Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1943


auteur: Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde 1901-2000


bron: Handelingen en levensberichten van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1942-1943. E.J. Brill, Leiden 1944  


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet


 i.s.m. 
[p. 96]

Hendrik Pieter Nicolaas Muller
Rotterdam, 2 April 1859 - 's Gravenhage, 11 Augustus 1941

Hendrik Pieter Nicolaas Muller, geboren op 2 April 1859 te Rotterdam, stam uit 'n eg Protestantse en aansienlike Hollandse geslag van geleerdes en koopliede. Sy moeder, Maria Cornelia van Ryckevorsel, kom voort uit 'n bekende handelsfamilie van Rotterdam, en sy vader, Hendrik Muller Ssn. werk hom op tot een van die bekwaamste koopliede van die Maasstad. Sy grootvader van vaderskant is die bekende Prof. Samuel Muller aan die doopgesinde kweekskool te Amsterdam, en verder kom in die familie nog verskeie hooglerare en predikante voor. Beide sy vader en sy grootvader Van Ryckevorsel was lid van die Eerste Kamer van die State Generaal.

Hy word vir 'n handelsloopbaan voorbestemd en geniet 'n opleiding van praktiese en veelsydige aard. Na enkele jare aan 'n H.B.S. te Rotterdam kom hy op die handelsafdeling van 'n Realschule te Frankfort a/M tereg waar hy in 1876 sy eindeksamen met goeie gevolg aflê. Om hom verder in die praktyk te skool, tree hy by verskeie handelsfirmas in diens, in Rotterdam, Liverpool, Manchester en Marseille. Behalwe handelsondervinding doen hy so ook 'n uitgebreide talekennis op.

Deur die firma Hendrik Muller en Co. van sy vader wat hoofsaaklik op die Weskus van Afrika handel dryf, is hy feitlik van huis uit vertroud met die naam Afrika, en 'n sameloop van omstandighede sou sy lewe onafskeidelik aan hierdie vasteland verbind. 'n Ander Rotterdamse firma, die ‘Handels Compagnie Mozambique’ wat op die Afrikaanse Ooskus faktorye gehad het, het teen omstreeks 1882 gedreig om ten onder te gaan, en toe sy vader deur die direkteure daarvan versoek word om die saak te rekonstrueer, is ook hy direk daarin betrokke. Ten einde die besondere handelstoestande ter plaatse goed te ondersoek en self sorg te dra vir die verkoop van 'n lading proefgoedere, onderneem hy in 1882 op 23 jarige leeftyd sy eerste groot Afrikareis.

Hierdie reis is van allesins rigtinggewende betekenis in sy lewe. Moeilike handelsprobleme wat 'n selfstandige optrede eis, heftige en herhaaldelike malaria-aanvalle, lang eensame reise, ontberinge; dit alles ryp hom tot man. Na hy al die faktorye langs die Portugese Ooskus en die Zambesi afgereis het en hy vanuit Durban sy vader kon aanraai tot rekonstruksie, onderneem hy nog 'n uitgebreide tog deur Suid-Afrika. En

[p. 97]

dit sou op die duur blyk van die grootste betekenis in sy lewe te wees, hierdie kennismaking met die Boerebevolking van Suid-Afrika.

Teruggekeer in 1883 word hy mededirekteur van die nuutopgerigte Oost Afrikaansche Compagnie, wat na 'n moeilike begin later aansienlike dividende uitbetaal. Hoewel hy nou 'n posisie beklee wat vir sy leeftyd inderdaad benydenswaardig was, stel die vooruitsigte hom nie tevrede nie. 'n Genoegsame burgerlike bestaan in Rotterdam trek hom nie aan nie. Aan hierdie strewe, hoe onbillik en ondankbaar dit persone in sy naaste omgewing soms voorgekom het, het ons die bouwerk van 'n ruimer lewe te danke wat o.a. die skrywe van hierdie lewensskets regverdig.

Naas sy werk vind hy tyd om sy Afrikaanse reisherinneringe te verwerk, eers in 'n reeks voordragte, o.a. in die aardrykskundige genootskappe te Parys en Antwerpe, later in tydskrifartikels en in 1889 in 'n omvangryke boekwerk: Zuid-Afrika. Dit is 'n samevatting van eie ondervinding aangevul deur studie in 'n vlot aangename styl. So het dit 'n boek met agtergrond en diepte geword, veel meer as 'n reisverhaal; belangrik veral vir die Hollandse standpunt van waaruit Suid-Afrikaanse toestande behandel word. Een en ander wen hom in die jare tagtig al 'n naam van Afrikakenner soos daar weinig in Nederland was, en lei tot benoeminge op wetenskaplike genootskappe in verskillende lande.

In dié jare word nog enkele reise van kleinere omvang onderneem. In 1885 is hy vir 'n paar dae onoffisieel teenwoordig by die Congokonferensie te Berlyn. In 1886 besoek hy Lissabon om verlaging van invoertariewe in Portugees Oos-Afrika te probeer verkry. In 1888 volg 'n reis na Noord-Afrika vir plesier sowel as handelsondersoek. Die jaar daarop volg hy sy vader op as konsulgeneraal vir Liberia en kort na sy benoeming onderneem hy 'n reis na hierdie staat om negersoldate te werf vir die Nederlands-Indiese leër. Die firma Hendrik Muller en Co. het so 'n kontrak met die Nederlandse regering aangegaan. Belangwekkend soos sy bevindinge in die negerrepubliek en aan die Goudkus ook is, dit val nie te vergelyk met sy reis na die Ooskus nie. Dit lui tewens die einde in van sy handelsloopbaan.

Die reis lewer veel moeilikhede op. Daar ontstaan onenigheid tussen hom en lede van sy familie en ook ander deelgenote. Dit en voortdurende koorsaanvalle, byna net so erg as indertyd aan die Ooskus, het as gevolg dat hy swaar oorspanne en met 'n geknakte gestel in Nederland terugkeer. Vir herstel van gesondheid verkeer hy hierna enkele jare

[p. 98]

in die buiteland. Moeilikhede met sy mededirekteure het as gevolg dat hy in hierdie jare heeltemal uit die handel tree. Finansieel het hy so gunstig daarvan afgekom dat hy voortaan oor 'n aansienlike vermoë beskik. Nou gaan sy lewe in 'n ander rigting wat 'n ander sy van sy belangstelling tot ontwikkeling sou bring. Van die handel wend hy hom tot die wetenskap. Sy liefde vir Aardrykskunde en Volkekunde ontkiem op die walle van die Zambesi waar hy in direkte aanraking met die natuurvolke kom, en vanwaar hy ook 'n aansienlike versameling etnografika meebring. Dit lei, in samewerking met J.F. Snelleman, op tot sy volgende boek: Industrie des Cafres du Sudest de L'Afrique in 1892, wat in woord en beeld die naturelle van die streke behandel.

Die samestelling van hierdie werk het hom sy gebrek aan wetenskaplike vorming openbaar en dit laat hom op ruim dertigjarige leeftyd besluit om verder te gaan studeer. Na 'n universitêre studie te Heidelberg, Leipzig en Giessen, promoveer hy in 1894 aan laasgenoemde universiteit op 'n proefskrif getiteld Land und Volk zwischen Zambesi und Limpopo, wat in dieselfde jaar in uitvoeriger bewerking in die handel kom onder die titel Land und Leute zwischen Zambesi und Limpopo. Dit is 'n historiese, geografiese en etnografiese behandeling van hierdie toe nog so weinig bekende gebied, wat egter kort hierna in die brandpunt van politieke belangstelling te staan sou kom. Dit was die tyd van die scramble for Africa en Muller wat gaandeweg 'n sentiment vir gans Afrika ontwikkel het, het hierdie verwikkelinge met belangstelling gevolg.

Na sy promosie keer Dr. Hendrik Muller na sy vaderland terug en vestig hom in Den Haag waar hy al gou 'n bekende figuur word. Wat hom blykbaar van die begin aangetrek het, is 'n konsulêre en diplomatiek loopbaan en toe hy in 1895 tot konsul en in 1896, na die afsterwe van Hamelberg, tot konsulgeneraal van die Oranje-Vrystaat in Nederland benoem word, lyk dit of sy kans eindelik gekomen het. Met volle toewyding begin hy hom wy aan die Oranje-Vrystaat en aan die Afrikaanse gemeenskap in die algemeen. Hij neem dit op as 'n roeping. Dit was vir hom 'n Nederlandse saak - 'n groot Nederlandse dan - die instandhouding van die Hollands-Afrikaanse element. Dit was onrustige tye. Die dreigende storm het alreeds bo die Transvaalse horison begin opsteek; die eerste blits, die Jameson-inval, het alreeds ingeslaan. Twee kleinere boekies uit sy pen vorm waardevolle propaganda in die tyd: De Zuid-Afrikaansche Republiek en Rhodesia in 1896 en kort daarop 'n lewens-

[p. 99]

skets van Pres. Kruger onder die naam Oom Paul in die serie ‘Mannen en Vrouwen van Beteekenis’.

Om hom so goed moontlik uit te rus vir die komende stryd besoek hy Suid-Afrika in 1898 nogeens om sy kennis van dertien jaar gelede op te fris. Dié besoek is in sommige opsigte 'n groot teleurstelling weens die verregaande simptome van verengelsing en Hollanderhaat wat hy by die Afrikaners meen op te merk. Hy vertoef 'n paar maande in Bloemfontein en raak bevriend met president en volksraad.

Ten einde met vrug vir die Vrystaat te werk het Dr. Muller 'n diplomatieke aanstelling soos die van Dr. Leyds onontbeerlik geag, maar ten spyte van herhaalde versoeke wou die president en volksraad hom nie hierdie rang verleen nie. Wel is hy die vernaamste buitelandse verteenwoordiger van die Oranje-Vrystaat ewe as Hamelberg, en word hom opdragte ook buite sy resort opgedra, soos o.a. 'n verdrag met Duitsland en die aansluiting van de O.V.S. tot die Internasionale Posunie. 'n Ongebruikte volmag om 'n uitleweringsverdrag met Duitsland te sluit het hy gebruik as 'n bewys dat hy Buitengewone gesant was. Toe die oorlog uitbreek het die staatspresident die buitelandse belange van die staat in sy hande toevertrou, 'n taak wat hy nougeset en sonder geldelike vergoeding vervul.

Onmoontlik is dit om binee die omvang van hierdie lewensberig 'n oorsig te gee van die werk van Dr. Muller tydens die Anglo-Boereoorlog. Aanvanklik probeer hy dit te voorkom deur 'n leidende rol te speel in die organiseer van protesvergaderinge in Europa en Amerika, en die standpunt van die Boere in die dagblaaie van beide wêrelddele te bepleit. In die oorlog is sy konsulaat die sentrale punt vir Vrystaatse belange, tot die koms van die deputasie in Maart 1900. Die werk van die konsulaat was veel en veelsydig, bestaan hoofsaaklik uit propagandawerk deur middel van die pers en andersinds, uitsending en ondersteuning van ambulanse, voorthelping van vrijwilligers en boodskappers na die strydtoneel, versorging van vlugteling, proteste - meestal vrugteloos - teen kontrabande-handel en ontoelaatbare metodes van oorlogvoering en dan veral organisasie van liefdadigheidshulp aan die krygsgevangene- en vroukampe. Sy werk rank wyd uit oor Nederland, Duitsland, Frankryk, Rusland, Engeland, Amerika en so meer.

Pogings tot verkryging van arbitrasie of tussenbeikoming van een of ander moondheid of kombinasie van moondhede was veelvuldig. Tweekeer sou Muller hom op eie inisiatief op hierdie weg begewe. In Maart

[p. 100]

1900 toe die krygskanse teen die Republieke begin keer, besoek hy Bern en Rome om deur middel van bevriende diplomate iets te probeer, en teen die einde van 1901 gaan hy na Amerika waar hy besprekinge hou met Pres. Roosevelt en 'n reeks redevoeringe hou tot die Amerikaanse publiek. Soos soveel ander was ook hierdie poginge tevergeefs. Die Vrede van Vereniging vind hom êrens in die suide van Kalifornië - nog besig aan die ondankbare taak. Hy voltooi toe sy reis deur Mexico en Sentraal Amerika om in September 1902 in Nederland terug te keer.

Ook na die oorlog bly sy belangstelling in Suid-Afrika voortduur, en af en toe vind hy nog geleentheid om die helpende hand toe te steek. Met warme instemming is hy getuie van die kulturele opbloei van die Afrikaanse volk en die stap-vir-stap terugwinning van konstitusionele vryhede. Beide oud-Pres. Reitz en Pres. Steyn geniet sy besondere hulp en ondersteuning toe hulle as siekes na die oorlog in Europa aankom. Sy bewondering vir Steyn groei in die jare tot 'n verering. Die oprigting van die standbeeld van Steyn in Deventer is hoofsaaklik aan hom te danke.

Dit was moeilik om na die vrede weer te wen aan 'n normale lewe. Die groot alles oorheersende strewe het plek gemaak vir 'n groot teleurstelling. As reeds jarelange lid van die komitee vir die afneem van konsulêre eksamens, is dit nou veral hierdie sy van die Nederlandse staat wat sy aandag geniet in dagbladartikels en so meer. Onophoudelik dring hy aan op verbetering en uitbreiding van Nederland se konsulêre en diplomatieke diens. 'n Sterk patriotiese gevoel oorheers in sy optrede. Hy wou Nederland weer groot sien soos dit in die verlede groot was - veral in handelsprestasie.

In 1905 verskyn die verwerking van sy Amerikaanse reis: Door het land van Columbus, en in 1907 'n suiwer historiese werk: Oude tijden in de Oranje-Vrijstaat. Hierdie laaste is 'n uitvoerige verwerking van die argief van die Vrystaatse konsulaat soos hy dit uit die hande van Hamelberg ontvang het. Dit behandel die ontstaansgeskiedenis van die Oranje-Vrystaat met Hamelberg as sentrale figuur; 'n belangrike werk, terselfdertyd 'n daad van piëteit jeens sy voorganger.

In die jare 1907-1909 onderneem hy 'n uitgebreide reis deur die grootste gedeelte van Oos-Asië, wat grotendeels beskrywe word in twee lywige boekwerke Azië Gespiegeld deel I en II (1912 en 1918). Nog meer as in sy ander boeke pas hy hier die metode toe om eie ervaring met latere studie aan te vul. Oral is hy die onbedwingbare patriot, orals volg hy op die spoor van die vergange grootheid van Nederland se kolo-

[p. 101]

niale verlede. Die werk wat in Nederlands-Indië gedoen word wek sy nasionale trots. 'n Bekende gesegde van hom uit die tyd is: as jy Nederland groot wil sien gaan na Rembrandt en Nederlands-Indië. Sy ondersoek in die rol van die Oos-Indiese Kompanjie in die teenwoordige Frans Indo-China, lei tot 'n bronnepublikasie De Oost-Indische Compagnie in Cambodja en Laos, uitgegee deur die Linschoten-vereniging in 1918.

Tydens die wêreld-oorlog tree Dr. Muller vir 'n tyd op as hoof van 'n kamp vir Belgiese vlugtelinge te Nunspeet, en in 1919 ontvang hy eindelik die aanstelling waarna hy altyd gestreef het. Hy word Nederlandse gesant te Boekarest tot 1924. Hierna beklee hy dieselfde positie te Praag waar hy in 1932 weens ouderdom tot gesant ter beskikking gestel word. Sterk kom sy patriotisme uit in sy werk as gesant.

Die laaste jare word in Den Haag geslyt, jare waarin hy die erkenning van 'n werksame lewe kon geniet. Ridderordes en onderskeidinge het hy ryklik geoes gedurende sy lang lewe. Die trotsste was hy op die Grootkruis van die Orde Oranje Nassau en Ridder van die Nederlandse Leeu, en dan veral op die verlening van 'n ere-doktoraat in die regte deur die Universiteit van Suid-Afrika in 1932. In 1938 word sy borsbeeld onthul in die hoofgebou van die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat, en tydens 'n huldiging by sy tagtigste verjaarsdag ook in die Ryksmuseum vir Volkekunde te Leiden. Sy versameling etnografika het hy aan genoemde museum geskenk en sy argief by testamentêre beskikking aan die Vrystaatse Argief te Bloemfontein.

Ten spyte van sy hoë leeftyd geniet hy 'n stewige gesondheid - tot 'n eerste hartaanval in 1939 wat sy laaste jare sukkelend gemaak het. Die aard van sy siekte het sy dood genadiglik snel en skielik gebring - in Augustus 1941.

Van karakter was Dr. Muller heftig, emosioneel, besonder gesteld op sy eer, soms tot die kleingeestige toe. Hy is iemand wat felle vyande gemaak het, maar ook geswore vriende, 'n karakter wat in die nugtere, sobere Hollandse maatskappy soms moeilik waardering kon vind. Met sy beweeglike natuur, sy donkere, effe gedronge uiterlike, het hy dikwels 'n buitelandse indruk gemaak - iets van 'n Latynse tipe. En tog was juis 'n besondere vaderlandsliefde die alles-oorheersende faktor in sy lang en veelsydige lewe.

‘Ik heb mij het voorbeeld voor oogen gehouden van ons groote voorgeslacht,’ skryf Dr. Muller by sy aftrede as gesant. Dit was die ideaal wat sy lewenshouding bepaal het, waarvolgens hy 'n eie lewensstyl ge-

[p. 102]

soek het, homself probeer omring het met 'n persoonlike waardigheid. Dat dit eienaardighede meegebring het, is lig begryplik. Iemand het hom genoem: 'n Hollander van die ou stempel. Dis miskien oordrewe. Tog kan sekere trekke van ooreenkoms nie misken word nie. Ook by hom 'n dinamiese lewensaandrif, 'n rustelose strewe na die verre onbekende, die voorkeur vir onontgonne terrein, die gedurfde optrede sonder om vriend of vyand te ontsien. Ook hy soek die groot lyn in sy lewe. Sy patriotisme is nie van die eng burgerlike soort wat bevrediging binne sy landsgrense vind nie, maar dit rank uit oor die aardbol. As reisiger kon hy die indrukke uit drie wêrelddele tuisbring op een stoere grondslag: nasionale trots. En dis ook hierdie ruimere patriotisme wat hom sy vurige liefde vir Suid-Afrika ingegee het. Die groot onbaatsugtige hulpvaardigheid tydens die Anglo-Boereoorlog oorheers alles in sy lewe. Dis as konsulgeneraal van die O.V.S. dat hy onthou sal word.

 

F.J. du T. Spies

Lys van geskrifte

1889Zuid-Afrika. Reisherinneringen. Leiden.
1892Industrie des Cafres du Sud-Est de l'Afrique. Leyde. (In samenwerking met J.F. Snelleman).
1894Land und Volk zwischen Zambesi und Limpopo. Dissertation. Giessen.
1894Land und Leute zwischen Zambesi und Limpopo. Giessen. ('n Bygewerkte heruitgawe van sy proefskrif).
1894Kaart van het gebied tusschen Zambesi en Limpopo. Uit den feestbundel van Taal-, Letter-, Geschied- en Aardrijkskundige Bijdragen ter gelegenheid van zijn tachtigsten geboortedag aan Dr. P.J. Veth aangeboden.
1896De Chartered British South African Company en de Zuid-Afrikaansche Republiek. Uit: Vragen des Tijds, I Febr. Haarlem.
1896De Zuid-Afrikaansche Republiek en Rhodesia. 's Gravenhage.
1896Oom Paul (President Kruger). Uit: Mannen en Vrouwen van beteekenis in onze dagen. Haarlem,
1899Afrikaansche Taal-Studie. Uit: Nederlandsche Spectator, 6 Mei 1899.
1904De uitkomsten van den Anglo-Boeren Oorlog. Uit: Vrede door Recht, Febr. 1904.
1905Door het land van Columbus - een reisverhaal. Haarlem.
1907Oude Tijden in den Oranje-Vrijstaat; naar Mr. H.A.L. Hamelberg's nagelaten papieren beschreven. Leiden.
1910Het Reizen in Britsch-Indië en Ceylon. Uit: Weekblad voor Indië, 6 Febr. 1910.
1911Bij de Begrooting van Buitenlandsche Zaken. Uit: De Economist, 15 Jan. 1911.
1911Is de Kaapkolonie verkocht? Uit: Die Brandwag, 15 Jan. 1911.
1912The European Community of the present time in Netherlands India. Uit: East and West, Bombay, Junie 1912.
1912Azië Gespiegeld. Reisverhaal en studiën. Deel 1. Utrecht.

[p. 103]

1916Did Holland sell the Cape? Uit: The Geographical Journal, London, Vol. XLVII No. 5. Uitgebreider uit: Tijdschrift van het Kon. Ned. Aardr. Genootschap. Afl. 5.
1916Marthinus Theunis Steyn. Uit: De Nieuwe Courant 2 Dec. 1916. (Ook ietswat veranderd uit De Gids, 1917 No. 1 en Stemmen des Tijds, Maart 1917).
1918Azië Gespiegeld. Studiën en ervaringen. Deel 2, Leiden.
1918De Oost-Indische Compagnie in Cambodja en Laos. Uitgegeven door de Linschoten Vereeniging. 's Gravenhage.
1919Nederland's Historische Rechten op Spitsbergen. Uit: Tijdschrift van het Kon. Ned. Aard. Genootschap, Afl. 1. (Dieselfde onderwerp ook behandeld in Economisch-Statistische Berichten, 9 Juli 1919).
1919Is de Kaapkolonie verkocht? Amsterdam. (Heruitgawe: Het die Hollanders die Kaap verkoop? Amsterdam 1932. Afr. en Eng. teks).