Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende

3 Die Hipnotiese Toestand

Toe Mesmer, sowat 'n eeu gelede, die hipnotiese toestand in die mens op kunsmatige wyse teweeggebring het, het hy dadelik allerhande mistieke eienaardighede daaraan toegeskrywe. Hy was ‘mistiek’ aangelê. Sy gevolgtrekkings, en die uitleg wat hy aan die toestand gegee het, was absoluut ongegrond, en die gehele wyse waarop hy die saak behandel het, was uiters onwetenskaplik. Tereg had die wetenskaplike mense van sy dag die leer van Mesmer verwerp as 'n ongegronde teorie, en dit was hoegenaamd geen wonder nie dat die ontdekking in minagting geraak het.

Lank na Mesmer eers is bewys dat sy ontdekking van die toestand ten minste gegrond was. Hipnose is toe vir die eerste keer op 'n wetenskaplike basis gestel en aan wetenskaplike ondersoek onderwerp. Maar ofskoon daar groot vordering gemaak is met die formuleer van 'n behoorlik wetenskaplike begrip van die toestand, staan kennis van die werklike oorsaak en ontstaan van al die eienaardige simptome wat begrepe word onder die algemene term hipnose, nog net waar dit gestaan het.

Ek dink die oorsaak hiervan is ongetwyfeld te soek in die feit dat hipnose nog nooit uit 'n natuurkundige oogpunt ondersoek is nie. Dit is waar dat sommige groot mediese ondersoekers vermoed het dat die dood-na-apery van sommige insekte aan 'n dergelike toestand te wyte is; maar, sover my bekend, het nog geen natuurkundige of sielkundige al die soortgelyke toestande wat in die natuur voorkom, grondig nagegaan as 'n poging om te ontdek hoe die toestand in die natuur ontstaan het en wat dit werklik beteken nie. Klaarblyklik is dit die enigste weg wat 'n uitleg aan die toestand in die mens kan verskaf. Die volgende artikels behels 'n poging om 'n weinig opgegaarde kennis aangaande die verskyning van soortgelyke toestande in die natuur uiteen te sit.

Die leser sal dadelik opmerk dat ek uitgaan van die standpunt dat die doodaanstel van insekte en die verstywing van voëls en ander diere onder sekere omstandighede, ten minste, 'n gemeenskaplike oorsprong het met die hipnotiese toestand in die mens. Ek neem dit vir eers aan sonder om die bewyse vir hierdie begrip behoorlik uiteen te sit en te rangskik. Ek neem ook aan dat die ‘doodaanstel’ en ‘verstywing’ van onmiddellike voordeel in die bestaanstryd is vir die betrokke diere; dat die toestand in sommige soorte voortlewe as 'n sielkun-

[pagina 238]
[p. 238]

dige oorblyfsel van veel minder beskermingswaarde as dit oorspronklik was. Ek stel voor dat in die mens dit 'n volstandige oorblyfsel is sonder enige waarde, en dat in dié opsig Charcot reg was om dit 'n patologiese toestand te noem. Hy het klaarblyklik nooit vermoed dat hipnose van iets afkomstig is wat oorspronklik deur natuurlike uitsoeking vir beskermingsdoeleindes geskep was nie.

Ofskoon ek dit as 'n feit aanneem sonder om die bewyse juis in die begin uiteen te sit, sal die aaneenskakeling van die ketting tussen menslike hipnose en bv. die dood-aanstel van insekte in die loop van hierdie skrywe stadigaan vanself as 't ware ontstaan en aan die leser duidelik word.

Toestande wat baie op menslike hipnose lyk, kom voor in al die natuurryke, en in al die laer verskynings is daar aan die beskermingswaarde nie te twyfel nie.

In die planteryk kom ons dit eerste teë in die verlep en opvou van sekere plante by skielike aanraking of as gevolg van 'n skok. Die gewone gevoelplantjie sal aan die meeste Kaapse lesers bekend wees. Die doel is hier taamlik duidelik. Plantetende diere sal by voorkeur 'n verlepte plantjie vermy; en deur die inmekaarvou van die blare word die plant ook minder sigbaar en derhalwe minder aanloklik vir planteters. Dat die gevoelplante 'n direkte voordeel trek uit die toepassing van die toestand onder sekere omstandighede, is buite twyfel. Waar hulle in digte plate groei, is die rondtrap in die nabyheid van 'n swaar dier dikwels genoegsaam om groot stukke van die plaat ‘aan die slaap te maak’.

Een feit moet altyd in die oog gehou word in verband met die voortsetting van hierdie ondersoek: dit is dat alle diere wat spesiaal daarvoor ingerig is om van lewende organismes te lewe, dooies sorgvuldig vermy of, ten minste, nooit die dooie liggaam van hulle wat hulle nie lewendig gevang het nie, as voedsel te besig nie. Die aaseters in die natuur kan byna uitsonderings genoem word en is in byna alle gevalle die gevolg van degenerasie. Dit sou dus altyd van voordeel wees vir 'n dier om in 'n vyand, as hy in gevaar verkeer, die geloof te laat ontstaan dat hy dood is.

'n Ander groot voordeel van verstywing of ‘dood-lyk’ is dat die bewegingloosheid die bedreigde dier altyd meer onsigbaar maak. 'n Kat sal teenaan 'n roerlose muis verbyloop sonder om hom raak te sien. Alle roofdiere en voëls word altyd deur ‘beweging’ aangetrek en nie deur die blote teenwoordigheid van hulle prooi nie.

Die laagste diersoort waar 'n toestand met hipnose gelykstaande voorkom, is die reptiele. Die amfibieë, o.a. likkewane en krokodille, kan in 'n roerlose toestand gebring word deur 'n eentonige geluid en sagte, eentonige bewegings. Spreker het self, deur sagte gefluit en stadig, voetjie vir voetjie, vooruit te stap so na aan 'n twaalfvoet-krokodil gekom dat hy die dier kon doodskiet deur die

[pagina 239]
[p. 239]

tromp van die geweer binne 'n duim van sy kop te bring. Meeste Afrikanerkinders wat aan groot riviere opgegroei het, ken die kuns om 'n likkewaan wat aan die wal lê, tot aanrakens toe te nader deur stadig te loop en sag te fluit. Vandaar kom die geloof dat die reptiele vatbaar is vir die invloed van musiek. Ek glo nie dat dit die geval is nie. Enige eentonige geluid, al kan dit nie musiek genoem word nie, sou dieselfde uitwerking hê. Ons klein akkedissies en koggelmanders reageer op dieselfde manier op eentonigheid van enige aard.

Dit herinner my aan 'n berig wat onlangs in die Europese blaaie die rondte gedoen het. Daar is beweer dat daar 'n sekere man in Wenen, Oostenryk, was wat in staat was om diere van alle aard te hipnotiseer. In die geïllustreerde Engelse blaaie was daar foto's wat die wonderwerker toon in 'n misterieuse houding, terwyl sy gelaat die inspanning van verskriklike wilskrag aandui! Die foto's het die hipnotisering van 'n hoender, 'n konyntjie en 'n kanarie getoon; maar tegelyk is beweer dat die towenaar ook leeus en ander groot roofdiere so onder sy invloed kon bring deur sy magtige wilskrag dat hy hulle skadeloos kon maak! Dit was weer 'n bewys van die algemene populêre onkunde omtrent hipnose en die kans wat die toestand altyd verskaf het vir kwaksalwers en komediante om hulle oëverblindery en komediebedrog bot te vier. Die storie wat die Weense hipnotiseur vertel, is alles kwaksalwery! Enige skoolkind kan kanaries, konyntjies en hoenders hipnotiseer sonder die inspanning van 'n atoom wilskrag. Ek gee 'n foto van 'n baie klein niggie wat twee wilde voëltjies tegelyk hipnotiseer.

Wilskrag het niks hoegenaamd met hipnose te doen nie. Dit is nog een van die valshede wat voortlewe uit die dae van Mesmer. Aan die ander kant is daar geen mens van 'n vrou gebore wat 'n leeu, 'n tier of 'n kat kan hipnotiseer nie. Wat groot roofdiere betref, gebeur die teenoorgestelde bywyle. Dit is die man wat gehipnotiseer raak en nie die leeu nie. ‘Die krag van die mense-oog’ om die groot katsoorte magteloos te maak, is 'n ou legende wat deur gedurige herhaling geloof skep. Maar ek het nog nooit van 'n jagter gehoor wat persoonlik proefwaarnemings in die veld met leeus gedaan het nie. Roofdiere kan nie gehipnotiseer word nie, eenvoudig omdat die toestand geen deel van hulle sielkundige samestellings uitmaak nie. ‘Dood-aanstel’ of ‘verstywing’ - van die aard van hipnose - kon nooit, onder enige omstandighede, van enige waarde of voordeel vir 'n leeu gewees het nie. En hier moet die leser verstaan dat daar 'n hemelsbreë verskil is tussen ‘bekruip’ (deur een van die katsoorte, byvoorbeeld) en die verstywing van 'n bedreigde patrys of muis. Die twee toestande het niks met mekaar te doen nie; is feitlik die teenoorgestelde van mekaar.

Die hipnotiseer van voëls kom so dikwels in die natuur voor dat daar waarskynlik geen leser in Suid-Afrika is wat dit nog nie op een of ander geleentheid raakgeloop het nie. En dit is in verband met die hipnotiseer van voëls, meer spesiaal, waar een verbasende uitwerking van die toestand dikwels gesien

[pagina 240]
[p. 240]

word: dit is die feit dat hipnose as 'n selfbeskermingsmiddel dikwels 'n tweesnydende swaard word. Die roofdier, kortliks, maak gebruik van die ontstaan van die toestand om sy prooi in die hande te kry. Die valk wat onder in die gras 'n patrys gewaargeword het deur die beweging van die voël, begin dadelik bo sy slagoffer in die lug te fladder. Die gevolg is dat die voël ‘verstyf’. Die beskermende uitwerking is dubbeld. Eers verskaf dit die kans van onsigbaarheid en, ten tweede, al word hy gesien, is daar die kans dat die valk deur die doodskyn afgeweer word. Maar die valk het lank reeds die gedrag van sy prooi geleer. Die kennis is by hom aangebore en erflik dat 'n patrys onder sekere omstandighede bewegingloos word en maklik ten prooi val. Daar mag dus werklik onder sulke omstandighede beweer word dat die valk die patrys hipnotiseer.

Daar is geen dier wat so gereeld van dié toestand gebruik maak om sy prooi te bemagtig as die slang nie. Dit is feitlik die enigste manier waarop hy 'n voël, 'n akkedis of enige klein soogdiertjie in die hande kry. Sy metode is altyd dieselfde. Hy kom reg van voor - net soos die kat - en dikwels so stadig dat die beweging van sy lyf nouliks bespeurbaar is. Sy prooi word ‘lam’, en bly ‘lam’ en bewegingloos totdat hy gryp of 'n dodelike pik gee (in die geval van groter diere). Dit gebeur dikwels in geval van boomslange. Wanneer op die grond gevang word, dan bly die dier gewoonlik plat. Dit is eienaardig dat selfs in die geval van taamlike groot diere, soos dassies of meerkatte, daar nooit die minste teëstand aan die kant van die prooi is nie. Ek, altans, het daar nog nie van gehoor of dit ooit by diere in gevangenskap gesien nie. Dit mag natuurlik een simptoom van die toestand wees waarvan die slang gebruik maak.

Die hipnotiseer van die meeste diere wat vir dié toestand vatbaar is, kan op kunsmatige wyse bewerkstellig word. Meeste lesers het waarskynlik met hoenders en kalkoene self waarnemings gedoen. As jy 'n kalkoen plat op die grond druk, hom vir 'n tydjie so vashou en dan 'n sirkel om hom trek met wit kryt of selfs met 'n stok in die sand, dan bly die voël vir 'n onbepaalde tyd in dié toestand. As die waarnemer sorgvuldig te werk gaan, kan hy die voël stadig hanteer en uiteindelik op sy rug keer - wat die toestand skyn te verdiep.

'n Hoender word net so platgedruk, met die snawel op die grond, en dan word 'n streep reguit van die punt van die snawel na voor getrek. Wit kryt het by die hoender die beste uitwerking. Hier ook kan die toestand deur die operateur se sorgvuldige bewegings en hantering verdiep word.

Daar is verskillende wyses om wilde voëltjies van allerhande soorte in 'n verbygaande toestand van hipnose te bring. As jy die voëltjie in jou twee hande taamlik vasdruk, vir 'n tydjie so hou en dan stadig omkeer, sodat hy op sy rug lê, dan sal jy opmerk dat na 'n kort tydjie die diertjie sy ogies vinnig oop- en toemaak, dan rek hulle stadig wyd oop en die oë verstar. Dit is die eerste simptoom van die intree van hipnose. Ná 'n tydjie kan die boonste hand weggeneem word. Die bygaande foto's sal die posisie duidelik maak. Die operateur moet

[pagina 241]
[p. 241]

altyd sorg dra dat die kop van die voëltjie op die hand rus en nie afhang nie. Hoe lank hipnose duur, hang grotendeels af van die ondervinding en kuns van die waarnemer.

Die tekens van uiterste hulpeloosheid wat in 'n voëltjie of ander diertjie sy verskyning maak gedurende 'n aanval deur 'n slang of kat, opper die moeilike vraag of die toestand willekeurig of onwillekeurig is. Ek dink seker dat in die geval van die voëltjie die toestand buite die wil van die slagoffer lê. Maar dit is moeilik om dit in alle gevalle te bewys. Goggatjies, byvoorbeeld, wat hulle dood aanstel, kan so mak gemaak word dat hulle aanraking sal verdra sonder om ‘dood te raak’. Ek het dit self waargeneem met ons bekende toktokkie. Maar dit bewys nog nie dat die ‘dood-aanstel’ willekeurige gedrag is aan die kant van die insek nie. Dit mag wees dat daar altyd 'n sekere mate van skrik moet wees om hipnose tot stand te bring, en dat die skrik afwesig is in die geval van die mak toktokkie wat gewoond geraak het aan aanraking. In geval van die groter soogdiere speel skrik ongetwyfeld 'n groot rol in die teweegbring van hipnose. As iemand vertel: ‘Ek het my lam geskrik,’ dan beskryf hy 'n werklike simptoom wat die meeste mense op een of ander tyd in hul lewe ondervind het. Dat die gevoel van ‘lamheid’ maklik tot algehele bewusteloosheid kan verdiep, is algemeen bekend en word dikwels by die mens ondervind. In die bobbejaan kan bewusteloosheid maklik teweeggebring word deur skrik, vernaamlik wanneer dit gepaard gaan met groot en skielike angs.

Dit is al wat ek kan bydra tot die groot vraagstuk of die ‘dood-aanstel’ van voëltjies en klein viervoetige diertjies willekeurig of onwillekeurig is. Want die feit dat in mens en bobbejaan 'n toestand van bewusteloosheid deur skrik kan veroorsaak word, lewer nog geen afdoende bewys dat die ‘dood-aanstel’ van 'n toktokkie ook onwillekeurig is nie.

Daar is een gedragswyse van voëls in verband met ander roofvoëls, slange en roofdiere wat egter klaarblyklik willekeurig is. Dit is die rondfladder en aanstel van hulpeloosheid in die onmiddellike nabyheid van so 'n dier. Ek is egter daar vas van oortuig dat hierdie gedrag niks met die hipnotiese toestand te doen het nie. Dit is eenvoudig 'n middel wat aangewend word om die roofdier af te lei of te verdryf van 'n plek wat vir die voëltjies gevaarlik is. Intussen het ek nog nooit gehoor dat 'n voëltjie onder sulke omstandighede deur 'n slang of roofdier gevang is nie. Meestal trag die rower maar net om weg te kom. Die slang skyn in die meeste gevalle hoegenaamd geen notisie van sy ‘uitskellers’ (soos die naturelle hulle noem) te neem nie. So ook groot uile en valke. Kleiner soorte vlug, asook klein katsoorte.

By die bobbejaan, soos ek reeds beweer het, kan verlamming en bewusteloosheid maklik deur skrik veroorsaak word. In die volgende drie proefnemings (uit 'n aantekeningboek) was 'n gevaarlike toestand van bewusteloosheid, met katalepsie gepaard, die gevolg van skrik gewees:

[pagina 242]
[p. 242]

(1) 'n Klein wilde bobbejaan is skielik, by die aanvang van die nag, in 'n pikdonker kamer opgesluit. Daar was onmiddellik 'n geweldige geskreeu, wat skielik stil word. Toe die deur na 'n paar minute geopen is, was die diertjie bewusteloos in stuipagtige katalepsie. Later het die dood gevolg.

(2) 'n Klein mak bobbejaantjie. 'n Onsigbare geweer was by hom so gestel dat by die aanraking van 'n piesang hy die skoot moes aftrek. (Hy was altyd baie bevrees vir vuurwapens van enige aard.) Die skrik het onmiddellike bewusteloosheid en katalepsie veroorsaak.

(3) 'n Volgroeide wyfie. 'n Dooie pofadder was skielik om haar nek so gebind dat sy dit nie kon afruk nie. Diep bewusteloosheid met katalepsie.

'n Ander jong, mak bobbejaan wat hom eenmaal bewusteloos geskrik het vir 'n pofadder, het so vatbaar vir die toestand geword dat dit moontlik was om hom te hipnotiseer deur blote vertoning van die slang vlak voor sy gesig. Die simptome, tot op sekere hoogte, was presies soos dié wat die toestand van hipnose in die mens voorafgaan. Eers word die hand slapagtig uitgestrek; die kop sak op die bors, en die dier sak bewusteloos ineen. Daar was gewoonlik in hierdie geval algemene liggaamlike slapheid, maar as jy hom dadelik opneem en tussen twee takke stel, sodat sy hande een gryp en sy voete die ander, dan het hy dadelik in 'n toestand van katalepsie geraak. Elke spier van die liggaam was so verstyf dat hy tussen die twee takke uitgestrek bly hang het. Met die terugkeer van die bewustheid het die spiere stadig verslap. Die voete raak los, sodat die dier aan sy arms hang. Sodra hy ten volle weer bykom, val hy van die tak en kom op sy voete te lande.

Ek het vir 'n lang tyd proefnemings met verskeie jong Afrikanermeisies, asook met nie-blanke mans en vroue, gemaak. Dit was moontlik deur ‘suggestie’ om die spiere van selfs 'n swak gehipnotiseerde mens so te verstyf dat die liggaam tussen twee stoele met die agterhoof op een en die hakke op 'n ander reguit vir 'n onbepaalde tyd kon bly. Hulle kon selfs 'n aansienlike gewig op die middel van die lyf verdra. Hierdie toestand van katalepsie gedurende hipnose is natuurlik algemeen bekend en word dikwels deur toneelhipnotiseurs op die verhoog gebesig om die verwondering van die gehoor te verhoog. Ek beskryf dit hier enkel om aan te toon hoeveel dit ooreenstem met die kataleptiese toestand in die bobbejaan, en om daaruit af te lei dat die toestande in alle waarskynlikheid gelyksoortig is.

Wat die bobbejaan betref, is die toestand waarskynlik 'n oorblyfsel wat deur sy oervoorouers gebesig is as 'n beskermingsmiddel en wat nou deur sy vyande tot sy verderf gebruik word.

Die bergtier, die vyand by uitstek van die wilde bobbejaan, gebruik twee maniere om sy prooi te bemagtig. Die een is om die trop voor te lê, teen die aand, by die terugkeer na die slaapplek, om een afgedwaalde te gryp en dood te byt of, ten minste, die rug af te byt. Sodra hy dit gedaan het, vlug die rower vir

[pagina 243]
[p. 243]

sy lewe, want die groot mannetjies sou hom gou oorrompel. Hy neem skuiling in 'n klipskeur waar hy vir die bobbejane onbereikbaar is. Dan in die midel van die nag wanneer die trop op hul slaapplek is, kom hy terug om sy prooi weg te dra. In sommige dele van Noord-Transvaal kan hierdie tragedie byna elke nag gadegeslaan word.

'n Ander wyse waarop die tier 'n bobbejaan vang, is deur hipnose. Die feit is onder ou jagters en by swartes wat in hoë gebergtes woon, goed bekend. Ek het nooit geleentheid gehad om so 'n voorval te sien nie, maar ek gee hier die persoonlike ondervinding van die heer Jan Leigh, vroeër 'n beroemde Waterbergse jagter.

Leigh het een middag met 'n haelgeweer uitgegaan in die Hangklipgebergte om tarentale te skiet. In die skemer, onderwyl hy sit en rus, kom 'n klein troppie bobbejane bo hom na die slaapplek verby. Skielik hoor hy 'n geweldige geskreeu van die troppie en vernaamlik die benoude gekerm van een jong mannetjie. Naby Leigh was 'n klomp hoë, spits rotse taamlik ver van mekaar verwyder. Op een van dié, baie naby Leigh, maak die jong mannetjie uiteindelik sy verskyning. Hy was toe stil met sy volle aandag op die gelykte voor die spits rots waarop hy sit, gevestig. En toe sien Leigh 'n groot tiermannetjie op 'n afstand van ongeveer honderd tree van die bobbejaan. Dwars oor die kaal gelykte bekruip hy die rots voetjie vir voetjie. Hy seil byna plat, met 'n krampagtige beweging van die stert. Sy oë was glinsterend op die bobbejaan gevestig. Toe hy vlak onder die rots kom, bly hy sonder verdere beweging staan - net die punt van die stert swaai nog van kant tot kant. Die bobbejaan was natuurlik geheel en al veilig. Op die spits van die kaal rots kon die tier hom nooit bykom nie. Hy was die enigste viervoetige dier wat so 'n rots kon bestyg. Vir ongeveer tien minute bly die twee diere in dié toestand gefikseer. En toe, stadig, sak die kop van die bobbejaan. Sy lyf word slap, en uiteindelik tuimel hy af, so te sê in die kloue van sy meedoënlose vyand.

Die oorlede heer Piet van Rooyen van Purekrans het 'n dergelike voorval aan skrywer vertel.

In 'n volgende artikel sal ek meer bepaald die hipnotiese toestand in die mens behandel.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken