Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929


auteur: [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die


bron: Die Nuwe Brandwag. Tydskrif vir Kuns en Lettere. Jaargang 1929. J.H. De Bussy / H.A.U.M. v.h. J. Dusseau & Ko., Pretoria / Kaapstad 1929


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. 140]

Knut Hamsun.

DIE verskyning van ‘Landstrykere’ (Rondlopers’) van die gevierde Noorweegse skrywer Knut Hamsun verskaf 'n passende geleentheid om sy werke en persoonlikheid onder die aandag te bring van dié lesers van ‘Die Nuwe Brandwag’, wat nog nie met die grootste moderne Skandinawiese skrywer kennis gemaak het nie. Vandat Hamsun die internasionale lesende publiek verower het met sy ‘Sult’ (‘Honger’, 1890), het hy verskeie artistieke metamorfoses deurgemaak, maar tog steeds van krag tot krag voortgegaan, totdat in 1920 die seël op sy werk en skepping gesit is deur die toekenning van die Nobel-prys. Die verskyning van sy ‘Markers Gröde’ (‘Groei van die Veld’) in 1917 het grootliks tot die besluit van die pryskomitee bygedra, maar selfs voor 1917 was Hamsun ongetwyfeld reeds die grootste skrywer in Skandinawië, wat in ons tyd die een eersterangskrywer na die ander voortgebring het, soos Pontoppidan (Deen), Lagerlöf (Sweed) en Kinck (Noorweër). Dit is eers in die laaste tien jare, dat 'n ernstige mededinger tot die posiesie van die grootste lewende Skandinawiese skrywer in die persoon van Sigrid Undset opgestaan het. Maar dit is onbillik om haar met Hamsun te vergelyk, want hulle doel en strewe op sosiologiese en kunsgebied is totaal uiteenlopend. Dit is destemeer 'n feit, waarop Noorweë kan trots wees, dat Hamsun en Undset die twee meesgelese moderne skrywers van die wêreldliteratuur is. Undset is ook een van die nuutste Nobel-pryswinners.

 

Hamsun het 'n lewe, wat amper self so boeiend soos 'n roman is, deurgemaak. Hy is in 1859 in Gudbrandsdal gebore uit boereouers, behorende aan 'n oeroue boeregeslag met sy eie tradiesies en kultuur, daardie stand wat aan Noorweë van sy grootste skrywers, soos Björnson en Lie gegee het, en wat verantwoordelik is vir die frisheid en naïveté wat vir die meeste lesers die grootste bekoring van die Noorweegse literatuur vorm. Die lange, triestige Noordlandwinters en die ewige stryd om die bestaan teen die wrede, onverbiddelike natuurmagte het hulle seël afgedruk op die werk van Hamsun en menige ander Noorweegse skrywer. Hieruit spruit sy satieriese pessimisme en sy optimisme albei. Dit was ook die bron van inspirasie vir die skepping van die ‘Hamsun-held’, 'n wispelturige, sorgvrye, waaghalsige natuurkind, soos ons hom in omtrent iedere roman van Hamsun aantref, van ‘Sult’ tot ‘Landstrykere’. Die oertiepe van daardie figuur tree reeds in die ou sagas op; by Hamsun is hy 'n gemoderniseerde viking, wat steeds verteer word deur

[p. 141]

'n brandende verlange na die onbekende en awentuurlike, wat steeds ‘undres paa, hvad kan skal faa se over de höie fjelde’ (‘wonder wat hy sal sien, agter die hoë berge), soos Björnson dit in sy onvergetelike gedig van Jong-Noorweë uitgedruk het. Maar by Hamsun is die tema altyd op digterlike, nooit op 'n sentimentele manier uitgewerk nie. Die ewige onrus, die geluk-soekende maar geluk-nooit-vindende motief is vir sommige die groot aantrekkinkskrag van Hamsun se werke. Daar was 'n tyd, toe dit gelyk het asof dié leitmotiv sy werke sou laat ontaard in futiliteitstudies. Die boodskap van die vroeëre romans was duidelik: ontvlug die sordiede materialisme van ons tyd, deur terug te keer na die poësie. Maar was die boodskap nou ook konstruktief genoeg vir die moderne mens? Daarop gee Hamsun se hoofwerk ‘Markens Gröde’ antwoord in die vorm van 'n twede boodskap: terug na die natuur, terug na die arbeid, - die handearbeid! Die held en heldin trek die woesteny in en bring dit na jare van ontbering en harde werk tot welstand en tevredenheid. Die arbeid om die arbeid ontwil is al deur ander skrywers, vernaamlik Tolstoj, behandel, maar nog nooit op so 'n oorweldigende manier nie. Die byna klassieke eenvoud en nugtere grootsheid van konsepsie van die werk grens aan die epiese. Gelukkig is ‘Markens Gröde’ vir Afrikaanse lesers toeganklik in uitstekende Engelse, Nederlandse en Duitse vertalings.

 

Na hierdie hoofwerk het Hamsun die volgende romans geskryf: ‘Konerne ved Vandposten’ (‘Die vroue by die waterpomp’), wat algemeen as minder geslaag beskou word, maar vir dié wat Hamsun kronologies gelees het baie interessant is, omdat dit duidelik die invloed van Kjelland laat sien, en die Noorweegse kleinstadslewe met groot insig en virtuositeit beskryf. Na 'n driejarige swye het ‘Siste Kapitel’ (‘Laaste Kapittels’) in 1923 uitgekom, waarin die verhouding tussen die man en die vrou die hoofmotief is. Dit skyn asof Hamsun nie meer in dieselfde trant gaan skryf as in ‘Markens Gröde’ nie, want sy laaste werk ‘Landstrykere’ herinner baie sterk aan sekere romans van sy middelperiode, soos ‘Segelfoss By’ en ons kry weer die bekende Hamsun-held met al sy grille en onberekenbaarheid. Die boek is mynsinsiens een van Hamsun se beste, omdat dit pure Hamsun is. Die enigste tendens wat dit bevat, is die stryd teen emigrasie na Amerika. Die kleinstadagtergrond is weer die milieu en selfs die tiepiese Hamsun-heldin vind ons terug; sy is altyd ‘das ewig Weibliche’, maar sonder die onaangename bysmaak, wat al aan dié uitdrukking kleef. Die vrou in Hamsun se boeke bly vir ons altyd 'n probleem, omdat ons haar feitlik nooit leer ken nie, behalwe in haar verhouding tot die manlike geslag. Maar daardeur kry sy 'n grootsheid ver verhewe bo die salonproduk van baie moderne skrywers.

[p. 142]

Hamsun se kort verhale behoort tot sy beste werke. Hulle behandel alle moontlike temas: van die grote Eros tot die kaskenades van 'n huisvlieg. Etlikes van hulle speel in Amerika, waar Hamsun jare geleef het en agtereenvolgens prairie-dagloner, tremkondukteur en visser op die New-Foundlandse visbanke was: daardie versamelplek van die skuim van die wêreld.

 

Hamsun leef op 'n plaas in die suide van Noorweë, ver van die gewoel van die grote wêreld daarbuite, waarmee hy so goed bekend is, maar wie se stof hy van sy voete geskud het. Hy is as mens die onbekendste van die groot wêreldskrywers, omdat hy so beskeie van aard is. Sy buitelandse reputasie het hy eers in Rusland verwerf en daarvandaan het sy roem oor alle beskaafde lande versprei, sodat 'n nuwe werk van Hamsun gelyktydig in sowat sewe tale verskyn. Hy is te beskeie om 'n groot volksfiguur te wees soos Björnson. Noorweë besef, dat as hulle hom moes mis, hulle een van die grootste kulturele kragte wat die Noorweegse volk voortgebring het, sal verloor.

C.G.S. DE VILLIERS.