| |
| |
| |
Annemarié van Niekerk
In die ban van geweld
Dit is nie moeilik om te raai wat Suid-Afrikaners sou antwoord op 'n vraag oor watter aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing hulle vandag die meeste kwel nie. Misdaad, veral geweldsmisdaad, sal hoog op die lys staan. Daar is weinig Suid-Afrikaners wat nie òf self 'n slagoffer van geweld was, òf 'n geweldslagoffer ken nie. Dit het 'n simptoom van die maatskappy geword, daarom dikwels 'n onderwerp in die Suid-Afrikaanse literatuur. J.M. Coetzee se Disgrace (in Nederlands vertaal as In ongenade) is een van die bekendste voorbeelde.
| |
In ongenade
Veroorloof my om In ongenade kortliks saam te vat, want via hierdie verhaal en Kristien Hemmerechts se spieëlroman (en met Houellebecq in die kantlyn) kom ek by die storie wat ek wil vertel.
David Lurie is professor in Engels. Ten spyte daarvan dat ‘Kommunikasie’ een van die kursusse is wat hy aanbied, is hy self nie soepel in sy menslike kontak nie. Die skerwe van twee mislukte huwelike lê agter hom. In 'n poging om intieme kontak te maak, besoek hy reëlmatig 'n prostituut, altyd dieselfde een. Hy word toenemend aangetrokke tot haar en probeer selfs 'n romantiese verhouding met haar aanknoop. Sy stel egter nie belang nie. Die gefrustreerde Lurie verlei 'n sekretaresse by die universiteit om haar daarna weer totaal te ignoreer. Vervolgens misbruik hy die alreeds kwesbare student, Melanie. Wanneer hy aangekla word van seksuele misbruik, weier Lurie om homself te verdedig teen die aanklagte, ook om oortuigend om verskoning te vra.
| |
| |
Hy word gevolglik geskors en neem sy toevlug tot sy lesbiese dogter, Lucy wat op 'n afgeleë plaas in die Oos-Kaap bly. Aanvanklik lyk dit of Lucy en die plattelandse omgewing hom goed doen en 'n mate van rus bring. Maar eendag dring drie gewapende swart mans hul huis binne. Lucy word verkrag. Daar is 'n poging om Lurie aan die brand te steek. Die drie daders slaan op die vlug en word nooit gearresteer nie. Lucy, swanger van een van die verkragters, en verlam deur apatie, weier om die saak aan te gee óf 'n aborsie te laat doen. Sy lê haarself geheel en al neer by die omstandighede, ook as sy besef dat een van die verkragters waarskynlik 'n familielid is van haar getroue plaashulp wat in 'n huisie naby haar woon. Vir Lucy is onderwerping die enigste manier om te oorleef. Terugveg wil sy nie, nog minder wegvlug. Lurie keer wel terug Kaap toe en besluit om verskoning te vra teenoor die vader van Melanie. Laasgenoemde maak dit duidelik dat Lurie se poging tot vergiffenis irrelevant is, dat Lurie sy eie weg van verlossing moet vind. Lurie gaan terug plaas toe. Met behulp van 'n vriendin by 'n honde-assiel wat soms honde met 'n inspuiting van hul lyding verlos, word daar ook met Lurie se lyding afgereken. Adapt or die.
| |
Alles verandert
Met haar sopas gepubliseerde roman lewer Kristien Hemmerechts 'n repliek op Coetzee se In ongenade. Die genderrolle word eksperimenteel omgekeer. Sy wil laat sien hoe lesers se belewing van en visie op gebeure sodoende verander. Soos die titel aandui is Hemmerechts se gevolgtrekking: Alles verandert.
Hemmerechts se David Lurie heet Iris Verdonk, professor wat veral bekend is vir haar ‘TransSexLit’-kursus waarin sy studente konfronteer met dieselfde eksperiment waarmee Hemmerechts die lesers van Alles verandert konfronteer: wat gebeur as ‘hy’ 'n ‘sy’ word of ‘sy’ 'n ‘hy’? Ook Iris is geskei en ervaar moeite met persoonlike verhoudings. Sy vind haar seksuele bevrediging nie soos Lurie in die prostitusie nie, maar by 'n seksterapeut en sy arsenaal dildo's. Net soos Lurie hoop ook Iris mettertyd op meer as net die betaalde afsprake. Soos Lurie word ook sy ontnugter as sy besef dat die gevoelens nie wedersyds is nie en werp sy haar vervolgens op 'n kwesbare student; in die geval van Iris, 'n Poolse immigrante-meisie met 'n komplekse persoonlike lewe. As daar 'n universitêre kommissie aangestel word om Iris se misstap te ondersoek, weier ook sy om verskoning te vra of haarself te verdedig. Na haar skorsing gaan sy by haar seun, Peter op die platteland woon waar hy die huis van 'n afwesige diplomaat oppas. Presies soos Lurie, probeer Iris haar verlies by haar kind op die platteland te verwerk. Maar daar is dinge wat haar pla; sy vertrou byvoorbeeld nie die Somaliërs in die
| |
| |
buitegebou wat help om die terrein en huis te versorg nie, ook nie die aangrensende assielsoeker-sentrum se mense nie.
Iris merk dat Peter hom by sy omstandighede berus. Hy aanvaar die assielsoekers in die omgewing, die Somaliërs met wie hy saamwerk, die ander kultuur, godsdienste en gewoontes wat hulle saambring. Gedweë lê hy hom neer by die veranderinge. Iris, wat dit sien as verlies aan ambisie, vind dit irriterend.
Soos In ongenade is ook hierdie roman se ‘oomblik van waarheid’ 'n daad van geweld. Waarskynlik afkomstig uit die assielsoeker-sentrum kom drie swart vroue eendag by Iris en Peter aan waar hulle buite sit en ontbyt. Die vroue dring die huis binne. Iris word verkrag en vermink met die skerwe van haar eie glasdildo, en haar seun word opgesluit. Net soos Lucy besluit ook Iris om geen klag by die polisie te lê nie. Geleidelik besef sy, soos Peter al lankal weet: alles het verander en hierteen is weerstand nie die aangewese handeling nie; die enigste keuse ter oorlewing is onderwerping.
Uit die verlede onthou Iris 'n moment van onderwerping toe haar perd met haar op loop begin gaan het, só wild dat sy vir haar lewe gevrees het:
Toen - waarom weet ze nog altijd niet - had ze alle weerstand laten varen. Ze was de hengst begonnen aan te moedigen: hol maar, jij bent de baas, jij hebt de leiding, jij bent een goed paard, ik hou van jou, ik heb altijd van jou gehouden, ik volg jou, waar je ook naar toe holt, wat je ook doet, jij bent mijn meester, ik jouw dienares... De kracht was uit de hengst weggeëbd, zijn wilde razernij geluwd. Samen waren ze tot rust gekomen, één groot lichaam, ruiter en paard. Terug in de manege was ze lang tegen de hengst blijven staan, haar armen om zijn hals, rustig maar, alles is in orde, niemand doet ons kwaad, het is voorbij, je hoeft niet meer bang te zijn. Inniger en inniger had ze zich tegen hem gevlijd, als tegen een minnaar van wie ze niet kon scheiden.
| |
Lastige morele vraagstukke
In 'n onderhoud noem Hemmerechts dat Coetzee met In ongenade sy lesers ‘een lastig moreel vraagstuk’ voorlê, en hulle dan in die duister laat met 'n houding van ‘vooruit, oordeel zelf. Verwacht niet dat ik het antwoord geef. Of ken’. Die morele vraagstuk wat Hemmerechts in haar spieëlroman voorlê is ewe lastig.
Beide plaas hulle lesers voor algemene morele vraagstukke, maar vraagstukke wat ook nóú verbonde is aan die politieke en sosiale klimaat van die tye waarbinne dit afspeel, vraagstukke wat steeds urgent is. Coetzee stel sy vraagstuk binne die konteks van post-Apartheid Suid- | |
| |
Afrika: die blanke minderheid het sy ondemokraties verworwe mag afgelê, maar die nuwe demokrasie worstel met eie krisisse, een daarvan die onvermoë om die geweldsproblematiek op te los. Hemmerechts stel haar vraagstuk binne die konteks van 'n Europa met sy toeloop van vlugtelinge, assielsoekers en immigrante.
Deur haar feministiese hoofkarakter se TransSexLit-kursus en ook deur die genderrolverandering-spel stel Hemmerechts in Alles verandert ook die vraagstuk oor vroue emansipasie. In 'n onderhoud bring sy dit in verband met haar eie skrywerskap en die aandurf van kontroversiële onderwerpe. ‘Ik denk dat ik dingen schrijf waarvan men bewust of onbewust vindt dat een vrouw ze niet hoort te schrijven. Ik denk dat ik me in mijn schrijverschap vaak op het “terrain” van mannen begeef, dat ik een artistieke vrijheid voor mezelf opeis die eigenlijk het privilege van mannen is. Het gaat hier over onuitgesproken en ongeschreven “wetten”, waarvan veel mensen zich niet bewust zijn. Ik heb me daar allang bij neergelegd, maar ik wil het ook wel blijven aantonen, onder meer met deze roman’. Belangwekkend is dat Hemmerechts in die laaste sin die woord ‘neergelegd’ gebruik, maar wel 'n neerlê wat nie wegkyk of stilbly impliseer nie.
Die persoonlike krisisse en verlies - veral verlies van statuur, status, mag en beheer - van die hoofkarakters in In ongenade en Alles verandert verkry deur hul noue verbondenheid met die sosio-politieke konteks, 'n metaforiese lading. Lurie en Lucy is verteenwoordigers van blanke Suid-Afrika, Iris en Peter van autochtone Europeane. Beide hierdie groepe beleef tye van verandering (o.a. verlies), tye waarin die ‘ek’ met die ‘ander’ (individue, identiteite of kulture) gekonfronteer word en selfs in botsing kom... botsings wat gaan om behoud, verlies, verandering.
Oor haar roman sê Hemmerechts:
Gaandeweg zag ik dat het een verhaal werd over afscheid en een mogelijke nieuwe start. Mijn hoofdpersonage, Iris, heeft een identiteit voor zichzelf opgebouwd op basis van haar professionele succes. In één klap verliest ze dat. Het duurt even voor ze dat inziet en aanvaardt dat alles veranderd is. En ze moet onder ogen zien dat niemand haar eigenlijk nodig heeft. De wereld redt zich perfect zonder haar. Ook haar kinderen vinden hun eigen weg.’
Hemmerechts onderstreep die metaforiese heenwysing na die konteks as sy byvoeg: ‘Los van de roman leven we in een tijd waarin alles razendsnel verandert. Ik besef heel goed dat je voortdurend moet loslaten en je aanpassen aan een nieuwe situatie. Dat is tegelijkertijd boeiend en moeilijk’.
| |
| |
Hierdie woorde kon net so goed 'n uitspraak wees na aanleiding van Houellebecq se nuutste roman Soumission. Ook hierdie roman het as hoofkarakter 'n middeljarige akademikus, François, wat in 'n doodloopstraat beland het wat seks en liefde betref. Ook hy gaan seksuele relasies aan met studente. Hy bevind hom, soos Lurie, ook midde-in 'n nuwe politieke bestel, in sy geval 'n islamitiese oorname van Frankryk en die verkiesing van 'n moslem president in 2022. François besluit, soos Iris maar anders as Lurie, om hom aan te pas. Alhoewel sy hart nie daarin is nie, gee hy toe aan die veranderende tye en lê hom serebraal neer by die nuwe islamitiese bestel. Dit is 'n daad van oorlewing.
| |
'n Ware verhaal
'n Paar maande gelede word my goeie ou vriend, Ruben Gouws (65) en sy moeder Hermien (88) op hulle plaas (‘boerderij’) Pinevale in die piepklein dorpie Ida, in Suid-Afrika, vermoor. Koelbloedig. Net soos in Alles verandert het moeder en seun hier saam gewoon op 'n afgeleë plek. Net soos David Lurie en Iris Verdonk was ook Ruben in die onderwys, nouwel nie professor aan 'n universiteit nie. Toe ek hom leer ken het was hy onderwyser by 'n eenvoudige plattelandse skool vir dowe kinders in die destydse Umtata. Buite die stad, tussen die golwende heuwels van die toenmalige Transkei (een van die tuislande bedink deur die apartheidsregering om swartmense uit blanke gebiede te hou) was ek en Ruben bure, twee van die weinige blankes in 'n swart gebied, ongeveer 30 km vanaf Qunu, Mandela se geboorteplek. Ruben, soos Lurie en Verdonk ook onhandig in die liefde, was sy lewe lank vrygesel, sover ek weet nooit betrokke in 'n verhouding nie. Hy was 'n man wat nooit enige iets van meerderwaardigheid, outoriteit of mag uitgestraal nie. Wat dit betref dus anders as Lurie en Verdonk. Dit is hier in Umtata waar ek en Ruben saam met die plaaslike gemeenskap op 11 Februarie 1990 fees gevier het toe Mandela vrygelaat is.
Toe Ruben se pa in 1996 sterf, het hy besluit dat die veiligheid van sy moeder sý verantwoordelik geword het, van ses kinders was hy die enigste ongetroude. Anders as Lurie en Verdonk wat toevlug neem tot hul kinders, gaan Ruben terug Pinevale toe uit besorgdheid oor háár, sy moeder. Ook anders as Lurie en Verdonk, wie se nuwe blyplek die einde van hul ambisies en drome was, het Ruben wel 'n nuwe droom gekoester: 'n mooi toekoms vir die swart skoliere van Ida. Die sukkelende skooltjie, waar Ruben aangestel is as skoolhoof, was dankbaar en hý was vasberade dat hy die skool sou uitbrei en die slaagsyfer sou verhoog. Sy kinders moes nie bly vassit in die ellende van hul armoedige omstandighede nie. Hy wou hulle toerus vir 'n beter toekoms, het hy telkens gesê. Dit het hy tydens én na skoolure toegewyd gedoen. Tien
| |
| |
jaar later ontvang hy die toekenning as ‘Mees Toegewyde Prinsipaal’ in die kategorie ‘Plaasskole’ in Suid-Afrika. Sy drome het waar geword: sy skool het leerlinge begelei vanaf voorskool tot aan die einde van middelbare skool, die leerlingtal het verdubbel, en die slaagsyfer van sy finale-jaar leerders het tot 83% gestyg - veel beter as die res van die provinsie, en 'n besonderse prestasie vir sy omgewing waar kinders meesal uit arm en ongeletterde gesinne kom.
Ek wou gaan kyk. Dit was somer, die gras het soos groen dekens oor die heuwels gelê. Die Ida-afdraaibordjie voer jou vanaf die R56 op 'n grondpad waar jy eers by 'n kerkie verbyry, dan 'n plaaswinkeltjie en dan kom jy by 'n netjiese vuurhoutjiedosie-gebou met 'n sinkdak. Op die werf staan 'n esboom en 'n bordjie: ‘Hoërskool Ida’.
Ruben het my met sy altyd verleë glimlag kom verwelkom en om verskoning gevra vir die karige fassiliteite. Die Onderwysdepartement kon nie veel meer help nie en die ouers van die kinders nog minder, hulle leef in armoede. Die skooltjie met sy paar klaskamers het uit sy nate gebars. Die 22 kleuters van die voorskoolse klassie het opgedruk gesit in 'n stoorkamertjie skaars so groot soos 'n hoenderhok. Klaskamers is gedeel deur verskillende groepe. Daar was geen sekretaresse, administriewe hulp of biblioteek nie. 'n Enkele skootrekenaar is onder die 14 personeellede gesirkuleer en een stadige kopieerdertjie moes die hele skool bedien. Ook maatskaplike probleme was nie ongewoon nie: die ouers van een van die skool se kleuters was self nog leerlinge van die skool.
‘Wens jy nie jy kon onderwys gee in 'n meer gegoede omgewing nie?’, wou ek weet. Maar die pretensie van ryk skole het hom nie aangestaan nie. ‘Hier het ek grootgeword, as ek hier 'n verskil kan maak sal ek tevrede wees’.
Hier op Ida in die Oos-Kaap - waar ook Lucy se plaas is - hét Ruben 'n verskil gemaak. Ja, dit is klein. Maar ook klein maak saak. As jy die gehuggie op 'n kaart van Suid-Afrika gaan soek, gaan jy hom waarskynlik nie kry nie. Dit is 'n piepklein kolletjie in die noordelike Oos-Kaap tussen die dorpies Indwe en Elliot. As jy hom per motor op die R56 gaan soek moet jy nie jou aandag deur die natuurskoon laat aflei nie, want so kort soos die naam, so klein is die plekkie. Jy ry hom sommer mis. Behalwe vir 'n kerkie, skooltjie, polisiestasie, plaaswinkel en 'n paar huise is daar net oop veld, hier en daar 'n heining en 'n hek om die beeste in hul kampe te hou. En in die verte die majestieuse Drakensberge. ‘Nader aan God se genade kan 'n mens nie kom nie’, sê sommige mense van Ida. Godverlate, sê ander. Hier, op die plaas Pinevale waar Hermien 60 jaar van haar lewe gewoon het en haar 6 kinders grootgemaak het, was ek dikwels by Ruben en Hermien op besoek.
| |
| |
Minder as 'n maand gelede was ek weer terug op Ida, dié keer om afskeid te neem. Volgens die South African Human Rights Commission se statistieke is die moorde op Ruben en Hermien die 34ste en 35ste moorde en 149ste en 150ste aanvalle op plase tot dusver in 2015. Hulle kommentaar: ‘The South African Department of Justice fails to protect farm communities’.
Aanvalle en moorde op boerderye in Suid-Afrika het 'n fenomeen geword: ‘plaasmoorde’ heet dit. Helaas speel hierdie fenomeen direk in die hande van regses en rassiste wat dit as ‘hate crimes against minority groups’ bestempel en as ‘bewys’ gebruik vir Suid-Afrika se ‘mislukte demokrasie’. Omdat geweld en ‘plaasmoorde’ ammunisie geword het in die visier van regses (soos Martin Bosma, Nederlandse parlementslid vir die PVV, dit ook in ‘Minderheid in eigen land’ doen), is diegene wat rassisme probeer uitroei huiwerig om saam te sing in die koor van kritiek op die geweld in die land. Ook ek het vir baie lank hieroor stilgebly. Maar dan gebeur dit met 'n goeie ou vriend.
Oudergewoonte was Ruben laatmiddag - dit was nog lig - besig om sy pluimvee te voer, toe hy aangeval is en die huis ingedwing is... net soos met Iris en Peter, deur drie swart mense uit die omgewing (in Ruben se geval mans tussen 19 en 24, gewapen met messe, twee van hulle sy oud-skoliere). Maar minder gelukkig as Iris en Peter, het Hermien en Ruben die aanval nie oorleef nie. Byna 'n uur later is Hermien se liggaam onder die eetkamertafel aangetref en 'n entjie verder die erg verminkte liggaam van Ruben, sy hande vasgebind met telefoondraad. Die mure van die huis was besmeer met bloed. Hermien is verwurg met haar serp, Ruben met 'n handdoek. Ná die dubbelmoord het die drie mans kos uit die yskas gehaal, geëet, en is toe vort met geld en drie antieke vuurwapens (Ruben was 'n oudheid-versamelaar).
Anders as by In ongenade of Alles verandert was dit vir niemand nodig om 'n klag te lê nie. Die daders het ook nie arrestasie ontvlug nie. Hulle het as't ware hul eie graf gegrawe en die plaaslike gemeenskap het die res gedoen, want toe een van die bebloede daders direk na die aanval na 'n veldjie 2 km vanaf Pinevale toe gegaan het waar 'n voetbalwedstryd aan die gang was, het die toeskouers onraad vermoed en hom aangekeer. Die polisie, wat kort daarna op die toneel verskyn het, moes keer vir die man se lewe, want die woedende omstanders het intussentyd agtergekom wat gebeur het. Enkele ure later het die polisie met behulp van die gemeenskap die orige twee verdagtes in 'n nabygeleë dorpie gearresteer. Later sou 'n polisie-verslag van Lt Generaal Binta die Ida-gemeenskap prys vir hul hulp: ‘A very good example of how the police and community must work together in the fight against crime’. Die verslag sê ook dat die polisie ‘aan die verwagtings van die gemeenskap voldoen’. Nie almal is hiermee eens nie. Misdadigers word
| |
| |
dikwels nooit opgespoor nie, en die wat wel gearresteer word kom te maklik vry, sê die mense van die omgewing. Nie ontereg nie, besef ek as ek hoor dat twee van hierdie drie verdagtes drie maande terug in aanhouding was vir die moord op 'n swart plaaswerker en intussentyd op borgtog vrygelaat is.
Mike Fitzhenry, eienaar van 'n groot veeboerdery in die omgewing sê ‘It seems like there is no end to these attacks even though the culprits are being arrested’. Die Gouws-familie is bewys hiervan. Ruben se broer, Chris Gouws, het minder as 3 jaar gelede 'n aanval oorleef waartydens sy vrou Linie vermoor is. Drie mans was gearresteer, twee gevonnis tot gevangenisstraf. Die derde - vrygelaat nadat DNA-bewysmateriaal teen hom verlore geraak het - is 6 weke na Linie se dood gearresteer vir nog 'n moord. Chris, wat binne 3 jaar sy eggenoot, moeder en broer weens moord verloor het, sê: ‘Ons land is siek. Daar word te maklik doodgemaak, en byna altyd vir geld. Dit is boonop vreesaanjaend dat moordverdagtes so maklik op borgtog vry kom’.
Op die begrafnis, verseker Mev Nomveliso Nyukwana, die burgemeester, die familie en gemeenskap dat dit om 'n gruwelike misdaad sonder enige rassistiese motiewe gaan, 'n kriminele kwessie wat deur die owerheid met harde hand aangepak sal word. ‘Niemand van ons, of ons nou swart of wit is, wil in onveiligheid ons kinders grootmaak nie. Wat gebeur het moet ons gemeenskap nie in twee skeur nie. Ons moet saamstaan’.
Die mense knik. Daar is geluide van bevestiging.
'n Week later arriveer die drie daders in die hof om aansoek te doen vir borgtog. Buite die hof staan honderde swart mense uit die gemeenskap met baniere: ‘Geen borgtog aan moordenaars’, ‘Genoeg is genoeg’, ‘They took lives, why must they live?’, ‘Hoeveel nog?’, ‘Hang them’, ‘No bail’. 'n Groepie staan gereed met 'n motorband en 'n banier, ‘Necklace them’ skree die banier en die groepie, verwysend na die gevreesde moordmetode om 'n motorband gevul met brandstof om iemand se nek te hang aan die brand te steek. Ruben se skoliere sit met hul netjiese skooluniforms voor in die hof. Die drie daders kom die binne. Daar is 'n aankondiging: die drie mans het sedert hul aankoms by die hof besluit om nie voort te gaan met hul aansoek om borgtog nie.
| |
Soumission?
Die ooreenkomste tussen die ware verhaal van Ruben en die fiktiewe verhale van In ongenade en Alles verandert is dat dit afspeel binne ruimtes wat in transit is, waar magsverskuiwings afspeel, waar verskillende kulture en identiteite (by Houellebecq ook geloof) met mekaar stry om erkenning, ruimte en beheer. Dit bring onsekerheid en onveiligheid mee.
| |
| |
Verandering is dus in al die genoemde verhale aan die orde, en dat koelbloedige geweld daarin 'n realiteit is, ook.
Maar aanvaarding? Die tweede geslag is makliker aanvaardend. Lucy aanvaar dat geweld deel is van die verandering in Suid-Afrika; Peter aanvaar dieselfde in Europa. Die vorige geslag is minder aanvaardend. Lurie sterf liewer as om hierin mee te gaan en Iris is nogal stram in haar geleidelike oorgawe. In Soumission aanvaar François wel die lot van sy land. In Suid-Afrika het die meerderheid van die bevolking, ook die blanke minderheid, besef en aanvaar dat 'n demokraties ingegewe magsverskuiwing nodig was en dat die blankes daarmee hul onregmatige beheer sou moes prysgee. Maar geweld en onveiligheid aanvaar as deel van die pakket? Nee. Dit is in alle redelike kringe van die Suid-Afrikaanse gemeenskap nie aan die orde nie; ook nie destyds tydens die geweldsgeteisterde Apartheids-periode nie.
Die verskriklike verhaal van Ruben en sy moeder het betreffend hierdie aspek 'n positiewe boodskap. Dit was die swart gemeenskap wat die eerste dader gearresteer het en laat weet het dat die polisie moes kom. Blanke en swart mense uit die omgewing van Ida het sáám gewerk om met die polisie nog dieselfde nag die ander twee daders aan te keer. Daarna het die wit en swart gemeenskap saam vergader om te besluit wat hulle as gemeenskap kan doen om die geweld in hul omgewing te bestry. By die hof, waar die 3 daders om borgtog sou aansoek doen, was dit die betoging van die swart gemeenskap wat die drie mans laat besef het dat die beste plek vir hulle voorlopig die gevangenis is.
Ek het 'n dierbare vriend verloor aan die geweldsepidemie in Suid-Afrika. Maar heeltemal moed verloor, het ek nog nie. Ek het die magsverskuiwing met ope arms tegemoet gegaan. Maar my daarby neerlê dat Suid-Afrikaners dag en nag in vrees moet lewe, in 'n voortdurende staat van rou verkeer oor die dood van alweer nog 'n geliefde of kennis? Daarby het ek my nie tydens apartheid neergelê nie en sal ek my ook nie nou tydens demokrasie neerlê nie. Ruben se dood het my geleer dat ek hierin nie alleen staan nie. ‘Soumission’ (soos Houellebecq se titel dit benoem) het sy grense.
'n Gedeelte van hierdie stuk is gebaseer op my essay ‘Het zere hart van Zuid-Afrika’ gepubliseer op 5 September in ‘Letter&Geest’ van Trouw.
|
|