Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende

7 Bobbejane en Mense

Kort ná die gebeurtenisse wat in die vorige hoofstuk beskrywe is, het ek met twee ou inwoners van die onderste ingang van Bokpoort te perd uitgekom. In my geselskap was die ou mnr. Willem van Staden (destyds van Doornhoek) en mnr. Gys van Rooyen. Altwee het na Waterberg gekom toe die Middelveld een van die groot olifant-jagvelde van Transvaal was en toe die meeste blanke inwoners 'n bestaan uit ivoor gemaak het. Wat die twee here nie van wilde diere geweet het nie, was nouliks die moeite werd om te leer en tog moes hulle dié dag

[pagina 142]
[p. 142]

'n skouspel van bobbejaangedrag gewaar wat hulle albei nooit sou geglo het as hulle dit nie met hulle eie oë gesien het nie.

Net onder die Poort was 'n groot plaat dorings, deursny van wilde voetpaadjies, want daar was toe nog geen pad en geen deurweg vir enige soort rytuig nie.

Net voor ons die dorings uitkom, hoor ons naby ons die geprewel van 'n trop bobbejane wat ons klaarblyklik nog nie gewaar het nie.

Ek herinner my dat een van die here opgemerk het: ‘Hulle is druk besig om gom te soek.’

Links voor ons was 'n aansienlike opening in die bosse. In die middel daarvan loop die spruit wat van die Poort afkomstig is. In die middel van die opening gewaar ons so 'n eienaardige groep dat ons die perde dadelik ingehou en die skouspel ongeveer 'n halfuur lank met die grootste verbasing beskou het. Vir die groep was ons onsigbaar agter die laaste doringbosse van die plaat.

Op die wal van die spruit was 'n rysknop, van verskillende kante uitgehol, en by een van die uitgrawings was agt of tien klonkies, klaarblyklik bees- en bokwagters van 'n stat in die nabyheid. Party was besig om met hul hande potklei uit die gat te grawe, terwyl ander osse en ander diere uit die klei vervaardig. Ons eerste indruk was dat dit almal kinders is, maar gou merk ons dat meer as die helfte van die groep uit jong bobbejane bestaan.

Daar was die grootste bedrywigheid aan die gang en so geweldig was die gewoel om die gat dat dit die vernaamste rede was waarom ons so naby hulle kon kom sonder om ontdek te word. Bobbejane en klonkies stoot mekaar van die gat weg in 'n poging om klei in die hande te kry, want die ingang is te nou vir meer as twee om die sagte potklei by te kom. Van die stoeiende boel het daar 'n gedurige gelag gemeng met Sesoeto-skelwoorde van die grofste aard opgeklink en bo alles kon 'n mens die gebabbel van die bobbejane hoor. Sodra 'n bobbejaan van die ingang besit neem, word hy deur 'n knaap aan die stert gepak en agteruit gesleep en sodra 'n klonkie die oorhand kry, word hy deur die bobbejane van alle kante gepak en so geknyp dat hy die klei moet laat los om hom van sy aanvallers te bevry.

Drie of vier van die groter seuns het hulle met die gestoei nie ingelaat nie. Hulle sit in 'n kring, elkeen met 'n groot klomp klei langs hom op die grond en tussen hulle is reeds 'n plaat osse en ander diere wat hulle van klei gemaak het. Die helfte van hierdie sirkel word ook deur bobbejane gevorm en net soos die seuns het hulle vir ons effens ouer as die ander gelyk.

Stil en bedaard en met die diepste aandag het hulle die swart seuns se werksaamhede en voltooide werk bekyk. Af en toe het die nuuskierigheid egter een van hulle baasgeraak. Stilletjies en skelmagtig word 'n harige handjie op die grond langs uitgestrek om een van die kleidiertjies in die hande te kry. 'n Enkele keer slaag die dief in sy doel. Dan word die kunsstuk van die een na die ander oorhandig en eindelik stukkend gebreek. Wanneer 'n klonkie die poging

[pagina 143]
[p. 143]

vroegtydig ontdek, is dit meestal deur 'n klap in die gesig met 'n bol klei verydel. Dit het altyd 'n geweldige lawaai veroorsaak. Maar dit was alles 'n groot grap; nòg die seuns nòg die bobbejane het ooit werklik kwaad geword en nooit het die stoeiery op 'n vegparty uitgeloop nie.

Die gedrag van die kleiner bobbejaantjies en klonkies om die kleigat was ook vreeslik snaaks. Die klonkies het natuurlik probeer om vir 'n bepaalde doel klei in die hande te kry. Sodra 'n klomp versamel is, is dit aan die osmakers oorhandig. By die bobbejaantjies het hierdie doel makeer. Sodra een 'n handvol klei in die hande kry, was al sy bedrywigheid beperk tot 'n poging om weer van die klewerige klomp ontslae te raak. Met groot moeite is dit van die een hand losgemaak om weer aan die ander net so vas te kleef.

Daar is niks wat 'n bobbejaan so senuweeagtig en grillerig maak as om iets klewerigs aan sy hande te kry nie. Dit was by ons mak trop 'n gereelde grap om heuning onder hulle uit te deel en om die dansparty te aanskou wat volg wanneer hulle tevergeefs probeer om hulle hande teen mekaar skoon te vrywe. Uiteindelik het hulle die hande geweldig in die sand geskuur. Met al hulle slimheid het ons trop nooit geleer om water vir hierdie eenvoudige doel te gebruik nie.

Ons het dieselfde gebare by die kleigat aanskou. Die hele voorval was 'n uiters snaakse komedie. My twee ou vriende het so gelag dat hulle nouliks op die perde kon bly. Sowel klonkies as bobbejane was betakel met klei; by die bobbejane was dit meestal aan die gesig en 'n mens kan jou moeilik voorstel hoe uiters komies 'n bobbejaantjie kan lyk met sy gesig vol klei gesmeer.

Die speletjie het tot 'n onverwagte einde gekom. Al die tyd was die trop kleintjies by die kleigat heeltemal afgeskei van die grotes wat ons nog af en toe in die bome aan ons regterkant kon hoor. Ons was toe reg tussen die kleintjies en die groot trop.

Toe die vrolikheid by die kleigat op sy hoogste was, sien ek onduidelik deur die bome regs 'n groot swart gedaante wat reg op ons afkom. Dit was 'n ontsettende groot mannetjie - waarskynlik die enkele leier van die trop wat kom kyk het wat van die kleintjies geword het. Ons het mekaar gelyk gewaar en hy het net een maal met bulderende stem die bobbejaan-waarskuwing gegee en toe vinniger laat vat as wat hy verskyn het. Die uitwerking op die klomp by die kleigat het ons bewys hoe volkome die gemeenskap tussen bobbejane en swart kinders was. Albei het hierdie uiterste alarmkreet dadelik verstaan. Sowel die bobbejaantjies as die klonkies het onmiddellik begryp dat dit uiterste gevaar beteken. Sonder om selfs te kyk van watter kant die gevaar dreig, het klonkies en bobbejaantjies dadelik in teenoorgestelde rigtings die spat geneem: die kinders terug na die stat en die bobbejaantjies na die groot trop in die doringplaat. Laasgenoemdes moes 'n paar tree voor ons verbykom. Hul komiese voorkoms het my twee ou vriende weer laat skaterlag.

[pagina 144]
[p. 144]

Maar die wonder van wat hulle gesien het, het spoedig alle ander gevoelens verdring. Herhaaldelik het die ou mnr. Van Staden uitgeroep: ‘Ek het vandag iets gesien wat ek nooit tevore in my lewe gesien het nie; en as iemand my dit vertel het, sou ek dit nie geglo het nie.’

Ons het by die statjie aangery om verdere ondersoek na die eienaardige voorval in te stel. Hier het ons van die groot swartes verneem dat die trop van voor die Anglo-Boereoorlog nooit onder skoot was nie. Hulle het mettertyd vreeslik astrant geword, so ‘moedswillig’ dat hulle dikwels mielies en pampoene van die dakke van die strooihuise kom steel, terwyl die eienaars binne sit. Die grootmense wis daarvan dat die bokwagters speelmaats van die klein bobbejaantjies gemaak het. Dis hulle ten strengste verbied en hulle is verskeie male daarvoor gestraf. ‘Maar dit help alles niks,’ verklaar die ou voorman van die stat op mismoedige toon. ‘Hulle loop uit hulle pad en laat die bokke en beeste in die veld staan om met die bobbejaantjies te gaan speel.’


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken