Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929


auteur: [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die


bron: Die Nuwe Brandwag. Tydskrif vir Kuns en Lettere. Jaargang 1929. J.H. De Bussy / H.A.U.M. v.h. J. Dusseau & Ko., Pretoria / Kaapstad 1929


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. 27]

In die Voortrekkerskerkie Pietermaritzburg.

I.
 
Voortrekkerstad - al is dit net in naam,
 
Jy was dit eenmaal tog in werklikheid -
 
Wat jy bewaar uit gindse heldetyd,
 
Maak my vir ons geslag wanhopig skaam.
 
Was groot die eerbied vir die Bybelboek,
 
Sterk was die hand ook wat die swaar geweer
 
So raak met doodsveragting kon hanteer;
 
En hoog die hart wat vryheid hier wou soek.
 
Was jy, o trekkerswa, van brose hout,
 
Die man wat jou gedryf het, was van staal.
 
Vandag plesierbelus, op jag na goud,
 
Is broos die mens, - die voertuig is metaal!
 
Oor skromelik gebrek - erbarm U, Heer,
 
Aan mannedurf en ruggraat van weleer.
II.
 
Geboorteland, Natalia so skoon,
 
Die noodlot wil dat nêrens soas hier
 
So karig reg ervaar die stoere pionier;
 
Dat hier die gees-wat-steeds-misken moet woon
 
En tog - hier dool die skim van Gert Maritz,
 
Van Piet Retief, van dapper Dirkie Uys.
 
Dis hier waar Bloedrivier se waters ruis,
 
Majoeba bulder en Spioenkop blits!
 
Sou ek hier swyg waar selfs die stene spreek
 
Van dade op die wêreld nooit oortref?
 
Geskiedenis, wat alle onreg wreek,
 
Sal hul gedagtenis ten hemel hef,
 
In goud op die gedenkrol elke naam:
 
Regmatige trots is wat hier betaam.
[p. 28]
III.
 
Die najaarsgras het nou 'n rosse gloed;
 
Rooi staan die kafferbome in die bloei;
 
'n Rooi skyn het die water wat hier vloei;
 
Deurweek is al die lydensweg met bloed
 
En ‘Weenen’ is die weerklank van die krans.
 
Ai my! ...Hoe voel ek met my volk verwond
 
Waar alles om my roep: Dis heilig grond,
 
Vir altyd onvervreembaar Afrikaans!
 
O Volk van Smarte, aan verdriet gewend,
 
Gods vrye wind waai uit die donker wolk;
 
Jou naamloos lye is by Hom bekend:
 
Die barensweë van 'n nuwe volk.
 
Span in die wa: die uitspanplek lê ver, -
 
Maar oor die berge lonk die Vryheids-ster!
 
 
 
A.G. Visset.