Uiteensetting van die godsdiens (ed. A. van Selms)


auteur: Abu Bakr Effendi


bron: Abu Bakr Effendi, Uiteensetting van die godsdiens (ed. A. van Selms). North-Holland Publishing Company, Amsterdam / Oxford / New York, 1979 


verantwoording

inhoudsopgave

doorzoek de hele tekst


downloads



DBNL vignet

[p. V]

Inleiding

1. Die skrywer

Oor die skrywer van die Bayānu ddīn (‘Uiteensetting van die godsdiens’), sy afkoms, studies en lewe, het ek elders uitvoeriger gehandel1. Vir die doel van hierdie publikasie is dit voldoende om te vermeld, dat Abu Bakr Effendi, afkomstig uit Koerdistan, in 1862 deur die toenmalige sultan van Turkye na die Kaap gestuur is om as godsdiensleraar vir die Maleise Moslem-gemeenskap op te tree. Blykens die Turkse voorberig van die onderhawige werk het hy daar die ‘Kaaps-Hollandse’ taal geleer en verskillende boeke oor die Moslem-ritueel geskrywe2. Die deur hom vermelde werke het blykbaar almal dieselfde karakter gedra: na 'n kort stukkie Arabiese teks volg in Arabiese letters 'n vertaling en 'n uitlegging van daardie stukkie in die Afrikaans.

Dit was tot nou toe nie moontlik om al hierdie werke terug te vind nie. Waarskynlik het hulle slegs in handskrif bestaan. Waarskynlik is slegs die ‘Uiteensetting van die godsdiens’ gedruk, hoewel die Turkse voorberig daarvan sê dat sowel daardie werk as ook die Marāṣidu ddīn (‘Waarnemingsposte van die godsdiens’) deur die goewermentsdrukkery te Stamboel gepubliseer is. Miskien was dit inderdaad die bedoeling, sowel van Abu Bakr as van die Turkse regering om dit te doen, maar is daar na die druk van die eerste werk nie meer met die van die tweede werk begin nie.

Hoe dit ook al mag wees, die ‘Uiteensetting van die godsdiens’ is, wat die handskrif van Abu Bakr betref, voltooi, soos in die Arabiese voorberig vermeld3, in die jaar 1286 van die Moslemjaartelling, en dus in die jaar 1869 na C. Dit het lank geduur voordat die werk gedruk is; blykens die laaste woorde van die boek het dit ondertussen 1294 (= 1877) geword. Waarskynlik is die hele oplae, waarvan die oorspronklike aantal nie meer bereken kan word nie, na Kaapstad gestuur. Dit het daar waarskynlik onder die beheer van Abu Bakr gebly. In 1952 het Abu Bakr se seun, die toe reeds hoogbejaarde Omar Ǧalālu ddīn, vir my 'n aansienlike restant eksemplare in sy huis gewys. Van sy dogter, Mej. Adèle Baker-Effendi, het ek 'n paar eksemplare vir myself en geinteresseerde vriende gekoop. Nie lank daarna nie het sy na die land van haar voorvaders,

[p. vi]

Koerdistan, teruggekeer en wat van die nog voorhande eksemplare geword het, is aan my nie bekend nie.

Uit die feit dat die boek na amper 'n een nog nie uitverkoop was nie, kan 'n mens wel opmaak dat die belangstelling vir hierdie werk onder die Maleise gemeenskap aan die Kaap nie groot was nie. Dit hoef ons nie te verwonder nie. Die Islam ken vier verskillende ‘regskole’; elkeen daarvan word deur die ander drie as ortodoks beskou, maar dit neem nie weg nie, dat 'n gemeenskap nie gemaklik van die een na die ander regskool sal oorgaan nie. As afstammelinge van die Moslem-bevolking van Suid-Oos-Asië behoort die Kaapse Maleiers tot die Šafiʿitiese regskool, terwyl die Ḥanafitiese regskool in die toenmalige Turkse ryk gevolg is1. Abu Bakr was Ḥanafiet en sy lering het op verset by die meerderheid van die Maleise gemeenskap gestuit. Tog is daar aan die Kaap, as 'n oorblyfsel van die werk van ons outeur, nog altyd 'n groepie Maleiers wat die Ḥanafitiese praktyk volg. Oor vermeldings van die ‘Uiteensetting van die godsdiens’ in Westerse wetenskaplike literatuur het ek elders gehandel2. Sonder die publikasie van die Engelse vertaling van die Arabiese teks deur Mia Brandel en die hier volgende bewerking van sy Afrikaanse uiteensettings sou die herinnering aan Abu Bakr verlore gegaan het; nou het sy persoon egter sy regmatige plek in die eerste deel van die Afrikaanse Biografiese Woordeboek gekry.

2. Oor die boek

Sonder titelpagina begin die boek met 'n inhoudsopgawe wat netsoos die drie daaropvolgende voorredes met los letters en sonder vokaaltekens gedruk is. Abu Bakr het sy werk in agt ‘boeke’ (kitāb) verdeel. Hulle is baie ongelyk in lengte soos uit die volgende opgawe, waarin ons die paginering van die oorspronklike bewaar, kan blyk:

 

1.Die boek oor die rituele reiniging, bl. 2-66.
2.Die boek oor die rituele gebed, bl. 66-219.
3.Die boek oor die godsdienstige belasting, bl. 219-258.
4.Die boek oor die vas, bl. 258-284.
5.Die boek oor die slagting van vee, bl. 284-302.
6.Die boek oor die godsdienstige verbiedinge, bl. 302-344.
7.Die boek oor die dranke, bl. 344-349.
8.Die boek oor die jag, bl. 349-354.

 

Elke ‘boek’ begin gewoonlik met 'n min of meer uitvoerige uiteensetting

[p. vii]

sonder afsonderlike opskrif. Met uitsondering van wat in die laaste twee, baie kort, ‘boeke’ die geval is, kom vervolgens 'n onderverdeling; party van die onderdele word ‘hoofstuk’ (bāb) genoem en ander ‘afdeling’ (faṣl); 'n ‘hoofstuk’ kan een of meer ‘afdelings’ hê, waarby egter, analoog aan wat by die afsonderlike ‘boeke’ opgemerk is, so 'n ‘afdeling’ eers begin nadat reeds onmiddellik na die opskrif van die ‘hoofstuk’ 'n min of meer uitvoerige uiteensetting gegee is. Die vyfde en sesde ‘boek’ het slegs ‘afdelings’, geen ‘hoofstukke’ nie.

Na die inhoudsopgawe volg op die ongenommerde bladsye met los letters gedrukte ongevokaliseerde voorberigte: drie bladsye in Turks, ruim een bladsy in Arabies, en twee en 'n half bladsy in Arabies met tussengevoegde Afrikaanse vertaling. Die drie voorberigte het nie dieselfde inhoud nie1. Die Afrikaanse deel van die derde voorberig laat ons hier in 'n transkripsie volg, waarby ons egter herhaal dat die teks dit sonder vokale skrywe en dat die moontlikheid bestaan dat ons, terwyl ons die medeklinkers van klinkers voorsien, foute begaan. Ons het al die woorde wat ook in die res van die hele boek verskyn, waar hulle wel gevokaliseer is, netso hier geskrywe en origens die mees waarskynlike klinkers toegevoeg:

 

iek baghent diesie kitāb met allāh taʿālā sain naam allāh taʿālā es rizq ghiefar ien dunyā fer alwat liefandagh es     allāh taʿālā es beriengar ien die ǧannat ien dagh 'āḥirat fer aldie miesie an ǧins wat oeap     'imān ghadoet het     aldie dank an perais es riegh fer allāh taʿālā alien     allāh taʿālā het ghaghief fer oeans islām sain agāma     islām sain agāma oek waas ghawies fantefoear nabī ibrahīm sain agāma     an nabī ibrahīm nie ghaghoeloef niks deng maates kabai fer allāh taʿālā nie     an allāh taʿālā het ghamaak nabī muḥammad poeroefet an bestijoering oeam telier fer oeans an fer ǧins islām sain agāma fan qur'ān an fan ḥadīṯ met maʿ saam     an allāh taʿālā het ghamaak die qur'ān an rasūlu llāh sain ḥadīṯ ferseker dalīl fer oeans     an allāh taʿālā het ghahelp fer oeans oeam tawiet dīn sain mas'alats met die 'āyats wat sain maʿnā rasūlu llāh het ghalier fer miesie     an allāh taʿālā het ghabewaar laat oeans nie bamoei met die mutašābihāt sain maʿnā nie ḫulaṣah die maʿnā wat es mienig fan mutašābihāt 'āyats es oean doeaidlek fer oeans maar die maʿnā wat muʿtazilat miesie ghasikiraiwie ien hoeaile sain kitābs rasūlu llāh an sain 'asḥābs nie ghalier fer miesie nie an     wie ghafiraagh fan mutašābihāt sain maʿnā fer 'asḥāb hoeaile     het ghasiteraf fer hoem     an allāh taʿālā het ghalaat oeans wiet die rieghtie wiegh fan die ʿilms an ghahelp fer oeans oeamtalier ander miesie oeap die rieghtie manierie     yā llāh iek het niet kragh oeamtariekan die fiel peraises wat allāh taʿālā het ghamaak

[p. viii]

fer hoem self     iek fersoek fan allāh taʿālā oeam taghief ghoeroetie karagtie fer nabī muḥammad     hai es die laastie poeroefiet fan poeroefiets     an hai es bestijoering fan allāh taʿālā fer aldie miesie an fer aldie ǧins     an hai saal firaagh fer ghifnes fan allāh taʿālā ien dagh 'āh̬irat met permiesie fan allāh taʿālā fer die mu'min miesie wat het faaut     an iek fersoek fan allāh taʿālā oeam taghief sieghant fer sain faamiltjies wat mu'min es     an iek fersoek fan allāh taʿālā oeam taghief sieghant fer die mu'min miesie wat saam ghawies het met hoem     an iek fersoek fan allāh taʿālā oeam taghief baiaang ghoedie ghait fer nabī muḥammad     aghter iek het ghabatjah allāh taʿālā sain naam aghter iek ghadank het fer allāh taʿālā an aghter iek het ghabatjah ṣalāt an salām oeap nabī muḥammad iek siegh dit     ien die tait ien ghoeroetie koeloem fan muslim miesie an fan mustaslim miesie koeam bai main oeam talier dīn afferie an die ʿilms wat peraat fan tawḥīd an fan ʿibadāts waas ghaferghaat ien soet afrieqaa toesen muslim miesie an hoeaile sain maniertait hoeaile ferghiet haastagh die lesin     daan es noedagh iek moet sikiraiwie met die taal wat mierie doeaidlek es toesen hoeaile laat hoeaile kan wiet agāma met ghamaaklek oeap die rieghtie manierie     ek het ghasikiraiwie die dalīls fan qur'ān an fan ḥadīṯ rasūlu llāh waar miesie het ghamaak ih̬tilāf oeam tawoearṭ doeaidlek wat riegh es fan agāma an oeam tawoearṭ diesie kitāb helper fer hoeaile oeam telaat bilaif die roesie wat het toesen     hoeaile an hoeaile ghoei wiegh die su'āl an ǧawāb wat met bāṭil     es     an iek het ghamaak oepan baar alwat muslim miesie ghaghoeloef ien rasūlu llāh sain tait an ien 'abū bakr an ien ʿumar     an ien ‘uṯmān an ien ʿalī sain tait an wat die ieriestie ʿālims fan 'ahlu ssunnat walǧamāʿat ghaghoeloef het laat hoeaile moet bilaif fier fan tamaak ih̬tilāf ien agāma bifoearbijal allāh taʿālā het ghabiliet met 'āyat qur'ān fer muslim miesie fan ferseparai an fan tamaak ih̬tilāf ien agāma     dalīl es diesie 'āyat

 

Dit sal wel wenslik wees om hierdie teks, by die weergawe waarvan ons dieselfde reëls toegepas het as onder die volgende afdeling van hierdie inleiding nader bespreek sal word, in 'n effens begrypliker vorm van Afrikaans oor te sit, waarby ons die kursief gedrukte woorde van oosterse herkoms (Arabies, Persies en Maleis) in hedendaagse Afrikaans vertaal:

 

Ek begin hierdie boek met Allah - hy is verhewe - se naam. Allah - hy is verhewe - is onderhoud-gewer in hierdie wêreld vir al wat lewendig is. Allah - hy is verhewe - is brenger in die paradys op (die) laaste dag vir al die mense en demone wat in (die) geloof gesterf het. Al die dank en prys is reg vir Allah - hy is verhewe - alleen. Allah - hy is verhewe - het vir ons Islam se godsdiens gegee. En die profeet Ibrahim (het) nie geglo (dat) enige ding maatskappy1 vir

[p. ix]

Allah - hy is verhewe - is nie. En Allah - hy is verhewe - het die profeet Mohammed profeet en bestiering gemaak om vir ons en vir demone Islam se godsdiens van (die) Koran en van (die) oorlewering met betekenis saam te leer. En Allah - hy is verhewe - het die Koran en die apostel van Allah se oorlewering ('n) vaste bewys vir ons gemaak. En Allah - hy is verhewe - het vir ons gehelp om (die) godsdiens se vraagstukke te weet met (behulp van) die verse waarvan die apostel van Allah die betekenis vir mense geleer het. En Allah - hy is verhewe - het gesorg dat ons (ons) nie bemoei met die meerduidige verse se betekenis nie. Saamgevat: die betekenis, wat is mening, van meerduidige verse is onduidelik vir ons maar die betekenis wat mense van (die) muʿtazilah1 in hulle se boeke geskrywe (het, het) die apostel van Allah en sy metgeselle nie vir (die) mense geleer nie, en wie vir (die) metgeselle die betekenis van (die) meerduidige (verse) gevra (het), vir hom het hulle gestraf. En Allah - hy is verhewe - het ons die regte weg van die godsdienswetenskappe laat weet en vir ons gehelp om ander mense op die regte manier te leer. O Allah, ek het nie krag om die vele lofprysinge wat Allah - hy is verhewe - vir hom self gemaak het te bereken (nie). Ek versoek van Allah - hy is verhewe - om groot kragte vir die profeet Mohammed te gee. Hy is die laaste profeet van (die) profete. En hy is ('n) bestiering van Allah - hy is verhewe - vir al die mense en vir al die demone. En hy sal vergifnis van Allah - hy is verhewe - op (die) laaste dag met permissie van Allah - hy is verhewe - vir die gelowige mens wat fout2 het, vra. En ek versoek van Allah - hy is verhewe - om seën vir sy familielede wat gelowiges is te gee. En ek versoek van Allah - hy is verhewe - om seën vir die gelowige mense wat saam met hom gewees het te gee. En ek versoek van Allah - hy is verhewe - om baie goedheid vir die profeet Mohammed te gee. Nadat ek Allah - hy is verhewe - se naam voorgedra het, nadat ek vir Allah - hy is verhewe - gedank het en nadat ek 'eer en groet' oor die profeet Mohammed voorgedra het, sê ek dit: In die tyd kom 'n groot klomp van Moslem mense en van mense wat Moslem wil word by my om (die) affêre (van die) godsdiens te leer, en die wetenskappe wat van monoteïsme en van ritueel praat was in Suid-Afrika tussen Moslem mense verlore en hulle se gemanierdheid (is dat) hulle haastig die les vergeet. Dan is (dit) nodig (dat) ek in die taal wat meer duidelik is tussen hulle moet skryf, (so)dat hulle (die) godsdiens met gemak op die regte manier kan weet. Ek het die bewysplekke van (die) Koran en van (die) oorlewering van die apostel van Allah geskryf waar mense meningsverskil gemaak het, sodat duidelik word wat reg is van godsdiens en sodat hierdie

[p. x]

boek ('n) helper vir hulle word om die rusie wat (hulle) tussen hulle het (agterweë) te laat bly en hulle die vrae en antwoorde wat waardeloos is weggooi. En ek het openbaar gemaak alwat Moslem mense geglo (het) in die apostel van Allah se tyd en in Abu Bakr en in Omar en in Othman en in Ali se tyd en wat die eerste geleerdes van die volk van die oorlewering en die konsensus geglo het, dat hulle ver moet bly van meningsverskil in (die) godsdiens te maak, want1 Allah - hy is verhewe - het met 'n Koranvers vir Moslem mense belet om (onderling te) verskil en om meningsverskil in (die) godsdiens te maak. Bewys is hierdie vers2.

 

Ons het gemeen dat ons hierdie Afrikaanse voorberig van Abu Bakr nie aan ons lesers mag onthou nie, maar ons herhaal dat hierdie deel van sy teks sonder klinkertekens geskryf is en ons weergawe daarvan in Afrikaanse transkripsie dus 'n subjektiewe karakter dra. Nie alleen kom daar 'n aantal woorde en woordvorme in voor wat ons nie in die gevokaliseerde, oorgrote, deel van Abu Bakr se boek vind nie, maar ook waar ons die vokalisasie op grond van die voorkoms van dieselfde woorde in die gevokaliseerde teks aangebring het, bly dieselfde subjektiewe element aanwesig: die gevokaliseerde teks bied ons naamlik vir die skryfwyse van een en dieselfde woord telkens 'n reeks van variante, waaruit ons vir die doel van bo-staande passasie noodsaaklik 'n keuse moes maak. Ons sal die woorde uit hierdie passasie daarom ook nie in die register van Arabies-Afrikaanse woorde opneem nie.

 

Genommerde bladsy 1 van die eintlike boek het blank gebly. Op bladsy 2 begin die teks wat ononderbroke deurloop tot bl. 354. Die ‘boeke’, ‘hoofstukke’ en ‘afdelings’ begin nie op 'n nuwe bladsy nie en dikwels selfs nie op 'n nuwe reël nie. Die metode van die skrywer is om eers 'n sin, sinsdeel of 'n enkele woord uit die Arabiese teks van die multaqā3, wat hy as grondslag gebruik het, neer te skrywe en daarop in Afrikaans die vertaling, uitlegging en nadere besonderhede te laat volg. Die Afrikaanse teks is dan ook veel uitvoeriger as die Arabiese. Dit is nie slegs 'n dikwels uitvoerige parafrase van die Arabies nie, maar sou 'n vertaling met notas genoem kon word, waarby die notas dikwels veel uitvoeriger is as die gekommentarieerde teks. Die bron vir die notas is gewoonlik nie Abu Bakr se eie insig nie, maar passasies uit die veel groter werke waarvan die multaqā 'n kompendium is.

[p. xi]

Die Arabiese sinsdele word gekenmerk deur 'n streep bo die desbetreffende woorde. Die litograaf het in 'n aantal gevalle hierdie streep weggelaat of nie ver genoeg deurgetrek nie. Aan die begin het hy voor of na dan wel voor en na elke stukkie Arabiese teks dit van die Afrikaanse teks geskei deur 'n teken wat die Turkse wapen (ster en halfmaan) weergee; partymaal is dit net die ster. Vanaf die middel van sy bl. 7 het hy egter hierdie teken nie meer gebruik nie. Die teks ken geen leestekens in ons betekenis van die woord nie, sodat ons slegs uit die sinsverband kan opmaak, waar 'n nuwe sin of bysin begin. As ons daarby in aanmerking neem dat Abu Bakr se Afrikaanse sinsbou van die gebruiklike sterk afwyk en daarby nog beïnvloed is deur die sinsbou van die Arabiese oorspronklike, sal dit duidelik wees dat die leestekens wat ons in die modern-Afrikaanse weergawe van sy Afrikaanse teks aangebring het, geen volstrekte waarde het nie.

3. Oor ons metode van publikasie

Met die oog op die doel van hierdie publikasie, waaroor iets meer in die vierde afdeling van hierdie inleiding gesê word, het ons telkens op die linker bladsy 'n noukeurige transkripsie van Abu Bakr se Afrikaanse teks gegee, terwyl die regter bladsy 'n weergawe daarvan in hedendaagse Afrikaans bied. Ons het dit gedoen omdat anders elke bladsy 'n groot aantal voetnote sou kry, waarin die deur Abu Bakr gebruikte woordvorm van sy hedendaagse ekwivalent sou voorsien word. Daarby kom dat ons nie verwag dat die beoefenaars van die Afrikaanse taalgeskiedenis en dialektologie die werk van die begin tot die einde sal deurlees nie. Dit is veel waarskynliker dat hulle met behulp van die register 'n bepaalde woordvorm in die Afrikaans van Abu Bakr sal naslaan en dan die teksverband sal bekyk. Om dit vir hulle moontlik te maak sou dieselfde verklarende voetnoot eindeloos herhaal moet word. Dit kan tog nie van hulle verwag word dat hulle in 'n vorm soos woearṭ onmiddellik Afrikaans ‘word’ sou herken nie.

'n Wetenskaplike transkripsie van Abu Bakr se Afrikaanse teks behoort geen leestekens in te voeg nie; hulle ontbreek mos, soos ons gesê het, in daardie teks, soos in al ouer handskrifte wat met Arabiese letters geskryf is. Om dit vir die leser gemakliker te maak om 'n sin van die linker bladsy op die regter bladsy, en andersom, te vind, het ons die vryheid geneem om tussen wat ons as afsonderlike sinne beskou het, in die transkripsie op die linker bladsy telkens 'n stuk oop te laat. So'n oop gedeelte korrespondeer gewoonlik met 'n punt of punt-komma in ons hedendaagse Afrikaanse weergawe. Dikwels sal so'n blanke gedeelte kom op die plek waar die oorspronklike boek 'n stuk Arabies het, maar dit is netso dikwels nie die geval nie.

[p. xii]

Partymaal, bv., bestaan die Arabiese teks net uit die woord, wat ons in Afrikaans met ‘as’ weergee, en dit sou al te eienaardig wees as ons daardie voegwoord sou isoleer van die daarop volgende woorde.

By die transkripsie van Abu Bakr se Afrikaanse teks moes ons 'n dubbele sisteem volg. Die Arabiese terme, waarvan 'n uitermate groot aantal in die teks voorkom, het ons in die transkripsie wat Oriëntaliste gewoonlik volg geskrywe; dieselfde geld van die paar Persiese woorde. Die Maleise woorde het ons gebied in 'n transkripsie wat nader aan die Afrikaanse spelwyse staan en dit te meer, omdat verskeie daarvan ook in die amptelike Afrikaans voorkom. Waar Abu Bakr se weergawe van Maleise woorde egter 'n ander klankbeeld oproep as dié wat in die hedendaagse Afrikaans gebruiklik is, het ons sy uitspraak behou; so verskyn ‘baie’ dus in ons weergawe as ‘baiaang’.

Vir die beginsels wat ons by die transkripsie van Afrikaanse woorde gevolg het, kan die leser liefs ons uiteensettings in 'n vroeëre publikasie oor die Arabies-Afrikaanse literatuur raadpleeg1. Kortheidshalwe noem ons hier net 'n paar besonderhede wat nie vanselfsprekend vir die nie-Oriëntalis is nie. Die dj en die tj word in die Arabiese skrif deur een teken aangedui. Dit moet dus min of meer as een klank uitgespreek word, sodat 'n mens nie bv. ghabat-jah uitspreek nie, maar ghabatjah, waarin die tweede sillabe, ba, oop is, al bly die a kort. Hierdie voorbeeld illustreer meteens ook ons weergawe van 'n Arabiese letter wat die skerp g-klank aandui, nog effens skerper as die normale Nederlandse g, en derhalwe deur ons met gh getranskribeer is. Waar ons 'n w sou verwag, gebruik Abu Bakr een van twee verskillende tekens, die een waarvan ons as 'n dentale w beskou en eenvoudig met w weergee, terwyl die ander blykbaar die labiale w aandui en deur ons met weergegee word. By Abu Bakr kom die emfatiese medeklinkers veel meer voor as in die vroeër deur ons behandelde tekste, sonder dat ons altyd kan insien waarom hy in die plek daarvan nie soos elders die gewone, nie-emfatiese tekens anwend nie. Die emfatiese k skrywe ons as q; langs mekaar kom bv. die vorms koeam en qoeam (kom) voor. Waarskynlik hoef ons in dergelike gevalle nie aan 'n verskil in uitspraak tussen die twee vorms te dink nie. Die gebruik van die emfatiese s, deur ons met ṣ aangedui, in woorde soos netṣoeṣ kan verklaar word uit die verskerpende invloed van die voorafgaande t; maar herhaaldelik kom die emfatiese ṣ ook voor sonder dat 'n dergelike verskerpende invloed waargeneem kan word, en partymaal word ook na 'n t die gewone s geskryf, bv. in die Afrikaanse meervoudsuitgang gevoeg agter die Arabiese woord sifat: sifats. So gebruik Abu Bakr, anders

[p. xiii]

as die latere outeurs van Arabies-Afrikaans, ook herhaaldelik die emfatiese ṭ, sonder dat ons daarvoor 'n rede kan vind, bv. in die woord beṭaal.

Om die onderskeid in die skrif tussen lang en kort oe aan te dui, het ons die korte vorm daarvan met kursiewe letters geskrywe: oe. Die kombinasie wat ons nou met oea weergee het ons veel hoofbrekens besorg. In vroeëre publikasies het ons vir die geheel daarvan die letter o gebruik1, maar in die werk wat ons nou aan die publiek voorlê het daardie eenvoudige weergawe onvoldoende geblyk. As ons koeam kortweg ‘kom’ sou skrywe, sou ons in moeilikhede beland met 'n woord soos toeaalfstie, wat dan ‘tolfstie’ sou word, terwyl ‘twaalfste’ (twaalfde) bedoel is. Dit lyk of Abu Bakr deur sy skryfwyse bv. in ṣoeartie (‘soorte’) daarvan blyke gee dat hy die lang o in Afrikaans as 'n tweeklank gehoor het, waarmee ons hom maar net kan komplimenteer. Maar ook die kort o hoor hy so, bv. in woearṭ (‘word’), waar dit wat ons o spel netso aangedui word as wat ons oo spel, bv. in woeardie (‘woorde’). Ons het dus in hierdie publikasie die weergawe oea behou en beveel die so gespelde woorde vir die aandag van die beoefenaars van Afrikaanse fonetiek aan.

Die woorde van Oosterse herkoms het ons in ons transkripsie kursief gedruk met die bedoeling om die argelose leser te waarsku dat hy in daardie woorde geen Afrikaans moet soek nie. Ons het dit natuurlik nie gedoen met Maleise woorde wat in die algemene Afrikaans oorgegaan het nie, woorde soos baiaang (‘baie’). Verder is daar die moeilikheid dat Abu Bakr dikwels aan Oosterse woorde 'n uitgang of voorvoegsel gee wat Afrikaans is. Ons het daarby onderskeid gemaak tussen onskeidbare elemente, wat saam met die Oosterse woord deur ons kursief geskryf is, bv. ghabatjah (‘voorgedra’, van die Maleise werkwoord bātja(h), ‘voordra’) of sifats (‘eienskappe’, van die Arabiese selfstandige naamwoord sifat, met Afrikaanse meervoudsuitgang) en skeidbare elemente, wat ook afsonderlik voorkom, soos abdastnie (van die Persiese woord abdast ‘met water was’, gevolg deur die Afrikaanse ontkenningswoord nie). Soos ons aan hierdie voorbeeld kan sien, skrywe Abu Bakr partymaal as een woord wat ons in ons spelling as twee woorde aanmerk; die teengestelde kom netsoveel voor: Afrikaanse woorde word dikwels deur hom in hul samenstellende dele opgebreek, bv. oeait koeam, ‘uitkom’. Ons het ons in ons weergawe so noukeurig as moontlik aan sy skryfwyse gehou sonder om êrens 'n gewelddadige normalisering toe te pas.

Dit was egter hier en daar wel noodsaaklik om uiters klein korreksies toe te pas, waar 'n woord andersins, bv. deur afwesigheid

[p. xiv]

van 'n klinkerteken, onuitspreekbaar sou word. Ons het egter met 'n minimum volstaan en in ieder geval van enige belang in voetnote op die regter bladsye daarvan verantwoording gedoen.

4. Oor ons doel met hierdie publikasie

Die doel van hierdie publikasie is uitsluitlik om 'n teks aan te bied waaruit 'n mens kan leer hoe Afrikaans in die Slamse buurt tussen die jare 1862 en 1869 deur iemand wat geen Nederlands geken het nie, gehoor en opgeteken is. Die belang daarvan kan moeilik oorskat word. In die eerste plek behoort dit tot die oudste boeke wat in Afrikaans geskrywe is; dit is slegs enkele jare jonger as L.H. Meurant se Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar, wat uit 1861 dateer. In die twee plek is dit veel uitvoeriger as ander vroeë werke uit die Afrikaanse literatuur, sodat dit veel meer materiaal aan die ondersoeker bied. In die derde plek het ons hier 'n teks waarvan die skrywer nie deur die Nederlandse normaliserende en historiserende ortografie beïnvloed is nie, wat die kans op 'n noukeuriger benadering van die aktuele uitspraak veel groter maak. In die vierde plek het ons hier die weergawe van 'n taal wat noukeurig gelokaliseer kan word: in die Slamse buurt van Kaapstad.

Teenoor hierdie veelbetekenende voordele staan ook 'n paar nadele. Die eerste is wel die feit dat Afrikaans nie die moedertaal van Abu Bakr was nie. Hy moes hom laat voorlig deur sy Afrikaans-sprekende geloofsgenote en in hierdie feit lê twee bronne van onjuisthede opgesluit: dit is denkbaar dat, as hy sy segsliede na die Afrikaanse woord vir 'n bepaalde term gevra het, sy segsliede sy vraag nie altyd verstaan het nie; dit is ook denkbaar dat hy die antwoord van sy vertrouensmanne nie reg begryp het nie. 'n Tiperende voorbeeld is sy gebruik van ‘bifoearbijal’ (‘byvoorbeeld’) op plekke, waar ons ‘want’ sou verwag; of die fout by Abu Bakr of by sy Afrikaanse leermeesters gesoek moet word, is moeilik om vas te stel. In ieder geval is hy in derglike sake merkwaardig konsekwent; die woord ‘want’ kom in sy hele boek nie voor nie. Dit gee 'n mens die indruk, dat hy voldoende Afrikaans geleer het om sy boek selfstandig, sonder om vir elke woord of uitdrukking iemand te raadpleeg, geskryf het; dit lyk nie of hy by die skryf konstant iemand langs hom gehad het wat woord vir woord aan hom gedikteer het nie.

'n Tweede nadeel lê in die feit dat Abu Bakr se werk na voltooiing in Stamboel gelitografeer is deur 'n beroepskrywer wat geen Afrikaans geken het nie en dus hier en daar foute in die afskryf van aan hom totaal onbekende woorde en klanke gemaak het. Dit is eintlik bewonderenswaardig hoe daardie man oor die algemeen tog 'n baie korrekte afskrif van die werk vervaardig het. Daar kom in

[p. xv]

die boek nie meer foute voor as wat 'n mens in enige handgeskrewe kopie kan verwag nie. Wel moet ons rekening hou met die moontlikheid dat in heelwat gevalle klinkertekens en diakritiese punte verkeerd geplaas is of heeltemal weggeval het; hierdie moontlikheid is inherent aan enige met Arabiese tekens geskrewe handskrif. In die besonder lei dit daartoe, dat in ons teks wellig partymaal 'n a staan, waar 'n e verwag kon word: Abu Bakr gee die e weer deur die a-teken wat bo die desbetreffende medeklinker geskryf word, te kombineer met 'n i-teken, wat onder dieselfde medeklinker verskyn. As die a-teken wegval, kry ons 'n i in die plek van die e. Daarom kan party van die variante van dieselfde woord, wat ons in die register aanteken, nie as werklike variante in die lewende taal beskou word nie, maar as die resultaat van skryffoute. Egte variante is daar nietemin volop: op een bladsy het ons vir die normaal-Afrikaanse vorm ‘hom’ die volgende spellinge gevind: ham, hem, hoeam en hoem. Dit sou filologies onjuis wees om een van hierdie vorms as die geldige te kies en die ander daarby aan te pas. Oor die algemeen sou ons aanraai om 'n variant nie as 'n spelfout te beskou nie, as dit tenminste drie maal voorkom.

Vir die studie van die sintaksis kan hierdie werk slegs met groot behoedsaamheid gebruik word. Abu Bakr is in hoë mate beïnvloed deur die Arabiese sinsbou van die oorspronklike teks, nie maar net waar hy 'n vertaling van die multaqā bied nie, maar ook waar hy uitwei. In laasgenoemde geval doen hy dit naamlik dikwels aan die hand van passasies uit uitvoeriger werke oor die Islamse jurisprudensie, werke wat hy wellig op sy reis na die Kaap saamgebring het en waarin hy in ieder geval sedert sy studiejare volkome tuis was. Daarom het ons ook die vryheid geneem om by ons weergawe van die teks in moderne Afrikaans telkens af te wyk van sy sinsbou, terwyl ons oor die algemeen die deur hom gebruikte woorde nie deur ander, in die hedendaagse Afrikaans meer passende, woorde vervang het nie. Wel het ons dikwels ander voorsetsels daarby gebruik as wat Abu Bakr se teks ons bied, en sy ‘maskie’ (‘miskien’) word by ons gewoonlik ‘ook al’. Tog bied sy teks ons herhaaldelik ook sintakties interessante dinge soos die baie algemene weglaat van die hulpwerkwoord ‘het’ in die verlede tyd: ‘hai ghamaak’ wat ons weergee met ‘hy (het) gemaak’. Ons vertaling wemel van dergelike woorde tussen hakies wat 'n mens dus nie in Abu Bakr se teks moet soek nie.

Ons is daarvan bewus dat ons strewe na 'n so getrou moontlike weergawe van Abu Bakr se Afrikaans in hedendaagse taalvorme gelei het tot 'n hoogs eienaardige Afrikaans, vir die Afrikaner 'n kwelling om te lees. Dit sal hom telkens weer hinder as hy bv. lees: ‘hy moet (die) gebed maak’ pleks van ‘hy moet (die) gebed verrig’. Maar as ons werklik gangbare Afrikaans in ons weergawe

[p. xvi]

sou gebruik het, sou dit veel moeiliker wees om van die linker na die regter bladsy en andersom te gaan. Die taalgeleerde, vir wie hierdie uitgawe bedoel is, sal ons ons sondes vergewe omdat ons bedoeling net was om sake vir hom te vergemaklik.

Die doel van hierdie publikasie is nie om die leser 'n insig in die ritueel van die Islam te gee nie. Daartoe kan hy veel beter die reeds so dikwels aangehaalde werk van M. Brandel-Syrier, The religious duties of Islam as taught and explained by Abu Bakr Effendi, Leiden 1960 ter hand neem. Daar vind hy 'n vertaling in vloeiende Engels van die Arabiese teks en in die oorvloedige voetnote verklarende opmerkings, sowel oor wat die Arabiese teks self bied as ook oor Abu Bakr se Afrikaanse uitweidings. As hy daarby dan ook aandag gee aan die ‘Short introduction to Islamic jurisprudence’, wat aan die vertaling voorafgaan, sal hy begryp dat al die skynbaar onsamehangende los voorskrifte in werklikheid deel uitmaak van een groot samehangende sisteem waarin die gegewens van Koran en tradisie volgens streng logiese beginsels verwerk is.

Ons werk kan misbruik word deur mense wat in 'n ywer sonder kennis, om met die apostel Paulus te praat, die Islam belaglik sou wil maak deur 'n paar afsonderlike voorskrifte, wat tot in uiters fyne details afdaal, buitekant die groot geheel aan te haal. In die eerste plek moet ons opmerk dat die Islam ook nog heel ander aspekte het. Ons noem hier die geloofsleer, die etiek en die mistiek, wat in hierdie werk prakties nie ter sprake kom nie, maar in die Islam netso belangrik is as die ritueel, waaroor ons teks handel. As iemand uit verkeerd verstane sendings-ywer die kasuïstiek in hierdie behandeling van die ritueel aan die kaak wil stel, moet hy hom daar van bewus wees dat 'n Moslem netso gemaklik die Christendom belaglik sou kon maak deur 'n distellesing uit een van ons groter handboeke vir die dogmatiek saam te stel. Vir die Moslem is die ritueel seker so belangrik as vir die Calvinis die regte geloofsleer.

In die tweede plek merk ons ook op dat die Christelike kerke van Calvinistiese struktuur beheers word deur 'n kerkreg wat netso ingewikkelde probleme bied as die rituele reg van die Islam. Ons het dit reeds herhaalde male in Suid-Afrika beleef dat juriste wat in die wêreldlike reg geskool is, die teologiese hanteerders van die kerkreg op die vingers getik het. Dit is geen rede om die kerkreg met sy ingewikkelde bepalings belaglik te maak of te dink dat die gereformeerde godsdiens uit 'n stel kerkregtelike bepalings bestaan nie.

In die derde plaas moet ook gesê word dat terwyl die Protestantse vorm van die Christendom betreklik min gewig aan ritueel heg, daar ander netso respektabele vorms van die Christendom bestaan waarin die ritueel 'n uiters gewigtige rol speel. Die vraag is in wese nie of die seremonie tot in die fynste onderdele gereël is nie,

[p. xvii]

maar of dit inpas in die geheel van die desbetreffende godsdiens en uitdrukking is van 'n opregte vroomheid.

 

Tenslotte wil die skrywer van hierdie uitgawe uiting gee aan 'n gevoel van voldoening by die beëindiging van sy werk. Die aard van sy universitêre taak, die onderrig in die Semitiese tale, het meegebring dat hy hom gewoonlik besig gehou het met tye en lande, wat ver weg lê van die hedendaagse Suid-Afrika. Dit is vir hom 'n vreugde dat hy deur hierdie werk ook 'n bydrae kon lewer wat van spesiale belang is vir die land waarin hy meer as die helfte van sy lewe deurgebring het.