Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1931


auteur: [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die


bron: Die Nuwe Brandwag. Tydskrif vir Kuns en Lettere. Jaargang 1931. J.H. De Bussy, Pretoria 1931


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. 209]

Totius se Lewensbeskouing soos Weerspieël in Sy Gedigte.
(Vervolg en slot.)

DIE Unie-kontrak het Totius teleurgestel en verbitter. 'n Opgekropte gemoed bars los. Weg met die vergewensgesindheid. Laat die wêreld weet watter onmenslikhede gepleeg is. Skrynend bitter is die ‘Unielie’, nie alleen teenoor die vyand nie, erger nog teenoor die s.i. swakkelinge wat die geeskrag mis om hulle ideale te handhaaf.

 
Laat nou vaar jul ideale;
 
Unie-son skiet Unie-strale
 
Oor die donker wolke heen -
 
Boer en Brit is eind'lik een.
 
 
 
Laat nou vaar jul ideale;
 
Jul getwis oor tong en tale;
 
Eenheid sal nou triomfeer -
 
Kindjie sal sy Engels leer.
 
 
 
Laat nou vaar jul ideale;
 
Ban uit jul vergadersale
 
Al die rusies en geveg -
 
Ja - broer-speul maak alles reg!, ens. (Du Pl.).

Die gedig moet in sy geheel gelees word om die verregaande verbittering te besef.

Ook in die ‘Verse van Potgieter's Trek’ kan Totius die kreet van pyn en die verwyt aan die veroorsaker daarvan nie onderdruk nie. In ‘Weg van die See’ gaan hy hom heeltemal te buite aan haat.

 
Ek sal vir U (d.i. die see) steeds vlug,
 
gedugte beeltenis
 
van laag verow'ringssug,
 
wat nooit versadig is;
 
van lis en laag verraad -
 
die teelt van slangesaad -
 
wat in U golwe blink
 
en gryp en weer versink.

Aanhoudend keer hier ook sy gedagtes terug na die marteling wat die trekkers op rekening van die barbare ondergaan het, maar ons kry in die

[p. 210]

reeks gedigte hieromtrent tog weinig indruk van gevoelige inlewing; die geestelike stryd vir volksideale is vir hom veel meer saaks as die bykomstige moeilikhede met die oerwêreld. Slegs in ‘Drie Kindertjies’, en minder in ‘Vegkop’ tril die tragedie van die bloedige moorde. Origens kry ons wel impressionistiese plastiek (vgl. ‘Moselekatse’, ‘Die Swarte Halwemaan’), maar weinig innige lieriek.

Egter oortref in hierdie bundel die ligstrale die skaduweeplekke aansienlik, en dis ook die strekking van die reeks. Die dwingeland en die barbaar is gate langs die pad, en die pad self - die ontginning van Afrika - en sy bewandelaars - die ontginners - is hoofsaak. Die skatte van die ‘Donkere Afrika’ lê verborge, totdat ‘'n lig bestendig’ in die persoon van Potgieter met ‘sy roer, sy os, sy wa, sy Boek’ dit vir die wêreld gaan ontgin.

Geesverwant, en op kunsgebied beter geslaag, is ‘Die Vlakte’. En dan in ‘Potgieter’ gee hy die verheugende voorspelling van die bloei van die Afrikaanse nasie.

In ‘Ragel’ word die weemoedstemming sterker heersend. Dikwels moet die vyand dit hier ontgeld. Die karavaan van Jakob word beskryf.

 
Maar dis geen Jakob met sy trek
 
wat saggies lei die lam en ooi,
 
moeder en kind beskermend dek -
 
dis die vyandelike konvooi
 
 
 
wat vrouens vang en ja te voet,
 
of kampwaarts voer met moeë lyf:
 
skape laat wend in plasse bloed,
 
halfdood, en die ander vreeslik dryf.

Veral in die derde gedeelte vier hy sy bitterheid bot, b.v. as hy die kampsisteem vergelyk met die kindermoord van Herodes (bl. 67). In simboliese trant sinspeel hy later ook op die hebsug van die onderdrukker, waar hy die vrouens vergelyk met die rotsblokke wat die fondament van die breekwater vorm, en die Engelse met die see wat hulle ten onder druk.

Plek-plek sit sy verbittering sy verbeelding op hol, en hy verval in onbesonke beskuldigings. Selfs al het 'n geval soos onderstaande afsonderlik voorgekom, is dit taamlik kras om dit so hatelik te veralgemeen:

 
Hul ogies het nog nooit aanskou
 
wat oorlog is; hul weet nie wat
 
gebeur en kyk onnosel, nou
 
die vyand by die armpies vat
 
om te verpletter teen die rots! - - -
 
 
 
(‘Ragel’, bl. 74.)
[p. 211]

Maar dit is almal veiligheidsbuise om die gisting van sy gemoed af te lei. Fundamenteel glo hy nog aan die uiteindelike seëviering van sy nasie.

 
Teen donker lug as agtergrond
 
sien hul 'n kers in tentdeur blink.
 
Die treurgesusters dwaal daar rond....
 
maar bo hul rys 'n ster wat wink.

In ‘Trane’ skitter die immerflikkerende hoop sterker, en kort daarna lui dit:

 
Jou stryd is seker, groot jou loon!
 
Jou stille daad is groot-gedug.
 
Ons wye land word weer bewoon,
 
En kinderstem klink deur die lug.

Maar die moedige opbeurgees is aan verslap. Skerp word in ‘Trekkerswee’ die kontras getrek tussen vammelewe se deugde en vandag se verslegting. Pragtig verheerlik hy die boeregeslag van die oerdae van die trek.

 
O Trekkersvolk, my hart ontgloei.
 
Ek sien hoe jul die vreemde boei
 
verbreek het en het uitgebloei
 
tot eie nasie.

Raak-eenvoudig ook skets hy die ou Afrikanerdeugde in die bruilofslied:

 
Ek is 'n boerebruidegom
 
wat met my ganse rykdom kom.
 
Ek het geen geld nie op die bank;
 
maar net 'n wa met suiwer klank,
 
twaalf rooies, jukke en rieme klaar,
 
en ek makeer maar net nog haar, ens. (bl. 48).

Nommer VI op bl. 49 gaan in dieselfde trant deur:

 
Oom Gert se huis kos hom geen geld!
 
Hy 't self die muurtjies opgetrek,
 
die gras gesny op eie veld,
 
en toe met eie hand gedek.
 
 
[p. 212]
 
Sy meubels is van eie maak,
 
en wie daarop gaan sit die voel:
 
dit is geen goed na vreemde smaak,
 
maar Boer se eie bank en stoel.

Maar nou is alles verander. Die wêreldse goudstad het opgespring.

 
In boeredorp het hul eers
 
'n kerk gestig op wye plein,
 
waarom vergader, hier en daar,
 
die grasdak-huisies, laag en klein.
 
Maar nou word eers, en wonder gou,
 
'n groot hotel daar opgebou.

Vertwyfeling klink uit Gert se woorde as hy die vrede-nuus verneem:

 
Maar eindlik roep hul rond! Verby!
 
Dis vrede, vrede weer, wees bly -
 
Al is die vryheid verlore!
 
Dan keer die wilde stem as sug
 
weer in Oom Gert se hart terug,
 
en dring dan weer altyd na vore:
 
Verlore, verlore!

Die tragedie loop op 'n end. Sy vrou is dood, Willem vervreem, en Dina gaan in die goudstad haar verdelging tegemoet. Soos reeds in ‘Unielied’, vind die gemoed van die skrywer hier uiting in honende ironie. Bitter klink die konsiliasielied van Dina (Deel II, X):

 
Van digte donkerheid omgewe
 
het Boer en Kaffer hier gelewe;
 
hul kon die goudstraal nie ontdek
 
wat die beskawingslewe wek:
 
geen Boeretent of ossewa
 
kon lig bring in Suid-Afrika.
 
 
 
Geen trekker brag die nuwe lewe,
 
maar deur 'n hoër drang gedrewe
 
kom pionier en delwer aan
 
wat goudvonke uit die rotse slaan.
 
Johannesburg die was weldra
 
die ligpunt van Suid-Afrika.
[p. *38]



illustratie

INTERIEUR, CAPITOL TEATER (African Theatres), PRETORIA.


[p. 213]

Uit die Unie-feeslied klink dieselfde gees.

Onverwurgbaar stoot selfs hier die optimisme sy kop boontoe. Die Heer kan mos nie sy volk in die vernedering versaak nie, en selfs ‘Trekkerswee’ sluit op hoopvol akkoord. Dina keer tot haar vader terug, en hy begroet haar met die woorde:

 
My kind, meteens my profesie,
 
van wat my oog gewislik nie
 
aanskoue sal: die wederkeer
 
van al my volk tot God en eer.

Aldus kom Totius nooit daartoe om sy ideale as hopeloos verlore te verklaar nie. Liewers onttrek hy hom geheel aan die politieke modderplas en wy hom aan godsdienstige sake.

Godsdiens.

In die huislike kring van die bodemvaste godsdienaar, ds. S.J. Du Toit, het die religieuse lewensbeskouing so natuurlik met Totius opgegroei soos die hare op sy hoof. In sy vroeër lewe is dit in hoofsaak die volkskwessies waarby die religieuse inbors te pas kom. Dis godsvertroue wat die kamplyer opbeur. Die Heer het dit mos so gewil.

 
My kinders kom binne
 
en wees nie meer bang;
 
Die Vader daarbowe
 
bestuur hulle gang.

En die Heer sal uitkoms bring. Die kindjie in die kamp word wanhopend:

 
Ek kan nie meer wag nie van honger, my moeder;
 
Maar waarom tog so? Het die Heer ons verstoot?
 
Nee, liefste, verstoot sal die Vader ons nimmer,
 
Maar hier in die tent is g'n krummeltjie brood.

Mooi ook word die geloof aan 'n goddelike bestiering uitgedruk in ‘Mag en Reg’:

 
‘Kan ek anders? Hy daarbo,
 
Hy formeer my
 
en Hy leer my
 
om hierbowe rond te gaan
 
en my tentjie op te slaan.’
[p. 214]

In ‘Potgieters Trek’ is dit ook die Heer wat die voetstappe van die trekkers lei. By die intrede in die onbekende keer hulle tot God om leiding (‘Die Vlakte’) en alle voorspoed is aan hom te danke ((‘Vegkop’). In die slotvers, soos later in ‘Ragel’, vind die digter in die lotgevalle van sy volk dadelik 'n aanknopingspunt met Bybelse gebeure.

Dat Totius die lydensgeskiedenis van Ragel as veraanskouliking van sy volksgebeure sien, spreek weer van 'n deur godsdiens deurtrokke siel. Die Heer alleen kan vir Ragel in haar onbeskryflike smart troos. ‘Ragel die ween ontrooslik’, maar:

 
Dan rus sy as die Heer vermaan:
 
‘Bedwing jou stem, al jou geskrei;
 
vee van jou oog die silwer traan,
 
want kyk! die smartnag gaan verby.
 
 
 
Jou arbeid, moeder, 's nie verniet,
 
jou loon is groot,’ so sê die Heer;
 
Ek sien en weeg die moederverdriet,
 
jou kinders - hul kom almal weer. (bl. 79.)

Tog is dit opmerklik dat Totius nie verval in weerlose, willose aanhanklikheid aan die beskerming van God nie. Steeds maak hy beroep op die innerlike deug van die volk self, soos b.v. in ‘Die Breekwater’, ‘Trane’ ens., waar g'n sprake van geloof is nie.

In ‘Trekkerswee’ vind ons die gees van ‘Ragel’ terug. As oom Gert sy plaas verkoop, kry ons weer die Bybel-beeld. (bl. 46.)

 
My plasie is my Nabots-erf,
 
deur God verkore vir my saad.
 
Moet 'k nou vir Agabs dit verlaat,
 
om self ellendig rond te swerf?, ens.

En as die wêreld steeks word, soek hy troos in heilige onderhoud:

 
O Heilige nagte van voorheen
 
as die maanlig skaars in die huisie dring,
 
waar oom Gert lê waak, soos die psalmis sing:
 
om te peins oor God... (bl. 47.)

In haar verslegting word Dina ook deur die mistieke invloed van 'n kerkdiens tot inkeer gebring (bl. 90-91), en hierop volg die versoening wat vir Gert voorbode is van God se verheffing van die Afrikanervolk:

[p. 215]
 
Maar eens herleef die nasie weer
 
waarvan ek sterwend profeteer.
 
Eens word die grys-blou heuwels klein
 
as God alleen weer groot verskyn.

In ‘Wilgerboombogies’ bespeur ons die eerste spore van die meer liriese godsdiens, van die in verband bring van eie gewaarwordinge met die geloof. ‘Afskeid van die Oue Jaar’ (bl. 15) lewer 'n mooi voorbeeld. In die beskouing van die lewe word elke dag 'n blad van ‘daardie boek waarin Gods raadslag staan’, en met elke blad wat omgeslaan word, kom hy nader aan God.

 

In die volgende gedig huldig hy die versoeningsdood van Jesus, en in een van die jongste stukke, ‘Waar is 'n lot...’ (Du Pl., bl. 166), kom hy op dieselfde onderwerp terug:

 
Waar is 'n lot
 
Wat soos Sy lot so hard is?
 
Waar is 'n mens
 
met smart wat soos Sy smart is?
 
Waar is 'n nag
 
wat soos Sy nag so swart is?

Naas die godsdiens-in-die-lewe verdiep Totius hom ook, eers terloops, later meer, in abstrakte filosofies-metafisiese beskouinge. Deurgaans heers daarin 'n fyn humoristiese berusting in die verganklikheid van die aardse lewe. In ‘Wilgerboombogies’ kry ons dit al in ‘Alle Vlees is Gras’. In ‘Ragel’ vermeerder die aantal, veral in die tussensange. ‘Die Weg’ gee 'n moraliserende beskouing van die regte pad van die deug en eindig met die tiepiese berustingsgees:

 
Want dwaal ek weg
 
in die woesteny,
 
dan moet ek struikel
 
en angste ly.
 
 
 
Tot ek jou weer sien
 
en my hart hom verbly
 
As die pelgrims my weer
 
gaan groetend verby.
[p. 216]
 
Ek bly daar agter -
 
alleen neergeleg;
 
en die pelgrims praat
 
van ‘die graf by die weg!’

‘Die Staf’ is weer 'n verheerliking van innerlike deug:

 
Daar kan hy dan geboë sit
 
as aardse sorg hom druk en kwel;
 
maar spoedig rys sy staf omhoog
 
om beter dinge te voorspel.
 
 
 
Of word sy vrinde hom ontrou,
 
bedreig hom ook sy eie saad,
 
hy klem sy staf te vaster wat
 
hom nooit begeef nie, nooit verlaat,

en dieselfde tema vorm die grondslag van die ‘Herderslied’.

Eers in die ongebundelde gedigte wat deur Du Plessis opgevat is, kom die ernstige religieuse filosoof op dreef. ‘In die Nag’ herinner aan ‘Alle Vlees is Gras’. Alle aardse belange is ydel. Die vreugde van weleer is onherroeplik, en die hoop op die toekoms onbereikbaar. 'n Mens moet die hele gedig lees om die allegoriese betekenis daarvan ten volle te waardeer. Hier haal ons slegs 'n paar belangrike passasies aan om die rigting aan te dui:

 
‘Alles,’ sê die stem wat fluister
 
in die middernag se duister,
 
‘Alles om ons op die aarde,
 
alles in die hoë lug,
 
alles keer weer na sy oorsprong,
 
na sy wordingsuur terug...’

Maar naas die verganklikheid van die materie stem die geloof in 'n salige hiernamaals hom hoopvol.

 
Daar is g'n dood.
 
Ons wat van laë strand dit sien, en speur
 
hoedat hul vaart die afstand steeds vergroot -
 
ons kan nie sien wat anderkant gebeur,
 
en daarom noem ons die verdwyning dood.
 
 
 
(Du Pl., bl. 154.)
[p. *39]



illustratie

MODERNE FLATGEBOU. COOPERATIESTRAAT, HK. P.L. TAKSTRAAT, AMSTERDAM.


[p. 217]

Laat ons van die onderwerp afstap met die tiepiese stukkie, ‘Ek graaf met my gedagtes’:

 
Ek graaf net in 'n sandhoop
 
met my: Waarom? en Hoe?
 
By elke nuwe poging
 
dan val die plek weer toe.
 
Al die tob en pieker is vergeefs,
 
Dus - hou maar op met grawe:
 
berusting is so soet,
 
net een ding te gelowe,
 
en dit is: God is goed!

Van die psalmvertalings as tolk van Totius se verdieping in die sielelewe het ons reeds gewag gemaak.

Natuur.

Die natuurwêreld is 'n organiese bestanddeel van Totius se bewussynsfeer. Om die oorvloedige oes van stof wat hierdie onderwerp oplewer handelbaar te maak, sal ons die digter se verhouding tot die natuur, hetsy enigsins willekeurig, in twee onderafdelinge indeel.

a) Natuurplastiek.

Ons het reeds opgemerk dat geheel suiwer natuurbeskrywing by Totius feitlik nie voorkom nie. Tog kry ons, veral waar hy die natuur verpersoonlik, mooi plasties-lewende prentjies waar ons die sienersoog van buitegewone viesie bemerk. Daarby onderskei ons 'n afsonderlike klein maar nie onbelangrike groep - die natuurbeskrywinge gedrenk in stemmingsnarmonie, wat in die verhalende gedigte ingelas is.

 

Een van sy eerstelinge op natuurgebied, ‘As die Dag gaan Sterwe,’ een van die weinige suiwer natuursbeskrywinge, is reeds tiepies van die siening in die inhoud en die tekort in die uitwerking. Onbeholpe klink die veelvuldige sinsverdraaiinge, b.v.:

 
As sy laaste westergloor
 
kyk met matrooi verwe
 
winterweiveld oor;
 
 
[p. 218]
 
en die dag nog
 
fluister-swakkies
 
met 'n ver gerug
 
deur die loombewoë takkies
 
blaas sy sterwenssug; ens.

Desnieteenstaande is die skildering in aangehaalde reëls fris beeldend.

Ook uit vroeër jare dateer ‘Die Storm’. Die eerste vers is plasties feitlik volmaak, en ritmies baie beter as elders.

 
Daar kom hy an -
 
Die gewapende man....!
 
Daar 's sy bliksempyl en sy wolkeboog,
 
sy donderstem en sy donderoog;
 
omhoog rys sy swaar vergrysde kop,
 
en windevlerke aan sy voete klop
 
die stof en sand uit die grootpad op.

Later verse lewer mooi voorbeelde van stemmingsanalogieë:

 
Die reus die kom
 
uit sy skuilplek weerom,
 
en 'n mensegeslag, veragtlik klein,
 
die sidder van angs,
 
as die reus weer verskyn.

Nae bloedverwant is ‘Die Pelgrim’ uit ‘Wilgerboombogies’. Lig, vlugtig soos die wind self, wieg die ritme en die beeld:

 
Nee, ek mag nie na binne,
 
ek, pelgrimskind;
 
my lewe is swerwe, my naam is die wind.
 
 
 
Nee, ek fluister my boodskap
 
en gaan dan weer heen,
 
oor die eensame velde
 
onverpoos en alleen.

Terselfder jare verskyn in ‘Fac et Spera’ ‘Die Ondergaande Son Lê Aan’, 'n aantreklike verpersoonliking van die natuur, wat later in ‘Kinderversies’ opgeneem is.

[p. 219]

In ‘Ragel’ sluit ‘Stof’ en die ‘Sterretjie’ by hierdie reeks aan. In verband met hierdie bundel verdien ook aanhaling wat vir my een van Totius se momente van grootste verhewendheid is, al kom dit voor in 'n ander onbelangrike stuk - ‘Om Siek te Wees’. Hy treur oor die vrouens wat in die kamplyding omgekom het.

 
In wye, wye wêreld, ons
 
so vreeslik leeg,
 
het hul gesterf,
 
maar kyk die laagtes het
 
by minste windbeweeg
 
die klaagtoon oorgeërf.

In ‘Trekkerswee’ is die enige meldenswaardige gedig onder hierdie rubriek die aanvangsgedig van die derde deel, waar die koppies van die Rand vergelyk word met akkers waar die Heer sy goudsaad ingeploeë het. Eg Totiaans is weer die slot:

 
Maar waarom is die heuwels dan
 
so hoog en ook so bleek?
 
En waarom is die dreun so diep,
 
so droef nes een wat smartlik smeek?

met sy weerklank aan die end van die bundel:

 
Lê op my graf geen sooi met gras,
 
maar dek dit met die heuwel-as;
 
want daarso lê begraaf jou eer
 
en van die boervolk van weleer.
 
 
 
Ja, daarom is die heuwels hoog,
 
en daarom is hul skynsel bleek,
 
en daarom is die winddreun diep,
 
so droef soos een wat smartlik smeek.

‘Te Snel’, in ‘Kinderversies’ opgeneem, verdien melding weens die epiese bespieëling wat daaraan vasgeknoop is:

 
Maak langer ons blyde,
 
lief lentegetyde!
 
dat ons nie so ras,
 
na enige dae
 
moet klae:
 
die lente WAS.
[p. 220]

Soortgelyk is ‘Verheug-Bedroef’ uit ‘Wilgerboombogies’:

 
Om te swerwe,
 
om te sterwe,
 
te verteer
 
daal ons neer.

Een van die mooiste stukkies van ‘Trekkerswee’ - die lentelied van bl. 22 sluit ook met 'n prekie:

 
‘Tog is ons lief haar eerste sprietjies,
 
die grassies aan ons voet;
 
tog leer sy ons weer nuwe liedjies
 
van taaiheid en van moed.

Die skrywer se laaste belangrike natuurgedig, die ‘Sonneliedjie’ van 1919 (Du Pl., bl. 138), vertoon die gewone kenmerke, en tewens is hierin sy versomberende stemming merkbaar:

 
As die son moet sterwe,
 
wat sal my dan wees,
 
met my baie stof
 
en my bietjie gees?...
 
 
 
Die son gaan onder,
 
sy oog is dof;
 
maar op my siel
 
lê 'n dubbel laag stof.

Stemmingsharmonie.

Eg Totiaans is die paar voorbeelde van intieme natuurstemmingsharmonie. Luister hoe hy in die seegeruis 'n sug van medelyde met die balling hoor, of kyk hoe die ontroofde burger by sy tuiskoms op sy omgewing reageer:

 
Dis of die môreglanse straal
 
met nuwe krag en kleur,
 
net om hom uit sy droefenis
 
en matheid op te beur.
 
Sy veldjas werp hy van hom af
 
om dankend neer te kniel,
 
voor Hom wat nuwe lewenslus
 
laat oprys in sy siel.
[p. 221]
 
Maar nee, daarbinne bly maar nog
 
die skerpe prikkel brand;
 
dit word deur môresonneskyn
 
net dieper ingeplant!
 
‘Die voëls’, sug hy, ‘is daar nog;
 
die dag het weergekeer;
 
maar net my vrou en kind bly weg,
 
en hulle kom nie weer!’

Elke natuurvriend sal ook met Totius meeleef in die impressionistiese stemmingsgedig, ‘Die Wind het My die Spraak Gebrag’ (‘Wilgerboombogies’), en in boaangehaalde slotgedig uit ‘Trekkerswee’ en in ‘Sonneliedjie’ spreek dieselfde gees.

b) Natuursimboliek.

Na die meer plastiese uitbeelding van die natuur kom ons tot die meer doelbewuste natuursimboliek, waar die natuurtonele die digter se gedagtes na analogiese gebeure in die menselewe stuur, of waar 'n eenvoudige natuurtoneel opsetlik gebesig word om 'n meer komplekse begrip te veraanskoulik of te verduidelik.

Een van die eerste stukke in hierdie afdeling sluit onmiddellik by Gezelle aan, nl. ‘Waarom Beef die Biesie so?’ Tog is daar in Totius se verdere simboliek iets eienaardig-selfstandigs, wat die verskil tussen die kunstenaar Gezelle en die essensiële mens Totius aan die dag bring. Die simboliek is by die Vlaming meer 'n bysaak van nou en dan, by Totius is dit hoofsaak, dit is die ware wese van die natuur. M.i. is die verskil in opvatting grotendeels deur twee omstandighede ontwikkel: a) die meer direkte aanraking met nasionale roeringe, en vandaar die intenser houvas wat die volksgebeure op sy lewensbeskouing het; en b) sy meer swaartillende introspektiewe geaardheid.

In die eerste bundel kry ons reeds 'n paar op hierdie gebied hoogstaande gedigte. Die digter is ontroer deur die onedele behandeling waaraan die vrouens in die kampe blootgestel is. Hoe om die toestand op plastiese wyse voor te stel? Hy soek 'n eenvoudige, aanskoulike natuur-analogie, en die tragedie van die geskonde vrou sou beswaarlik duideliker aangegee kan word as in ‘Die Howenier’, waarvan die slotvers lui:

 
Maar ag, g'n tuinmanskuns kan heel
 
die eenmaal afgebroke steel;
 
g'n traneplas
 
die modder was
 
en gee haar weer haar waarde.
[p. 222]

Elkeen het wel eens gesien hoedat 'n boer 'n boom met voëlnessie en al omkap, en sal vir hom kan voorstel die teleurstelling en daaropvolgende aanhougees van die voëlmoedertjie, en die, laat ons dit onverskillige gevoelloosheid noem van die boer, en daar het jy om so te sê die Boer-Brit-verhouding ‘in a nutshell’. Daarna sal die leser wel in staat wees om die allegoriese krag van ‘Die Besembos’ ook te waardeer.

‘Vergewe en Vergeet’, eers in 1917 gedig, maar weens die regstreekse verband later in die nuwe druk van ‘By die Monument’ ingelyf, is 'n prageksemplaar van diepdeurvoelde en aangrypende allegoriese krag, des te meer weens die eenvoudig-verhewe diksie. Brit-ossewa pynig onverskillig-gevoelloos die kind van die Afrikaanse bodem, die Boervrou-doringboompie.

 
Maar tog het daardie boompie
 
weer stadig reg gekom,
 
want oor sy wonde druppel
 
die salf van eie gom.
 
 
 
Ook het die loop van jare
 
die wonde weggewis -
 
net een plek bly 'n teken
 
wat onuitwisbaar is - -

'n onverbeterlike uiteensetting van die nasionale aangeleenthede.

Ons het terloops daarop gewys hoedat die Ragel-simbool passende tolk is van Totius se volksgevoel. Dieper, egter, is die smart van die Afrikaanse Ragel. Ragel sterf in die soete wete van Jakob se bysyn en liefde,

 
Maar dis g'n Jakob met sy trek
 
wat saggies lei die lam en ooi,
 
moeder en kind beskermend dek -
 
die die vyandige konvooi
 
wat vrouens vang en ja te voet,
 
of kampwaarts voer hul moeë lyf...

Ragel sterf met die troos van Benjamin se lewe, maar

 
Ek hoor hoe kerm die Ragels daar,
 
Maar nooit 'n Benjamin kom voort. (bl. 12.)

Die tragedie is oorweldigend, maar van die nagedagtenis aan 'n nobele wese gaan deur die eeue 'n besielende invloed uit, in Palestina en in Afrika. (bl. 65):

[p. 223]
 
Vir wie die grootpad langes reis
 
oor heuwelry vol blomme en gras,
 
die steenhoop droewe sterfplek wys
 
van wie waaragtig moeder was.
 
 
 
So staan daar in my vaderland
 
vlak by die grootpad, her en der,
 
graftekens eerbiedvol geplant
 
deur Jakobs - ballinge van ver,
 
 
 
vir Ragels wat in kindgeboort'
 
gesterf het op die weg, of by
 
die skrikkelike kindermoord
 
tot in die dood het meegely.
 
 
 
Ook hul gedagtenis is rein;
 
en altyd reiner sal dit word,
 
as tyd in nimmer-rustig-syn
 
sy golwe oor hul mooi-lewens stort.

Die gees van die afgestorwe vind in altwee gevalle rus en troos in die wete van 'n ryk nakomelingskap. (bl. 80).

 
Ragel die ween ontroostelik
 
 
 
Dan rus sy as die Heer vermaan:
 
‘Bedwing jou stem, al jou geskrei;
 
 
 
Jou arbeid, moeder, 's nie verniet,
 
jou loon is groot’, so sê die Heer,
 
‘Ek sien en weeg moederverdriet,
 
jou kinders - hul kom almal weer!’

So ook word die treurende Afrikanervrou getroos:

 
O skone beeld van boere-vrou
 
met kinders letterlik oordek:
 
een op die arm, een vasgehou
 
en een wat aan die rok loop trek.
[p. 224]
 
Jou stryd is seker, groot jou loon!
 
Jou stille daad is groot-gedug.
 
Ons wye land word weer bewoon,
 
en kinderstem klink deur die lug.

Naas die Bybelse analogieë kom daar ook nog 'n paar algemene suggestie-verskynsels voor. Die digter vertel van Ragel en Jakob by die put. Hy word getref deur die gulle onuitputlikheid van die put, en spontaan verrys in sy bewussyn die gedagte aan die gulheid van die Afrikaanse vrou, wat in verregaande selfverloëning oorgaan.

 
Haar lewe is soos die moederlewe;
 
by ondank immer bly te gewe;
 
maar 'k hoor, as hul het heengegaan,
 
diep onder tap... 'n watertraan!

Enigsins verwant is die toepassing in die ongebundelde ‘Op die Nuwe Maan’ van 1919 (Du Pl., bl. 140), waar die son vir hom gelykstaan met die moeder, wat trots ondankbaarheid haar gehele kragte aan haar dogter wy.

‘Die Breekwater’ staan in minder direkte verband met die verhaal, maar die toepassing is ewe raak. Die fondamentblokke van die breekwater versink in die grond.

 
Nogtans versink hul williglik hul lywe
 
en williglik hul eeue-aanskyn boet,
 
dat hier my wank'le voetstap sou beklywe,
 
en dat 'n wal sou oprys uit die vloed.
 
 
 
Ek dink opnuut aan al die graaggetroue
 
stilwesens met hul smart gewaad;
 
'k herdink die duisende van vroue
 
wat wil'ge lyf versink in lydensdaad.

In ‘Trane’ is die vrou weer onderwerp van die vergelyking, hierdie slag in taamlik klein besonderhede uitgewerk.

Ons sal van die politieke simbool afstap met 'n waardering van die treffende tent-simbool uit ‘Trekkerswee’. Die wa en tent is ewebeeld van die Boer en sy vrou, en vandaar simbool van al die edelste hoedanighede van die boerevolk.

 
Die wa - 'n sterke man is hy;
 
die tent - 'n taaie vrou is sy.
 
Jul het die nasie uitgelei,
 
sy boei ontbonde.
[p. *40]
 


illustratie
MODERNE BOUKUNS IN HOLLAND.
STADION, AMSTERDAM.


[p. 225]
 
En as sy wa nie verder dring,
 
hoor ek by wind haar fladdering
 
die boer van boerbeskawing sing,
 
stemmig-tevrede.

Voel U nie watter volheid van betekenis in die ‘stemmig-tevrede fladdering’ van die tentseil opgesluit is nie?

 

In verband hiermee sou ek graag nog effens opmerksaam daarop maak hoedat Totius voortdurend die ossewa as verteenwoordiger van die trekkerslewe en die trekkersideale beskou. Ons kry dit in die ‘Lied van die Ossewa’, in ‘Die Ossewa’ uit ‘Potgieters Trek’ en in ‘Die Os’ uit dieselfde bundel. In ‘Donkere Afrika’ kom die trekker met ‘Sy roer, sy os, sy wa, sy Boek’, en in ‘Die Vlakte’ is die sweepslag van die ossewa aankondiger van 'n nuwe lewe.

 

Onder die liriese gedigte neem die simbool eweneens sy plek in. Uit die ‘Verse van Potgieter's Trek’ is die ‘Trekkerslied’ vir ons van eienaardige belang. Die beeld van die lewe as 'n pad is stereotiep verby. Tog meen ek te kan aantoon dat dit by Totius meer as retoriek is, dat dit spontaan-gevoelde assosiasie is. Ten eerste kom die beeld herhaaldelik voor - in ‘Trekkerslied’, in ‘Die Weg’, in ‘Die Paadjie Dof en Klein’ en in gewysigde vorm in ‘Stroom van die Tyd’. Ten twede is dit 'n Afrikaanse pad, met al die besonderhede waar die skrywer persoonlik kennis mee gemaak het. Die ‘Trekkerslied’ is wel die beste voorbeeld:

 
Die duur van ons lewe
 
op aard is 'n trek
 
van waens oor vlaktes
 
voortsukk'lend gestrek.
 
 
 
‘Trek verder,’ verlui dit
 
die môre heel vroeg;
 
en sawens heel laat:
 
‘Nog nie ver genoeg!’

Wie anders as Totius sou ook hieraan gedink het:

 
Die vooros se klok
 
met sy klinglende lied
 
is die weinige vreugde
 
wat die wêreld hier bied.
[p. 226]

of:

 
Die blêrende lam
 
in die jakkals se klou
 
is die kermende siel
 
in haar nagtlik berou.

‘Die Weg’ is minder aanskoulik, en verdien melding alleen weens die opmerklike aansluiting met die twede vers van ‘Trekkerslied’:

 
Jou begin, ongekend,
 
is aan myne gelyk;
 
jou end, net soos myne,
 
in verborgendheid wyk.

‘Die Trein van die Lewe’ is onbelangrik behalwe as skakel in die ketting, en om die Totiaanse humor van die slot.

Oorspronklike siening kry ons weer in ‘Die Paadjie Dof en Klein’. Dit is weer eg Totius om so aan peins te gaan as hy dink aan die wandelaar wat in die woesteny 'n verlore endjie pad raakloop.

 
Dis troos vir hom, as hy alleen
 
sy pad soek deur die wildheid heen,
 
dat daar tevore mense was,
 
waar nou sy voet dwaal deur die gras.
 
 
 
O Lewens-wildheid grenseloos!
 
dit is ons, mense, 'n diepe troos,
 
die wetendheid:
 
'n ander het dieselfde stryd.

Veral in ‘Wilgerboombogies’ is die liriese simbool in die oog vallend. Volgens die tietel word die gediggies beskou as takkies van 'n treurwilgsimbool van die smart - geplant op die graf van sy vader, sy broer en suster. In die eerste gedig, egter, is sy vader die boom wat aan afsterf is hyself die spruitjie wat voortgeplant word. Tussen die legio van doodsbeelde in die literatuur tref veral hierdie vers met sy deurvoelde assosiasie.

 
In stilte, soms in pyne, gly
 
nog maande langs sy bed verby,
 
ontwoel sy wortels een vir een,
 
en dryf sy stam daar eindlik heen.
[p. 227]

Lieflik vertolk hy daarop sy eie lewensbeskouing:

 
En toe ons hom begrawe gaan
 
die wilgerstek gewortel staan,
 
met bogies wat bly-treurig doen-
 
neerhangend maar al hoopvol groen.

Kort daarop volg twee gedigte onder tietel ‘Ter Nagedagtenis van...’ In die eerste word die vriendlik-groetende alwynboom, voortgespruit uit doringkrans, analoog van die groot beloftes waarvan die doringkrans van Jesus draagster was.

Pragtig passend ook is die twede gedig, besonder passend, omdat hier twee onderwerpe wat vir die digter 'n intiem-innige bekoring het, verenig word - sy afgestorwe suster, en die eenvoudig-verhewe Potchefstroomse natuurskoon. Dié wilgertakkie is te mooie om nie in sy geheel te pluk nie.

 
Skone beeld van stille lewe,
 
Mooirivier! jy is vir my
 
ewebeeltnis van haar lewe
 
wat so saggies het vergly.
 
 
 
Uit jou gras-oorgroeide velde
 
speur ek nouliks jou omleeg -
 
En die wêreld wis so selde
 
iets maar van haar stroombeweeg.
 
 
 
Maar - steeds somergroen jou walle, -
 
stroom jy op die tuin-stad aan. -
 
Om haar heen was welgevalle,
 
blomme waar haar voet mog gaan.
 
 
 
Seënend sink jy weg, O Mooie!
 
tot jou kruik is leeg gedra -
 
Seënend sink sy in die sooie
 
en laat d'aarde groenend na.
 
 
 
En nes jy, wat in die vleie
 
ons 'n liewe lig-lyn laat, -
 
so was hier haar stil verglye 'n
 
silwerblinke liefdedaad.
[p. 228]

Daar bly nog vir melding oor die bekende ‘Sprokie’, waar die toepassing meer algemeen filosofies is.

Dis opmerklik dat Totius hom vir die dierewêreld deurgaans so weinig gevoelig vertoon. Waar Gezelle hom naas die blomme en stroompies steeds weer opnuut in ekstase oor die koeie, perde, nagtegale, rawe, uitlaat, voel Totius meer bepaald een met die stille lewe van die natuur. In ‘Mag en Reg’, en minder opvallend in ‘Die Os’, hoor ons wel die dierevriend praat, maar origens is die beelde almal ontleen aan die Afrikaanse natuur, waarin, wat Totius se kennismaking daarmee betref, die vlakte-verskynsels oorheersend is.

Maatskaplike betrekkings.

Totius is essensieel mens. Iets oor sy houding aangaande maatskaplike verhoudings sal dus nie onvanpas wees nie, m.n. sy houding teenoor die liefde, die vrou en kinders.

Liefdesliriek kom by hom eintlik nie voor nie. Tog kry ons plek-plek aantreklike tipering van die betekenis van die ware liefde. So lui dit op bl. 39 van ‘Ragel’:

 
Maar Jakob eet die vreugdeboord
 
van lewensblyheid, en hy drink
 
die bitter kelk van kwyningsdood,
 
vir ware minnaars ingeskink.

En weer:

 
Daarom sy oog na binne dring:
 
haar welvaart is nou ongewis.
 
En liefde is mees bekommering,
 
want liefde is heil'ge derenis.

Leuk ook is die gediggie ‘Hoe die Liefde Kom’:

 
Daar nader voel-voel na my toe
 
'n wese, ek weet nie wie en hoe.... ens. (bl. 41.)

Die liefdesontwaking van Willem en Dina is ook vol lewenswarme innigheid. Raak word die eerste aanvoeling aangestip:

 
'n Glimps, 'n glans, 'n gouigheid,
 
nes of 'n gees verskyn.
 
Maar nooit sal uit sy lewenstyd
 
die ligbeeld uit sy siel verdwyn, ens.
 
 
 
(‘Trekkerswee,’ bl. 10.)
[p. 229]

Die verder ontwikkeling wek by die digter weer 'n natuurbeeld op. Ek dink aan die lentelied op bl. 22, gevolg deur die mooi:

 
So het eenselfde lentelewe,
 
eenvoudig diep en waar,
 
twee stille wesens sag omswewe -
 
vir Willem en vir haar.

Maar die ryp vrug van die moederskap dwing tog meer die digter se ontsag af as die jeugdige liefdesbloeisel. Die hele ‘Ragel’ is 'n gewyde lied ter ere van die moeder as die hoogste wat die aardse bestaan oplewer. Hy het tegelyk 'n fyn waardering van die psige van die moederinstink en van die moederskap as maatskaplike instelling. ‘Ragel’ is natuurlik die voorbeeld by uitnemendheid van sy opvatting hieromtrent.

 
Een ding begeer sy - dit is al:
 
Om moeder van 'n kroos te wees. (bl. 58.)

Die verder verheerliking van die moederskap is in verband met die politieke insigte al volledig behandel.

Selfs die kind is vir Totius die embrio-moeder.

 
Ag die liewe poppespel
 
die verraai my al te wel
 
wat haar mondjie nie ontval:
 
hartewens is allermees
 
moedertjie eenmaal te wees,
 
moedertjie, dit is sy al! (‘Kinderversies’).

Volledigheidshalwe verwys ek hier weer na die verskillende reeds behandelde gedigte wat getuig van sy juiste inlewing in die moederpsige. Innig eg is die moeder se trooswoorde aan die kleintjies as haar eie moed haar amper begewe. (‘Daar Kom Hul’ en ‘In die Kamp’.) Goed gesien is die toewyding van die moedertjie aan ‘Dit is Nag’ uit ‘Wilgerboombogies’. Lieflik-eenvoudig ook die moederlike toewyding en sorg in ‘Sy Moeder’ uit ‘Kinderversies’, en die soortgelyke idee in ‘Op die Nuwe Maan’.

Hieruit is dit begryplik dat Totius ook 'n groot kindervriend is. Nooit spreek hy van die kleinspan as met die sagste woorde. Tog klop vir hulle meer 'n filosoofs- as 'n kunstenaars- of essensieel mensehart. Selde kry ons sulke ongemengde inlewing in die kindersiel as in die moedersiel. Uit die hele reeks kinderversies is alleen ‘Hy Mors so Graag’, en ‘Sy Speelgoed’ geheel vry van filosofiese bespieëlinge. Hy beskryf b.v. die oudjie se opstaan en môrespel, en filosofeer na aanleiding daarvan:

[p. 230]
 
O Heerlike bedrywigheid,
 
en arbeid waar geen sorg aan kleef!
 
wat al maar net wil besig wees
 
en net maar bly maak om te leef...

en as die oudjie siek is, peins die wysgeer:

 
Kon 'k maar in lye net so wees;
 
so stil-vertrouend wag;
 
van buite net so stil, soos hy,
 
van binne - net so sag!

Tog blyk dit uit een vers dat Totius met suiwer genot opgegaan het in die liefde vir sy kinders. Ek doel op die ontroosbare eensaamheid en onvervulde verlange wat spreek uit ‘Geen Stem en geen Antwoord’ (Du Pl., bl. 155):

 
'k Sien die verste ster wat flonker
 
deur die nag van stilte en donker;
 
maar 'n stem wat fluister - die
 
hoor ek deur die donker nie.
 
 
 
'k Gaan weer langs hul liefste plekkie;
 
'k gaan die tuinpad oor en oor,
 
'k wag weer by die tuin se hekkie,
 
of 'k haar voetstap nie sal hoor...
 
 
 
En - van hul is niks bekend nie!
 
En - 'k wag so stil en lang!
 
Is daar dan g'n instrument nie,
 
wat die onhoorb're klank kan vang?
 
..... Maar g'n stem of ritseling
 
wat deur stilte of donker dring.

Humor.

Niemand sal wil beweer dat Totius 'n forse humoris soos b.v. A.G. Visser is nie. Daarvoor vat hy die lewe te ernstig op, is hy te swaartillend. Maar steek deur die hele veld van sy geestesblomme nie die optimistiese knoppies uit nie, van die ‘bogies wat bly-treurig doen - neerhangend, maar tog hoopvol groen?’ En hoor ons nie herhaaldelik die stem van die groot wysgeer, wat die lewe sonder gemor aanneem soos hy dit vind nie? Van nature is hy meer ‘neerhangend’ en dikwels gee hy aan hierdie instink vrye teuel,

[p. 231]

maar deur ervaring en oorpeinsing verworwe filosofie hel hy tog oor na die humor. Indien dit nie 'n logiese onmoontlikheid is nie, sou ek dit as ‘weemoedige humor’ tipeer.

By behandeling van sy politieke insigte het ek gewys op die gees wat humoristies wil wees, al is hy dit nie van huis uit nie. Daarby voeg ek nou die teer humoristiese trekkies van die liriese gedigte. Toonaangewend van sy hele humor is die bo-aangehaalde reëls van die ‘bly-treurige’ wilgertakkies. Onmiddellik sluit hierby aan die slotvers van ‘Die Oue Wilg’:

 
En as die wind
 
jou rusloos roer,
 
dan hoor ek hierdie spraak:
 
‘Al lyk ek nou
 
so dubbel dood -
 
ek sal weer herontwaak!’

Feitlik die enigste stukkie humor in die gebruiklike sin kry ons in ‘Repos Ailleurs’, waarin die glimlagwekkende teenstelling met die onderlêende tragedie van die immer onvervulde begeerte. (‘Wilgerboombogies’, bl. 32.)

Die trek waaraan Totius sy aanspraak op die naam van humoris te danke het, is sy benydenswaardige egale standpunt teenoor die kwessie van lewe en dood. Eerste aankondiging hiervan kry ons in ‘Afskeid van die Oue Jaar’, en ‘Alle Vlees is Gras’.

Op sy onwrikbare vertroue in die lewe hiernamaals is reeds gewys. Hier word iets geëis oor sy opvatting van die aardse lewe. Eers ontmoet ons dit in ‘Die Weg’ uit ‘Ragel’. G'n vrees vir die toekoms, g'n selfverwyt oor ongedane plig, g'n traan oor agtergelate lief en leed nie.

 
Ek bly daar agter -
 
alleen neergeleg:
 
en die pelgrims praat
 
van ‘die graf by die weg’.

Vgl. verder die verse wat hierbo in verband met die lewensimboliek bespreek is, en veral die berustende gees van ‘Ek Graaf met my Gedagtes’ en tewens ‘Moedeloos’:

 
Wat sal ek dan doen?
 
My lê sal ek lê,
 
en die storm maar laat gaan -
 
Wat peins ek oor iets
 
wat ek tog nie verstaan! (Du Pl., bl. 136.)
[p. 232]

Selfs die swaartillende Totius is mens genoeg om hier en daar ontspanning te vind in iets van ligter aard. ‘Die Kwessie’ uit die eerste jare is vol leuke kwinkslae. (Du Pl., bl. 50). Uit ‘Trekkerswee’ skiet my te binne die spitsvondigheid op bl. 20:

 
Hy swyg; verdwyn weer ongemerk;
 
hy's met die saak verleë;
 
die vrouens wat die wee bewerk,
 
(so dink hy) spot daarmee.

Dit nadat die vroulike deel van die famielie vir Willem geterg het oor sy ‘Transvaalse takhaarnoi’. Leuk ook is die dikkert-episode by die stemregagitasie (bl. 61). In ‘Kinderversies’ kry ons 'n paar geestige situasies, maar dit is selde vry van moraliserende toepassing; ek dink o.a. aan ‘Die Groot Kwessie’, ‘Sy Bol’, ‘Sy Katjie’, en ‘Hy Mors so Graag’.

Saamvatting.

Om saam te vat. Totius is vir my in die eerste plek mens, in die twede kunstenaar. Kunsskepping is vir hom g'n einddoel nie, dit is hand langer by die opbou van 'n saamvattende lewensbeskouing. Vandaar dat ons by mindere kunswaarde die grondleggende gedagtes as goeie munt kan aanneem. Hierin word ons geregverdig veral daardeur, dat die gedagtes so herhaaldelik, en in soveel verskillende maar verwante nuanseringe, en in histories onafgebroke opvolging voorkom, sodat dit wel deel moet uitmaak van die ware wese van die mens Totius.

Ons sal hier kortliks daardie grondleggende gedagtes saamvat.

Ten eerste het ons die sterk godsvertroue, uitgedruk in sy berusting in die volksleed van ‘By die Monument’, ‘Ragel’ en ‘Trekkerswee’; in die hoop op die toekoms onder Godsleiding, wat die toon aangee in ‘Potgieter's Trek’ en minder opvallend in ‘Ragel’ en ‘Trekkerswee’; en eindelik in die wysgerige opgaan in die goddelike bestiering, eers plek-plek in die politieke en vroeër liriese gedigte, later meer aanhoudend in die bespieëlende stukke.

Naas die godsdiens vervul die vaderlandsliefde en leed sy geesteslewe. Vanaf ‘By die Monument’, deur ‘Potgieter's Trek’ en ‘Ragel’ tot ‘Trekkerswee’ huldig hy die deeglike volkshoedanighede, en hy is veral vervul van die rol wat die vrou in die opbou van die nasie speel. Met die loop van die tyd ondergaan sy politieke insigte egter aansienlike verandering. In die eerste bundel heers die berustings- en konsiliasiegees; in die twede ontsnap hom 'n verwyt teen die verdrukker, maar vertroue in die toekoms bly hoofsaak. Met die Unie word sy houding teenoor Brittanje bitterder, veral in die Unie-lied, en in ‘Ragel’ ly hy erger as voorheen onder die volks- en vroue-

[p. 233]

marteling. In ‘Trekkerswee’ is dit nie alleen vyandelike onderdrukking wat hom seermaak nie, maar ook die innerlike agteruitgang van sy volk, wat in die Unie-lied reeds 'n verwyt uitgelok het. Tog, dank sy sy onwrikbare godsvertroue, sluit ‘Ragel’ en ‘Trekkerswee’ altwee met die vaste geloof in die uiteindelike oplewing van die nasie. Hierdie optimisme vind ons ook hier en daar in sy liriese gedigte terug.

Totius is 'n egte kind van Afrikaanse bodem, en verheug hom deur en deur in die Afrikaanse natuur. In hierdie betrekking toon hy hom meer as elders kunstenaar. Nie alleen besiel die natuur hom tot verhewe plastiese uitbeelding nie, maar sy sienersoog lees in elke natuurverskynsel 'n betekenis wat vir die nie-kunstenaar verborge is. Hiermee in verband staan sy groot voorliefde vir simboliek. Elke natuurverskynsel suggereer vir hom 'n analogie in die mensewêreld, en omgekeerd, as hy 'n menslike verhouding wil verduidelik, het hy dadelik 'n aanskoulike vergelyking by die hand. Hierdie geestesaangeleentheid, saam met die religieuse aanleg en warm-menslike gevoel, getuig van 'n verbasend veelbewoë geesteslewe en veelomvattende lewensblik.

Die warme menslikheid kom tot uiting veral in sy saamgevoel met die swaarkry van sy medepelgrims op die lewensweg, veral die vrou, maar, in ‘By die Monument’ en sporadies elders, ook vir die man en kind.

Tewens is die gevoelsmens ook peinsende filosoof, meesal onder godsdienstige vervoering, partymaal egter algemeen.

Onlangs vra ek so kort-af vir 'n bekende uit Potchefstroom of sy aldaar ooit vir Totius ontmoet het. ‘Ja,’ sê sy, ‘so'n paar maal oppervlakkig, sommer in algemene geselskap... Hy is so 'n klein, ouerige man... Jy kan sommer sien dat hy regtig hard gewerk het in sy lewe.’ Voeg daarby: wat baie gedink en gevoel het (en in die wyer betekenis is dit mos maar in ‘Werk’ inbegryp), en slaan ag daarop hoe sterk die indruk moet wees om by eerste aansien so'n waardering uit te lok, en ons het m.i. die kern van die wese Totius.

E. HARTMANN.