jou oor 'n miershoop vas te maak. Die miere soek eers die sagte, klam plekke, die orale en ander openinge. 'n Mens is ook maar so: jy eet eers die kersies van die koek af. En die miere is eintlik onskuldig. Hulle weet nie. Op die uiterste ken hulle nie pyn nie. Die wriemelende, gillende liggaam van die slagoffer is bloot 'n groot eetbaarheid. Hulle weet nie daar is lewe, kosbare lewe in nie. Hulle kan nie intelligensie na waarde skat nie. Die vonk van die persoonlikheid gaan by hulle verby, die individuele gelaatstrekke. Kortom: dis vir hulle 'n maaltyd. Hulle word slegs gedryf deur 'n stom, dinklose, diep drif. Hulle moet eet, en hulle marsjeer met 'n meedoënloosheid wat uit geslagte se ingeteelde instink kom. Ek blameer dus nie die miere nie. Wie blameer jy?
Hy:
Ek: Miskien moet ons aan die lesers verduidelik hoe ek aan jou gekom het. Ons wil nie hê dat die lesers ook, soos ons, die gevoel kry dat hulle in die lug sweef nie, vingerpoppe aan drade wat komieklik rukkerige bewegings maak as 'n vinger iewers spring nie. Bowenal mag die leser nie soos 'n yo-yo voel, gedurig geloods in 'n ruimte waarin hy onveilig en onbegrens is nie. Ons verlei hom eerder met die bekende en kyk of ons iewers arriveer.
Hy:
Ek: Kom, sit nou stil. Ek maak jou vanaand weer buite vas, in die reën, as dit gaan reën, soos die ander soms doen, dink jy dit gaan reën?
Hy:
Ek: Dit was veel later as die Brug Veertien-episode. Of sage. Of sege. Ek noem dit om die leser te oriënteer. Al Venter was pas hier om Into Angola vir SATV te skiet, hy't sy kameras uiteraard net hier en daar gerig. Ek het so uit die skaduwees gekyk hoe hink die stukkende kinders al om hom en wedywer met die vet verpleegsters om 'n plekkie voor die lens. En hoe die vleis-in-foelie later soos by 'n supermark afgelaai is, het die lesers seker ook gesien.
So wreed soos die liefde, só ook is die oorlog. Dít het ek al gesê.
Soos donsvere dryf die valskerms en aan elkeen hang 'n puntjie. Soos dissels dryf hulle, met aan die onderpunt van elkeen die saadjie. Hoe wonderlik het die natuur nie sy meganika beplan nie! Só dra die wind die saadjie aan sy donserige valskerm tot op 'n stuk aarde waar hy kan val en ontkiem en léwe!
Ek was een van dié disselsade. O, hoe het ons gedryf, die pragtige jong manne van die Republiek. Groen was ons uniforms, rooi die blos op die wange, steil die wind, Afrika soos 'n oop hand onder ons - en weg, weg dreun die vliegtuie en onder ons, nog laer af, oor die bossiekoppe, karring die helikopters met die rooi kruise. Lieflik daal ons, in die son, die wind, my God! Ek was so naby, tóg so ver. In 'n oogwink kon alles verander. Dood/lewe. Net só, met die grens tussen die twee so toevallig soos die graadverskil in 'n geweerloop se mik.
Disselsade, heldedade. Seuns van die Republiek: Afrika is ons s'n, óns die wit, wit donsvere.
Lê stil, Kubaan, geen kos vir jou vandag nie. Hoor hoe blikkerig klap die varkpanne daar by die opwasbak. Daar's 'n kruppel oud-Swapo wat opwas. Hy staan op een been en kyk met een oog na die vuil skottelgoedwater waarin die blink varkpanne wegglip. Hy staan onder die seildak, by die enkele boom en kyk hoe die oorskietkos in 'n konka weggegooi word totdat dit ophoop en verveelde stewels daaroor trap en die manne later gaan lê soos jong, hortende honde, kaalbolyf in die tente, terwyl hulle foto's van hul geliefdes om en om in hul hande draai of daarmee na die toilette stap.
Wreed ook is die liefde, soms net zo wreed soos die oorlog.
Dit was kort ná Al Venter en SATV laas hier was. Operasie Koedoe was toe