Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933


auteur: [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die


bron: Die Nuwe Brandwag. Tydskrif vir Kuns en Lettere. Jaargang 1933. J.H. De Bussy, Pretoria 1933


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. 14]

Vir die Jongspan.

Die silwervaring. 'n Rugby-verhaal deur I.D. du Plessis. Nasionale Pers Bep., Kaapstad. (Prys 4/-.)

Die doel van hierdie vervolg op ‘Die Springbok’ is ‘om 'n gesonde sportgees te bevorder, om ons rugby-terminologie te bestendig en om leesstof vir die jongspan te verskaf’.

 

Meer as een sal die vraag stel of dit nodig is om ons seuns nog meer te laat lewe in sport en internasionale voetbaltoere! Maar die skrywer kan hierop antwoord dat dit nou eenmaal die romantiek is wat die moderne seun se siel in beslag neem en die plek inneem van die roweren Rooihuidstories wat sy vader se verbeeldingslewe gevoed het. Du Plessis het 'n vlotte, onderhoudende boek geskrywe in 'n aangename trant en suiwer taal en styl. ‘Die Silwervaring’ is 'n aanwins vir ons seunslektuur.

Kinders van Suid-Afrika. Deur C.R. Swart. Nasionale Pers, Bloemfontein. (Prys 3/9.)

Die skrywer sê in sy inleiding: ‘In die volgende bladsye word beskrywings gegee van 'n aantal heldedade wat deur kinders in ons geskiedenis verrig is. Ook word daar een en ander vertel van die rol wat die kind in ons geskiedenis gespeel het, en wat hy moes ondergaan en deurstaan in die dae en jare en eeue wat verby is.

 

Die vertellings in al hierdie aangetekende gevalle berus op feite. Dit is geskiedenis en nie sommer stories en verdigsels nie. Alleen hier en daar is daar by wyse van aanvullings van beskrywings gebruik gemaak van 'n bietjie geregverdigde verbeelding wat inpas by die omstandighede.’

 

Hierdie boek is 'n aanwins vir die skool- en huisbiblioteek. Elke ouer, elke onderwyser wat daarmee kennis maak, sal dadelik voel dat hy sy kinders of leerlinge hierdie uitstekende lektuur nie mag onthou nie. Mnr. Swart is 'n onderhoudende verteller en 'n goeie pedagoog. In hierdie verhale voer hy sy jeugdige lesers dwars deur ons geskiedenis, van die dae van Jan van Riebeeck tot die Tweede Vryheidsoorlog. Hy praat in die taal van die kind, 'n gemoedelike geselstrant, hy weet wat sy jeugdige lesers interesseer, en, sonder om hinderlik didakties te word, kweek hy by hom 'n gesonde nasionale gees aan, laat hy hom op aangename wyse kennis van die volksverlede opdoen. Ook vir die ouer wat nie met 'n groot mate van verbeeldingskrag begaaf is nie en saans voor die taak staan om sy jongspan se hongerige fantasie met stories te moet voed, is hierdie boekie 'n ware uitkoms.

 

Die styl is besonder aangenaam, maar die taal is nie heeltemal sonder vlekkies nie en die interpunksie gebrekkig.

Kinders van die voortrek. Deur Miemie E. Rothmann. (Self-lees-serie.) 2e druk. Nasionale Pers Bep., Kaapstad. (Prys 3/6.)

Hierdie werkie behoort algemeen bekend te wees. Dit doen die ‘Self-lees-serie’ alle eer aan. Die seun of dogter wat een bladsy daaruit gelees het, sal dit sonder enige aansporing agtermekaar uitlees. En menige volwassene ook! Die simpatiekste van hierdie werkie is wel dat die skryfster haar krag nie soek in beskrywinge van oorlogsgeweld en wreedheid en heldemoed nie (dat sy die dinge treffend kán beskrywe, daarvan gee sy ruimskoots blyk), maar haar veral daarop toelê om die daaglikse lewe van die Trekkers uit te beeld. Deur haar eenvoudige verhaal van die lief en leed van 'n Trekkersfamilie, hulle

[p. 15]

daaglikse doen en bedrywighede ,het mevr. Rothmann daarin geslaag om haar jong lesers nader te bring aan daardie belangrike tydperk in ons geskiedenis. Die Voortrekkers bly vir hulle nie amper bomenslike bedrywers van heldedade nie, maar word mense, en daardeur word hulle heldemoed des te beter besef. Mevr. Rothmann kan uitstekend vertel en beskik oor 'n suiwere, eenvoudige styl - juis die styl waarin hierdie verhaal vertel moes word.

Drosters. Twee boeiende verhale vir kinders, deur M.H. Theunissen. Self-lees-serie. Nasionale Pers, Bep., Kaapstad, 1932. (Prys 2/-.)

Ook hierdie deeltjie doen die serie eer aan en bied goeie leesstof vir kinders. Die avontuurlike verhaal van hoe Jan en Martin deel neem aan die dryfjag op die moordenaar Radipêla sal die seuns se oë laat glinster. Die wyse waarop Radipêla hom self kom oorgee is 'n fyn stukkie Kaffer-sielkunde, maar die seuns sal dit nog wel nie verstaan nie. Die soektog na Pietjie Verryn is mooi vertel en sal menige volwassene boei - die tekening van die kindersiel is hier ook goed geslaag.

Gelukkige outjies. Sketsies van die plaaslewe. Deur Léon Maré. Met prentjies van Annie Coster. J.H. de Bussy, Pretoria, 1932. (Prys 2/9.)
Bartjie Koekemoer en ander seunsverhaaltjies. Deur Léon Maré. J.H. de Bussy, Pretoria. (Prys 2/9.)

Hier het ons twee uitstekende, smaakvol uitgegewe kinderboeke. Wat die werkies besonder aantreklik maak vir die kleinspan, is dat die plaaslewe en die sfeer van die plaas hier so mooi uitgebeeld is. Orals voel 'n mens hoe die skrywer self sy hart ophaal aan wat hy hier beskrywe. Maré se skerp oog vir die kleurige uiterlik van die dinge blyk op elke bladsy, sonder dat hy bewus literêr of artistiekerig word - dit bly kinderboeke waarin die skrywer self weer kind is.

‘Gelukkige Outjies’ is vir kinders van 6 tot 8 jaar en bevat bekoorlike beskrywings van al die dinge wat die lewe van die plaaskind vul: 'n veldbrand, 'n piekniek, voëlnessies, sprinkane, die dorsmasjien, tal van voorvalletjies uit die dierelewe, esv.

‘Bartjie Koekemoer’ is 'n seunsboek met verhale en sketse oor die dinge wat 'n seun se belangstelling het: voorvalle uit die skoollewe, jagstories, avontuurlike visvangste esv.