Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929


auteur: [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die


bron: Die Nuwe Brandwag. Tydskrif vir Kuns en Lettere. Jaargang 1929. J.H. De Bussy / H.A.U.M. v.h. J. Dusseau & Ko., Pretoria / Kaapstad 1929


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. *6]



illustratie

KOTTLER.
1. RUSTENDE MEIDJIE (Hout).


[p. 76]

Die Nuwe Brandwag
Tydskrif vir Kuns en Lettere

DEEL I. No. 2. PRETORIA-KAAPSTAD. MEI 1929.

Koors.

Fragment uit die trek naar Duits-Oos in 1907.

DIE kwartsriwwe van die Usambaragebergtes weerkaats die moordende strale van die ekwatorson. Oor die laeveld hang koorsige verstikkende blou wasems. Vreemde kaktussoorte en giftige insekte broei hier uit, en oor die versmagtende plantegroei van die dorre sandveld heers die donker gestalte van die naboom.

In eindelose gramadoelas, tussen die somber nabome, wat in swaar massas die lae rante kroon of enkeld in die laagtes en slote versprei staan, slinger die stowwige karavaanpaadjie deur.

Die son het toegeneem aan geweld. Selfs die dik vlesige litte van die naboom het slap en verwelk gehang; waar 'n boom omgekap word om die weg te open, het dik taaierige melk uitgetap en in die son geborrel soos 'n giftige heksekooksel. Groot swart spinnekoppe het bewegingloos tussen die gekartelde litte gehang, of langsaam met klewerige harige pote hulle noodlottige drade geweef. Urelank het hulle uit donker hoeke soos 'n swart noodlot op die blinkende weefsel in die sonskyn gestaar. Gonsende kleurige insekte het deur die middaghitte gedreun. Af en toe worstel een skielik in die bedrieglike blink gaas, 'n swart medusakop skiet uit die skaduwee op hom toe, 'n ontasbare mistigheid trek oor hom en benewel sy kragte. 'n Ligte trilling van lewe in die onheilsboom, maar dit is alleen die sug wat 'n lewe eindig, want giftig is die naboom en hy haat die lewe.

Snags staan die grillerige swart silhoeëtte van die nabome teen die lug, en op die hoogste toppe sit narok-kong - die ‘swartoog’ - en sy vreemde grieselige skreeue val eentonig en sonder end, afgemeet asof hy meedoënloos die verbygaan van elke sekonde van die nag wil aankondig. Hy pas goed by die naargeestige vorme en die nagtelike stemming van die boom, en hy is die enigste voël wat die naboom liefhet. Narok-kong noem die Ol-Masai hom, om sy onheilvolle swart oë, wat star in die nag uitkyk, asof die gewone belange van die lewe hom nie aangaan nie. Sy krete is kort afgeskeur en ril deur die donker met 'n hoë, musikale en oneindig melankoliese klank, en die hele nag deur is die noot onveranderlik, meedoënloos onveranderlik en tot in die oneindigheid herhaal. Bewaar die arme menslike slagoffer van die laeveld wat veroordeel is om wakend die sekondes van die nag met hierdie fatale be-

[p. 77]

geleiding te tel en die oë op die fronsende swart gedaantes van die duisternis te hou!

Wanneer hy lank genoeg op die een boom gesit het, vlieg hy naar die volgende, en 'n ander voël neem sy plek in. Deur die lang ure van die drukkende nag antwoord die krete mekaar, altyd klaagliker en moedeloser vir die menslike oor, en hou eers met die eerste lig op. Wanneer eet hulle - waarvan leef narok-kong? word aan 'n gerimpelde grys nomade, 'n wyse in die weë van die woestyn, gevra. Die antwoord is altyd dieselfde: ‘Dit weet niemand nie, hy is 'n voël van die nag.’

 

Maar klein Dolfie lê al twee dae in die tent. Hy word deur dors en waanvoorstellings gekwel en rol rusteloos heen en weer op sy bed. As die middaghitte kom en die arms van die naboom skrille figure op die dak van die tentjie gooi, begin sy gedagtes in die rondte te yl en op sonderlinge weë te wandel. Maar sy liggaam is loodswaar en weier om die gedagtes te volg by die deur uit, naar die koelte van die karee- en wilgerbome wat hulle in die verte sien. Hy probeer om te redeneer met hierdie twede gedeelte van hom wat dood is, en as plotseling die gevoellose liggaam in 'n ander persoon verander, smeek hy hom om hom naar die bome te laat gaan. Want daar is water, dit weet hy, yskoue water en donker varingslote waar die groot blink druppels langs die groen moswande afpêrel en met musikale geluidjies in die diep sekelgate val. Hy hyg daarna om soos 'n erdwurm sy gloeiende gesig in die koel modder te druk, tussen die sappige wortels van die biesies en palmiet waar die fonteintjie vloei en hulle die wurms uitgegrawe het om kurpers en silwervisse mee te vang. En, O! die duik van blanke kinderliggame deur glashelder water naar die diepte van skoongespoelde dryfsand, waar die blinkgeskubde bewoners verstrik uitmekaarspat en onder die skaduwee van die walle skuiling soek!

Daar moet hy heen. Waarom moet hulle hom hier vashou? Dan word hy ongeduldig en ruk homself met geweld orent in die bed. Die visioen van groen bome verdwyn en in die tent is niemand nie. Inplaas daarvan begin sy oë nou groot te staar naar die droë takke en arms wat om die stam van die naboom voor die tentdeur opgehoop lê. Toe die kinders die plek op die vorige dag vir die tent reggemaak het, is een van hulle daar deur 'n skerpioen gesteek geword. Die droë, van hitte kromgetrekte litte van die naboom is in die lug gekrul en skyn mat naar iets te voel. Nou beweeg hulle naar hom toe, maar hulle tas oneindig langsaam voorwaarts.

Dolf se oë brand koorsig, maar hy durf hulle nie sluit nie, want hy het skielik die oorsprong van die beweging ontdek: die doringlitte is bedek met 'n menigte kruipende skerpioene wat oormekaar klim en krioel dat sy brein verbyster raak om daarna te kyk. Van 'n gewonde tak bokant drup langsaam

[p. 78]

groot druppels taai wit melk op die droë litte en op die skerpioene, maar soos hulle val word hulle pikswart, en hierdie swart kolle skyn tegelykertyd duister vlekke op sy brein te gooi. Hulle dans voor sy oë en laat hom die skerpioene nie meer goed sien nie.

 

Met 'n wanhopige inspanning van sy afgematte liggaam wend hy hom af van die walglike diere en wil by die ander deur uitvlug. Maar sy hoof val dof en swaar terug op die kussing, en vir 'n lang tyd klop die dik warm bloed soos gesmelte lood teen sy geslote ooglede.

Plotseling is dit of die band wat soos staal om sy slape pers en hom aan die bed gekluister hou, aan stukke spring. Groot druppels sweet breek op sy voorhoof uit, en met 'n mat-koel gevoel word sy hele liggaam soos in 'n weldadige bad opgelos.

Dolf voel homself sink... diep, diep wegsink... Dan weet hy meteens dat hy geduik het, deur glashelder water, die koel water van die sekelgat waar die snyruigte sy skaduwee oor gooi. Af... af... tot onder op die dryfsand, en as hy begin beangs word, merk hy tot sy verwondering dat hy hier kan asemhaal. Maar hoe hy ook al smag, geen druppel wil oor sy droë lippe nie, en as hy behoedsaam begin rondtas, gly sy vingers oral van versteende water af wat hom aan alle kante soos glasmure insluit. Nou merk hy dat die sand waarop hy kruip, droë woestynsand is, en dat die water bokant hom soos deurskynende kwartsriwwe hang waarin die sonstrale gebreek word. Soos dolkpunte steek hierdie skerp strale naar sy oë, wat hom genoodsaak om hulle vaster te sluit en moeisaam in die sandskemering verder te kruip. Dit kom hom voor of hy ronddwaal in 'n eindelose verskroeide landskap, waar die bome blaarloos is en die hitteduiseling om sy ore dreun. Hierdie gedreun word 'n wilde ritme, 'n gedans wat hom om en om sleep, tot hy die omtrekke van 'n verlate dorsvloer in die veld herken en die woeste maat van Kaffervoete in sy ore hoor slaan. Dit was 'n toneel wat hy eenkeer bygewoon en wat 'n stemming nagelaat het wat sy fantasie uit die vroegste kinderjare beheers het, hierdie musiek tot 'n hoogte van intensiteit gevoer waar dit klankloos word en die lug laat pols met die ritmiese bewegings en wilde uitstraling van verhitte swart liggame. Deur sy gedagtes rol vurige sirkels, hy voel homself oorrompel en meegesleep in die wilde rondedans, in sy ore suis die lied van 'n sonbesie...

As Dolf weer sy oë oopmaak, sien hy die naakte kwartsriwwe van die Usambaraberge bokant flikker, en deur die donker grillerige naboomtakke oor sy tent skiet die son fyn dolkstrale wat aan sy ooghare bly hang en blink weefsels vleg. In die middel hang die groot swart son self wat die hele landskap verdonker. Die lug staan in swaweldamp, die horison word vaag, en dreigende boomgestaltes dring hulle daar saam soos verskrikte diere. Dit

[p. 79]

kom hom voor of dit nag is, en deur die angstige stilte ril die droewe geskreeu van narok-kong. Sonderling roer hom die stem, soos iets welbekends, vol kwaalvolle en treurige herinnerings, asof dit uit die diepste van sy eie hulpeloosheid opstyg, maar in sy kop is 'n pynlike leegte wat geen gedagte vaste gestalte laat kry nie. Nogtans wend hy vertwyfelde pogings aan om sy gedagtes in die donker vol van veraf geruise en vormlose gevare, op hierdie bekende, illusievolle geluid te vestig, asof die raaisel van narok-kong se bestaan hom in 'n ander lewe reeds gekwel het. Met rukkies is dit of die geroep oor bodemlose afgronde, uit onmeetlike ruimtes naar hom kom, dan weer yl die grillerige krete soos rooi dwaalliggies deur die donker.

Dolf voel of hy die klaende geskreeu volg deur 'n verlate veld met donker nabome en of dit altyd swakker en moedeloser op hom indring, soos die hulpelose gesnik van 'n angstige kind. Nou was dit digby... maar daar besluip hom die angs vir die onvatbare iets wat in die donker van die bosse skuil en snags die menslike fantasie oorweldig. Hy wil nie verder nie, span al sy kragte in om hom te verset, maar voel met rillende vrees hoe hy die grond onder hom verloor en magteloos daarheensweef, 'n onbekende, dreigende iets tegemoet, wat hom sterker aantrek hoe meer hy trag om daaraan te ontsnap. Plotseling sien hy die donker omtrekke, die grillerige spinnekoplitte van die naboom weer dig bokant sy gesig, en tussen die litte, glinsterend soos in maanlig, die blink weefsel waarin narok-kong hang en sy lewe uithyg. Hy skyn alleen nog sy vlerke mat met die swak polsslag van sy asem te kan beweeg, en met toenemende beklemming wag Dolf daarop dat die swart spinnekop sal te voorskyn kom om sy buit te verslind. Naamlose angs omvat hom. Sy gedagtes tas langsaam soos deur 'n digte newel. Hy wil sy hand uitstrek om die sterwende voël te red, maar 'n verlammende angs en swakheid maak hom magteloos. Trane van hulpeloosheid stroom oor sy wange, want nou was dit nie meer narok-kong nie maar hyself wat gevange hang in die klewerige blink gaas en swak met sy hande roer en vrugteloos die onheil probeer afstoot wat soos 'n digte ontasbare iets op hom aandring. Nou weet hy dat dit kom... Al die verskrikkinge van die nag vind gestalte in die swart ding wat op hom aankruip om sy bloed uit te suig. Hy onderskei nog soos deur 'n rooi mistigheid die uitgestrekte arms, die kromgetrekke vlesige litte wat langsaam oor hom heenbuig. Maar dit was geen naboom meer nie - dit was 'n swart monster met klewerige harige pote, onvatbaar groot, en sy asem is soos 'n gesuis deur die ruimte - - - Dolf probeer nog om met 'n laaste benoude skreeu los te ruk, maar geen geluid kom deur sy toegesnoerde keel nie. Dan slaan sy hand wild uit, 'n gerinkel van brekende glas dring soos van veraf tot sy gehoor, en hy voel hoe hy naar benede deur yskoue afgronde val....

 

SANGIRO.

[p. 80]



illustratie

Geding van TOTIUS.