou. Dit is instink, of erflike omgewingsherinnering. (Elke organisme erf natuurlik baie ander ook, wat alle lewende diere deelagtig is.) En die termiete - sien die leser waarheen dit lei? Hier sien ons drie soorte diere (koninginne, werkers en soldate) voortspruit uit een vader en een moeder wat liggaamlik hemelsbreed van mekaar verskil en (by twee van die soorte) net so ver van hulle vader en moeder. Geen mens sou ooit kon dink, sonder direkte waarneming, dat hulle een en dieselfde insek is nie. Tesame met die liggaamlike afwyking gaan spesiale erflike geheues of instinkte gepaard. Die soldaat is gewapen met die eerste hipodermiese spuit wat die natuur vervaardig het en wat uiteindelik tot volmaaktheid geraak het in die slagtand van die pofadder. In sy gepolyste kop dra die termietsoldaat 'n botteltjie ‘gif’ en op sy voorkop 'n naaldpypie waardeur die klewerige gif gespuit word. Hy gebruik sy wapen teen alle indringende vyande of vreemdelinge. Die werker besit sterk, volmaakte kake en 'n lymklier waarmee hy die mees ingewikkelde messelwerk verrig. Sodra hy volwasse is, begin hy tuine maak en beplant, versorg en voed die koning en koningin, sorg vir die uitbroei van die eiers; dra kos aan en help om dit te verteer ten bate van die hele republiek. Altwee soorte is stokblind - besit geen oë of ander sintuie nie; desnieteenstaande gewaar hulle die teenwoordigheid of afwesigheid van lig deur 'n lig-digte grondlaag van twee voet dik.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken