Skiplinks

  • Tekst
  • Verantwoording en downloads
  • Doorverwijzing en noten
Logo DBNL Ga naar de homepage
Logo DBNL

Hoofdmenu

  • Literatuur & taal
    • Auteurs
    • Beschikbare titels
    • Literatuur
    • Taalkunde
    • Collectie Limburg
    • Collectie Friesland
    • Collectie Suriname
    • Collectie Zuid-Afrika
  • Selecties
    • Collectie jeugdliteratuur
    • Basisbibliotheek
    • Tijdschriften/jaarboeken
    • Naslagwerken
    • Collectie e-books
    • Collectie publiek domein
    • Calendarium
    • Atlas
  • Periode
    • Middeleeuwen
    • Periode 1550-1700
    • Achttiende eeuw
    • Negentiende eeuw
    • Twintigste eeuw
    • Eenentwintigste eeuw
Ons Erfdeel. Jaargang 15 (1972)

Informatie terzijde

Titelpagina van Ons Erfdeel. Jaargang 15
Afbeelding van Ons Erfdeel. Jaargang 15Toon afbeelding van titelpagina van Ons Erfdeel. Jaargang 15

  • Verantwoording
  • Inhoudsopgave



Genre

proza
sec - letterkunde

Subgenre

tijdschrift / jaarboek


© zie Auteursrecht en gebruiksvoorwaarden.

Ons Erfdeel. Jaargang 15

(1972)– [tijdschrift] Ons Erfdeel–rechtenstatus Auteursrechtelijk beschermd

Vorige Volgende

Frans Claerhout.

Priester-skilder Frans Claerhout, gebore te Pittem en sedert 1946 woonagtig in Suid-Afrika, is die hoof van die Sint Francis Missie te Thaba'Nchu. Hierdie skilderagtige dorpie aan die voet van 'n hoë berg, die Thaba'Nchu, wat die Bantoenaam vir swart berg is, is 40 myl oos van Bloemfontein geleë en is by iedere kunsliefhebber in Suid-Afrika bekend. Behalwe Frans Claerhout woon hier ook die gewilde skilderegpaar Stefan en Iris Ampenberger. Hierdie drie kunstenaars word dikwels as die Thaba'Nchu Groep bestempel. Saam is hulle ook lede van die Bloemfontein Groep - 'n groep kunstenaars wat die afgelope dekade vir 'n oplewing van kunsaktiwiteite in die Oranje-Vrystaat verantwoordelik was.

 

Frans Claerhout stam uit 'n artistieke familie waarvan verskillende lede in die beeldende kunste belangstel en dit ook beoefen. Sonder formele opleiding het Claerhout sedert sy studentejare telkens sy talent as kunstenaar probeer, egter weens gebrek aan geleentheid en aanmoediging, sonder veel sukses. In Suid-Afrika waar sy werk as

illustratie
Frans Claerhout.


sendeling hom in aanraking met die inheemse bevolking gebring het, het die nuwe indrukke hom so oorweldig dat hy met meer beslistheid hom op die skilderkuns toegespits het om uitdrukking aan sy gevoelens te gee. Sedert 1958 skilder hy ononderbroke. Dit was veral ook die ander stigterslede van die Bloemfontein Groep, die Podlashuc egpaar en Eben van der Merwe wat juis in hierdie tyd 'n belang-
[pagina 96]
[p. 96]


illustratie
Adam en Eva, deur Frans Claerhout.


rike stukrag gevorm het om Claerhout met sy skilderkuns aan te moedig.

 

Claerhout is 'n mens vol sprankelende humor en menslike medelye. Die komies-tragiese van die half verwesterde Bantoe het nie alleen sy medelye gaande gemaak nie maar ook sy oë vir die komiese geopen en dit is hierdie twee fasette van sy omgewing wat hy by uitstek en meesterlik uitbeeld. Wanneer sy werk soms as karikatuur of spot bestempel word, is dit alleen maar deur diegene wat nie die diep menslikheid en groot naasteliefde van hierdie opregte gees ken nie. Sy gewildheid onder sy parochiane is hier ook bewys van.

 

Soos reeds vermeld het Claerhout geen kunsopleiding geniet nie. Sedert sy studentejare en veral na 'n besoek aan Permeke te Jabbeke het hy egter altyd met veel belangstelling die werke van die tweede Latemse skool bewonder. Die ruwe boersheid en goedaardigheid van Permeke het seer seker by sy eie temperament aangepas, terwyl die diepe godsdienssin van Albert Servaes die jong priester moes ontroer het. Die invloed van hierdie twee meesters het dan ook 'n blywende indruk op die werk van Claerhout gelaat.

 

'n Belgiese kunskritikus het die werk van Claerhout as 'n merkwaardige nabloei van die Latemse skool bestempel. Om die waarde van 'n kunstenaar vir Suid-Afrika te bepaal moet ander maatstawe toegepas word as wat vir Europa geldend is. In België mag die kuns van Claerhout niks anders as 'n navolging van Vlaamse Ekspressionisme wees nie - in Suid-Afrika is dit egter 'n vernuwing omdat daar hier tot betreklik onlangs bitter weinig bekend was oor die werk van die Vlaamse Ekspressioniste.

 

Pas enkele jare gelede het baie Suid-Afrikaanse kunskenners vir die eerste keer met die Latemse skool eerstehands kennis gemaak tydens die Permeke-tentoonstelling wat in die kader van die Suid-Afrikaans-Belgiese kultuurverdrag in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria vertoon was.

 

Duitse Ekspressionisme is reeds in die vroeë twintiger jare deur Maggie Laubser en Irma Stern in Suid-Afrika ingevoer, terwyl dit later verder deur Wolf Kibel,

illustratie
Die visvangs, deur Frans Claerhout.


Pranas Domsaites e.a. uitgebou is.

 

Maurice van Essche, 'n landgenoot van Claerhout, sedert die laaste wêreldoorlog in Suid-Afrika woonagtig, het ook sterk invloed op Suid-Afrikaanse kuns uitgeoefen. Sy werk wat tegnies en artistiek van 'n hoë gehalte is, is egter meer Frans georiënteerd en mis die volkskarakter, boersheid en sappigheid van die kuns van Claerhout.

 

Naas die Suid-Afrikaanse landskap is die nie-blanke mens sonder twyfel die belangrikste inspirasiebron van Suid-Afrikaanse

[pagina 97]
[p. 97]

kunstenaars. By Maggie Laubser is dit veral die plattelandse kleurling wat in 'n byna primitiewe droomwêreld geïdealiseer is. Irma Stern weer het die eksotiese van die Bantoe uitgebeeld as 'n produk van tropiese hitte en oosterse weelde, terwyl tientalle andere en dikwels ook minder begaafdes die Bantoe op allerlei wyses geïdealiseer en geromantiseer het. Claerhout egter, sien die Bantoe van die Vrystaat in sy pastorale omgewing met sy esels, skape, koeie, honde en hoenders tussen armoedige pondokkies wat eienaardig Vlaams aandoen en tog tipies Bantoe is. Sy voorstellingswêreld is ryk belaai met plaasarbeiders in verflenterde klere; leeglêers en bedelaars; fortuinsoekers op soek na diamante; 'n donkiekar met 'n skamele vrag; rye wagtendes by 'n busstop of met sopbekers in die hand; deurmekaar straattonele en trotse eienaars van nuwe sleg passende klere of te groot skoene. Alles altyd gesien met 'n glimlag en 'n bly hart.

 

Maar ook die meer tragiese ontbreek nie: 'n ouerpaar wat 'n bossie blomme op 'n kindergraffie plaas; siekebesoek in 'n armoedig gemeubileerde siekekamer; 'n eensame Christus onverskillig aangestaar deur verbygangers of 'n hongerige wat gretig 'n bord pap vashou.

'n Gewilde onderwerp by Claerhout is sy kinderportrette - onpersoonlike kinderkoppies waaruit die groot liefde van hierdie kunstenaar vir die kind spreek. Wanneer hy die moeder-kind tema behandel kom daar groot teerheid in sy werk en is daar 'n neiging om soet te word, egter sonder om veel afbreuk aan die ekspressiewe waarde te doen.

Wanneer Claerhout godsdienstige tonele skilder is dit ook sy Bantoe medemens wat as model dien. Die patetiese gesigsuitdrukking van 'n Bantoe gekruisigde is aandoenlik. Die Christus van Claerhout is die begrypende vader wat met sy kinders in hulle alledaagse bedrywighede meng - hulle lief en leed vol medelye gadeslaan en met droefheid hulle tekortkominge aanskou. 'n Groepie swanger vroue, half verskrik en onseker en half bly, toon hulself aan Hom; 'n groepie mense in 'n besige straat ignoreer Hom geheel en al en dikwels word hy met 'n offerande in die vorm van 'n hoender, 'n bossie blomme of iets anders vereer.

 

Claerhout skilder soms die Suid-Afrikaanse landskap. Dan is dit veral die verlate Vrystaatse vlaktes met sy goud en bruin wat hom boei, af en toe opgefleur met 'n lentelandskap en bloeiende vrugtebome of blomme in groen weivelde. Enkele koppies op die horison, 'n ondergaande son, enkele bome en soms 'n verlate figuur maak van hierdie landskappe regte stemmingstonele. Claerhout skilder nooit berge nie.



illustratie
Verdwaalde Christus, deur Frans Claerhout.


Wat skilderstegniek betref maak Claerhout gebruik van 'n dik impasto waarmee breë buitelyne in swart ingevul word. Hy maak dikwels vir sy voorstudies gebruik van s.g. oliesketse. Dit is vlot getekende buitelyne wat met olieverf ingevul word deur dit met 'n lappie op die papier in te vryf.

 

By sy vlot tekenwerk is dit duidelik dat Claerhout alleen probeer om indrukke vas te lê sonder dat hy hom baie oor die noukeurigheid van sy tekenkuns bekommer. Gevolglik vind 'n mens dikwels in sy werk verkeerd geplaasde vingers en tone of eienaardige wanproporsies van hande, voete en ander liggaamsdele. Hierdie ekspressionistiese tegniek van hom maak nooit die indruk van geforseerdheid of opsetlikheid nie, maar weerspieël die opregte uiting van die kunstenaar. Tekenkuns op sigself is by hom nooit hoofsaak nie.

 

Die groot voorliefde wat Claerhout vir pastelagtige kleure het, veral bruin en grys, pas goed by sy aardse tonele aan. Sy belangrikste kenmerk as koloris is in sy suiwer aanvoeling vir toonwaardes geleë. Wat ook al die tekortkominge op tekenkunstige gebied mag wees, sy palet toon altyd 'n suiwer harmoniese kleurskema wat die beste in sy getemperde kleure tot uiting kom. Hy gebruik egter ook dikwels helderder kleure wat hy ook suiwer weet te hanteer veral om feeste, nuwe klere of vrolike tonele mee uit te beeld.

 

Claerhout het verskillende sendingskerke in Suid-Afrika met muurskilderinge en glasvensters versier. Sy eie kerkie te Thaba'-Nchu is seker een van die merkwaardigste van sy soort in die land. Daar is waarskynlik ook geen ander kerk in die land nie wat soveel besoekers lok wat die

[pagina 98]
[p. 98]


illustratie
Die Sambreel, deur Frans Claerhout.


kunswerke daarin gaan besigtig. Naas sy eie skeppinge het hy van die werk van Bantoe en ander Suid-Afrikaanse kunstenaars gebruik gemaak. Bantoevroue het ontwerpe van Claerhout op hulle eie inheemse metode aan die mure aangebring. Aan die buitekant is gebruik gemaak van sementpanele wat in sand gegiet is met Bybelse voorstellings daarop. Jef Claerhout, beeldhouer te Sijsele en neef van Claerhout, was verantwoordelik vir die interessante beton voorfasade van die kerk. Behalwe panele in klip het hy verder ook figure in geelkoper vir die kerk gemaak.

 

Claerhout kap ook figure in hout en hy het 'n groot aantal houtsneë gemaak wat sterk ekspressionisties is en 'n faset van sy werk is wat nog weinig bekend is.

 

In Suid-Afrika word Claerhout reeds as 'n belangrike kunstenaar aanvaar. Sy werk is in die belangrikste kunsmuseums verteenwoordig. Hy het in die belangrikste stede van Suid-Afrika eenman uitstallings gehou en aan groepsuitstallings deelgeneem. Versamelaars in Suid-Afrika, België, Nederland en Amerika besit van sy werk.

 

Die pastorie op Thaba'Nchu is wyd bekend vir die gasvryheid waarmee iedereen daar binnegehaal word. Saterdag- en Sondagmiddae is dit ‘oop huis’ en word die plek 'n ware ‘soete inval’ waar gesellig by 'n koppie heerlike koffie of 'n glas rooi wyn oor kuns en alles en nog wat gediskuteer word. Buitelandse besoekers word aangenaam verras deur op so'n klein plattelandse dorpie 'n woning belaai met kunswerke en kaste vol boeke oor moderne kuns aan te tref. Behalwe sy groot versameling Bantoekuns besit Claerhout ook skilderye en beeldhouwerke van heelwat bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars.

 

Weinig besoekers verlaat dan ook hierdie pastorie sonder 'n skildery of tekening onder die arm, hetsy gekoop of as geskenk saamgekry, want Claerhout is besonder vrygewig.

 

Met die inkomste van sy skilderwerk is Claerhout in staat om 'n groot sosiale diens aan die Bantoe inwoners van Thaba'Nchu te lewer - 'n liefdesdiens waardeur 'n mens sy groot skilderstalent des te meer waardeer.

 

Prof. F.P. Scott, Bloemfontein


Vorige Volgende

Footer navigatie

Logo DBNL Logo DBNL

Over DBNL

  • Wat is DBNL?
  • Over ons
  • Selectie- en editieverantwoording

Voor gebruikers

  • Gebruiksvoorwaarden/Terms of Use
  • Informatie voor rechthebbenden
  • Disclaimer
  • Privacy
  • Toegankelijkheid

Contact

  • Contactformulier
  • Veelgestelde vragen
  • Vacatures
Logo DBNL

Partners

Ga naar kb.nl logo KB
Ga naar taalunie.org logo TaalUnie
Ga naar vlaamse-erfgoedbibliotheken.be logo Vlaamse Erfgoedbibliotheken