Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende

6 Die Storie van die Twee Broers

Daar is geen papirus uit die ou Egiptiese letterkunde wat meer belangstelling gewek het en meer bespreek is as die ‘Storie van die Twee Broers’ nie. Die oorspronklike papirus is in die Britse Museum en is eers in faksimilee (in priester-skrif) deur Birch uitgegee. Dit is waarskynlik nie minder as drieduisend

[pagina 784]
[p. 784]

jaar voor Christus geskrywe nie. Die helfte is ongelukkig verlore en is in latere eeue deur ander skrywers aangevul. Die onderskeid tussen die oue en die nuwe, vervalste dele is merkwaardig. Hierdie is die vertaling uit die oorspronklike ou Egiptiese van slegs die eerste deel. Die leser sal dadelik in die storie die Josef-tema van die Bybel herken. En dit is nie alleen die tema nie maar ook die pragtige eenvoud wat aan die Bybelstorie herinner. Die papirus is natuurlik eeue voor die oudste boek van die Bybel geskrywe.

Hier volg die vertaling van die jongste hiëroglifiese teks wat die Britse Museum uitgegee het. Die Afrikaanse vertaling is so letterlik moontlik.

 

Daar was twee broers, kinders van een vader en een moeder; Anpu was die naam van die oudste en Bata die naam van die jongste.

Anpu had 'n huis en 'n vrou en sy jonger broer het by hom gewoon in die hoedanigheid van 'n kneg. Hy het die klere van sy ouer broer gemaak; dit was hy, die jongere, wat die vee veld toe geneem en opgepas het; dit was hy wat geploeg en al die nodige werk in die lande gedoen het. Sien, die jonger broer was 'n knap boer en sy gelyke was nie in Egipte te vinde nie ... en baie dae daarna is hy met die vee na die afgeoeste lande en saans kom hy terug met 'n drag groente uit die tuine wat hy voor sy ouer broer plaas waar dié by sy vrou sit. Nadat hy geëet en gedrink het, gaan hy by die vee in die koeistal slaap ... en voordag staan hy op en bak die roosterkoeke wat hy voor sy ouer broer en sy skoonsuster plaas. En hy neem vir homself brood na sy behoefte en jaag die vee uit veld toe.

Hy het sy vee goed opgepas en wanneer hulle (die vee) aan hom sê: ‘Die gras op so en so 'n plek is mooi’, dan luister hy daarna en neem hulle na die genoemde plek.

(Die bedoeling is nie dat die beeste praat nie maar dat deur hulle gedrag verlange in 'n seker rigting getoon word. Later besig die skrywer dieselfde sinnebeeld weer.)

En die vee voor hom het baie mooi geword en vinnig aangeteel en toe die ploegtyd kom, toe sê Anpu aan Bata: ‘Kom laat ons ons spanne neem en gaan ploeg, want die grond is sigbaar (bo die water van die Nyl verskyn) en net goed vir die ploeg; neem jy vandag die saad land toe, dan sal ons môre teen dagbreek begin om te ploeg.’ En die jonger broer het alles gedoen wat sy ouer broer hom gebied.

En dit het geskied dat hulle die volgende dag teen dagbreek met hulle spanne na die lande toe is en begin ploeg het. Hulle harte was verbly vanweë hulle werk.

'n Tyd daarna sê die ouer broer aan die jongere: ‘Hardloop nou vinnig en bring meer saadkoring van die huis af.’

Die jonger broer vind sy skoonsuster besig om haar hare te kam en hy sê aan

[pagina 785]
[p. 785]

haar: ‘Staan op en gee my koring dat ek daarmee terug na die land hardloop, want my broer het my gebied om gou te maak.’

En sy sê: ‘Gaan jy maar self na die pakkamer en neem wat jy nodig het, want as ek nou opstaan sal my hare deurmekaar raak.’

En die jongman gaan na die pakkamer en bring 'n groot graansak mee omdat hy begerig was om baie saad mee te neem. Toe hy uitkom, sê sy: ‘Hoeveel het jy?’ Hy antwoord haar: ‘Ek het drie mate gars en twee mate koring - vyf alles tesame; dit is wat ek op my skouer het.’ En sy kyk hom aan met die oë van haar jeug. Toe sê sy aan hom: ‘Jy is baie sterk. Ek let jou elke dag op,’ en haar hart ken hom met die begeerte van liefde en sy staan op omdat sy vol was van hom en sy sê aan hom: ‘Laat ons vir 'n tydjie hier bymekaar sit, en as jy toestem sal ek vir jou 'n pragtige kleed maak.’

En die jong man word woedend soos 'n wilde dier vanweë die skandelike woorde wat sy tot hom gespreek het. En toe word sy baie bang en die jong man sê aan haar: ‘Waarlik, jy was vir my soos 'n moeder en jou man soos 'n vader want hy is ouer as ek en het my laat lewe. Hoe skandelik dan is die woorde wat jy spreek! Ek sal niemand daarvan sê nie, nee, geen lewende siel nie.’ En toe neem hy sy drag en gaan voort land toe.

En teen die aand toe die ouer broer huis toe kom en die jongere agterbly om die vee bymekaar te maak - toe was die vrou bang en sy skeur haar klere en maak haar hare onklaar en verskyn as een wat verkrag is, want sy het besluit om aan haar man te sê: ‘Dit is jou jonger broer wat dit aan my gedoen het.’

En toe Anpu in die huis kom, vind hy sy vrou op die bed soos een wat siek is. Die huis was donker, op die erd geen vuur nie en sy bring geen water om sy hande te was nie.

En hy sê aan sy vrou: ‘Wie het dit aan u gedaan?’ En sy antwoord hom: ‘Niemand anders as jou jonger broer nie. Toe hy die koring kom haal, vind hy my alleen en hy sê aan my: “Laat ek by jou vir 'n tydjie wees; bind jou hare op.” En ek sê aan hom: “Is ek nie 'n moeder vir jou nie en is jou ouer broer nie soos 'n vader nie? As jy hom laat lewe ná wat hy gedoen het, sal ek sterwe. Ook sal hy my seker vermoor as hy weet dat ek jou alles vertel het.”’

En die ouer broer word woedend soos 'n tier van die suide. Hy neem sy mes in sy hand en gaan staan agter die deur van die koeistal om sy jonger broer dood te steek sodra hy met die koeie binnekom om hulle te voer en beddegoed uit te sprei.

En teen sononder kom Bata met sy drag groente op sy rug agter die vee aan, soos sy daaglikse gewoonte was. En toe hy by die stal kom en die voorste koei moes ingaan, toe skrik sy en ruik onder langs die deur. En Bata verstaan haar taal dat sy aan hom sê: ‘Sien, jou ouer broer staan voor jou om jou dood te maak. Vlug van voor sy aangesig.’ En toe die tweede koei ingaan, doen sy dieselfde as die eerste. En toe kyk Bata en onder die deur sien hy die voete van An-

[pagina 786]
[p. 786]

pu wat daar staan met die mes in sy hand. En hy sit sy drag op die grond neer en vlug so vinnig as hy kon en sy ouer broer agtervolg hom met die dolk in sy hand. En die jonger broer bid tot God en hy sê: ‘O, my Heer, U ken reg en onreg en waarheid en leuen!’ En God verhoor sy gebed en Bata kom tot aan die spruit wat vol krokodille is. En hy vlug deur die spruit sonder vrees, maar toe sy ouer broer op die wal kom, toe was hy bang vir die krokodille en hy bly staan en Bata staan oorkant. En die ouer broer vloek omdat hy nie daarin geslaag het om hom te dood nie.

Toe sê Bata aan hom: ‘Hoe kon jy my so agtervolg om my dood te maak sonder om eers te hoor wat ek te sê het? Ek is jou jonger broer en jy was soos 'n vader jeens my gewees en jou vrou soos 'n moeder. En toe jy my gestuur het om die koring te haal, toe was dit jou vrou wat 'n sekere voorstel aan my gedoen het en nou het sy die saak omgedraai.’ Toe het hy hom alles vertel wat plaasgevind het en hy sweer by die hoë naam van God dat wat hy sê waar is. En hy sê: ‘Dit was 'n lae en afskuwelike ding van jou om my op dié wyse voor te lê om my te vermoor. Ek verlaat jou. Ek gaan na die vallei van die doringbome en sal jou nooit weer sien nie ...’

(Hier breek die eerste deel van die papirus af.)


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken