Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Versamelde werke (1984)

Informatie terzijde

Titelpagina van Versamelde werke
Afbeelding van Versamelde werkeToon afbeelding van titelpagina van Versamelde werke

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave

Downloads

PDF van tekst (8.16 MB)

ebook (5.04 MB)

XML (3.61 MB)

tekstbestand






Editeur

Leon Rousseau



Genre

poëzie
drama
non-fictie

Subgenre

verzameld werk
non-fictie/koloniën-reizen


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Versamelde werke

(1984)–Eugène Marais–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende

3 Die Bobbejane van Doornhoek

Ons eerste kennismaking met die bobbejane van Doornhoek het onder die gunstigste omstandighede plaasgevind. Daar was voor ons aankoms 'n agtereenvolging van baie goeie reënjare in Waterberg. ‘De woestijn was als Eden en de Wildernis als de Hof des Heren; vreugde en blijdschap waren daarin gevonden,’ soos die profeet vroeër waarskynlik onder soortgelyke omstandighede verklaar het. Die prag en weelde van die natuur wat ons elke dag opnuut moes bewonder, is eenvoudig nie te beskrywe nie. Veral in die berge van Waterberg

[pagina 117]
[p. 117]

het die lewe al sy skatte ten toon gestel. So 'n planteryk, soveel gevogelte en diere van alle aard binne sulke limiete versamel, het ek nooit tevore, selfs nie in die trope, geëwenaar gesien nie. Wat insekte betref, het dit ons voorgekom asof die Egiptiese wonderwerk voor ons oë verwesenlik is - dat goggas uit die stof van die aarde gebore is. Die laaste verskynsel het nie altyd met suiwer bewondering gepaard gegaan nie. Ons moes van naby kennis maak met reusagtige skerpioene en spinnekoppe, wat gedurende reënnagte afgryslike verskynings uit die grasdakke van ons hutte gemaak het. Slange van alle soorte het ons daagliks teëgekom en in ons voetpad-kloof het die vreeslikste van alle reptiele - die loodmamba of makoppa, soos die slang in Waterberg genoem word - ons dikwels die weg versper. Ons het toe ook die eerste maal met die wilde vrugte van Waterberg kennis gemaak. Die berge was rooskleurig van die menigte stamvrugte, wat hier 'n grootte en smaak bereik wat dit vir die besoeker uit die Suide eenvoudig 'n nuwe vrug maak. Wildeperskes, appelkose, suurklappers (in die Suide onbekend), mispels, moepels en nog verskeie ander soorte het ons wildernis 'n ware vrugteboord gemaak.

Dat ons trop bobbejane die toestand ten volle geniet het, spreek vanself. Hulle was vet en vrolik en so pragtig gebaard soos ons hulle nooit weer daarna gesien het nie. Nieteenstaande al die weelde het ons harde mielies steeds vir hulle 'n onweerstaanbare aantrekkingskrag behou.

Min het ons in die begin van ons besetting van Doornhoek geweet dat hierdie vrolikheid slegs oppervlakkig was en dat die skadu van ewigdurende tragedie hul lewe altyd verdonker het. Daar was nog baie wat ons moes leer.

Dikwels het ons snags hulle weeklaag en gekerm op die slaapplek gehoor, sonder om die betekenis daarvan te besef. Die treurklag van die bobbejaan is so menslik dat enigeen wat dit die eerste maal hoor, dadelik moet vermoed dat dit smart en lyding te kenne gee. Maar ons was daar nie seker van nie; en daar was geen bespeurbare oorsaak vir jammerklagte nie - sodat ons in die begin tot die gevolgtrekking gekom het dat die hartroerende geluid waarskynlik 'n heeltemal ander oorsaak het as liggaamlike of sielelyding en iets geheel anders as smart te kenne gee. Maar ons het nie lank in twyfel gebly nie.

Ons het destyds ons rytuie en perde by die woning van die heer Willem van Staden gehou. Die woning was by die uitgang van die voetpad-kloof en daar kon natuurlik geen perd of rytuig uitkom nie. Een nag het die heer Austin en ek laat van Nylstroom teruggekom en ons het skaars uitgespan gehad toe ons 'n geweldige lawaai onder die bobbejane in die kloof gewaarword.

Vir sy grootte het die bobbejaan waarskynlik die luidste stem van enige dier op aarde. Die growwe geskreeu van 'n volgroeide mannetjie kan net so ver gehoor word as die gebrul van 'n leeu en die geraas van 'n groot trop gedurende 'n toestand van opgewondenheid en woede is van naby gehoor eenvoudig oorverdowend en bedwelmend. So 'n geraas het ons dié nag gehoor.

[pagina 118]
[p. 118]

‘Die tier het hulle vanaand vroeg voorgekeer en hulle is nog nie op hul slaapplek nie,’ was die kalme uitleg van mnr. Van Staden. Dit het ons buitengewoon ‘kalm’ voorgekom, want ons moes nog dieselfde kloof uitklim en die nag was besonder donker. 'n Tier was by die gesin Van Staden so 'n gewone verskynsel dat 'n ontmoeting met een nouliks meldenswaardig beskou is. Ons was egter ongewapen en dit was absoluut seker dat die tier of tiers êrens in die kloof wag. Die voorstel van mnr. Van Staden was nogal kensketsend. Sy tienjarige seun sou ons met 'n lantern vergesel om ons die pad te wys en hy sou ons elkeen die enigste wapens leen wat hy in sy huis het - 'n bajonet aan 'n lang stok bevestig. Die seun het hom heeltemal bereid verklaar om saam te gaan en dan sou hy dieselfde nag alleen terugkom huis toe.

Ek weet nie of ek bo die graad van middelmatige bangheid gereken moet word nie, maar ek weet voorwaar dat ek die reis deur die kloof dié nag met geen groot blymoedigheid aangepak het nie. Ons het die aanbod van die seun van die hand gewys, omdat ons gevoel het dat die gevaar te groot is. Later het die aanwesigheid van tiers in die kloof so 'n gewoonheid geword dat ons in staat was om self oor ons aanvanklike vrees te lag. Ons het spoedig geleer dat 'n ongewonde tier minder gevaarlik is as 'n verwoede ou mannetjie-bobbejaan.

Ek het met die lantern voorgeloop. Ons het dadelik gehoor dat die hele trop bobbejane op die regterkantse top vergader is en nie by hul slaapplek in die krans aan die linkerkant van die kloof nie. Die trop was toe al taamlik mak en het ons goed geken.

Net toe die trop op die kop ons lanternlig gewaar, was daar 'n skielike stilte.

Die voetpad gaan hier deur 'n strook hoë tamboekiegras. Net voor ons die rotse bereik, was daar 'n skielike gedruis in die gras langs ons en vir een oogwenk was 'n groot tier in die ligstraal sigbaar. Hy het die voetpad vlak voor my gekruis en in die opgestapelde rotse verdwyn. So snel het dit gegaan dat mnr. Austin die tier nie gesien het nie. Die beweging het my aan 'n vlam laat dink wat van 'n groot grasvuur losbreek en in die lug verdwyn.

Vir die eerste keer het ons toe met die verbasende gesigsvermoë van die bobbejaan kennis gemaak, wat ons later eksperimenteel vasgestel het as die fynste van enige aan ons bekende dier in Suid-Afrika.

Nieteenstaande die snelheid van die beweging en die donkerheid van die nag, het die trop die vlug van die tier gesien en onmiddellik die lawaai weer voortgesit.

En toe gebeur daar iets eienaardigs. Die leser moet verstaan dat die tier nog voor ons in die kloof was en tensy hy die kranse uitgevlug het, was dit waarskynlik dat ons hom weer sou teëkom. As ons toe die kennis besit het wat ons later opgedoen het, sou ons geweet het dat die gedrag van die bobbejane as 'n onfeilbare toets aangeneem kon word. As hulle nie presies wis waar die tier op die oomblik was nie, sou hulle nooit die skuilplek in die donker verlaat het nie,

[pagina 119]
[p. 119]

en nog minder sou hulle dit verlaat het as hulle wis dat daar gevaar van 'n tweede ontmoeting bestaan.

Terwyl mnr. Austin verbouereerd beraadslaag wat ons onder die omstandighede te doen staan, is ons skielik deur die hele trop bobbejane omsingel. Die geraas was verbysterend. Van alle kante verskyn die swart gedaantes binne ons ligkring met uitdagende uitroepe in die rigting waar die tier verdwyn het. Ons het toe vir die eerste maal opgemerk dat die meeste groot mannetjies 'n halfwas-kleintjie op die rug het. Later het ons meermale die geleentheid gehad om groot mannetjies die kleintjies van 'n trop uit gevaar te sien abba.

Ons het die gedrag van die trop die nag gou verstaan. Dit was ons eerste kennismaking met die verbasende menslikheid van hul verstand. Hulle het dadelik tot die gevolgtrekking gekom dat die tier vir ons bang is en dat hulle veilig sou wees solank hulle naby ons bly. En hul vertroue is dié nag nie beskaam nie. Hulle het by en om ons gebly totdat ons die rotsval onder hul slaapplek bereik het en daar het hulle ons verlaat om die toevlug tot die veiligheid van hul kranslys te neem. Die laaste wat ons van hulle gehoor het, was geluide van tevredenheid en die liefkosings van moeders wat verlore kinders weer in veiligheid terugvind. Die tier het ons dié nag nie weer gewaar nie.

Spoedig het ons te wete gekom dat die lewe van ons bobbejane in werklikheid 'n gedurige nagmerrie van angs is. Die bergtiers het gedurende die oorlog net so vermenigvuldig en net so vreesloos geword soos die bobbejane self; en die slagting onder ons trop moet voor ons aankoms ontsettend gewees het. Volgens mnr. Van Staden het daar maar selde 'n dag verbygegaan dat die tiers nie één slagoffer gebuit het nie. Al hul slimheid, al hul voorsorgmaatreëls, al hul verbasende dapperheid het hulle niks teen die sluwe vyand gebaat nie, 'n vyand wat hom in 'n paar polle gras heeltemal onsigbaar kan maak.

Ons het baie geleenthede gehad om hierdie gruwelike bestaanstryd van die bobbejane van naby gade te slaan, nie alleen in verband met ons mak trop nie, maar ook in verband met wilde troppe in ander dele van Waterberg.

Ons bobbejane het twee vyande gehad - behalwe die mens natuurlik - wat in hierdie opsig die eerste plek ingeneem het. Van die twee natuurvyande was die bergtier verreweg die gevaarlikste. Dié roofdier het destyds wat die bobbejane betref deur 'n groot deel van Waterberg feitlik die uitsoekingskrag van die natuur beliggaam.

Ek gebruik die naam bergtier nie omdat ek aan die hand wil gee dat daar meer as een soort tier in Suid-Afrika is nie, maar omdat die bergtier deur 'n besondere ontwikkeling van sy soortgenoot in die gelyke Bosveld onderskeibaar is. Die tier wat ons berge bewoon, word veel groter, is sterker, wreder en meer vreesloos as die bosbewoner. Dit is eienskappe wat in alle bergdiere voorkom. Selfs die heuningby van die kranse is veel wreder en maak meer en beter heuning as sy soortgenoot op die vlaktes.

[pagina 120]
[p. 120]

'n Ander vyand wat die bobbejane in ons tyd geteister het, was die luislang, wat in ons geweste dikwels 'n lengte van agtien voet bereik het. Dis egter waar dat die luislang in ons buurte veel minder bobbejane gevang het as die tier. Ek dink dis meestal te wyte aan die feit dat die slang veel gouer sigbaar is as die tier en derhalwe veel minder op verrassing in sy aanval kan reken.

Ook by die bobbejaan besig die luislang uitsluitend die verlammingsmetode om sy prooi te bemagtig. Maar die slang het in een opsig 'n besondere voordeel bo sy mededinger geniet. Alles wat leef, het 'n ingebore vrees vir 'n slang; by die bobbejaan verskyn die vrees in die uiterste graad. 'n Bobbejaan sal 'n tier aanval en versit hom altyd teen die aanval van die tier, maar in die teenwoordigheid van 'n slang sak sy dapperheid dadelik tot nulpunt. 'n Trop sal nooit die geringste poging aanwend om 'n gevange makker van 'n luislang te verlos nie. Al wat hulle in so 'n geval doen, is sauve qui peut, onder 'n alarmgeskal wat die kranse laat weergalm. En dieselfde trop wat lafhartig deur 'n luislang op loop gejaag word, sal die grootste en wreedste tier aanval om 'n makker te red - solank dit nie in die donker gebeur nie.

Die tier gebruik meestal een wyse om sy prooi te bekom. Hy beloer 'n trop wat op weg na die slaapplek is. Net met sononder is sy uitverkore tyd. Uit een of ander hooggeleë spioenplek kies hy 'n afgedwaalde halfvolgroeide bobbejaan wat op 'n afstand van die trop sy eie koers volg en met al die sluheid van sy ras soek hy 'n voorlêplek wat die bobbejaan binne bereik van sy meedoënlose kloue sal bring.

Hoe skerp die bobbejane ook al kan sien, die mantel van onsigbaarheid wat die tier skyn te besit, dryf selfs met sy verbasende gesigsvermoë die spot.

Hy wag totdat sy slagoffer goed binne sy bereik is en dan, met een vlamagtige beweging is sy ongenaakbare kloue in die bobbejaan vasgeslaan en voordat hy aan vlug of weerstand kan dink, het die tier hom gebyt. Hy byt alleen op twee plekke: òf in die nek òf oor die smalste deel van die ruggraat. In die eerste geval volg die dood onmiddellik - dikwels sonder dat die slagoffer selfs die kans gehad het om sy doodskreet aan sy makkers hoorbaar te maak.

Maar in die meeste gevalle wat ek self ondervind het, is die ruggraat as die verwondingsplek uitgekies. En dit is juis hierdie omstandigheid wat die vang van 'n bobbejaan vir die menslike toeskouer of toehoorder (waar dit in donker voorval), so 'n afgryslike tragedie maak.

Wanneer die tier in die ruggraat byt, veroorsaak dit onmiddellike en onherstelbare verlamming van die agterlyf.

Hoe die aanval ook al geskied - of hy dadelik dood is of slegs verlam - die gedrag van die tier onmiddellik ná die aanval is altyd dieselfde. Hy vlug dadelik en met die uiterste snelheid na 'n vesting waar hy teen die aanval van die bobbejane volkome beskut is.

'n Diep klipskeur, 'n kransgrot met 'n nou ingang, of selfs die punt van 'n

[pagina 121]
[p. 121]

hoë boomtak is sy geliefkoosde skuilplek. Maar van watter aard dit ook al mag wees, dit word altyd so gekies dat die bobbejane hom alleen van voor kan bereik en dan nie meer as een tegelyk nie. Onder sulke omstandighede is hy heeltemal veilig en word 'n aanval nooit gewaag nie. Maar sy vlug volg altyd noodwendig, want sodra kennis van die moord die trop bereik het, storm al die groot mannetjies met die uiterste woede en dapperheid op die vyand af en wee hom as hy in hul hande val voordat hy 'n skuilplek bereik het.

Ek het by een geleentheid die haat en daarby gepaarde dapperheid van die bobbejaan teenoor 'n tier helder oordag aanskou. Die heer Dolf Snyder was besig om in die klowe van die Hangklip-gebergte, waar ek 'n paar dae by hom deurgebring het, pale te kap.

Ons was by een geleentheid in die bo-ent van 'n nou kloof wat in 'n kranskom eindig. Ons het op die hoogste krans 'n trop bobbejane gewaar wat klaarblyklik in 'n toestand van uiterste opgewondenheid verkeer. Wat die oorsaak was, kon ons geruime tyd nie ontdek nie, ofskoon ek uit die aard van die geluide wat hulle maak, die aanwesigheid van 'n tier vermoed het. En eindelik sien ek 'n groot mannetjietier wat langs die gesig van die krans op 'n lys kruip. Reg bo hom was die bobbejane, maar so hoog dat daar geen kans vir 'n aanval was nie. Ons kon sien dat die dier na die ingang tot 'n kransgrot by die uiteinde van die lys onderweg is. Maar lank voordat hy sy toevlugsoord kon bereik, was die krans so laag dat hy skaars twaalf voet onder die bobbejane moes verbykom. En hier het twee groot mannetjies hom ingewag. Wat toe gebeur het, is soos ek my nog goed herinner, deur ons altwee met uitroepe van bewondering en aanmoediging begroet. Net toe die tier reg onder hulle kom, stort die twee bobbejane sonder die minste aarseling in die diepte af. Albei het op die geweldenaar te lande gekom. 'n Oomblik lank was daar 'n verwarde worsteling. Toe sien ons die tier, volgens sy gewoonte op sy rug met een bobbejaan tussen sy kloue, terwyl die ander hom van agter beet het en verhinder om ook die agterkloue te gebruik. Die eerste bobbejaan het hom egter in die keel beetgehad, sodat hy van die begin af sy tande nie kon gebruik nie. Die stryd was van korte duur. Die enorme slagtande van die bobbejane het hul werk spoedig verrig en binne 'n paar minute was die roofdier onder hulle bewegingloos. Maar die eerste held het sy lewe by die aanval ingeskiet. Die kloue van die tier het aan twee kante die longe blootgelê en hy het slegs 'n paar tree van sy vyand weggeslinger voordat hy ook op die lys beswyk het.

Ek dink dat die mensetoeskouers geen geringe deel geneem het aan die gejuig waarmee die trop die val van hul aartsvyand begroet het nie.

Ons het later met veel moeite die liggaam van die tier bekom, en toe merk ons dat hy aan die agterpoot die vars verwonding van 'n slagyster dra, wat ook bewys lewer van die gesigsvermoë van die bobbejaan.


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken