Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende

10 Op die Drumpel van die Dood deur 'n Vriend in die Steek Gelaat

Daar was 'n tydperk gedurende die laaste stadium van die Tweede Vryheidsoorlog toe die werk van verkenners aan Boerekant 'n uiters gevaarlike roeping geword het en alleen deur die dapperste en knapste manskappe behoorlik uitgevoer kon word. Dit was toe die grootste gedeelte van die noorde deur Australiese troepe beset was. Die vermoor van gevange verkenners en van gewonde gevangenes was van die begin af 'n vaste reël by hierdie koloniale eenheid. Dit het eindelik uitgeloop op die uitmoor van alle Boeregevangenes, soms onder gruwelike omstandighede.

Van een van hierdie verskriklike skouspele was eerw. Daniël Heese 'n toevallige getuie. Hy was op reis, daartoe deur sy liefdadigheid en mensliewendheid aangespoor, om 'n swaargewonde Engelse offisier na die hospitaal op Elim te vervoer, toe hy op die lyke afkom van 'n aantal Boeregevangenes wat hy die vorige dag onder Australiese bewaking op die pad teëgekom het en van wie die meeste persoonlike vriende en bekendes was. Om die mond van hierdie getuie ewig te sluit, is die alombeminde sendeling deur een van die Australiese offisiere op die pad voorgestaan, en op koelbloedige wyse vermoor en sy lyk die bosse ingesleep. Daar was, sonder kennis van die moordenaar, ooggetuies van hierdie verskriklike daad.

Dit was op aandrang van die Duitse regering, anders sou dit waarskynlik nooit gebeur het nie, dat lord Kitchener drie van die Australiese offisiere in Pretoria deur 'n krygshof laat verhoor het. Twee is skuldig bevind en gefusilleer. Die derde is tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel. Hierdie voorval het 'n einde gemaak aan die vreeslike skrikbewind wat voorheen in die noorde hoogty gevier het.

Dit is begryplik onder welke atmosfeer van skrik die Boereverkenners des-

[pagina 811]
[p. 811]

tyds hul werk moes verrig, wetende dat dele van die vyand nie langer deur enige van die beskaafde oorlogswette gebonde was nie.

Genl. Beyers het verskillende knap jong Afrikaners wat vrywillig as verkenners gedien het, by hom gehad. Onder hulle was een merkwaardige persoonlikheid, die heer Karel Boshoff, oudste broer van kapt. Boshoff. Karel Boshoff was stokdoof. Laat in sy lewe het hy deur 'n ongeluk sy gehoor totaal verloor, maar soos dikwels gebeur, het die ander sintuie mettertyd die werk van die verlore een oorgeneem. Sy gesig was verbasend en juis omdat hy doof was, was hy miskien meer op sy hoede as 'n normale mens. Daarom is dit dat hy een van die bekwaamste verkenners was wat genl. Beyers ooit gehad het. Hier is een avontuur van hierdie merkwaardige mens, waarvan daar verskeie ooggetuies was:

Karel Boshoff is deur die generaal op verkenningswerk in die rigting van Naboomspruit gestuur om die beweging van Australiese kolonnes te bespied. Onder hom had hy drie ander verkenners, Frans du Toit, Petrus van der Merwe en een onbekende. Die vier verkenners het soveel moontlik in die berge gehou en die grootpad van die westekant genader. Tien myl van Naboom kom hulle uit op die rant waarteen die plaas Driefontein van die Van Rooyens lê. Die plaas was verlate, maar was só ver van die grootpad dat die Engelse destyds nog nie die huis opgeblaas het nie. Karel Boshoff wis dat daar droë voer in een kamer gepak was en het dadelik besluit om self af te gaan en 'n paar bondels vir hulle perde te kry. Hy het sy drie ondergeskiktes op die kop gelaat om wag te hou. Hulle moes 'n rooksein maak sodra hulle iets van die vyand bespeur. So ry Karel ewe onbesorg na die huis, bind sy perd aan 'n paal langs die gewel vas en stap die voorhuis in. Die huis was toe reeds deur swartes geplunder en al die kamers was vol puin van vernielde meubels en ander huisware. Karel het alles deurgekyk in die hoop om nog iets bruikbaars te vind. Hy was meer as 'n uur binne besig en toe hy uitstap met 'n bondel voer op sy rug, het hy die grootste verrassing van sy lewe gekry. Die hele plaas wemel van Australiërs! Op die stoep, op die werf, in die land en vrugteboord was Kakies met afgesaalde perde. Die meeste was besig om die piesangbos te plunder en groente uit die tuin te vergaar, maar op die werf was 'n menigte belas met afgesaalde perde. Op die stoep was Karel te midde van 'n klompie offisiere wat aan die drink was.

Die rybroek wat hy aanhad, was nie van die vyand s'n te onderskei nie. Hy was sonder baadjie, met 'n kakiehemp en 'n breërandhoed. Sonder om een minuut te aarsel, stap hy tussen die offisiere deur. Tot sy verbasing neem hulle glad geen notisie van hom nie. Die drag voer op sy rug het hom geleentheid gegee om sy kop en die grootste gedeelte van sy bolyf te verskuil. Toe hy buite kom, sien hy op die kop waar hy die drie manskappe gelaat het, 'n klein blou rokie opwaarts styg. Maar die sein was vir hom van geen diens nie.

Die werf was vol afgesaalde perde en manskappe waarvan die meeste op die rug uitgestrek was, waarskynlik aan die slaap.

[pagina 812]
[p. 812]

Karel wis dat sy lewe van die volgende paar sekondes afhang. As hy nou 'n fout begaan, was dit klaar met hom. Hy bereik sy perd sonder voorval, maar toe hy by die perd kom, sien hy ses of sewe manskappe in die voetpad opkom, met groente belaai. Binne 'n paar sekondes sal hulle teen hom aan moes verbygaan. Hy ontbind dadelik sy perd en lei hom 'n ent uit die pad, altyd nog met die bondel op sy rug, asof hy 'n geskikter plek soek om hom te voer. Tien tree verder het hy die teuels om 'n boomstam geslinger en die voer op die grond gestrooi. Hy het die perd twee of drie bekkevol laat vreet; toe trek hy hom ewe bedaard weg van die boom en klim stadig in die saal. Hy het nie regstreeks van die huis af weggery nie maar 'n ent skuins langs die pad gehou om toe regstreeks die kop te beklim, waar hy sy makkers gelaat het en waar die gevaarlike rokie nog altyd sigbaar was.

Toe hy ongeveer honderd tree van die huis af was, had hy 'n gevoel, iets wat hom dikwels oorgekom het, dat gevaar hom van agter bedreig. Hy kon natuurlik niks hoor nie maar toe hy omkyk sien hy die manskappe op die werf in beweging en almal kyk in sy rigting. Hy kon sien dat hulle hom toeroep. As hy toe verskrik geraak het en sy perd aangedruk het, was hy 'n verlore man! Hy het egter die teenoorgestelde gedoen. Hy hou sy perd in, trek hom dwars en roep 'n reeks betekenislose geluide terug terwyl hy met een hand die rook op die kop aandui. Hy word dadelik deur 'n handwuif beantwoord en dit was asof hy die geroep: ‘All right’ van die Engelse kon hoor! Onnodig om te verklaar dat hy nie langer vertoef het nie.

Bo van die rant af is die hele drama deur Frans du Toit en Petrus van der Merwe van begin tot einde gevolg met 'n angsfoltering waarvan hulle nooit weer die weerga ondervind het nie. Altwee het later getuig dat toe Karel by hulle afklim, hy doodbedaard was asof niks buitengewoons gebeur het nie.

Later is van gevangenes verneem dat die kolonne verskeie Boerespioene in diens had en dat Karel vir een van dié aangesien is. Die manskappe wat hom agterna geroep het, het aangeneem dat hy bevele had om die oorsprong van die rokie op die kop te ondersoek!

'n Ander noue ontkoming van kaptein Boshoff het plaasgevind in omstandighede van soveel hartverbittering en droefheid dat dit van al sy verbasende avonture miskien die diepste in sy geheue ingebeitel is. Ek dink dit was toe genl. Beyers eenkeer van plan was om die Laeveld met sy kommando in te trek. Wat ook al die aanleiding mag gewees het (daarmee is ek nie op die hoogte nie), is kaptein Boshoff en 'n ander jong kommandomakker die Houtbosberge ingestuur as verkenners en brandwagte. Die leser moet altyd in die geheue hou dat Boshoff destyds 'n seun van sestien jaar was. Sy makker op hierdie gevaarlike tog sal naamloos bly om redes wat aan die leser in die loop van hierdie verhaal duidelik sal word. Die aangeduide makker was etlike jare ouer as Sois, maar laasgenoemde was toe reeds as verkenner so hoog by die generaal aangeskrewe

[pagina 813]
[p. 813]

dat die leiding van die onderneming, sonder dat bevele presies uitgevaardig is, aan hom toevertrou is. Die naamlose maat was ook bekend as 'n dapper krygsman en 'n flukse verkenner.

Ek dink die plan was dat die twee verkenners die nag van die dag van hul vertrek weer by die kommando sou aansluit, of ten laaste die volgende nag.

Hulle was spoedig op vars spore van Britse kolonnes en by een geleentheid is besluit om 'n hoë kop te beklim wat byna tot aan die kruin met houtbos bedek was. Hulle het skaars halfpad met die perde geklim toe hulle gewaar dat hulle in die onmiddellike nabyheid van die Engelse was. Hulle het toe hulle perde hier vasgebind.

Sois het natuurlik die swart Arabier gehad. Hulle het die spits van die kop beklim wat bo die bome uitsteek en hulle 'n wye uitsig sou verskaf. Tot hul ontsteltenis ontdek hulle dat die kop deur 'n aaneengeslote kordon Engelse kampe omsingel was. Die laaste een om opgeslaan te word, was een wat hulle pad na die kop onverwags versper het.

Hulle moes op hande en voete terugkruip na die plek waar hulle die perde gelaat het en moes dadelik in die ruigste bos skuiling soek want van alle kante begin die Engelse die kop te beklim - natuurlik om dieselfde rede as Sois en sy maat, omdat die kruin kaal was en omdat dit die hoogste spits in die omtrek was.

Dit is onnodig om die bittere en benoude ure te beskryf wat die twee seuns moes verduur. Hulle had geen druppel water nie, en die tweede dag was hul kos reeds gedaan. Hulle kon geen tree sonder gevaar van ontdekking beweeg nie. Een moes altyd op wag staan by die koppe van die perde om te verhinder dat hulle runnik. Die derde dag, toe hulle die eerste bittere stadium van honger en dors moes deurmaak, het Sois opgemerk dat sy maat moedeloos begin word. Hy het van die doelloosheid van die oorlog begin praat noudat daar geen hoop op oorwinning meer was nie en die onderskeid afgeskilder tussen hulle en die gevangenes, wat ten minste voldoende kos en kleding had en vry was van die aanhoudende gevaar wat 'n man geen oomblik rus toelaat nie. Hierdie seun was 'n groot vriend van Sois, een wat hy so bemin het en so diep vertrou het dat hy te eniger tyd sy lewe in sy hande sou gegee het. Só het die uiteinde as 'n groot verrassing gekom, nieteenstaande al hierdie mismoedige fluistering. Skielik verklaar die vriend aan kaptein Boshoff: ‘Sois, ek gaan oorgee!’ 'n Paar minute kon hy dit nie glo nie, maar toe hy sien dat dit werklik ernstig bedoel was, het hy dadelik handelend opgetree. Hy gryp sy geweer en ‘hands-up’ sy maat voordat hy self 'n beweging kon maak. Hy het hom ontwapen en toe 'n paar tree van hom gaan staan om die toestand te oorweeg. Daar was twee uitweë: Hy kon hom daar en dan doodskiet, wat die Engelse wagte dadelik op hom sou afbring en in alle waarskynlikheid sy eie dood ten gevolge sou hê, of hy kon sy vriend laat gaan met die gevaar dat hy hom onmiddellik aan die Engelse sou

[pagina 814]
[p. 814]

verraai. Hy het egter die laaste weg gekies, toe sy maat in die diepste mismoedigheid verklaar: ‘Jy kan doen wat jy wil, Sois; skiet my nou hier dood, maar as jy dit nie doen nie, gaan ek my aan die naaste Engelse wagte oorgee.’

Sois het sy sak-Bybeltjie uitgehaal en dit aan sy maat oorhandig. ‘Ek sal jou laat gaan sonder jou wapens,’ sê hy, ‘as jy met die Bybel in jou hand voor God verklaar dat jy my nie aan die Engelse sal verraai nie.’ Die eed is plegtig afgelê. Toe neem Sois op sy beurt die Bybel en sê: ‘Luister nou na my eed ook: Ek sweer plegtig met Gods Woord in my hand dat indien jy my verraai, ek jou eiehandig sal doodskiet waar en wanneer ek jou kry, in vrede of in oorlog, in die oop veld, of te midde van jou huisgesin.’

Die maat wis waarskynlik met wie hy te doen had, want hy het Sois nie verraai nie. Hy het hom met 'n kus en trane gegroet en deur die bome na die Engelse wagpos, waarvandaan hulle al die tyd stemme kon hoor, met 'n wit doek in sy hand aangeloop met sy perd agter hom.

En toe was Sois alleen met die swart Arabier. Die vierde dag sonder kos of water! Waar die gevaar hom die nouste geraak het, was die feit dat sy perd 'n hings was en dat daar gedurig Engelse perde binne 'n paar tree van hom verbygaan. Hy moes gedurig - dag en nag - by sy kop staan om hom aan die lip te gryp sodra hy 'n teken gee dat hy wil runnik.

Dit is moeilik vir ons vandag, te midde van vrede en veiligheid, om so 'n toestand te besef, veral as ons altyd in gedagte hou dat dit 'n seun van sestien jaar betref.

Nooit het die Arabier sy getrouheid en verstand so skitterend getoon as by hierdie geleentheid nie. Uiteindelik was Sois so uitgeput en vaak dat hy op sy voete aan die slaap moet geval en inmekaargesak het. Hy het vir ure geslaap, soos hy kon merk aan die posisie van die son toe hy wakker skrik. Dit was mensestemme wat hom wek en toe hy helder wakker word, kyk hy vas in die oë van sy getroue perd, wat roerloos oor hom staan. Die gedrag van die perd kan alleen uitgelê word op die vermoede dat hy reeds in die paar dae geleer het dat hy nie moes runnik nie, 'n les wat hy nooit gedurende die oorlog afgeleer het nie. Dit was slegs nodig om hom 'n digte bos binne te lei, 'n paar keer oor die neusgate te streel en sy onderlip vas te knyp, dan staan hy daar roerloos, sonder om te runnik of selfs te proes, totdat sy baas weer by hom kom.

Ná sy skielike ontwaking bekruip Sois die Engelse wagpos, wat skaars dertig tree van hom af was. Dit was 'n afdeling met twee pakmuile en 'n heliograaf-instrument wat hul besig was om te beproef. Hy moes maar weer terugkruip in die ruigte in om weer in die laaste stadium van honger en dors die wag langs sy perd te hou. Gedurende die volgende nag het hy weer aan die slaap geraak, nieteenstaande inspanning van al sy wilskrag. Die son was net aan opkom en om hom was alles doodstil. Hy het met 'n dankgebed tot die gevolgtrekking gekom dat die Engelse die kop verlaat het, maar hy sou eers later uitvind. Hy

[pagina 815]
[p. 815]

het sy perd vasgebind en op hande en voete na die spits van die kop geklim. Toe hy daar aankom, sien hy slegs een Engelse kamp aan die noordekant van die kop. Agter hom, God sy dank! was die pad oop om uit hierdie benoude gevangenskap vry te kom. Maar sy bittere lyding was nog nie op 'n end nie! Net toe hy omdraai om na sy perd terug te gaan, hoor hy stemme binne vyf of ses tree van hom af! Hy had net tyd om hom neer te gooi en by 'n klipskeur wat met 'n digte laag wildeperske bedek was, in te kruip, toe die Engelse afdeling met die heliograaf hul verskyning maak. Wat Sois gedurende die volgende paar uur moes deurstaan, gaan al ons denkbeelde te bowe. Die Engelse het die instrument op die rots langs hom opgestel en was gedurig so naby hom dat hy hulle altyd aan die bene kon raak deur sy hand uit te strek! By een geleentheid het een van hulle om een of ander rede met die tromp van sy geweer die wildeperske verskuiwe. Kapt. Boshoff verklaar dat hy deur 'n opening die soldaat vas in die oë gekyk het binne 'n afstand van twee of drie tree, sonder dat laasgenoemde hom egter ontdek het, nieteenstaande die feit dat hy hom reeds klaargemaak het om die bevel ‘Hands-up!’ te hoor. Dit was die bitterste lyding wat hy ooit gedurende die kryg deurgemaak het. Dit het hom 'n eeu geskyn voordat die afdeling uiteindelik weer hulle instrumente aanmekaargesit en vertrek het.

En dit was die einde van sy foltering. Met keel en mond so droog dat hy geen geluid kon maak nie, is hy terug na sy perd en die kop af. Binne 'n halfuur het hulle die eerste water bereik, waar beide perd en baas hulleself byna om die lewe gebring het deur te vinnig en te veel te drink.

Maar Sois was nog glad nie uit gevaar nie. Die land was vol Engelse en van waar sy kommando beland het, had hy geen die minste aanduiding nie. Hy het vermufte mielies in verlate lande afgemaak, op klippe fyngestamp en daarmee sy lewe gered.

Ná drie dae van ronddwaal deur die houtbosse kom hy skielik op 'n patrollie van drie manskappe af wat genl. Beyers uitgestuur het om na die twee verkenners te soek.

Nege maande later is Sois Boshoff by Warmbad deur 'n afdeling ‘National Scouts’ gevange geneem. Hy was besig met die waaghalsige onderneming om die spoor tussen Warmbad en Tweefontein op te blaas. Buiten die dinamiet en doppies het Sois nog by hom die rewolwer en groot jas gehad van 'n Engelse kolonel wat 'n paar dae tevore in 'n geveg geval het.

Kaptein Boshoff is na Pretoria vervoer, waar hy twee keer voor 'n Britse krygsraad op aanklagte teen sy lewe moes teregstaan.

Weens sy jeug is die krygsraad verdaag sonder om vonnis uit te spreek, wat sonder twyfel die dood sou gewees het. Die res van die oorlog, slegs 'n paar maande, het hy in Indië deurgebring.

En nou nog net die vermelding van een van die bitterste momente wat kap-

[pagina 816]
[p. 816]

tein Boshoff in die oorlog deurgemaak het. Toe die ‘Scouts’ hom by Warmbad met gevelde gewere ‘hands-up’, was een van die eerste gesigte wat hy herken, dié van sy troue en beminde vriend wat hom op die Houtboskop in die steek gelaat het, daarom is dit dat hy hier naamloos gelaat word.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken