Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende
[pagina 294]
[p. 294]

16 Insekte se Draadloosseine

Die enorme troppe sprinkane wat vandag ons land in alle rigtings deurtrek, sal baie lesers die kans verskaf om minstens een eienaardige en in sekere opsigte geheimsinnige hoedanigheid van hierdie insekte waar te neem. Waar 'n afgesonderde trop aan die trek is - 'n trop bv. wat twintig of dertig vierkante myl beslaan - het die toeskouer homself al seker dikwels afgevra: wat bewaar die eenheid van so 'n trop? Waarom versprei hulle nie? Waarom trek hulle nie dadelik uitmekaar nie? Hulle gaan tegelyk sit; bly miskien twee of drie dae op een plek en wanneer die bestemde uur slaan, gaan hulle byna gelyktydig weer aan vlieg, en hulle behou een rigting. Daar is altyd 'n klein persentasie agterblyers en sukkelaars, maar mettertyd verdwyn hulle ook agter die groot trop aan. Die groot meerderheid bly 'n afgesonderde eenheid. Die tyd van vlieg en sit en eet; van slaap en ontwaking; van eiers lê - kortom, al die insidente van hul lewensloop word op die een of ander wyse bepaal. 'n Vaste reglement van orde bestuur die trop as 'n eenheid. Van waar gaan die bevele uit wat die lewensloop van die trop rigsnoer?

As 'n trop êrens in die nabyheid gaan sit, voer dan die volgende eksperiment uit: Sluit 'n paar honderd gesonde en onbeskadigde enkelinge in 'n kou af, waar hulle geheel buite gesig van hul makkers is - binne 'n groot waenhuis byvoorbeeld. Voorsien hulle van voldoende voedsel en sorg dat hulle so min moontlik deur die teenwoordigheid van mense gestoor word. Dan sal u 'n sonderlinge feit waarneem: die opgesluite sprinkane sal aanhou eet net so lank as die trop buite. Hulle sal geen poging aanwend om te vlieg solank die groot trop waaraan hulle behoort, rustig bly nie. Op 'n bepaalde moment gaan die trop aan 't trekke. Skielik word die opgesluites opgewonde en rusteloos. Hulle kan hul makkers nie hoor of sien nie, maar hulle weet dat hulle aan die trek is. Hulle wend vrugtelose pogings aan om te vlieg, hulle weier om te eet en hulle hou aan met pogings tot uitvlugting totdat hulle uitgeput is. As die waarnemer wag totdat die trop verdwyn het en sy gevangenes dan loslaat, sal hy opmerk dat hulle dadelik trag om in dieselfde koers as wat die trop ingeslaan het, voort te trek. En - let daarop - hulle volhard in hierdie poging selfs al het die wind intussen omgeset. As die wind sterk teen hulle is, sal hulle koers hou deur lang spronge of kort vluggies. Maar altyd in die algemene rigting van die groot trop.

Wat rigsnoer hulle?

Klaarblyklik is dit dieselfde wonderlike, geheimsinnige, onsigbare invloed wat die eenheid van die trop bewaar.

Dit is waarskynlik dieselfde eteriese trilling wat van die mierkoningin uitstraal en wat skrywer by 'n ander geleentheid meer breedvoerig beskrywe het. Maar die sprinkane het g'n psigologiese middelpunt soos die miere nie. Hierin

[pagina 295]
[p. 295]

stem hulle egter ooreen met ander soorte tropinsekte. In die groot regte swartmierkommando's wat kryg voer teen termiete (ook deur skrywer elders waargeneem en beskrywe) is daar 'n bewaring van eenheid beide in trop en gedrag, wat van geen enkele middelpunt uitstraal nie. Dit is die ‘tropsiel’ wat alle tropdiere - die mens ingesluit - in sekere mate bestuur.

Die meeste insekte is in staat om geslagseine by wyse van eteriese trillings uit te saai. Só vind die vliegmiermannetjie sy wyfie. Dit is eienaardig dat die sprinkaan op presies dieselfde wyse sein as een termietsoort: dit is, deur die vlerke uit te sprei en vinnig te beweeg. Dit kan maklik vasgestel word dat die mannetjie die beweging waarneem sonder dat hy dit kan sien of hoor. Net soos in die geval van die termiet, word deur hierdie beweging 'n eteriese trilling losgelaat wat waarskynlik alle enkelinge myle ver in die omtrek kan beïnvloed. Deur snelheid van trilling word verskillende seine onderskei. Die seksuele trilling van motte en verskillende kewersoorte is byna van dieselfde snelheid as die trilling van ligstrale. Daarin bestaan die onweerstaanbare aantrekkingskrag van die kers vir die mot. Hy vang die ligtrillings op as 'n geslagsein van sy eie soort.

Dit is 'n merkwaardige feit dat die trilling wat die eenheid van die sprinkaantrop bewerkstellig, byna van dieselfde snelheid moet wees as die seine van verskillende ander enkelinginsekte. In ons noordelike sandwêreld leef 'n reusekriek wat gate diep onderaards uitdelwe as woonplek. Hy is uitsluitend 'n nagdier. Bedags maak hy nooit sy verskyning nie - met een uitsondering. Ná lang droogtes verskyn die krieke somtyds skielik by dag. Hulle kom uit hul gate oor vierkante myle veld - gelyktydig. Hulle is opgewonde en jag haastig in die gras rond. Hulle het die draadloossein van 'n naderende trop sprinkane gewaar! Somtyds gewaar hulle dit ure voordat die eerste sprinkaan sy verskyning maak. Wat anders kan dit wees dan die een of ander eteriese trilling wat alle materiële voorwerpe kan penetreer, presies soos die wonderlike invloed van die mierkoningin? Onthou dat die groot kriek in 'n donker holte voete diep onder die aarde sit waar seker geen geluid of geur (soos die mens sulke dinge gewaar) hom ooit kan bereik nie; tog ontvang hy binne sy diep onderaardse woning berig van die sprinkane as hulle nog vir die mense geheel en al onsigbaar en onhoorbaar is.

Op Dingaansdag het 'n groot trop sprinkane omtrent tienuur in die oggend op Pelindaba neergedaal. Toeskouers had hier geleentheid om 'n wonderlike skouspel waar te neem. Gelyktydig met die afsak van die sprinkane was die veld letterlik lewendig van groot skerpioene. Dit is geen oordrywing om te verklaar dat die gras op sommige plekke van skerpioene gewemel het nie. Daar was seker duisend sprinkane wat letterlik in die kloue van skerpioene neergedaal het. As die skerpioen een met 'n knyper aan die been of vlerk beetpak, dan was sy noodlot bepaal. Stadig kom die dodelike naald oor die kop gebuig. Die

[pagina 296]
[p. 296]

skop en worsteling van die slagoffer is tevergeefs. Met die naald word gevoel ... gevoel ... totdat 'n geskikte plek aangetref word en dan word dit stadig ingedruk. Die werking van die gif op die sprinkaan is blitssnel; gelyktydig met die indruk van die naald rek die sprinkaan sy bene in doodsverstywing uit. Die skerpioen sleep hom dan sy woning binne om hom op sy gemak te verslind.

Ook hierdie vieroog-monster van die insektewêreld het min of meer dieselfde draadloossein as die sprinkane. Daarom word berig van hul koms ook aan hom vooruit gesein deur die slagoffers self; en hy gewaar die sein diep onder 'n groot klip of in 'n onderaardse galery, presies soos die reuse-kriek.

Ek spreek van die invloed wat tropinsekte en tropdiere as eenhede bewaar, as die ‘tropsiel’ omdat die werking van hierdie invloed klaarblyklik van psigologiese aard is. Daar is altyd ‘doel’ in die werking van hierdie misterieuse krag en daarom moet dit onder natuurverskynsels as 'n psige gerangskik word.

Twee soorte groepsiele is in die insektewêreld waarneembaar. In die eerste en mees ontwikkelde soort word die psigologiese ‘invloed’ van 'n vaste middelpunt uitgesaai, soos by die termiete en heuningbye. Word die middelpunt vernietig, dan eindig die ‘invloed’ dadelik; die onmiddellike ontbinding van die groep as 'n onafhanklike eenheid vind plaas. Op baie maniere kan proefondervindelik vasgestel word dat hierdie invloed wat van die insektekoningin uitstraal, alle materiële voorwerpe (soos metaalplate, aarde en rots) kan penetreer, net soos die ‘invloed’ van die sprinkaantrop ongetwyfeld aarde en klip kan penetreer.

Die tweede soort groepsiel - en veel minder ontwikkel - is die ‘invloed’ wat van geen vaste middelpunt uitstraal nie, soos in die geval van sprinkane en regte mierkommando's.

Slegs dit kan met enige mate van sekerheid van hierdie tweede groepsiel verklaar word: dit is 'n ‘invloed’ wat oor die gehele swerm of trop verspreid is en ver buite die grense daarvan aan alle kante uitstraal. Die enkeling besit in die meeste geval geen individuele siel nie. Hy is psigologies onderhewig aan die groepsiel alleen, en as die werking verdwyn, dan is hy so hulpeloos dat hy sigself nie kan voed nie, hy kan geen enkele beweging maak nie sodra die uitstraling van die groepsiel gestaak word. Dit altans is die geval waar die groepsiel van 'n middelpunt uitgaan soos by die termiete. Die groepsiel sonder middelpunt (soos by die sprinkane) kan natuurlik nie eksperimenteel vernietig of verwyder word nie, sodat hierdie fenomeen by die sprinkane nooit vasgestel kan word nie.

Ek beweer dat die invloed 'n eteriese trilling is gelyksoortig aan die trillings van die draadloos-telefoon, of die onsigbare strale wat buite die grense van die sigbare spektrum val by die ontleding van lig.

Waarop - sal die leser vra - grond ek hierdie teorie? In die eerste plek is die

[pagina 297]
[p. 297]

werking, wat penetrasie van die materie betref, presies soos die werking van ‘draadlose’ elektriese trillings en onsigbare buite-spektriese ligstrale. Dan is daar die feit dat 'n menigte insekte die trillings van gewone ligstrale as hul eie seksuele uitstraling interpreteer, waaruit ons alleen kan aflei dat die ‘invloede’ in beide gevalle baie eenders moet wees om die insekte in so 'n belangrike lewensverskynsel so te kan mislei.

Die groepsiel is 'n veel meer gewone verskynsel in die natuur dan meeste mense ooit skyn te vermoed. Indien die leser ooit die wintertrek van voëls in noordelike lande waargeneem het, sal (nadat hy bowestaande gelees het!) die uitleg hom dadelik byval dat hulle deur 'n soortgelyke tropsiel gerigsnoer word. Dagvoëls, wat gewoonlik by nag blind en hulpeloos is, begin hul verbasende vlug (gelyktydig oor 'n gehele landstreek) in die donkerste van die nag. Daarom is vroeër, voordat beskermingsmaatreëls toegepas is, miljoene teen die lampe van vuurtorings te pletter geslaan by die begin van hul vaart. In die donkerste van die nag word die bevel van die wonderlike groepsiel uitgesaai: ontwaak en vlieg! In die donkerste van die nag is sommige soorte in staat om bymekaar te kom en 'n enkele swerm te vorm. (Ander soorte versamel by dag enige tyd voor die vlug.) Sonder dat hulle 'n tree voor hulle kan sien, slaan hulle 'n bepaalde koers in, deur mis en sneeuvlae heen. Oor die padlose oseaan word hulle koers onfeilbaar gerigsnoer duisende myle ver na die suidelike land waar hulle die somer weer opvang. As ons reeds weet hoe die groepsiel in honderde ander gevalle in die natuur werk, dan sal daar in hierdie geval van die trekvoëls geen ander uitleg by ons opkom nie dan dat dit 'n gelyksoortige ‘invloed’ is wat ons hier aantref.

Het die leser al ooit die gedrag van ons eie tropvoëls 'n weinig bestudeer, en verbysterd gestaan voor die wondere wat hulle in staat is om uit te voer? Vroeër, voordat die ellendige voëlvanger met kou op die rug en voëlent in die hande, sommige van ons skoonste voëlsoorte letterlik uitgeroei het, was daar elke jaar enorme troppe rooibekkies en verskillende vinksoorte selfs in die middel van die hoofstad te sien. Van rooibekkies alleen word jaar ná jaar duisende na Europa en Amerika (waar hulle geliefkoosde kouvoëltjies is) uitgevoer, totdat verskillende soorte op die grens van finale uitroeiing staan.

Sodra die broeityd afgeloop is - op een dag - vorm die rooibekkies swerms. Die enkeling verloor sy individualiteit; vanaf dié moment word hy veel meer deur die swermsiel dan deur sy eie psige beheer. Let op na hulle vlug. Daar is 'n skielike swaai in die swerm, 'n eienaardige buiging, asof die swerm 'n enkele doek is wat skielik deur 'n windvlaag opgevang is. Daar is honderde toere van hierdie aard. Hoe kan hulle dit ooit uitvoer as elke individu alleen deur sy eie siel bestuur word?

Dat ons tropvoëls ook gevoelig is vir seine wat buite die opvangvermoë van die menslike sinsorgane is, kan deur 'n menigte eksperimente vasgestel word.

[pagina 298]
[p. 298]

Neem byvoorbeeld die volgende mirakel wat die rooibekkie kan verrig. Hierdie voëltjies paar vir hul lewe. Dit is feitlik die enigste bewys van individuele mentaliteit wat hulle nog besit nadat hulle deel van die winterswerm uitmaak: die mannetjie en wyfie bly bymekaar totdat die broeityd weer aanbreek en die swerms opbreek. Neem nou 'n paar mannetjies wat vooraf met hul wyfies gering is en sluit hulle in 'n kou op. Die wyfies is vry en vorm deel van die swerm. Die voëltjies is so eenders dat geen mense-oog ooit in staat is om die een van die ander te onderskei nie; hul geluide is so eenders dat geen mense-oor ooit in staat is om 'n onderskeid tussen enige twee waar te neem nie. Bring nou die gevange mannetjie êrens in die nabyheid van 'n swerm en aanskou hul gedrag baie noukeurig. Die swerm maak 'n oorverdowende geraas: daar is waarskynlik vier- of vyfduisend in die swerm. Die gevange mannetjies roep en word waarskynlik deur sommige van die swerm. Die gevange mannetjies roep en word waarskynlik deur sommige van die swerm beantwoord. Nou, as hulle wyfies nie deel van die bepaalde swerm is nie, sal die waarnemer dit dadelik uit hul gedrag kan bespeur. Hulle roep, maar sonder enige groot belangstelling.

Bring hulle nou in die nabyheid van die swerm waar hul wyfies wel by is. Onmiddellik, uit al die duisende stemme wat as 'n bedwelmende lawaai die mense-oor bereik, onderskei die gevange mannetjies die roepstem van hul eie geliefdes. Waarlik, vir die mens is dit 'n onverklaarbare mirakel! Los hulle nou en dadelik herken elke mannetjie sy eie wyfie uit al die duisende voëltjies so eenders dat die mense-oog skaars mannetjie van wyfie kan onderskei!

Kan daar enige twyfel wees dat ons hier te doen het met invloede wat ver buite bereik van die menslike sinne val?


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken