Ons het nou al di grondslag geleg fer 'n Taalkunde fan ons taal, eers in ‘Di eerste beginsels fan di Afrikaanse Taal’ en later in di ‘Fergelykende Taalkunde’ fan Afrikaans en Engels. Dan het ons oek al di fondament geleg fan 'n Afrikaanse Woordeboek, in Afrikaans-Engels en Engels-Afrikaans. Mar di laaste gé net kortaf di spelling en betekenis van di woorde. So fêr doen dit wel 'n goeie diins, mar dis ni genoeg ni. Dit laat ni di ygenaardige woorde, spreekwyse, gesegdes, spreekwoorde en uitdrukkings, waarin ons taal uitmunt, uitkom ni, en dis juis di doel fan hiirdi werk, waardeur dit sig ondersky fan 'n Woordeboek.
As een fan di samestellers fan di Taalkunde en Woordeboek wil di skrywer hiirfan perbeer om in di behoefte oek te foorsiin. Hy weet dat dit gen maklike werki is ni. Mar net soos met di Taalkunde en Woordeboek wil ons oek mar 'n begin maak, deur boustoffe te fersamel en di fondament te lê; want ons glo ni an bou fan di dak af ni, soos party nuwerwetse foorstanders fan ons taal doen.
Ons is daarom ni heeltemaal di ‘foortrekkers’ op di gebiid ni. Reeds in 1844 het ou Dr. Changuion onder di ygenaardige titel fan ‘De Nederduitsche Taal in Z.A. hersteld’ 'n taalkunde uitgege, waarby hy gevoeg het wat hy noem ‘Proeve van Kaapsch Taaleigen.’ Maar soos uit syn titel en foorrede blyk was syn doel ni om ons taal op te bou ni, mar om di fondament wat toen geleg was en di mure wat toen gebou werd af te breek. Mar dis hom ni geluk ni. Di arme ou man moes foor syn dood erken, dat syn doel misluk is: ons taal het o'er syn kop gegroei, toen al, en bloei fandag op syn graf.
Later, in 1884, het Mnr. Mansvelt, toen ‘Professor in de moderne Talen aan het College te Stellenbosch’ uitgegé 'n ‘Proeve van een Kaapsch-Hollandsch Idioticon, met Toelichtingen en Opmerkingen betreffende Land, Volk en Taal.’ Hoewel di werk ni sonder ferdiinste is ni, tog ly dit an twe gebreke. Fereers het hy ons taal mar beskou, soos uit syn titel en ‘voorbericht’ blyk, as ‘Kaaps-Hollans,’ en dus syn boek mar genoem 'n ‘Idioticon,’ soos hy dit self ferklaar as 'n ‘Woordenboek bevattende woorden en uitdrukkingen die aan een bysonder gewest (in dit geval Zuid-Afrika) eigen zyn’ - dus Afrikaans is fer hom mar 'n tongval of dialek fan Hollans.
Mar 'n grotere gebrek fan di werk is nog, dat di skrywer, baar en rou uit Holland gekom, met ni meer kennis van ons taal en ons folk ni as wat hy opgetel het by syn uitkom fan di Kaap na Stellenbos, daar op syn leerstoel gaan sit het en di stof fer syn boek moes kry fan syn leerlinge uit verskillende dele fan ons land. En di ondeugende knape het hulle ‘professor’ lelike poetse gebak en baing strikkiis op di mou gespelde, wat hy mar alles fer klinkende munt opgeneem het in syn boek. By ons behandeling sal ons so hiir en daar enkele staaltjiis daarvan gé. Mar bowediin het di jong-span hulle professor baing hul plaselike uitspraak, gesegdes en spreekwyse fer algemeen Afrikaanse laat opneem, en dikwils het syn ongeoefende oor di juiste uitspraak misgefat en ferkeerd gespelde.
Ons gé hiir net 'n paar foorbeelde, wat ons foor di hand ope slaan onder letter O. Hy gé hiir: ‘O-Enna, tw. om ferbazing, schrik, enz. uit te drukken.’ Nouwel, syn ‘enz.’ moet hiir alles reg maak; want elke Afrikaander weet dat ons uitroepwoord ‘yna!’ of ‘O yna!’ net gebruik word as imand seer kry of pyn het, mar nooit om ‘verbazing en schrik’ uit te druk ni. - Mar nog erger, ja belaggelik fer elkeen wat Afrikaans ken is di ferkeerde betekenis wat hy an ‘onbeskof’ gé en di moeite wat hy doen om di ferkeerde mening te ferklaar. Hy het dit so: ‘Onbeskof, degelik, flink. De overgang van de Ned. betekenis van dit woord (lomp,
ruw, enz.) tot de genoemde moet hiir door ontstaan zijn, dat een lomp, ruw mensch niets ontziet, recht door zee gaat en dus degelijk flink doortast en handelt.’ Mar nou weet elke skoolkind hiir, dat ons nooit ‘onbeskof’ gebruik in di betekenis fan ‘degelik, flink’ ni, mar wel net soos di Hollanders in di sin fan ‘ruw, lomp,’ ens. En omtrent 'n derde fan di woorde is op di maniir, wat ons hiir en daar by di behandeling sal laat uitkom.
Mar dan is daar nog 'n onuitgegewe Afrikaanse taalskat foor ons, namelik 'n fersameling fan boustoffe fer 'n werk soos ons nou bedoel, nagelaat deur o'erlede Dr. A. Pannevis, een fan di grootste taalgeleerdes wat Suid Afrika ooit gesiin het en een fan di grondleggers fan ons taal as skryftaal. Hy het soos David di boustoffe fersamel, dat 'n opfolger di tempel kan bou.
Ons erken dat dit ni maklik was om 'n gepaste titel fer di werk te kry ni. Yndelik het ons mar besluit om di foorbeeld fan ons oue taalkundige te folg en dit 'n Taalskat (Thesaurus) te noem; want ons hoofdoel is tog mar om di ygenaardighede, spreekwijse, gesegdes, spreekwoorde, ens. fan ons taal byeen te fersamel. Di skat kan altyd nog fermeerder, gerangskik en nuttig gebruik worde. Ons maak mar 'n begin en laat ruimte fer andere om an te ful en by te werk.
| W.w. | = | werkwoord. |
| S.n. | = | Selfstandige naamwoord. |
| F.n. | = | Foornaamwoord. |
| F.s. | = | Foorsetsel. |
| H.w. | = | Hoedanighydswoord. |
| B.n. | = | Byfoegelike naamwoord. |
| B.w. | = | Bywoord. |
| T.w. | = | Telwoord. |
| U.w. | = | Uitroepwoord. |
| L.w. | = | Lidwoord. |
| Afr. | = | Afrikaans. |
| Holl. | = | Hollans. |
| Eng. | = | Engels. |
| Fr. | = | Frans. |
| Dts. | = | Duits. |
| Byf. | = | Byfoorbeeld. |
| F.k.w. | = | Ferklynwoordji. |
Di Redaksi ferwys die follende briif na ons:
New Clare, Transvaal.
Juni 2, 1908.
Die Redakteur fan ‘Ons Taal.’
Weled Heer, - Ik het ingeteken fer julle Tydskrif, en fooruit betaal; nou verbeel ik my ('n mens is mar so, nê?) ik het nou die reg om ‘oek 'n stuiwer in die armbus te gooi.’ Ik het met grote belangstelling die stukkie fan meneer du Toit, oêr die Taalskat gelees. Ik denk hy het 'n goeie werk gedoen met daar die stukkie te schrywe, en ik hoop oek die follende stukke oêr die onderwerp andagtig te bestudeer. Mnr. du Toit sal my wel nie kwalik neem nie as ik 'n paar anmerkings maak; hy sal self wel weet dat mense werk nooit volmaak is nie.
‘Dreumes’ is folstrek nie dieselfde as die Afr. woord ‘Apeflooi of dooiklaas ens. dit beteeken niks anders as.’ ‘Klyntjie.’ Ik kan nou nie uitfind nie of hulle altemit in froeger jare 'n dooiklaas’ ‘Dreumes genoem het (ik het nie boeke nie die oorlog het my gedaan gemaak. Ik het net 'n goeie Holl. Eng. woordeboek, en daarin lees ik: Dreumes: shrimp, little fellow.’
Appellifies Meneer Mansvelt is reg, en Mnr du Toit is verkeerd waar hy hom o'er Mnr. Mansvelt frolik maak. Ik is twaalf jaar in die land en het altyd onder boere gewoon, en dis die eerste maal wat ik die woord appellifies hoor. Ik het hulle altyd ‘appel der liefde’ hoor noem. My frou, wat self 'n boer is (sy sê sy is 'n boer - ik sê boerin!) het altwee gehoor, maar banja meer appel der liefde as appellifies.
Die woorde wat u feronderstel fan die Malaaise taal afgelyd te wees, is regtig almal uit daar die taal. Ik ferstaan die taal goed en kan dit dus sé - julle het die Malaaise woorde ferkeerd gespelle, maar dit kom nie daar op an nie. Byf. orang-lama en orang-basse ens.
Mnr. G.R. von Wielligh moet liewers nie perbeer nie om 'n baas-Hollander te laat praat. Een Hollander gebruik nie die woord ‘ferbrouw’ nie. Ook eet hy nie ‘paddaboutjiis’ nie. Hy moet fersigtig wees (ik meen Mnr. v.W.) om ou stories wat hy gelees het toen hy 'n seun was in syn eié stukkies te pas te breng - 'n mens wat plagiaat pleeg moet oppas dat die lappe wat hy anlas mooi pas so dat die nate nie gesien word nie.
Uw Dnr. Dienaar.
H. de Munnik.
Kritiik is mooi; kritiik is goed; kritiik ferlang en begeer ons, feral in so 'n baanbrekende werk as ons onderneem het; hoe meer kritiik, hoe beter, as dit mar kritiik is wat die saak beforder. Laat ons siin: -
Dreumes is folstrek nie dieselfde as die Afrik. woord ‘Apeflooi,’ ens. Gelukkig fer ons en ongelukkig fer ons beoordelaar het ons juis uit di antekening fan Mnr. Pannevis, self 'n Hollander, by wi ons dit kry: ‘Apekleuter (wat diselfde is as Apeflooi) dreumes.’ Ons wil ons ni opwerp as kenners fan Hollans of Oud-Hollans ni; mar 'n taalgeleerde as Mnr. Pannevis, wat haas alle Europese tale geken het, sal dit wel beter weet.
Mar ons beoordelaar sê: ‘Dreumes beteken niks anders as Klyntji.’ Nou ons Afrikaans beteken oek 'n klyntji, mar 'n klyntji in 'n besondere sin en betekenis, en in hoefêr di Hollanse ‘dreumes’ diselfde beteken laat ons an grondige kenners fan Hollans o'er. Reeds di eerste Engelse betekenis van ‘shrimp’ moes ons beoordelaar getoon hê dat ‘dreumes’ ni niks anders beteken as ‘klyntji’ ni.
Ferder, ons beoordelaar sê: ‘Mansvelt is reg, dit moet Appeltjiis-der-liefde wees en ni Appellifiis ni.’ En op grond waarfan? (1) Omdat hy as Hollander jare onder boere gewoon het en di laaste ni gehoor het ni, (2) omdat syn frou, wat 'n boeredogter is wel alby gehoor het, mar meer di eerste as di laaste! Elkeen siin dis bra swakke gronde om daarop soos 'n juts uitspraak te doen. Di fraag is fereers: binne watter beperkte kring en omgewing ons beoordelaar di 12 jare gewoon het; of daar wel in di kring dikwils fan appellifiis sprake is; of hy wel so noukeurig elke Afrikaanse woord onthou of opgeteken het, ens. Hy erken ten minste dat zyn frou, uit diselfde omgewing, wel fan appellifiis gehoor het. Kyk, wat Hollans angaan wil ons ons ni as regter opwerp ni; mar skrywer hiirfan is gebore Afrikaner; het molik meer as enige Afrikaner syn land in lengte en breedte deurrys, en ni eenmaal ni, mar herhaaldelik; en was met alle klasse fan syn nasi in anraking; en het bowediin al 30 jare lank 'n bisondere studi gemaak fan ons taal, en hy kan eerlik ferklaar dat hy nog nooit 'n Afrikaner hoor praat het fan ‘Appeltjiis der- Liefde’ ni. Di meeste word di frug genoem ‘pampelmoesiis.’
Dit doen ons genoege dat ons beoordelaar erken dat ons aflyding fan Malaaise woorde reg is. Mar waar hy ons spelling daarfan ferkeerd noem het ons juis di gesag fan Mnr. Mansvelt an ons kant, wat op di woord Baar anteken: ‘ongeleerd, ongeoefend (van menschen en trekdieren) een woord uit de dagen der O.I. Comp., toen de oud-gedienden oorlammen (orang-lami = oude personen) en de rekruten baren (orang-barn = nieuwe personen) heetten.’
Di C gebruik di Afrikaner ni (behalwe waar hy dit wil behou in ygename of freemde woorde). In sommige woorde word dit ferfang deur K, soos Kandidaat, Kongres, ens.; in andere deur S, soos Seder, Sement, Seremoni, ens.