Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende

2 Die Verspreiding van die Bobbejaan

In die vorige hoofstuk het ek beweer dat daar, met uitsondering van die mens, by die bobbejaan groter afwyking van tipe te vind is as by enige ander dier in Suid-Afrika. Nie alleen bestaan die verskil tussen enkelinge nie, maar nog meer merkwaardig is die groepverskille, wat natuurlik meer bepaald gewestelik is as die verskil tussen individue.

Ons gewone grou bobbejaan, wat die ou ondersoekers ‘Chacma’ genoem het, word van die Kaapse Skiereiland tot 'n breedtegraad 'n weinig ten noorde van die Limpopo gevind. Daarvandaan word die grou bobbejaan vervang deur die geel bobbejaan van Rhodesië en van die hele oostelike Midde-Afrika. Daar is egter twee sonderlinge groepafwykings wat die suidelike gewestelike afdeling genoem kan word. Op die bergreeks wat min of meer die grenslyn tussen Transvaal en Portugese gebied volg, word die groen bobbejaan aangetref.

[pagina 113]
[p. 113]

hierdie afwyking is baie seldsamer as die geel soort. Hulle word alleen in die hoogste gebergtes gevind en dan slegs in klein troppe, wat die verkryging van eksemplare baie moeilik maak.

In die minder bevolkte dele van Betsjoeanaland en gedeeltes van die Kalahari word 'n swart bobbejaan aangetref, wat in ons tyd so skaars geword het dat hy, wat die soort betref, as uitgesterf beskou mag word.

Sommige ondersoekers rangskik hierdie afwykings as suiwer natuursoorte. Dis myns insiens onjuis. Daar is geen twyfel dat hierdie soorte geredelik kruis wanneer hulle langs mekaar woon nie, en daar is nie die minste anatomiese verskil te bespeur nie. Ook word onder ons gewone grou bobbejane in Noord-Transvaal enkelinge van al die afwykings aangetref.

In westelike Midde-Afrika word 'n suiwer groen soort gevind wat ook anatomies in 'n groot mate van ons bobbejaan verskil.

Die kleurafwykings wat onder ons grou bobbejane gevind word, is meer bepaald tot die babatjies beperk. Die kleur verander met groei en die gewone grou word herstel nog voordat die individu volwasse is.

Individuele anatomiese afwykings kom ook veel meer dikwels voor as onder enige ander diersoort. Die verskil tussen enkelinge het dit vir ons moontlik gemaak om binne geringe tyd elke individu onder ons mak trop te onderskei, wat nooit met 'n ander diersoort sou kon gebeur het nie.

'n Mens hoor dikwels die ou jagters en ook die Swartmense van 'n kortkopen 'n langkopbobbejaan as afsonderlike soorte praat. Ek was egter nooit in staat om die bestaan van hierdie onderskeid op so 'n skaal vas te stel nie. Weliswaar is aansienlike onderskeid in skedelbou te vind, maar ek glo nie dat dit moontlik is om twee soorte op hierdie basis te rangskik nie.

In verband met die verhoogde graad van afwyking wat onder die babatjies te vind is, is daar 'n interessante feit wat vermelding verdien.

Dit is 'n bekende wetenskaplike feit dat veranderinge wat 'n diereras in die verlede deurgegaan het in baie gevalle weer in die ongebore fetus 'n verskyning maak en selfs ná die geboorte 'n tyd lank in die kleintjie.

Daar bestaan byvoorbeeld geen twyfel dat die walvis vroeër 'n viervoetige landdier was nie. Dit word met sekerheid afgelei uit die hele skeletbou van die reuse-seedier. Die ongebore walvis is nog 'n volmaakte viervoetige landdier met die algemene voorkoms van een of ander varksoort. Kort voor die geboorte vind die finale aaneensmelting van bene plaas, wat die voorbene in roeiers verander en die agterbene in 'n horisontale stert wat alle vroeëre landdiere van die ware waterdiere (met die vertikale visstert) onderskei. Op hierdie wyse is dit dikwels moontlik om die meeste groot stadiums in die ontwikkeling van 'n diereras in die ontwikkeling van die ongebore fetus te bespeur.

Dit sal die meeste lesers waarskynlik verbaas om te verneem dat die fetale ontwikkeling van ons bobbejaan 'n groot agteruitgang bewys; dit wil sê, indien

[pagina 114]
[p. 114]

ons die mensape en die mens aanneem as die hoogste graad van ontwikkeling wat die aapras bereik het. Die bobbejaan-fetus en die bobbejaan-babatjie bewys dat die dier afkomstig is van 'n ras wat veel nader aan die mensape en mense gestaan het as die volgroeide bobbejaan vandag. Dit is moontlik om die liggaamsbou van hierdie voorvader van die bobbejaan uit die stadiums van fetale ontwikkeling te rekonstrueer. Die oerbobbejaan was veel meer orent as sy nakomeling. Hy was waarskynlik meer orent as selfs die huidige Afrikaanse mensape. Hy was klaarblyklik 'n vertakking van die grootste van die bestaande mensape, die Afrikaanse gorilla. Ons bobbejaan en die gorilla is feitlik die enigste suiwer bergape wat vandag bestaan.

Maar dit is nie alleen hierdie lewensgewoonte wat die bobbejaan oorgehou het nie. Die eienaardige gorillakam wat deur 'n ineenloping van die oogbanke oor die agterskedel 'n opstaande rug van been vorm, het in die bobbejaan 'n hoë graad van ontwikkeling bereik. Die algemene bou van die volgroeide bobbejaanskedel herinner ook sterk aan die gorillaskedel.

Wanneer ons egter die skedel van 'n klein bobbejaantjie met dié van 'n volwassene vergelyk, merk ons dadelik 'n reusagtige afwyking in die verkeerde rigting!

Die heer Ivy, die bekende diere-opstopper van Pretoria, het my die skedels van 'n volwasse en van 'n klein bobbejaantjie getoon, en hieruit blyk duidelik dat dié van die kleintjie nader aan die mensskedel is as dié van die grote.

Die eerste besonderheid wat 'n mens opmerk, is die afwesigheid van die gorillakam in die kleiner skedel. Die leser moet onthou dat hierdie kam die vernaamste eienaardigheid is wat die gorillaskedel van die mens onderskei. Hieruit sou ons aflei dat die afwesigheid van die kam in die klein bobbejaantjie 'n afkoms bewys van 'n voorouerlike ras wat 'n mensliker skedelvorm besit het as selfs die gorilla. Die kan aangeneem word as 'n basis van vergelykende ontwikkeling.

Maar daar is 'n menigte ander anatomiese bewyse. Vergelyk selfs oppervlakkig die skedel van die klein bobbejaanjie met dié van die grote en ons merk in byna alle rigtings 'n verbasende onderskeid - en alles ten gunste van die klein bobbejaantjie. Die ronde, uitstaande voorkop word as die vernaamste bewys van menslikheid in skedelbou beskou. In hierdie opsig is die klein bobbejaantjie verbasend ‘menslik’ - veel meer mensagtig as enigeen van die bestaande mensape. En die mensagtigheid van die gesig en skedel is selfs opmerkliker in die ongebore bobbejaantjie as in die taamlik ontwikkelde voorbeeld.

As ons die skedel met dié van die mensape en van die mens vergelyk, moet ons tot die gevolgtrekking kom dat ons veragte bobbejaan van 'n veel edeler afkoms is as waarop sy hondekop en viervoetigheid dui.

Hierdie feit word sielkundig ook bevestig. Die bobbejaan is veel ‘slimmer’ - besit 'n veel mensliker aard van verstand en rede - as wat die ondersoeker uit

[pagina 115]
[p. 115]

sy lewenswyse en algemene ‘onmenslike’ liggaamsbou geneig sou wees om af te lei. Wat verstand betref, is daar glad nie die groot onderskeid tussen hom en die mensape wat die meeste mense skyn te dink nie.

Ek het vroeër opgemerk dat die groepafwykings wat meer bepaald in die rigting van kleur onderskeibaar is, soms in die babatjies van ons grou bobbejaan aangetref word. Ek het eenmaal 'n afwyking van hierdie aard teëgekom wat so merkwaardig was dat dit uitvoerige vermelding verdien.

'n Ou Waterbergse vriend, kmdt. Jan Wessels, en ek was kort ná die Tweede Vryheidsoorlog op reis na Brandwag aan die Palala. Vervoermiddels was destyds uiters skaars en ons was verplig om die reis te perd te doen. Die eerste nag het ons in die gebergte noord van die oog van Palala afgesaal en terwyl ons by die vuur sit en gesels, is ons verras deur die gekletter van hoewe wat klaarblyklik ons vuur nader. Die wêreld was destyds geheel en al onbewoon en ons kon geen gissing maak van wat dit kon wees nie. Ek dink dat die ontsluiering van die geheim uiteindelik ons verrassing verhoog het. Uit die omgrensende donker kom toe die wonderlikste kavalkade te voorskyn. Dit was sewe of agt seuns, almal ‘te perd op osse’, en nie die ou kaffer-pakosse wat ons as kinders geken het nie. Hulle was almal osse ‘uit die span’ met saals en tooms en die seuns was behoorlik ‘gespoor en gewapen’. Waar hulle die geweers en patrone vandaan gekry het, het vir altyd 'n onopgeloste misterie gebly. Hulle was uit na die Bosveld om klein kwaggas en volstruise te vang en tegelyk om bobbejane te skiet, want die Milner-regering het hom destyds skatpligtig verklaar vir tien sjielings op elke bobbejaan-kopvel.

Die kavalkade het onder leiding van die jong Frans Linsley, die oudste seun van 'n ou en bekende Waterbergse jagtersgesin, gestaan.

Hy was tegelyk verbaas en bly om my te ontmoet, want hy het my 'n klein bobbejaantjie, waarin hy verseker was dat ek groot belang sou stel, met veel moeite saamgebring. Dit was 'n kleintjie wat hy van 'n geskiete moeder weggevoer het. Hy bring toe in die vuurlig 'n klein skoendosie te voorskyn, wat hy by die een of ander stat in die hande gekry het en uit die skoendosie haal hy 'n lewende bobbejaantjie wat hy sorgvuldig in gras en blare gepak het. En dit was die wonderlikste bobbejaantjie wat ek ooit gesien het.

My eerste indruk was dat dit 'n klein sjimpansee is - 'n sjimpanseedwergie. Die diertjie had die ronde kop, die hoë voorkop en die ‘gesigshoek’ van 'n mens! In alle opsigte was die kop en gesig mensliker as dié van enige bobbejaan of aap wat ek ooit gesien het.

Maar daar was nog meer wonderlike en onverklaarbare eienaardighede. Die vel was pikswart - swarter as die vel van enige pikkenien en die hele liggaam was bedek met 'n ruwe gitswart haremantel - swarter as die harekleed van 'n jong sjimpansee.

Ek het eenmaal in Europa 'n sjimpanseebabatjie grootgemaak, sodat ek hul-

[pagina 116]
[p. 116]

le sommer vanself vergelyk het. Die grootste onderskeid tussen hierdie diertjie en die sjimpansee was in die haredrag van die kop te sien. Die sjimpansee het 'n paadjie in die middel van die kop en die hare groei glad na weerskante van hierdie verdeling. Hierdie klein bobbejaantjie was anders. Die kophare was glad na vorentoe, met 'n ‘veranda-kuif’ oor die voorkop.

Die heer Linsley en sy metgeselle het ooreengekom dat die diertjie 'n kruising tussen 'n swartmens en 'n bobbejaan is en vir so 'n veronderstelling was daar werklik veel te sê.

Ek was egter spoedig oortuig dat ek hier in my hande 'n beeld van die onmiddellike voorouer van ons bobbejaan had.

Ek sou daar en dan omgedraai het as dit moontlik was om die bobbejaantjie lewend tuis te bring, maar dit het spoedig geblyk dat sy lewe in die uiterste gevaar verkeer. Die vorige nag het hy onverwags uit sy dosie geklim en in die vuur te lande gekom, met die gevolg dat al vier pote vreeslik verbrand is. Die kwessie van voedsel het ook 'n onoplosbare moeilikheid opgelewer.

Die heer Linsley het die wonderlike gevangene slegs een maal van voedsel kon voorsien - toe 'n jong swartmoeder toegelaat het dat die bobbejaantjie die voedselbron van haar eie kleintjie deel. Van toe af - twee dae lank - het die bobbejaantjie op meelwater gelewe, wat seker nie daartoe gestrek het om die lewenskragte te versterk nie.

Ondanks al ons voorsorgmaatreëls het die wonderlike skepseltjie dié nag beswyk. Ek het hom sorgvuldig afgeslag en elke beentjie van die skedel skoongemaak en bewaar, en die volgende dag is kmdt. Wessels en ek voort op ons reis.

'n Paar dae daarna, terwyl ons die nag uitkamp, het 'n wolf die vel en bene van die bobbejaantjie binne 'n tree van my kopkussing weggedra en ofskoon ons die volgende dag sy spoor myle ver gevolg het, kon ons g'n stukkie vel of klossie hare weer in die hande kry nie van waarskynlik een van die wonderlikste diertjies wat in Suid-Afrika die lig gesien het.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken