Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende
[pagina 256]
[p. 256]

7 Waar die Wêreld Verkeerd om Wentel

Boshof is 'n Vrystaatse dorpie ongeveer dertig myl van Kimberley. Dit is geleë binne die sogenaamde ‘woestyngebied’, wat groot gedeeltes van Betsjoeanaland, die Vrystaat en Noordwestelike Transvaal beslaan.

In vroeër dae was Boshof 'n ware oase in die woestyn. Die omgewing is nie juis inspirerend vir mense wat natuurskoon alleen vind in die grootste verskyning van bome, berge en riviere nie. Hier is alleen die eensame en oneindige vlakte, besaai met klein koppies en rantjies van swart ysterklip.

En dan is daar panne. Boshof is te midde van die grootste pannestreek binne die grense van die Unie. Nou, helaas! is die panne meestal leeg. Vroeër het Boshof self 'n onuitputlike watervoorraad besit, en die dorpie was wyd en syd beroemd om sy pragtige vrugtetuine en blomme wat die strate in die somer van 'n kleurvertoning voorsien het waarvan die weerga ver sou gesoek moet word.

In groot reënjare, as die panne vol word, is die distrik in 'n nuwe wêreld herskep. Dit was die toevlugsoord van miljoene watervoëls, waaronder 'n menigte besoekers uit Midde-Afrika en selfs van die Nyl - so het natuurkenners destyds vasgestel. Daar was een reënjaar toe die grootste van die panne - Karree - oorstroom en met Prinspan aangesluit het, en daarvandaan was daar een breë waterweg, van pan tot pan, tot in die Vaalrivier.

Dit lyk of Boshof so 'n verbasende verskynsel nooit weer sal beleef nie. Die watervoorraad van die dorpie is tot op die grens van wegdroging verminder, en deur die hele distrik het die watervlak dieper en dieper gesak en tegelyk minder geword. Vroeër was Kimberley uitsluitend van Boshof afhanklik vir al sy groente en vrugte. Vandag lewer die dorpie vir eie gebruik selde genoeg.

Dit is merkwaardig dat hierdie klein dorpie in die woestyn eertyds verbonde was aan die name van verskeie merkwaardige persoonlikhede. Ek wil slegs van een hier melding maak, omdat hierdie artikel werklik met 'n geheel ander oogmerk geskrywe is. Hier in Boshof het die ou heer James Bain die laaste jare van sy lewe deurgebring. Bainsvlei naby Bloemfontein was sy oorsponklike woonplaas. In Boshof het die ou man die laaste jare van sy lewe geslyt in die aanlegging en onderhou van 'n wondertuin. Niemand het Boshof in dié dae besoek nie sonder verlof te verkry om die hoog-ommuurde praghof van plante te deurwandel. Weinig mense het geleentheid gehad om die huis binne te kom. In die laaste jare van sy lewe was die ou heer 'n ware kluisenaar. Al die kamers van sy huis was vol boeke gepak. Hy had o.a. 'n verbasende versameling Suid-Afrikaanse boeke, pamflette, prente en handskrifte.

In sy jong dae het hierdie merkwaardige man geen onaansienlike rol in die openbare lewe van die Vrystaat gespeel nie. Geen beroemde reisiger het die binneland van Suid-Afrika besoek sonder Bainsvlei aan te doen nie, en van die

[pagina 257]
[p. 257]

meeste had die ou heer briewe en boeke in sy versameling. Die eerste prins van die Britse koningshuis wat Suid-Afrika besoek het - die Hertog van Edinburgh - was etlike weke die gas van die heer Bain op Bainsvlei.

Van die dak van die waenhuis van Bainsvlei het dié prins eendag 'n skouspel gesien soos waarskynlik nooit tevore en seker nooit daarná in Suid-Afrika te sien was nie. Die heer Bain het 'n impi Basoeto lank voor die koms van sy koninklike gas versamel en gereed gehou. Op die afgesproke dag het die impi vanaf Modderrivier die wild in 'n groot halfmaan ingesluit en oor die werf van Bainsvlei gedryf. Die optog het een gehele dag voortgeduur, van die môre tot die aand, en onder die massas diere was al die grootwild wat ooit op die vlaktes van Suid-Afrika te vinde was, tesame natuurlik met tallose duisende swartwildebeeste, blesbokke en springbokke. Die heer Bain het hiervan 'n skildery gehad deur 'n beroemde Engelse kunstenaar wat die Hertog later aan hom geskenk het.

En hier, binne die ontoeganklike mure van sy laaste heerlike klein vesting is die ou heer in uiterse eensaamheid dood. Ná sy dood is ontdek dat hy lid was van 'n Engelse familie van hoë adel. Die naam wat sy verwantskap kon aandui, het die heer Bain nooit gedurende sy lewe in Suid-Afrika gebesig nie.

Om aan te toon met welke merkwaardige mense die heer Bain in aanraking gekom het, dien slegs nog een anekdote: 'n Eie seun van die wêreldberoemde Engelse digter Shelley het by een geleentheid by Bainsvlei opgedaag. My vermoede was altyd dat die ou heer self hom uit Engeland laat haal het. Op sy oudag was hy altyd 'n weinig geheimsinnig aangaande hierdie seun van Shelley. Ek vermoed dat hy 'n onegte kind was. Hoe dit ook al mag wees, die man het etlike jare onder die sorg van die heer Bain deurgebring en is op net so 'n geheimsinnige wyse weer verdwene as wat hy aangekom het. Ek noem hierdie geval omdat die ou heer Bain op Boshof 'n oorspronklike handskrif van Shelley in sy besit had, wat hierdie seun van die digter hom as bewys van erkentlikheid geskenk het. Dit was een van sy mees beroemde gedigte - ek dink ‘Sensitive Plant’. Skrywer was ongelukkig te jonk en sy kennis van die Engelse letterkunde te skraal dat die handskrif 'n blywende indruk op sy geheue sou maak. Maar hy het die manuskrip van die gedig in sy hande gehad, en dit bly in sy herinnering dat die ou heer gewys het op verskeie veranderings deur die digter self wat die heer Bain as van die grootste letterkundige waarde beskou het.

Die Bain-versameling het kort na die dood van die ou kluisenaar verdwyn, behalwe 'n paar boeke wat hy aan senator Charlie Marais (broer van skrywer) voor sy dood geskenk het. Daaronder was 'n eerste druk van Harris se beroemde boek oor Suid-Afrikaanse wild, met 'n geskenkplaat deur die skrywer self aan Bain gerig.

Om na Boshof terug te keer! Behalwe sy heerlike tuine en sy panne was Boshof eertyds insonderheid om sy lugspieëlings beroemd. Besoekers het gedurig

[pagina 258]
[p. 258]

van Kimberley oorgekom met geen ander doel nie dan om die lugspieëlings van Boshof te aanskou. Ek dink nie dat die weerga daarvan êrens in die wêreld voorgekom het nie.

Gedurende sekere ure van die dag was daar 'n wonderlike en wisselende vertoning van mirages om die dorp. Die vlakte omheen was in pragtige mere verander waarin die toppe van die swart koppies - gewoonlik met 'n kroon van groen karree - as towereilande opduik. Die Engelse blaaie van Kimberley het van Boshof altyd as die ‘Village of Mirages’ geskrywe. Dit was my altyd merkwaardig hoe gou 'n mens daaraan gewoond geword het om dan niks wonderliks meer in die verbasende natuurverskynsel te vind nie. Maar vir die vreemde besoeker was die lugspieëlings altyd 'n verrukkende natuurwonder.

Met die groot klimaatsverandering wat die toenemende watervermindering teweeggebring het, het die lugspieëlings van Boshof jaarliks in beide uitgestrektheid en wonderlikheid afgeneem. Ek vermoed dat die boomgaarde van Boshof iets met die verskynsel te make had. By 'n later besoek deur skrywer het dit geblyk dat die opgeefsels nog daar was, maar hulle was niks meer wonderlik dan oral in ons droë streke te sien is nie. Tevergeefs het ons gesoek na die skitterende mere van vroeër, met heldere weerspieëlings in die water van koppies en bome wat die strand omsoom.

Skrywer onthou uit sy kinderdae wonderlike toere wat die lugspieëlings kon uitvoer. By een geleentheid was hy op reis met 'n algemeen bekende en beminde Duitse inwoner van die distrik, die heer Nauhaus van Gannapan. Skielik sien ons hoog in die lug voor ons 'n klompie blesbokke bedaard aan 't weie. Almal was egter onderstebo! So naby het hulle geskyn dat die ou heer Nauhaus die perde ingetrek en sy geweer gereed gemaak het, terwyl hy aan ons seuns 'n uitleg van die wonderlike natuurverskynsel gee wat my lankal ontgaan is. Ek herinner my egter dat hy ons vertel het dat hy dikwels tevore 'n soortgelyke verskynsel in die nabyheid van Boshof gesien het.

Maar die wonderlikste van die gebeurtenis moes nog kom. Ons het stadig voortgery, want die ou heer het stellig verwag dat ons bo-op die bult die werklike blesbokke in gesig sou kry. Maar ons is een bult oor, die leegte deur, 'n ander bult oor, en by die derde of vierde bult verdwyn die omgekeerde blesbokke uit die lug. Dit was nog goed 'n halfuur verder eer ons in die verte die klompie langs die pad aan die wei sien - dié keer reg op hul bene!

Nog een herinnering: 'n Paar uur te perd van die dorp was die plase van die heer Piet van der Byl en die heer Brink. Eersgenoemde was die vader van dr. H.J. van der Byl, van die Staatstaalfabriek in Pretoria, en laasgenoemde die vader van die heer George Brink, gewese burgemeester van Pretoria. Beide die twee here is dus seuns van hierdie klein Vrystaatse woestyndorpie.

Die leser het al seker by die een of ander geleentheid die ondervinding gehad dat terwyl hy op reis is, die wêreld skielik omgekeerd raak! Vroeër, toe reise

[pagina 259]
[p. 259]

met perde- en ossewaens die reël was, was die verskynsel meer gewoon. Jy gaan slaap een nag met die disselboom van die wa na die noorde. Die volgende môre as jy opstaan, is die wa, en met die wa die hele wêreld, omgedraai. Die disselboom wys suid, en die son kom in die weste op. Soos ek sê, was die wyse van reis in vroeë dae waarskynlik verantwoordelik vir die meer gewone verskyning van hierdie gewaarwording. Maar ek is seker dat baie lesers selfs in ons tyd - ten spyte kan die motor - dié lastige ondervinding gehad het.

Op pad van Boshof na die plase van mnre. Van der Byl en Brink moes mens 'n reeks rantjies deurgaan waar die pad twee of drie skerp draaie maak. In die middel van die dag was daar altyd regs en links uitgestrekte lugspieëlings wat by die uitweg op die oop vlakte gewoonlik ineen loop en op dié wyse die gehele landskap voor jou onsigbaar maak. Sodra jy so naby kom dat die mirage verdwyn, ontdek jy, tot jou verbystering, dat die wêreld binne 'n paar sekondes omgekeer het. Dadelik het jy die stellige indruk dat jy aan terugreis is en later die middag ontdek jy dat die son aan die verkeerde kant ondergaan.

Hierdie ondervinding moes elke vreemdeling by sy eerste besoek deurmaak. Dit was slegs nadat jy herhaalde male die pad op verskillende ure van die dag bereis het dat hierdie sielkundige omwenteling vernietig is. Sodra dinge eenmaal reg was, het die omkering nooit weer met jou plaasgevind nie.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken