Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende
[pagina 975]
[p. 975]

5 Die Diamant

Ou Rik-en-Tik en sy gade was een van die eerste gesinne wat die dag ná die proklamasie op die nuwe alluviale diamantveld Donkerpoort aangekom en 'n kleim gepen het.

Ou Rik-en-Tik, Michiel Bezuidenhout, meer algemeen bekend as oom Gillie, was eertyds 'n welgestelde boer met 'n onbelaste plaas. Met sy gesin was hy baie ongelukkig.

Koos was 'n vabond van die eerste water. Hy het vroegtydig na die stad verhuis en daar in 'n gedurige toestand van ‘moeilikheid’ verkeer wat oom Gillie altyd maar moes ‘regmaak’. Eindelik het Koos die ou paar finansieel so uitgeput dat hulle lewe 'n voortdurende bitterheid geword het. En toe sake op hul donkerste was, word die eerste spoeldelwerye naby hul plaas oopgestel. Oom Gillie het sy laaste geldjies bymekaar geraap en geskraap, 'n kleim gekoop en saam met tant Sannie en een getroue ou swartman na die diamantveld verhuis. Sy plaas moes hy aan die genadelose sorg van 'n bywoner toevertrou.

Oom Gillie het die bynaam van Rik-en-Tik erlang deurdat hy mank was. Hy was reeds 'n ou man, 'n baie ou man toe hy die eerste keer binne die aantrekkingskrag van die glinsterende klippe geraak het. Onmiddellik het hy onherroeplik burger geword van die swerwende delwersrepubliek. Van die een delwery na die ander het hy en sy vrou en die ou swarte heen getrek, agter die bedrieglike loklig van die verborge steentjies.

'n Werklike ‘geluk’ het oom Gillie nooit getref nie. Jare en jare het verbygegaan en die meeste van die tyd het hy brandarm gebly. Sy medeburgers van die Diamant-republiek het hom almal mettertyd goed geken, want hy was uiteindelik beroemd as die oudste delwer in Transvaal.

Die diamant-burgers is oor die algemeen 'n goedhartige klomp, uiters vrygewig wanneer hulle voorspoedig is en altyd jammerhartig en behulpsaam waar dit die belange van 'n ongelukkige medeburger raak. Daarom was dit dat oom Gillie Bezuidenhout en sy ou gade nooit honger gely het nie. Dikwels het maande verbygegaan sonder dat die ou man 'n sandsteentjie onder die omgekeerde sif gewaar. Later van tyd het die ou swarte sonder betaling gewerk, en die werk wat die twee oues kon verrig, was min genoeg, wat natuurlik oom Gillie se persentasie kanse nog steeds verminder het, 'n rekenkundige vermeerdering wat met die jare toegeneem het. Was sy bure hom nie gedurig behulpsaam met die opmaak van 'n was nie, sou dit nog ellendiger met die gesin gegaan het. Maar oom Gillie was algemeen bemind onder die delwers en tant Maria het hul eenvoudig liefgehad. Almal het hom steeds ‘groot geluk’ toegewens.

Toe die ou paar met hul blik-en-sak-kaia op 'n verflenterde donkiewaentjie op Donkerpoort aankom, was helpende hande dadelik gereed om die huisie op

[pagina 976]
[p. 976]

te rig en weer min of meer bewoonbaar te maak. Van alle kante word hulle deur vrolike stemme verwelkom: ‘Oom Gillie word elke jaar jonger ... dié skoot gaan die “groot geluk” kom, Omie; wees seker daarvan.’

Oom Gillie beantwoord almal met 'n vriendelike laggie; hy was opgeruimd want dit was weer 'n nuwe delwery en oom Gillie se grootste geluk, groter as wat 'n steen van tien karaat sou gewees het, was dat die hoop hom nooit begeef het nie. By elke verhuising het die hoop weer helder uit die ashoop van teleurstelling opgevlam.

‘En hoe lyk die gruis hier, Pieter?’ vra hy aan een van sy helpers - altyd die delwer se eerste vraag.

‘Mooi, mooi, oom Gillie, as jy op die streep pen. Ek sal Oompie wys, jy kan nie verkeerd gaan nie.’

Almal het gehelp om oom Gillie se kleim uit te soek en dadelik was 'n paar jongkêrels by om oom Gillie en sy ou handlanger te help met die wegpik van die bolaag.

Oom Gillie was drie-en-tagtig jaar oud toe hy sy geluk op Donkerpoort kom beproef.

Toe hy die aand moeg, afgemat en verbrand deur die gloeiende son by sy kaia aankom, kon sy ou gade dadelik bespeur dat die hoop weer sterk was. Dit was nie nodig om iets te vra nie. Hy antwoord op haar onuitgesproke vraag: ‘Dit lyk baie mooi, ou vrou. Oor drie dae sal ons 'n was klaar hê. Piet de Lange het my sy masjien geleen. Die gravel is pragtig. Dié keer sal ons Lieweheer ons nie vergeet nie. Dié keer sal Hy ons seker die groot geluk skenk sodat ons die verband kan afbetaal en ons laaste dae op die plaas deurbring. Ek voel ons gaan nog eendag daar begrawe lê.’

Dit was die grootste begeerte wat nog in die harte van die twee oumense voortgelewe het: om op Rietfontein die laaste asem te trek en daar begrawe te lê by die ou kraal langs die brawe voorsate wat Rietfontein aangelê en aan hulle toevertrou het.

Na gewoonte het oom Gillie die aand toe hy ‘Boeke neem’, die groot geluk in sy gebed herinner. Hy het om genade gesmeek - genade in hierdie rigting, nie soveel vir homself nie maar meer bepaald ter wille van sy arme seun, daar ver in die vreemde stad waar hy aan alle gevare blootgestel was en alle lyding moes ondergaan. As hy net genoeg kon maak om Rietfontein onbelemmerd aan Koos te oorhandig.

‘Ja, die arme skapie, as ons hom net eendag kan gelukkig maak,’ sug tant Maria.

Gelukkig dat hulle die ‘arme skapie’ nie by die geleentheid kon sien nie: in skitterende gewaad by 'n kaarttafel met 'n whisky en soda byderhand. Af en toe het Koos onverwags by hulle opgedaag. Hy had 'n neus soos 'n jaghond. Sy besoeke aan sy ouers was altyd kort ná elke bitter seldsame gelukkie wat hulle

[pagina 977]
[p. 977]

te beurt geval het. En in al hierdie gevalle was die opbrengs van die klippe aan die einde van sy kortstondige besoek in Koos se sak.

Hierdie eerste dag op Donkerpoort het op 'n Saterdag geval. Na gewoonte het oom Gillie en sy ou helper tot die aand laat aanhou werk. Die meeste delwers werk nie op Saterdag nie, om sodoende die halfdag se arbeidersloon te bespaar.

Die kamp was baie vrolik. Verskeie delwers had mooi stene gekry. Die kwaliteit was goed en pryse hoog.

By verskeie kaias was daar musiek en drank en met die daling van die dag het die luidrugtigheid rondom oom Gillie en tant Maria heen toegeneem. Hul naaste buurman was Koos Boshoff, die groot grapmaker van die delwersrepubliek. Niemand kon by Koos kers vashou as dit by konsertina speel kom nie, en niemand in die kamp kon met groter gemak 'n bottel brandewyn kafloop nie. Koos was 'n beroemde grapmaker. Sommige van sy poetse het onsterflike beroemdheid in die delwersrepubliek erlang.

Dié nag in Donkerpoort-kamp had hy 'n groep uitverkore maats om hom vergaar. Hy had die dag tevore 'n drie-karaat onder die derde sif gekry en 'n gedeelte van die opbrengs het reeds sy verskyning in die gedaante van ses bottels brandewyn gemaak.

Die gesprek gaan oor oom Gillie en tant Maria. Die twee is in hul kaia sigbaar, waar die ou kêrel by die onsekere liggie van 'n enkele kers met die fyn druk van sy Bybel worstel.

‘Die arme ou sukkelaar,’ is Koos se groothartige opmerking, ‘ek gun hom werklik 'n geluk ... Waarlik, ek wens uit die diepte van my hart die ou kry Maandag 'n blou-witte van sestig karaat.’

‘Wat sou dit help?’ vra een van sy geselle. ‘Die ellendige Koos sal dit tog maar net weer van die ou kêrel weet af te rokkel ...’ en so gaan die gesprek voort, afgewissel met luidrugtige sang: ‘O brandewyn laat my staan’ en dergelike geliefkoosde delwersliedjies.

En toe skiet 'n gedagte skielik die benewelde brein van Koos Boshoff te binne.

‘Ek wonder,’ sê hy diep nadenkend, ‘ek wonder wat sal die ou doen as hy 'n klip van sestig karaat omkeer. Dit sou wragtig die moeite werd wees om te sien,’ en hy lag asof hy reeds die grap aanskou. En onmiddellik wek die drank 'n ander gedagte: ‘Ek sê julle, kêrels, ons kan 'n pragtige grap maak met die ou!’ Hy stap die kaia in en kom ná 'n paar oomblikke met 'n slenterdiamant van minstens sestig karaat te voorskyn. Die drogsteen word rondgegee en deur almal bekyk. As dit 'n diamant was, sou dit minstens vierduisend pond werd wees. Enige geoefende delwer sou onegtheid gewaar, maar hulle weet almal dat oom Gillie se gesig in die afgelope jare baie swak geword het. Hulle wis onmiddellik wat Koos Boshoff in sy gedagte had. Hy wou die slenter in ou Gillie se

[pagina 978]
[p. 978]

was steek ... dit sou 'n groot grap wees, so altans laat die brandewyn dit lyk.

Enkele afkeurende stemme word gehoor: ‘Nee, kêrels, die teleurstelling sou genoeg wees om die arme oubaas van die lewe te beroof ... En hy is so 'n gawe ou siel ... oom Gillie ... en tant Maria!’

‘Waarom neul julle?’ sê Koos ongeduldig. ‘Ons sal die ou minstens 'n paar uur van blydskap verskaf, die enigste wat hy ooit op 'n delwery sal geniet, daarom alleen is dit die moeite werd.’ En sonder meer sluip Koos Boshoff in die donker af na die kleims, waar hy die slenter sorgvuldig in oom Gillie se hoop gruis wegsteek.

 

Dit was die reël op Donkerpoort - delwery dat elke delwer reg had om drie kleims af te pen en uit te werk, maar hy moes eers een kleim uitwerk voordat hy 'n tweede kon pen. Ten gevolge van hierdie reël was dit die gewoonte dat geen delwer ongenooid die was van 'n ander kom bekyk nie.

Dinsdag sou oom Gillie was. Piet de Lange het sy masjien geleen en toe alles gereed was, moes tant Maria bykom om te help. Die ou jong draai en tant Maria en oom Gillie werskaf beurtelings met die siwwe. Op 'n streepsak in die skadu van 'n groot doringboom word die siwwe omgekeer en die gruis stadig deur die twee oues omgekrap.

Op 'n afstand staan Koos Boshoff en sy groep vriende op die loer. Die grap moet netnou, netnou kom.

Dit kom gouer as wat hulle verwag het. Oom Gillie keer 'n sif om. Hy buk laag oor die hopie gruis en raak presies in die middel van die sirkel iets met sy vinger aan. Hy sê iets aan tant Maria; ook sy buk en roer met haar vinger. Sy tel iets op en plaas dit in die holte van haar hand. Die twee ou koppe is teenmekaar gedruk om die wonder te bekyk. Ou September, die troue ou September, word bygeroep. Ook hy kry die vonds in sy hand. Die versteekte toeskouers kan sy uitroep van verbasing selfs op die afstand hoor - en tant Maria se waarskuwende ‘Sjuut! Sjuut! Moenie laat merk nie.’

Die steen word in 'n stukkie papier toegedraai en in oom Gillie se onderbaadjiesak geplaas en ná 'n kort beraadslaging gaan hulle met die was voort asof niks gebeur het nie. Oom Gillie moet eers 'n kans hê om die aangrensende kleim af te pen voor hy sy vonds bekend maak. Dit is nie meer as reg nie. Dit is volgens delwerswet en etiket.

Die verhole loerders giggel vrolik. Die grap het sover pragtig geluk. Maar daar word weer afkeurende stemme gehoor: ‘Dit is darem 'n verduiwelde skande! Die arme ou kêrel! Tant Maria sal dit nooit te bowe kom nie!’

‘Bly stil!’ gebied Koos Boshoff, ‘ek sal dit alles regmaak. Ek het 'n ryk kleim, ek sal die ou later vergoed. Hulle sal daar g'n skade deur ly nie.’ En miskien het Koos dit toe werklik eg bedoel.

[pagina 979]
[p. 979]

Spoedig word die verdere verloop van die drama afgespeel. Vyf dae later sou 'n koper Donkerpoort besoek. Sy kaia is reeds opgerig. Koos Boshoff en 'n klompie delwers is naby die venster vergaar. Almal het stene om aan te bied en almal loer na die kant van oom Gillie se kaia. Die koper was lank reeds besig met sy skale toe oom Gillie sy verskyning uit die kaia maak. Hy dra sy verslete ou Sondagklere. Tant Maria volg hom in swart, met 'n donker kappie op. Dit is of hulle voel dat hulle na die een of ander gewyde plegtigheid gaan. Ou September voltooi die plegtige stoet. Die oumense is heel bedaard, byna gewyd van houding. Hulle sluit hulle soos gewoonlik by die groep aan. 'n Laggie word onder die poetsbakkers gehoor. Koos Boshoff is 'n arties, die grap moet behoorlik uitgewerk word.

‘En so het oom Gillie ook darem 'n gelukkie gehad? Ek hoop net dis 'n goeie een.’

‘Ja, Kobus,’ antwoord die ou man plegtig. ‘Die Here het uiteindelik genade gehad. Hy het ons gebede verhoor. Ja, Kobus, ons het 'n geluk gehad en ek glo dit sal die laaste wees wat ek op 'n delwery sal hoef in te wag.’

'n Vlaag skaamte gaan oor die poetsbakkers. Hulle sluip stadig verder van die venster. Oom Gillie, tant Maria en ou September is die enigste voor die venster. Hy nader die koper en plaas op die breë vensterbank 'n pakkie in vuil papier toegedraai. Die koper open dit en plaas die inhoud voor hom.

Koos Boshoff en sy vriende bekyk elke gebaar. Hulle is nou diep onder die indruk van die drama wat voor hulle afgespeel word. Die krisis is voor hande en almal van hulle wens dat hulle dit maar liewer laat staan het, maar dit is nou te laat om tussenbei te kom. Nou moet maar kom wat moet kom.

Oom Gillie en tant Maria vul die venster en agter op sy tone staan ou September. Die toeskouers kan nie mooi sien wat alles gebeur nie. Ook hulle skuif nader ... Oom Gillie staan vooroorgebuk diep in gesprek met die Jood. Tant Maria meng haar in die bespreking. Nou moet dit kom! ... Nou is die krisis daar! Wat sal die arme ou kêrel doen as hy oortuig is dat sy groot diamant 'n stuk gals is? Maar die krisis kom nie. Die Jood wuif opgewonde met sy hande. Selfs ou September druk in om ook sy woord te voer.

Arme oom Gillie, natuurlik kan die koper hom nie daarvan oortuig dat sy steen oneg is nie.

Uiteindelik stap Koos Boshoff en 'n paar van sy vriende vorentoe. Hulle moet 'n einde aan die ding maak. Dit word nou te erg.

Maar hulle stuit voordat hulle by die venster kom. Wat is dit? Wat gebeur nou? Die Jood is besig om banknote aan oom Gillie uit te tel. En een vir een ontvang die ou man hulle om dit weer een ná die ander aan tant Maria te oorhandig. Koos en sy vriende word opgewonde; hulle staan etlike oomblikke spraakloos ... verskrik. Die ding is skielik uit hul hande.

‘Wat is dit? Wat is dit nou, oom Gillie?’ roep Koos met gerekte oë.

[pagina 980]
[p. 980]

Oom Gillie is doodbedaard, kalm soos altyd:

‘Ja, Jakobus, ek het maar Lichtenstein se aanbod aangeneem. Wat help dit om op ander te wag? Jy kry tog nooit meer as wat die eerste jou aangebied het nie. Ek kry sesduisend pond vir die klippie en vir twee - derdes wil hy my 'n tjek gee. Ek hou nie van tjeks nie ... maar wat kan ek doen? Ek moet maar tevrede wees.’ En hy gaan voort om die note te tel, op te rol en vas te bind.

Die grapmakers staan verslae asof 'n donderslag uit die bloue hemel tussen hulle neergeskiet het. Die saak word onverstaanbaarder. Sou 'n slenter Lichtenstein bedrieg het? Maar die koper laat hulle toe om die steen van naby te bekyk, selfs te hanteer.

Wonder bo wonder! Koos Boshoff neem dit in sy hand. Soos 'n poel lewende dou lê in die holte van sy hand 'n skitterende blou - wit diamant van die eerste water. Sestig karaat in gewig, meld Solly Lichtenstein. Het daar dan 'n mirakel gebeur?

Byna 'n mirakel! Toe oom Gillie Donkerpoort verlaat, was sy afskeidsgroet aan Koos Boshoff:

‘Jakobus, ek skenk die orige van die gruis aan jou. Die Here het my genoeg gegee. Ek verlang nie meer nie.’

En al wat Koos Boshoff uit die hoop gruis gewas het, was die slenter wat hy self daarin gesteek het!


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken