Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929


auteur: [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die


bron: Die Nuwe Brandwag. Tydskrif vir Kuns en Lettere. Jaargang 1929. J.H. De Bussy / H.A.U.M. v.h. J. Dusseau & Ko., Pretoria / Kaapstad 1929


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. 270]

Iets Omtrent die Volksoorlewerings van die S.A. Bantoe.

III. Idiome, spreekwoorde, raaisels.

ALLE Bantoetale besit 'n ware skat van idiomatiese uitdrukkinge, spreekwoordelike gesegdes, spreekwoorde en raaisels. Dis 'n reeks gedagtes wat uit die volksmond vloei en in één of in slegs 'n paar frases kernagtig in min of meer gekunstelde en geykte vorm uitgedruk is. Ons noem hulle gemakshalwe volksidioom. Hoe groot daardie skat is begin ons eers nou, by wye-omvattende en diepergaande studie van die Bantoetale te besef: en hoe lewend daardie skat is merk ons eers goed as ons 'n tydjie in noue kontak met een of ander Bantoe-stam kom, en hoor hoe veelvuldig sulke uitdrukkinge in die daelikse taal van die gewone man gebruik word, hoe hulle aantal steeds aangroei, hoe hulle toegepas en verwerk word en uit mekaar uitvloei in altyd nuwe vorme wat dan weer toepassing vind op nuwe toestande, of voortkom uit nuwe beskouinge van ou-bekende toestande. Dit is 'n skat waarvan alle Suidafrikaanse Bantoetale omtrent eweveel het, en wat vir 'n groot deel gemeen is aan almal. Waar ons hier later, deels vir gemak en deels om plek te bespaar, vir elkeen van die drie kategorieë, waarin ons die volksidioom verdeel het, slegs uit twee tale voorbeelde aanhaal, moet dit nie die indruk wek dat ander tale minder of minder goeie voorbeelde van dieselfde kategorie sou kon gee nie.

Vier punte sal, hoop ons, die leser tref by die nagaan van die volgende voorbeelde. Ten eerste, dat dit moeilik is om 'n skerp skeidslyn te trek tussen idioom, spreekwoordelike gesegde, en spreekwoord, en, in minder mate, om die raaisel skerp van die spreekwoord te onderskei. Ten twede (en hiervoor gee ons die oorspronklike teks, 'n letterlike vertaling, en 'n vrye vertaling, of waar nodig 'n verklaring), dat die taal dikwels argaïes, meestal nogal erg ellipties en gedronge is, soos juis by die kernagtige saamtrekking van die volkswysheid pas. Ten derde, dat dit dikwels moeilik gaan om 'n ekwiwalent in een of ander nie - Bantoe-taal, bv. 'n Europese, te vind, en dat dit maar min geluk om 'n juiste parallel vir die frase te kry. Dit hoef ons nie te verwonder nie: want, hoewel die lewensfeite en -beskouinge van alle volke in hooftrekke tot 'n seker mate tog ooreenkom, is die feite en die beskouinge in besonderhede so verskillend, dat dit nie gaan om die een in die ander as dit ware te vertaal nie. Tog is dit in enkele gevalle moontlik om letterlike ekwi-

[p. 271]

walente vir een of ander Bantoe-spreekwoord in een of ander Europese taal te vind, en dan moet ons onsself afvra of ons hier met 'n oorspronklike Bantoe-volksidioom te doen het of dat ons die treffende gelykenis aan Europese kontak met die Bantoe-stamme moet toeskrywe. Ten vierde wil ons wys op die min of meer sieniese gees wat in baie van die spreekwoorde ens. skuil. Ook dit moet ons nie verwonder nie: want die Bantoe, eweas die meeste primitiewe volke, is tegelyk diep-religieus en, soos dit in die rake Engelse uitdrukking heet: ‘of the earth earthy’, tegelyk onnosel as 'n jong kind en skrander às 'n ou man, tegelyk hoog emosioneel en doodnugter.

Voordat ons tot die voorbeelde oorgaan moet ons eers nog 'n kort woord sê oor elkeen van die kategorieë afsonderlik. By die idioom sal dit in die oog val dat daar veel verwysing gemaak word na die natuurlike funksies van die menslike liggaam. Ons kan nadruk lê op daardie woord natuurlik, en dit met 'n paar uitsonderinge, as reël aanneem dat aan wat natuurlik is by die Bantoe g'n skaamte kleef nie, en dus ook g'n literariese of ander preutsheid aan verbind is nie. Die lewensfeite, van watter soort ook, word deur die natuurmens met kinderlike eenvoud waargeneem en bespreek. Dit wil nie sê dat daar vir die Bantoe g'n grenslyn tussen fatsoenlike en onfatsoenlike uitdrukkinge bestaan nie; dit wil alleen sê dat die grenslyn op 'n ander manier getrek word as by ons wittes.

In verband met die spreekwoorde wil ons nog daarop wys, dat hoewel sommige daarvan duidelik genoeg van betekenis is, daar baie is waarvan die betekenis eers gladnie uitkom nie, soos dit ook o.m. blyk uit die betekenis van die naam van die spreekwoord, bv. in Thonga of Zulu (shi-ga, isa-ga*)). Die betekenis is dan ook dikwels taamlik diep verberg, en van 'n diepsinnige amper spitsvondige gehalte.

In verband met die raaisels verdien aangehaal te word, dat daar by verskillende Bantoe-stamme raaiselspelletjies bestaan: een persoon vra 'n raaisel aan die ander: weet die twede persoon die antwoord op die raaisel nie, dan moet hy dit koop, (die seSotho uitdrukking is dan ook go rêka nyêpô, ‘'n raaisel koop’), deur aan die eerste persoon 'n raaisel te vra wat hy nie kan raai nie en hom die antwoord daarop mee te deel: dan eers kry hy die antwoord op die raaisel wat hy nie kon raai nie.

En nou die voorbeelde.

(a) Idiomatiese Uitdrukkings en Spreekwoordelike Gesegdes.

(1) isiXosa.
[p. 272]
Akana sifuba: - Hy het g'n bors nie - Hy kan niks vir hom hou nie.
Amate empukane: - Vlieëspeeksel - Baie fyn reent.
Andikange ndosule umlomo namhlanje: - Ek het vandag nie kans gekry om my mond af te vee nie - Ek het min geëet. (Dit word dikwels gebruik om aan te dui: ‘Jou gasvryheid is maar karig’.)
Indonga ziwelene: - Die mure het teenmekaar geval - Die magtiges het twis gehad.
Inja yomoya: - Hond van die wind - Niksnutter, onverantwoordelike persoon. (Vgl. die Duits Windhund, bv. by Fritz Reuter.)
Inkala ixinge 'tyeni: - Die krap sit aan die rots vas - Jy het jouself in die moeilikheid vasgedraai.
Ityala limlahlile: - Die regsaak het hom weggegooi - Hy het verloor.
Izulu limtabatile: - Die hemel het hom gevat - Hy is deur die blits getref.
Ndifuna ukukuluma indlebe: - Ek wil jou in die oor byt - Ek wil jou iets toefluister.
Ndina mazinyo asibozo: - Ek het ag tande - Ek is nie van gister nie.
Ndina 'mehlo: - Ek het oë - d.w.s. seer oë.
Ndome amate: - My speeksel het opgedroog - Ek was baie verbaas.
Ube nyawo ntle: - Mag jy mooi voete hê - Goeie reis en voorspoed.
Udle ukudla kwamdla: - Hy het kos geëet en dit het hom geëet - Hy is dronk. (Bier is mos kos by die Bantoe.)
Ukaulela inkawu ziyakusela: - Jy steur die ape as hulle gaan drink - Jy steek jou neus onnodig in ander mense se sake.
Bafakana imilomo: - Hulle sit hulle monde bymekaar - Hulle beraadslaag. (2) seSotho.
Bea pelo: - Sit jou hart neer - Wag geduldig.
Bo-kea-tseba: - Die ‘ek-weet’-mense -Dokters, waarsêërs. (Dit is al duidelik genoeg. Maar daarby kom nog dat by die BaSotho die dokter veronderstel word te weet waarvoor die mense by hom kom voordat hulle dit nog gesê het.)
Ba nthsana se inong: - Hulle neem van mekaar wat tussen die tande is - Hulle eet uit mekaar se mond, is intieme vriende.
Ha a iphe thsoeya: - Hy gee homself nie asem nie - Hy is altyd aan werk.
Ha re isane: - Ons bring nie vir mekaar (geskenke) nie -Ons is nie vriende nie.
Ha se le hoba ke nyorilwe: - Dit is nie eers dat ek dors is nie - Ek is so dors dat ‘dors’ nie 'n woord is om my dors te beskrywe nie.
Ho ya fathse ke dithseho: - Naar die grond te gaan met lag -Skaterlag.
Ke ntat'ae a tsoha borokong: - Dis sy pa as hy uit die slaap kom - Hy lyk baie na sy pa, maar tog nie heeltemal nie, net soos 'n mens as hy pas uit die slaap kom ook nie heeltemal homself is nie.
[p. 273]
Khomo e wetse: - Daar het 'n bees geval - Daar is 'n ongeluk gebeur.
Di-ya-banneng: - Dinge wat na die mans toe gaan - Moeilike sake (wat dus deur die mans bespreek moet word in raadsitting).
Ngwan'a-se-tsoha-le-pelo-ya-maobane: - Die kind van-staan-op-met-die-hart-van-gister - iemand wat altyd dieselfde bly (dit word altyd in 'n goeie sin gebruik).
O ithsetlehile ka olo se se nang bohlwa: - Hy het geleun teen 'n miershoop sonder miere - Hy het valse hoop gekoester.
O longwa ke nta feela: - Hy word maar net deur 'n luis gebyt - Hy het maar net baie klein laste te dra.

(b) Spreekwoorde.

(1) shiRonga.
Ndi ta tira loko tihuku ti mili menyo: - Ek sal dit doen as die hoenders tande kry - ad kalendas Graecas.
Amuhloti wa tinyari ti buya na yene: - Die buffeljagter, hulle (die buffels) kom met hom tuis - Hy het 'n strik vir homself gespan en daarin geval.
Mamita tinyingi a dumba wa kwe nkolo: - Iemand wat vrugtepitte sluk vertrou sy keel - Moenie aanneem om 'n ding uit te voer as jy nie seker is dat jy die ding kan doen nie.
Mayetla ndlwini munduku hi mayetla handle: - Die wat (vandag) in die huis slaap, slaap môre buitekant - Vandag ek, môre jy.
Andlopfu a yi ngi bindwa hi timhondo ta yone: - 'n Olifant word nie neergedruk deur sy eie tande nie - Waar 'n mens aan gewoon is, is vir hom nie lastig nie.
I timhondo ta humba, ta ku huma nongweni: - Dit is slakkehorinkies, wat uit die mond uitkom - Dit is niks as grootpraat nie.
U pfukeli ampfungwi: - Jy het opgestaan met jou gesig na die agterkant van die hut - Jy het met die verkeerde been uit die bed gestap.
Asinge da ngwinyi a di hlekisi: - Die baas se stommeling laat nie lag nie - 'n baas lag nie oor die domhede van sy eie kneg nie.
Alidimi li dlaya ngwinyi: - Die tong maak sy baas dood - Die Zunge hat ja kein Bein, schlägt aber manchmal den Rücken ein.
(2) seTshwana.
A ngwedi oa tla a thsêgê letsatsi, a re: ‘O moshweu’?: - Sal die maan vir die son kom uitlag en sê: ‘Jy is wit?’ -Die pot verwyt die ketel dat hy swart is.
A o ruta thshwene mapalamô? - Leer jy die bobbejaan klim? - vgl. ‘Teach your grandmother to suck eggs.’
Thshoshwane e romile tlou: - Die mier het die olifant op 'n boodskap uitgestuur - Die klein man gee vir die groot man bevele.
[p. 274]
E tla re ke re ke dipitse ke bone mebala ya tshônê: - Ek sal sê dat dit kwaggas is as ek hulle kleure gesien het - Ek loop nie oor een nag se ys nie.
Go a shwa motho, go sale motho: - Daar sterf 'n mens en daar bly 'n mens agter - Niemand is onmisbaar nie.
Ke fa gare ga naka tsa nare: - Ek is tussen die horings van die buffel - Ek is in 'n tweestryd met myselwe.
Lomaô lo lo nthla pedi lo thlaba kobô le moroki: - Die naald met twee punte steek die karos en die naaier - As jy 'n wapen gebruik teen 'n ander sorg dat dit nie een is waaran jy jouself ook sny nie.
Lehuha le apeetshwe le lentshwê, ga butshwa lentshwê, lehuha ya sala: - Veelwywery is gekook saam met 'n klip, die klip het saf geword en veelwywery het gebly soos dit was. - Kommentaar oorbodig!
Maru ga se pula; mmusi ke yôna molelo: - Wolke is nie reent nie, maar rook is darem vuur - Sommige getuienis is nie geloofwaardig nie, maar ander is dit wèl.
Motse o lwapeng: - Die dorp is in die vrouekwartier - vgl. ‘The hand that rocks the cradle rules the world.’
Nthla ya kgosi go iwa ke modimo: - God gaan naar die kant van die kapteintoe - Die gode is op die hand van die sterke.
O upa moraka tau e setse e thlasetse: - Hy maak seker van die beeswagter as die leeu al aangeval het - Demp die put as die kalf verdrink is.
Pôô ga di thlakanele lesaka: - Bulle deel nie met mekaar dieselfde kraal nie - Daar kannie twee base op een plek wees nie.
Se ileng se a bo se ile, lesilo ke mo-se-lateledi: - Wat verby is is verby, 'n stommeling is hy wat dit agterna gaan - Gedane sake het geen keer.
Tau ga di adimane mênô: - Leeus leen nie vir mekaar hulle tande nie - Elkeen sôre maar net vir homself.
Sedibana se pele ga se ikangwe: - Die waterput wat nog vóór is is nie te vertroue nie - vgl. ‘Don't count your chickens before they are hatched.’

(c) Raaisels.

(1) tshiVenda.
Thai: Dzo yo nwa Tavha, dza vhuya dzo tshena milomo: - Raai: Hulle het by die Letaba-revier gegaan om te drink en het teruggekom met wit monde - Die koringstamper en die stok waarmee mens in die pappot roer.
Thai: Galaha lo kotamela nama: - Raai: 'n Ou man wat buk om vleis op te raap - 'n Val (waarin wild gevang word, en wat dikwels bestaan o.m. uit 'n skuinsstaande hefboom).
Thai: Gegulu la mavhabvu: - Raai: 'n Ou vrou met breë heupe - 'n tshirundu, die tiepiese Venda mandjie, met dik buik.
[p. *27]


illustratie
G. MOERDYK.
N.G. KERK LADYSMITH, NATAL.


[p. 275]
Thai: Kholomo ya khotsi-anga yo wela tivhani, nda sala ndo fara nga mutshila: Raai: My pa se bees het in die diepte geval, ek het agtergebly en dit by die stert uitgetrek - Die roerstok in die pap.
Thai: Ngwana o bebelwa vhaloini a hulela vhaloini: - Raai: 'n Kind wat tussen die toordokters in gebore is en tussen die toordokters in groot word - Die tong tussen die tande.
Thai: Tshe nda ya VhuTonga, nda vhuya natsho: - Raai: Die ding waarmee ek na die land van die Sjangaans gegaan het en daarmee teruggekom het - My skaduwee.
Thai: Tshi sa ofhi khosi: - Raai: Die ding wat nie bang is vir die kaptein nie - Modder, hy gly so goed as 'n ander.
Thai: Valani nndu, ri tshine marimbidane: - Raai: Maak toe die huis, ons gaan 'n vrolike dans hê - Die pappot word toegedek, en die pap kook en borrel binnekant.
(2) se Pedi (Transvaalse seSotho).
Ntlwana e se na modyakô: - 'n Huis sonder deur - 'n Eier.
O a nkgata, ke a go llêla: - Jy trap op my, ek huil jou aan - Droë blare.
Nokeng ke ile ke lla, ka bowa ke humotshe: - Toe ek na die rivier gaan huil ek, toe ek terugkom is ek stil - Die waterpot, wat leeg (dus hongerig!) rivier-toe gaan en vol terugkom.
Ke bitshwa ke pula: - Ek word deur die reent uitgeroep - Groen gras, wat na die reent groei.
Ke na le bahlankana ba lesome: o tlo ba tseba ka dikêfana tse thshweu: - Ek het tien knegte: Jy kan hulle ken aan hulle wit musse - Vingers.
Ke romile batsomi bahlano sekgweng: ba bowa bohle, ba babedi ba rwele phôôfôlô: - Ek het vyf jagters in die bos gestuur: almal het teruggekom, en twee het wild saamgebring - Die vingers wat die kop krap.

 

G.P. LESTRADE.