Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende
[pagina 840]
[p. 840]

15 Oor 'n Merkwaardige Moordsaak

Enige jare gelede het voor die Rondgaande Hof op Pietersburg 'n saak gedien wat in baie opsigte een van die sonderlingste was wat ooit voor 'n Suid-Afrikaanse hof gekom het. Om een of ander onverklaarbare rede was daar op dié tydstip geen dagbladverteenwoordigers in Pietersburg nie. Nòg die Engelse nòg die Afrikaanse koerante had 'n verslag van die saak.

Die saak was 'n beskuldiging van moord teen die oudste en ‘troonopvolger’ van die ou Bawenda-kaptein Sewaas en sewe van sy groot en vernaamste toordokters. Ek het namens die staat opgetree en die beskuldigdes is verdedig deur adv. Krause en adv. Van Soelen, daarna altwee regters in verskillende howe.

Die Bawenda praat 'n taal so anders as die land se twee bekendste swart tale dat die kwessie van vertolking die polisie altyd moeilikheid gee. Dié keer, egter, het die naturellekommissaris 'n jong Duister na Pietersburg gebring wat tussen die Bawendas gebore is en grootgeword het. Nie alleen kon hy hulle taal ewe goed praat as Afrikaans, Duits en Engels nie, maar wat van meer belang was, hy het van sy kindsdae af hul volksliedere, sages, legendes en stories geleer en daar was niks van hul eienaardige lewenswyse en gewoontes wat hy nie geken het nie. Die donkerste geheime van hul sonderlinge rituele dienste was vir hom geen geheim nie. Vir hom was dié kennis so 'n alledaagse ding dat hy klaarblyklik nooit geweet het hoe diep interessant en van hoeveel wetenskaplike waarde dié buitengewone kennis by 'n blanke was wat kon vertel en wat gewillig was om te vertel nie. Van die ou Bawendas self kon 'n mens eenvoudig niks verneem nie. Hul lewe was vir hul blanke bure 'n gesluierde geheimenis, en hulle het konsekwent geweier om die geringste feite te verklap. Hul samelewing was 'n groot vrymesselary, die geheime waarvan met die uiterste waaksaamheid van die blankes onthou is.

Dit het vir my spoedig duidelik geword dat daar geen blankes te vinde was wat die taal of die geheime lewenswyse van dié volk geken het of ooit die moeite gedoen het om dit op te spoor nie, behalwe genoemde jong Duitser.

Om die saak behoorlik aan regter en jurie te verduidelik, het ek dadelik gevoel dat ek alles omtrent die volk moes weet wat daar te wete was, derhalwe had ek voor die verhoor 'n week lank nagtelike onderhoude met ons jong tolk. In dié tyd het hy my 'n storie vertel wat boeiender was as enigiets wat ek ooit in my lewe gehoor het. Wat ek dadelik gevoel het, was dat ek hier te doen had met waarskynlik die enigste swart volk in Suid-Afrika wat 'n duidelike verband toon met die ou Egiptiese beskawing van seshonderd jaar voor Christus tot die Romeinse en Griekse verowerings. Soos algemeen bekend, was die Egiptiese taal, letterkunde en geskiedenis vir meer as duisend jaar totaal verlore. Daar was geen mens op aarde wat 'n enkele letter of woord van al die duisende gebei-

[pagina 841]
[p. 841]

telde inskripsies in hul wonderbaarlike rotstempels en paleise en die duisende papirushandskrifte uit die priesterlike en koninklike grafkelders kon ontsyfer nie. Die enigste kennis wat die moderne geleerdes van die ou Egiptenare had, was afkomstig uit die verhaal uit die Ou Testament. Later het geblyk dat die Jode niks meer van Egipte geweet het as die kennis van 'n naburige volk nie, waarvan gedurig deur die Egiptenare enkelinge as slawe gevang is. Hulle het egter nooit vroue of kinders gebuit nie, slegs jong seuns of manne, wat dadelik voor hul verkoping gekastreer is. Die gebruik van Egiptiese woorde en beskrywings van Egiptiese lewenswyse bewys dadelik aan iemand vertroud met die taal dat ons hier te doen het met 'n naburige half-verowerde volk wat gedurig op hulle hoede moes wees teenoor die hoogbeskaafde volk aan die grense van die woestyn.

Die Egiptenare het hulle Sjasu genoem - sandbewoners. Hul enigste kennis van Egipte en die Egiptenare was waarskynlik afkomstig van ontsnapte slawe wat hulle weg na die woestyn teruggevind en kom vertel het van al die wondere van dié magtige volk. Daar uit het die legende van die Exodus ontstaan, om onder die sandbewoners later as 'n historiese oorlewering voort te duur tot hul verowering van Palestina en die beskawing wat daardeur ontstaan het. Waarskynlik duisende jare ná die gebeurtenisse wat die legende voorgee om te beskrywe, het die storie deel geword van die Joodse godsdienstige geskiedenis. Die ware kennis wat moderne Europa van die ou Egiptenare gehad het, was derhalwe feitlik niks totdat een van Napoleon se offisiere 'n steen te Rosetta gevind het met 'n proklamasie van die Griekse koning van Egipte in beide Grieks en Egiptiese hiërogliewe. Van hierdie enkele reëls (werklik slegs van twee name om mee te begin) is die hele taal ontsyfer totdat ons Egipties net so goed ken as enige moderne geskrewe taal.

Later is ontdek dat daar geen lewende volk in Afrika was wat enige direkte verband met die ou Egiptenare toon nie. Die taal van slegs een byna uitgestorwe volk - die Kopte - het 'n ooreenkoms met Egipties getoon. Dit was egter ook blykbaar die aangeleerde taal van 'n verowerde volk. Van 'n volk afkomstig van hulle was daar geen spoor te vinde nie. Dit was asof die magtige volk in die lug verdwyn het soos 'n seepbel, 'n volk wat meer as vyfduisend jaar heersers van die bekende wêreld was.

Dit was vir die skrywer derhalwe van boeiende belang toe hy uit die vertelling van die jong Duitse tolk bewyse vind van 'n klaarblyklike ou Egiptiese verband. Hoe ver dit gestrek het, sal die leser uit die loop van dié artikel self agterkom.

Eers sal ons derhalwe iets vertel van die tans aangenome geskiedenis van die Bawenda, soos dit uit hulle legendes en oorlewerings opgemaak word - seker geen alte betroubare geskiedkundige bron nie.

Vermoed word dat die Bawendas ongeveer driehonderd jaar gelede uit die

[pagina 842]
[p. 842]

verre noorde van Afrika na die suide deurgedring het, waarskynlik voor 'n ander swart vloedgolf. Daar is min aan te twyfel dat hulle tydens hulle vlugtrek die teenswoordige Zimbabwe bereik het en daar lank vertoef het. Het hulle die vesting daar gevind of was hulle self die boumeesters van hierdie sogenaamde tempel? Ek het altyd 'n gevoel dat die Bawendas veel vroeër as die aangenome tydperk verhuis het, waarskynlik meer as duisend jaar, en daar is bewyse waaruit 'n boekdeel sou gemaak kon word dat die Bawendas Zimbabwe gebou het.

Hulle toon tot vandag toe 'n kennis van klip- en rotswerk wat 'n mens laat dink dat die bouwerk 'n klein en gebrekkige oorblyfsel is van hul Egiptiese herkoms. Hulle beskou Zimbabwe tot vandag toe as een van hul heilige plekke, hulle ou tuiste. Van 'n verdere afkoms as Zimbabwe weet die teenswoordige Bawendas nie. Dit lyk seker dat hulle van plan was om 'n soortgelyke vesting in Transvaal op te rig toe hulle Zimbabwe in alle haas moes verlaat.

 

Ten suide van die Limpopo het die Bawendas 'n klein Zimbabwe begin oprig waarvan die oorblyfsels vandag nog te sien is, maar hulle het spoedig 'n natuurlike vesting ontdek veel sterker as enigiets wat hulle op die oop vlakte kon oprig. Die koning het Magatosberg as sy hoofstad gekies, 'n vesting wat die Boere-krygsmanne tydens die lewe van Magato as onneembaar beskou het sodat dié kaptein gedurende sy leeftyd geheel en al onafhanklik was. Doornrivier was sy grens, en geen witman het dit ooit sonder sy toestemming oorgegaan nie. 'n Onderkaptein (voorsaat van Sewaas) het sy hoofstad aangelê in die skoonste natuurlike omgewing (ruwe berge en ondeurdringbare houtbosse) wat in Transvaal te vinde is.

Om terug te kom na die verband tussen die ou Egiptenare en die Bawenda. Daar was een sonderlinge verskynsel in die saak wat eerste my gedagte in dié rigting gestuur het. 'n Jong ‘koningin’, die jongste vrou van ou Sewaas, was die vernaamste kroongetuie. Sy het 'n diep indruk op my gemaak tydens die voorlopige onderhoude wat ek met haar gehad het. Sy was heeltemal anders as die swart tipes waaraan ons gewoond is. Sy was werklik mooi, selfs uit 'n blanke oogpunt, en wat verstand betref was sy onmeetbaar bo enige swart vrou wat ek ooit tevore gesien het. Sy had 'n eienaardige praatwyse wat elkeen van haar belangrikste verklarings 'n gedig gemaak het. Maar dit was haar gesig wat my dadelik en diep getref het. Ek had dadelik die sonderlinge gevoel dat ek die vrou tevore êrens gesien het, hoewel dit hoogs onwaarskynlik was.

Eindelik het die uitleg my te binne geskiet. In die museum van Egiptiese oudhede is daar 'n houtsneeborsbeeld van 'n jong Egiptiese prinses wat ongeveer drieduisend jaar voor Christus gesterf het. Die stuk is ongeveer ses duim hoog maar dit word algemeen erken as een van die merkwaardigste snybeelde wat die wêreld ooit gesien het. Kort ná die ontdekking van die beeldjie deur 'n Amerikaanse ekspedisie wat besig was om opgrawings te doen onder die ge-

[pagina 843]
[p. 843]

wone voorwaarde dat die Egiptiese regering die reg van eerste keuse sou hê op alle stukke wat hulle mag vind, het 'n museum die Egiptiese regering £25 000 vir die klein houtbeeldjie aangebied.

Die aanbod is van die hand gewys en die naamlose houtbeeldjie is algemeen beskou as een van die waardevolste skatte in die museum van Kaïro. Sewaas se jong ‘koningin’ was die ewebeeld van die Egiptiese prinses. Ek het later 'n kiekie van die beeld in Pretoria bestel en het die jong Bawenda-vrou gelaatstrek vir gelaatstrek met die Egiptiese beeld vergelyk en almal (die regter inkluis) het dadelik verklaar dat sy as model vir die beeld kon gestaan het.

Aan die jong Duitse tolk het ek 'n reeks van die mees alledaagse Egiptiese woorde voorgelê en daarop het die ontdekking gevolg dat verskeie Bawendawoorde nie alleen 'n direkte afkoms van Egipties vertoon nie, maar dat etlike presies dieselfde is.

'n Beroemde taalkundige het my egter later vertel dat dié presiese ooreenkoms van woorde met groot voorbehoud as bewys van verwantskap moet beskou word. Die bewyse het egter nog verder as woorde gestrek.

Ra was die eerste onder die Egiptiese gode. Hy was die songod. Ra is 'n ander woord vir die son. Die Egiptenare het geglo dat die songod elke dag deur die oseaan van lug wat werklik 'n vloeistof is, in twee skuite reis. Van sonop tot middag is hy in die At-skuit, dan van middag tot sonsondergang gaan hy oor in die Atet-skuit. Die skuite word deur 'n bemanning van onsterflike matrose met spane vervoer. Die koning van Egipte het aanspraak op 'n direkte afstamming van die songod en wanneer hy sterf, gaan hy direk na die skuit waarop Ra op dié tydstip verkeer. Sy aankoms word met groot toejuiging deur Ra se matrose begroet.

Die Bawenda glo dat die son 'n lewende wese is, feitlik almagtig. Hulle glo dat die blou lug 'n oseaan van vloeistof is en dat die son in 'n skuit vervoer word wat deur 'n bemanning van roeiers getrek word. Wat nog merkwaardiger is, is dat hulle ook die geloof had dat die koning en die ander kapteins van koninklike bloed in een of ander direkte verband met die son staan, indien hulle nie direkte afstammelinge is nie.

Ou Sewaas dra 'n halssnoer van krale wat nêrens in die moderne wêreld gemaak word nie en later is ontdek dat die krale presies dieselfde is as krale wat in die ou koningsgrafte in die Koningsvallei in Egipte gevind is. Die meeste van hierdie werke het dertig eeue voor die geboorte van Christus ontstaan. Hulle beeldhouwerk - houtbeelde van mense en diere - toon 'n bepaalde ooreenkoms met die oudste Egiptiese kunswerke. Die Bawenda was ook vroeër bekend met goud en die bewerking daarvan.

Ongelukkig is die meeste van hul ou gelowe en rituele dienste vinnig aan die uitsterwe en dit was slegs van die oudste mans wat ons die gevraagde besonderhede kon gee.

[pagina 844]
[p. 844]

En nou kom ons eindelik na die groot hofsaak terug. Dit het geblyk dat die Departement van Naturellesake lank reeds vermoed het dat daar elke jaar vreeslike dinge in Sewaas se stat plaasvind, maar die beste speurders (natuurlik van 'n ander swart ras) was magteloos teen die klipmuur van vrees, stilswye en koppigheid wat hulle by die Bawendas teengekom het. Uiteindelik is besluit om energiek op te tree.

Mnr. Stubbs, 'n deskundige op naturellegebied, is aangestel as naturellekommissaris binne Sewaas se hoofstat, met 'n sterk afdeling blanke polisie en Zoeloe-speurders onder hom.

En dit was een van die eerste dinge wat mnr. Stubbs ontdek het: Jare en jare reeds, feitlik solank gelede as wat die oudste inwoners kon onthou, het daar elke jaar met saaityd 'n inwoner (somtyds meer as een) uit die stat verdwyn. Hierdie verdwyning was uiters geheimsinnig en onverklaarbaar. Dit het in alle opsigte altyd presies dieselfde kenmerke gehad. Die betrokke persoon was altyd liggaamlik jonk en sterk en altyd 'n algemeen bekende persoonlikheid onder die stam. Hy of sy was altyd ryk en bekend as iemand wat gelukkig was in sy landboubedrywighede.

Die persoon was iemand wat altyd baie koring geoes het en baie graan in sy putte opgegaar en 'n groot trop beeste versamel het. Hierdie besonderhede - so het mnr. Stubbs ontdek - was 'n onfeilbare begeleiding van die misterieuse verdwynings. Die merkwaardigste eienaardigheid was egter die feit dat die persoon spoorloos verdwyn het. Die Bawendas was uitstaande spoorsoekers en kon gewoonlik alle veldtekens soos 'n geopende boek lees, maar die man of vrou wat verdwyn het, het nooit spoor of teken nagelaat nie. Eendag was hy tuis besig met sy gewone landbouwerk en die volgende dag was hy weg, soos 'n seepbel wat in die lug ontplof het. Geen lyk, graf of gebeente van dié mense wat wegraak, is ooit ontdek nie.

Te midde van Sewaas se stat, hoog tussen die gebergtes, is die beroemde heilige meer van die Bawendas, wat glo bodemloos sou wees. Mnr. Stubbs se agterdog was in die eerste instansie dat die lyke 'n rusplaas in die blou dieptes van die meer vind, soos vroeër die lyke van afgestorwe kapteins, maar dié teorie het later ongegrond geblyk te wees. In menige geval kon die polisie nie die minste vordering in die ontsluiering van die geheim maak nie en so het dit gebly totdat mnr. Stubbs 'n goeddeurdagte plan ontwerp het. Hy het 'n stuk of wat jong Bawendas as lede van sy polisie-afdeling aangestel en hulle dadelik persoonlik onderrig gegee om as speurders op te tree. Aan die begin het hy gemerk dat sy Bawenda-speurders onder dieselfde wolk van vrees verkeer as die ander inwoners van die stat en dat hulle soos rotsskulpe toeklap sodra 'n woord omtrent die geheimsinnige verdwynings gerep word, maar mettertyd het 'n sekere mate van esprit de corps sy verskyning gemaak; trots op die uniform, op sy mag en werk, Die speurders het ontdek dat die polisie en die kommissaris magtiger was as die

[pagina 845]
[p. 845]

kaptein self en dat hulle altyd die beskerming van die regering sou geniet, waar hulle ook al mag wees of wat hulle ook al mag doen.

En toe het hulle begin vertel van die diepste geheime van die rituele lewe van die Bawendas. Die eerste wat mnr. Stubbs ontdek het, was dat daar 'n geheime priestervereniging is wat al die donkere seremonies van die stam ken. Hul vergaderplek en -tyd was in die diepste en ontoeganklikste houtbosse en altyd in die donkerste van die nag. Ou Sewaas was slim genoeg om nooit persoonlik aan hierdie geheimsinnige vergaderings deel te neem nie. Hy was natuurlik te oud, maar daar is nie die minste twyfel dat dit met sy medewete en onder sy bevele geskied het nie. Sy oudste seun en ‘troonopvolger’ was hoof van hierdie hiërargie en die lede was al die ou indoenas en toordokters van die stam - 'n ledetal van twaalf tot sestien.

Die ‘kroonprins’ was 'n man van ongeveer vyf-en-dertig jaar, maar die oudste van sy medelede was 'n toordokter van diep in die sewentig. Ná die ‘prins’ was hy Sewaas se vernaamste raadgewer en eerste onder die donker Bawendapriesterskap. Wat hulle op hul vergaderings uitgerig het, weet niemand nie en die gewone inwoners van die stat het altyd van so 'n byeenkoms gevlug. Om op 'n vergadering af te kom, is dadelik met die dood gestraf. So 'n onwillekeurige toeskouer het gewoonlik sonder verset of poging tot ontvlugting die dood tegemoetgegaan, want hy wis goed dat tydelike ontsnapping hom niks sou baat nie. Solank hy binne die stat bly was sy uiteindelike dood so seker as wat die son opkom. Hy het eenvoudig spoorloos verdwyn. Daar het duistere en verskriklike dinge op hierdie byeenkomste plaasgevind, maar wat presies daar aangegaan het, kon die slimste Bawenda-speurders nooit blootlê nie totdat die blote toeval mnr. Stubbs in die hand gespeel het en hierdie met bloedbevlekte moordenaars onverwags in daglig betrap is.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken